Wie is ons?

 

Ons Fokus op die LEWE

 

Die ontstaan van die NHN kan tot ’n groot mate teruggevoer word na die dekonstruksie van die tradisionele kerklike dogmas. Die afgelope 5 jaar het die fokus egter verskuif na die moontlikhede wat rekonstruksie vir post-moderne gelowiges inhou.

 

Pieter van der Merwe, Voorsitter 2009

Die ontstaan van die NHN kan tot ’n groot mate teruggevoer word na wat ons kan noem die dekonstruksie van die tradisionele kerklike dogmas. Baie energie is bestee aan nuwe insigte wat verkry is deur navorsing gebaseer op moderne kritiese denke en wat die NHN-lede se verbintenisse aan hierdie dogmas ingrypend verander het.

Met verloop van tyd het die besef egter gegroei dat die aanhoudende dekonstruksie — hoewel uiters insiggewend en waardevol — eintlik net neerkom op ’n herhalende “loop om die dammetjie” met min moontlikhede vir verdere groei en ontwikkeling. So het die klem verskuif na die moontlikhede wat rekonstruksie kan bied.

Die vraag was egter: Rekonstrueer waarheen? Om nuwe dogmas in die plek van oues te konstrueer, was buite die kwessie. In die NHN is deeglik besef dat formulerings van nuwe dogmas net die ander kant van dieselfde ou muntstuk sou verteenwoordig met gevolglike konfessionele verbintenisse waaraan lede hulle sou moes bind en hou. Dit sou die een waarde wat al meer as ’n unieke bate van die NHN vertroetel is — naamlik die oop ruimte vir vrye religieuse gesprek — kompromitteer met die dubieuse gevolg dat sommige mense getipeer sal kan word as “hulle is reg” en ander as “hulle is verkeerd.” Polariteit sou weer sy kop uitsteek en mense sou in kampe verdeel word.

Die konsep van die lewe, soos ons dit in die hier en nou ervaar, het uit talle gesprekke en  aanbiedinge deur verskillende sprekers ontwikkel. Dit het duidelik geword dat hierdie konsep die grondslag kan vorm vir die nuwe rekonstruksieproses waarna gesoek is.

Die twee NHN-Weesgerus naweek-seminare (2007 en 2008) het beduidende bydraes gelewer in die proses van ontwikkeling. Lede se verwagtinge van die NHN is verwerk, gesistematiseer en gestruktureer.

In die NHN besef ons dat die een saak waaroor ons eenstemmig is en wat ons weet onteenseglik waar is, die insig is dat ons nóú lewe. Die NHN fokus dus op die LEWE soos dit hier en nou ervaar word. Derhalwe spoor ons mekaar aan met die een wens: Lééf die lewe!

Ons lewe is in vier groot kontekste veranker. Alhoewel hierdie vier kontekste groot velde verteenwoordig wat oënskynlik ver van mekaar verwyderd staan, is die gemene deler  die feit dat elkeen ’n eie en direkte impak het op ons ervaring van die lewe in die hier en nou. Ons beleef ook dat die impak wat in een konteks gemaak word, die ervaring van die lewe in enige van die ander drie kontekste beïnvloed.

Ons kan hierdie vier kontekste dus nie van mekaar skei nie. Ons kan dit hoogstens onderskei. Hierdie vier kontekste is:

Vir elk van die vier kontekste geld min of meer dieselfde opdrag — om:
 
  1. kennis te neem van die wetenskaplike ondersoeke van die betrokke konteks;
  2. die resultate van hierdie studie verstaanbaar aan ander aan te bied;
  3. die implikasies van hierdie navorsing vir die lewe hier en nou uit te spel.
Die NHN is waarskynlik die enigste organisasie  in Suid-Afrika met so ’n uitsluitlike fokus op die LEWE. Die NHN kan en behoort ’n beduidende bydrae te lewer tot die morele herstel van ons samelewing en herlewing van respek vir, asook waardering én instandhouding van alle vorms van lewe in ons land.
 
MAG DIE LEWE JULLE GOED BEHANDEL!

Ons Visie

Ons visualiseer 'n nuwe era waar inligting vrylik kan vloei sonder vrees vir marginalisering, verkettering, of vervolging. Elke mens, man, vrou of kind, behoort in staat te wees om in positiewe verhoudings tot hulleself, hulle medemense, hulle omgewing en die goddelike te kan leef. Ons streef na 'n kultuur wat bevorderlik is vir ware selfverwesenliking.

Ons Missie

Die Netwerk wil 'n ruimte vir oop religieuse gesprek verskaf. In hierdie spirituele ruimte kan nuwe gedeelde waardes ontwikkel word, en lewensin en betekenis aan die orde kom.

Hierdie ruimte verskaf 'n spirituele en sosiale tuiste vir mense wat hulle met vrye religieuse denke identifiseer — veral uit die perspektief dat alle godsdienste en gelowe kultuurprodukte is. 

Die Netwerk wil verder dienste verleen of koördineer aan persone wat begeleiding benodig in belangrike lewensgebeurtenisse. Dit wil ook geleenthede skep waar mense saam vorme van eietydse religiositeit en geloofsbelewing kan verken.

Ons Waardes

Ons Doelstellings

In ooreenstemming met ons visie en missie, en gelei deur ons waardes, verenig die takke en lede van Die Netwerk om doelstellings soos die volgende na te streef: 

Oop Religieuse Gesprek

 

Sosiaal

 

Begeleiding

Stigterslede: 2005

Izak J.J. Spangenberg

2005

Izak (Sakkie) Spangenberg is in 1951 in Benoni in die ou Transvaal gebore en het op vierjarige ouderdom saam met sy ouers verhuis na Germiston waar hy uiteindelik sy matriek aan die Hoërskool Goudrif in 1969 voltooi het. Na 'n jaar verpligte militêre diensplig (1970) is hy na die Universiteit van Stellenbosch waar hy van 1971-1978 studeer het. Hy het 'n BA, 'n Hons BA (Semitiese Tale), 'n MA (Semitiese Tale), 'n BTh en 'n Lisensiaat in Teologie op Stellenbosch voltooi. Hy is in 1979 aangestel as lektor in Bybelkunde aan die Randse Afrikaanse Universiteit in Johannesburg. Tydens daardie jare het hy sy DTh in Ou Testament aan Unisa onder die promoterskap van professor Jimmie Loader behaal. In 1987 is hy aangestel as senior lektor by Unisa en in 1995 bevorder tot medeprofessor in die vak Ou Testament. Hy is tans departementshoof van Ou Testament aan Unisa.

Hy spesialiseer in die uitleg van die Bybel, die wysheids- en apokaliptiese literatuur van die Ou Testament (Spreuke, Job, Prediker en Daniël), die geskiedenis van die Tweede Tempeltydperk (515 vC - 70 nC) asook in die navorsingsgeskiedenis van die vak Ou Testament. Hy stel belang in die navorsing rondom die Sinoptiese evangelies (Matteus, Markus en Lukas) en die verhouding tussen die Christelike godsdiens en ander godsdienste en lees graag oor hierdie onderwerpe.

Hy het vier boeke op sy kerfstof en het ook deelgeneem aan die skryf van verskeie ander boeke waarvan hy nie die redakteur is nie. Voorts het hy vyf en twintig wetenskaplike artikels in verskeie internasionale vaktydskrifte gepubliseer asook 'n handvol artikels in populêre tydskrifte en koerante. Hy was al 'n paar keer oorsee ter wille van sy vak en om kongresse by te woon.

Unisa het in 1999 die Kanseliersprys vir navorsing in die Fakulteit Teologie en Godsdienswetenskap aan hom toegeken.

Hy dien tans op die godsdienspaneel van die oggendblad Beeld en hou daarvan om teologie vir die markplein te skryf. Wanneer hy met vakansie is of sommer net ontspan, bestudeer hy voëls en hulle gedrag.

Hy is getroud met Dina van Aardt en hulle het twee seuns Werner en Ulrich.

Pieter J.J. Botha

2005

Pieter het groot geword in Johannesburg, en na matrikulasie aan die Randse Afrikaanse Universiteit en die Universiteit van Pretoria gestudeer. Hy het in 1987 voltyds by die Universiteit van Suid Afrika begin werk, waar hy vandag professor in Nuwe Testament is. Hy doseer Bybelse Argeologie en Nuwe Testament Teologie, en spesialiseer op die gebied van die geskiedenis en agtergrond van die ontstaan en ontwikkeling van die vroeë Christendom.

Pieter was redakteur van die vaktydskrif Neotestamentica van 1995 tot 2000, het al tientalle referate by internasionale kongresse gelewer en meer as 50 wetenskaplike artikels in verskeie internasionale vaktydskrifte gepubliseer. Hy het onlangs 'n boek, Everyday life in the world of Jesus die lig laat sien. Wat wetenskaplike artikels betref het van sy meer onlangse publikasies gehandel oor: onderdanigheid, geweld en geslagsrolle in die wêreld van die Nuwe Testament; radiokoolstof en teologiese refleksie, en oor die geskiedenis van die Romeinse Ryk en Judaïsme.

Oor sy deelname aan die Nuwe Hervorming-gesprek skryf hy: "Alhoewel ek al lankal gefrustreerd is met konvensionele godsdiens en sogenaamde ortodokse teologie was dit 'n opmerking van Piet Muller wat my entoesiasties oor die Nuwe Hervorming gemaak het. By ons eerste werkswinkel het Piet oor sy eie ervaringe vertel, en onder andere genoem dat die kerk veel te sê het oor wat voor 'n mens se geboorte sou gebeur het en wat na die dood kamstig gaan gebeur maar oor die lewe self omtrent niks nie.  Presies."

Pieter Craffert


Pieter Craffert word op die platteland groot in die noorde van Kwazulu/Natal.
Hy studeer teologie aan die Universiteit van Pretoria en later aan Unisa waar
hy 'n doktorsgraad in Nuwe Testament behaal. Sedert 1987 is hy dosent in
Nuwe Testament en Bybelse argeologie aan Unisa.

Hy het reeds drie boeke geskryf oor die kultuur-historiese leefwêreld
wat veral uit die argeologie na vore tree. Hy het talle nasionale en
internasionale referate gelewer en tientalle publikasies die lig laat sien.
Die afgelope vyf jaar doen hy navorsing oor die historiese Jesus vraagstuk,
onder andere, vir 'n jaar as Alexander von Humboldt navorsingsgenoot aan die
Universiteit van Heidelberg in Duitsland.


Piet Muller


Dr. Piet Muller praktiseer as toekomskundige en kreatiwiteitskonsultant. In
laasgenoemde hoedanigheid ontwerp en bied hy ook kursusse en seminare aan.
Dit het by hom 'n besef tuis gebring van hoe groot die spirituele behoeftes
van die moderne mens is. Hy is 'n ouderling in sy gemeente en die skrywer of
medeskrywer van 14 boeke — waaronder 'n onlangse publikasie oor Christelike
meditasie.


Hansie Wolmarans

Hansie Wolmarans is professor en hoof van die Dept. Griekse & Latynse Studies aan die Universiteit van Johannesburg. Nadat hy Teologie aan die UP studeer het, het hy 'n MA en Ph.D. in Grieks verwerf. Hoewel hy onmiddellik ná die voltooing van sy teologiese studies begin klas gee het, was hy oor die afgelope 30 jaar deeltyds verbonde aan verskillende gemeentes – eers van die Hervormde kerk, en vanaf 2006 van die Presbiteriaanse kerk, Parkview.

Hy spesialiseer in die Grieks-Romeinse agtergrond van die Nuwe Testament, en het meer as 95 wetenskaplike artikels publiseer en was outeur of mede-outeur van agt boeke. Hy gee klas in Grieks, Latyn, asook die Grieks-Romeinse mitologie.

As stigterslid van die Nuwe Hervorming Netwerk, stel hy baie belang in post-moderne teologie en neem ook gereeld deel aan teologiese besprekingsprogramme oor SAFM, Radio Kansel asook TV.

Hy is al die afgelope 31 jaar getroud met Hester en die egpaar het vier kinders, waarvan die jongste seun ('n nalatige lammetjie) in 2010 in graad 10 is, en die tweedejongste ('n dogter en laatlammetjie) in 2010 eerstejaar op universiteit is. Sy oudste seun en dogter het reeds afstudeer en is selfversorgend.

Uitvoerende komitee 2010 - 2011

Voorsitter:                                                         Hardie Fourie

O/voorsitter:                                                      Antoinette Ehmke

Tesourier:                                                          Nelda Els

Midrandsessies:                                                 Pieter Craffert

Weeksessies:                                                     Pieter Botha

Kommunikasie, ledetal en ledebelangindeks:    Johan Talma

Statutêr:                                                            Annamarie Steyn

Webtuiste: stelsel-implimentering:                    Gerrit Genis

Webtuiste: gebruikerskakeling:                         Jaco Steyn

Sosiale spil:                                                        Antoinette Ehmke

Mediaskakeling:                                                 Abel Pienaar

Seminare:                                                          Sakkie Spangenberg

Konteksspanne:

Religie:                                                               Sakkie Spangenberg

Samelewing:                                                      Anthoni van Nieuwkerk

Indiwidu:                                                            Antoinette Ehmke

Kosmos:                                                             Gerrit Genis

NHN Dokumente

Volg die skakels na die "kinders" van hierdie bladsy.

Voorsitterverslag 2008

VOORSITTERSVERSLAG 2007–2008

 

Oorsig

Die afgelope jaar was ’n besondere een waarin die NHN baie nuwe mylpale bereik het.

Ons het ons eerste naweekseminaar gedurende Augustus 2007 te Weesgerus gehou met ’n opkoms van ongeveer 90 mense, met die tema: “Soekers na eietydse sin”. Tydens die seminaar is die behoefte geïdentifiseer om vir die hier en nou te lewe deur hierdie lewe sinvol en met vrede te lewe. Vir elkeen wat die seminaar bygewoon het, was dit ’n besondere geleentheid wat gekenmerk is deur ’n besondere meelewing en baie nuwe vriendskappe wat gevorm is.

In Oktober het die bekende liberale teoloog en skrywer, John Shelby Spong ons besoek. John is bekend vir sy verfrissende en vernuwende denke oor die toekoms van die Christendom en die kerk. Sy agt aanbiedings het waardevolle geleenthede gebied waarby ons ons eie perspektiewe, en dit waarna die NHN behoort te ontwikkel, teen hom kon toets.

In Mei vanjaar het ons ’n tweede naweekseminaar gehou; weereens te Weesgerus. Die seminaar het gekonsentreer op vier kontekste waarop die NHN sy toekoms wil bou, naamlik

  • ons en ons omgewing,
  • die spirituele,
  • die sosio-politieke gemeenskap en
  • ons as eie gemeenskap.

Met hierdie fokus het ons ons doelwitte bereik. Enersyds kon ons bepaal wie ons is, wat ons doen, hoekom ons doen wat ons doen en wat ons reken ons behoort te wees. Andersyds het ons duidelikheid gekry oor ons pad vorentoe.

Die twee oogmerke wat hieruit gevloei het, is om vir die toekoms ons fokus, naamlik “Leef Hierdie Lewe” in vier geïdentifiseerde kontekste te veranker en om die NHN narratief te begin neerpen.

Verkiesing van Uitvoerende Komitee

‘n Jaarvergadering van die NHN is op 8 Julie 2007 gehou tydens ’n Midrandbyeenkoms en die volgende persone is tot die Uitvoerende Komitee (UK) verkies:

Antoinette Ehmke Hardie Fourie Leona Craffert
Gerrit Genis  Johan Talma Pieter van der Merwe
Hansie Wolmarans  Kobie Grobler Sakkie Spangenberg

Die uitvoerende komitee koöpteer daarna vir Abel Pienaar en Anthoni van Nieuwkerk en die volgende portefeuljes word tydens die eerste UK-vergadering toegewys:

Voorsitter Gerrit
Ondervoorsitter Sakkie
Tesourier Kobie
Sekretaris Hardie
Kommunikasie Johan
Netwerk Pieter
Projekte Hardie
Algemene skakeling Sakkie
Interne skakeling Antoinette
Strategiese posisionering  Anthoni

Leona Craffert is later op die UK vervang deur Pieter Craffert.

Die UK het gedurende die loop van die jaar 7 vergaderings gehou. UK vergaderings het gefokus op die bestuur van die NHN, temas en onderwerpe vir die Midrandbyeenkomste asook om te besin oor die NHN se pad vorentoe.

Midrandbyeenkomste

Daar was 19 Midrandbyeenkomste gedurende die jaar, waar ’n wye verskeidenheid van onderwerpe aangebied en bespreek is. Die onderwerpe van die verskillende aanbiedinge en die aanbieders/ fasiliteerders is as volg:

Tema

Aanbieder

Die Gilgamesj-epos  

Gerda de Villiers

Die Paranormale: Kan mens-voete regtig oor gloeiende kole loop?

Claudius van Wyk

Panenteïsme

Prof Julian Muller

Verlore in die hede: Aandagmeditasie as nie-religieuse praktyk

Rob Nairn

Wat is nuut en opwindend in Genetika en hoe raak dit ons?

Henk Huismans

Die Evolusie van godsdiens

Kobus Kruger

Die NHN van more – bied dit antwoorde op die spirituele behoeftes van hedendaagse Suid-Afrikaners?

Freddie Crous en Hardie Fourie

Weeklaag oor die verlies van weeklaag as taal van ons tyd

Frances Klopper

Is geloof, gebed en meditasie nog relevant vir die hedendaagse mens?

Sr Peggy Pellinger

Om die Bybel anders te lees

Prof Gerrie Snyman

Volg die nie-bestaan van God noodwendig uit evolusie as wetenskaplike teorie?

Prof Alex Antonites

Die aard van die mens

Francois Durant

Why Christianity must change or die

John Shelby Spong

Hoe gemaak met ons kinders?

Groepsgesprek

Slave species of God; the truth about our human origins

Michael Tellinger

Panenteïsme op die spektrum van gode en Godsbeelde: wat is die aard en karakter van jou god(delike)?

Pieter Craffert

"Wanneer God nie meer sin maak nie"

Sakkie Spangenberg

Suid Afrika se toekoms: Is Zimbabwe ons voorland?

Anthoni v Nieuwkerk

Mithras en Jesus: twee kante van dieselfde muntstuk?

Hansie Wolmarans

Ons en ons ekologiese voetspoor

Fred Goede

Sien Midrandbyeenkomste

Vier van hierdie byeenkomste is ook gevolg deur ons gebruiklike bring-en-deel etes en saamkuiers wat geskeduleer was om by bebenadering saam te val met die seisoenwisselinge.

Weesgerus 1 en 2

In Weesgerus 1 besprekings het lede beklemtoon dat die lewe vir ons belangrik is en dat ons sin van ons bestaan probeer maak. Ons het ook besef dat ons met iets volhoubaars besig is.

Gedurende Weesgerus-2 besprekings is bostaande bevestig, asook dat oop religieuse gesprek vir ons belangrik bly. Die vier kontekste waarbinne die NHN sy huidige fokus: “Lééf Hierdie Lewe” wil veranker, is redelik goed bespreek. Belangstellende lede sal genooi word om in werksgroepe elk van die kontekste verder uit te werk, mét praktiese implimenterings-moontlikhede.

Skakeling met en besoeke aan lede in ander areas van die land

Hoewel daar tans verskillende groepies eendersdenkendes is wat byeenkom in die Kaap, is daar nog nie ‘n gesentraliseerde groepering nie. Ons het in die afgelope periode aktief geskakel met lede en belangstellendes met ’n fokus op die Kaap en Bloemfontein. Die doelwit hier is om so te vorder dat ons met tyd ook saam naweekseminare kan aanbied en bywoon. Vir die Kapenaars is dit nog vroeë dae, maar na ’n onlangse besoek van Sakkie aan Bloemfontein, is ‘n naweekseminaar saam met die Vrystaters vroeg volgende jaar op die boeke. Sakkie het ‘n groep van ± 30 enersdenkendes te Bloemfontein op uitnodiging besoek wat ‘n sterk behoefte aan ‘n saamtrek saam met die NHN uitgespreek het. Daar is ook by ons lede ‘n lewendige belangstelling in ’n gekombineerde toekomstige saamtrek.

Internasionale skakeling

Johan Badenhorst is ’n oud-predikant wat woonagtig is in Engeland en het sopas sy doktergraad voltooi oor progressiewe spiritualiteit, met ‘n spesifieke fokus op die geskiedenis van die Sea of Faith beweging. Johan het ons genader om as NHN verteenwoordiger in die Verenigde Koninkryk aangestel te word en die UK het ingestem. Die NHN het dus nou ook ‘n teenwoordigheid in die VK!

Verder gaan Sakkie en Hansie ook gedurende die laaste week van Julie besoek aflê by die Sea of Faith beweging in Liverpool wat hul 21e bestaansjaar vier. Hul sal die geleentheid gebruik om die NHN bekend te stel en om bande te bou met organisasies en mense wat ons denke deel.  

Ledetal en webwerfbesoeke

 

Die aantal e-posaddresse van lede en belangstellendes op ons databasis trek nou al by 523 terwyl die NHN webbladsy-besoeke met 35% per jaar gegroei het tot nagenoeg 80 per dag (sien onderstaande figuur).

 NHN Kalender

Ons het die afgelope jaar weer ons gebruiklike kalender uitgegee met die metamorfose van sywurms, as tema. Ongelukkig was die belangstelling hiervoor nie na wense nie, en was hierdie dus ons laaste een vir die huidige.

Drumpelervaring-bedienings

Drumpelervaring-bedienings deur Sakkie en Hansie die afgelope jaar sluit in 6 troues, 2 begrafnisse en 2 doopgeleenthede: alles in die idioom van die NHN.

Diverse NHN doelstellings

Al het ons heelwat vermag, is daar seker nog baie dinge waaraan ons nie voldoende aandag gegee het nie. Daar is nog baie om te doen.

Kleingroepe: Ons het nog baie versoeke van mense wat by kleingroepe wil aansluit, maar daar is nie genoeg sulke groepe nie. Die probleem kom vanweë ons beginposisie toe kleingroepe slegs deur teoloë gelei is omdat mense se behoeftes toe grootliks rondom teologiese kwessies gewentel het. Sedertdien het mense se behoeftes geskuif. Mense wil nou eerder gesels en hul spirituele ervarings deel, en gevolglik sou meer mense dus suksesvol as gespreksleiers kan optree.

Kinderbegeleiding: Ons is al vyf jaar op pad, maar het nog nie beduidend materiaal vir kinders bymekaar gemaak nie. ‘n Gefokuste Midrandsessie en verskeie gesprekke agterna is gehou om ‘n moontlike kinderbegeleidingsaksie vir die NHN te struktureer. Die belangstelling van die kant van ons lede is egter tans onvoldoende om so ‘n aksie te implimenteer.

Opheffing van gemeenskappe: Een van die doelwitte wat ons verlede jaar vir ons self gestel het is om ‘n konstruktiewe bydrae te maak tot die opheffing van gemeenskappe. Die onderwerp is deeglik bespreek te Weesgerus 2 waar besluit is dat deur ons lede se betrokkenheid by die vier kontekste ons dus ook gevolglik direk en indirek betrokke gaan raak by gemeenskappe.

NHN-Wiki inisiatief: Een van die verdere uitkomste van die naweekseminaar is dat daar ’n begin gemaak is met die opskryf van die NHN narratief in Wiki-formaat (’n oopformaat webdokument waaraan al ons lede kan help skryf). ’n Raamwerk is reeds ontwerp vir die Wiki en die eerste hoofstuk van die verhaal van die NHN is reeds geplaas.

Dank

Hiermee wil ek graag al die NHN-lede bedank vir hul ondersteuning en veral my mede UK-lede vir hulle insette en toewyding die afgelope jaar. Dit was weer ’n keer wonderlik om te sien hoe ons organisasie groei en meer en meer dinge in plek val. Dit was vir my ook ’n positiewe lewenservaring om as voorsitter te kon optree. My beste wense aan ons nuwe voorsitter.

Gerrit Genis
Voorsitter: NHN Uitvoerende Komitee, 2007/2008

Voorsitterverslag 2007

VOORSITTERSVERSLAG 2006–2007

 

Hiermee 'n kort verslag van die afgelope jaar se werksaamhede.

Verkiesing van Uitvoerende Komitee

Die Jaarvergadering van die NHN is op 15 Julie 2006 gehou tydens ’n Midrandbyeenkoms. Die volgende persone is verkies tot die Uitvoerende Komitee (UK) van die NHN:

Sakkie Spangenberg
Philip Fouché
Hansie Wolmarans
Pieter Craffert
Pieter van der Merwe
Hardie Fourie
Rina Venter
Gerrit Genis

Die uitvoerende komitee koöpteer daarna vir Abel Pienaar, Johan Talma en Anthoni van Nieuwkerk.  Die volgende portefeuljes word tydens die eerste UK-vergadering toegewys:

Voorsitter Gerrit
Ondervoorsitter Hansie
Tesourier Philipus
Sekretariaat

Sakkie (skakeling)
Hardie (notulering)
Johan (kommunikasie)

Projekte Hardie
Posisionering Anthoni
Spiritualiteit Abel

Die UK het gedurende die loop van die jaar sewe vergaderings gehou (2 Augustus, 28 Augustus, 23 Oktober, 27 November 2006, 5 Februarie, 16 April, en 14 Mei 2007).

Die UK het besef dat die keuse van temas en onderwerpe ’n belangrike verantwoordelikheid is. Daar is dus eerstens gefokus op watter onderwerpe by toekomstige Midrandbyeenkomste aangebied moet word. Tyd is ook bestee om te besin oor aspekte soos die bestuur van die NHN, wie en wat die NHN moet wees en watter profiel ons aan die buitewêreld moet vertoon en so meer.

Midrand Gespreksonderwerpe

Gedurende die 2006-2007 jaar is daar 23 Midrandbyeenkomste gehou. Die formaat van die byeenkomste is ook hersien. Die aanbiedings is so gestruktureer dat aangewese fasiliteerders die vrae- en besprekingsessie rig  om te verseker dat die doelwitte van die betrokke geleentheid bereik word.

Oorhoofse temas is geïdentifiseer met komplementêre onderwerpe. Voorbeelde van sulke temas is: My verhouding met my kinders, Spiritualiteit, Lewe na die dood, en die oorhoofse tema wat vir die eerste paar maande van 2007 gekies is, naamlik ’n Eietydse mensbeskouing. As ‘n voorbeeld van die  toedeling van onderwerpe aan temas, is die volgende onderwerpe onder laasgenoemde tema behandel, met ’n fokus op:

Die mens self

  • Christelik-tradisionele en eietydse mensbeskouing van die vrou: Die vroulikheid van die godheid en die goddelike van die vrou.
  • Lewe gelukkig in ’n tydse konteks – ontdek die boublok van die Spontane Heling Intrasistemiese Proses (ook relevant vir volgende fokusarea).

Die mens en sy verhoudings

  • Christelik-tradisionele en eietydse mensbeskouing van die huwelik en gesin.
  • “De la Ray, De la Ray”: ’n Bevrydingslied of ’n uitroep na ’n nuwe identiteit en leierskap?

Die mens en sy omgewing

  • Die omvang en oorsake van geweldsmisdaad in die RSA.
  • My ekologiese voetspoor.

Die onderwerpe van die verskillende aanbiedinge en die aanbieders/ fasiliteerders volg:

8 Julie 2007

My ekologiese voetspoor
Jaarvergadering en verkiesing van ‘n nuwe bestuur

Fred Goede

24 Junie 2007

Geweldsmisdaad: Oorsake, sin (en die posisie van die NHN)

Hardie Fourie, Rina Venter, Anthoni van Nieuwkerk 

10 Junie 2007

Skeppingsverhale

Peet van Dyk

27 Mei 2007

Die Omvang van Geweldsmisdaad in Suid-Afrika

André Pruis

13 Mei 2007

Van Gogh: e’n Spirituele pionier: Die Bybel in die skilderkuns van Vincent van Gogh

Eben Scheffler

15 Apr 2007

Eietydse Lewensgeluk

Pieter van der Merwe en Daleen van Zyl

1 Apr 2007

Chirstelik-tradisionele en eietydse mensbeskouing van die huwelik en gesin

Joke Nicol

18 Mrt 2007

Chirstelik-tradisionele en eietydse mensbeskouing van die man

Wilhelm Jordaan

4 Mrt 2007

Chirstelik-tradisionele en eietydse mensbeskouing van die vrou: Die vroulikheid van die Godhied en die Goddelikheid van die Vrou

Louise du Toit

25 Feb 2007

De la Rey, De la Rey: ‘n Bevrydingslied of ‘n uitroep na ‘n nuwe identiteit en leierskap?

Steve Hofmeyr,
Anthoni van Nieuwkerk,
Danie Goosen

18 Feb 2007

Lewe gelukkig in eietydse konteks – ontdek die boublok van die Spontane Heling Intrasistemiese Proses (SHIP®)

Jo Steenkamp

4 Feb 2007

Voortsetting van die gesprek wat op 21 Jan begin - fokus op eietydse mensbekouing

Chrizanne van Eeden

21 Jan 2007

Die tradisionele Christelike mensbeskouing teenoor ‘n meer eietydse mensbeskouing – ‘n inleidende gesprek.

Sakkie Spangenberg en
Pieter van der Merwe

3 Des 2006

Wat maak ons met Richard Dawkins se jongste boek 'The God Delusion'- 'n voorbeeld van militante ateïsme, of 'n voorbeeld van gesonde kritiese nadenke?

Don Roos en Sakkie Spangenberg

19 Nov 2006

Kan ons nog van lewe na die dood praat?

Piet Muller

5 Nov 2006

Waar kom die bybelse idees oor lewe na die dood vandaan?

Pieter Craffert

22 Okt 2006

Het die mens 'n (onsterflike) siel?

Jacques Kriel

8 Okt 2006

Postmoderne Spiritualiteit

Hansie Wolmarans

24 Sept 2006

Sekulêre spiritualiteit

Pieter Botha

10 Sep 2006

Kinderspiritualiteit

Celia Geyer

27 Aug 2006

Soekers na eietydse sin deur verhoudings

Rina Venter &
Chrizanne van Eeden

13 Aug 2006

Beter Kommunikasie met my medemens, in besonder met my kind

Don Roos

30 Julie 2006

Vierduisend jaar van soeke na God

Frances Klopper

http://www.nuwe-hervorming.org.za/php/modules.php?name=NHN_geleenthede&file=Midrand

Seisoene saam-eet

Soos dit nou al ’n instelling geword het, het ons ook gedurende die jaar vier geleenthede gebring-en-gedeel-eet, en saamgekuier na ’n Midrand-byeenkoms. Die geleenthede is geskeduleer om benaderd saam te val met die seisoenwisselinge. Ter viering van die seisoene word daar kort aanbiedings gemaak en/of gesprek gevoer oor die toepaslikheid van die spesifieke seisoen op ons lewensreis.

Belangrike mylpale wat die NHN die afgelope jaar bereik het

  1. E-posadresse op databasis: 463
  2. Webwerfbesoeke nou reeds gemiddeld 60 per dag
  3. Midrandbyeenkomste aangebied: 23
  4. Saameet-geleenthede (Tema: seisoenwisseling): 4
  5. Nuwe benadering tot Midrandaanbiedings
  6. Video-opnames van aanbiedings
  7. Aflaaibare harde kopieë van aanbiedings op webwerf beskikbaar
  8. Gereelde kennisgewings m.b.t. Midrandbyeenkomste.
  9. Slakpos-kopieë van aanbiedings uitgestuur (15 per kwartaal)
  10.  Uitdeelblaadjies by Midrandbyeenkomste & koffie en tee uit koppies
  11.  ’n Omvattende mediastrategie is ontwikkel
  12.  Kommunikasie/bemarking
    • Skakeling met Kaapse lede begin
    • Bemarkingsvergaderings
    • NHN brosjure (NHN profieldokument) in proses
  13.  Die NHN webbladsy is gedurende 2006-2007 hersien
    • Databasis-gekoppelde ledelys
    • Meer en vars inligting aangaande ons Midrandbyeenkomste
    • Gemiddelde daaglikse webwerf-besoeke groei met 40% per jaar

  1.  John Shelby Spong se besoek is aan! Ons voorsien ’n soortgelyke besoek vir 2008.
  2.  Weesgerus Retreat: naweek van 17-19 Augustus 2007. Meer as 80 persone het reeds bespreek!

Uitstaande NHN doelstellings wat aandag in die komende jaar moet kry

Al het ons heelwat vermag, is daar nog baie te doen. Die volgende UK moet definitief aandag gee aan die volgende:

  1. Skakeling met en besoeke aan lede in ander areas van die land.
  2. Om geskikte materiaal vir kinders bymekaar te maak.
  3. Studiegroepe moet op die been kom.
  4. Konstruktiewe bydrae(s) te maak tot die opheffing van gemeenskappe.
  5. Om aansluiting te soek en te vind met organisasies wêreldwyd wat dieselfde of soortgelyke doelstellings as ons het.
  6. Om gesprekke met verskillende wetenskaplike dissiplines en kunsuitinge te inisieer.
  7. Om begeleidende onderrigmateriaal vir kinders en volwassenes te ontwikkel asook om opleiding te verskaf.
  8. Om ’n tydskrif of nuusbrief te publiseer (moontlik ook weer ’n boek).
  9. Om ’n databasis van sprekers, publikasies, hulpbronne, programme van takke en takinligting in stand te hou en dit op die webwerf te publiseer.
  10. Om saam te werk aan die skep van meer eietydse woorde, begrippe en metafore op die terrein van spiritualiteit

Dank

Hiermee wil ek graag al die NHN-lede bedank vir hul ondersteuning die afgelope jaar. Ek wil ook my mede UK-lede bedank vir hulle insette en toewyding die afgelope jaar. Dit was wonderlik om te sien hoe ons organisasie groei en meer en meer dinge in plek val. Dit was vir my ook ’n positiewe lewenservaring om as voorsitter te kon optree. Ek glo ons is op die regte pad. Die kritiek vanuit die establishment bevestig dit.

Gerrit Genis
Voorsitter: NHN Uitvoerende Komitee.

Voorsitterverslag 2005

VOORSITTERSVERSLAG 2004–2005

 

Hiermee 'n kort verslag van die afgelope jaar se werksaamhede.

 

1 Stigting en verkiesing van eerste UK

Op 25 Julie 2004 het ongeveer 60 mense by die krieket-klubhuis van RAU byeengekom om die NHN te stig. Die reglement is met enkele wysiginge aanvaar en die volgende persone is verkies om op die eerste uitvoerende komitee te dien: Sakkie Spangenberg, Hansie Wolmarans, Ludi Bothma, Linky de Bruyn, Alida van der Westhuizen, Willem Labuschagne, Tinus Nel, Anthoni van Nieuwkerk, Fred Goede, Pieter Craffert, Leona Craffert en Gerrit Genis.

 

2 Vergaderings van UK

Die UK het gedurende die loop van die jaar die volgende vergaderings gehou:

17 Augustus 2004 (Eerste beplanning)

12 September 2004 (Beplanning en 'n eerste strategiese sessie)

1–3 Oktober 2004 (RAU-eiland: Strategiese beplanning)

14 November 2004 (Afsluiting en beplanning vir 2005)

20 Februarie 2005 (Vier seisoene en die Oase-byeenkomste in Midrand)

4 Maart 2005 (Midrandse lesings word gefinaliseer)

15 Mei 2005 (Beplanning vir jaarvergadering)

 

Die volgende protefeuljes is aan die tydens die eerste UK-vergadering toegewys:

1 Voorsitterskap (Sakkie Spangenberg)

2 Ondervoorsitter (Hansie Wolmarans)

3 Navorsing en publikasies (Pieter Craffert)

4 Interaksie-meganismes & webwerf (Gerrit Genis)

5 Finansies (Willem Labuschagne)

6 Kinderportefeulje (Leona Craffert)

7 Spiritualiteit (Hansie Wolmarans & Alida van der Westhuizen)

8 Strategiese beplanning (Tinus Nel)

9 Eksterne kommunikasie (Anthonie van Nieuwkerk & Fred Goede)

10 Visuele beeld van NHN (Linky de Bruyn)

 

Die NHN-webmeester is Jacco Viljoen. Florence van den Berg het haar hulp ok aangebied om die voorsitter en sekretaris met admininstratiewe sake te help

Tydens ons strategiese beplanningsessie het Tinus Nel ons daarop gewys dat die NHN se visie en missie soos dit tans lees, nie heeltemal korrek geformuleer is nie. Hy het ons gehelp om te onderskei tussen die Netwerk as voertuig om mense en groepe bymekaar uit te bring en om oop religieuse gesprek te bevorder, en die nuwe spirituele denkraamwerk waaraan elkeen van ons besig is om gestalte te gee. Ons kan nie aan mekaar voorskryf oor hoe ons moet dink en ons wêreld moet skep nie, maar ons kan saamgesels en gedagtes uitruil. Die uitvoerende komitee moet slegs die infrastruktuur help voorsien vir hierdie saamgesels en uitruil van gedagtes. Tydens ons beplanningsessie het ons aan 'n nuwe visie en missie gewerk en die vergadering moet besluit of ons die huidige visie en misie gaan wysig.

 

3 Amptelike bekendstelling van die NHN

Op 31 Oktober 2004 is die NHN amptelike bekend gestel in die Shelantikapel in Centurion. Tydens die byeenkoms was daar ongeveer 150 mense.

 

3 Registrasie van lede en takke

Ongeveer 160 lede het al formeel geregistreer en die volgende groepe bestaan:

Bloemfontein-groep: Gideon Nel & Albie Gibson

Johannesburg-groep: Hansie Wolmarans

Pierre van Ryneveld-groep1: Sakkie Spangenberg

Pierre van Ryneveld-groep2: Sakkie Spangenberg

Doornkloof-groep: Pieter Craffert

Vanderbijlpark-groep: Chrizanne van Eeden (Gestig op 27 Febr 2005)

Lynnwoodrif-groep: Wim du Plooy & Renier Holtzhausen (Gestig op 23 April 2005)

 

4 NHN-Webbladsy

Die NHN-webbladsy het gedurende November 2004 begin funksioneer. Danksy Linky de Bruyn, Gerrit Genis en Jacco Viljoen lyk dit besonder aantreklik. Daar het al Afrikaanssprekendes in die VSA hulle gelukwensing met ons webbladsy en met die NHNetwerk oorgedra. Die webbladsy kry ongeveer 5 000 besoeke per maand. Die vergadering moet besluit of ons die webbladsy vir lede en nie-lede toegangklik gaan maak.

 

5 Bankrekening

'n Tjekrekening is by Nedbank (Centurion) geopen die NHN is besig om geleidelik 'n neseier op te bou danksy die mense wat die Midrandse byeenkoms bywoon.

6 Vier seisoene

Een van die goeie voorstelle van Linkry de Bruyn is dat ons die webbladsy vier keer 'n jaar moet aangepas om die vier seisoene te reflekteer. Die UK het ook haar idee aanvaar dat ons ons bedrywighede rondom die vier seisoene stuktureer en dat ons vier fokusdae in die jaar het.

Ons wil graag vier groter byeenkomste reël wat met die brandpuntdae (sonwending- en sonstilstanddae) saamval: Somer: 22 Desember 2004; Herfs: 21 Maart 2005; Winter: 21 Junie 2005; Lente: 21 September 2005; Somer: 22 Desember 2005.

Ons het probeer om 'n eerste byeenkoms rondom 22 Desember 2004 te hou, maar dit het nie gerealiseer nie. Hansie Wolmarans het wel 'n preek op 25 Desember gehou waarheen lede uitgenooi is. Desember is 'n vakansiemaand en 'n byeenkoms in die betrokke maand, gaan nie groot aftrek kry nie.

Die UK het die Bloemfontein-groep gevra om 'n byeenkoms rondom Herfs in Bloemfontein te reël. Vanweë die skoolvakansie en ander kerklike feesdae kon die byeenkoms eers op 16 en 17 April gehou word. Dit was na my oordeel 'n sukses. Dis net jammer dat weinig lede van ander dorpe en stede dit bygewoon het. Van die lesings is op die webbladsy te lees. Vir my was die besoek aan die Boyden Sterrewag een van die hoogtepunte van die naweek.

Die UK het besluit om die Jaarvergadering naby aan die Wintersonstilstand (21 Junie 2005) te hou. Dis die rede waarom ons vanoggend hier byeen is. Linky de Bruyn het ook voorgestel dat ons elke seisoen aan 'n bepaalde woord of begrip moet koppel. Tydens winter staan “besinning” voorop.

 

7 Staankalender 2005–2006

Linky de Bruyn het 'n mooi staankalender ontwerp en ons wil dit graag laat reproduseer en te koop aanbied aan ons lede en almal wat met die NHN identifiseer. Ons moet vanoggend ook hieroor 'n besluit neem.

 

8 Midrandbyeenkomste

Omdat die UK nie in die behoefte kon voorsien om alle belangstellendes in groepe ingedeel te kry nie, het ons besluit om twaalf byeenkomste in Midrand te hou. Die doel is om dit só in te rig dat mense mekaar leer ken en dat groepvorm spontaan ontstaan. Ons wil ook langs hierdie weg materiaal ontwikkel wat die groepe kan gebruik vir hulle gesprekke. Daar is 'n dringende behoefte aan geskikte gespreksmateriaal. Die vergadering moet vanoggend 'n besluit neem of ons met die byeenkomste moet voortgaan.

 

9 Korrespondensie

As voorsitter het ek ten minste vyf briewe per week beantwoord. Dit was vrae wat via die webbladsy gekom het, maar ook briewe van belangstellendes via gewone pos. Ek weet nie wie van julle verlede week se Rapport onder oë gehad het nie, maar daarin sê Coenie Burger (moderator van die NG Kerk) dat die Nuwe Hervorming die kerk voor uitdagings stel.

 

10 Dank

Hiermee wil ek al die NHN-lede bedank vir hulle ondersteuning die afgelope jaar. Alles is nog nie in kruike en kanne nie en daar is nog baie om te doen. Die volgende UK moet definitief aandag gee aan hoe ons ons kinders kan help om die nuwe wetenskaplike inligting op alle terriene van die lewe hulle eie te maak en hoe om teenoor ander kinders van hulle ouderdom te reageer wanneer hulle met vrae gepeper word. 'n Gereelde NHN-nuusbrief wat lede op hoogte hou van verwikkelinge is ook belangrik.

Ek wil ook al die UK-lede bedank vir hulle insette en toewyding die afgelope jaar. Dit was vir my wonderlik om te sien hoe 'n idee uiteindelik voete kry. Dit was vir my ook 'n positiewe lewenservaring om ander te leer ken en deur hulle geslyp te word. Dit is vir my die belangrikste deel van my betrokkenheid vir die NHN. Ek is na 'n jaar spiritueel 'n ryker mens as wat ek 'n jaar gelede was en ek hoop dat dit ook van hulle geld.

 

Sakkie Spangenberg

Voorsitter

Lidmaatskap

Baie dankie vir jou belangstelling. Indien jy 'n lid word van die van die Nuwe Hervorming Netwerk verkry jy toegang tot die volgende inligting en dienste: