Deur Sakkie Spangenberg
Predikante is lief om te sê "Die Bybel is die Woord van God". Tydens die algemene sinode van die NG Kerk op Hartenbos is die uitdrukking weer gebruik. Ek vermoed dat die afgevaardigdes lidmate gerus wou stel, daarom het die predikante weer die bekende woorde herhaal. Maar wat beteken hierdie stelling? Kom ons ontleed dit 'n keer.
Is die stelling "Die Bybel is die Woord van God" te vergelyk met die stelling "'n Volvo is 'n motorkar'?" Ons verstaan laasgenoemde stelling, want ons weet dat ons sulke stellings formuleer om dinge te klassifiseer. Dis soos om te sê "'n volstruis is 'n voël". In so 'n stelling dui die laaste woord of woorde gewoonlik die kategorie aan waartoe die eerste woord of ding behoort. Daar is die kategorie "voëls" en onder hierdie kategorie kan verskillende "soorte" gelys word. Daarom kan ons ook sê "'n kiewiet is 'n voël" en "'n korhaan is 'n voël."
Moet ons die uitdrukking "Die Bybel is die Woord van God" verstaan soos ons die ander uitdrukkings hierbo verstaan? Dui die laaste woorde "die Woord van God" die kategorie aan? Beteken dit dat afgesien van die Bybel daar ook ander geskrifte is wat as "Woord van God" geklassifiseer kan word? Kan ons 'n lys saamstel van geskrifte wat as "Woord van God" kan deurgaan? Kan ons sê: "Die Tenach is die Woord van God", en "Die Koran is die Woord van God"?
In die stelling "'n Volvo is 'n motorkar", kan ons beide dinge sien of ten minste 'n beeld daarvan vorm. Ons kan die fabrikaat "Volvo" sien. So ook die kategorie "motorkar". Maar geld dit ook van die stelling "Die Bybel is die Woord van God"? Ons kan wel die Bybel sien, maar kan ons "die Woord van God" sien? Wat moet ons ons voorstel by die aanhoor van die woorde "Woord van God"? Watter kategorie "ding" is dit? Is "die Woord van God" die swart letters op wit papier in die Bybel? Is net daardie woorde in die Bybel wat uitdruklik tussen aanhalingstekens staan "Woord van God", of is alle woorde in die Bybel "Woord van God"? Moet ons die uitdrukking letterlik of metafories verstaan? Bedoel predikante met die frase "die Woord van God" nie maar net dat bepaalde boeke vir die betrokke kerk lewensbelangrik is nie? Sou dit nie meer sin maak om te sê "Die Bybel bevat die lewensbelangrike boeke vir Christene" nie?
Tot dusver het ons ons nog net besig gehou met die tweede deel van die stelling. Kom ons fokus nou op die eerste deel en wel op die woord "die Bybel". Ons het hier met die enkelvoud te doen. Kyk ons om ons rond, is daar egter net Bybels. Daar is Afrikaanse Bybels, Engelse Bybels, Zoeloe Bybels, en noem maar op. Jesus self het nie 'n Bybel besit nie, want in sy tyd was daar net boekrolle. Bybels is eintlik die produk van die boekdrukkuns en daarom maak dit nie sin om van "die Bybel" te praat nie. Daar is slegs "Bybels" en hulle kan in drie kategorieë verdeel word: (1) Protestantse Bybels, (2) Katolieke Bybels, en (3) Bybels van die Oosters-Ortodokse kerke.
Die Protestantse Bybels het net 39 boeke in die Ou Testament, terwyl Katolieke Bybels 46 boeke het. Van die Oosters-Ortodokse kerke het self nog meer boeke. Daar is wel Protestanse Bybels wat 46 boeke in die Ou Testament het, maar op die buiteblad van hierdie Bybels staan gewoonlik: "Die Bybel met die apokriewe boeke". Daar is tans 'n Engelse vertaling beskikbaar wat aanspraak maak dat dit ál die Ou-Testamentiese boeke bevat van die drie kerklike tradisies. Dit is die New Revised Standard Version met die apokriewe.
Kan ons ál hierdie Bybels nou onder die noemer "die Bybel" plaas? Klaarblyklik nie. Christene en kerke oefen keuses uit en vir sommige mense is sekere Bybels meer "Woord van God" as ander. Die Afrikaanse Protestantse Kerk en die Apostoliese Geloofsending verkies die 1953-Afrikaanse vertaling bo die 1983-vertaling. Daar was 'n tyd toe Engelssprekende Christene die King James Version besonder hoog aangeslaan is. Tans verleen heelwat mense voorrang aan die New International Version . Self hou ek weer baie van die New Jerusalem Bible omdat hierdie vertaling die resultate van die Bybelwetenskappe ernstig opneem en in voetnote hierdie inligting meedeel.
Hierdie was maar 'n kort bespreking van die stelling "Die Bybel is die Woord van God". Dit behoort lesers egter 'n idee te gee dat die stelling nie so eenvoudig is as wat sommige predikante aan ons voorhou nie. 'n Mens kan daarom vra of die predikante van die NG Kerk goed gekommunikeer het toe hulle die tradisionele stelling op Hartenbos herhaal het.