Die Evangelie is op die Spel

Skrywer: 
Adrio König

Adrio König: Die Evangelie is op die Spel

Resensie: Leon Atterbury
Mei 2009
 
Daar heers tans 'n lewendige debat in die pers oor hierdie boek.  Wat ek hier kwytraak is nie 'n volledige resensie van die boek nie - dis eerder ‘n paar gedagtes oor wat my opgeval het by die lees van hierdie boek. Die opstandingsienings van Julian Muller, Dirk Human, Ben du Toit en Danie Veldsman hanteer ek nie hier nie omdat ek nie hul geskrifte daaroor gelees het nie.  Trouens, dit sou baie interessant wees indien hulle König se uitnodiging tot 'n openbare debat aanvaar.
 
König vra of dit “verkeerd is om die Bybel die Woord van God te noem? Nee, dis reg. Waar kry ons dit? By die vroeë christene.” (p22)   Die feit dat die vroeë christene op hierdie manier na die OT verwys het, is egter geen gesag daarvoor om aan te voer dat ons vandag nog so daarna kan verwys nie. König verwys op die vorige bladsy na iemand wat sy eie manier van Bybelvertolking as die enigste korrekte manier sien en daardeur enige debat uitsluit. Maar die vroeë christene waarna hy verwys het juis dit met die OT gedoen met die idée dat alles wat in die OT staan deur God self gespreek is en gevolglik is geen teenspraak of debat daaroor toelaatbaar nie.
 
Op dieselfde trant kan mens ook sê dat die son om die aarde draai.  Waar kry ons dit? By die vroeë wetenskaplikes!
 
Dat die vroeë christene die Bybel gesien het as die Woord van God is geen gesag daarvoor om vandag nog so ‘n siening te handhaaf nie.  
 
Op p29 bespreek König die vraag ‘wat maak die Bybel die Bybel?’ Hy skryf: “Omdat die Bybel van Jesus vertel, is dit geinspireer. Of andersom: Omdat die Bybel geinspireer is, vertel dit van Jesus. Hy is die grondslag van ons geloof. En die Bybel is onontbeerlik omdat dit ons enigste betroubare toegang tot die evangelie van Jesus Christus is.” Wat ‘n sirkelredenasie! Hy aanvaar duidelik dat Jesus die enigste verlosser van die wêreld is, en omdat die Bybel van Jesus vertel, is die Bybel betroubaar. En waar het hy die idee gekry dat Jesus die verlosser is? In die Bybel natuurlik! Mens kan tog onmoontlik oorredingskrag aan so ‘n sirkelredenasie heg.
 
König meld op p29 dat “ons gesien het die boodskap van die Bybel is betroubaar.” Ek het noukeurig gelees, maar ek kan werklik nie sê waar König goeie gronde aangevoer het vir daardie stelling nie. 
 
Terwyl König ‘n hele hoofstuk wy aan die betroubaarheid al dan nie van die Bybel, sou ek graag wou sien dat hy ook kommentaar lewer op die behoorlik gemotiveerde werke van Karen Armstrong en Bart Ehrman, en andere. Hulle argumente kan nie so maklik van die tafel gevee word soos hy met die Jesus seminaar doen nie. König kan nie aanspraak daarop dat hy die Bybel as betroubaar aangetoon het as hy nie eens ‘n poging aanwend om die talle geldige punte van daardie skrywers te behandel nie.
 
 
Alhoewel dit nie die punt van bespreking daar is nie, verwys König ook op p29 na Jesus wat ‘n Goddelike sowel as menslike natuur gehad het. Daardie idee het my nog altyd onbevredig gelaat. Hy was menslik, maar sonder sonde. Maar my liewe aarde, dis dan juis wat ons menslik maak, nl dat ons vol foute, sonde en tekortkominge is. Hoeveel christene weet dat daar vir ongeveer 300 jaar na Christus groot meningsverskil geheers het oor Jesus se Goddelikheid al dan nie? Diegene wat beweer het dat Jesus Goddelik is, het uiteindelik geseëvier (soms ook maar geweld en agterbaksheid gebruik) en die destydse kerkvaders het hierdie twee nature dogma uitgedink.  Geen wonder dat daardie dogma tot vandag toe nie sin maak nie, ten spyte van al die pakhuise papier wat al volgeskryf om dit te verduidelik en te regverdig.
 
Op p33 kry ek die indruk dat König ‘n probleem het met navorsing wat ‘n resultaat oplewer waarvan hy nie hou nie, gevolglik verwerp hy dit. Telkens maak hy die punt dat ‘as ons sus en so na sake kyk, wat bly dan oor van die evangelie?’ Hy het duidelik vooraf standpunt ingeneem dat die ‘evangelie’ behoue moet bly, ongeag wat. Die kleinere verskille wat nie die kern vd evangelie in gedrang bring nie, kan hy aanvaar. Maar as daar aan die kern getorring word, dan skop hy vas. Dis tog nie die ingesteldheid van ‘n wetenskaplike wat objektief soek nie – hy is duidelik ‘n subjektiewe dogmatikus wat vooraf alles verwerp wat dalk die kern van sy siening in gedrang kan bring.
 
Daardie siening kom ook na vore op p220 waar König verskillende maniere van Bybellees bespreek en dan die vlg sê oor fundementaliste se lettelike lees: “Fundamentalisme probeer, welliswaar op onhandig en dikwels regtig onaanvaarbare maniere, die hart van ons geloof verdedig.” König is minder krities met hulle al gebruik hulle bedenklike metodes, want hy (König) wil ten alle koste die hart van die geloof behou. Duidelik dat König vooraf ‘n standpunt inneem en nie bereid is om daarvan afstand te doen nie, ongeag enige nuwe ‘bewyse’ of insigte.
 
König wys daarop dat Paulus se interpretasie van Jesus se dood en opstanding geskryf is voor die evangelies. (p43) Die evangelieskrywers het dus reeds geweet wat Paulus oor daardie gebeure gedink het teen die tyd wat hulle hul verhale opgeteken het. Die feit dat hulle net die feitelike gebeure beskryf en geen interpretasie gee nie, sien König as bewys dat hulle net geskryf het wat werklik gebeur het. Maar wat daarvan dat hulle hul verhale kon aangepas het juis sodat dit inpas in Paulus se vertolking?
 
König verwys na ander verhale van maagdelike verwekking en wys daarop dat een van die belangrikste verskille is dat in Jesus se geval die Gees nie seksuele gemeenskap met Maria gehad nie. (p56) Sonder dat hy dit sê, is dit duidelik hy bedoel dat al die ander soortgelyke verhale nie kan kers vashou by Jesus se verhaal nie. Ek sou graag hier wou sien dat König hier verwys na die talle verhale van ‘n god-mens wat maagdelik gebore is, wonderwerke gedoen het soos water in wyn verander, onverdiend tereggestel is, weer lewendig geword het en opgevaar het na die hemel. Timothy Freke en Peter Gandy skryf in The Jesus Mysteries (2001:5) dat hierdie figuur in Egipte bekend was as Osiris, in Griekeland as Dionysus, in Asia Minor as Attis, in Syrië as Adonis, in Italië as Bacchus, en in Persië as Mithras.  Daardie verhale dateer tot 2000 jr vóór Jesus se tyd, en 25 Desember is ‘n prominente datum in sommige daarvan. Daar is baie meer ooreenstemmings as verskille as mens daardie verhale vergeyk met Jesus s’n. As König reg wou laat geskied aan daardie punt, kon hy al die ander verhale genoem het, en dan aantoon waarom hy meen dat al die ander verhale mites was, maar net die christen weergawe het letterlik plaasgevind. Versamelname soos “buitebybelse verhale” of “mites uit daardie tyd” beteken vir die meeste gewone christene niks – baie van hulle het nog nie eens gehoor dat daar sulke ooreenstemmende verhale bestaan nie.
 
Op p85 wys König op die uiteenlopende sienings wat mense het van wie Jesus regtig was en noem dan: “’n Wysheidsleraar en ‘n sjamaan en ‘n radikale profeet het regtig min gemeen.” Hoe so? Ek sien nie die onoorbrugbare verskille, of teenstrydighede, tussen daardie begrippe nie. König aanvaar sonder verduideliking skynbaar dat lesers met ‘n stok die verskil sal aanvoel tussen daardie beskrywings en daarom is dit nie nodig om dit uit te spel nie.
 
König noem (p141) dat “God se toorn en oordeel is die gepaste reaksie van die liefde van die heilige God wat ons as sy beeld geskep het, en wat verwag dat iets van sy waardes in ons lewe na vore sal kom. Sy toorn is verwerpte liefde. Daarom kan dit ook so sterk wees. Dit wys hoe sterk sy liefde is. As God flegmaties, kalm en onverstoord op ons sonde (dit is nie net ons gebrek aan liefde nie, maar ons verwerping van sy liefde) gereageer het, sou dit beteken het Hy het ons nie regtig lief nie, en ons is nie vir Hom belangrik nie. In hierdie sin sou ons Hom selfs vir sy toorn en sy oordeel kon dank!” En op p143: “Dus kan sy toorn beskryf word as die uiting van sy verwerpte liefde.”
 
Ek vind dit ‘n erg verwronge redenasie.  As ‘n méns so sou reageer in reaksie op verwerpte liefde, sou ons dit onaanvaarbaar vind. Maar God mag maar so optree – en dan moet ons hom nog boonop bedank vir sy toorn! 
 
Waaruit bestaan God se toorn, aldus Koning? Natuurrampe, siektes, oorlog. Omdat die mense nie na God wil luister nie, straf hy hulle op hierdie maniere. Hoe verskil dit van ‘n vroueslaner wat ook kan aanvoer: ek slaan haar, want sy wil nie maak soos ek sê nie? En dan bewonder en regverdig König so ‘n eienskap as Goddelik?
 
Met verwysing na Jesus se woorde ‘ek is die opstanding’ voer König aan: “Dit beteken tog dat Hy opgestaan het, die opstanding plaasgevind het.” (p170) Vir my beteken dit nie noodwendig dat hy fisies opgestaan het nie. Ek wil nie hier in die debat oor die opstanding ingaan nie, behalwe net om te meld dat daardie woorde van Jesus nie noodwendig beteken wat König daaraan toedig nie. Dit is König se interpretasie van daardie woorde – dis nie die enigste (of noodwendig korrekte) interpretasie nie.
 
Op p226 : “Die gedagte van ‘n wrede God wat eers bloed wil sien, [voordat hy vergewe – my invoeging] is vreemd aan die Bybel. Die teendeel is waar.” Maar vir my is dit König se stelling wat vreemd is! Hoe kan hy so sê? Die Bybel is dan vol voorskrifte oor hoe die volk onskuldige diere moet offer vir hul sondes? En dis wat die dominees en pastore met luide keel vir jare vanaf die kansels verkondig het!
 
Daar is ‘n interessante woordkeuse op p226: “Aan die kruis het God dus self voldoen aan die onmoontlike eis (my kursivering) wat Hy aan die mens gestel het.” As König self erken God se eis aan die mense was onmoontlik, hoe kan God dan mense blameer en straf as hulle nie daaraan voldoen nie? Hy het boonop vooraf geweet dit sal onmoontlik wees.
 
Dit het my opgeval hoe kras en neerhalend König met sy opponente werk. Hy verwys na “die beperktheid van sy (dr Ben du Toit se) kerklike en teologiese agtergrond” (p232) en noem ook Du Toit se sienings “’n klomp sinlose slimmighede” (p235). Hy noem dat Julian Muller nie gesprek wil voer nie, maar sy teenstanders wil verneder (p237). Maar is dit nie juis wat König doen nie met sy neerhalende verwysings nie?
 
Ek sukkel om König se redenasie te volg waar hy op p266 vertel dat vroue nie as betroubare getuies geag is nie, en as die evangelieskrywers die opstandingverhaal wou versin sou hulle nie geskryf het dat vroue die eerste persone was wat die leë graf gesien het nie. As dit ‘n gefabriseerde verhaal was, sou hulle meer betroubare getuies gebruik het. Goed, dit maak sin. Maar in die laaste bullet op p266 skryf hy dis ‘n refleksie op die dissipels dat hulle nie die vroue se verhaal dat Jesus opgewek is, wou glo nie. Hoe strook dit met feit dat vroue getuienis as onbetroubaar beskou is? Dan is dit tog geen wonder dat die dissipels nie sommer met die intrapslag die vroue se verhaal wou glo nie. Hoe kan dit ‘n refleksie op die dissipels wees as hulle maar net opgetree het soos wat die gemeenskap in daardie tyd gedoen het, nl om vroue-getuienis met omsigtigheid te hanteer?
 
Ook sy beredenering dat Matteus en Lukas nie afgeskryf het by Markus nie, want hulle het kleiner besonderhede ook aangeteken, is onoortuigend. Hy reken as hulle wou afskryf sou hulle dit presies net so oorgeneem het. Die feit dat hulle nog besonderhede bygevoeg het, toon dat hulle persoonlik kennis daarvan gedra het. Maar wat daarvan dat as hulle slegs Markus woord vir woord oorgeskryf het sonder enige byvoegings van hulle kant af, dan sou dit tog baie duidelik gewees het dat hulle afgeskryf het – gevolglik pas hulle die verhaal ‘n bietjie aan sodat die oorskrywery nie te opvallend is nie. Dit is tog seker ook ‘n moontlikheid.
 
Waar König op p273 skryf oor ons opstandig hou ek daarvan dat hy beskeie is en erken dat dit ‘n misterie is waarvan ons tans eintlik maar min (amper niks) weet nie. Maar tog noem hy dat Jesus nie ‘n ander liggaam gekry het nie, maar dat sy vernederde liggaam verheerlik is. En so, aldus König, sal ons vernederde liggame ook verheerlik word. Gaan al die mense ook beseringsmerke oorhou in hul verheerlikte liggame soos in Jesus se geval? Onthou Jesus se verheerlikte liggaam het nog steeds die kruisigingswonde vertoon. Mense wat met ‘n lelike gesigletsel of geamputeerde ledemaat gesterf het, gaan hulle met daardie sigbare gebreke weer ‘opstaan’?
 
Op p282 kry ons nog ‘n sirkelredenasie. Omdat dualisme nodig is om die evangelie te verstaan, verwerp König monisme. Maar as daar nie ‘n ‘evangelie’ was nie, of as die evangelie dalk heeltemal anders verstaan moet word as wat hoofstroom christendom tot dusver gedink het, dan verdwyn die rede waarom daar dualisme moet wees ook. König se vertrekpunt is die waarheid, nodigheid en geldigheid van die evangelie (soos hy dit verstaan) en daaruit beoordeel hy dan dualisme. Nog ‘n voorbeeld van vooraf standpunt inname en hy verwerp alles wat daardie standpunt in gedrang bring.
 
Sê nou net, vir argumentsonthalwe, daar word onomstootlike bewyse gevind dat die evangelieboodskap nie waar is nie, kan König sê dat hy dit sal aanvaar? Nee, stellig nie, hy (en hoofstroom christene) is nie bereid om hulle sienings prys te gee nie. Aan die een kant wonder ek soms wat dit help om met sulke mense te debatteer - hulle het vooraf besluit hulle is nie oorreedbaar nie. Die ander kant van die munt is ook dat mens maar versigtig moet wees met die waarde wat jy aan sulke mense se argumente verleen. Hulle soek nie na objektiewe waarheid nie, al waarin hulle belangstel is om “hulle” waarheid te verdedig en regverdig.
 
Op p285 bespreek König ‘n wetenskaplike wêreldbeeld en skryf: “Ons het geen ander toegang tot die werklikheid as deur ons sintuiglike waarneming nie...” Hoe kan hy so seker wees hiervan? Wat van intuïtiewe kennis, 6th sense, chanelling, openbaring deur die Heilige Gees? Ontken König die bestaan van al sulke vorms van inligting en kennis? 
 
König bespreek die Bybel se wêreldbeskouing en sê dan op p291: “Hiermee is hoegenaamd nie al die waardes in die Bybel aanvaar of goedgepraat nie. Daar is heelwat waardes wat ons nooit kan aanvaar nie. Daar is waardes wat doelbewus langs die pad van die lang Bybelse geskiedenis verdwyn het. Die waarde om jou vyande te haat en te probeer vernietig is vervang deur die waarde om jou vyande lief te hê.”
 
Dit moes seker heelwat moed gekos het van König om te erken dat Bybelse waardes oor tyd verander het. Dit open egter ‘n interessante vraag of twee. Was daardie waardes God se waardes, of was dit mense se waardes wat hulle opgeteken en oorgedra het asof God se goedkeuring daaragter staan? Is dit werklik God wat telkens beveel het dat ander nasies aangeval moet word, en selfs die swanger vroue en klein kinders met die swaard doodgesteek moet word? As dit inderdaad God was wat sulke opdragte gegee het, dan het God se waardes oor tyd verander, wat dan weer bots met die idee dat God gister, vandag en môre dieselfde is. My siening is dat God nooit sulke bevele gegee het nie – ménse het dit gegee, en om gesag daaraan te verleen, hulle eie woorde voorafgegaan met “God sê” of “Die woord van die Here na my gekom” ens.
 
Na albei kante skep dit ‘n interessante dilemma vir hoofstroom christendom. As ons sê dat dit mense se sienings was, wat hulle aan God toegedig het, dan onstaan die vraag hoe kan ons dan so seker wees dat daar nie nog dele in die Bybel is wat ook mank gaan hieraan nie. Hoe kan ons nou seker wees dat wat bv Paulus of Lukas geskryf het, inderdaad God se woorde was, en nie ook dalk net daardie skrywers se persoonlike weergawes en interpretasies nie -  wat dan ook aan herbesinning en verandering onderworpe sal wees? En as ons sê dit was God se woorde (en waardes) wat oor tyd verander het, dan kan God se waardes seker voortdurend verander. Hoekom dan stop by net sommige veranderinge? Dan kan die waarde dat ons verlossing nodig het, of dat ons verantwoording aan God verskuldig is, tog ook verander, nie waar nie?
 
Ongeveer 2 jaar gelede het ‘n brief van my oor Isak se offer in Die Burger verskyn. Daarin het ek vertel hoedat ek nie die storie vir my 6 jarige dogter kon klaar lees nie en gou-gou moes wegblaai van die onstellende skets wat toon hoe Abraham gereed is om sy vasgebinde kind keel-af te sny. En ek het my ontsteltenis verwoord oor die karakter van ‘n God wat sulke dinge van sy volgelinge vra. Interessant dat König (p291) dieselfde ervaring deurgemaak het met sy kleinkind en ook vinnig die angswekkende storie weggepraat het.
 
Soos König gedoen het tydens die polemiek na die verskyning van sy boek, stel ek vir hom ook ‘n paar eenvoudige reguit vrae. Dink hy God het Abraham beveel om Isak te offer? Vanaf die gee van die opdrag tot by die uitkoms het 3 dae verloop. Was dit deurentyd God se plan om Abraham vir daardie 3 dae te laat wroeg onder die indruk dat hy sy seun moet gaan keel-af sny? Of dink hy Abraham (of die Bybelskrywer) het verkeerdelik hierdie gebeure aan God toegedig? Indien lg, hoe kan hy so seker wees dat bv Paulus se sienings inderdaad God se siening weerspieël? Hy meld hy was geskok toe hy die storie van Isak se offer vir sy kleinkind lees. Ek aanvaar sy geskoktheid het oa te doen gehad met die wreedheid van die storie, en hoe ‘n liefdevolle God daarmee vereenselwig kan word. Dan moet hy tog ook geskok wees oor die hoofstroom christensiening dat God die ongereddes vir altyd en altyd gaan martel in ‘n vuur. Hoekom sou hierdie wrede nimmereindigende straf van God enigsins minder skokkend wees as Isak se storie? 
 
Op p292 gee König sy eie 4 kriteria waaraan mens kan meet of sekere Bybelse waardes vandag nog geld. Dit laat die vraag ontstaan of elke persoon dan sy eie kriteria kan skep waarmee die Bybel beoordeel word? König bedoel tog seker nie dat sy 4 kriteria die enigste geldige maatstaf is nie. My gevoel met die lees hiervan is dat dit König se eie skepping is om die evangelie te red. Hy sê ook: “Maar daar is wesenlike fasette wat ons nie kan prysgee of aanpas nie, anders verloor ons die evangelie self.” Dit is egter nie ‘n goeie rede waarom ons dit nie kan prysgee nie. Dit is duidelik dat König vooraf besluit het dat die kern van die evangelie behoue moet bly, ongeag wat.
 
Op p293 noem hy dat die opstanding van Jesus, of die bestaan van bose magte, nie deur eksperimente bepaal kan word nie. “Daar is net getuienisse.” Op grond van die ooggetuie verslae van ‘n paar honderd mense is König tevrede om te aanvaar dat Jesus inderdaad fisies opgestaan het. Ek wil nie hier die punt debatteer oor of, en hoe, die opstanding plaasgevind het nie. Wat my wel daarvan opval is dat hoofstroom christene (waarskynlik König ook) nie bereid is om dieselfde toets (nl getuienisse) toe te pas tov ander gebeure nie. Daar bestaan duisende, indien nie miljoene, getuienisse van mense oor onderwerpe soos UFO’s, telepatie, en hipnose. Om konsekwent te wees moet daardie getuienisse ook voldoende gronde wees om sulke verskynsels te aanvaar. Maar nee, as ons by sulke dinge kom, dan is getuienis (vir die meeste hoofstroom christene) nie meer goed genoeg nie.
 
König reken dat die Nuwe Hervorming “min invloed (het) in die gevestigde kerke en sekulêre wêreld”. Ek wonder of dit regtig so is – dalk is dit eerder Koning se wens dat dit so moet wees. In my ervaring is daar talle mense wat op die oog af lyk of hulle nog die partybeleid aanhang, maar praat met hulle een tot een, dan blyk dit dat hulle hierdie dinge al lankal bevraagteken – ek vermoed dat dit selfs vir sommige predikante geld. Vir baie is daar eksterne faktore wat hulle verhoed om hul denke en vertwyfelinge openlik te deel. Daar is al hoe meer mense uit alle oorde wat na vore kom en ook voel dat hierdie ou paradigma denke uitgedien is. En die meeste van hulle neem nie deel aan openbare podiums soos webwerwe, en koerantdebatte nie.
 
Ek is dankbaar vir König se erkenning dat die kerk “nie die groot massa van ons lidmate geleer (het) om vrae oor die Bybel te vra nie” (p308)
 
König is in my opinie reg as hy voel dat huidige strominge die hart van die evangelie aantas, en dat die evangelie inderdaad op die spel is. Hy voer egter nie sy eie argumente konsekwent deur nie omdat hy vooraf besluit het dat die evangelie (soos hoofstroom christendom dit verstaan) behoue moet bly.
 
 
Leon Atterbury
Somerset-Wes
Mei 2009