SKEPPINGSBEELDE & MITOLOGIESE RAAMWERKE

Prof Peet van Dyk (UNISA)
10 Junie 2007

1. INLEIDING:

1.1 Hoe verstaan ’n mens die skepping in die Bybel?

Meeste mense kan onmiddellik die mees basiese feite van die Bybelse skeppingsverhale vinnig herhaal:

  • Binne ses dae
  • God het net ‘n woord gespreek
  • Begin met chaos van duisternis en water
  • Eers die droë grond, toe die plante en diere en daarna die mense

1.2 Daar is egter die volgende probleme met bogenoemde siening:

  • Daar is twee skeppingsverhale (Gn 1 & Gn 2) wat drasties verskil (dae, orde, hoe, Godsnaam, skryfstyl)
  • Hoe hou verskillende elemente verband met mekaar? Die skrywers het duidelik verskillende beelde of prentjies in hul koppe gehad. Ongelukkig blyk hierdie beelde nie altyd duidelik in vertalings nie.
  • Wat is die onderliggende logika of “wetenskaplike” onderbou aan hierdie voorstelling? In die voor-wetenskaplike era van die Bybel is ‘n mitologiese raamwerk gebruik om sin te maak van die kosmos.
  • In tradisionele literatuur word baie elemente veronderstel eerder as om dit elke keer in detail uit te spel. Dit kan gedoen word omrede die verteller en sy gehoor dieselfde verwysingsraamwerk deel. Hierdie feit maak dit moeilik vir die moderne leser om die Bybelteks te verstaan omrede:
  • Ons uit ’n ander taal, kultuur en tydperk kom.
  • Ons werk met ‘n Westerse & wetenskaplike verwysingsraamwerk wat fundamenteel verskil van die Bybelse raamwerk.

Dit impliseer dat ons die Ou-Testamentiese skeppingsverhale slegs kan verstaan indien ons:

  • kan sin maak uit die Bybelse vertaling;
  • die beeld/prentjie van die kosmos (soos dit voorgestel is in die Antieke Nabye Ooste) suksesvol kan rekonstrueer;
  • weet wat ‘n mitologiese raamwerk is en hoe dit funksioneer (in kontras met ’n wetenskaplike raamwerk)

2. VERSKILLENDE BEELDE VAN DIE SKEPPING

2.1 Afrika:

Na ’n katastrofe (vuur of droogte) kom eerste mense uit ’n boom — holte, oop bars. Blare van boom val af en daaruit ontstaan diere. Mens kom uit ’n gat in die grond of uit ’n rots of ’n miershoop. Mens kom uit water (net by stamme wat naby groot riviere bly); Mens is afgebreek van ’n riet (Zulu)

Gevolgtrekking:

In Afrika is die onderliggende beeld van die skepping van die mens dié van geboorte. Die fokus is op die ontstaan van mens — nie ’n volledige kosmologie nie!

    • Antieke Nabye Ooste

Meer volledige kosmologieë het in die Antieke Nabye Ooste voorgekom. Die volgende is ‘n paar voorbeelde van verskillende beelde van die skepping:

  • Kosmos ontstaan na konflik tussen gode — die liggaam van verslane god/gode word gebruik om die basiese komponente van die van die kosmos uit te maak (bv. Egipte - Nut en Geb; Babilonië - Tiamat).
  • Die Egiptiese godsdiens is uiters kompleks omdat verskillende gode in verskillende tydperke gedien is en eienskappe van ouer gode dikwels oorgedra is op nuwe gode. Twee alternatiewe voorstellings van die skepping was:
  • Khnum het die ander gode, mense en diere uit klei gevorm (die beeld van ’n pottebakker)
  • Die eerste lewende wesens het uit ‘n kosmiese eier uitgebroei.
  • Hoewel daar verskillende detail voorstellings van die skepping in die Antieke Nabye Ooste was, was daar tog ooreenstemming in hoe die basiese struktuur van die kosmos gesien is en hoe die verskillende elemente met mekaar verband gehou het.

3. BASIESE STRUKTUUR VAN DIE OU NABYE OOSTERSE KOSMOS



Drie hoofkomponente:

(1) Aarde: droë grond — plat skyf, rus op pilare in oervloed (wat onder die aarde is).

(2) Die doderyk: Êrens in die oervloed onder die aarde — het sewe poorte.

(3) Hemel:
Bestaan uit hemelse water. ’n Koepel (firmament of uitspansel) is oor die aarde gespan (soos ’n tent - vgl Ps 104, Amos 9 & Job) om die hemelse water weg te hou van die aarde af (vgl Gn 1:7). Bokant die uitspansel (in die hemelse water) is daar ’n bo-vertrek (of solder) waar God gewoon het in sy hemelse paleis of tempel.

Ander belangrike dele:

Twee kosmiese pilare (Egipte = Bome) stut die uitspansel op die oostelike horison. In Egipte word die songod (Ra) elke oggend hergebore (na sy tog per boot deur die doderyk) en verskyn dan weer met dagbreek tussen hierdie twee pilare. Hy klim dan oor in sy hemelse boot waarmee hy dan gedurende die dag deur die hemelse waters vaar.

’n Tuin op die Oostelike horison (Bybelse Eden): Op die oostelike horison, waar die hemel, aarde en doderyk bymekaar kom, is ‘n goddelike tuin. Dis met ’n muur omring en is toeganklik vanuit die hemel en vanaf die aarde. Dis ’n tuin van oorvloed, wat besproei word deur verskeie kosmiese riviere. Dit is die plek waar die gode al hul voedsel vandaan kry. In die tuin is verskeie bome geplant. Die boom van lewe is die belangrikste — die gode eet van sy vrugte sodat hulle vir altyd jonk kan bly). In die Persiese tyd is hierdie tuin die paradys genoem.

Wanneer ’n mens die basiese struktuur van die kosmos verstaan, maak die twee skeppingsverhale in Genesis 1 en Genesis 2 ook meer sin:

  • Genesis 1 (die Priesterverhaal) fokus op die groter prentjie — die skepping handel oor die ontstaan van die hele kosmos (hemel en aarde).
  • Genesis 2 (die Jawistiese verhaal) is minder ambisieus — dit fokus net op die uitleg van die goddelike tuin op die oostelike horison en die vorming van die mens (beeld van pottebakker).

MAAR bogenoemde verduideliking is nog net ’n prentjie/beeld van skepping in sy breedste trekke. Meeste detail is nog vaag en hoe alles in ‘n funksionele eenheid inpas is nog heeltemal onbekend. Dit is daarom nodig om nog meer presies te fokus op die detail van die Bybelse skeppingsverhale.

4. GENESIS 1 - SKEPPING AS TABERNAKEL / TEMPEL

Verbeel jou jy staan in Moses se tabernakel (eintlik net ’n draagbare tempel) of in Salomo se tempel in Jerusalem.

  • Daar is drie verdiepings. Jy staan op die vloer van die middelste verdieping. Bokant jou is die plafon van die tempel met ’n ruim solder bo-op die plafon.
  • Die tempel is so opgelyn sodat die hoofingang na die ooste wys. Die ingang bestaan uit twee groot pilare wat die dak stut. Op die pilare is rooi granate uitgekerf wat die rooi kleur van die sonsopkoms en vrugbaarheid simboliseer. Daar hang ligte wat met toue aan die dak vasgemaak is. ’n Metaal waskom staan net buite die tempel. Dit word die “metaal see” genoem en simboliseer die oervloed. Die tempel is presies in sewe jaar gebou.

Lees nou weer Genesis 1 en gee aandag aan hoe God die kosmos gebou het. Hopelik is dit nou duidelik dat die prentjie wat die priesterlike skrywer in sy kop gehad het een was wat presies ooreengestem het met dié van tempelbou.

5. GENESIS 2 - SKEPPING AS DIE UITLEG VAN ‘N TUIN

In Genesis 2 kry ons nie ’n volledige uiteensetting van hoe die aarde ontstaan het nie. Die Jahwistiese skrywer fokus net op die plant van ’n tuin op die oostelike horison:

  • Eers maak Jahwê die fonteine en putte se sluise oop sodat die grond kan nat word. ’n Pottebakker kan nie met droë klei werk nie en niks groei in droë grond nie.
  • Hierna vorm hy die mens uit klei (nou eerste en nie laaste gemaak nie).
  • Dan plant Jahwê ’n tuin in die ooste met baie bome en struike — mooi om te sien en met ’n oorvloed van lekker vrugte. Twee kosmiese bome (lewe & kennis) is ook in die tuin — ’n ware paradys van oorvloed van goud en balsemgom, oniksteen.
  • Maar ’n tuin het baie water nodig, daarom skep Jahwê vier riviere wat deur die tuin vloei om dit te besproei.
  • Die mens word aangestel as die opsigter en tuinier.
  • Omdat die mens alleen is, maak Jahwê diere en voëls en wanneer dit nie werk nie — die vrou.
  • Saans kom Jahwê af uit die hemel (onthou die tuin is op die grens van die hemel en die aarde) en wandel saam met die mens in hierdie goddelike tuin.

Waarom bly ons nie meer in hierdie paradys tuin nie? Want die mens het gesondig en is daarom uit die tuin gejaag. Gerubs (is nie engele nie!) beskerm die ingang met vlammende swaarde. Nou moet die mens werk vir sy kos en is “afgesny” van Jahwê.

Die hele boek Jesaja werk met dieselfde tema van ‘n tuin en die nuwe skepping as die plant van ’n tuin:

  • Eerste Jesaja (Jes 1-39) — woestyn voor skepping;
  • Deutero-Jesaja (Jes 40-55) — Juda word geplant in ’n nuwe tuin in Palestina;
  • Trito-Jesaja (Jes 56-66) — die hiernamaals voorgestel as ’n hemelse tuin.

6. DIE HEMEL EN AARDE VERBIND — MAGIESE OF “MITOLOGIESE BINDING”

MAAR ons het nog nie gepraat oor hoe al hierdie beelde met mekaar verband hou en hoe die hele kosmos werk of funksioneer nie. NIE soos wetenskaplikes sê nie. ’n Mitologiese (voorwetenskaplike) raamwerk i.p.v. wetenskaplike. In die mitologiese raamwerk van die Antieke Nabye Ooste het elke aardse komponent ’n hemelse eweknie: bv. aardse tempel is ’n afbeelding van hemelse een; koninklike tuin is ‘n voorstelling van paradys op horison. Aardse en hemelse is kosmies / magies / mitologies met mekaar verbind. Hierdie magiese / mitologiese verbindings is NIE simbolies NIE, maar is gesien as werklike (amper fisiese) bindinge. Vgl. Amos 9 waar God teen die pilare van die tempel slaan en dit ‘n aardbewing oor die hele aarde veroorsaak.

Die aardse tempel is ’n werklike poort of voorportaal tot die hemel. Ons kan daarom sê God is werklik in sy aardse deel van die tempel. Koninklike tuin (plant bome oorwinning) religieuse konteks.

7. SLOT

Mitologiese en wetenskaplike verhale staan direk teenoor mekaar. Ons moet die skeppingsverhale ontmitologiseer om betekenis daaruit te verkry.