Neerslagtige nugterheid

Skrywer: 
RooiMier
Bron: 
Ommiblog

'n Baie interessante onderwerp was onlangs onder bespreking by die groepie intellektuele afvalliges waar RooiMier gereeld graag kuier. Dit het gegaan oor selfbedrog, of die Engelse "self-deception".

Dis mos maar eenmaal deel van die menslike toestand dat ons so maklik vir onsself kan jok. Nie moedswillig nie, maar meestal om ons pyn te verbloem of te probeer voorkom. Maar lei die nie dalk júís tot wrede ontnugtering nie? Want êrens, eendag, daal die waarheid soos die Groot Oordeel op jou neer, en dan?

Iemand opper toe die geldige argument dat vir baie mense dit ter wille van oorlewing is dat hulle hulself moet motiveer deur hulself sekere dinge wys te maak en die lewe bietjie rooskleuriger voor te stel as wat dit in werklikheid is. Dis dan ook amper soos dagdrome en dit hou byvoorbeeld die arm en sukkelende vrou met 'n string kinders om groot te maak se hoop lewendig. Daarom glo sy sy het die mooiste, slimste kinders en sy sien 'n suksesvolle toekoms wat wink.

Ek sal nie stry nie. Die psige skep sekerlik fiktiewe stories sodat 'n mens kan uithou en aanhou.

Is dit nie dalk hoe godsdiens ontstaan het by die primitiewe mens nie? 'n Mens kan dikwels so uitgelewer voel en die vroeë homo sapiens'e het sekerlik redes gesoek vir teëspoed en donderslae, droogtes en hongersnood. Maar dis dalk 'n Ommiblog vir 'n ander dag.

Agterna dink ek toe dat sulke selfbedrog ook uiters gevaarlik kan wees. Ek het in my lang, onbewoë dog dikwels beproefde lewe baiekeer te doen gekry met vroue wat met 'n alkoholis/vroueslaner/luiaard/egbreker getroud was en hulself nét nie uit die huwelik kon verwyder nie, "omdat ek hom liefhet."

Na RooiMier se onbeskeie mening het iemand wat 'n mishandelaar so liefhet dat sy gedweë toelaat dat sy vertrap word, dringend terapie nodig. Is liefde tussen twee mense nie veronderstel om 'n simbiotiese verhouding, tot albei se voordeel, te wees nie?

Maar dan ook weer, soos die slim ou die dag gesê het: Mindfulness is nie vir sissies nie. Die lewe lyk tog lekkerder en makliker as jy jou brilletjie met die pienk lense opsit. Vra maar vir Polyanna.

Want as jy elke oomblik van elke wakker uur in oplettendheid leef, as jy jou sintuie ingespan hou en as jy behóórlik waarneem en nie toelaat dat jou gedagtes jou aandag aftrek nie, dan sal jy 'n dapper mens moet wees.

Want dan mag jy dalk net agterkom dat:
Jy nie so slim is soos wat jy jou nog altyd wysgemaak het nie;
Jy nie so eties en eerlik is soos jy nog altyd geglo het nie (met die misnoeë teenoor ander wat gewoonlik met dié kwaal saamloop);
Die donderweer jou dalk mag tref terwyl jy na die silwer randjie van die donker wolk soek;Jou geliefdes nie so rein, opreg en lojaal aan jou is soos jy altyd gehoop het nie;
Jou voorouers heel waarskynlik polities en moreel heeltemal korrup was (al het hulle dit self dit dalk nie eens agtergekom nie);
Jou godsdienstige dogma onwaar is en jou groot piëteit tevergeefs was;Mense wat jy met groot meerderwaardigheid vroeër op neergesien het omdat hulle anders  as jy was, eintlik heel gewone "goeie" mense is;
Jóú land, jóú taal, jóú geskiedenis op die lang termyn, as dit by die Groot Uiteinde kom en gesien in die groot oneindigheid van die heelal, 'n ronde nul beteken. So ook ál jou klein statussimbooltjies soos motorkar, woonbuurt, geleerdheid, kerklikheid, afkoms en, beste van alles vir die ydeles onder ons: voorkoms en kleredrag; en
Jy is nie lid van die meesterras nie, net so min as wat Hitler, Malema, Gandhi, die Dalai Lama of Obama is. Daar is net één menseras: homo sapiens.

Aanvaar dit nou maar eenmaal.

Dis dié wat die wyse man reken: om nugter na die lewe te kyk maak mens neerslagtig.

Sela, sê RooiMier, en sluk 'n ou pilletjie.