The Jesus Dynasty

Skrywer: 
James Tabor

Christo Landman

Bg. boek wat in 2006 verskyn het, is reeds in 20 tale uitgegee en kan beskou word as ‘n besonder belangrike bydrae as antwoord op die vraag na die historiese Jesus.

James D. Tabor is ‘n Bybelse argeoloog en voorsitter van Godsdienstudies aan die Universiteit van Carolina (VSA). Oor “The Jesus Dynasty” skryf Bart Ehrman van dieselfde Universiteit dat hierdie ‘n werk is wat anders is as wat die publiek voorheen insae in gehad het.  Die boek val in die kader van die sg. historiese Jesus Navorsing. In hierdie navorsing word uitgegaan van die standpunt dat die werklike Jesus van sy tyd ingrypend verskil van die mitiese Jesus van die kerklike dogma.  “The Jesus Dynasty kan getipeer word as ‘n nuwe historiese ondersoek na Jesus, na die koninklike familie van Jesus en die geboorte van die Christendom na die sterwe van Jesus.  

Tabor slaag daarin om die konteks op ‘n prikkelende wyse te skets teen die agtergrond van ‘n Messiaanse twee-manskap.  Hiervan was Johannes die Doper die Priesterkomponent en Jesus die Dawidiese Prins as troonopvolger in die bloedlyn van Dawid.  Die Messiaanse verwagting is aangevuur deur die Romeinse onderdrukking, die “verraad” van die Sadduseers en Fariseers asook die profetiese verwagtinge (Amos, Jeremiah en Jesaja, onder meer) dat die koninkryk van die HERE God nader kom.  Jesus het hom aangesluit by die Johannes die Doper-beweging.  Daar word deur Tabor veronderstel dat beide Johannes die Doper en Jesus bewus was van die profetiese verwagtings aangaande die Messianisme. Volgens Tabor is die Evangelies by terugskoue geskryf en bied gevolglik gebeure in hierdie lig aan.  Hieruit vloei die vraag voort of Jesus en Johannes die Doper nie in hulle strategie die messiaanse verwagtings waar wou maak nie en dat die optredes van Jesus en Johannes dus in die kader van selfvervullende profesie val nie?

Deur die dood van die Doper is die Messiaanse verwagting ‘n gevoelige slag vir die “verlossingstrategie” wat daarna deur Jesus alleen voortgesit is.  Jesus se kruisiging is ‘n verdere slag. Selfs aan die kruis het Jesus verwag dat die HERE God self in die geskiedenis sou ingryp, wat nie gerealiseer het nie. Vandaar Jesus se uitroep: “My God, my God, waarom het U my verlaat!”.  By die afsterwe van Jesus word die Dawidiese dinastie deur Jakobus, die broer van Jesus, binne ‘n Judaïstiese konteks voortgesit en ná die steniging van Jakobus deur Joses (nog ‘n jonger broer van Jesus).  Met die vernietiging van Jerusalem (70 nC.) is die Messiaanse Jesus Beweging, onder die leiding van die broers van Jesus en die twaalf apostels, nóg ‘n verdere terugslag toegedien. 

Hierna het die teologie van Paulus die heerskappy begin voer.  Hierdie teologie het die boodskap van Jesus vergrieks.  Paulus het belangrike konsepte uit die Hellenistiese filosofie oorgeneem en probeer verChristelik. Hy het ook geherdefinieer wie nou eintlik die volk van God was.  Sodoende het hy die Jesusbeweging getransformeer tot ‘n Griekse godsdiensbeweging wat die Messiaanse koninkryksidee vergeestelik en ook Jesus op die transendente vlak laat voortleef het as die hemelse koning.

Volgens Tabor gaan die Nuwe Testament swaar gebuk onder die teologie van Paulus, met die gevolg dat Jakobus grootliks in die skrifte gemarginaliseer word. As voorbeeld hiervan verwys Tabor na Lukas wat swyg oor Jakobus en oor die rol van die familie van Jesus. Wanneer Markus rapporteer dat Maria die moeder van Jesus, sy broers Jakobus en Joses,  sowel as Salome, Jesus se suster by die graf teenwoordig was, skryf Lukas gewoon oor “die vrouens”.

Tabor beskou Jakobus as die sleutel in die rekonstruksie van die persoon en betekenis van Jesus. Jakobus, as hoof van die Jerusalemgemeente en van die vroeë Christendom, was van groter belang as beide Petrus en Paulus. So gesien kom die teosentriese benadering van Jakobus te staan teenoor die christosentriese teologie van Paulus en word die Christendom in ‘n ander rigting gestuur as Jesus self en van die Jerusalemgemeente.

In die navorsing aangaande die historiese Jesus is daar ‘n akademiese oplewing van die idee dat die outentieke teologiese grondslae van die Christendom in die teologie van die Judaïsme van Jakobus, die broer van Jesus, te vind is en nie in die christologie van Paulus nie. In hierdie verband vind Tabor noue aansluiting by John Painter, by Robert Eisenman asook by Hershel Shanks, et alTerselfdertyd is daar ‘n bewuswording dat die Christendom nie eensydig vanuit die christosentriese teologie van Paulus te benader is nie, en dat die teosentriese teologie van Jakobus daarvan verskil. Ook die Christelike Gnostiek wat deur die dogmatiese diktatuur van die Pauliniese teologie “verban” was, vind noue aansluiting by Jakobus.

In die beoordeling van Tabor se “Jesus Dynasty” moet die beginsel van historiese kontinuiteit voorop gestel word. Dit beteken dat die Griekse Nuwe Testament op die verlengde van die Ou Testament lê en dat die teologie van die Nuwe Testament steeds in die lig van die Judaïsme van die Tanak/OT beoordeel moet word.

Die slotsom waartoe Tabor oor Jesus kom, kan nie beter verwoord word as deur Kuitert nie. Hy skryf:
“Dat Jezus het joodse ontwerp van God aanhing, betekent dat hij zichzelf nooit als God-op-aarde heeft gezien.  Christelijke christologie zie ik dus als een terug-naar-God-beweging en christelijke verkondiging als een verkondiging van God. Het brengt Jezus terug waar hij hoort, ... een bijstelling van God, een nadere verheldering van God ...” 

Die vraag is wat die implikasie van Tabor se analise is vir die vorm en inhoud van ons aanbidding?

  • In die eerste plek natuurlik dat dit in die aanbiddingsaksie om God, die HERE met hoofletters gespel, gaan. Ons aanbid God, in die woorde van Paulus, na die voorbeeld van Jesus.
  • Daar moet in die prediking duidelik onderskei word tussen God die HERE (in hoofletters!) en Jesus se Messiaanse rol in God se koninkryksidee vir die volle samelewing.
  • Die wet in die erediens en barmhartigheidsdienste in gemeenteverband moet groot klem kry.
  • Die altaar as simbool moet weer terug gebring word en die preekstoel in ‘n syposisie geplaas word.
  • Aanbidding as transendente aksie vra dat ook bidstiltes, gewyde musiek en meditasie effektief in die erediens ingebou moet word.
  • Die Nagmaal is ‘n maal ter versterking van die gemeenskap van die heiliges tot eer van God, analoog aan die Pasga en nie die simboliese drink van die bloed van Christus nie. Die assosiasie tussen wyn met bloed en die drink daarvan en brood met vlees en die eet daarvan is ‘n heidense gedagte.

Intussen gaan die debat oor die dehellenisering van die Christendom in intensiteit voort. Soveel so, dat die Pous so onlangs as 12 September 2006 in ‘n akademiese lesing hom soos volg uitgelaat het:
“The thesis that the critically purified Greek heritage forms an integral part of Christian faith has been countered by the call for a dehellenization of Christianity – a call which has more and more dominated theological discussions since the beginning of the modern age.”  

As dit wenslik is dat die teologie gedehelleniseer moet word en die christologie van Paulus hervorm moet word, dan het Tabor goed daarin geslaag om belangrike denklyne te trek. Vir diegene wat teologie en mitologie gelyk skakel sal Tabor se werk egter ‘n teleurstelling wees.