Reaksie op Stephan Joubert se artikel in Beeld

deur Pieter Craffert

Indien mens by die venynigheid van die persoonlike aanval ("selfaangestelde martelaar/apologeet") op Sakkie Spangenberg in die artikel deur Dr Stephan Joubert kan verbykyk ( Beeld 4 Febr 2004, Nuwe hervormers help nie dié wat die Bybel verkeerd lees ), is daar 'n paar aspekte wat kritiese kommentaar verdien.

Vroomheidsimperialisme

Gespreksgenote aan die Nuwe Hervorming pleit konsekwent vir die erkenning van 'n diversiteit van interpretasies, want die geskiedenis is vol voorbeelde van die bose effek van absolute waarheidsaansprake. In Joubert se artikel is daar geen teken hiervan nie, want slegs diegene wat soos hy dink is "kinderlik opreg" en "opregte navolgers van Hom".

Die vroomheidsimperialisme eindig nie hier nie. Let op die neerhalende opmerkings oor "Hulle 'god'" wat 'n "magtelose god" is, telkens met kleinletters gespel en in aanhalingstakens geplaas. Vergelyk maar die kontras met Wilhelm Jordaan (wat ook bygedra het tot die publikasie van die Nuwe Hervorming) se artikel in dieselfde uitgawe van Beeld : "dit is toelaatbaar én verrykend om die baie verhale oor die mens se soeke en verlange na God naas mekaar te plaas en dié verhaal te kies wat jóú onvoltooide gesprekke met die Godheid betekenisvol vorm. Sonder om die ander tot mindere verhale te verklaar". Hoof-, en kleinletters sê alles in dié debat!

Vir baie binne die Nuwe Hervormingsgesprek verwys die woord God nie meer na 'n bonatuurlike Wese afgesonder van die werklikheid nie, maar as 'n komponent, kwaliteit en eienskap van die werklikheid ('n nie-materiële laag of dimensie van die werklikheid). Hulle is net so "kinderlik opreg" oor hulle oortuigings en poog ook om, volgens hulle verstaan, "opregte navogers" van Jesus te wees.

Intellektuele terrorisme

Gesprek veronderstel respek. Hiervan is min te sien in Joubert se betoog, want hy skroom nie om wanvoorstellings aan sy lesers te bied nie. Ek noem drie voorbeelde:

  1. Spangenberg word beskuldig van "eensydighede en veralgemenings" oor die wandade van die kerk terwyl hy is sy genoemde artikel na 'n vyfbandige boek verwys wat hierdie wandade uitlig. Die feit dat daar talle goeie dinge ook gedoen is, impliseer tog nie dat mens nie saam met Spangenberg jou kop in skaamte moet laat hang en beteken beslis ook nie dat daardie veralgemenings is nie.
  2. Die "nuwe navorsing" van die Nuwe Hervorming bestaan sedert die Aufklärung (waar dit net "meer wetenskaplik genuanseerd en minder eensydig gedoen" is) en is dus nie so nuut nie.

    Aufklärung teoloë het die evangelieverhale gelees asof hulle vertel het wat in óns bekende wêreld sou plaasgevind het en dit ongeloofwaardig gevind (byvoorbeeld, Reimarus reken die evangelieverhale is doelbewuste bedrog en D F Strauss dat hulle mitologiese interpretasies was). Joubert deel dieselfde modernistiese wêreldbeeld, maar reken net dat in een geval in die geskiedenis het dit werklik gebeur.

    'n Kultuur-sensitiewe lees wys hierdie rasionalistiese en kultuur imperialistiese standpunt van die Aufklärung af en plaas al die verhale binne die kulturele raamwerk van die tyd. Neem die verhale van spesiale geboortes as voorbeeld.

    Soos al die verhale oor goddelike konsepsie in daardie wêreld, deel die evangelies die saad-kind teorie, naamlik, dat swangerskap die gevolg is van 'n volledige saad-kind wat deur 'n man in 'n baarmoeder geplaas word. Manlike semen was nie gesien as sperm selle nie (voor die negentiende eeu het niemand 'n sel teorie geken nie), maar as 'n konkoksie van bloed en gees wat deur die liggaam gekook is tot 'n saad-kind (selfs tot in die 19e eeu is dié klein wesentjies beskryf as homunculi ). In 'n wêreld waar gode dikwels in menslike sake ingemeng het, en semen uit gees en bloed bestaan het, was die aanspraak dat Maria deur die Heilige Gees bevrug is nie vreemd nie, want daar was 'n tiental soortgelyke verhale.

    Laat daar geen twyfel wees nie: die Bybelskrywers en hulle lesers was oortuig dat Jesus deur die Heilige Gees verwek is. Laat daar ook geen twyfel wees nie, Jesus se geboorteverhale vertel nie van Maria se eiersel wat bevrug is deur 'n (goddelike) saadsel nie (dus geen sel teorie van bevrugting waar 'n spermsel en 'n eiersel moet verenig om 'n embrio te vorm en waar elkeen dus 50% genetiese materiaal bydra tot 'n kind nie), maar van 'n goddelike wese wat 'n saad-kind in haar baarmoeder geplaas het. Dit is presies dieselfde aansprake wat talle ander mense in die antieke wêreld gemaak het (byvoorbeeld oor keiser Augustus).

    Indien Joubert hierdie argument begryp het, sou hy agtergekom het dat ons nie appels met pere vergelyk nie (ons probeer nie vrugte vergelyk nie) maar argumenteer dat beide appels en pere verskil van groente.

    Om iets te verstaan beteken nie dit hoef ook aanvaar te word nie. Alle verhale oor saad-babas verskil van verhale oor die sel teorie van konsepsie. 'n Kultuur-sensitiewe lees maak dus ook erns met kulturele dialoog en kritiek. Gesien vanuit moderne biologiese insigte, is alle antieke verklarings oor swangerskappe feitlik foutief (maar dit was nie bedrog of mites nie). Ons kan hulle teorieë binne konteks verstaan, maar hoef nie daaruit af te lei dat hulle babas inderdaad saad-kinders was wat deur 'n man gedeponeer is nie.

    Dus, indien die enigste getuienis oor spesiale konsepsies verhale is oor saad-babas wat deur goddelike wesens gedeponeer is en wat binne die raamwerk van bogenoemde teorieë vertel is, hoef dit net so min aanvaar te word as dat alle kinders die gevolg was van saad-babas wat in vrugbare baarmoeders gedeponeer is. Geen Verligtingsteoloog het ooit 'n kultuursensitiewe lees voorgestaan nie.

  3. Joubert gebruik 'n aantal drogredenasies om te bewys dat verskillende genres deur ons vermeng word. Enige leser kan sien dat die wêreldbeeld van die Nuwe Testament dig bevolk was met allerhande goddelike of nie-menslike wesens (soos demone, bose geeste, Satan, engele). Dit is onmoontlik om die klassieke definisie van monoteïsme (geloof in slegs een goddelike wese) op hulle van toepassing te maak — hoogstens monolatrie (die aanbidding van slegs een goddelike wese). Maar selfs al sou monoteïsme aanvaar word, is dit geen bewys dat die inplant van 'n saad-kind deur die Heilige Gees in Maria enigsins anders is as die inplant daarvan deur 'n goddelike wese in die ander betrokke vroue nie ('n "andersoortige sosiaal-literêre konteks"). Verder, elkeen van die verhale oor goddelike bevrugting in die antieke wêreld verskil van mekaar wat detail betref (wat Joubert gebruik om die één verhaal te onderskei), maar stem ooreen daarin dat hulle binne dieselfde antieke siening van konsepsie en seksiologie funksioneer.

    Die afskiet van jou eie strooipoppe is niks anders as intellektuele terrorisme (geweld) nie. 'n Wanvoorstelling en gevolglike verwerping van 'n standpunt is iets anders as kritiek daarteen. Laasgenoemde sal verwelkom word.