Wat maak mens as jy besef dat die godsvoorstelling uit jou kindertyd nie meer werk nie? As jy besef dat die idee van "God" as 'n bonatuurlike wese daar buite, wat die wêreld gemaak het en van tyd tot tyd nog ingegryp het met wonders en wat eendag weer sal oordeel (elkeen volgens sy en haar dade), net 'n dogmatiese voorstelling van mense is? Jy verwerp godsdiens geheel en al en probeer sin vind in 'n ander tradisie, of jy soek na 'n alternatiewe verwoording van die Christendom. Laasgenoemde is presies wat Marcus Borg in hierdie boekie aanbied.
Die godsbeeld wat Borg skets as die van die Ortodokse (dogmatiese) Christendom is baie naby aan die een waarmee die meeste Afrikaanssprekende mense grootgeword het. Sy persoonlike verhaal kon net sowel een van ons s'n gewees het. In 'n lekker, leesbare boekie bespreek Borg die alternatief vir 'n dogmatiese verwoording van die Christendom. Hy sentreer veral op die godsvoorstelling, maar toon aan hoedat dit neerslag gevind het in leerstellings oor Jesus, die bybel, 'n spesifieke siening van verlossing en geloof en oor die lewe na die dood. Bogenoemde godsvoorstelling word vervang met 'n panenteïstiese godsbeeld ("alles is in God"). God is meer as alles, maar alles is in God, is die beste beskrywing van die voorstelling.
Borg keer terug na die bybel (en nie die dogmas en belydenisskrifte nie) en herontdek die talle godsvoorstellings wat in die Ou en Nuwe Testamente aanwesig is en wat juis aandui dat die voorstelling van God as 'n persoon of wese maar net een voorstelling naas ander is. Dieselfde gebeur byvoorbeeld met die herontdekking van die term "verlossing" (wat in die dogma verskraal is tot die "red van jou siel") as 'n ryke begrip in die bybelse tradisie.
Hierdie boekie is die moeite werd om aan te beveel vir enige leser wat reeds vrae vra oor die Ortodokse verwoording van die Christendom. Maar dit is ook aan te beveel vir diegene wat nog nooit aan 'n alternatief gedink het nie omdat dit kan help om mense te verlos van 'n eng en benepe voorstelling van die Christendom. Die lees hiervan kan dalk net vir diegene wat so graag glo hul fundamentalistiese standpunt kom direk uit die bybel uit, oortuig dat dit juis hulle is wat die bybel minag en reduseer. Op 'n indirekte wyse toon Borg aan hoedat Ortodokse Christendom deur dogmas, die verskeidenheid van die bybelse tradisie verskraal het.
Pieter Craffert
Borg, M J 1997. The God we never knew: Beyond dogmatic religion to a more authentic contemporary faith. San Francisco: HarperSanFrancisco. 182pp.