Amie van Wyk, 21 September 2005
Beste Sakkie,
Nogmaals dankie vir jou antwoorde op my vrae. Ek spreek ook my waardering uit vir die gees en gesindheid waarin jy reageer. En veral vir jou openhartigheid. Ek kan my nie herinner dat ek jou al só openhartig oor hierdie temas sien skryf het nie, in elk geval nie in jou vroeëre Godsdiens Aktueel-artikels wat in Beeld verskyn het nie. Openhartigheid dra by tot ‘n konstruktiewe gesprek.
Dit spyt my dat Beeld nie jou reaksie wou publiseer nie. Die gevolg is nou dat ons publieke gesprek onafgerond eindig. En lesers mag wonder hoe jou werklike standpunte daar uitsien. As dit jou mag troos: Beeld het ook al van mý artikels nie geplaas nie.
Ek maak die volgende opmerkings oor jou reaksie.
1. Die vraag na kontinuïteit en diskontinuïteit
Jy stel dit duidelik dat jy radikaal gebreek het met die ‘meesterverhaal’ van (kortweg) skepping-sonde-verlossing, veral soos dit deur die kerkvaders ontwikkel is. Ek neem aan dat jy Augustinus – as grootste kerkvader – hierby insluit.
Hier ontstaan dadelik ‘n aantal vrae.
Eerstens veronderstel dit dat jy as wetenskaplike deeglik – of minstens genoegsaam – kennis geneem het van die geskrifte van die kerkvaders en in besonder dan van Augustinus. Nou het Augustinus alleen 5 miljoen woorde geskryf en ek weet nie of jy genoeg daarvan gelees het om ‘volledig’ afskeid te kan neem van die groot meesterverhaal nie. Bram van de Beek maak iewers die volgende tersake opmerking: “Kennis van de vroegkerkelijke theologie is mijns inziens naast kennis van de Schrift voor de christelijke theologie een eerste noodzaak” (Ontmaskering, 2001: 91).
Tweedens het (veral) Augustinus hom lewenslank besig gehou met die ‘teologie’ van Paulus, met Paulus se interpretasie van (wat vandag genoem word) die ‘Jesus-gebeure’, in besonder in sy brief aan die Romeine. Dit is byna vanselfsprekend dat wie oorhoop lê met die teologie van Augustinus, ook oorhoop sal lê met die ‘teologie’ van Paulus, veral met Paulus se sonde- en genadeleer. (En ook met die boodskap van die brief aan die Hebreërs.)
Derdens vind ek jou afskeid van die meesterverhaal ‘n groter breuk as wat tydens die Reformasie in die sestiende eeu gebeur het. Saam met die Katolieke het Protestante darem nog die Apostolicum en Niceanum bely (behalwe vir een artikel wat anders verstaan is), maar, as ek jou reg verstaan, bly daar in die herintepretasie van hierdie belydenisse deur die Nuwe Hervorming (NH) weinig oor. Al wat oorbly is (1) geloof in God (maar dan ook pan(en)teïsties verstaan) en (2) bewondering vir Jesus as mens. Dit ontbreek my aan die insig om in te sien dat dit ál is wat oorbly na 2000 jaar se teologiebeoefening. Daar is feitlik geen kontinuïteit nie, slegs diskontinuïteit.
Vierdens vind ek dat die NH die persoon en werk van Jesus te min vanuit die OT verstaan en te veel vanuit die Grieks-Romeinse leefwêreld van 2000 jaar gelede. Saam met die NT sien ek Jesus veel meer as ‘n vervulling van die OTe beloftes.
Vyfdens lei ek uit jou skrywe af dat mens nie meer God kan (mag?) aanbid nie. Meditasie wel, maar nie aanbidding nie. Onnodig om te sê dat ek hiermee groot probleme ondervind, en so ook met jou Godsleer. Herman Bavinck merk iewers die volgende op: “Datgene, waar de H. Schrift in de eerste plaats tegen op hare hoede is, is de vermenging van God met zijn creatuur” (Magnalia Dei, 1931:149). As Skepper en skepping ineenvloei is gebed (in al sy vorme) natuurlik nie meer moontlik nie. Wat my persoonlik betref: ek loop die hele dag met God en praat, stel vrae, soms die allermoeilikste vrae, maar ek noem dit nie gebed nie, of liewers, my gebede gaan nie daarin op nie. Ek het behoefte, persoonlik en in ‘n erediens, aan aanbidding, lofprysing, danksegging en voorbidding - soos dit in die Bybel te vind is.
2. Sonde en erfsonde
Ek gee graag toe dat die begrip erfsonde tot groot misverstand aanleiding kan gee en dat dit (veral) by Augustinus te veel aan seksualiteit gekoppel is. Berkouwer het al daarteen gewaarsku dat die begrip nie as goedkoop verskoning misbruik moet word om jouself van sonde te verontskuldig nie (De Zonde II, 1960:306-311). Maar die sáák wat die begrip ‘erfsonde’ oordra is duidelik, nie alleen uit die Bybel nie maar ook uit persoonlike ervaring: alle mense is onvolmaak en onvolkome. Indien alle mense sondeloos gebore sou word (Pelagius), dan moet daar iewers darem ‘n paar volmaakte mense te sien wees. En dan moet die wêreld ‘n baie beter plek wees. Ek het in my lewe nog nêrens ‘n sondevrye mens ontmoet nie.
In hierdie verband maak jy die interessante opmerking dat Jesus sy kruisdood nie as ‘perfekte mensoffer’ of ‘plaasvervangende soenoffer’ gesien het nie. Nou die dag lees ek dat Cilliers Breytenbach ook opmerk dat “Jesus himself did not interpret his own death as being the basis for the forgiveness of sins” (89), maar dan voeg hy later by dat “Matthew [26:28] explicitly introduces Jesus’ death as the foundation for the forgiveness of sins”(91) (in Jan van der Watt et al, Friendship and love, 2005).
3. Jesuïete en Christene
Dit val my op dat jy die woord ‘Christene’ sorgvry gebruik maar die woord ‘Christus’ vermy. Daarteenoor word vryelik van ‘Jesus’(van Nasaret) gepraat. Ek is uiteraard dankbaar indien mense deur die persoon van Jesus geboei word – Moslems, neo-Marxiste, Gandhi doen dit – maar ek ondervind groot probleme indien alle Jesus-bewonderaars hulle Christene noem.
Dis soos wanneer twee mense van ‘n ‘ossewa’ praat, maar die een bedoel die miniatuur ossewa wat op ouma se kaggelrak staan, terwyl die ander een verwys na die werklike ossewa waarmee die Voortrekkers oor die Drakensberge getrek het. Begripsverwisseling skep altyd groot verwarring.
Vir my staan of val die Christelike geloof met die belydenis dat Jesus Christus gekruisig is as oorwinning oor die sonde en dat Hy opgestaan het as oorwinning oor die dood.
Aan die begin van jou brief merk jy op dat “die dag wanneer ek my rug op God en Jesus van Nasaret keer, maak die lewe weinig sin”. My vraag is: waarom juis Jesus? Wat maak Hom so uniek? Waarom nie byvoorbeeld Gandhi nie?
4. Skrif en Skrifbeskouing
Aan die wortel van ons verskille lê natuurlik ons verskillende Skrifbeskouings, myne ‘n ‘hoë’, joune ‘n ‘lae’ Skrifbeskouing.
Ek besef dat jy my verdink van ‘n naïewe Skrifomgang, maar ek wil jou verseker dat ek afskeid geneem het van ‘n slordige, kontekslose en simplistiese lees van die Bybel. Ek probeer onbevange en eerlik omgaan met nuwe ondersoeke en vraagstellings, maar dis vir my onmoontlik om afskeid te neem van die essensie van die evangelie en my dan nog as ‘n Christen te beskou. (Ek sal ook nie weet hoe om te preek nie. Terloops, preek jy nog?)
Jy kan aanvoel dat ek van mening is dat jy die Bybel vanuit ‘n rasionalistiese voorveronderstelling lees. Maar dan vra ek (saam met Karl Jaspers): wie die moderne wêreldbeeld as vertrekpunt neem, moet duidelik maak hoe ‘geloof in God’ nog gehandhaaf kan word. Waarom in so ‘n geval dán terugval op ‘n naïewe geloof?
Indien jy voel ons gesprek het ‘n versadigingspunt bereik, hoef jy nie terug te antwoord nie. Voel vry om hierdie brief op julle webwerf te plaas.
Vriendelike groete
Amie van Wyk
Kommentare
Re: Nog reguit vrae van Amie van Wyk
Jaco
Die gebrek aan terugvoer spreek boekdele waarom mens nie eintlik aan die forums moet deelneem nie !
Groete
Jozua
Re: Nog reguit vrae van Amie van Wyk
Amie
Ek sal graag puntgewys kommentaar wil lewer op jou insette:
1. Die vraag na kontinuïteit en diskontinuïteit
Die feit at Sakkie nie meer met die meesterverhaal saamstem nie is vir my logies as jy sy wetenskaplike benadering en persoonlike situasie in aanmerking neem. Jou verwysing na Augustinus en Bram van de Beek het vir my geen waarde- spesifiek omdat hulle net vanuit een fonteintjie drink. Hulle mag miskien binne die Christelike tradisie swaargewig skrywers wees maar teen vroeer skrywers is hulle maar stofpoepers. Die feit dat Augustinus baie geskrifte die lig laat sien het beteken nie noodwendig dat hulle insiggewend is nie.
Die vraag wat eerder gevra moet word is of daar voldoende feite binne die openbare domein is om die korrekte afleidings te maak? Wat my betref is die antwoord negatief.
2. Sonde en erfsonde
Ek dink mens moet hier gaan kyk hoe werk die proses van inisiasie en die implikasies wat dit inhou vir die persoon en die gemeenskap. Dan sal die Bybelse verhaal meer sin maak. Dit wat tans aan die publiek voorgehou word is wolhaar stories soos deur Sakkie ge-identifiseer.
3. Jesuïete en Christene
Ek verstaan nie mooi waarom "Christene" Jesus as die uitsluitlike bron van Christenskap beskou nie. Die term was immers lank voor Jesus se geboorte aan die Egiptenare bekend. Inteendeel mens hoef maar net na Hermes M Trismegistus se geskrifte te gaan kyk waar daar eeue voor Jesus se geboorte reeds na die "Chrestos" status/titel en die afwagting op n saligmaker verwys word. Die vraag kan tereg gevra word is nie dalk n breuk tusen die vroee Christenskap en die "moderne" vorm van Christenskap nie en hoekom word dit doelbewus ge-ignoreer?
Jy skryf: "Vir my staan of val die Christelike geloof met die belydenis dat Jesus Christus gekruisig is as oorwinning oor die sonde en dat Hy opgestaan het as oorwinning oor die dood". Mmnnnn.. Wat presies bedoel jy met:
a) Gekruisig is as oorwinning oor die sonde = ???! (Is dit nie maar net n bose mensgemaakte konsep dat iemand moes sterf of vervloek word nie? Tot op hede dra ek geen kennis van enige verifieerde bewyse dat die kruisiging van een persoon die sonde oorwin het nie.) Daar is nie eens eenstemmigheid onder teoloe oor die presiese redes vir die kruisiging nie !
b) Opgestaan het = ??! (John Dee e.a kon dooies oproep of verwys jy na die vermoe van Jesus of Comte St. Germain om willens en wetens te kon materialiseer. M.a.w. Jesus is nie die enigste wat dit kon regkry nie. )
c) Oorwinning van die dood = ??? (Ek neem aan jy verwys na die voortbestaan/sterwe van die ge-individualiseerde ontliggaamde bewyssynspunt want tot dusver sterf mense nog steeds liggaamlik? Dit opsigself is ook nie besonders nie want daar vollop rekords van hoe kontak gemaak word met afgestorwenes. M.a.w. ek verstaan nie na watter "dood" jy nou eintlik verwys nie?)
4. Skrif en Skrifbeskouing
Laat ons nou maar eerlik wees en openlik erken dat ons het nie die vaagste idee hoe om die Bybel te verstaan nie. Gaan kyk maar oor na hoeveel uiteenlopende menings daar oor n enkele onderwerp bestaan. Dit is chaos en vervolgens kan ek glad nie verstaan hoe daar in sulke omstandighede van n "Godsdienswetenskap" gepraat kan word nie ! Dan wil ek nie eens raak aan die Joodse tegnieke van skrifuitleg in vergelyking met dit wat opgedis word by meeste plaaslike opleidings instansies nie. Gooi dan nog die vertalingsprobleme by en die gewone leser word gekonfronteer met n teologiese deurmekaarspul.
My slotopmerking:
Ons kan seker mekaar se tyd mors met tegniese korrektheid maar dit gaan ons niks verder bring nie want ons praat by mekaar verby. Aan die einde van die dag bly dit n persoonlike saak waar direkte subjektiewe ervaring/belewenis van die Goddelikheid dalk meer belangrik is.
Groete uit die Kaap.
Jozua