Koos Smit sê dankie vir die Nuwe Hervorming se webwerf maar wil dat van die opmerkings in verband met Jesus se maagdelike geboorte en die opstanding beter verduidelik word. "Kan iemand in plein Afrikaans sê waar staan ons met Jesus?" Wel, uit ons geledere die volgende:
Hansie Wolmarans:
Hoekom sê ek dat Isak Burger se stelling dat die Nuwe Hervorming Jesus se maagdelike geboorte en die opstanding ontken, onwaar is?
"Vir my was hy 'n mens, met 'n merkwaardige vermoë om nuwe insigte te bring in 'n Joodse gemeenskap wat verward was vanweë politieke en geloofskrisisse. Hy het gesterf en is vandag steeds fisies 'n gestorwe mens. Maar hy het geestelik in statuur gegroei tot die grootste van alle figure en sy nalatenskap is die grondslag van die christelike geloof wat na 2000 jaar steeds voortleef."
Pieter Craffert:
Tradisioneel is die vraag: is/was Jesus God?
Daar is geen eenvoudige antwoord op die vraag nie en daarom kan mens eintlik net 'n klompie perspektiewe gee.
Aan watter kant mens jou ookal in hierdie debat bevind, die tweede aanname is dat wanneer die woord "god" gebruik word, verwys dit na 'n wese of persoon buite die natuurlike werklikheid. Dus die vraag is of hierdie spesifieke persoon (Jesus) tot die kategorie "god" behoort. As dit maklik was om die kategorie "god" te bepaal, was dit natuurlik veel makliker om te sê of Jesus aan die kategorie behoort het of steeds behoort. Maar "God" is self 'n problematiese kategorie. Meeste mense gebruik die term asof dit verwys na 'n wese/persoon in die hemel (waar dit nou ook al is).
Maar dit is een soort voorstelling naas ander. As mens eerder met die idee werk van "die goddelike" en dat talle metafore daarvoor gebruik kan word (soos 'n persoon, gees of 'n teenwoordigheid) dan word die probleem iets anders. Dan sou mens die aanvanklike vraag moet herformuleer as: is/was Jesus goddelik? Of meer spesifiek: kan mens in die aardse Jesus iets van die goddelike sien en kan mens in die na-pase Jesus die goddelike sien?
Pieter Botha:
(dié reaksie handel oor die historiese Jesus)
Daar word ook van talle ander mense in die antieke wêreld vertel dat hulle van goddelike afkoms is, dat hulle duiwels uit ander uitgedryf het, op die see geloop het, storms stilgemaak het en selfs na hulle afsterwe weer voortgelewe het as 'n god. Hoekom dan die verhale oor Jesus anders beoordeel? Nee, 'n regter wat een stel reëls vir een saak gebruik en 'n ander vir sy gunstelinge is nie 'n regter nie. Vir historiese waarheid geld dieselfde voorwaardes in alle gevalle. Jesus is dus net so min uit 'n maagd gebore as wat Oktawianus (=keiser Augustus) deur Apollo (die songod) verwek is. Albei verhale is onhistories (fiksie/mitologie) en om presies dieselfde redes.
Maar hoekom het hierdie mense van destyds sulke fantastiese aansprake gemaak? Is daar, binne hulle wêreldbeeld en met hulle begripsapparaat tog iets meer aan as net sogenaamde wonderwerke?
Inderdaad. Oor talle antieke mense is gesê dat hulle god is. Trouens, niemand het gefrons oor sulke aansprake oor iemand soos Oktawianus nie. Dit is dus dadelik verstaanbaar dat dit nie kan gaan oor watter één van hierdie verhale die enigste waarheid is nie, maar wat is die "waarheid" van sulke soort verhale — wat wil sulke verhale te kenne gee. Sulke verhale wou iets te kenne gee oor gode se karakter, en hoe die gode oordeel oor wat mense doen. 'n Legitimering van 'n waardestelsel, dus: "So dink ons wil god hê die wêreld behoort te lyk". Oktawianus word die seun van god genoem want hy bring "voorspoed", sy ideologie geniet goddelike erkenning.
En so gesien wou Lk en Mt nie iets sê oor Maria se ginekologiese toestand nie, maar oor 'n spesifieke god, 'n god met 'n baie spesifieke karakter (aard) wat sekere uitdagings stel aan mense se moraliteit. Die Bybel wil oor die nood van die wêreld en die gebrek aan geregtigheid praat — maar natuurlik wil ongelowiges wonderwerke en tekens hê.
Met ander woorde, dit is hoog tyd dat ons van die (pornografiese) beheptheid met Maria se baarmoeder en soortgelyke on natuurlike sake afstand neem en begin Bybels dink: nie óf daar 'n god is nie, maar wat is die karakter van jou God .
Dieselfde antwoord geld, myns insiens, die wonderwerke, die opstanding (en selfs die sogenaamde ewige lewe). Waar staan ek met die historiese Jesus? Wel, soos Jesus self gesê het: "die koninkryk van God is binne-in julle" (en sedertdien soek die kerk dit elders).