Die reuk van Hardekool wanneer dit knetter en kraak
in ʼn bosveldvuur met hout gemaak.
Die dans van die vlamme in die Afrika nag
terwyl Hiënas uitbundig om ʼn karkas lag.
Die brand op my hand waar die Haak-en-steek
sy merk gelaat het vroeër die week.
Daardie bok lewer wat lê en wag
om op ʼn graaf gebraai te word na die jag.
Die klank van die see by Bloubergstrand
wanneer dit ritmies uitspoel op die sand
Tafelberg, statig met sy hoed op.
Die trap van druiwe en die mos se skop.
Die opgewonde stemme op Houtbaai se kaai
as die skuite vol vis lê in die baai.
Trossies Bokkoms en blink snoek wat gaap.
Die gekleurde huisies in die Bo-Kaap.
Die geritsel van die blare teen ʼn styl regop krans
in die Drakensberg as die wind daardeur dans.
Die heilige stemme van ʼn seunskoor
wat jy vroeg in die oggend in die klowe hoor.
Die Basoetoe ruiter op sy perd se rug,
met kombers en hoed en sy hand in die lug
as hy vriendelik groet in die verby gaan,
op pad na sy hut waar tyd stilstaan.
Die “getjie-tjie” van die windpomp se draai
as die wind oor die Karoo vlakte waai.
ʼn Tolbos wat lusteloos rond rol
voor die eerste swaar druppels reën in die stof stol.
ʼn Ou plaashuis met stoepe reg om.
Boeretroos gebrou in ʼn erde kom.
ʼn Skaapstert pikswart in die kole gebrand
saam met potbrood net daar gebak in die sand.
Die reuk van “Railway perskes” terwyl dit stook.
Die saamry geleentheid vir die Uniondale spook.
Die bloed aan my hande as ons bees of skaap slag.
Die gelui van ʼn kerk klok vroeg Sondag.
Die Boerbok se baardjie wat so roer in die wind
ʼn Springhaas se oë in die nag, glinsterend.
Daisy de Melker se ou sink huis
wat ek steeds as ek daar verby ry vir my kinders wys.
Die gate in die teerpad.
Die goue stad, die Goudstad:
Johannesburg met al sy prag en praal,
waar die duiwel snags ronddwaal.
Die stad met ʼn duisend liggies
wat hoop bied aan honger gesiggies.
Die hart, die slagaar, die lewensbloed
van die ekonomie sal jou hier begroet.
Die glimlaggende gesig van die koerant verkoper.
Die Braamfontein spruit se swart “Johannes die doper”
Die Taxi toeters se lawaai
wanneer hulle mense op of aflaai
Soweto se torings vol kleure geverf
en sjebeens waar Kwêla nooit uitsterf.
ʼn Sokker stadion van wêreldklas
wat van buite lyk soos ʼn groot kalbas.
“Mrs Balls” se blatjang en Ouma beskuitjies.
“Enterprise” varkwors en souskluitjies.
“All Gold” tamatiesous, Castle bier.
Om iemand moer toe in my eie taal te stuur.
Klippies en Coke met eish ja, met eish.
ʼn Hoender van Nando’s en begrafnis rys.
Ghost Pops en biltong en rugby kyk.
Melktert en koeksusters en “blou bul steak”.
Hierdie kort gedig
is opgedra aan die wat sug
en elke dag wonder:
Sal ek trek na “Daar doer onder”?
Of wat van Londen, die pommies en die koue
Of New York met al sy hoë geboue?
Vir hulle wat elke dag kla
wil ek net sê: Nkosi Sikelel’ iAfrica!
Ben Engelbrecht