Ryk van Niekerk Media 24, 11 Junie 2010: Sukses van WB nie gou gemeet
Die Wêreldbeker-sokkertoernooi 2010 skop vandag amptelik af met die Bafana Bafana wat Mexiko in die ongelooflike Soccer City takel. Ek onthou nog goed hoe ons gejuig het toe mnr. Sepp Blatter, Fifa-president, Suid-Afrika se naam so stadig uit die koevert geskuif het om aan te kondig dat die sokkerskouspel uiteindelik na Afrika kom. Dít het in Mei 2004 gebeur en vandag, ses jaar later, het daar werklik ’n geweldige hoeveelheid water in die see geloop. Ek hoop egter dat Suid-Afrika ná die toernooi – wat maar oor net bietjie langer as vier weke strek – ook nog gaan juig dat dit ’n finansiële sukses was.
Ekonome, soos in die meeste gevalle, stem glad nie saam oor of die toernooi ’n finansiële sukses of mislukking is nie. Sommige sê die onregstreekse en
toekomstige voordele gaan baie swaarder weeg as die R40 miljard wat die regering vir infrastruktuur gehoes het. Terloops, dié R40 miljard verteenwoordig net sowat 1,48% van Suid-Afrika se verwagte bruto binnelandse produk (BBP) of 4,4% van die regering se uitgawebegroting vir die jaar. (Dit is ook net effens meer as die heeltemal onproduktiewe R34 miljard wat die regering vanjaar aan verdediging gaan bestee.)
Ander ekonome en individue meen weer die R40 miljard kon baie beter benut word om huise, skole, paaie en hospitale te bou en dat Suid-Afrika nie kan bekostig om soveel geld aan internasionale sportgebeurtenisse te bestee nie. Dié argument lui verder dat Suid-Afrika nie soveel wêreldklas-stadions nodig het nie en dat hulle soos in baie ander lande wit olifante sal wees. Dit is twee uiteenlopende sienings. Ons sal egter eers teen 2020 weet of Suid-Afrika werklik “geld gemaak” het uit die Wêreldbeker wanneer navorsing bepaal hoeveel geld ná die toernooi na Suid-Afrika gestroom het.
Ek dink egter dat Suid-Afrika sy sterre kan dank dat die toernooi vandag begin. Die regering het reeds by verskeie geleenthede bewys dat hy nie vinnig kan optree nie, en dit was verlede jaar weer die geval toe bykans geen nuwe hulppakkette aan sukkelende ondernemings uitgedeel is nie. Wat wel gehelp het, was die reuse-infrastruktuurprogram wat begin momentum kry het en verhinder het dat die resessie baie dieper gebyt het. Hoewel die regering voorgee dat dié program sy reaksie op die resessie was, was dit in werklikheid ter voorbereiding op die Wêreld beker. Was dit nie vir die Wêreld beker nie, sou die besluit om dié projekte aan te pak veel langer gesloer het. Ek vermoed ook dat die regering nooit ’n bykomende R40 miljard aan enigiets anders sou bestee, soos bykomende huise, skole of hospitale, nie. Kyk maar na die agterstand van die besteding aan infrastruktuur wat nie met die Wêreldbeker verband hou nie: paaie, water, elektrisiteit en spoorweë. Die toernooi gaan natuurlik vir sy onaangenaamhede sorg.
Ek is uiters opgewonde oor die Mail & Guardian se suksesvolle hofaansoek oor die kontrakte wat die plaaslike reëlingskomitee vir Fifa-kontrakte toegeken het. Ek weet nie wat die Mail & Guardian weet nie, maar ek vermoed daar gaan vir seker wurms uit dié kontrakte peul. Ek verstaan steeds nie hoekom dié proses nie deursigtig was nie. Ek verstaan ook nie hoekom Fifa nie deursigtigheid in die toekenning van kontrakte voorgeskryf het nie. Dit sal egter interessant wees om te sien watter individue by kontrakte baat gevind het en hopelik sien ons nie dieselfde name wat die afgelope paar weke om die verkeerde redes in die media was nie.
Dan het misdaad ook reeds sy merk op die toernooi gelaat. Verskeie buitelandse joernaliste is van hul besittings beroof en hulle het natuurlik – en dit is reg so – ’n groot lawaai daarvan in die buitelandse media gemaak. Japan se afrigter het blykbaar selfs sy span verbied om alleen op straat in George rond te loop. Hy het ook gesê enigeen kan ’n masjiengeweer vir net $110 of R850 huur en dat die huurder dan maklik vyf keer meer daarmee kan “verdien”.
Dit is werklik skrikwekkend, maar ek dink nie die wêreld wil meer hoor “Dit is darem nie só erg nie.” Hopelik stuur dié tipe persepsies ook die sein aan die regering dat Suid-Afrikaners nie verniet oor misdaad kla nie.
Ten spyte van dié negatiewe punte, moet ons uitsien na vanaand en die volgende maand. Dit is ’n belangrike stuk van Suid-Afrika se geskiedenis en hopelik sal ons een van die min lande in die wêreld wees wat finansieel by ’n groot sporttoernooi baat vind. Gelukkig sal dié finansiële sukses nie baie daarvan afhang of die Bafana Bafana vanaand ’n wendoel aanteken nie. Tog hoop ek die span benut die positiewe energie wat in die land borrel.