Vroeër vanjaar kry ek die gier en bestel die boek "Christmas — Philosophy for Everyone: Better Than a Lump of Coal" in die reeks “Philosophy for Everyone” uitgegee deur Wiley-Blackwell in Chichester (Verenigde Koninkryk). Die advertensie van die boek het my getrek. Dis ’n klompie filosowe wat elkeen ’n opstel oor aspekte van Kersfees en die fees van sint Nikolaas neergepen het. Die titels van die ander boeke in die reeks weerspieël iets van die aanslag van die filosowe wat tot die reeks bydra: lekker humoristies, maar tog ernstig. Hier is enkel titels in die reeks (let veral op die subtitels):
(1) "Running & Philosophy: A Marathon for the Mind" (ed. Michael W. Austin);
(2) "Wine & Philosophy: A Symposium on Thinking and Drinking" (ed. Fritz Allhoff);
(3) "Beer & Philosophy: The Unexamined Beer Isn’t Worth Drinking" (ed. Steven D Hales);
(4) "Cycling — Philosophy for Everyone: A Philosophical Tour de Force" (eds. Jesús Ilundáin-Aguttuza and Michael W. Austin).
Al wat ek kan sê, is dat mense wat sulke skerpsinnige titels kan uitdink, goeie filosowe moet wees.
So neem ek toe vandag die boek oor Sinterklaas en Kersfees op en begin lees. Dit bestaan uit vyf afdelings: (1) Christmas: In the Beginning; (2) Is Celebrating Christmas Really a Good Idea? (3) Santa: A Deeper Look; (4) The Morality of Christmas; (5) Christmas Through Others’ Eyes.
Die eerste afdeling bestaan uit drie opstelle. Die eerste een dra die titel “Jesus, Mary and Hume: On the Possibility of the Virgin Birth”. Die filosoof David Hume (1711–1776) se kriteria vir wonderwerke word gebruik om die vertellinge oor die maagdelike ontvangenis van Jesus te beoordeel. Nodeloos om te sê, die skrywers van die artikel bevind die vertellinge in die Matteus- en Lukas-evangelie verdag. Niks wat berig word, ondersteun die siening dat hier van ’n werklike wonderwerk sprake is nie.
In ’n tweede opstel met die titel “The Vrigin Birth: Authentic Christmas Magic” verdedig Victor Lyons (professor in Nuwe Testament aan die “Foothills Christian College” in North Carolina) die tradisionele Christelike standpunt dat daar werklik ’n wonderwerk plaasgevind het. Tydens die lees van die opstel, het ek weer eens besef dat daar nog heelwat Bybelwetenskaplikes in die VSA is wat steeds binne die tradisionele paradigma opereer en glo dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is. Elke ding wat die Bybel dus berig, is histories waar, betroubaar en kan nie weerspreek word nie. Lyons lees die geboorteverhale van Matteus en Lukas asof dit geskiedenis vertel. Maria en Josef se woorde word aanvaar asof iemand ’n bandopname daarvan gemaak het. Die man besef vir geen oomblik dat die skrywers van die twee evangelies Maria en Josef woorde in die mond gelê het met ’n bepaalde doel nie. Dis ook duidelik dat die persoon die verhale deur die bril van die tradisionele Christelike leerstellings oor Jesus lees. Die plasing van hierdie opstel, wys dat die samesteller ’n balans probeer handhaaf deur nie net kritiese stemme te laat hoor nie.
In die derde opstel met die titel “Putting the ‘Yule’ back in ‘Yuletide’” was vir my die kostelikste en humoristiese van die drie. Die skrywer neem as vertrekpunt die bekende bufferplakker “Put Christ Back in Christmas” en wys dan daarop dat Kersfees ontwikkel het vanuit “heidense feeste en feesvierings”. Hy vertel kortliks die geskiedenis van die Christelike geloof in Brittanje en wys daarop dat Christene sekere ou feeste bloot verchristelik het. Hy skryf onder ander die volgende:
“Ultimately, it seems that Christmas, in actual practice, was never strictly about Christ. It was the grafting of a Christian holiday onto an existing non-Christian season of festivity. From the earliest incarnation of the holiday, the celebration was a balance of the Christian and non-Christian. One was never eliminated completely in favor of the other" (Preston 2010:46).
Dit weet NHNners natuurlik. Wat die skrywer uiteindelik met tong in die kies bepleit is: “Kom ons sit nie net Christus terug in Kersfees nie, maar ook die ou tradisionele gebruike.” Wat dit alles behels, gaan ek nie verraai nie.
Sakkie