Dit is 'n moeilike boek dié, altans vir my. Dit handel oor die verskillende stadia waardeur die mens se geloofsontwikkeling gaan. Dat die boek moeilik is, is aan verskeie faktore te wyt. Eerstens veronderstel dit van die leser 'n sekere gemaklikheid met die ontwikkelingsielkunde en begrippe daar rondom. Dit is bedoel om vir leke toeganklik te wees, maar is in werklikheid 'n navorsingsverslag. Tweedens is geloof 'n verskynsel wat hom moeilik in 'n harnas laat vasvang. Dit is te veelfasettig vir eenvoudige definisies en is so deel van die hele mens dat dit moeilik is, ook vir die navorser, om onbevange daarna te kyk. Derdens het dit te doen met die skrywer se aanbiedingstyl. Hy is geneig om sy gedagtes indirek oor te dra en laat dit aan die leser oor om gedagtespronge te maak en hiate te vul. Hy gaan ook in baie opsigte agterstevoor te werk: dinge wat aan die begin gesê moes word, duik dikwels eers naby die einde op.
Ek pak dus hierdie bekendstelling met huiwering aan omdat ek nie seker is dat ek deurgaans reg kan laat geskied aan die skrywer se denkbeelde nie. Tog vind ek dit so 'n belangrike werk dat ek dit met lesers van hierdie webblad wil deel. Ek meen dat dit 'n bydrae kan maak tot die dialoog rondom geloof en religie waartoe hierdie webblad verbind is.
Eers iets oor die skrywer. James Fowler is 'n opgeleide teoloog en ontwikkelingsielkundige wat aan verskeie universiteite, waaronder Harvard, verbonde was. Sy belangstelling in die ontwikkeling van geloof is blykbaar die resultaat van 'n doodsbelewenis wat hy in sy vroeë dertigerjare gehad het. Hy gee 'n aangrypende beskrywing van hoe hy een nag wakker geword het met die besef dat hy besig is om te sterwe. In sy ontliggaamde toestand was hy gedistansieer van alles om en in hom, ook van sy geloof. Hy stel dit so: "... my faith, like my wife and children seemed remote and detached from me. I looked at it as one might look at an overcoat hanging on the far side of a room. During those moments I was not in my faith. I seemed to stand completely naked — a soul without body, raiment, relationships or roles. A soul alone with — with what? With whom?". Tipies van sy aanbiedingswyse lê hy nie 'n verband nie, maar suggereer hy slegs dat dié ervaring sy studie van geloof, "a coat against this nakedness", geaktiveer het.
Fowler se uitgangspunt is dat geloof 'n universeel menslike verskynsel is. Elke mens word gebore met die vermoë tot geloof net soos hy gebore word met die vermoë om spraak aan te leer. Geloof is gevolglik so fundamenteel dat niemand lank daarsonder kan lewe nie. Dit is boonop so universeel dat wanneer mens verby simbole, ritusse en etiese patrone kyk, dieselfde verskynsels by Christene, Marxiste, Hindus, Dinkas en, ja, ook ateï:ste waargeneem word. En tog is dit so gevarieerd dat elke mens se geloof uniek is.
In die eerste van die boek se 5 dele probeer Fowler klaarheid oor hierdie fassinerende verskynsel gee. Eenvoudige omskrywings moet mens nie van hom verwag nie; trouens hy vermy dit bewustelik. Deurslaggewend vir sy benadering is die onderskeid wat hy tussen faith, religion en belief maak. Religie is volgens hom 'n kumulatiewe geloofstradisie wat die geloofsuitdrukkinge van 'n gemeenskap se verlede weergee en wat in tekste, gebruike, verhale, mites, profesieë, en dies meer neerslag vind. Geloof ( faith ) is in teenstelling daarmee 'n dieper, ryker en intens persoonlike aangeleentheid, 'n oriëntasie van die totale persoon wat doel en betekenis aan sy lewe gee en wat in religie geanker kan wees, hoewel dit nie noodwendig so hoef te wees nie. Belief is 'n bewuste verklaring of formulering van geloof, iets soos die geloofsbelydenis van Christene. Afrikaans het nie terme wat mooi op dié onderskeid pas nie. Geloof se lading is te wyd; dit sluit sowel faith as belief en ook religion in. Ek beperk dié term voortaan dus willekeurig tot faith . Die objek van die boek is nie religie of belydenis nie, maar geloof soos hier gedefinieer.
Geloof is volgens Fowler 'n aktiewe bestaanswyse wat die mens se ervaring van die lewe vorm. Hy belig dié begrip van vele kante af. 'n Kortbegrip daarvan — veels te kort — sou wees dat geloof 'n bewuste of onbewuste verhouding is met 'n stel norme wat diffuus of gefokus kan wees en wat die mens se instelling teenoor die werklikheid en optrede teenoor sy/haar mede-mense bepaal. Vervolgens is geloof ver-beelding in die sin dat dit 'n manier is om die alledaagse lewe in terme van 'n uiteindelike omgewing (ultimate environment) te sien. Die omgekeerde van geloof is nie twyfel nie, maar 'n onvermoë om enige uiteindelike omgewing te ver-beeld; dit is nie ateï:sme nie maar nihilisme.
In die tweede deel bied hy, weer tipies van sy werkwyse, 'n fiktiewe gesprek aan tussen drie ontwikkelingsielkundiges wat hom beï:nvloed het, t.w. Piaget, Kohlberg en Erikson. Aldrie stel ontwikkeling voor as stadia waardeur die mens gaan. Fowler se aanpak steun selektief op dié drie se metodes. Hy wil naamlik die struktuur van geloofsontwikkeling vasstel en nie die inhoud daarvan nie. Dit gaan nie vir hom om wat of waarin 'n mens glo nie, maar om hoe hy/sy sy/haar geloof belewe en uitlewe. Sodoende kan geloof onder andere los van religie beskou word.
Die uitkoms van Fowler en sy medewerkers se navorsing, gebaseer op digby seshonderd gestruktureerde diepte-onderhoude wat met mense van verskillende ouderdomme, geslagte en geloofsoortuigings gevoer is, is 'n teorie, of liewer 'n model, waarvolgens 6 stadia van geloofsontwikkeling onderskei word. Die verskille tussen die onderskeie vlakke hang saam met verskillende formele aspekte van geloof. Die proses van geloofsontwikkeling beweeg nie slegs horisontaal van een stadium na 'n ander nie, maar het ook 'n vertikale, normatiewe dimensie wat die skrywer uitdruklik erken en wat inhou dat elke volgende stadium kwalitatiewe vordering bo die vorige inhou. Ek meen dat dit in die lig van dié kwalitatiewe aspek juister is om van vlakke van geloof eerder as van stadia te praat.
Die vlakke wat hy onderskei is chronologies opeenvolgend en tiperend van verskillende leeftye, maar dit beteken nie dat elke mens deur al die vlakke gaan nie. Daar is volwassenes wat nooit verder as die tweede vlak vorder nie; trouens, 'n groot aantal volwassenes steek by die derde vlak vas. Die sesde vlak is weer so gevorderd dat dit deur weinig mense bereik word. Die vlakke is ook nie onderling uitsluitend nie; 'n mens kan op die oorgang tussen twee vlakke of op enige gegewe vlak met elemente of reste van vorige vlakke verkeer.
Die kruks van die boek is dus die ses geloofsvlakke. Die leser moet nie definisies of selfs kernagtige samevattings van die vlakke verwag nie; daarvoor is die gegewe te kompleks. Dit is ook nie die skrywer se styl om dit te doen nie. Behalwe in die geval van Vlak 6, steun hy gedeeltelik op uittreksels uit onderhoude met informante wie se geloof die betrokke vlakke illustreer. My weergawe kan hoogstens op momente van elke vlak fokus en is dus noodwendig onvolledig. En dan gaan ek dit, wel bewus daarvan dat dit eensydig en onvolledig is en die skrywer se bedoelings kan verteken, waag om in elke geval 'n eie karakterisering van die betrokke vlak te gee.
Die nulvlak is die ongedifferensieerde geloof van die baba en die vroeë kleuter en is ontoeganklik vir empiriese ondersoek. Dit is 'n stadium voordat taal ontwikkel en simbole ontdek word. Die elemente van wederkerigheid, vertroue, hoop en moed tussen kind en ouer wat op dié stadium voorkom (of ontbreek), onderlê (of ondermyn) egter latere geloofsontwikkeling. 'n Goeie karakterisering van hierdie stadium sou proto-geloof wees.
'n Interssante aspek van die ontwikkelingsmodel wat Fowler aanbied, is dat dit nie 'n stap-model is soos dié van Piaget, Erikson en andere nie, maar 'n spiraal-model. Dit beteken dat daar nie maar net van een stap na 'n ander gevorder word nie, maar dat elke nuwe vlak die vorige vlakke her-kontekstualiseer sonder om hulle te ontken. Elke vlak is gemoeid met dieselfde vraagstukke en verandering kom neer op die aanspreek daarvan op 'n nuwe en wyere vlak van kompleksiteit. Die algehele effek is groter individuasie tot op vlak 4 en dan 'n neiging terug na die begin, maar nou op 'n hoër vlak van kompleksiteit, differensiasie en inklusiwiteit. Fowler illustreer die konsep aan die hand van die diagram hier langsaan. Die spiraal begin by die proto-geloof van die baba.
Laastens 'n woord oor bekering, oftewel revolusionêre geloofsverandering. Bekering is 'n radikale verandering van geloofsinhoud. Ten opsigte van geloofstruktuur kan dit vertikaal of horisontaal plaasvind: horisontaal wanneer die geloofsvlak onveranderd bly en vertikaal wanneer dit 'n nuwe ontwikkelingsiklus vanaf Vlak 2 aktiveer.
Die teorie, of dan die navorsing wat daarop gebaseer is, het leemtes — dit erken Fowler. Eerstens is die navorsing slegs in Amerika uitgevoer en dan ook grootliks onder informante uit 'n Christelike konteks — 81.5% van almal met wie onderhoude gevoer is. Nie een van die onderhoude waaruit hy aanhaal is van 'n uitgesproke ateïs nie; slegs een kan hoogstens as 'n afvallige beskou word. Die vraag ontstaan dus of die teorie en die ontwikkelingsmodel werklik vir alle gelowe en ook vir ongelowiges steekhou. Fowler noem dit egter dat die navorsing uitgebrei word na ander lande en gemeenskappe. Tweedens is daar haas geen longitudinale studies gedoen nie. Onderhoude is gevoer met mense wat op bepaalde geloofsvlakke verkeer en hoogstens aanduidings kan gee van hulle vorige geloofsvlakke, maar nêrens is die geloofsontwikkeling van een persoon by wyse van spreke van die wieg tot die graf gedoen nie. Die vraag is dus of alle persone op 'n gegewe vlak deur al die stadia gegaan het. Anders gestel: verloop geloofsontwikkeling streng linêr of kan bepaalde vlakke oorgeslaan word? Sou Moeder Teresa byvoorbeeld eksplisiet deur die kritiese fase van Vlak 4 gegaan het? Ook dit is die navorsingspan besig om reg te stel. Derdens is daar geen onderhoude gevoer met mense op Vlak 6 nie. Wat daarvan gesê word, is skynbaar gebaseer op aannames omtrent bepaalde tydgenootlike persone. Dit lyk dus of daar voorasnog nie voldoende gegewens is wat dui op 'n universeel geldige teorie wat op alle mense en alle gelowe van toepassing is nie en of die navorsingsbevindinge hoewel indrukwekkend, tog voorlopig is.
Daar is myns insiens ook 'n ander aspek van die teorie waaroor vraagtekens hang. Hoewel die teorie daarop aanspraak maak dat hy inhoudvry na die struktuur van geloof kyk, het dit 'n duidelike ideologiese basis, juis as gevolg van sy normatiewe instelling. In sy bespreking van Vlak 6 wys Fowler daarop dat figure soos die Ayatollah Khomeini en Jim Jones nie daarvoor kwalifiseer nie omdat hulle geloof nie aan die kriteria van inklusiewe gemeenskaplikheid, radikale toewyding aan geregtigheid en liefde en 'n selflose passie vir 'n getransformeerde wêreld wat ooreenkomstig 'n heilige en transendente intensionaliteit gevorm is, beantwoord nie. Dit kom dus voor asof ateïste en aanhangers van sekulêre ideologieë soos die kommunisme nie in die model pas nie, of dan dat hulle per definisie nie die volle ontwikkelingspektrum kan deurgaan nie, tensy begrippe soos gemeenskaplikheid, geregtigheid, liefde en transendent so wyd gedefinieer en gekonsipieer word dat hulle inhoudloos word. Daarmee verloor die teorie sy aanspraak op waardevryheid en universele toepaslikheid en boet dit aan reikwydte in.
Wanneer dit alles gesê is, meen ek egter dat die ontwikkelingsmodel teoreties genoegsaam verantwoord is om op transendente geloof met 'n sekere etiese inhoud, minstens in 'n Christelike milieu, van toepassing te wees. Dit is gebaseer op vier onmiskenbare geloofsparameters — (1) grense van sosiale bewustheid, (2) setel van outoriteit, (3) belewenis van wêreldsamehang, en (4) die rol van simboliese funksies — wat met die denkbeelde van erkende ontwikkelingsdeskundiges soos Piaget, Erikson/Selman en Kohlberg, geï:ntegreer is. Hoe meer ek daaroor nadink, hoe meer kom ek tot die slotsom dat dit op die minste 'n raamwerk bied waarbinne 'n mens op 'n relevante en verantwoorde wyse vrae kan vra en antwoorde kan formuleer oor jou eie geloofsomgewing.
Dit bied na my oordeel by voorbeeld 'n ryk en prinsipële grondslag vir die verstaan en interpreteer van onder andere die eie geloofsgroei, die geloofsaanbod van kerke, debatvoering oor geloof soos dié tussen kreasioniste en evolusioniste wat onlangs in die pers gevoer is, ontwikikelinge op godsdienstige gebied soos die "nuwe hervorming", inisiatiewe soos GRAS en Grasnuus, die funksioneringsvlak van verskillende godsdienste, ens. Dit het ook die potensiaal om sinvolle intepretasies moontlik te maak van aangeleenthede soos Christus se versoeking, Paulus se Damakuservaring, Thomas se aandrang daarop om die spykerwonde te voel, die status van geloofshelde soos Stefanus, Augustinus, Johannes Hus en Zwingli uit die kerkgeskiedenis en van "wegbrekers" en vernuwers soos Johannes du Plessis, Beyers Naude en Albert Geyser uit ons eie tradisie, die hervorming en die rol van hervormers soos Luther en Calvyn, die plasing van seminale figure uit ander geloofstradisies, soos Mohamed, ens., ens., ens.
Of is ek dalk besig om die verklarende krag en rykdom van die teorie te oorskat?
Diek van Wyk
James W. Fowler: Stages of faith: the psychology of human development and the quest for meaning (Harper San Francisco, 1995).