deur Pieter Craffert
In die Algemene Kerkbode van 13-15 Junie skryf Johannes Froneman 'n artikel oor die etiek van die joernalistiek. In daardie selfde uitgawe van die Algemene Kerkbode verskyn nie minder nie as vier artikels wat óf direk die Nuwe Hervorming aanval óf dit indirek bespreek, maar sonder dat enige lid van die gespreksgroep genader is vir 'n bydrae. Dit word dan opgevolg met die artikel deur Isak Burger in die Algemene Kerkbode van 8-10 Augustus. Mens sou verwag dat 'n publikasie wat 'n etos rondom gebalanseerde en verantwoordelike joernalistiek wil bevorder, self baie sensitief sal wees oor hul eie beriggewing.
Die berig "Klaarpraat met die Bybel?" (Algemene Kerkbode 13-15 Junie 2002 p 1) beweer dat die Nuwe Hervorming die Bybel links en regs bevraagteken. Dit is 'n valse voorstelling wat berus op die aanname dat alles wat tradisioneel verwoord word, identies aan die "Bybel" se weergawe is. Die tradisionele weergawe is egter slegs een moontlike verwoording of interpretasie van dit wat in die Bybel staan. Dit berus veral op 'n letterlike verstaan (lees: sonder kulturele konteks) van die verhale en abstraheer met behulp van harmonieering 'n koherente beeld van byvoorbeeld Jesus van Nasaret. Die kulturele aard van die verhale tesame met die talle parallelle verhale uit die bybelse leefwêreld oor soortgelyke verskynsels (genesings, spesiale geboortes, opstanding, ensovoorts) word nie in ag geneem nie. Dit maak verder geen erns met die verskille tussen die evangelies nie (nie een van die individuele evangelies is identies aan die tradisionele verwoording nie). Die deelnemers aan die Nuwe Reformasiedebat verwerp nie die bybelse weergawes oor Jesus van Nasaret nie, maar lees dit juis as eerste-eeuse verhale. Dit bied 'n alternatiewe verwoording daarvan.
Russel Botman (Algemene Kerkbode, 13-15 Junie 2002, p 4) se opmerking dat die Nuwe Reformasiedebat oor Jesus van Nasaret nie die gees van interdissiplinariteit dra nie, bevestig hoe swak ingelig hy is oor dié debat en oor interdissiplinariteit as sodanig. Een van die sterkste kragte in die ontwikkeling van Nuwe Testamentiese navorsing vandag is juis interdissiplinariteit wat die wurggreep wat die tradisionele lees so lank op die tekste uitgeoefen het, afskud. Die onhistoriese aanmekaarryg van tekste en die misbruik van bybelse tekste om dogmas in stand te hou, word juis ontbloot deur die noukeurige gebruik van interdissiplinêre metodes van navorsing. Die etiese vraag waarop die kerke sal moet antwoord is of sodanige misbruik van tekste om vooropgestelde dogmas te verdedig, enigsins kan voortgaan. Kan die kerke aanspraak maak op 'n morele hoë grond wanneer die gebruik (misbruik) van tekste geen wetenskaplike ondersteunig meer geniet nie? Die Bybel is inderdaad 'n geloofsboek vir die kerk, maar dit is geen verskoning om daardie outeurs te minag of die tekste te misbruik deur hulle buite hul eie konteks te lees om dogmas in stand te hou nie. Die ergste vorm van bibliolatrie (die aanbidding van 'n boek) is wanneer 'n boek buite konteks misbruik word om vooropgestelde idees te bevestig.
Die hoofartikel van die Algemene Kerkbode (13-15 Junie 2002) bevestig die vermoede dat hierdie publikasie nie belangstel in ewewigtige beriggewing nie. Daar word gesê dat die "Nuwe Hervorming blykbaar besig is om die Godheid van Jesus Christus aan te tas". Wat sou makliker gewees het as om hulle self te vra? Na die beste van my wete ontken geen lid van die gespreksgroep die Godheid van Jesus nie. Ons vraag is wat daarmee bedoel word. Indien dit in 'n ontologiese sin verstaan word asof Jesus 'n soort bonatuurlike of nie-menslike wese was wat vir 'n tydperk op aarde rondbeweeg het, is daar inderdaad ernstige besware. In die Nuwe Testament is daar verskillende modelle hoe oor Jesus as God (of seun van God) gepraat word en dit word ernstig geneem. Een model is dat hy 'n goddelike figuur is wat mens geword het; die ander is dat hy 'n mens is wat goddelike status verkry het. Hierdie verskillende voorstellings kan nie eenvoudig geharmonieer word nie.
Die enigste ligpunt is die artikel van Francois Wessels (Algemene Kerkbode 13-15 Junie 2002 p 10) wat ten minste poog om ewewigtig te wees. Hoewel hy ook slegs geselekteerde argumente uit byvoorbeeld die historiese Jesus debat aanvoer (en afwys), is hier ten minste 'n poging tot dialoog. Hy bepleit 'n openheid tot die debat en daarmee verwoord hy een van die sentrale gedagtes van die Nuwe Reformasiedebat: erken vir 'n slag dat meer as een verwoording van die Christelike geloof moontlik is en dat kritiek na alle kante gelewer kan word.
Die bydraes in die Algemene Kerkbode bereik 'n totale laagtepunt met die venynige en grootliks oningeligte artikel van Isak Burger. Hy beskuldig die Nuwe Reformasiedebat van dwaling, New Age gevaar, arrogansie en beterweterigheid. Burger maak aanspraak om self postmodern te wees ("In die postmoderne tydperk word hierdie vrae nie meer gevra nie"), maar verstaan nie die eerste beginsel daarvan nie. Elke diskoers word toegelaat, maar elkeen word ook getoets aan etiese en morele vrae oor watse effek dit het. Verder erken die postmoderne inderdaad dat daar geen diskoers is wat absoluut is nie. Alle menslike spreke is altyd ingebed in sekere sisteme en/of taalspele en dan is daar geen uitspraak wat algemeen geldend vir alle mense oor alle tye heen "waar" is nie. Waarheid kan vir Burger 'n persoon wees, maar toegang tot daardie persoon is slegs beskikbaar via die oorspronklike bronne van die Christendom en oor die verstaan van daardie bronne is daar 'n debat. Al wat Burger doen is om sy interpretasie gelyk te stel aan "die" waarheid.
Die verskil tussen 'n fundamentalistiese aanspraak op die waarheid en 'n oortuiging dat jy korrek is, is die aanvaarding dat jou standpunt gewysig kan word. Laasgenoemde is wat die Nuwe Reformasiedebat onderskei van Burger: ons maak besliste en defnitiewe uitsprake en aansprake gebasseer op navorsing en debat; ons erken die voorlopigheid van ons uitsprake en nooi uit tot gesprek; ons aanvaar in beginsel dat nuwe navorsing en inligting onvermydelik sal lei tot nuwe verwoordings van die geloof. Vir Burger daarenteen, is dit wat hy glo absoluut. Hy glo bloot in wonderwerke en engele en die duiwel en wat nog en daarmee word enige debat afgesluit. Sy standpunt is absoluut (en hy is reg, ons verwerp absolute aansprake). In sy wêreld is etikettering (dwaalleer, new age ) dalk nog effektief, maar in die wêreld van intellektuele debatvoering en die soeke na sinvolle verwoordings van die geloof vir ons tyd is dit sinloos om mense so te manipuleer. Etikettering is die enigste verweer van iemand sonder argumente.
Die een tema wat in meer as een artikel voorkom is die aanklag dat mense op voetsoolvlak verwar word. Die erkenning van 'n veelvoud van perspektiewe is slegs bedreigend vir diegene wat glo hulle verwoording is die enigste en korrekte. Nuwe insigte lei dikwels tot verwarring - veral as mense hul hele lewe aan een siening opgehang het of glo dat hulle siening die alfa en die omega is. Die meeste mense, wanneer hulle besef dat nuwe insigte en perspektiewe verrykend is, is egter in staat om sulke verwarring te oorkom en nie in wanhoop te sit nie. Dit is wel 'n probleem dat mense doelbewus onkundig gehou word omdat hulle dalk ontsteld kan wees oor nuwe insigte. Selfs 'n groter probleem is die fundamentalistiese aansprake op finale waarheid wat agter sommige van hierdie aanvalle skuil. Debat is dan nie moontlik nie, maar ten minste behoort ruimte geskep te word om beide standpunte te stel. Die meeste mense is ook in staat om self te besluit wanneer hulle 'n billike kans gebied word om alle inligting en interpretasies te ondersoek.