Sensasie of konstruktiewe gesprek?

deur Maretha Jacobs, Departement Nuwe Testament, UNISA

Dis met teleurstelling dat ek die berig 'Maar kan die Nuwe Hervorming genesing bring?' (Beeld, 28 September) gelees het.
Nie alleen is professor Christina Landman se beoordeling van die 'Nuwe Hervorming'
onakkuraat, eensydig en dus onbillik nie. Deurdat die berig hoofsaaklik op
haar bydrae konsentreer ten koste van ander deelnemers aan die gesprek, is
hierdie vereensydiging in die berig vererger.

'n Mens sou seker, soos professor Landman doen, met die naam 'Nuwe Hervorming'
vir 'n andersoortige beweging as die sestiende-eeuse een fout kon vind. Tog
is mense voortdurend besig om nuwe inhoude aan begrippe te gee. 'n Goeie voorbeeld
hiervan is wat deur die eeue met Jesus van Nasaret gedoen is, dikwels onbewustelik.
Professor Landman doen dit self wanneer sy hom as't ware 'herskep' tot wat
sy dink vir hedendaagse mense wat ly, genesing kan bring. 

Anders as wat voorgegee word, is die 'Nuwe Hervorming' juis nie net tot wit
mans beperk nie, hoewel as gevolg van die Christelike kerke se houding teenoor
en beperkings op vroue, Bybelwetenskaplikes in Suid-Afrika nog hoofsaaklik
mans is. Verder wil dit juis 'n wegbeweeg van studeerkamergeleerdheid wees,
'n konstruktiewe poging om iets te probeer sê vir diegene wat nie meer
deur tradisionele Christelike diskoerse aangespreek word nie. Moet 'n mens
in 'n tyd van vervlakking en popularisering, ook op godsdienstige gebied,  nie
liewer intellektuele besinning verwelkom in plaas daarvan om dit onder verdenking
te plaas nie, veral as dit al baie duidelik gestel is dat dit hier om meer
as 'n bloot intellektuele interesse gaan (bv in Beeld, 18 September, 'Wis uit
of praat (dit) uit')? 

Elkeen bekyk 'n saak vanuit 'n bepaalde hoek. Tog vra respek vir mekaar, en
vir mekaar se standpunte, dat 'n mens ten minste wat iemand anders probeer
doen sal beoordeel vir wat dit wil wees. Dis onbillik om iemand anders se bydrae
na jou eie behoeftes te buig en dit dan af te kraak vir wat dit nie bedoel
is om te wees nie. In ons samelewing is daar verskillende soorte behoeftes,
wat verskillende soorte ingeligte diskoerse nodig maak. Verskillende aksente
behoort naas mekaar bestaansreg te hê. 

Daar is inderdaad baie lyding in ons samelewing, waarby elkeen van ons op
sy/haar eie manier betrokke behoort te wees, en beslis nie net op intellektuele
vlak nie. Nie een van die deelnemers aan die 'Nuwe Hervorming' sal waarskynlik
daarop aanspraak maak dat hulle met behulp van hulle Jesus mense direk van
lyding, in die veelvuldige gestaltes wat dit aanneem, kan verlos nie. Tog sou
hulle byvoorbeeld kon bydra tot 'n kritiese gesprek waarin (ander se) lyding
nie meer geromantiseer sal word nie, iets wat selfs in ons tyd nog in Christelike
diskoerse voorkom, veral in die konteks van 'kruis opneem' en van gesprekke
oor die hemel. 'Hoe wonderlik is dit nie dat 'n swart seuntjie wat so arm is
dat hy omtrent niks te ete het nie, Johannes 14:2 (In die huis van my Vader
is daar baie wonings) kan opsê', het 'n bekende manlike Afrikaanse Gospelsanger
nog onlangs in 'n stampvol kerk gesê waar die preek oor 'kruis opneem'
gehandel het. Die 'Nuwe Hervormers' sou verder 'n kritiese bydrae kon lewer
tot die soort gesprekke oor lyding waarmee mense se onverantwoordelikheid verdoesel
word deur die gevolge van hulle optrede aan die 'wil van God' toe te skryf.

In 'n gesprek na die 'Nuwe Hervorming' - bespreking op Aardklop was professor
Landman nogal positief oor die boek oor die onderwerp wat by die geleentheid
bekend gestel is en wat sy toe reeds gelees het. Hoekom die diskrepansie tussen
wat in die openbaar en in 'n private gesprek met die skrywers gesê is?  Wat
is ten slotte die oogmerk met so 'n bydrae?  Om iets sensasioneels op
te dis? Om vir mense wat nie vir hulle self lees nie te sê waar hulle
hulle moet skaar? 'n Mens kan maar net wonder.