Wilhelm Jordaan 24 April 2006 Deel 2 van 2
Die vraag is nou: Gegewe die beskrywende geldigheid van kognitiewe dissonansie/konsonansie, wat is die tipiese reaksies met betrekking tot die verskillende posisies of punktuasies in godsdienstige ontwikkeling?:
Eerstens, soos Diagram 3 aandui, 'n terugbeweeg na die leerstellige letterlikheid van blinde goedgelowigheid en verstarring. Want die buitediskoers gee dikwels dít te kenne: Ja, dit is so dat veral jong mense, as hulle hul verstand gekry het, twyfel en konflik ervaar. En dit is ook waar dat Thomas getwyfel het. Maar as jy nou klaar geflankeer het met jou getwyfel en jou gekonflik, keer jy natuurlikerwys terug na die "waarheid."
Só word die kognisies wat jóú waarheid vasvat en onderhou, weer in hart en niere aanvaar.
Tweedens, dieselfde terugkeer, maar bloot as ‘n soort gebaar. Die kognisies word nie werklik onderskryf nie. Ter wille van die beskutte plekkie in die gesinskring en sosiale gemeensaamheid neem jy deel aan die komedie van die godsdienstige ritueel. In die trant van: Sondag eet ek nagmaalbrood en glo ek word gevoed, maar more by ontbyt weet ek die brood is gemaak in Boerstra se oond; Sondag drink ek nagmaalwyn en soek die troos, maar more by die middagmaal proe ek die wyn is bloot die KWV se hanepoot.
Dit gryp jou nie aan nie en jy wil daarsonder, maar "straying from the fold" (om buite die beskermende kudde te wees) is skuld- en angswekkend. Vir halfprys draf jy saam; meganies, non-reflektief, maar tog met 'n durende bewustheid van 'n spanning oor dit wat meganies beaam word, maar wat op geen manier op jou lewe beslag lê nie. Jy kan net sowel daarsonder gaan en doodgaan.
Met 'n derde moontlike reaksie op konflik en twyfel, skuif ek nou oor na die posisie of punktuasie van buitestanderskap.
Buitestanderskap
Daar is dikwels ‘n gestadigde of summiere beweging na buitestanderskap wat die verwerping van al die bekende kognisies veronderstel; tesame met 'n moontlike soeke na kognitiewe konsonansie in kille godsdienslose ruimtes. Hiermee saam, kom 'n skerp bewussyn van onverbondenheid.
Soos Albert Camus dit voortreflik filosofies aanteken in "Die Buitestander"; of soos die digter Hendrik Marsman sê: "Ik sta alleen; geen God of maatschappij die mijn bestaan betrekt in een bezield verband." Of soos ‘n karakter in André P. Brink se "Lobola vir die lewe" gesê het: "O, Niks wat in die hemel woon/Hier staan ek juigend voor U troon"; of soos die priester in die film "Antonia's Line" wat sy priesterlike gewaad van hom afstroop, straat-af afhardloop en vrolik uitroep:"Ik ben vrij, Ik ben vrij".
Maar die buite/binnediskoers oor buitestanderskap is méér as net abstrak, filosofies, literêr. Dit dring ook deur tot die konkrete weefsel van die eie bestaan; in die gesinskring waar kinders húlle godsdiensvrae begin vra; en wat oplaas die buitestander se geslooptheid van lewensin en onverbondenheid blootlê. Soos in die volgende vers:
huisaltaar
pappa wie is jy
kind ek is 'n pasehaas
wat iewers in april
sjokolade-eiers op geheime plekke plaas
waar julle dit kan vindpappa wie is jy
kind ek is 'n krismisvader
wat elke jaar presente om 'n boom rangskik
vir een aand se gelukpappa wie is jesus
juffrou sê hy is ons meester
ek weet nie meer nie kind
vra vir mamma om dit uit te vindpappa praat met my oor jesus
jesus kind nie vanaand nie
pappa gaan 'n lesing hou
dat siel en liggaam één is
nie twee
dis my werk my kind
waarmee ek julle speelgoed
kos en klere gee
Ondanks die krag van omramende diskoerse oor buitestanderskap en die eie binnediskoers, kan daar residue van die "afgestorwe" kognisies oorbly. Daar kan dus ‘n voortgaande dissonansie wees met die konsonante kognisies wat in buitestanderskap gevind is. Waarmee mens sê: buitestanderskap kan 'n belangrike impuls tot godsdiensherlewing wees.
Soos die skrywer Anna M Louw dit in die mond lê van die karakter Vos – die boer wat sy siel aan Hans Bokpoot gegee het in ruil daarvoor dat dit, tydens 'n droogte, net op Vos se plaas in die Noordweste sal reën. Toe gebeur dit tot die uiterste verskrikking toe. En só word sy belewenis aangeteken: "Hy voel God in hom skop soos die ongebore lam in 'n skaapooi se pens."
<!--pagebreak-->
Dit spreek van 'n geblokkeerde en tog voortgaande verlange en heimwee na lewensin met God as middelpunt van die verlange; die Trooster van die bang gemoed (die "afgestorwe" kognisies). In Vos se geval is die godsdienstige herlewing aanvanklik 'n beweging terug na die kader van blinde goedgelowigheid van die onverdraagsame soort. Dit word vertoon deur sy blinde, ongevoelige ywer om mense wat anders leer dink het te máák dink soos hy dink; dat sý godsdienstige kognisies alle moontlikhede in perfekte konsonansie ondervang.
Die rigting van godsdienstige herlewing kan ook wees na dit wat ek in Diagram 3 breedweg noem verwondering en fundamentele vertroue.
Maar voordat ek daarby kom, net eers dit: Soos Diagram 3 aandui, is buitestanderskap – soos ek dit hierbo beskryf het – nie 'n noodsaaklike voorwaarde vir godsdiensontwikkeling nie. Die "direkte" pyltjie vanaf konflik en twyfel na verwondering/fundamentele vertroue dui dit aan.
In só 'n geval behels die ontwerp van nuwe of gewysigde konsonante kognisies 'n gestadigde vormingsproses wat soms met hoë bewustheid plaasvind (deur onder andere wetenskaplik teologiese refleksie waarin empiries en rasionalisties weet deurslaggewend kan wees); soms oorheersend intuïtief, ervarend-metafories; en soms deur die aanwending van aldrie kognitiewe style.
Die resultaat van hierdie vormingsproses is 'n soektog na omvattende begrip – wat deur die Switserse kognitiewe sielkundige Jean Piaget as die afronding van kognitiewe ontwikkeling beskou word. Dit behels 'n stel uitbreidende konsonante kognisies wat ook 'n houdingsverandering insluit.
Dié houdingsverandering kom daarop neer dat jy deelgenootskap ervaar aan 'n betekenisvolle ekologiese en kosmiese orde; met die fundamentele vertroue dat dit wat mense "God" noem - op die een of ander manier wat ons nie begryp nie - aan die steeds ontvouende orde beslag gee. Dié vertroue verskaf die impuls tot "Gods-dienstigheid" in alles wat mens tot mens maak.
Dit besorg aan die mens 'n impuls tot 'n diepstrekkende spiritualiteit wat jy tot die kern van jou mensheid reken.
Om in kontak te wees met hierdie kern en daarvolgens te leef, het bevrydende helende krag. Wanneer dié kern "werk", is dit soos 'n kristal wat elke keer met die optel daarvan nuwe konfigurasies van lig en kleur deurlaat. Daarom praat mense wat iets hiervan beleef dikwels van buitengewone belewenisse: verligting, ekstase, verwondering, blydskap, diepstrekkende vrede, oorgawe aan liefde en deernis en 'n mistieke ervaring van eenheid met alles in omhelsing van die ganse kosmos.
Dit is dan, soos die skrywer James Joyce sê, wanneer die siel van die allergewoonste dinge helder skitter.
Die totaaleffek van dié vormingsproses bied 'n impuls tot volgehoue refleksie oor godsdienstige kognisies - in teenstelling met meganiese, onnadenkende, gewoontevormende godsdiens.
Verwondering/ fundamentele vertroue
Die wese van verwondering/fundamentele vertroue lê in die beskrywing wat ek so pas gegee het van die allesomvattende spirituele uitkoms van die soektog na omvattende begrip. Maar dit verteenwoordig net die algemene belewenis van spiritualiteit wat uiteraard nie die rykdom van moontlikhede ondervang nie.
Ek wil graag vir ons gesprek twee soorte spiritualiteit uitsonder:
Eerstens, 'n emotiewe, metafories-belewende spiritualiteit wat in die reël nie 'n saak het met die empiriese en/of rasionele opweeg van konsonante/dissonante godsdienstige kognisies nie. Dit gaan oor belewenis, híér-en-nóú.
Soos wanneer mens na goeie jazz luister. Jazz se bekoring lê in die wyse waarop duidelik dissonante klanke algaande opwerk na, en saamgevoeg word in, ‘n meevoerende geheel.
Die musiek van "Antiphone Blues" is hiervan 'n goeie voorbeeld. My CD-opname is gedoen in 'n Sweedse kerk met 'n orrel en saksofoon as musiekinstrumente. Die orrel wat normaalweg met die gewydheid van aanbidding in 'n kerk geassosieer word, begin byvoorbeeld met bepaalde akkoorde, waarop die saksofoon (wat normaalweg met wêreldlike dinge geassosieer word) "antwoord" en waarop die orrel dan "wederantwoord" ensoaan; elk met sy eiesoortige musikale wendinge en versnellings. Uit al dié dissonansies kom die totaaleffek van 'n gewyde konsonante geheel.
In 'n sekere sin is hierdie soort "luister na jazz" 'n kritiek op die opvatting, a la kognitiewe dissonansieteorie, dat mense noodwendig op empiriese en/of rasionale wyse konsonansie soek en vind deur dissonante kognisies te verander, of te verwerp.
Want wat hier aan't werk is die verskynsel van dubbele of paradoksale bewussyn wat juis toelaat dat dissonante kognisies die geheelervaring van 'n omvattende konsonansie skep.
Paradoksale bewussyn skep 'n toleransie vir sulke soorte dubbelsinnigheid en, volgens die werk van die sosiale sielkundige Milton Rokeach, is dit 'n belangrike eienskap van die "open-minded"persoonlikheid. Ander voorbeelde vind mens in die digkuns van die mistiek waarvan Sheila Cussons se "Gebed" 'n goeie voorbeeld is. Ek haal 'n grepie hieruit aan:
Hoe sal ek U ooit ken?
U is te naby, U is te ver,
U klewe aan my kyker vas,
wykende, wyderende ster -dan snap ek die genade –
suiwerder as weet, duideliker as pyn
van wyk dat ek moet nader,
altyd verder nader…
O, verborge Wonder
Magneet, wat ek sal ken!
<!--pagebreak-->
Is hier werklik sprake van rasioneel/empiries-soekende kognitiewe konsonansie? Juis nie.
Paradoksale bewussyn kan mens ook help om "permanensie" te vind te midde van verandering. Volgens Jean Piaget vind mense, in algemene kognitiewe ontwikkeling, permanensie deur konservasie (bewaring) – waar permanensie beteken "iets" (‘n residu, 'n oorblyfsel) is nog aanwesig al is dit nie onmiddellik teenwoordig nie.
'n Nuttige toepassing van dié kognitiewe beginsel vind ek in Annette Snyman se gedig "Gee my net één dag":
Gee my net één dag soos toenterjare
'n dag vol soetwyn in Jerusalem,
g'n drome droom - gesigte sien -
'n dag wat van wind en vlamme sing!
Maak van my so 'n nuwe Pinksterling
dat ek die taal waarin ek gebore is,
my eie klank, in elke geelvink en kanarie hoor:
by tortels en kokkewiet se kind
die ABC van duisend warm woorde vind!
Hiermee sê die digter: Gee my weer die bekoring en die inspirasie van die verbygegaande tyd toe mense dit beleef het dat die Heilige Gees uitgestort is ("permanensie"), maar nou in 'n ander formaat – in 'n eie Afrikaanse klank wat borrel in die alfabet van 'n nuwe spreekwyse oor die mens se verlange om iets van God te begryp; en om in daardie begrip geborgendheid te vind ("konservasie").
Maar u sou kon vra: wat het paradoksale bewussyn te make met die meer praktiese aspekte van godsdiensbelewenis?
Daarom dié voorbeeld: Die Apostoliese Geloofsbelydenis (die Twaalf Artikels) is vir baie moderne mense 'n struikelblok. Hulle kan hulle nie meer daarmee vereenselwig nie, en kan dit dus ook nie met oortuiging in 'n erediens nasê soos die gebruik is nie.
Dié soort probleem is 'n tipiese voorbeeld van rasioneel-gedrewe kognitiewe dissonansie. Maar paradoksale bewussyn kan 'n ander "lesing" van dié geloofsbelydenis toelaat.
Enersyds: hierdie belydenis roer my en maak die verlange na God in my wakker. Dit is die geloofspad waarlangs die kerkvaders dit eeue gelede begryp het, en waarlangs ek ook gekom het van kindsdae af. Ek kan my hierin verbly as 'n kosbare geloofsvormende geskiedenis waarsonder ek nie wil wees nie.
Andersyds en terselfdertyd: ek glo die misterie van God en Christus is ontvouend en dit laat my toe om dit wat vir my vreemd en onaanvaarbaar geword het, in te klee en uit te brei met die mistiek van altyd soekende verwondering; dat ek ander woorde kán en mág vind wat my die troos bring dat ek nie buite staan nie.
'n Tweede soort spiritualiteit kom neer op 'n oorwegend rasioneel gedrewe poging om as'tware nuwe godsdiensparadigmas te ontwikkel wat in bepaalde gevalle nog verband hou met ‘n oorspronklike paradigma, en in ander gevalle heeltemal verwyderd is daarvan.
Vanselfsprekend staan ‘n oorwegend rasioneel gedrewe spiritualiteit nie noodwendig los van die metafories-ervarende soort nie. Dit kan juis as impuls dien om op 'n bewuste, rasionele manier 'n konstellasie van konsonante kognisies te bou wat op kritiese wyse godsdiensverantwoording in die oog het. Ek dink in dié verband aan Christelike godsdiensbeoefening waarin die idee van Christus as persoonlike verlosser laat vaar word en so ook die idee van 'n persoonlike God. Maar onthou in dié verband my vroeëre opmerking dat aldrie vorme van weet (kognitiewe style) soms aangewend kan word; selfs al het jy ‘n voorkeur vir 'n bepaalde kognitiewe styl.
U sal merk dat in Diagram 3 daar ook 'n pyltjie terugloop vanaf verwondering/ fundamentele vertroue na verstarring/blinde goedgelowigheid. Waarom? Omdat daar altyd - met enige godsdiensposisie - dié moontlikhede bestaan:
Eerstens, dat algaande vergeet word dat ons met 'n "Geheim" besig is; en dat ons dit met óns beperkte soort soekligte probeer aftas. Dat ons byvoorbeeld nie die digter Robert Frost se soort insig werklik begryp en inreken in ons dink, praat en doen nie:
We dance around in a ring and suppose
But the Secret sits in the middle and knows
Of dan, aanvullend, in Afrikaans:
Ons dans in 'n kring en maak onsself wys
Maar die Geheim sit stil in die middel en swyg
<!--pagebreak-->
In die Rodin-museum in Parys is daar 'n merkwaardige stukkie beeldhouwerk (genoem "Die Geheim") wat die wesenlike hiervan uitdruk. Spoor dit gerus op deur die Internet.
Uit 'n ruwe, ongevormde marmervoetstuk styg twee hande op wat sag, huiwerend, eerbiedig, beskermend aan mekaar raak. In die klein afgesonderde ruimte tussen-in ("geheim" beteken letterlik iets wat van ander dinge afgesonder is) wil-wil iets oopvou, maar dit gebeur net-net nie. Waar jy ook al staan en kyk, jou oë wil die hande oopbeur, maar dit bly tergend, ontwykend toe.
Tweedens, dat jou godsdienstige "posisie" of "punktuasie" selfverheerlikend raak in dié sin dat jy reken die nuwe lig wat jy gekry het, verdonker alle ander lig. Jy het godsdienstig/spiritueel gearriveer.
Derdens, dat jy jou weg na spiritualiteit voorhou as die eksklusiewe toegang tot die poorte van spiritualiteit; en
Vierdens, dat jou godsdiensbelewenis en -praktyk oplaas non-reflektief, meganies en daarom ook nuwe dodelike "dogma" word. Wanneer dit gebeur, is die "inhoud" van die nuwe godsdienstige posisie weliswaar gans anders as die "oorspronklike" posisie waarvan dit afskeid geneem het, maar tog ook soos 'n kwaadaardige lewensvernietigende gewas.
Ten slotte
Gegewe dié uiters skamele agtergrond vir ons gesprek vandag dié vraag: Waaraan kan mens jou godsdiensbelewenisse en -praktyke toets in die konteks van die idee dat godsdiens 'n lewende krag behoort te wees? Ek stel tentatief vyf vrae:
Eerstens, is jou godsdiens sentraal in jou lewe – 'n dwingende lewenskrag wat neerslag vind in alles wat jy is en doen? Die Katolieke teoloog Hans Küng se segging is in dié verband betekenisvol: "The totality of faith consists in the integrity of commitment and not in completely correct propositions. And that commitment can be entire and unreserved even though something false is said at the same time."
Gee Küng dalk hiermee te kenne dat die integriteit van toewyding belangriker is as die rasionale vraag: Is jou godsdienstige kognisies konsonant?
Tweedens, is dit kreatief? Het dit, soos toe jy 'n kind was, daardie element van spontane verwondering en lewensgretigheid? Of is dit bloot 'n meganiese nabootsing van voorskrifte?
Derdens, is dit self-krities? Kan jy die dissonansies in jou godsdienstige posisie raaksien en is jy bereid om daarmee saam te leef?
Vierdens, kan jy jou godsdiensbeoefening integreer met jou ganse lewe en die morele konsekwensies daarvan deurvoer en die verskil wat dit maak, ervaar en aantoon?
Vyfdens, die belangrikste vraag: laat jou godsdiens verdraagsaamheid toe - dermate dat dit nie net in eie geledere geld nie, maar juis wanneer die verskille en andersheid ingrypend is.
In die trant van Küng se segging hierbo is verdraagsaamheid vir my die hart van die "integriteit van jou toewyding." Want juis die integriteit van jóú toewyding moet 'n ánder se integriteit van toewyding moontlik maak, waarborg en laat gedy.
Hieruit volg nog 'n belangrike oorweging: laat die integriteit van toewyding ook verdraagsaamheid vir onverdraagsaamheid toe?
Soms is dit nuttig om terug te gaan na die wortelbetekenisse van woorde om iets dieper te snap. Die Latynse wortelbetekenis van "toleransie" (verdraagsaamheid) is saamgestel uit "toleratus" wat beteken: "om te verduur"; en "tollere" (wat beteken: "om op te tel"); ook en "tuli" (wat beteken:"om te dra").
Alles saam geneem, is verdraagsaamheid 'n omvattende lewenshouding wat sê: terwyl ek dalk anders as jy dink, dra ek jou opvattings (ook: kognisies, belewenisse, praktyke) saam asof dit myne is, en daardeur verstaan ek beter hoekom jy dink soos jy dink en doen soos jy doen.
|
In die herontwerp van die diagramme het die volgende tikfoute ingeglip. Ons vra hiervoor verskoning: Diagram 1 Diagram 2 In die binnediskoers: "empiries" nie "emperies" nie. Diagram 4: |