Vrinne Kennis bepaal hoe ek oor God, Jesus, die Gees, die Bybel, die heelal en oor onsself as mense dink en glo. Hier is sestien stellings wat ek enkele jare gelede (toe ek nog binne die NG Kerk gestaan het) geformuleer het. Dit was vir predikante te ketters en daarom het ek geloop. Ek probeer steeds my geloof (dit wat my emosioneel roer en dryf) aan die hand van die tradisie waarin ek groot geword het, formuleer. "Om te kan weet", hang saam met "om te kan glo". Ek kan tog nie goed glo wat bots met wat ek weet nie. (1) Ingeligte en denkende mense weet dat die heelal, die kontinente en lewe op ons planeet anders ontstaan het as wat die boek Genesis vertel. (2) Ingeligte en denkende mense werk nie met ’n drieverdieping heelal nie en kan nie meer hulle geloofsinsigte en -belewenisse aan die hand daarvan formuleer nie. Hemel en hel is vir hulle nie meer aanwysbare en bewoonbare plekke nie. (3) Die erfsondeleer is ’n uitgediende teologiese konstruksie wat nie só in die Ou Testament staan en ook nie só deur Jesus en sy dissipels verkondig is nie. Sonde is egter ’n realiteit wat saamhang met ons doen en late waarvoor ons verantwoordelikheid moet aanvaar — ons moet dit allermins op die rekening van die duiwel en sy engele plaas. Ingeligte en denkende mense werk met ’n interne lokus van kontrole en nie ’n eksterne lokus van kontrole nie. (4) Die Ou-Testamentiese verhale, gedigte, spreuke en selfs wette het ryke betekenis as hulle teen die agtergrond van die destydse geskiedenis en kultuur bestudeer word. Hierdie verhale, gedigte, spreuke en wette kan steeds aan ons lewens betekenis toevoeg. (5) Die Ou-Testamentiese profete het nie Jesus van Nasaret voorspel nie. Die skrywers van die Nuwe Testament het wel die Ou-Testamentiese profesieë, gedigte en verhale gebruik om Jesus aan hulle tydgenote te verkondig, maar elkeen se verkondiging lyk anders as die ander s’n. Hierdie ryke verskeidenheid in die Nuwe Testament moet ons waardeer en koester, want dit help verskillende mense om op verskillende maniere met Jesus te identifiseer. (6) Die verhale van Jesus se maagdelike geboorte in Matteus en Lukas moet as verhale gelees word wat Jesus as ’n besonderse persoon voorhou. Besonderse mense het in die antieke tyd besonderse geboorteverhale gehad. Neem gerus ook die Ou-Testamentiese voorbeelde van Samuel en Simson. Die geboorteverhale het niks te doen met erfsonde en dat Jesus sondeloos gebore moes word nie. (7) Jesus het in sy prediking hoofsaaklik gefokus op die koninkryk van God. Daardie koninkryk het nie met ’n hemelse ryk agter die wolke te doen nie. Vir Jesus van Nasaret het dit gegaan om God se regering hier op aarde. Dis immers hier waar mense lewe, swaar kry en pyn beleef. Christene moet God se regering hier en nou sigbaar maak. Daar is duidelik ’n sosiale dimensie aan Jesus se prediking. (8) Die smeltkroes van gebeure in Palestina ná die val van Jerusalem en die vernietiging van die tempel in 70 nC het gelei tot die geboorte van die Christelike godsdiens. Die Christelike godsdiens is dus nie ’n reglynige voortsetting van die vroeë Judaïsme nie, maar is net soos die Rabbynse Judaïsme ’n kontinuëring van een van die belangrike tradisies van die vroeë Judaïsme. In die eerste geval (Christendom), is dit hoofsaaklik die voortsetting van die profetiese tradisie en in die laaste geval (Rabbynse Judaïsme), hoofsaaklik die voortsetting van die Mosaïese tradisie. (9) Om mense wat die Rabbynse Judaïsme beoefen, te bearbei asof hulle op ’n dwaalspoor is, is om die geboortegeskiedenis van die Christelike godsdiens te ignoreer. God was en is ook binne daardie godsdiens met gelowiges aan die werk. Hulle is nie verlore sondaars wat gered moet word deur die bloed van Jesus nie. (10) Jesus se kruisdood is deur sommige Nuwe-Testamentiese skrywers as ’n finale offer geïnterpeteer omdat die Joodse offerkultus met die val van die tweede tempel vir goed daarmee heen was. Hierdie interpretasie het dáárdie gelowiges gehelp om ’n tweede traumatiese gebeure in hulle verhouding met God (die val van die tweede tempel) te verwerk. Die eerste Christene was deur die bank Jode en daarom het hulle so geïnterpreteer. (11) Jesus se kruisdood was ’n politieke gebeurtenis en nie ’n voorvereiste vir God se vergifnis nie. Dwarsdeur die Ou Testament staan dit sentraal dat God vergewe wanneer gelowiges hulle sondes bely en laat vaar (vgl Ps 103). Jesus verbind God se vergifnis — soos die profete van ouds — aan hoe ons teenoor ander die vergifnis wat ons ontvang het, uitleef (vgl Matt 6:14). As ons die kruisiging teologies wil dui, kan ons ook ander matafore gebruik en kan ons ook sê dat dit veel eerder ’n bevestiging van God se liefde en vergewensgesindheid is as ’n gebeurtenis wat sy toorn moes stil. Jesus sterf nie om ons van sondes te verlos en ons in die hemel te kry nie. Hy vertel immers die verhaal van die verlore seun wie se vader hom onvoorwaardelik vergewe — sonder dat die seun een of ander offer moes bring om sy pa se toorn te stil (Luk 15:11–32). Dis hoe God vir Jesus was: oneindig liefdevol. Hy is barmhartig en genadig, lankmoedig en groot van goedertierenheid (Ex 34:6; Ps 103:8–10; Jona 4:2). (12) Die opstandingsverhale moet as herverskyningsverhale gelees word. Dis onbetwisbaar dat hierdie herverskynigsverhale in die vroeë Christendom ’n belangrike rol gespeel het. Binne ons leefwêreld beleef mense nie meer herverskynings nie, daarom moet ons hierdie verhale lees soos dit in dáárdie konteks (Joodse konteks) bedoel was. Dis verhale wat bevestig dat Jesus ’n regverdige mens was — daarom verdwyn sy lewe nie sommer in die niet nie, maar is sy lewe vir ander tot seën, voorbeeld en rigsnoer. (13) Jesus se totale lewe en prediking het gedraai om God. Hy het nie Homself kom preek en nie vertel dat Hy maagdelik verwek is deur die Heilige Gees en daarom sondeloos is nie. Voorts het Hy ook nie verkondig dat Hy uit twee nature (’n menslike en ’n goddelike) bestaan nie. Die twee-natureleer is kreatiewe skeppings van die kerkvaders wat probeer het om Jesus sinvol in hulle tyd en konteks te verkondig. (14) Die getuienis van sy eerste volgelinge wat Hom as ’n buitengewone mens gesien en beleef het, staan vas. Van hulle beskryf Hom as die lydende kneg van God, as die verwagte messias, ander praat van Hom as God se seun, as ’n groot profeet, en ’n wysheidsleermeester by uitnemendheid. Die wyse waarop sy eerste volgelinge Hom beskryf en die metafore wat hulle gebruik het, moet teen die agtergrond van die vroeë Judaïsme verstaan word. (15) Jesus self het nie die Christelike godsdiens beoefen nie, maar die godsdiens waarin sy moeder en vader Hom groot gemaak het, te wete Judaïsme van die Tweede Tempeltydperk. Daarom is Hy as kind besny, het Hy die tempel en sinagoges besoek, spreuke uitgespreek en gelykenisse vertel wat verband hou met daardie godsdiens. Sy uitsprake, verhale en handelinge dra onmiskenbaar die vingermerke van dáárdie godsdiens en leefwêreld. (16) In Jesus het sy eerste dissipels iets van God gesien en gehoor, daarom het hulle sy woorde en dade in herinnering bly roep. Dit behoort steeds ons taak in hierdie wêreld te wees indien ons met Hom en sy boodskap identifiseer. Groetnis Sakkie
Re: Ek weet ....
Re: Ek weet ....
Re: Ek weet ....
Re: Ek weet ....
Re: Ek weet ....
Re: Ek weet ....
Ek weet
Re: Ek weet ....
Re: Ek weet ....
Re: Ek weet ....
Ek weet
Ek weet
Re: Ek weet ....
Re: Ek weet ....
Ek weet
Re: Ek weet ....
Re: Ek weet ....
Re: Ek weet ....