’n Wending in Bybellees en –interpretasie?
Resensie van Om die Bybel anders te lees: ’n Etiek van Bybellees
Sakkie Spangenberg
UNISA
In 1994, die jaar waarin Suid-Afrika ’n regeringsverandering ondergaan het, publiseer Ferdinand Deist sy boek Ervaring, Rede en Metode in Skrifuitleg: ’n Wetenskapshistoriese ondersoek na Skrifuitleg in die Ned. Geref. Kerk 1840–1990. Die boek hou verband met ’n omvattende navorsingsprojek wat gehandel het oor die Skrifbeskouing en -gebruik in die Ned. Geref. Kerk, die Ned. Herv. Kerk, die Gereformeerde Kerke en die Apostoliese Geloofsending. Na regte bied sy boek slegs die resultate van die ondersoek na die Ned. Geref. Kerk se Skrifbeskouing en -gebruik soos dit ontwikkel het oor ’n tydperk van honderd en vyftig jaar. Gerrie Snyman was een van die projekspanlede en sy opdrag was om die Gereformeerde Kerke se Skrifbeskouing en -gebruik te ondersoek en daaroor verslag te lewer. Na die voltooiing van die navorsing het hy die resultate van sy ondersoek in ’n paar artikels in die tydskrif In die Skriflig gepubliseer. Dáár het dit egter nie gebly nie. Soos dit ’n goeie Bybelwetenskaplike navorser betaam, het hy oor die Bybel en die gebruik daarvan bly nadink en skryf. Die resultate van hierdie nadenke en skrywe het nou neerslag gevind in die boek Om die Bybel anders te lees: ’n Etiek van Bybellees (Snyman 2007).
Die boek bestaan uit elf hoofstukke en neem lesers uit die doodloopstraat van die idee dat die Bybel objektiewe altydgeldende waarheid bied. Dit neem hulle weg van die idee van ’n “buiksprekende God” oftewel, die idee dat hulle “God se stem” helder en duidelik in die Bybel kan hoor. Die boek laat die fokus val op lesers en hulle subjektiewe betrokkenheid by die lees- en interpretasieproses. Dwarsdeur die boek word hierdie aspek beklemtoon — daarom kan ons praat van ’n wending op die terrein van Bybellees en -interpretasie in Suid-Afrika. Hy belig soos nog geeneen tevore nie die rol wat die leser in die lees- en interpretasieproses speel.
Hy argumenteer oortuigend in die inleiding en hoofstuk een dat 1994 ’n breuklyn verteenwoordig. Gedurende daardie jaar het Suid-Afrika nie net ’n volwaardige demokrasie geword nie, maar die Skrifbeskouing waarmee gereformeerde kerke (die NG Kerk, NH Kerk en die Gereformeerde Kerke) gewerk het, het hom finaal vasgeloop. Hierdie kerke werk steeds met ’n naïewe siening van hoe die Bybel ontstaan en die rol wat mense daarin gespeel het.
Gedurende die apartheidsera (1948–1994) het gereformeerde teoloë met die idee gewerk dat lesers objektiewe riglyne uit die Bybel kan aflees oor hoe die politieke verhoudinge tussen die verskillende bevolkingsgroepe in Suid-Afrika gereël moes word. Die “buiksprekende God” het skeiding van rasse in sy Woord gebied, was die argument. Elke volk moes ’n eie (tuis)land hê en die verskillende rasse mag ook nie ondertrou nie. Snyman (2007:30) vra tereg: “Hoekom is ons bang om te erken dat die waardes in die Bybel wat tot apartheid aanleiding gegee het, problematies is?” Hierdie opmerking van hom gaan maak dat sommige gereformeeerde teoloë hom van “Skrifkritiek” beskuldig. Die vrae wat hy egter vra, is indringend en geregverdig. Die teoloë wat hom van “Skrifkritiek” beskuldig, sal moet wys dat hulle nie die Bybel met ’n ideologiese bril lees nie. Iets wat hulle natuurlik nie sal kan bewys nie, want hy toon oortuigend aan dat alle lesers die Bybel met ’n bepaalde “bril” lees. Niemand is volkome objektief nie. Nie eens die vroomste gereformeerde teoloog nie. Daarom skryf hy hierdie belangrike sin: “Die uitskakeling van subjektiwiteit in die leesproses is egter onmoontlik” (Snyman 2007:39).
Om dít te illustreer, wend hy hom tot die debat wat in bogenoemde kerke gevoer word oor mense met ’n homoseksuele oriëntasie (hfst. 2). Diegene wat so hoog opgee oor die objektiewe waarhede in die Bybel en hulle op gedeeltes soos Levitikus 18:22 en Romeine 1:26–27 beroep om homoseksualiteit af te wys, plaas natuurlik nie hulle eie heteroseksualiteit (wat hulle as norm neem) op tafel nie. Snyman slaag daarin om die kompleksiteit van seksualiteit aan te toon. Voorts toon hy ook aan dat wat ons vandag as “normatief” beskou met eeue se regulering binne bepaalde samelewings saamhang. Buitendien, waarom nou skielik Levitikus 18:22 as norm neem, maar nie ook Levitikus 11:16 wat die eet van volstruisvleis verbied, of Levitikus 19:19 wat die dra van klere wat van twee soorte stof gemaak is, nie? Al drie hierdie tekste kom in dieselfde boek voor en is deur dieselfde skrywer(s) geskryf. Dis bloot subjektiewe keuses wat mense vandag uitoefen sonder om hulle eie subjektiewe oordele ter sprake te bring. ’n Mens kan nie maar net sekere wette in Levitikus as normatief beskou en ander ignoreer nie. Die boek is in totaliteit ’n dokument wat tydens ’n bepaalde periode in Israel se geskiedenis ontstaan en ’n bepaalde lewenswyse op ’n samelewing probeer afdruk het. Dit bevat nie objektiewe godswoorde wat vir tyd en ewigheid geld nie. Dit geld ook die tekste in die brief aan die Romeine en alle ander Bybelboeke.
Dit bring Snyman dan by die belangrike saak van ’n etiek van Bybellees (hfst. 3). Daarmee bedoel hy dat lesers bewus moet wees van hulle eie subjektiwiteit wanneer hulle die Bybel lees en dat hulle daarvoor verantwoordelikheid moet aanvaar. Mense moet in ag neem dat hulleself “die knooppunt van verstaan” is (Snyman 2007:53). Húlle ken betekenis toe in die leesproses. Dis nie die teks wat objektiewe betekenis op hulle afdruk, of betekenis in hulle koppe inprent nie.
Die aspek van mag kom ook in hierdie hoofstuk ter sprake, want mense kan húlle lees en verstaan van ’n teks as norm aan ander voorhou en dit dan op ander afdwing onder die voorwendsel dat dit deur God gebied word. Dit was die geval met die apartheidsteoloë en hulle lees van die Bybel. Húlle het hul lees en verstaan van die Bybel as “Woord van God” voorgehou en ander daaraan onderwerp. Die gevolg hiervan is dat ander “die littekens” van hulle lees moes dra. Bybellees is dus nie ’n onskuldige aktiwiteit nie, maar kan tot ander se lyding en selfs dood lei. Verantwoordelikheid in die leesproses strek egter nie net uit na ander mense rondom jou nie. Verantwoordelikheid strek hom ook uit na die teks wat ’n mens lees. Hierdie verantwoordelikheid tipeer Snyman as “’n historiese lees”. Elke Bybelteks het in ’n bepaalde konteks tot stand gekom en dis lesers se plig om meer hiervan te wete te kom. Wie dít doen, aanvaar verantwoordelikheid vir die teks en respekteer dit. Lesers wat daarop roem dat hulle hulle slegs onderwerp aan die gesag van die Bybelteks, verdoesel hulle eie minagtig van die historiese konteks waarin die teks tot stand gekom het. Hulle gebruik vroom woorde om hulle magsmisbruik te verdoesel.
In hoofstuk vier tref Snyman die mooi onderskeid tussen die Bybel as wapen en as instrument. Hy wys daarop dat die Bybel gewoonlik as ’n “goddelike teks gelees word” en dat dit tot die onuitgesproke idee aanleiding gee dat die Bybelteks ’n “welwillende teks” is wat net die goeie beoog. In sy eie woorde: “Omdat God nooit sleg bedoel nie, word die Bybel beskou as ’n teks wat heilsaam werk op die menslike toestand” (Snyman 2007:73). Hy waarsku dat die Bybelteks nie altyd so welwillend is as wat sommige teoloë meen nie. Lesers moet die waardes wat daarin vervat is, krities beoordeel. ’n Onkritiese lees, bring immers ellende vir ander mee. ’n Onkritiese lees, het tot die apartheidsideologie, die uitsluiting van vroue uit die amp van ouderling en tot die veroordeling van mense met ’n homoseksuele oriëntasie gelei. Dit lei hom tot die volgende gevolgtrekking (Snyman 2007:80):
Die Bybel wat die inheemse Afrikabevolking aan blanke oorheersing onderdanig gehou het, was ’n wapen in die hande van koloniale moondhede en uiteindelik Afrikanernasionalisme. Dieselfde Bybel wat ’n vrou in haar posisie van onderdanigheid hou, is ’n wapen in die hand van manlike oorheersing. Dieselfde Bybel wat gays as randfigure uit die kerk stoot, is ’n wapen in die hande van heteropatriargie.
Nog ’n siening waarmee hy aftreken (naas die siening dat die Bybel ’n welwillende teks is) is die een wat ’n letterlike lees voorhou as die ideale benadering tot die Bybelteks (hfst. 5). Diegene wat alles in die Bybel letterlik lees en interpreteer, skenk nie genoegsaam aandag aan die historiese konteks waarin ’n betrokke teks tot stand gekom het nie. Hulle maak asof die samelewing waarin die teks tot stand gekom het en ons s’n nie ’n aks verskil nie. Dis dieselfde soort fout wat die apartheidsteoloë gemaak het. Wanneer tekste konteksloos en bowe-histories gelees word, kan dit amok maak en tot ander se ellende, lyding en dood lei. Hierdie hoofstuk werk na regte die sieninge wat in hoofstuk drie en vier op tafel gesit is, verder uit. Die aspek van mag kom in hoofstuk sewe weer onder die loep.
In hoofstuk ses bespreek Snyman sake wat miskien bokant die vuurmaakplek van gewone Bybellesers is. Tog is dit broodnodige inligting wanneer die gesag van die Bybel bespreek word. Dit gaan in hierdie hoofstuk oor mondelinge en skriftelike oorlewering en oor verskillende kanons binne die Christelike tradisie. Dis belangrik om te weet dat heelwat materiaal wat ons in die Bybel aantref, eers mondeling oorgelewer was en dat mondelinge oorlewering nie so ingestel is op “onveranderlike woorde” nie. Mondelinge oorlewering laat variasies toe. Dit lê waarskynlik agter die twee vloedverhale in Genesis 6–9. Gewone Bybellesers besef nie dat twee verhale in hierdie hoofstukke ineengevleg is nie. Wie die vloedverhaal noukeurig lees, sal gou agterkom dat Noag verskillende opdragte ontvang het oor die diere wat hy in die ark moes neem. Die wyse waarop die vloed ontstaan het en hoe lank dit geduur het, verskil ook. Na my mening slaan Snyman die spyker op die kop wanneer hy skryf (2007:105):
Op grond van hierdie dogmatiese uitwerk van die opskrifstelling van die Bybel, sou sake soos vormgeskiedenis, tradisie-oorlewering en redaksie-geskiedenis geen plek kon kry nie. Binne die amptelike gereformeerde tradisie in Suid-Afrika het dit ook nie wortel geskiet nie. Net enkele ingeligtes weet daarvan, terwyl die res van die kerkvolk in die duister gelaat is daaroor.
Weinig predikante wat saam met my admissie en teologiese opleiding op Stellenbosch ontvang het (1971–1977), weet iets van vormgeskiedenis, tradisie-oorlewering en redaksie-geskiedenis. Ons is nooit in dié sake ingelei en geleer waarom dit belangrik is vir ’n goeie verstaan van die Bybel nie. Hierdie aspekte rondom die ontstaan en oorlewering van die Bybel is geïgnoreer omdat dit deel van die sogenaamde “hoër kritiek” oftewel, “Skrifkritiek” was.
’n Verder belangrike saak wat ook ter sprake kom, is die kwessie van inspirasie van die Bybel. Snyman (2007:109) slaan die spyker op die kop wanneer hy skryf dat inspirasie ’n “geloofsuitspraak oor die waarde van die Bybel” is en allermins ’n uitspraak oor die “manier hoe dit fisies tot stand gekom het.”
Een van die belangrikste hoofstukke in die boek is hoofstuk sewe wat die titel dra “Die Bybel en mag.” Die Bybelse regverdiging van apartheid, die uitsluiting van die vrou uit die amp en die siening dat homoseksualiteit ’n keuse is wat God veroordeel, kom nogeens ter sprake. Hierdie keer val die kollig egter op die aspek van mag wat ’n rol gespeel het (en steeds speel) in die interpretasieproses. Hierdie hoofstuk het my herinner aan die woorde van James Barr die befaamde Skotse Bybelwetenskaplike van die vorige eeu. Hy het vier en twintig jaar gelede al die volgende geskryf (Barr 1984:119):
Fundamentalists seem to me to fail to perceive that the Bible itself can be made into the instrument of human pride, human self-affirmation, human will to dominate, human ideological fervour. They cannot believe it of the Bible. If one really and completely accepts its authority, one will not be able to go wrong. But this is what does happen, and there is plenty of evidence and experience for it. People who sincerely and completely accept the Bible can build it into the structure of their own will and desire, just as any other object can be used.
Dit staan buite kyf dat ons in die ondersteuning van die apartheidsbeleid, die uitsluiting van die vrou uit die amp en die negatiewe uitsprake oor mense met ’n homoseksuele oriëntasie met fundamentalisme in sy mees wrede gedaante te doen het. Snyman wys ook daarop dat mense wat deesdae afwykende standpunte inneem “met die belydenis gekonfonteer word” so asof die belydenisskrifte nie deur mense wat binne ’n bepaalde era geleef het, geformuleer is nie. Ook hier hang die “onderrok” van fundamentalisme duidelik uit daarom kan hy skryf: “Deur interpretasie in die Bybel en in die belydenis te ontken, is om die twee tekste te objektiveer tot ’n onheilswapen waarmee mense die mond gesnoer kan word” (Snyman 2007:117).
In hoofstuk agt en nege kom die kwessie van ’n etiek van lees weer ter sprake. Dit sluit grootliks aan by gedagtes wat in hoofstuk drie uitgespreek is, maar brei baie goed daarop uit. Na my mening sal lesers goed doen deur hoofstuk drie weer te lees voordat (of nadat) hulle hoofstuk agt en nege gelees het. In hierdie hoofstukke wys Snyman die leemtes uit van die leespraktyke waarmee vele predikante en lidmate opgevoed is. Hy beklemtoon dat ’n etiek van lees ’n balans wil skep en handhaaf “tussen die teks, die lesers en diegene wat deur die lees beïnvloed gaan word” (Snyman 2007:127). Lesers wat die Bybel lees, moet dus lees met die “ander” in gedagte, want die “ander” gaan die littekens van hulle lees dra. Maar lesers het ook die verantwoordelikheid om die Bybelteks as “ander” ernstig op te neem en die teks nie geweld aan te doen in die lees- en interpretasieproses nie. Hulle moet dit respekteer as “antieke teks” wat uit ’n samelewing kom wat radikaal van hulle s’n verskil.
Hoofstuk tien illustreer die gevaar verbonde aan ’n onkritiese lees van ’n Bybelteks deur op die Esterverhaal te fokus, terwyl hoofstuk elf verduidelik hoe die ontdekkings van Bybelmanuskripte by Qumran aan die kus van die Dooiesee ons verstaan van die ontstaan en oorlewering van Bybelboeke radikaal verander het. Hierdie hoofstukke sal lesers hopelik finaal laat afsien van die idee dat daar slegs één skrywer (naamlik God) agter die verskillende Bybelboeke sit en dat al die Bybelboeke één uniforme beeld van hierdie God bied.
Hopelik sal ’n klomp predikante na dese afstand doen van uitdrukking “die God van die Bybel sê”, of “God sê in sy Woord”, of sommer net kortweg “God sê.” Sou dit gebeur, het Gerrie Snyman ’n groot diens aan Afrikaanssprekende kerke en die teologie in Suid-Afrika gelewer.
Bibliografie
Barr, J. 1984. Escaping from Fundamentalism. London: SCM.
Deist, F.E. 1994. Ervaring, Rede en Metode in Skrifuitleg: ’n Wetenskapshistoriese ondersoek na Skrifuitleg in die Ned. Geref. Kerk 1840–1990. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing. (RGN-Studies in Metodologie.)
Snyman, G.F. 2007. Om die Bybel anders te lees: ’n Etiek van Bybellees. Pretoria: Griffel Media.