DIE DOGMA OOR DIE KRUISDOOD VAN JESUS — Sakkie Spangenberg
In die teologiese polemieke van die afgelope jaar of twee het verskeie konserwatief-geöriënteerde teoloë van die vertrekpunt uitgegaan dat daar al vir eeue 'n standaardverhaal van die Christelike godsdiens bestaan. Voorts het hulle beklemtoon dat mense nie hierdie verhaal uit hulle duime gesuig het nie — dit is 'n verhaal wat in die geskiedenis afgespeel het en so in die Bybel opgeteken staan. Hierdie standaardverhaal (of meesterverhaal) kan soos volg weergegee word:
Die ganse mensdom stam van een vader en moeder af, naamlik Adam en Eva. Hierdie eerste ouerpaar het egter ons almal se lot verseël toe hulle na die Satan geluister en God se gebod oortree het. Ons almal was bedoel om vir ewig te lewe, maar vanweë hulle ongehoorsaamheid in die tuin van Eden is ons almal bestem om te sterf. Die hele Ou Testament vertel die verhaal van hoe God die weg voorberei het vir die koms van sy Seun wat bestem was om die mag van die Satan en die dood te verbreek. Jesus het op die bestemde tyd as die ewige Seun van God uit die hemel gekom en mens geword. Hy het plaasvervangend onder God se oordeel aan die kruis vir die sondes van die ganse mensdom gesterf. Omdat Hy gehoorsaam was aan God se verlossingsplan en die kruisdood gewillig aanvaar het, het Hy die mag van die Satan en die dood verbreek. Die resultaat van hierdie soendood is dat ons almal nou vir ewig kan leef soos God dit van die begin van die skepping bedoel het. Die bewys dat Jesus se sending geslaagd was, is bevestig deur sy hellevaart, opstanding, hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees. Jesus sal aan die einde van die tyd weer kom om diegene wat in Hom geglo het (en dus sy soenoffer aanvaar het) met die ewige lewe te beloon, maar diegene wat Hom en sy soenoffer verwerp het, met die ewige dood in die hel te straf. Dáár heers die Satan en sy engele.
Intensiewe studie van die Ou en die Nuwe Testament die afgelope meer as vier eeue, het uitgewys dat die meesterverhaal nie voorgehou kan word as 'n verkorte weergawe van die Bybelverhale nie. Hierdie meesterverhaal is die produk van die Griekse en Latynse kerkvaders wat gedurende die tweede tot die vyfde eeu geleef het. Dis niks anders as húlle kreatiewe vertolkings van die Bybelverhale nie. Drie van hulle, naamlik Hieronimus (342–420), Ambrosius (339–397) en Augustinus (354–430) het 'n groot aandeel gehad in die finale afronding van die meesterverhaal. Hierdie drie staan ook bekend as die Latynse kerkvaders, want Hieronimus het die Bybel in Latyn vertaal en al drie se teologiese werke is in Latyn geskryf. Latyn sou vir meer as 'n millennium die kerktaal van die Westerse Christendom bly en die teologie vir eeue domineer. (Latyn word steeds in die Katolieke Kerk tydens belangrike gebeure soos die Pous se begrafnis gebruik!)
Volgens die meesterverhaal is Jesus se kruisdood in die Ou Testament voorspel. Lees ons tekste soos Jesaja 52–53, maak dit glad nie gewag van 'n kruisdood nie. Daar is ook nie sprake dat iemand gaan sterf om ander se sondes te versoen nie. Lees ons die verhale in die evangelies wat oor Jesus se kruisdood handel, is dit duidelik dat dit 'n politieke gebeurtenis was. Jesus het die tempel gereinig en daar was 'n relletjie wat deur die Joodse leiers as gevaarlik vir die vrede van Jerusalem beskou is. Die uiteinde was dat Jesus deur die Romeine as 'n Joodse rebel veroordeel en gekruisig is. Hierdie gebeurtenis is later herinterpreteer en deur sommige skrywers as 'n offer verstaan. Maar, kan 'n mens vra, “Was dit goeie teologie?” Volgens my en vele ander teoloë se oordeel was dit nie. Diegene wat só geïnterpreteer het, het nie Jesus se boodskap goed begryp het nie. Kom ek verduidelik.
Die hele Ou Testament is teen kinderoffers. Selfs Isak word nie geoffer nie. Die verhaal van Isak se “offer” is juis vertel om te verduidelik dat God teen kinderoffers is. Kinderoffers was nie ongewoon in die ou Nabye Ooste nie. Die Israeliete kies egter teen hierdie soort offers. Waar kom die Nuwe-Testamentiese skrywer dan nou vandaan om 'n kinderoffer (God offer sy seun) as prysenswaardig te beskou? God kies tog uitdruklik in die Ou Testament teen sulke offers.
Nie een van die sinoptiese evangelies (Matteus, Markus, Lukas) hou dit voor dat Jesus aan die kruis onder God se toorn gesterf het nie. Lees gerus weer Markus 8:31–33; 9:30–32 en 10:32–34. Jesus “voorspel” hier sy kruisdood, maar heg geen dieper betekenis daaraan nie. Nie een van die evangelieskrywers stel dit dat Jesus se kruisdood 'n offergebeurtenis was nie. Hy sterf nie om ons van sondes te verlos nie en ons in die hemel te kry nie.
Hoe het Jesus God die aan sy volgelinge voorgehou? Volgens hom is God 'n liefdevolle vader. Hy vertel aan hulle die verhaal van die verlore seun wie se vader hom onvoorwaardelik vergewe — sonder dat die seun een of ander soenoffer moet bring om sy pa se toorn te stil. God is oneindig liefdevol. Hy is barmhartig en genadig, lankmoedig en groot van goedertierenheid (Ex 34:6, Jona 4:2, Ps 103:8). Hy vereis nie offers nie (Hos 6:6, Miga 6:6–8). Günther Weber stel dit mooi in sy boek met die titel I believe, I doubt :
Jesus had depicted his God in the image of the gracious father. His was a God who rushed towards his prodigal son without asking anything of him, takes him in his arms and forgives him unconditionally. However, it was not Jesus' picture of God that became the centre of the church's faith and worship, but the pagan-mythical picture of a deity who had been infinitely insulted by the disobedience of a single individual and who could be reconciled only by human blood, the atoning death of his own Son.... It was not the message of Jesus but the doctrine of his atoning sacrificial death which became the centre of the church's faith. For this doctrine of redemption ensures the church its significance, its status and its power more than the message of Jesus.
En dan ook hierdie mooi stelling oor die vertekende beeld van God uit sy boek:
A God who enjoys the suffering of his creatures must be a malicious God. He is hardly any different from the cruel deities of prehistoric times whom human torment was a welcome sacrificial food. He is a perverse God. That is not the God of Jesus. From Jesus I get another picture of God, a God who wants human well-being, happiness, joy, wholeness; a God who does not want human suffering; a God who wants to free people from suffering... For the God of Jesus wants human well-being, joy, peace, happiness. The God of Jesus does not want the cross. He does not want pain, he seeks the avoidance of pain and the healing of wounds. He does not want suffering. He wants suffering, distress, misery, hatred and enmity to be overcome; he wants tears to be dried.
Jesus se kruisdood was eintlik die dood van 'n martelaar vir die saak waarvoor hy gestaan het, naamlik God se regering. Hy het onwrikbaar geglo dat as God in Palestina sou regeer het en nie die Romeinse keiser nie, die wêreld anders sou gelyk het. Professor Cas Labuschgne stel dit mooi in sy boek Zin en onzin rond de bijbel: Bijbelgeloof, bijbelwetenschap en bijbelgebruik .:
Als we even te rade zouden gaan bij het geschiedenisverhaal van Jezus in de drie synoptische evangeliën, moeten we concluderen dat deze auteurs de terechstelling van Jezus hebben opgevat als de dood van een martelaar voor de zaak van het Koninkrijk van God, en beslist niet als een zoenoffer.
Een van die redes waarop Jesus se kruisdood in terme van ‘n offerdood geïnterpreteer is, hang waarskynlik saam met die gebeure in die jaar 70 nC. In daardie jaar het die Romeine Jerusalem verower en die tempel platgevee. Dit was vir die Jode 'n geweldige traumatiese ervaring. Vir 'n tweede keer in hulle geskiedenis is die allerheiligste plek wat hulle geken het, vernietig en is hulle godsdienstige rituele tot stilstand gedwing. In daardie omstandighede het hulle nagedink oor hulle geloof en hoe hulle daaraan uitdrukking kan gee — sonder die tempel en die offerdiens. Die Christene (wat ook Jode was) het Jesus se kruisdood as die finale offer beskou en kon dus afskeid neem van die offerdiens. Voorts het hulle hulle geloof nie meer aan die fisiese stad Jerusalem gekoppel nie, maar aan die hemelse stad Jerusalem wat nie vernietig kan word nie. Lees gerus die boek Hebreërs en kyk hoe daardie skrywer al die tradisionele Joodse rituele en gebruike ombuig en herinterpreteer. Jesus word nou 'n hoëpriester volgens die orde van Melgisedek! Hy het eenmalig die offer gebring in die hemelse tempel, ens. Dis die wyse waarop 'n groot groep Joodse Christene met hulle groot verlies kon vrede maak en nuwe betekenis aan hulle lewe kon gee.
Daar is in die Nuwe Testament allerlei ander simbole aan die hand waarvan die kruisdood van Jesus geherinterpreteer is. Vir my maak dit sin om dit te sien as 'n gebeure wat God nie geëis het nie, maar wat oor die pad van Jesus gekom het. In daardie gebeure het sommige vroeë Christene God se liefde raakgesien. Dis hoe ek dan ook verkies om daarna te kyk. God sou dit graag anders wou hê, maar mense wat in magsposisies sit, vernietig dikwels ander se lewens.
Kopiereg © deur Nuwe Hervorming Netwerk Alle regte voorbehou.
Gepubliseer op: 2005-04-16