deur Pieter Craffert, dept. Nuwe Testament, Unisa
Die artikel van Russel Botman in Godsdiens-aktueel (Beeld, 29 Julie) is nie die eerste waarin hy die Nuwe Reformasiedebat aandurf nie. Hierdie keer beroep hy hom op 'n komplekse wetenskaplike metode wat 'n "digte beskrywing" van Jesus voorstaan. Dit neem "al vyf benaderinge ter harte, integreer dit as kennisvennootskappe en ontwikkel 'n kontekstuele blik op Jesus", sê hy. Hierteenoor is die Nuwe Reformasiestandpunt natuurlik "onwetenskaplik" want dit is reduksionisties (berus op 'n "óf-óf-benadering") en is minder kompleks. Net eers 'n regstelling: indien Botman hom vergewis het van die gepubliseerde navorsing van sommige van die voorstaanders van die Nuwe Reformasie, sou hy geweet het dat niemand harder gepleit het vir die erkennig van die kompleksiteit van die probleem asook dat hierdie vraagstuk op wetenskaplike en nie dogmatiese (geloofs-) gronde aangepak moet word nie.
Taal laat ons toe om metafore te gebruik en om een kategorie aan die hand van 'n ander te beskryf ("die man is 'n buffel"). Dit beteken egter nie dat kategorieë in die werklikheid (en in die wetenskaplike denke) ook vermeng kan word nie. Dit is inderdaad reduksionisties wanneer 'n onderdeel aangebied word as die geheel (byvoorbeeld wanneer 'n olifant beskryf word asof dit net 'n slurp is/het). Maar dit is misleiding wanneer kategorieverwarring plaasvind (as vanuit die waarneming van 'n dik, kort stertjie afgelei word dat die betrokke dier 'n olifant is terwyl dit eintlik 'n renoster is) of wanneer assosiasieverwarring gepleeg word (as beide 'n slurp en 'n neushoring aan 'n "olifant" toegeskryf word net omdat dit aan diere behoort).
Dit is presies wat Botman doen met sy sogenaamde vyf benaderinge wat elk iets met die persoon van Jesus te doen het, en daarom volgens hom geïntegreer kan word as kennisvennote. Hiermee word bloot aanvaar dat elke perspektief 'n element byvoeg tot 'n "digte prent" van Jesus. Maar hiermee illustreer hy dat hy hoegenaamd nie die probleem waaroor historiese Jesus navorsing handel, verstaan nie.
In die vroeë kerk was daar veskillende modelle waarvolgens oor Jesus gepraat is. Die Johannesevangelie vertel dat Jesus eintlik 'n goddelike wese is wat mens geword het (goddelike wesens het in die bybelse wêreld dikwels die gestalte van mense aangeneem en menslike handelinge uitgevoer soos om aardse vroue te bevrug, lees byvoorbeeld Gen 6). Daarnaas het die ander evangelies met die model gewerk van 'n mens wat die status van 'n goddelike wese verwerf het (talle figure in die bybelse tradisie het na hul dood of aan die einde van hul lewe, goddelike statuur verkry - soortgelyk aan die Romeinse keisers).
Hierdie probleem, tesame met die talle ander verskille tussen die evangelies, stel ons voor die vraag: watter van die woorde en dade en eienskappe wat aan Jesus toegeskryf word in die verskillende bronne, is histories korrek? Hy kon byvoorbeeld nie 'n goddelike wese gewees het wat mens geword het en 'n mens wat 'n goddelike gestalte aangeneem het nie. Hy kon nie op 'n Donderdag en 'n Vrydag gekruisig gewees het nie en ook nie eerste in Jerusalem en Galilea verskyn het nie. Om terug te keer na die dier metafoor: is die dier met die kort, dik stert 'n olifant of 'n renoster?
Dit is die verskille tussen die bronne asook die vreemde aard van talle van die verhale (oor 'n spesiale geboorte en opstanding) wat navorsers laat kopkrap oor wat was nou eintlik historiese gebeure is en wat Jesus nou eintlik sou gesê het. Afhangend van watter elemente in die bronne as betroubaarder aanvaar word en hoe dit geïnterpreteer word, kom navorsers na vore met verskillende voorstellings van Jesus is historiese figuur. Botman weerlê nie die onderskeid tussen bogenoemde modelle nie; om die waarheid te sê, hy is nie eens bewus daarvan dat die verskillende benaderinge wat hy noem op grond van sulke oordele elk 'n eie aanspraak maak oor watse soort figuur Jesus nou eintlik was nie. Crossan en Nolan (sy voorbeelde) staan nie naas Johannes se weergawe nie, maar gebruik dit op 'n spesifieke manier (saam met ander bronne) om te sê wie Jesus as historiese figuur was. Nie alleen stel hy moderne voorstellings naas een van die bronne se voorstellings nie (dit is tog die basis waarop historiese konstruksies gebou word), maar hy is onbewus daarvan dat elkeen van die perspektiewe wat hy noem, self 'n historiese konstruksie is wat op sekere interpretasies van die evangeliebronne berus. Elke bron oor Jesus dra nie maar net 'n deeltjie by tot 'n groter legkaart nie en elke navorser bied nie maar net 'n alternatiewe perspektief op daardie geheel nie, maar bied 'n eie verstaan van die geheel aan. Op grond van die kenmerke en verstaan van die "bronne" kom een by 'n "renoster" uit en die ander by 'n "olifant", om die beeldspraak te gebruik. Botman wil hê die beelde moet geïntegreer word in 'n digte beskrywing (dan noem ons dit 'n olinoster wat kan vlieg). Dit werk net in feëverhale en in die soort harmonieering wat hy voorstaan, nie in die wetenskap nie.
Nuwe insigte lei dikwels tot verwarring - veral as mense hul hele lewe aan een siening opgehang het of glo dat hulle siening die alfa en die omega is. Die meeste mense, wanneer hulle besef dat nuwe insigte en perspektiewe verrykend is, is egter in staat om sulke verwarring te oorkom en nie in wanhoop te sit nie. Wat wel 'n probleem is, is dat mense mislei word of doelbewus onkundig gehou moet word omdat hulle dalk ontsteld kan wees oor nuwe insigte. Wie dra by tot wanhoop en misleiding: diegene wat mense help om 'n olifant van 'n renoster te onderskei of diegene wat mense wil laat glo dat olinosters bestaan; diegene wat bereid is om die probleme wat die bronne en di enavorsing skep in die oë te kyk, of diegene wat mense wil vertel elke perspektief kan in een groot geheel geharmonieer word (natuurlik die Ortodokse harmonie)?