Jesus se goddelikheid

Koos Smit sê dankie vir die Nuwe Hervorming se webwerf maar wil dat van die opmerkings in verband met Jesus se maagdelike geboorte en die opstanding beter verduidelik word. "Kan iemand in plein Afrikaans sê waar staan ons met Jesus?" Wel, uit ons geledere die volgende:

Hansie Wolmarans:

Hoekom sê ek dat Isak Burger se stelling dat die Nuwe Hervorming Jesus se maagdelike geboorte en die opstanding ontken, onwaar is?

  • My standpunt was nog nooit dat die maagdelike geboorte of die opstanding ontken word nie. Die punt wat ek voorop stel, is dat hierdie verhale volgens hulle literatuursoort (dit wil sê as mites) gelees moet word. Ons aanvaar dat daar mense is wat dit as letterlik histories aanvaar (ek persoonlik nie), maar dit is nie die "issue" nie. Die vraag is, wat hierdie verhale beteken. Beide die maagedelike geboorte en die opstandingsverhale het met die "waarheid" te make dat God geregtigheid vir gewone mense bedoel — al was Maria arm, en al het Jesus gesterf. Dit is dus onwaar om te sê die maagdelike geboorte en die opstanding word bloot net ontken; ek erken dit, maar soek dan na die simboliese betekenis daarvan.
  • Ek identifiseer my met Koos Smit  se opsomming oor wie Jesus was en is:

    "Vir my was hy 'n mens, met 'n merkwaardige vermoë om nuwe insigte te bring in 'n Joodse gemeenskap wat verward was vanweë politieke en geloofskrisisse. Hy het gesterf en is vandag steeds fisies 'n gestorwe mens. Maar hy het geestelik in statuur gegroei tot die grootste van alle figure en sy nalatenskap is die grondslag van die christelike geloof wat na 2000 jaar steeds voortleef." 

Pieter Craffert:

Tradisioneel is die vraag: is/was Jesus God?

Daar is geen eenvoudige antwoord op die vraag nie en daarom kan mens eintlik net 'n klompie perspektiewe gee.

  • Die Ortodokse antwoord is alombekend, maar onverstaanbaar. Dit maak gebruik van die twee-nature leer en die aanname dat God 'n persoon/wese is wat êrens bo of buite die natuurlike werklikheid bestaan. Hiervolgens was Jesus beide 'n mens en 'n god. Die "dwaalleer" wat hiermee afgewys is, was bekend as die dosetisme wat gereken het Jesus was eintlik 'n god, maar het net in die gedaante van 'n mens verskyn. Om beide sy mensheid en goddelikheid vas te hou, is toe gesê hy was "ware god" en "ware mens". Ek wag nog dat iemand hierdie formulering vir my verduidelik, want ek weet van geen so 'n soort figuur nie.
  • 'n Merkwaardige maar baie belangrike verskil tussen ons en destyds: vandag aanvaar ons Jesus was 'n mens en ons vraag is, maar was hy ook God. In daardie tyd was hulle probleem net omgekeerd: hy wás goddelik, hulle vraag was, was hy ook waarlik mens?

    Aan watter kant mens jou ookal in hierdie debat bevind, die tweede aanname is dat wanneer die woord "god" gebruik word, verwys dit na 'n wese of persoon buite die natuurlike werklikheid. Dus die vraag is of hierdie spesifieke persoon (Jesus) tot die kategorie "god" behoort. As dit maklik was om die kategorie "god" te bepaal, was dit natuurlik veel makliker om te sê of Jesus aan die kategorie behoort het of steeds behoort. Maar "God" is self 'n problematiese kategorie. Meeste mense gebruik die term asof dit verwys na 'n wese/persoon in die hemel (waar dit nou ook al is).

    Maar dit is een soort voorstelling naas ander. As mens eerder met die idee werk van "die goddelike" en dat talle metafore daarvoor gebruik kan word (soos 'n persoon, gees of 'n teenwoordigheid) dan word die probleem iets anders. Dan sou mens die aanvanklike vraag moet herformuleer as: is/was Jesus goddelik? Of meer spesifiek: kan mens in die aardse Jesus iets van die goddelike sien en kan mens in die na-pase Jesus die goddelike sien?

  • Op die eerste vraag sou ek sê, nee en ja. Die aardse Jesus was nie goddelik nie, want hy was 'n Galilese man van sy tyd. Mens sou ook kon sê, ja, in die lewe en optrede van die aardse Jesus het talle mense van sy tyd die goddelike ervaar. Jesus self was waarskynlik iemand wat geesvervuld was (hy het ervaringe gehad wat hulle geïnterpreteer het as hy is met God se gees vervul) en in sy genesings en optrede teenoor mense het hulle waarskynlik ervaar dat God by hulle is. Daarom sou hulle in sy tyd kon sê, Jesus is vir hulle God. Onthou, in die algemeen was hulle ervaring van die gode-wêreld sodanig dat hulle in talle lewensfasette gedink/ervaar het dat gode in hulle wêreld kon inmeng en invloed uitoefen.
  • Is die na-pase Jesus goddelik? Ja, want in die ervaringe van Jesus wat aan hulle verskyn het (en steeds aan mense verskyn) asook die ervaring van sy teenwoordigheid in hulle lewens, het mense ervaar (ervaar mense steeds) dat Jesus iets van die goddelike tuisbring. In die sin sou mens kon sê Jesus is god.

Pieter Botha:

(dié reaksie handel oor die historiese Jesus)

Daar word ook van talle ander mense in die antieke wêreld vertel dat hulle van goddelike afkoms is, dat hulle duiwels uit ander uitgedryf het, op die see geloop het, storms stilgemaak het en selfs na hulle afsterwe weer voortgelewe het as 'n god. Hoekom dan die verhale oor Jesus anders beoordeel? Nee, 'n regter wat een stel reëls vir een saak gebruik en 'n ander vir sy gunstelinge is nie 'n regter nie. Vir historiese waarheid geld dieselfde voorwaardes in alle gevalle. Jesus is dus net so min uit 'n maagd gebore as wat Oktawianus (=keiser Augustus) deur Apollo (die songod) verwek is. Albei verhale is onhistories (fiksie/mitologie) en om presies dieselfde redes.

Maar hoekom het hierdie mense van destyds sulke fantastiese aansprake gemaak? Is daar, binne hulle wêreldbeeld en met hulle begripsapparaat tog iets meer aan as net sogenaamde wonderwerke?

Inderdaad. Oor talle antieke mense is gesê dat hulle god is. Trouens, niemand het gefrons oor sulke aansprake oor iemand soos Oktawianus nie. Dit is dus dadelik verstaanbaar dat dit nie kan gaan oor watter één van hierdie verhale die enigste waarheid is nie, maar wat is die "waarheid" van sulke soort verhale — wat wil sulke verhale te kenne gee. Sulke verhale wou iets te kenne gee oor gode se karakter, en hoe die gode oordeel oor wat mense doen. 'n Legitimering van 'n waardestelsel, dus: "So dink ons wil god hê die wêreld behoort te lyk". Oktawianus word die seun van god genoem want hy bring "voorspoed", sy ideologie geniet goddelike erkenning.

En so gesien wou Lk en Mt nie iets sê oor Maria se ginekologiese toestand nie, maar oor 'n spesifieke god, 'n god met 'n baie spesifieke karakter (aard) wat sekere uitdagings stel aan mense se moraliteit. Die Bybel wil oor die nood van die wêreld en die gebrek aan geregtigheid praat — maar natuurlik wil ongelowiges wonderwerke en tekens hê.

Met ander woorde, dit is hoog tyd dat ons van die (pornografiese) beheptheid met Maria se baarmoeder en soortgelyke on natuurlike sake afstand neem en begin Bybels dink: nie óf daar 'n god is nie, maar wat is die karakter van jou God .

Dieselfde antwoord geld, myns insiens, die wonderwerke, die opstanding (en selfs die sogenaamde ewige lewe). Waar staan ek met die historiese Jesus? Wel, soos Jesus self gesê het: "die koninkryk van God is binne-in julle" (en sedertdien soek die kerk dit elders).