Stages of faith: the psychology of human development and the quest for meaning

Skrywer: 
James W. Fowler

Dit is 'n moeilike boek dié, altans vir my. Dit handel oor die verskillende stadia waardeur die mens se geloofsontwikkeling gaan. Dat die boek moeilik is, is aan verskeie faktore te wyt. Eerstens veronderstel dit van die leser 'n sekere gemaklikheid met die ontwikkelingsielkunde en begrippe daar rondom. Dit is bedoel om vir leke toeganklik te wees, maar is in werklikheid 'n navorsingsverslag. Tweedens is geloof 'n verskynsel wat hom moeilik in 'n harnas laat vasvang. Dit is te veelfasettig vir eenvoudige definisies en is so deel van die hele mens dat dit moeilik is, ook vir die navorser, om onbevange daarna te kyk. Derdens het dit te doen met die skrywer se aanbiedingstyl. Hy is geneig om sy gedagtes indirek oor te dra en laat dit aan die leser oor om gedagtespronge te maak en hiate te vul. Hy gaan ook in baie opsigte agterstevoor te werk: dinge wat aan die begin gesê moes word, duik dikwels eers naby die einde op.

Ek pak dus hierdie bekendstelling met huiwering aan omdat ek nie seker is dat ek deurgaans reg kan laat geskied aan die skrywer se denkbeelde nie. Tog vind ek dit so 'n belangrike werk dat ek dit met lesers van hierdie webblad wil deel. Ek meen dat dit 'n bydrae kan maak tot die dialoog rondom geloof en religie waartoe hierdie webblad verbind is.

Eers iets oor die skrywer. James Fowler is 'n opgeleide teoloog en ontwikkelingsielkundige wat aan verskeie universiteite, waaronder Harvard, verbonde was. Sy belangstelling in die ontwikkeling van geloof is blykbaar die resultaat van 'n doodsbelewenis wat hy in sy vroeë dertigerjare gehad het. Hy gee 'n aangrypende beskrywing van hoe hy een nag wakker geword het met die besef dat hy besig is om te sterwe. In sy ontliggaamde toestand was hy gedistansieer van alles om en in hom, ook van sy geloof. Hy stel dit so: "... my faith, like my wife and children seemed remote and detached from me. I looked at it as one might look at an overcoat hanging on the far side of a room. During those moments I was not in my faith. I seemed to stand completely naked — a soul without body, raiment, relationships or roles. A soul alone with — with what? With whom?". Tipies van sy aanbiedingswyse lê hy nie 'n verband nie, maar suggereer hy slegs dat dié ervaring sy studie van geloof, "a coat against this nakedness", geaktiveer het.

Fowler se uitgangspunt is dat geloof 'n universeel menslike verskynsel is. Elke mens word gebore met die vermoë tot geloof net soos hy gebore word met die vermoë om spraak aan te leer. Geloof is gevolglik so fundamenteel dat niemand lank daarsonder kan lewe nie. Dit is boonop so universeel dat wanneer mens verby simbole, ritusse en etiese patrone kyk, dieselfde verskynsels by Christene, Marxiste, Hindus, Dinkas en, ja, ook ateï:ste waargeneem word. En tog is dit so gevarieerd dat elke mens se geloof uniek is.

In die eerste van die boek se 5 dele probeer Fowler klaarheid oor hierdie fassinerende verskynsel gee. Eenvoudige omskrywings moet mens nie van hom verwag nie; trouens hy vermy dit bewustelik. Deurslaggewend vir sy benadering is die onderskeid wat hy tussen faith, religion en belief maak. Religie is volgens hom 'n kumulatiewe geloofstradisie wat die geloofsuitdrukkinge van 'n gemeenskap se verlede weergee en wat in tekste, gebruike, verhale, mites, profesieë, en dies meer neerslag vind. Geloof ( faith ) is in teenstelling daarmee 'n dieper, ryker en intens persoonlike aangeleentheid, 'n oriëntasie van die totale persoon wat doel en betekenis aan sy lewe gee en wat in religie geanker kan wees, hoewel dit nie noodwendig so hoef te wees nie. Belief is 'n bewuste verklaring of formulering van geloof, iets soos die geloofsbelydenis van Christene. Afrikaans het nie terme wat mooi op dié onderskeid pas nie. Geloof se lading is te wyd; dit sluit sowel faith as belief en ook religion in. Ek beperk dié term voortaan dus willekeurig tot faith . Die objek van die boek is nie religie of belydenis nie, maar geloof soos hier gedefinieer.

Geloof is volgens Fowler 'n aktiewe bestaanswyse wat die mens se ervaring van die lewe vorm. Hy belig dié begrip van vele kante af. 'n Kortbegrip daarvan — veels te kort — sou wees dat geloof 'n bewuste of onbewuste verhouding is met 'n stel norme wat diffuus of gefokus kan wees en wat die mens se instelling teenoor die werklikheid en optrede teenoor sy/haar mede-mense bepaal. Vervolgens is geloof ver-beelding in die sin dat dit 'n manier is om die alledaagse lewe in terme van 'n uiteindelike omgewing (ultimate environment) te sien. Die omgekeerde van geloof is nie twyfel nie, maar 'n onvermoë om enige uiteindelike omgewing te ver-beeld; dit is nie ateï:sme nie maar nihilisme.

In die tweede deel bied hy, weer tipies van sy werkwyse, 'n fiktiewe gesprek aan tussen drie ontwikkelingsielkundiges wat hom beï:nvloed het, t.w. Piaget, Kohlberg en Erikson. Aldrie stel ontwikkeling voor as stadia waardeur die mens gaan. Fowler se aanpak steun selektief op dié drie se metodes. Hy wil naamlik die struktuur van geloofsontwikkeling vasstel en nie die inhoud daarvan nie. Dit gaan nie vir hom om wat of waarin 'n mens glo nie, maar om hoe hy/sy sy/haar geloof belewe en uitlewe. Sodoende kan geloof onder andere los van religie beskou word.

Die uitkoms van Fowler en sy medewerkers se navorsing, gebaseer op digby seshonderd gestruktureerde diepte-onderhoude wat met mense van verskillende ouderdomme, geslagte en geloofsoortuigings gevoer is, is 'n teorie, of liewer 'n model, waarvolgens 6 stadia van geloofsontwikkeling onderskei word. Die verskille tussen die onderskeie vlakke hang saam met verskillende formele aspekte van geloof. Die proses van geloofsontwikkeling beweeg nie slegs horisontaal van een stadium na 'n ander nie, maar het ook 'n vertikale, normatiewe dimensie wat die skrywer uitdruklik erken en wat inhou dat elke volgende stadium kwalitatiewe vordering bo die vorige inhou. Ek meen dat dit in die lig van dié kwalitatiewe aspek juister is om van vlakke van geloof eerder as van stadia te praat.

Die vlakke wat hy onderskei is chronologies opeenvolgend en tiperend van verskillende leeftye, maar dit beteken nie dat elke mens deur al die vlakke gaan nie. Daar is volwassenes wat nooit verder as die tweede vlak vorder nie; trouens, 'n groot aantal volwassenes steek by die derde vlak vas. Die sesde vlak is weer so gevorderd dat dit deur weinig mense bereik word. Die vlakke is ook nie onderling uitsluitend nie; 'n mens kan op die oorgang tussen twee vlakke of op enige gegewe vlak met elemente of reste van vorige vlakke verkeer.

Die kruks van die boek is dus die ses geloofsvlakke. Die leser moet nie definisies of selfs kernagtige samevattings van die vlakke verwag nie; daarvoor is die gegewe te kompleks. Dit is ook nie die skrywer se styl om dit te doen nie. Behalwe in die geval van Vlak 6, steun hy gedeeltelik op uittreksels uit onderhoude met informante wie se geloof die betrokke vlakke illustreer. My weergawe kan hoogstens op momente van elke vlak fokus en is dus noodwendig onvolledig. En dan gaan ek dit, wel bewus daarvan dat dit eensydig en onvolledig is en die skrywer se bedoelings kan verteken, waag om in elke geval 'n eie karakterisering van die betrokke vlak te gee.

Die nulvlak is die ongedifferensieerde geloof van die baba en die vroeë kleuter en is ontoeganklik vir empiriese ondersoek. Dit is 'n stadium voordat taal ontwikkel en simbole ontdek word. Die elemente van wederkerigheid, vertroue, hoop en moed tussen kind en ouer wat op dié stadium voorkom (of ontbreek), onderlê (of ondermyn) egter latere geloofsontwikkeling. 'n Goeie karakterisering van hierdie stadium sou proto-geloof wees.

  • Vlak 1 is die intuïtief-projektiewe stadium , kenmerkend van die kind tussen drie en ses wat spraak en simboliese voorstellings bemeester het en sy ervaring in betekeniseenhede kan organiseer. Kinders in dié stadium kombineer fragmente van stories en denkbeelde wat hulle uit hulle kultuuromgewing ontvang in eie assosiasie-"bondels". Dit is 'n fase ryk aan fantasie en nabootsing, waarin denkpatrone vloeibaar is en sterk deur die voorbeeld, handelinge en stories van veral die ouers se geloof beï:nvloed word. Miskien sou ontluikende geloof 'n gepaste tipering van hierdie vlak wees.
  • Vlak 2 noem Fowler mities-letterlike geloof. Dit is tipies van die laerskoolkind. Dit is 'n narratiewe stadium waarin betekenisse in stories uitgedruk word en wat gekenmerk word deur 'n afwesigheid van refleksie met die doel om algemene insigte te verkry wat tot 'n sintese van betekenisse lei. Dit is ook 'n egosentriese stadium waarin die perspektiewe van andere geen rol of hoogstens 'n onbeduidende rol speel. Waar daar 'n godsbegrip is, word God se perspektief van die eie perspektief onderskei. Morele waardes word letterlik geï:nterpreteer en berus op die beginsel van resiprokale billikheid: God beloon die gehoorsame en straf die ongehoorsame; sy guns moet letterlik gewen word. Die godsbegrip is tipies antropomorfies. Watter enkele woord sou hierdie vlak raakvat? Miskien ontwikkelende geloof.
  • Vlak 3 is die vlak van sinteties-konvensionele geloof. Dit kom gewoonlik nie voor die hoërskoolstadium voor nie, want dit is die fase waarin analitiese denke bemeester moet word. Dit is ook 'n stadium waarin die mens sterk op sy sosiale omgewing georiënteer is. Die geloofsisteem is dus konvensioneel en nie analities nie, dit word belewe as "almal" se geloof. Godsbeelde is nie meer antropomorfies nie maar transendent; God is die heilige Ander Een. Persoonlike mites en interpersoonlike perspektiewe ontstaan en dit word die paradigma/norm vir waardes. Waardes word sterk belewe en geartikuleer, maar vorm nog nie waardesisteme nie. Outoriteit is buite die self gelokaliseer: daar word sterk gesteun op die gedrag, voorbeeld en leiding van andere. Simbool en betekenis word verwar en simbole word self as heilig aanvaar. Volgens Fowler is Vlak 3 kenmerkend van 'n groot deel van die religieuse lewe in Amerika; dit werk trouens die beste vir baie godsdienstige instellings. As ek 'n enkele term daarvoor moet gebruik, sal ek dit konvensionele geloof noem.
  • Vlak 4 word gekenmerk deur individuatief-reflektiewe geloof. Dit tree gewoonlik nie voor die 30-ger of 40-gerjare in nie, maar kan al in die laat puberteit na vore kom. Dit word dikwels gepresipiteer deur ernstige botsings tussen bronne van outoriteit wat hoog gewaardeer word of deur 'n verandering van gebruike wat voorheen as ononderhandelbaar beskou is. Dit is dikwels 'n wegbreek uit die vertroude geriefsone van geï:nstitusionaliseerde sisteme en bring 'n omwenteling in 'n mens se lewe teweeg wat onvermydelik spanning meebring. Vertroue in eksterne bronne van outoriteit verval; die tirannie van "hulle" word afgeskud. Die eie identiteit word van dié van andere gedifferensieer en verwagtinge en probleme word voorgelê aan 'n "innerlike raad" vir beslissings eerder as aan gesagsbronne buite die self. Implisiete waardes en betekenisse word vervang deur eksplisiete sisteme en simbole word bevraagteken en los van hulle betekenisse gesien. Die betekenisse van simbole word ook eksplisiet geartikuleer. Die logika van hierdie vlak is dichotomiserend, d.w.s. dit werk met of/of onderskeide. Ek sou dit in een woord kon saamvat as kritiese geloof . Kritiese geloof in 'n ekstreme vorm kan oorgaan in agnostisisme.
  • Vlak 5 is dié van konjunktiewe geloof en neem selde voor die middeljare 'n aanvang. Dit beweeg verby die dichotomiserende logika van Vlak 4 waar simbool teenoor betekenis gestel word; dit laat die werklikheid eerder vir homself spreek. Dit word 'n dialektiese logika wat ruimte laat vir paradokse. Simbole word weer met betekenisse geï:ntegreer omdat die diepte van die werklikheid waarna hulle verwys, besef word. Dit gaan dus verby die ideologie van die geloofstelsel wat in Vlak 4 gekonstrueer is en aanvaar 'n versoening van die bewuste en die onbewuste. Dit erken dat die eie godsdienstige tradisie onvolledig en beperk is en het waardering vir ander geloofsisteme sonder om egter die eie sisteem af te sweer. Dit is trouens 'n herwinning en versterking van die oorspronklike geloof. Dit handhaaf die kritiese vermoëns van Vlak 4 maar vertrou dit slegs as werktuig om selfbedrog te voorkom. Anders as op Vlak 4 is dit bewus van paradokse. Vlak 5 bly egter verdeel, gevang tussen universaliserende perspektiewe en 'n behoefte om die eie bestaan te koester. My karakterisering van Vlak 5 sou geïntegreerde geloof wees.
  • Vlak 6 betree universaliserende geloof. Dit is 'n vlak wat deur min gelowiges, as't ware slegs "heiliges", bereik word. Dit is meesal 'n onbedoelde ontwikkeling, aangesien mense selde daarop uit is om heiliges te word. Gelowiges op hierdie vlak het 'n besonder sterk gevoel vir transendente morele waardes. Hulle het boonop visionêre idees wat aan hulle handelinge 'n buitengewone en dikwels onvoorspelbare kwaliteit verleen. Dit bring 'n radikale toewyding aan beginsels soos inklusiwiteit, geregtigheid en 'n getransformeerde wêreld ooreenkomstig transendente beginsels mee. Die logika daaragter is sinteties, d.w.s. dit sien die een-wees agter verskeidenheid raak. Dit skud die gewone kriteria van normaliteit en word gewoonlik as 'n ondermyning van bestaande strukture belewe. Universaliserende gelowiges stel tipies nie belang in selfbehoud nie en het 'n openheid vir gemeenskap met mense van ander geloofsvlakke en gelowe. Paradoksaal genoeg kom hulle idees dikwels triviaal voor: vereenselwiging met siekes, misdadigers, onderdruktes, uitgeworpenes, en so meer. Ondanks hulle verhewe geloofsvlak is hulle nie perfekte mense nie en het hulle dikwels blinde kolle en opvallende beperkings. As voorbeelde van mense op hierdie vlak word Gandhi, Martin Luther King Jr, Moeder Teresa, Dietrich Bonhoeffer en Dag Hammerskjold genoem. Fowler sê dit nie, maar die implikasie is dat Vlak 6 ook die vlak van geloofsvernuwers soos Christus, Mohamed en die Boeddha is. Ek meen dat Vlak 6 net so goed visionêre geloof genoem kan word.

'n Interssante aspek van die ontwikkelingsmodel wat Fowler aanbied, is dat dit nie 'n stap-model is soos dié van Piaget, Erikson en andere nie, maar 'n spiraal-model. Dit beteken dat daar nie maar net van een stap na 'n ander gevorder word nie, maar dat elke nuwe vlak die vorige vlakke her-kontekstualiseer sonder om hulle te ontken. Elke vlak is gemoeid met dieselfde vraagstukke en verandering kom neer op die aanspreek daarvan op 'n nuwe en wyere vlak van kompleksiteit. Die algehele effek is groter individuasie tot op vlak 4 en dan 'n neiging terug na die begin, maar nou op 'n hoër vlak van kompleksiteit, differensiasie en inklusiwiteit. Fowler illustreer die konsep aan die hand van die diagram hier langsaan. Die spiraal begin by die proto-geloof van die baba.

Laastens 'n woord oor bekering, oftewel revolusionêre geloofsverandering. Bekering is 'n radikale verandering van geloofsinhoud. Ten opsigte van geloofstruktuur kan dit vertikaal of horisontaal plaasvind: horisontaal wanneer die geloofsvlak onveranderd bly en vertikaal wanneer dit 'n nuwe ontwikkelingsiklus vanaf Vlak 2 aktiveer.

Die teorie, of dan die navorsing wat daarop gebaseer is, het leemtes — dit erken Fowler. Eerstens is die navorsing slegs in Amerika uitgevoer en dan ook grootliks onder informante uit 'n Christelike konteks — 81.5% van almal met wie onderhoude gevoer is. Nie een van die onderhoude waaruit hy aanhaal is van 'n uitgesproke ateïs nie; slegs een kan hoogstens as 'n afvallige beskou word. Die vraag ontstaan dus of die teorie en die ontwikkelingsmodel werklik vir alle gelowe en ook vir ongelowiges steekhou. Fowler noem dit egter dat die navorsing uitgebrei word na ander lande en gemeenskappe. Tweedens is daar haas geen longitudinale studies gedoen nie. Onderhoude is gevoer met mense wat op bepaalde geloofsvlakke verkeer en hoogstens aanduidings kan gee van hulle vorige geloofsvlakke, maar nêrens is die geloofsontwikkeling van een persoon by wyse van spreke van die wieg tot die graf gedoen nie. Die vraag is dus of alle persone op 'n gegewe vlak deur al die stadia gegaan het. Anders gestel: verloop geloofsontwikkeling streng linêr of kan bepaalde vlakke oorgeslaan word? Sou Moeder Teresa byvoorbeeld eksplisiet deur die kritiese fase van Vlak 4 gegaan het? Ook dit is die navorsingspan besig om reg te stel. Derdens is daar geen onderhoude gevoer met mense op Vlak 6 nie. Wat daarvan gesê word, is skynbaar gebaseer op aannames omtrent bepaalde tydgenootlike persone. Dit lyk dus of daar voorasnog nie voldoende gegewens is wat dui op 'n universeel geldige teorie wat op alle mense en alle gelowe van toepassing is nie en of die navorsingsbevindinge hoewel indrukwekkend, tog voorlopig is.

Daar is myns insiens ook 'n ander aspek van die teorie waaroor vraagtekens hang. Hoewel die teorie daarop aanspraak maak dat hy inhoudvry na die struktuur van geloof kyk, het dit 'n duidelike ideologiese basis, juis as gevolg van sy normatiewe instelling. In sy bespreking van Vlak 6 wys Fowler daarop dat figure soos die Ayatollah Khomeini en Jim Jones nie daarvoor kwalifiseer nie omdat hulle geloof nie aan die kriteria van inklusiewe gemeenskaplikheid, radikale toewyding aan geregtigheid en liefde en 'n selflose passie vir 'n getransformeerde wêreld wat ooreenkomstig 'n heilige en transendente intensionaliteit gevorm is, beantwoord nie. Dit kom dus voor asof ateïste en aanhangers van sekulêre ideologieë soos die kommunisme nie in die model pas nie, of dan dat hulle per definisie nie die volle ontwikkelingspektrum kan deurgaan nie, tensy begrippe soos gemeenskaplikheid, geregtigheid, liefde en transendent so wyd gedefinieer en gekonsipieer word dat hulle inhoudloos word. Daarmee verloor die teorie sy aanspraak op waardevryheid en universele toepaslikheid en boet dit aan reikwydte in.

Wanneer dit alles gesê is, meen ek egter dat die ontwikkelingsmodel teoreties genoegsaam verantwoord is om op transendente geloof met 'n sekere etiese inhoud, minstens in 'n Christelike milieu, van toepassing te wees. Dit is gebaseer op vier onmiskenbare geloofsparameters — (1) grense van sosiale bewustheid, (2) setel van outoriteit, (3) belewenis van wêreldsamehang, en (4) die rol van simboliese funksies — wat met die denkbeelde van erkende ontwikkelingsdeskundiges soos Piaget, Erikson/Selman en Kohlberg, geï:ntegreer is. Hoe meer ek daaroor nadink, hoe meer kom ek tot die slotsom dat dit op die minste 'n raamwerk bied waarbinne 'n mens op 'n relevante en verantwoorde wyse vrae kan vra en antwoorde kan formuleer oor jou eie geloofsomgewing.

Dit bied na my oordeel by voorbeeld 'n ryk en prinsipële grondslag vir die verstaan en interpreteer van onder andere die eie geloofsgroei, die geloofsaanbod van kerke, debatvoering oor geloof soos dié tussen kreasioniste en evolusioniste wat onlangs in die pers gevoer is, ontwikikelinge op godsdienstige gebied soos die "nuwe hervorming", inisiatiewe soos GRAS en Grasnuus, die funksioneringsvlak van verskillende godsdienste, ens. Dit het ook die potensiaal om sinvolle intepretasies moontlik te maak van aangeleenthede soos Christus se versoeking, Paulus se Damakuservaring, Thomas se aandrang daarop om die spykerwonde te voel, die status van geloofshelde soos Stefanus, Augustinus, Johannes Hus en Zwingli uit die kerkgeskiedenis en van "wegbrekers" en vernuwers soos Johannes du Plessis, Beyers Naude en Albert Geyser uit ons eie tradisie, die hervorming en die rol van hervormers soos Luther en Calvyn, die plasing van seminale figure uit ander geloofstradisies, soos Mohamed, ens., ens., ens.

Of is ek dalk besig om die verklarende krag en rykdom van die teorie te oorskat?

Diek van Wyk

James W. Fowler: Stages of faith: the psychology of human development and the quest for meaning (Harper San Francisco, 1995).