Voorsitterverslag 2008

VOORSITTERSVERSLAG 2007–2008

 

Oorsig

Die afgelope jaar was ’n besondere een waarin die NHN baie nuwe mylpale bereik het.

Ons het ons eerste naweekseminaar gedurende Augustus 2007 te Weesgerus gehou met ’n opkoms van ongeveer 90 mense, met die tema: “Soekers na eietydse sin”. Tydens die seminaar is die behoefte geïdentifiseer om vir die hier en nou te lewe deur hierdie lewe sinvol en met vrede te lewe. Vir elkeen wat die seminaar bygewoon het, was dit ’n besondere geleentheid wat gekenmerk is deur ’n besondere meelewing en baie nuwe vriendskappe wat gevorm is.

In Oktober het die bekende liberale teoloog en skrywer, John Shelby Spong ons besoek. John is bekend vir sy verfrissende en vernuwende denke oor die toekoms van die Christendom en die kerk. Sy agt aanbiedings het waardevolle geleenthede gebied waarby ons ons eie perspektiewe, en dit waarna die NHN behoort te ontwikkel, teen hom kon toets.

In Mei vanjaar het ons ’n tweede naweekseminaar gehou; weereens te Weesgerus. Die seminaar het gekonsentreer op vier kontekste waarop die NHN sy toekoms wil bou, naamlik

  • ons en ons omgewing,
  • die spirituele,
  • die sosio-politieke gemeenskap en
  • ons as eie gemeenskap.

Met hierdie fokus het ons ons doelwitte bereik. Enersyds kon ons bepaal wie ons is, wat ons doen, hoekom ons doen wat ons doen en wat ons reken ons behoort te wees. Andersyds het ons duidelikheid gekry oor ons pad vorentoe.

Die twee oogmerke wat hieruit gevloei het, is om vir die toekoms ons fokus, naamlik “Leef Hierdie Lewe” in vier geïdentifiseerde kontekste te veranker en om die NHN narratief te begin neerpen.

Verkiesing van Uitvoerende Komitee

‘n Jaarvergadering van die NHN is op 8 Julie 2007 gehou tydens ’n Midrandbyeenkoms en die volgende persone is tot die Uitvoerende Komitee (UK) verkies:

Antoinette Ehmke Hardie Fourie Leona Craffert
Gerrit Genis  Johan Talma Pieter van der Merwe
Hansie Wolmarans  Kobie Grobler Sakkie Spangenberg

Die uitvoerende komitee koöpteer daarna vir Abel Pienaar en Anthoni van Nieuwkerk en die volgende portefeuljes word tydens die eerste UK-vergadering toegewys:

Voorsitter Gerrit
Ondervoorsitter Sakkie
Tesourier Kobie
Sekretaris Hardie
Kommunikasie Johan
Netwerk Pieter
Projekte Hardie
Algemene skakeling Sakkie
Interne skakeling Antoinette
Strategiese posisionering  Anthoni

Leona Craffert is later op die UK vervang deur Pieter Craffert.

Die UK het gedurende die loop van die jaar 7 vergaderings gehou. UK vergaderings het gefokus op die bestuur van die NHN, temas en onderwerpe vir die Midrandbyeenkomste asook om te besin oor die NHN se pad vorentoe.

Midrandbyeenkomste

Daar was 19 Midrandbyeenkomste gedurende die jaar, waar ’n wye verskeidenheid van onderwerpe aangebied en bespreek is. Die onderwerpe van die verskillende aanbiedinge en die aanbieders/ fasiliteerders is as volg:

Tema

Aanbieder

Die Gilgamesj-epos  

Gerda de Villiers

Die Paranormale: Kan mens-voete regtig oor gloeiende kole loop?

Claudius van Wyk

Panenteïsme

Prof Julian Muller

Verlore in die hede: Aandagmeditasie as nie-religieuse praktyk

Rob Nairn

Wat is nuut en opwindend in Genetika en hoe raak dit ons?

Henk Huismans

Die Evolusie van godsdiens

Kobus Kruger

Die NHN van more – bied dit antwoorde op die spirituele behoeftes van hedendaagse Suid-Afrikaners?

Freddie Crous en Hardie Fourie

Weeklaag oor die verlies van weeklaag as taal van ons tyd

Frances Klopper

Is geloof, gebed en meditasie nog relevant vir die hedendaagse mens?

Sr Peggy Pellinger

Om die Bybel anders te lees

Prof Gerrie Snyman

Volg die nie-bestaan van God noodwendig uit evolusie as wetenskaplike teorie?

Prof Alex Antonites

Die aard van die mens

Francois Durant

Why Christianity must change or die

John Shelby Spong

Hoe gemaak met ons kinders?

Groepsgesprek

Slave species of God; the truth about our human origins

Michael Tellinger

Panenteïsme op die spektrum van gode en Godsbeelde: wat is die aard en karakter van jou god(delike)?

Pieter Craffert

"Wanneer God nie meer sin maak nie"

Sakkie Spangenberg

Suid Afrika se toekoms: Is Zimbabwe ons voorland?

Anthoni v Nieuwkerk

Mithras en Jesus: twee kante van dieselfde muntstuk?

Hansie Wolmarans

Ons en ons ekologiese voetspoor

Fred Goede

Sien Midrandbyeenkomste

Vier van hierdie byeenkomste is ook gevolg deur ons gebruiklike bring-en-deel etes en saamkuiers wat geskeduleer was om by bebenadering saam te val met die seisoenwisselinge.

Weesgerus 1 en 2

In Weesgerus 1 besprekings het lede beklemtoon dat die lewe vir ons belangrik is en dat ons sin van ons bestaan probeer maak. Ons het ook besef dat ons met iets volhoubaars besig is.

Gedurende Weesgerus-2 besprekings is bostaande bevestig, asook dat oop religieuse gesprek vir ons belangrik bly. Die vier kontekste waarbinne die NHN sy huidige fokus: “Lééf Hierdie Lewe” wil veranker, is redelik goed bespreek. Belangstellende lede sal genooi word om in werksgroepe elk van die kontekste verder uit te werk, mét praktiese implimenterings-moontlikhede.

Skakeling met en besoeke aan lede in ander areas van die land

Hoewel daar tans verskillende groepies eendersdenkendes is wat byeenkom in die Kaap, is daar nog nie ‘n gesentraliseerde groepering nie. Ons het in die afgelope periode aktief geskakel met lede en belangstellendes met ’n fokus op die Kaap en Bloemfontein. Die doelwit hier is om so te vorder dat ons met tyd ook saam naweekseminare kan aanbied en bywoon. Vir die Kapenaars is dit nog vroeë dae, maar na ’n onlangse besoek van Sakkie aan Bloemfontein, is ‘n naweekseminaar saam met die Vrystaters vroeg volgende jaar op die boeke. Sakkie het ‘n groep van ± 30 enersdenkendes te Bloemfontein op uitnodiging besoek wat ‘n sterk behoefte aan ‘n saamtrek saam met die NHN uitgespreek het. Daar is ook by ons lede ‘n lewendige belangstelling in ’n gekombineerde toekomstige saamtrek.

Internasionale skakeling

Johan Badenhorst is ’n oud-predikant wat woonagtig is in Engeland en het sopas sy doktergraad voltooi oor progressiewe spiritualiteit, met ‘n spesifieke fokus op die geskiedenis van die Sea of Faith beweging. Johan het ons genader om as NHN verteenwoordiger in die Verenigde Koninkryk aangestel te word en die UK het ingestem. Die NHN het dus nou ook ‘n teenwoordigheid in die VK!

Verder gaan Sakkie en Hansie ook gedurende die laaste week van Julie besoek aflê by die Sea of Faith beweging in Liverpool wat hul 21e bestaansjaar vier. Hul sal die geleentheid gebruik om die NHN bekend te stel en om bande te bou met organisasies en mense wat ons denke deel.  

Ledetal en webwerfbesoeke

 

Die aantal e-posaddresse van lede en belangstellendes op ons databasis trek nou al by 523 terwyl die NHN webbladsy-besoeke met 35% per jaar gegroei het tot nagenoeg 80 per dag (sien onderstaande figuur).

 NHN Kalender

Ons het die afgelope jaar weer ons gebruiklike kalender uitgegee met die metamorfose van sywurms, as tema. Ongelukkig was die belangstelling hiervoor nie na wense nie, en was hierdie dus ons laaste een vir die huidige.

Drumpelervaring-bedienings

Drumpelervaring-bedienings deur Sakkie en Hansie die afgelope jaar sluit in 6 troues, 2 begrafnisse en 2 doopgeleenthede: alles in die idioom van die NHN.

Diverse NHN doelstellings

Al het ons heelwat vermag, is daar seker nog baie dinge waaraan ons nie voldoende aandag gegee het nie. Daar is nog baie om te doen.

Kleingroepe: Ons het nog baie versoeke van mense wat by kleingroepe wil aansluit, maar daar is nie genoeg sulke groepe nie. Die probleem kom vanweë ons beginposisie toe kleingroepe slegs deur teoloë gelei is omdat mense se behoeftes toe grootliks rondom teologiese kwessies gewentel het. Sedertdien het mense se behoeftes geskuif. Mense wil nou eerder gesels en hul spirituele ervarings deel, en gevolglik sou meer mense dus suksesvol as gespreksleiers kan optree.

Kinderbegeleiding: Ons is al vyf jaar op pad, maar het nog nie beduidend materiaal vir kinders bymekaar gemaak nie. ‘n Gefokuste Midrandsessie en verskeie gesprekke agterna is gehou om ‘n moontlike kinderbegeleidingsaksie vir die NHN te struktureer. Die belangstelling van die kant van ons lede is egter tans onvoldoende om so ‘n aksie te implimenteer.

Opheffing van gemeenskappe: Een van die doelwitte wat ons verlede jaar vir ons self gestel het is om ‘n konstruktiewe bydrae te maak tot die opheffing van gemeenskappe. Die onderwerp is deeglik bespreek te Weesgerus 2 waar besluit is dat deur ons lede se betrokkenheid by die vier kontekste ons dus ook gevolglik direk en indirek betrokke gaan raak by gemeenskappe.

NHN-Wiki inisiatief: Een van die verdere uitkomste van die naweekseminaar is dat daar ’n begin gemaak is met die opskryf van die NHN narratief in Wiki-formaat (’n oopformaat webdokument waaraan al ons lede kan help skryf). ’n Raamwerk is reeds ontwerp vir die Wiki en die eerste hoofstuk van die verhaal van die NHN is reeds geplaas.

Dank

Hiermee wil ek graag al die NHN-lede bedank vir hul ondersteuning en veral my mede UK-lede vir hulle insette en toewyding die afgelope jaar. Dit was weer ’n keer wonderlik om te sien hoe ons organisasie groei en meer en meer dinge in plek val. Dit was vir my ook ’n positiewe lewenservaring om as voorsitter te kon optree. My beste wense aan ons nuwe voorsitter.

Gerrit Genis
Voorsitter: NHN Uitvoerende Komitee, 2007/2008