Oor analogieë, metafore en dies meer

deur Diek van Wyk

In 'n elektroniese tydskriffie wat my op sy versendingslys het, het daar onlangs 'n stukkie van Prof Hennie Stander verskyn. Dit het waarskynlik voorheen in 'n ander tydskrif of koerant verskyn, en is bes moontlik dieselfde een wat Pieter Craffert reeds op hierdie webtuiste in die visier gehad het. Daarin betuig Prof Stander sy geloof in die Christus van sy jeug en speel hy dit af teen die nuwe hervorming.

As mens die stuk noukeurig lees, blyk dit dat hy met 'n eenvoudige formule werk: Wie nie soos ek glo nie - en dit sluit spesifiek die nuwe hervormers in - is ongelowig. Om dit tuis te bring, vergelyk hy die situasie naamlik met 'n tennisspel. Die nuwe hervormers wil, volgens hom, rugby kom speel op sy godsdienstige tennisbaan, en hy weier om dit toe te laat. En dan deel hy 'n taai klap uit: die nuwe hervormers is uiters fundamentalisties ondanks die post-moderne idioom waaragter hulle skuil; hulle staan onder andere fanaties daarop dat daar geen metafisiese werklikheid is buiten hierdie wêreld wat ons sien nie!

Om met die laaste stelling te begin: ek vind dit 'n growwe wanvoorstelling van Prof Stander om 'n ongenuanseerde vorm van panteïsme - of is dit ateïsme? - in die nuwe hervormers se skoene te skuif, ook al sou daar enkeles wees wat so dink, wat ek betwyfel. En dan vind ek dat hy 'n hoogs ongewone betekenis aan die woord "fundamentalisties" heg. Volgens bronne wat ek kon raadpleeg, is fundamentalisme 'n beweging in die Protestantisme wat in die 19de eeu as 'n reaksie op modernistiese neigings in die godsdienstige lewe van Amerika ontstaan het en wat die letterlike interpretasie en absolute onfeilbaarheid van die Bybel voorstaan. Later is die term uitgebrei na alle groepe wat hulle godsdiens letterlik uitleef en onverdraagsaam teenoor ander opvattings staan. So word daar onder andere nou ook van fundamentalisme in die Islam gepraat. Om dié begrip op die nuwe hervorming, wat juis van die ortodoksie afwyk, wat juis wil vernuwe, van toepassing te maak, keer die betekenis van die woord op 'n baie vreemde manier op sy kop.

Om maar dadelik met die geïmpliseerde aanklag van ongelowigheid klaar te speel: Elke "nuwe hervormer" hier te lande van wie ek kennis dra, is na die beste van my wete 'n gelowige in die Jesus-tradisie. Vra dié nuwe hervormers by voorbeeld of hulle aan God glo, en die antwoord sal tien teen een iets wees soos: Ja, maar nie as Een wat slegs buite sy skepping staan en menslike eienskappe het met alles wat dit behels nie. As jy vra of hulle aan die Bybel glo, sal die antwoord wees: Ja, maar nie as 'n dokument wat woordeliks deur God gedikteer is, wat al die kenmerke van goddelike onfeilbaarheid dra en letterlik gelees moet word nie; wel as een waarin God ontmoet kan word as dit reg gelees word. En as jy vra of hulle glo in die onbevlekte ontvangenis en maagdelike geboorte van Jesus, die wonderwerke wat Hy gedoen het, dat Hy uit die dood opgestaan het, dat Hy na die hemel opgevaar het, dat Hy die seun van God is, en so meer, sal jy 'n verskeidenheid antwoorde kry. Die meeste daarvan sal daarop neerkom dat hierdie dinge wel aanvaar word, maar nie as werklike historiese, fisieke gebeures of feite nie. Hoewel formulerings en aksente sal verskil, kom dit breedweg daarop neer dat 'n beduidende meerderheid, indien nie almal nie, dit sal beskou as metafore wat heenwys na diepliggende en tydlose spirituele waarhede waardeur die Goddelikheid gevind kan word.

Ek wil dit dus stel dat die nuwe hervorming in 'n hoë mate, miskien selfs uitsluitlik, van ortodokse belydenisse verskil in die wyse waarop metafore gehanteer word. Daarmee bedoel ek of gebeurtenisse waarvan in die evangelies berig word, en bepaalde begrippe en uitsprake in belydenisstukke, as metafore gesien word of nie, en wat die omvang en reikwydte is van die metafore wat toegelaat word. As dié verskil van nuwe hervormers ongelowiges maak, veronderstel dit 'n uiters eng definisie van geloof. Dit blyk al gou wanneer Prof Stander se tennisanalogie ontleed word.

Die analogie het allerlei implikasies. Wie sy medespelers op sy godsdienstige tennisbaan is, is onduidelik, behalwe dat dit nuwe hervormers uitsluit. Dit sou egter nie verkeerd wees om aan te neem dat hy andere wat soos hy glo, in die oog het nie. Die vraag wat ek my afvra, is: Sou dit dan Christene van allerlei belydenisse insluit? By voorbeeld Katolieke met hulle verering van Maria? Of ortodokse kerke wat Jesus as hulle ouer broer in die geloof beskou? Of 'n verskeidenheid ander groeperings met belydenisse wat van syne verskil? Sou hy 'n potjie tennis saam met hulle wil speel, gegewe dat hy die nuwe hervormers se standpunte so bevreemdend vind dat hy dit met rugby vergelyk, d.w.s. 'n spel wat nie eers, soos muurbal of tafeltennis of pluimbal, met 'n spaan gespeel word nie? Daarop bly hy 'n antwoord skuldig.

Maar kom ons neem aan sy tennisbaan word eksklusief gereserveer vir diegene wat dieselfde belydenis as hy het. Sou dit dan voorsiening maak vir verskille in geloof, d.w.s. die verinnerlikte denkbeelde en belewenisse van die betrokke, vermoedelik konvensionele, gelowiges? 'n Eenvoudige voorbeeld sal illustreer wat ek bedoel: die eerste reël van die Onse Vader. Een Christen-gelowige konseptualiseer dalk die Vader in die hemel - miskien na anleiding van Ou Testamentiese voorstellings en afbeeldings op ouer kunswerke - as 'n manlike persoon wat hom êrens ver bo die aarde, buite sig van mense, bevind, terwyl 'n ander dit kan verstaan as 'n metafoor vir 'n versorgende, nie-mens-gelyke Goddelikheid in 'n toestand van volmaaktheid. Hoort albei dié gelowiges op sy tennisbaan, gegewe dat die verskil tussen hulle, soos dié tussen die ortodoksie en die nuwe hervorming, ook om metafore gaan? Dit wil vir my lyk of Prof Hennie bitter min medespelers sal hê as die konsekwensies van sy vergelyking deurgetrek word.

As ek dan 'n vergelyking met sport moet gebruik, sou ek verkies om eerder te praat van die speelveld van die lewe waarop almal wat van geloof erns maak medespelers is, elk op sy/haar manier en volgens die lig wat sy/hy het. Op dié speelveld gun elkeen elke ander een sy/haar ruimte, ook al verskil hulle diepliggend van mekaar. Dit is nie die domein van mense met 'n bepaalde Godsbeeld nie, en dit reserveer Jesus nie vir diegene wat op 'n bepaalde manier oor Hom dink nie. Verskillende standpunte is dus nie voldoende rede om andersdenkendes van dié speelveld af te jaag nie.

Ek vind Prof Stander se stuk nie 'n hoogstaande bydrae tot die debat rondom die nuwe hervorming nie.