Oor doodloopstrate en omweë: 'n Bespreking van Jaap Durand se boek Doodloopstrate van die geloof — 'n Perspektief op die Nuwe Hervorming .
Sakkie Spangenberg
Die Nuwe Hervorming Netwerk het pas sy eerste verjaardag gevier. Alhoewel die netwerk nie duisende lede het nie, bly dit vir vele Afrikaanssprekende Christene 'n doring in die vlees. Heelwat tydskrif- en koerantartikels wat deesdae oor die Christelike geloof handel, bevat nie net 'n verwysing na die Nuwe Hervorming, maar dikwels ook negatiewe kommentaar.
Neem as voorbeeld Sarie van September 2005. Daarin verskyn 'n artikel deur Martie Swanepoel onder die opskrif "Nuwe honger na kerke van hoop". Izak de Villiers, een van die mense wat kommentaar lewer, maak daarin die volgende opmerking: "Die sogenaamde Nuwe Hervorming, wat byvoorbeeld vraagtekens agter die Godheid van Christus plaas, sal nie 'n lang asem hê nie, want dit verklein die wêreld van die geloof."
'n Tweede voorbeeld is die koerant Die Vrye Afrikaan van 19 Augustus 2005. Dit bevat 'n hele aantal artikels waarin na die Nuwe Hervorming/Hervormers verwys word. Danie Goosen skryf in sy artikel met die titel "Die kerke, die neoliberale orde en die gemeenskap" die volgende sinne: "Die hedendaagse splitsing tussen ‘teologie' en ‘historiese navorsing' is 'n gevolg van die liberale erfenis. Dit vind vandag uitdrukking in die spanning tussen die Afrikaanse kerke enersyds en die sogenaamde Nuwe Hervormers andersyds." Dan gaan hy voort om die "Nuwe Hervormers" te kritiseer deur daarop te wys dat hulle volgens hom "slegs ou modernistiese uitgangspunte herhaal." Johann Rossouw kap ook na die Nuwe Hervormers in sy artikel onder die opskrif "Die spoke van die NG Kerk en die spore van sy toekoms". Volgens hom heers daar onsekerheid oor die NG Kerk se identiteit en verskil die debatte wat in die noorde en in die suide van die land gevoer word. "In die noorde, met sy buitengewoon groot getalle teoloë rondom UP en UNISA, is die onsekerheid hervertaal in die vraag oor hoe die Bybel vandag gelees moes word", aldus Rossouw.
Stefan Louw deel ook 'n steelhou uit. In sy artikel onder die opskrif "Die debat oor Skrifgesag: Oor nuwe hervormers, charismate en tradisionaliste" deel hy Danie Goosen se mening dat die Nuwe Hervormers "kampvegters van die modernistiese rasionaliteit" is.
Maar dit is nie die einde nie. Jaap Durand, oud-viserektor van die Universiteit van Weskaap, het pas 'n boek gepubliseer onder die titel Doodloopstrate van die geloof: 'n Perspektief op die Nuwe Hervorming (2005). Vir die eerste keer sedert die gesprek oor 'n moontlike nuwe hervorming binne die Christendom in die RSA op dreef gekom het, neem 'n dogmatikus die gesprek ernstig op en gee sy perspektief weer. Adrio König het wel vroeër in sy boek Wat is reg? Weet iemand dalk? (2005) 'n hoofstuk aan die Nuwe Hervorming afgestaan, maar sy standpunt is nie so beredeneerd soos Durand s'n nie en hy fokus hoofsaaklik op Sakkie Spangenberg se voorlegging aan die NG Ring van Lyttelton.
Durand se boek is goed versorg en lyk vir 'n keer soos 'n goeie boek behoort te lyk. Daar is nie blokdiagramme, of blokke met herhalende notas nie. Daar is ook nie oordadig gebruik gemaak van ander lettertipes nie. Sy skryfstyl is gemaklik en 'n mens volg sy redenasies sonder moeite. Ek meen egter dat gewone lesers wat nie onderlê is in die filosofie nie, moeite met hoofstuk 5 en 6 gaan ondervind. Maar hierdie twee hoofstukke is van die bestes in die boek en dit sal lesers baat om dit meer as een keer te lees. Dis duidelik dat hier iemand aan die woord is wat 'n breë kennis het van die ontwikkeling van die filosofiese tradisie in die Westerse wêreld.
Durand open sy boek met 'n hoofstuk wat handel oor die veranderende Suid-Afrikaanse godsdienstige landskap. Hierin verwys hy na Willem de Klerk se boek Die vreemde God en sy mense (1998), Ben du Toit se boek God? Geloof in 'n postmoderne tyd (2000), en na die boek Die Omstrede God (2004) wat die LitNet-debat van 2003 weergee. Na my mening verhoog dit die waarde van sy boek. Hy erken dat daar 'n groter gesprek oor God en godsdiens binne Afrikaansprekende geledere aan die gang is as wat vele dominees wil erken. Hy sluit die hoofstuk af met die vraag of die Nuwe Hervorming 'n tuiste vir die twyfelaars en ondervraers buite die tradisionele kerke kan bied. Dis veelseggend dat hy nie kennis geneem het van die boek van Annelie Ferreira met die titel Die dag toe ons God gevang het: 'n Persoonlike soektog na sin (1996) nie. Sy het vóór teoloë haar uittog uit die tradisionele Christendom op 'n aangrypende wyse verwoord en uitgewys waar probleme lê.
In hoofstuk twee gee Durand sommige van die gespreksgenote in Die Omstrede God se standpunte weer om só uit te wys wat mense kwel. Dit blyk dat die Bybel en die kerklike aansprake oor die Bybel die meeste onder skoot kom, maar die bestaan van God en die idee dat Jesus 'n verlossergod is, is ook hoog op die agenda. Hy som die toedrag van sake soos volg op: "Met die lees van die Internetbriewe oor rasionaliteit en wetenskap, kom 'n mens weereens onder die besef daarvan dat die kerk in die beskuldigdebank staan" ( Doodloopstrate : 17). Voorts is hy van mening dat ateïste, agnostici, skeptici en ondervraers deur die bank met 'n geslote wêreldbeeld werk. Hiermee bedoel hy dat hulle voorrang gee aan die wetenskaplike wêreldbeeld wat volgens hom nie rekening hou met die moontlikheid dat 'n God of 'n hoër orde buite-om die wetenskaplike verklaarbare kan werk nie. Teenoor die wetenskaplike ateïste, agnostici, skeptici en ondervraers stel hy die nuwe hervormers wat volgens hom probeer om sinvolle antwoorde op die eerste groep se vrae te gee. In die res van sy boek probeer hy 'n antwoord bied op die vraag of die nuwe hervormers wél daartoe in staat is, en of hulle nie self die wetenskaplike wêreldbeeld ten prooi geval het nie. Hy stel dit so: "Die vraag is dus in welke mate die denkraamwerk van die Nuwe Hervorming ook hierdie uitgesproke modernistiese ateïste en agnostici, of diegene op pad daarheen, op só 'n manier kan aanspreek dat hulle ten minste sal luister" ( Doodloopstrate : 23).
Hoofstuk drie gee die sienings van 'n aantal van die gespreksgenote rondom 'n moontlike nuwe hervorming weer. Die sienings van Pieter Craffert, Piet Muller, Jacques en Carol Kriel, Sakkie Spangenberg en Hansie Wolmarans kom aan die bod. Wat opval, is dat Pieter Botha se uiteensetting van die nuwe navorsing oor die historiese Jesus glad nie bespreek word nie. Hy het 'n hoofstuk in die boek Die Nuwe Hervorming (2002) oor Rabbi Jeshua van Nasaret geskryf en uitgewys dat daar 'n verskuiwing plaasgevind in sommige Nuwe-Testamentici se omgang met die tekste. Die ontdekking van die Dooie Seerolle het vele gehelp om die wêreld waarin Jesus geleef het, te konstrueer en Jesus teen die agtergrond daarvan te verstaan. Durand se oordeel dat die gespreksgenote rondom 'n nuwe hervorming onwetend napraters van Rudolf Bultmann (1884–1976) is, illustreer sy eie onkunde oor hierdie Joodse wêreld. Dis 'n wêreld wat Bultmann nie verdiskonteer het in sy publikasies nie en wat dogmatici in Suid-Afrika ignoreer. Die verwerking van die inligting wat die Dooi Seerolle bied, het maar eers sedert die sewentigerjare op dreef gekom. Durand moes veel eerder kennis geneem het van die standpunte van Cees den Heyer, die afgetrede Nuwe-Testamentikus van Kampen in Nederland as hy kommentaar wil lewer oor die nuwe hervormers se geesgenote. Cees het met vervroegde pensioen gegaan vanweë die oplaaiende spanning tussen hom en die Gereformeerde Kerke in Nederland. Sy standpunt oor die versoeningsleer, die Joodsheid en mensheid van Jesus, die absoluutheidsaansprake van die ortodokse Christendom, ens. is vir vele lidmate onaanvaarbaar. Hy verwoord sy kopskuif in sy outobiografie met die titel Ruim geloven: Een theologisch zelfportret (2000) en sy standpunt dat daar spanning bestaan tussen die boodskap van Jesus en die boodskap oor Jesus in sy boek Van Jezus naar Christendom: De ontwikkeling van tekst tot dogma (2003).
Wat opvallend is, is dat Durand ook die puik artikel van Maretha Jacobs in die boek Die Nuwe Hervorming ignoreer. Sy toon aan hoedat die Pastorale briewe van die Nuwe Testament manlike teoloë deur die eeue verlei het om vroue se rolle binne die Christendom te defineer en te omskryf. Vir 'n tweede keer ignoreer hy dus 'n belangrike vroulike stem en toon sodoende sy onbegrip vir die feit dat die Nuwe Hervorming vroulike belewenisse en spiritualiteite beter akkomodeer as die gereformeerde kerke. Sommige van hierdie kerke laat wel vroue deesdae tot kerklike ampte toe. 'n Byna tweeduisend jaaroue tradisie is omvergewerp sonder dat daardie kerke die radikaliteit van hulle handelinge vierkantig in die oë gekyk het. Hulle gee voor dat hulle byderwets en modern geword het, maar verwag van vroue om die tradisionele Christelike dogmas klakkeloos te aanvaar en hulle rolle binne die kerke daarvolgens te definieer. Vroue word steeds met argaïese formuliere in die amp van ouderling bevestig. Daar is aan die bewoordings van hierdie tekste nie 'n woord verander nie. Dalk is Daphne Hapson reg wanneer sy in haar boek After Christianity betoog dat die ortodokse Christendom van huis uit nie vroulike spiritualiteit kan akkomodeer nie.
In hoofstuk vier sit Durand sy bespreking van die standpunte van die Nuwe Hervorming voort, maar hierdie keer fokus hy op die kwessie van modernisme en 'n postmoderne geloof. Hy oordeel negatief oor Pieter Craffert se standpunt dat die Nuwe Hervorming homself losgemaak het van die moderne denkraamwerk met sy kenmerkende ongevoelig vir kultuurverskeidenheid en vir verskillende wêreldbeelde. Hy stel Pieter se sienings soms teenoor Sakkie Spangenberg s'n en gebruik laasgenoemde se idees (soos verwoord in sy verweerstuk) om Pieter se sienings te ondermyn. Hy speel die twee se sienings teenoor mekaar af om dan te konkludeer dat die nuwe hervormers inkonsekwent is. Hy maak onder andere die volgende stelling: "Die modernisme kom by die agterdeur in nadat Craffert dit by die voordeur weggewys het" ( Doodloopstrate : 42). Ook in hierdie hoofstuk duik die naam van Bultmann op en sê Durand: "Waar Bultmann hom verset teen die idee van 'n sedeboek wat van Jesus bloot leraar en voorbeeld maak, eindig die nuwe hervormers presies daar." Hierdie stelling bewys dat Durand nie die omvangryke navorsing rondom die Joodse Jesus ernstig bejeën nie. James Charlesworth ('n kenner van die Dooie Seerolle) maak die volgende veelseggende opmerking in sy opstel "The Dead Sea Scrolls and the Christian Faith" in 'n gelyknaminge boek: "It is now clear that we have insights into Jesus' time which Augustine did not know about, and that this new information, as well as the cultural climate at the end of the second millennium, necessitates finding new ways of expressing our understanding of Christian faith." Dalk reken Durand dat hierdie inligting nie ter sake is vir die eeue-oue kerklike beeld van Jesus nie.
In dieselfde hoofstuk word Sakkie Spangenberg se kritiek teen Ben du Toit se standpunt oor die maagdelike bevrugting in sy boek God? Geloof in 'n postmoderne tyd met 'n flou opmerking van Durand se kant begroet: "Die suigkrag van die modernisme is sterker as wat die meeste van ons vermoed" ( Doodloopstrate : 43). Hiermee toon hy dat hy nie regtig begryp wat die nuwe hervormers bedoel met kultuursensitiewe interpretasies nie. Volgens hom is daar "... min twyfel dat die nuwe hervormers met 'n fundamentele tweeslagtigheid werk" ( Doodloopstrate : 43). Hierop sou 'n mens kon reageer met die vraag: "En die ortodokse Christendom — werk dit nie met 'n fundamentele tweeslagtigheid as dit probeer om premoderne Nabye Oosterse voorskrifte en verhale te hanteer asof dit moderne Westerse voorskrifte en verhale is nie?" Die huidige gesprek oor gay-gelowiges is hiervan 'n sprekende voorbeeld. Premoderne mense se verstaan van hulle seksualiteit en voortplanting kry die status van ewige waarheid en vir die soveelste keer in die Westerse Christendom se geskiedenis bewys kerke hulleself as onverdraagsame en mens-onvriendelike instellings.
Soos vroeër uitgewys, bied hoofstuk vyf en ses 'n bondige dog goeie oorsig van die Westerse filosofiese tradisie. Maar dis nie te sê dat hierdie hoofstukke sonder gebreke is nie. Op bladsy 61 verwys hy byvoorbeeld na twee maniere waarop mense met die evolusieleer omgaan. Daar is (1) 'n materialistiese en (2) 'n deïstiese verstaan daarvan. Maar wat van die derde vorm — 'n panenteïstiese verstaan daarvan? sou 'n mens kon vra. Daar het verlede jaar 'n boek verskyn met die titel In Whom We Live and Move and Have Our Being: Panentheistic reflections of God's presence in a scientific world . Daarin vind ons onder andere hierdie stelling "Via the constructive employment of the panentheistic model, Christian thought and life are in the process of being revitalized." Omdat Durand negatief oordeel oor panenteïsme, skenk hy nie aandag aan die nuwere ontwikkelings op die terrein van die gesprek tussen wetenskaplikes en godsdienswetenskaplikes en teoloë nie. Net soos Danie Goosen en Johann Rossouw spreek hy die mening uit dat die nuwe hervormers nie met die modernisme gebreek het nie. Volgens hom staan hulle met die een been stewig geplant in die modernisme en met die ander een in die post-modernisme ( Doodloopstrate : 74).
In hoofstuk sewe bespreek Durand die spiritualiteit wat hy binne die Nuwe Hervorming opmerk. Volgens hom is daar 'n direkte verband tussen die wyse waarop mense hulle godsdiens beoefen en hulle denkbeeld van God, en vice versa. Die een is doodeenvoudig 'n spieëlbeeld van die ander een ( Doodloopstrate : 77). Hy fokus hoofsaaklik op Piet Muller se sienings en sy hoë waardering van die Tomasevangelie. Op grond hiervan tipeer hy die spiritualiteit van die Nuwe Hervorming as 'n gnostiese en mistiese spiritualiteit. Die Tomasevangelie is volgens hom 'n gnostiese geskrif wat aanvanklik in Kopties geskryf was en in 140 nC in Grieks vertaal is. Dan vervolg hy met die stelling: "Getrou aan sy gnostiese oorsprong bestaan dit slegs uit gesegdes wat aan Jesus toegeskryf word (...) sonder enige verwysing na sy lewe en sterwe" ( Doodloopstrate : 86). My reaksie hierop sou wees om te vra of Durand ook die Q-spreuke-evangelie as 'n gnostiese geskrif sou tipeer? Een derde van die spreuke in die Tomasevangelie kom immers ooreen met die spreuke in die Q-spreuke-evangelie. Dit bevat ook nie verhale oor Jesus se kruisdood en opstanding nie. Durand dra klaarblyklik nie kennis van die Joodse wysheidstradisie soos dit in die Tweede Tempeltydperk ontwikkel het en voortgesit is in die kringe wat verantwoordelik was vir die Q-spreuke-evangelie en die Tomas-evangelie nie. John Kloppenborg lewer hieroor verslag in sy boek The formation of Q: Trajectories in ancient wisdom collections (1999). Die vroeë Christene was Jode en dis in die Joodse wêreld van die Tweede Tempeltydperk waar ons na die wortels van die latere Christelike tradisies moet soek. Die vroeë Christendom was baie meer gevarieerd as wat Durand en ander wil erken. Die eenheid is maar eers in die vierde eeu deur keiser Konstantyn (275–337) afgedwing toe die Romeinse ryk aan die verbrokkel was. Deur middel van godsdienstige eenheid wou Konstantyn die eenheid van die ryk red.
In hoofstuk sewe wys Durand nogeens 'n panenteïstiese verstaan van God af. Volgens hom staan en val die Christelike godsdiens met 'n teïstiese godsbeeld. Die vroeë Christene se teologie is ook duidelik 'n "heilshistoriese teologie" ( Doodloopstrate : 86–87). Volgens hom het Christene van vroeg af bely dat God "Hom deur die lewe, sterwe en opstanding van Jesus Christus geopenbaar het" ( Doodloopstrate : 88). God kan dus nie in die kerklike tradisie 'n onpersoonlike kosmiese mag, of watter mag ook al wees nie. Gijs Dingemans, 'n afgetrede Nederlandse praktiese teoloog cum dogmatikus, oordeel anders in sy boek De stem van de Roepende (2000). Hy wys daarop dat Paulus van Samosata (± 260) met sy "dinamiese" christologie 'n goeie alternatief bied vir die Westerse Christendom se uitgediende inkarnasie christologie. Dit gaan by Paulus van Samosata om die goddelike inwoning in Jesus en nie om die menswording van God nie. Dingemans sal hom dalk nie by die nuwe hervormers skaar nie, maar sy boek toon 'n groter begrip vir die verskuiwing wat besig is om plaas te vind in die Westerse Christendom wanneer hy sê: "Misschien wordt de boom van de Westerse kerk en van de Europese vorm van het christelijk geloof in onze tijd teruggesnoeid tot op de wortel, opdat er een nieuw rijsje kan groeien voor een nieuwe tijd."
In die slothoofstuk vat Durand sy argumente saam en wys hy vir oulaas waarom hy negatief oordeel oor die Nuwe Hervorming/Hervormers. Volgens hom koester hulle steeds 'n modernistiese uitgangspunt. "Die wêreldbeeld van die modernisme is 'n geslote wêreldbeeld — geslote in die sin dat dit geen ruimte bied om die gedagte van transendensie te hanteer nie. Daar is niks of niemand wat hierdie sigbare, meetbare en telbare werklikheid oorstyg of te bowe gaan nie" ( Doodloopstrate : 95). Durand begryp panenteïsme nie goed nie. Dit hanteer transendensie op 'n ander manier as teïsme, maar dit wys transendensie nie af nie. Dingemans omskryf panenteïsme soos volg in sy boek De stem van de Roepende : "God doordringt met zijn wesen onze wereld. God is verweven met onze wereld. Hij is deel van, maar valt er niet mee samen."
Volgens Durand is 'n beweging soos die Nuwe Hervorming nie in staat om ateïste en agnostici na 'n nuwe religieuse tuiste te lok nie. Hierop wil wil ek reageer met die opmerking dat die Nuwe Hervorming geen sendingdoel nastreef nie. Die beweging glo nie dat alle mense verlore is omdat 'n oer-egpaar die ganse menslike geslag (van die ooste tot die weste en van die noorde tot die suide) in sonde en ellende gedompel het nie. Die Nuwe Hervorming het gebreek met die tradisionele sonde-oordeel-genade model van die Westerse Christendom. Dit herken die heilsgeskiedenis wat Westerse teoloë konstrueer as pseudo-geskiedenis. Die twee ankerpilare van daardie geskiedenis het in die moderne tyd getuimel, naamlik (1) sondeval en (2) eindoordeel. Mense weet vandag dat daar nie 'n sondeval in die verlede was nie en dat daar ook nie 'n eindoordeel in die toekoms sal wees nie. Hierdie idees is konstruksies van die Griekse en Latynse kerkvaders wat geen sensitiwiteit vir apokaliptiese literatuur openbaar nie. Deur middel van hulle teologie het hulle aan die kerk mag oor mense se lewens en denke gegee. Die nuwe hervormers lees die Bybel anders as ortodokse Christene. Hulle lees die Bybel nie meer deur die bril van die kerklike dogmas nie. Hulle lees dit kultuursensitief en verstaan Jesus binne die konteks van die eerste eeuse Judaïsme en hellenistiese kultuurwêreld. Hulle het ook gebreek met die onttroningsteologie van die Westerse Christendom wat van die standpunt uitgaan dat die kerk die nuwe Israel is en dat die Christelike godsdiens Judaïsme onttroon en gevolglik oorbodig gemaak het. Hulle is terdeë bewus van die breuk wat ontstaan het tussen die Rabbynse Judaïsme en die vroeë Christendom teen die einde van die eerste eeu nC. Hulle weet ook dat die Christelike godsdiens ontstaan het uit die kookpot van die eerste eeu toe die vroeë Judaïsme uit verskeie groeperinge bestaan en die hellenistiese kultuur 'n onuitwisbare stempel op almal afgedruk het. Om nou soos Durand die kerklike blik op Jesus se kruisdood en opstanding as onopgeefbaar te beskou, en te sê dat Johannes 3:16 die skopus van die Bybel en die Christelike godsdiens is, is om in 'n laaste loopgraaf te duik en die nuwere inligting te ignoreer. Waarom moet die uitspraak van die skrywer van die Johannesevangelie die skopus wees en kan ons nie Jesus se eie woorde: "Wees barmhartig soos julle Vader in die hemel barmhartig is" (Luk 6:36) as skopus neem nie? Hier tree die verskil tussen die Westerse Christendom en die nuwe hervorming die duidelikste na vore. Die nuwe hervorming neem die boodskap van Jesus ernstiger op as die kerklike boodskap oor Jesus .
Clayton Sullivan formuleer hierdie verskil treffend in sy boek Rescuing Jesus from the Christians (2002) wanneer hy sê: "The problem is that the church's contention that Jesus' death was a sin sacrifice was fabricated with no attention given to what the historical Jesus thought and taught. A gap wider than the Grand Canyon exists between what Jesus believed and what orthodox Christianity says it believes. The church's gospel about Jesus is not the same as the gospel preached by Jesus." Die idee van skopus en periferie wat Durand hanteer, is regtig nie houdbaar wanneer dit by die kerklike dogmas kom nie. Hierdie dogmas is soos 'n katedraal waarvan die sypilare die mure, dak en torings orenthou. Wie aan die sypilare torring, torring aan die res van die konstruksie. Die mure, dak en torings kan nie sonder die sypilare orent bly staan nie.
Durand se bewering dat vele lidmate nie probleme het met die premoderne "taal" van die Bybel nie "... omdat die taal van die Bybel nader is aan hulle eie daaglikse, gewone omgangstaal as die taal van die wetenskap" ( Doodloopstrate : 105), word weerspreek deur twee van die grootste krisisse vir die Christendom — die vrou in die amp en gay-lidmaatskap. Hy neem ook nie in ag dat alle Bybelvertalings deur kerklike teoloë gedoen is en dat daardie vertaling dikwels só gedoen is dat dit aansluit by die kerklike dogmas. Deur middel van kerklike dogmas en kerklike Bybelvertalings word mense binne die sisteem gevange gehou. Gewone lidmate is totaal onkundig oor die Bybelwetenskaplike navorsing van die afgelope meer as twee eeue. Jacob Slavenburg som hierdie toedrag van sake soos volg op: "Onhutsend is bij dit alles de kloof tussen de bijbelwetenschap en de geïnteresseerde leek of gelovige. Het verhaal vanaf de kansel is een volslagen ander dan dat van de bijbelwetenschappers."
Durand se boek sal vir vele konserwatiewe Christene die gerusstelling bied dat die Nuwe Hervorming in 'n doodloopstaat beland het. Na my mening het hy nie wyd genoeg gekyk, gelees en saam met Bybelwetenskaplikes gereis nie. Die Nuwe Hervorming het gekom om te bly. Dit mag dalk van die Suid-Afrikaanse godsdienstige en teologiese landskap verdwyn, maar nie van die godsdienstige en teologiese landskap in die Westerse wêreld nie. Dit eindig nie in 'n doodloopstraat nie. Daar is 'n omweg voor in die pad. Sonder 'n nuwe hervorming stuur die Westerse wêreld en sy mense op 'n ramp af en daardie ramp gaan slegte gevolge inhou vir die aarde en alles daarop. Hierdie ramp se wortels lê in die dogma van 'n sondeval wat aanleiding gee tot 'n narcistiese beheptheid van Westerse teoloë met die mens en sy heil. Dis nie vreemd dat die ortodokse Christendom wat hom deur die eeue met politieke mag geassosieer het, nou homself met die ekonomiese mag van die Weste assosieer nie. Die megagemeentes en die voorspoedteologie is hiervan sprekende voorbeelde. Die ortodokse Christelike teologie is 'n teologie wat die aarde versaak en ander spesies van minder belang ag. 'n Mens kan nie anders as om te vra nie: Waarom sou God net oor die spesie homo sapiens begaan wees en slegs hulle eendag laat opstaan om op 'n nuwe aarde te woon? Die mensspesie se verweefdheid met die totale skepping soos deur die moderne skeppingsverhale verwoord word, kan nie meer geïgnoreer word nie. Ons het dringend 'n ander teologie en 'n ander godsdienstige diskoers nodig om sinvol te leef en te oorleef. Daaraan werk die Nuwe Hervorming graag mee. Kerklike Christendom kan homself nie hervorm en byderwets maak nie — daarvan het Don Cupitt vele lesers oortuig in sy boek Reforming Christianity (2001).
Bibliografie
Charlesworth J H & Weaver, W P (ed) 1998. The Dead Sea Scrolls and the Christian Faith (In Celebration of the Jubilee Year of the Discovery of Qumran Cave 1) . Harrisburg: Trinity. (Faith and Scholarship Colloquies Series).
Clayton, P & Peacock, A (ed) 2004. In whom we live and move and have our being: Panentheistic reflections on God's presence in a scientific world . Grand Rapids: Eerdmans.
Cupitt, D 2001. Reforming Christianity . Santa Rosa: Polebridge.
De Klerk, W 1998. Die vreemde God en sy mense . Kaapstad: Human & Rousseau
Den Heyer, C J 2000. Ruim geloven: Een theologisch zelfportret . Zoetermeer: Meinema.
Den Heyer, C J 2003. Van Jezus naar Christendom: De ontwikkeling van tekst tot dogma . Zoetermeer: Meinema.
Dingemans, G D J 2000. De stem van de Roepende: Pneumatologie . Kampen: Kok.
Durand, J 2005. Doodloopstrate van die geloof: 'n Perspektief op die Nuwe Hervorming . Stellenbosch: RAP.
Du Toit, B 2000. God? Geloof in 'n postmoderne tyd . Bloemfontein: CLF.
Ferreira, A 1996. Die dag toe ons God gevang het: 'n Persoonlike soektog na sin . Kaapstad: Queillerie.
Goosen, D 2005. Die kerke, die neoliberale orde en die gemeenskap. Die Vrye Afrikaan , 19 Augustus 2005, 7.
Hampson, D 2002. After Christianity . London: SCM.
Kloppenborg, J S 1999. The formation of Q: Trajectories in ancient wisdom collections . (2nd. ed.) Harrisburg: Trinity Press International. (Studies in Antiquity and Christianity.)
König, A 2005. Wat is reg? Weet iemand dalk? Welington: LuxVerbi.BM.
Louw, S 2005. Die debat oor Skrifgesag: Oor nuwe hervormers, charismate en tradisionaliste. Die Vrye Afrikaan , 19 Augustus 2005, 9.
Mollett, T, Grundling, E, Van Heerden, E (red) 2004. Die omstrede God: Bestaan God of nie? Stellenbosch: RAP.
Muller, P (red) 2002. Die Nuwe Hervorming . Pretoria: Protea Boekhuis.
Rossouw, J 2005. Die spoke van die NG Kerk en die spore van sy toekoms. Die Vrye Afrikaan , 19 Augustus 2005, 8.
Slavenburg, J 1995. Valsheid in geschrifte: De gespleten pen van bijbelschrijvers . Zutphen: Walburg Pers.
Sullivan, C 2002. Rescuing Jesus from the Christians . Harrisburg: Trinity Press.
Swanepoel, M 2005. Terug kerk toe. Sarie , September 2005, 50–56.
Sakkie Spangenberg