Japie Coetze,
Stellenbosch
In sy lywige boek, getiteld London , gee die skrywer E. Rutherfurd 'n voorbeeld van die tipiese onsinnige gedagtegang wat in die jaar 1170 in die kerk aan die orde van die dag was. Die jong intelligente Mabel lei af van wat sy in die kerk hoor dat die brandende helsevuur dalk haar voorland mag wees. Sy is immers 'n vrou. In sy preek oor Adam en Eva waarsku die priester: 'Vrouens, as julle graag julle siele wil red, onthou dan vir Eva, want dit is in die natuur van die vrou om haar aan ligsinnigheid en vleeslike sondes oor te gee. Vir vrouens is daar veral die gevaar om makliker in die hel te beland.'
'Waarom is vrouens meer geneig tot sondes, Vader?' vra Mabel. 'Dit is in hulle natuur, my kind. God het die vrou die swakker vat gemaak,' antwoord die priester vriendelik. 'Dit is die man wat na die beeld van God gemaak is, nie die vrou nie. Die man se saad bring die volmaakte beeld van God voort. Die vrou wat maar net die houer is waarin die saad ryp word, is dus minderwaardig. Sy mag wel in die hemel kom, maar omdat sy minderwaardig is, is dit net baie moeiliker vir haar as vir 'n man.'
'n Paar dae later konfronteer sy weer die vriendelike ou man: 'Vader, as 'n man se saad God se beeld voortbring, hoe gebeur dit dan dat daar behalwe mans ook vrouens gebore word?' Die priester plaas sy hand op Mabel se skouer en verduidelik vriendelik: 'Jy sien, sommige van die saad is swak en gebrekkig en ontwikkel dan as vrouens. Dit is een van die wonders van God se skeppingswerk.'
'Vader, ek het ook gewonder hoekom kinders dikwels soos hulle moeders lyk en nie soos hulle vaders nie.' Hiervoor het die priester ook 'n antwoord: 'Sien, terwyl die manlike saad in die baarmoeder groei, drink dit van die moeder se vloeistof wat 'n nadelige effek op die kind kan hê.' Maar die intelligente Mabel lyk nog nie tevrede nie. 'Sê nog net een laaste ding vir my, Vader,' vra sy onderdanig, 'as dit vir 'n vrou so moeilik is om gered te word, wat staan my dan te doen?' 'Bid baie ernstig en gehoorsaam jou man in alles. Eintlik is dit net maagde wat maklik in die hemel kan kom!'
Mabel vra nie verder nie, want nou verstaan sy twee dinge: (1) dat vroue minderwaardig is en (2) dat maagdelikheid die maklikste pad hemel toe is.
Die wortels van die 'minderwaardige' status van die vrou lê baie duisende jare terug in die verlede. Is die kiem daarvan nie alreeds in Genesis 2–3 sigbaar nie? Adam word spesiaal deur God as mens geskep, terwyl Eva byna as 'n afvalproduk uit Adam se ribbebeen gemaak word. In Eksodus 20 tree hierdie siening van minderwaardigheid weer na vore as die vrou by die man se dienskneg, os en esel as 'n besitting ingedeel word. Wat meer is: sondigheid is mos oorspronklik deur die 'minderwaardige' geslag veroorsaak toe die vrou onder die slang se verleiding geswig het, daarom is haar 'straf' om kinders met pyn en smart in die wêreld te bring!
In 1 Korintiërs 14:34–35 benadruk Paulus dat dit onaanvaarbaar is dat vrouens tydens eredienste of ander byeenkomste praat. Hulle moet stil bly, mag nie onderrig gee nie en moet hulle mans raadpleeg indien hulle iets te wete wil kom — byna asof vrouens nie intelligent kan dink nie, eties swak is en maklik aan verleiding toegee. Motivering vir hierdie soort siening word ook in 1 Timotues 2:13–14 gevind: 'Adam is immers eerste gemaak, Eva daarna. Dit is ook nie Adam wat verlei is nie, dit is die vrou wat haar laat verlei het en die gebod oortree het.'
Hierdie premoderne, verouderde en degraderende standpunt aangaan die vroulike geslag vind ook elders in die Bybel weerklank. Engele kom manlik voor, so ook die twaalf ouderlinge. In Genesis 19 word vertel hoe 'n groep inwoners van Sodom met twee engele gemeenskap wil hê. Lot wieier dit, maar bied sy twee dogters aan met die woorde: ... 'doen dan met hulle wat julle wil!' Hulle is per slot van rekening maar net vrouens wat nie dieselfde waarde as mans het nie. Elders in Rigters 19:25–29 wil 'n Leviet verhoed dat straatboewe met 'n man gemeenskap hê. Hy gee aan hulle sy byvrou. Dan staan daar: 'Hulle het met haar gemeenskap gehad en haar die hele nag deur tot die môre toe verrinneweer.'
As die vrou dan volgens die Bybel 'n minderwaardige wese is, is dit verstaanbaar dat die Skepper as 'Vader' — en nie as 'Moeder' nie — vereer moet word. Op meer as tweehonderd plekke in die Bybel word na God as 'Vader' verwys. Sou dit deels wees omdat die vaderfiguur in die mens se lewe gewoonlik sekuriteit en beskerming waarborg? Dalk hou dit verband met sy kragtige liggaamsbou? Dalk sy dominering van die 'swakker vat'? Dink 'n mens egter nugter oor hierdie aanspreekvorm, besef jy skielik dat God op hierdie wyse vermenslik word. Is Hy 'Vader' vanweë sy gesag, krag, dissipline, orde en die vrees wat Hy inboesem? Vrouens sou hierdie sienswyse as geslagsdiskriminasie kon afmaak en daarop wys dat dit die moederbeeld in die godsdiens ignoreer.
Vandag besef ons dat die onsienlike God nie manlik is nie. 'Hy' is tog nie waarneembaar nie, maar Gees. Tot vandag toe was 'Hy' vir die mens een groot misterie. Ons kyk mos maar net in 'n dowwe spieel en sien net 'n raaiselagtige beeld van die Skepper.
En die vrou? Nee, sy is beslis die man se gelyke wat haar intellektuele en emosionele vermoëns betref en is bestem om saam met die man die lewenspad op gelyke basis aan te druf. In baie kerke is die verouderde siening aangaande vrouens aan die kwyn, want die vrou is in 'n toenemende mate besig om haar status te bewys. Daarom dat duisende suksesvolle sakeondernemings deur bekwame vrouens bestuur word. Baie vroue munt uit as politici, medici, prokureurs, predikers en noem maar op. Wat bekwaamhede betref, is daar 'n definitiewe besef dat hulle mans se gelyke is. Daar is dus 'n gelykmaakingsproses aan die gang. En ook met reg!