Oftewel die Ongewone Verhaal van Nors se Bevryding Deur Nors
Steve Hofmeyer sing in Die Wasgoedsong:
Sy staan voor die venster tot laat in die nag
verbeel haar sy hoor kinders skree
sy dra van Februarie af dieselle ou rok
en tel Valiants in die verkeer
sy spaar nie meer vir sigarette nie
sy lees nie meer koerante of wette nie
haar wasgoed wapper aan dieselle ou paal
dis 'n vlag wat wys waar Hy haar moet kom haal
en dit waai in die môre en wys in die aand
waar haar hande klou vas aan die vensterraam
en 'n Boek wat sê sy sal als verstaan
as sy laat in die nag op haar knieë gaan
as sy laat in die nag!
. . .
Sy leer dit in sinne en hoor dit in sang
eindig dan's dit Begin
die stories van die hart wat uit die stof opstaan
maar Blossom die stof maak jou blind.
1. Iets oor Nors
Hierdie verhaal handel oor Nors se soektog na dieper spiritualiteit. "Nors" is die skuilnaam van 'n onbekende Afrikaanssprekende Afrikaan wat by Wits werk—'n komplekse karakter dus. As postmoderne akademikus bevind hy hom in die denkraam van die sosiale konstruktivisme. Hy glo dus nie mens kan die waarheid en die realiteit ontdek nie; jy bly in subjektiwiteit vasgeval. Waarheid is wat jy daarvan maak en vir elke mens kan dit iets anders wees. Daar is nie meer iets soos 'n enkele metanarratief wat die samelewing orden nie, want daar is nie 'n konsensus oor kernwaardes wat onderliggend is aan die mens se bestaan nie. Nors se kollegas beskryf die gemeenskap vandag as multikultureel en pluraal.
Dit is 'n toestand wat godsdiensleiers redelik omkrap. Hoekom? Hulle reken dat daar net een stelsel is wat betekenis en waarde het, wat korrek is en wat reddend is. 'n Ander rede is dat hulle, nes monopolie-kapitaliste, kompetisie onsmaaklik vind omdat dit hulle dominansie bedreig. Daarby kom nog dat hulle nie van 'n ander postmoderne tendens hou nie: dit is om hiërargiese strukture te wil afplat, om konsensus te soek, en om vroue en ander seksuele minderhede gelyk te behandel. Dit is nogal teen NGB Artikel 16, waarvolgens God sekere mense uitverkies het en ander in hulle verderf laat bly.
Die vraag is dus of die Christendom hierdie aanpassings kan maak: van eksklusief na pluraal; erkenning van meerdere waarhede; gelyke behandeling van vroue en gays? Nors se onlangse riller-ondervinding, waar hy die mees aggressiewe openbare reaksie van 'tradisionele Christene' op die aanvoerders van die Jesus Seminar waargeneem het, laat hom vermoed van nee. En toe die man vanaf die kansel sê, steek op jou hand as jy gered wil wees , dog Nors, se moer, ek skryf nou.
Lees dus die teks in hierdie konteks.
2. Nors se Dilemma
Nors het heelwat van Richard Holloway ( Doubts and Loves: What is left of Christianity? Edinburgh: Canongate, 2001) se insigte as diep en sinvol ervaar. Daar is mense wat huiwer om as Christene bekend te staan, want hulle moet dan glo dat 'n klomp antieke wonderwerke historiese feite was. Tog word hulle aangetrek deur sekere Christelike waardes en wil hulle daarmee identifiseer sonder dat hulle morele en intellektuele integriteit daarmee aangetas word. Kan hulle Christene wees? Nols wonder saam met Richard daaroor.
Kontrasteer daarom nou die 'waarheid' soos wat die Gereformeerde Kerk Nors nou al veertig jaar lank vertel, met Holloway se dekonstruksie daarvan. Nors bied daarna enkele konklusies—peperment suiglekkers—aan sodat die leser verder kan peins oor die saak. Lekker lees: dis 'n riller/reddingsverhaal!
Nors kyk na die Gereformeerde Kerk, Linden, en sien: geen vroue op die kansel, geen gays, geen swartmense—slegs wit middelklas Afrikaners met eenderse vanne en wedergebore dominees wat die samelewing en andersdenkende Christene (Sakkie Spangenberg en Hansie Wolmarans) haat/verwyt/vrees.
Wat nou? (1) Verlaat hy die kerk? (2) Klou hy vas aan die waarheid (Die Geloofsbelydenis van Atanasius sê dat hy wat nie die algemene geloof ongeskonde bewaar nie, sonder twyfel ewig verlore gaan! Artikel 28 van die NGB sê jy moet by die ware kerk aansluit.) of (3) Poog hy om te onderskei tussen Bybel en tradisie en die ware, historiese Jesus, soos wat die Jesus Seminar probeer doen?
3. Nors se bevryding
Nors kies 'n radikale skuif na 'n onsekere nuwe/postmoderne paradigma. Hy probeer om die mensgemaakte en uitgediende idees van die ou dogmas te herinterpreteer. Vir Nors het die Bybel groot waarde as hy dit lees as 'n menslike, nie-goddelik-geïnspireerde skepping. Alle ontdekkings in die soeke na betekenis is menslik van oorsprong. Nors kan dus nie NGB Artikel 3, 5 en 7 onderskryf dat die Bybel God se Woord is nie, en dat alles wat daarin is, sonder twyfel geglo moet word nie.
Saam met Holloway glo Nors dis belangriker om Jesus te volg, as om dogmas oor hom te glo of te verwerp (soos byvoorbeeld NGB Artikel 10 dat Jesus van ewigheid af gebore is). Dis belangrik dat ons leer om meer menslik te leef. Die Fakulteit Teologie (PUK) se kommentaar oor die "debat rondom Jesus" toon dat hulle die Bybel naïef-realisties lees deur alles in die Bybel letterlik op te neem. Nie-realiste meen selfs God is 'n blote projeksie van mense op die werklikheid. Nors vind hom meer tuis in die kritiese realisme waarvolgens ons ervaring van God deur menslike persepsie beïnvloed word (onder andere die drie-verdieping wêreldbeeld). Daar is 'n misterie daarbuite, maar ons kan dit net interpreteer en nooit met volkome helderheid sien nie.
Nors aanvaar dat simbole en mites die taal van die geloof is. Daar moet voortdurend oor hulle betekenis gereflekteer word. Dis gevaarlik om daaraan finale status te gee (dink maar aan die rol van die vrou volgens Paulus). Dit moet gedemitologiseer word; die sin en betekenis daarvan moet ontdek word. Die maagdelike geboorte behoort dus nie in biologiese terme verstaan te word nie, en die opstanding en hemelvaart as fisiese gebeure nie, of die wederkoms as 'n kosmiese katastrofe nie.
Hansie Wolmarans ( Beeld 28 Mei 2002) skryf dis hoog tyd om die artikels van die geloofsbelydenis te ontmitologiseer. As voorbeelde noem hy: "Oor die maagdelike geboorte sou ons byvoorbeeld kon sê dat ons God ontmoet in wat Jesus gesê en gedoen het." "Oor die oordeel van die lewende en die dode , dat wat ons doen en sê tydelike en ewige gevolg het." "Oor die opstanding uit die dood dalk dat die goeie sal seëvier." Holloway bied ook nog ander herinterpretasies aan.
Die Israeliete se uittog uit Egipte
Hierdie narratief het die tipiese struktuur van (a) Val (verval?) in slawerny (b) Bevryding en trek deur die woestyn en (c) Ontdekking van die Beloofde Land en daarmee saam verwyt en ontnugtering . Hierdie struktuur kan op ons lewens toegepas word (byvoorbeeld in die geval van verslawing). (As 'n sigaretroker kan Nors hom in die situasie indink!) Dit is ook van toepassing op groepe mense wat onderdruk word (Afro-Amerikaners, Suid-Amerikaners, Afrikane, ens.). (Nors is bly dat iemand anders ook so dink oor Apartheid).
Die erfsonde
Hierdie idee dat Adam met sonde begin het, dat sy fout aan ons almal oorgedra word (sien NGB Artikel 15 en 24), en dat alle sonde hieruit voortspruit, is 'n doelbewuste waninterpretasie (deur Paulus nogal, in Romeine 5) van die paradysverhaal. Die mite se oorspronklike betekenis moet eerder gesoek word in die menslike dramas van dood, swoeg en (seksuele) skaamte.
'n Moderne skeppingsmite sou eerder wou praat oor stryd en opgang in plaas van val en verlies. Die ou mite het 'n pessimistiese tydsiening. Omstandighede regresseer van 'n paradystoestand na 'n apokaliptiese eindoordeel. Vandag sou ons eerder wou praat van 'n omgekeerde katastrofe wat by die Groot Knal begin. Ons het nie vanuit 'n volmaakte toestand in sonde verval nie; nee, ons is op soek na iets beters iewers in die toekoms.
Die Hel
Die ware hel is die boosheid in ons eie onderbewussyn en die trop-instink wat saam bose strukture skep wat nie deur die persoonlike goeie beïnvloed kan word nie. Dit realiseer in gruweldade (Nazi's, wêreldoorloë, volksmoorde).
Jesus het vir ons sondes betaal
Hierdie dogma kan herinterpreteer word as "Sê ja vir jouself!" Ons moet genadig en liefdevol met onsself omgaan.
Jesus se opstanding uit die dood
Dis belangriker om te weet wie die stelling gemaak het, eerder as die inhoud daarvan. Mense wat Jesus in vrees verlaat het, en van sy dood gevlug het, het somehow die moed bymekaargeskraap om die betekenis van sy lewe te verkondig. Daardie transformasie, ommekeer, is wat ons vandag onder opstanding verstaan. Dit is 'n simbool van die menslike vermoë om te kan verander.
4. Wat beteken dit alles?
Vir Nors lyk dit of mensgemaakte konstrukte soos dogmas (Dordtse Leer, ens.), en strukture (die Gereformeerde Kerk, ens.), die dinge waarvoor Jesus geleef het, met tyd verdring het. Dit was sake soos vergewing, hoop, sorg. Die kernboodskap, liefde, is deur kategorieë soos waar/vals of sonde/redding verdring.
Vandag hoor mens in die kerk in Linden dat jou sondige baba gedoop moet word sodat hulle bevry kan word en dat ouers hulle dan 'reg' moet leer (volgens dogma !) sodat hulle eendag Jesus as hulle persoonlike verlosser kan aanneem. Saam met Holloway glo Nors dis 'n teologie van die dood wat akute angs by mense opwek: dat Jesus se kruisdood 'n betaling is vir die oersonde en mense wat hulle daarmee identifiseer, red (sien NGB Artikel 15 en 20).
5. Wat bly oor?
"Wat bly dan oor?" soos 'n gelowige vriendin Nors eendag vra? 'n Teologie van die Lewe . Nors wil voortgaan om Jesus te herontdek vanuit die lae en lae menslike dogma en strukture waarin Jesus oor tyd ingeweef is. 'n Teologie van die Lewe wil die goedheid van die skepping beklemtoon, eerder as angs, en vrees vir die dood, as motiveerders vir lewe en aksie.
Hierdie boodskap waarsku nie om bevry te word van die bose wêreld nie, maar dit nooi mense uit om tuis te wees daarin, dit te eerbiedig, om mededeelsaam te wees, veral teenoor die armes. Dit roep ons op om aksie te neem teen alles wat lewensvreugde en die skepping bederf. Die roep om 'n politiek van geregtigheid, want een van die skandale van die geskiedenis is die manier waarop magtige mense die skepping vir hulleself opgeëis het, en die skepping se kinders daarmee saam. Dit roep mense om, in die taal van Jesus se gebed, die koninkryk van God te bou, op aarde soos in die hemel.
Dis tyd, hoor Nors mense sê, vir dié wat nie inkoop in die absolute waarhede nie, om te stop met die emosionele en intellektuele stryd daarteen, en om eerder te fokus op die positiewe bevordering van 'n visie van die goeie lewe. Nors quote 'n medestryder wat op 'n dag per e-pos laat weet dat sy kerk vermy en eerder in die bosveld vertoef: "Ek kon in nagape meer van God sien as in nagmaal."
Waar reg geskied, daar vind ons die hemel. Waar onreg en kwaad geskied, vind ons die hel. Die hel is Chechnia en Rwanda, of in die pyndood van 'n ongeneeslike siekte, of diep depressie. Dit is waar mense se integriteit en waardigheid ontken word. En, anders as wat die dominees beweer, kan ons God se koninkryk ingaan deur middel van wysheid, of goedheid of deugsaamheid of regverdigheid of vryheid. Dis 'n lewenstyl vir nou, eerder as die hoop op 'n beter lewe hierna.
Nors het nie antwoorde op baie van hierdie dinge nie, maar hy reken hy het genoeg gehoor om te besef dat hy en die dogma, die ou gereformeerde waarhede, geskiedenis is. Hy wil veel eerder werk aan die inklee van 'n nuwe visie—op sigself 'n lewenswyse. Bevryding!
Cease wretch to mourn to weep—
Sip up the sun.
We dance along death's icy rim,
But is the dance less fun?