Thomasevangelie

Reinette van Heerden vra of die verwysings na die Tomasevangelie nie maar net 'n bohaaimakery is nie. Pieter Botha beantwoord die vraag.

Hippolitus (wat ±210-235 n.C. in Rome gewerk het) vermeld dat sekere groepe 'n "Evangelie van Tomas" gebruik, en so ook Origines. In 1945 is hierdie Evangelie herontdek tussen die Nag Hammadi geskrifte. Die tweede kodeks se tweede traktaat van die vonds begin met die woorde, "Hierdie is die geheime uitsprake wat die lewende Jesus geuiter het en wat Didimos Judas Thomas neergeskrywe het". Hierdie manuskrip verteenwoordig die vierde-eeuse vorm of weergawe van die Tomasevangelie en is in Kopties. Met behulp van hierdie manuskrip kon drie Griekse manuskrip-fragmente geïdentifiseer word, naamlik as vroeër weergawes van die Tomasevangelie. Hierdie stukkies van die evangelie (wat elkeen skaars 'n bladsy behels) is bykans 'n halfeeu voor die Nag Hammadi vonds by Oksirinkus gevind, maar is tot-en-met die Nag Hammadi vonds net aangedui as dele van 'n onbekende evangelie. Hierdie papiri kan gedateer word: die oudste kom van die einde van die 2e eeu n.C. en die ander uit die derde eeu. (Hierdie stukkies papiri is ouer as die meeste Griekse manuskripte van die Nuwe Testament waaroor ons beskik). Hierdie papiri-gedeeltes verteenwoordig die tweede-eeuse vorm van die Tomasevangelie.

Ons sou baie meer van die Tomasevangelie wou weet, maar ons weet minstens die volgende: Die Evangelie is in Sirië geskrywe, tussen 70 en 140 n.C. Afskrifte (in Grieks) is in Egipte in die eerste helfte van die tweede eeu gebruik en afskrifte van die Koptiese vertaling is in Egipte gebruik vanaf die derde eeu. Omtrent die helfte van die inhoud van die evangelie is soortgelyk aan materiaal wat ons in die kanonieke evangelies kry. Die skrywer van die Tomasevangelie het egter nie by die sinoptiese evangelies afgeskryf nie.

Wat is die implikasies? Hier moet mens eers besluit of historiese verstaan belangrik is of nie. Mens kan die soortgelykheid maar onafhanklikheid van die Tomasevangelie toeskryf aan inspirasie ('n geloofsbesluit), byvoorbeeld. Of mens kan 'n historiese verklaring aanbied, naamlik dat die Tomasevangelie 'n stroom van Jesustradisies verteenwoordig wat naas die ander tradisies ontwikkel het. So beskou bied Tomas heelwat materiaal wat soos die van die kanonieke Evangelies op sigself beoordeel moet word en historiese inligting oor die Jesusbeweging en die historiese Jesus kan verskaf. Nie so baie inligting soos wat ons graag wil hê nie, maar darem iets. Uit 'n historiese oogpunt is dit dus 'n belangrike bron, want Lukas byvoorbeeld, verteenwoordig nie 'n onafhanklike ooggetuie se weergawe nie. Hy self maak dit baie duidelik dat hy by ander afskryf en onteenseglik weet ons dat hy by Markus en die Matteus-evangelietradisies (sommiges noem dié tradisies die Q-evangelie) afgeskryf het. Alhoewel die kodeks uit die vierde eeu stam, kom die Evangelie van Tomas se inhoud uit 'n veel vroeër tydperk.

Teologies bied die Tomasevangelie ons insig hoe vroeë Christene oor Jesus gedink het, en Jesus voorgestel het vóór die kanon gefinaliseer is. Daar is aanvanklik gedink die Tomasevangelie is "Gnosties", maar die standpunt het twee onoorkomelike probleme. Daar is, eerstens, 'n probleem met die term "Gnosties" (wat in so 'n verband eintlik niksseggend is). In 'n algemene sin beteken dit iets soos: kennis is belangrik vir die aanbidding van God en die redding van 'n mens. Gemeet aan die beroemde gnostikers se teologie (mense soos Basilides en Valentinus) is die Tomasevangelie net soveel of net so min "gnosties" as wat Paulus en Johannes "gnosties" is. Die ander probleem is dat daar 'n onderskeid gemaak moet word tussen die oorsprong van die inhoud (waarvan dele van die Tomasevangelie teruggaan na die tyd van die eerste dissipels), die opskrifstelling van die tradisies (sê maar 70–85 n.C.), die finale redaksie van die teks (sê maar 100 n.C.) en die verskillende afskrifte en vertalings en weer afskrifte van die vertaling. Dat die teks saam met ander sogenaamde Gnostiese geskrifte gevind is (soos byvoorbeeld die Apokrufon van Jakobus, die Dialoog van die Verlosser en die Evangelie van die Egiptenare — almal Nag Hammadi kodekse) sê insigself nog nie dat die Tomasevangelie gnosties is nie.

Die Evangelie van Tomas bestaan uit 114 "uitsprake" van Jesus. Hierdie indeling is deur moderne navorsers gemaak; die oorspronklike tekste het nie enige nommering nie. Geen verhale oor Jesus is in die evangelie nie, daar is dus geen lydensgeskiedenis en geen wonderwerke nie. Die gesegdes van Jesus wat hierin is, is wysheidspreuke, gelykenisse, uitsprake oor die Wet, kort dialoë en profetiese uitsprake. Omtrent die helfte van die uitsprake is soortgelyk aan wat ons in die kanonieke evangelies vind. Soos wat die teks nou daar uitsien is die sinne hoofsaaklik gerangskik met behulp van woord assosiasie.

Twee van die oudste uitsprake in die Tomasevangelie is: (1) vers 31: "Geen profeet word in sy eie dorp aanvaar nie; geen geneesheer genees diegene wat hom ken nie". Hierdie gedeelte verteenwoordig 'n weergawe van 'n uitspraak van Jesus wat ouer is as die weergawe wat ons by Mk. 6.1–6 vind.  (2) Die gelykenis van die huurders en die wingerd in ETom. 65, wat 'n ouer weergawe van Mk. 12.1–12 verteenwoordig.

Wat inhoud betref: in Tomas is Jesus die openbaarmaker. Vers 1: "Elkeen wat hierdie woorde verstaan sal nie dood ervaar nie" (lett: iemand wat die interpretasie van die woord vind sal nie dood proe nie). Jesus word voorgestel as die een wat vir altyd lewe, en die historiese Jesus is die Een wat nou kan praat net soos altyd. Die gelowiges moet die bose wêreld teenstaan, want die Vader se koninkryk is van lig. "Hy wat homself vind is beter as die wêreld". Die koninkryk van die hemele is beide binne mense en buit hulle, en orals ewe veel teenwoordig (verse 3, 49, 50, 113). Dissipelskap is veeleisend, en behels die opgee van eiendom, familie, seks, vas, besnydenis ensomeer.

Van die belangrike dinge wat mens agterkom by die Tomasevangelie is die feit dat 'n hoë Christologie ontwikkel sonder enige klem op titels vir Jesus. Met ander woorde, Jesus word as goddelik beskou, maar hy word nie "Seun van God" of sulke titels gegee nie (anders as die kanonieke evangelies). Die ander belangrike aanduiding is dat die eerste vertellers van Jesus-woorde rondreisende leraars was, wat in armoede en selfopoffering geleef het om te getuig van Jesus. 

'n Engelse vertaling: Gospel of Thomas

Lees meer oor die Tomasevangelie: