Konstantyn as draaipunt in die geskiedenis van die Christendom (Deel 2)

Pieter J.J. Botha
26 Maart 2006

Ongetwyfeld was Konstantyn ambisieus en koelbloedig. Dit is so dat hy homself as God se instrument gesien het en sonder om te blik of te bloos aan ander voorgeskryf presies wat God van hulle verwag. Tydens sy kategese was daar seker nie tyd vir lesse oor nederigheid nie.

Al wat Konstantyn wou doen, was om op die troon te sit, leërs te lei en die soom van sy jas aan te bied om vereer te word. Wat hy wou wees, was om baie goed te wees met dit wat hy wou doen: vrede maak (wel, forseer), voorspoed bewerkstellig, goeie regering bevorder. En hy was goed met dit wat hy wou doen; baie, baie suksesvol. Praat van 'n loopbaan aanvaar waarin mens 'n reuse sukses maak omdat dit by jou vermoëns en persoonlikheid pas en ons praat van Konstantyn. Sý werk was nie vir hom 'n las nie. Hy wou 'n kolossus wees en hy was een.

Konstantyn was ook baie ernstig oor sy godsdiens. Hy noem homself die "apostel van diegene buite die kerk", die "gewone apostel". Soos laas met Paulus word daar moeite gedoen om almal in die kerk te kry. In sy eie woorde:

Deur die goddelike geloof te bewaar neem ek deel aan die lig van waarheid; gelei deur die lig van waarheid erken ek die goddelike geloof …. Met die mag van hierdie God as
my bondgenoot, het ek begin vanaf die verste kant van die Oseaan om die hele
bewoonde wêreld, stuk vir stuk, op te hef na die hoop op ongetwyfelde verlossing.… Hom roep ek op my knieë aan, gekant teen alle verwerplike bloedoffers en haatlike
reuke, en met die rug gekeer na elke aard-gebonde [tower-]vlam, wat gelei het na vuil,
bose en vreeslike dwaling waardeur baie mense en volke verwoes is.
(Konstantyn se
brief aan Sapor, koning van Persië; Vita Constantini 4.9–10).

Die selfbenoeming "apostel vir diegene buite die kerk" is 'n aanduiding van Konstantyn se oortuiging van uitgesoek te wees. Konstantyn het die Christendom se groei bevorder vêr buite die grense van die Ryk, maar veral binne die grense van die Ryk. Hy het sy bes probeer om aanhangers van alternatiewe sieninge en skeurmakers terug te wen. Sy dryfkrag was nie soseer om siele te red nie, want ander se sieleheil het hom duidelik nie geïnteresseer nie. Mens kan amper praat van om liggame terug te wen. Hy het gestrewe na voorspoed tydens sy heerskappy om sodoende te verseker dat God aanvaarbaar en behoorlik aanbid word. Voorspoed vir Konstantyn was materiële welsyn: einde aan burgeroorlog, beveiligde grense, oeste in oorvloed vir 'n talryke bevolking. Vrede en die voordele wat vrede meebring. Hoe Konstantyn oor God se gawes gedink het, kan ons sien in die booshede wat hy aan die duiwel toedig: onluste, gevegte in die strate, bittere twisgesprekke, swak oeste, huigelaars, alles wat met toordery te doen het en, natuurlik, troonpretendente.

Min van die wesenlike fasette van christelike oortuigings het Konstantyn geïnteresseer. Oor God se genade of mense se boosheid het hy nie gewonder nie. Aan wat verlossing sou wees of wat liefde behels het hy hom nie aan gesteur nie. Ook nie aan nederigheid nie. Ywerig in sy oortuigings maar heeltemal onbewus van die morele implikasies van sy oortuigings. Dalk is dit die voorwaarde om aanspraak te maak op Maximus, die Grootste.

Tog bly die vraag: Hoe is dit dat 'n man wat so ernstig toegewyd is nie weet van die morele implikasies van sy geloof nie? Dit is hier waar mens begin wonder oor die ander gelowiges rondom Konstantyn.

Wat van al daardie biskoppe waarmee die keiser te doen gehad het? Sinodes het lank voor Konstantyn se tyd al plaas gevind. Om saam met die keiser te vergader was dalk net té aanloklik. Te "goed" om waar te wees. Laat niemand julle "leiers" noem nie (Mt 23.10), net amices carissimi (geliefde broers) deur 'n keiser. Deur Konstantyn. En wanneer julle die stad se prokonsul versoek om geld uit te haal, noem net jou goeie vriend en broer in Christus, Victor Konstantinus Maximus Augustus

Sou dit dwaasheid gewees het om Konstantyn teen te gaan? Dalk. Waarskynlik. Tog bly die vrae. Waaroor gaan geloof en godsdiens dan?

Eenheid, verskeidenheid … en Judaïsme

Konstantyn ag eensgesindheid as sy lewenstaak. En Konstantyn bedoel werklike, sigbare eenheid. Die verdeeldheid onder Christene was vir hom 'n verleentheid. Weereens val sekere vrae mens op: Was daar nie strewe na eenheid voor sy tyd nie? Waarin het eenheid toe gelê? Immers, aanbid die Christene dan nie die Een Here nie? Waarin kan dit lê? En vir ons? Hoe behoort eenheid vandag daar uit te sien? Of, om die vraag wat hierdie bespreking dra weereens op te roep: wat is christelike identiteit?

In 'n sin, natuurlik, was daar van die begin af uiteenlopendheid in die Jesus beweging. Van die begin af was daar die gemeentes van Akwila en Priska, van Petrus, van Jakobus, van Paulus en van Klemens. Met verskillende aksente en perspektiewe en voorkeure het mense vergader in die naam van Jesus onder die uiteenlopende leiding van Hermas hier, Justinus daar en Kallistus langsaan.

Teen die middel van die derde eeu was daar talle Christengroepe regoor die Ryk in bykans al die stede, 'n mosaïek van gemeentes. In baie neem 'n verkose biskop die leiding, of een wat, mettertyd soos dinge ontwikkel het, in oorleg met ander biskoppe aangewys is. Die meeste gemeenteleiers het ander werk: hulle is regsgeleerdes, onderwysers, skrifgeleerdes, handelaars, 'n vrygemaakte of twee wat grond besit. Die ander "ampte" van die gemeente is deel van huishoudings, wat hulle "christelike" funksies (soos grafte grawe, deurwagters, kleremakers en dies meer) borg.

Wat doen jy in so 'n ryke verskeidenheid van praktyke en oortuigings as daar oor die interpretasie en toepassing van die tradisies verskille bestaan? Jy kan net jou bes doen om te oorreed, met helder woorde, goeie argumente en met die uitleef van jou eie oortuigings. Augustinus het dit nogal mooi verwoord, myns insiens:

Ek is nie 'n voorstaander daarvan dat mense gedwing word om met enige party saam te werk nie, maar ek begeer dat die waarheid bekend gemaak word aan persone wat na waarheid soek sonder voorwaardes wat vrees inboesem. Van ons kant af sal daar geen verwysing wees na die dreigement van staatsmag nie. Maar dan moet daar ook nie van julle kant af intimidasie deur mafiabendes wees nie. Laat ons ons toespits op die werklike saak deur debat, en laat ons argumente bou met redelikheid en met die gesagdraende onderrig van die goddelike geskrifte, rustig en kalm, so veel as wat ons in staat is. Laat ons vra, soek en klop, sodat ons kan ontvang en vind, en dat die deur vir ons oopgemaak kan word. (Augustinus Epistulae 23.7)

So skryf Augustinus in die jaar 392, maar dit is 'n goeie aanduiding van hoe die situasie noodwendig moes gewees het voor Konstantyn. Getuig, oorreed met redelike argumente, lewe volgens jou oortuigings in nederigheid, vrede en liefde.

Onherkenbaar sou die situasie verander. Ons het almal die suspisie dat oorreding en helder denke en opregtheid nie genoeg is nie. Eintlik is dit meer as genoeg, maar wie wil nou redelik wees as jy moet erken jy is verkeerd? Daar is ook altyd die versoeking: moet ek nie net 'n klip gaan gooi nie? Kan ek hom nie maar 'n klap gee nie? Sestien jaar na bogenoemde brief skryf Augustinus self dat "goeie dwang" nodig raak waar mense volhard om die valsheid aan te hang. En nog nege jaar later:

Daar is 'n onregverdige verdrukking, dit wat die ongelowiges op die kerk van Christus lê, maar daar is ook 'n regverdige verdrukking, wat die kerk van Christus die ongelowiges toedien. … Daarom, gegewe die mag wat die kerk ontvang het weens God se beslissing op die regte tyd as gevolg van die godsdienstige karakter en geloof van konings, om die instrument te wees waarmee diegene op die paaie en die lanings [die afwykendes] gedwing kan word om in te kom, kan hulle hoegenaamd nie kla as hulle sodanig ge­dwing word nie … (Augustinus Epistulae 185.11.24).

Augustinus haal die Bybel hier aan, Lukas 14.23. Die Latynse sinsnede compelle intrare: "dwing hulle om in te kom" sou nog 'n verbysterende rol speel in die kerkgeskiedenis.8

Ons wil nie graag daaraan herinner word dat "ortodoksie" nie van die begin af bestaan het nie. Feit is, daar was nie eintlik 'n "oorheersende" sentrale beskikker oor die Christendom in die eerste, tweede of selfs derde eeue nie. Die vroeë Christendom was 'n verskeidenheid groepe wat verskil het oor geloofsbelydenisse en praktyke. Verskillende gemeentes het mekaar uitgekryt as dwalers, afwykendes en misleides. Die verskille het voortgespruit uit kulturele diversiteit, tale, agtergronde, klem op verskillende tradisies, verskillende waardes. Eventueel sou enkeles van hierdie tradisies die "oorwinning" behaal. Dit is daardie "oorwinning" wat ons kritiese moet bedink.

Dit wil nie sê daar was geen samehorigheid nie. Daar is in die vroeë Christendom óók duidelike en ondubbelsinnige strewes na wedersydse erkenning en sentrale waardes te bespeur. Wat mens nogal opval is die klem wat op lewensstyl geplaas is. Met die gegegewens wat ons het kan ons nie anders as om uiteenlopende tradisies raak te sien nie, elk met 'n eie logika en interne samehang, wat naas mekaar bestaan het. Daar was nie 'n sentrum nie, maar wel 'n soort identiteit wat vorm aangeneem het. Hierdie soortgelykheid, erkenning van 'n kenmerkende identiteit het nie in leerstellings gelê nie — alhoewel dit daar was en 'n rol gespeel het — en ook nie in liturgie nie — alhoewel dit ook 'n rol gespeel het, en ooreenkomste bevorder het. Die identiteit het juis nie net berus op godsdienstige idees nie, maar het uiting gevind in 'n lewenswyse. Die ervaring van "ons is anders", van sodoende hoort ons bymekaar, van só is ons een, was iets wat bowe al in gemeenskaplike betrokkenheid beleef is.


8 Wat die saak natuurlik bemoeilik het is die feit dat die Donatiste, teen wie Augustinus dit hier het, self van geweld gebruik gemaak het. Die circumcelliones, hierbo met "mafiabendes" vertaal, was groepe kleinboere wat hulleself in paramilitêre styl georganiseer het, en rooftogte en ander aksies namens die Donatistiese beweging uitgevoer het. Die konflik met die Donatiste was verweefd met kulturele en sosio-politiese konflikte (o.a., Romeinse kolonialisme en Noord-Afrikaanse selfstandigheid). Lank na Konstantyn se tyd wou Konstantius II die stryd oplos met geld. Donatus se (bittere en ironiese) antwoord: "Wat het die kerk met die keiser uit te waai?" (quid est imperatori cum ecclesia? Optatus 3.3)

<!--pagebreak-->

Ons moet nie die vroeë Christene idealiseer nie. As hulle maar net kon sou baie van die vromes sekerlik ook sonder om te blik of te bloos dieselfde gedoen het as wat hulle nakomelinge vanaf die vierde eeu gedoen het. Maar: daar is 'n groot verskil tussen jou sondige humeur te bely met drome van ander reg te ruk en om God te dank dat ons die ander kon uitwis.

Waarmee het die vroeë Christendom geworstel? Êrens tussen 177 en 180 spot Kelsos nog met die Christene se beheptheid met kinders, vroue, slawe en die armes, 'n godsdiens vir wolkammers, klipkappers en klerewassers. En na Konstantyn? Wie word pous. Wie word die keiser se raadgewers. Watter gebou sal ons vir God oprig, en hoeveel marmer en goud is daarvoor nodig.

In die oorgang wat Konstantyn aan die gang gesit het, het iets van Christenmenswees ondergegaan en iets anders uitgekom. Dis presies daaroor wat óns moet dink en besluit. Vredemaak as 'n risiko (Mt 5.3) en vrede deur superieure slaankrag is nie dieselfde nie.

Een ander ontwikkeling wat deur die Konstantynse era meegebring is, moet kortliks aandag kry. In die middel van die tweede eeu skryf Justinus die Martelaar as 'n antwoord op die vraag of Joodse-Christene gered kan word, dat "ons behoort by hulle aan te sluit en saam met hulle te werk in alle dinge as familie en broers — hulle moet net nie van ons verwag om die Wet te onderhou nie" (Dialogus cum Tryphone 47).

Tweehonderd jaar later is die prentjie aansienlik anders. Van die talle Joods-Christelike groepe en bewegings wat in die eerste en tweede eeue met ontstellende vitaliteit (vir heiden-Christene) gebloei het, is net enkele klein groepies oor. Hierdie verdwyning hang saam met die groeiende konflik tussen Christendom en Judaïsme.

Van Konstantyn se eie wetgewing ten opsigte van Jode en Judaïsme het net vier behoue gebly.9 Die eerste twee handel oor openbare verpligtinge (belastings) van Joodse mense wat ampte beklee. Die derde bepaal dat Jode wat Joodse bekeerlinge (tot die Christendom) en nie-Jode wat hulle tot die Judaïsme bekeer, verbrand moet word. Die vierde herhaal die vorige een, maar dreig net met vergelding sonder om die straf te omskrywe; dit belowe ook vryheid aan (nie-Joodse) slawe wat deur hulle eienaars besny is.

Ons moet egter verby die wetgewing self kyk, na hoe gemeenskappe verander het. Konstantyn self het nie van Jode gehou nie (hulle het immers, so is hy geleer, sy geliefde Christene destyds in Judea vervolg). Vir die eerste keer maak 'n keiser verkleinerende uitsprake oor Jode en Judaïsme. Hy noem hulle 'n "dooie (feralis) sekte", en 'n afskuwelike groep mense. Maar aktiewe en doelbewuste verdrukking kan nie aan hom toegedig word nie. Konstantyn was baie dinge, maar nie onnosel nie. Ten spyte van sy eie voorkeure en afkeure was samewerking, verdraagsaamheid en ontwikkeling van genoeg staatsbelang vir hom om nie so onverantwoordelik te raak nie. Konstantyn het nie blindelingse regstellende aksie toegepas nie.


9 Codex theodosianus 16.8.1–5, 16.9.1.

<!--pagebreak-->

Natuurlik het hy sy grense gehad. Arme Sopater, byvoorbeeld. Hierdie heidense neoplatonis is deur Konstantyn aangestel en bevorder en het vir jare 'n belangrike rol tussen die keiser se raadgewers gespeel. Toe Sopater verdink word dat hy die winde (wat die graanskepe aandryf) geketting het (deur towerkragte) is hy onmiddelik geketting (met ysterkettings). Permanent. Geregtigheid en verdraagsaamheid kan nooit, volgens Konstantyn, die beoefening van towerkragte tot andere se nadeel insluit nie.

Die groeiende spanning tussen Christen en Jood kan nie net op Konstantyn se rekening geplaas word nie. Die toegang tot en aanvaarding van staatserkenning het 'n proses in die Christendom versnel wat reeds besig was om te voltrek. Ons hoef net te let op hoe die Christene 'n spesiale styl van interpretasie uitwerk om te kan bewys dat die Ou Testament aan ons behoort (al is dit dan in 'n Griekse of Latynse vertaling). Eusebius maak 'n onderskeid tussen die "Hebreërs", die Christene se voorvaders, en die "Jode", die moordenaars van die Verlosser. Hebreërs is natuurlik nie Jode nie, maar proto-christene en mede-vyande van Judaïsme. Die profete van die Skrif word nie meer gelees as etiese prediking nie, maar as toekomsvoorspellings. In die gebeure van die vierde eeu word hierdie toekomsvoorspellings dan vervul (met heelwat menslike hulp weliswaar), en die goddelike waarheid van Christene se interpretasies en handelinge word so bevestig.

Aan die begin van die vierde eeu was Rome heidens; teen die einde van die eeu christelik. Aan die begin van daardie eeu het Jode in die land Israel hulle eie sake bestuur. Aan die einde van die daardie eeu het hulle instellings alle erkenning verloor. In die jaar 300 het Judaïsme 'n wettige status gehad en die beskerming van die staat geniet. Teen die jaar 400 was Judaïsme se regte omvattend ingeperk, en het die Jode meeste van hulle burgerregte verloor. Met die aanvang van daardie eeu het Jode in groot getalle in die Land Israel gewoon, maar teen die einde het hulle in Palestina gewoon, as 'n minderheid. Konstantyn en sy ma, Helena, het oor die hele Ryk kerke en bedevaartplekke opgerig; veral in Jerusalem. Die Land Israel het weereens 'n nuwe naam gekry: die "Heilige Land". En vir die volgende agtien eeue is die Joods-Christene tot nietige groepies afgetakel.

Jesus se menswees word in hierdie dae 'n vermomming. Dit moes, want 'n volbloed Jood kon Hy tog nie gewees het nie. Selfs die mees ortodokse belydenis verraai hierdie tendens alte duidelik. 'n Mens is 'n wese wat in 'n spesifieke taal en kultuur leef en beleef, wat in 'n konkrete, historiese konteks gepraat, gelag en gehuil het. Christus — so word al meer en meer geredeneer — was wel mens, maar 'n "algemene" mens en nie 'n historiese mens nie. Jesus van Nasaret had nie meer sy eie taal, sy ma en pa en sy mense se kultuur, sy volk se geskiedenis, sy vadere se godsdiens of sy eie geloof nie. Soos die keiser word Hy nou uitgebeeld met 'n stralekrans. Hy word nou beskou as die Een wat afkyk en neerkyk.

Sinagoges begin brand. Jode word uit openbare ampte gedwing. Van waar hierdie onverdraagsaamheid? Voor Konstantyn se tyd was dit dan juis die Christene wat vir godsdiensvryheid gepleit het.10 Wat het verander? Konstantyn is nie die een wat godsdienste vervolg het nie. Die beste verklaring lê waarskynlik opgesluit in die opmerking van Lord Acton oor wat mag doen.

Keiser en banket

Die banket ná die konsilie van Nisea teken myns insiens die vraagstukke in skerp reliëf.

Eers die een en ander oor die konteks. Likinius is keiser van die oostelike deel van die Romeinse ryk (308–324). Sy beleid is verdraagsaamheid, maar mettertyd verloor hy geduld met die Christene. Dat hulle Konstantyn as vriend beskou het, het sekerlik ook 'n rol gespeel. Teen 321 gryp hy in by die stryd tussen Arius en die biskop van Aleksandrië. Albei leiers geniet aansienlike steun, en albei organiseer ywerig om die meerderheid gemeentes agter hulle te kry. Wat Likinius ook al beplan het kom tot 'n einde toe Konstantyn met sy kenmerkende Blitzkrieg die Ryk verenig (324).

Kerkeenheid blyk egter 'n veel groter uitdaging te wees. Sinodes word links en regs gehou, elkeen noukeurig georkestreer om 'n spesifieke meerderheid by voorbaat te hê, en mense word oor en weer verban en herstel en weer verban. Aanvanklik probeer Konstantyn deur onderhandeling 'n middeweg tussen die strydende partye te bewerkstellig.

Konstantyn het gedink godsdiens is om God te aanbid en te verheerlik met glorie en ordelike harmonie. Vanuit hierdie perspektief beywer hy hom vir eensgesindheid en goeie verstandhoudings in sy Ryk, veral onder die Christene. Konstantyn was 'n praktiese man, met 'n sterk weersin aan verdeeldheid. In 'n brief vermeld hy sy verstomming dat "juis diegene wat eensgesind en met broederliefde behoort te lewe teen mekaar is op 'n skandelike, nee, verwerplike manier, en aan mense wat onvertroud is met hierdie mees heilige godsdiens redes gee om dit te bespot" (Januarie 314, aan Chrestus, biskop van Sirakuse; cf. Eusebius Historia ecclesiastica 10.5.21–22).

Konstantyn raak selfs betrokke by teologiese debatte. Net jammer teologie is soos 'n ui: laag op laag en op die einde het jy net 'n paar trane. Nogtans, met sy kenmerkende energie en dryfkrag doen Konstantyn sy bes om die "katolieke" kerk, die ware, algemene kerk te bevorder. Die biskoppe aarsel ook nie 'n oomblik om hulle op hom te beroep nie. Eenkeer stuur hy selfs troepe om die Donatiste se eiendom te konfiskeer, maar herstel gou die situasie. Gegewe die hardnekkigheid
wat hy onder Christene raakloop moes hy sekerlik gewonder het of ’n kop of twee
nie dalk die probleem sou oplos nie…


10 Kyk die insiggewende studie van P. Garnsey, "Religious Toleration in Classical Antiquity," Persecution and Toleration (ed. W. J. Sheils; London: Blackwell, 1984) 1-27.

<!--pagebreak-->

'n Beslissende vergadering te Ankira word beplan, en hier gryp Konstantyn in. Hy verskuif die sinode na Nisea toe. Konstantyn beklemtoon drie redes vir die verandering. Nisea het 'n matige klimaat. Dit is nader aan diegene wat vanaf die Weste kom — en sekerlik wil almal tog hê dat hulle ook teenwoordig moet wees? Die vergadering kan in Likinius se paleis gehou word. Hy had dit nie meer nodig nie, en dan hoef daar nie verder na 'n gepaste vergaderplek gesoek word nie. En, so terloops, Nisea is net verder as 'n klipgooi (twee dagreise) van Nikomedia af. Waar Konstantyn hom bevind. Hy kan dus sommer ook toesig hou. Konstantyn stel die keiserlike posdiens beskikbaar om briewe te laat uitstuur en om biskoppe te vervoer.

Die vergadering se eerste bymekaarkoms vind plaas op 20 Mei 325. Die belangrikste werk was afgehandel teen 19 Junie. Op 25 Julie het die keiser sy twintigste jaar as regeerder saam met die biskoppe gevier en op 30 Julie was hy terug in Nikomedia. Om en by 275 biskoppe het die vergadering bygewoon. Konstantyn was voorsitter.

Die eerste punt op die agenda was beskuldigings (van afvalligheid en valse lojaliteite) sodat "ongewensdes" terug gestuur kon word. Konstantyn maak nie die geskrewe aanklagte oop nie maar verbrand dit voor almal sonder om dit te lees. Sodoende lei hy die vergadering na die saak toe sonder om mense of hulle gevoelens te verbrand. Na lang besprekings en Konstantyn se aandrang dat aangedui word dat die Seun "van dieselfde essensie" as God is, word 'n verklaring opgestel, 'n belydenis onderteken, anatemas uitgespreek, sekere biskoppe verban (waaronder Arius), die datum vir Paasfees gefinaliseer, en reëls vir dissipline opgetrek.

Op 25 Julie is hulle werk klaar, en nooi die keiser die kerklike verteenwoordigers na 'n banket. 'n Paar dae later spreek hy hulle vir ou laas toe en beklemtoon die belang van harmonie tussen gemeentes en tussen kerk en staat. Hy deel ook geskenke uit en reël dat streeksgoewerneurs jaarliks vir die kerkamptenare, die weduwees en die "maagde" met toelaes uit staatsgeld ondersteun. Rang is bepalend en die grootte van die toelaag het nie met behoefte te doen nie. Aan die einde van die jaar stuur Konstantyn briewe uit om die besluite van Nisea aan te beveel by gemeentes en die gesag daarvan te onderskraag.

Ten spyte van Konstantyn gaan die sinodes voort: die een wat hier verban word, word daar weer bevestig. Daar verdoem hulle weer ons. Binne maande verbrokkel die eenheid van Nisea. Soos in skaak, so ook in die werklikheid: biskoppe beweeg skuins. Eusebius van Nikomedia (nie die historikus nie) was eers 'n ondersteuner van Likinius. Toe is hy deur Konstantyn verban. Weer bevestig as biskop word hy selfs die onderwyser van die toekomstige keiser Julianus. Op sy sterfbed versoek Konstantyn dat hy gedoop word, en dit is Eusebius van Nikomedia wat die sakrament bedien.

Twee dekades later is keiser en kerk se strewes ook nie meer dieselfde nie. Eenheid, samewerking en "goeie" verstandhoudings sou nog baie bloed laat vloei.

Net vir geval mens nog nie wantrouig genoeg is oor wat alles wat by die konsilie van Nisea uitgedink is nie, let op hoe Eusebius (van Sesarea) die begin van die banket beskrywe:

Afdelings van die keiser se beskermingseenheid en ander troepe het die ingang van die paleis met getrokke swaarde omring, en tussen hulle deur het die manne van God sonder vrees gestap tot in die binnekamers van die keiserlike vleuel. Daar het sommige saam met die keiser aan tafel gesit terwyl andere op die banke wat rondom die tafel gerangskik was, hulle neergevlei het. Mens sou maklik kon dink dat Christus se koninkryk hier weerspieël word — 'n droom eerder as werklikheid. (Vita Constantini 3.15)

Dit was juis nie 'n droom nie. 'n Leier van Jesus se dissipels (Eusebius) skryf nou 'n biografie van Konstantyn en nie die verhaal van Jesus nie. Brood en wyn en heerskappy — banket en koninkryk — word nog steeds bymekaar gebring, maar nou is dit net mans. Hulle lê aan saam met die keiser, en word deur ander bedien. Was dit maar 'n droom…

Wat Nisea ons leer — die eintlike uitkoms daarvan — is nie die waarheid oor God of die finale uiteensetting van die wese van Christus nie. Die verhaal van Nisea is soos enige ander kerkgeskiedenis: Die verhaal van mense (mans!) wat probeer om finale oplossings te bereik en 'n totale oorwinning oor hulle opponente te behaal — net om dan toe te kyk hoe dinge uit mekaar val. Miskien is die eintlike les van Nisea die waarskuwing om minder absolute doelwitte met meer beskeie metodes te bereik.

Dit is beter om ons toe te spits op dinge wat ons kan doen en wat binne ons vermoëns is, want dit wat ons oortuig te midde van gloeiende toesprake trek ons aandag weg van die waarheid van die werklikheid, soos met talle filosowe al gebeur het wat probeer het om met hulle vernuf en logika die wese [essensie] van dinge te beskrywe. En wanneer die omvang van die vraag hulle ondersoek ooweldig word die waarheid in metodologiese verskille begrawe. Hulle eindig deur weersprekende dinge te leer en val mekaar aan, selfs manne wat aanspraak maak op wysheid.

Besondere ironie kleef aan hierdie woorde, want dis Konstantyn wat biskoppe toespreek (Eusebius Ad coetum sanctorum 9).

Is diversiteit nie deel van Christelike identiteit nie? En juis daarom nie ook verdraagsaamheid nie? Kan die sentrale waardes, die kernpunte van daardie identiteit ooit in die afdwing van leerstellings oor God lê? Oor God ?

<!--pagebreak-->

Samevattende opmerkings

  • 'n Bespreking van Konstantyn is dalk nie wat mens sou verwag om deel te wees van die gesprek rondom hervorming in Afrikaanse godsdiensbelewing nie. Op die oog lê dié gebeure aan die wortels van die Rooms-Katolieke kerk; dis Europese geskiedenis, dis verby… Geskiedenis mag verby wees, maar omdat dit verby is, is ons wie ons is. Ek het probeer aantoon dat insig in daardie gebeure van besondere belang is om die kernvrae verbonde aan Christelike identiteit na vore te bring. Nie die minste van daardie insigte is dat ons tradisies mensgemaak is en beter gemaak kán word.
  • Op 28 Oktober 312 n.C. besluit keiser Konstantyn dat sy oorwinning oor Maksentius te danke is aan Christus se mag, en om daardie Christus as Here te aanvaar. Dit sê baie dat ons presies weet wanneer Konstantyn 'n Christen geword het, maar nie 'n idee het wanneer Jesus gebore is nie, en dat ons sy kruisdood op
  • die beste binne die 13 jaar of so van Pilatus se goewerneurskap kan plaas. Bloot objektief gesproke moet ons wonder watter gebeure het op watter manier die geskiedenis dan nou fundamenteel gestuur. Of anders gestel: Het ons met mag te doen wanneer ons na die Goddelike verwys of met 'n lewensstyl?
  • Is God die god van oorloë? Oor ander se belewenis van die Goddelike moet mens altyd respekvol en beskeie staan. Maar kan enigiets aan God toegeskryf word? God van oorloë?
  • Voor Konstantyn se regeertyd het die Christendom beswaarlik gedink aan politieke aktiwiteite, wat nog te sê aan 'n politiek. Die gemeenskaplike lewe was meer en deels hulpverlening, ondersteuning, aanbidding en toewyding (soos die van Judaïsme). Na Konstantyn het die Christendom die taak om te regeer, om die openbare en politieke instellings van die Ryk te vorm en te beheer met verrassende ywer opgeneem.
  • Voor Konstantyn het die Jesus beweging bykans 300 jaar al bestaan. Hulle is van tyd tot tyd vervolg, maar hulle was onafhanklik. Na Konstantyn sou die kerk voortdurend sukkel om ooit weer onafhanklik te wees. Of om deeglik en skerp die werksaamhede en besluite van 'n regering te beproef.
  • Vandag is die kanse — goddank! — maar skraal dat 'n Afrikaanse kerk 'n meeloper van die staat sal raak. Maar die staat is lank nie meer die enigste beskikker van die meeste van ons se lot nie. Verbruikerskapitalisme, massakommunikasie, ekologiese uitbuiting: die keisers is nie meer individuele persone nie. Ons is heeltemal te gemaklik met die sistemiese onreg wat in ons gemeenskappe bestaan.
  • In 'n sin is dit heeltemal te verstane — selfs te wagte, as mens diep in jou eie hart kyk — dat die verteenwoordigers van die Christene die kenmerke van Konstantyn se regering sou oorneem en by Konstantyn se amptenare afkyk vir hulle eie kleredrag, optogte en toesprake. Hulle het dan dienste begin lei in geboue wat die paleis naboots. Meer en meer sou Jesus in christelike kuns begin lyk na die keiser wat onderdane ontvang, en in godsdienstige taal sou die lofredes vir die keiser en selfs die adventus weerklink. Danksy Konstantyn het die kerk rykdom en publieke prominensie ontvang. Daardie "danksy" het 'n "dankie sê" geword wat die taal van verheerliking, die taal van die keiserkultus en die keiserlike hof oorgeneem het. Vandag, met die wonderlike insig wat nawete bied, weet ons wat die prys was. Dit is tyd om te besin hoe óns verantwoordelik hier en nou wil omgaan met ons Joods-Christelike agtergrond en diskoers.