Ruim geloven: Een theologisch zelfportret

Skrywer: 
C.J. Den Heyer

'n Interessante ontwikkeling op die terrein van die teologie is dat teoloë deesdae outobiografieë skryf. Dis egter nie droë vertellings oor die teoloog se lewe nie, maar pakkende vertellings van die persoon se betrokkenheid by die kerklike lewe en die teologie. Dit vertel iets van die ontwikkelinge in die betrokke kerk en die teologie, en die teoloog se betrokkenheid daarby.

Hier te lande het Willie Jonker vier jaar gelede 'n boek Selfs die kerk kan verander (Kaapstad: Tafelberg, 1998) gepubliseer. Alhoewel hy verkies om dit nie 'n outobiografie te noem nie, speel die ek-verteller daarin 'n groot rol en daardie 'ek' is niemand minder as Willie Jonker nie.
Ek het Willie Jonker as dosent op Stellenbosch beleef en het dikwels via die 'theological grape vine' brokkies inligting rakende sy lewe (toe ek nog maar 'n kind was) gehoor. Nadat ek in sy klasse gesit en hom as dosent leer ken het, het ek met belangstelling sy lewe gevolg. Sy teologie het my beïndruk en beïnvloed. Ek het sy boek dus opgerakel toe dit verskyn het. Vir die eerste keer kon ek uit sy pen van die dinge lees waarvan ek soms net tweedehands kennis gedra het. Maar ek het die boek ook geniet omdat ek 'n deel van die geskiedenis waaroor Jonker skryf, beleef het.

In Nederland het daar twee jaar gelede ook 'n boek verskyn wat my onmiddellik getrek het. Dis geskryf deur Cees den Heyer, professor in Nuwe Testament aan die teologiese universiteit in Kampen en dra die titel Ruim geloven: Een theologisch zelfportret . Die boek het reeds 'n tweede druk beleef wat bewys dat Cees oor sake skryf, wat mense raak.

Ek het Cees in 1984 tydens sy eerste besoek aan Suid-Afrika ontmoet. Hy het nie veel erg aan my gehad nie. Ek was nog maar 'n stofpoepertjie teoloog. Enkele jare tevore aangestel as lektor in Bybelkunde by RAU. Hy het wel 'n kopie van sy boek De Messiaanse Weg 1: Messiaanse verwachtingen in het O.T. en in de vroeg-joodse tradisie aan my gegee. Eintlik was dit nie 'n behoorlike kopie nie. Dit was ongebonde dele, maar ek het dit met dank ontvang. Die onderwerp het my geïntereseer. Nadat ek dit gelees het, het Cees nooit uit my blikveld verdwyn nie. Hy het my immers bewus gemaak van die Joodse agtergrond van die Nuwe Testament; van die feit dat die voorspellings in die Ou Testament nie reglynig op Jesus uitloop nie. Ek het heelwat van sy boeke en artikels daarna gelees.

Cees staan tans in die teologiese spervuur in Nederland vanweë sy standpunt oor die versoeningsleer, of dan die kerklike siening dat Jesus as offer aan die kruis gesterf het om mense se sondes te versoen. Hierdie sienings het hy in die boek Verzoening: Bijbelse notities bij een omstreden thema (Kok: Kampen, 1997) verwoord. Die herrie het na die publikasie van daardie boek losgebars en Cees moet nou nog bontstaan. In sy outobiografie vertel hy hoe sy denke oor jare ontwikkel het en waarom hy reken dat die kerk sy basisdokumente nie reg vertolk nie.

Mense wat belangstel in verskuiwings in die teologie (en dus die nuwe hervorming) moet hierdie boek lees. Cees skryf verstaanbaar en pakkend.

Sakkie Spangenberg

Den Heyer, C.J. 2000. Ruim geloven: Een theologisch zelfportret. Zoetermeer: Meinema.