"Soekend" is 'n natuurwetenskaplike, getroud en het kinders, is tans nog lidmaat van die NGK maar beoog om dit binnekort te kanselleer
Ek het grootgeword in 'n Christelike huis en het reeds van vroeg af al die Christelike geloof en beginsels uitgeleef. Ek was o.a. voorsitter van die destydse KJV en het ook vir jare op Sondae die kerk se sendingaksie gesteun en "sendingwerk" in die naburige swart woongebied gedoen. Ek het selfs ernstig oorweeg om vir predikant te studeer, maar uiteindelik het my liefde vir die wetenskap oorhand gekry en het ek 'n loobaan in diè rigting gevolg. Reeds sedert ek 15 jaar oud was, het sekere aspekte van die Bybel my ernstig gekwel. Ek het met moeite die verhaal van die ark aanvaar, die skeppingsverhaal het nie vir my sin gemaak nie, om jou kind vir die "Liefdevolle Vader" te offer (lewendig te verbrand) het my dwars in die krop gesteek, ens.
Nogtans wou ek so graag alles glo — nee, om Christen te wees MOES ek dit alles glo — en al oplossing was dat ek sekere dele van die Bybel net geheel en al uit my gedagtes verdryf het. Ek het vir baie jare geweier om oor Bybelsake te dink, want ek was bang dat ek die besluit sou moes neem dat dit wat my pla, nie waar is nie. Indien diè dinge nie waar is nie, wat kan dan wel geglo word? Wat is dan nou makliker om dit net uit jou denke te verban en 'n voorbeeldige Christen te bly? Ek het selfs begin probleme ervaar om kerk toe te gaan. Ek het nie meer gegaan om 'n boodskap te ontvang nie, maar eerder om die preek te kritiseer en oor die onwerlikhede wat verkondig word, te mediteer. Uiteindelik het ek besluit dat om Christen te bly, ek nie meer kerk toe moet gaan nie, en vir jare het ek nie die binnekant van 'n kerk gesien nie.
'n Vriend het hom egter oor my "ontferm" en baie moeite gedoen dat ek my weer "bekeer." Ek het weer begin kerk toe gaan, selfs diaken geword! Weer het dieselfde proses hom herhaal en het ek weer besluit om nie meer kerk toe te gaan en na die sinnelose stories te luister wat verkondig word nie.
Ek het egter nog soms na die "boodskap" geluister oor die radio en na Godsdiestige gespreksforums geluister. Ek het vir jare snags wakker gelê en geworstel met die Bybel en die Christendom. Tot een oggend +-03:00 toe ek weer na 'n inbelprogram oor Godsdienssake geluister het en 'n doktor van die NGK die stelling gemaak het dat 'n mens nie 'n siel het nie, maar dat die "verheerlikte liggaam" sal opstaan. Hy het beweer dat dit reeds sedert Maartin Luther se tyd beskou word as kettery om te glo dat 'n mens 'n siel het!!!!!!! Net daar het ek besluit dat niemand meer vir my sal vertel wat ek behoort te glo nie, maar dat my Skepper vir my 'n gesonde verstand gegee het om self oor die dinge te besluit en dat ek voortaan nie meer alles wat teen my verstand indruis, hoef te glo nie. Nie lank daarna luister ek weer na 'n "boodskap" oor die radio oor die verskriklike sonde van twyfel. Wat 'n volmaakte manier van indoktrinasie! Alles wat vir jou gesê word MOET jy glo al weet jy voor jou heilige siel dit is onwaar! 'n Paar Sondae later luister ek weer na die "boodskap" oor hoe normaal dit is om te twyfel.... Jy kan enige iets bewys uit die Bybel — apartheid is reg, apartheid is verkeerd, homseksualisme is ..., twyfel is ..., ens, ens.
Aangesien ek baie belangstel in die wetenskap, verwonder ek my aan die ongelooflike wonder van die Skepping. As mens kyk na die sterre - daar is ongeveer 'n biljoen sterrestelsels, elk met ongeveer 'n biljoen sterre. Ons son ('n kleinerige een) is nou sowat 6 biljoen jaar oud en gaan vir nog 6 biljoen jaar brand! Daar pas duisende van ons sonne in Betelgeuse, 'n reuse son. Die ongelooflike kritiese balans in die natuur - as die suurstof / stikstof verhouding anders was, kon lewe soos nou nie bestaan nie. As die posisie van die aarde nie was waar dit nou is nie, as die baan van die aarde on die son meer elipties was, as die grootte van die aarde nie is wat dit nou is nie, as die massa water anders was, as die vriespunt / kookpunt van water anders was, kon lewe soos nou nie bestaan het nie. Ek verwonder my aan die voorplantingstelsel van diere & plante. Of dit nou 'n seedier is wat diep onder die water woon, 'n voël wat hoog vlieg, dieselfde biologiese proses vind plaas. Dink aan elektrone, protone, magnetisme, lig, ens, ens. Wat 'n ongelooflike Wese moet die Skepper nie wees nie!
Kom ons kyk nou na die God van die Bybel:
Hy is 'n sadistiese massamoordenaar. Verdrink almal wat nie aan Sy standaarde voldoen nie, ook die onskuldige diere, babas, ou mense, ens.Hy is die grootste rassis ooit. Kies kant teen sy eie kinders en help sekere rasse om die ander uit te moor.Swakste leier ooit. Laat Sy uitverkore volk vir 40 jaar in die woestyn swerf en hulle het selfs vandag nog nie 'n land waar hulle in vrede kan lewe nie. Dankie tog dat ons nie Sy uitverkore volk is nie!Laat toe dat jy jou kinders aan Hom offer (lewendig verbrand!!!)! (En dit is nie "sonde"nie! Moord om Sy guns te wen is heel aanvaarbaar, selfs prysenswaardig!)Uiters onregverdig. Kies sekere mense om die sg. "Ewige Lewe" te geniet. (Sg. uitverkiesing) Maak nie saak wat jy doen nie, Hy het klaar besluit wie Hy die "ewige lewe " gaan skenk en wie Hy gaan verbrand . Maak nie saak wat se goeie lewe jy ly en hoe goed jy doen nie. Afgesien van die sg. " u itverkiesing" is daar net een pad na die sg. "Ewige Lewe", en dit is deur Sy sg. Seun. Jammer vir die wat nie bevoreg was en nie van Hom gehoor het nie, die miljoene wat reeds dood was to e Hy gebore is, ens . H y het moeg geword om te regeer toe kry Hy 'n buitegtelike kind by 'n aardse vrou sodat Sy Kind kan oorneem. Hy beskik nie oor die vermoë om te vergewe nie, toe martel Hy sy Kind sodat Hy ons kan vergewe.
Hierdie is maar 'n paar van die honderde belaglikhede in die Bybel. So het ek byvoorbeeld nooit geglo dat 'n slang op twee bene aangeloop gekom het nie en met sy nul verstandjie 'n taal aangeleer en met Eva in gesprek getree het nie. (Die stor ie herhaal hom weer duisende jare later in Rooikappie en die wolf.) Daarna is hy verdoem om op sy maag te seil, ens. Dieselfde geld vir Noag met sy duisende diere in 'n skippie vir langer as 'n jaar. D ink bietjie aan die organisasie daarvan. Duisende tonne v leis met geen vrieskas vir die leeus, tiers, krokkodille, .... , ens. Duisende tonne gras, mopanieblare, ens. Al die diere was se ker ook uitgereik met kondome om te keer dat die skip nie oorbevolk raak nie! Almal het seker ook Huggies gedra. Die QE2 sou wat wou gee om soveel diere te kon huisves! Dink aan die jare wat die kangeroes vanaf Australië moes swem om by die ark uit te kom, die aligators vanaf Amerika, die olifante uit Indië, ens. Dit sou minder moeite vir hulle gewees het om maar die jaar se vloed deur te geswem het.
Dit is seker logies dat sulke stories in daardie tyd die rondte gedoen het want dit is deur uiters primitiewe mense geskryf na aanlyding van stories wat vir 1000 jaar oorvertel is. Wat my dronk slaan is dat vandag se mense met al die wetenskaplike bewyse van evolusie, ens. dit nog kan glo!
Daar is GEEN manier wat ek die wonderlike Skepper soos ek Hom ervaar kan vergelyk met die Skepper wat die Bybel voorhou nie. Volgens die Bybel is die heelal 6 000 jaar gelede geskep. My Skepper het die heelal al biljoene jare gelede geskep en openbaar Hom in die natuur. Ek sou selfs dit wat die Moslems sê kon glo ; Daar is net een Skepper en Mohammed was sy boodskapper. Die C hristene sê Daar is net een God: God, die Heilige Gees en Jesus van Nasaret. 1 + 1 + 1 = 1. Sê dit nie genoeg van die C hristelike logika nie? Hulle wil tog so graag ' n monoteïstiese geloof wees, dat hulle nie eers kan tel nie! Selfs Maartin Luther het uitgeroep: "Dear God, must we become like idiots in order to believe?" (Seker nie in Engels nie, maar my boek " The life of Maartin Luther" is in Engels. Waarom glo die mense dit wat hulle glo? Daar is sowat 10 000 gelowe vandag. Alles word aanbid vanaf vuur, storms, rotte, koeie, ape, ens. Hoe kan mense so dom wees om dit te glo? Daar is net een verklaring en dit is geleë in die mag van indoktrinasie. Almal wat van geboorte af geindoktrineer word om iets te glo, verander nie maklik van opinie nie al sê jou verstand vir jou jy is stapelgek om dit te glo. Dit het my sowat 20 jaar se worsteling geneem om net sover te kom om nie meer bang te wees om te twyfel nie! Wanneer mens eers hierdie punt bereik, is dit maklik om die onwerklikhede van die Bybel in te sien.
Laastens: Wat is die wese van die Christelike geloof? Voor die skepping was daar reeds 'n skepping en God het toe Engele, serafs, ens. geskape. Hy het egter 'n fout gemaak met die eerste skepping en van die Engele het afvallig geraak en besluit on God se skepping te terroriseer. Hy besluit toe om nie die Engele te straf nie, maar hulle toe te laat om ons sleg te maak en ons eerder te straf vir die sonde wat die afvallige Engele ons laat doen! In plaas van die afvallige Engele te vernietig, versuip Hy toe maar in 'n eerste futiele poging duisende mense en onskuldige diere om sodoende die Afvallige Engele se werk ongedaan te maak. Alhoewel Hy alwetend is, het Hy net vir 'n oomblik vergeet dat dit ook nie gaan werk nie en dat om die probleem op te los, Hy eintlik die afvallige Engele moes versuip! Hy beskik ongelukkig ook nie oor die vermoë om te vergewe nie en toe kry Hy maar 'n buite-egtelike kind sodat Hy Hom kan straf en ons sodoende kan vergewe vir die oortredinge wat die afvallige Engele ons laat doen! Al voorwaarde is dat jy moet glo Hy het Sy buite-egtelike kind gemartel sodat Hy ons kan vergewe! Maar Hy het in elk geval reeds lankal besluit wie gaan dit glo en wie nie, so dit maak nie regtig saak hoe jy lewe nie - daar is lankal besluit wat jou lot eendag gaan wees.
Wie dit glo, moet 'n breinchirurg raadpleeg om vas te stel of hy nie dalk breindood is nie.