Verruiming of versplintering van die Christelike tradisie?

deur Jacques Kriel

Met die eerste oogopslag lyk Amie van Wyk se bydrae tot Beeld se rubriek Godsdiens-Aktueel positief: Dit titel lui: Debat oor Jesus sal só rigting kry (Beeld 5 Aug 2002). Hier kan dalk opbouende gesprek uit voortvloei. Maar reeds
die onderskrif maan tot versigtigheid: Mense moet hul onverbloem skaar
by eie groep.
Die rigting wat Amie wil aandui is een van verdere
versplintering van die Christelike tradisie eerder as een van verryking en
verruiming deur eerlike debat en gesamentlike strewe na diens aan die mensdom
en die Christelike tradisie. Soos in die apartheidsdae word probleme vir Amie
opgelos deur afstigting en groepvorming. Elkeen moet in sy eie teologiese Bantustantjie
sit en debatteer.

Ek het nie 'n probleem met
Amie se karakterisering van die twee groepe nie, behalwe vir sy ietwat neerhalende
verwysing na die "moderne lewensgevoel" en dat die opstanding "tog nie meer
wetenskaplik aanvaarbaar (is) nie en moet daarom metafories verstaan word".
Die argumente binne Groep 1 is baie meer gesofistikeerd as dit — maar
nou-ja!

Ek bevind my onbevrees en onbeskaamd
in wat Amie as Groep een kategoriseer, dié wat onder andere
ernstige probleme het met die tradisionele Christelike standpunt oor die goddelike
herkoms en kosmiese versoenings-betekenis van Jesus van Nasaret. Die formele
strukturering van hierdie benadering (wat al van vêr kom binne die Christelike
teologie en Bybelwetenskappe) het dit vir my moontlik gemaak om myself met
vreugde en entoesiasme tuis te voel binne die Christelike tradisie. Ek stem
egter nie saam dat die oplossing vir die spanning in nog 'n versplintering
van die tradisie bestaan nie. Ek stel eerder voor dat die tradisie verruim
word om plek te maak vir beskouings wat, soos hy tereg daarop wys, van die
begin reeds binne die tradisie teenwoordig was.

Amie
wil aan lede van Groep 1 die benaming Christen ontken. Aangesien
baie van hulle probleme het met die tradisionele interpretasie van
die term sou hy hulle eerder as Jesuïete wou kenmerk, maar die
Rooms Katolieke orde het hom ongelukkig voorgespring. Ek het nogal simpatie
met hierdie siening. Ek het selfs op 'n stadium 'n  artikel geskryf met
die titel Being a Christian without a Christ (Religion and Theology 2001
3/4, 298). Daar is egter mense wat hulle binne Amie se Groep een sou
tuis voel, maar wat ook gemaklik sou wees met die term Christus as
dit op Jesus van toepassing gemaak word. So byvoorbeeld het Biskop John Shelby
Spong (outeur van die boek Why Christianity must Change or Die) homself
onomwonde as 'n Christen geïdentifiseer. Hy stel duidelik sy "deeply
held commitment to Jesus as Lord and as Christ ," (my kursivering)
maar stel dan onmiddellik daarna: "I also recognize that I live in a state
of exile from the presuppositions of my own religious past. I am exiled from
the literal understandings that shaped the creed at its creation. I am exiled
from the worldview in which the creed was formed. (p.22). Daardie woordjie " also" dui
op 'n spanning wat nie sommer maklik opgelos kan word nie. Maar soms moet ons
kreatief saamleef met sulke spannings en hulle nie probeer ontken, wegwens
of ontduik deur versplinterings nie.

Biskop Spong
beskryf presies my situasie en, sou ek dink, dié van baie mense binne
die Christelike tradisie. Ek sou dus ook myself as Christen tipeer. Maar dan
verstaan ek die term Messias of Christus tog wel anders
as in die tradisionele Christelike standpunt. Ek verstaan dit in sy oorspronklike
Joodse betekenis as die bepalende verteenwoordiger of (in my siening) interpreteerder van
die God van Israel. Myns insiens is die tradisionele Christelike interpretasie
van die woord Messias 'n Grieks-Hellenistiese siening wat vreemd is aan die
Ou-Testamentiese Messiaanse tradisie en een wat slegs met 'n teologiese gespook
op die Nuwe Testament toepasbaar gemaak kan word.

Die
navorsing van John Dominic Crossan het myns insiens duidelik daarop gewys dat
die nie-messiaanse interpretasie van Jesus teruggevoer kan word tot die vroegste
Christelike gemeenskappe. Die Evangelie van Thomas en die Q-Evangelie toon
geen teken van die lydens- en versoeningsinterpretasie van Jesus se lewe en
dood nie, en gaan terug tot baie nader aan die oorspronklike Christelike gemeenskappe
as byvoorbeeld die vier Evangelies.

Ek besef
terdeë dat hierdie interpretasie radikale implikasies vir die tradisionele
Christelike standpunt het. Maar dit is nie nodig om, soos met die Protestantse
Hervorming, op skeiding en skeuring aan te dring nie. Die Christelike tradisie
is en was nog altyd ryk aan verskillende (selfs botsende) interpretasies van
Jesus van Nasaret. Die sg. Nuwe Hervorming kan die tradisie verder verryk en
wesentlike aspekte van die werk en visie van Jesus weer na vore bring – aspekte
wat verlore geraak het (selfs onderdruk is) binne die tradisionele Christelike
standpunt. En dit maak dit vir dié van ons wat die "moderne lewensgevoel" en
die wetenskaplike benadering tot die wêreld en die Bybel ernstig opneem,
moontlik om onsself nog Christene te wil noem.

Maar
as die debat oor Jesus rigting wil kry, dan moet Amie bereid wees om die tradisie
te verruim, nie te versplinter nie. Die tragiek van ons landsgeskiedenis het
tog duidelik bewys – apartheid gee nie rigting aan debat nie. Dit is die einde
van alle debat.

Dr Jacques Kriel
Posbus 2052
Houghton 2041