Gesprek met Hennie Stander deur Pieter Craffert
In sy artikel in Die Kerkbode (6 September, Ek glo steeds in dáárdie Jesus ...) sê Prof Hennie Stander heeltemal korrek wat vandag waar is, kan more verkeerd bewys word. Anders as hy, glo die deelnemers aan die Nuwe Hervormingsdebat geheel en al in daardie wysheid. Daarom dat ons inderdaad reken dat die godsdienstige spel volgens gans ander reëls gespeel kan word. Deur die harmonieering van tekste buite konteks te verwerp en staat te maak op verantwoordelike eksegese, het ons besef dat die dogmas van die Ortodoksie 'n valse weergawe gee van Jesus van Nasaret. Daar is besef dat die Bybel self 'n groot verskeidenheid metafore gebruik om oor die goddelike te praat (waarvan God as persoon maar een is) en 'n noukeurige lees van die evangelies bevestig dat hulle nie almal dieselfde siening oor Jesus gedeel het nie. Binne die Christelike tradisie is daar inderdaad alternatiewe wyses om die geloofspel te speel. Stander kan inderdaad glo soos toe hy 'n kind was, hy kan net nie meer glo soos toe hy 'n kind was dat sy siening die enigste moontlike een is nie.
Hy is daarom heeltemal verkeerd as hy ons van fundamentalisme beskuldig, want dit hoort by hom. Volgens hom kan die geloofsspel net volgens een (sy) stel reëls gespeel word en as jy nie só wil speel nie, moet jy op 'n ander plek gaan speel. Fundamentalisme is per definisie die oortuiging dat jy die absolute waarheid beet het en daar is geen moontlikheid dat jy dalk verkeerd kan wees nie. Daarom is Stander ook verkeerd as hy beweer dat ons geen metafisiese wêreld erken nie. Ons pleit juis vir 'n ander soort godsdienstigheid, maar omdat dit nie bestaan uit sý weergawe van 'n bonaturlike wese wat vanuit 'n ander wêreld toetree nie, herken hy dit nie eens nie.
Die eintlike punt wat soos 'n goue draad deur die artikel loop is egter die afwys van navorsing en die bevestiging dat kennis deur ervaring verkry kan word. Volgens Stander word die lewe na die dood, die bestaan van Satan, satanisme, en ook sy eie weergawe van die geloof, deur ervaring bevestig. Soos met opinies, is elke mens geregtig op sy/haar eie ervarings, maar dit as sodanig konstitueer nie kennis nie. Binne die Christelike tradisie is die mees ervaarde belewenis die van die moeder Maria wat aan mense verskyn. In ander tradisies het mense dikwels ervaringe van voorouers, diere, geeste of wesens wat hulle besoek en of boodskappe meedeel. Beteken dit nou dat alles wat mense ervaar inderdaad werklik is. Ja en nee. Ja, menslike ervaringe is altyd kultureel bepaalde ervaringe en, in die sin, vir mense werklik. Godsdienstige ervaringe is vir die meeste mense wat dit beleef meer werklik as talle allerdaagse ervaringe. Nee, dit bevestig nie dat voorouers, of die Satan of een of ander gees of wese inderdaad bestaan en vir almal 'n bedreiging inhou nie. Neurologiese, antropologiese en godsdiensnavorsing (nie ervaring nie) help ons om hierdie soort menslike ervaringe te verstaan. Iets bestaan nie objektief net omdat iemand (selfs baie mense) dit ervaar en met oortuiging kan oorvertel nie. Akademici het nie die laaste woord wanneer dit kom by geloofsake nie, maar ten minste beskerm kritiese nadenke ons van ervaringsaansprake of van die soort ervaringe wat Stander vir die waarheid aanbied.