From Science, Philosophy and Spirituality to your own Religion: The history of religion and of Christianity from a 21st Century perspective. Bloemfontein: CTS Publishers, 2003.

Sakkie Spangenberg
Hierdie is 'n heel interessante boek. Dis geskryf deur 'n Suid-Afrikaanse ingenieur wat 'n belangstelling in filosofie, geskiedenis en teologie ontwikkel het. Dit vertel die verhaal van die ontstaan en groei van die Christelike godsdiens teen die agtergrond van ander godsdienste van die antieke wêreld. Dit wys op bepaalde ooreenkomste en verskille en dui 'n weg uit die impasse waarin die tradisionele Christelike godsdiens beland het. Hierdie godsdiens is grootliks gebaseer op die teologie van die Latynse kerkvaders wat nie goeie kennis van Hebreeus gehad het nie en heelwat tekste letterlik geïnterpreteer het. Die boek hou verband met navorsing wat die skrywer vir die verwerwing van 'n meestersgraad in teologie aan Unisa gedoen het.
Die boek bestaan uit agt hoofstukke. Die eerste een kyk vanuit 'n filosofiese hoek na godsdienste. Die tweede hoofstuk behandel die genealogieë van godsdienste en fokus veral op die godsdienste van die antieke tyd toe die Christelike godsdiens ontstaan het. Hoofstuk drie handel oor die Joodse wortels van hierdie godsdiens. Hoofstuk vier is kort en bespreek die probleme wat historiese navorsing vir die Christelike godsdiens bied. In hoofstuk vyf kom die navorsing rondom Jesus van Nasaret (of die historiese Jesus) aan die orde. Hoofstuk ses bespreek die Joods-Christelike gemeenskappe wat na Jesus se dood ontstaan het, terwyl hoofstuk sewe Paulus se sienings bespreek. Hierin wys die skrywer uit hoedat Paulus se boodskap oor Jesus later misverstaan is. Volgens die skrywer kan die Christelike godsdiens slegs betekenis vir mense behou indien die tradisionele verlossingsboodskap anders ingevul word. Hieroor skryf hy in die slothoofstuk.
Die skrywer het 'n magdom inligting verwerk en alhoewel ek hier en daar van hom verskil, het ek die lees van die boek geniet. Dit bevat heelwat stof tot nadenke en diegene wat met die NHN identifiseer, kan gerus die boek lees, oordink en met ander bespreek.