NHN-naweek van kuier, voëls kyk, kuier, stap en nog kuier
20 - 22 Maart 2010 in Boshof
Die NHN sal oor hierdie langnaweek op verskeie plekke in en om Boshof in die Vrystaat vir ‘n groot kuiernaweek saamtrek. Boshof is omtrent vyf ure se ry vanaf Pretoria. Gerrit Wessels, een van ons lede wat daar woon, sal ons gasheer wees.
Gedurende hierdie naweek sal daar ‘n verskeidenheid van uitstappies vir voëlkykers, stappers en wildkykers wees wat enigeen, van nuweling tot gevorderde (hetsy in jare of ervaring), sal kan geniet. Die eerste uitstappie is Saterdagmiddag en die laaste Maandagoggend. Dit laat genoeg naweektyd om daar en terug te kom. Elke uitstappie sal vanaf ‘n sentrale punt onderneem word. Stappers hoef dus net ‘n dagsak te dra. Ons sal die voorreg hê om telkens deur lede van die Boshof-gemeenskap begelei te word. Saterdag- en Sondagaand sal ons saamkuier en die dag se stories om die braaivleisvure uitruil.
Wie kan kom?
Enige NHNer wat lus is om saam met ander NHNers te ervaar en te kuier. Vriende / metgeselle is ook welkom.
Akkommodasie en -koste:
Daar is ‘n opsie vir elke smaak:
· Gratis op die plaas Trekpoort: primitief, in ’n ou huis waar jy jou water by die dam gaan haal en jou slaapsak op die vloer ooprol. Dis vêr tussen die rante met net stilte, vlermuise, uile en spoke.
· Gratis, ook op Trekpoort: jy kan ook jou tent hier opslaan.
· R100 pppn op die plaas Turfddraai: ‘n toegeruste, informele jagtershuis met genoeg geriewe, maar min spoke.
· R100 pppn by Vida se gastehuis in die dorp: ‘n rustieke ‘n ou-tipe gerestoureerde huisie met bad, wasbak en toilet, geen elektriese krag of spoke nie. Die warm water kom uit die donkie.
· R250 pppn (ontbyt ingesluit) by Wisteria gastehuis in die dorp: ‘n keurige gastehuis (wat vroeër jare die dorp se kraaminrigting was!).
Stel jy belang?