Dr Isak Burger se Irrasionele Aanval op die Nuwe Hervorming

deur Hansie Wolmarans

Dr Isak Burger, president van die AGS, maak in die Algemene Kerkbode, (Beeld 8-10 Aug 2002), 'n ongekende aanval op die Nuwe Hervorming. Hierdie artikel behoort verpligte leesstof te wees in enige kursus oor logika of retoriek. Waarskynlik bevat dit die meeste drogredenasies per vierkante sentimeter wat ooit oor hierdie onderwerp geskryf is. Ons kry voorbeelde van die argumentum ad hominem (persoonlike aanval), die circulus in demonstrando (sirkelredenasie), die strooipopargument (wanvoorstelling van idees), die argumentum ad numerum (getalsargument), die oorveralgemening ("almal glo dit"), die pragmatiese waarheidsdefinisie , en die argumentum ad verecundium (gesagsargument).

Sy uiteensetting sentreer rondom die klassieke ad hominem (val persone aan, eerder as die argument): Die Nuwe Hervorming is 'n kombinasie van die ergste dwalings in die geskiedenis: Pelagianisme, Arianisme, Modernisme, Rasionalisme, Humanisme, Aufklärung, "'n Eerste-wêreld benadering" en die New Age. Sjoe. Natuurlik weet die gemiddelde leser nie waarna al hierdie name verwys nie, maar dit maak nie saak nie. Dit funksioneer as vloekwoorde (soos "kommunis" of "liberalis" vroeër jare), en dit is voldoende vir Burger om 'n punt te maak.

'n Nuwe beweging in die teologie skep natuurlik sy eie voorgangers. Sê nou maar dit is waar dat die Nuwe Hervorming aansluit by vorige idees in die kerkgeskiedenis. Veronderstel verder hierdie idees is toe as kettery verwerp. Maak dit die gedagtes van die Nuwe Hervorming outomaties verkeerd? Natuurlik nie. Binne ons protestantste tradisie het ons geensins die idee van 'n onfeilbare kerk nie—die kerk kan foute maak! Hiervan is daar talle voorbeelde. In die sestiende eeu het Luther en Zwingli die beweging van die Wederdopers as ketters gebrandmerk. In vele opsigte was hierdie groepe voorlopers van die AGS waarvan Burger die president is. Sê nou maar iemand sou vandag sê, die AGS is ketters omdat die Wederdopers as ketters beskou is—hoe sal Burger hierteenoor reageer? Hy sal (en ek dink heeltemal tereg) voel dat Luther en Zwingli in hierdie opsig verkeerd was. Nou hoekom gebruik Burger 'n soortgelyke drogredenasie om die Nuwe Hervorming as 'n kettery te etiketteer? Hy sou eerder moes beredeneer hoekom die name wat hy noem dwalinge was, en hoekom die Nuwe Hervorming soos hulle is.

En dan is daar die gewilde strooipopargument. Jy maak 'n wanvoorstelling van jou opponente se argumente. Burger sê die Nuwe Hervorming ontken onder andere Jesus se  maagdelike geboorte en die opstanding. Dit is onwaar. Wat ons wel probeer doen, is om dié sake in hulle antieke konteks te lees en akkuraat te interpreteer.

Die sirkelargument is waar Burger stel dat die bonatuurlike (wonderwerke, engele, demone) nie rasioneel verklaarbaar is nie. Waarom nie? Want hierdie sake is bonatuurlik. Die argument eindig waar dit begin: 'n perfekte sirkelredenasie. Die hoofstroom protestantisme (en nie net die Nuwe Hervorming nie) sê natuurlik dat hierdie dinge in die Bybel wel rasioneel verklaarbaar is. Engele is mitiese wesens wat nodig was om as boodskappers tussen die hemel bo die wolke en die aarde op te tree. Demone is gebruik om siektes te verklaar wat ons vandag weet deur chemiese wanbalanse in die brein veroorsaak word.

Maar wie besluit nou wat rasioneel is en wat nie? Niemand anders as Dr Burger self nie ('n gesagsargument). Omdat hy só sê, moet ons aanvaar wanneer ons die verstand wat God ons gegee het mag gebruik en wanneer nie. Om die waarheid te sê, hy stel geloof gelyk aan wonderwerke, die duiwel en engele! Die implikasie is dat alle Christene wat hierdie sake in die Bybel as tydsgebonde interpreteer (dit wil sê relativeer), ongelowig is. Sy waarheidsdefinisie is ook pragmaties. Dit wat "werk" is waar, en dit wat nie "werk" nie, is onwaar. Baie mense sal sê die Jabesgebed "werk" vir hulle. Dit maak egter nie die teologiese onderbou van hierdie welvaartsteologie "waar" nie.

Dis net 'n "klein klompie wittes" wat deur die Nuwe Hervorming gefassineer word wat vrae vra "wat nie regtig meer gevra word nie." Hier het ons eintlik twee denkfoute, naamlik die beroep op getalle en 'n oorveralgemening. Nouja, die kerkgeskiedenis wys dat die meerderheid nie altyd reg was nie. Laat ons maar onthou dat Jesus en sy groep 'n klein minderheid was. 'n Ander brief in die Algemene Kerkbode op bladsy 5, geskryf deur Japie Grove van Wellington, worstel juis met dieselfde vrae as die Nuwe Hervorming: Kan ons nog sê die Christendom is die enigste venster op God? Wat in die Bybel is waar en wat nie? Hoe kan ons die Bybel verantwoordelik gebruik? Hoekom is sekere mense binne die Christendom só onverdraagsaam?

Sê nou maar iemand skryf in die koerant die aarde is plat. Sou enige persoon dit nodig ag om hom van 'n "kombinasie van die meeste groot dwalings en ketterye" of van "arrogansie en beterweterigheid" te beskuldig? Nee. Ons sou miskien hieroor lag en dit ignoreer, of dié stelling met eenvoudige bewyse weerlê. Hoekom gebruik Burger dan byna 'n halwe bladsy om 'n ad hominem aanval te doen op mense wat hy klaarblyklik as 'n waardelose minderheid beskou? Na my mening, is dit omdat hy bang is. Hy vrees die idees van die Nuwe Hervorming, want diep in sy hart weet hy dat hulle reg is: die Christendom is nie 'n unieke openbaringsgodsdiens nie; die Bybel bevat wesenlike teenstrydighede; ons kan nie langer die premoderne wêreldbeeld ('n kosmos vol demone, engele en wonderwerke) onkrities oordra op die tyd waarin ons vandag leef nie; ons kan anders oor God praat as oor 'n persoon.

Respek kom voor gesprek. Ek hoop ons kan die debat in die toekoms op 'n basis van rasionaliteit en wedersydse agting voer.