Die NHN het se jaarlikse seminaar, nou reeds Weesgerus 3, oor die naweek van 20 tot 22 Maart was, soos in die verlede, weereens ‘n reuse-suskses.
Ongeveer 70 persone, waarvan 25 vir die eerste keer, het die seminaar bygewoon. Dit was veral ‘n voorreg dat van ons Vrystaatse lede en vriende die geleentheid kon meemaak. Een en almal was van meet af aan daarop ingestel om net die beste van die naweek te maak. Reken hierby Lechwe Lodge se gunstige verblyf- en konferensiefasiliteite, heerlike etes, die pragtige omgewing en die wild, en die tafel was gedek vir ‘n uitsonderlike naweek
Die tema vir die naweek was “Van mens na Mensch”. Ons het gepoog om die konsep “Mensch” te ontleed en sover moontlik van toepassing te maak vir ons lewe hier en nou. Mensch is die Yiddiese term vir ‘n persoon met uitnemende karaktertrekke soos verantwoordelikheid, geregtigheid en respek vir ander.
As inleiers van drie gespreksessies het Albie Gibson, Francois Durand en Anthonie van Nieuwkerk die volgende tema’s hanteer: “Spirituele groei van mens na Mensch”, “Mensch-ewolusie as roeping vir hierdie eeu” en “Ons Sosio-Politieke landskap se impak op my Mensch-wees”. Daarna het die seminaar-gangers deur vrae en groepsbesprekings geleentheid gehad om die tema’s verder te ontleed en te bespreek. Hieruit het talle bydraes gekom wat ons vorentoe sal gebruik om verdere “Mensch”-ontwikkeling te fasiliteer en in ons persoonlike, spirituele asook openbare lewe te aktualiseer.
Soos in die verlede was dit weereens die onderlinge samesyn, die leer ken van mekaar en die gevolglike kuier wat as hoogtepunt uitgestaan het. Dit is nou maar eenmaal net ‘n wonderwerk dat so ‘n diverse groep mense so eerlik, vrymoedig, vreesloos en met onvoorwaardelike vertroue met mekaar kan kommunikeer en deel. Uiteraard het die onophoudelike kwinkslae vir meer as genoeg pret en plesier gesorg. Nuwe vriende is gemaak en hegte bande gesmee wat nog lank vorentoe vir die NHN kosbaar gaan wees.
Teen Sondag se afsluiting was almal dit eens: die besondere aard van die NHN-gemeenskap is en bly uniek! Die tyd vir saamdink en -kuier was weereens te min en sal in ‘n volgende seminaar voortgesit moet word.
Kommentare
Re: WEESGERUS 3 - 'n kort verslag
Ek stel die volgende voor:
1 'n Kort verpligte voorskrif oor hoe om 'n Powerpoint aanbieding te doen moet voor die tyd aan elke spreker gegee word.
2 Besprekings tye kan korter wees en etenstye langer, want dis waar die besprekings plaasvind en nuwe vriende gemaak word.
Excelsior!
Jan Viljoen