As ek n Christen was.

  

 

Al ons lede kan of wil nie altyd al ons byeenkomste bywoon of aan ons besprekings deelneem nie maar ek lui tog uit die aantal lesings van die webgesprekke af dat daar heelwat lesers is wie  belangstel in wat ander dink of doen  en dat ons beslis van mekaar leer. (Die Bybel sê mos ook dat soos yster yster slyp, slyp die een mens die ander.) Die ‘leer van mekaar’ bly vir my belangrik en Rina Venter se lesing, die afgelope Sondag, was juis weer ’n goeie  voorbeeld van watter waardevolle pitkos ons by mekaar kry. Dit maak nie saak of dit nou van ons geleerde eksperts of gewone lede kom nie; jy weet nooit wanneer iets wat jy deel of aanbied dalk net vir iemand anders van waarde mag wees nie.

Neem dus asseblief meer deel en deel meer.

 Laat my asseblief eers toe om die aanloop, van wat ek wil sê, uit te rek deur ’n bietjie te spog: My dogter het pas haar meestersgraad (Elektroniese Ingenieurswese) cum laude gevang – dis nou met twee kleintjies (1½ en 4 jaar oud), ’n veeleisende voltydse werk by Siemens  en  na sy haar man ook verlede jaar  gehelp het om  sy skripsie vir dieselfde graad suksesvol te voltooi.

Dit was die minder-belangrike gespog.  Ek wil eintlik met my jongste seun spog. Dis nou die een wat my in standerd sewe al, rammetjie-uitnek, gedaag het om te probeer om hom ’n pak slae te gee, toe al gerook het, later dagga begin rook en uiteindelik heroïen gesnuif het. Ondanks duur sielkundige behandeling en ander pogings om hom reg te help, het hy vier jaar lank doelloos op universiteit rondgedwaal en is hy selfs eenkeer vir besit van dagga gearresteer. Die einste een wat op skool pelle was met die ou wat Joost onlangs in die koerante afgedreig het.

Ek wou ’n paar keer moed opgegee maar my vrou het ons laat aanhou betaal om hom op universiteit te hou en ons het maar bly hoop op verbetering. Praat het ons gepraat, sonder om hom ooit met ’n Rubikon ultimatum te konfronteer maar ook, oënskynlik sonder om hom genoegsaam te inspireer of tot ander insig te oortuig.

En toe, aan die einde van 2008 verander hy, stil-stil, sonder enige dramatiese Damaskus-bekeringsoomblik, aanspraak op goddelike intervensie of  vooraf kennisgewing, soos dag by nag. Skielik hou hy heeltemal op om te drink, sluit hy op eie inisiatief en uit eie beweging by narcotics anonymous aan en neem hy nou nog gereeld en aktief aan hulle aktiwiteite deel, begin hy om baie ernstig te studeer, hou hy sy woonstelletjie netjies, begin hy om minder veeleisend te raak, neem hy weer sy ghitaar op en raak hy meer verdraagsaam teenoor ander.

En toe vang hy verlede jaar sy graad – net een vak onder sewentig persent, is hy tans ernstig met sy honneurs besig en het hy reeds n gesogte klerkskap vir volgende jaar verseker. Al raad wat hy om die een of ander rede steeds weier om te aanvaar is om by ’n studiegroep aan te sluit of om een te stig. Miskien is dit vir hom belangrik om self deur die drif te kom.

 ’n Ruk gelede was moes hy ’n toespraak lewer omdat hy meer as ’n jaar ‘skoon’ was. Hy vra my toe wat hy kan sê om die ander te inspireer. Ek sê toe dat hy hulle kan vertel dat sy pa gesê het dat, alhoewel ons altyd lief vir hom was, ons nou ook trots hy op hom is. Omdat hy homself reggeruk het, rigting gekry het en omdat sy selfbeeld soveel verbeter het. En ook omdat hy sy pa op akademiese vlak verbygesteek het deur graad te vang en sodoende reeds beter toegerus vir die res van sy lewe is. Dat omdraai en sukses moontlik  en wonderlik is.

In my agterkop dink ek aan ’n paar vriende wie en kennisse nie naastenby so gelukkig was nie, wie se kinders, ondanks deurgebidte kniee, aan oordosisse dood is en wie steeds met die monster moet baklei en ek besef hoe gelukkig ons eintlik is. Hy het ontsnap - my kind is gered! Ek hoop dit hou vir die res van sy lewe so aan.

 My hart is vol. 

As ek ’n Christen was, sou ek op my knieë gegaan het. 

Re: As ek n Christen was.

 Alida,

Rina se onlangse lesing het my oortuig dat daar soveel eksperts en ondervinding onder die NHN lede waarvan party van ons eenvoudig net nie bewus is of genoeg van weet nie maar ook waarmee ons ons kinders baie beter sal kan help.

Hoe lyk dit Sakkie, kan ons nie dalk iemand soos Hannie se arm draai dat sy moontlik met n baie nodige en tydige  lesing op Alida se voorstel kan reageer nie?

Sterkte Alida - mag jy en jou dogter ook binnekort van die onverdiende las en siekte bevry word.

Willem. 

Willem.

Re: As ek n Christen was.

Wragtie Takhaar, ek kyk nou sommer met nuwe oë na jou!

Dis só waar wat Sakkie geskryf het.

Ek weet, want my jongste is op die oomblik in rehab.

Ek is saam met julle bly oor die wonderlike ommeswaai, dit gee my moed vir my eie ou doggie se stryd. Die 12-stapprogramme is uitstekend, as die verslaafdes dit net toepas. My kind sê nou die dag ewe trots: sy trek nou by stap 2.  Mag die gode, ál die sterre, die maan, die son én al die voorvaders (waar die kompusiewe geen vandaan kom!) haar genadig wees, dink ek toe. Want hef aan lê nog voor.

Nie dat ek iets met so 'n negatiewe strekking vir haar sal sê nie, ek weet maar net dat verslawing nie almal se maatjie is nie.

Intussen bly ek versigtig-optimisties -- en Willem, jou brief het ook gehelp. Baie dankie daarvoor.

Miskien moet die NHN 'n 12stap-kenner kry om met ons te kom chat, dis veral interessant om te sien hoe agnostici en ateïste ook voordeel uit die program kan trek. Nog 'n goeie onderwerp wat hierby aansluit kan dalk oor verslawing (kompulsiewe gedrag) en genetika gaan.

In stap 2 erken die verslaafde dat hy/sy magteloos oor drank, dwelms, dobbel, ooreet, watookal is en op 'n "hoër hand" vertrou om oor te neem. Ietwat van 'n dilemma vir iemand wat nie 'n persoonlik god het nie. Maar, soos die spreekwoord sê: daar is ways en means. Baie interessant!

Vriendelike groete

Alida

Alida van der Westhuizen
"The things that can destroy us are politics without principle; pleasure without conscience; wealth without work; knowl

Re: As ek n Christen was.

 toets deur webmeester

NHN Webmeester

Re: As ek n Christen was.

Gits Takhaar

Ek is saam met jou bly! Eintlik bly dit 'n stuk genade as jou kinders die lewe vierkantig in die oe kyk, die stang vasbyt en deurdruk. As ouer kan 'n mens net rigting aanwys, maar uiteindelik is dit hulle wat hul eie koers en pad vat en mens word in eie reg. En dis 'n ewe stuk genade as jy as ouer daarmee saam kan leef.

Groete
Sakkie