Pieter F Craffert
Departement Nuwe Testament
Unisa
September 2007
Die konferensie by die NG Kerk Universiteitsoord op 18 September 2007 oor die vrygestelde DVD waarin ’n aantal Suid Afrikaanse teoloë verdag gemaak word, het weereens die beperkte en beperkende aard van die huidige teologiese debat in die Afrikaanse wêreld geïllustreer. Die eensydige aard van die debat, waarvan die meeste deelnemers klaarblyklik totaal onbewus is, kom nog duideliker in die DVD na vore. Die raamwerk waarbinne die debat plaasvind, konstitueer, myns insiens, ook die grootste enkele uitdaging waarvoor die Afrikaanse kerke in die volgende dekades te staan gaan kom. Dit is, naamlik, hoe om sinvol met verskeidenheid om te gaan en hoe om diversiteit positief aan te wend eerder as om tot verdere skeuring en verdeling te lei. Die beperkende raamwerk kom die duidelikste na vore wanneer dit teen die agtergrond van egte voorbeelde van diversiteit gesien word.
Diversiteit tussen gelowiges
In 1999 is ’n bundel opstelle gepubliseer waarin Tom Wright en Marcus Borg verskillende standpunte oor die historiese Jesus inneem (sien Borg and Wright 1999). Tom is ‘n Anglikaanse biskop van Durham in Brittanje, en Marcus behoort aan die Episkopaalse kerk in die VSA (die Anglikaanse tradisie in die VSA). Beide is Nuwe-Testamentici, maar hulle verskil radikaal van mekaar. Dit sluit in verskille oor die letterlike verstaan van die maagdelike geboorte en die opstanding van Jesus. Die merkwaardige is dat te midde van die verskille, hulle kan skryf: “We are both committed to the vigorous practice of the Christian faith and the rigorous study of its historical origins”.
’n Tweede voorbeeld uit konserwatiewe kringe is ’n publikasie van die seminaar oor die opstanding waaraan Wright en die keer, John Dominic Crossan deelgeneem het (sien Stewart 2006). Weereens, verskil Wright met Crossan, ’n lid van die Jesus seminaar, oor die fisiese, letterlike, liggaamlike opstanding van Jesus - maar die debat bly op ’n hoë peil. Terloops, Borg en Crossan is twee van die buitelandse geleerdes wat in die DVD as nie-Christene voorgestel word.
In hierdie publikasies en debatte is twee elemente teenwoordig wat in die Suid Afrikaanse debat totaal afwesig is. Die een is die erkenning dat die ander een, wat sigself met die Christelike tradisie vereenselwig en sy of haar lewe daaraan wei om dit beter te verstaan, met goeie reg kan aanspraak maak om ’n Christen genoem te word. Hierdie is voortgaande gesprekke tussen medegelowiges. Die tweede is die aanvaarding dat elke standpunt, ook jou eie, slegs ’n interpretasie van die gegewens is. Daar is, byvoorbeeld, geen teks in die Nuwe Testament wat sê dat Jesus fisies, letterlik, en liggaam opgestaan het nie. Daar is geleerdes (soos Wright) wat op grond van hul navorsing meen dat dit die beste interpretasie van al die beskikbare gegewens is en dat dit daarop dui dat Jesus fisies, letterlik, liggaamlik opgestaan het. Daar is andere (soos Borg en Crossan) wie se interpretasie hul daartoe bring om dit nie letterlik as ’n fisiese gebeure te verstaan nie. Beide erken egter die betekenis van Jesus se opstanding (sommiges omdat hulle reken dit was die grootste wonderwerk van alle tye en ander omdat hulle in die verkondiging daarvan iets sien en beleef van God se herskeppende krag). Beide groepe aanvaar die werklikheid van die opgestane Jesus (al oordeel hulle verskillend oor die gebeure).
Hierdie twee strome bestaan al vir ongeveer twee honderd jaar in Nuwe-Testamentiese navorsing en uiters bekwame en toegewyde navorsers bevind hulle aan beide kante van die debat. Dit mag selfs wees dat beide nog onder die druk van ’n modernistiese raamwerk die tekste steeds misverstaan en dat nie een van die twee interpretasies enige waarde vir Jesus se eerste volgelinge sou gehad het nie. Dit mag wees dat ’n kultuur-sensitiewe verstaan van die Nuwe-Testamentiese bronne ons ’n meer getroue eerste-eeuse verstaan kan gee. Maar dit daar gelaat, want die punt is dat vir dekades al worstel navorsers om beter en meer sin te maak en strewe hulle na meer suksesvolle interpretasies van die gegewens. Soos Borg en Wright, is daar talle wat vra: verstaan ek jou reg; wat maak jy met hierdie of daardie teks of inligting; hoe verstaan jy die gegewens? ens.
Binne die raamwerk van hierdie debat is daar nie fundamentalistiese grense wat slegs diegene wat byvoorbeeld ’n fisiese, letterlike, liggaamlike opstanding aanhang, binne die kring van Christene toelaat nie. En dit is die groot verskil met die Suid Afrikaanse situasie. Die raamwerk hier in Suid-Afrika (en in soortgelyke fundamentalistiese situasies in die VSA en elders) is só gedefinieer dat slegs één interpretasie moontlik en aanvaarbaar is. Almal moet aan die één standpunt voldoen en wie nie slaag nie, word uitgeskuif, afgesny en veroordeel.
Dit is binne so ’n (fundamentalistiese) raamwerk dat die gesprek in Universiteitsoord plaasgevind het en wat veral op ’n baie kru manier deur die genoemde DVD verteenwoordig word. Let mooi op na die strategie van beide die DVD en die gesprek: die oogmerk is om vas te stel of die Tuks dosente nog tot die kring behoort. Laat ek by laasgenoemde begin.
Die DVD se raamwerk en retoriese strategie
Beide lyne loop soos goue drade deur die DVD. Die retoriese strategie is om ’n donker agtergrond te skets. Hierdie agtergrond word verteenwoordig deur sommige buitelandse en ’n aantal Suid-Afrikaanse navorsers (veral lede van die Nuwe Hervorming Netwerk). Die suggestie is dat hulle tog nie Christene kan wees nie, want hulle aanvaar nie die fisiese, letterlike, historiese en liggaamlike opstanding van Jesus nie. Die implisiete aanname van die DVD is dat laasgenoemde siening normatief is en wie daarvan afwyk, dwaal. Hulle is die ketters, of nog erger - kan nie as Christene deurgaan nie. Die strategie is verder om sommige dosente by Tukkies teen die donker agtergrond te meet met die insinuasie dat hulle eintlik buite die ruimte van ware Christenskap val. Die oogmerk van die DVD is nóg ’n ondersoek na moderne strominge (want daarvoor is dit veels te tendensieus en oppervlakkig), nóg ’n poging om gesprek te bevorder (daar kan nie sprake van gesprek wees as die meeste van jou sogenaamde gespreksgenote beswaar maak dat hul woorde en intensies verdraai is nie). Die strategie van aanbieding weerspreek so ’n moontlike oogmerk, want woorde wat in verskillende kontekste opgeneem is, word selektief aangebied binne bogenoemde fundamentalistiese raamwerk en nêrens word enige persoon genader om te reageer of kommentaar te lewer of selfs om spesifieke vrae te beantwoord nie. Niemand praat vir hom- of haarself nie. Daar word net na geselekteerde woorde geluister (wat opgeneem is) met die doel om in die eie veroordelende raamwerk te funksioneer. Uiteindelik het die DVD slegs één oogmerk en dit is om aan te toon dat die drie Tuks dosente by die donker, ketterse agtergrond hoort.
Om die redes reken ek dat dit alles behalwe ’n sinvolle bydrae lewer om resente Nuwe-Testamentiese navorsing in mense se voorhuise in te dra. Dié navorsing word bloot tendensieus aangebied binne bogenoemde fundamentalistiese raamwerk en met die doel om die betrokke dosente verdag te maak sodat hulle veroordeel kan word. Crossan, Malina, Borg en Spong wat in die DVD ter sprake kom, om maar net die vier by name te noem, identifiseer hulself volledig met die Christelike tradisie; beskou hulself as gelowige christene; het hul ganse lewens gewy aan die kerk en navorsing oor die Nuwe-Testamentiese geskrifte. Die wyse waarop die DVD oor ander gelowiges se diepste oortuiginge en verbondenheid aan die Christelike tradisie oordeel, is (om die woord “arrogant” te vermy) ’n uiterste vorm van hubris. Dít is een van die kenmerke van die fundamentalisme: ander mense moet aan jou (en jou groep se) verwoording en raamwerk voldoen en soos jy (en jou groep) dink en praat.
Die gesprek in Universiteitsoord
Dit bring my by die bespreking in Universiteitsoord NG Gemeente. Al die pleidooie vir meer nederigheid en die skynbare pogings om nou presies te verstaan wat die betrokke dosente dan sou glo, is skrikwekkend naïef en klaarblylik onkundig met betrekking tot bogenoemde raamwerk. Oor en oor moes die betrokke dosente hot en haar keer om nie dalk verdink te word dat hulle die fisiese, letterlike, liggaamlike opstanding van Jesus sou ontken nie. Hulle moes oor en oor hul geloof bely net sodat iemand anders weer van ’n ander kant af kon inkom om suspisie te wek of hulle wel nog binne bogenoemde fundamentalistiese raamwerk inpas.
Dit herinner aan die eeue lange debatte in die kerk oor hoe om Christelik en moreel teenoor ’n slaaf op te tree maar sonder om te besef dat slawerny een van die uiterste vorme van sistemies onreg en sonde was wat ooit deur mense (en Christene) beoefen is. Bogenoemde raamwerk word klakkeloos aanvaar as maatstaf waaraan andere moet voldoen en die belangrikste oogmerk was om die drie daaraan te toets. Maar soos die DVD, is die raamwerk waarbinne die drie dosente die vrae moes beantwoord implisiet gegee: as een van hulle net ’n aanduiding sou gee dat hy nie die fisiese, letterlike, liggaamlike opstanding of die maagdelike geboorte van Jesus sou aanvaar nie, sou hy daar en dan aangekla en simbolies op die brandstapel geplaas word. Dit is soos om met ’n geweer teen jou kop vrae te moet beantwoord. Voordat die raamwerk binne die kerk nie een van dialogiese openheid vir verskillende interpretasies binne die Christelike tradisie is nie, is dit niks anders as fundamentalistiese hegemonie en onderdrukking nie.
Nie een van die sprekers wat gepleit het vir meer nederigheid of duideliker belydenisse het beswaar aangeteken dat ander gelowiges se diepste oortuigings deur die DVD en die ondervraging vertrap word nie. Geen woord is gerep (ten minste van die vloer af nie) oor die eksplisiete standpunt in die DVD ten opsigte van suspisie oor die amptelike organe van die NG Kerk wat ondersoek gedoen het na die drie dosente se leringe en hulle onskuldig bevind het. In die prekies oor hoe om Christelik teenoor ander (slawe) op te tree, was daar geen weerstand teen die slawerny van fundamentalisme wat nie net een standpunt verabsoluteer nie, maar salig onbewus daarvan is dat hulle besig is om hul eie raamwerk op ander afgedwing te dwing. Daar was geen weerstand teen die arrogansie waarmee die eie fundamentalistiese interpretasie gelykgestel word aan wat destyds sou gebeur het, en hoe dinge skynbaar was nie.
Die uitdaging van dialogiese diversiteit
Die grootste uitdaging wat, myns insiens, Afrikaanse kerke in die dekades wat kom in die gesig staar, is hoe om sinvol en beskaafd (met civility) met die verruimende diversiteit wat reeds eeu lank deel van die Christelike tradisie is, om te gaan. Dit geld godsdienstige diversiteit in die algemeen (tussen godsdienste), maar spesifiek diversiteit in eie geledere oor konflikterende interpretasies. Die ontsteltenis van lidmate en die onsekerheid wat meer as een interpretasie skep, is die vrot vrugte van ’n onvermoë om sinvol met diversiteit om te gaan. Dis ’n kulturele mankement wat sigself gaan wreek. Die enigste teengif daarteen, is om lidmate in te lei in die bestuur van verskeidenheid. Die filosoof, Daniel Dennett merk onlangs op dat daar vandag waarskynlik geen belangriker vraag is om na te vors nie as juis wat godsdiens is; waarom dit so baie vir mense beteken, en wat dalk fout mag wees in godsdienstige mense se selfverstaan. Eers dan kan met verantwoordelikheid nagedink word oor waarheen godsdienste en godsdienstige mense hierdie planeet rig (sien Dennett 2006:6–7).
Die groot vraag is hoe kan die kerk, in die lig van die dekade lange diversiteit van interpretasie en moontlikhede van verstaan oor die Jesus tradisies, sinvol met verskille omgaan? Konkreet, die grootste uitdaging vir die Afrikaanse kerke in die jare vorentoe is nie om spesifieke individue uit te vang wat dalk nie die fisiese, letterlike, liggaamlike opstanding of maadgelike geboorte van Jesus onderskryf nie, maar hoe om met daardie diversiteit van sieninge binne die raamwerk van die Christelike geloof om te gaan.
Die tyd is eens en vir altyd verby dat diversiteit deur mag of gesag beheer en hanteer kan word, want die impak van die kennisrevolusie het beheer oor interpretasies onmoontlik gemaak. Die alternatief wat sigself aanbied, is dialoog, of dialogiese diversiteit. Dialoog is iets anders as bloot luister. Die DVD het ook geluister (en opgeneem), maar dit binne die eie raamwerk verdraai. Luister is iets wat jý doen, dialoog is iets wat jy sáám met ’n ander doen. Dialoog verbind gespreksgenote aan mekaar as gelykes en konfronteer elkeen met die unieke van die andersheid. Dialoog aanvaar dat die ander iets anders as die self ek kan sê; dat jy dinge anders as ek kan sien, en dinge anders as ek kan formuleer.
Die omarming van dialogiese diversiteit is in wese ’n transformering van die fundamentalistiese raamwerk wat die ander slegs toelaat indien sy/hy konformeer. In wese is hierdie ’n radikale kultuurverandering en nie bloot ’n teologiese verskuiwing nie. Om die waarheid te sê, dit is hoegenaamd nie teologies van aard nie, omdat dit nie weer ’n normatiewe posisie verskans nie. Twee kwalifikasies moet bygevoeg word.
Eerstens, omdat dit geen voorkeur gee aan ’n spesifieke teologiese posisie of interpretasie nie, kan en mag beide behoudende (of konserwatiewe) en progressiewe (of liberale) interpretasies gehandhaaf word. Dit is nie ’n vervanging van die een met die ander nie.
Tweedens, dit beteken allermins dat alle sieninge ewe geldig, ewe korrek of ewe goed is. Die radikale uitdaging wat verskeidenheid bied, is om verby die aanspraak van interpretasies te beweeg na die verdediging, regverdiging of verantwoording van en vir ’n spesifieke interpretasie. Dit is om verantwoordelikheid te aanvaar om dit wat vas en seker geglo word nie met mag en geweld te verdedig nie, maar met argumente en teenargumente. Die grootste uitdaging in die konteks van interpretatiewe verskeidenheid is die verantwoordbaarheid van interpretasies.
Ek het doelbewus die term fundamentalisme in hierdie stuk gebruik, omdat daar ’n verskil is tussen etiketering en om iets te benoem. Etiketering is, soos stereotipering, ’n onbillike assosiasieëring met ’n spesifieke kategorie. Klassifisering benodig onvermydelik dat dinge benoem word. Ek het die denkraamwerk wat eksklusief is, wat slegs een (konserwatiewe) standpunt erken en alle ander standpunte daaraan meet, fundamentalisme genoem. Fundamentalisme is in die eerste plek nie dit wat gedink en geglo word nie, maar die manier hoe dit gedoen word. ’n Behoudende teologiese standpunt as sodanig is nie noodwendig fundamentalisties nie, maar kan binne daardie raamwerk fundamentalisties word (soos ’n progressiewe standpunt ook fundamentalisties kan word). Veral die DVD, maar ook die gesprek in Universiteitsoord NG Gemeente opereer binne ’n fundamentalistiese denkraamwerk en toevallig is die dominante teologiese posisie ook die behoudende een: julle kan net binne wees as julle presies soos ons dink, praat en formuleer! Gegewe die stand van die teologiese gesprek onder medegelowiges (soos in die voorbeelde hierbo), is die tragiese van die Suid-Afrikaanse situasie dat slegs drie dosente verdink word dat hulle dalk ruimer mag dink. Die res mag ’n meer konserwatiewe standpunt huldig, maar deel hulle ook die fundamentalistiese raamwerk wat slegs een siening toelaat? Indien daar suspisie moet wees, moet dit oor die akademiese integriteit van die res wees — waarom is toegelaat dat kollegas aan so ’n hegemoniese raamwerk gemeet word? Die werklike vyand is nie die progressiewe standpunt nie, maar die fundamentalistiese eenheidsdenke!
Ten slotte, die eerste stap in die gesprek kan dus nie wees of almal nog steeds eenders dink en praat nie, maar of en hoe die verskeidenheid van denke binne die Christelike geloof beskerm kan word. Die Tuks professore kan eers die indringende vrae gevra word nadat die raamwerk verander is sodat dit hulle (of enige ander dominee of lidmaat) sal toelaat om (as Christen gelowiges) ’n progressiewe antwoord te mag formuleer. Die vraag is of die Afrikaanse kerke hoegenaamd daartoe verbind is? Hoelank gaan dit neem voordat ’n DVD opgeneem en ’n gesprek gevoer kan word waarvan die raamwerk nie is om uit te vang nie, maar om dialogiese verskeidenheid te omarm?
Bronverwysings
Borg, M. J., and N. T. Wright, eds. 1999. The meaning of Jesus: Two visions. San Francisco: HarperSanFrancisco.
Dennett, D. C. 2006. Breaking the spell: Religion as a natural phenomenon. New York: Viking Penguin.
Stewart, R. B., ed. 2006. The resurrection of Jesus: John Dominic Crossan and N. T. Wright in dialogue. Minneapolis: Fortress.