Alles is voorlopig

Postmodernisme deur Frances Klopper, Dept Ou Testament, Unisa

Ek het onlangs die volgende 'grappie' per e-pos ontvang en soos die meeste goeie humor, lewer dit eintlik kommentaar op dood-ernstige sake. Dit lui soos volg:

Verlede maand is 'n wêreldwye opname by die Verenigde Nasies onderneem. 
Net een vraag is gevra: "Gee asseblief u eerlike opinie oor oplossings vir die voedseltekort in die res van die wêreld". 
Die opname was 'n groot mislukking: 
    In Afrika het hulle nie geweet wat "voedsel" beteken nie... 
    In Wes-Europa het hulle nie geweet wat "tekort" beteken nie... 
    In Oos-Europa het hulle nie geweet wat "eerlik" beteken nie... 
    In China het hulle nie geweet wat "opinie" beteken nie... 
    In die Midde-Ooste het hulle nie geweet wat "oplossing" beteken nie... 
    In Suid-Amerika het hulle nie geweet wat "asseblief" beteken nie... 
    In die VSA het hulle nie geweet wat "die res van die wêreld" beteken nie.

Die 'grap' kan op meer as een vlak gelees word. Die voor die handliggende is dat die stellings oor elke land die omstandighede of politieke denke/ideologie van daardie land spottenderwys verklap, maar dat elkeen inderwaarheid 'n tragedie in die kleine is en daarom 'n aantyging, omdat dit verhoed dat 'n groter menslike probleem opgelos word.

Die feit bly staan dat mense en kulture verskillend dink en verstaan omdat hulle uit verskillende agtergronde en tradisies kom. Dit is een van die drie pilare van die postmodernisme , die denkstroming waarin ons staan en wat onderliggend is aan die twyfelvrae en die behoefte aan gesprek oor geloofskwessies wat die afgelope tyd deur gelowiges uitgespreek word.

Postmodernisme is egter 'n woord wat dikwels onnadenkend en buite konteks gebruik word en almal is nie altyd duidelik oor waar dit vandaan kom en wat daarmee bedoel word nie. Ek wil die konsep deur die oë van 'n vrou, met die belange van die vrou voorop, van nader beskou. Dit wil ek doen na aanleiding van die kriteria waarvolgens die Gereformeerde Kerke (GKSA), volgens prof Amie van Wyk ( Beeld, 27 Januarie 2003), die veelbesproke besluit oor die vrou in die amp op hulle afgelope sinode geneem het. Hulle primêre kriterium sê hy, was dat die sinodebesluite op die Bybel en die belydenisskrifte gebaseer moes wees (vgl ook prof Callie Coetzee, Beeld 24 Maart 2003). Daar is toe besluit dat vroue tot die diakensamp toegelaat mag word, maar om te preek druis in teen 1 Kor 12:14, so die kansel is hulle nie beskore nie. Dié besluit impliseer dat die Bybel altydgeldende riglyne bevat oor die vrou se posisie in die kerk totdat 'n teksvers gevind kan word wat die teendeel bewys.

Hieroor plaas die postmodernistiese denkgees 'n vraagteken. 

Wat is postmodernisme?

Iemand het op 'n keer gesê: No one can check the advance of an idea whose time has come. It is as though some concept of the way the world is or might be, seizes the imagination of millions of people and changes the way they think, so that afterwards nothing can ever be as it was before. So is dit met die postmodernisme. Die postmoderne gees het gearriveer as ' an idea whose time has come '. Dit deurdring reeds bewustelik of onbewustelik die meeste van ons se denke. Dit is 'n denkstroming wat nie losgedink kan word van die denkstrominge wat dit voorafgaan nie, naamlik premodernisme en modernisme.

Premoderne denke verwys na die periode vóór die Hervorming toe die kerk op outokratiese wyse die norme vir reg en verkeerd voorgeskryf het. Die uitsprake van die Inkwisisie en die hekse-verbranding in Europa en Amerika gedurende die 16e en 17e eeu getuig hiervan. Dit was 'n tyd voordat die wetenskap die wêreld verander het, toe bygeloof hoogty gevier en bose geeste en duiwels die mensdom geteister het. Met Luther se uitdaging van die kerklike gesag in die 16e eeu en Kopernikus se beroemde stelling dat die son die middelpunt van die heelal vorm, en nie die aarde soos die kerk volgens Josua 10 geglo het nie, het die kerk se outoriteit begin verkrummel en het die periode tot 'n einde gekom. Maar denke kan nie in tydvakke vasgevat word nie. Premodernistiese denke kom vandag steeds voor.

Modernisme het geleidelik tot stand gekom vanaf die Verligting in die 16e eeu en die Franse Rewolusie van die 18e eeu tot waar ons vandag staan. Die doel daarvan was/is om deur middel van die wetenskap en tegnologie die mensdom te bevry van outoriteit en alle beperkende grense. Hierin het die modernisme jammerlik gefaal, want deur die prestasies van die wetenskap is nuwe outoritêre norme geskep. Onder meer is die wit, middelklas, manlike, Westerse kultuur tot die norm verhef en in die sentrum van die beskawing geplaas. Grense is daarom getrek wat 'ons' van die 'ander' skei op grond van geslag, ras, kleur en nasionaliteit. Die gevolg is dat die 'ander' na die rand uitgeskuif is en hulle stemme stil gemaak is. In Suid-Afrika is hierdie situasie in terme van die vrou, gay persone en gekleurde mense van die kansel uit die Bybel gesanksioneer. Dit gebeur nog steeds en sê vir ons iets van die onaantasbare status van die Bybel.

Postmodernisme is 'n denkrigting wat absolute kennis en onaantasbare sekerhede - dit wat as vanselfsprekend vir alle tye aanvaar word - bevraagteken, terwyl dit bewus bly van die voorlopigheid van die antwoorde wat dit bied. Dit ontken nie dat daar singewende norme, prioriteite, waardes en beginsels in die lewe is en moet wees nie. Postmodernisme sê net dat dit nie opsigself vir ewig en altyd bestaan nie, maar dat dit menslike skeppings is - opgestel vir 'n spesifieke plek, tyd en omstandighede. Daarom is dit nie finaal nie maar kan met veranderende omstandighede gewysig word of uitgedien raak om plek te maak vir nuwe denke. Die waarheidsaanspraak van die norme en waardes wat ons lewens rig, kom dus onder verdenking. 

Wat van die posisie van die vrou?

Die feministiese beweging is by uitstek 'n postmodernistiese beweging. Vroue behoort tot die grensgroepering, die 'ander' wat deur die modernisme na die grens uitgeskuif is. Amptelik is die kansels van die NG Kerk in 1990 en die Hervormde Kerk reeds vroeër, vir vroue-predikante oopgestel, maar 'n 'glasplafon' bly nog steeds stewig vir hulle in plek. Hiertoe dra die Bybel by want in 'n oorwegend Christelike land soos ons s'n waarin die Bybel onaantasbare gesag het, bepaal dit nog grootliks hoe vroue hulleself na waarde ag en hoe mans vroue na waarde ag.

Die postmoderne vrou onderskryf drie oorvleuelende kenmerke van die postmoderne gees. 

  • Respek vir tradisie
    Postmodernisme heg waarde aan tradisie , want ons geskiedenis, hetsy van ons geslag, ons geloof of ons ras, bepaal ons denke en die manier waarop ons na die wêreld kyk (vgl die 'grap' hierbo). Die Bybel is onteenseglik deel van die christelike tradisie en christene rig hulle lewens daarvolgens. Hiervoor het postmoderne vroue-teoloë groot respek, maar hulle ontmasker die Bybel as 'n boek wat millennia gelede deur mans in 'n patriargale kultuur met 'n manlike agenda geskryf is. In 'n tyd van die bevryding van die vrou, geld die bybelse patriargale tradisies eenvoudig nie meer nie.

    Vroue-teoloë lees 'teen die grein' van die manlike teks en vertel die verhale van gemarginaliseerde, naamlose vroue soos Lot en Job se vrou en Jefta se dogter oor wie die manlike skrywers swyg. Of 'slegte' karakters soos Isébel en Eva word die geleentheid gegee om hulle kant van die storie in die konteks van die tyd te vertel. Hulle wys daarop dat die manlike beeldspraak wat in die Bybel vir God gebruik word (vader, koning, regter, herder, kryger) nie meer vandag tot vroue spreek nie. Dit dra inderwaarheid by tot die dominasie en onderdrukking van vroue in die kerk en samelewing, want as God 'n man is, is mans meer soos God as vroue. Hulle werk ook met tekste wat na God as 'n moeder verwys en het geen probleem om God as moeder aan te spreek nie omdat 'n Moedergod vir hulle die hart van 'n vrou beter verstaan.

    As die bybelse uitsprake oor die vrou as onbetwisbare tydlose waarhede aanvaar word, word die Bybel 'n magtige en gevaarlike wapen wat bydra tot die minagting van vroue en hulle liggame waarvan daagliks in die koerante berig word. Gesien as 'n tyd- en kultuurgebonde boek, spreek die Bybel se boodskap méér tot vroue in ons leefwêreld.

  • 'n Respek vir die verskille tussen mense
    Postmodernisme erken dat ons in 'n pluralistiese wêreld saam met 'n verskeidenheid van mense en groepe leef wat anders as ons glo en dink. Nie een het die monopolie op die waarheid nie. Waarheid kan hoogstens 'die waarheid vir my' wees. Postmoderne vroue bevraagteken die voorskriftelikheid wat met modernistiese denke saamgaan. Manlik is nie die norm nie; heteroseksualiteit ook nie; ook nie 'n wit vel of selfs die Christelike geloof nie. Dit kan alles vanuit my tradisie 'vir my' die norm wees, maar as ek dit as die enigste waarheid gebruik om die ander uit te sluit en te benadeel, moet ek my norme herbedink.

    Natuurlik is daar verskille tussen mans en vroue. Vanuit hulle tradisie as vrou, doen vroue dinge anders as mans. Postmoderne vroue het nie meer 'n behoefte om soos mans te wees nie. Vroue-predikante het 'n ander preekstyl en 'n ander fokus en sal kerkraadsvergaderings op 'n ander manier hanteer as hulle manlike kollegas. Hulle wil in hulle andersheid dieselfde agting en respek geniet en in vennootskap met hulle manlike eweknieë saamwerk

  • Oorheersing word verwerp
    Postmodernisme verwerp enige vorm van oorheersing. Dit hang saam met die bevraagtekening van absolutes, want sodra iets absolute status verkry, verkry dit mag. Selfs 'onskuldige' begrippe soos liefde en goedheid en skoonheid kan, as dit tot norm verhef word, kragtige instrumente word om mee te manipuleer en domineer. Daarom word 'blonde' grappies en die blootstelling van die vroulike liggaam vir advertensie-doeleindes nie deur vroue waardeer nie. 'n Vrou is haar liggaam. Om dit te verkleineer, te bemark of geweld aan te doen, ontneem die waardigheid van haar wese.

    Taal is inherent magtig en polities en kerktaal is tradisioneel manlik. Vir baie jare het vroue lustig Gesang 258 gesing: 'Wees manlik sterk en moedig'! Om byvoorbeeld in plaas van om na God as 'hy' te verwys, is dit nie grammatikaal verkeerd om die woord 'God' te herhaal nie: 'God versorg God se kinders'. Die voornaamwoord 'hy'sluit die vrou uit. Predikante behoort uit respek vir die meer as 50% vrouelidmate in die kerkbanke, deurgaans die insluitende 'hy/sy' te gebruik - anders word die dominering van vroue in die kerk subtiel voortgesit.

Finale waarheid?

Wat alles hier gesê is, is natuurlik ook nie finaal of die waarheid nie. Ek skryf as 'n vrou uit die postmoderne era. Wie weet wat toekomstige denke gaan oplewer? Een ding lyk egter op hierdie moment in die geskiedenis seker en dit is dat die kerk nóu vars denke nodig het ... wat ons netsowel 'n Nuwe Hervorming kan noem.