VREES VERSUS VRYHEID

Gerrit Visser, Hartenbos (e-pos: gnv@telkomsa.net)

Vrees en vryheid is nie bedmaats nie. Tog is dit opvallend hoeveel toegewyde Christene ondanks hul belydenis dat Christus jou waarlik vry maak, deur diepliggende vrese verhinder word om hierdie vroom belydenis in die praktyk gestalte te laat kry.

Waar kom hierdie vrese vandaan? Ek aanvaar dat vrees 'n deel is van menswees. My ervaring is egter dat georganiseerde, dogmatiese godsdiens nie daarin slaag om mense se vrese te verminder nie – inteendeel! Ek verduidelik deur na eie ervarings te verwys.

Die klem wat van agter 'n kanselkleed ("So sê die Here") op sekere Bybelverse geplaas is (dikwels met vuur, drif en armgeswaai), het beslis 'n merk op my jong gemoed gemaak. "Verskriklik is dit om te val in die hande van die Lewende God";"God laat Hom nie bespot nie"; "Vrees Hom wat liggaam en siel in die hel kan laat beland", ens.

Ons geslag (Ek is 'n afgetrede skoolhoof) is ook nie geskool om met vrymoedigheid oor ons vrese en vertwyfelinge te praat nie. Kits oplossings is vinnig in leë, holklinkende geloofstaal aangebied: "Gaan sê dit vir Jesus, Hy wat alles weet." "Onthou, ons bid vir jou."

As kind het ek 'n geweldige vrees vir die hel gehad. As ek in 'n vuur gestaar het en aan die moontlikheid van 'n ewigheid in die hel gedink het, het ek letterlik 'n gevoel van duiseligheid ervaar. Hierdie vrees (Die dominee het gesê dit is die Heilige Gees) het my in my st.7-jaar gedryf om in Pinkstertyd twee van my maats te oorreed om een aand na 'n diens saam met my na ons dominee te gaan met ons vrese. Hy het ons "tot bekering" gelei en op die korttermyn was daar 'n groter rustigheid in my.

Die vrees dat ek dalk die sonde teen die Heilige Gees kon gepleeg het, het my tot laat in my volwasse lewe getreiter. Om hieroor met jou meerderes te praat was absoluut ondenkbaar. Vrae in die verband is vroeër dikwels aan Murray Janson (in Die Huisgenoot) gerig. Hy het hierdie vrees min of meer soos volg besweer: Jou bekommernis hieroor bevestig juis dat die Gees in jou werksaam is – dus hoef jy niks te vrees nie! Sulke "onbehoorlike" gedagtes kan self gewyt word aan 'n chemiese wanbalans in die brein – God sal dit tog verstaan!

My relaas begin nou persoonliker raak as wat ek beoog het. Nou moet ek maar deurdruk! As seun was masturbasie vir my 'n geweldige probleem. Christelike lektuur van daardie tyd het sg. selfbevlekking as 'n groot sonde uitgewys. Op jeugkampe is ons gewaarsku teen hierdie vergryp. Ek was later so magteloos teen hierdie "sonde" dat ek as 'n wanhoopsdaad agter in my Bybel (na 'n vurige gebed) geskryf het dat ek hierdie sonde nooit weer sal doen nie. Dit was nou as 't ware in God se notaboek aangeteken. Hierna was my probleem nog groter. Ek het maar weer "geval" en was bevrees dat die God wat Hom nie laat bespot nie, Sy rug op my gaan draai en Sy Gees aan my gaan onttrek. As ek die Woorduitleggers nou reg verstaan, is masturbasie 'n doodnatuurlike deel van die ontwikkelingsproses en menswees – dit is net sonde as dit totaal oordryf word

Die vrees vir wat-sal-die-mense-sê is nie te skei van georganiseerde godsdiens nie. Tot my skaamte moet ek erken (met die wysheid van terugkyk) dat ek besef het dat 'n Afrikaanssprekende onderwyser wie se opvoeding in die Christelik-Nasionale gefundeer was, sy loopbaan-vooruitsigte lelik kon knou deur "ongemaklike" vrae rakende tradisionele opvattings te opper.Die regte geluide op die regte plekke was 'n voorvereiste vir bevordering. Ek wil myself egter deels kwytskeld van totale skynheiligheid. Ek was 'n toegewyde Christen en 'n aktiewe NG-lidmaat omdat ek oortuig was dat Christus dit van my verwag het – natuurlik ook die gemeenskap in wie se diens ek gestaan het. Ruimte om te veskil was daar egter nie. Christene is mos eensgesind; een van hart en siel. Ons maak soos ons nog altyd gemaak het!

Het godsdiens ons regtig bevry of het dit ons bang gemaak? Sonde, siekte, rampe, magte van die duisternis, doemwaardigheid, in sonde ontvang en gebore, tot niks goeds instaat nie, naak en blind! Hoor elke Sondag hoe sleg jy is, bely jou slegtheid en skuldigheid – om die volgende Sondag presies dieselfde te hoor en te bely. Sondag na Sondag, jaar na jaar! Daarom voel ons skuldig oor 'n honderd en een dinge. Wonder altyd of iets nie dalk sonde is nie. Verwag die duiwel om elke hoek en draai.

As daar 'n droogte is praat God duidelik Die verspreiding van vigs is Sy manier om hard te slaan. Watter bedenklike godsbeskouing!

My ervaring is dat dit haas onmoontlik is om 'n sinvolle, rustige gesprek met tradisioneel Christene te voer oor sake soos die ontstaan en boodskap van die Bybel. 'n Diep vrees vir die God wat op dogmatiese wyse aan ons voorgehou is, het bang en onseker volgelinge geskep – mense wat nie eers na jou wil luister nie, want jou idees ontstel hulle te veel, hulle wil nie verwar word nie. Weier om te vra waar jy aan jou inligting kom. Stoot jou weg met geykte geloofstaal: jammer dat jy nou op 'n dwaalweg is, ek bid vir jou tot die dag van jou dood. Gesprek afgehandel.

Goeie nuus ten slotte. Ek en my vrou ervaar tans 'n nuutgevonde rustigheid en innerlike vrede. Ou vrese het gewyk. Dit is nie die resultaat van 'n wonderwerk nie.

Ons eerlike soeke na antwoorde op ou kwelvrae en die bereidheid om teen die populêre wyse van glo, dink en doen in te gaan, het bevryding gebring. Ons waag dit nou om te sê dat die Bybel 'n wonderlike, rigtinggewende boek is, 'n skat vol beproefde lewenswaardes en – lesse wat die toets van die tyd deurstaan het. Die Bybel is egter deur mense geskryf en daarom vind ons dit onmoontlik om alles wat daarin staan onvoorwaardelik te aanvaar as die waarheid. Ons oordeel is dat die Bybel die unieke pogings van mense vanuit 'n bepaalde kultuur-historiese agtergrond is om sinvolle antwoorde te gee op universele kwelvrae soos: Waar kom die mens vandaan? Hoekom is alles en almal nie goed nie? Waar kom sleg en kwaad vandaan? Is daar lewe na die dood?

Die soeke na antwoorde op hierdie vrae is egter nie uniek aan die Christendom nie. Deur die eeue heen worstel alle kultuurgroepe met dieselfde vrae. Selfs toe skrif nog nie bestaan het nie, het die mens hieroor gewonder. Hoe hoog of laag die beskawingspeil ook al, het mense antwoorde gesoek – en gegee. Die antwoorde van elke onderskeibare groep weerspieël egter 'n unieke aard en sal daarom ook van mekaar kan verskil. Elke groep glo egter dat die geloof waarin hy of sy opgevoed is, is reg. Met die nodige waarskuwings om die skape in die kraal te hou!

Jy kan tereg vra of ons dan nou in niks en niemand glo nie. Ek verkies om die woord "glo" te vermy en eerder 'n paar dinge te noem waaroor ons klarigheid het:

  • Die wonder van die totale skepping sê vir my daar is 'n Onverklaarbare, 'n Onomskryfbare – 'n God wat ook vir my gemaak het. Daarom verstaan ek wat die digter van Ps.8 wil sê. Ek het die allergrootste bewondering, verwondering en heilige respek vir hierdie ondefinieerbare God en Sy skepping.
  • Ek weet dat ek net so deel is van God se skepping soos elke plant en dier. Ek is deel van die natuur. Hierdie wete het dit vir ons makliker gemaak om ons talentvolle dogtertjie se dood te aanvaar. Wat met haar gebeur het, gebeur vandag nog met kindertjies – waarin hulle ouers ookal glo of nie glo nie. Lewe en dood is 'n natuurlike gegewe. Ook my lewe sal op die dood uitloop. Ek het egter geen vrees vir die dood nie. Die dood was al voor die sg. Sondeval daar. Hoekom moet siekte aan straf en sonde aan dood gekoppel word?
  • Ek weet dat die lewe uit goed en kwaad bestaan. Die mens het egter die vermoë om keuses te maak Sy vermoë om reg te kies, is egter beperk vanweë sy eie beperkings en die kompleksiteit van sy leefwêreld. Alle mense is egter in staat om te streef na die goeie en die slegte doelbewus te vermy.
  • Ek weet dat die Liefde, soos besing in 1 Korintiërs 13, 'n alleroorheersende krag is wat vir my en my naaste geen kwaad doen nie, maar net goed.
  • Ek weet dat my en my vrou se "nuwe" beskouinge" beslis nie 'n besluit is wat spruit uit 'n begeerte om die kwaad te kies nie. Inteendeel, dit hou direk verband met die behoefte om meer te wete te kom omtrent die wêreld waarin ons woon en die soeke na antwoorde op kwelvrae wat alle mense in mindere of meerdere mate ervaar. Die gevolg is dat ons meer dink en minder glo.
  • Ek weet dat ek maar bloedweinig weet. Ek weet nie of daar 'n lewe hierna is nie. Ek weet nie hoekom elke goeie saak 'n aaklige teenpool het nie. Ek weet nie hoekom welgeskape kindertjies soms vroeg sterf en swaksinniges soms lank lewe nie. Ons aanvaar egter hierdie werklikheid, wroeg nie daaroor nie en probeer om ten spyte van alles die goeie te doen en gelukkig te wees.

Ons het intussen om twee redes as lidmate van die NG kerk bedank. Eerstens: ons aanvaar nie meer die Bybel (die sondeval- en verlossingsleer) as die spreke van God tot die ganse mensdom nie. Die kerk se belydenisse is op hierdie geloofsaanname gebou. As ons dit nie langer kan onderskryf nie, het ons gevoel die opsegging van ons lidmaatskap is die regte ding om te doen. Tweedens: die reaksie van die meeste vriende, familie en predikante op ons nuwe eerlikheid het gewissel van doodse swye, die uitspreek van skok tot beloftes van volgehoue gebede vir ons. Geen poging om meer te wete te kom omtrent die redes vir ons "onverklaarbare" koersafwyking nie.

Dit is nie lekker om op die vlak geïgnoreer te word nie, maar ons begrip vir hierdie reaksie temper ons teleurstelling. Soos ek inleidend gesê het: vrees en vryheid is nie bedmaats nie. Die vrees om met ons "Nuwe Hervormers" in gesprek te tree, is te groot en die vryheid om dit te doen is te beperk.


Kommentare

Re: VREES VERSUS VRYHEID

Dankie Gerrit - elkeen ouer as veertig weet presies waarvan jy hier skrywe. Self het ek as vyfjarige een aand in die kerk aan die tjank geraak van angs toe die dominee weer een van sy oordeelsdag-preke gelewer het. Dit was in die dae toe die NG-dominees nog togas gedra het. Daardie aand toe hy sy arms so oplig, het hy gelyk kompleet soos 'n reuse swart, bloedsuiende vlermuis wat enige oomblik van die preekstoel sou afvlieg om my te kom haal. Selfs toe al het die rooi kanselkleed wat in outydse letters verkondig dat God "liefde" is vir my erg teenstrydig gelyk. Tóé reeds was God in my kindergemoed niks meer as 'n ekstra-kwaai ou Afrikaner-oom met bonatuurlike magte en 'n besonder onaangename geaardheid nie. Net daar is die saadjie ook geplant wat sou lei tot 'n verwoede lees en dink wat op sy beurt uiteindelik die hele geloofs-kaartehuis ineen laat tuimel het.

Soms wonder ek hoeveel predikante vandag nog steeds in die versoeking kom om die vrees/redding-tamboer van die preekstoel te slaan soos wat die kerkbanke voor hulle elke Sondag al hoe leër word...

Stefan Coetzer

Re: VREES VERSUS VRYHEID

Rudolph van Graan het hierdie kommentaar gelewer:
 
Dankie aan Gerrit wat "vreesloos" sy ervaring met ons deel. Die pad wat jy/julle geloop het het menige NG-lidmaat geloop. Ek staan nou nog verstom as ek preke online lees wat niks anders as die ou sonde-verlossing-genade teologie verkondig nie, en dit na soveel jare van nuwere denke! Ek beskou menige dominee en NG-lidmate as "dogma-gestremd". In my eie lewe is ek ver weg van daardie teologie. Ek ervaar die nuutgevonde vryheid as so fantasties dat ek sweerlik geen moment spandeer aan die ou verdoemende dinge nie. 
 
Rudolph van Graan

Jaco Steyn