At de Lange vra: NHN - Gaan julle ver genoeg?

Ek is ’n Christen. Ek het ook baie ambagte soos wetenskaplike, kunstenaar en woestynverkenner.
 
Ek besoek so nou en dan die webwerwe NHN, Kletskerk en E-kerk. Daar is ook verskeie ander oorsee. My hoofdoel is om waar te neem hoe hierdie organisasies vorder met Onomkeerbare Selforganisasie (OS) (“irreversible self-organization”). Onomkeerbaar beteken om vorentoe in die tyd te organiseer en nie agtertoe nie. Selforganisasie beteken dat wat ook al (genoem ’n stelsel) self verantwoordelik is vir die organisasie daarvan.
 
My eerste bedagte kennismaking met OS was in die winter van 1969. Dit was ’n jaar en ’n half nadat ek as chemikus-fisikus begin navorsing doen het oor die organisasie van gronde. Ja, dit is waarop ons loop, waarop ons bou, waarop ons boer, waarop ons oorlog voer, waarop ons ons afval stort en waarin baie ter ruste gaan. Die begrip “irreversible self-organization” was nog nie in gebruik nie en nog minder die Afrikaanse weergawe daarvan.
 
Maar wat ek in gronde waar geneem het, was stommelik OS. Die ergste was dat daar geen teorie in die chemie of fisika was wat my kon help om my gedagtes te organiseer nie. Ek het die biblioteke van PUK, TUKS, UNISA en WITS deurgewerk op soek na iets wat sou help. Op ’n koue winteroggend het ek die boek “Thermodynamics of irreversible processes” van Ilya Prigogine van die rak afgehaal. Binne my het ’n warm gloed die koue verplaas. Ek het gekry waarna ek soek, ver nie genoeg nie, maar naby genoeg om te weet waarheen ek moes werk. Die woorde van sir Arthur Eddington het in my kop bly maal: “Entropy is the arrow of time.”
 
Prigogine is die vader van “irreversible thermodynamics”. Hy is uiteindelik met die Nobel prys vir chemie in 1977 beloon vir sy bydraes. Hy was eerder ’n chemiese fisikus as ’n fisiese chemikus. Hy het aangehou om verder te gaan om ’n onbekende wêreld te verken. Net die titel van sy boek saam met Isabella Stengers (’n filosoof) in Engels vertaal “Order out of Chaos” gee alreeds ’n aanduiding waarheen hy aan ontdekking was.
 
Ek het so drie weke gelede begin om NHN se werf intensief deur te werk. Die mense van NHN se openhartigheid en erns het my getref. Ek is self van oortuiging dat ’n nuwe hervorming die kerk met al sy manifestasies se voorland is. Maar ek is van mening dat baie min kerkmense (en die wat uit die kerk gedryf is) weet hoe ver hulle sal moet gaan. Hulle sal OS ook in ag moet neem.
 
Ek sal een voorbeeld gee om dit te motiveer. NHN se soekenjin lewer 7 treffers vir die woord dekonstuksie en net 1 treffer vir entropie. Daar is een treffer vir selforganisasie en niks vir onomkeerbaar nie. Nogtans is dekonstruksie ’n onderafdeling van OS. Gaan die NHN ver genoeg?
 
Een van die vier fokus gebiede van die NHN is die moderne begrip van die kosmos. Daar is maar vyf artikels oor die kosmos, almal vanuit ’n antieke perspektief. Dan is daar ’n klompie moderne artikels oor onderwerpe uit die kosmos. Een van hulle is deur Henk Huismans oor genetika. Die skrale verskeidenheid van wat wel daar is kan ’n mens egter weer laat vra: Gaan die NHN ver genoeg?
 
Ek skryf nie om die NHN te kritiseer of sleg te smeer nie. Ek skryf omdat ek graag almal wat die Here beter wil verstaan, te begelei as katalisator. (’n Katalisator bevorder ’n reaksie sonder om self daarin verbruik te word.) Die Here het in 1970 met my gewerk. 24 Desember het my wedergeboorte plaasgevind. Maar 16 Desember het iets plaasgevind wat in 1971 my leefwêreld geskud het (die Broers tot heel bo was daarby betrokke). Dit het daartoe gelei dat ek vanuit die Bybel geleer dat ek net op God kan vertrou.
 
Ek was verbaas. Gedurende my opleiding as hardekwas natuurwetenskaplike (1963-1967) het ek geleer dat ’n wetenskaplike ten alle tye skepties moet wees. (Robert Boyle, ’n Christengelowige, het dit in die 1600s die eerste keer verwoord.) Byna almal handhaaf ’n kloof tussen wetenskap en godsdiens. En hier leer ek dat die skeptiese wetenskaplike asook die godvertrouende gelowige dieselfde waarde aanhang.
 
Daarom is ek begaan dat die NHN nie skepties genoeg is nie, maar te veel vertrou op moderne wetenskaplike bevindings, teologies, psigologies en kosmies wat aftrek kry. NHN behoort veel eerder te gaan soek na wat nog nie hulle aandag verkry het nie. NHN behoort ook te soek na stomkennis (“tacit knowledge”, Polanyi) wat nog nie verwoord is nie. Die kragtigste manier is om enige vraag sonder verskoning te vra oor enigiets.
 
Ek het op ’n unieke manier die sewe pilare van wysheid (Salomo) ontdek. Een van hulle is heelnis (“wholeness”). Daar is maar sewe treffers op NHN vir heelheid en drie vir holisties. Neem NHN lede “heelnis” genoeg in ag? Een van die sewe voldoende voorwaardes vir Onomkeerbare Selforganisasie (SO) is heelnis. Hoeveel SO bly daar nog vir SO voor sonder genoegsame heelnis?
 
Een van die belangrikste eienskappe van evolusie, metamorfose, intelligente ontwerp, OS, noem hulle maar op, is ritme. (Lees maar die geniale Goethe oor wat hy daaroor te skryf het.) Stephen Gould was die eerste wat in moderne tye vir evolusie dit beskryf het in terme van sy begrip “punctuated equilibrium”. Meeste Darwiniste is heftig daarteen gekant. Maar in OS het hierdie ritme ’n regmatige plek. Baie NHN mense het die godsdiens ewewig sowat 10 jaar gelede gepunt. Dekonstruksie en chaos het gevolg. Die “ordelike” kerk het met hulle sake gewerk. Maar nou? Is die NHN nie op pad na ’n nuwe langdurige ewewig nie? Wat het van die ritme geword?
 
So van Goethe geskryf. NHN het maar 5 treffers vir Goethe en 5 vir Jan Smuts, twee van die grootste denkers oor holisme. Intussen het woorde soos heel, heler en heilig dieselfde stam in oer (proto) Germaans. Gaan NHN ver genoeg om mense se gebroke lewens te heel?
 
Ek sluit af met ’n deurbraak van Prigogine in dieselfde klas as die van Copernicus. In die vroeë 1970s het hy met die gedagte na vore gekom dat alle lewe dissipatiewe sisteme is. Die “dissipatief” is ’n negatiewe beskrywing uit die oog van fisici (konserwatief) en ingenieurs (effektief). Wanneer een vorm van energie doelmatig omgesit word na ’n ander vorm van energie, word ’n deel daarvan verspil in ander vorme van energie. Dit dryf hulle teen die mure uit.
 
Die proses waarvolgens die omsetting “verdwaal” het, is entropie produksie. Wat Prigogine dus geskryf het, maar in ander woorde as syne, is dat die beginsel van lewe entropie produksie is. Lewe staan voor in die lys van belangrike begrippe vir NHN mense. Wat weet NHN mense van die beginsel van lewe in so verre dit entropie betref? Gaan hulle ver genoeg? Moet hulle hul nie voorberei vir die volgende punt in hulle huidige ewewig nie?
 
Ek hoop dat hierdie artikel ’n oop gesprek onder NHN lede tot gevolg sal hê. Ek is nie ’n geregistreerde lid van NHN nie. Ek sal Sakkie Spangenberg vra om hierdie artikel vir NHN lede te plaas.
 
Mooi loop
At de Lange
Pretoria
November 2009

Re: At de Lange vra: NHN - Gaan julle ver genoeg?

Hein,

Leek soos ek kan, wanneer ek na At se (vir my onbegrypbare) geleerde relaas kyk,  nie help om te dink dat, as mens soos Sakkie en ek glo dat alle bewussyn by die dood eindig (gesonde verstand en logika dui oorwegend daarop (en ja, ons kan gerus daaroor debatteer)), alle bespiegelings oor voorgegeede verhewe kennis, outoriteit en insig, groter-as-die-lewe gode, die legio uiteenlopende beweerde buite-liggaamlike en para-normale kwessies, nutteloos, en eintlik, met ons huidige  kennis,  nie net onsinnig is nie maar ook, op sy beste,  n oneerlike en pretensieuse mors van tyd is. 

Daarom maak dit baie meer sin om toe te spits om dit wat tasbaar voordeel gee of redeneerbaar waarde skep en gevolglik rasionele sin gee om die lewe te verbeter of te onderhou..

Willem.


Re: At de Lange vra: NHN - Gaan julle ver genoeg?

At, jou skrywe laat my dink aan 'n dansende druppel op 'n baie warm plaat.
 
Boeke kennis, navorsing en daarstelling van teorieë en begrippe is belangrik, maar aan die einde van die dag moet jy keuses maak.
Net jy en jy alleen maak die keuses, dra die volle verantwoordelikheid daarvoor en leef die volle konsikwensies daarvan.
Dit is wat mens singewing noem. Singewing is nie daarbuite nie. Dit is nie in dogma of nuwe hervorming netwerke of dekonstruksie of wetenskaplike ontdekkings nie, maar is subjektief, bewustelik, persoonlik vanuit jou bepaalde verwysingsraamwerk.
 
Elke pelgrim loop sy/haar eie pad en soek na sin wat vir hom/haar aanvaarbaar is. Die werklikheid waarbinne sommige leef, is 'n voortdurende en steeds veranderende een terwyl ander vrede vind in konkrete "waarhede" en voorskriftelikheid. Sommige worstel al vanaf kleintyd terwyl ander aanvaar wat geslagte voor hulle ook aanvaar het en verkies om dit nie te bevraagteken nie. Sommige skep hul eie antwoorde op basiese vrae soos wat is die uiteindelike werklikheid, wie is ek, waar kom ek vandaan en waarheen is ek op pad, terwyl ander geen probleem met reedsbestaande "antwoorde"  het nie.
 
Wie is ek of jy om hulle te oordeel of te veroordeel? Leef elk nie met sy / haar gewete saam nie?
 
My raad aan jou is: Gaan sit stil, skuif alle boekekennis momenteel eenkant. Stel vir jouself sekere basiese vrae en besluit wat vir jou aanvaarbare antwoorde daarop is. Antwoorde waarmee jy rustig kan saamleef, antwoorde wat vir jou sin maak. As iemand vir jou vra wat jou vrae was en wat nou jou antwoorde daarop is, gee dit vir hom. As niemand daarom vra nie, hou dit vir jouself, pas dit aan as dit nodig is en leef dit eerlik en konsikwent uit.
 
Groete en sterkte
'n Medepelgrim
Linky

Re: At de Lange vra: NHN - Gaan julle ver genoeg?

Die menslike bewussyn soek na orde in wat sy sien en beleef. 

Een moontlike verklaring van die werklikheid is dat die orde daarin veroorsaak word deur 'n teistiese god wat dinge in 'n sekere rigting dryf met 'n sekere enkele doel.

'n Ander verklaring is dat die werklikheid nie so oop is vir enige opsies  as wat ons gedink het nie, en dat dit aan die einde van die dag na self-organisasie lei. Die werklikheid konvergeer omdat dit nie anders kan nie. ( Kauffman: Our place in the universe )  

Albei hierdie verklarings is moontlik gebasseer of 'n behoefte, 'n baie menslike behoefte, aan "heelnis".  Ek kan sover gaan om te vermoed dat die hierdie behoefte aan heelnis is wat agter die meeste van beide godsdiens and wetenskap sit.

Maar miskien konvergeer die werklikheid nie na 'n enkele doel nie, en miskien konvergeer dit nie na heelnis nie. Miskien is dit eerder 'n konstellasie van baie parallelle eksperimente. Sommige van hulle lewer stelsels met "emergent properties" op, en sommige nie. Sin en orde kom hier en daar tevoorskyn, en dan verdwyn dit net so gou as wat dit verskyn het. Al wat werklik ontwikkel is kennis van die omstandighede wat sekere vorms van orde teweeg kan bring, mits daar bewuste wesens is wat dit neerskryf, or neertik. of iets.

Ek dink dat sekere dinge ritmies verloop terwyl sekeres eenmalig is. Dinge bestaan slegs solank as wat dit die fyn balans op die rand van chaos kan handhaaf.  

Dit is moontlik dat die NHN die implikasies van sy voorveronderstellings nou uitgeput het en nie verder sal kan beweeg sonder om 'n paradigma skuif te maak nie.  So, ek verwelkom die vraag: gaan julle ver genoeg. Dit sal lekkerder gewees het as die vraag was: Gaan ons ver genoeg?  Ons is almal in dieselfde bootjie - ons soek saam. Kom help ons!