EKOLOGIESE SAMEHANG

Schalk Burger

Ek wil baie kortliks oor ekologie praat en gaan eers by 'n paar definisies stilstaan
voordat ons na 'n klompie voorbeelde gaan kyk.

Die woord ekologie is afgelei van die Griekse woorde oikos , wat tuiste beteken en logos , wat studie beteken. Ekologie beteken dus letterlik die studie van ons tuiste nl. die aarde. Daarom is dit 'n baie wye onderwerp wat alle natuurlike dinge, lewendig of nie, op ons planeet insluit. Dit verwys ook na die studie van verwantskappe, soos bv. tussen plante en klimaat, grond en rots, diere en plante, ens. In die laaste plek verwys dit na die prosesse wat in die natuur plaasvind, prosesse wat die interaksie tussen die onderskeie elemente van die natuur behels.

'n Ekostelsel is die interaksie van 'n gemeenskap van organismes met mekaar plus die omgewing waarbinne dit plaasvind.

Interaksie tussen spesies is miskien vir ons die bekendste. Eerstens is daar predasie – leeus wat rooibokke vang, rooikatte wat dassies vreet, uile wat rotte vang, ens. En ons is geneig om te dink dat predasie eensydig is – net tot voordeel van die roofdier. Maar dis nie waar nie want predasie het 'n 'n gesonde prooibevolking tot gevolg. Omdat die swakker individue uit die bevolking verwyder word, word die beste genetiese basis verseker ngtermyn oorlewing van die spesie.

In die meeste kulture word parasiete as peste gesien maar hulle het ook 'n belangrike rol in die natuur omdat, weereens, die swakker individue ge-elimineer word.

Daar is ook meer positiewe interaksies. Kommensialisme vind plaas wanneer twee organismes of spesies saamleef en een word bevoordeel sonder om die ander skade aan te doen:

  • Verkryging van voedsel: Veereiers en beeste: Die veereiers vang die insekte wat deur die beeste opgejaag word.
  • Ondersteuning: Klimplante gebruik bome vir ondersteuning om sodoende hul blare in die son te kry om te kan fotosinteer.
  • Vervoer: Miskruiers en myte: Die myte klim op die miskruier en word vervoer wanneer die miskruier na 'n volgende bestemming vlieg.

Mutualisme, waar twee spesies saamleef en albei voordeel daaruit trek:

  • Vertering: Zebras en organismes in hul spysverteringskanaal.
  • Voortplanting: Vye en wespes

Dis nie net organismes wat interaksie met mekaar het nie maar ook die omgewing wat met organismes interaksie het. 'n Voorbeeld is grond en plante, waar die kwaliteit van die grond die groei van die plant beïnvloed. Nie-lewende elemente kan ook met mekaar in wisselwerking wees, soos bv. geologiese formasies wat aanleiding gee tot spesifieke grondsoorte, ook as gevolg van klimaatsoestande. Spesifieke plantsoorte sal spesifieke herbivore (plantvreters) lok wat weer spesifieke roofdiere sal lok.

Interaksies soos kommensialisme en mutualisme maak nuwe moontlikhede vir spesies oop. Ligene is 'n goeie voorbeeld hiervan waar 'n alg en 'n fungus kragte saamsnoer om in moeilike omgewings te oorleef, soos bv. op kaal rotse.

Ons begin sien nou 'n nuwe dimensie ontwikkel. Sekere spesies het ander spesies nodig maar so ook het sekere spesies sekere omgewingstoestande nodig. Bv. die planktonontploffings (rooigety) aan die Weskus kan nie plaasvind as die Suidooster nie vir 'n paar dae sterk gewaai het om sodoende die verskynsel van opwelling te veroorsaak nie. Die opwelling bring voedselryke water na die oppervlakte waar die plankton dit kan benut. Die plankton begin teen 'n geweldige tempo vermeerder, in so 'n mate dat hulle in massas begin vrek. Die dooie plankton vorm die rooigety. Ons kom dus uit by interafhanlikheid: geen spesie kan onafhanklik van ander spesies en die omgewing bestaan nie.

Dave Pepler van Groen op Kyknet het eenkeer gesê dat wanneer hy na die wonders van die natuur kyk hy oortuig is dat hemel hier op aarde is. Een van die wonders in die natuur wat my laat dink dat Dave dalk reg is, is die interaksie tussen vye en wespes. Onthou ons het vroeër gesê dat dit met voortplanting te doen het.

Die simbiose tussen vye en wespes is 'n lang proses van evolusionêre aanpassing wat in die Kryttydperk 100 miljoen jaar gelede begin het toe die Ficus- genus ontstaan het. Daar is vandag meer as 900 Ficus- spesies in die wêreld en elke wildevyspesie het sy eie spesie wespe. Die wespe bevrug die vy en as teenprestasie word hy toegelaat om sy eiers in die blomme te lê en dus ook voort te plant. Hoe werk dit?

Die vrug van die wildevy is eintlik 'n saamgestelde blom want binne die omhulsel of skil is daar honderde klein blommetjies. Daar is manlike sowel as vroulike blomme. Die vroulike blomme raak volwasse aan die begin van die vy se voortplantingssiklus en die manlike blomme aan die einde. Die klein gaatjie aan die onderkant van die vy is bedek met 'n digte versameling van skubbe.

Wanneer die vroulike blomme ontvanklik raak, is die vrug so 2-4 weke oud, klein en groen. Dit is op hierdie stadium dat die die vrug deur een of meer stuifmeeldraende vroulike wespes binnegedring word.. Hulle gaan die vy binne deur die klein opening en word aangelok deur 'n chemiese sein, die reuk van die vroulike blommetjies, en slegsdie spesifieke wespespesie vir die spesifieke wildevyspesie word aangelok. Die vroulike wespe het sekere fisiese aanpassings wat dit vir haar moontlik maak om tussen die skubbe wat die gaatjie bedek, deur te kom. Die aanpassings behels 'n plat kopsegment en gemodifiseerde voelers, kake en pote.

Gedurende die ontvanklike tydperk, wat 'n paar dae duur, raak die skubbe om die gaatjie effens losser en vorm klein spleetjies. Die vroulike wespe druk nou haar plat kop onder die skubbe in en beur vorentoe ten einde haar deur die opening te forseer. In hierdie proses word die voelers en die vlerke afgestroop. Die aantal wespes wat die vy binnegaan ,word beheer deurdat die skubbe om die gaatjie aan die einde van die toeganklike tydperk toegaan.

Die wespes wat nou binnekant is begin onmiddellik eiers lê en in die proses die vroulike blommetjies te bevrug met die stuifmeel wat hulle dra. Na 'n paar uur van eiers lê, (in gunstige toestande kan dit honderde wees) vrek die wespe.

Die larwes wat uitbroei begin teer op die jong vrugbeginsels, wat die gevaar laat ontstaan dat nie een sal oorbly om saad te produseer nie. Daarom ontwikkel die vy twe tipe vroulike blomme, een met kort steeltjies en een met lang steeltjies. Die wespe se lêboor kan slegs die vrugbeginsel van die kortsteelblommetjies bykom om haar eiers in te lê. Maar sy weet dit nie vooraf nie en probeer dus ook die langsteelblommetjies bykom, sonder om 'n eier te lê, maar sy bevrug steeds die blommetjie.

Die bevrugting van die vy is 'n doelbewuste aksie en verseker die voortplanting van die vy en daarom ook van die wespe. Nie een van die wespe se se organe, soos bv. die spesiale stuifmeelsakkies op sy maag of die instinkte gerig op die bestuiwing van die vy het enige direkte gebruike vir die wespe nie.

Nadat bestuiwing plaasgevind het, vergroot die bevrugte vrugbeginsels en vul die hele binnekant van die vy. In die proses word die oorblywende wespes vergruis. In die langsteelblomme ontwikkel nou die vy se sade en in die kortsteelblomme leef die larwes van die die wespes. Na 'n paar weke, soos die vy groter word en daar weer 'n sentrale holte gevorm het, begin die manlike wespes uit hul omhulsels te voorskyn kom. Hulle is larwe-agtige insekte sonder vlerke.

Die manlike wespe gebruik nou sy voelers om die vroulike wespes in hul omhulsels op te spoor. Hy byt 'n gat in die wand van die omhulsel en bevrug die vroulike wespe. Sodra al die vroulike wespes bevrug is, boor die manlike wespes een of meer tonnels deur die wand van die vy. Die instroming van vars lug verdun die hoë konsentrasie van koolsuurgas binne die vy en 'n ewewig ontstaan tussen die interne en eksterne atmosfeer. Die toename in suurstof is 'n teken vir die manlike blomme om ryp te raak. Die vroulike wespes begin nou om doe gaatjies waardeur bevrugting plaasgevind het te vergroot en kom uit hul omhulsels uit. Hulle het vlerke en is meer delikaat as die manlike wespes.

Die vroulike wespes skraap die stuifmeel van die manlike blommetjies met hul harige voorpote bymekar en versamel dit in die stuifmeelsakkies. Hulle kruip nou deur die tonnels en vlieg weg na 'n ander wildevy wat in 'n ontvanklike stadium is. Die proses word herhaal en duur 50-60 dae.

Ons het gekyk na die wonderbaarlike simbiose tussen wildevy en wespes vir die doel van voortplanting maar die wildevyeboom is natuurlik 'n klein ekostelsel op sy eie. Voëls en ander diere vreet sy vrugte en versprei so die saadjies. Daar is roofdiere wat op die kleiner diere jag maak en daar is organismes wat die vrugte wat op die grond beland benut, ens., ens.

Ek wil egter in meer detail van 'n ander ekostelsel vertel wat baie van die elemente van interafhanklikheid illustreer. Dit is die versamelvoëlnes.

Heel eerste kyk ons na die invloed van die omgewing. Versamelvoëls kom nie orals voor nie maar in 'n breë band wat in 'n noord-noordwestelike rigting strek vanaf Kimberley tot by die Kunenerivier. Hoekom is dit so? Versamelvoëls bou hul neste van gras. Die klimaat moet dus die groei van gras bevorder en daar moet voldoende en geskikte gras beskikbaar wees. Daarom dat hulle die Namib vermy. Daar is nie voldoende gras nie. Maar in die oostelike dele van Suid-Afrika is daar volop gras. Hoekom kom hulle nie daar voor nie? Daar is 'n goeie rede daarvoor. Die versamelvoëlnes bestaan uit gras, wat in gebiede van hoë reënval mettertyd sal verrot. Opsommend moet dit dus genoeg reën vir gras om te groei maar min genoeg met genoeg sonskyn in die reënseisoen dat die gras nie verrot nie.

Die neste word dikwels in kameeldorings gebou en huisves gewoonlik tussen 50 en 60 broeipare. Elke nes het 'n aparte kompartement vir elke broeipaar, die woonstelblok van die Kalahari! Elke individuele nes het sy eie aparte ingang en die ingang word beskerm teen roofdiere deur sterk, harde grashalms rondom die ingang te rangskik op sò 'n manier dat dit vir roofdiere moeilik is om daar in te kom. Maar hoekom so 'n groot en ingewikkelde nes? Die nes met sy grasdak bied skadu in die somer, insolasie in die winter en beskerming teen reën. Dit bied dus 'n mikroklimaat waar die temperatuurskommelings tussen winter en somer en dag en nag relatief klein is. Dit maak dit vir die versamelvoëls moontlik om dwarsdeur die jaar te broei in klimaattoestande waar dit nie normaalweg moontlik sou wees nie. Maar hoekom wil hulle deur die jaar broei? Die rede is die geelslang. Nieteenstaande die veiligheidsmaatreëls sal die meeste geelslange daarin slaag om by individuele neste in te kom om die eiers of kleintjies te vreet. 'n Geelslang kan 'n hele nes se bevolking van kleintjies uitwis. Maar in die winter slaap die geelslang en dan broei die versamelvoëls steeds en kan hulle sodoende die spesie se voortbestaan verseker.

'n Ander baie interessante interaksie is diè met die dwergvalkie. Die meste versamelvoëlneste het 'n inwonende dwergvalkie. Hy beset een van die individuele neste en mens kan hierdie nes onderskei aan die wit mis by die ingang. Die versamelvoëls se mis bly binne die neste omdat dit help met temperatuur- en vogbeheer. Die dwergvalkie sal normaalweg nie op die versamelvoëls jag maak nie want hy leef van insekte en klein reptiele soos geitjies en akkedisse. In ruil vir huisvesting bied die dwergvalkie beskerming teen ander roofvoëls. Roofvoëls het klaarblyklik 'n etiese kode wat verhoed dat een roofvoël in 'n ander se terratorium oortree. Nieteenstaande die dwergvalkie se gootte skrik sy teenwoordigheid dus ander roofvoëls, wat wel op die versamelvoëls sal jag maak, af.

Breëkoparende en reuse ooruile gebruik die dak van die neste vir hul eie neste, sonder om die versamelvoëls skade aan te doen.

Versamelvoëlneste kan soveel as 'n paar ton weeg en word daarom dikwels in groot kameeldorings gebou. 'n Boom se takke het groot buigsaamheid en sterkte wanneer hulle lewendig is, as gevolg van die kapillêre water. Tydens erge droogtes vrek selfs groot bome, die takke droog uit en verloor hul soepelheid en sterkte en diè met 'n swaar nes aan die punt breek af en beland op die grond. Die gras, gemeng met voëlmis is dan in 'n tyd van voedselskaarste 'n bron van protoïen vir die grasvreters. Alternatiewelik is dit 'n bron van bemesting vir die plante in die omgewing en so word die siklus voltooi.

Uit slegs hierdie paar voorbeelde (en daar is duisende ander) kom mens agter hoe ongelooflik verweefd en in fyn balans die natuur is. Vir my is dit die lewendige en voortgaande bewys van die skepping en moet ek met Dave Pepler saamstem dat die hemel in baie opsigte inderdaad hier by ons is. Die moderne mens is primêr daarvoor verantwoordelik dat die balans in die natuur versteur word met die gevolg dat letterlik duisende spesies se voortbestaan bedreig word. Dit is dus belangrik dat ons bewus raak van en 'n gevoeligheid ontwikkel vir hierdie wonders om ons sodat ons 'n bydrae kan maak om dit vir ons kinders se kinders te bewaar. En ons moet die boodskap begin versprei, nie net in ons skole nie maar ook in ons kerke want dit is die verantwoordelikheid wat ons rentmeesterskap van die aarde, ons tuiste, op ons plaas.