'n Bybel van glas

Skrywer: 
André van Niekerk
Bron: 
21 Mei 2005, Beeld

Vir behoorlike benutting van die Bybel is twee dissiplines nodig: Bybelstudie én Bybelmeditasie.
Met Bybelstudie bedoel ek nie net die kennisname van die verskillende Bybeldele nie, maar ook om jou Bybelbeskouing krities na te gaan. Dit is soos om jou bril gereeld skoon te maak, die skroefies vas te draai en die raam te laat regbuig.

'n Mens se eie menings het van nature die neiging om soos taai vingermerke aan 'n brilglas vas te klou. In plaas van om die Bybel te lees, kyk jy in jou eie belange en Bybelbeskouing vas.

Indien jy byvoorbeeld die Bybel as wetboek beskou, sien jy God se genade vir vandag nie raak nie. Trouens , God word vir jou 'n God van die verlede en aan sy wette word vasgehou asof dit God se enigste erfenis aan ons is.

'n Mens behoort nie so besig te raak met jou bril dat jy dit nie gebruik waarvoor dit bedoel is nie. Soos 'n bril bedoel is om jou visie te verbeter , is die Bybel bedoel om jou God beter te laat sien.

Met Bybelmeditasie bedoel ek dat 'n mens dwarsdeur die Bybel moet kyk om God se teenwoordigheid te beleef. Jesus het hom deur God se Gees en die Skrifgetuienis laat lei. God is nie net die God van die verlede of net die toekoms nie, maar veral die aktiewe , lewende teenwoordige.

Die Bybel gee ons 'n blik op God se grootheid in die natuur. Dit wys jou dat God jou nie in swaarkry los nie, maar juis by jou is. Wanneer jy te vinnig lewe, gee die Bybel jou perspektief om bewustelik met God te wees. Wanneer jy egter vassteek by 'n krisispunt , wys dit jou hoe God verder met jou op jou lewensreis wil gaan.

Die ironie is dat sommige kritiese Bybellesers, wat vir ons gevoel te veel aan die Bybelskroefies karring, tog die Bybel gebruik en godvrugtige lewens lei. Daarteenoor kan ywerige Bybellesers so teen hulle eie Bybelgeloof bly vaskyk dat hulle God nie vandag gaan raaksien nie.

Kommentare

Re: 'n Bybel van glas

Hello

Ek dink daar steek waarheid in Andre Van Niekerk se benadering van n meer aktiewe vorm van Bybelstudie

Die naweek het ek die hoeveelste kommenaar op sekere Bybel boeke gelees en weereens tot die besef gekom dat mens die Bybel met groot omsigtigheid moet benader.  Inteendeel ek sal sover gaan om te se dat die leek is nie instaat om die dieperliggende betekenis te onsluit nie want dit wat ons verstaan is definitief nie wat die skrywers bedoel of probeer verdoesel het nie.  Met ander woorde jou interpretasie (en meditasie) hang grootliks af van watter Bybelse "konsensus" siening jy nastreef.  Persoonlik het ek my bedenkinge oor die huidige konsensus siening.   

Om dus te wil se dat ons huidige interpretasie van die Bybel  is die absolute "Woord van God" is loutere snert. 

Wat ek graag sou wou sien is dat Bybel studente meer onafhanklik werk as om altyd op ander staat te maak vir Bybel interpretasie.  Myns insiens moet n mens jou eie Bybelstudie doen, die nuuste navorsingswerke oopkop te kan lees  (buite die norm),  daaroor kan mediteer en dan ook op n intuitiewe vlak kyk wat word aan jou "ge-openbaar".   Hopenlik is die proses n meer direkte innerlike ervaring as om passief ander se opinies te wil nastreef.  

Groete

Jozua

 

Re: 'n Bybel van glas

 Beste Reinhardt
Jy klou soos 'n neut aan jou reddingsboei. Waarvan moet die mensdom verlos word? Van die sonde wat die arme mitiese figure in die paqradys gepleeg het, deur van die boom van kennis van goed en kwaad te eet? Hierdie verskriklike sonde wat vererf tot in die verste geslagte? "In sonde ontvang en gebore?" Hierdie verskriklike skuld wat jy om jou nek hang, en as die ewige waarheid verkondig? Die ewige Vader wat dan sy enigste Seun verwek by 'n maagd, om dan as maagd geboorte te gee aan die die Seun wat dan gekruisig word om vir almal wat dit glo plek in die ewige hiernamaals te gee?

Wat van ander verwante geloofsgroeperinge? Jode en Moslems, en al die ander wat ook glo dat hulle geloof die ewige waarheid omvat? Die letterlike verwerping in die Helse verdoemenis? Neem jy kennis van wetenskaplike bevindinge in die gebied van Bybelwetenskappe? Op vele kansels staan geborduur: "God is Liefde?" Is dit regtig vir jou versoenbaar met dit wat jy as die ewige waarheid verkondig?

Ek ween as ek dink wat jy alles mis. 

Groete


Frikkie

Re: 'n Bybel van glas

Reinhardt Stander het die volgende kommentaar gelewer:

 
Die Bybel is nie soos 'n bril nie, want 'n bril kan gemanipuleer word (soos probeer word in hierdie artikel). Ook wat gesien word deur 'n bril hang van die persoon af, waar die Bybel presies die teenoorgestelde is!!! Die Bybel gee ons die korrekte beeld en kennis van God (Jh 1:14, Jh 5:39) wat nodig is vir Verlossing soos God's Woord ons leer, "En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het. (Joh 17:3, Afr1953)

Die Bybel is die Absolute Waarheid omtrent God, in teenstelling met vandag se Post Moderne teorieë waarvan hierdie artikel getuig. Gods Woord verklaar duidelik aan elke opregte soeker wie God is, en die Enigste Weg tot Redding - Jesus Christus!!! (Jh 14:6) Die Bybel is nie net behulpsaam om 'n goeie lewe te lei nie, maar is die enigste Openbaring wat tot Redding lei, "en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus." (2 Tim 3:15, Afr1953)

Reinhardt Stander

Jaco Steyn