NHN Gespreksforum

Hoe word bydraes van gebruikers wat nie geregistreer is nie hanteer?

Vriende,

Die nuwe webwerfsisteem laat heelwat nuwe funksies toe wat ons in staat stel om nuwe kommunikasie moontlikhede te ondersteun.

Een darvan is dat anonieme gebruikers wie nie lede van die webwerf is nie, kommentaar kan lewer op artikels en in die forum. Sulke bydraes word nie onmiddelik publiek gemaak nie, maar word wel in 'n lys vir afwagtende moderasie geplaas en kan slegs deur 'n webwerfmoderator publiek gemaak word.

Om ons werklas te verlig en om jou erkenning te gee vir jou bydraes, oorweeg dus, indien jy gereeld ons webwerf besoek en deel wil neem aan gesprekke, om teen geen koste te registreer as lid van die webwerf.

Groete,
Jacco

Aan geregistreerde lede: teken asseblief in voor bydraes gemaak word

Vriende,

Die nuwe webwerfsisteem laat heelwat nuwe funksies toe wat ons in staat stel om nuwe kommunikasie moontlikhede te ondersteun.

Een daarvan is dat anonieme gebruikers wie nie lede van die webwerf is nie, kommentaar kan lewer op artikels en in die forum. Sulke plasings word nie onmiddellik publiek gemaak nie, maar word wel in 'n lys vir afwagtende moderasie geplaas en kan slegs deur 'n webwerfmoderator publiek gemaak word.

Wanneer bestaande lede dus nie inteken op die webwerf voordat bydraes gemaak word nie, sal die webwerf hul bydraes as "Anoniem" hanteer en sal hul bydraes nie onmiddellik en ook nie onder hulle eie gebruikernaam geplaas word nie.

Om dus die werklas vir ons te verminder en om jou bydraes se publikasie te versnel, vra ek dat jy sal inteken, voordat enige bydraes gemaak word, in die forum of elders. 

Groete,
Jacco

Doen hier aansoek om artikels vir die NHN webwerf te skryf en te modereer

Vriende,

Die NHN bestuur en kommunikasie/webwerfspan soek lede wat meer aktief betrokke wil raak by die skepping van inhoud vir ons nuwe webwerf.

Indien jy graag betrokke wil raak by:

  1. die skryf van oorspronklike materiaal vir die webwerf,
  2. en/of die moderasie en taalkundige versorging van webwerfinhoud,
  3. en/of die tegniese versorging van die webwerf,
    1. antwoord dan asb. onderaan hierdie skrywe

      of

    2. stuur ‘n boodskap vanaf die webwerf – kies die kategorie, “Doen aansoek om Moderatorskap”.
      en dui aan in watter van hierdie velde jy graag betrokke wil raak.
  4. Diegene wat reeds aan die einde van 2008 aangedui het dat hulle betrokke wil raak hoef nie weer hier aansoek te doen nie.
  5. Laai die instruksiedokument vir moderators af.

 

Ons sien uit om van julle te hoor!

Groete,
Jacco

Nuwe webwerf

Dagse Webmeester en vriende.
Somige tex is onleesbaar teen die agtergrond. Ek neem aan jul werk nog daaraan.

Gte
Loot 

"What's in a name? That which we call a rose By any other name would smell as sweet."

 
... Of nie?

Mense is gewoonlik opgewonde oor en angstig of gretig vir verandering omdat ons maklik ontevrede of verveeld met die bestaande raak of, omdat ons dalk drooggemaak het en graag oor wil begin. In die aanhef tot sy boek Something of Value wat in 1955 verskyn het en teen die agtergrond van dekolonialisasie en die Mau-Mau opstand  afspeel, gebruik Robert Ruark  met ’n beweerde Afrika-wysheid “When you take away the customs, culture and religion of a people, we better replace it with something of value”  om teen oorhaastige verandering te waarsku.  Die volksmond waarsku ook dat ’n mens baie versigtig moet wees waarvoor jy wens (,werk en strewe) omdat jy daarmee saam sal moet leef as dit werklikheid word.

 

Ons het gister ondermeer in Midrand gepraat oor die verwarring wat die NHN se naam steeds veroorsaak en beide die religieuse verwagtings en meer afkeurende wanindrukke en persepsies wat buitestaanders daaroor het. Iemand het gevra of dit nie tyd geword het om die naam dan te verander nie, want ons is glad nie ’n kerk nie en ons ‘hervorming’ het ses jaar na die NHN se ontstaan n werklikheid baie meer met universele menslike etiek of, ‘ateïsties, deïsties, non-teïsties, panenteïsties, ensovoorts’, soos Sakkie Spangenberg ons lede en bedrywighede beskryf het, te make as met suiwer religieuse sake.

 

Sakkie het egter briek aangedraai en (al beskou baie lede die NHN as ’n etiese humanistiese beweging) gemaan dat ons die Christelike etos, waaruit die meeste van ons kom, summier kan afskud of die Christene kan verwerp omdat hulle steeds gelowig is nie. (Ons verklaarde doel is immers mos ’n baie nederige strewe om, sonder om voorskriftelik te wees, die hiermaals, waar ons kan, so eties moontlik vir almal en alles op aarde te verbeter en agter te laat en ander te probeer oortuig om dit ook te doen?) 

 

Sakkie het selfs ’n kruis-benaming op die ‘H’, Nuwe Hervorming Netwerk – Nuwe Humistiese Netwerk, voorgestel. Ander mense het voorgestel dat die naamsverandering miskien meer van ons ‘omvattende empiriese etiek’ moet weerspieël.

 

Ek dink dat ons ook behoort te verseker dat die naam die regte uitnodiging aan alle Suid-Afrikaners moet rig en ooglopend moet aandui dat ons  eietydse universiele etiek wil bevorder.

 

Persoonlik is ek ten gunste van ’n weldeurdagte naamsverandering en daarvoor, soos u kan sien, het ons al ons lede en belangstellendes se voorstelle op veral ons webwerf en ons Facebook muur verkieslik nodig.  Stel ook asseblief reg as u verskil of voel dat ek dalk dwaal.

My wedervaringe binne die NHN die afgelope 3 jaar

Op die nuwe NHN-webblad word mense uitgenooi em elkeen hul eie "stories" te vertel - stories wat betrekking het op hul eie lewensreise wég van die tradisionele kerke. Vervolgens skryf ek my eie "storie" wat veral betrekking het op my ondervindings met sommige lede van die NHN se huidige Uitvoerende Komitee. Ek was vir ongeveer 1 jaar en 6 maande, vanaf Julie 2010 tot Desember 2011, lid van die UK en was  ook terselfdertyd verantwoordelik vir die uitstuur van boodskappe vanaf die NHN-webblad na alle NHN-belangstellendes. Ek het heelwat bydraes gelewer tot gesprekvoering op die webforum die afgelope 3 jaar en my gesprekke met prof. Sakkie Spangenberg en Willem van den Berg (Takhaar) was veral vir my en baie ander belangstellendes, besonder insiggewend.

Dinge het begin verkeerd loop teen die tweede helfte van 2011 toe Antoinette Ehmke se man Johan Ehmke, vóór ander lede van die "Vrydenkers"-Facebook groep, met ongegronde moddergooiery begin het deur my persoonlik aan te vat op ‘n beledigende manier. Ek het voorheen al heelwat met Johan Ehmke deelgeneem aan eposdebatte, maar was nooit voorheen so ontsteld gewees oor dinge wat hy kwytgeraak het nie. Ek het egter nog steeds aangebly as lid van die UK, maar het teen die einde van 2011 besluit om te bedank as lid van die UK na hy aangehou het om my op eensydige wyse persoonlik aan te vat op die NHN-webblad en my o.a. van lafhartigheid daarop te beskuldig. Ek het hom egter nie persoonlik terug beledig op die webblad nie. Dit was vir my onhoudbaar om as NHN UK-lid aan te bly terwyl daar so ‘n ongemaklike atmosfeer tussen my en die man van die voorsitter van die NHN was.

Ek het die NHN Facebook groep meer as ‘n jaar gelede geskep en het vir Antoinette en Hardie Fourie bygevoeg as mede-administrateurs. Ek het ook vir ‘n geruime tyd die meeste kommentaar daar gelewer, lede bygevoeg en skakels daarop geplaas. ‘n Paar weke gelede het ek ‘n skakel na ‘n Rapport-berig oor "advokaat Barbie" op my persoonlike Facebook-profiel geplaas. Daarna het Piet Croucamp afgewyk vanaf die onderwerp en ontoepaslik begin om my vriend Johann Lemmer as persoon aan te vat en allerhande leuens oor hom daar te versprei. Hans Pietersen het daarna ook as deel van dieselfde gesprekslyn begin om Johann te beswadder en ek het naderhand die hele skakel verwyder vanaf my profiel. Hans het aangehou om Johann en myself te beswadder op ‘n ander “geslote” Facebook-groep waarvan al drie van ons lede was. Nadat Hans verskeie waarskuwings deur Johann geminag het, het Johann hom verwyder vanuit die geslote groep. Ek was hewig ontsteld daaroor dat mense my goeie vriend se naam deur die modder sleep op my eie persoonlike profiel en het naderhand vir Piet Croucamp geblok na ‘n aaklige woordewisseling met hom op die NHN Facebook groep.

Hans het aangehou om my te verkleineer en ander mense te ontstel op die NHN groep n.a.v. ons gesprek oor die neerhalende verwysings na veral Boeddhiste in sy boek. Ek het gedreig om hom te verwyder uit die groep, maar het dit nooit gedoen nie. Antoinette het op die groep gesê dat sy vies is daaroor en sy het my gevolglik op emosionele wyse en onregmatig as administrateur verwyder uit die groep, en dit nadat ek die NHN-groep op Facebook begin het. Dit is werklik ‘n groot jammerte dat ‘n organisasie wat soveel potensiaal gehad het om baie "afvallige" mense nog verder te ondersteun, deur enkelinge van binne-af gerysmier word. ‘n Goeie voorbeeld van die onlangse agteruitgang van die NHN is ‘n gesprek op die nuwe NHN-webblad oor die wenslikheid daarvan om voort te gaan met die gereelde Midrandbyeenkomste, weens die swak bywoning daarvan.

Nuwe Hervorming - Vraag

Goeiedag Nuwe Hervormers

Wat is die korrekte Engelse benaming vir "Nuwe Hervorming"?
"New Reform" lyk nie vir my of dit die ding doen nie.

Groete

Nie 'n Resensie nie!

Goeiedag NHN-vriende

'n Baie voorspoedige en vrugtevolle nuwe jaar word vir u in 2012 toegewens. Die Van der Merwes kan doen met 'n voorspoedige nuwe jaar want in 2011 het ons 'n paar goeie klappe weg! Maar, ons is op die been en aan die gang en ons sien net mooi dinge wat voorlê.

Ek is nie 'n resensent nie, ek lees 'n boek en dit geval my of geval my nie. Twee boeke wat ek nou onlangs bekom het en wat my "geval", is: Re-Claiming the Bible for a Non-Religious World deur Johan Shelby Spong; en Hier staan ek... saamgestel deur Diek van Wyk, Coenie Nolte en Leon Atterbury.

John Shelby Spong is natuurlik 'n ou bekende onder Nuwe Hervormers. Dit kom my voor asof omtrent elke boek wat hy skryf 'n topverkoper is en ek glo dat Re-Claiming the Bible nie minder so sal wees nie. Die geweldige belangstelling in sy boeke is vir my 'n goeie aanduiding van die moderne mens se soeke na 'n her-evaluering van die tradisionele Christelike godsdiens. Ek moet eerlik erken dat ek nie vreeslik filosofies aangelê is nie, manne soos Jozua en Takhaar verloor my maklik en Eternal Life: A New Vision van Spong sal ek weer 'n keer, en waarskynlik nóg 'n keer, moet gaan lees en herkou. Maar Re-Claiming pas so in my kraam. Dit hanteer Bybelstudietipe-onderwerpe en spel op 'n gemaklike, gesellige trant uit wat wérklik daar staan. Dis 'n ware 'n oë-oopmaak boek. Saam met Sakkie se Jesus van Nasaret beantwoord dit vir my omtent elke vraag waaroor ek al gewonder het. Ons is ywerige woonwa-mense en hierdie twee boeke sal my beslis oorals vergesel. Lekker, gemaklike, insiggewende leesstof.

Ek het toevallig in 2011 met Leon Atterbury 'n bietjie e-posse uitgeruil na aanleiding van 'n artikel wat hy geskryf het. Hy het my toe vertel dat hy en nog twee persone besig is om 'n boek saam te stel oor die ervarings van verskillende persone wat begin vrae vra het oor die Bybel. Hier staan ek... het toe verskyn en ek het sonder versuim vir my 'n kopié bestel. (Terloops, die boek is goedkoper by Exclusive Books as direk van die verspreiders.) Weer eens 'n boek wat my geval. Dit lees gemaklik en dit doen 'n mens goed om te sien dat daar baie ander persone is wat met dieselfde, en nog méér, probleme geworstel het.

My aanbeveling: skaf gerus hierdie twee boeke aan vir 'n lekkerlees ondervinding.

Groete

Sinterklaas en kersfees

Vroeër vanjaar kry ek die gier en bestel die boek "Christmas — Philosophy for Everyone: Better Than a Lump of Coal" in die reeks “Philosophy for Everyone” uitgegee deur Wiley-Blackwell in Chichester (Verenigde Koninkryk). Die advertensie van die boek het my getrek. Dis ’n klompie filosowe wat elkeen ’n opstel oor aspekte van Kersfees en die fees van sint Nikolaas neergepen het. Die titels van die ander boeke in die reeks weerspieël iets van die aanslag van die filosowe wat tot die reeks bydra: lekker humoristies, maar tog ernstig. Hier is enkel titels in die reeks (let veral op die subtitels):
 
(1) "Running & Philosophy: A Marathon for the Mind" (ed. Michael W. Austin);
(2) "Wine & Philosophy: A Symposium on Thinking and Drinking" (ed. Fritz Allhoff);
(3) "Beer & Philosophy: The Unexamined Beer Isn’t Worth Drinking" (ed. Steven D Hales);
(4) "Cycling — Philosophy for Everyone: A Philosophical Tour de Force" (eds. Jesús Ilundáin-Aguttuza and Michael W. Austin).
 
Al wat ek kan sê, is dat mense wat sulke skerpsinnige titels kan uitdink, goeie filosowe moet wees.
 
So neem ek toe vandag die boek oor Sinterklaas en Kersfees op en begin lees. Dit bestaan uit vyf afdelings: (1) Christmas: In the Beginning; (2) Is Celebrating Christmas Really a Good Idea? (3) Santa: A Deeper Look; (4) The Morality of Christmas; (5) Christmas Through Others’ Eyes.
 
Die eerste afdeling bestaan uit drie opstelle. Die eerste een dra die titel “Jesus, Mary and Hume: On the Possibility of the Virgin Birth”. Die filosoof David Hume (1711–1776) se kriteria vir wonderwerke word gebruik om die vertellinge oor die maagdelike ontvangenis van Jesus te beoordeel. Nodeloos om te sê, die skrywers van die artikel bevind die vertellinge in die Matteus- en Lukas-evangelie verdag. Niks wat berig word, ondersteun die siening dat hier van ’n werklike wonderwerk sprake is nie.
 
In ’n tweede opstel met die titel “The Vrigin Birth: Authentic Christmas Magic” verdedig Victor Lyons (professor in Nuwe Testament aan die “Foothills Christian College” in North Carolina) die tradisionele Christelike standpunt dat daar werklik ’n wonderwerk plaasgevind het. Tydens die lees van die opstel, het ek weer eens besef dat daar nog heelwat Bybelwetenskaplikes in die VSA is wat steeds binne die tradisionele paradigma opereer en glo dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is. Elke ding wat die Bybel dus berig, is histories waar, betroubaar en kan nie weerspreek word nie. Lyons lees die geboorteverhale van Matteus en Lukas asof dit geskiedenis vertel. Maria en Josef se woorde word aanvaar asof iemand ’n bandopname daarvan gemaak het. Die man besef vir geen oomblik dat die skrywers van die twee evangelies Maria en Josef woorde in die mond gelê het met ’n bepaalde doel nie. Dis ook duidelik dat die persoon die verhale deur die bril van die tradisionele Christelike leerstellings oor Jesus lees. Die plasing van hierdie opstel, wys dat die samesteller ’n balans probeer handhaaf deur nie net kritiese stemme te laat hoor nie.
 
In die derde opstel met die titel “Putting the ‘Yule’ back in ‘Yuletide’” was vir my die kostelikste en humoristiese van die drie. Die skrywer neem as vertrekpunt die bekende bufferplakker “Put Christ Back in Christmas” en wys dan daarop dat Kersfees ontwikkel het vanuit “heidense feeste en feesvierings”. Hy vertel kortliks die geskiedenis van die Christelike geloof in Brittanje en wys daarop dat Christene sekere ou feeste bloot verchristelik het. Hy skryf onder ander die volgende:
 
“Ultimately, it seems that Christmas, in actual practice, was never strictly about Christ. It was the grafting of a Christian holiday onto an existing non-Christian season of festivity. From the earliest incarnation of the holiday, the celebration was a balance of the Christian and non-Christian. One was never eliminated completely in favor of the other" (Preston 2010:46).
 
Dit weet NHNners natuurlik. Wat die skrywer uiteindelik met tong in die kies bepleit is: “Kom ons sit nie net Christus terug in Kersfees nie, maar ook die ou tradisionele gebruike.” Wat dit alles behels, gaan ek nie verraai nie.
 
Sakkie

Magspeletjies

A core issue in life (especially in sex, religion, politics, society etc) is the powerful role that power plays.
It is a very complex phenomenon.
It evokes paradoxical emotions.  
It simultaneously angers and amuses, empower and disempower, frightens and excites. 

Michel Foucault (in most of his books) wrote a lot about it - so does Eric Berne in "games people play" and Susan Pinker in "the sexual paradox" I reflected something about it in my book "Introduction to Sexology - between and beyond the poles". But unfortunately philosophy, psychology and sexology are topics "non grata" to most people - yet power struggles are everywhere in our face.  (Ook in die NHN)

Die magspeletjies in die binne kringe van die NHN is besig om ernstige nadelige gevolge in te hou vir ons netwerk. Ek is baie bewus van wat in die binnekringe aangaan, maar dit affekteer nou ook ons gewone minder belangrike nie-UK lede.  Die doelstellings en etiek van die NHN word al hoe meer geminag deur persoonlike aanvalle en magspeletjies.  In die verlede op Sakkie en nou ook op Jaco Steyn wat gelei het tot sy bedanking uit die UK. Self moes ek en ander NHN lede dit ookal ontgeld - gewoon dat die man gespeel word en nie die bal nie... 'n Mens kan verwag dat dit van buite die NHN sal gebeur, maar wanneer dit uit eie kringe kom moet daar onverwyld iets aan gedoen word om dit te stop.

Verskeie lede het gevra dat ons hieroor in gesprek tree met die UK - intussen hou almal nog lekker vakansie...

 

Syndicate content