Die Nuwe Hervorming debat word met groot belangstelling gevolg

Terblanche Jordaan (van die Kruiskerk) skrywe:

Ons hier in Kaapstad het so 18 maande gelede met Kruiskerk begin, hoofsaaklik omrede mense moeg en siek en sat is vir die manier waarop daar steeds met mense gewerk word deur die kerk ... en om te gaan soek na 'n ander manier van dink oor God, mens en die self.

By Kruiskerk gaan die gesprek oor inklusiwiteit en nie oor homoseksualiteit nie ... dit gaan oor 'n gesprek wat God geen mens maak nie, ook nie langer gekluister hou in dualisme nie en verseker nie langer net nog 'n kolletjie in 'n wêreld van fragmentasie is nie!

Miskien moet daar 'n bietjie verder verduidelik word sodat dit moontlik tot 'n gesprek op hierdie forum kan lei:

Daar is 'n paar dênge wat my nog altyd gehinder het — hoe is dit moontlik dat God volmaak liefde kon wees maar ons sê Hy kan ook haat; hoe bely ons dat Hy volmaak vrede is maar glo dat Hy ook in konflik kan wees ... hierdie dualisme hou net nie meer water nie!

Tweedens het ons 'n God geskep wat kleinlik en petty is; wat behoeftes en begeertes het en wat 'n kans staan om nie te kry wat Hy wil hê nie. Hoe kan die Almagtige iets wil hê wat Hy nie kan kry nie as Hy alles is, alles het en selfs meer as die alles is? Omrede ons dan dink dat God emosioneel kan seerkry, dat Hy homself bedreig kan voel (deur nogal die mens) wil ons glo dat God met wette ons beveel om vir Hom te gee wat Hy wil hê en doen ons dit nie sal Hy ons van Hom verwyder, so ver dat ons vir ewig en ewig sal boet vir die 60 – 70 jaar hier op aarde waar ons Hom nie sy sin kon gee nie! Sulke dogmatiese snert word Sondag na Sondag van ons kansels verkondig omrede ons verkies om in 'n wêreld van vrees te lewe wat deur 'n ego beheer word en nie deur sieldenke nie. Hierdie pre-moderne teologie is presies wat dit is, naamlik net teologie! In hierdie wêreld sedert die mens tot sy verstand gekom het, is dit juis teologie wat mense seermaak, uitmekaarjaag, verwoes, vermoor, verpletter en van mekaar vervreem. Trouens dis nie godsdiens wat die wêreld opgedonder het nie maar juis teologie omrede teologie (en veral bogenoemde teologiese pornografie) vir ons die illusie aanleer dat ÓNS teologie is reg en die ander is verkeerd, ÓNS teologie is beter as ander se teologie en sodra jy in daardie geut geval het kom jy nooit weer daar uit nie — vra maar vir die broeders wat pre en post apartheid nog sit en bespreek oor hoe hulle eintlik 'beter' is as ander mense ... luister na predikante se teologie en veral as die sous van Gereformeerdheid daaroor gegooi word, dat dit eintlik 'n teologie is wat beter is as ander sin.

Dus, en derdens, miskien moet 'n mens met alle respek Christus so klein bietjie degradeer sodat God gepromoveer kan word. Wat ek hiermee bedoel is dat ons Christus so vergoddelik het ( homo deus et vere homo ) dat ons glo God is ook 'n mens! Dit kan nie, en dit mag nie want God is sonder vorm, sonder definisie en sonder dimensie. Daarom verwys ons vrymoedig na onsself by Kruiskerk as mystics wat op die wolk van nie weet nie loop. As ons dan moet teologie praat, kom ons noem dit dan 'n teologie van nederigheid waar ons nie voorgee om al die vrae te hê nie maar nie ophou om die vrae te vra nie. Daarom is Sondae is verslag van 'n week se soektog!

Ons kan nie so naïef wees (Artikel 7 van NGB) om te dink dat die Bybel is die enigste woord van God aan die mens vir alle eeue nie. Nog minder dat God nooit voor of na die Bybel met mense in 'n gesprek wil gaan nie. Meer verstommend is die feit dat as ons in Deuteronomium lees dat ons, ons ongehoorsame kinders by die stadspoort moet stenig dan is dit kultureel gebonde maar pluk dan net wat ons pas uit om te sê hier beveel God dit en dat en as jy nie sus en so gaan optree nie sal daar dienooreenkomstig met jou gehandel word.

Wat het ons met God gedoen?

Ons het dit soos 'n lemoen papgedruk en nou is ons verstom dat mense hulle hande op die voorkop slaan as daar van die kerk gepraat word. Meer nog—ons het van God 'n karikatuur gemaak wat moet oordeel soos ons wil hê Hy moet oordeel, wat moet seën vir wie ons graag sal wil seën en nie die mense wat ons te na kom moet vergewe nie (en dan noem ons dit — regverdigheid).

Wat mense nie verstaan nie, sal hulle ontken!

Hier het ons nie eers begin praat oor begrippe soos: is daar werklik iets soos reg en verkeerd nie om moet die begrip moraliteit nie vervang word met funksionaliteit nie; is die bose nie maar net 'n sinoniem vir 'siek' nie; waarom 'sonde' net by homo sapiens voorkom nie; of God werklik oordeel en as jy niks oordeel nie is daar niks om te vergewe nie; alle vorme van emosionele pyn is gebore uit 'n skuldgevoel en skuldgevoelens is 'vrees' wat vars in die yskas in 'n Jiffy gehou word sodat ons dit enige tyd weer gou kan opwarm. Ons het nie eers geraak aan die begrip van spiritualiteit nie want die 'nuwe' spiritualiteit (wat ek vrymoedig trans-spiritualiteit noem omrede dit vrylik en met groot toleransie tussen tradisies en kulture beweeg) sal die nuwe Zeitgeist wees indien dit nie alreeds in ons skoot kom lê het nie.

Wat ek hiermee wil sê is die volgende: hou die debat aan die gang en oop! Dankie vir die moed om vir iets te staan binne 'n kerk wat vir niks behalwe selfgeregtigheid en apartheid* staan nie.

Vriendelike Kaapse groete
Terblanche Jordaan

* Ja — apartheid is die grootste sonde van die kerk. Ons dink ons is apart van God en dat Hy homself van ons onttrek het. Ons dink ons staan apart van ander mense want ook mense is los van mekaar en leef soos eilande. Ons leef in die illusie dat ons apart is van onsself en dat siel, lyf en denke nie in hierdie wêreld in balans en harmonie kan wees nie. Ja — apartheid is die sonde dat ons dink ons is beter as ander en luister mooi na die semantiek van die meeste predikante (teoloë) as onderwerpe soos spiritualiteit, seksualiteit en politieke dinamika bespreek word en die apartheid enemmel dop af soos 'n Springbokspan in Engeland.