Johnnie Johnson het my versoek om die volgende artikel wat deur hom geskryf is, op die webruimte van die NHN te plaas:
Daar is vandag duisende oud-Christene wat op soek is na iets sinsvols in die plek van dit waarin hulle nie meer glo nie. Ek vermoed dat baie van hulle ook by die NHN se webwerf uitkom, maar is nie so seker of hulle wel hier ’n antwoord kry wat hulle verwag nie. Ek het baie tyd hier deurgebring, maar kon nie by alles uitkom nie. Die oorweldigende boodskap wat ek kry is egter: “As jy dood is, is jy dood. Daar is niks verder nie.”
Julle sê julle webwerf is “’n ruimte vir mense wat nie sku is om oor hulle soeke na sin te praat nie” en ek sal graag wil vertel wat ek gevind het. Dit is dinge wat vir my absoluut sin maak en dalk lees iemand hier iets wat hom help om ook groter rustigheid in sy lewe te vind. Ek het reeds in 1976 die Kerk stil-stil verlaat toe ons na ’n nuwe dorp verhuis het. Daardie jare kon jy nie net uitstap nie. Dit was ’n eensame paadjie. Niemand om mee te gesels nie en feitlik geen bronne waar jy ’n alternatief kon kry nie. Die dorpsbiblioteek het nie sulke dinge aangehou nie en die enigste “anderste” boekwinkels waarvan ek geweet het was Exclusive Books en die Aquarian Book Store, beide in Hillbrow. Daar het ek toe wel ’n boekie gekry met die titel: “On the Death of my Son”, geskryf deur Jasper Swain, ’n Suid Afrikaner. Saam met die populêre “Journeys out of the Body” van Robert Monroe het dit my laat dink dat daar tog lewe na die dood is. Ek het egter nog bewyse gesoek, wat ek eers met die koms van die internet sou vind.
Die soektog het baie ure geneem, maar vandag is ek absoluut oortuig dat ons net tydelik na hierdie wêreld gekom het en dat ons eintlike woonplek in 'n ander dimensie is. Die hiernamaals waarin ek glo is egter nie dieselfde een as dié waarin die Christene glo nie. In die hiernamaals (afterlife) waarin ek glo is daar verskillende vlakke en op elke nuwe vlak vibreer alles teen ’n hoër frekwensie. Die mens strewe daarna om sy vibrasies te verhoog, sodat hy na ’n hoër vlak kan beweeg.
Sakkie, in November 2009 het jy op die
gespreksforum wat handel oor “Heldersiendheid” gesê:
“Ek sal tot die dag van my dood nie oortuig kan word dat ek wat Sakkie is, anderkant die graf gaan voortleef met 'n bewussyn wat aan my brein ontgekoppel is nie.” ’n Rukkie later sê jy egter:
“Binne die NHN is daar ruimte vir verskillende sienings. En nie almal dink soos ek dink nie. Daar is mense wat jou sienings nie vreemd sal vind nie. Self sukkel ek daarmee. Miskien lees ek eendag 'n boek wat my oortuig.”
Ek weet nie of jy intussen al na boeke oor die onderwerp gaan kyk het nie, maar ek het een wat ek graag wil aanbeveel. Victor Zammit is ’n afgetrede regsgeleerde in Australië, wat reeds vir baie jare getuienis insamel oor kontak met die “afterlife”. Hy beoordeel dit nie noodwendig soos ’n wetenskaplike nie, alhoewel hy ook baie wetenskaplikes se getuienis aanbied. Hy kyk eerder daarna soos ’n landdros of ’n regter die getuienis sal aanhoor en dan moet besluit of dit waar is of nie. Hy het ’n geweldig omvattende webblad wat elke week aangevul word met ’n nuusbrief, maar hy het ook sy bevindinge te boek gestel. Dit kan in gedrukte formaat bestel word, maar kan ook in elektroniese formaat van sy webwerf afgelaai word.
As jy die hele boek in PDF formaat wil aflaai, hoef jy slegs in te teken op sy weeklikse nuusbrief (wat jy weer enige tyd kan kanselleer.) So nie, kan jy die 29 hoofstukke een vir een in HTML formaat gaan oopmaak (en dalk op jou rekenaar stoor as jy dit later wil herlees.) Die adres is http://www.victorzammit.com
Maak seker dat jy by die gedeelte onder die opskrif “Vital eyewitness messages from the afterlife” in hoofstuk 29 uitkom. (Bladsy 229 – 236
in die PDF weergawe). Dit het vir my verklaar wat die sin van die lewe is. Waar ons vandaan kom. Wat ons doel hier op aarde is. Hoe ons moet lewe. Wat na die dood met ons gebeur. Verder glo ek dat daar iewers een of ander energie of krag is wat alles aanmekaar verbind, maar dat dit nie binne ons vermoë is om die aard, doel, of omvang daarvan te verstaan nie. Net soos ons verstandjies nie werklik die grootte van die heelal kan inneem nie. Volgens
berekening van ’n span Australiese sterrekundiges is daar minstens 70,000,000,000,000,000,000,000 sterre (nie planete nie) in dié deel van die heelal wat ons kan sien. Ek kan nie daardie getal visualiseer of omskakel in ‘n konkrete beeld nie. Ek huiwer egter om na hierdie krag te verwys as God.
’n God is iets wat mensgemaak is. Vanaf die vroegste beskawings het mense vir hulle bonatuurlike wesens ontwerp met dieselfde begeertes en belange as hulself, om hulle in hulle daaglikse stryd teen die natuur by te staan. Hierdie krag waarin ek glo is iets wat totaal bo menslike denke verhewe is. As ons eendag nader kom aan die hoër vlakke, sal ons dalk iets daarvan kan begin verstaan.
Om te praat oor ’n lewe na die dood is skynbaar taboe in Suid-Afrika, want oral waar iemand dit probeer doen word dit van alle kante aangeval.
Moontlik het die gewetenlose persone wat net wil geld maak en hulle as mediums voordoen, iets daarmee te doen.Verder weet ek dat as iemand klaar besluit het wat hy wil glo dit vir hom baie moeilik is om werklik objektief na iets te kyk wat in stryd is daarmee. Dit is egter moontlik dat die situasie hier by die NHN anders is. Iemand wat reeds sy Bybel van die bedkassie kon skuif na die boekrak waar dit langs die Ilias en die avonture van Odysseus staan, sal dalk bereid wees om nog ’n paradigmaskuif te maak.
Gaan kyk gerus na Victor Zammit se webblad en lees sy boek. Wees geduldig, lees objektief en vra of dit nie tog vir jou ook sin maak nie.
Johnnie
Re: Bewyse vir lewe na die dood
"getoets" of "gelouter"?
Waarom?
Wat is die waarde van 'n vleeslike bestaan?
Waarom is die waarde nie reeds vooraf daar nie?
Is dit 'n wurm - vlinder transformasie proses?
Wie/wat het dit so bepaal en vir welke rede?
...Wees Geseënd...
www.bemotivatedtoday.com/58950
Re: Bewyse vir lewe na die dood
Beste Thys
Ek sal die brief binne 'n dag of twee hier plaas vir diegene wat dit nie onder oe gekry het nie. Daar was ook 'n baie mooi brief van Koot Bosman reg langs myne. Ons albei het gereageer op die artikel van Cas van Rensburg waarin hy lesers aan 'n Nederlandse boek oor die hiernamaals bekend gestel het. Die artikel het in die vorige week se By verskyn. Weet nie of jy dit onder oe gekry het nie. Loer gerus op Die Burger se webbladsy en gaan daar na BY. Daar vind 'n mens van die artikels.
Groete
Sakkie
Re: Bewyse vir lewe na die dood
Ek verstaan daar was in BY van vandag (26 Febr) 'n brief van Sakkie Spangenberg wat o.n. hierdie kwessie gegaan het. Dit is ongelukkig nie bekikbaar op enige van die Naspers-koerante se webblaaie nie want blykbaar word net artikels in BY op die webblad geplaas. En ek koop al lankal nie meer Beeld nie.
Is dit miskien moontlik dat prof Sakkie se brief hier (of voorop op die NHN) geplaas kan word?
Thys Human
Re: Bewyse vir lewe na die dood
voor-Christelike "heidense" gelowe van die ou Europeërs was óók deel van hierdie oorhoofse godsdienstradisie voordat dit grootliks vervang is deur die latere Christelike geloof. Die tradisionele Christelike geloof, Islam en die Judaïsme, is deel van die Semitiese godsdienstradisie. Die Semitiese godsdienstradisie word gekenmerk deur die geloof in 'n Persoonlike God wat sommige mense uitverkies bo andere. Terwyl sommige Jode soos die ou Sadduseërs nié in die hiernamaals geglo het nie, glo die meeste Moslems en Christene in die "Hemel en Hel"-storie.
Jaco Steyn
Re: Hou aan vra...
Jacco,
Wil jy glo dat ek Mikis Theodarakis heeltemal gemis het?! Hy is, wat my betref een van die grootstes onder die grotes en jy het my nou nuuskierig genoeg gemaak dat ek verder oor sy lewe gaan oplees. Tjek ook op YouTube vir van die belangrikste grepe uit Zorba the Greek.
BTW, ek het darem vir Jack Lemmon in lewende lywe op Broadway in Tribute gesien en een van sy definisies oor toneelspel wat my altyd sal bybly is toe hy gereken het "Acting is the art of faking honesty." Ek het myself seker ook al onderbewustelik daaraan skuldig gemaak maar ek verpes die doelbewuste misbruik daarvan deur mense soos Oom Artappel, Isak Burger, Jimmy Swaggert(?)....
Willem.
Re: Hou aan vra...
Willem,
Dankie vir die mooi kommentaar! "Zorba the Greek" was nog altyd een van my en my pa se gunsteling films. My pa het nogal die Broadway skouspel met Anthony Quinn self in die rol van Zorba beleef! Mikis Theodarakis se musiek en se lewe is 'n inspirasie. Was jy by sy konsert so paar jaar gelede in die Staatsteater? Het die voorreg gehad om saam te speel. Behalwe die keer toe Nelson Mandela 'n eregas by 'n konsert in die Johannesburgse stadsaal was het ek nog nooit 'n gehoor gesien wat soos een man opgestaan het om spontane applous te gee soos toe Theodarakis op die verhoog gestap het nie!
"Please sir, pretty admiral, no boom-boom!" - uit die Zorba skouspel :)
Jacco
NHN Webmeester
Bewyse vir lewe na die dood
Dit blyk dat my gesanik sommige gebruikers frustreer en irriteer. Dit is te verstane. Daar is tog ’n gesegde wat lui: “I’ve made up my mind. Don’t confuse me with the facts.”
Die NHN stel hulle Missie as volg: “Die Netwerk wil 'n ruimte vir oop religieuse gesprek verskaf. In hierdie spirituele ruimte kan nuwe gedeelde waardes ontwikkel word, en lewensin en betekenis aan die orde kom.”
In die lig hiervan nooi ek die beswaardes om my aanbevelings te ondersoek, sodat ons dáároor kan debatteer. Sodoende kan jy dalk ’n positiewe bydrae lewer in ons almal se soeke na “lewensin en betekenis.”
Dan word daar ook gehamer op die idee dat ’n mens jou nie aan die moontlikheid van ’n hiernamaals moet steur nie, maar slegs moet lewe vir die “hier en nou.”
Ek leef ook inderdaad vir die hier en die nou, maar in die lig van wat ek geleer het by diegene wat reeds kontak gemaak het met persone wat al die “hier” vir die “daar” verruil het.
Dit gee vir my sin aan my lewe as ek weet waarom ek hier is en help my dus om ’n nuttiger lewe te lei. Net kortliks: Ek is hier op aarde om getoets te word. Hoe reageer ek op die slegte dinge wat op my pad kom, maar ook – en miskien selfs belangriker – hoe reageer ek op die goeie dinge?
Iemand wat dít weet, probeer dus om sy huidige lewe so in te rig dat hy die goeie wat hy hier ervaar waardeer en wil ook iets daarvan terugploeg in die lewens van diegene met wie hy in aanraking kom. Dit is nie altyd maklik om die slegte te verwerk nie, maar as jy weet waarom dit daar is, kan jy dit dalk makliker aanvaar en probeer om dit te gebruik in jou geestelike ontwikkeling.
’n Ander gebruiker het gesê: “Sodra iets 'ons weet' word, kry dit waarde of voordeel vir die mensdom en kan ander ernstiger daarna begin kyk.” Ek glo nie Willem wou my regtig ondersteun nie, maar ek stem heelhartig met hom saam.
Die Christen sê: “Ek glo dat daar ’n lewe na die dood is, want die Bybel sê so.”
Die Filosoof sê: “Ek dink nie dat daar lewe na die dood is nie, want geen een van die boeke wat ék geraadpleeg het, bevat enige bewyse daarvoor nie.”
Die Spiritis sê: “ Ek weet dat daar ’n volgende lewe is, want ek het al met mense gesels wat reeds daar is.”
Na aanleiding van verwysings wat hy self in onlangse plasings verskaf het, het ek ’n bietjie na Jaco Steyn se lewensfilosofie gaan kyk en daar is vir my nogal ’n paar raakpunte met dít wat ek glo.
Jaco, in jou “eie geloofsbelydenis” verklaar jy dat jy glo “in die bestaan van ‘n onsterflike gedeelte van lewende wesens wat kan bly voortbestaan na die dood van die fisiese liggaam en wat onafhanklik van die fisiese brein kan funksioneer.”
Ons glo ook albei in die bestaan van ‘n “ónpersoonlike Godheid” en ek stem met jou saam as jy sê “hierdie Godheid kan nie voldoende deur middel van menslike terme omskryf word nie.”
Ek stem ook saam met jou as jy praat van “uiteindelike eenwording van die onsterflike deel van lewende wesens met die Absolute Godheid.”
Jy verwys dikwels na Oosterse filosofieë/godsdienste. ’n Vraag wat by my opgekom het is: Waar het die grondleggers van hierdie filosofieë hulle idees vandaan gekry? Is dit nie dalk moontlik nie dat hulle ook met entiteite in die volgende lewe gekommunikeer het en daaruit ’n filosofie geskep het wat mense kon help om sin aan hulle lewens te gee – Karma, Reïnkarnasie ens.
Miskien kan jy vir ons jou gedagtes daaroor gee.
’n Gebruiker het ook verwys na Plato.
Een van die wyshede wat Plato kwytgeraak het lui: “We can easily forgive a child who is afraid of the dark; the real tragedy of life is when men are afraid of the light.”
Johnnie.
Re: Hou aan vra...
Jacco,
Natuurlik het dade gevolge – resultate word egter nie deur Karma bepaal nie maar deur faktore soos gesonde verstand en korrekte toepassing van erkende deugde; as jy hard werk sal jy sukses behaal. Weens ons beperkte kennis kan ons nie alles reg doen of voorsien nie maar ons probeer goed of reg doen in die verwagting dat dit die voordeligste strategie vir goeie resultate is. Die aanname, dat iets geldig is omdat dit ’n universele konsep is, maak dit nie noodwendig waar nie - kennis en gevolglike insig het al talle universele konsepte uitgewis en is ’n voortdurende gevolg van menslike ontwikkeling. Reinkarnasie mag vir sommige hoop of troos vir die nadoodse bied maar daar is geen tasbare bewyse dat dit wel in die werklike wêreld bestaan nie.
Ek vermoed dat kla net so terapeuties soos ’n lang string vloekwoorde op die regte tyd kan wees. Dit help met ontlading en ‘closure’. n Volksgesegde lui dat ons hoes om van ’n obstruksie druk in die bors ontslae te raak en sug om druk op die hart te verlig. Dus, as ek klaar gehoes, gesug of gekla het, voel ek beter en kan ek weer (sonder onnodige bagasie) aangaan.
Ek neem ook nie voorskriftelik aan die gesprekke deel nie (het nie die kennis of reg nie) maar ontbloot my denke eenvoudig in die hoop dat ek reggehelp sal word indien ek fouteer. Jou ego kan nie jou vyand wees nie, want dit is die riglyn wat vir jou aandui of jy tevrede of nie is nie. Jy praat van ‘doen’ maar jy (en jou ego – eintlik gewete) gaan bitter ongelukkig wees as jou lewensresultate nie aan julle verwagtinge voldoen nie. Selfsugtige narsisme is egter die sluwe satan-slang wat dalk met ego verwar word en die eintlike een is om voor op te pas.
As ’n ou omie wat talle kanse in die lewe verspeel het beny ek jou die fantastiese ontdekkingsreis waarop jy jouself tans bevind en wens ek jou wysheid en insig toe. Maak egter vooraf vrede met die volgende, uit Zorba the Greek, en toe Zorba by Alan Bates wou weet hoekom ’n mens moet doodgaan.
“I don’t know’, het Bates geantwoord waarna Zorba opgespring en iets uit frustrasie geskop het.
“ You and your damned books – if they don’t tell you that, what the hell do they tell you?”
Hierop het Bates sag geantwoord; “It tells me of the agony of men who cannot answer questions like yours.”
Dink daaroor en, onthou dat een van die grootste gawes van die lewe juis die feit is dat ons gelukkig nooit al die antwoorde sal he nie. Mag dit jou egter nooit verhoed om aan te hou vra nie.
Willem.
Re: Bewyse vir lewe na die dood
Ek stem nie saam met jou nie, Willem.
Daar is genoeg reëls waaroor ons sou kon gesels. Kom ons begin met "wat jy saai, maai jy". Die "wet" van Karma. Daar is genoeg literatuur daar buite om te wys dat dit 'n heel universele konsep is. Die konsep van reinkarnasie, glo dit as jy wil is nog 'n konsep wat jy oral sal vind, alhoewel die westerse kerk die konsep met goeie rede onderdruk het. As almal 'n tweede kans kry, dan het die kerk tog nie meer 'n houvas op sy onderdane nie, dan is daar mos spirituele demokrasie en vryheid. Wat is die konsep van Jesus se versoeningsdood anders as die van een persoon wat 'n ander se Karma oorneem nie?
Hier is nog een van my gunstelinge "wette": "my omgewing is 'n spieël van my eie psige". Hiervan lui ek af: "become the change that I want to see in the world". Dit raak dus heel sinloos vir my om oor enigiets wat ek beleef te kla - dit opsigself verbeter my gemoed en dus my gesondheid in alle opsigte. Daar het jy een voordeel wat die mensdom uit hierdie reël sou kon trek. Wat sou gebeur as almal sou ophou kla, "what if someone organised a war and nobody turns up?"
Hiermee is ek verlos van 'n baie, baie klein stukkie van my ego se behoefte om hom op die webwerf te laat geld. Dit help nie om te preek nie. Dit help net om te doen. En daar preek ek al weer! Ai, die ego is darem slinks! Ha-ha!
Willem, man, dit was lekker om weer met jou te gesels, want jy help my om my enigste vyand in die lewe, my ego, te identifiseer en om hom opnuut die stryd aan te sê. Dankie vir jou hulp! Dis een van daardie heilige dinge wat ons as mense vir mekaar doen. Terloops, in die Kaballah is die kodewoord vir die ego: satan. Nou toe-nou!
Oeps, amper vergeet ek om die "wet van liefde" te noem!
Ek gaan nou maar weer verder probeer "doen" en liewer my mond hou!
Liefde... Jacco ;)
NHN Webmeester
Re: Bewyse vir lewe na die dood
Die woord ateïsme behoort nie eens te bestaan nie. As daar nie iets soos godsdiens was nie, sou niemand na hulself as ateïste verwys het nie - ons sou almal doodgewone, rasionele mense gewees het. En, soos talle skrywers al uitgewys het, almal van ons is ateïsties jeens 99.9% van die gode van die geskiedenis - Zeus, Wotan, Thor... Ons het nie nodig om te "glo" dat hulle nie bestaan nie, ons aanvaar dit sommer as vanselfsprekend.
Waarom is gebrek aan geloof in die Christen-god enigsins anders? Terloops, ek hou ook nogal van Jaco se onderskeiding tussen negatiewe en positiewe ateïsme. Ek sluit nie die moontlikheid van 'n opperwese uit nie, maar, as hy bestaan, gaan hy definitief nie by enige van die Bybelse beskrywings pas nie!
Re: Bewyse vir lewe na die dood
Jaco Steyn
Re: Bewyse vir lewe na die dood
Jaco,
Tjek jou aanname betreffende materiele ateiste se 'geloof' weer uit. Daar is groot verskil tussen oortuigde aanvaarding sonder genoegsame bewyslewering en waarskynlike verwagting ('wetenskaplike geteuienis... wat daarop dui') terwyl genoegsame bevestiging, al dan nie, betreffende so n vermoede steeds afgewag word.
Willem.
Re: Bewyse vir lewe na die dood
Jaco Steyn
Re: Bewyse vir lewe na die dood
Jacco,
Wat my pla van jou argument is dat almal die 1% waana jy verwys grootliks as dieselfde ervaar en as basis tussen lewe en dood gebruik maar dat jou 99% so eksponensieel en wyduiteenlopend soos die aantal individue op die aarde is. n Gemoeidheid met of n studie van iets waarvan geen reels afgelei kan word nie en of wat geen voordele, van enige aard, vir die mensdom bied nie is in my nederige opinie sinneloos en n mors van tyd.
Dit is uit daardie tydlose (waar n drie-duisend-jaar-oue argument net so irrasoneel 'geldig' soos n modernde een is) 'mistieke' en dus ondeursigtige modderpoel wat goggas soos Isak Burger, Agnus Buchan, Jimmy Swaggert en, onlangs, President Stortkop, kan kruip om mense, salig onder onder die invloed van hul hartsoortuigde grandieuse delusies ('ek is so slim en God se uitverkore vertroueling') , met hul 'goddelike of mistieke (dus onbewese) insig' te probeer beindruk en mislei.
Jou 'ek glo' bly dus presies net persoonlike opinie. Sodra iets 'ons weet' word, kry dit waarde of voordeel vir die mensdom en kan ander ernstiger daarna begin kyk.
Willem.
Re: Bewyse vir lewe na die dood
Hallo almal!
Toe ek laas by die NHN kom kuier het, was dit om na 'n akademiese interpretasie van Buddhisme te luister. Destyds was ek juis besig om een van die oudste geskrifte, die I Ching, te bestudeer. Die I Ching is al 10 jaar lank 'n onontbeerlike daaglikse inspirasie in my lewe. Die sinvolle gebruik van die I Ching, net soos meeste ander mistiese geskrifte, noodsaak die opheffing van die intellek, die deel van ons ego wat o.a. vir alles 'n rasionele verklaring soek. Daar is eenvoudig geen intellektuele verklaring (en daar sal miskien nooit ‘n wetenskaplike verklaring wees) hoekom wanneer 'n mens 3 muntstukke 6 keer gooi, die kombinasie van die resultaat 'n direkte verband bewerkstellig tussen die gedagte waaroor 'n mens op daardie juiste oomblik mediteer en ‘n teks wat meer as 3000 jaar gelede geskryf is nie.
Ek het pas in Philadelphia Constitution Hall besoek en weereens besef hoe dankbaar ons moet wees vir die Verligting (Age of Enlightenment). Demokrasie is een van daardie idees: “A government to be elected by the governed”. Wat ’n grootse idée!!!! En hoe het dit nie ons wêreld verander nie!
Waarvoor ons ook die “Age of reason” moet bedank is die kennisontploffing wat ons tans beleef. Maar dit ten koste van die mistieke. Ons is almal tog bewus dat daar dinge is wat ons moderne samelewing verloor het, goeie konsepte van die verlede wat ons ten alle koste moet beskerm. Ek dink eenvoudig aan kwynende familiewaardes en groepsbewussein as voorbeelde. Ons moet oppas om te sê dat alle mense 1000 jaar gelede minder wys was as mense vandag. Ons staan voor krisise vandag wat eenvoudig nie met die intellek opgelos kan word nie. Watter logiese, realistiese, merkbare effek sou ons nou werklik op aardverwarming kon hê as die son besig sou wees om te verwarm en een uitbarsting van ‘n vuurspuwende berg in Ysland meer CO2 in die atmosfeer inblaas as wat die hele mensdom in vier jaar sou produseer!?
Daar was mistici soos Teresa van Avila, om net een te noem, wat oor wysheid beskik het wat, na my mening, 99% van die mense op aarde tans te kort kom. Dit sou moontlik gevaarlik wees om te beaam dat ons vandag beter weet hoe om die lewe te leef as die mistici van die verlede en die hede.
Tans bestudeer ek die Kabbalah saam met ‘n onderwyser wat weekliks oor Skype onderrig uit Tel Aviv en 6 keer per jaar na Suid-Afrika kom (ek is nou maar een maal ‘n “sucker” vir die mistieke, en baie trots daarop!). Een van die belangrikste konsepte in die Kabbalah is “die wêreld van die 1% en die wêreld van die 99%”. Die 1% is dit wat ons met ons sintuie en intellek kan waarneem en die 99% is die res! Dit wat in die 1% manifesteer se oorsprong lê in die 99%. Die studie van die 99% is die lewenstaak van ‘n mistikus. Om die 99% te bestudeer moet 'n mens egter bereid wees om gereeld o.a. sy/haar intellek/logika op te hef, iets wat enige Kind van die Verligting moeilik vind om te doen.
Kom ons hou tog op om die onsterflikheid vs. sterflikheid van die sg. "siel van die mens" te "beredeneer" en kom ons bestudeer 100% (ja, 100%) van die lewe!!! In die woorde van een van my grootste leermeesters, Antoine de Saint-Exupéry se "Klein prins": "Die wesentlike is onsigbaar". Ek glo die Era van Verligting is besig om tot ‘n logiese (excuse the pun!) einde te kom. Die Era van die Gees het aangebreek en dit wat ons tans beleef is geboortepyne!
Liefdegroete,
Jacco
NHN Webmeester
Re: Bewyse vir lewe na die dood
TIEN UIT TIEN SAKKIE Ek stem 100% saam met jou en dit het my 'n leeftyd gevat en baie dapperheid en baie eerlikheid om daarby uit te kom. Ek moet "bely" ek sukkel nou om die "swakkere gebroeder" se aanhoudende verlange (en gekerm in my ore) na 'n lewe na die dood te verduur in hierdie korrespondensie. Ek erken ek is verkeerd in my ongeduld, maar wragtig - kom ons fokus liewer op die LEWE! Ons mors kosbare tyd om anorgasmies te masturbeer oor "bewyse vir die lewe na die dood" Julle wat so glo - doet asseblief so voort sonder om apolegeties te wees. Liefde (non-homofobies-heteroseksueel-dood gewone) groete - Johann Lemmer
JOHANN LEMMER
Bewyse vir lewe na die dood
Peet,
Nee wat. Jy probeer woorde in my mond lê as jy sê: ” Ek dink ons sal in hierdie stadium vir mekaar moet sê dat ons nie regtig weet nie. Ons is onseker oor lewe na die dood”.
Ek is daarvan oortuig dat daar wel ’n hiernamaals is en dat ons nou al iets daarvan kan weet. Die getuienis wat ek teëgekom het, was vir my genoeg.
Daardie hiernamaals is egter baie anders as dié waarin die Christene glo. Vir ’n begin hoef ’n mens in hierdie lewe geen godsdiens te beoefen nie. Die vlak waarheen jy hiervandaan gaan word nie bepaal deur dit wat jy geglo het nie, maar deur dit wat jy gedoen het. Volgens inligting wat ontvang is van diegene wat reeds “oorgegaan” het, gaan die meeste van ons wat ’n redelik “goeie” lewe gely het na die derde vlak. Daar is egter laer vlakke vir diegene wat ’n “slegte” lewe gelei het.
Ek het gehoop dat die gebruikers op hierdie forum die skakel wat ek gegee het sou volg en dan kommentaar sou lewer op Victor Zammit se webblad. www.victorzammit.com
Daar is geen bewys in jou skrywes dat jy dit wel gedoen het nie. Ek sê weer: Gaan lees wat Zammit bevind het in sy meer as 20 jaar se navorsing en bowenal – gaan lees die laaste gedeelte van hoofstuk 29 van sy boek!
Dit is vir my verstommend dat meeste mense so huiwerig is om oor hierdie onderwerp te praat, of selfs net iets daaroor te gaan lees.
Dit is logies dat die Christene dit nie sal wil doen nie, aangesien dit hulle “vaste geloof” kan skaad, maar waarom sou iemand wat sê dat hy oop is vir ’n ander se siening, weier om te gaan lees wat daardie persoon se siening nou eintlik is?
Gaan lees net. Jy hoef dit mos nie te glo nie. As jy egter dan sou sê dat jy sy getuienis van en siening oor ’n volgende lewe verwerp, sou ek graag wou verneem op grond waarvan jy so sê.
Groete.
Johnnie.
Re: Bewyse vir lewe na die dood
Re: Bewyse vir lewe na die dood
Johnnie,
Ek dink ons sal in hierdie stadium vir mekaar moet sê dat ons nie regtig weet nie. Ons is onseker oor "lewe na die dood". En dit wat die empiriese wetenskap ons bied in hierdie verband laat veel te wense. Gelukkig is die tydsgees en gedagtegange van die tyd waarin ons leef juis die besef van die oneindigheid van dinge. Niks in die lewe is finaal en absoluut nie. Alles word gekenmerk deur onbekende, onvoorspelbare, raaiselagtige, maar ook opwindend en vernuwende faktore. Dit is onuitputlik.
Wanneer ons na die antieke tyd kyk is daar ook nie regtig duidelikheid oor "'n lewe na die dood nie". Die kontekste waarin hierdie idees en konsepte vorendag kom is divers en moet altyd ingedagte gehou word in ons poging om te verstaan. Wat ek wel raaklees in antieke tekste is menslike emosies van vreugde, troos en hoop in konsepte soos "lewe na die dood". So lees ek in 2 Makkabeërs 7 van 'n moeder en haar sewe seuns wat gemartel is omdat hulle geweier het om varkvleis te eet. 2 Makkabeërs 7:20 "...want ofskoon sy op een dag haar sewe seuns sien sterf het, het sy moedig standgehou, omdat sy op die Here gehoop het".
Hoe naïef dit ookal mag klink, dit het ongelooflike waarde.
Groete.
Re: Bewyse vir lewe na die dood
Beste Anoniem
Ek weet dat ons nog nie alles weet nie en dit is niemand meer beskore om alles van alles te weet nie. Die laaste persoon wat glo alles van alles geweet het, was die Duitse filosoof Gottfried Wilhelm von Leibnitz (1646-1716). Hy was die laaste sogenaamde "universele leermeester" (as my geheue my nie in die steek laat nie). Kennis neem tans eksponensieel toe en daarom kan niemand meer 'n greep op alles he nie. Om egter te reken dat Plato, of Lao Tzu, of die Upanishads oor kennis beskik waarvan ons nog nie weet nie, klink vir my nie heeltemal korrek nie. Daardie mense en daardie geskrif dateer uit 'n tyd toe mense nog maar weinig geweet het. Om te reken dat hulle meer van lewe na die dood geweet het, is onwaar. Wat hulle oor lewe na die dood "geweet" het, was gebaseer op spekulasie, maar nie op kennis nie. Dis presies ook die geval met die Bybelboeke. Die skrywers van die Bybelboeke het nie oor meer kennis en insig beskik as waaroor ons tans beskik nie. Hulle boeke weerspiel die stand van kennis van hulle dag. Niks meer nie. Daarom dink hulle in terme van 'n drieverdieping heelal en is hemel en hel vir hulle aanwysbare en bewoonbare plekke. Hemel en hel is nie meer aanwysbare en bewoonbare plekke in die heelal soos ek dit ken nie.
Ek bly steeds onoortuig dat ons en ander diere en plante in 'n volgende lewe gaan voortbestaan. Sodra suurstof na my brein afgesny word, is bewussyn daarmee heen en is Sakkie Spangenberg soos hy hier bestaan het, daarmee heen. Ek bly wel voortbestaan in ander mense se herinneringe aan my. Dit wil se in hulle breine, maar ek leef nie in een of ander dimensie voort nie. Later van jare sal niemand my meer onthou nie en dan tree die "tweede dood" in soos dr. Con de Villiers daarna verwys het. Dis die tyd op aarde wanneer geen mens meer sal omgee of daar ooit 'n Sakkie Spangenberg geleef het.
Groete
Sakkie
Re: Bewyse vir lewe na die dood
Dankie,
Dit is baie goeie bydrae en mnr Zammit is regtig passievol oor sy onderwerp.
Wat beteken lewe na die dood vir my en die antwoord is nie veel nie, maar vir my sogenaamde hoër self beteken dit baie. Ek hou baie van die Boek van Thomas en die boek pas ook lekke in, in die konteks.
Sakkie as jy ook kyk buite jou akademiese en christen oogklappe kyk sal jy sien dat baie gelowe glo dat diere en plante ook 'n lewe hierna het.
Ek dink nie dit is wys om duisende jare se kennis weg te gooi nie werke soos die van Lao Tzu, Plato, Upanishads en baie ander het nog veels te veel waarde om dit weg te gooi. Dit sou uiters verwaand gewees het van ons om te reken dat ons nou alles weet.
Daar is nog soveel aspekte van onsself wat nog nie nagevors is nie.
Die volgende skakels het ek baie geniet en hou verband met die onderwerp.
"Animals said to have spiritual experiences"
http://www.globalanimal.org/2010/10/08/prominent-neurologist-says-animals-have-spiritual-experiences/18823/
"Hogan’s holometer: Testing the hypothesis of a holographic universe"
http://www.symmetrymagazine.org/breaking/2010/10/20/fermilab-scientists-to-test-hypothesis-of-holographic-universe/
"The chaos theory of evolution"
http://www.newscientist.com//article/mg20827821.000-the-chaos-theory-of-evolution.html
Bewyse vir lewe na die dood
Peet,
Jy en Richard Dawkins is waarskynlik reg. Dit is seker maar ’n “meme” wat deur die Westerse Beskawing loop wat my oorspronklik na die bewyse daarvoor laat soek het.
In my soeke het ek die akademici en die filosowe geraadpleeg. Ek het gevind dat hulle uitstekend slaag met die dekonstruksie van bestaande gelowe en vir ons mooi logies uiteensit waarom ons nie vandag nog vorige eeue se dogmas hoef aan te hang nie. (Die artikel waarna jy verwys – Sakkie se “Tekslose Verstaan van God” is ’n goeie voorbeeld daarvan).
Wat egter nie vir my sin maak nie, is hulle gevolgtrekking dat daar niks na die dood is nie. As ons dan maar net tydelik hier in hierdie ontsaglike heelal is, om uiteindelik as ons sterf "opgeneem (te) word in die durende siklus van vernuwing en verval", ter wille van wie of wat is ons hier?
As jy hulle sou vra waarom hulle so dink, is die antwoord gewoonlik dat hulle nog geen bewyse vir die teendeel gevind het nie. Dit laat dus die vraag of hulle wel hard genoeg na bewyse gesoek het en waarom hulle moontlike empiriese bewyse wat aan hulle voorgelê word, nie eers wil oorweeg nie.
Ek het dus maar self na bewyse gaan soek en Victor Zammit het mý wel oortuig dat daar ’n lewe na hierdie een is en dat ons nou al iets kan weet van hoe dit daar lyk. Maar bowenal verklaar hy in hoofstuk 29 vir my waaroor alles nou eintlik gaan. Dit wat hy sê is vir my logies en maak vir my sin. Gaan kyk ook gerus na sy kommentaar op Richard Dawkins se ontkenning van die moontlikheid dat daar wel ‘n lewe na hierdie een is.
Terloops, ek dink ook dat ons weer eendag deel gaan word van die kosmos, maar nie nou al nie en nie in ons huidige gedaante nie. Dit sal eers gebeur as ons die hoogste vlakke in die ander dimensie bereik. As ons vibrasies so verfyn is dat ons eenvoudig deel word van die “Godheid”. (By gebrek aan ’n beter term/woord).
Ek stem ook saam met Sakkie as hy sê: “Ons weet nie regtig mooi hoe om oor God/die goddelike te praat nie”. My standpunt is egter, soos ek dit hier bo gestel het, dat die mens nie die vermoë het om die “goddelike” te begryp nie en ek kan dus nie eers probeer om daaroor te spekuleer nie.
Peet, dan vra jy ook: “watse betekenis het "lewe na die dood" vir jou?”
Dit sê vir my dat ek eendag (aan myself – gaan lees hoofstuk 29) moet rekenskap gee van dit wat ek in hierdie lewe gedoen het en dus moet gaan besin oor hoe ek nou lewe. Dan besef ek dat ek moet ophou om vir net myself te lewe en eerder moet probeer om in harmonie met my medemens te lewe en hulle te help waar ek kan. Wat jy saai, sal jy maai (karma).
Groete.
Johnnie.
Re: Bewyse vir lewe na die dood
Beste Johnnie,
Ek lees dat jy voorheen 'n lidmaat in die een of ander kerk was, vandaar jou idee oor die "lewe na die dood". Almal wat vandag daaroor besin en daaroor in gesprek tree met ander het die kerk, en die Bybel as bron, of ek nou daarvan hou of nie. En dit wat ons in die Bybel raaklees oor "lewe na die dood" (indien daar verse daaroor is behalwe miskien in Daniël 12:2 wat ook natuurlik in konteks gelees moet word) is hoe die antieke mense daaroor gedink het. Net vir interresantheid, die sienings in die tyd van Dawid en Salomo (1000-922vC) het byvoorbeeld verskil met sienings van balinge in 586-539vC. Dawid en Salomo was nie bewus van 'n "lewe na die dood" nie. Wat saak gemaak het is die lewe hier en nou. Spekulasie oor dinge wat gaan kom was nie belangrik nie, wat jy met jou lewe nou maak is belangrik. Beskouings oor "lewe na die dood" is ontleen van die Zoroastrianisme. Via die Judaïsme het Zoroatrianisme ook jonger gelowe soos die vroeë Christendom en Islam later beïnvloed.
Ons leef nie net in 'n postmoderne samelewing nie, ons kan dit ook tipeer as post fundamenalisties, immanent transendent, sowel as post metafisies. Sakkie het in hierdie verband 'n artikel geskryf wat op die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit te lese is onder die titel "n Tekslose Verstaan van God". Hy skryf: "Ons leef in 'n "godsverduistering". Ons weet nie regtig mooi hoe om oor God/die goddelike te praat nie". Ek dink dit geld ook vir dinge soos "lewe na die dood".
Johnnie, dalk moet die vraag eerder gevra word: watse betekenis het "lewe na die dood" vir jou? Ons kan krities-sinies nadink hieroor as empiries irrasioneel maar ek dink die oomblik as (baie van) ons die dood in die gesig staar val ons terug op naïf-letterlike sentimente, soos " lewe na die dood" omdat dit ons affek of gevoelswaarde op daardie oomblik die beste dra.
Groete!
Re: Bewyse vir lewe na die dood
Beste Johnnie
Ek sien jy verwys na van my stellings oor lewe na die dood en dat die NHN ruimte bied vir mense wat saambesin oor die sin van die lewe. Ek is nou maar eenmaal 'n groot skeptikus as dit oor lewe na die dood gaan. Lewe soos ons dit op aarde ken, het suurstof, water en sonlig nodig. Ek weet dat daar wel ekstremofiele bestaan wat diep in die oseane bestaan waar daar weinig suurstof is, waar sonlig ontbreek ens. maar vir alle praktiese doeleindes is die groot meerderheid van dinge wat op die planeet leef, van suurstof, water en sonlig afhanklik.
As iemand my kan oortuig dat broodbome, geelhoutbome, renosters, olifante, seeleeus, haaie, en noem maar ook deel van die "afterlife" gaan wees, sal ek dalk oorweeg om in "afterlife" te glo. Ek het in die tussentyd wel die boek "Stardust" van John Gribbin raakgeloop. Dit het as onderskrif die volgende sin "The cosmic recycling of stars, planets and people". Ek glo op grond van wat ons tans van die kosmos en hoe dit funksioneer weet, dat alles aan hersirkulasie onderworpe is. Eendag in die verre toekoms gaan ons son uitbrand en dit gaan geweldige gevolge vir die binne-planete (Merkurius, Venus, Aarde, Mars) inhou. Die son gaan ons "opslurp" en uitbrand en die materie gaan aan die groter heelal gegee word om weer iets daarmee te doen. Ons liggame is buitendien opgebou uit die materie van 'n uitgebrande ster (as ek die wetenskaplikes goed verstaan). Ek is tevrede om met die wete te leef en te sterf.
Groete
Sakkie