Wanneer godsdiens van mense monsters maak...

deur Pieter Craffert

Volgens 'n berig in Beeld (12 Sept 2002 "Eerder 'n kis as 'n kondoom vir mý kind") sou prof Deon de Klerk, dekaan van die fakulteit ekonomiese en bestuurswetenskappe
aan die PU vir CHO gesê het: "Die kerk staan aangekla in sy onvermoë om
te sê wat die eise van die Woord is. Ons hoor niemand wat sê jy mag
nie dit of dat doen nie want dan gaan jy hel toe. Ek sien my kind eerder in 'n
kis as met 'n kondoom aan op pad hel toe". Hierin hoor mens die versugting na
sinvolle riglyne vir die lewe, maar sy pleidooi val terug op twee uitgediende
denkskemas wat van 'n pa, in die naam van godsdiens, 'n monster maak. Aan die
een kant berus dit op die vreesskeppende en manipulerende dogma oor die hel en
aan die ander kant, die idee dat daar 'n lys voorskrifte beskikbaar is oor hoe
om te leef en wat om te doen (veral wat betref seks). Dogmas, moet mens onthou,
is menslike skeppinge wat riglyne gee oor die lewe en die werklikheid.

Tradisionele
Christendom verkondig inderdaad die dogma van 'n eindoordeel en 'n hel met
'n onuitblusbare vuur vir diegene wat daar land. Hierdie dogma wat vandag niks
meer is as 'n afskrikmiddel nie, is gebou op die siening dat geloof veral daaroor
gaan om mense uit die hel uit te hou en op 'n voorstelling van God as 'n soort
polisieman wat kyk of mense binne die voorgeskrewe reëls
bly. Dit verwar dit wat mens behoort en moet doen (persoonlike en samelewingsnorme)
met die stem van God. Wie die reëls nie nakom nie, (byvoorbeeld oor seks)
verbreek goddelike wette en die straf daarvoor is die ewige hel.

Die dogma berus
ook op 'n wanvoorstelling oor "die hel" in die bybelse wêreld,
want anders as wat die dogma voorgee, was dit geen sentrale idee in die Bybel
is. Daar is ook geen samehangende voorstelling daarvan behalwe in hierdie dogma
nie. In die Ou-Testamentiese tyd is geglo dat die dood die einde van lewe is
soos ons dit ken en die dooies voer 'n soort skadubestaan in die onderwêreld
(Sheol). Marteling deur buitelandse oorheersers skep 'n dilemma in die 2e eeu
vC: wat gebeur met mense wat sterf as martelare en dus nie God se seëninge
op aarde (sterf sonder 'n nageslag en 'n lang lewe op aarde) kon beleef nie?
En veral, wat gaan eendag met die onderdrukkers gebeur? In 'n kultuur sonder
menseregte, lei hierdie probleem tot allerlei spekulasies oor die tyd na die
dood. Die uitstaande kenmerk hiervan is dat daar geen eenstemmigheid is oor
wie sal opstaan (slagoffers en onderdrukkers), of dit 'n liggaamlike opstanding
sal wees of net die voortbestaan van 'n onsterflike siel en wanneer dit gaan
gebeur nie (direk na die dood of eendag in die toekoms wanneer dit met almal
gelyk sal gebeur nie). In die meeste van die tekste is die onderwêreld
(Sheol) waar dooies vir eeue lank 'n skadubestaan gevoer het, omskep in 'n
plek van veroordeling of straf. Vir die eerste keer in hul denkgeskiedenis
word dié spekulasies
in die eerste eeu 'n stap verder geneem in sommige tekste (onder andere in
sommige Nuwe-Testamentiese tekste) toe 'n buite-wêreldse plek geskep
is waar die goddeloses sal brand. Sommige tekste praat nou van Gehenna ("die
hel" waar 'n
vuur vir ewig sal brand) wat nie dieselfde is as die onderwêreld (Sheol)
nie.

Dit is onnodig om uit te wys dat ons nie meer vandag in 'n wêreldbeeld
leef wat óf 'n onderwêreld óf 'n buite-wêreldse plek
kan akkomodeer nie. Spekulasies oor straf vir "goddeloses" en 'n plek daarvoor
het ontstaan in 'n kultuur sonder 'n handves van menseregte. In die begin was
die maghebbers die "goddeloses", later diegene wat as opponente gesien is (soos
die Fariseërs) en tydens die Protestanse Reformasie was dit die Rooms
Katolieke. In ons tyd is dit veral seksuele "oortredings", waaronder seks voor
die huwelik, wat mens vir die "hel" bestem.

Die idee dat daar 'n ewige lys met
voorskrifte is oor hoe om te leef en wat om te doen (of nie te doen nie) berus
op die gebruik wat reeds in die bybelse tyd algemeen bekend was, naamlik, om
'n boek as 'n lys ewige waarhede te hanteer. Hierdie magiese hantering van
boeke het geen respek vir die boek self nie en kan dit daarom ook buite verband
en konteks aangehaal om dogmas mee te bou.

Selfs al sou die Bybel 'n lys voorskrifte
bevat het oor seks, kan dit nie net so op vandag toepas word nie. Wat ookal
oor seks gesê is in daardie tyd,
was binne die konteks waar mense kort na puberteit deur hul families in 'n
huwelik uitgegee is en die hoofdoel van seks was om te verseker dat die manlike
geslagslyn voortgaan. Sulke voorskrifte kan nie op jongmense wat dikwels 'n
dekade en langer in verhoudinge betrokke is voordat hulle self besluit om 'n
vaste huweliksverhouding aan te gaan nie, toegepas word nie. In ons konteks
is daar 'n behoefte aan 'n sinvolle verhoudingsetiek en ons kinders en jongmense
moet begelei word om die kompleksiteit van verhoudings en veral seksuele verhoudings
te kan hanteer. Die soeke na 'n lys voorskrifte is nutteloos en die afdreig
met die hel is om ons verantwoordelikheid as ouers en gemeenskap te ontduik.
Die meeste mense sien raak dat byvoorbeeld godsdienstig gedrewe selfmoord moordenaars
'n siek en skewe siening van God en godsdiens aanhang. Maar dit gebeur ook
in 'n godsdiens wat die ewige verbranding van opponente verklaar tot 'n essensie
van vroomheid. Idees wat ontwikkel het om die probleem van onreg aan te spreek,
word hierin die essensie van godsdienstigheid wat 'n pa laat sê hy sien
sy kind eerder in 'n kis as dat die kind in "die hel" gewerp kan word op grond
van buite-huwelikse seks. Dit is belangrik om raak te sien hoe bybelse mense
geworstel het met menslike verantwoordelikheid en eerder as om hulle antwoorde
te probeer nasê,
moet ons met dieselfde erns met daardie vrae worstel. Onder die vaandel van
vroomheid en opregtheid kan godsdiens, indien daar geen kritiese nadenke daaroor
is nie, maklik van mens 'n monster maak.