Nog reguit antwoorde van Sakkie Spangenberg


Beste Amie,

Hiermee my antwoord op jou brief van 21 September. Jy fokus hoofsaaklik op vier sake en ek wil op elkeen reageer, maar dis nogal moeilik. Van die afdelings in jou brief bevat onderafdelings en van die sake wat jy onder die een afdeling bespreek, het verbindings met sake wat jy onder ’n ander afdeling bespreek. Verder blyk dit dat jy nog vele vrae in jou gemoed ronddra rakende die Nuwe Hervorming en die sienings wat ons deel. Ek gaan probeer om ’n sistematiese antwoord te skryf, maar ek weet dinge gaan nie so mooi uiteenval soos joune nie.

Eerstens die kwessie van die Christelike tradisie en die sienings van Augustinus (354–430). Jy wys daarop dat Augustinus ongeveer 5 miljoen woorde geskryf het en wonder dan of ek nie te oorhaastig is met die stelling dat ek volledig afskeid geneem het van die meesterverhaal van die Westerse Christendom nie. Ek herinner my dat Eberhard Jüngel ’n keer na Karl Barth se omvattende Kirchliche Dogmatik verwys en toe die volgende opmerking gemaak het: “Die waarheid kan nie só lank wees nie!” Daar was ’n stadium toe byna elke dogmatikus Augustinus probeer na-aap en probeer het om ook 5 miljoen woorde te skryf. Barth en Berkhouwer is goeie voorbeelde hiervan. Dis of hulle die teologie volledig probeer uitskryf het. Hulle wou die waarheid vir tyd en ewigheid formuleer. Maar vra jou gerus af hoeveel gelowiges lees hierdie soort filosofiese uiteensettings van die Christelike godsdiens. Buitendien, moet ons nou alles presies soos Augustinus, Barth en Berkhouwer weet en glo om onsself Christene te kan noem? Ek meen Harvey Cox het ’n waarheid raakgesien toe hy gesê het: “Except in the minds of textbook writers, there is no such thing as Buddhism or Hinduism, or Christianity for that matter. There are only persons who think of themselves as Buddhists, Hindus, or Christians.” Mense beleef hulleself as Christene, Boeddhiste, Hindoes, Moslems, ens. omdat hulle in ’n bepaalde kultuur en tradisie gebore en opgevoed is. Ek beleef myself as Christen omdat ek Afrikaanssprekend is en gereformeerde ouers gehad het. Ek is in die gereformeerde tradisie gekatkiseer en het vir byna 50 jaar getrou elke Sondag ’n gereformeerde erediens bygewoon. Christen-wees is so deel van my mens-wees soos Afrikaans-wees deel daarvan is. Ek het die Christelike geloof en lewenswyse met moedersmelk ingekry en dit sal tot die dag van my dood deel van my bly — al is daar ’n klomp mense wat meen dat ek slegs in naam ’n Christen is. In hierdie mense se koppe is daar slegs een model van Christen-wees — húlle model. Hulle probeer dan ook gedurig om ander klone van hulleself te maak. Ek het oor die jare egter tot die besef gekom dat die Christelike godsdiens gevarieerd is en dat die waarheid nie eendimensioneel is nie. Die Christendom was sedert sy geboorte-uur gevarieerd — daarvan is die Nuwe Testament die beste bewys. Daar was net maar nog nooit eenheid nie, behalwe toe dit deur keiser Konstantyn (275–337) afgedwing is ter wille van die stabiliteit van die Romeinse ryk. Augustinus was ’n teoloog in diens van hierdie politieke doel — en hy het dit nie gesnap nie. Die Latynse kerkvaders het die Romeinse Ryk as ’n uitdrukking van God se ryk beskou en toe Rome deur die “barbare” verower is, het dit hulle geloof tot in sy wortels geskud. Augustinus se beroemde werk Die stad van God wat geskryf is na die val van Rome in 410 getuig hiervan. Wat dit bewys, is maar net dat alle teoloë kinders van hulle tyd is en dat niemand se teologie bowe-histories is nie. Daar is eenvoudig nie ewige, onveranderlike, bowe-historiese waarheid nie. Waarheid is altyd gebonde aan tyd, plek en waarnemer. Ons mag daarom vandag anders met die Bybel en die Christelike tradisie omgaan, want ons kennis, tyd en plek verskil van vorige geslagte s’n. Wat ons wel kan vra, is wat tot die kern van die tradisie behoort. Maar hieroor bestaan daar ook verskille. Volgens my is liefde die kern van die tradisie en die wortels van hierdie kern vind ’n mens reeds in die Ou Testamentiese belydenis “Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde.” Dit is nie vir die eerste keer aan die kruis geïllustreer soos sommige Christene meen nie. Van God se liefde het Israel geweet lánk voordat Jesus aan ’n kruis gesterf het. Die Jode (en ons) het nie ’n kruis nodig gehad om iets van God se liefde te weet nie. ’n Mens kan maar net die boek Jona lees om iets van daardie liefde te snap.

Jy meen dat die Nuwe Hervorming net bewondering vir Jesus as mens het en vergelyk dit met die uitsprake van gelowiges in ander godsdienstradisies wanneer hulle van Jesus kennis neem. Diegene wat met die NH identifiseer, bewonder nie Jesus as mens nie, maar stel intens belang in sy boodskap. Dit gaan vir vele om die herontdekking van sy boodskap en wat dit vir ons dag kan beteken. Vele Nuwe-Testamentici probeer om (gegewe die bronne waaroor ons tans beskik) die boodskap van Jesus weer te konstrueer. Hierdie boodskap verskil natuurlik aansienlik van die tradisionele Westerse Christendom se boodskap oor Jesus. Neem nou maar weer die kwessie van die erfsonde as voorbeeld. Jesus self het géén woord hieroor gerep nie. Lees weer die eerste drie evangelies. Geeneen van hulle maak gewag van die erfsonde nie. Om die waarheid te sê, Jesus verkondig nêrens dat hy gaan sterf sodat God se toorn gestil kan word nie. Waar kom hierdie leerstuk vandaan? Van Augustinus wat die Bybel (en spesifiek die Ou Testament) verkeerd geïnterpreteer het en ’n woedende God in die OU Testament raakgelees het. Op hierdie punt wil ek sê dat Pelagius (oorlede 410) die Ou Testament veel beter as Augustinus geïnterpreteer het! Sonde hou volgens Pelagius altyd verband met konkrete wandade. Sonde bestaan nooit los van dade nie. Na my mening sal dit enige teoloog loon om kennis te neem van die ou ketters. Die ketters het op bepaalde punte die Bybel dikwels beter gelees en geïnterpreteer as die kerkvaders. Neem naas Pelagius ook Porfirius (232–304) as voorbeeld. Hy het reeds in die derde eeu uitgewys dat Daniël nie ’n profesie is nie! Vele ortodokse Christene huldig vandag nog hierdie siening in weerwil van drie eeue se intensiewe Bybelnavorsing wat Porfirius korrek bewys het!

Jy verwys in jou brief na Bram van de Beek se opmerking dat kennis van die vroeg-kerklike teoloë se teologieë naas kennis van die Bybel noodsaaklik is vir die beoefening van die teologie. Hierop sou ek wou reageer met die opmerking dat kennis van die Tweede Tempeltydperk (539vC–70nC) en die vroeë Judaïsme nóg belangriker is. Geen mens kan Jesus en sy boodskap reg verstaan sonder hierdie kennis nie. Die vroeë Christelike geloof was ’n variant binne die vroeë Judaïsme. Daarvan getuig vele Ou-en Nuwe-Testamentici se navorsing vandag. Een hiervan is George Nickelsburg wat in sy boek Ancient Judaism and Christian Origins: Diversity, Continuity and Transformation die volgende veelseggende opmerking maak: “The construction of new models of early Judaism and the circumstances of the rise of Christianity raise important questions for theologians. What happens, or should happen, when one discovers that theology is based on wrong history?”

Die herontdekking van die Joodsheid van Jesus en sy tuis-wees in die vroeë Judaïsme stel die tradisionele Christelike dogmatiek voor ernstige vrae. Jesus het nie in ’n Triniteit geglo nie en homself ook nie as die Tweede persoon van die Drie-eenheid voorgehou nie. Die Nuwe Testament ken nie so ’n soort Godsbeeld nie! Die Nederlandse praktiese teoloog cum dogmatikus, Gijs Dingemans, is eerlik genoeg om dit te erken in sy boek De stem van die Roepende: Pneumatheologie wanneer hy sê: “Laten we eenvoudig van de eenheid van God uitgaan (zoals alle hoger ontwikkelde religies dat doen), waarbij we wel geloven dat God zich in de mens Jezus op een bijzondere wijze heeft geopenbaard (zoals Hij zich ook in andere mensen en in ander godsdiensten heeft geopenbaard). Voor dat standpunt is op exegetische en op historische gronden veel te zeggen. De triniteit word immers in de Schrift nergens geleerd of voorondersteld.” Dingemans is ook eerlik genoeg om te erken dat erfsonde nie in die Bybel geleer word nie. Hy stel dit kort en bondig: “Er is in de bijbel geen sprake van erfzonde!” Dis vir my interessant dat jy en vele ander julle toevlug neem tot die sogenaamde “algemene openbaring” om die leerstuk van die erfsonde steeds orent te probeer hou. Dít in weerwil van die feit dat Bybelwetenskaplikes onteenseglik bewys het dat daar geen Skriftuurlike gronde vir dié leerstuk bestaan nie. Die verhaal van Adam en Eva is ’n verhaal en kommunikeer nie geskiedenis nie. As verhaalkarakters kan hulle op geen manier ons lewens beïnvloed nie. Voorts erf geen mens ’n sondige natuur van sy voorouers nie. Dit is wel met ons mens-wees gegee om besluite te moet neem en ons besluite het soms nie goeie gevolge nie. Ons het egter nie ’n leerstuk oor erfsonde nodig om ons dit te vertel nie. Ons sterf ook nie omdat Adam en Eva God in die paradys die harnas ingejaag het nie. Ons sterf omdat dit is hoe lewe op aarde verloop. Geboorte, groei en dood is die ritme van lewe. Dink ook aan die seisoene. Dis ook hoe die groter sisteem (die kosmos) funksioneer. Sterre word gebore, groei en sterf. Sterrestelsels word gebore, groei en sterf. Selfs die aarde is gebore, groei steeds en gaan eendag in die verre toekoms sterf. Dit sal gebeur wanneer die son uitbrand en uitswel om ’n rooireus (’n soort ster) te word. Wanneer dít gebeur, gaan die son die aarde en die ander kleiner planete tot as verbrand en gaan hulle hulle materie in die ruimte inblaas. Lees gerus Gideon Joubert se boek Die Groot Gedagte hieroor. Dis ’n boek wat vele Afrikaanssprekende Christene van die gereformeerde tradisie aan die dink gesit het. Vele van hulle het die moderne wêreldbeeld soos Gideon dit beskryf, aanvaar en kom klop nou by die NHN aan omdat hulle predikante nie die boek gelees het nie en nie sinvolle antwoorde op hulle vrae kan gee nie. Diegene wie se geloofsinsigte nog verband hou met ’n drieverdieping-heelal kan eenvoudig nie mense wat tuis is in ’n uitdyende heelal se geloofsvrae meer beantwoord nie.

Jy meen voorts dat ek (en die NH) nie die Ou Testament ernstig opneem nie en Jesus glo net vanuit die Grieks-Romeinse wêreld verstaan. Ek dink die teendeel is eerder waar. Dogmatici neem nie die Ou Testament ernstig op nie. Hulle interpreteer die Ou Testament vanuit die Nuwe Testament en vanuit die Christelike dogmas, daarom praat jy ook nog van “voorspelling” in die Ou Testament. Daar is maar géén voorspelling in die Ou Testament van ’n verlosser met die naam “Jesus Christus” nie. Die Nuwe Testamentiese skrywers gebruik boustene uit die Ou Testament om Jesus en sy boodskap vir hulle tydgenote te preek, maar geen skrywer in die Ou Testament het Jesus voorsien nie. Vele Ou-Testamentici neem die Ou Testament en die wêreld waarin Jesus geleef het baie ernstig op. Neem Geza Vermes as voorbeeld en lees gerus die trilogie wat hy oor Jesus geskryf het. Paulus was nie ’n Christen nie en nog minder Jesus. Paulus het hom nie bekeer tot die Christendom nie, maar bloot tot ’n ander tradisie binne die vroeë Judaïsme. As die tempel nie in 70nC vernietig is nie, het die vroeë Christendom radikaal anders gelyk. Jesus se volgelinge het na sy dood steeds die tempel en sinagoges besoek en aan al die religieuse handelinge wat vir die Jode belangrik was, deelgeneem. Paulus het wel Jood-wees herdefinieer sodat mense uit die “heidendom” ook “Jode” kon word. Hy het gesê dat Jood-wees nie meer saamhang met uiterlike handelinge soos besnydenis en dieetvoorskrif nie. Ook hulle kon deel in God se liefde.

Jy sê dat ek gemaklik van Christene praat, maar die woord “christus” glo vermy. Neem gerus in ag dat “christus” die Griekse vertaling van messias (of dan “gesalfde”) is en dat dit nêrens in die Nuwe Testament gebruik word om aan Jesus “goddelikheid” toe te sê soos wat Christene vandag meen nie. Die woord “christus” het in sy oorspronklike konteks gekommunikeer dat Jesus ’n gesalfde (“messias”) was. Ons moet in ag neem dat daar nie ’n algemene messiaanse verwagting in die vroeë Judaïsme was soos Christene tradisioneel geglo het nie. Slegs enkele groepe het ’n messias-koning verwag. Dit sou iemand wees wat hulle van die Romeinse onderdrukking bevry en weer politieke onafhanklikheid vir die Jode sou behaal. Vele hedendaagse Christene het geen begrip vir die politieke situasie in Palestina van die eerste eeu nie en verstaan daarom ook nie die uitdrukking “die koninkryk van God” wat Jesus so dikwels gebruik het nie. Hier moet ’n mens gerus kennis neem van Bruce Malina se boek The Social Gospel of Jesus: The Kingdom of God on Mediterranean Perspective. Die uitdrukking “die koninkryk van God” het met politiek te doen — Jesus het ’n teokrasie in die vooruitsig gestel, maar die Romeinse magsisteem het daardie “droom” aan skerwe geslaan toe die Romeine Jesus as ’n politieke rebel aan die kruis gespyker het.

Ons kennis van die vroeë Judaïsme en vroeë Christendom is besig om geweldig uit te brei en uit hierdie kennis blyk dit dat die kerkvaders die Bybel op bepaalde punte totaal misverstaan het en dat hulle sienings ingeskryf is in die ekumeniese belydenisse.  Ons mag vandag van hulle verskil, want ons leef in ander tye en beskik oor ander kennis. Ek meen dat Philip Jenkins reg is wanneer hy verduidelik dat die Christelike godsdiens in die toekoms waarskynlik in twee vorme sal voortbestaan. Die een vorm sal meer tradisioneel en pre-modern wees en die ander een ontradisioneel maar byderwets. Die tekens van hierdie verdeling is reeds sigbaar. Niemand hoef meer te twyfel waar die Nuwe Hervorming hom skaar nie.

Groete,

Sakkie

Ns. Ek bid nog en preek ook. Ek preek op Hervormingsondag (30 Oktober) in Kaapstad by die onafhanklike gemeente Kruiskerk. Die teks vir my preek? Matteus 15:21–28 en die volgende woorde van Harvey Cox: “To be a disciple of Jesus does not mean to emulate or mimic him. It means to follow his ‘way,’ to live in our era the same way he lived in his — a sign and servant of the Reign of God” (1991:56).

Bibliografie (vir wat dit werd is)

Cox, H 1991. Rabbi Yeshua Ben Yoseph: Reflections on Jesus’ Jewishness and the Interfaith Dialogue, in Charlesworth, J H (ed),  Jesus’ Jewishness: Exploring the place of Jesus in Early Judaism, 27–62. New York: Crossroad.

Dingemans, G D J 2000. De stem van die Roepende: Pneumatheologie. Kampen: Kok.

Jenkins, P 2002. The Next Christendom: The Coming of Global Christianity. Oxford: Oxford University Press.

Joubert, G 1997. Die Groot Gedagte: Abstrakte weefsel van die kosmos. Kaapstad: Tafelberg.

Jüngel, E1997. Eberhard Jüngel — How I have changed, in Moltmann, J (ed) How I have changed: Reflections on Thirty Years of Theology. London: SCM Press.]

Malina, B J 2001. The Social Gospel of Jesus: The Kingdom of God on Mediterranean Perspective. Minneapolis: Fortress.

Nickelsburg, G W E 2003. Ancient Judaism and Christian Origins: Diversity, Continuity and Transformation. Minneapolis: Fortress.

Vermes, G 1973. Jesus the Jew: A historian's reading of the gospels. London: SCM.

Vermes, G 1983. Jesus and the world of Judaism. London: SCM.

Vermes, G 1993. The religion of Jesus the Jew. Minneapolis: Fortress.