Die NHN - 'n Nuwe Verhaal - (die NHN Wiki)

INLEIDING EN AGTERGROND (2009)

 
Die Nuwe Hervorming Netwerk is vanjaar vier jaar oud. Dit het met ’n klein groepie entoesiastiese mense gedurende 2004 begin. Een van die redes vir die stigting was om aan mense wat ontuis geraak het binne die Christelike kerke en nie meer die tradisionele belydenisse en leerstellings kan beaam nie, ’n tuiste te bied. Hier kan hulle met ander mense wat dieselfde ongemak beleef, sosialiseer en gesprek voer. ’n Tweede rede vir die stigting was om ’n beweging tot stand te bring wat oop religieuse gesprek bevorder. Baie mense het gevoel dat ons pas uit ’n era kom waar bevraagtekening nie as ’n deug beskou is nie. Mense wat kritiese vrae gevra het, hetsy oor die politieke beleid van die NP-regering, hetsy oor die tradisionele Christelike belydenisse en leerstellings, is gewoonlik gemarginaliseer en dikwels geostraseer.
 
Die uitvoerende komitee (UK) van die Netwerk het sedert 2005 tweeweeklikse gespreksbyeenkomste in Midrand geloods om hierdie primêre doelstellings na te streef. Die gespreksbyeenkomste het aanvanklik op die Christelike belydenisse en leerstellings gefokus. Die lede en ander belangstellendes wou duidelikheid bekom oor waar die Christelike belydenisse en leerstellings vandaan kom en waarom hulle nie as ewige waarhede beskou kan word nie. Pieter van der Merwe het hierdie proses vergelyk met die afskil van ’n ui. Die leerstellings is een vir een onder die vergrootglas geplaas om duidelikheid te kry waar dit vandaan kom, waarom dit geformuleer is en watter rol gesagsfigure (soos die keiser en die biskoppe) gespeel het. Die afskilproses het nie sonder wroeging en pyn gepaard gegaan nie. Na agtien maande se “afskil”, het mense hulleself begin afvra: “Maar wat bly nou oor?” “Sit ons aan die einde van die dag net met ’n handvol skille, of het daar ’n kern behoue gebly waarmee ons iets kan doen?”
 
Sonder dat dit vooraf so beplan is, het die NHN ’n nuwe fase betree. In die eerste fase is die Christelike leerstellings een vir een gedekonstrueer. Hulle is omgedop en uitgedop. Die UK en die bywoners van die Midrandgeleenthede het skielik voor ’n nuwe uitdaging te staan gekom: “Wat kom in die plek van die ui as dit totaal afgeskil is?” Anders gestel: “Wat kom in die plek van die Christelike belydenisse en leerstellings as dit uiteindelik geweeg en te lig bevind is?”
 
Hierdie fase van dekonstruksie het begin oorgaan in een van konstruksie en rekonstruksie. Die vraag waarvoor die NHN te staan gekom het, kan ook só geformuleer word: “Aan die hand van watter verhaal (of verhale) kan ons nou leef?” As die tradisionele Christelike meesterverhaal van sondeval – verlossing – eindoordeel nie meer as ’n eietydse onderbou vir mense se eie lewensverhale kan dien nie, watter ander verhaal (of verhale) kan wel?
 
Die behoefte het dus begin groei om nuut na te dink oor die sin van die lewe toe lede begin vra het na ’n verhaal of verhale aan die hand waarvan hulle weer sin aan hulle lewens kan gee. ’n Soektog na ’n nuwe spiritualiteit het as ’t ware ontstaan. Kort voor lank het die besef tot lede deurgedring dat dit nie net ’n proses van soek en vind is nie, maar ook van maak. In die woorde van professor Hans van Beinum: “Die mens maak en vind tegelykertyd.” In die proses van soeke na sin, maak ons uiteindelik sin. Voorts het dit duidelik geword dat hierdie proses ’n voortgaande proses is. Diegene wat afskeid geneem het van die Christelike meesterverhaal, sal nooit weer ’n voltooide en afgeronde meesterverhaal hê nie. Ons kennis laat so iets nie meer toe nie. Ons is in die een-en-twintigste eeu uitgelewer aan ’n durende proses van interpretasie en herinterpretasie, vertelling en hervertelling, want kennis neem eksponensieel toe.
 
Ondertussen het ons ook besef dat ons tans reeds ’n verhaal begin ontwikkel het wat ons kan help met die soek en skep van sin, én wat ons kan begin neerpen. Die skematiese uiteensetting hieronder is die eerste stap in ’n poging om aan te dui wat die inhoud van ons verhaal kan wees.
 
Danksy moderne tegnologie kan hierdie verhaal egter opgeskryf word deur almal wat hiertoe wil bydra! Daarom is die genoemde aspekte in Wiki-formaat uiteengesit en is elk van die aspekte dus met ’n skakel aangedui. Deur op die aspek van u keuse te klik, kry u geleentheid om u bydrae te maak. Daarbenewens is ook voorsiening gemaak dat u verdere aspekte van ons verhaal sal kan byvoeg.
 
U is hartlik welkom om hieraan deel te neem.

Die NHN is 5 jaar oud: 2009

Sondag 31 Oktober - volgens gereformeerde tradisie ook bekend as Hervormingsondag. Op dié dag, 5 jaar gelede (2004) het sowat 200 mense in die Shelanti kapel in Centurion bymekaar gekom om die Nuwe Hervorming Netwerk te stig.

 
Oor die naweek van 31 Oktober 2009 vier ons hierdie geskiedkundige gebeurtenis. Ons kyk terug na ons beskeie begin, ons dink aan die groei en ontwikkeling waaraan ons gewerk het, en ons belééf nou wat ons bereik het.
 
Vir ons wat dit meegemaak het, is dit waardevol. Daarom gaan ons dit vier! Ons nooi alle belangstellendes na hierdie viering. Die feesnaweek gaan as volg verloop:
 
Saterdag 31 Oktober


Vir die dag skakel ons in by die dagkonferensie: Soeke na Eietydse Spiritualiteit wat gesamentlik deur die NHN en Renaissance gemeente aangebied word. Die koste is R250. Besprekings moet gedoen word by Janine Swart by statcom.events@gmail.com of 083 232 7115. Plek is beperk tot 100 gaste.
 
Saterdagaand geniet ons ‘n feesmaal en sterrekyk  (deur die grootste teleskoop in privaatbesit in die suidelike halfrond) by Aloe Ridge Hotel in die Muldersdrift-omgewing. Die koste vir die ete en die sterrekyk is R265 per persoon. Vir besprekings skakel met Gerrit Genis by ggenis@sapient.co.za of 082 579 5164. Indien daar genoeg belangstelling is sal ons ook Vrydagaand bespreek.
 

Sondag 1 November


Tydens die Midrandbyeenkoms gaan Linky de Bruyn, een van ons eerste lede gesels oor “My credo – oftewel, my verhouding met Lewe”.

Na afloop hiervan hou ons ons verjaardag-ete op die stoep langs die konferensiesentrum by die dam. Ons nooi almal hartlik uit om hierdie afsluiting van ons verjaardag by te woon. Elkeen bring weer eie eet- en drinkgoed en ons deel dit met mekaar. Moenie jou sjampanjeglas vergeet nie!
 
 
“we can become new and begin anew … if we can focus our awareness in the present”
Elisabeth Kübler-Ross

Die NHN se nuwe storie

Die versoening tussen rasionaliteit en emosionaliteit

 

  1. Musiek en lirieke (die oue teenoor die nuwe), die beeldende kunste, dramas
  2. Gemaklikheid om op die rand van chaos te funksioneer

         "If you don't live on the edge, you take up too much space."

  1. Met my nuwe insigte en denke, hoe leef ek met myself en ander saam?
  2. Die rol van narratiewe

Midrandlesings

Soeke na 'n eietydse spiritualiteit
Dr Abel Pienaar
 
Vandat ek kan onthou wonder ek oor die bestaan van God. Want, indien daar nie ’n God is nie, sou ek my uitkyk op die lewe sodanig moes aanpas om nuwe sin te vind.
Hoe sou ek lewe en dood verstaan sonder ’n hemel en ’n hel?
Hoe sou ek die sin van die lewe verstaan sonder sonde en vergifnis?
Hoe sou ek getroos word sonder die woorde: “Daar is ’n God wat vir my lief is en wanneer ek doodgaan, wag daar ’n plekkie vir my in Sy koninkryk ver anderkant die wolke”?
 
Ek moes net weet! Bestaan God of is dit ’n menslik geskepte idee? Is daar bewyse vir Sy bestaan? Mag ek sulke vrae vra?
Die vraag oor God se egtheid het aan my gekarring soos ’n irriterende kind. Ek kon eenvoudig nie die twyfel afskud nie. Om sekerheid te kry het ek teologie gaan studeer. Maar na ses jaar en twee grade later moes ek erken die vraag was nog net so brandend soos voorheen.
As leraar van  ’n bekende makro gemeente in die stad, het ek egter baie vinnig bekend geword as ’n dinamiese en charismatiese prediker. Ek moes my vrae mooi netjies wegbêre - sodat ek kon preek en “perform” soos ’n goeie Christen prediker.
 
Gedurende hierdie tyd het ek so nou en dan my twyfelvrae na vore laat kom, maar is sommer vinnig reggehelp met opmerkings soos “Almal twyfel nou en dan, geloof is juis om nie bewyse te hê nie!” Dan het ek my vrae weer netjies weggepak en probeer vergeet. Ek het egter oor die jare geleer dat vergifnis wel moontlik is, maar vergeet nooit! My vrae het soos goeie ou vriende gereeld kom kuier en ek moes oor die jare al harder en harder werk om hulle in hulle donker plekkie te hou. Hoekom kon ek nie vrae oor God vra nie? Hy is dan Almagtig! My paar nietige vragies kon tog niks aan God se Almag doen nie! En so het ek op ’n pad begin stap wat my van ’gewilde dominee Abel’ geneem het tot ‘een van daardie mal, vals ateïste’!
 
Ek het uit die NG kerk as predikant en as lidmaat bedank. Hierna het ’n woestyn-tydperk aangebreek waar ek my geloof totaal verloor het. Maar tot my krediet kan ek noem dat ek nooit ophou soek het nie. My soektog was egter nie meer net vanuit die Christendom nie. Ek het Boeddhisme begin bestudeer en praktiseer. Ek het filosofie en sielkunde begin bestudeer. Ek het my doktorsgraad in die filosofie van Godsdiens gedoen. Wat ek nie toe besef het nie, was dat ek besig was om ’n “nuwe” spiritualiteit vir myself uit te trap.
 
Ken Wilber definieer spiritualiteit as:
“Spirituality, according to the testimony of the world’s great yogis, saints, and sages has to do with the direct experience of a living Reality, disclosed immediately and intimately in the heart and consciousness of individuals, and fostered by diligent, sincere, prolonged spiritual practice. All practice open one to a direct experience of Spirit, and not merely beliefs or ideas about Spirit.”
 
Onthou dat godsdiens ’n kulturele, sosio-ekonomiese en politieke konstruksie is wat gebaseer is op ’n spesifieke verstaan van die wêreld binne ʼn spesifieke periode in die geskiedenis. Dus het godsdiens nie noodwendig net te doen met spiritualiteit nie. Georganiseerde godsdiens is ʼn groepsaktiwiteit wat gereguleer word deur uiterlike reëls en regulasies. Hierteenoor is spiritualiteit ʼn innerlike, spontane belewenis en het bittermin te make met uiterlike reëls, regulasies en dogma. En dit het ek eerstehands beleef! Ek het vir die eerste keer in my lewe vry gevoel.
 
Hierdie vryheid het my gehelp om meer en meer my vrae oor God te besoek. Weg van die vrees en skuldgevoelens wat godsdiens so baie keer in mens wakker maak, het my reis in ’n avontuur verander. Ek het begin voel soos Indiana Jones wat besig is om die geheime rondom een of ander mite te ondersoek. In hierdie proses het ek myself al hoe meer ontdek en kon ek nuwe vrae oor God vra en ook vra wie ek dink God is. Natuurlik het hierdie ontdekking my ingesteldheid teenoor die lewe radikaal verander. Kom ons gesels bietjie saam hieroor.
 
Ek beskou myself as agnosties. Thomas H. Huxley (1825-95), ’n Britse bioloog het die eerste keer hierdie term gebruik. “Agnosties” is ’n woord wat gebaseer is op die Latynse agnosco, wat beteken “Ek weet nie”.
Die Duitse filosoof Immanuel Kant (1724-1804), ook ’n agnostikus, omskrywe dit as volg: “We could neither prove nor disprove God’s existence, because we had no reliable means of verification.”
 
Hiermee saam is my uitgangspunt dat daar heel waarskynlik ’n goddelike is, maar ek is oop vir oortuiging indien ‘bewyse anders wys’. My definisie van ateïsme, dat hul uitgangspunt is dat daar heel waarskynlik nie ’n God is nie, maar hulle is oop indien ‘bewyse anders wys’.
Alhoewel dit ’n fyn onderskeid is, het dit wel groot implikasies vir die reis.
 
Ek het byvoorbeeld geen probleem om van die mistieke (gnostiese) tradisies, Boeddhisme, wetenskap, filosofie en sielkunde as voertuie gebruik te maak in my soektog nie. Ek hou van die integrale benadering waarvan Ken Wilber so baie skryf.
 Ateïste sal heel waarskynlik glad nie enige waarde aan hierdie benadering heg nie.
 
Op hierdie punt wil ek wel die waarde van moderne ateïste soos Richard Dawkins, Sam Harris en Christoper Hitchens (die onheilige drie-eenheid!) uitwys op die soeke na God. Hulle vee ’n klomp tafels skoon en hulle is ongelooflik waardevol in die dekonstruksie van sogenaamde godsdiens waarheid!
 
“A Close study of our holy books reveals that the God of Abraham is a ridiculous fellow—capricious, petulant, and cruel—and one with whom a covenant is little guarantee of health or happiness. If these are the characteristics of God, then the worst among us have been created far more in his image than we ever could have hoped.” -Sam Harris
 
“The God of the Old Testament is arguably the most unpleasant character of all fiction: jealous and proud of it; a petty, unjust, unforgiving, control-freak; a vindictive, bloodthirsty, ethnic cleanser; a misogynistic, homophobic, racist, sado-masochistic... bully.” – Richard Dawkins
 
Hulle kritiek en eerlike, soms kras, manier van omgaan met heilige koeie is vir my van onskatbare waarde. Maar, hulle aanval is primêr gerig op die teïstiese Godsbegrip.
 
Hierby sluit Karen Armstrong aan in haar nuutste boek “The Case for God”.
“Historically atheism has rarely been a blanket denial of the sacred per se, but has nearly always rejected a particular conception of the divine. At an early stage of their history, Christians and Muslims were both called ‘atheists’ by their pagan contemporaries …”
 
Net soos Biskop John Selby Spong, kan ek ook eerlik sê dat die teïstiese siening van God vir my dood is. Hy sê: “I dismiss the supernatural, external God of theism!”
 
Dit help my met die dekonstruksie van hierdie siening, maar wat van al die ander sienings van wie die goddelike is? Byvoorbeeld die siening wat die Chinese Taoïste (spreek dit uit Daoïste) al eeue terug gehad het: “The ultimate was not a personalised god, therefore, but a transcendent mystery that could never be plumbed” of Boeddha wat geen tyd aan abstrakte formulerings rondom ’n persoonlike God toegelaat het nie.
 
Om hierdie punt af te sluit gee ek die res van John Selby Spong se aanhaling: “Theism and God are not the same. Theism is but one human definition of God.” 
 
Wat van Panteïsme of Panenteïsme?
Wat van bewussyn en die invloed op ons waarneming en verstaan van die wêreld en realiteit?
Wat van kyk na die ‘waarheid’ oor God: Logos (empiries) en mythos (simbolies)?
Wat van kyk na die evolusie van nie-materiële prosesse, wat net soos in die materiële wêreld ’n dinamiese proses is?
Wat van die kyk na sinskepping in ’n postmoderne wêreld?
Wat van die verstaan van die kwantumfisika en die implikasies op die verstaan van die goddelike?
Ons het nog net begin raak aan hierdie dinge.
 
Evolusie is orals teenwoordig, nie net in die materiële wêreld nie! Daarom kan ons ook evolusie van idees, waarheid en geloof verstaan. Soos Thomas Kuhn ons help met die verstaan van paradigmas en dat paradigmas oor tyd verander: “Scientific theories undergo wholesale revision with each generation and therefore do not converge on the truth.”
Evolusie van spiritualiteit sou dus ’n eietydse spiritualiteit impliseer!
 
“Evolution proceeds by differentiation and integration, or just as well, by transcendence and inclusion. Each stage includes its predecessors, then adds its own defining and emergent qualities: it transcends and includes.” –Ken Wilber
 
’n Nuwe model van dink, oopwees, integrasie van ou verstaan en nuwe verstaan, raaksien van verskeie vlakke van bewussyn. ’n Integrale model van kyk na die holistiese raakpunte en waar verskillende mense se sogenaamde waarhede mekaar beïnvloed (die “Theory Of Everything”).
’n Eietydse Spiritualiteit,’n veilige ruimte waar ons nie probeer oortuig nie, maar waar ons saam soek. Skep van ’n ruimte waarbinne ons kan ontmoet - wetenskap (fisika, neurologie, biologie, kosmologie ens) en filosofie, sielkunde, teologie, Oosterse en Westerse spiritualiteit en die mistici. DUS ’n eietydse spiritualiteit op grond van:
 
’n Ruimte waar mense ontmoet en met waarheid omgaan op ’n eerlike en oop wyse. Waar ons saam na die goddelike kan soek, logos (rede, wetenskap) en mythos (simbole, mites, kuns, musiek), hier en nou! En waar die “tools” wetenskaplike waarheid onderskrywe, sowel as verstaan van mythos—soos Joseph Campbell dit beskrywe:
 
“The life of a mythology derives from the vitality of its symbols as metaphors delivering, not simply the idea, but a sense of actual participation in such a realization of transcendence, infinity, and abundance. Indeed, the first and most essential service of a mythology is this one, of opening the mind and heart to the utter wonder of all being. And the second service, then, is cosmological: of representing the universe and whole spectacle of nature, both as known to the mind and as beheld by the eye, as an epiphany of such kind that when lightning flashes, or a setting sun ignites the sky, or a deer is seen standing alert, the exclamation “AH!” may be uttered as a recognition of divinity.”
 
Ek pleit dus dat ons wel ooreen moet kom oor hoe ons “waarheid” gaan benader. Dit is een van ons spelreëls. Weet dat mites, musiek, kuns en filosofie ook waarheid het. Hulle waarheid lê in hulle simbole en metafore. Amper iets soos: ‘die vinger wat na die maan wys, is nie die maan nie, dit wys net na die maan’.
 
Hiermee saam moet ons verseker ook eerlik wees oor wat ons glo i.v.m. God en die wêreld en of dit ’n realistiese weergawe is van wat om ons aangaan, en of dit ’n illusie is. Illusies  is gevaarlik!
As iemand dinge glo en doen op grond van irrasionele ‘bygelowe’ oor hoe die wêreld is, kan dit net op ’n tragedie uitloop.
 
(New Age het energie nou die Teïstiese God gemaak.) Geloofsoortuiging hier is iets soos “jou intensies kan materie beïnvloed.” Daarom staar mense vir ure na foto’s van duur huise en droom dit gaan waar word. In die dokumentêr “What the Bleep do we know” word daar gesê as jy regtig wil, kan jy ’n olifant in jou sitkamer laat manifesteer.  Hierdie geloof wat so goed verpak is in “The Secret” laat mense onrealisties omgaan met die alledaagse lewe. Dit laat mense onverantwoordelik omgaan met byvoorbeeld siektetoestande. Scio masjiene word ingespan om enigiets van kanker tot vigs te genees. Alhoewel daar waarde is in hierdie alternatiewe behandelings, word onbewysbare en onkontroleerbare aansprake gemaak wat niemand regtig help nie.
Prof Victor J Stenger se “Quntum Gods” vat baie van die verkeerde opvattings weg en wys wat Kwantumfisika werklik impliseer.
 
“The faith that I am calling into question is precisely the gesture that theologian Paul Tillich himself decried as ‘an act of knowledge that has a low degree of evidence’...the truth is that religious faith is simply unjustified belief in matters of ultimate concern.” –Sam Harris
 
Mense handhaaf “waarheid” in godsdiens wat hulle op geen ander area van hulle lewens sal handhaaf nie. Mense leef dubbele lewens. Hulle vereis wetenskaplike (empiriese) waarheid in een deel van hulle lewe en in hulle godsdiens deel, werk hulle met ’n ander stel reëls. ’n Mediese doktor wat elke dag met die realiteit van die wetenskap werk sal Sondae gemaklik sit en luister na stories van mense wat op water loop en mense wat uit die dood opstaan.
 
Byvoorbeeld, as ek sê dat Elvis leef, sou die gemeenskap empiriese bewyse vereis! Foto’s, Elvis in lewende lywe —DNS toetse!
Wat nie gaan tel nie is, “ek weet dit hier binne my!”, “Ek is in ’n persoonlike verhouding met hom, hy’s nou hier by my, ons praat gereeld in my drome” of “Dis iets wat jy net moet glo!” Dit is seker waarom gesê word “as een mens iets glo wat nie realisties is nie, sê ons hy is mal. Maar as ’n klomp mense dit glo, noem ons dit ’n godsdiens!”
 
“The concessions we have made to religious faith—to the idea that belief can be sanctified by something other than evidence—have rendered us unable to name, much less address, one of the most pervasive causes of conflict in our world.” –Sam Harris
 
Ons moet onthou dit is ’n tweesnydende swaard. Volgens aanduidings gaan Islam binne die volgende twintig jaar die Christendom vervang as grootste wêreldgodsdiens. En hoe kan ’n Christen sê dit wat ’n Moslem glo is nie waarheid nie? Hoe lank kon die Christendom sê hulle waarheid het geen bewyse nodig nie? Wel, dan kan die Islam dieselfde aanspraak maak!
 
   “What can be asserted without evidence can also be dismissed without evidence.”
 – Christopher Hitchen
 
Dus, hierdie eietydse spiritualiteit waarvoor ek pleit moet leer uit die foute van die verlede.
Ons kan nie met waarheid omgaan sonder om werklik te kyk na hoe ons waarheid definieer nie.
Ons moet in ag neem dat logos (wetenskaplike waarheid) en mythos (simboliese waarheid) albei ’n rol speel.
Ons moet nie die twee vermeng asof dit dieselfde is nie. Mythos praat met poëtiese en oordrewe taal. Logos praat met wiskundige taal—teorieë, hipoteses ens. Om dit nie in ag te neem nie, is om iets belaglik te sê soos dat die Bybel ’n histories korrekte boek is! Ons moet ook eerlik omgaan met ons eie voorveronderstellings en kondisionerings.
 
“Each of us tends to think we see things as they are, that we are objective. But this is not the case. We see the world, not as it is, but as we are—or, as we are conditioned to see it.”
-Steven Covey
 
En ook Foucault se “A word’s meaning is determined by it’s context” in ag neem. (‘n Springbok eet gras en ’n Springbok vang die bal).
Hiermee saam die geboorte van Postmodernisme! Wat sê dat waarheid relatief is. Konteks bepaal of iets waar is. Indien die konteks verander, kan iets wat gister waar was, nou vals wees.
 
Ons moet bereid wees om eerlik te kyk na hoe idees waarhede word. En hoe waarhede gelowe word.
As metafoor—kyk hoe ’n houtblad ’n tafel word sodra dit vier pote kry. Dieselfde geld vir ’n idee, vier “bewyse” is nodig vir “waarheid’. Slaan die spykers in en jy het ’n geloof. Die bewyse of redes hoef natuurlik nie korrek of op realiteit gegrond wees nie. Die meeste van die sterkste gelowe is op misverstande, globale bygelowe, aannames en leuens gebou.
 
Die vier bewyse (of vier pote) noem ek:
 
Byvoorbeeld: As ons oor bewussyn praat — in ag neem dat daar reeds wonderlike werk op sielkundige, moraliteit, lewensin, lewensgeluk en spiritualiteit gedoen is - moet ons besef dat ons sowel mythos as logos moet inspan.
Dink maar aan Einstein wat sy deurbrake gemaak het toe hy sy verbeelding ingespan het om sy relatiwiteitsteorie te probeer bewys het. Ook Freud en Jung het wetenskaplik omgegaan met die studie van die psige van die mens, maar het baie swaar gesteun op mites en mitologieë.
 
Dit is verseker nodig om oor ’n klip te praat in terme van fossiele, grond, suurstof, water en minerale. Maar dit is net so geldig om te sê die klip het met my “gepraat” oor standvastigheid en geduld. (Simbolies en metafories beteken ’n rots tog dit). Ek besef om ’n klip se waarheid te bepaal is dalk bietjie anders as om van God te praat, maar kom ons probeer!! 
 
KOM ONS TREE IN GESPREK!!!!
 
Volgens die veertiende Dalai Lama is iets van hierdie gesprek verteenwoordig in ’n mens. Hoor wat sê hy oor Boeddhisme: “If science proofed that the Buddhist understanding of consciousness is incorrect, I would gladly adjust my understanding.”
 
Die voorvereiste vir hierdie eietydse spiritualiteit (Verhouding van oop, nie veroordelende, eerlike soeke met die transendente) is:
 
  1. Ons begin binne, dan werk ons na buite in plaas van  buite eerste! Die lokus van kontrole is binne-in ons, nie buite nie. Ons daag eers ons eie tafels uit — EERLIKHEID!
  2. Ons ruimte van groei is ONSEKERHEID in plaas van  sekerheid (anders verdedig ons heeltyd en probeer ander oortuig)
  3. Ons werk met logos EN mythos (en ons verstaan die verskille!).
  4. Ons verstaan dat evolusie beteken “verby beweeg” en “integreer”—ons is reisigers, ONTDEKKERS! Ons besef dat ons heel waarskynlik nie gaan arriveer nie ....
  5. Ons leef bewustelik en teenwoordig in hierdie lewe ... en dalk kan ons met die koms van die dood, sonder vrees glimlag en weet dat ons geleef het  - elke tree eerlik en oop! En dan kan ons dalk verstaan wat Anthony De Mello bedoel het toe hy gesê het: “Spirituality means waking up. Most people, even though they don’t know it, are asleep. They’re born asleep, they live asleep, they marry in their sleep, they breed children in their sleep, they die in their sleep without ever waking up. They never understand the loveliness and the beauty of this thing that we call human existence.”
 
Ek wil afsluit met ’n  verhaal wat Karen Armstrong vertel. Dit beskryf vir my iemand wat logos en mythos geïntegreer het en daardeur ’n eietydse spiritualiteit geleef het! Let wel geleef het, nie net gepraat, geargumenteer of probeer oortuig het nie ... geleef! En daarin lê die goddelike vir my — iets van wat die teoloog Paul Tillich (1886-1965) genoem het “The ground of all being” of wat die filosoof Martin Heidegger ‘Sein’ (Being) “Being as the supreme reality” genoem het.
 
“One day a Brahmin priest came across the Buddha sitting in contemplation under a tree and was astonished by his serenity, stillness and self-discipline. The impression of immense strength channelled creatively into an extraordinary peace reminded him of a great tusker elephant.
 ‘Are you a god, sir?’ the priest asked. ‘Are you an Angel...or a spirit?’
No, the Buddha replied. He explained that he had simply revealed a new potential in human nature. It was possible to live in this world of conflict and pain in harmony with one’s fellow creatures. There was no point in merely believing it; you would only discover its truth if you practised his method, systematically cutting off egotism at the root. You would then live at the peak of your capacity, activate parts of the psyche that normally lie dormant, and become fully enlightened human beings.
‘Remember me’, the Buddha told the curious priest, ‘as one who is awake’.”
 
4 Oktober 2009
Dr Abel Pienaar (Onthou: “If you want to quote me—date me!”)
abelpienaar@vodamail.co.za

A Hammer Struck At Heresy: What exactly happened at the famous Council of Nicea

What exactly happened at the famous Council of Nicea, when the Roman emperor convened some 250 quarreling Christian bishops?

by Robert Payne

It was of great importance in Christian and even in world history," wrote historian W.H.C. Frend about the first Council of Nicea.

In Christian history, the doctrine of Christ's divinity—a doctrine essential and unique to Christianity—was formally affirmed for the first time. In world history, never before had the entire church gathered to determine policy and doctrine—let alone at the bidding of the Roman emperor.

The follow article, written by the late writer and biographer Robert Payne (d. 1983), is excerpted and adapted from his The Holy Fire: The Story of the Early Centuries of the Christian Churches in the Near East (1957). Forty years of scholarship later, one can rightfully quibble about some historical details (clarifications and some updated findings are in brackets). But no other narrative conveys as well the human dimension of this critical event.

Alexander of Alexandria had called a meeting of the presbyters [priests]. According to the historian Socrates, the aging "pope" [some early senior bishops were called "papa," that is, "father"] "with perhaps too philosophical minuteness" began to lecture on the theological mystery of the Holy Trinity.

Alexander had been discussing the Father, the Son, and the Holy Ghost for some time when he was interrupted by one of the presbyters called Arius, a native of Libya. There is no evidence that Alexander was a profound theologian. He may have bumbled, and it is possible that Arius was justified in accusing Alexander of Sabellianism, a heresy that involved a belief in the unity of God at the expense of the reality of the Trinity. But in combating Alexander, Arius fell into a new heresy, for he announced, "If the Father begat the Son, then he who was begotten had a beginning in existence, and from this it follows there was a time when the Son was not."

Here, at some time in 319, the cry of the Arians—"There was a time when the Son was not"—was first heard. The words were to have an extraordinary influence on the shaping of the church. They were dynamite and split the church in two, and these words, which read in Greek like a line of a song, still echo down the centuries.

The Issue

Alexander was appalled by the new heresy and knew that desperate measures would be necessary to combat it. Once it is admitted that "there was a time when the Son was not," then a bewildering series of further heresies follows. High as he is, the Son is now infinitely lower than the Father. The words are like a wedge, splitting the monotheism of the church. Athanasius [Alexander's chief deacon assistant] saw the danger clearly, and he seems to have taken over from Alexander the task of refuting Arius.

To the credit of Athanasius, he saw clearly that the most dangerous of existing heresies was precisely the heresy announced by Arius. It was a very simple heresy. All Arius said was that if the Father begat the Son, then the Son must have had a birth, and therefore there was a time when the Son of God did not exist. He had come into existence according to the will of the Heavenly Father, and therefore he was less than the heavenly Father, though greater than man. Christ was no more than a mediator between man and God. No, answered Alexander and Athanasius; Christ is absolute God.

In our own heretical age, the dispute between Athanasius and Arius may appear to be a splitting of hairs, but it was not so at the time. The historian Gibbon was amused by the thought that Christianity almost foundered on the controversy between homoousios and homoiousios, the fate of humankind hanging on a single iota. But the difference between Christ the mediator and Christ the God is a very real one, and whether Christ is of the same substance [homo-ousios] or a like substance [homoi-ousios] to God the Father is a matter of importance to all Christians, not only theologians.

Arianism brought Christ down to earth, making him at once inferior to the Father, and more popular. Following Arius, a person could believe that Christ was no more than a great, virtuous, and superbly godlike hero. Against this conception, Alexander and Athanasius rebelled, and they seem to have been perfectly aware that the heresy had the power to destroy the church as they knew it.

Round One

Alexander seems to have behaved with patience; there were long private interviews with Arius; special prayers were offered against the emerging heresy. The clergy of Alexandria were assembled to discuss the matter, and most of them signed an urgent letter to Arius, begging him to acknowledge his heresy. Arius refused.

Alexander had no alternative but to summon a synod of the bishops of Egypt and Libya and depose Arius and his followers. Thereupon Alexander issued an encyclical, stating tersely that the quarrel had gone beyond his powers of healing, and the views of Arius were anathema. The heresy, which was to grow into an immense poisonous flower, was still only a bud, and not all its implications were visible at first. In his encyclical, Alexander explains some of the consequences of the heresy:

"The novelties the Arians have put forward contrary to the Scriptures are these: God was not always a Father … the Word of God was not always … [for] there was a time when he was not … neither is he like in essence to the Father; neither is he the true and natural Word of the Father; neither is he his true wisdom. …And the Father cannot be described by the Son, for the Word does not know the Father perfectly and accurately."

Alexander's letter, which shows signs of having been partly written by Athanasius, is a masterly summary of the heresy in its beginnings, but it suffered from one obvious fault. It was close-knit and logical. The people wanted something they could sing, and this Arius provided in abundance. "There was a time when the Son was not" became a catch phrase. There were many other catch phrases, hymns and songs, "to be sung at table and by sailors, millers, and travelers." The people took up the cause of Arius, who withdrew to Palestine and later to Nicomedia, where he was protected by the bishop. Here in a corner of Asia Minor not far from Byzantium, Arius continued to taunt the pope of Alexandria, secure in the knowledge that the people were with him.

Arius possessed other advantages. Eusebius, the bishop of Nicomedia, had friends at court and was particularly close to Constantia, the sister of Emperor Constantine. Already the evil that had begun in the church of Alexandria was running through all Egypt, Libya, Upper Thebes, Palestine, and Asia Minor.

The Emperor Steps In

Inevitably it came to the ears of the emperor, who discussed with Hosius, the saintly bishop of Cordova, what should be done to put an end to the quarrels among the sects. Like James I of England, Constantine regarded unity as "the mother of order," and he was not overmuch concerned with the theological truths at stake: he decided to send Hosius to Nicomedia and Alexandria with a letter written in his own hand, ordering by imperial rescript an end to the quarrel.

The letter—one of the most astonishing letters ever written by an emperor to priests—has come down to us in a version that shows no signs of being edited. It is hot-tempered, querulous, disjointed, and commanding. It is abundantly clear that the emperor is not quite clear in his own mind what the quarrel is about. He observes that "these questions are the idle cobwebs of contention, spun by curious wits," and he asks, "Who is capable of distinguishing such deep and hidden mysteries?" He recognizes that the contestants are well-armed with arguments, but he can make neither head nor tail of them.

The heathen philosophers did better: they quietly agreed to disagree. But these new philosophers are implacable and determined enemies of his peace. Let them make profession of their ignorance of God's ultimate purposes.

It was precisely this profession that Arius and Athanasius were unable to make. Almost in despair, Constantine concludes his letter:

"Seeing that our great and gracious God, the preserver of all, has given us the common light of his grace, I entreat you that my endeavors may be brought to a prosperous end, and my people be persuaded to embrace peace and concord. Suffer me to spend my days and nights in quiet, and may I have light and cheerfulness instead of tears and groans."

If Constantine had seriously hoped to put an end to the quarrel, he had acted too late. The quarrel was blazing furiously. "In every city," wrote a historian, "bishop was contending against bishop, and the people were contending against one another, like swarms of gnats fighting in the air."

Another historian outlined the danger even more acidly: "In former times, the church was attacked by enemies and strangers from without. Today those who are natives of the same country, who dwell under one roof and sit down at table together, fight with their tongues as if with spears."

When Hosius returned from his missions in Nicomedia and Alexandria, he was a defeated man and could only report that he could see no end in sight to the blaze that had begun when an aging pope addressed his presbyters on the subject of the Holy Trinity.

There had been bloodshed in the streets; Alexandria and Nicomedia were exchanging defiant taunts. Constantine decided to throw all his influence into the battle.

Calling The Council

He decided to call a general council, the first of that long series of church councils that ended with the Council of Trent (1545-1563). He chose as the seat of the council the small city of Nicea in Bithynia, a few miles from Nicomedia.

By Constantine's orders, 1,800 bishops were invited to attend the council. Messengers were sent to all parts of the empire with invitations. Each bishop was allowed to bring two presbyters and three slaves in his retinue; the services of the public post stations were offered free; from all corners of the empire the bishops descended upon Nicea, crowding the public roads.

It was not a good time for traveling. The eastern rivers were flooded with the rains of a late spring, and though the empire, stretching from Britain to the borders of Persia, was nominally at peace, there were marauding soldiers and bandits along the roads. Fewer than 400 bishops answered the imperial summons, but their numbers were swelled by a horde of attendant presbyters, deacons, subdeacons, and laymen.

Most of the ecclesiastics came from the East, for Europe and North Africa had not yet been corrupted by the schism. Six bishops and two presbyters represented the West. They were Hosius of Cordova, Caecilian of Carthage, Nicasius of Dijon, Domnus of Strido in Pannonia, Eustorgius of Milan, and Marcus of Calabria. The two Roman presbyters Victor and Vincentius represented the old and dying Sylvester, bishop of Rome.

From the East came bishops who had suffered persecution. There was Paul, bishop of Mesopotamian Caesarea, with his hands scorched by flames. Paphnutius of Upper Egypt, famous for the austerity of his life, had had his right eye dug out and the sinews of his left leg were cut during the Diocletian persecution. Bishop Potammon of Heraclea, who had known Antony and lived in the deserts of the Nile, had also lost an eye.

There was James, bishop of Nisibis, who wore a coat of camel's hair, and from the island of Cyprus came Bishop Spyridion, a saintly shepherd who refused to give up tending sheep even when he was elevated to the episcopate, a man who performed miracles to the delight of the Cypriots and to their further delight thundered against virginity, saying that it was right and proper that married people should enjoy themselves in bed. Then there was John, bishop of Persia, from lands outside the empire, and from the unknown north came Theophilus the Goth, a flaxen-haired Scythian from somewhere in Russia.

This motley crowd of bishops represented varying traditions of Christianity. There were sharp-featured intellectuals, men of abstruse book learning, capable of splitting hairs by the yard. There were wise old hermits who had spent the previous year clothed in rough goat hair cloaks, living on roots and leaves. There were men so saintly that it was almost expected of them that they would perform miracles during the council.

There were cantankerous men, and men riddled with heresies, and men who rode to Nicea in hope of preferment from the hands of the emperor. There were men who came peacefully, intending only to observe and then report to their flock, and there were other men determined to wage war in the council chamber.

Yet in the last instance, none of these bishops except Hosius of Cordova was to have any great and final effect upon the outcome of the conference.

Enter the Emperor

Although five separate accounts of the council have been handed down from eyewitnesses, and there are eight more accounts written by historians of the generation immediately following Nicea, we do not know exactly where the council took place, whether it was in a building specially erected for the purpose or whether it was in one of the imperial palaces.

Tradition points to a site on the edge of the lake, a vast marble hall enclosed with columns, and perhaps open to the sunlight. In the center of the hall was a throne on which a copy of the Gospels was placed, and at the far end was another throne for the emperor, carved in wood, richly gilt and set above the level of the unpainted thrones of the bishops.

In this hall, early in the morning of Ascension Sunday, while a mist was floating on the lake, the bishops awaited the arrival of the emperor. Few of the bishops had set eyes upon this emperor, who had single-handedly welded the East and West into a single empire and shown himself so devout a Christian. They waited expectantly.

At last they heard the tramp of armed guards, and then some high officers of the court, themselves converted to Christianity, entered the hall to announce that the emperor was on his way. The bishops were standing. Soon an avant-courier was seen raising a torch, the signal that the emperor was about to enter, and then like children, these bishops from Syria and Cilicia, Arabia, Palestine, Egypt, Libya, Mesopotamia, Persia, Scythia, and Europe were hushed. Human majesty in the person of Constantinius Victor Augustus Maximus was about to appear before their eyes, and in the history of the world only Octavian, who had ruled the Roman Empire during the life of Christ, had ever reigned over so vast an empire.

Constantine wore high-heeled scarlet buskins, a purple silk robe blazing with jewels and gold embroidery, and there were more jewels embedded in his diadem. He was then 51 but looked younger, enormously tall and vigorous, with a high color and a strange glitter in his fierce, lion-like eyes. He wore his hair long, but his beard was trimmed short. He had a thick heavy neck, and a curious way of holding his head back, so that it seemed not to be well set on the powerful shoulders, and there was about all his movements a remarkable casualness, so that when he strode, he gave the impression of someone dancing.

Constantine's speech

Having marched slowly across the whole length of the hall, Constantine sat in silence for a while, sitting between Pope Alexander of Alexandria and his closest ecclesiastical adviser, Bishop Hosius of Cordova. All eyes were fixed on him. Bishop Eusebius of Caesarea [or, more likely, Eustathius of Antioch] read a speech of welcome in metrical prose and then chanted a hymn of thanksgiving for the emperor's victories; then once again there was silence until Constantine collected himself, and speaking in Latin, which was still the language of the court, in a voice that seemed strangely soft and gentle for a man so commanding, he bade the bishops remember that it was the power of God that had dethroned the tyrants, and worse than any battlefield was a civil war between factions of the church.

"It is my desire," he said, "that you should meet together in a general council, and so I offer to the King of All my gratitude for this mercy that has come to me above my other mercies—I mean that there has been granted to me the benefit of seeing you assembled together and to know you are resolved to be in common harmony together."

All this was flattery, for the very purpose of the convocation was to resolve a bitter conflict, and Constantine knew well enough from the petitions he had already received from the bishops that bitterness remained.

He continued, "When I gained my victories over my enemies, I thought nothing remained for me but to give thanks unto God and to rejoice with those who have been delivered by me. But when I learned, contrary to all expectations, that there were divisions among you, then I solemnly considered them, and praying that these discords might also be healed with my assistance, I summoned you here without delay. I rejoice to see you here, yet I should be more pleased to see unity and affection among you. I entreat you, therefore, beloved ministers of God, to remove the causes of dissension among you and to establish peace."

There was now no mistaking the threat behind the words, and as though to make his threat more clear, the emperor summoned one of his attendants and silently produced the parchment rolls and letters containing complaints and petitions that the bishops had privately sent him. A brazier was set up. The emperor tossed the petitions into the flames. While they were still burning, he explained that all these petitions would appear again on the Day of Judgment, and then the great Judge of all things would pass judgment on them: for himself he was content to listen to the public deliberations of the bishops and had not even read these bitter messages sent to him.

Vicious debates in song

The conference was now open. At once the Arians and the anti-Arians were at one another's throats. Denunciation and angry accusation flew across the hall. Everyone was suddenly arguing. There was a wild waving of arms. "It was like a battle in the dark," the historian Socrates said later. "Hardly anyone seemed to know the grounds on which they calumniated one another."

Constantine had invited Arius to be present and listened earnestly when Arius explained the nature of his beliefs, and he was not particularly surprised when Arius burst out into a long, sustained chant, having set his beliefs to music. These chants and songs were sung by the people, and Arius may have thought the emperor would listen more keenly to chanting than to a disquisition on the faith:


The uncreated God has made the Son

A beginning of things created

And by adoption has God made the Son

Into an advancement of himself.


Yet the Son's substance is

Removed from the substance of the Father:

The Son is not equal to the Father,

Nor does he share the same substance.

God is the all-wise Father,

And the Son is the teacher of his mysteries.

The members of the Holy Trinity Share unequal glories

The anti-Arian bishops were appalled, closed their eyes, and put their hands over their ears. It was as though in the middle of a critical debate on the future of the world, someone interrupted with nonsense rhymes or a series of perplexing and meaningless mathematical equations.

Yet the heart of the Arian mystery was in these rhymes sung to a music employed by the Alexandrian dance bands. Arius, gaunt, white-faced, his stringy hair reaching to his shoulders, could repulse any theological argument by simply chanting one of these songs, and when Athanasius [or likely another] answered with a close-knit argument, there was consternation, for they seemed to be talking in different languages about different things, like two men from different worlds or different universes.

A stab at compromise

Probably Athanasius was standing just behind Pope Alexander, and therefore very close to the emperor. We know that he attracted the emperor's attention, but it was not Athanasius who resolved the issue. It seems to have been Hosius who announced that the simplest way of reaching agreement would be to draw up a creed.

The first creed presented to the council was written by 18 of the Arian bishops. Couched in scriptural language, this creed stated the Arian position so offensively that bedlam broke loose when it was solemnly presented to the attention of the bishops.

At this point, Eusebius of Caesarea suggested a creed that he had first heard as a child, an astonishingly beautiful creed that was to form the basis of the creed finally adopted. Eusebius was careful to say he advanced this creed only because he believed divine things cannot be fully expressed in human language: it was not perfect, but it was as close to perfection as he ever hoped to reach. This creed read:

We believe in one God, the Father Almighty, maker of all things visible and invisible,

And in one Lord Jesus Christ, the Word of God, God from God, Light from Light, Life from Life, the only begotten Son, the Firstborn of every Creature, begotten of the Father before all worlds, through whom also all things were made.

Who for our salvation was made flesh and lived among men, and suffered and rose again on the third day, and ascended to the Father, and shall come again in glory to judge the quick and the dead.

And in the one Holy Ghost.

Believing each of them to be and to have existed, the Father, only the Father, and the Son, only the Son, and the Holy Ghost, only the Holy Ghost. …

This creed the emperor accepted, and the Arians, seeing in it nothing that specifically destroyed their position, would have accepted it if their opponents had not seen that this creed failed in any way to resolve the conflict. It was necessary to state the creed in such a way that the Arians would be forced to deny their essential tenets.

Pope Alexander discussed the matter with Hosius. Constantine, turning against the Arians he had previously favored, suggested that Christ should be defined as homoousios—one in essence with the Father—and this definition should be included in the creed. The orthodox bishops were gaining strength.

A new creed, formed by patching together the old creed and a new, more vigorous statement of the anti-Arian position, was finally announced by Hosius on June 19. It read:

We believe in one God, the Father Almighty, maker of all things visible and invisible.

And in one Lord Jesus Christ, the Son of God, begotten of the Father, only begotten, that is, from the substance of the Father, God from God, Light from Light, very God from very God, begotten not made, of the same substance as the Father, through whom all things were made, both things in Heaven and things in earth; who for us men, and for our salvation, came down and was made flesh, was made man, suffered and rose again the third day, ascended into Heaven, and shall come to judge the quick and the dead.

And in the Holy Ghost.

And those who say "There was a time when he was not" and "He did not exist before he was made" and "He was made out of nothing" or those who pretend that the Son of God is "of another hypostasis or substance" or "created" or "alterable" or "mutable," the Catholic Church anathematizes.

In this form, the Nicene Creed left much to be desired. It was tortured, blunt-edged, without poetry or rhythm, and without the nobility of the creed of the church of Palestine. But many words that gave a living significance to the original creed—"the Word of God," "the Firstborn of every creature," "begotten of the Father before all worlds"—were in fact deliberately omitted to show that the triumphant Alexandrians would allow no compromise, no loophole for the Arians and were bent on avoiding all misunderstanding.

Poetry From Chaos

In its original form, the Nicene Creed was a weapon: it was to become a more sublime article of faith in time, when poetry and ornament and a less abrupt rhythm were fashioned for it by the simple process of adding words. These words, which gave depth and resonance to the Creed, were added at the Council of Constantinople in 381, and finally approved at the Council of Chalcedon in 451. Then the second clause came to read:

And in one Lord Jesus Christ, the only-begotten Son of God, begotten of the Father before all worlds, Light from Light, very God from very God, begotten not made, being of one substance with the Father, through whom all things were made; who for us men and for our salvation came down from the heavens and was made flesh of the Holy Ghost and the Virgin Mary, and was made man, and was crucified for us under Pontius Pilate, and suffered and was buried, and rose again on the third day according to the Scriptures, and went up into the heavens, and sits on the right hand of the Father, and is to come again with glory to judge the quick and the dead, and of his kingdom there shall be no end.

So there came about by the slow process of trial and error, as a poet will substitute a new word to a line or resurrect a word used formerly, continually revising his rhythms, an astonishingly beautiful summary of the Christian faith, such a summary as might have come full-grown from the mind of one of the apostles.

But in fact this statement of faith came about arduously and slowly, after many bitter contests and many subtle dialectical quarrels, and in the version accepted by the West, there were to be more changes. The words "God from God," omitted in the original creed of the church of Constantinople, were restored, and there were still more alterations in the coda, for in time the anathemas against Arianism lost their force. No one reading the Western version of the Nicene Creed today need remember that it was originally a hammer struck at heresy.

But the heresy remained. All Athanasius's diatribes, and all the decisions of the council, were powerless to prevent it. Later Athanasius was to write to the Emperor Jovian, saying that Nicea was the occasion for a public proscription of every heresy. For a while he believed that "the Word of the Lord, which was given at the Ecumenical Council of Nicea, remains for ever." He had good reason to believe that he had won a resounding success.

Constantine had been won over. Arius was publicly anathematized. According to the historian Socrates, Constantine issued an imperial rescript ordering that all the books of Arius should be burned "so that his depraved doctrine shall be entirely suppressed and so that there shall be no memorial of him left in the world." The punishment for concealing any book compiled by Arius was death!

Yet some 54 years later, when Gregory Nazianzus was summoned to Constantinople, he found only one small congregation in the city that had not become Arian. In the end, Arianism was to die, and largely as the result of Athanasius's enduring statement of the orthodox doctrine. But in spite of the anathemas, it was still a living force in the land.

Closing Banquet

The council came to an end on July 25 with a solemn banquet attended by the emperor.

They had deliberated for nearly seven weeks, not only about the Arian heresy. An Arabic translation of the canons discussed at Nicea, found in the sixteenth century, shows that they debated on 84 subjects, ranging from the date of Easter (they set the day as the first Sunday, not coinciding with the Passover, after the first full moon following the vernal equinox) to determining whether the clergy could marry (the clergy were enjoined to marry before ordination, but not afterward).

Now exhausted, the bishops prepared to make their way homeward. The last speeches had been made. There remained only the ceremonial leave-taking at the banquet, with the emperor sitting at a table in the midst of them. Constantine, stiff with purple, gold, and precious stones, was in good humor. He complimented Athanasius, gave presents to the bishops he favored, and at one point he summoned the unregenerate Bishop Acesius, who possessed a singular regard for the Novatian heresy, which held that only God had the power to pardon sins and that anyone who commits sin after baptism must be permanently refused Communion.

Constantine reminded Acesius that the doctrine of the church was now finally established. Acesius made a long speech in defense of his puritan interpretation of the Scriptures.

Constantine guffawed, "Ho, ho, Acesius! Now plant a ladder and climb up to heaven by yourself!"

And sometime later, Constantine summoned the saintly Bishop Paphnutius and kissed the empty socket, and pressed his legs and arms to the paralyzed limbs, and he was especially gentle to all the other bishops who had suffered under the persecutions.

Then the bishops went out through a line of imperial bodyguards with bared swords. The council was over.


From "The Holy Fire: The Story of the Early Centuries of the Christian Churches in the Near East" (1957). Copyright © 1996 by the author or Christianity Today International/Christian History magazine.

BOEDDHISME IN ’N NEUTEDOP

 Johan Booyse

 

1.   Inleiding

Laat ek ter inleiding my kaarte op die tafel sit: ek is nie ’n Boeddhis of aanhanger van Boeddhisme nie; ek gee myself ook nie uit as ’n kenner daarvan nie. Bronne wat ek geraadpleeg het sê dis onmoontlik om ’n “kenner” te wees tensy mens in volle oorgawe aan Boeddhistiese praktyke deelneem.

Hoe het dit dan gebeur dat ek vandag hier staan? As lid van Sakkie se maandelikse besprekingsgroep het ek onlangs die werk van John Macquarrie, Mediators between Human and Divine, bestudeer. Dit was my taak om die hoofstuk oor Boeddha te bestudeer en vir die groep voor te dra. Hierdie praatjie is die gevolg daarvan.

Tog verdien Boeddhisme aandag – in die advertensie vir vandag se byeenkoms het ek geskryf:  ’n Kenmerk van die 21ste eeuse samelewing is verskeidenheid. Op elke lewensterrein kom mense met uiteenlopende kenmerke, oortuigings, ingesteldhede en belangstellings al hoe meer met mekaar in aanraking. Hoewel verskeidenheid dikwels lei tot konflik, kan dit ook ’n heilsame uitwerking hê. Die voorwaarde is egter dat alle betrokkenes meer van mekaar moet probeer te wete kom, mekaar moet probeer verstaan en mekaar in ’n gees van verdraagsaamheid en samewerking moet aanvaar. Dit geld ook vir menslike interaksie op godsdienstige terrein: die beginpunt vir die vreedsame naasbestaan van Moor en Mohammedaan, is kennis van mekaar, hoe oppervlakkig dit ookal (aanvanklik) mag wees. Teen hierdie agtergrond is dit sinvol vir mense wie se wortels in die Christelike tradisie geanker is, om ook iets meer van ’n ander groot wêreldgodsdiens, naamlik Boeddhisme, te wete te kom. Dit is die doel van hierdie voordrag: ’n inleidende kennismaking met die Boeddha-figuur, die oorsprong en ontwikkeling van Boeddhisme en die basiese leerstellings van hierdie godsdiens. Dit is veral die raakpunte tussen Christenskap en Boeddhisme wat dikwels tot gesprek en nadenke kan lei.

2.   Die Boeddha-figuur

Hoe weet ons van hom wat ons weet? Geskrifte oor Boeddha en oor Boeddhisme het eers 400 jr na sy geboorte ontstaan. Daar bestaan drie soorte geskrifte: kanoniek (ooreenkomstig kerklike wette; geskryf onder ingewing van Heilige Gees), kommentare en pseudo-kanonieke werke. Net soos in die geval van die Bybel bestaan daar onsekerheid of dié werke woorde VAN of OOR Boeddha bevat. Onlangs is van die vroegste geskrifte in Pakistan (naby Taxila, suid-wes van Islamabad) ontdek. Dele daarvan is op boombas geskryf en dateer uit die 1ste eeu nC. Dis vergelykbaar met die Dooie See rolle in die geskiedenis van die Christendom.

Boeddhisme behels ’n persoonlike belewenis van waarheid – onafhanklik van die Boeddha-figuur. Dit is nie belangrik of daar inderdaad ’n historiese Boeddha was nie. Oorlewering en legendes oor Boeddha bevat egter verhalende beskrywings van die aard en vorm van sy geestelike reis.

Volgens oorlewering was die boeddha waaruit Boeddhisme ontstaan het, die seun van Gautama: Siddhartha. Dié naam beteken “afstammeling van Gautama wat altyd sy doelstellings bereik”. Hy is ook  bekend as Sakyamuni Boeddha, die wyse/verstandige. Hy was ’n gewone mens wat self geen aanspraak gemaak het op ’n goddelike oorsprong nie.

Geleerdes verskil oor die datum van Boeddha se geboorte, maar konsensus bestaan daaroor dat dit sowat 40 jaar aan die een of ander kant van 500 vC was. Hy is in Lumbini, Kapilavastu, Nepal gebore. Ter oriëntering: waar is Nepal? Aan die voet van die Himalaya gebergte in die noorde van Indië.

Boeddha se menslike aard is bedek deur verskeie lae legendes – soos die meeste ander bemiddelaars tussen mens en God/god. Boeddha se pa (koning Suddhodana) was die raja  (regeerder/leier - lid van ’n aristokratiese stryderskaste, naamlik die kshatriya kaste) van die Sakya stam. Sy ma was koningin Maya(devi). Sy is die “Godin van Illusie” (devi) genoem omdat sy so mooi was dat ’n mens dit kwalik kon glo. Na bewering het Siddhartha Gautama uit die hemel in die moederskoot neergedaal; ten volle bewus van sy eie identiteit en roeping. Gedurende die nag waarop koningin Maya bevrug is, het sy gedroom ’n wit olifant het haar baarmoeder binnegedring.

In Indië was dit tradisie om in die koninkryk van die vrou se eie pa geboorte te skenk. Op pad soontoe is Siddhartha onder ’n immergroen boom gebore. Daar was geen bloed, slym of ander uitskeiding teenwoordig nie. Volgens legendes kon Boeddha ook onmiddellik praat en minstens 7 meter ver loop! Sy ma is kort na die geboorte oorlede. (Die gebeure rondom Boeddha se geboorte herinner nogal aan die stal te Bethlehem.)

Na sy geboorte het Asita (’n wysgeer) voorspel dat Siddhartha ’n asketiese swerwer sou word (dit is iemand wat hom onthou van sinlike genietings en byvoorbeeld deur selfkastyding streef na volmaaktheid) en dat hy as ’n boeddha sou eindig (afgelei van die Sanskrit woord budh; ’n werkwoord wat beteken om te ontwaak/begryp/ken). ’n Boeddha (let op onbepaalde lidwoord) is iemand wat getransformeer is, wat wéét, wat realiteit van drome kan onderskei. Boeddha is ’n titel, nie ’n naam nie. Dis ’n soortnaam, nie ’n eienaam nie. Daar was reeds baie boeddhas en daar sal nog baie wees. Aanhangers van Boeddhisme streef daarna om ’n boeddha te word. Ons moet dus onderskei tussen boeddha en Boeddha. Let op die ooreenkoms met die christelike tradisie: Christus is ook ’n titel, naamlik gesalfde (Hebreeus = messias). Beide Adamantius en Luther het na mense as christusse verwys. Nes Jesus, is Boeddha ook tot eienaam verhef en het hy redder geword.)

Nietemin, as sy pa wou hê Siddhartha moet hom opvolg, (so het Asita gesê), moes hy verseker dat Boeddha tuis bly. Sy pa was ontstig deur die voorspelling: hy wou nie sy seun as geestelike sien grootword nie. Eerder moes hy deel in die voorregte wat Suddhodana self geniet het. Gevolglik het die koning vir Siddharta probeer tuis hou. Hy het vir hom ’n liefdeskamer laat bou, dié met erotiese kuns versier en vir Siddhartha meisies van die nag beskikbaar gestel. Die jongman se lewe het om sinlike plesier gewentel. Dis ironies dat juis die prostitute hom van die lewe buite die paleis vertel het. Terselfdertyd het sy pa gepoog om hom in alle opsigte deeglik te laat oplei. Daar word beweer dat hy aan al die tradisionele kunste en wetenskappe van sy tyd, 64 verskillende tale, wiskunde, vegkuns en boogskiet blootgestel is. Daar word wonderlike stories oor Boeddha se jeug vertel. Volgens legendes het hy onder meer, na aanleiding van die vakke wat hy bestudeer het, gesê: “Met die boog van mediterende konsentrasie sal ek die pyle van wysheid afskiet en die tier van onkunde in lewende wesens van kant maak”. Daarna het hy ’n pyl afgeskiet wat deur vyf ystertiere en sewe bome getrek het.

Siddhartha is liggaamlik as volmaak beskou. Die vet beeldjies wat van hom gemaak is, het te doen met wat in ’n bepaalde kultuur as “mooi” beskou word. In werklikheid, so word beweer, was hy die toonbeeld van skoonheid. Geen wonder dat Fibonacci dikwels ’n rol speel by voorstellings van Boeddha nie.

Op 16-jarige leeftyd is Siddhartha met Yasodhara getroud en kort daarna het hy by haar ’n seun, Rahula, verwek. Soos die gebruik van daardie tyd was, het hy ook meer as een vrou gehad. Daar bestaan interessante verhale oor hierdie huwelik - hoe Siddhartha vir Yasodhara gekies het en oor haar ingesteldheid jeens hom (haar nederigheid en bewondering vir haar man - veral laasgenoemde houdings laat ’n mens nogal dink aan sommige vroue in die Bybel). Toe Siddhartha byvoorbeeld Kapilavastu besoek het, het Yasodhara geweier om op eie inisiatief haar man te ontmoet: "Surely, if I have gained any virtue at all, the Lord will come to my presence.“

Eendag wou Siddhartha die paleis verlaat en ’n park besoek. Die koets (die rytuig van die gode) is ingespan. Dis toe dat die (oud-Indiese, Hindu) gode besluit het: “Die tyd van verligting is naby; gee hom ’n teken”. Die gode verskyn toe aan hom in die vorm van ’n ou, tandelose man. “Wat is dié?”, vra Siddhartha aan die koetsier. “Almal word oud”. “Droewig is geboorte”, sê Siddhartha en diep geraak deur ouderdom is hy terug paleis toe. Dié toneel het homself nog drie keer afgespeel: elke keer het Siddhartha iets anders raakgesien wat hom ontstel het: ’n siek man met geswolle buik en oortrek met vlieë en vullis; ’n lyk wat deur bedroefde familie in die strate rondgedra is; ’n swerwende geestelike wat homself van die wêreld probeer afsonder het. Hierna het koetsier hom tot ’n lewe van selfverloëning gewend.

Op 29-jarige ouderdom het Siddhartha besluit om die koetsier se voorbeeld te volg. Onthou dat sy pa hom as’t ware gevange gehou het. Op die dag van die groot selfverloëning is hy toe skelm, sonder sy vrou en kind, die paleis uit. Hy het op sy perd ontsnap – die hoefgeklap is na bewering deur die gode gedemp sodat hy die wagte kon ontglip.

By die stadspoort het hy die verleier Mara (die ekwivalent van Satan) teengekom. Lg. het belowe om hom ’n groot koninkryk te gee as hy van sy planne sou afsien. Siddhartha het geweier. Daarna het Mara hom die res van sy lewe met allerlei versoekings gevolg – die magte van die bose het hom aangeval – enigiets wat hom aangeraak het (koperspiese, vlammende swaarde, swepe en hake) het in blomme verander. Toe het die dogters van Mara probeer om hom te  verlei – Siddhartha was egter ongesteurd. (Hierdie gebeure herinner aan die versoeking van Jesus.)

Soos reeds aangedui, was Siddhartha Gautama diep geraak deur pyn, lyding, ouderdom, siekte en dood. Hy het onder ’n jamboes-boom gaan sit – die boom van verligting (’n tropiese boom met geel-groen eetbare vrugte wat tot 9m lank kan word). Daar het hy bekend geword as Bodhisattva  (die een wat bestem is om ’n boeddha te word). Hy het dikwels gemediteer. Hy het twee keer by godsdiensonderwysers (Arada Kalama en Udraka Ramaputra) sielerus probeer vind, maar was telkens teleurgesteld. Daarna het hy, vergesel van vyf dissipels (Sariputta, Mahamoggallana, Mahakasyapa, Ananda en Anuruddha), probeer om in buitengewone eenvoud te leef en deur uiterste fisiese ontbering rus vir sy gemoed te vind. Mettertyd het sy dissipels hom verlaat. (Sien u die ooreenkoms met Jesus se geestelike stryd en die dissipels wat Hom verlaat het?)

Op 35-jarige ouderdom het hy finale verligting beleef. Dit het bestaan uit drie nagwake (waarin hy geworstel het met sy eie oorsprong, naamlik dat elke nuwe bestaan bepaal word deur die goeie en slegte van ’n vorige lewe (karma); en die vernietiging van sinlike begeertes (asavas) die vernietiging van ’n bestaansverlange; ’n strewe na verlossing van onkunde). Die nagwake is gevolg deur vier fases van beswyming waarin hy op eie houtjie sy eie begeertes en bose gedagtes oorkom en uiteindelik sielerus gevind het. Daarna het hy besef hoedat hy arahat (nie-terugkerende) geword het wat by sy dood na nirvana sou gaan en nie weer hergebore sou word nie. Deur middel van hierdie proses het Bodhisattva Boeddha geword - met Mara op sy hakke! Sy eerste versoeking as Boeddha was om die kennis en ervaring wat hy opgedoen het, vir homself te hou. Hy het egter besef dat hy dit moet oordra. Let op hierdie doen-dit-self weergawe van verlossing. Vir volgende 4 dekades het Boeddha deur gehuggies in Indië geloop en preek. (Hierdie besondere versoeking deur Mara herinner ’n mens nogal sterk aan die sendingopdrag van Christene.)

Boeddha het dadelik die vyf dissipels wat vroeër genoem is, gaan opsoek en hulle geleer van die vier edele waarhede wat ek netnou sal bespreek maar wat ook herinner aan die tien gebooie. Later het nog vyf dissipels bygekom: Upali, Subhoti, Rahula, Mahakacanna en Punna. (Tien dissipels soos die tien van Jesus?) Saam het hulle die eerste kloosterorde, genaamd Sangha, geskep en ’n ingewikkelde stel reëls vir die orde geformuleer. Voorbeelde van hierdie kloosterreëls is die volgende: ’n Monnik sal nie sy onderkleed soos ’n olifantslurp om hom draai nie. ’n Monnik sal nie tussen huise rondspring nie. ’n Monnik sal nie phuphuphu-geluide maak wanneer hy eet nie. Tensy ’n ramp dreig, sal ’n monnik nie in ’n boom hoër as die lengte van ’n man klim nie. ’n Monnik sal nie onderrig verskaf aan iemand wat op ’n olifant sit en gesond is nie.

Boeddha is op 80-jarige ouderdom dood. Volgens geskrifte het Boeddha aangekondig dat hy parinirvana (’n finale onsterflike toestand) gaan bereik en sy aardse liggaam gaan verlaat. Daarna het hy ’n laaste maaltyd geniet wat ’n grofsmid, Cunda, hom aangebied het. Hy het dodelik siek geword en toe vir Ananda beveel om Cunda gerus te stel dat dit nie sy kos was wat vir Boeddha siek gemaak het nie. Die presiese aard van die kos is onbekend – daar het later ’n groot stryery onder monnike uitggebreek oor wat dit was: vark; sampioene of knolswam? Voor sy dood het Boeddha sy dissipels beveel om geen leier te volg nie - slegs volgens sy voorskrifte te leef. (Laat dit u nie dink aan die laaste avondmaal by die Jesus-verhaal nie?)

Toe het Boeddha op sy sy gaan lê en sy kop gestut. Die voëls het stil geword, die wind het gaan lê, bome het hul blare afgegooi en op die oomblik van sy dood het die aarde gebewe en vuurballe het uit die lug geval. Daar was donderslae, stormwind en duisternis oor die aarde. Die water in die riviere het begin kook. (By Jesus het die voorhang geskeur en daar was ook duisternis oor die aarde.)

3.   Oorsprong en ontwikkeling van Boeddhisme

Kort na Boeddha se dood is ’n belangrike Boeddhistiese vergadering onder leiding van Mahakasyapa (een van die tien dissipels en vandag geëer as stigter van Zen-Boeddhisme in Sjina en Japan) te Rajagriha (vandag Rajgir) gehou. Die doel daarvan was om die leerstellings van Boeddha op te teken en verdere kloosterreëls te formuleer. Ananda (nog een van die dissipels en na bewering die enigste wat al Boeddha se leringe/voordragte woordeliks kon herroep) is opgeroep om oor sy gesprekke met Boeddha verslag te doen. Upali (nog ’n dissipel) moes weer met die reëls behulpsaam wees. Dié inligting het die basis van die Tripitaka, die standaard tekste waarop Boeddhisme gebou is, naamlik die Vinaya, Sutras en die Abhidharma, gevorm.

Maar, soos in die geval van byna elke ander stigter van ’n groot godsdiens in hierdie wêreld, was Boeddha lank reeds dood voordat sy volgelinge oor die betekenis van sy lewe en leringe begin stry het. ’n Tweede B Vergadering is ongeveer ’n eeu later te Vaisali gehou om die twis wat oor dissiplinêre kwessies onder monnike uitgebreek het, te besleg.  Tydens die Tweede Vergadering het ’n ortodokse minderheid die meerderheid as ketters verklaar en Boeddhisme in twee groot kampe verdeel: Hinayana (“die uitsluitende weg”) en die meer liberale groepering Mahanayana (“die uitgebreide weg”). (Sien u ’n ooreenkoms met die ontwikkeling van die Christendom?)

Hierna is nog twee belangrike vergaderings gehou, hoofsaaklik om “afvallige monnike” uit te werp en Boeddhistiese bedrywighede in ander lande te bevorder.

Onthou dat die eerste Boeddhistiese geskrifte eers sowat 300-400 jaar na B se dood verskyn het - monnike het veel bygevoeg om hom beter voor te stel. (Dit laat ’n mens nogal aan die geskrifte van Paulus dink, of hoe?)

Boeddhisme het in Indië onder die konings floreer, veral onder koning Ashoka tydens die 3de eeu nC. Sy heerskappy is deur menslikheid gekenmerk. Hospitale is vir mens en dier geskep; waterputte oraloor gegrawe; ’n verdraagsaamheid teenoor alle godsdienste het bestaan. Ashoka se invloed het daartoe gelei dat Boeddhisme in byvoorbeeld Sri-Lanka, Sirië en Griekeland bekend gestel is. (Dit laat ’n mens ’n bietjie aan Konstantyn die Grote en die Christendom dink, nie waar nie?)

Boeddhisme was teen die kaste-stelsel in Indië gekant. Dit was altyd in stryd met die sosiale organisasie van die tyd. Vanaf die 9de eeu was daar ’n afname in belangstelling in Boeddhisme vanweë die samesmelting daarvan met Hindoeïsme. Teen die 11de eeu het Moslems die land binnegeval en almal verplig om die “een god” van Islam te aanbid. Teen die 13de eeu het Boeddhisme in Indië grootliks verdwyn.

Intussen het elemente van Boeddhisme na Sjina versprei – in aanraking gekom met Confucianisme en Taoisme – vermeng – nuwe skakerings van Boeddhisme ontwikkel. Die groepering met die grootste invloed was die Zen-Boeddhisme. Gedurende die 6de eeu het Zen-Boeddhisme na Japan versprei en alle aspekte van die Japannese kultuur beïnvloed. Dit is vandag steeds baie sterk; steeds besig om by ’n nuwe orde aan te pas. Gedurende die 8ste eeu het die meer gesentraliseerde vorme van regering in Japan en Korea tot ’n uitbreiding van Boeddhisme gelei. Hoewel ’n skatting moeilik is vanweë gebrek aan ’n formele Boeddhistiese organisasie, word beweer dat daar vandag nagenoeg 375 miljoen volgelinge van Boeddha wêreldwyd bestaan.

Inhoudelik het B in drie geografies onderskeibare vorme ontwikkel: Suidelike – Theravada Boeddhisme (suid-oos Asië, Tailand, Burma, Sri Lanka, Kambodja); Oostelike – Mahayana Boeddhisme (Sjina, Japan, Viëtnam, Korea, Tibet, Mongolië, dele van Rusland), en Tibetse Boeddhisme – Lamaïsme (geïsoleerd in Tibet).

Boeddha en Boeddhisme vervul ’n belangrike rol in baie godsdienste van die wêreld. Gautama Boeddha word bv. as ’n god vermeld in Hindoeïsme.  Die Sjinese beskou hom as ’n inkarnasie van Lao-Tsu. In Japan word Amaterasu, die songodin, as ’n inkarnasie van Boeddha voorgestel. In Sikhisme is die god Vishnu, Boeddha in nuwe gedaante. Die Moslem-gemeenskap erken Boeddha as ’n profeet. In Arabies bestaan daar ’n verhaal oor die koning wat monnik geword het en in die Grieks Ortodokse kalender is vir Boeddha ’n plekkie ingeruim. Die verhaal van die koning wat monnik geword het, word ook in die Joodse godsdiens as "Die prins en die een van Nasaret” (Ben-Hamelekh Vehanazir) vertel. In die Bahái geloof word Boeddha geklassifiseer as ’n “manifestasie van god” – die titel van belangrike profete.

Vir eeue lank het Boeddhisme betreklik min verander totdat daar in die 20ste eeu ’n oplewing gekom het. Ironies genoeg het hierdie oplewing gekom vanweë Christene se belangstelling daarin: Christene het vertalings van die oorspronklike bronne vereis. Dit het gelei tot ’n heroorweging van die Boeddhistiese erfenis. Die groei in die Westerse wêreld is waarskynlik aan nie-dogmatiese aard, rasionaliteit, uitdaging tot persoonlike verandering van Boeddhisme te danke – almal aantreklike eienskappe vir ’n diverse, post-moderne samelewing. Soos ’n mens uit die Nan Hua Boeddhiste tempel naby Johannesburg kan aflei, het Boeddhisme ook in Suid-Afrka posgevat.

4.   Basiese leerstellings van hierdie godsdiens/filosofie:

Eintlik is dit verkeerd om van “hierdie godsdiens” te praat, want dit is nie ’n stelsel gekenmerk deur geloof in en diens aan ’n bonatuurlike wese nie – eerder is dit ’n filosofie waarvolgens die menslike bestaan bevorder kan word deur van die ware skoonheid van die werklikheid kennis te neem.

Van die gevolgtrekkings waartoe Boeddha onder die boom van verligting gekom het, is dat menslike bestaan deur drie sake gekenmerk word, naamlik dat (1) alles in ’n staat van verandering verkeer, (2) omdat niks permanent is nie, is alles onbevredigend en (3) menslike wesens ook nie ’n permanente siel het nie. Voortvloeiend hieruit het hy sy 4 edele waarhede geformuleer. (Let op in watter mate Boeddhisme ’n soort intellektuele, godsdiens met “logiese” argumentasie is – nie op emosies gebaseer nie.)

Ons kan nie seker wees van die egtheid van die woorde wat aan Boeddha toegedig word nie. Die kern van sy leringe omvat egter die vier edele waarhede waarvan Boeddha sy dissipels geleer het en waarna ek vroeër verwys het. Die eerste hiervan is: (1) die lewe is pynlik, gevul met hartseer, verwerping en dood. Sommige bronne stel dit baie kras: “Life’s a bitch (then you die)!”. Eintlik swem ons slegs na wat ons glo die strand is, na wat ons dink die antwoord op ’n probleem is, net om weer met ’n nuwe probleem gekonfronteer te word. Ons hoop voortdurend op veiligheid, vrede en geluk, maar bereik dit nooit. Dit hou ons vir ewig aan die swem.

Die daaropvolgende edele waarhede spruit almal voort uit die eerste, naamlik dat die lewe pynlik is. (2) Die oorsaak van die pyn is geleë in die mens se verlange na wellus/sinlikheid en bestaansekerheid en (3) die opheffing van die pyn kan slegs plaasvind as die mens van al hierdie begeertes afstand doen.

In hierdie verband was dit vir my interessant om te hoor wat die voorste gholfspeler in die wêreld onlangs te sê gehad het nadat sy huweliksontrou op die lappe gekom het: “I was raised a Buddhist, and I actively practiced my faith from childhood until I drifted away from it in recent years. Buddhism teaches that a craving for things outside ourselves causes an unhappy and pointless search for security. It teaches me to stop following every impulse and to learn restraint. Obviously, I lost track of what I was taught.” (Tiger Woods, 19 Februarie 2010) – ’n baie mooi samevatting van Boeddhisme behels.

Die vierde edele waarheid is dat die weg na die strand, na ’n opheffing van pyn, agtvoudig is: Meditasie vorm die basis van Boeddhistiese praktyke – ’n mens moet leer om van alle gedagtes en fantasieë afstand te doen wat ervaring van wie en wat onsself is, blokkeer. Deur middel van meditasie leer ’n boeddhis om stil te word en te fokus op die agt “regte” dinge. Hierdie agt stappe verteenwoordig die weg na bevryding. ’n Mens moet fokus op die regte (“korrekte”) (1) beskouinge (die leer van die 4 edele waarhede); (2) bedoelings (vrywees van sinsgenot, kwade gedagtes en wreedheid); (3) woorde/uitsprake (nie lieg of vals wees nie, vermyding van ligtelikheid); (4) handelinge (goedheid/meelewing eerder as moord, diefstal, seksuele losbandigheid); (5) lewenswyses (verdien daaglikse brood op eerlike wyse - dryf nie handel in wapens, lewende wesens (mense en diere), vleis, drank of gif nie); (6) pogings/probeerslae (gebruik energie om versoeking en kwaad te vermy); (7) bewussyn/ingesteldheid (bewustheid van eie gedagtes en liggaam); (8) konsentrasie (gerig wees op bereiking van Nirvana via regte meditasie).

Boeddha se 423 (morele en godsdienstige) leerstellinge is vervat in die werk, Dhammapada (Pad van deug). Die Dhammapada is nie ’n hegte, welberedeneerde verhandeling nie. Dit bestaan grotendeels uit losse uitsprake wat ter wille van verstaanbaarheid in vier groepe gerangskik kan word, naamlik uitsprake van Boeddha (1) vergelykbaar met dié van Jesus; (2) oor die mens en sy bestemming; (3) oor homself en sy verhouding met ander gode en die mens; (4) oor God, gode en die allerlaaste/uiterste/finale werklikheid. Die kern van sy leer is egter: “All that we are is the result of what we have thought. Think Love, Be Love”.

In Boeddhisme val die klem sterk op denke en intellektualisme. Hy begin nie nuut nie, maar bou op die standpunte van die Indiese godsdienstradisie, bv. die idee dat die siel na die dood in ’n nuwe liggaam hergebore word en dat die aard van wedergeboorte deur die goed of sleg van ’n vorige lewe bepaal word. Net soos in die meeste ander godsdienste is dit onseker waar Boeddha se eie leerstellings en dié van sy volgelinge ineen loop. Wat ons wel weet, is dat Boeddha se leer ’n leer van hoop is. Volgens Boeddha is nirvana onbeskryflik – ’n mens moet dit nie eens probeer beskryf nie – en beskrywings wat bestaan, het hul oorsprong by sy dissipels. Byvoorbeeld Boeddha se beskouing van homself: “One like me is nowhere to be found … No one is there to rival me”. As dit sy eie woorde was, was Boeddha nie so altruïsties as wat hy gepredik het nie. Eksegete meen egter dis woorde wat deur sy dissipels in sy mond geplaas is. Die kernboodskap bly dat Boeddha ver bo gode en mense verhewe is. (Terselfdertyd herinner sy uitsprake aan dié van Jesus in die Johannes Evangelie: “Ek is die weg, die waarheid en die lewe.”)

Boeddha het die lewe duidelik vanuit ’n Hindoe-raamwerk verstaan en beskou en hy het die taal van die Hindoe-godsdiens gebruik. Hy was gekant teen sommige godsdienstige praktyke van sy tyd. In werklikheid was Boeddhisme dus ’n hervorming/aanpassing van Hindoeïsme vir ’n nuwe tydvak. (Dit herinner aan Jesus wat in terme van die Joodse geloof opgetree het en ook gekant was teen sekere godsdienstige praktyke van Sy tyd.) Boeddha het samsara (die siel van ’n dooie migreer na ’n nuwe liggaam/reïnkarnasie), karma (elke nuwe bestaan word bepaal deur die goeie en slegte van ’n vorige lewe) en die Hindoe gode. Hy ontneem hulle egter van belangrikheid deur self tot sy eie verlossing te kom. Goddelike tussenkoms is oorbodig. Boeddha dink ook nie aan gode as skeppers van die heelal of mens nie. Volgens teologiese vertolkings het Boeddha drie liggame gehad, naamlik ’n fenomenologiese liggaam (menslike wese wat in die sesde eeu vC geleef het en in Asiese kuns voorgestel word), ’n hemelse liggaam en ’n misterieuse, onvoorstelbare liggaam sonder vorm (Dharmakaya). (Dit herinner nogal aan die drie-eenheid van die Christendom.)

Onder Boeddhiste bestaan daar ook eskatalogiese verwagtings (’n leer van die laaste dae). Maitreya is ’n toekomstige boeddha van hierdie wêreld. In sommige literatuur word na hom verwys as Ajita Bodhisattva. Volgens Boeddhistiese tradisie gaan Maitreya na die aarde toe kom, volledige verligting bewerkstellig en suiwer dharma leer. Dit sal ’n werklike gebeurtenis in die verre toekoms wees. Maitreya, wat tans in die hemel woon en net via meditasie bereikbaar is, sal die opvolger van Siddhartha Gautama wees. (Soortgelyk aan die verwagting van Christene dat Jesus op die wolke sal kom?)

5.   Raakpunte tussen  Christendom en Boeddhisme:

Vir eeue lank bestaan daar reeds ’n bewustheid van ooreenkomste tussen Boeddha en Christus. Kyk byvoorbeeld die skildery van Franse kunstenaar, Paul Ranson, wat reeds in 1880 in sy werk “Christus en Boeddha”, die twee figure teenoor mekaar gestel het. Hierbo is reeds taamlik baie ooreenkomste uitgewys. Ooreenkomste is veral ook opvallend in hulle wysheidsleringe. Eers sommige groot verskille:

Vir ’n Boeddhis bestaan daar geen “God” nie. Die dood word gevolg deur reïnkarnasie – die aard daarvan word bepaal hoe ’n mens in die vorige lewe geleef het. Die doel van ’n boeddhis is om die staat van nirvana te bereik waarin alle begeertes opgehef en selfs die ego vernietig word.

 

Panteïsties

 

Daar is geen god – of god is nirvana

 

Die siel “nie geskape” nie

 

Na die dood vind reïnkarnasie plaas -mens word in ’n nuwe lewensvorm hergebore

 

Ons kry swaar vanweë ons eie begeertes

 

“Redding” kom deur eie toedoen

 

 

In Nirvana hou die ego op bestaan

 

Monoteïsties

 

God is ’n persoonlike god

 

Elke mens is deur God geskape

 

Na die dood volg die oordeel van God

 

 

Ons kry swaar vanweë sonde

 

Redding vanweë God se genade deur bemiddelaarskap van Jesus Christus

 

In die hemel leef die geredde mens vir ewig

 

 

Boeddhiste verwerp die volgende kernopvattings waaraan Christene waarde heg:

·         die bestaan van ’n Tuin van Eden voordat sonde dit vir die mens ontoeganklik gemaak het

·         erfsonde vanweë die ongehoorsaamheid van oerouers

·         ’n wêreldwye vloed wat vir die grootste menslike uitwissing van alle tye verantwoordelik was

·         ’n sondelose, persoonlike verlosser wat die mens deur sy dood kom vrymaak het

·         ’n mensgeworde god wat uit ’n maagd gebore is, tereggestel is, opgestaan en na die hemel opgevaar het

·         verlossing deur goeie werke, spesifieke geloofsdade (soos vergewing van sondes) of die krag van sakramente

·         ’n lewe na die dood

·         die wederkoms van ’n redder

·         die einde van die wêreld soos wat ons dit ken

·         ’n opvatting dat (die Christelike) geloof vir ewig sal bly voortbestaan

 

Daar bestaan nog verskeie ander verskille, byvoorbeeld ten opsigte van die rol van gebed, gebruik van afbeeldings van god, heilige feeste, spesifieke kerklike gebruike … Ons het nie tyd om hierop in te gaan nie. As ’n mens hierdie groot verskille in ag neem, is die besondere ooreenkomste tussen die geestelike leringe (spiritual teachings) van Boeddha en Christus verrassend.  

Ek wil graag vlugtig die aandag vestig op voorbeelde van uitsprake van of oor Boeddha en Christus wat opvallend ooreenkom. Kyk asseblief na die stuk wat uitgedeel is: sommige daarvan is in woord en styl identies. Die boek van Marcus Borg, Jesus and Buddha, bevat nog veel meer sulke voorbeelde van ooreenkomste.

Tabel 1: Die ooreenkoms in lewensverhale van Boeddha en Christus begin reeds voor hulle geboorte: Volgens Lukas het ’n engel van God aangekondig dat Maria ’n kind, die seun van die Allerhoogste, sou hê. Volgens die Digha Nukaya is koningin Maya ook ingelig: “Rejoice, a mighty son has been born to you”. Beide vroue skenk geboorte tydens ’n reis en nie een van hulle in ’n bewoonbare gebou nie. Boodskappers is by beide geboortes teenwoordig en hulle tree eenders op: sing lofgesange, kondig aan dat iets groots gebeur het en voorspel ’n roemryke toekoms.

Tabel 2 toon aan dat sowel Boeddha as Christus op die individu gefokus en beklemtoon het dat die innerlike persoon belangriker is as die uiterlike beeld.

Die treffendste van die ooreenkomste tussen uitsprake van Boeddha en Christus is dié wat oor die liefde handel. Sommige daarvan word in tabel 3 gegee.

Volgens tabel 4 het beide tot die gevolgtrekking gekom dat rykdom nie die pad na die hemel of na verligting verteenwoordig nie; inteendeel, rykdom kan slegs pogings om “goed” te lewe belemmer.

Die uitsprake in tabel 5 dui daarop dat beide eenvoud in ’n wêreld van misleiding en verleiding beklemtoon het.

Uit tabel 6 kan ons aflei dat beide hulself beskou het as geestelike rigtingwysers na ’n toekoms vry van aardse beperkinge.

Volgens tabel 7 het die duiwel pogings aangewend om beide te verlei en vir beide is wêreldheerserskap aangebied. Beide het die versoeking weerstaan. Selfs die duiwels kom eenders voor.

Dat beide na ’n uiteindelike skeiding van gees en liggaam verwys, blyk uit tabel 8.

Die evangelies (veral Markus) is gevul met verhale oor wonderwerke. Dit wat oor Jesus vertel word, stem merkwaardig ooreen met dit wat van die Boeddha gesê word. Voorbeelde hiervan is in tabel 9 vervat.

Tabel 10 toon aan dat Boeddha en Christus se verhouding met en boodskappe aan hulle dissipels merkbaar ooreengestem het.

Die laaste tabel bevat gegewens waarvolgens beide Boeddha en Christus bestem was om te sterf en beide hul dissipels vir hierdie eg menslike gebeurtenis voorberei het. In Boeddha sowel as Christus is menslikheid met goddelikheid vermeng.

Die vraag ontstaan onwillekeurig: hoe verklaar ’n mens hierdie ooreenkomste?

Geleerdes skryf die ooreenkomste soms toe aan direkte kontak met mekaar of sogenaamde “kulturele oordrag”. Boeddha het 5 eeue vroeër as Jesus geleef. Dus moes rigting van oordrag vanaf Boeddha in die rigting van Jesus gewees het. Sommiges beweer selfs dat Jesus Indië besoek het. Michel Clasquin van Unisa het so onlangs as twee weke gelede ’n artikel gepubliseer waarin hy met oortuigende argumente aanvoer dat daar ’n eeu-oue dialoog tussen Christene en Boeddhiste gevoer is.

Marcus Borg bevraagteken egter sulke verklarings. Hy meen dis toe te skryf aan ’n ooreenkoms in godsdienstige/religieuse ervaring/belewenis van dié figure. Beide Boeddha en Jesus het vrymakende/verligtende ervarings gehad wat tot hul leer aanleiding gegee het: hulle het ’n bepaalde opvatting van hul eietydse leefwyse gehad en ’n alternatief daarvoor probeer bied.

Ek wonder dikwels: Het alle mense ’n soortgelyke behoefte aan religieuse belewenis, maar kleur die behoefte net verskillend in?

En dan is daar nog die vraag: Watter rol het mondelinge oorlewering en ’n gebrek aan boekdrukkuns gespeel?

Ek kan geen antwoord op hierdie vraag/vrae gee nie – slegs ’n persoonlike opmerking of twee maak … en daarmee wil ek afsluit:

Daar was ’n tyd in my lewe toe ek vas geglo het dat die ware godsdiens, die Christelike is. So het ek grootgeword; so het my ouers my geleer; daarby het ek gestaan en geval. Sowat 40 jaar gelede het hierdie opvatting begin wankel en mettertyd heeltemal inmekaargestort. Godsdiens het vir my toenemend na ’n menslike uitvinding, die vervulling van ’n algemene sielkundige behoefte begin lyk. Dit het ’n geweldige skeptisisme ten opsigte van alle geloofsake by my laat ontstaan, maar ook ’n nuuskierigheid oor die oorsprong en aard van ander godsdienste. Namate ek oor hulle gelees en met hulle kennis gemaak het, het my skeptisisme deels verdwyn – veral die ooreenkomste het by my die indruk gelaat dat daar iets gemeenskapliks in godsdiensbeoefening bestaan wat ernstig opgeneem moet word.  

Wat ookal die geval is, in ’n wêreld waarin daar voortdurende spanning bestaan tussen eenheid en verskeidenheid (enige beweging in die rigting van eenheid, vernietig die rykdom van verskeidenheid; enige oorbeklemtoning van verskeidenheid bring ’n toename in nasionalisme en fundamentalisme) besef ek telkens maar net hoe belangrik balans, openheid en respek vir ander se standpunte is.


Bronnelys:

Barker, G.A. 2005. Jesus in the world’s faiths. New York: Orbis.

Borg, M. 1997. Jesus and Buddha. The parallel sayings. Berkeley: Ulysses.

Buddhism. http://en.wikipedia.org/wiki/Buddhism

Buddhism (1). http://www.windmillministries.org/CH31.htm

Buddhism and Christianity. http://www.en.wikipedia.org/wiki/Buddhism_and_Christianity

Buddhism vs Christianity. http://www.diffen.com/difference/Buddhism_vs_Christianity

Buddhism vs Christianity, similarities, differences. http://www.age-of-the-sage.org/buddhism/buddhism_christianity.html

Clasquin-Johnson, M. 2010. The centuries-old dialogue between Buddhism and Christianity.

Comparison of Buddhism and Christianity. http://www.religioustolerance.org/buddhism4.htm

Geffré, C. & Dhavamony, M. 1979. Buddhism and Christianity. New York: Seabury Press.

Hawkins, B.K. 2004. The pocket Idiot’s guide to Buddhism. Indianapolis: Alpha.

Hope, J & Van Loon, B. 1994. Buddha for beginners. Cambridge: Icon.

Hopfe, L.M. 1991. Religions of the world. New York: Macmillan.

Hutchison, J.A. 1969. Paths of faith. New York: McGraw-Hill Inc.

Macquarrie, J. 1996. Mediators between human and divine. From Moses to Muhammad. New York: Continuum.

Sasson, V.R. 2007. The birth of Moses and the Buddha. A paradigm for the comparative study of religions. Sheffield: Sheffield Phoenix Press.

Stevens, J. 1990. Lust for enlightenment. Buddhism and sex. Boston: Shambhala.

Thera, N. Buddhism in a nutshell. http://www.buddhanet.net/nutshell03.htm

Zaehner, R.C. 1988. Hutchison Encyclopedia of living faiths. London: Century Hutchi.

Uitdeelstuk:

Tabel 1:

When his mother Mary had been engaged to Joseph, but before they lived together, she was found to be with child from the Holy Spirit. This took place to fulfil what had been spoken by the Lord through the prophet: “Look, the virgin shall conceive and bear a son” (Matthew 1:18, 22-23)

 

… wise men from the East came to Jerusalem, asking, “Where is the child who has been born king of the Jews? For we have observed his star at its rising, and have come to pay him homage” (Matthew 2:1-2)

 

Now there was a man in Jerusalem whose name was Simeon; … It had been revealed to him by the Holy Spirit that he would not see death before he had seen the Lord’s Messiah. Simeon took him in his arms and praised God (Luke 2:25-28)

 

Then Jesus cried again with a loud voice and breathed his last. At that moment the curtain of the temple was torn in two, from top to bottom. The earth shook, and the rocks were split (Matthew 27:50-51)

When the Bodhisattva had descended into his mother’s womb, no sensual thought arose in het concerning men, and she was inaccessible to any man having a lustful mind (Majjhima Nikaya 123:10)

 

 

For what reasons are these signs revealed? Never before have we seen such signs! We must trace them together, crossing a myriad of lands, seeking the glow and investigating it together (Sadharmapundarika Sutra 7)

 

The long-haired sage looked at the baby and with great joy picked him up. Now the Buddha was in the arms of a man who had waited for him … Just then the hermit remembered that he was going to die quite soon … (Sutta-Nipata 689-691)

 

 

At the Blessed Lord’s final passing there was a great earthquake, terrible and hair-raising, accompanied by thunder (Digha Nikaya 16:6:10)

 

 

Tabel 2:

Why do you see the speck in your neighbour’s eye, but do not notice the log in your own eye? Or how can you say to your neighbour, “Friend, let me take the speck out of your eye”, when you yourself do not see the log in your own eye? You hypocrite, first take the log out of your own eye, and then you will see clearly to take the speck out of your neighbour’s eye (Luke 6:41-42)

 

Your eye is the lamp of your body. If your eye is healthy, your whole body is full of light; but if it is not healthy, your body is full of darkness. Therefore consider whether the light in you is not darkness (Luke 11:34)

 

Therefore I tell you, do not worry about your life, what you will eat or what you will drink, or about your body, what you will wear. Is not life more than food, and the body more than clothing? Look at the birds of the air; they neither sow nor reap … (Matthew 6:25-26)

The faults of others are easier to see than one’s own; the faults of others are easily seen, for they are sifted like chaff, but one’s own faults are hard to see. This is like the cheat who hides his dice and shows the dice of his opponent, calling attention to the other’s shortcomings, continually thinking of accusing him (Udanavarga 27:1)

 

 

As a man with eyes who carries a lamp sees all objects, so too with one who has heard the Moral Law. He will become perfectly wise (Udanavarga 22:4)

 

 

Those who have no accumulation, who eat with perfect knowledge, whose sphere is emptiness, signless, and liberation, are hard to track, like birds in the sky (Dhammapada 7:3-4)

 

 

Tabel 3:

Do to others as you would have them do to you (Luke 6:31)

 

If anyone strikes you on the cheek, offer the other also (Luke 6:29)

 

 

You know the commandments” “You shall not murder; you shall not commit adultery; you shall not steal; you shall not bear false witness; you shall not defraud; honour your father and mother” (Mark 10:19)

Consider others as yourself (Dhammapada 10:1)

 

If anyone should give you a blow with his hand, with a stick, or with a knife, you should abandon any desires and utter no evil words (Majjhima Nikaya 21:6)

 

Abstain from killing and from taking what is not given. Abstain from unchastity and from speaking falsely. Do not accept gold and silver (Khuddakapatha 2)

 

 

Tabel 4:

Blessed are you who are poor, for yours is the kingdom of God (Luke 6:20)

 

Do not store up for yourselves treasures on earth, where moth and rust consume and where thieves break in and steal; but store up for yourselves treasures in heaven, where neither moth nor rust consumes and where thieves do not break in and steal (Matthew 6:19-20)

 

He told them a parable: “The land of a rich man produced abundantly … ‘You fool! This very night your life is being demanded of you … (Luke 12:13-21)

Let us live most happily, possessing nothing; let us feed on joy, like the radiant gods (Dhammapada 15:4)

 

Let the  wise man do righteousness: A treasure that other cannot share, which no thief can steal; a treasure which does not pass away (Khuddakapatha 8:9)

 

 

“These children and riches are mine”: thinking thus the fool is troubled … All hoardings will be dispersed, whatever rises will be cast down, all meetings must end in separation, life must finally end in death (Udanavarga 1:20-22)

 

Tabel 5:

Beware of false prophets, who come to you in sheep’s clothing but inwardly are ravenous wolves (Matthew 7:15)

 

Whoever blasphemes against the Holy Spirit can never have forgiveness, but is guilty of an eternal sin (Mark 3:29)

What good is hide clothing? While your inward state is a tangle, you polish your exterior (Dhammapada 26:12)

 

Do not let there be a schism in the order, for this is a serious matter. Whoever splits an order that is united will be boiled in hell for an aeon (Vinaya, Cullavagga 7:3:16)

 

Tabel 6:

Heaven and earth will pass away (Mark 13:31)

 

 

Many  false prophets will arise and lead many astray. And because of the increase of lawlessness the love of many will grow cold (Matthew 24:11-12)

 

In a little while the world will no longer be able to see me, but you will see me; because I live, you also will live (John 14:19)

This great earth will be burnt up, will utterly perish and be no more (Angutta Nikaya 7:62)

 

Monks who are untrained will give guidance to others, and they will not be able to lead them in the way of higher virtue (Anguttara Nikaya 5:79)

 

It may be that you will think: “The Teacher’s instruction has ceased, now we will have no teacher!” It should not be seen like this, for what I have taught and explained to you will, at my passing, be your teacher (Digha Nikaya 16:6:1)

 

Tabel 7:

As he sat at dinner in the house, many tax collectors and sinners came and were sitting with him and his disciples … “Those who are well have no need of a physician, but those who are sick, for I have come to call not the righteous but sinners” (Matthew 9:10-13)

 

One of the criminals who was crucified there kept deriding him and saying, “Are you not the Messiah? Save yourself and us!” But the other rebuked him, saying, “Do you not fear God, … Then he said, “Jesus, remember me when you come into your kingdom” (Luke 23:39-43

The bodhisattva made his appearance at the fields of sports and in the casinos … to train living beings, he would appear at crossroads and on street comers. To demonstrate the evils of desire, he even entered the brothels (Vimalakirtinirdesha Sutra 2)

 

The Buddha performed a feat of such supernatural power that the bandit addressed him thus: “I will indeed renounce evil forever”. Then the bandit worshipped at his feet and uttered this exclamation, “Who once did live in negligence and then is negligent no more, he illuminates the world like the moon freed from a cloud” (Majjhima Nikaya 86:5-6, 18)

 

Tabel 8:

Blessed are the pure in heart, for they will see God (Matthew 5:8)

 

 

The kingdom of God is as if someone would scatter seed on the ground, and would sleep and rise night and day, … The earth produces itself, first the stalk, then the head, then the full grain in the head (Mark 4:26-29)

 

 

Everyone who lives and believes in me will never die (John 11:26)

Anyone who withdraws into meditation on compassion can see Brahma with his own eyes, talk to him face to face and consult with him (Digha Nikaya 19:43)

 

The yeoman farmer gets his field well ploughed and harrowed. But that farmer has no magic power or authority to say: “Let my crops spring up today … No! It is just the due season which makes them do this (Anguttara Nikaya 3:91)

 

Those who have sufficient faith in me, sufficient love for me, are all headed for heaven or beyond (Majjhima Nikaya 22:47)

 

Tabel 9:

When he saw that they were straining at the oars against an adverse wind, he came towards them in the early morning, walking on the sea (Mark 6:48)

 

Although the doors were shut, Jesus came and stood among them (John 20:26)

 

Truly I tell you, if you have faith the size of a mustard seed, you will say to this mountain, “Move from here to there,” and it will move (Matthew 17:20)

 

See, I have give you authority to tread on snakes and scorpions, and over all the power of the enemy, and nothing will hurt you (Luke 10:19)

He walks upon the water without parting it, as if on solid ground (Anguttara Nikaya 3:60)

 

 

 

He goes unhindered through a wall (Anguttara Nikaya 3:60)

 

A monk who is skilled in concentration can cut the Himalayas in two (Anguttara Nikaya 6:24)

 

 

If this monk had expressed loving kindness to the four royal snake families, then he, although bitten by a snake, would not have passed away (Vinaya, Cullavagga 5:6)

 

Tabel 10:

He told them a parable: “Can a blind person guide a blind person? Will not both fall into a pit?” (Luke 6:39-40)

 

 

 

Go therefore and make disciples of all nations, baptizing them in the name of the Father and of the Son and of the Holy Spirit, and teaching then to obey everything that I have commanded you (Matthew 28:19-20)

 

Many of his disciples turned back and no longer went about with him (John 6:66)

 

 

His disciples said to him, “If such is the case of a man with his wife, it is better not to marry”. But he said to them, “Not everyone can accept this teaching, but only those to whom it is given” (Matthew 19:10-11)

This is the only straight path … Just as a file of blind men go on, clinging to each other, and the first one sees nothing, the middle one sees nothing, and the last one sees nothing – so it is with the talk of these Brahmins (Digha Nikaya 13:15)

 

Teach the dharma which is lovely … Explain with the spirit and the letter in the fashion of Brahma (Vinaya, Mahavagga 1:11:1)

 

 

Sixty more gave up the training and returned to the lower life, saying: “Hard is the task of the Exalted One!” (Anguttara Nikaya 7:68)

 

The wise man should avoid promiscuity as if it were a burning charcoal pit. If he is unable to lead a celibate life fully, let him not transgress with another’s wife (Sutta Nipata 396)

 

Tabel 11:

“ I am the light of the world. Whoever follows me will never walk in darkness but will have the light of life” (John 8:12)

 

 

 

 

I came from God and now I am here. I did not come on my own, but he sent me. You do not know him. But I know him. I do know him and I keep his word (John 8:42, 55)

 

Pilate asked him, “So you say you are a king?” Jesus answered, “You say that I am a king. For this I was born, and for this I came into the world, to testify to the truth” (John 18:37)

When a Bodhisattva descends from heaven, there appears in this world an immeasurable, splendid light surpassing the glory of the most powerful glow. And whatever dark spaces lie beyond the world’s end will be illuminated by this light (Digha Nikaya 14:1:17)

 

I know Brahma and the world of Brahma, and the way to the world of Brahma, and the path of practice whereby the world of Brahma may be gained (Digha Nikaya 13:38)

 

I am a supreme king. So let your doubts about me cease. I am the holy one beyond compare. I rejoice free from fear (Majjhima Nikaya 92:17, 19)

 

Bron: Borg, M. 1997. Jesus and Buddha. The parallel sayings. Berkeley: Ulysses.

 

 

Beelde van God/die goddelike

Hansie Wolmerhans

1. VOORLESING:

  • Die eerste gedeelte kom uit die Bybel, 2,3). Eksodus 3:1-12. Die tweede is 'n weergawe van 'n pragtige gelykenis uit die Mahayana Buddisme, "Die Net van Indra."

 

    • Eksodus 3:1-12

      1. Moses het die kleinvee van sy skoonpa Jetro, 'n priester van Midean, opgepas. Hy het die kleinvee diep die woestyn in gejaag totdat hy by Horeb, die berg van God, gekom het. 2. Toe verskyn die Engel van die Here aan hom in 'n vlam binne-in 'n doringbos. Terwyl hy kyk, sien hy dat die doringbos aanhou brand, maar nie uitbrand nie. 3 En Moses sê vir homself: "Ek wil tog 'n bietjie nadergaan om hierdie wonderlike verskynsel te bekyk. Waarom brand die doringbos dan nie uit nie?" 4. Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos: "Moses! Moses!" En hy antwoord: "Hier is ek." 5. Die Here sê toe vir hom: "moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond." 6. Verder sê Hy : "Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob." Toe maak Moses sy gesig toe, want hy was bang om na God te kyk. 7. Daarna sê die Here: "Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem. 8. Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van die Egiptenare te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na 'n goeie en uitgestrekte land …9. Die noodkrete van die Israeliete het My bereik, en Ek het ook aanskou hoe Egipte hulle verdruk. 10 Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry." 11 Toe sê Moses vir God: "Wie is ék dat ek dit by die farao sou waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry?" 12 God het Moses geantwoord: "Ek sal by jou wees en die bewys dat Ek jou gestuur het, sal dit wees: wanneer jy die volk uit Egipte bevry het, sal julle My by hierdie berg aanbid."

    • In die Mahayana Boeddisme is Indra 'n god van alles wat die lewe voed en oppas. Die Avatamsaka Sutra vertel dié gelykenis:

      Ver weg in die hemelse tuiste van die groot god, Indra, is daar 'n wonderlike net. Dit is deur die kundige vakman só gespan, dat dit oneindig in alle rigtings uitstrek. Volgens die oordadige voorkeure van die gode, het die vakman 'n enkele blink juweel by elke knooppunt van die net gehang. Omdat die net oneindig van omvang is, is daar ook 'n oneindige hoeveelheid juwele. Daar hang die juwele, blink soos sterre van die eerste orde, 'n wonderlike gesig om te sien. As ons nou lukraak een van hierdie juwele kies om te ondersoek, en dit van naby bekyk, sal ons ontdek dat al die juwele van hierdie net in die gepoleerde oppervlakte weerkaats word, oneindig in getal. Nie net dit nie, maar elkeen van die juwele wat in hierdie een weerkaats word, weerkaats ook al die ander juwele, sodat die proses van weerkaatsing oneindig is.

 

2. BOODSKAP: "Ek het …. gesien, … gehoor, … ter harte geneem. Daarom stuur ek jou …"

Daar is plekke in hierdie wêreld wat nie hier of daar is nie, nie bo of onder nie, nie werklik of denkbeeldig nie. Dit is tussen-in plekke wat jy moeilik vind, en moeilik by kan bly, soos in die woestyn by 'n doringbos wat brand en nie uitbrand nie. Dit is hier waar dinge gebeur, vreemde dinge, buitengewone dinge, kreatiewe dinge. Jy leer goeters wat jy op geen ander plek kan uitvind nie—soos hoe God is, en wat jy is, en wat jy met jou lewe moet doen.

Miskien was jy ook al by só 'n fase in jou lewe, dat jy jou boeke moet afsluit, of op 'n nuwe paadjie moet loop waar daar nog nie eers 'n pad is nie. Skielik val verlede, en hede en toekoms vir jou in perspektief. Jy staan voor jou Rubicon, jou Waterloo. En hier, in Eksodus 3:1-10 is Moses s'n vir ons opgeteken. Groot vrae kom hier aan die orde: Wat is jy besig om met jou lewe te maak? Wat soek jy agter die skape, Moses? Wat doen jy by hierdie byeenkoms vanoggend? Het die Nuwe Hervorming Netwerk 'n funksie in Suid-Afrika? En in 'n geglobaliseerde wêreld?

Dis hoekom Moses se storie ons só aangryp, omdat ons soms só ontuis, so vreemd voel, in hierdie wêreld, in hierdie nuwe Suid-Afrika.

Die eerste ding wat in hierdie buitengewoon kritiese oomblik gebeur, is dat God se stem eg hoorbaar word. Soos 'n wind waai God se Gees in 'n droë woestyn en vind stembande in die droë blare en takke van 'n goed-vir-niks doringbos. God is naby, in ons, om ons. En hier ervaar Moses God nie soseer as 'n persoon nie, maar as 'n aspek van die werklikheid wat hom aanspreek. Ons noem dit "Panenteïsme," die krag van die lewe wat voorstu, ten spyte van die vlamme wat lek.

En hoe bekend is God nie! "Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob." Hier kon netsowel gestaan het, "Ek is die God van Sara, van Rebekka, van Petro wie se man haar slaan, en klein Mishak van Soweto wat 'n koeëlmerk het toe hulle by sy huis in Sowete ingebreek het en hom sommer deur die maag geskiet het. Hierdie God is die bekende God wat vir rondlopers 'n blyplek gegee het, en moedeloses 'n nuwe toekoms.

En wanneer Moses God ervaar, ervaar hy God as 'n kreatiewe krag wat die lewe nuut maak. Luister (verse 3-9): "Ek het die ellende van my volk … gesien en hulle noodkrete … gehoor. Ek het aanskou … hoe Egipte hulle verdruk." En vandag sou ons dalk hierdie ervaring kon vertaal, en hoor, "ek weet van die mense wat in vuilgoedsakke rondkrap voordat die vragmotors dit kom wegneem; ek hoor die gille van 'n vrou per minuut wat in Suid-Afrika verkrag word; ek sien die trane by die begrafnisse van die een mens elke halfuur wat vermoor word." God wil dinge verander.

Dit is presies wat die Godsbewussyn vir my is: dat ons op die een of ander manier in ons woedende stryd om te oorleef, iets soos empatie, iets soos medelye, vir die verloorder, die onderdrukte, die swakke ontwikkel—op een of ander manier die lewe bevorder.

En ja, Moses se ervaring is baie primitief. Sy visie van die beloofde land is 'n visie ten koste van ... Om daar te kan bly, moet hulle uitmoor en verdryf volke wat van die toneel van die geskiedenis af verdwyn het: die Kanaäniete, die Hetiete, die Amoriete, die Feresiete, die Hewitiete en die Jebusiete. Van 'n vlam wat brand, het God in 'n persoon verander wat baie soos 'n Joodse patriarg of koning lyk. Teïsme het begin met al die nadele wat dit inhou: 'n God wat as 'n meestersimbool funksioneer vir "ons", vir 'n samelewing wat vroue en kinders tweederangs hanteer, vir Apartheid wat swarte mense die nageslag van Gam gemaak het, om houthakers en waterputters te wees; en vir haatspraak teen gays.

Dit is wat ons van die tradisionele Christendom moeg maak: die engheid, die eksklusiwisme, die seksisme, die onverdraagsaamheid, die haat, die volgehoue stryd om mense te beheer.

In een van haar gedigte praat Jeanne Goossen oor hoe die kerk mense uitsluit. Dis 'n ongepubliseerde gedig oor haar pa, wat sy "Bibberende Piet" noem. In die laat tagtigerjare het hy selfmoord gepleeg. Hy het 'n tuinslang aan sy motor se uitlaatpyn vasgemaak en homself vergas. Toe hy reeds dood was, het diewe by die motor ingebreek en die lyk geplunder. Haar pa is "bibberend" omdat sy klere gesteel is en hy byna nakend sy God moet ontmoet.

Maar daar is ook 'n ander rede hoekom sy haar pa bibberend noem. Hy was godsdienstig 'n buitestaander. Die kerk het hom 'n koue skouer gegee. Hy het hom nooit juis tuis in die kerk gevoel nie. Toe die familie iemand soek om hom te begrawe, wou geen predikant dit doen nie. In haar gedig vra sy die Here wat Hy gaan doen as haar pa voor Hom kom staan. Sy wil as't ware die Here help om hom te erken:

"Hy stap effens mank en lyk nog goed vir sy jare
Die begrafniskunstenaar het hom mooi gemaak vir u poorte
Sy mond en wange bloei soos jong rose
En hy dra 'n wit jurk
Here, en miskien ruik hy nog effens na gas
Maar U sal hom ken aan sy blou oë
Dié het hulle blou vrae behou."

Dan vra sy die Here:

"Is dit u opdrag dat u herders hom nie moet begrawe nie
omdat hy hom nooit tuis gevoel het nie?"

Die gedig eindig met 'n gebed:

"Here,
U wat die oordeel uitspreek en verdoem
U wat trooswoorde gee en hulle ook weer wegneem
Beloof my
As Bibberende Piet by U aandoen
Maak u genade aan hom duidelik …"

 

Daarom is die gelykenis van Indra se Net relevant, want dit reflekteer die allesomvattende struktuur van die werklikheid, van die lewe self. My sin van "ek" verruim sodat ek nie langer vreemd en uitgesluit voel nie; ek is hier en deel van alles. Vir baie mense is dit juis 'n egte Godservaring: die besef dat ek deel is van groter gehele.

Die Christendom het al baie verandering beleef. Toe my vrou en ek verloof is, het al die vroue nog hoede kerk toe gedra—presies soos Paulus in 1Kor 11 voorskryf. En ons het daaroor gesels en besluit dit geld darem nie meer vandag nie. Toe het my vrou sonder hoed begin kerk toe gaan. Daar was groot moeilikheid. My oorlede pa het gesê die grootste sondes in die kerk word deur die predikante se vroue begin! En kyk net, vandag dra vroue nie meer om godsdienstige redes hoede nie; dis maar meer vir die mode.

Iewers het ek op korrespondensie van my oorlede oupa afgekom. In die veertigerjare as ek reg onthou, is manelpakke vir ouderlinge en diakens afgeskaf. Vir die van julle wat nie weet nie, dit was sulke baadjies waarvan die agterpante tot in die waai van die bene gehang het. So tussen ons, die mense van dié tyd het dit "gatjaponne" genoem, en dis waar die naam "gatjieponders" vandaan kom. My oupa het in sy brief aangehaal uit die kleredragvoorskrifte van Levitikus en Numeri en Deuternomium. Hy het gesê dis 'n groot sonde om hieraan te verander, want, het hy gesê, daar word van "ewige insettinge" gepraat. As jy nou met God se eueoue voorskrifte begin te peuter, dan peuter jy met jou saligheid.

En tog het my oupa ook met 'n stukkie liberale teologie vorendag gekom. Hy het vertel, voor een van die groot veldslae in die boereoorlog, hoedat 'n boerekryger moes lees en bid die aand voor die geveg. Hy het gebid: "Here, dis seker vir u moeilik om te besluit aan wie se kant u môre moet wees. Die Engelse is ook Christene. Ek wil voorstel: bly liewers uit die geveg uit, en laat ons dit maar sake self uitbaklei."

Oorspronklik is die doop geïnterpreteer as 'n afweermiddel vir bose geeste, of 'n toegangskaartjie hemel toe. Self het ek al 'n sogenaamde nooddoop uitgevoer, op 'n babatjie wat pas gebore is, en net 'n paar ure sou leef—nie omdat ek self daaraan geglo het nie, maar omdat dit baie vir die ouers beteken het.

Die tipiese werklikheidsontvlugting van die Christendom—dink maar aan die formuliere wat steeds sê, dat hierdie lewe niks anders is as 'n gestadigde dood nie—het ook al hoe meer begin plek maak vir 'n meer hier-en-nou visie.

En as ek 'n patroon hierin kan raaksien, lyk dit my, is dit 'n beweging weg van vormgodsdiens af, want vormgodsdiens skep identiteit wat jou afgrens van ander af. Vorm staan ondergeskik aan die inhoud. En die inhoud van godsdiens, dit waaroor dit eintlik gaan, word: geregtigheid, gelykheid, liefde, medemenslikheid—groterwordende eenhede. In die lig hiervan sê Gerd Lüdemann:

"'n Fragment van godsdiens wat ervaar is en herken is, is meer werd as 'n ortodoksie wat ten volle geken word. 'n Klein ligstraatjie van die lig van Jesus in my lewe is meer werd as enige ortodoksie."

God sê nie vir Moses: ek sal julle help as jy die regte geloof oor my huldig nie. God sê bloot vir Moses en vir ons, "Daarom stuur ek jou na die Farao toe sodat jy my volk kan bevry." "Ek wil, Ek wil, Ek wil … daarom stuur ek jou." Al die wonderlike goeters wat God wil beplan, moet Moses gaan uitvoer.

Hoor jy dit? Ons kry hier byna 'n teologie van God se onmag! God stuur 'n hakkelende en lafhartige Moses om die job te gaan doen.God gebruik nie net die blare en takke van 'n nuttelose doringbos as sy stembande nie. God besiel ook vir Moses daarvoor.

Om die waarheid te sê, dit is wat ek ook in Jesus raaksien: dat God in ons wêreld inkom, in ons inkom, om sy ideale te verwesenlik. Eensklaps vind God se wonderlike voornemens gestalte in die gevaarlike werk wat mense moet doen.

Die Nuwe Hervorming is vir my dit: dat ons God herontdek, opnuut ervaar, om in die klein en die groot krississe van ons bestaan vir ons sin te help ontdek. Vir elke mens kan dit iets anders wees. Dit kan wees as jy raadop is met 'n kind en nie weet of jy te streng of te vry opvoed nie. Of as jy radeloos is met haar toekomsmoontlikhede in die nuwe Suid-Afrika. Of dit wat met jou as kind gebeur het laat jy voel jy moet swem met gewigte om jou nek.

Jy probeer sin maak van die brokstukke van jou voosgeslaande lewe; jy huil elke dag traanloos oor hoe dinge anders kon gewees het; jy is spyt oor mooi dinge wat stukkend agter jou lê … dis tyd vir 'n Braambos ervaring om God te beleef, in 'n gedaante, in 'n vorm, in 'n metafoor, op 'n manier wat net jy van weet en sal raaksien.

Dit vat moed om tussen-in plekke te trotseer, en 'n mate van dwaasheid om jou veilige ruimtes te verlaat en die woestyn aan te durf. Dit kan vandag of môre of hierdie week met jou gebeur: as jy na 'n pasgebore baba kyk, of langs kabbelende water sit, of opkyk en iemand te sien wat vir jou glimlag, of na die geweld van Beethoven se Negende Simfonie luister, of na 'n donderstorm. Jy raak bewus van wat verkeerd is: 'n gevaarlike oorgang naby jou kind se skool, dronkbestuurders op ons paaie. En dan hoor ons God se stem, "Ek het gehoor …, ek het gesien, … ek het ter harte geneem… Daarom stuur ek jou."

En só begin ons reageer, nie op 'n leerstellige God nie, maar op dié God wat só naby ons is. Op een of ander eenvoudige manier begin ons om 'n verskil te maak, omdat ons in liefde uitreik na ons omgewing. Want net liefde is groot genoeg om die al die pyn van hierdie wêreld te omvat.

Bush, Bin Laden, en Beskawing: kontoere van die nuwe wêreld(wan)orde

Anthoni van Nieuwkerk
ataa @ telkomsa.net (sonder spasies)

9 April 2006


Inleiding

In ‘n onlangse artikel skryf Piet Muller -

Godsdiens het die wêreld se groot nuwe plofpunt geword. Dít is opnuut bewys deur die wêreldwye Moslem-reaksie op die publikasie van spotprente waarin die profeet Mohammed uitgebeeld word.

Hy merk ook op

Dit wil inderdaad lyk of die kloof tussen Christene en Moslems, of meer korrek tussen die meestal gesekulariseerde Westerse mens en die Moslem-mens, al hoe groter word. Wat die spanning tussen verskillende godsdienste nóg groter maak, is die opkoms van "fundamentalisme", 'n vorm van onverdraagsaamheid waaronder al die groot wêreldgodsdienste die een of ander manier deurloop.

Tot watter mate kan mens argumenteer dat godsdienstige fundamentalisme konflik wêreldwyd aanjaag?  En kan ‘n mens ‘n scenario voorstel waarvolgens internasionale oorlog uitbreek met godsdiens as die sneller?

Op die oog af blyk dit dat heelwat van die wêreld se huidige – en ontluikende –  konflikte godsdiens-gedrewe is.  In September 2001 vlieg drie Boeings in Amerika se Trade Centre en Pentagon in – ‘n radikale boodskap van Al Queda aan die Weste (later meer hieroor). Dink ook aan die Palestyne se stryd om onafhanklikheid (of anders gesien, Israel se oorlewingstryd), of die dood van vermeende massa-moordenaar Slobodan Milosevic wat tragies genoeg die Moslem-slagoffers van Screbernica hulle sin van reg en geregtigheid ontneem het. Ook in Afrika word godsdiens aangewend ter slagting van andersdenkendes.  Nigerië se proses van demokratisering word onder meer gekortwiek deur godsdienstige onverdraagsaamheid.  In die geval van die massamoord in Rwanda in 1994, skryf die OAE se kommissie van ondersoek “It is not possible to write about Rwanda without writing about the role of the Catholic Church, which, since the arrival of the Belgians, has functioned virtually as the country’s state church”.

Maar is dit die volledige perspektief? Globaal beskou, waar lê die bedreigings?  Waar is die konflik-potensiaal? Verlede jaar berig Kofi Annan in ‘n VN-verslag dat die bedreigings vir vrede en sekuriteit in die 21ste eeu nie net internasionale oorlog insluit nie, maar ook georganiseerde misdaad, terrorisme en wapens van massa-vernietiging.  So ook armoede, dodelike siektes en die aftakeling van die omgewing, want dit kan ook katastrofiese gevolge inhou.  In vandag se geglobaliseerde wêreld hou bedreigings onderling met mekaar verband. ‘n Kernwapen-aanval op die VSA of Europa sal vernietigende gevolge vir die hele wêreld inhou.  En  net so, die verskyning van ‘n nuwe pandemiese siekte in ‘n arm land sonder ‘n effektiewe openbare gesondheidstelsel.  Die sekretaris-generaal van die VN is skynbaar van mening dat wêreldvrede nie deur religie bedreig word nie.

Dit blyk dus gou dat daar nie konsensus bestaan nie betreffende die oorsake van konflik (en die rol van godsdiens). Watter paradigma of raamwerk vir interpretasie kan mens dan gebruik om sin te maak van wat ons dink aan die gang is op globale vlak?  Daar is natuurlik ‘n verskeidenheid kompeterende modelle.  Ek wil oor die volgende 30 minute ‘n paar sulke modelle ondersoek.  Tot watter mate enigeen van hulle ‘n mens help om sin te maak van die wêreld waarin ons vandag leef, is ‘n vraag wat ek aan die vergadering oorlaat.

Eerstens: ‘n ‘vinnige’ perspektief op die wêreld waarin ons leef, bekend as die storie van die dorpie van een honderd (ontleen van Ali Bouchniba, Ecole Polytechnique, Paris).  As ons vandag die wereld se bevolking kan krimp tot ‘n dorpie van presies 100 inwoners, met al die bestaande menslike verhoudings onveranderd, dan lyk die profiel van die dorpie as volg:

  • Daar woon 57 Asiërs, 21 Europëers, 14 van die weste en 8 van Afrika;
  • Sewentig is nie wit nie;
  • Sewentig is nie Christene nie;
  • 50 % van die wêreld se rykdom is in die hande van slegs ses mense gekonsentreer, en al ses is van die VSA afkomstig;
  • Sewentig is nie in staat om te lees nie, 50 is honger, en 80 woon in pondokke;
  • Slegs een beskik oor ‘n tersiêre opleiding.

Wie in hierdie dorpie baklei en slaap met wie, en waarom?  Hoe moet mens die gedragspatrone van die mense van hierdie dorpie verstaan?  Of meer metafisies, die struktuur van die dorpie self?

Religieuse fundamentalisme

Sommige religieuse fundamentaliste glo dat God die wêreld so geskape het, dat dit onveranderbaar is en konflik onvermydelik is, dat die mens se doel op aarde maar tydelik (en onplesierig) is en dat jy in elk geval moet fokus op die hiernamaals.  Die storie in Genesis 3, waar God Adam en Eva straf vir hulle onwyse keuse, is ‘n goeie vertrekpunt vir so ‘n lewens- en wêreldbeskouing (verskoon die gereformeerde konsep): 

Vir die vrou het die Here God gesê: ‘Ek sal jou baie swaar laat kry met jou swangerskappe...na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers.’ Vir die mens het die Here God gesê: ‘Omdat jy na jou vrou geluister het...is die aarde deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit ‘n bestaan maak, jou lewe lank...’

‘n Studie van die Christelike (Protestantse) belydenisskrifte dui op ‘n obsessie met die handhawing van absolute waardes, en met ‘n apokaliptiese wêreldbeeld – die goeie wat eventueel die slegte (met geweld) sal oorwin. 

Religieuse fundamentaliste (nie net Christene nie) het ‘issues’ met gays, aborsie, geboortebeperking, evolusie, opvoeding, pornografie, die rol van die vrou, en so meer.  Die straf vir die sonde word ook lekker opgespice met aanhalings uit Openbaringe.  Sommige oordadige Amerikaners interpreteer die profetiese eindtye so letterlik dat hulle ‘n wegrapings-indeks ontwikkel het:  “a Dow Jones Industrial Average of end time activity”.

Amper net so interessant is Allah se idees en planne, wat in die Koran as volg beskryf word –  (losweg vertaal)

die lewe op aarde is maar ‘n sport en ‘n stokperdjie, skyn en leë grootpraat, ‘n soektog na rykdom en meer kinders. Op die dag van die oordeel sal daar bekommerde gesigte wees, gebroke mans en uitgeput, verbrand deur ‘n vuur, hulle enigste voedsel bitter dorings.  Op dieselfde dag sal daar ook skitterende gesigte wees van manne wat tevrede is met hulle arbeid. In ‘n lower tuin sal hulle uitstrek, op kussings van sy, omring deur spuitfonteine en maagde met hoë boesems: hulle bekers sal waarlik oorloop.

Die komende botsing van beskawings (Clash of civilisations)

Hierdie siening in sy moderne weergawe word goed deur Samuel Huntington vertolk, ‘n Amerikaanse politieke wetenskaplike wat in 1996 ‘n opspraakwekkende boek gepubliseer het met die titel The clash of civilisations and the remaking of world order.  Volgens Huntington gaan die wêreld tans ‘n nuwe fase binne waar die basiese oorsaak van konflik nie ideologies of ekonomies gaan wees nie.  Die groot spanningslyn tussen mense gaan kultureel wees.  Globale konflik gaan tussen nasies en groepe van uiteenlopende beskawings plaasvind.  Botsende beskawings gaan die komende wêreldorde domineer.

Met beskawing bedoel Huntington die hoogste kulturele groepering of identiteit waaraan mense kan behoort.  Hy identifiseer 7 of 8 beskawings, insluitende die Westerse, Confusiaanse, Japanese, Islamitiese, Hindu, Slawies-Ortodokse en Latyns-Amerikaanse.  Hy reken daar is dalk ook ‘n Afrika beskawing.

Huntington voer verskeie redes aan vir die ‘komende botsings’:

  • Die verskille tussen beskawings is fundamenteel: geskiedenis, taal, kultuur, tradisie en religie.  Verskillende beskawings het ‘n eie blik op die verhoudings tussen God en mens, burger en staat, vryheid en gesag, gelykheid en rangorde.  Hierdie verskille is die produk van eeue en gaan nie verdwyn nie;
  • Die wêreld word kleiner.  Die interaksie tussen mense van verskillende beskawings neem toe en aksentueer die verskille;
  • Sosio-ekonomiese veranderinge vervreem mense van gevestigde identiteit.  Hierdie gaping word deur fundamentalistiese religieuse bewegings gevul, en is te vinde in die Westerse Christendom, Judaïsme, Buddisme, Hinduïsme en Islam;
  • Mense van ander beskawings reageer op die dominante Westerse waardes (demokrasie, liberalisme en militêre oormag) deur alternatiewe waardes te ondersoek en aan te hang.  Soos hy opmerk:  “The most prominent example of anti-Western cooperation is the connection between Confusian and Islamic states that are challenging Western values and power”. 

Daar is min skrywers in staatsleer-kringe wat Huntington se sienings staaf.  Politieke ontleders praat van konflik binne beskawings eerder as konflik tussen beskawings (die Midde Ooste is die beste voorbeeld).

Hierbenewens is daar ‘n ryk literatuur oor die rol van kultuur en beskawings.  Een van die lekker-lees bydraes is Felipe Fernandez-Armesto se Civilizations (2000) waarin hy skepties staan teenoor die ‘wetenskaplike studie’ van beskawings:

I disbelieve in patterns and am sceptical about development.  Societies change all the time but in different ways.  They do not develop, evolve or progress, though in some respects they may get better or worse, according to different criteria, at different times.  They conform to no model, work towards no telos.  History does not repeat itself and societies do not replicate each other (2000: 4).

Felipe sien ‘beskawing’ as ‘n gemeenskap se verhouding met die natuur.  Die omgewing word deur ‘n ‘beskawende impuls’ herskep om aan die mens se behoeftes te voldoen.  Een van sy gevolgtrekkings is dat beskawings neig om hulle omgewing te eksploiteer, soms tot op die rand van self-verdelging.  Die Huntington-tipe argument dat beskawings met mekaar in oorlog tree, is volgens hom ‘n self-vervullende profesie.

Dit beteken dus dat die inwoners van ons dorpie van eenhonderd deur uiteenlopende kulturele identiteite (of verhoudings met die natuurlike omgewing) gekenmerk word, en dat daar is min tekens van inter-kulturele of inter-beskawingskonflikte bestaan. 

Maar dit beteken nie dat Huntington se idees nie invloedryk is nie. Die sprong van Huntington na Bush – die siening dat terroriste vanuit die radikale Islam die vyand van demokrasie is (of soos die Amerikaners dit noem, ‘freedom’) – is duidelik nie groot nie.  Net so is die konklusie van ‘n Irakese of Afgaanse (of Chileense of Vietnamese) burger, dat Amerika dood en verwoesting saai ter bevordering van eiebelang, nie moeilik te begryp nie.  In beide gevalle het ons te doen met fundamentaliste wat die wêreld wil beheer.  En in hierdie sin is Huntington heelwaarskynlik reg.

Wat weet ons van hierdie fundamentaliste? 

Daar is konsensus dat president George Bush ‘n produk is van drie breë invloede vanuit die Amerikaanse politieke lewe: besigheidsbelange (olie, wapens), die neo-konserwatiewe beweging (die neocons)1, en die fundamentalistiese Christen-beweging (die religious right).  In die geval van Bush en sy administrasie oorvleuel die belange van hierdie groepe tot so ‘n mate dat hy in staat is om dit in beleid te verwoord.  So redeneer Bush op 16 Maart vanjaar:

My fellow Americans, America is at war.  The grave challenge we face is the rise of terrorism fueled by an aggressive ideology of hatred and murder, fully revealed to the American people on September 11, 2001.  Our most solemn obligation is to protect the security of the American people.  Fighting and winning the war on terror and promoting freedom as an alternative to tyranny and despair have now guided American policy for more than 4 years (2006: 1).

‘n Groot probleem met hierdie benadering (daar is ‘n lang lys probleme!)  is dat Bush se administrasie die nuwe vyand (eers die axis of evil, nou tyrannies) as almal se vyand reken.  In die konteks van Afrika, byvoorbeeld, is terrorisme nie ‘n hoë prioriteit nie.  Regerings is eerder bekommerd oor armoede, uitbuiting, epidemies en korrupte regeerders.  Desnieteenstaande dring die Amerikaners aan op samewerkingooreenkomste met Afrika-regerings in die war on terror.  Wie in Afrika kan die Amerikaners weier?

Die redes wat Al Qaeda (ook bekend as Die Internasionale Front vir Jihad teen die Jode en Kruisvaarders) aanvoer vir sy fatwa teen Amerika het presies te doen met die aktiwiteite van Amerika in die midde Ooste.  Ons moet onthou dat Amerika diegene wat as die vyand geklassifiseer word, aanvanklik met raad en daad ondersteun het, insluitende Saddam Hussein, die Taliban, en Osama bin Laden.  Anders gestel, Al Qaeda bestaan in reaksie op Amerikaanse beleid en gedrag in die Midde Ooste en elders in die wêreld (griewe sluit in: Amerikaanse steun vir Israel, die teenwoordigheid van troepe in Saudi Arabië, die Amerikaanse inval in Irak).  Op die langer termyn is Al Queda se doelwit om die Caliphate2 in die Islamitiese wêreld te hervestig, deur saam te werk met ekstreme Islamitiese groeperinge in ‘n poging om sekulêre of pro-Westerse regerings omver te werp. 

Daar is ander, meer sekulêre, interpretasie-modelle.

Globalisering

In kort verwys globalisering na die snelle verdieping en verbreding van interaksie tussen individue, organisasies en state oor nasionale grense heen.  Hierdie interaksie word moontlik gemaak deur die merkwaardige informasie en kommunikasie revolusie.  Die huidige fase van globalisering hou verband met die internasionalisering van ‘n stel norme en waardes wat baie aspekte van die lewe reël wat tevore plaaslik vasgestel is.  Die impak van hierdie ‘nuwe ekonomie’ (Castells) sluit in:

  • globale integrasie van produksie hoofsaaklik dmv die aktiwiteite van multinasionale korporasies;
  • die fokus op vernuwing, kennis-skepping en informasie-prosessering in die konteks van globale finansiële netwerke;
  • die opkoms van ‘n globale Amerikaanse kultuur;
  • die bevestiging van liberale ekonomiese en politieke beginsels.

Die negatiewe kenmerke van globalisering het te doen met die groeiende welvaartsgaping tussen post-industriële lande in Noord Amerika en Europa, en die onstabiele, onderontwikkelde lande van Suid Amerika, Afrika en dele van Asië.  Vergelyk byvoorbeeld die lewensmoontlikhede van ‘n kind wat in Kanada gebore word versus een in Sierra Leone.  Die gemiddelde Kanadees het ‘n goeie kans om ouer as 80 te word, ‘n uitstekende opvoeding te ontvang, het toegang tot elke moderne fasiliteit denkbaar en sal ‘n jaarlikse inkomste van meer as $20 000 genereer.  Die gemiddelde Sierra Leonees het ‘n 50 % kans om veertig of ouer te word, sal gelukkig wees om die binnekant van ‘n klaskamer te sien, en het min of geen toegang tot water, gesondheidsorg of sanitasie.  Ses uit elke tien Sierra Leonese leef op een dollar per dag.  Hierbenewens berig die Wêreldbank dat die gaping tussen arm en ryk steeds groei.  Afrikane in die besonder word armer by die dekade. 

Daar skyn een uitsondering te wees: China.  Die voorspelling is dat China teen 2010 die wêreld se grootste uitvoerder sal word, en teen 2020 die tweede grootste ekonomie.  Om die snel-ontwikkelende ekonomie aan die gang te hou is China naarstiglik besig om die wêreld deur te trek op soek na grondstowwe en brandstof.  Heelwat ontleders meen China is op pad om die wêreld se volgende supermoondheid of hegemoon te word, in navolging van Amerika, wie se glans besig is om te verdof.

Die teoretiese denker Fritjof Capra (Tao of Physics, 1975; Web of Life, 1996) skryf as volg oor die impak van hierdie ongereguleerde ‘nuwe ekonomie’:

Global capitalism in its present form is unsustainable and needs to be fundamentally redesigned...In addition to its economic instability, the current form of capitalism is ecologically and socially unsustainable, and hence not viable in the long run.  Resentment against economic globalisation is growing rapidly in all parts of the world.  The ultimate fate of global capitalism may well be ... the social, cultural, and political rejection by large numbers of people around the world of an Automaton whose logic either ignores or devalues their humanity (Capra, 2003).

Die moderne wêreld-sisteem

Ek vind die teorie van die moderne wêreld-sisteem toeganklik en handig as ‘n manier om te verstaan wat aan die gang is.  So ‘n benadering hou ook verband met die idee van proses, en proses hou verband met onderlinge verhoudinge, en dit bring ons by sosiale netwerke uit.

Wat bekend staan as die moderne wêreld-sisteem is ‘n interaktiewe struktuur gebaseer op twee komplementêre pilare: die kapitalistiese wêreld-ekonomie en die interstaat-bestel.  Eersgenoemde is die ekonomiese sy van die sisteem.  Die struktuur bevat drie sones:

  • Die kern, waar ons lande vind wat die wêreld-ekonomie domineer en wat konsentreer op die vervaardiging van die mees gevorderde produkte deur gebruik te maak van gevorderde tegnologie en loon-arbeid;
  • Die periferie of randstreek is die mees onderontwikkelde sone.  Lande en streke in hierdie sone gebruik verouderde tegnologie en fokus op kwynende sektore van ekonomiese produksie.  Hierdie sone fokus tipies op die uitvoer van rou materiale en landbouprodukte;
  • Die semi-periferie is ‘n tussentydse sone wat uit lande bestaan wat kenmerke van beide die kern en randstreek vertoon.  Hierdie sone se ekonomiese ontwikkeling is ook op ‘n oorgangsvlak

Die drie sones word ook deur verskillende vlakke van politieke, militêre, kulturele en intellektuele ontwikkeling gekenmerk.  In die kern vind ons die sterkste state, militêre magte, en wetenskaplike groei.

Die drie sones word ook gekenmerk deur spesifieke verhoudings: 

  • Die kern gebruik sy kontrole oor die faktore van produksie en sy sterker politieke en militêre mag om beide die randstreek en die tussenstreek te domineer en uit te buit.  Die tussenstreek op sy beurt is in staat om tot ‘n mindere mate dieselfde verhouding met die randstreek te handhaaf.  Sodoende word ‘n komplekse rangorde geskep wat ons die kern-periferie rangorde noem.  So ‘n rangorde het dwarsdeur die 500 jaar geskiedenis van kapitalisme bestaan en blyk ‘n permanente kenmerk daarvan te wees.  Trouens die literatuur praat van siklusse van dominasie, waarvolgens lande oor tyd ‘n posisie van hegemonie bekom en dan weer verloor.  Histories beskou is daar drie voorbeelde van sulke dominante lande: Holland in die 17de eeu, Brittanje in die 19de eeu, en Amerika in die 20ste eeu. 
  • Ons merk ook dat die kern intense ekonomiese kompetisie ervaar, soos byvoorbeeld handelswedywering of teenstrydige politieke en militêre verhoudings. 
  • Laastens merk ons dat lande geleentheid het om tussen sones te migreer.  Daar is egter min voorbeelde van lande wat opwaarts migreer (Suid Korea...).  Daar is ook ‘n lewendige debat oor Suid Afrika se moontlikhede om opwaarts te migreer (sien byvoorbeeld McGowan, 1993).

As ons die teorie op vandag se wêreld toepas dan vind ons die volgende: 

  • Die kern van die kapitalistiese wêreld-sisteem bestaan uit die 29 hoë-inkomste, hoogs ontwikkelde lande.  Hulle is almal lede van die OECD (Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling).  22 is in Europa, 3 in Noord Amerika, 2 in Australasië, en 2 in Asië.
    • Die ‘ekonomiese kern’ van die kern bestaan uit die Groep van Sewe: VSA, Brittanje, Frankryk, Italië, Duitsland, Kanada en Japan.
    • Die ‘politieke kern’ van die kern bestaan uit vier van die vyf permanente lede van die VN se Veiligheidsraad: VSA, Brittanje, Frankryk en Kanada (die vyfde is China).
    • Die ‘militêre kern’ van die kern bestaan uit vier van die sewe erkende kernwapen-magte: die VSA, Brittanje, Frankryk en Rusland. 
    • Dit is soms moeilik om die dominante posisie van die VSA te begryp.  Dit is die wêreld se derde grootste land en het die derde grootste bevolking (300 mn).  77 % van die bevolking is blank en meer as 80 % verklaar hulle Christenskap.  Dit het die wereld se grootste ekonomie (BBP in 2003 was US$11 triljoen – 12 nulle) relatief tot die wêreld se BBP van US$51 triljoen.  Die VSA spandeer meer op sy militêre mag as die res van die wêreld tesame!
  • Die randstreek bestaan uit 71 lae-inkomste, lae ontwikkeling-lande.  31 van die mins-ontwikkelde lande is in Afrika te vinde. Die ander lede van hierdie sone is in Oos Europa en plekke soos Afghanistan, Bosnië of Noord Korea te vind.
  • Die tussentydse sone bestaan uit 82 middel-inkomste, medium ontwikkeling lande, ook bekend as die Ontwikkelende lande.  Daar is 13 in Afrika, waarvan een dominant is: Suid-Afrika.

Met so ‘n skets van globale mags- en gesagsverhoudinge kan mens heelwat gebeure in die internasionale politiek beter interpreteer, byvoorbeeld hoekom die VSA Irak so gereeld binneval, hoekom Afrika arm gaan bly selfs al word elke Afrikaan ‘n vredeliewende demokraat, hoekom Suid Afrikaners groot dele van Afrika kolonialiseer, hoekom Iran nie toegelaat word om kernwapens te ontwikkel nie.  En hoekom Amerika homself soos ‘n wrede tiran op die wêreld-arena bly gedra, iets wat nie gaan verander nie totdat China die mantel as supermoondheid oorneem.

So?

Aan die begin van die essay het ek gevra tot watter mate mens kan argumenteer dat godsdienstige fundamentalisme konflik wêreldwyd aanjaag, en of ‘n mens ‘n scenario kan voorstel waarvolgens internasionale oorlog uitbreek met godsdiens as die sneller.  Jou respons hang af van hoe jou raamwerk lyk waarmee jy die wêreld rondom jou interpreteer.  So kan mens verskeie raamwerke identifiseer: fundamentalisme, globalisering, botsende beskawings, of die dinamika van die kapitalistiese wereld-sisteem.  Daar is ook kombinasies hiervan en ook gans andere.

Onderliggend aan hierdie tipe verduidelikings is ‘n tergende dualisme: moet ons die klem op sosiale strukture plaas, of eerder menslike agentskap (waarvolgens akteurs die vermoe het om sosiale stelsels te beinvloed of te verander)?  Dit is die ingewikkelde sosiologiese debat of individue sentraal staan in die verstaan van gebeure, teenoor die idee dat individue in sosiale strukture ingebed en gesosialiseer word en dus hulle voorkeure en gedrag bepaal.  Is die nuwe Suid Afrika ‘n produk van FW de Klerk en Nelson Mandela, of eerder die strukture waarbinne hulle leef en werk?   Is internasionale konflik en geweld die produk van Bin Laden, of Bush, of eerder die instellings en norme wat die gedrag van individue in ‘n samelewing bepaal?

Daar is ook diegene (sosiale konstruktiviste) wat hierdie dualisme probeer oplos deur te reken dat mense sosiale strukture skep en dat hulle gedrag deur die geskepte strukture beinvloed word. 

Wat dink jy kenmerk die verhoudings tussen die mense in die dorpie van eenhonderd?


Verwysings

Annan, K (2005) In larger freedom:  towards development, security and human rights for all.  http://www.un.org/largerfreedom/

Bush, G (2006) Introduction to the The National Security Strategy of the USA. http://www.whitehouse.gov/nsc/nss/2006/

Capra, F (2002) The hidden connections: a science for sustainable living. London: Flamingo

Castells, M (1996) The information age (3 volumes). Blackwell.

Die Bybel

Die Koran

Fernandez-Armesto, F (2000) Civilizations.  London: Macmillan

Huntington, S (1996) The clash of civilisations and the remaking of world order. New York: Simon & Shuster

McGowan, P (1993) The 'New' South Africa: Ascent or Descent in the World System?, South African Journal of International Affairs, 1(1), p. 58.

Muller, P.  Beeld, 02.03.2006

www.wikipedia.com vir verskeie verwysings na neokonserwatiewe bewegings, fundamentalisme, sosiale konstruktivisme.



1 Neokonserwatisme verwys na die politieke beweging, ideologie en openbare beleidsdoelwitte van die ‘nuwe konserwatiewes’ in die VSA, wat onder andere deur ‘n  intervensionistiese en militaristiese buitelandse beleid gekenmerk word.

2 Caliph is die term of titel vir die Islamitiese leier van die Ummah, of gemeenskap van die Islam.


CREATIONISM IN THE COLONIES: SCIENCE, RELIGION AND THE LEGACY OF APARTHEID IN SOUTH AFRICA.

J.A. van den Heever, Department of Botany and Zoology, University of Stellenbosch, South Africa.

Introduction

Calvinism is often portrayed as being science friendly and in several cases authors have claimed that western science prospered because of positive Calvinistic attitudes towards higher learning and research. Be that as it may, but in South Africa, the attitude of the Reformed Churches, led mostly by the Dutch Reformed Church, evolved into such a peculiar mix of attitudes towards science that it ultimately led to the denigration of science and a miscarriage of justice with respect to Biology education at school level as well as certain centres of higher learning.

With the democratization of South African society in 1994 it came about that the Biology curricula in State schools were, for the first time in the history of the country, to accurately reflect the state of scientific knowledge in, especially, the Biological sciences. In short it meant that organic evolution, including the evolution of humans, became an integral part of the Biology curricula at school level.

The immediate result of this was an upsurge of anti-evolution pronouncements in the media, in hastily written books and ill prepared talks. The question of why certain sectors of the population find some areas of science acceptable, whilst other established areas, i.e. organic evolution, are disregarded with scorn, irrespective of socio-economic affiliations, remains an intriguing phenomenon. The common denominator amongst those that take a stand against evolution most often appears to be associated with some form of fundamentalist religious belief. With respect to South Africa the main players in the historical development of the campaign against evolution have been a wide spectrum of fundamentalist Protestants, more often than not office bearers within the dominant Dutch Reformed Church (DRC).

This article is an initial attempt to clarify the origin and politico-historical development of current creationist attitudes in South Africa and trace the possible reasons for excluding the process of evolution from school handbooks.

Historical background

The search for a meaningful explanation for the origin of life and the descent of humans is an important component of our earthly existence. Believers across the world are generally convinced that the particular Deity they worship created everything, including humans. Unbelievers on the other hand have no interest in religious convictions and regard the earthly presence of humans as the result of millions of years of evolution, totally devoid of supernatural intervention.

There exists, however, a large group of people who acknowledges the existence of a Deity which forms the focal point of their religious activities, but is also aware that science has revealed particular truths about the natural world and the origin of humans. Broadly speaking their viewpoint is that God created through the process of evolution. From a Christian perpective this means that the Bible, and especially Genesis 1-11, cannot be regarded as historically accurate.

Within the cadre of, especially the Protestant religion, there are also those who regard the Bible, in toto, as the unfailing and factually correct Word of God. Everything that is written is accepted as the literal truth and no jot or tittle may be changed or read differently from what appears on the page This
viewpoint raises the Bible to the level of a science handbook and all findings of science are therefore subjugated to what is conceived as biblical truths. In the modern idiom such individuals are usually described as evangelists, fundamentalists or creationists.

Evangelists consist of loosely associated groups of conservative Christians which, according to Marsden (1991), comprise a variety of fundamentalists. It is a movement, especially within British and North American Protestantism which insists that the Bible is the only authority within religion.

Within Christendom fundamentalists usually are associated with a literal interpretation of the Bible. They take their name from a series of booklets, The Fundamentals, published at the beginning of the twentieth century by conservative Protestants in the U.S.A., in an attempt to stem the tide of modernism in the reformed churches. More recently the term has acquired a broader significance in that it is often used to depict any militant traditionalist religion. Hence the term, Islamic Fundamentalism. In this article the word fundamentalism refers only to those Christians whom are opposed to a liberal theology and changes in culture and morality.

Believers that regard the universe and all it contains as the work of a creator can by rights be called creationists. However, in the modern idiom the expression has aquired a far narrower meaning so that it currently applies only to those believers who insist on an absolutely literal interpretation of the Bible. In their view the earth is not older than ten thousand years, the biblical flood covered the entire planet and all living animals are the descendants of those that found sanctuary on the Ark. Noah’s three sons and their wives then becomes the forebears of all six-and-a-half billion people that currently inhabit the earth. Believers claiming that such convictions can be scientifically proven using biblical texts, often refer to themselves by the oxymoron of ”scientific creationists”.

In spite of the fact that creationists are at odds with mainstream Reformed Theology they have a significant influence on Protestants across the world. In the United States, where Church and State are separate they have evolved into militant, politically conservative pressure groups. They insist absolutely on the factual content of the King James I translation of the Bible and the total negation of the process of evolution. These convictions are precipitated in their ongoing campaign to establish their religion as part and parcel of the Biology curriculum in American Schools.

In South Africa where the State and the Afrikaans Reformed Churches were bedmates for many years, the prevailing situation was in fact the exact opposite. Under the prevailng system of Christian National Education it was evolution that was banned from school curricula. To all intents and purposes it was done specifically because the process of evolution underlines the affinities between all life forms and especially humans.

Genesis 1-11 is not a correct representation of the origin and development of the universe. Creationist are, however, clearly blind to the use of metaphor in the Bible and are unwilling to acknowledge the beauty of allegorical tales. As a natural scientist I am worried that their naive misjudgements of scientific findings still has access to schools and universities, where it is purveyed as the only truth. It is quite frankly dangerous to our continued existence to be ignorant about the origin of the universe, its evolution and our position in it.

After the political reversal of 1994 school curricula in South Africa underwent drastic changes. One of the posistive aspects were that the foundation of Biology i.e. evolution was, for the first time in the history of the country, an integral part of the Biology curriculum in state sponsored schools. Scientifically this was a particularly welcome change but not well received by all as many religious groupings blithely ignore the findings of science if, according to their judgement, it impimges on their particular interpretation of the Bible. Parents with such convictions may decide to enroll their children in alternative school or educate them at home. In both cases it may contribute to further unwanted division in terms of educational and religious matters.

Modern or Neo-creationism as an active political and social phenomenon is a feature of the second half of the twentieth century in the U.S.A. Although creationism has a long history in the United States, it has been especially active in this part of the world during the past forty odd years, and it is also from this region that most of the creationist speakers, and media such as tracts, magazines, books, videos and television programmes emanate. Creationism in North America dates from the early seventeenth century when the first Europeans from England and Holland settled on the east coast of the continent.

In North America creationism eventually developed into a complex mix of religious, social and cultural elements. As in South Africa it is an outgrowth of Protestant fundamentalism. Whilst the development of creationism in North America and South Africa ought not be directly compared, there does exist interesting historical parallels in the establishment of fundamentalist societies on opposite sides of the Atlantic ocean. Because of this link South African Protestants were often the willing targets of creationist propaganda from North America from the second half of the previous century onwards.

Fundamentalism in South Africa

Western civilization was permanently brought to the shores of Southern Africa by Commander Jan van Riebeeck in April 1652 with the arrival of the Dutch East India Company. The Dutch at the Cape were Puritans and firm supporters of the Reformation of Martin Luther and John Calvin. In practical terms they were biblical literalists as were the Puritans deported from England to North America during the 1600s. The arrival of the French Hugenots at the Cape reinforced the puritan presence as the Hugenots fled France to escape Catholic persecution. A direct comparison of the life and times of the American settlers with those at the Cape is unwise, but some broad similarities can be identified.

Both groups settled in a totally foreign environment inhabited by a unique indigenous population. The North American deportees could not return to England, whereas the Dutch settlers could in theory relocate to their homeland. Both groups survived a difficult existence in the interior of their respective countries and were involved in major wars threatening the very fibre of their culture. In both cases the aspirations of the fundamentalists also came to naught.

It was only after the British occupation of the Cape that those inhabitants that were to become an important section of the future Afrikaner nation decided to join the Great Trek, a movement comprising about ten per cent of the whites in the Cape Colony and twenty per cent of those in the eastern districts, of which the intent was to settle as far away as possible from any British influence.

Setting off into the hostile interior in ox wagons demonstrated a particular mindset with regard to freedom and self-determination. These Voortrekkers had virtually no reading material except the Bible and there was literally no time for deep philosophical discussions about theology. The time and place demanded a practical religion, largely based on the straightforward pronouncements the Old Testament. Comparisons between the life and times of the biblical Isrealites and their God and the Voortrekkers came easily and would have been an obvious ploy to sustain morale and purpose and guide these travelers through the tough day to day conditions in the wild, punctuated by periodic hostilities by and against the indigenous population.

Even the eventuall establishment of the two republics of the Orange Free State and the Transvaal did not secure permanent freedom from Britain as the discovery of gold precipitated the Anglo Boer war, a watershed event in the history of the Afrikaner.

Actions that contributed to a very real hatred of the British were the establishment of concentration camps to house Afrikaner women and children, removed from the farms by force, and the willful destruction of buildings and domestic cattle. The high death rate amongst the women and particularly the children in the camps left permanent emotional scars in many instances and voices of criticism was even raised on the British side.

Dr Henry Becker, a British physician commented on conditions in the concentration camps as follows. “First they chose an ill-suited site for the camp. Then they supplied so little water that people could neither wash themselves nor their clothes. Furthermore they made no provision for sufficient waste removal. And lastly they did not provide enough toilets for the overpopulation they had crammed into the camps.”

David Lloyd George, the British Statesman, in commenting on the Anglo Boer War stated that “The fatality rate of our soldiers on the battlefield, who was exposed to all the risks of war, was 52 per thousand per year, while the fatalities of women and children in the camps were 450 per thousand per year. We have no right to put women and children in such a position.” Many Afrikaners perceived these events as a clear indication that the women, and especially the children, were being systematically exterminated.

In the aftermath of the War Afrikaners were subjected to the full implications of the scorched earth policy. With their farms destroyed they had nowhere to go but to relocate to towns and cities, with the result that urban congregations expanded considerably. Ill equipped and unqualified for commercial enterprises, landowners, by force of circumstance, became become laborers to keep life and limb together. Ultimately Afrikaners in the cities were held together by their faith and determination. The outbreak of the First World War in 1914 further contributed to the establishment of a national identity as they were now required to join a recent enemy in a war against a recent ally. This in turn contributed to a total cultural warfare of which the aims were to establish Afrikaans as an official language in government, churches and schools. Further demands were for the implementation of a system of Christian National Education.

The First World War and the influenza epidemic of 1918 also contributed greatly to the problem of unemployment. According to Deist (1994) the social and political problems of the Afrikaner was so dire that at the time an “academic” theology was considered a luxury. The need was for a practical religion that provided assurance and hope without questioning the Bible as the basis of the belief system.

The development of a practical theology based on a literal reading of the Bible and applied to society at large in the form of prescriptive announcements appears to have been the norm in the historical development of the Afrikaner. A case in point is the discussion on the evils of dancing in the Handbook for Cathechism by G.B.A. Gerdener (1927) where it states as follows. "And then the Dance! Twin sister of drunkenness, the ally of darkness and Death! One thing is certain: It is not a coincidence that the words, gambling (Afrikaans: Dobbel), Drunkenness and Dance begins with the same letter as does Darkness, Death and Devil." One cannot help but wonder whether anybody took the trouble to inform Dr Gerdener that the words Dominee (Afrikaans for Reverend), Dogma and Deacon also start with the letter D.

Such a naïve and superficial approach to matters of ostensibly theological importance, proclaimed by a respected theologian of the time, bewilders the modern reader and often results in the total rejection of the theology of the time. It does however entertain a weird logic if read as an aspect of a larger mission, dedicated to the survival of the Afrikaner against all odds, by preserving, promoting and eventually attaining a specific political and religious goal. This appears to have been the fusing of State and Church into a single functional unit and thereby claiming a God-ordained political ethnicity and mission for the Calvinist Afrikaner.

In this respect Deist (1994) mentions quite correctly how ideological frameworks were embedded within the larger socio-historical problems. The mindset underlying this mission appears to be similar to that of the later Nationalist Party where the idea of a total onslaught on the ideals of the Afrikaner was useful in maintaining coherence and fueling the drive towards the ultimate political goal.

At that time the infamous witch hunt perpetrated upon Professor Johannes du Plessis of the Theological Seminary at Stellenbosch, for daring to suggest that the creation story in Genesis might not be a factual report, was in full swing and bears evidence to the fact that the particular fundamentalist view sanctioned by religious leaders of the time was an all inclusive and prescriptive world view with a particular goal in mind. The eventual dismissal of Du Plessis, . his victory against the Church in the High Court, his reinstatement and death shortly thereafter, have been well documented by amongst others Gerdener (1943) and is now common knowledge.

During the Second World War the political aspirations of the Afrikaner was being forged with a religious paradigm in mind as is evinced by the speeches of P.J. Meyer, later to become Chairman of the Board of Control of the South African Broadcasting Corporation, as quoted in De Klerk (1975).

To Afrikanerdom belong only those who by virtue of blood , soil, culture, tradition, belief, calling form an organic unitary society.

This nation (Volk) is by nature an organic wearer of authority (gesagskleding) with the patriarchal leader as the chief bearer of authority of the nation, and with the members of the nation as active and co-operative workers.

The national Afrikaner state of the future is therefore the political embodiment and ordering of the whole of Afrikanerdom as an organic articulation of authority, and it is in this sense also a medium of Afrikanerdom to protect and promote its own fulfilment of calling (roepingsvervulling).

The Afrikaner national movement as bearer of the future national state of the Afrikaners is thus at the same time a people’s institution by means of which a natural national leadership will be formed, the inwardly directed organic interaction of the nation can be assured and individually the national members (volkslede) can be disciplined by constructive service to the nation (volksdiens) as an organic whole.

In the future Afrikaner national state (volkstaat) the undivided power granted by God rests with the Afrikaner state authority. This undivided state power, is limited in its exercise by the sovereignty in a particular sphere (soewereiniteit in eie kring) ordained by God in original creation; in the organic human entities such as the church, the individual, the family, and the nation. Furthermore, power shall only be exercised in accordance with the principles of law contained in the Word of God, and the natural legal ordinations (regsgegewenhede) as consistently revealed in history

The positive and God-given rights of the individual, the family, the nation, and the Church, are then protected and promoted by the Afrikaner nation in the sense of mutual duties to society which may not be shirked.

The future national Afrikaner state will be a leadership state, an authoritative state, and a corporative state.

At the outset of the Second World War war Oswald Pirow was prominent in the political circles of the time and decisively influenced by the ideal of National Socialism. The belief at the time that Germany might win the war prompted Pirow (1940) to publish his ideas for a new social order for South Africa in a strongly worded political tract entitled: Nuwe Orde vir Suid-Afrika (New Order for South Africa) and in September 1940 he founded a New Order Group (Nuwe Orde Groep) within the HNP (Herenigde Nasionale Party). Strong critisism from the party leadership caused Pirow to go his own way, forsaking parlimentary politics, and eventually, according to Grobler (2007) dissapearing into the political wildernis . The HNP eventually evolved into the NP or National party which was to be the political voice of the Afrikaner for the following forty odd years.

With hindsight the rejection of the social reforms suggested by Pirow seems only natural as the stance was outspokenly anti-Semitic and anti-British. In stead of a democratically constituted government he visualised a Christian National Socialistic Republic in which there was ostensibly room for other groups but which favoured the white Afrikaners and the Afrikaans language. Looking back on the policies that were eventually adopted by the National Party it almost appears as if Pirow was writing with foresight about events that were to come.

Erasmus (1946) pointed out that a local, Afrikaans version of Calvinism had developed in South Africa which lacked the stamp of imported Calvinism and neither copied the Calvinism found in any other country nor wished to be the the mouthpiece of overseas Calvinists:

"..maar wil ons eie Boerepad loop, Dit is 'n Calvinisme wat aangepas is by nasionale verskille van aanleg, temperament, volksaard, geskiedenis en omstandighede. En daardeur is ons as volk in die vorige eeu bewaar, aan die een kant teen verengelsing en aan die ander kant teen verbastering.”

This view of Calvinism was in direct contrast with the views of early Protestantism as evinced by the response of Calvin himself when confronted with the fact that the sixteenth century astronomers concluded that Saturn was larger than the moon, the direct opposite of what was previously accepted. Instead of summarily rejecting the science of the day Calvin’s response was that it was all the more reason to praise God. According to Deist (1994) the specific form of Calvinism developed in South Africa was narrow, prescriptive and did not allow for a wider interpretation of the text. Thus religion was tailored to support a political master plan and it became colloquially known as Boere-Calvinisme. In this context the DRC became a Volkskerk (Church of the people) and handmaiden to the political aspirations of the Afrikaner.

What appears to be pivotal publications were those by the University of Pretoria sociologist Geoffrey Cronje (1945, 1947).These two books attempted to define Apartheid or Separate Development in its totality and delved into the minutiae of the proposed future political system, separating people socially and economically, on the basis of the colour of the human skin.

Cronje (1947) included chapters by Dr W. Nicol, the then moderator of the DRC and Prof. Dr E.P. Groenewald of the University of Pretoria, underwriting the system of Apartheid on biblical grounds. The perception was that if support could be found in the Holy Writ for Separate Development there would be no need to take cognizance of the critical attitudes of others countries. It turned out that the sanction for Apartheid derived from the Bible amounted to nothing more than examples like the myth of the Tower of Babel. These books were distributed amongst Afrikaners and according to De Klerk (1975) intensely discussed within the Broederbond.

So strong was the hegemony of this alliance that falsehoods could eventually be blandly stated without fear of contradiction. This led to the infamous quote by the Reverend J.D. (Koot) Vorster, future Moderator of the DRC, in The Star newspaper of September 21, 1955 to the effect that: "the theory of evolution is in direct conflict with the teaching of the Bible and should not be included in school textbooks."

This startling revelation reinforced the official viewpoint of the DRC in the Catechism Book of Greyling et al, first published in 1950, shortly after the DRC Minister and former editor of Die Burger newspaper, D. F. Malan, of the National Party was elected prime minister, one of the pre-election promises being the removal of the so-called Cape Coloureds from the voting register.

Up to 1966 publication of this Catechism Book underwent seventeen reprints totalling 200 000 copies. That it can be taken as the official position of the DRC on evolution at the time is patently clear. It was aimed at impressionable young people about to become responsible members of the DRC, explaining the parameters of the faith and how to conduct oneself within the flock. The text was consequently authored by eight ministers of the Church and examined by a further nine individuals including professors of Theology, ordained ministers and one doctor.

Evolution is given short shrift under the main heading of Sects and Fallacies. In this section the process of evolution is incorrectly confused with evolutionism, and fish, birds and insects are, surprisingly, considered separate from animals. Finally it is claimed that evolutionism (sic) considers living beings (plants, fish, birds, insects, animals and humans), through the process of descent, to belong to the same group or family. In the light of the fact-based findings of a large number of scientific disciplines at the time, not the least of which was the discipline of Systematics, this cavalier attitude towards factual evidence and the stunning level of scientific ignorance of one of the greatest advances in human understanding, surely speaks of ulterior motives and hidden agendas.

It is further stated that:

1. Everything has been created, there was no development.

2. Gods ordinance is fixed e.g. the laws of procreation, multiplication and growth in plants, animals and humans. The concept of evolution is then, quite incorrectly, reduced to development within fixed kinds.

3. Everything has been created by God, according to its kind and not as the result of developmental processes.

4. Humans have been specially created to reign over God’s creation and did not develop from animals. Consequently the qualities peculiar to human existence viz. intellectual ability, soul, language, religion, morality, marriage and method of creation presents an unbridgeable divide between humans and animals. Particular attention is paid to the position of Eve It is stated that she was created perfect, by God, from a portion of the man. She did therefore not develop from lower animals neither did she develop from Adam, because he was sleeping at the time. (Twenty-twenty hindsight notwithstanding, it is perhaps timely to graciously concede that the examiners of this portion of the text were also sleeping at the time.)

5. The work of God is finished to perfection. There is no place for the concept of development from lower to higher.

6. Perhaps the most damning revelation is the conclusion that the concept of evolution is then judged to be unscriptural and irreconcilable with the Word of God because the believer bows his head in child-like fashion and accepts the Word of God as the truth through faith, which is solid proof of things which are not seen or have not been seen. Evolution therefore has no basis of proof. (Italics in the original.)

At the time these words were written there was already ample proof of the presence of the process of evolution in nature and that it functioned on an order of magnitude which readily explained the relatedness of all life forms and the development of animal and plant life from simple to complex. Archaeopteryx, evincing a mix of reptile and bird characteristics and known from the time of Darwin, was clearly a form intermediate between reptiles and birds.

Even more telling was the work of the German embryologist Reichert, who, during the first half of the nineteenth century elegantly demonstrated, with an extensive series of histological sections of recent vertebrates, including humans, that the unique combination of ear ossicles found in mammals were derived from the ancestral reptilian jaw articulation. This was followed by the discovery and description of a large number of mammal-like reptile fossils from the Great Karoo in South Africa. The upshot of this development was that in 1912 the German anatomist Ernst Gaupp provided, through his research on the mammal-like reptiles, the palaeontological basis for the reptile-mammal link in the evolution of the mammalian ear bones. This is now known as the Reichert-Gaupp theory and is quite correctly described by Novacek (1993) as one of the milestones in the history of comparative biology.

In addition, fossil hominids from South Africa, like the famous Taung child, Australopithecus africanus, had been known since 1925 and by 1950 additional specimens from Africa and elsewhere were unequivocal evidence of the evolutionary origins of modern humans.

In totally disregarding the available scientific evidence for evolution, the authors of the Catechism Book failed also to offer an alternative scientific exposition. This readily invites the conclusion that there existed an ulterior motive for denying the relatedness of life forms and especially the fact that all living humans belonged to a single species.

High school biology texts of the time and well into the 1960’s underlined this approach in the treatment of vertebrates such fish, amphibians, reptiles, birds and mammals in pointedly omitting underlying evolutionary relationships and, instead, concentrating on those characteristics which ostensibly highlight differences between the various forms.

I experienced the inner workings of the system in the 1970’s when the Afrikaans translations of a whole series hard cover children’s biology books, published by The Archon Press, was refused placement in school libraries by the then Cape Provincial Department of Education. Reasons given by the departemental representative was that books were badly bound, over coloured and that the snippets of text accompanying the illustrations were too long. The South African Publisher lost a large amount of money and it was only after repeated enquiries that a departmental representative finally admitted that the series was actually turned down because the text was too ”pro-evolution.”

That the policy was effectively pursued over the years is shown by an article in the mouthpiece of the Dutch Reformed Church, Die Kerkbode, of May 27. 1981 in which Reverend Dr. S.J. Eloff, a synodal expert on tuition, admitted that selected professors perused school and university handbooks from time to time in order to ensure that the texts do not include viewpoints that support evolutionism. He also added that the church had never argued against evolution if it is understood as development within kinds.

It must, however, be noted that in 1987 the then Western Transvaal Synod of the Dutch Reformed Church accepted, with a large majority, the scientific validity of the process of evolution, with the proviso that it did not deny the existence of God. This decision was forwarded to be discussed at the next meeting of the National Synod but was apparently never tabled.

This kind of behaviour partially explains why such information does not reach members of the various congregations via their ministers and may be the reason, according to Moore (1992) why members of the Dutch Reformed Church still employ creationist arguments as if it represent the Reformed viewpoint.

Changes in the South African political landscape after 1994 and the accompanying insecurity in some circles, apparently boosted fundamentalist convictions. The establishment of a different groupings amongst the religious right, including the Afrikaners, who support a literal interpretation of the Word bears evidence to this. In addition, as early as 1992 O’Neill noted signs of a strong a fundamentalist movement within the black churches as well.

The eventual inclusion of evolution, and especially human evolution, in High School Biology curricula after 1994 resulted in an upsurge of anti-evolution pronouncements by fundamentalists. This trend is readily apparent at universities where young people are specifically targeted by creationist groups like Shofar at the University of Stellenbosch.

Universites are democratic institutions and cannot deny individuals access based on their religious convictions. Currently nothing prevents a creationist to keep quiet about his or her religious convictions and attain even a PhD in the Natural Sciences. He/she can then present themselves as knowledgeable about science and claim science to be a false view of the natural world, based on their fundamentalist convictions. This was percisely the advice offered to BSc undergraduates at the University of Stellenbosch on 5 March 2008 by the Australian creationist Don Batten after his talk, Evolution, a Dark a Age for Science and Society?, Batten holds a PhD in Horticulture and is employed by Creation Ministries International of Australia. He is also the author of the article, Where are All the People? in which he claims that our current world population of six and a half billion humans descended from Noah’s sons and daughters in law over the past 6000 years.

Another CMI employee, Emil Silvestru, promoted the biblical flood as a world wide historical event in a talk entitled, Waters of Contention, at the same venue on 27 August 2008. Despite a Ph.D. in Geology, and an enormous amount of fact-based research to the contrary, Silvestru, as a creationist, still insists on the literal truth of the Genesis flood myth.

Currently creationism has been completely refuted scientifically, biblically as well as on legal grounds, the latter as the result of a series of court proceedings in the U.S.A. Yet creationists in the U.S.A., South Africa and in Australia still openly fly in the face of reason. Fry (1983) has outlined the general attitude of the mainstream churches as follows:

“In addition to the successful ecumenical challenge of creationism in the Arkansas case, doctrinal statements have been made on the highest ecclesiastical levels during recent years within the Roman Catholic, the Episcopal and the Presbyterian churches. Each of these denominations affirms God’s creation of the universe, but on the basis of that affirmation they deny the eccentric interpretations of creation which creation-science seeks to impose… In rejecting the religious bases of creationism, the General Assembly explicitly cited the theological consensus of protestant, Roman Catholic and Jewish understanding. Suggesting that the dispute over creation science is not really over biology of faith, but is essentially about biblical interpretation, particularly over two viewpoints regarding the characteristics of biblical literature and the nature of biblical authority, the Resolution proceeded to affirm that the imposition of a literalist viewpoint about the interpretation of biblical literature - where every word is taken with uniform literalness and becomes an absolute authority on all matters, whether moral, religious, political, historical or scientific - is in conflict with the perspective on biblical interpretation characteristically maintained by biblical scholars and biblical schools in the mainstream of Protestantism, Roman Catholicism and Judaism. Such scholars, and we believe, most Presbyterians find that the scientific theory of evolution does not conflict with their interpretation of the origins of life found in the biblical literature.”

Conclusion

In South Africa the naive claims of creationists appear to be at least partially associated with strong historical ties to a previous, unjust political dispensation. The fact that it also appeals to young people who had no part in the erstwhile politics is an interesting phenomenon because it produces and sustains individuals that are ill-equipped to deal rationally with a complex science-driven world. One explanation might be that to embrace the naïve and superficial assurances of the creationist world view may represent an ill judged attempt to excape the complex realities and insecurities of a postmodern world. Mainstream churches should therefore reflect about how appropriate their message still is for young people who flock to the quick-fix approach of fundamentalist groups.

In the aftermath of 1994 the DRC has finally condemned the system of Apartheid and the leadership has noticeably softened in attitude towards science and especially the process of evolution. These developments should, however, be rationally communicated to members and especially young people. How this can be successfully brought about is, in the light of the adverse experiences of ministers that have actually attempted to do so, not yet clear.

References

Becker, H. Internet at http://www.appiusforum.com/helkamp.html

Cronjé, G. 1945. ’n Tuiste vir die Nageslag - Die Blywende Oplossing van Suid-Afrika se Rassevraagstukke. Johannesburg: Publicité Handelsreklamediens.

Cronjé. G. 1947. Regverdige Rasse-apartheid. Stellenbosch: Die Christen-studentevereniging maatskappy van Suid-Afrika.

Deist, F. 1994. Ervaring, Rede en Metode in Skrifuitleg. RGN-Studies in Metodologie. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing.

De Klerk, W.A. 1975. The Puritans in Africa: A story of Afrikanerdom. London: Penquin Books.

Erasmus, D.F. 1946. Ons Eie Calvinisme. Die Gereformeerde Vaandel. 14(11):11–12.

Frye, R. M. 1983. Is God a Creationist? New York: Charles Scribner’s Sons.

Gerdener, G.B.A. 1927. Handboek by die Katkisasie. Kaapstad: Nasionale Pers.

Gerdener, G.B.A. 1943. Die Boodskap van ’n Man. Christen-studentevereniging van Suid-Afrika, Stellenbosch.

Greyling, E. 1966. Die Katkisasieboek. Bloemfontein: Sondagskool-boekhandel.

Grobler, J. 2007. Uitdaging & Antwoord: ’n Vars Perspektief op die Evolusie van die         Afrikaners. Brooklyn: Grourie.

Lloyd-George, D. Internet at http://www.appiusforum.com/helkamp.html

Marsden, G.M. 1991. Understanding Fundamentalism and Evangelicalism. Grand Rapids: Eerdmans.

Moore, W. 1992. Die Wetenskaplike kreasionisme —’n Analise. Unpublished MTh thesis, Faculty of Theology, University of Stellenbosch.

Novacek, M.J. 1993. Patterns of Diversity of the Mammalian Skull. In: The Vertebrate Skull Vol. 2. J.Hanken & Hall B.K. (eds.) Chicago: University of Chicago Press.

O’Neill, T. 1992. More From South Africa. National Centre for Science Education Reports. 12 (3):5.

Pirow, O. 1940. Nuwe Orde vir Suid-Afrika. Pretoria: Christelike Republikeinse Suid-Afrikaanse Nasionaal-Sosialistiese Studiekring.

 

 

Charles Darwin en die Christelike geloof 1809-2009

 Sakkie Spangenberg

Creationists are right about one thing. Evolutionary biology is the science that most deeply threatens the Bible and theology (Williams 2008:15).

The “greening” of Christianity [...] stands in marked contrast, and indeed direct contradiction, to much of the historic teaching of the churches. In stead of being lords of the universe and the pinnacle of creation, we must view ourselves as part of an interconnected web of existence. The responsibility for the future of the planet rests with us. We cannot look to another world and another life beyond this one, but must commit ourselves to an ecological imperative that will benefit succeeding generations (Leaves 2006:81).

 

1.            Inleiding

Charles Darwin is op 12 Februarie 1809 in Shrewsbury in Engeland gebore. Hy het aanvanklik medies aan die Universiteit van Edinburgh in Skotland gestudeer (1825–1827) en in sy vrye tyd saam met Robert Jameson op geologiese uitstappies gegaan. Die verpligte aanskoue van operasies op mense wat geen narkose of verdowing ontvang het nie, het hom nie aangestaan nie. Hy roep sy mediese studies gevolglik vaarwel en gaan studeer teologie aan die Universiteit van Cambridge (1827–1831). Hier loop hy ook kursusse in botanie en geologie. Alle studente aan Cambridge was in daardie jare verplig om die boek Natural Theology (1802) van William Paley (1743–1805) te bestudeer. In hierdie boek het die skrywer (’n teoloog) geargumenteer dat ’n mens uit die fyn struktuur van die aarde, plante, diere en alle lewende dinge kan aflei dat daar ’n skeppergod moes wees. Die vergelyking wat hy gebruik het om sy idees mee oor te dra, was die een van ’n horlosie en ’n horlosiemaker. Enigeen wat die fyn ratwerk van ’n meganiese horlosie al gesien het, kan nie anders nie as om tot die gevolgtrekking te kom dat dit deur iemand gemaak moes gewees het. ’n Horlosie veronderstel ’n horlosiemaker. Al die ratte en vere binne ’n meganiese horlosie het nie maar per toeval byeengekom om ’n horlosie te vorm nie. Dit geld volgens Paley ook van komplekse organe soos die menslike oog. Dis so kundig en kunstig saamgestel dat ’n mens nie anders kan as om te konkludeer dat iemand dit moes ontwerp het nie. Hierdie “iemand” is die skeppergod. Paley se sieninge kom dus ooreen met wat ons vandag as “Intelligent Design” (= intelligente ontwerp) ken. Twee hedendaagse voorbeelde wat dikwels gebruik word om die idee van “intelligente ontwerp” te ondersteun, is stellings dat ’n woordeboek nie tot standgekom het vanweë ’n ontploffing in ’n drukkery nie. Dit geld ook van groot passiersvliegtuie. Hulle is nie gevorm toe ’n dwarrelwind deur ’n skrootwerf gewaai het nie. Iemand moes so iets bedink, ontwerp en aanmekaar gesit het. Die boek van Paley het ’n geweldige indruk op Darwin gemaak, maar sy sienings sou mettertyd verander.

In Desember 1831 vertrek hy saam met Robert Fitzroy die skeepskaptein van die vlootskip HMS Beagle op ’n wêreldreis. Die doel was om van die vastelande in die suidelike halfrond se kuslyne te karteer. Darwin se pa het nie van die gedagte gehou nie, maar hom later wel toegelaat om as vriend van die skeepskaptein die reis aan te pak. ’n Skeepskaptein van ’n vlootskip was ’n relatief hoë rang en die kaptein was nie toegelaat om met enige pleb te meng nie. Darwin was ten minste ’n “gentleman” uit die Britse “adelstand” wat op gelyke voet met die kaptein kon kommunikeer. Voorts kon hy dit bekostig om as ’n onbetaalde botanis rond te reis. Sy  familie was vermoënde mense. Sy oupa aan moederskant, Josiah Wedgwood, was die eienaar van ’n fabriek wat fyn porseleinware gemaak het.

Tydens hierdie reis het hy Charles Lyell se Principles of Geology gelees. Lyell het geargumenteer dat die aarde oor ’n lang periode deur geologiese kragte gevorm is. Hy het nie meer die idee voorgestaan dat die aarde binne ’n paar dae ontstaan het en dat daar eeue gelede ’n wêreldvloed was nie.

Toe die Beagle in 1835 teen die weskus van Suid-Amerika opvaar en by enkele hawens aandoen, het Charles Darwin voor sy oë klippe en rotse gesien wat van ’n lang ontstaansproses getuig het. Hier beleef hy ’n aardbewing wat die dorpie Conception vernietig en ontdek hy gefossileerde seeskulpe teen die berghange. Hy het besef dat dit alleen daar kon gekom het vanweë die werking van aardkragte. Charles Lyell se sienings het vir Darwin begin sin gemaak.

Van September tot Oktober 1835 spandeer hy twee maande op die Galapagos-eilande in die Stille Oseaan. Hierdie eilande is deur vulkaniese werking gevorm en is ongeveer ’n duisend kilometer van die kus van Ecuador geleë. Hier het hy diersoorte gesien wat gelyk het “soos die soorte van die Suid-Amerikaanse vasteland, maar wat nie op die vasteland voorkom nie” (Ryke 1987:29). Voorts het hy ook variëteite van dieselfde dieresoort op die verskillende eilande te siene gekry. Die mees bekende voorbeeld is die verskillende vinkspesies wat hy gesien en versamel het asook verskillende soorte skilpaaie. Darwin het begin wonder oor hoe die verskille kon ontstaan het. Met sy terugkeer in Brittanje moes hy deur ’n magdom data wat hy versamel het, werk. Darwin het by kwekers en teelers aangeklop om te bepaal hoe hulle verskillende soorte van dieselfde blom of dier respektiewelik kweek en teel. Hy het besef dat as mense op ’n kunsmatige wyse kon selekteer, die natuur dit ook kon doen. Die begrippe “kunsmatige seleksie” en “natuurlike seleksie” is gebore. Natuurlike seleksie hang saam met omgewingsveranderinge wat spesies dwing om aan te pas. Om die waarheid te sê, daar is net drie opsies vir spesies beskikbaar: (1) aanpassing, (2) migrering, of (3) uitsterwing.

Iemand anders het egter ook gesit en broei op ’n klomp data wat hy op ’n rondreis versamel het. Die persoon was Alfred Wallace (1823–1913). Hy was ’n jonger tydgenoot van Darwin en soos hy, geïnteresseerd in die biologie. In Februarie 1855 het hy ’n artikel geskryf met die titel “On the Law which has Regulated the Introduction of New Species.” Hierdie artikel het die beginsels van evolusie uiteengesit. Charles Leyell het dit gelees en vir Darwin gewys. Hy was egter nie baie beïndruk daarmee nie, maar dit het waarskynlik ’n invloed op hom uitgeoefen. Hy het besef dat iemand besig was om hom met soortgelyke navorsing besig te hou. Lyell het vir Darwin aangemoedig om sy idees so spoedig moontlik te boek te stel, maar Darwin was huiwerig omdat hy geoordeel het, dat hy nog nie alles mooi in kruike en kanne gehad het nie. Na regte was hy al in 1844 gereed om sy bevindinge bekend te maak en het hy ’n manuskrip van etlike bladsye reeds voltooi. Hy skryf in Januarie van daardie jaar aan ’n vriend: “At last gleams of light have come, and I am almost convinced (quite contrary to the opinion I started with) that species are not (it is like confessing to a murder) immutable, unchangeable” (vgl. Ryke 1987:31). Maar Darwin sou vir ten minste nog vyftien jaar met sy insigte en die data wat hy versamel het, stoei voordat hy ’n boek oor evolusie (of soos hy dit genoem het “descent with modification”) sou publiseer (Bryson 2005:483).

In Junie 1858 ontvang hy ’n brief van Wallace (die twee het met mekaar begin korrespondeer). Die brief het ook die ongepubliseerde artikel “On the Tendency of Varieties to Depart Indefinitely from the Original Type” bevat. Die prikkel tot die skryf van hierdie artikel het hy van Thomas Malthus ontvang (Moore 2000:126). Malthus het geargumenteer dat menslike populasies beperk word deur voedselvoorsiening. Hy het daarop gewys dat mense dikwels ’n groter nageslag voortbring as wat hulle en hul omgewing kan onderhou. Gevolglik lei dit tot hongersnood en dood. Wallace het besef dat indien dit wel die geval was, dit gewoonlik die sterkstes was wat oorleef het. Die swakkes sal gewoonlik eerste sterf. Die sterkstes dra dan hul goeie eienskappe aan die volgende geslag oor. Toe Darwin die artikel lees, het hy besef dat hy in ’n penarie sit. Hy het besef dat Wallace se sieninge feitlik 100% met syne ooreenstem. Charles Lyell en Joseph Hooker het besluit om Darwin uit sy penarie te help deur sy insigte (soos in sy 1844 manuskrip uiteengesit) en Wallace se insigte (soos in sy artikel van 1858 uiteengesit) by die “Linnean Genootskap” se kongres in Londen voor te dra. Hierna moedig hulle Darwin aan om sy idees so gou moontlik te publiseer anders spring Wallace hom dalk nog voor. Sy boek The Origin of Species by Means of Natural Selection, or the Preservation of Favoured Races in the Struggle for Life verskyn gevolglik op 24 November 1859 en die eerste oplaag van 1 250 boeke is nog dieselfde dag uitverkoop. Op hierdie manier het Darwin nie slegs die eerste boek oor evolusie langs die weg van natuurlik seleksie gepubliseer nie, maar is sy naam vir ewig aan hierdie teorie gekoppel. Wallace moes tweede viool speel, maar hy het Darwin as sy meerdere erken en toegegee dat Darwin oor ’n langer periode met die saak gestoei en ook oor meer data beskik het. Wat wel interessant is, is dat Wallace tog bly glo het dat die mens sy verstand, denke en redeneervermoë nie langs die weg van natuurlike seleksie gekry het nie, maar langs die weg van goddelike ingrype (Weinert 2009:121, 132–133). Darwin het hieroor egter ander sienings gehuldig. Ook die menslike verstand en redeneervermoë is die produk van natuurlike seleksie.  “If humans must trace their origins to earlier animal forms of life, then the emergence of both brains and mind must yield to evolutionary explanations” (Weinert 2009:121). In sy boek The Descent of Man (1871) het hy sy teorie uitgespel dat die mens verwant is aan die primate en dat hulle ’n gesamentlike voorouer moes gehad het. Dit was ’n heel moedige stap omdat geen ander mensfossiele behalwe die van die Neandertallers op daardie stadium beskikbaar was om tot so ’n konklusie te kom nie. Die eerste skedel van ’n Neandertaller is in 1856 naby Düsseldorf in Duitsland ontdek. Alhoewel Darwin op daardie stadium geen grond behalwe sy teorie onder sy voete gehad het, het hy die vermoede uitgespreek dat die mens oorspronklik uit Afrika kom.

Wat ons nie buite rekening kan laat nie is dat daar gedurende die agtiende en negentiende eeu interessante ontwikkelinge op die terrein van die geskiedwetenskap plaasgevind het. Europeërs het gedurende hierdie eeue ’n historiese bewussyn ontwikkel. ’n Historiese bewussyn is een wat daarvan bewus is dat die verlede nie presies soos die hede gelyk het nie. Die verlede is ’n totaal ander wêreld. Volgens Allan Richardson (1964:41) het die mense van die sewentiende en agtiende eeu in twee oorvleuelende wêrelde geleef: aan die een kant die moderne wêreld van die natuurwetenskap en aan die ander kant die Middeleeuse wêreld met sy sieninge van die menslike geskiedenis. Baie geleerdes wat gedurende die sewentiende en agtiende eeu geleef het, het geglo dat die geskiedenislyn wat aan die hand van die Bybelse gegewens opgestel is, vasstaan: Adam was die eerste mens en die skepping het 4 004 v.C. plaasgevind.

 

2.         Gevolge vir die Christelike geloof


Charles Darwin word soms die Nikolas Kopernikus van die biologiese wetenskappe genoem. Die rede? Die omwenteling wat Darwin in die biologiese wetenskappe teweeggebring het, is vergelykbaar met die omwenteling wat Kopernikus in die sterrekunde teweeggebring het. Beide hierdie geleerdes het Westerlinge se sienings van hulself en hul wêreld radikaal verander. Hul teorieë het egter ook die verstaan van die Bybel en die meesterverhaal van die Christelike geloof uitgedaag. Terwyl die Christelike kerke Kopernikus se teorie dat die aarde om die son draai al aanvaar het, sukkel hulle nog om Darwin se teorie te aanvaar. Die rede waarom teoloë en gelowiges weerstand bied, hang saam met die feit dat die Christelike meesterverhaal verweef is met die antieke drieverdieping heelal, die antieke siening van hoe plant- en dierepesies geskep is en die plek wat die mens in die skepping inneem.

Tydens Darwin se leeftyd het die deursnee Westerling geglo dat die aarde 4 004 v.C. geskep is. Voorts dat al die plant- en dierespesies waarvan hulle geweet het oorspronklik só deur God geskep is.

Die idee dat die aarde in 4 004 v.C. geskep is, het hulle van die Ierse biskop James Ussher (1581–1656) gekry. Hy het die geslagsregisters in die Bybel noukeurig bestudeer en allerlei wiskundige berekeninge gedoen voordat hy hierdie siening van hom bekend gemaak het. Dit het so waar en betroubaar gelyk dat hierdie datum sedert 1701 in die Authorized Version (ook bekend as die King James Version) van die Bybel opgeneem is.

Die siening dat alle bestaande plant- en dierespesies oorspronklik só deur God geskep is, het mense as ’t ware met moedersmelk ingekry. Anne Primavesi vat dit mooi saam wanneer sy skryf: “In the era after Aristotle and before Darwin, the fixity of species was a core belief.”

Afgesien van hierdie idees was daar ook die idee dat daar ’n vaste orde en rangorde in die skepping bestaan. Mense het gepraat van “The Great Chain of Being”. Hierdie idee kan deur middel van ’n leer voorgestel word. Net soos daar verskillende sporte op ’n leer is, so is daar verskillende “sporte” ingebou in die plant- en dierelewe en die mens beklee die hoogste sport. Die idee van perfeksie hou ook hiermee verband. Visse het vinne en kiewe want hulle is perfek gemaak vir die omgewing waarin hulle moet leef en oorleef. Voëls is met vere geskep sodat hulle kan vlieg. Hulle is op hul beurt perfek gemaak vir die omgewing waarin hulle moet oorleef. Dit geld dan van elke ander plant- en dierespesie op aarde asook van die mens.

Hierdie idee van orde en rangorde en ewige onveranderlikheid is selfs in geestelike liedere uitgedruk. Vergelyk byvoorbeeld die bekende lied “All things bright and beautiful” wat deur C.F. Alexander geskryf is en waarvan ’n gedeelte soos volg lui: 

The rich man in his castle,
The poor man at his gate,
God made them high and lowly,
And ordered their estate.

Daar is nie toevallig ryk en arm mense in ’n samelewing nie. Nee, God wys aan elke mens ’n vaste plek in die samelewing toe. As jy as ’n slaaf gebore is, moet jy vir lief neem daarmee. As jy tot die adelstand behoort en ryk is, is dit aan God te danke. Hierdie idee het mense uit die Bybel afgelees. Hulle het hul onder andere op die eerste skeppingsverhaal in Genesis beroep. God het alles in ses dae geskep en dis duidelik dat daar ’n rangorde in die skepping bestaan. Die skeppingsverhaal begin immers eers met die skep van die aarde voordat die plante geskep word. Na die plante kom visse en ander waterdiere aan die beurt. Dit word opgevolg met die skep van landdiere voordat die mens aan die beurt kom. Net van die mens word gesê dat hy/sy die beelddraer van God is (Gen 1:27). Voorts word die mens beskryf as die kroon van die skepping — hy is “’n weinig minder as ’n goddelike wese” (Ps 8:6). Hulle ontvang ook die taak om oor alles in die skepping te heers (Gen 1:26).

Darwin se teorie van evolusie langs die weg van natuurlike seleksie het hierdie sienings uitgedaag. Eerstens het hy die standpunt van die geoloog Charles Lyell (1797–1875) aanvaar dat die aarde baie oud is. Tweedens het hy afskeid geneem van die idee dat plant- en dierespesies ewig en onveranderlik is. Derdens het hy die idee van lineêre en progressiewe evolusie verwerp. Sy siening kan as vertakkende evolusie (“branching evolution”) voorgehou word. Vierdens het hy die idee dat die mens die eindpunt van lineêre en progressiewe evolusie is, nek omgedraai. Laastens het hy afskeid geneem van die idee van ontwerp (“design”). Dit is dus te verstane dat biskop Samuel Wilberforce (1805–1873) hom verplig gevoel het om Darwin se teorie van evolusie langs die weg van natuurlike seleksie teen te staan. Sedertdien het verskeie ander teoloë en gelowiges hulle by Wilberforce aangesluit en teruggegryp na die sienings van die teoloog William Paley (1743–1805). Hy het in sy boek Natural Theology die siening voorgestaan dat die natuur na regte ’n Skeppergod veronderstel. Alles is so mooi en pefek geskep dat dit ontmoontlik is om te ontken dat daar ’n Skeppergod is. Darwin moes hierdie boek tydens sy studiejare as toelogiestudent aan die Universiteit van Cambridge bestudeer en was aanvanklik baie beïndruk met Paley se argumente, maar hy het later daarvan afskeid geneem.

 

3.            Slot 

Die evolusieteorie soos Darwin dit bedink en in sy boeke The Origin of Species by Means of Natural Selection (1859) en The Descent of Man (1871) beskryf het, het hom oor die afgelope honderd en vyftig jaar as betroubaar bewys. Baie Christene sukkel steeds om daarmee vrede te maak. Hulle sal soms ’n hoër ouderdom vir die aarde aanvaar, maar die konsekwensies wat hierdie teorie vir die Augustiniaanse paradigma van sondeval—verlossing—eindoordeel inhou, ignoreer of systap. Neem die volgende as voorbeelde:

1.    Die tradisionele Christelike geloof aanvaar dat slegs mense na God se beeld geskep en gevolglik die kroon van die skepping is. [Hoe kan slegs húlle beelddraers wees as hulle uit ander lewensvorme geëvolueer het? Hoe kan hulle die kroon wees as daar nie lineêre en progressiewe evolusie bestaan nie, maar slegs vertakkende evolusie?]

2.    Dit aanvaar dat daar êrens in die verre verlede ’n Adam en Eva bestaan het wie se dade tot ’n sondeval en dood gelei het. [Dood hang nie saam met ’n sondeval nie, want alle vroeëre spesies het gesterf — selfs nog voordat daar mense op aarde was. Dood is noodsaaklik vir die instandhouding van lewe op hierdie planeet. Sonder dood sou hierdie planeet homself al doodgewurg het.]

3.    Die mens het ’n Verlosser nodig wat onaangetas deur die erfsonde is. Slegs só ’n Verlosser kan die bose kringloop van die sondeval omkeer. [Daar bestaan nie so ’n kringloop nie. Dis ’n teologiese konstruksie van Augustinus (354–430) wat met sy eie seksualiteit nie vrede kon maak nie. Buitendien, sou Jesus as ewige Seun van God werklik mens geword het, dan besit die Drie-eenheid tans iets wat Hy nie vroeër gehad het nie. Nie slegs die genetiese materiaal van homo sapiens nie, maar van alle vroeëre lewensvorme.]


Kreasioniste is korrek wanneer hulle daarop wys dat die evolusieleer groot gevolge vir die tradisionele Christelike teologie inhou. As Christene egter maar net wil snap dat dáárdie teologie die skepping van teoloë uit die vierde en vyfde eeu is, kan ’n nuwe teologie wat anders na die mens en die aarde kyk, wortel skiet. Tot dan sal daar egter altyd spanning tussen die evolusieleer en die tradisionele Christelike geloof bly bestaan en sal Christene steeds die standpunt huldig dat die mens die spil is waaromheen alles op aarde draai. ’n Verantwoordelike groen teologie is moeilik met só ’n siening te rym.

 

Bibliografie

 

Ayala, F.J. 2006. Darwin and Intelligent Design. Minneapolis: Fortress. (Facets.)

Bowler, P.J. 1987. Theories of Human Evolution: A Century of Debate, 1844–1944. Oxford: Basil Blackwell.

Bowler, P.J. 2007. Monkey trials and gorilla sermons: Evolution and Christianity from Darwin to Intelligent Design. Cambridge: Harvard University Press.

Bryson, B. 2005. A Short History of Nearly Everything. London: Transworld Publishers.

Chadwick, O. 1972. The Victorian Church, Part Two: 1860–1901. London: SCM.

Degenaar, J.J. 1965. Evolusie en Christendom: ’n Opstel oor Teilhard de Chardin. Kaapstad: Simondium-uitgewers.

Dowe, P. 2005. Galileo, Darwin and Hawking: The Interplay of Science, Reason, and Religion. Grand Rapids: Eerdmans.

Greene, J.C. 1980. The Kuhnian Paradigm and the Darwinian Revolution in natural History, in Gutting, G. (ed.) Paradigms and Revolutions: Appraisals and Applications of Thomas Kuhn’s Philosophy of Science, 198–320. Nortre Dame: University of Notre Dame Press.

Grigg, R. 2008. Beyond the God Delusion: How Radical Theology Harmonizes Science and Religion. Minneapolis: Fortress.

Humphreys, C. 1985. Creation and Evolution. Oxford: Oxford University Press. (Studies in Christianity and Science.)

Johnson, P. 1991. Darwin on Trial. London: Intervarsity Press.

Kennedy, P. 2006. A Modern Introduction to Theology: New Questions for Old Beliefs. London: I.B. Tauris.

Leaves, N. 2006. The God Problem: Alternatives to Fundamentalism. Santa Rosa: Polebridge.

Mayr, E. 2000. Darwin’s Influence on Modern Thought. Scientific American, July 2000, 79–83.

Moore, P. 2005. Discoveries and Inventions That Changed Our World: The pioneers of modern science — what they did and why it matters. London: Apple.

Primavesi, A. 2000a. Sacred Gaia: Holistic Theology and Earth System Science.  London: Routledge.

Primavesi, A. 2000b. Theology and Earth System Science, in Parsons, S.F. (ed), Challenging Women’s Orthodoxies in the Context of Faith, 21–34. Hants: Ashgate.

Primavesi, A. 2003. Gaia’s Gift: Earth, Ourselves and God After Copernicus. London: Routledge.

Richardson, A. 1964. The rise of modern biblical scholarship and recent discussion of the authority of the Bible, in Greenslade, S.L. (ed.) The Cambridge History of the Bible 3: The West from the Reformation to the Present Day, 294–338. Cambridge: Cambridge University Press.

Ruse, M. 2001. Can a Darwinian Be a Christian: The Relationship Between Science and Religion. Cambridge: Cambridge University Press.

Ryke, P.A.J. 1987. Evolusie. Potchefstroom: Departement Sentrale Publikasies, PU vir CHO. (Wetenskaplike Bydraes van die PU vir CHO.)

Weber, G. 1998. I believe. I doubt. Notes on Christian Experience. London: SCM.

Weinert, F. 2009. Copernicus, Darwin, & Freud: Revolutions in the History and Philosophy of Science. Chichester: Wiley-Blackwell.

Williams, P.A. 2008. Science and the Bible in Dialogue III: In the end (Biology). The Fourth R 21 (6), 15–21, 30.

Young, D.A. & Stearley, R.F. 2008. The Bible, Rocks and Time: Geological Evidence for the Age of the Earth. Downers Grove: InterVarsity.

Christelik-tradisionele en eietydse mensbeskouing

Chrizanne van Eeden 4 Maart 2007
 

Die opsomming van Chrizanne van Eeden se voordrag is in 'n Adobe PDF of Microsoft Powerpoint formaat beskikbaar:

  • Adobe PDF (212 KB) Om PDF lêers te lees moet jy Adobe Acrobat Reader aflaai.
  • Microsoft Powerpoint (329 KB)

INLEIDING:

  • In aansluiting by Sakkie Spangenberg se skets van die tradisioneel Christelike mensbeskouing van 21 Januarie: onthou julle nog die Christelik-Nasionale mensbeskouing wat vir sowat drie dekades op ons afgedwing was.
  • Ek wonder of die rasionaal was dat vir die Christelik Calvinistiese beskouing van die mens as minderwaardig, gekompenseer kon word met ‘n Nasionale (sosio-kulturele en sosio-politiese) meerderwaardigheid?
  • Dit daar gelaat – kom ons kyk na hoe ons siening van mense gevorm word.

HOE BEKOM ONS ‘N MENSESIENING?

Mensbeskouing is nie aangebore nie maar word aangeleer, gesosialiseer, geïnternaliseer en deur neurologiese werking geassosieer. NB: In al die, grootliks onbewuste sielkundige prosesse, is die mens ‘n aktiewe agent of bestuurder. Meer hieroor later.

  • Die breinwerking en mensbeskouing

‘n Mens het 100- tot 200 duisend miljoen neurone in die sentrale senustelsel (sensoriese, motoriese en assosiasie neurone), met assosiasie neurone by verre in die meerderheid. Assosiasiepatrone is nie aangebore nie, maar ontwikkel geleidelik deur middel van skemas of raamwerke waarin alles wat ons waarneem, ervaar of aanleer geberg word, asook deur prototipes, modelle of figuurlike voorstellings van alle konsepte en objekte. Die brein bou skemas en prototipes deur voortdurende psigies-kognitiewe prosesse van inligtingsortering en kategorisering, vergelyking en soortsoeke en integrasie of indrukvorming. Dit wat bekend is kry altyd voorkeur.
So help die brein ons sin maak van ‘n andersins oorweldigende massa waarnemings en indrukke, veral met betrekking tot die mense om ons – hoe hulle is, wat en waarom hulle doen wat hulle doen, wat dit beteken en veral hoe dit ons raak. Vanweë die magdom indrukke en uiterste kompleksiteit van die inligting neem ons kognitiewe prosesse dikwels kortpaaie wat tot voorkeure, selektiewe aandag aan inligting en selfs onakkurate denke en oortuigings lei. Dit alles manifesteer in ons kennis- en ervaringsraamwerke waarvan mensbeskouing een is. Mensbeskouing – ons denke oor en gesindheid teenoor ander, word geskakeer deur ons vooroordele, terughouding en stereotipering of deur ons openheid, gemak en vryer assosiasie, en dit weerspieël ook konteks-, situasie- en groepspesifieke eienskappe.

  • Sosialisering en sosiale leerprosesse

Verweef in die waarneming- en indrukvormingsprosesse is ook ons sosialiseringsprosesse. Ons is kuddediere en daarvolgens neurologies bedraad. Sosiale leer (dit wat ons waarneem in ander en wat deur belangrike ander aan ons oorgedra word), is van die vinnigste, sterkste en blywendste leerprosesse (dit is byvoorbeeld bekend dat rassistiese gesindhede deur kinders voor die ouderdom van drie jaar reeds aangeleer word). Die brein se leersentra verkies eendersheid, soortgelykheid, bekendheid ens. om raamwerke te skep en inligting te verwerk en aan ons terug te voer. So ontstaan die “ons vs. hulle”-houdings en ons ongemak – selfs vrese – met betrekking tot andersheid in mense.
Veroordelende gesindhede, sosiale uitsluiting en ook die stereotipes wat in ons sosiale -ismes manifesteer, spruit uit hierdie kognitiewe ongemak en denkslordigheid wat ons beetpak as iets “anders” is. Kan u verstaan waarom die Christelik-nasionale mensbeskouing so suksesvol op ons afgedwing is en ons dit so maklik geïnternaliseer het?

  • Die Self as uitvoerende bestuurder

Deur al die voorgenoemde prosesse ontstaan daar ‘n unieke, outonome, geïntegreerde identiteit, ‘n ego of persoonlikheid bekend as “EK”. Die Self staan as aktiewe agent tussen hierdie noodsaaklike innerlike psigiese prosesse en die realiteit van die lewe, konteks, situasie ensovoorts, daarbuite. Die self kan weeg, oorweeg, interpreteer, insig bekom, keuses maak, besluite neem en veral verander na aanleiding van dieper denke. Selfsiening en die vermoë om anders as die prototipes te dink en dan te kies, is sleutelbegrippe hier. Ons kan kies: - of ons outentiek wil wees en of ons ander wil toelaat om ons te beheer, - of ons eienaarskap wil neem en of ons ondergeskik wil leef, - of ons wil dink en bevraagteken en of ons volgens voorskrifte en inskiklik wil bestaan. Iemand, ek dink dit was Maslow, het aan jongmense gesê “I warn you today, if you choose to live a life according to the instructions of other people, if you rely for your happiness on those around you, if you do not fully own who you are and live authentically true to yourself, you will be deeply troubled for the rest of your life”. Selfsiening bepaal mensesiening en hoe oper en gemakliker mense in en met hulself is, hoe minder word hul mensesiening bepaal deur invloede van kultuur, opvoeding, sosiale strukture en vreemdheidsbelewing.

‘N MODERNE MENSBESKOUING

  • Waardes – ‘n Eietydse mensbeskouing is gemaklik geweef rondom universele waardes soos:
    • ‘n Soeke na wysheid en kennis,
    • Lewensmoed en -dapperheid,
    • Menslikheid en medemenslikheid,
    • Geregtigheid,
    • Selfbeheersing en gematigdheid en
    • ‘n Sin vir die transendente.
  • Outentiek – mensbeskouing is gebaseer op ‘n eg en eerlike relasie met die self wat eienaarskap kan aanvaar vir eie denke, keuses en gedrag.
  • Dinamies – mensbeskouing groei voortdurend, is nie staties en rigied nie en word gekenmerk deur ‘n uitbreiding van eie perspektiewe en ‘n oorwinning van vrese vir andersheid of anderswees.
  • Aanpasbaar – mensbeskouing reflekteer aanpasbaarheid en het kontekstuele, situasionele en ander diverse aanpassingskenmerke.
  • Mensbeskouing vertoon die bereidwilligheid om te bevraagteken en bevraagteken te word, om te staan as “a set of attitudes for living, a manifesto, rather than an imposed rule book for relations” (Baro & Byrne, 2005).

 

AttachmentSize
Mensesiening.pdf211.94 KB
Mensesiening.ppt329.5 KB

Christelik-tradisionele en eietydse mensbeskouing van die man

Wilhelm Jordaan
18 Maart 2007

1. INLEIDING: MANS IS VAN MARS EN VROUE IS VAN VENUS

Die vertrekpunt in een van die populêrste boeke van ons tyd Men are from Mars/Women are from Venus, geskryf deur die Amerikaner John Gray, is dat mans en vroue onherroeplik van mekaar verskil. Om hul verhoudingslewe te verbeter en die manlike en vroulike rolle te beoefen, is dit volgens hom allereers nodig dat mans en vroue dié verskille erken en dán probeer uitwerk hoe hulle gelukkiger kan saamleef.

Uit die populariteit van Gray se selfhelpboek en die alledaagse diskoerse oor die “ware aard” van mans/seuns en vroue/meisies kan mens aflei dié soort opvatting word nog wyd gehuldig.

‘n Mens kan Gray se boek dan verstaan as die maksimalisering van verskille tussen mans en vroue en dat man-wees in die 21 ste eeu  slegs verstaan kan word as dat mans volledig anders as vroue is.

Ek wil dié algemeen aanvaarde idee anders inklee deur te sê man-wees kan net verstaan word in die konteks van vrou-wees en die geskiedenis wat aan die opvatting oor radikale verskille beslag gegee het. Eers as ons dit in hart en niere begryp, sal ons begin verstaan wat man-wees in die 21ste eeu kan wees.    

My vertrekpunt is dat die oënskynlik onherroeplike verskille tussen mans en vroue wesenlik  stereotiperings is waarvan die oorsprong vêr terug in die mens se geskiedenis lê. Soos met alle stereotiperings die geval is, is hulle nie noodwendig volledig onwaar nie, maar kom neer op oorveralgemenings wat ander moontlikhede verswyg of onderdruk.

2. BIOLOGIE VAN MAN-WEES

Die elementêre biologie van man-wees – dat die man sterker, vinniger en kragtiger as die vrou is – moet alleers geplaas word in die raamwerk van ‘n oerbeeld wat tegelyk die mistiek van en die beweerde verskille tussen mans en vroue onderlê.

Die oerbeeld: Die man het die vrou geneem, sy saad gestort en sy het dit ontvang. ‘n Kind is verwek en word deur die vrou gesoog en versorg, en dit is die manier wat vas en klaar deur die “natuur” gegee is.

Hou in gedagte vir ons gesprek dat dié biologiese gebeure of feit steeds verstaan word as as die rudimentêre grondslag van man-wees en vrou-wees. 

Hoe beleef vroue dié rudimentêre toedrag? Naas vroue wat dit as ‘n onveranderbare lewensfeit aanvaar, is daar ander moontlikhede. ‘n Voorbeeld:

‘n Vroue-karakter in ‘n roman reflekteer by haarself en verlang na “iets meer” van vrou-wees en in die verhouding tussen man en vrou na eeue se ondergeskiktheid, binne die raamwerk van genoemde oerbeeld. Sy verlang daarna om by die man wat sy liefhet ‘n kind te hê wat in haar ‘n “onnoembare honger” sal stil. En vervolg dan:

“Dié wond. Hoe deurdringbaar is ek. Vrou. Sou ‘n man dit ooit waaragtig begryp? By hom is alles uitwendig; alles hang uit; steier driftig omhoog. Maar ek moet my oopstel, moet hom veroorloof om my in te dring, in my self in, van buite-af, in. Ingeneem soos ‘n stad. ‘n Bres in die muur. En dat ek nie daarsonder wil nie, nie kan nie, maak dit erger.”

‘n Mens sou ure oor die betekenis van hierdie sin kon praat. Dit is ‘n vrou (Andrea Malgas) wat praat, maar die skrywer van die roman is ‘n man – André  P. Brink in die roman, “Die Muur van die Pes.” Wat wel iets sê oor die moontlikheid van begrip – om die posisie en ervarings van ‘n ander mens (‘n vrou) empaties en verbeeldingryk jou eie te maak.  

In ‘n heel ander trant lamenteer die digter Marge Pierce met sinisme oor dié oerbeeld en sy implikasies in die gedig “Meaningful exchange”:

The man talks

the woman listens.

The man is a teapot

with a dark green brew

of troubles.

He pours into the woman.

she carries his sorrows away

sloshing around in her belly.

The man swings of lighter.

sympathy quickens him.

He watches women pass.

He whistles.

The woman lumbers away.

Inside his troubles are

snaking up her throat.

Her body curls delicately

about them, worrying, nudging

them into some new meaningful shape

squatting now at the very centre of her life.

How much lighter I feel,

the man says, ready

for business.

How heavy I feel, the woman,

says: this must be love

Kom ons toets hierdie oerbeeld van radikale verskille aan genetiese gegewens. Volgens dr. David Page van die Whitehead-instituut vir biomediese navorsing in Amerika is mans en vroue geneties eintlik baie eenders. Wat dus geneties in die man is, is ook in die vrou aanwesig. Die enigste werklike verskil lê in die 23ste geslagsbepalende chromsoompaar (XX = vrou en XY=man) wat die unieke geslagskenmerke en kragverskille van vrou en man voortbring, hormonale verskille en asook seksuele oriëntasie wat kan manifesteer in heteroseksualiteit en homoseksualiteit.

 

Dit is so dat mans na verhouding meer testosteroon (of androgeen) produseer en vroue meer estrogeen. Maar dié hormone, asook ander, is nie uniek aan net man en vrou nie. Dit wat in die man is, is ook in die vrou. Hoe hierdie hormone verband hou met gedrag wat as tipies “manlik” (byvoorbeeld aggressief en mededingend) en tipies “vroulik” (byvoorbeeld onderdanig, versorgend en sag) beskou word, word egter sterk beïnvloed deur roltoewysings en verwagtings kenmerkend van die stereotiperende patriargale diskoers.

Genetiese ooreenkomste tussen man en vrou het bepaalde implikasies. Só byvoorbeeld reken bioloë/sielkundiges soos Rose, Lewontin en Kamin dat al is dit so dat net ‘n vrou geboorte kan gee en soog, is die idee dat vroue kinders móét versorg, vertroetel en grootmaak ‘n patriagale voorskrif en nie ‘n biologiese noodwendigheid nie. Mans sou die grootmaak van kinders ook kon doen in ‘n samelewing wat dit aanvaar en goedkeur. 

En verder dat mans en vroue se seksuele identiteitsontwikkeling, ongeag die geneties-bepaalde seksuele kenmerke en hormoonvlakke, van die vroegste ouderdom af  ten nouste verband hou met sielkundig-kulturele verwagtings en norme. Susan Greenfield, ‘n professor in sinaptiese farmakologie, sluit hierby aan deur te sê daar is baie “oorywerigheid” by mense wat glo jy is wat jou genetika voorskryf. By wyse van spreke reken diesulkes genetika het die man onherroeplik tot “Mars” en die vrou onherroeplik tot “Venus” verban. In terme van die voorafgaande uiteensetting blyk dit nie sonder meer geldig te wees nie.

Volgens Greenfield geld juis die teendeel as ‘n erkende wisselwerkingsbeginsel in ag geneem word, naamlik: Hoe hou ‘n bepaalde geen, ook dié wat met seksuele identiteit te make het, verband met die funksies van 1 miljoen ander gene, 100 000 voortdurend wisselende breinverbindings en insette uit die omgewing (dinge soos kulturele voorskrifte, verwagtings en norme)?

3. STEREOTIPERING VAN MAN-WEES

Teen die agtergrond van die gevestigde oerbeeld en die relativering daarvan op grond van genetiese getuienis, is die vraag hoe die idee van ‘n “ware man” en ‘n “ware vrou” wat elk volledig anders is, so ingeburger geraak het as ‘n natuurgegewe?

‘n Soort antwoord moet gesoek word in die wyse waarop die biologiese feit van manwees en vrouwees in die mens se geskiedenis omgewerk is tot patriargale ordening, die verset daarteen en die gesamentlike konsekwensies daarvan.

Wat gebeur het in die eeue-oue ontplooiing van die verhouding tussen man en vrou is dat die biologies-gegewe en opvallende groter fisieke krag van die man geneem is as die verwysingspunt vir seksuele en ander roltoewysings aan man en vrou.

Saam daarmee het ‘n diskoers ontstaan wat oor die eeue tot vandag toe verfyn is en voorskryf wat die verskille tussen mans en vroue is. Dié diskoers dikteer dan wat die “ware aard” van man en vrou is  – soos dit gedra word deur ouerlike opvoeding (seun, wees soos pa; dogter wees soos ma), huweliksberading, huweliksformuliere, die populêre raadgeebedryf in glanstydskrifte, in TV-sepies en rolprente, in advertensies en deur grappies rondom teetafels, braaivleisvure en in kroeë. En dit sluit in hoe mans en vroue hul seksuele identiteit, en alles wat daarmee saamgaan, móét beleef en tot uitdrukking mág bring. 

In die proses is manwees en vrouwees gestereotipeer volgens die opvatting dat die verskille tussen hulle biologies bepaald is. Vandaar die vele stereotipes oor eksklusief manlike eienskappe – selfgeldend, mededingend, avontuurlik, aggressief, onafhanklik, rasioneel en taakgerig. En insgelyks eksklusiewe vroulike eienskappe – dat hulle sensitief, sag, ondersteunend, simpatiek, afhanklik, lief vir kinders, emosioneel en mensgerig is.

Wat interessant is, in ‘n moderne perspektief, is navorsing wat sê dat dié stereotipes tot vandag toe nie wesenlik verander het nie en steeds die “tradisie” is.

Saam met sterotipering kom normgewende stellings soos: ‘n Vrou/man se plek is tog….; Vroue/mans kan tog nie dieselfde….; my vroulike intuïsie sê; my manlike ego dikteer…; ensovoorts. Sulke opvattings oor die inherente biologies-gegewe eienskappe van mans en vroue word subtiel van geboorte af ingeskerp, en algaande word seuns en dogters in ‘n knyptang geplaas om te leef volgens die verwagtings én die illusies rondom “dienende Martha’s” wat maar mag huil as hulle so voel en “verowerende Sarels” wat dapper moet wees en nie mag huil nie.

Is mans bewus daarvan hoe hulle gestereotipeer word? Dat dit hulle in ‘n knyptang plaas van die opvatting dat jy ‘n man is omdat jy jou soos ‘n man gedra – waar die gedrag voorgeskryf word? En dat die stereotipering tot hul skade is?

Ek het geen twyfel dat dit al meer die geval word nie. Twee voorbeelde – albei tragies-komies. In sy roman “Voor ek vergeet” skryf André P Brink: “Ek kan die dae onthou wanneer geluk daaruit bestaan het om in ‘n modderkol op die rugbyveld in die grond ingeboor te word en byna verdrink te word in 5cm modderwater, met vier of vyf of agt man wat bo-op my sit en my enkels draai of knieë in my lieste druk of my balle probeer verpulp of happe uit my ore byt of in my gesig poep. Dit was mos waarom manwees gedraai het; het dit sin en substansie daaraan verleen, dit was die lewe.”

Plaas hiernaas die gedig van Jan de Bruyn (wat onlangs oorlede is) waarin hy dink oor die begrafnis van sy ma:

Maar in die skare stilte

Was sy nêrens nie

Later het dit wel weer dag geword

‘n more vreemd vol son en duiwe

in die bome

maar in dieptes gans verlore

het ek onder gesang

ver agter snikke en stemme afgedaal

en in ‘n sakdoek wat my moeder lank gelede

met ‘n ander weggaan

in my hand gedruk het

het ek weer soos ‘n kind

maar onhoorbaar soos ‘n man

in haar arms gehuil.     

Huil, ja – maar onhoorbaar soos ‘n man (dit behoort te doen).

4. DIE OORHEERSENDE NORMGEWEWENDE EN MEDEDINGENDE DISKOERSE OOR MAN-WEES

Ek het heel aan die begin gesê stereotiperings is nie noodwendig volledig onwaar nie, maar kom neer op oorveralgemenings wat ander moontlikhede verswyg of onderdruk.

Vir die stereotiperings oor man-wees (en vrou-wees) gebruik ek die sterk begrip “fabrikasie” waarmee ek sê stereotiperings is wesenlik uitgedinkte opvattings wat algaande opgeneem word in ‘n normgewende diskoers wat dikteer, soos onse Steve Hofmeyr sou sê: “Dis hoe dit is.” 

En onthou dat stereotipes kragtige vormers van gedrag is. Hulle skep verwagtings, wys rolle toe en word algaande selfvervullende profesieë. Jy word algaande wat ander van jou sê en dink, soos Goethe op ‘n keer gesskryf het.

Waar kom die fabrikasies vandaan? Ek het reeds in die verbygaan verwys na patriargale lewensopvattings. Waarmee die man hiërgies hoër geplaas word as die vrou wat ‘n ondergeskikte posisie laer af in die hiërargie beklee.

Die Franse filosoof Jacques Derrida toon aan dat die ganse westerse filosofiese en populêre denktradisie daarop gemik was om die werklikheid in terme van begrippe-skemas te verstaan of ontleed wat op die keper beskou uit taalmatige, binêre opposisies bestaan: Byvoorbeeld:

Man/vrou

Vader/moeder

Manlikheid/vroulikheid

Onafhanklikheid/afhanklikheid

Mag/onmag ensovoorts

In vele sulke opposisies is dit die versweë veronderstelling dat daar ‘n hiërargiese orde is. Dit beteken dat die eerste term in enige gegewe begrippe-paar (soos man/vrou; vader/moeder; onafhanklikheid/afhanklikheid) ‘n positiewe betekenis het en waardevoller is, terwyl die tweede term (soos vrou; moeder; afhanklikheid) ‘n negatiewe betekenis het en as minder waardevol geag word en dus geringskat kan word.

Mens sou kon argumenteer dat dié soort hiërargiese voorstelling tot groot mate beslag gekry in die Judaïes-Christelike tradisie, soos dit onder andere in die Bybel aangeteken staan, en wat nog steeds as basis dien vir die normgewende diskoers.

Om maar een voorbeeld te noem: die verhaal van Ahasveros en Vasti in die boek Ester. Lees dit gerus.

Dié soort patriargale uittings kan vermenigvuldig word uit die Bybel en so ook die toepassing daarvan in die hedendaagse wêreld. Maar terselfdertyd moet mens byvoeg dat daar vele teenvoorbeelde in die Bybel is wat daarop dui dat die patriargie toe al uitgedaag is. So, die verset kom van vêr.  

‘n Sleutelkenmerk van ‘n patriargale hiërargiese opstelling van die wêreld en sy dinge is dat taal ‘n magtige instrument word om die hiërargie in stand te hou.

Daar is talle taalvoorbeelde van ‘n hiërargies opgestelde, manoorheerste wêreld. Verwys na Dale Spender se werk “Man made language” wat in die 1980’s verskyn het en waarin sy aantoon hoe mans die gebruik van taal manipuleer en tot eie voordeel aanwend – op die versonderstelling dat mans “op die man af” praat en dat vroue net klets. 

Vervolgens bepaal ek my by twee konkrete voorbeelde - idiome of spreekwoorde en limericke.

In haar boek “Source of all evil: African Proverbs and sayings on women” toon Mineke Schipper in ‘n ontleding van tagtig Afrika-tale aan dat daar ‘n oorwig van negatiewe spreekwoorde is wat vroue voorstel as die bron van alle kwaad; dat hulle soos duiwels is en ‘n las op die man plaas. Terselfdertyd is daar relatief min spreekwoorde oor mans – wat beteken dat vroue se swye en mindere plek ‘n vanselfsprekendheid is en waar mans in beheer van die taal is.

Sulke spreekwoorde word algaande die gangbare volksielkunde, wat onveranderlik bepaal hoe vroue is, hoe hulle hul moet gedra en hoe daar met hulle gewerk moet word. Soos ‘n Shona-spreekwoord inderdaad sê: die een wat beheer het oor spreekwoorde kry sy (sic) sin.

Maar die taalstorie geld, nie verrassend nie, wyer as Afrika. In die “Penguin Dictionary of Proverbs” se 187 kategorieë word een hele kategorie gewy aan vroue, maar daar is nie ‘n aparte kategorie waarin mans getipeer word nie.

Die spreekwoorde oor vroue word onder dertien opskrifte aangebied – meesal negatief. Daar word uitgewy oor die gevaar van die vrou, haar wispelturigheid, impulsiwiteit, huigelary, haar trane, gebrek aan wysheid, beperkte redeneervermoë, haar tong, behoeftes en pligte. Dan is daar ‘n hele groep spreekwoorde oor hoe mans vroue moet hanteer.

Dieselfde patroon kom voor in die “Penguin Book of Limericks.” In die voorwoord word verduidelik dat limerick se sêkrag in die speelse, stout of kru onfatsoenlikheid daarvan geleë is.  Wat insiggewend is dat die wese van ‘n limerick met die vrou vereenselwig word. In die woorde van die manlike spreker, Morris Bishop:

The limerick is furtive and mean

You must keep her in close quarantine

Or she sneaks to the slums

And propptly becomes

Disorderly, drunk and obscene    
   

Al meer vroue is vandag intens bewus van die dominante manstaal waarmee hulle getipeer word en tot mindere mense gereduseer word. Vandaar werke soos Alicia Ostrikert se boek met die veelseggende titel “Stealing the language” waarin gepoog om anders oor vroue te praat en nuwe lewensmoontlikhede vir vroue én mans te bedink.

Ook in Afrikaans word die “steel” van die taal deur vroue sigbaarder. In die verhaalbundel deur vroue-skrywers Vrou:mens ,saamgestel deur Corlia Fourie (1992), is die invoeging van die leesteken ná “vrou” beduidend. Want vrou dubbelpunt mens beteken dat die enigsins pejoratiewe betekenis van die samestelling “vroumens” gerelativeer word – soos dit gebruik word in die (manlike) versugting: “Ai, julle vroumense darem.”

Die leesteken vestig die aandag op ‘n onlosmaaklike verband  tussen die begrippe; dat die identiteit “vrou” allereers verstaan en verduidelik moet word binne die kader van die identiteit “mens.” Dus: dat “vrouwees” nie begryp moet word in teenstelling met, of in ooreenstemming met “manwees” nie, maar allereers as  “menswees.”

In ‘n Klaaglied vir Koos deur Lettie Viljoen, oftewel Ingrid Gouws (1984), dink die verteller hoe moeilik dit is om haar van haar man los te maak ná jare se passiewe vereenselwiging met sy beskikkingsmag en denkwyses: “… na haar man se vertrek is sy sonder identiteit, is sy naamloos, is sy verward: ‘My liewe man, jou bitter en swart venyn was my verwysingsraamwerk…’ En dan wens sy dat dit anders was: ’As ek toegang gehad het tot ‘n ondergrondse/subversiewe/alternatiewe diskoers om jou posisie aan te dui. As ek dan voorts my beperkte posisie kon oorskry/oorstyg deur die gebruik van hierdie subversiewe/alternatiewe taal…’ ” 

Juis die taal word die instrument om vroue se identiteit as mens te bevestig en van daaruit verkennings te doen oor ‘n nuwe ervaring van hul waarde, hul liggaamlikheid met insluiting van erotiese en seksuele begeertes, en die verset teen patriargale opvattings daaroor. In dié verband verteenwoordig byvoorbeeld Alicia Ostriker se Stealing the language; die bundel Ladies’ Home Erotica (1984); en die Afrikaanse versamelbundel van gedigte Die dye trek die dye aan (1998) - waarin mans en vroue bydraes lewer oor “lyflike liefde” -  betekenisvolle, grensverskuiwende uitdrukkings van erotiese taalontginning deur vroue.

Wat al hierdie dinge sê, is dat daar algaande ‘n mededingende diskoers ontstaan het wat deur vroue, en soms ook deur mans, gevoer word en wat patriargale opvattings en praktyke in elke lewensfeer toets en uitdaag.

Twee belangrike vorme van uitdaging kan getipeer word as regstellende en omverwerpende feminisme:

Eersgenoemde is eerstens onthullend van aard deurdat dit vroue se pyn, lyding, onmag en ontnemings blootlê. Soos Anne Bradstreet dit in 1650 digterlik gedoen het, en daarmee ‘n metafoor bied oor hoe die wêreld van vroue was en te dikwels nog is - in die privaatheid van die familielewe, in sosiale kringe en in die werkplek:

I am obnoxious to each carping tongue

Who says my hand a needle better fits.

If what I do prove well it won’t advance,

They’ll say it’s stolen, or else it was by chance.

Tweedens is regstellende feminisme proaktief eerder as reaktief. Waarmee vroue met gepaste drif sê: ”Ons hou nie van die manier waarop die sisteem werk nie. Dit maak ons seer. Dit benut nie ons vermoëns nie en laat ons sonder mag. Ons gaan dit verander en vra mans om ons te help.”

Die Suid-Afrikaanse grondwet wat aan vroue politieke, ekonomiese, seksuele en artistieke gelykheid toeken, is ‘n produk van samewerkende proaksie. Maar dit is nie ‘n volmaakte instrument nie. Regstelling moet ‘n leefwyse word.    

Hierteenoor word omverwerpende feminisme gedra deur ‘n woedende reaktiewe gees van wrewelrigheid, blamering en ‘n begeerte om oor mans te triomfeer - die bordjies te verhang; dat Derrida se hiëragiese voorstelling as’tware omgekeer word met “vrou” as die eerste en positiefste term. Met die uitgangspunt dat vroue onskuldige slagoffers is van ‘n historiese en voortgaande manlike komplot.

Daar is vele variasies op dié tema waarin vroue voorgestel word as selfgenoegsame, onafhanklike wesens. Só byvoorbeeld skryf Sally Gearhart (in The Future – if there is one – is Female)elke kultuur moet ‘n vroue-toekoms beaam; vroue moet die verantwoordelikheid neem vir die voortbestaan van homo sapiens; en die getal mans moet verminder word tot 10% van die menslike ras; as’tware ‘n klein “teelpoel” vorm.      

Sulke aansprake waarin vroue voorgestel word as die “redders” en mans as die “probleem” ondermyn vroue én mans se proaktiewe suksesse. Juis omdat dit dikwels water op die meul is van mans én vroue wat openlik of heimlik verkies dat die ou patriargale orde van mans maghebbend “bo” en vroue onderdanig “onder” gehandhaaf word.

Welmenende vroue én mans moet hulle hierteen verset. ‘n Beter bedeling vir vroue moet ‘n onstuitbare krag word; ‘n krag wat terselfdertyd die geheim van mans en vroue se gesamentlike menswees bevestig.

Saamgeneem sê dié dinge die volgende: Slegs wanneer mans kennis neem van die aard van die normgewende diskoers oor mans en vroue, hoe dit tot stand gekom het en in stand gehou word, en hoe dit hul menswees beperk, kan daar sprake wees van nuwe moontlikhede vir man-wees en vrou-wees in die 21ste eeu.

Voor ek ‘n paar dinge sê oor die nuwe moontlikhede vir man-wees in die 21 ste eeu eers ‘n nuttige en speelse gevallestudie om die beleërde man van ons tyd wat nog steeds in die kader van patriargie vasgevang is, te verken. Ek noem dit: man, motor en testosteroon. 

5.  MAN, MOTOR EN TESTOSTEROON

Is dit ‘n oorwegend  mansding – om agter die stuurwiel van ‘n motor ‘n voortsnellende, aggressiewe “Mnr. Hyde” te word terwyl die skafliker “Dr. Jekyll”-persoonlikheid by die huis agterbly? Snelstrik en waagstuk keer hom nie en word hy blokkeer, borrel dinge soos doodsveragtende spoed en woede uit ‘n fontein van testosteroon.

Dié vraag kom gereeld by ‘n mens op wanneer jy die jongste berig lees oor ‘n jaagduiwel wat sy rieme styfgeloop het. Gereeld hoor mens van voorvalle waarin mans aangekeer word omdat hulle teen duiselingwekkende spoed gejaag het, of aan straatwedrenne deelneem. Om nie eens te praat van padwoedevoorvalle wat so gereeld soos klokslag voorkom en nou en dan ‘n lewe eis nie.

Dié soort verbintenis met hul motor is sekerlik nie waar van alle moderne mans nie. Maar statistieke lieg nie. Dit is inderdaad oorwegend mans wat motor- en jaagbehep is en weet van “petrol in my hare, petrol in my oë” en “koue, koue Caltex in my voet”, soos die digter George Louw skryf in “Die duister doel”.

Die spoed maak my gedagtes los,

ek speel die spel met ligte,

met petrol in my hande en bang

bang jare in my hart

Die verklaring hiervoor lê in ‘n ineenstrengeling van genetiese, sielkundige en kulturele faktore wat saamwerk om man en motor ineen te rank – soos siel en liggaam.

Sam Keen, ‘n bekende skrywer oor die rites van manlikheid, reken mans het evolusionêr ‘n “krygerpsige” bekom. Dit sê mans het ‘n groter biologiese kapasiteit vir aggressie en vyandigheid wat in woede kan omsit. Dit word onder meer bepaal deur die manlike hormoon, testosteroon, wat sinoniem is met hoër aggressievlakke, impulsiwiteit en ‘n behoefte aan stimulering.

Daarby hou testosteroonvlakke ook verband met die afskeiding van ‘n bepaalde breinensiem (monoamienoksidase) wat weer verbind word met risikoneming, ‘n voorkeur vir spoed en allerlei soorte prikkelsoekende en antisosiale gedrag.

Maar dié geneties gegewe “gereedhede” word ook aangewakker deur eeue oue patriargale kulturele opvattings oor die aard en uitlewing van “ware manlikheid”.

Soos om die ganse lewe (ook die pad) te sien as ‘n strydperk waar van die man verwag word om beheer te neem; heroïes op te tree; avontuur, gevaar en opwinding te soek; kragdadigheid tot ‘n deug te maak; mee te ding; en om die man se sagter vroulike moontlikhede te onderdruk.

Die motorbedryf is radarsekuur op dié krygerpsige ingestel. Al in 1909 - enkele jare nadat Ransom Eli Olds die eerste massavervaardiger van motors (die Oldsmobile) geword het - skryf Filippo Marinetti in sy “Futurist Manifesto” só oor die komende versmelting van mens en masjien, van man en motor:

“We shall sing a hymn to the man at the wheel who hurls the lance of his spirit across the earth, along the circle of its orbit…The world’s magnificence has been enriched with by a new beauty; the beauty of speed. A roaring car… is more beautiful than the Winged Victory.”

Dié verband tussen man, motor, krag en potensie het in die l950’s in die VSA ‘n soort kultus geword. Groot en kragtige Amerikaanse motors soos die Mercury Marauder, die De Soto Adventurer, die Buick Roadmaster en die Nash Lafayette is ontwerp om deur werkverrigting en spoed die man te oortuig dat hy agter die stuurwiel, a la die simboliek van vader Freud, sy vrees vir seksuele impotensie kan besweer en fantasieë van kragdadigheid kan uitleef.

Al is die motorbedryf nou veel meer ingestel op prys, brandstofverbruik en veiligheid, gebruik motorreklame steeds die “taal van manlikheid” om die versmelting van man en motor te in te skerp. Vandaar frases soos die “wegblaaskrag uit die blokke”, “rillings langs jou ruggraat”; die “polsing van adrenalien met elke ratverwisseling”; en dat “net jou hartklop dié enjin kan klop.”

En vroue word nog steeds in advertensies gestereotipeer as die geïmponeerdes wat blinkoog lam in die knie raak en “oe” en “a” oor die polsende man met sy slank, glansende, sidderende motor. Daarmee kom die simboliese suggestie van die samehang van man, motor, vrou, erotiek en viriliteit. Alles deel van die gestereotipeerde verhoudingspel met die man as seksuele “jagter” (ook agter die stuur) en die vrou as die wagtende, ontvangende “prooi.”

Wat dit alles sê in die breë sê, is is dat ‘n motor steeds vir baie mans die vervulling van die manlike krygerpersoonlikheid is; ‘n territorium van mag, seksuele fantasering en vertonerige kragdadigheid.

Maar die einste manlike krygerpsige is in die moeilikheid. Enersyds is daar steeds samelewingskragte wat die uitlewing van die krygerpsige aanpor. Maar andersyds word dit toenemend gediskrediteer en word mans aangemoedig om ander opvattings oor manwees, buite die patriargale voorskrifte, te huldig.

Vele mans beleef dié “nuwe bedeling” as ‘n aantasting van hul manlikheidsbegrip en beleef ‘n rolverwarring – ook in hul tradisionele seksuele jagterrol. Ander is doodgewoon in verset teen wat hulle beleef as “ontmanning” en dra ‘n streslas van algemene ongelukkigheid en ‘n lewenswoede wat na binne gekeer is.

Hierby kan gevoeg word samelewingstres in veelvuldige vorme – soos politieke onmag, die effek van regstellende aksie, die druk om self werk en ‘n inkomste te skep, ‘n algemene gejaagdheid, die toenemende paddrukte in spitstye, gevoelens van onveiligheid weens misdaad en ‘n somber toekomsvisie oor hulself en die gesin.

Saam gelees, beteken dié toedrag dat baie mans op pad werk toe, selfs tydens vakansies, met psigiese “bagasie” in hul motors klim; dat hulle versamelde lewenswoede hul stresweerbaaheid tot die uiterste toe beproef en besonder vatbaar maak vir roekelose padgedrag en alles wat daarmee saamgaan.

In sy essay “Die Vakansieganger” skryf Etienne van Heerden oor die “die pa met witgeklemde kneukels agter die stuur. Hy sit vooroor geboë; die motor ‘n verlengstuk van sy moeë oujaarslyf. ‘n Jaar van uitputting is op sy motor se dakrak opgedoek…”

Die pa se oë trek stip om één gedagte. Hy moet tot elke prys ‘n ander motor verbysteek. Want dít “word alles wat hom in die loop van die jaar in die weg gestaan het: stiksienige base, vrot kliënte, onbetroubare kollegas, misdadigers.”

Sam Keen sluit hierby aan met sy beskrywing van die gestresde manlike motoris: “So men, the designated warrior, gradually form “character armour’, a pattern of muscular  tension and rigidity that freezes them into the posture that is appropriate only for fighting – shoulders back, chest out, stomach pulled in, anal sphincter tight, balls drawn up into the body as far as possible, eyes narrowed, breathing foreshortened and anxious, heart rate accelerated, testosterone in full flow. The warrior’s body is perpetually uptight and ready to fight.”

Wat mens wil laat vra: Waarheen is jy op pad, meneer? Wat is jou haas?

Daarmee die vraag: is daar nuwe moontlikhede van man-wees?

6. NUWE MOONTLIKHEDE (“FABRIKASIES?”) VAN MAN-WEES

Ek reken dat die voorafgaande verduideliking van die herkoms van fabrikasies oor man-wees - soos dit in die bondgenootskap van biologie en patriargie gevestig geraak het en die dekonstruksie daarvan – inderdaad nuwe moontlikhede open. Waarskynlik is die nuwe moontlikhede ook maar fabrikasies, maar met ‘n belangrike verskil: dat dit vir mans moontlik geword het om buite die dwangbuis van patriargie ander maniere van man-wees te bedink en te beoefen; nuwe rolle te aanvaar sonder om te vra of jy daardeur minder man word.

Tekenend hiervan is die toenemende kultuur van “androgenie”. Dit kom daarop neer dat daar mans en vroue is wat nie in die tipiese patroon van manlikheid en vroulikheid pas nie, en aldus manlike sowel as vroulike eienskappe en gedrag vir hulself toe-eien – soos dit byvoorbeeld na vore kom in kleredrag en algemene voorkoms.

‘n Voorbeeld hiervan is, volgens leefstyltydskrifte, die sogenaamde “metro-man” of  “metroseksuele” man – ‘n heteroseksuele man wat “in kontak” is met sy vroulikheid en na sy vel en voorkoms omsien en juweliersware dra. Die akteur Tom Cruise en die sokkerster David Beckham is bekende voorbeelde.

Dan is daar die überman – modebewus maar wat nog steeds ‘n dapper krygerpsige het, rugby kyk op Saterdaemiddae, maar darem oor dinge soos kuns, gedigte en kubisme kan en wil praat.

Natuurlik is daar opposisie hierteen uit die geledere van die retroman of grotman (ook retrovroue en grotvroue) wat steeds in die patriargale kultuur wil floreer en dit tot elke prys in stand wil hou.  

In ‘n sekere sin is al die genoemde nuwe moontlikhede oppervlakkighede wat nie die dieperliggende bestek van man-wees in die 21 ste eeu betrek nie. Daarom ‘n paar gedagtes rondom die begrip deelnemingsmistiek as die bron van man-wees, vrou-wees en mens-wees in die 21ste eeu.

Deelnemingsmistiek behels die hereniging van die vermeende teenoorgesteldes (man en vrou); dat die misterie van man en vrou herwaardeer moet word; dat mans en vroue grondliggend eenders en anders is binne die bestek van argetipiese moontlikhede – die animus en die anima waarna Carl Jung al lank gelede verwys het, maar nie tot wasdom in lewenspraktyk gekom het nie.

Waarin lê die ontdekking van nuwe moontlikhede? Miskien lê dit in kommunikasie en emosionele intimiteit. Hieroor skryf Lorraine Becker: “ Kommunikasie (tussen man en vrou) is ontsettend belangrik…elkeen van ons is ‘n engel met net een vlerk – om te kan vlieg moet ons aan mekaar vashou. Naas ‘intercourse’ is daar ook ‘outercourse.’ Wat, saam geneem, die dinge is wat man en vrou se liggaam en gees verenig en in ewewig hou.  

Emosionele intimiteit is dié eienskap wat meebring dat man en vrou nie net mekaar aanraak in fisieke nabyheid nie, maar mekaar ook in emosionele nabyheid vind. Om daardeur die “heilige grond” van ‘n ander se binnewêreld met respek, agting, deernis én verwondering te betree. Want dan hoor jy in die ander se nood en verlangens ook joune, en word joune deur die ander gehoor. Om daarmee waar te maak wat die filosoof Wilhelm Dilthey op ‘n keer gesê het: verstaan is die terugvind van jou in my.

Dít bring die “verbinding” tussen man en vrou en is die diepste sin van “intercourse” wat deur ‘n “outercourse” gedra word. En daaruit kom nuwe horisonne oor man-wees en vrou-wees.

Kommunikasie en emosionele intimiteit waardeur man en vrou uitreik na mekaar  loop uit op en word versterk deur die voorneme om volslae verbonde en toegewyd aan mekaar te wees. Hierdie eienskap behels ‘n fundamentele vertroue dat onderlinge bystand ‘n werklikheid is waarop man en vrou kan reken – bystand in al die vorme waartoe die onderlinge weet en verstaan van mekaar kan lei: om mekaar te versorg; om verby gebreke en weerloosheid mekaar se krag en weerbaarheid raak te sien; hulp te verleen; rolle te ruil; te troos; te beskerm; en te vermaan. Dan hoef jy nie te vra: is dit wat ‘n man of ‘n vrou behoort te wees nie. Dan is jy wat jy is en jy doen wat jy doen omdat jy dit wil doen en omdat dit nodig is.

Dié soort toewyding bring realisme in die verhouding tussen man en vrou; ‘n realisme wat verhinder dat hulle op loop sit met opgedroomde of voorskriftelike denkbeelde oor en verwagtings van mekaar.

Dit wat dan tussen man en vrou gebeur en wat beslag kan gee aan nuwe moontlikhede word dan soos ‘n kristal wat met elke beweging die betowering en die misterie van nuwe konfigurasies van lig en kleur deurlaat. Dan is daar verassings en wendings wat die misterie van man en vrou bevestig en nooit laat ophou nie.

In sy kortverhaal Wife-wooing skryf John Updike (in Cochrane, 1969) met humor, deernis, weemoed, nabetragting, gelatenheid, vreugde, ergernis en verwondering hieroor. En roep terselfdertyd, enigsins vermom, die oerbeeld op waarmee ek my voorlesing vanoggend begin het – nie as ‘n “wond” nie, maar as “genesing.” 

Hy vertel hoe hy en sy gesin op ‘n Sondagaand op die vloer sit en eet. En hoe sy vrou “toelaat” dat haar swart romp – dieselfde romp wat sy vroeër die dag gedra het toe sy klavier gespeel het by die Sondagskool – afgly van haar opgetrekte knieë en  haar dye en die “absolute geografie van haar lyf” blootlê.

Dan dink hy: “What soul took thought and knew that adding ‘wo’ to man would make a woman? The difference exactly. The wide w, the receptive o. Womb. In our crescent the children for all their size seem to come out of you towards me, wet fingers and eyes, tinted bronze. Three children, five persons, seven years. Seven years since I wed wide warm woman, white-thighed. Wooed and wed. Wife. A knife of a word that for its final bite did not end the wooing. To my wonderment.”    

So al denkend en verwonderend begeer hy om by haar te wees, en hy help om alles op te ruim en die kinders in die bed te sit – “limitlessly patient, paternally good.” Later in die slaapkamer wil hy die lig afskakel, maar sy sê sy wil nog die boek lees wat haar fassineer: “No. Wait. Just till I finish this chapter. I’m sure there’ll be something at the end.”

En hy dink: “I lie against your filmy convex back.You read sideways, a sleepy trick. I see the page through the fringe of your hair, sharp and white as a wedge of crystal. Suddenly it slips.The book has slipped from your hand. You are asleep. Oh cunning trick, cunning. In the darkness I consider. Cunning…”

Dan in die oggend as hy wakker word, dink hy: “… to my relief you are ugly. Monday’s wan breakfast light bleaches you blotchily, drains the goodness from your thickness…The skin between your breasts a sad yellow. I feast with the coffee on your drabness. Every wrinkle and sickly tint a relief and a revenge. The children yammer. The toaster sticks. Seven years have worn this woman.”

Maar dan kom die aand. Die kinders slaap reeds en in die bed worstel hy in sy gedagtes met werksake. Dan: “You rustle the book…vanish upstairs into the plumbing; the bathtub pipes cry.  So I am taken by surprise at a turning when at the meaningful hour of ten you come with a kiss of toothpaste to me moist and girlish and quick; the momentous moral of this story being, An expected gift is not worth giving.”

Oplaas is die kapasiteit om lief te hê die onverwagte geskenk wat man en vrou ontvang het en weer en weer en weer aan mekaar teruggee – op maniere wat hulle nie begryp nie, maar waarsonder hulle nie kan leef nie. Omdat die liefde die grootste is – buite begrip, maar binne die bereik as mens jou hart daarop sit en bly wonder hoe dié

wonder bly.    

Dit gebeur wanneer mans en vroue kan sê (Wilhelm Jordaan, 1987):

Kom ons stig ‘n maatskappy

ek en jy (een)

sonder winsmotief

besit ons niks.

Hê mekaar

net lief.

Dan staan man-wees, vrou-wees en mens-wees in die volle betekenis van die dubbelpunt  (: ) man:mens en vrou:mens as feesviering van menswees.


Christelik-tradisionele en eietydse mensbeskouing van die vrou

HIERDIE IS ‘WORK IN PROGRESS’. DIS UITERS SKETSMATIG GEDOEN EN SONDER DIE NODIGE BRON-ONDERSTEUNING. EK VERSOEK DUS VRIENDELIK DOG DRINGEND DAT U NIE SKRIFTELIK UIT HIERDIE TEKS SAL AANHAAL NIE. ’N AKADEMIES VERANTWOORDE WEERGAWE VAN DIESELFDE BASIESE GEDAGTES SAL LATER GEPUBLISEER WORD. BAIE DANKIE!
 

Die opsomming van Louise du Toit se voordrag neem die vorm aan van 'n skyfievertoning. Jy kan die hele vertoning in Adobe PDF formaat aflaai. 

Louise du Toit.
Universiteit van Johannesburg.
Voorgedra op 4 Maart 2007, Midrand.

Ek is gevra om iets te kom voordra by die NHN oor vroulikheid en mensbeskouing, en ek het besluit om my voordrag te koppel aan ’n idee waarmee ek my sedert my proefskrif besighou, naamlik ‘die vroulikheid van die godheid’ of ‘feminine of the divine’. In my eie gemoed is hierdie aanbieding ’n soort denkeksperiment: ek probeer my ’n werklikheid voorstel waarin nie net manlikheid nie, maar ook vroulikheid met goddelikheid geassosieer word, en ek probeer vasstel wat ons mis indien ons voortgaan om in eksklusief manlike terme oor God te praat, en daarom ook te dink. Dit is vir my opvallend dat, alhoewel ’n mens boektitels in ons boekwinkels aantref soos ‘God Wears Lipstick’ en ‘Approaching the Mother God’, die ophaal van die idee van God se vroulikheid of die vroulikheid van die godheid, steeds in baie kerklike kringe beskou word as gevaarlik, en selfs gevaarlik naby aan afgodery of selfs godslastering. Myns insiens is hierdie wydverspreide vrees om vroulikheid en goddelikheid aan mekaar te koppel egter ’n aanduiding van die mate waartoe ons juis verslaaf is aan ons eie gesnede beeld of dan ‘afgod’ van God as manlik enersyds, en ook andersyds van die mate waartoe die koppeling manlikheid en godheid aanmekaar gehou word deur, en ook die steunpunt is, vir ’n ganse simboliese orde of universum waarbinne vroulikheid en goddelikheid teenoor mekaar gestel word. Eenvoudiger gestel: dis so moeilik om God as vrou voor te stel en te bedink omdat ons ganse kultuur en singewende simbole hulself grondig teen sodanige moontlikheid opstel.

Ek nooi dus my luisteraars/lesers om saam met my op ’n verbeeldingstog te gaan waartydens ons hierdie vooroordeel van ons tyd en kultuur probeer oorstyg en die vroulikheid van die godheid probeer bedink. My voordrag bestaan uit drie dele. Eerstens bespreek ek die konsep ‘moedermoord’ as ’n hermeneutiese sleutel tot ons westerse, eensydig manlike simboliese orde. Tweedens bespreek ek die vernaamste elemente van die hedendaagse godinne-beweging/s en derdens wil ek fokus op die transformerende krag of utopiese potensiaal van ‘n religie, politiek en etiek van seksuele verskil. Teen die einde sal ek ook bepaalde implikasies probeer deurtrek vir ons mensbeskouing en dan veral ons beskouing van mense as vroue en mans onderskeidelik, of ons menslikheid as geslagsgedifferensieerd. Die teks wat ek hier aanbied is baie sketsmatig, en is veral bedoel om die illustrasies op die Powerpoint-aanbieding te belig; die teks sal in besonderhede elders uitgewerk en gepubliseer word. Figuur 1 is ’n uitbeelding van die ‘die groot godin’ wat geregeer het dwarsdeur die Ou Nabye Ooste minstens tussen die jare 7000 en 3000 vC. Merlin Stone se argeologiese studie, When God Was a Woman, maak dit duidelik dat ’n groot skepper-godin die patriargale monoteïsmes voorafgegaan het – ’n godin wat op verskillende plekke onder verskillende name aanbid is. Figuur 1 wys die mate waarin dit die godin se skeppingsvermoë is wat vereer is – vgl. die gedetailleerde versiering, veral deur konsentriese sirkels, van die vrouefiguur se heupe en lendene, en die beklemtoning van haar buik. Die groot godin van die pre-geskiedenis kan egter nie afgemaak word as ’n blote ‘fertiliteitsfiguur’ soos baie tradisionele argeoloë geneig was om te doen nie. Sy het die rolle gehad van skepper en versorger, maar ook van regspreker, soldaat, jagter en heerser.

Figuur 3 is ’n lugfoto van ’n tempel van die godin op Malta, en dit dateer uit die jare tussen 3600 en 2500 vC. Die tempelgebou self stel die liggaam van die godin voor – heupe en borste – en die ‘deur’ of ingang van die tempel is by die posisie van die vagina. Om die tempel te betree, was dus om in die liggaam van die moedergodin in te gaan; om uit te kom, was soos om weer gebore te word. Uit antieke Egipte (ongeveer 600 vC) kry ons die beeld van die godin Isis wat haar kleiner broer-en-eggenoot Osiris met haar sterk vleuels toevou (figuur 2) en in figuur 4 is ’n voorstelling van die Sumeriese godin Inanna, godin van hemel en aarde (op daardie stadium het sy al seggenskap oor die onderwêreld of wêreld van die dood verloor – afgestaan aan haar suster, Ereshkigal). Inanna se vlerke en voëlpote dui op haar heerskappy oor die hemele, en die feit dat sy omring is deur katte (leeus) en uile dui ook op haar donker of nagtelike vermoëns. In haar linkerhand hou sy ’n ank vas – Egiptiese simbool vir die lewe ná die dood (deesdae gebruik Christene in Egipte dit as siombool van die kruis.). Dis vir my interessant dat die pre-historiese godin dikwels nie ’n absolute monoteïsme verteenwoordig nie, maar dat sy gewoonlik haar mag deel met ’n broer, eggenoot, seun en/of minnaar. Inanna het uiteindelik getrou met ’n sterfling, Dumuzi, aan wie sy die koningskap van Sumerië gegee het. Hy moes egter regeer in volle afhanklikheid van Inanna, soos verteenwoordig deur haar priesteresse. Volgens die mite van Inanna wat ons volledig op kleitablette het, het Dumuzi sy afhanklikheid van Inanna vergeet, en daarvoor het sy hom gestraf deur hom elke jaar vir ses maande in die doderyk te laat afdaal (hiervan natuurlik latere eggo’s in die Griekse mite van Kore te vind). Onder die heerskappy van die groot godin was daar plek vir magsdeling en ’n vrugbare interaksie tussen die vroulike en manlike beginsels, lyk dit.

Figuur 5 is ’n foto van ’n meermin-godin in die Renaissance-tuin Bomarzo in Toskane, Italië, en figuur 6 is die reproduksie van ’n naturalistiese en baie grasieuse meermin op ’n kliptablet wat ek in die Vatikaan (van alle plekke) raakgeloop het. In figuur 7 is ’n meermin-godin van die Etruskers te sien. Dikwels het hierdie meermingodinne bo en behalwe hul sterte ook vlerke gehad. Die vlerke simboliseer, soos by Inanna, hul vermoë om in die boonste wêreld (die hemel, die goddelike domein) te beweeg, en hul sterte hul vermoë om onder die aarde (onder die water, in die seë, riviere, bronne en mere) te beweeg – hulle is dus wesens wat gemaklik tussen aldrie vlakke van die drieverdieping heelal beweeg en wat ook die siele begelei op hul reise tussen die verskillende vlakke of wêrelde. Die oopgespreide sterte van die meermin (só anders as die sprokie-meerminne met net een stert wat gebreklik en steriel voorkom) beklemtoon haar vagina weer eens as die vrugbare oorsprong van alle lewe. Die Etruskers het geglo dat die vrugbaarheidsbeginsel eerbiedig en onderhou moes word, en ’n soort aard-spiritualiteit en ’n viering van die seksuele en sensuele het hulle godsdiens gekenmerk. Hulle het sowel vroulike as manlike gode vereer. In die tyd toe die Christendom ’n stedelike, imperialistiese godsdiens geword het wat in Rome gesentreer was (veral vanaf die vyfde eeu nC), het die Etruskiese godsdiens al dieper in die Toskaanse platteland teruggetrek en daar verbasend goed oorleef ten spyte van vervolging en vernietiging. Só suksesvol, trouens, dat daar selfs nog 700 jaar nC ’n pouslike bul uitgevaardig is wat daardie godsdiens amptelik verbied het. Figuur 8 wys ’n Minoeense godin/priesteres sonder sterte, maar met twee slange. Dis moontlik dat die slange ’n soort verplasing van haar sterte is, maar slange is duidelik ook met die onderwêreld geassosieer. Die onderwêreld was nie in die voorgeskiedenis gesien as ’n Christelike ‘hel’ of domein van boosheid nie. Dit was gewoon die derde wêreld, die wêreld van die dood of hiernamaals. Indien ’n mens veral na die Etruskiese nekropolisse (stede van die dooies) kyk, sien jy dat hulle dit beskou het as ’n voortsetting van die lewe op aarde. Die dooies vier fees, lê in mekaar se arms, dans, en so meer, in ’n lewe parallel aan die lewens van die ‘lewendes’. DH Lawrence se boek oor sy toere deur die land van die Etruskers gee uitstekende beskrywings van die skilderye op die grafkamers se mure. Die Minoeense godin heers dus steeds oor die onderwêreld en daar is aanduidings dat die priesteresse slange in die tempels aangehou en slanggif gebruik het om in alternatiewe bewussynstoestande in te gaan om byvoorbeeld te profeteer. Die assosiasie van vroulike mag met slange is dus waarskynlik ouer as die Genesis-verhaal, en in Jungiaanse terme sou dit klaarblyklik ’n treffende uitbeelding wees van die almagtige falliese moeder, die selfgenoegsame.

Indien Freud se spekulatiewe rekonstruksies in Moses and Monotheism (1938) betroubaar is, dan het die Hebreërs hul monoteïsme vanaf die Egiptiese farao, Ikhnaton (of Akhnaton, maar oorspronklik Amenhotep IV) via Moses ontvang. Ikhnaton sluit aan by die sonkultus van On, maar gaan verder as hulle en vereer die son slegs as ’n simbool van die Goddelike Wese, Aton, wie se energie bloot manifesteer in die son se strale. Hy plaas ’n verbod op die uitbeelding van hierdie Opperwese en postuleer ’n godheid bokant alle plaaslike gode in ’n poging om die Egiptiese Ryk (insluitend Nubia, Palestina, Sirië en ’n gedeelte van Mesopotamië) te konsolideer. Hy postuleer dus ’n universele God met veral etiese eise. Die felheid waarmee hy al die plaaslike gode en hul instellings uitwis, word op hom omgekeer en die Egiptenare hervestig hul veelgodedom net ná sy dood. Freud postuleer egter dat Moses die Hebreërs wat op daardie stadium in ’n grensprovinsie van Egipte gebly het, uitkies om ‘sy volk’ te word – ’n groep mense aan wie hy sy godsdiens (dié van Aton) kan oordra, tesame met die (op daardie stadium) eksklusief Egiptiese gebruik van besnydenis en Aton se etiese en suiwerheidsvoorskrifte. So oorleef Ikhnaton se godsdiens op die lange duur en ná Moses se dood versmelt die aanbidding van Aton met dié van die Midianitiese berggod Jahwe.

Dieselfde geweld waarmee Ikhnaton alle ander gode uitgewis het voor die aangesig van die Een, ware en onvoorstelbare God, word gebruik in die Jode se uitgerekte vernietigingsoorloë teen die mense van Kanaän. In Deutronomium 12:2–3 lees ons Jahwe se opdrag: ‘Wanneer julle die nasies uitdryf wat daar bly, moet julle al die plekke vernietig waar hulle hulle gode aanbid – plekke hoog op in die berge, teen heuwels en onder elke groen boom. Breek hulle altare af en kap hulle heilige pilare stukkend. Verbrand hulle Asjerapale en vernietig hulle afgode. Wis die name van hulle gode uit op daardie plekke!’ Hierdie vernietiging (onder andere van Asjera of Astarte, ’n Kanaänietiese godin) vorm deel van wat die Franse filosoof Luce Irigaray die antieke ‘moedermoord’ noem. Ook Stone in haar boek en Freud in dieselfde Moses and Monotheism bespreek die nou goed gevestigde idee dat godin-kulture die patriargale monoteïsmes van die Jode, Christene en Moslems voorafgegaan het, en dat hulle in die laaste millennium vC op groot skaal uitgewis is. Die Griekse mitologie, soos die Ou Testament en die vroegste Griekse filosofiese geskrifte (soos die Platoniese dialoë) en ’n pouslike bul van die 8ste eeu nC is almal tekste wat die ‘spore’ dra van die oer-misdaad, die pre-historiese moord van die moedergodin. Geleidelik en stelselmatig oor baie eeue heen word die ou matristiese en godin-kulture uitgeroei en deur ’n patriargale monoteïsme vervang. Maar spore van die uitwissing sowel as spore van die godin bly oor ten spyte van ’n byna volledige omkering van die sosiale orde. In figuur 9 is Carvaggio se voorstelling van Medusa: hier verword die priesteres van Monoa tot ’n monster wie se hare uit slange bestaan en wat mans wat haar aanskou, laat versteen. Gelukkig kry Perseus dit reg om met groot slinksheid Medusa se blik te ontwyk en haar kop af te kap. Die monsters wat die groot Griekse helde van die mitologie telkens weer oorwin en die demone van Satan wat die latere Christen-helde oorwin hou bykans deurgaans verband met die ouer matriargale en natuurgodsdienste. Selfs die tuin Bomarzo waarin die mitologie van die Etruskers uitgebeeld word, word tot vandag toe die ‘tuin van monsters’ genoem.

Die ‘moedermoord’ waarvan Irigaray praat, speel sigself nie slegs uit in die gewelddadige uitwissing van die ouer kulture en hulle erfgoedere nie. Daar is ook ’n klaarblyklike appropriasie of toe-eiening van ouer kultuurgoedere in ’n nuwe gedaante en in diens van die patriargie. Hierdie verskynsel is in die tweede helfte van die 20ste eeu goed gedokumenteer deur feministiese antieke kenners. So byvoorbeeld verwys Sokrates in die Phaedrus van Plato na sy ma, Paenarete, ’n vroedvrou, en dan beskryf hy homself as ’n vroedvrou en sy gespreksgenote as vroue wat geboorte skenk: ‘My art of midwifery is in general like theirs; the only difference is that my patients are men, not women, and my concerns is not with the body but with the soul that is in travail of birth’. In figuur 11 is Plato omring deur ’n groep kaal jong mans, wat die idee van die Simposium onderstreep dat man tot man liefde die hoogste vorm van die liefde is wat ook lei tot wysheid. Deurgaans in die Platoniese dialoë word manlikheid aan abstraksie verbind en vroulikheid aan die konkrete, en eersgenoemde word gepromoveer met gepaardgaande degradering van alles wat eg of tipies vroulik is en met vroulikheid geassosieer word. Plato se beroemde grotmite of grot-allegorie in die Republiek (voorgestel in figuur 10) kan op dieselfde manier gelees word indien ’n mens Irigaray volg wat sê dat die grot klaarblyklik die baarmoeder en vroulik-moederlike beginsel self is waaruit die filosoof met groot moeite bevry moet word tot abstrakte denke. Deur die eintlike oorsprong van die filosoof self in die abstrakte beginsel (voorgestel deur die Son, of Idee van die Goeie) te plaas, maak Plato die grot en die fisieke aarde, geassossieer met die moederlyf, tot illusie, niksheid, ’n val en ’n tronk. Daarom dat Irigaray in hierdie ‘begrondingstekste’ van die westerse filosofie ’n ‘moedermoord’ bespeur. Op daardie stadium in die geskiedenis, beweer Irigaray, was die herinnering aan die moedergodin nog vars in die geheue selfs binne sosiale ordes wat reeds lank patriargaal ingerig was. Net net die mitologie nie, maar oorblywende praktyke in naburige kulture het mense herinner aan haar en die legitimiteit van ’n absolute patriargiese orde onder verdenking geplaas. Hierdie tekste, in hul poging om die legitimiteit van die patriargie te illustreer, vestig paradoksaal juis ons aandag op die bedenklikheid daarvan. Hierdie tipe tekste bevat dus spore van die oermoord op die moeder én spore van die poging om daardie spore dood te vee.

Dis interessant dat Freud in dieselfde boek beweer dat die Christendom nie bestand kon bly teen die ouer invloede nie, en dat die Madonna-figuur eintlik in die teken staan van ’n soort terugkeer na die veelgodedom wat met die godinkultuur geassossieer word. In die Griekse mitologie bly daar natuurlik godinne oor soos Venus wat in Boticelli se skildery uit die see (simbool van die onderwêreld) verrys, en wat dus sterk met water en die ander, ouer, watergodinne verband hou. In die algemeen egter is die Griekse mitologie soos dit behoue gebly het as deel van die begrondingsliteratuur van die westerse simboliese orde, ’n verhaal van die onderwerping van vroulike gesag en vroulike goddelikheid aan manlike goddelikheid. Verkragting blyk die voorkeur-metode van die Griekse gode te wees in hul onderwerping van godinne, nimfe, en mooi vroulike sterflinge.

Figuur 13 is ’n foto van ’n prent van die heilige Josef, beskermheer van die ambagsmanne, opgerig op die ingang van ’n belangrike Etruskiese ‘via cava’ of pad uit vulkaniese rots gekap. Dit is naby die dorpie Pitigliano. Hierdie is dus ’n mooi duidelike voorbeeld van die manier waarop die nuwer Christelike (Roomse) godsdiens die ouer heilige plekke van die natuurgodsdienste soos dié van die Etruskers, gekaap het. Omdat die plek van groot betekenis was vir die Etruskers het die Roomse heersers besluit om dit eerder te inkorporeer en ’n Christelike betekenis te probeer versmelt met die oorspronklike, ‘heidense’ betekenis, as om dit totaal te probeer vernietig. Dis hierdie soort ‘sinkretismes’ wat veroorsaak het, volgens Freud, dat die Christendom ook as ’n tipe kompromis opgeëindig het met die ‘godin’ Maria, eintlik in skrille kontras met die strenge patriargale monoteïsme van Ikhnaton en die Jode. Maar natuurlik het Jesus self, as seun van God en ook God, alreeds iets van ’n veelgodery verteenwoordig en in Freud se lesing verplaas hy as Seun die Vader-God van die Jode. As iemand wat Protestants grootgeword het, was ek stomgeslaan oor die mate waartoe die Katolieke tradisie Maria vereer. Indien ’n mens slegs op die visuele tradisie sou staatmaak, sou ’n mens nie kon twyfel dat hierdie godsdiens handel oor ’n godin en haar seun nie – ’n sterk eggo van Inanna en Dumuzi, en Isis en Osiris, wat my betref. Osiris was boonop in die Egiptiese tradisie ’n uiters populêre seungod en ’n held wat oor die doderyk regeer en ‘n lewe ná die dood moontlik gemaak het. Daar is talle uitbeeldings in Italië van die hemelvaart en ook die verheerliking en kroning van Maria, soos die uitbeelding van Boticelli in figuur 14 en 15. Figuur 16 is een van die ‘Swart Madonnas’ waar sy klaarblyklik goddelik is en ’n klein koninkie op haar skoot vashou. Hierdie ‘Swart Madonnas’ kom waarskynlik uit Afrika, en die ikonografie hou heel waarskynlik verband met die Egiptiese tradisie van Isis en Osiris. Figuur 17 is die ‘Madonna of Mercy’ waar Maria se mantel almal bedek wat ‘salig’ is, of wat gered gaan word. Dit herinner aan die beskermende vlerke van Isis, Inanna en die meermin-godinne.

Uiteraard kan ek hier net ’n paar aanwysers gee van ’n, vir my, uiters fassinerende stuk godsdiensgeskiedenis. Om myself en my lesers te beskerm, moet ek egter ook beklemtoon dat ek nie opgelei is in die teologie of argeologie nie; my belangstelling asook opleiding is en bly in die filosofie. Ek wil dus mense aanmoedig om self hierdie soort ontdekkingsreise aan te pak en meer uit te vind omtrent die feitelike kant. As filosoof is ek egter uiters geïnteresseerd om te weet wat hierdie soort idees omtrent die moedermoord impliseer vir ons vandag en vir die wyse waarop ons sin maak van onsself en ons lewens binne die simboliese orde wat ons geërf het en waarin die vroulikheid van die godheid en die godheid van die vrou klaarblyklik uiters problematies geword het, indien nie heeltemal onsigbaar, onsegbaar en ondenkbaar nie.

In die inleiding het ek gesê dat ek, ná die bespreking van die moedermoord, die vernaamste elemente van die hedendaagse godinne-beweging/s sal bespreek en dat ek derdens wil fokus op die transformerende krag of utopiese potensiaal van ’n religie, politiek en etiek van seksuele verskil. Kortliks dan net iets oor die hedendaagse godinne-bewegings. Hier sal ek eienskappe uitlig wat ek in die literatuur oor die bewegings teengekom het, maar ook die eienskappe wat ek glo belangrik is om te bevorder. Ten eerste is dit belangrik om te beklemtoon dat daar geen enkele, monolitiese ‘godin-beweging’ is nie, en geen enkele godin wat aangehang word nie. Daar is meerdere godinne wat figureer en ook uiteenlopende én oorvleuelende en soms teenstrydige bewegings. Miskien maak dit sin gesien in die lig van die assossiasie wat ek gemaak het tussen die pre-historiese godinne en veelgodedom. Dit lyk asof daar nooit ’n godin was wat in wese jaloers en onverdraagsaam was nie, en dat vele name en gesigte gegee is aan wat moontlik een godin of een oorkoepelende idee kon gewees het. Die grense is vloeibaar en onproblematies, of so lyk dit in elk geval van hier ver vandaan.

Verder is die godin-beweging matristies geörienteer, waarmee ek bedoel dat daar ’n oortuiging is dat die moeder/godin/aarde wat in die voorhistoriese era ‘vermoor’ is, uit die dood moet opstaan sodat die vroulikheid van die godheid en die goddelikheid van vroue herwaardeer kan word. Die godin-beweging is feministies in die sin dat die hewig onderdrukte vroulike energie wil vrystel op die aarde. Dit gaan ’n herontdekking van die goddelike skeppingskrag en –energie wees waaroor vroue beskik maar wat ontken, onderdruk, geapproprieer en ondermyn word in die westerse patriargie. So byvoorbeeld stel Drucilla Cornell, feministiese regsfilosoof, voor dat die ‘unleashing of women’s desire’ ’n beter en belangriker teenfoeter is vir hoofstroom-pornografie se uitbeelding van vroue as gefragmenteerde liggame gereduseer tot objekte vir konsumpsie deur mans (in haar The Imaginary Domain). In die vierde plek werk die godinne-bewegings teen die soort vervreemding van die aarde en liggaamlikheid wat kenmerkend geword het van westers-manlike abstraherende denke. Die godinne-bewegings se klem is dus op die immanente, die konkrete, die lyflike, die ekologie, en ’n soort spiritualiteit wat getrou bly aan die aarde (om ’n frasering by Nietzsche en Heidegger te leen). Hierdie soort spiritualiteit vind aansluiting by baie ‘inheemse’ geestelike tradisies wat deur die Christelike ekspansionisme bedreig is en word.

Vyfdens is daar ’n klem op geboortelikheid en die oorsprong van lewe in die moederliggaam teenoor die westers metafisiese klem op sterflikheid en die heroïese klem op die dood.

In die sesde plek, by sommige van die godinne-bewegings vind ’n mens sterk kritiek teen die globale kapitalisme en die maniere waarop dit die natuur onderwerp en minag. Soos wat Dumuzi trots geword het en vergeet het dat hy slegs heers by grasie van die godin Inanna, sou ’n mens kon sê dat die westerse mens trots geword het en dink dat hy regeer deur middel van geld. Hy vergeet egter dat geld slegs waarde het indien dit staan vir iets anders, en daardie iets anders is die konkrete voorwaardes vir menslike en ander lewe wat die aarde self skenk. Kapitalisme verdraai egter die oorvloedige geskenke van die aarde tot kommoditeite wat deur sommige besit en opgegaar kan word. Daarmee regverdig kapitaliste dan die feit dat sommige die vermoëns van die aarde self monopoliseer terwyl ander gebrek ly. Ek dink eintlik dat daar in die godinne-beweging die potensiaal lê vir ’n sterk kritiek op, en alternatief tot die kapitalisme – iets wat ek graag verder wil ontgin.

Die godinne-bewegings lê ook sterk klem op vroulike samesyn en gemeenskap en onderlinge hulp en ondersteuning en liefde, in teenstelling met die westerse simboliese orde wat die liefde van vroue vir hulself en vir mekaar as die laagste vorm van liefde beskou (vgl weer Plato se Simposium). Daarmee saam gaan die klem in hierdie bewegings op transformerende of herskeppende eerder as onderdrukkende of dwingende mag. Die metafore van tipies vroulike aktiwiteite soos kos kook, weef, bak, die farmasie en die mag van taal word dus geaktiveer as die instrumente waarmee die godinvroue die heersende simboliese orde uitdaag en onderbreek. Dit staan in skrille kontras met die Een God se jaloerse bevel tot uitdelging.

Laastens is daar ’n inklusiwiteit wat beteken dat vroulikheid nie ten koste van manlikheid bevorder word nie – soos byvoorbeeld by Cornell wat nie ‘manlike’ hoofstroom-pornografie wil uitwis nie, maar wat wil hê dat daar nie slegs een ‘verhaal’ moet wees oor wat menslike seksualiteit kan beteken nie. Die godinne-beweging word dus ook gekenmerk deur ’n diepgaande respek vir die basiese, grondliggende tweeheid van die mensheid en daarom ook van die godheid. In plaas van ’n hiërargiese dualisme van vroulikheid en manlikheid stel die godinvroue die idee voor van ’n horisontale transendensie, en ’n sirkulariteit waarin lewe en dood, goed en sleg, vrou en man, immanensie en transendensie, gesien word as dansend in ’n kring, as ten diepste geïntegreer en die grense tussen hulle as uiteindelik vloeibaar.

Ter afsluiting gaan ek baie kortliks een of twee idees opper oor die implikasies van al hierdie dinge vir ons menswees en mensbeskouing hier en nou. Ek volg Luce Irigaray, en meer breedweg ’n Frans-Italiaanse tak van die feministiese filosofie, wanneer ek aanvoer dat die heersende simboliese orde, as synde ’n mono-seksuele manlike orde, uitgedaag moet word op velerlei vlakke sodat ons geleidelik ’n samelewingsorde kan vestig wat getuig van die twee basiese en omvattende vorme waarin menslikheid bestaan, naamlik vroulikheid en manlikheid. Vanaf die mees immanente moment (dws ons geleefde liggaamlikheid, ons seksualiteit of ‘sexuate being’) tot by die mees transendente moment (dws ons konsepsualiserings van goddelikheid en ons metafisiese raamwerke) moet die menslike bestaansekonomie deur die twee-heid gekenmerk word. Dit beteken dat ons die geneigdheid van die huidige orde om die fundamentele andersheid van vroulikheid af te maak as ’n soort gebreklike of tweedehandse manlikheid, deurgaans moet betwis en alternatiewe taal moet skep. Vir heeltemal te lank is vroulike andersheid gereduseer tot ’n reproduktiewe en versorgende funksie binne ’n basies manlike eendersheid en normatiwiteit. Dit was in die algemeen tot mans se voordeel, maar die individuele man het ook hieronder gely omdat daar min ruimte was vir spel met verskillende vorme van manlikheid as sodanig. Enige bevraagtekening van, of spel met, normatiewe manlikheid by mans lei gewoonlik tot die etikettering van ‘homoseksueel’ wat slegs as beledigend gesien word tot die mate dat dit met vroulikheid of gebrek (leegheid, swakheid, en impotensie) gelyk gestel is. Die instandhouding van ’n stelsel waarin vroulikheid as sodanig gesien is as minderwaardig, het vereis dat vroulikheid en godheid as opponerende groothede gesien moet word. Dit is dus nie verbasend nie dat ’n streng monoteïstiese manlike God vroulike seksualiteit uitbeeld as die hoogtepunt van die profane, as die uiterste teenpool van sy eie selfgenoegsame manlikheid. Hierdie verwringing en pervertering van die uniek vroulike vermoë tot iets vuil en gevaarlik tref ons aan in elkeen van die manlike monoteïsmes. Tot vandag toe ly amper alle vroue op aarde weens die dominasie van hierdie godsdienste aan hierdie pervertering van ons seksualiteit – die beskouing daarvan as ’n inherente swakheid en onreinheid wat slegs gelegitimeer kan word as dit in diens gestel word van die manlik-beheerde orde.

Uiteindelik dink ek dus dat die verhaal wat ek hierbo vertel het, ons iets wys van die mate waartoe die westerse basis-verhale tipies vroulike mag en goddelikheid help uitwis het en dat die hervertel van die bostaande verhaal oor die moedermoord ons help om verbeeldingstogte aan te pak wat alternatiewe vir vrouwees en menswees begin opmaak. Indien ons die verhale so aanbied soos hierbo, dan wil ek kies vir daardie elemente van vroulike godheid wat inklusiwiteit en wedersydse aangewesenheid op mekaar van die geslagte erken het. Daarom dink ek dat die tydsgewrig waarin ons leef vra vir ’n ekonomie, ’n etiek, ’n politiek en ’n religie van seksuele verskil. ’n Teoloog soos Melissa Raphael redeneer dat ons uiters belangrike aspekte van God miskyk indien ons God as eksklusief manlik voorstel en aanbid. Sy argumenteer dat die manlike, heroïese stryder-God inderdaad dood is in Auschwitz, want hy kon sy volk nie red nie. Daarteenoor is die versorgende moeder-God, die God wat hoop vind in die klein dingetjies, lewend gehou veral deur die vroue in Auschwitz. Iemand wat God die Vader en God die Koning en Kryger gesoek het in Aushwitz, is noodwendig teleurgestel, want hy was nêrens, maar iemand wat toegelaat het vir die moontlikheid dat God ’n moederlike gesig en teenwoordigheid het, sou haar elke dag kon vind in die manier waarop vroue mekaar en mekaar se kinders versorg het ten spyte van die stelselmatige verontmensliking wat plaasgevind het. Hierdie is een treffende voorbeeld van die soort van singewing wat ons misloop indien ons volhard om ’n gesnede beeld van manlike eksklusiwiteit te vereer ten koste van ons elkeen, en van almal se saamwees.

Onvolledige bronnelys:

Irigaray, L 1985. Speculum of the Other Woman. New York: Cornell University Press.
Irigaray, L 1993. An Ethics of Sexual Difference New York: Cornell University Press.
Stone, M 1976. When God Was A Woman. Florida: Harvest / Harcourt Brace.
Daly, M 1968. The Church and the Second Sex. New York : Harper and Row.
Raphael, M 2003. The feminist face of God in Auschwitz: a Jewish feminist theology of the Holocaust.
Raphael, M 1999. Introducing thealogy: discourse on the goddess. Sheffield: Sheffield Academic Press.
Raphael, M 1996. Thealogy and embodiment: the post-patriarchal reconstruction of female sacrality. Sheffield: Sheffield Academic Press.
Raphael, M 1999. Introducing thealogy: discourse on the goddess. Sheffield: Sheffield Academic Press.
Raphael, M 2003. The feminist face of God in Auschwitz: a Jewish feminist theology of the Holocaust.
Ruether, R R 1996. Women healing earth: Third World women on ecology, feminism, and religion New York: Orbis Books.
Freud, S 1951. Moses and Monotheism (transl. Katherine Jones) London: The Hogarth Press.
Cornell, D 1995. The Imaginary Domain: Abortion, Pornography and Sexual Harassment. London: Routledge.

 

AttachmentSize
Vroulikheid_van_die_godheid.pdf1.74 MB

DIE AARD VAN DIE MENS

Dr. Francois Durand
11 November 2007

Die hoofdoel in die lewe van ’n dier is:

  1. Om te oorleef, want sukses in die natuur = effektiewe voortplanting.
  2. Om predasie vry te spring, want om lank te leef beteken dat meer nasate voortgebring kan word.

Die hoofdoel van lewe is om lewe voort te bring. Daar is twee voortplantingstrategieë: ’n K-strategie en ’n r-strategie

  1. Die K-strategie: optimale aantal individue binne die dra-kapassiteit van die omgewing. Hierdie diere
    • het ’n lae voortplantingskoers
    • ontwikkel stadig tot volwassenheid;
    • hulle seksuele volwassenheid is laat
    • het goeie ouersorg
    • het ’n lang lewensduur
    • het ’n groot liggaamshouding
    • lewe gewoonlik in stabiele omgewings.
    • Groot bere, katte, olifante, groot ape, walvisse val in hierdie kategorie.
  1. Die r-strategie: maksimale aantal individue binne die ruimte wat hulle leef. Hierdie diere is gewoonlik
  • onderaan die voedselketting
  • het ’n hoë voortplantingskoers
  • bereik gou seksuele volwassenheid
  • het min ouersorg nodig
  • het ’n kort lewensverwagting
  • het ’n klein liggaamsvolume
  • is kos vir predatore
  • knaagdiere soos muise, rotte, hase val in hierdie groep.

 

Vra ons nou waar die mens inpas, is dit duidelik dat hulle tuishoort onder die r-stratege. Waarom? Die volgende vrae behoort die antwoorde te gee op hierdie waarom-vraag:

    • Wat eet die mens en deur wie/wat word die mens geëet? Dit gaan in die voedselketting om die verhouding tussen predator en prooi.
      • Die mens is prooi vir die groot katte op die savanna van Afrika.
    • Tegnologie ontstaan omdat die mens hom teen predatore verdedig, maar daardeur ontstaan ’n breuk in die hele ekosisteem.
  • mense kan hulle nou versit teen hulle predatore.
  • die mens se posisie as r-stratege verskuif na K-stratege met verrykende gevolge.

Beendere word in dolomietgrotte gevind en dis duidelik dat karnivore hulle daar ingedra het. Onder hierdie beendere is daar ook aapmensbeendere. Wat word hieruit duidelik?

    • Predatore het die dolomietgrotte as skuilplek gebruik;
    • hominiene (of dan aapmense) was een van die voorkeurkosse van die groot katte;
    • luiperds, sabeltandkatte en hiënas het aapmense gevang en geëet.
    • aapmense het nie grotte as skuilplekke gebruik nie;
    • die aapmense was reeds dood toe hulle daar ingebring is.

Aapmense was gedurende die Pleio-Pleistoseentydperk die “kitskos” vir die groot katte. Die volgende redes kan hiervoor gegee word:

  • Aapmense het nie groot slagstande soos sjimpansees;
  • tegnologies was hulle onderontwikkeld;
  • hulle was die ideale prooi omdat hulle baie weerloos was – meer as die groot ape, oermense of moderne mense.

Mettergaan het aapmense tegnologie ontwikkel en spiese ter verdediging begin maak asook geleer om vuur te gebruik vir oorlewing.

Hoekom het aapmense ontwikkel? Hulle moes in die savanna van Afrika oorleef. Op hierdie vlaktes moes hulle in staat wees om hulle predatore te kon sien en sodoende van predasie weg te kom. Bipedalisme ontstaan op die vlaktes van Afrika. Maar ’n plat gesig is ’n voorvereiste vir bipedalisme. Bipedalisme help om

  • eie voete te kan sien;
  • voort te beweeg oor ongelyke terrein.

Australopethicus het regop geloop. Ons moet nie dink dat aapmense gebukkend geloop het nie, want dan sou hulle nie oor die lang grasse van die Afrika-savanne kon sien nie. Bipedalisme was dus ’n aanpassing om op die Afrika savanne te oorleef.

Aapmense het hulle groot slagtande opgeoffer vir ’n plat gesig en so ontstaan hominiene. Maar die savanna het nie genoeg skuilplek gebied teen die groot katte nie. Hoe het hierdie groep dus oorleef? Deur geweldig vinnig voort te plant. Die ovulasiesiklus van ’n sjimpanseewyfie is 36 dae, maar die homo spesie s’n is 28 dae. ’n Sjimpanseewyfie ovlueer slegs weer na 2.5 tot 5.5 jaar na geboorte. Die hominiene moes dus net so vinnig aanteel as wat hulle uitgehaal word deur die predatore, daarom kon r-strategie help met oorlewing.

Die gebruik van tegnologie om kos te vind is nie uniek aan die homoniene nie. ’n Mens vind dit ook by ander diere – soos sjimpansees en selfs voëls. Die maak van werktuie en die gebruik van vuur is wel uniek aan die mens. Die eerste werktuie is al 2 miljoen jaar gelede gemaak, terwyl vuur 1.8 miljone jaar gelede ontdek en gebruik is. Die werktuie is gebruik vir doodmaak van predatore! Maar daardeur het die hominiene hulle self ook uit die voedselketting begin haal. Die hominiene maak hulle predatore dood en verander ook hulle stapelvoed van vrugte na grassoorte. Die ekwilibrium in die natuur is finaal verbreek toe mense hulle uit die voedselweb gehaal het.

Hier volg ’n kort vertelling oor die prestasies van die mensspesies homo sapiens wat later ontwikkel het, maar deel is van die groep bekend as homoniene

  • Gedurende die Onder-paleolitiese tyd (2 miljoen tot 120 000 vC) was daar nog hoofsaaklik oermense wat bestaan het.
  • Gedurende die Middel-paleolitiese tydperk (120 000–35 000 vC) het die spesie homo sapiens in Afrika ontstaan.
  • Tydens die Bo-paleolitiese tydperk (35 00–8 000 vC) dring hierdie spesie Eroasië binne.
  • In die Mesolitiese tydperk (8 000–6 500 vC) ontwikkel die mens pyl en boë.
  • In die Neolitiese tydperk (6 500–3 300 vC) ontstaan boerdery-aktiwiteite, word die wiel ontdek, word geploeg en ontstaan skrif.
  • In die Bronstydperk (3 300–800 vC) onstaan ommuurde stede.
  • Tydens die Ystertydperk (800–1vC) kom groot ryke tot stand, word paaie aangelê en verbeter vervoer. Dink maar aan die Assiriese ryk, die ryk van die Egiptenare, Babiloniërs, die Perse, Grieke en Romeine.

Om die prentjie vollediger te maak, kan die volgende ook bygelas word. Gedurende bovermelde tydvakke vind ook die domestisering van plante en diere plaas. Hier volg ’n lys daarvan:

  • Honde rondom 13 000 vC vir jagdoeleindes
  • Skape rodnom 8 000 vC in Irak
  • Bokke rondom 7 500 vC in Irak
  • Varke rondom 7 000 vC in Turkye
  • Beeste rondom 6500 vC in Turkye
  • Perde rondom 3 000 vC in die Ukraïene
  • Donkies rondom 3 000 in Egipte
  • Hoenders rondom 2 000 vC in Pakistan.

Wat landbougewasse betref, is die volgende lys van hoe sekere plante en gewasse gedomestiseer is insiggewend:

  • Rys rondom 10 000 vC in Indochina
  • Koring rondom  8 000 vC in Irak
  • Gars rondom 8 000 vC in Irak
  • Mielies rondom 7 000 vC in sentraal Amerika
  • Sorghum rondom 6 000 vC in Oos-Afrika
  • Millet rondom 5 000 vC in Afrika

Die helfte van die kos wat mense eet, bestaan uit graangewasse, maar graangewasse is na regte grasse. Grasse groei hoofsaaklik op die grasvelde dwarsoor die aarde. Die mens vernietig woude en vleilande om ruimte te maak vir die aanplant van bogenomede gewasse en gee daardeur voorkeur aan grasvelde! Ons vervang biodiversiteit met ons gemuteerde monokulture. Die meeste van die mens se gedomestikeerde diere is grasvelddiere.

Die spesie homo sapiens het mettergaan hulle natuurlike vyande uitgewis en van r-stratege na K-stratege oorgegaan, maar sonder om regtig K-stratege te word. Mense het met hulle hiperseksuele r-strategie bly voortplant asof hulle die “kitskos” van die groot katte is. Hierdie mensspesie was tans eksponsieel aan. Gesondheidsorg en voedingsprogramme verseker dat meer mense natuurlike rampe oorleef. Mense wis ekostelsels uit ter wille van lewensruimte en kosproduksie. Mense en hulle makgemaakte diere en plante is indringerspesies in ander wêrelddele.

Afgesien daarvan dat ons ’n indrigerspesie is, speel seks en geweld ’n groot rol in ons bestaan. Mense is gefassineerd met seks en geweld en hierdie twee kom dikwels in tandem voor! Ons gode is dikwels fertiliteits- en oorlogsgode. Ons maak flieks oor seks en geweld en gee dit dan die kode 18SNVL. Meer en meer mense bring die helfte van hulle tyd op die internet deur deur pornografiese webwerwe te besoek. Geweld en seks hou verband met die feit dat die mensspesie na regte r-stratege was. Baie van ons sportsoorte bevat aggressie en geweld. Ons vermaak onsself met angswekkende bedrywighede soos “bungee-jump”, “roller coasters”, valskermspronge, en gevaarlike gedrag soos die gebruik van dwelmmiddels en alkohol. Ons lag spontaan as iemand anders ‘n ongeluk beleef. Ons het ‘n obsessie met dooie en gewonde mense. Ons beleef nagmerries oor val-ervarings en voel dikwels dat ons gejag word. Die emosies wat deur hierdie stimuli opgewek word, staan onder beheer van die limbiese stelsel van die brein (ook bekend as die “reptiel”-brein.) Die feit dat ons die outeurs van hierdie stimuli is, wys dat ons daarvan hou om die emosies wat verband hou met veg, vlug en voortplanting op te wek. Hierdie bisarre gedragspatroon wys dat ons eintlik prooidiere is.

Kan ons die aanwas van mensse beheer? Klaarblyklik nie, want selfs tydens oorlog was die mens ongekend aan. Angs- en stresbelewenisse wakker klaarblyklik seksuele drifte aan. Promiskuïteit neem tydens oorloë toe. Meer as ’n derde van die 5.3 miljoene babas wat tydens die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) in Brittanje gebore is, was buite-egtelik verwek. Verder is meer as ’n miljoen aborsies tydens hierdie jare gedoen.

Die limbiese sisteem beheer die gedrag wat verband hou met oorlewing: veg, vlug, voed en voortplanting. Die stimulasie van die hipothalamus gedurende die veg- of vlugreaksie mag in sekere gevalle ook die libido stimuleer.

Groei in die bevolking neem geweldig toe sedert die industriële revolusie van die sewentiende en agtiende eeu in Europa. Die kolonialisering van ander lande hou verband met die oorbevolk-raak van Europa en die vermindering van ruimtes om die nodige gewasse te kan kweek en diere aan te hou. Europeërs het feitlik elke ander vasteland beset en daar die proses van aanwas en die vernietiging van biodiversiteit aangehelp. Ons verwys hierna as “ontwikkeling”. Niks sal die populasie-aanwas verhoed om eksponensieel te groei nie. Bevolkingsaanwas sal aanhou totdat daar niks meer oor is om te eet en te drink nie. Niks wat ons doen kan die biodiversiteit op aarde meer behou nie. Wanneer die mens uitgewis is, sal elke ekostelsels tot niet wees saam met al die miljoene spesies en organisme wat deel daarvan was. Daar was verskei vorige uitsterwing of uitwissings op aarde, maar hulle is meestal deur natuurlike faktore veroorsaak. Die Sesde Groot uitwissing hang egter saam met die handelinge van die mensspesie homo sapiens. Hulle het die grootste impak op die totale ekologie van die aarde. As lewe die mensdom oorleef, sal dit ’n verarmde een wees vergeleke met die biodiversiteit wat eens bestaan het. Ons is die laaste geslag wat die natuurt in sy huidige skoonheid en diversiteit sal ken en geniet. Die mens is onafwendbaar op pad na die einde. Kompetisie vir noodsaaklik hulpbronne gaan toeneem soos die hulpbronne begin verminder.

Bevolkingsgroei is nie die enigste bekommernis nie, maar die gebruik van hulpbronne. Hulpbronne word vinniger verbruik in gegoede en tegnologies goed ontwikkelde gemeenskappe as in arm en “oorbevolkte” gemeenskappe. Die VSA het ’n groter impak as die “oorbevolkte” Asië. Die aarde kan nie nog ’n ekonomie soos die VSA s’n bekostig nie. Dink aan wat gaan gebeur as China ’n ekonomie soos die VSA het.

Hoe meer hulpbronne verbruik word, hoe meer afvalstowwe en hoe meer word die omgewing besoedel. Populasie-aanwas, welvaart en tegnologie is die drie belangrikste faktore wat die ekologie vernietig. Afgesien van populasie-aanwas wat ’n groot impak op die aarde het, speel die volgende ook ’n rol:

  • Habitatverlies deur ontbossing, landbou-aktiwitiete, industrieë, mynbedrywighede, verstedeliking, besoedeling (afval), en die toename van CO2 in die atmosfeer.
  • Klimaatsverandering vanweë die styging in temperature. Seisoene en seestrome verander. Die yskappe en gletsers smelt. Daar is droogtes, vloede en storms.

Habitatverlies lei tot verlies aan biodiversiteit en dit lei tot hongersnood en  uitwissing. Soos die hulpbronne opgebruik word, sal daar ’n toename in kompetisie vir water, voedsel en energie wees. Industriële lande sal die hulpbronne van ontwikkelende lande verorber. Ryker lande sal op arm lande prooi. Sterkes sal die armes se kos en water voor hulle oë wegneem tot dat daar niks oor is om voor te veg nie. Alhoewel die ryk en ontwikkelde lande die laaste sal wees om te verdwyn, sal hulle ’n toksiese wildernis nalaat.

Wat ontstellend is, is dat gelowiges die probleem op God afskuif of hulle sien dit bloot as die voorspel tot die apokaliptiese einde warvan in die Bybelboek Openbaring vertel word. Al Gore noem in sy boek An Inconvenient Truth dat diegene wat vroeër skepties gestaan het teenoor die kwessie van aardverwarring en die vernietigng van die ekologie, nou oorhel na totale fatalisme. Geeneen is van plan om ’n vinger te verroer of om hulle gedrag te verander nie. Soos koning Louis XVI sê hulle ook : “Na my die vloed!” Waarom sal ons ons bekommer oor diegene wat na ons kom. Waarom sal ons bekommer oor of geslagte na ons genoeg water en voedsel sal hê? Solank ons die lewe kan geniet, is alles “honky dory!”

Op die vooraand van die Sesde Uitwissing, kyk ons nog rustig TV, skree ons vir die Bokke, gaan fliek ons, ry met ons duur petrolvretende motors rond, bou ons groot huise by die see, of op die Golf-landgoed wat niks anders as graswoestyne is wat water verorber. Waarom sal ons ons bekommer oor die aarde en oor ander spesies?


DIE BYBEL: WOORD VAN GOD, OF OOR GOD?

Sakkie Spangenberg
 

1 Inleiding

Ons het by die vorige drie geleenthede aan drie sake aandag gegee:

  • 'n Nuwe spiritualiteit: Die oue is nie meer nie, die nuwe is nog nie.
  • Fases van geloofsgroei: Nie net ons liggame groei nie, maar ook ons gees.
  • Beelde van God/die goddelike: Teïstiese, panteïstiese en panenteïstiese beelde .

Ons fokus vanoggend (22 Mei) op die Bybel. Ek wil die onderwerp aan die hand van vier vrae aan die orde stel:

  • Waarom ons nog enigsins met die Bybel besig hou?
  • Kan ons nog praat van die Bybel as daar ten minste drie tradisies bestaan?
  • Hoe is daar tradisioneel oor die Bybel gedink?
  • Hoe moet ons vandag oor die Bybel dink?

 

2 Waarom ons nog met die Bybel besig hou?

Daar is mense wat soms vra: "Waarom hou julle julle nog met die Bybel besig? Hierdie boek het soveel ellendes deur die eeue veroorsaak en tot soveel mense se dood aanleiding gegee dat ons gerus daarvan kan afskeid neem."

Kom ons erken dit ruiterlik dat die Bybel 'n gevaarlike dokument is en dat dit wel vir vele mense se dood verantwoordelik is. Miskien is dit meer korrek om te sê dat sommige mense se interpretasie van Bybeltekste tot ander soos dood aanleiding gee. Die Bybel self doen dit nie. Ek besit 'n boek met die titel The Bible Tells Me So: Uses and Abuses of Holy Scripture (1996). Wanneer 'n mens dit lees, is dit skrikwekkend om te sien wat lesers al uit die Bybel afgelei het. Neem ook maar die onlangse kerkgeskeidenis in ons land toe Bybeltekste gebruik is om die apartheidsbeleid te ondersteun. En tans die gesprek oor mense met 'n homoseksuele oriëntasie.

Na my mening kan ons nie sommer van die Bybel afskeid neem nie. Ons gaan onsself in die proses verarm. Dit het 'n groot rol gespeel in die Westerse samelewing en speel nog steeds daardie rol. Na regte kan 'n mens nie Westerlinge verstaan sonder om hierdie boek te lees nie. Dis egter nie al rede nie. Wanneer ons moeite doen om hierdie boek te verstaan, bied dit goeie leesstof en kan 'n mens uit die verhale, gedigte, briewe, wysheidsspreuke en ander literatuursoorte nog veel leer. Die derde waarde van die NHN stel dit soos volg: "Ons koester die beste van ons erfgoed in onder andere die Bybel, ons Christelike en ander spirituele tradisies."

 

3 Kan ons nog van DIE BYBEL praat as daar ten minste DRIE tradisies bestaan?

Wanneer ons met die Bybel omgaan, moet ons besef dat daar eintlik nie so 'n entiteit soos DIE BYBEL is nie. Daar is Katolieke Bybels, Protestantse Bybelse en Bybels van die Oosters-Ortodokse Kerke. Al drie die tradisies van die Christendom se Nuwe Testament stem ooreen, maar nie hulle Ou Testament nie. Elke tradisie het hulle eie siening oor hoeveel boeke deel vorm van die Ou Testament.

Die feit dat daar drie tradises bestaan, bevestig die standpunt dat dit nie God is wat besluit het hoeveel boeke in die Bybel moet wees nie, maar mense. Bybelboeke is deur mense geskryf en Bybels soos ons dit ken, is deur mense saamgestel. Dit het nie so uit die hemel na ons gekom nie. God het dit nie aan mense "gefaks" nie soos iemand in die gehoor dit gestel het. Binne die Nuwe Hervorming Netwerk het ons geen probleem om die ander tradisies rondom die Ou Testament te respekteer en die sogenaamde deutero-kanonieke (of apokriewe boeke) te lees en te bestudeer nie. Ons het ook nie 'n probleem om ander vroeg-Christelike evangelies (soos die Tomas-evangelie) te lees nie.

 

4 Hoe is daar tradisioneel oor die Bybel gedink?

Dit was lank gelede 'n algemene siening dat die Bybel goddelik gedikteer en geïnspireer is. Die Bybel is nie op dieselfde vlak as ander menslike literatuur geplaas en gehanteer nie. Daarom is daar ook daarna verwys as "Woord van God". Daar bestaan 'n pragtige skildery van Rembrandt van Rijn (1606–1669) wat uitbeeld hoe 'n engel die woorde van die evangelie in Matteus se oor fluister terwyl hy dit neerskryf. Sommige geleerdes het op grond van 2 Timotues 3:16 teorieë saamgestel oor hoe God deur sy Gees die Bybelskrywers geïnspireer het. Sommige meen dat God die woorde self gegee het. "Verbale inspirasie", noem hulle dit. Ander praat weer van "personele inspirasie". God het die mense geïnspireer. 'n Mens moet 'n teïstiese godsbeeld koester om hierdie soort teorieë te onderskryf en te verstaan. Neem 'n mens in ag dat daar drie tradisies oor die Bybel bestaan, laat dit onmiddellik die idee van inspirasie op wankelrige bene rus. Watter tradisie is nou die "goddelik-geïnspireerde" een? Die Protestante s'n, of die Katolieke s'n? Of is die tradisie van die Ortodokse Kerke dalk die goddelike een?

 

5 Hoe moet ons vandag oor die Bybel dink?

Ek stel die kwessie oor hoe ons vandag oor die Bybel moet dink deur middel van sewe aanhalings aan die orde. Die idee met hierdie aanhalings is dat groepe dit kan oorweeg en bespreek.

Stelling 1

The Bible may sometimes be referred to as ‘the Word of God', but that can surely not mean that divine utterances are received by us or by the original authors in some direct way, which guarantees precise verbal accuracy. What we have is a record of human perceptions of divine words and actions, and human perceptions in all ages are fallible. (Richard Coggins)

Stelling 2

The conclusion which this adds up to is that the use of ‘word of God' in connection with prophetic utterances and as a term for the Scriptures as a whole has had serious disadvantages.... My contention is that God does not speak Hebrew, that the language of the Old Testament is human language and that, with this in mind, it must be studied like any other literature embedded in ancient documents. (William McKane)

Stelling 3

Paul was a limited man captured by the worldview and circumstances of a vastly different time. It is the height of foolishness to try to claim eternal truth for his culturally conditioned and time-limited words. Paul's words are not the Words of God. They are the words of Paul — a vast difference. (John Shelby Spong)

Stelling 4

The recognition that the Bible expresses the interpretation of its experience of God in images, legends, miracle stories or myths made it more possible for me to gain access to the truth that it seeks to convey. (Günther Weber)

Stelling 5

What we need is a new understanding of the role of the Bible in the church today that acknowledges the actual reality of our situation — an understanding that takes the Bible as foundational document but not as authoritative, that is, an understanding that does not assume that the Bible determines all that we are to think and do. (Robin Scroggs)

Stelling 6

Whether it is the Bible or the Confessions of the Reformed churches, each document or collection of documents represents the production of its time and culture. As such they have to be read in historical terms and not as permanently prescriptive for all time. (Robert Carroll)

Stelling 7

Meanings are always created. Meanings are not "found" or "discovered" in the text, but they are taken out of the mind of the individual reader and from there attributed to the text. No other description is possible. (Gunnar Hansson)

 

DIE HISTORIESE JESUS EN KERSFEES

Hansie Wolmarans 4 Desember 2005
 

OPSOMMING

Om die historiese Jesus na te vors, is soos om lae en lae verf en vernis van 'n antieke meubelstuk af te skuur. Dan mag jy vind dat daar selfs strukturele veranderings aan die meubelstuk self aangebring is. Onder lae van mitologisering, vind ons die oudste voorstelling van Jesus as 'n wysheidsleraar (Q). Volgens die Griekse Heroïese patroon, is aan Jesus 'n bo-natuurlike geboorte verskaf, asook wonderwerke, 'n hellevaart, 'n opstanding, en 'n hemelvaart. Uit hierdie proses kan ons aflei dat hoe ons met mekaar saamleef, belangriker is as dogmas. Daar is geen voorafbepaalde Goddellike plan vir die wêreld of ons lewens nie. Ons het egter die vermoë om self sin te maak van die chaos in en om ons.

  • Verskillende Voorstellings van Jesus

"Ek is Jesus van Nasaret en ek is nooit gekruisig nie en het ook nie uit die dood opgestaan nie. Ek is die seun van Maria en Josef, die skrynwerker van Nasaret. Ek is nie die seun van God nie, ek is 'n die seun van 'n mens—soos alle ander mense."

In Kazantzakis se roman, The Last Temptation of Christ1, ontmoet Paulus vir Jesus die mens. Hierdie woorde vorm deel van hulle dialoog. Vir hierdie Jesus het Paulus geen rol nie. Hy skreeu Jesus se stem dood:

"Bly stil, of mense sal jou hoor en sterf van angs. In die verdorwenheid, die onreg en armoede van hierdie wêreld, is dit die gekruisigde en opgestane Jesus wat die eerlike man, die verontregte man kan troos. Waar of vals—wat gee ek om! Dis genoeg as die wêreld verlos word."

Om navorsing te doen oor die historiese Jesus is nie baie gewild nie. Baie mense is tuis in die wêreld van mites en sou saam met Paulus kon argumenteer dat dit 'n gemitologiseerde Jesus is wat ons kan laat beter voel en genees. Die waarheid ontstel en ontwortel mense net. Ons het 'n dosis opium nodig, nie realiteitsmedisyne nie.

Daar is egter mense wat hulle lewens wil suiwer van dit wat bedrieglik is en agter die skyn van dinge na die waarheid soek. Vir hulle maak die soektog na die oorspronlike Jesus sin, soos om 'n antieke meubelstuk te restoureer deur lae en lae verf en vernis af te stroop. Soms kom die restourateur agter dat wat onder die lae verborge is, al klaar 'n vervorming van die oorspronklike is en dat haar rekonstruksie uiteindelik ook 'n mate van rekonstruksie bevat. Hierdie tendens om Jesus eietyds voor te stel, sien mens duidelik raak in prente wat van Jesus gemaak is.

Joe Cauchi, van Mosambiek, het 'n twintigste eeuse voorstelling gemaak, getiteld  Black Jesus Blesses the Children. Kyk gerus hierna by BlackJesus.html. Hierdie skildery maak mense bewus van hoedat swart kinders in die twintigste eeu verwaarloos en gemarginaliseer word. Dit is op 'n afstootlike wyse geïllustreer toe a 46 jarige Sweed, Peter Zimmerman, op 12 Oktober 2005 in 'n hotel betrap is terwyl hy 'n minderjarige swart seun sodomiseer. Die staat het hom met 'n boete van R10,000 vrygelaat. The Star het later vasgestel dat hy in 'n tydperk van 'n jaar verskillende straatkinders seksueel misbruik het. Volgens die polisie kon hulle die betrokke seun nie opspoor nie. The Star was in staat om die seun op te spoor, 'n onderhoud met hom te voer, asook met ander kinders te gesels oor wat die toeris na bewering met hulle gedoen het. Vigswesies, straatkinders, misbruikte kinders soek na 'n twintigste eeuse swart Jesus om hulle te seën.

The Passion of the Christ Nog 'n twintigste eeuse voorstelling van Jesus is Mel Gibson in die rolprent, The Passion of the Christ. Hierdie uitbeelding druk die tema van die rolprent uit, dat slegs 'n daad van ekstreme geweld die probleme tussen God en mens kon oplos. Op 'n meer mundane vlak is dit uitdrukking van die Amerikaanse psige, dat slegs die gebruik van uiterste geweld politiese probleme kan oplos.

 

Lykskleed van Turyn Op die Lykskleed van Turyn verskyn daar ook 'n sogenaamde afbeelding van Jesus (dit sou die kleed wees waarin hy begrawe is). Hy het lang hare en smal gelaatstrekke. Volgens die dimensies van die kleed, was hy ongeveer 1.80m lank. Jesus lyk hier soos ons tradisionele kinderbybel voorstelling van Jesus en die lengte en gelaatstrekke wys dit uit as 'n sestiende eeuse vervalsing.

Dieselfde diversiteit van uitbeeldings kry ons ook in musiek. Die bekende Pie Jesu (soos deur Sarah Brightman gesing) waardeer Jesus net as iemand wat die sonde van die wêreld gedra het, en vir mense rus gebring het. "Vrome Jesus, wat die sondes van die wêreld dra, gee hulle rus. Lam van God, wat die sondes van die wêreld dra, gee hulle rus vir ewig." Die bekende Neger liedjie, Oh Happy Day, met 'n meer opgewekte ritme as Pie Jesus, dra presies dieselfde boodskap. Dit sing oor hoe 'n vrolike dag dit was toe Jesus al my sondes afgewas het. Jesus word geprys omdat hy ons leer waak en bid het en om elke dag met vreugde te leef.

C Austin Miles het in 1912 só die ontmoeting tussen Jesus en Maria in lirieke omgesit in sy liedjie In the Garden. Jesus is hier iemand wat 'n rol speel in 'n individuele geestelike herlewing (let op die onderstreepte woorde):

I come to the garden alone,
When the dew is still on the roses;
And a voice I hear, falling on my ear,
The Son of man discloses.

And he walks with me and he talks with me,
And he tells me I am his own,
And the joy we share as we tarry there
None other has ever known.

Ons het hier 'n totale afwesigheid van spiritualiteit as verhoudings tot ander. Daarom is dit belangrik om die lae en lae wat deur die eeue oor Jesus geverf is, af te stroop, om by die egte Jesus uit te kom—vir sover dit moontlik is.

  • Die Tradisionele Kersverhaal

Die historiese Jesus is in die tweede helfte van die eerste eeu n.C. opgedoen en oorgeverf. Ons kan merkwaardig baie oor hom vasstel deur die lae te verwyder. Dit is hoe Matteus 1:18-25 oor sy geboorte praat (my vertaling):

18 Die geboorte van Jesus Christus was só. Nadat sy ma, Maria, aan Josef as vrou beloof is, voordat hulle begin saambly het, het dit duidelik geword dat sy swanger was uit die Heilige Gees.
19 Haar aangewese man, Josef, het volgens Moses se wet geleef. Hy wou nie skande oor haar bring nie, en het toe besluit om in die geheim van haar afstand te doen.
20 Terwyl hy dit oorweeg, kyk, het 'n engel van die Here in 'n droom aan hom verskyn en vir hom gesê:

"Josef, jy het koning Dawid as 'n voorouer. Moenie huiwer om Maria as jou vrou te neem nie, omdat dit wat met haar gebeur het, deur die Heilige Gees veroorsaak is.
21 Sy gaan geboorte gee aan 'n seuntjie en jy moet hom Jesus noem want hy sal sy volk van hulle sondes verlos.
22 Dit het alles gebeur sodat dit wat die Here deur die profeet Jesaja voorspel het, waar sou word:

23 ‘Kyk, die maagd sal swanger word en aan 'n seuntjie geboorte gee. En hulle sal hom Immanuel noem, dit beteken, God is nou by ons.'"
24 Toe Josef wakker geword het uit sy droom, het hy gemaak soos die engel van die Here hom aangeraai het. Hy het Maria as sy vrou aanvaar, maar het nie seks met haar gehad totdat sy geboorte gegee het aan haar seuntjie nie. Josef het hom die naam Jesus gegee.

Die teks bevat al die elemente van 'n mite:

  • Dit bevat bo-natuurlike karakters (Heilige Gees, 'n Engel, en God);
  • dit reflekteer 'n kosmos wat uit drie verdiepings bestaan, 'n hemel bó die wolke, die aarde, en die onderwêreld (wat nou nie hier 'n rol speel nie); en
  • tyd word in twee gedeel, 'n tyd van beloftes of voorspellings, en 'n tyd van vervulling (die einde van die tyd). Hierdie tyd word só deur God gedetermineer om 'n vasgestelde struktuur aan die geskiedenis te gee. Só is die geboorte van 'n kind uit 'n maagd is reeds in die Ou Testament (Jesaja 7:14) voorspel, en is daar 'n Messias uit Dawid se nageslag verwag;
  • Kommunikasie tussen hemel en aarde is by wyse van bo-natuurlike wesens met vlerke (engele), en drome;
  • Ons lees ook van 'n tipiese mitologiese gebeurtenis, van 'n goddellike wese wat 'n kind verwek by 'n aardse maagd;
  • Die teks nooi die leser as't ware uit om nog lae op die prentjie te verf. Dit is inderdaad gedoen. Lukas voeg die storie van die skaapwagters en die engele in. Later (130 n.C.) is die datum van die geboorte vasgestel op 25 Desember om saam te val met die Romeinse feestyd van die Saturnalia. Op die laaste dag van hierdie fees, die 25e Desember, het mense vir mekaar geskenke gegee. Die 25e Desember is ook beskou as die geboortedag van die songod, Mithras. In die Romeinse kalender (Noordelike halfrond) is dit dag van die Winter sonnestilstand, d.w.s. die dag waarop die lengte van die dag begin langer word. 'n Kerklike heilige, Nicholas, wat in die vierde eeu n.C. geleef het, word nou Sinterklaas wat geskenke vir kinders gee.

As jy die mitologiese aard van hierdie en ander kersverhale verstaan, kan mens baie maklik die aangeverfde lae afskil om by 'n historiese kern uit te kom.

  •  Die Voorspelling in Jesaja 7:14

Kyk mens na die sogenaamde voorspelling van Jesus se geboorte in Jesaja 7:14, besef jy dit kan eenvoudig nie wees nie. Die konteks van Jesaja 7 het niks met 'n voorspelling te doen nie. In die agste eeu v.C. is die koninkryk van Juda bedreig deur die leërs van Sirië en Israel. Jesaja troos mense dat hierdie leërs hulle nie sal oorwin nie. As 'n teken hiervan, verwag hy dat 'n kind gebore sal word (sy eie, of die koning s'n). Hy moet die naam kry, "Immanuel", dit beteken "God is aan ons kant." Die Hebreeuse woord vir die kind se ma, is "jong vrou", nie "maagd" nie. Selfs die ou Griekse vertaling van die Ou Testament (die Septuaginta) wat dit as "maagd" vertaal, bedoel net dat dit die vrou se eerste kind sal wees.

  •  Die Maagdelike Geboorte

Dit mite van die maagdelike geboorte berus op 'n primitiewe verstaan van die geboorteproses. Mense wat groot hoogtes bereik het, is vergoddellik en hulle sukses is verklaar as dat hulle pa's gode was. Rondom Alexander die Grote, keiser Nero, Konstantyn, Socrates, Plato, Aristoteles en Pithagoras het sulke mites ontstaan. Talle Griekse heldefigure of gode (soos Heracles en Dionysus) is met maagdelike geboortes vereer.

Mense van daardie tyd het gebrekkige kennis oor die geboorteproses gehad. Hulle het gedink 'n vrou se bydrae is soos 'n blompot waarin die manlike saad geplant word—daarom kon 'n man nie onvrugbaar wees nie, net 'n vrou. Die lewe van 'n baba was dus gesetel in die saad van die man. Dit is onder andere die rede waarom geslagsregisters volgens die lyn van die man gedoen is. Om dus 'n goddellike oorsprong vir Jesus en ander belangrike persone of figure aan te dui, moes die man uit die vergelyking weggelaat word, nie die vrou nie. In die Jesusverhaal vervul die Heilige Gees die rol van die man.

In die 18e eeu is uiteindelik vasgestel dat die vrou die eiersel verskaf, asook 50% van die genetiese materiaal. Wat my betref, het die wetenskaplike onderbou vir 'n teologie van Jesus se goddellikheid, met hierdie insig in duie gestort. Die maagdelike geboorte storie berus dus op onkunde, asook 'n negatiewe opvatting van die vrou, en is beslis nie meer geskik om idees oor Jesus se status oor te dra nie.

  •  Jesus as Buite-Egtelike Kind

Skil ons nou die mitologiese lae van hierdie geboorteverhaal in Matteus af, is al wat oorbly, die volgende:

    • Op 'n jong ouderdom, waarskynlik kort nadat sy begin menstrueer het, het Maria se ouers haar as vrou beloof aan Josef, 'n skrynwerker. Hy was heelwat ouer as sy. Ons weet dat huwelike in hierdie tyd gereël was en te doen gehad het met faktore soos behoud van grond, of finansiële sekuriteit. Min huwelike was gelukkig. Rondom die begin van ons Christelike jaartelling het die Romeinse digter, Ovidius, 'n boek geskryf oor die kuns van die liefde (Ars Amatoria), of hoe om 'n suksesvolle buite-egtelike verhouding te hê!
    • Voordat Maria en Josef begin saamwoon het wat die amptelike begin van hulle huwelik sou wees, het Maria swanger geword. Wie die pa van die kind was, is onduidelik. Dit kon die resultaat van 'n verkragting gewees het (miskien deur een of ander godsdienstige leier). In ongeveer 178 n.C. skryf Celsus (sy geskrifte is verbrand; ons ken hom net uit Contra Celsum, Origines se verweer), dat Jesus se pa 'n Romeinse soldaat, Panthera, was. In die Joodse Talmud word daar na "Jesus, die seun van Panthera" verwys. Palestina is deur Romeinse soldate beset rondom ons Christelike jaartelling. In die Rynland, Duitsland, is 'n grafskrif gevind waar 'n Romeinse soldaat en boogskutter, Panthera, begrawe is nadat hy in Palestina diens gedoen het en toe in 9 n.C. oorgeplaas is. Dit is moontlik dat hy die biologiese pa was van Jesus wat gebore is kort nadat Maria begin menstrueer het, waarskynlik op 12/13-jarige ouderdom. Oor die aard van die verhouding tussen Panthera en Maria sou mens net kon spekuleer. Gesien die jong ouderdom van Maria, sou ons in elk geval haar swangerskap as die gevolg van statutêre verkragting gesien het.
    • Die tradisie dat Jesus 'n buite-egtelike kind was, is baie oud. Om die waarheid te sê, dit kom in die Bybel self voor. Die oudste Evangelie, Markus, wat so ongeveer 65-75 n.C. geskryf is, het glad nie die verhaal van die maagdelike geboorte nie. Markus 6 vertel dat Jesus eenkeer na sy geboortedorp teruggekeer het. Op die sabbat het hy in die sinagoge gepreek. Toe sê die mense (6:3): "Is hy dan nie die timmerman, 'N SEUN VAN MARIA en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie? En is dit dan nie sy susters wat hier by ons woon nie?" Hierdie versie spreek boekdele. 'n Kind se afkoms is altyd van vaderskant aangedui, behalwe waar die kind buite-egtelik was; dan is dit van moederskant af gedoen. Paulus beweer slegs dat Jesus "uit 'n vrou gebore is" (Gal 4:4), en het geen aanduiding dat die vrou 'n maagd was nie. In Romeine 1:3 sê hy Jesus is uit die geslag van Dawid "na die vlees."
    • Selfs die historiese "feite" is onder verdenking. Verskeie teenstrydighede dui ook daarop. Matteus 2:1 en Lukas 1:5 verklaar dat Jesus gebore is toe Herodes koning van Judea was. Volgens Lukas 2:1-8 was Quirinius die goewerneur van Sirië. Herodes is egter reeds in 4 v.C. oorlede, en Quirinius het eers in die Winter van 6-7 n.C. goewerneur geword. Volgens Matteus 2:9 het Maria en Josef in Bethlehem gebly waar 'n ster oor hulle huis geskyn het. Lukas 2:1-8 sê dat hulle in Nasaret gebly het. Dit reflekteer twee tradisies, dat die Messias in Dawid se stad gebore sou word, en dat Jesus 'n Nasarener en Galileer genoem is. Lukas los die probleem op deur te skryf dat dit net tydens die geboorte was dat Jesus in Bethlehem was. Matteus los die probleem op met die storie van die vlug na Egipte.
  • Die Heroïese Patroon

Daar was dus maar min bekend oor Jesus se geboorte en sy lewe is vermitologiseer volgens patrone wat in die Grieks-Romeinse heldeverhale bestaan het, met verwysing na Ou Testamentiese gedeeltes. Verskillende mitograwe, byvoorbeeld Joseph Campbell, het hierdie patroon só omskryf. (Dit moet nie as 'n keurslyf gesien word nie, maar hierdie elemente sou tipies kon voorkom.)

    • Die geboorte van die held word deur 'n orakel of profesie voorafgegaan (bv. Matteus 1:23; Lukas 1:27).
    • Sy ma is 'n maagd, van koninklike afkoms, verwant aan sy aardse pa.
    • Sy regte pa is 'n god.
    • Met sy geboorte word daar pogings aangewend om hom dood te maak, omdat hy as 'n toekomstige politiese bedreiging beskou word (bv. Matteus 2).
    • Niks of min is oor sy kinderjare bekend.
    • Hy voel hom vervreemd van sy sosiale omgewing en gaan op 'n reis. (Die evangelies beskryf Jesus se lewe as 'n reis na Jerusalem).
    • Op sy reis moet hy verskillende hindernisse oorkom, waarvan baie bo-natuurlik van aard is.
    • Hy ervaar 'n tragiese dood, en daal neer na die onderwêreld (Hades). (Sien vir Jesus Hand. 2:27, 31; Efesiërs 4:9; 1 Petrus 3:19, 20; 2 Petrus 2:4).  
    • Soms vaar hy op na die hemel en word vergoddellik.
    • Mense ervaar epifanieë (nadoodse verskynings), en begin om hom te aanbid.  

Dieselfde ontwikkeling wat ons rondom die geboorte van Jesus raaksien, vind ons ook in die res van Jesus se lewensbeskrywings: rondom 'n historiese kern word verskillende mitologiese lae bygevoeg.

  • Historiese Jesus Navorsing

Om by 'n historiese kern uit te kom, word die dokumente waarin daar na Jesus verwys word, eers dateer. Die vroegste bronne is die geskrifte van Paulus, gevolg deur die Sinoptiese2 Evangelies (Markus, Matteus, en Lukas). Paulus het tussen 50-64 n.C. geskryf. Markus, die oudste evangelie, is in 65-75 n.C. geskryf. Matteus het in die vroeë tagtigerjare n.C. ontstaan. Lukas is tussen 90-95 n.C. geskryf. Matteus het omtrent 90% van Markus se materiaal oorgeneem, terwyl Lukas net omtrent 50% verreken het.

Een van die interessantste ontdekkings wat uit 'n vergelyking van hierdie evangelies gemaak is, is dat daar materiaal is wat Matteus en Lukas met mekaar deel en wat nie in Markus voorkom nie. Lukas het nie van Matteus afgeskryf nie, en dit lyk dus asof altwee toegang tot dieselfde bron gehad het. Geleerdes noem hierdie bron "Q", 'n afkorting van die Duitse woord "Quelle" of "Bron." Dit word rondom 50 n.C. dateer, het in Galilea ontstaan, en bevat die vroegste getuienis rondom Jesus. Moontlik verwys Lukas 1:1 na hierdie bron (NAB):

"Daar is baie wat onderneem het om 'n verhaal te skrywe van die dinge wat onder ons gebeur het. Hulle het dit opgeteken soos dit aan ons oorgelewer is deur die mense wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was."

Lukas verklaar dat hy dit dan ook van voor af ondersoek het, en in die regte volgorde neergeskryf het. Daar was dus ander bronne voor die evangelies. Q se inhoud is baie dieselfde as die Brief van Jakobus (einde eerste eeu), die Evangelie van Thomas, en die Didache, 'n oud-Christelike geskrif uit die begin van die tweede eeu. Q bevat geen wonderverhale nie, geen geskiedenis oor die geboorte van Jesus nie, en geen verwysing na die opstanding of hemelvaart nie. Die oorsprong van al hierdie dokumente is uit kringe wat baie noue kontak met Jesus gehad het, byvoorbeeld sy broer Jakobus en sy dissipels. Dit word daarom deesdae baie belangrik geag vir die navorsing oor die historiese Jesus.

Daar is dus hoofsaaklik twee tradisies oor Jesus: 'n Joods-Christelike een (die oudste) en 'n heidens-Christelike een. Die Joodse een bevat hoofsaaklik woorde wat Jesus gesê het, terwyl die Heidense een Jesus as 'n tipiese Griekse held interpreteer. Mens sou die groei van die Jesusmite só kon voorstel.

  • Die Groei van die Jesusmite
    • Jesus in Q (50 n.C.)
      Die Q-bron bevat veral spreuke van Jesus, soos byvoorbeeld die bergrede, die saligsprekinge, die Goue Reël ("doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê), en die uitspraak dat mens nie God en Mammon (=geldgod) kan dien nie. Jesus is dus 'n rondreisende wysheidsleraar of profeet wat niks besit nie, wat sy medemens ten volle aanvaar (veral die gedemarginaliseerdes). Hy maak staat op die gasvryheid van vreemdes om te oorleef. Sy leefwyse word in Matteus 10:9-10 (vgl. Lk. 10:4) uitgedruk: "Dra geen beursie nie, geen reissak, nie geen ekstra skoene nie, geen staf nie." Q bevat geen verwysing na Jesus as die Messias ("Christus"), of as 'n verlosser wat deur sy kruisdood die mensdom met God versoen nie.

       

    • Jesus in Paulus (55 n.C.)
      Paulus het min oor Jesus as 'n historiese persoon te sê (behalwe die reeds genoemde uitsprake oor sy afkoms). 'n Mitologiese Jesus is vir hom baie belangriker. Hy wou hoofsaaklik mense wat heidene was, en bekend was met die Griekse heldeverhale en misteriekultusse, tot die Christendom bekeer. Daarom herskep hy Jesus sodat hy vir sy gehoor aanvaarbaar is.

      Dit is interessant om te sien hoe 'n Q-gemeenskap en Paulus die nagmaal beskryf. Hier gebruik ek hoofstukke 9-10 in die Didache en 1 Korintiërs 11:23-33 vir die vergelyking.

      Elemente

      Didache

      Paulus

      Beker

      Staan vir die nuwe nageslag van Dawid, die kerk, wat alle mense insluit.

      Staan vir Jesus se bloed wat 'n nuwe verbond verseël.

      Brood

      Staan vir die kerk, wat uit verskillende volke bestaan, maar een word.

      Staan vir Jesus se liggaam, gebreek vir die deelnemers.

      Betekenis

      Tydens maaltyd is kos met arm mense gedeel. Die maaltyd is kos vir die siel, die wysheid van Jesus waarmee jy kan leef. Gee ewige lewe.

      Die maaltyd is ritueel en kulties. Mense word aangemoedig om by die huis te eet.

    Dit is duidelik dat Paulus die nagmaal herkonstrueer het na aanleiding van die rituele maaltye van die misteriekultusse, waar 'n maaltyd van brood / vleis en wyn die dood en opstanding van 'n god voorgestel het.

    • Markus (65-75 n.C.)
      Markus bevat geen verhale oor Jesus se geboorte of kinderjare nie. Jesus het wonderwerke gedoen. Hy is nie net 'n leraar nie, maar ook 'n god-mens. Net soos kinderlose Romeinse keisers soms 'n kind aangeneem het (adoptio), só het God Jesus tot kind aangeneem tydens sy doop (Markus 1:11). Jesus is as 'n buite-egtelike kind beskou (Mk 6:3). Maria word negatief geteken en tree nie op soos iemand wat dink haar kind het God as sy biologiese pa nie. Sy dink byvoorbeeld Jesus is van sy kop af (Mk. 3:2—35; 6:1-6). Hy doen wonderwerke, maar wek nie mense uit die dood op nie. Daar is slegs verwysings na die leë graf, en niks oor Jesus se verskynings ná sy dood of hemelvaart nie.

       

    • Matteus (80-83 n.C.)
      Matteus skryf die storie van die maagdelike geboorte (met die ster en die wyse manne), wonderwerke (insluitend mense wat uit hulle grafte opstaan), opstanding en verskynings van Jesus daarna aan 'n paar vroue in Galilea, asook aan die elf dissipels. Soos Markus, is Jesus 'n leraar, maar ook 'n god-mens. Hy skryf 90% van Markus oor, maar maak ook van Q gebruik.

       

    • Lukas-Handelinge (90-95 n.C.)
      Lukas het beide die evangelie en die boek Handelinge geskryf. Volgens hom het Jesus 'n bo-natuurlike geboorte (met die skaapherders en engelekore), doen wonderwerke (wek ook die weduwee van Nain se seun op uit die dood), daal ná sy kruisdood af na die doderyk (Hand 2:31), staan op, verskyn aan talle mense, en vaar veertig dae later op na die hemel. Sy wederkoms word verwag (Hand 1:11). Hy gebruik Markus as bron (50%) asook Q.

      Dit is eers in die Johannes evangelie dat ons nou spekulasies vind oor Jesus se pre-eksistensie (hy is die logos of woord waarmee God die kosmos geskep het).

      Dit is duidelik hoedat die Jesusmite gegroei het, en hoedat veral die maagdelike geboorte berus op 'n negatiewe waardering van die vrou en 'n gebrekkige verstaan van die biologiese prosesse van voortplanting. Gevolglik het dit nie sin om die storie van die maagdelike geboorte te perpetueer nie. Ek sou Matteus 1:18-25 dus só ontmitologiseer as 'n kersverhaal vir die twintigste eeu.

     

  • 'n Eksperiment in Bybelvertaling: Matteus 1:18-25

Dit is hoe Jesus gebore is. Sy ma, Maria, was aan Josef as vrou beloof deur haar ouers. Voordat hulle begin saamwoon het, het dit duidelik geword dat Maria swanger was deur iemand anders. Josef, haar verloofde, het volgens Moses se wet geleef. Hy wou geen skande oor haar bring nie, en wou die verlowing in die geheim verbreek.

Terwyl hy dit oorweeg het, het hy stadigaan tot die besef gekom dat hy nie skaam moet wees om met haar te trou nie. Sy was nog jonk en kon nie alleen verantwoordlikheid vir die swangerskap aanvaar nie. As hulle die kind goed kon grootmaak, sou hy dalk 'n sterk leier kon word en vir mense kon wys wat dit beteken om jammer vir ander mense te wees.

Josef het selfs besluit om die seun Jesus te noem. Die naam beteken dat hy mense sal leer om hulleself te aanvaar, en hulle eie swakhede te verwerk. Hy het die idee by die profeet Jesaja gekry. Jesaja het ook gepraat van 'n seun met die naam Immanuel, wat wys dat God aan mense wat moeilikheid ervaar se kant is, en dat God hulle helper is wat vir hulle lief is. Daarna het Josef vir Maria in sy huis geneem en haar trots tot as sy vrou geneem. Toe die kindjie gebore is, het hy hom Jesus genoem.

Hier het ons 'n Jesus wat iets te sê het vir gemarginaliseerde mense sonder enige bo-natuurlike of dogmatiese baggasie. Die verhaal respekteer kulturele diversiteit en plaas 'n swanger tienermeisie in die sentrum van dinge. Die spiritualiteit van hierdie lesing vereis ook nie die onderdrukking van die menslike intellek nie. Só word 'n tipiese onderdrukkende element van die Christendom, verreken.

In Popular Mechanics van 17 December 2002 verskyn daar ook 'n rekonstruksie van Jesus se gesig (kyk hierna by RealJesus.html). Hierdie rekonstruksie is gedoen met die hulp van tegnieke ontwikkel op die terrein van die forensiese antropologie. Die kunstenaars het kulturele en argeologiese data gebruik, sowel as die fisiese en biologiese wetenskappe om verskillende groepe mense te bestudeer. Resultate van die genetika, menslike groei en ontwikkeling studies, primatologie, paleoantropologie, en menslike osteologie is in die rekonstruksie gebruik. Selfs insigte vanuit die studievelde van voeding, tandheelkunde, en klimaatsaanpassing speel 'n rol in hierdie soort navorsing.

Hierdie is hoe 'n tipiese Galilese Semiet sou lyk. Drie kopbene naby Jerusalem is as basis gebruik. Jesus se kort hare is op grond van 1 Kor 11, waar Paulus sê dat lang hare vir mans skandelik was. Jesus is kort, ongeveer 1.6m lank en het omtrent 50kg geweeg. Omdat hy fisiese arbeid gedoen het, was hy fris gebou. As 'n tipiese Semiet sou hy donker van vel gewees het. Hierdie voorstelling is nader aan die waarheid as dié van baie kunstenaars, omdat dit eietydse data gebruik vir die rekonstruksie. Dit verklaar hoekom vroeë skrywers moes verduidelik waarom Jesus nie soos 'n god-mens gelyk het nie. Hulle het na Jesaja 53 verwys om te verklaar hoekom Jesus nie "skoonheid of prag" gehad het nie of 'n indrukwekkende "voorkoms" nie. Hy was letterlik Jan-Jesus, Alleman, Mensekind, een soos ons.

Ek vind die waardes wat in hierdie herlees van die storie na vore kom in moderne musiek wat baie ouer mense as onluisterbaar beskou. Die inhoud van hierdie liedjie spreek my meer aan as die hoogsgewaardeerde Pie Jesu of die opgewekte Oh Happy Day! Die popgroep, Yellow Card, het 'n liedjie geskryf, Believe. Dit gaan oor die gebeure van die 11e September waar brandweermanne geweet het hulle gaan sterf, maar hulle het keer op keer teruggegaan om mense se lewens te red.

Think about the love inside the strength of heart
Think about heroes saving life in the dark
Climbing higher through the fire
Time was running out
Never knowing you weren't going to be coming down alive
But you still came back for me.
You were strong and you believed.

Think about the chance I never had to say
Thank you for giving up your life that day
Never fearing only hearing voices calling out
Let it all go the life that you know
Just to bring them down alive

Wanna hold my wife when I get home
Wanna tell the kids they'll never know
How much I love to see them smile
Wanna make a change right here right now
Wanna live a life like you somehow
Wanna make your sacrifice worthwhile.

Na aanleiding van hierdie gedagtes oor die historiese Jesus en Kersfees, sou ek 'n paar stellings wou maak.

  • Stellings
    • Dit maak nie langer sin om Jesus as die mensgeworde Seun van God te beskou nie. Die verhaal oor die maagdelike geboorte is uitgedien.
    • Vir my is die boodskap van Kersfees dat Jesus my venster op die Goddellike is. Dit gee my nuwe respek vir ander vensters. Jesus se oop verhouding met Samaritane en ander "heidene" dui op 'n openheid and pluralisme.
    • Godsdiens het te doen met onreg, lyding, veral onder die magteloses en armes, met gee en omgee. Daarom streef ons na genade, medelye, vrede, liefde, en dinge wat waar, eerlik, regverdig, mooi en goed is. Om God te aanbid, is om hierdie waardes te bevestig en te simboliseer.
    • Ons leef 'n natuurlike lewe in 'n natuurlike wêreld en ons gee betekenis hieraan deur ons simbole. Die dualisme tussen liggaam en siel; hiernoumaals en hiernamaals; natuurlik en bo-natuurlik, maak nie langer sin nie.
    • Daar is nie iets soos 'n Goddellike plan of bloudruk vir hiedie wêreld of my lewe nie. Ons het almal die kreatiewe vermoëns om sin te maak van die chaos in en om ons.
    • Bybelse verhale help ons om visioene te sien en drome te droom, maar is feilbaar en moet herinterpreteer en dekonstrueer word. Dit is krimineel en onderdrukkend om van mense te verwag om dit wat simbolies bedoel is, letterlik te glo.
    • Die Christelike rituele maaltyd van brood en wyn is 'n inklusiewe feesmaal vir alle mense (tradisionele gelowiges; agnostici; vroue en mans; grootmense en kinders; mense van alle seksuele oriëntasies; rasse en kulture; sosiale klasse en vermoëns). Dit het niks met 'n geweldadige soenoffer te doen wat mense op grond van dogmatiese oorwegings uitsluit nie.  
    • Die wyse waarop ons mekaar behandel is belangriker as die wyse waarop ons ons geloofsoortuigings artikuleer.
    • Die saam soeke na die waarheid is belangriker as die vind van finale en absolute sekerhede.

1 Nikos Kazantzakis (transl. P.A. Bien, 1960). The Last Temptation of Christ. New York: Simon & Schuster, pp. 476-477.

2 "Sinopties" is van 'n Griekse woord afgelei, wat beteken "saamlees". Die eerste drie evangelies het soveel ooreenkomste, dat mens hulle in kolomme langs mekaar kan plaas en kan vergelyk. Dit wil voorkom asof hulle storielyne van dieselfde bron afkomstig is.

 

 

DIE TEORIE VAN EVOLUSIE EN DIE BESTAAN VAN GOD



DIE TEORIE VAN EVOLUSIE EN DIE BESTAAN VAN GOD

Prof Alex Antonites

Departement Filosofie

Universiteit van Pretoria

My dank vir die voorreg om met u te kom gesels oor die evolusieteorie met spesiale verwysing na Richard Dawkins se uitspraak dat die teorie van evolusie  dit logies noodsaaklik maak om ateïsme voor te staan. Dit sou as ’n radikale stelling beskou kan word. Ek wil dan ook argumenteer dat die evolusieleer inderdaad radikaal is en daarom meen ek dat ons hieraan aandag sal moet gee.

Ons kan onsself die volgende vrae afvra: Wat is evolusie? Wat sê dit vandag vir ons? Waarom is daar so iets soos evolusie? Waarom is daar so baie pragtige maar ook aaklige dinge in die natuur? Wat beteken dit alles? Is die mens die hoogtepunt van die skepping? Op hierdie vrae en dergelike vrae probeer die evolusieteorie antwoorde verskaf.
Die woord “evolusie” kom van die Latynse woord evolvere wat beteken om “uit te rol.” In ’n sekere sin is dit wat evolusie vandag letterlik nog beteken, naamlik “die uitrol van een spesie uit ʼn ander” (in Engels: speciation). Dis nuwe spesies wat uit voorafgaandes ontstaan. Almal gaan uiteindelik terug na voorgangers tot uiteindelik primitiewe organismes soos mikrobes. Hierdie lang lyn van afstamming staan ook bekend as evolusionêre kontinuïteit. Die evolusieteorie is vandag die fundamentele en standaard paradigma in alle biologiese wetenskappe wêreldwyd.

Sedert Charles Darwin (1809–1882) die moderne evolusieteorie verwoord het, was daar tot vandag toe debatte en kontroverse. Vandag handel die debat hoofsaak oor ID, oftewel “Intelligent Design”. Die vraag is: Was en is daar ’n goddelike ontwerp agter die biologiese prosess in die natuur? Dis veral fundamentaliste binne die Christendom, Islam en Judaïsme wat evolusie verwerp en meen dat die skeppingsverhale ’n alternatiewe basis bied vir die idee van evolusie. Die vraag wat ons onsself hierrondom kan afvra, is: “Is kontroverse per se altyd iets negatiefs?” Ek meen nie so nie. Dit hang natuurlik af. Indien die debat op ’n hoë argumentatiewe vlak gevoer word, kan kontroverse iets baie positief wees. Dit laat mense dink, selfstandig dink oor sake. Dit verruim hul visie. Dit leer hulle om ander se sienings beter te ken en leer hulle ook om hul eie siening beter te ken en te verstaan. Dit slyp dus jou eie sieninge. Wanneer die gesprek egter op blote emosionele vooronderstellings of argumente berus, dan word dit “lae vlak” argumentering en dra nie veel by tot verstaan nie.

El wil vanoggend die volgende sake kortliks as agtergrond aansny: Eerstens, na regte is Charles Darwin nie die grondlegger van die evolusieteorie met sy boek Origin of Species (1859) en Descent of man (1871) nie. Die idee van evolusie gaan terug na die Griekse filosoof Anaximander (611–547 vC). Hy het die basiese gedagte dat een spesie uit ’n ander “uitrol”, geformuleer. Anaximander stel dit dat lewe in die oseaan ontstaan het vanweë sonlig se interaksie met water. Hy het nog nie die begrip “energie” geken nie en praat dus van sonlig. Primitiewe eenvoudige lewe ontstaan in water, ontwikkel tot visse, visse migreer land toe en ontwikkel so tot plante en diere. Uiteindelik volg die mens. Darwin se oorspronklikheid is nie geleë in die idee van evolusie nie, maar in die feit dat hy daarin geslaag het om dit tot ʼn moderne kousale teorie te ontwikkel. Darwin het onder andere onder die wetenskapsfilosoof William Whewell en die sterrekundige Herschel studeer. Albei was sterk Newtoniaans-kousaal georiënteerd en het beklemtoon dat oorsaaklikheid (die wet van oorsaak en gevolg) grondliggend aan die wetenskap is. Elke selfde oorsaak het altyd dieselfde wetmatige gevolg. Hiermee hang saam induktiewe veralgemenings uit waarneming wat gelei het tot die formulering van natuurwette. Darwin se ideaal was om die Newton van biologie te word. Wat Newton vir die natuurwetenskappe was, wou hy vir die biologiese wetenskappe wees. Darwin ontwikkel dus evolusie tot ʼn kousale teorie. Dit doen hy deur natuurlik seleksie as kousaal prinsipe te ontwerp. Kousale verklaring (dieselfde oorsaak lei tot dieselfde gevolg) is vandag steeds van kardinale belang in wetenskaplike verklarings. (Daar het wel in die tussentyd meer as hierdie siening in die wetenskap bygekom.) Anders as die prosesse in die fisika en chemie is biologiese prosesse meer kompleks, daarom is voorspellings in evolusie en biologie in die algemeen minder moontlik. Dit maak egter nie van die evolusieteorie ’n minder wetenskaplike teorie nie. Die evolusieteorie is vandag ’n teorie wat bevestig is. Daar bestaan oorgenoeg bewyse om dit as waar te kan aanvaar.

In vandag se tyd word die evolusieteorie soms aangevul met ’n alternatiewe teorie, maar wat na my mening nie teenoor die evolusieteorie staan nie. Dit is die teorie van panspermia. Letterlik beteken dit “die saai van biochemiese molekules of selfs biologiese organismes deur komete en meteoriete in die heelal.” Die pan verwys na “oral” in die heelal, terwyl sperma “saad” beteken. Panspermia het dan so lewe op aarde ge-“jumpstart” toe biochemiese omstandighede reg was. Dit gebeur oral in die heelal. Organiese molekules is inderdaad deur NASA-ondersoeke in komete en meteore ontdek en bevestig. Hierdie biochemiese molekules onstaan veral in gasnewels tussen sterre. Die grondleggers van die idee van panspermia is die Griekse filosoof Anaxagoras. Die twee moderne wetenskaplike wat dit tot ’n moderne teorie ontwikkel het, is die sterrekundiges Fred Hoyle en Chandra Wicremasinghe.

Ons moet egter onderskei tussen mikro- en makro-evolusie. Die twee is deel van mekaar, of twee kante van dieselfde munt. Die mikro-evolusieteorie stel dit dat evolusie binne een enkel spesie plaasvind, terwyl die makro-evolusieteorie sê dat evolusie van een spesie na ’n ander kan plaasvind. So byvoorbeeld is in vandag se tyd bevind dat evolusie van dinosourus na voëls plaasgevind het. Ou spesies verdwyn gewoonlik, maar nie altyd nie. Neem as voorbeeld die selakant (’n ouer vis wat herontdek is) en sekere insekte. Dis ou spesies wat nie uitgesterf het nie. Die nuutheid en radikaliteit van die evolusieteorie het die effek op fundamentalistiese denke gehad dat fundamentaliste onderskei het tussen die twee. Maar dit is wel so dat sommige fundamentaliste redeneer dat hulle nog mikro-evolusie kan aanvaar, maar makro-evolusie misken. Hierdie standpunt van fundamentaliste is nie op wetenskaplike insigte gebaseer nie, maar op ’n fundamentalistiese en letterlike interpretasie van die twee skeppingsverhale in Genesis (Gen 1 en Gen 2–3).

Ek wil beklemtoon dat daar geen, maar geen goeie wetenskaplike rede is waarom mense uitgesluit moet word van evolusie nie. As ons daarop let dat daar vele ooreenkomste is tussen mense en ander diere, soos byvoorbeeld dieselfde tipe skelet en liggaamlike organe en stelsels, is dit byna ondenkbaar om die mens wel uit te sluit. Dink aan die volgende ooreenkomste: bloed en bloedsirkulasie; die rol van die hart en longe; die brein endie senuweestelsel, en vele ander. As die evolusieteorie verkeerd moet wees, dan is al hierdie ooreenkomste een reuse toeval. Dit kan tog wees nie. Die ooreenkomste wys ’n bepaalde samehang uit.

Konvergensie (beweging na eenvormigheid) is iets wonderliks in die evolusieteorie, maar terselfdertyd ook ʼn vorm van bevestiging van die evolusieteorie. In die evolusieteorie speel natuurlike seleksie ’n groot rol: die natuur selekteer ʼn bepaalde organisme (plant, dier, mens — na regte is die mens ook ’n dier). Met ander woorde as kameelperde wat eers kort nekke gehad het met veranderende omstandighede in die natuur (soos klimaat en voedsel) mettertyd lang nekke ontwikkel om voedsel vir oorlewering te bekom, selekteer die natuur die lang nekke en oorleef hulle. Dit word ’n genetiese tendens en diegene met lang nekke oorleef en word ’n nuwe kameelperdspesie. Die met kort nekke is nie geskik genoeg vir die natuur nie en verdwyn gevolglik. Dis ook maar wat “survival of the fittest” inhou en nie juis ’n “oorlog” tussen spesies of individue nie. Die bewussyn wat by seker spesies (insluitende die mens) voorkom, is ook so ’n seleksie deur die natuur. Bewussyn en veral selfbewussyn is egter ʼn baie goeie seleksie en dis nie vreemd dat die natuur dit meer as een keer gesellekteer het nie. So het bewussyn by verskillende spesies (wat in terme van tyd en plek geen verband met mekaar het nie) meer as een een keer deur evolusie ontstaan. Met ander woorde evolusie herhaal homself. Die oog het al veertig (40) keer onafhanklik van mekaar in verskillende spesies ontstaan. Neem as voorbeeld die mens en die seekat. Die seekat en die menslike oog is feitlik dieselfde tipe oog, maar het onafhanklik van mekaar in die twee spesies geëvolueer. Ons sal seker saamstem dat walvisse/dolfyne en vlermuise nie familie van mekaar is nie. Tog het albei op hul eie sonar ontwikkel. Om dieselfde rede meen ek dat evolusie elders in die heelal op soortgelyke wyse gaan plaasvind. Gegee dat alles uit dieselfde chemie, biochemie, dieselfde natuurwette ontstaan, kan dit kwalik anders dat daar groot ooreenstemming tussen ons en “extraterrestrials” (nie-aardbewonders) sal wees. Konvergensie meen ek, sal daar soos hier voorkom en natuurlike seleksie sal daar soos hier ’n rol speel. Hoewel daar uiteraard ook verskille sal wees, meen ek dat selfbewuste wesens dáár baie soos ons sal wees. Dis ook Chandra Wicremasinghe, die bekende wetenskaplike wat panspermia voorstaan, se gevolgtrekking.

Hoe pas ons, homo sapiens, in by die teorie van evolusie? Fundamentaliste verwerp die gedagte dat ons geheel en al deel is van evolusie. Dit bots met hul verstaan van die twee skeppingsverhale in Genesis. Volgens hulle verstaan, is die mens die kroon van God se skepping en is hulle geskep na die beeld van God. As die mens uit sjimpansees ontwikkel het dan moet God ʼn aap wees, want hulle moet dan ook na sy beeld geskep wees. Ander mense wat nie noodwendig fundamentalisties is nie, het ook soms ’n probleem met die teorie van evolusie, vir soverre dit die mens betref. Dit voel net ongerieflik om die mens met ʼn sjimpansee gelyk te stel. Dit tas volgens hulle die waardigheid van menswees aan. Baie waardes soos medemenslikheid, liefde, wetenskap, tegnologie kom volgens hulle in die gedrang. Die mens is te hoogstaande en anders as sjimpansees en diere om daarmee gelyk gestel te word.

Hieromtrent die volgende: Nuwe bevindinge toon aan dat die mens nie direk afstam van die primate soos sjimpansees nie (ek sou egter nie probleme daarmee gehad het nie, indien dit wél so sou wees nie). Die mens, sjimpansees gorillas en orang-oetangs stam van ʼn gemeenskaplike mensagtige voorganger (hominied) af. Die Barcelona wese wat sowat 13 miljoen jaar gelede geleef het, lyk na ’n baie sekere kandidaat vir hierdie voorganger. ʼn Fossiel van hierdie wese is in die omstreke van Barcelona in Spanje gevind. Dis ʼn mens-aap (Pierolapithecus catalaunicus) wat geleef het voor die afsplitsing van sjimpansees. Hierdie aapmens se ribbekas en skedel is aapagtig, so ook dui die kort tone en klein hande aan dat dit nog aan takke gehang het. Die wese is kleiner as die hedendaagse sjimpansees. Gorillas en orang-oetangs het later afgesplits.

Tot sover lyk dit of die mens en mensagtiges in Afrika ontstaan het. Ons meer direkte voorgangers is die Australopithecus Africanus (die Taungwese en andere aapagtiges) en in die noorde van Afrika Australopithecus Afarensis. Albei hierdie spesies het sowat 3 miljoen jaar gelede geleef en het waarskynlik reeds regop geloop. Hulle breinkapasiteit was effens minder as die hedendaagse sjimpansee. Hulle is voorafgegaan deur die Ardipothecus wat sowat 4.4 miljoen jaar gelede in Ethiopië geleef het. Hierdie spesie het nog sterker aap-karaktertrekke as die twee australopithecii gehad. Ondertussen is die “missing link” tussen die twee soorte in April 2006 ontdek. Hiedie spesie het kake en tande van biede soorte. ’n Mate van verrassing was egter die ontdekking van die Noumai skedel in Tjaad (Sahelanthropus tchadensis). In tyd het dit ná die Barcelona wese geleef, maar volgens sommige navorsers skyn dit weer ʼn voorganger van sowel die ardipothecus en australopithecii te wees en het 6-7 miljoen jaar gelede geleef. Verrassend egter was die bevinding dat die Noumai wese meer homo sapiens gelyk het as wat dit veronderstel was om te wees. Die wese is meer sapiens as australopithecus! Die breinkas is soortgelyk aan die sjimpansees, terwyl die gesig en tande (met die effens afgeplatte voorkop) mensagtig lyk. Die tande se patroon is definitief mensagtig. Dis dus ouer as die australopithecii en ardipothecii maar is meer mens soos die latere homo sapiens! Paleontoloë verkies om dit onder die genus homo te klassifiseer.

Hieruit is dit baie duidelik dat die mens volgens die teorie van evolusie nie net sinvol inpas by evolusie nie, maar dat die skakels (“missing links”) tussen ons en aap-mense duidelik is. Radikaal soos wat dit is, moet ons aanvaar dat ons en die aapagtiges een groot familie vorm. Waarom het die mens dan anders as die sjimpansee so geweldig vooruitgegaan op wetenskaplike en tegnologiese asook andere gebiede? Waarom het ons taal en die ape nie? Volgens die bevindinge van die voltooide genoomprojek die afgelope twee jaar met betrekking tot mens en sjimpansee, is die genetiese verskil tussen mens en sjimpansee slegs 2.7%. Dis is eintlik ʼn klein verskilletjie wat geweldige effekte gehad het! Sowel aap as mens het die FOXP2 gene. By die mens kom die paar proteïne ietwat meer voor en is aktief in die brein. Dit het die effek gehad dat die mens beter beheer oor sy strottehoof- en mondspiere verkry het as sjimpansees en gorillas. Dit het gelei tot die ontwikkeling van taal by mense wat ook denke sterker gestimuleer het as by ape. Daar is natuurlik ook ander redes vir die ontstaan van taal. Hieruit volg egter nie dat die groot ape nie ingestel is op taal nie. Ondanks die agterstand kan hul wel menslike taal nie net aanleer nie, maar ook sinvol gebruik. Sommige sjimpansees kan tot meer as een duisend (mens)woorde sinvol aanwend (nie nabootsing nie) en leer op eie inisiatief ook hul “kinders” menslike taal as aanvullend tot hul eie kommunikasie aan. Volgens dieselfde genoomprojek-navorsers is die ontwikkeling van ape se brein (vanweë natuurlike seleksie) besig om te versnel terwyl die mens s’n besig is om te verstadig. Dit beteken dat die lied van David Kramer (“Die ou aarde”) waarna Sakkie aan die begin verwys het, in terme van die teorie van evolusie, besig is om letterlik waar te word!

Wat maak nou dat die evolusionêre bioloog, Richard Dawkins, onomwonde stel dat die evolusieteorie die nie-bestaan van God logies noodwendig maak. Dawkins sê dat hy na sy volledige aanvaarding van die evolusieteorie met groter gerief ateïsme kan aanvaar en verdedig. Met ander woorde as ’n mens die evolusieteorie as ʼn feit sou aanvaar (en na my mening is dit ʼn wetenskaplike feit) beteken dit (volgens Dawkins) dat jy nie ʼn ander keuse het as om ateïsme te onderskryf nie. Anders gestel, geloof in God is onversoenbaar met die teorie van evolusie. Dis óf die een, óf die ander. Jy kan nie altwee gelyktydig aanvaar nie. Is dit ʼn goeie en geldige argument? Om die vraag te beantwoord, moet ons eers kyk na die radikaliteit van die teorie van evolusie. En soos reeds gesê, die teorie van evolusie is inderdaad radikaal. Die Westerse mens moes die afgelope eeu aansienlike verskuiwinge in denke maak. Hulle moes hulle wêreldbeelde of paradigmas radikaal verander.

Die Westerse mens het vir eeue, vanaf Aristoteles (384–322 vC) met sy beskouing van die heelal, tot by die Renaissance (1500–1650 nC) in ʼn veilige heelal geleef. (Nie dat alles altyd letterlik veilig was nie!) Dit was ’n heel statiese heelal met vaste fondamente. Die aarde is as die middelpunt van die heelal beskou. Rondom die aarde beweeg soliede konsentriese sirkels met die planete, son en maan en vaste sterre. Dis die bo-aardse. Die ondermaanse is aards, gemaak uit die vaste fisiese materie, die vier element water, vuur, grond en lug. Dis verganklik en veranderbaar. Die bo-aardse, die hemelliggame is van ʼn totaal ander materie gemaak, ʼn geestelike materie. Dis ewig en onveranderbaar. Hierdie geestelike materie is die “quintessensie” (letterlik die vyfde element). Hierdie heelal is ʼn stewige vaste entiteit — onveranderbaar en onversteurbaar. Alles het hul vaste plekke bo of onder. Alles beweeg ook na hul vaste plekke (daar was nog geen idee van gravitasie nie). Ligte stowwe soos rook beweeg altyd opwaarts, boontoe na hul vaste plekke aldaar. ʼn Klip is weer swaar en hy het sy plek altyd na onder. Alles is seker en jy weet waar jy staan. Jy het as mens ’n vaste plek in die heelal.

Gedurende die Middeleeue (500–1500 nC) word dit net so oorgeneem, maar geïntegreer met die Christelike teologie van Augustinus (354–430), Thomas Aquinas (1225–1274) en andere. By Dante (1265–1321) kom hierdie Aristotelies-Ptolemaiese wêreldbeeld baie sterk na vore. Die enge konsentriese sirkels word nou ook met die morele orde vereenselwig. Hoe hoër jy wegbeweeg vanaf die aarde, deur die “intelligensies”, hoe suiwerder en meer moreel word dit tot by die engele en uiteindelik tot by God as die suiwerste morele orde. God is dan heel bo. Hy is suiwer gees, sonder materie en dus heilig. Alles het nog steeds hul netjiese eie plekke. Die hel, die inferno, is ondergronds. Ook daar beweeg jy af in grade van sleg tot die heel slegte waar die duiwel letterlik troon. Mense is die middelpunt van die aardse bestaan. In hulle is daar die kombinasie van die goeie (gees) en die slegte (liggaam, materie, oftewel stof). Dis duidelik dat die Westerse mens veiligheid, sekuriteit en geborgenheid binne hierdie verstaan van die heelal ervaar het. Hulle het geweet waar God se troon is en waar die duiwel sit. Alles het presies netjies in hul plekke ingepas. Dis logies dat as hierdie hierdie vaste sekerheid versteur sou word, dit ʼn geweldige effek moets hê. (Ek moet wel noem dat ’n kenner van die Grieks-Hellenistiese filosofie, Christos Evangeliou, van mening is dat Aristoteles glad nie met Dante en ook nie met die Middeleeuse wêreldbeeld sou saamgestem het nie.)

Na die Middeleeue word die sekerheid van die Aristoteliese wêreldbeeld versteur deur nuwe teorieë en ontdekkings. Met Isaac Newton (1642–1727). na Galileo Galileï (1564–1642), tree die nuwe wetenskaplike wêreldbeeld van die moderne tyd na vore. Daar word radikaal afstand gedoen van die Middeleeuse Aristoteliese wêreldbeeld. Die Engelse filosoof, Francis Bacon (1561–1626), trek met sy “idole leer” te velde teen die ongetoetsde vulgêre idees wat op “die markplein” opgetel word. Dis nou die Skolastiese Middeleeuse denke en wêreldbeskouinge.

Isaac Newton verklaar gravitasie en die beginsel van kousaliteit as iets wat universeel dwarsdeur die heelal voorkom. Belangrik is dat in hierdie nuwe Newtonse paradigma daar net een soort materie voorkom en bestaan. Dit is dwarsdeur die heelal te vind. Daar is nie twee soorte materie nie — die bo-aardse en die ondermaanse materie. Materie is materie en is oral dieselfde. Die aarde, planete en sterre bestaan uit dieselfde materie. Die aarde is ’n planeet soos enige ander een en andersom. Die planete bestaan nie uit ’n ander soort materie as die aarde nie. Daar is dus geen radikale verskil tussen hemel en aarde nie. Verder is die heelal oneindig. Die vaster sekerheid van die Aristoteliese eindige begrensde heelal verval dus. Tensy dit geswenk word deur ’n eksterne krag of objek, beweeg alle objekte in reguit lyne tot in die oneindige in die heelal. Ruimte en tyd is absoluut. Daar is geen bevoorregte plekke in die heelal nie. Ons kan die radikale verandering tipeer as die verdwying van die gelaagde heelal (die drieverdieping heelal). Daar is geen middelpunt in die heelal nie — die aarde is allermins die middelpunt! Gevolglik is daar ook geen morele orde wat ooreenstem met die vlakke van die heelal nie.

Hoewel astrologie nog voortbestaan, verloor dit sy basis en word die onderskeid tussen astronomie en astrologie duidelik getrek. Vir die mens was dit ’n soort eksistensiële krisis: die ou geborgenhede verval en verdwyn. Dit bestaan selfs nie meer nie. Daar is geen vaste plekke en bewegings nie. Alles word vaag en onseker. Waar is God se troon nou? Waar is die duiwel? ’n Gevoel van onsekerheid, ongeborgenheid  en selfs angs pak die Europese mens beet.

Dit was radikaal maar ook nog nie heeltemal só radikaal nie: Newton behou tog heelwat van die ou beskouinge. God is in die heelal nog steeds vir Newton teenwoordig as Suiwer Gees. Dit beteken dat die idee van Gees, die geestelike, bewussynsmatige, denke en intensie, steeds in die heelal geld. Dis die basis van alles onder en agter alles. God is die Ontwerper, Skepper en Onderhouer van alles. Hy is die absolute kosmiese maatstaf van tyd, ruimte en beweging. Die Latynse uitdrukking sub specie aeternitatis (“uit die blik van die ewige”) gee nog hieraan uitdrukking. God plaas die nie-stoflike gees/siel in die mens. Newton tref ook ’n baie sterk onderskeid tussen mens en dier — steeds in aansluiting by Aristoteles se sienige. Soos die filosoof René Descartes (1596–1650) sê Newton ook dat die dier geen gees of siel (bewussyn) het nie —behalwe miskien sintuie. Lewelose materie kan egter geensins funksioneel wees nie. Dit kan nie dinge laat beweeg of iets bewerkstellig nie. Dis iets doods. Daar moet iets geesteliks daaragter wees wat dit funksioneel kan maak. Anders kan  niks verander nie. Materie kan nie inisiatief neem nie; kan ook niks aktiefs oordra nie. Vir die verklaring van veral komplekse verskynsels, is die geestelike noodsaaklik. Die Engelse filosoof John Locke (1632–1704) onderskryf dieselfde siening baie sterk wanneer hy sê: “As daar iets ewig moet wees, laat ons sien watter soort van wese (Being) dit moet wees? En dis voor die hand liggend — Rede (in die sin van rasionaliteit). Die wese wat alles kan voortbring, moet noodwendig ’n kennende/denkende wese wees. “Want dis tog onmoontlik om te dink dat barre denklose materie ’n denkende wese kan voortbring, niks sou uit sigself materie kan voortbring nie” (Op ’n ligter noot praat Dawkins in sy The God Delusion van die Ultimate Boeing! Dis ‘n sinspeling op genoemde Being van John Locke.) Anders as Richard Dawkins sou Locke hiervolgens gesê het dat die heelal met gravitasie, die bestaan van God logies noodsaaklik maak. By sowel Newton as Locke sou mens van ’n dualiteit van gees en materie kon praat, terwyl dit by Descartes tot ’n sterk dualisme ontwikkel word.

Newton self het egter geen erg aan die kerk of georganiseerde godsdiens gehad nie. Paradoksaal was die volgende: hy beoefen ’n streng induktiewe kousale wetenskap. Tog het hy ’n groot belangstelling in die okkulte en alchemie gehad. Hy het tewens meer boeke hieroor in sy biblioteek gehad as oor fisika en sterrekunde. Maar hy het nooit die okkulte in sy wetenskap ingebring nie.

Maar uiteindelik kom die sterkste vorm van radikaliteit na vore. Dis die sieninge van Charles Darwin (1809–1882) en die evolusionêre biologie wat daarna ontwikkel. Dis die mees radikale teenpool van die Aristoteliese denke en wêreldbeeld. Sonder Darwin sou Dawkins nie sy stelling kon maak dat ateïsme die logiese gevolg van die teorie van evolusie is nie. Hoewel Darwin nog nie meer eksplisiet praat van materie teenoor gees nie, doen hy dit tog in beginsel duidelik. Goddelike ontwerp, geestelike beginsels word heeltemal uitgehaal uit sy standpunt. Darwin praat wel baie van “creation” as mens sy twee werke lees. Daarmee bedoel hy egter nie skepping soos dit in die Christelike leerstellings voorgehou word nie, maar die natuur se evolusionêre gang met natuurlike seleksie as skeppingsbeginsel. Natuurlike seleksie skep dinge. Met die natuurlike seleksie keer Darwin alles om — dis ’n revolusionêre verskuiwing weg van Newton en Locke. Hoewel Darwin nog nie vra na die herkoms van lewe nie, is dit wel duidelik dat hy ’n biochemiese oorsprong veronderstel het met sy oersop-hipotese. Dis die “warm pond” waarvan hy praat. In hierdie oersop lei biochemie tot biologie. In beginsel dus: uit lewelose materie kom uiteindelik die geestelike en die denke. Die bewussynsmatige. ’n Verdere verskuiwing is dat Darwin ook die dierlike bestaansvorm hierby betrek. Ook baie diere beskik oor bewussyn, denke, logika en toon selfs soms iets van ’n etiese gedrag.

Met hierdie revolusie, verander die rigting van verklaring in die wetenskap. Dis nie meer verklaring vanuit die hoëre na die laere toe nie — iets wat vir Newton aanvaarbaar sou wees — maar andersom, van die laer materie na die hoëre bewussyn. Daar is nog steeds ontwerp (“design”), maar nou radikaal andersom. Daar is nie ’n plan of ontwerp vooraf nie, maar wel agterna. Ná die proses van natuurlike seleksie verskyn die ontwerp. So lei natuurlike seleksie evolusie stap vir stap tot meer komplekse dinge oor lang periodes. Onbewuste, blinde kousale natuurkragte en wette bepaal alles deur natuurlike eleksie. Dis waarom Richard Dawkins se een boek The blind watchmaker heet. Dit volg hieruit dat daar geen verklarings is met doele wat bereik moet word nie. Doele trek gebeure en proses van voor, soos by Aristoteles, uit die toekoms. Die teorie van evolusie met natuurlike seleksie as skeppingsbeginsel streef geen doel na nie, maar skep algaande sonder enige beplande einddoel. Oorsaaklikheid trek nie van voor nie, maar stoot van agter. Dit beteken meganiese oorsaaklike verklarings waar daar geen intensies in die natuur is nie. Om dít te verduidelik, praat die filosoof Daniel Dennet van skyhooks en cranes as werkende beginsels.

Hierdie lyn van argumentering in die teorie van evolusie is deur die neo-darwinisme uitgebrei deur die inkorporering van genetika in natuurlike seleksieproses. Juis dit voer Dawkins baie ver met sy werk The selfish gene. Volgens hom is gene die primêre en fundamentele drywers in die evolusionêre proses. Hierdie gene het geen intensies of bewussyn nie. As molekules het die replicators eers kopieë van hulself maak. Gene wil oorleef en wil ewig bly bestaan en nie soos organismes “uitsterf” nie. Liggame van mens, plante en diere is blote oorleweringsmasjinerieë vir gene. Hulle is bloot draers van die gene. Hulle kom en gaan, maar gene bly. Na analogie van die gene, ontwerp Dawkins die meme gedagte. Hiervolgens vat idees soos “demokrasie” of “ewige lewe” pos as die tyd daarvoor ryp en vatbaar is. Hulle plant hulself dan voort. Ons moet egter onthou dat dit ’n analogie is en later was Dawkins ook minder entoesiasties oor die idee van meme. Dit het mettertyd veral onder die jeug baie populêr geraak en selfs meem-kultusse het ontwikkel (byvoorbeeld in Brittanje). Dis iets wat Dawkins glad nie mee sou saamgaan nie.

As die teorie van evolusie dan so radikaal is (en dit is inderdaad), volg dit daaruit dat alle etiek verval? Met ander woorde — ons dink met ons brein en ons brein ontwerp etiek. Maar ons brein is deel van ons liggame en ons liggame is die produk van natuurlike seleksie (soos wat ons genus sapiens ook is). Etiek veronderstel ’n vrye wilsbesluit, die keuse tussen alternatiewe of opsies. Alleen as daar sprake is van ’n vrye wilsbesluit, kan jy kies tussen eties reg of verkeerd, alleen dan is keuses moontlik. Maar as alles deur natuurlike seleksie (met gene as dryfveer) kousaal bepaald is, is ons etiese denke “hard wired”. Dit is met ander woorde geneties vasgelê dat ons sekere gedrag sal openbaar en nastreef. Daar is dan geen sprake van vrye keuse nie. Daar kan geen sprake wees van werklike etiek nie. Keuses is nie werklike keuses nie. Alles is vooraf bepaal of gedetermineer. Indien ons keuse hard wired sou wees, is daar geen werklike keuses nie en dus geen werklike etiek nie. Is dit hoe die teorie van evolusie dit sien? Ek meen nie so nie. Hoe moet ons die teorie van evolusie dan hieroor verstaan?

By baie spesies sou mens sekerlik van hard wiring kon praat. Die gedrag van ’n akkedis, ’n skaap of bees is sekerlik hard wired (tensy nuwe evidensie hieroor na vore tree). Daar is dus geen sprake van etiese optrede by hulle nie.  Alhoewel Darwin nie sterk idees oor etiek by die mens uitgespreek het, is dit tog duidelik (soos blyk uit sy Descent sowel as Origins) dat hy nie etiek as ’n saak van hard wiring sien nie. Hy suggereer dat andere hieroor verder sal moet besin en hy verwys onder andere na Thomas Henry Huxley (1825–1895) en veral Herbert Spencer (1820–1903), die eerste evolusionêre filosoof. Tans is dit die sosiobiologie (dit word deesdae “evolusionêre psigologie” genoem vanweë kritiek) wat sterk werk oor etiek. Hier is dit Robert Ardrey en Edward Wilson wat hieraan aandag gee. Die mees belangrike meen ek is egter die werk van Richard Dawkins in die verband. Dit kom in veral sy boek Selfish Gene na vore. Dawkins is na my indruk hier verbasend “gematigd” (as dit die regte woord sou wees). Hy is glad nie geneig tot ekstremes nie. In talle gedeeltes van die boek Selfish Gene kom dit duidelik na vore dat hy reken dat etiek geen reslose produk van ons gene is of hoef te wees nie. Indirek, ja, bepaal ons gene en natuurlike seleksie wel etiek. Maar nie direk nie. “I am not advocating a morality based on evolution.”  Dawkins gaan in die werk uit sy pad uit om selfs die naturalistiese drogargument  (naturalistic fallacy) te vermy. Dawkins meen dan ook dat die onderskeid tussen “is” en “behoort” gehandhaaf behoort te word. Wel is dit so dat ons gene selfsugtig is (nie in die sin van met beplande intensie nie) maar ons is van nature só geneig met die oog op ons oorlewering. Maar, sê Dawkins, ons kan en behoort dit teen te gaan. Dit gaan in die menslike samelewing tog nie maar net om die oorlewing van die sterkste nie — altans dit behoort nie so te gaan nie.

Dawkins se basiese veronderstelling dat die indirekte effek van die teorie van evolusie met natuurlike seleksie as dryfveer, én die direkte effek van die evolusieteorie, van mekaar onderskei moet word, maak vir my baie goeie sin uit. Dit was tewens nog altyd my eie gevolgtrekking selfs voordat ek Dawkins gelees het. ’n Mens kan nie ons verband met evolusionêre kontinuïteit ontken nie. Ons liggame, ons brein, ons bestaan, is deel van evolusie. Dit kan nie anders as om ’n invloed en effek op ons denke en handelinge te hê nie. Dis egter ’n indirekte verband. Ek sou by Dawkins hier wou byvoeg dat ons bewussyn en veral selfbewussyn, deur evolusionêr emergensie ’n “lewe van sy eie” ontwikkel het. Met ander woorde, deur evolusie het vryheid van wil en besluit (vrye keuses maar nooit in ’n absolute sin nie) onstaan. Dit klink ietwat paradoksaal — ons is ’n produk van evolusie, maar deur evolusie kan ons die hard wiring in ons transendeer. By die mense het hierdie vermoë veel verder ontwikkel as by “hoër diersoorte”. Die mens ontwikkel geskrewe morele kodes, wette en so meer. Ek wil dit egter beklemtoon dat daar talle hoër diersoorte is waar alles nie maar hard wired is nie. Etiese handelinge kom ook voor by hierdie diere. By hulle is daar ook ’n mate van keuses. Wel het hul nog nie geskrewe kodes soos mense ontwikkel nie. ’n Mens sien dit in die toepassing van morele vereistes, soos hulpverlening in nood (nie net aan lede van dieselfde spesie nie) maar ook aan ander lede wat nie tot dieselfde spesie behoort nie. ’n Sjimpansee sal (volgens Frans de Waal se navorsing by die Yerkes Primate Sentrum) ’n beseerde voël hoog in ’n boom opgetel, sy vlerke reg gebuig sodat hy weer kan vlieg. Dit het ook gebeur. Die punt is, “vlieg” val buite die veld van ʼn sjimpansee se ervaringswêreld. Dis slegs maar één voorbeeld.

Om Dawkins se aanspraak oor die teorie van evolusie en ateïsme in oënskou te neem, laat ons die saak verhelder deur eers na kritiek op die teorie van evolusie te kyk. Kritiek is in die wetenskap nie sleg nie, maar gesond. Wetenskap groei en leef selfs danksy kritiek. Ek onderskei egter tussen ’n kritiese en ’n skeptiese denkhouding. ’n Kritiese denkhouding is oop vir meningsverskil en alternatiewe. Dit is oop vir wysiging. ’n Dogmatiese houding sê “Nee, ek kan nie my sieninge onder kritiek en wysiging stel nie.” Teenoor die ekstreme van ’n dogmatiese houding, staan skeptisisme wat verkondig dat daar geen kennis is nie. Niks kan absoluut waar wees nie. Daar is geen vaste feite nie. Ek sien ’n verskil tussen ’n kritiese ingesteldheid en ’n skeptiese lewensingesteldheid. ’n Kritikus is nie noodwendig ’n skeptikus nie.

Die teorie van evolusie word vanuit sowel ’n kritiese denkhouding as ’n skeptiese denkhouding gekritiseer. Een van die slegste vorme van dogmatisme is wanneer onwetenskaplike strategieë gebruik word om ’n teorie te probeer omverwerp. Die afgelope ses jaar was daar so ’n georkestreerde poging in die VSA teen die teorie van evolusie. Dis veral TV- en radiostasies asook koerante wat inspan word om ’n denkklimaat te skep dat die teorie van evolusie reeds agterhaal is en verval het. Dis ’n sielkundige soort “hype” teen die teorie van evolusie. Meestal was dit fundamentaliste wat van dié soort strategie gebruik gemaak het, maar baie mense is onkant gevang omdat die indruk gelaat is dat die teorie nou wetenskaplik weerlê is. So byvoorbeeld is in “nuusbrokkies” vermeld dat Darwinisme weerlê is (“Darwinism is refuted”). In werklikheid is daar niks van waar nie. Spotprente van Charles Darwin wat op ’n piesangskil aan die gly is, met opskrifte soos: “Het Darwin dit toe na alles tog mis gehad?” dra by tot die klimaat wat geskep word. ’n Heerlike propagandapunt was die totaal valse stelling dat Charles Darwin op sy sterfbed sou gesê het dat hy besef dat evolusie verkeerd is en dat hy alles terugtrek. Dit het Richard Dawkins laat sê dat hy op sy sterfbed ’n bandopnamemasjien gaan plaas om so iets te vermy!

Radikale skeptici (nie net fundamentaliste nie) sê dat niks in die wetenskap waar is of waar kan wees nie. Daar is eenvoudig geen vaste bewyse of onweerlegbare feite nie. Baie gewild is die siening dat evolusie maar net ’n teorie is. Dis nog geen feit nie, want niks is bo alle twyfel bewys nie. Die teorie het dus geen besondere gesag nie. Dit maak nie saak hoeveel jy weet nie, jy sal nooit jou punt kan bewys nie. Ons praat miskien van “gene” en “chromosome”, maar dis benaming wat ons aan bepaalde dinge wat ons waarneem, gee. Ons kan hierdie dinge nooit met sekerheid weet nie. Dis hoe die werklikheid lyk, nie hoe dit werklik is nie. Hierdie mense redeneer ook soos volg: “Daar is nie so iets soos objektiewe weergawes nie, alle weergawes is vanuit ’n bepaalde subjektiewe gesigshoek gedoen. Dus sal jy noodwendig bevooroordeeld wees.”

Hierteenoor wil ek die volgende opmerk. Inderdaad is ons wetenskaplike en ander kennis nooit finaal waar nie. Ons aanvaar dat wat ons tans as seker beskou dalk later gewysig kan word of selfs omvergewerp kan word. Vorige teorieë of kennis kan verkeerd wees. So byvoorbeeld is daar baie goed wat Aristoteles gesê het wat ons nie vandag meer aanvaar nie. Die siening dat die aarde plat is, beskou ons doodgewoon as vals. Dit geld ook van die siening dat die son om die aarde draai. Dit is reeds as vals bewys. Maar daar is wél so iets as feite. Wanneer kennis deeglik getoets is, en dis nie deur evidensie (harde bewyse) weerlê nie, sê ons daardie kennis is bevestig (“corroborated”). Inderdaad is dit nie absoluut waar nie. Inderdaad kan dit deur nuwe evidensie gewysig word. Maar dan deur evidensie en nie allerhande onderduimse strategieë nie. Getoetste kennis is nie absoluut waar nie, maar dis baie stabiel. As dit so was dat niks waar kan wees, of as daar geen feite is nie, net omdat kennis gewysig kan word, dan beteken dit dat NASA se ruimtevaarders nooit op die maan geloop het nie. Ons sal dan moes terugval op die Aristoteliese gedagte van quintessensie. Jy sou nie waag om op die maan te loop nie — laat staan nog die tuie Spirit en Opportunity op Mars laat rondry. Ruimtetuie sou ook nie gebruik kon maak van gravitasie van die planeet Jupiter om hulle vinniger weg van Jupiter te skiet na Saturnus toe nie. Moet ons hou by die siening dat daar net één galaksie in die heelal is, of kan ons aanvaar dat daar miljone galaksies in die heelal is?

Ja, inderdaad wysig ons kennis. Maar soos gesê, getoeste kennis bly stabiel. Ons sal nie sommer vandag of in die toekoms weer kan terugkeer na Aristoteles en Ptolemeus se sienings en standpunte nie. Al is daar baie dinge nog onseker en al is ons soms verkeerd, is daar baie dinge waaroor daar geen redelik twyfel meer kan wees nie. So byvoorbeeld bestaan chromosome en gene wel. Dit geld ook die teorie van evolusie. Natuurlik kan enige wetenskaplike met ’n nuwe hipotese na vore kom wat teenoor die evolusieteorie staan, maar dan moet dit op wetenskaplike gronde gedoen word en nie op grond van drogredenasies en ander simplistiese verklarings nie. Daar moet evidensie (harde bewyse) wees. Met ander woorde, die spel van die weteskap moet gespeel word met die spelreëls van die wetenskap. Talle verdere wysigings binne die teorie van evolusie kan en gaan sekerlik plaasvind, maar dat die teorie van evolusie deur ’n deurbraak omvergewerp gaan word, is baie skraal. Net so skraal soos dat ons sal terugkeer na die sieninge wat vóór Copernicus, Galileo en Newton gewees het. Om te sê dat die teorie van evolusie nie ’n feit is nie, maar slegs ’n teorie, is ook misleidend en foutief. Dis ’n wantoepassing van die begrip “teorie”. ʼn Teorie is ’n bevestigde feit, raamwerk van verklaring en interpretasie. ’n Goeie voorbeeld is die relatiwiteitsteorie. As ons wil sê dat iets slegs voorlopige kennis is wat nie finaal getoets en bevestig is nie, dan praat ons van ’n hipotese. ’n Hipotese is ’n tentatiewe waarheid. Maar ’n teorie asook ander vorme van kennis, is ʼn feit. Dit staan vas. Dis stabiel. Inderdaad is dit so dat ons in die wetenskap vanuit ’n bepaalde gesigspunt werk. Evolusie is so ’n gesigspunt. So is ook die relatiwiteits- of die kwantumteorie ’n bepaalde gesigspunt. Hieruit volg egter nie dat alles subjektiwisties word of dat daar geen objektiwiteit bestaan nie. John Locke het dit baie goed gesê: “As ons alles sou betwyfel, omdat ons nie alles met sekerheid kan weet nie, sal ons word net soos die mens wat nie sy eie bene wil gebruik nie, maar net stil wil sit en vergaan omdat hy nie vlerke het nie.”

In die lig van alles wat tot dusver gesê is — hoe moet ons Dawkins se stelling verstaan dat die teorie van evolusie ateïsme logies noodwendig maak? Kom ons begin met een van sy belangrike stellings wat lui: “Ek aanvaar evolusie, omdat evidensie dit rugsteun, en ek sal dit oornag laat vaar as nuwe evidensie dit vals bewys. Geen ware fundamentalis sal dit sê nie.“ Met hierdie laaste stelling kan ek nie anders as om saam te stem nie. As hy egter sê dat godsdiens ons leer om nie ons sieninge te verander nie, is dit nie noodwendig so nie. Godsdiens hou mense in ’n bepaalde dampkring, maar dit volg nie logies dat godsdienstige mense nie hulle sieninge sal wysig nie. Dit hang alles af. Dawkins sê verder dat hy ’n passie vir evolusie het. In sy boek The God Delusion sê hy: “Die evidensie (bewyse) is só oorweldigend sterk, dat ek passievol ontsteld is dat my opponente dit nie kan insien nie.” Die stelling is myns insiens ook nog verstaanbaar, maar nie sy ander stelling oor ateïsme nie.

Dawkins se vertrekpunt dat evolusie ’n feit is, is reg. Dis egter wat hy hieruit aflei wat problematies word. Ek het gevolglik ’n probleem met sy stelling dat die teorie van evolusie ateïsme logies noodwendig maak. Dis immers nie goeie logika nie. Die bestaan van God (teïsme) of die nie-bestaan van God (ateisme) kan nie wetenskaplik bewys word nie. Die Duitse filosoof Immanuel Kant (1724–1804) is hier nog steeds reg waneer hy sê dat sodra jy die grense van die empiriese en toetsbare verlaat, jy in sirkels begin rondstap. Daar is geen evidensie (bewyse) om toetsbare of weerlegbare stellings oor God te maak nie. Daar is aanduidings wat logies en rasioneel is en wat dui op die bestaan van God as Skepper. Byvoorbeeld die herkoms van alles wat is, die heelal in sy totaliteit. Dis egter nog geen bewys of verifikasie van God se bestaan nie. Dieselfde geld van die ateïstiese tese dat daar goeie logiese aanduiders soos die lyding in die wêreld van mens en dier is om die nie-bestaan van God te aanvaar. Dis egter ook nog nie genoegsame evidensie of bevestiging vir die nie-bestaan van God nie.

Ek meen daar is meer as een spel wat ons kan speel. Die eerste is die spel van die wetenskap met sy spelreëls wat insluit objektiwiteit, rasionaliteit, kritiese distansie, en toetsbaarheid. Onwetenskaplik is ook ’n spel, maar dis ’n onkantspel. Die wetenskaplike reëls word in hierdie spel oortree. Dis om stellings te maak sonder evidensie of om gegewens te verdraai. ’n Onwetenskaplike spel  sou wees wanneer jy probeer bewys dat God bestaan. ’n Onwetenskaplike spel sou ook wees wanneer jy probeer bewys dat God nie bestaan nie. Dis albei onkantspel, want daar word nie van evidensie, logiese redenasie, toetsbaarheid ensovoort gebruik gemaak nie. Dawkins speel hier onkant wanneer hy die stelling maak dat die evolusieteorie logies tot ateïsme moet lei. Die Weense filosoof Karl Popper (1902–??) onderskei tereg tussen wetenskaplik en onwetenskaplik. Ek wil egter ’n verdere kategorie of spel byvoeg en dit tipeer as nie-wetenskaplik. Dis ’n spel met sy eie spelreëls. Dit oortree nie die reëls van die wetenskap nie. As ek glo, maar nie wil bewys dat God bestaan nie, is dit nie onwetenskaplik nie, maar nie-wetenskaplik. As ek insgelyks sê dat ek nie glo dat God bestaan nie (en dit kwalifiseer dat dit ’n oortuiging en nie ’n wetenskaplike stelling is nie) dan speel ek nie-wetenskalplik en is ek ook nie onkant nie. Dieselfde geld van baie gedigte. Wanneer ’n digter oor ’n pragtige seelandskap dig, gaan ons hom nie ondervra oor sy verklaring van seewater en waarom hy nie eerder van die formule H2O gebruik maak nie. Die digter speel ʼn nie-wetenskaplike spel.

As parallel kan ek na Richard Dawkins se voorbeeld in sy boek The God Delusion verwys waar hy na ’n eksperiment kyk wat gemaak is of gebede om genesing verhoor is. Hy vertel dat ’n steekproef van die herstel van ’n aantal pasiënte gemaak is. Ek het die humor geniet waarmee Dawkins die verhaal beskryf en waar hy meen genesing nie na gebed gevolg het nie. Omtrent ewe veel pasiënte is genees as wat nie genees is nie. As ’n mens dit as ʼn legitieme toets kan beskou, sou mens seker kon sê dat dit onbeslis is. My probleem is egter dat dit nie ’n wetenskaplike spel is nie. In sommige gevalle het genesing chronologies na gebed gevolg. In die ander  gevalle nie. Dit kan egter nie gebruik word as bewys vir die bestaan of die nie-bestaan van God nie. Mense wat dit as wetenskap beskou, speel onkant. Om egter oortuig te wees in gevalle van genesing dat God dit bewerk het, beteken bloot dat ’n nie-wetenskaplike spel gespeel is. Of om oortuig te wees dat daar geen God hoegenaamd bestaan nie, is ook nie-wetenskaplik. Dis nie onkantspel nie. As ek praat van nie-wetenskaplike taal, beteken dit egter nie dat ’n mens nou enige onsin (“nonsens”) kan aanvaar en dan sê dis deel van jou nie-wetenskaplike spel nie. In die proses van nie-wetenskaplik speel, gaan ’n mens nie jou verstand en rasionaliteit opoffer nie. Om iets wat lynreg teen wetenskaplike evidensie ingaan (sê maar die vloed van Noag oor die hele aarde, en soortgelyke beskouinge) as nie-wetenskaplik aan te dui en dan te sê dis maar reg, gaan nie op nie. Die nie-wetenskaplike spel hou nie in dat jy jou verstand opoffer nie.

In aansluiting by die voorafgaande gaan ek die volgende onderskeid tref. Dit is tussen sciëntisme en fundamentalisme. Die scientisme maak van wetenskap meer as ’n wetenskap. Wetenskap word dan ’n kwasi ideologie. Of dan ’n “ersatz” ideologie. Dis soos wanneer die teorie van evolusie evolusionisme word. Dit meen ek is wat Dawkins met sy stellig doen dat die evolusieteorie logies tot ateïsme moet lei. Andersyds speel Dawkins die spel van die wetenskap uitstekend. Om te sê dat ateïsme logies volg uit die feit van die teorie van evolusie, moet eers aangetoon word. Hoe kry ’n mens nou evidensie buite die gebied van die toetsbare? Ander voorbeelde van scientisme is behaviorisme en eliminantivisme. Albei meen dat dit logies uit teorie van evolusie volg. Na my mening is dit vals. Dit sal ook eers aangetoon moet word. Charles Darwin werk inteendeel glad nie met behaviorisme nie. Dis val duidelik op in sy uitsprake oor diere en die mens in die boek Descent of man. Hoewel Darwin Newton radikaal omkeer (soos reeds verduidelik) volg dit nie dat Darwin bewussyn elimineer nie. Hy maak dit wel die resultaat van die teorie van evolusie. Dis egter nie ʼn eliminativistiese siening nie. Eliminativisme meen dat sieninge oor bewussyn, emosies, intensies, denke vervang moet word met wetenskaplike uitsprake. In plaas van te sê ek was agtuur vanaand baie bly, moet jy eerder sê: “Neurons het om 20:00 in die linker kwadrant van my brein afgevuur teen ʼn frekwensie van 348.004 bk.” Waar behaviorisme grootliks in die wetenskap gediskrediteer is (behalwe nog by dierebewussyn en -etiek), is eliminantivisme ook nie ʼn lewensvatbare benadering nie. Albei is voorbeelde van sciëntisme.

Fundamentalisme waaroor ons reeds heelwat gepraat het, is die ander ekstreme. Waar sciëntisme van wetenskap meer maak as wetenskap, maak fundamentalisme meer van geloof as wat dit is of kan wees. Afgesien van ’n letterlike interpretasie van baie dinge in die Bybelboeke, word die twee skeppingsverhale gesien as ’n basis vir ’n alternatiewe teorie vir die teorie van evolusie. Dit staan ook bekend as kreasionisme. God skep volgens hierdie siening in ses dae die verskillende spesies en gevolglik is evolusie verkeerd. Die teorie van evolusie word ook afgemaak as ’n “ateïstiese projek”. Ons het hier met ’n soortgelyke denkfout as by Dawkins te doen. Om te glo in God beteken nie noodwendig dat ’n mens kreasionisme (fundamentalisme) aanhang of voorstaan nie.

My slotsom is dat Richard Dawkins ’n baie goeie wetenskaplike is, maar soms die spel van sciëntisme buite die speelveld van die wetenskap speel.


DIE VIRUS VAN DIE EINDE: APOKALIPTIESE DENKE IN DIE WOESTYN VAN WERKLIKHEID

 Petrus de Kock

 

I’m a traveller of all kinds of space…

Led Zepplin

 

A.           Idee-Werklikhede

Politieke, sosiale, ekonomiese, en ‘n hele rits ander materiële omstandighede kan beskou word as die fisiese manifestasie van dit wat in die gemoed van die mens te vinde is. Die gedagte aan ‘n stoomtrein loop vir lank deur die verbeeldingsvlugte van vele entrepreneurs en moderne tegno-entosiaste. Die een uitvindsel bou voort op die voriges, totdat Engeland en Europa verdwyn onder  swart roetsmeersels uitgespoeg deur steenkoolgedrewe ystermonsters en die industriële rewolusie. Elke wiel, bout, plaat, drukmeter, en koper pyp, wat elk op eie reg gearriveer het as idée in die kop van die tegnikus of ontwerper, sweer saam om die totaliteit van yster wat die lokomotief opmaak teen die hange van ‘n berg uit te slinger.

Dit is in oomblikke van brute kragdadigheid wat sekere idees, soos die van tanks, en bomwerpers, in die werklikheid ontvou as fisiese manifestasie. My bestaan is in hierdie verband ‘n knaende bewussyn van die wyse waarop sekere gedagtes, of gedaantes uit die soel skaduwees van die idée-wêreld beslag vind in, en gestalte kry as werklikhede. Nie alle idees maak dit nie, maar soms gebeur dit tog dat een deurglip. Hiermee word alles nie gereduseer tot ‘n platvloerse dualisme van idée versus materie nie. Inteendeel, die besef dat die een op die ander inwerk, maak dat dit byna onmoontlik is om die idée van die aarde los te maak van die harde meetbare fisieke werklikheid van ‘n bal grond wat deur die ruimte slinger.

Die gevolg van die besef dat idée en werklikheid ineengevleg is, is gewoonlik ‘n spanningsveld wat in die mens se denke en handeling oopgaan. Aan die een kant is daar die wye oopte en onversperde weë waar die gedagte-oog kan wy oor groen vlaktes. Aan die ander kant is daar die knaende bewussyn dat selfs die boerbokke nou begin swaar trek as gevolg van ‘n gebrek aan reën en die droogte wat selfs windpompe laat pak om te trek. Dus staan die mens vasgevang in die nul-oomblik tussen die gedagte van dit wat was, en dit wat jy wil hê; tussen die verlede en die toekoms; tussen die lewe en die dood. Lewe is ‘n nul-oomblik met ‘n begin en ‘n einde. Wat voor die begin is, en dit wat dalk na die einde kom, is onwerklik. Die mens se aardse geheue van lewe is verder ook bloot ‘n verbeeld-en-onvoltooide reis. Daarom is die aarde beskryfbaar as ‘n oorlogsfront van lewens wat in die nul-oomblik, soos Jack-in-a-box uitspring en skreeu: hoesit; hoekom is ek hier; is daar iets om te drink? Die lewe is bloot ‘n guerrilla se oorlewingsveldtog teen die hange van die onoorkombare bergreeks van die niet: die ewige nul-oomblik.

Net so belangrik as die fisiese stryd wat in die valleie van Afghanistan,  oor die vlaktes van Irak, in die Yemeni woestyn, op die strande van Libanon, deur middel van selfmoord bomtoestelle in Pakistan, en in die doolhowe van die Gaza strook, gevoer word, is die oorlog van idees. Idees wat in hierdie verband ‘n belangrike rol speel is geskiedenis en die soms konflikterende historiese aansprake wat op spesifieke stukke aarde betrekking het. So is die Huil-muur, as moontlike argeologiese oorblyfsel van die tempel van Salomo van kritiese historiese belang vir Joodse gelowiges. Maar, letterlik ‘n paar meter verder staan Al Aqsa, die tweede mees heilige Moskee in die ryk van Islam. Hier skuur broeders uit dieselfde geloofs-voorvader naamlik Abraham nooit skouers met mekaar anders as wanneer polisie en militants slaags raak, of wanneer bulldozers inrol om Palestynse vrugteboorde of huise plat te stoot. Dit is by die skakelbord van die denke wat materiële werklikheid omskep word in die martelkamers van Abu Ghraib tronk in Bagdad. Dit is in die denkproses van sosiale vervreemding en fundamentalistiese oorgawe aan brutaliteit wat die selfmoord-bommer homself omgord met sy laaste belt om van homself ‘n sone van ontdermde intensiteit op ‘n besige straathoek te maak.

Om die vraag van die virus van die einde te kan vra, om so ‘n ondersoek te loods, is dit nodig om eers ‘n vae belyning te gee van die moontlike plekke en wyses waar die virus ditself sal manifesteer. Hierdie is dus nie ‘n absoluut finale omskrywing nie, nog minder is dit ‘n feit dat daar iets soos die virus van die einde bestaan. Hierdie is dus ‘n vraende ondersoek na plekke, omstandighede, en denk-regimes waar die virus van die einde kop uitsteek. Alles eindig, dus het die virus van die einde niks met dood te make nie. Die virus van die einde steek sy kop uit op plekke waar mens-op-mens geweld gevoer word onder die dogma van een of ander vlag; ‘n onwrikbare geloof in die feit dat ander mense wat nie jou geloof deel nie, afgemaai kan word soos grasse in die veld; daar waar wetgierige heersers mense lamlê onder ‘n juk van twyfel, self-kastyding, en ‘n obsessiewe skuldkompleks.

Daar is vele boeke al gepleeg oor die vergrype van gelowe. Die wyse waarop Spanjaardse priesters in Mexiko, in die naam van God, ‘n hele beskawing met behulp van siektes en warm ysters wat in oogholtes gedruk word, tot niks maak. Katolieke brandstapels dwarrel nog deur die kollektiewe geheue van verskeie “sektes” wat ‘n minder materialistiese- en meer barmhartige variant van die Christendom wou uitdra: martelkamers, afgesnyde vingers, lywe by kruispaaie gekruisig as boodskap aan ongelowiges, stede wat ingeval is om die hele bevolking plus honde en katte en koeie dood te bloei.

Die historiese opkoms van die wit Europese man, gewapen met wetenskap, rasionaliteit, imperiale wapens, Koninklike goedkeuring, en ‘n Bybel in die aktetas (net vir ingeval), is in hierdie verband die beste moontlike voorbeeld van ‘n masker wat Europese moderniteit gedra het, en wat steeds aan die voorpunt van planetêre geweldpleging staan. Net so erg as die wit Europese man is die selfmoord bommer wat met ‘n vyf ton trok vol wilde springstof in ‘n lewendige mark inploeg, om net daar en dan ‘n gebed op te stuur en die knop te druk. Al wat oorbly is ‘n moerse gat in die grond, en ‘n Faust-agtige mark wat ruik na die poorte van die hel. Tog sal die martelaar heelhuids opgeneem word in die hemel. Die mens is wat die mens ditself toelaat om te wees. Die mens is ‘n gevolg van keuses, en die materiële omdtandighede wat ons omvou ‘n maatstaf van chaos in die siel.

Die virus van die einde muteer natuurlik. Soos wat die wit Europese kolonis ‘n vrugbare teelaarde vir die virus van die einde daarstel, bied ander gelowe en media praktyke natuurlik ook geil gronde vir voortplanting. Die virus van die einde brul soos ‘n leeu in die draaiboeke, flitse, en gedagte-regimes wat deur Hollywood sirkuleer. Hoeveel keer het King-Kong-agtige kreature, monsters uit die see, vreemde visse, die Russe, terroriste, planetêre klimaats-katastrofes, en geheime organisasies of mense uit die diepste dieptes van die buitenste ruim reeds New York, of die aarde en alles wat daarmee verband hou verwoes? Hierdie mag nie religieuse idees wees nie, maar tog sinspeel die metafoor op die kultureel-en-religieus ingeprent-de konsep dat die aarde op een of ander stadium, hetsy dit deur middel van ‘n komeet of as gevolg van die finale afrekening ingestuur deur God, sy gat sal moet sien.

‘n Heel ander genre van films soos Matrix, Terminator, Alien, Chronicles of Riddick, en so meer speel met tegnologiese temas verwikkel met die komplekse stryd teen supermagte en intelligente masjiene. In hierdie tipe kykvermaak word die gedaante van die aarde as oorlogsfront tussen bepaalde entiteite en idees instand gehou. Verder vleg dit ook goed met ‘n reeds daargestelde kulturele verwagting dat my ekonomie, my land, my taal, volk, of wêreld-ryk se toekoms net verseker kan word indien ek andere uit my pad hou. Hiper-kapitalisme het die afgelope paar jaar sy oorverhitte stryd om die akkumulasie van nommers op skerms lelik verloor. Dus kan die virus van die einde se skelm spoor ook hier raakgesien word. Die virus van die einde floreer op omstandighede van of ekstreme self-versekerdheid en arrogansie, of op die tydstip waar arrogansie ‘n spies in die sy kry. Die ryk gebou op skuld en entoesiastiese mark-instrumente wat bloot met nommers goël in goed soos hedge funds en futures, het testaan gekom teen die harde feit dat vraatsugtigheid uiteindelik ‘n lelike globale ekonomiese krisis kan baar.

Hoeveel skuld kan een nasie op ditself verenig? Die era van globale ineengeweefde telekommunikasie beteken ook dat swerms aandele rondom die planeet sirkuleer soos ‘n elektroniese migrasie vonkvoëls. Hul vlerke glinster deur die oneindige nag van die virtuele ruim, ‘n ruimte wat opsig self vir sommige aardbewoners ‘n parralelle heelal van ontvlugting uit die bekonptheid van materie en lyflike werklikheid geword het. Die Internet is soos ‘n sub-psigoties-Post-Freudiaanse agglomerasie van als wat menswees is: glinsterende gedigte; breaking news; hiper sadistiese pornografie; doodsbendes wat selfmoordprooi op geselskamers soek; Jihadi’s wat hul paradoksale boodskappe versprei; informasie en disinformasie kampanjes; onbemande vliegtuie wat deur middel van Playstation-agtige meganismes gestuur word om ‘n trok vol Taleban van die aarde te vee; dobbel; dop; d..s; dagga; celebrity skinner en Oprah Winfrey se planne vir môre aand se dinner… alles beskikbaar via die gemaklike mengsel van “Human Interfaces”, naamlik: ‘n sleutelbord; muis; skerm; web-kamera; en skype kopstuk.

Ingebed in die moeras van materiële welfaart is die knaende bewussyn dat die ekonomie nie teen ‘n oneindige kurwe kan bly groei nie. Daar is net soveel steenkool, net soveel olie en knoffelbotter wat uit die aardkors en die gedweë spene van Mietsie die koei gepomp kan word. Natuurlike beperkinge staan soos spoedwalle in die pad van die mens se juigende tog die toekoms in. Skalks net soortvan bewus van die feit dat ‘n lewe van middleklas non-welvaart ‘n uitsondering op die reel van lewe vir die oorgrote meerderheid van ander mense op die planeet is. Verbruikerskultuur, en mense wat hulself oorgee aan die gedagte dat andere moet sterf sodat “ek en my dogma kan voortleef,” deel ‘n buurt in die stad van Nihiliste. Beide omarm slaafs die dogma van die modehuise en meegaande skelet-modrelle, al verskil is dat die kleedsels anders lyk. Hollywood is nie net ‘n teelaarde vir die virus van die einde nie, dit is waarskynlik, soos die Taleban in Afghanistan, klassifiseerbaar as aktiewe agente van die virus van die einde. Die middelgrond van menslike bestaan kan net verstaan word indien die ekstreme posisies en optredes waartoe die spesie instaat is, lewendig voor die verbeeldings-oog gebring word.

B.           Neo-konserwatiewe denke en die Dajjal

Ons spoor die reuk van die virus van die einde op vele plekke op. Dit is in die eggo van politieke uitsprake en planetêre strategie wat mens die kristallisering van die virus van die einde moet probeer opspoor. Stefan Halper en Jonathan Clarke (2004:281) argumenteer dat die interpretasie van die 9/11 terroriste aanval as sou dit ‘n geval van staat-tot-staat geweld wees, was tot ‘n groot mate beïnvloed deur die neo-konserwatiewe denkskool wat op daardie stadium die leisels van mag in Washington gehou het. Waarom sou ‘n terroriste aanval, geloods deur ‘n nie-staatsorganisasie, naamlik Al Qaeda, lei tot die inval en omverwerping van die ordes in beide Afghanistan en Irak? Voor hierdie vraag beantwoord kan word moet eers verwys word na die feit dat president Bush, tesame met figure soos Dick Cheney, Donald Rumsfeld, en Paul Wolfowitz die politieke produkte was van ‘n verreikende strategie wat neo-konserwatiewe akteurs gedurende die neentiger jare geloods het om Amerika se rol in die wêreld orde te verseker en uit te bou.

Die invalle van Irak en Afghanistan is volgends Halper & Clarke (2004:182) die lang-termyn gevolg van die wyse waarop neo-konserwatiewes die Amerikaanse openbare diskoers beïnvloed het. Gedurende die jare negentig merk hulle op dat:

“We have discussed above how the neo-conservatives’ soft power strategies involved building a shadow defense establishment across a number of think tanks and policy institutes, from which they were able to promote and disseminate their intellectual alternative for American foreign policy… We also look at how they formed alliances with like-minded political groups within the Christian evangelical community.”

Die argument wat Halper & Clarke ontwikkel ontvou langs twee asse; enersyds het die neo-konserwatiewe politieke strategie binne Amerika afgehang van die skep van forums, en die opstel van netwerke waar die media, institute en velerlei ander instellings aangewend is as platforms vanwaar hul visie vir Amerika uitgedra kon word. Belangrik in hierdie verband is die verhouding tussen neo-konserwatiewes en die regse, of ver-regse evangelistiese manifestasies van die Christendom in Amerika.

Dit is interessant om op te merk, soos wat Halper & Clarke (2004:197) aandui, dat:

“Neo-conservatism and the religious right both emerged in the 1990s as essentially Republican forces. Led by Ralph Reed, a talented political strategist, Robertson’s Christian Coalition played a decisive role in the midterm elections of 1990 and 1994. Like neo-conservatism, the religious right became a strong force for criticism in the media against the Clinton White House.”

Die dag toe George W. Bush ingesweer is as president (na ‘n lelik beknoeide verkiesing), het die regs-religieuse groepe van die VSA die hardste gejuig. Hoewel die politieke verhouding tussen die neo-konserwatiewes en die ver-regse Christen fundamentaliste in die VSA nie noodwendig aanleiding gegee het tot die invalle van Irak en Afghanistan nie, moet dit tog opgemerk word dat die religieuse stem beslis bygedra het tot die ondersteuning van ‘n militêr-avontuurlustige Wit Huis onder leiding van Bush II.

Maar, wat is die sentrale temas van die denke wat gepraktiseer word deur neo-konserwatiewe denkers? Halper & Clarke (2004:11) dui aan dat hedendaagse neo-konserwatiewes verenig is rondom drie kwessies, of idees, naamlik:

1.    ‘n Oortuiging wat uit religieuse denke voortgebring word, naamlik dat die menslike toestand bepaal word deur ‘n keuse tussen “goed en kwaad”. In hierdie verband word aanvaarbare politieke optrede dan ook uiteraard gedefinieer as die bereidwilligheid om teen kwaad/boosheid op te tree;

2.    Die verhouding tussen state word op oer-realistiese wyse gedefnieer deur militêre kapasiteit en die bereidwilligheid om instrumente van mag en geweld aan te wend indien ander state die stryd aangesê moet word;

3.    Die sentrale internasionale fokus van neo-konserwatiewe internasionale denke is die Midde Ooste en “internasionale Islam” as sentrale politieke teater waarin Amerikaanse belang uitgebrei en/of beskerm moet word.

So ‘n kras en skerp belyning van die politieke omgewing, soos gepredik deur neo-konserwatiewe diskoers, het telkemale vorm aangeneem in president Bush se “Axis of Evil”, en die knaende sinspeling op die feit dat die Globale Oorlog teen Terreur (GOT) eintlik ‘n implisiete stryd teen  boosheid, booswigte, en agente van internasionale wanorde is. Dit is dus niks minder as ‘n  historiese ironie dat dit juis in die tweede jaar van die Bush- en neo-konserwatiewe era  sou gebeur – dat Osama bin Laden ‘n suksesvolle terreur-aanval op die VSA sou uitvoer nie. Die gevolg, sowel as oorsaak, van 9/11 is vandag steeds aanvoelbaar in die vorm van vele fundamentalistiese koue fronte, en wydverspreide oorlogsfronte waar magte mekaar ‘n skadustryd aansê.

1.            Hoor jy die trompette?

Hoewel die volgende ‘n ekstreme voorbeeld mag wees, is die doel daarmee om te wys hoe internasionale politieke verwikkelinge, in hierdie geval Iran, deur sekere religieuse groepe geïnterpreteer word binne ‘n religieeus-apokaliptiese idioom. Die Philadelphia Trumpet (Augustus 2006) verwys in ‘n artikel op die eerste bladsy na die verwagte koms van die Mahdi, wat deur Shia Moslems beskou word as ‘n nodige teken van die komende einde van die wêreld. Gerald Flurry, die redakteur, skryf:

“Iranian President Mahmoud Ahmadinejad believes the Mahdi will return in two or three years – or even sooner if somehow he can create an international crisis… This should alarm us. Imagine: Iran is the world’s top terrorist-sponsoring nation. It is about to get nuclear bombs, and its leaders believe a nuclear war will speed the return of their version of the Messiah. That means they are eager for a nuclear war. And once you start a nuclear war, how do you stop it?”

Nie net word krasse veralgemenings verkoop as ware feite nie (Iran is beslis nie die wêreld se grootste borg van terreur nie), maar belangriker nog, ook word die konfrontasie oor Iran se kernprojek soomloos verbind met die diskoers van die einde soos gevind in beide Islam en Christen denke. Die “vyand” wat hier opgeroep word het dus ‘n aardse gestalte in die vorm van president Ahmadinejad van Iran, terwyl die wyse waarop Iran gesien word, bepaal word deur die apokaliptiese verwagting wat in beide Islam en die Christendom teenwoordig is. Die blote idée van die apokalips, Armageddon en die finale boksgeveg tussen die magte van goed- en kwaad, word dus aangewend as onsigbare gom wat die veralgemenings, apokaliptiese verwagtinge, en konkrete manifestasie van konflik saambind in ‘n effektiewe eskatologie van die einde. Hierdie konfrontasie strek wyd soos ‘n verbeeldingsveld waarin elke individu sy/haar eie redding, verdoemenis, pyn, hoop, skandalige optrede, en vrees vir- of bloeddorstige lus vir geweld, gereflekteer sien. Dis is in die spieëlvelde van die gedagte wat die masker van ‘n gedagte nie net ‘n gedaante-skaduwee is nie.

Die virus van die einde steek sy kop hier uit. Dit is in die hande van mense wat godsdienstige tekste op letterlike wyses lees wat die instrumente gevind word. Hierdie instrumente rig, bepaal, kersten, brand, vervolg, klap, skiet, martel, hang, en kruisig nie net opponerende idees nie, maar ook insgelyks die mense wat hul lywe beskikbaar stel as kamele om die idees in die stof van die wêreld te versprei. Die lewe van die profeet Jesus, sowel as die wedervaring van verbanning en teenstand wat die profeet Mohammad moes beleef na sy prediking van Islam begin het, dui vir mens op die kragdadig-materiële teensreaksie wat mens te wagte mag wees indien jy ‘n nuwe idée begin voete gee in die konflik-sone van die ondermaanse werklikheid.

2          Die Dajjal en die internasionalisering van onderdrukking

Na boontoe is sekere opmerkings gemaak oor plekke en kontekste waar die virus van die einde mag kop uitsteek. Dit moet reeds duidelik wees dat die virus van die einde nie net verwys na die verwagte einde van die wêreld nie. Hierdie virus het veel meer te make met die verhouding wat godsdiente op verskeie vlakke bewerkstellig: verhouding van mens tot aarde; verhouding van mens tot mens; verhouding van mens tot hemel- en/of hel. Die aarde as tydelike tuiste vir die siel is dus enersyds van geen belang nie, omdat dit verwoes sal word en omdat die lyf sal dood gaan. Tog, andersyds is dit van absolute, byna totalitêre belang, want die siel se na-doodse reis word in sy intieme detail bepaal deur elke sekonde se optrede in hierdie stofpaleis. Dus is die aarde ‘n oorlogsfront van siele wat stry om die poorte van ewigheid te beset. Is dit hoekom industrieë en mense voortgaan om oneindige verbruik-siklusse in werking te stel op ‘n planeet wat eindige hulpbronne het? Die virus van die einde het nie ‘n lyf nie, dit is ‘n tussentoestand waarin die mens in die onmoontlikheid van sy tydelike situasie homself die reg eien om as absolutis sy naam in die vergangbare sand van ‘n verdoemde planeet te verewig.

Dit is in die hopeloosheid van die menslike toestand wat apokaliptiese gedagtes uit die hingsels van Godsdiens breek om as selfstandige denk-regimes die mens se denke oor, en benadering tot andere- en die aarde, te vervorm. Hiermee bevraagteken ek nie die openbaring van godsdienste nie. Hiermee word een godsdiens nie teen ‘n ander afgespeel nie. Die gedeelde fokus op die einde is wat hier op die spel is. ‘n Kollektiewe verwagting, tot dusver vir duisende jare uitgestel, word dus ‘n holistiese teelaarde vir die virus van die einde. Dit lei tot die opheffing van wedersydse respek, en in die plek daarvan neem magsvergrype oor as die enigste lewensvatbare voertuig vir oorlewing op aarde. Die mens dink dinge die werklikheid in.

Soos die Christendom, verwag Islam ook die wederkoms van die profeet Jesus. In beide tradisies sal dit ‘n teken wees van die koms van die oordeelsdag. Tog is daar verskeie klemverskille tussen die openbaring van die einde soos gekommunikeer deur die profeet Muhammad, en die algemeen aanvaarde eskatologie van die einde soos vasgevang in die boek Openbaring van die Christen Bybel.  

Ahmad Thomson (1997:3) beskryf vele van die Hadith (opgeskrewe gesegdes van die profeet van Islam) waarin die einde en tekens daarvan beskryf is. Hiervolgens sluit van die tekens in: dat armes hoë geboue sal bou waarin die mense hulself sal sit en prys; dat daar veel meer vrouens as mans op die planeet sal wees; dat familie bande ontdaan gemaak sal word; dat tyd baie vinnig sal verbygaan; dat mense wat die waarheid praat nie geglo sal word nie, maar dat die leuenaar ‘n groot horde volgelinge sal hê; daar sal baie oorloë en moord wees; aarbewings en vloede sal aan die orde van die dag wees; die wat mense doodmaak sal nie weet wie hulle doodmaak nie, terwyl die wat doodgemaak word nie weet hoekom hulle om die lewe gebring word nie; dat daar min betroubare mense sal wees; dat mense eerder in die sterre sal glo as om geloof in God te hê; dat sommiges sal probeer om die woestyne groen te maak; argumente en stemme wat in woede skreeu sal in heilige plekke van gebed gevind word; die son sal in die Weste opkom met die moontlike betekenis dat die planeet se magnetiese pole omswaai; die maan sal verbrokkel en die Dajjal (die Islamitiese ekwivalent van die Anti-Chris) sal sy opwagting maak.

 Die Dajjal het vele dimensies van manifestasie. Volgens Thomson (1997:6) het die Dajjal drie eienskappe, naamlik:

1.    As individu

2.    As ‘n wêreld-wye sosiale en kulturele fenomeen

3.    As ‘n onsigbare mag wat in die skaduwees werk

As fisiese manifestasie is die geskrifte spesifiek op die punt dat die individu wat as dajjal tevoorskyn sal kom net een oog sal hê. Belangrik is die feit dat die dajjal gelyktydig deur almal reg rondom die wêreld gesien sal kan word. In hierdie verband verbind verskeie analises van die Hadith die dajjal as “wêreld-wye sosiale en kulturele fenomeen met die elektroniese media en die televisie. In hierdie verband merk Thomson (1997:6) op dat:

“Dajjal will show you water, but you will not be abel to drink it. Dajjal will talk of the Garden, and make it seem like Fire. Dajjal will talk of Fire, and make it seem like the Garden. These descriptions all fit the characteristics of today’s media systems and communications technology, and especially the manner in which they are largely used. The Dajjal is also described in the hadith as having many eyes on both sides and travelling about the world in large hops.”

As individuele fisiese manifestasie sal die Dajjal een oog hê. Maar, as wêreld-wye sosiale en kulturele fenomeen sal hy baie oë (dalk soos kamera lense?) aan beide kante hê. Hoe dit ookal sy, die feit bly staan dat die apokalips, in Islamitiese denke, soos in die geval van die Christendom, gepaard gaan met spesifieke tekens en gebeure. Die Dajjal sal as ‘n tipe wêreld-orde tevoorskyn kom, ‘n orde wat op ekonomiese en tegnologiese wyses die onderdrukking van gelowiges sal bewerkstellig. Uit hierdie ongelooflike orde sal die individu, Dajjal, tevoorskyn kom met wonderwerke en magiese metodes om swak siele die rat voor die oë te draai.

Die konkrete belewenis van mense in die Midde Ooste spreek van oorloë in Afghanistan, Irak, sektariese stryd om beheer oor regerings en grondgebied. Dus interpreteer mense soos Osama bin Laden die Saudi koningshuis se lang-termyn strategiese verhouding met die VSA as onaanvaarbaar en ‘n teken dat hulle saamsweer met die historiese vyand van Islam, naamlik die “Weste”. Dus word terreur op internasionale skaal, gemik op instellings, installasies, skepe, geboue, en persone van die VSA en geallieerde magte ‘n toelaatbare “militêre strategie” in die stryd teen ‘n internasionaal onderdrukkende wêreld-orde gelei deur die VSA.

Die vraag op hierdie stadium is nie of daar enige waarheid in die verskillende openbaringe van die einde steek nie. Die vraag is eerder hoe daardie verskillende tradisies, en verwagte eindes, uiteindelik ‘n impak het op die mens se algemene benadering tot die krisisse wat die planeet op hierdie stadium omvou. Van internasionale finansiële en klimaats-rampe, tot moord en doodslag, van tsunamis tot aardbewings, blyk dit of die virus van die einde ‘n intersubjektiewe toestand mag wees. Indien die mens sou oorgee aan die flink verleidinge van die virus van die einde wat aanteel in plekke waar haat, hebsug, en heksejagte hoogty vier, sal individue dit al hoe moeiliker vind om verantwoordelikheid te kan, of wil neem, vir die wyse waarop almal bydra tot die vele krisisse van ons tyd.

Van omgewingsverandering, tot pogings om die historiese wanbalanse in Suid Afrika reg te stel, vra dit nie net regerings-aksie en beleid nie. Omgewingsverandering verg dat elke individu se lewenswyse, en verhouding tot die natuur verander. Kan so ‘n verandering gebeur in ‘n wêreld van absolutes? ‘n Wêreld waar vier persent van die bevolking, in sommige “ontwikkelde state”, soveel as tagtig persent van daardie land se welvaart besit? Die virus van die einde marsjeer gemaklik op sosiale grondgebied gekenmerk deur strakke ongelykheid en die meegaande maskers van gekultiveerde kragdadigheid om die onderdane ondergeskik te hou. Daar is dalk ‘n rede hoekom royals, generaals, sommige diktators, en ouens soos Michael Jackson wit handskoene dra. In verband met die psige wat posvat onder omstandighede van onderdrukking, merk Breyten Breytenbach (1991:27) op dat:

“Die wit warlords, hulle het gewéét daar was geen Rooi Gevaar nie. Vir hulle was alles ‘n beplande strategie om van die staat ‘n skrikbewind te maak. Maar eintlik weet ons almal, van kleins af, hoe om die wrede werklikheid te verdoesel onder die noodgedwonge skyn van ordentlikheid. Is ons dan nie daarin geskool vanaf kansel, in klaskamers en kroeë, deur Afrikaanse koerante en kultuurgewasse en politieke gauleiters nie?”

C.           Nietzsche en die siekte-toestand genaamd gesondheid

Kultuurgewasse kanker steeds voort as voertuie van kollektiewe identifikasie. Die mens, as kommunikatiewe gedierte, is in hierdie verband hoogs vatbaar vir virulente idees. Veral idees wat met slim propaganda-veldtogte en ingeplante agente perpetueer word. Dit is in die oordra, interpretasie, en skep van kollektiewe betekenis wat die basiese infrastruktuur van die menslike gegewe (sosiale, politieke, ekonomiese, en kulturele werklikhede) daargestel word. Soos wat argitektoniese wonders oprys om wolke se sagte pense te kielie met antennas en vreemde buise op die dak, word die idée van ‘n mens of groep samesweerders ‘n tasbaarheid. Om hierdie samevloei te verstaan is ‘n holografiese beeld van menslike bestaan nodig. So ‘n holografiese beeld moet beide die materiële omstandighede en die dinkruimtes van die mens, insluit. In hierdie verband volg ek ‘n strak Marxistiese afdraaipad want Marx het iets beetgehad.

‘n Holografies-deursigtige prent van die menslike toestand moet dus twee elemente verbind en op dieselfde oomblik sigbaar kan maak. Hierdie elemente is:

1. Optredes, en materiële manifestasies soos piramide, pondok, mooi boek, vliegtuig, of slim bom kan in hierdie verband as voorbeelde van fisiese manifestasies geneem word.

2. Die voorgaande moet dan verbind word met ontasbare veranderlikes soos elektroniese pulse wat op hul beurt gestimuleer is deur ‘n gedagte en  chemiese reaksie in iemand se kop.

Dit is in die verweefdheid van verbeelding en werklikheid dat die oersop van die brutale potensialiteit soms oorkook en ons bestaan as mense lelik bevuil of befomfaai.

Is die virus van die einde ‘n simptoom, of ‘n siekte? Is die virus van die einde ‘n simptomatiese gevolg van ‘n vooraf-bestaande maar tot op hede ongediagnoseerde siekte? Het die virus van die einde ‘n selfstandige bestaan, of is dit bloot ‘n opportunistiese reisiger wat soms die lyf van die oer Cha-Os aanneem om soos die spreekwoordelike bul in die breekware winkel te snuif, skop en koppestamp?

Dit is moontlik om die spore van die Cha-Os op te spoor in plekke soos Mogadishu, op Madrid se treinstasie, in London se underground, in New York se finansiële distrik, in Nairobi toe ‘n Amerikaanse ambassade gebom is. Die spore van die Cha-os kan weliswaar op die grens tussen Noord- en Suid-Korea aangetref word, terwyl die virus as stille insurgent sy teenwoordigheid rugbaar maak in die dwelm oorloë van Mexiko, Brazil, en die onderwêreld van plekke soos Detroit. In Sentraal Europa het die Cha-os en die virus van die einde Kosovo aan flarde laat gaan, terwyl die Niger Delta in Wes Afrika waarskynlik ‘n permanente basis aan beide die virus en dié se lyflike inkarnasie naamlik die Cha-os bied. Tog, indien mens ‘n meer intieme belyning van die eienskappe van die virus wil bewerkstellig sal dit nodig wees om te noem dat staats- sowel as nie-staats agente kan optree as teelaarde vir die virus. Verder nog kan ekonomiese praktyke soos dié waar lywe slaafs en vir ure onder dwinglandy in “Sweat Shops,” Gucci sakke en Nike skoene vir die lieplappers en lumpenproletariaat van Mode-gurus stik. Dus is die virus van die einde moontlik siekte, helfte van die oorsaak, en uiteindelik niks anders as ‘n permutasie, gevolg, of refleksie van die mens se optredes in sy gekose konflikterende (a)-sosiale kollektiewiteite nie.

Gilles Deleuze (2001:58) merk op dat Nietzsche se perspektief op siekte ‘n bepaalde verskuiwing van denke verlang. Volgens Deleuze het Nietzsche klaarblyklik geglo dat siekte ‘n perspektief op gesondheid is, terwyl gesondheid weer daarenteen vir mens die geleentheid bied om siekte vanuit ‘n ander hoek gade te slaan. Deleuze beur voort in die digte plantasie van Nietzscheaanse denke, en merk op dat:

“…Illness is not a motive for a thinking subject, nor is it an object for thought: it constitutes, rather, a secret intersubjectivity at the heart of a single individual.”

Wanneer ek verkoue kry is ek intens bewus van die godgegewe gawe, of die evolusionêr-verfynde reuk sintuig. Die siekte is dus ‘n perspektief op my gesondheid, terwyl dit ook nie ‘n objek van my denke is nie. Soos ‘n geheime energie verbind dit die individu in ‘n intersubjektiewe bewussynsveld. Die ek wat siek is, is in my gedagtes brutaal gesond, want die geheue van die reuk sintuig spoor my aan om die wollerigheid van die verkoue te verban uit die nat snotvoue van my lyf.

Indien siekte en gesondheid op hierdie wyse beskou word (waar die een bloot ‘n nuwe perspektief op die ander bied), is daar nie ‘n objektief en vasgestelde werklikheid genaamd siekte of gesondheid nie. Werklikheid is in hierdie verband ‘n flikkerende en fluktuerende reeks wedervaringe, impulse, nies buie, fiksheid, gesondheid, en hart krampe. Onderliggend aan Nietzsche se flikkerend-fluktuerende werklikheidsbeeld identifiseer Gilles Deleuze (2001:65) iets anders wat ‘n fundamentele impak het op die gedagte van waarheid, hy argumenteer:

“Nietzsche replaced the ideal of knowledge, the discovery of the truth, with interpretation and evaluation. Interpretation establishes the “meaning” of a phenomenon, which is always fragmentary and incomplete; evaluation determines the hierarchical “value” of the meanings and totalizes the fragments without diminishing or eliminating their plurality.”

Die mens is as wig ingedryf tussen die vergetelheid van die pas afgehandelde oomblik (verlede), en die onmoontlikheid en onvoorspelbare onvoorspelbaarheid van die nou-nou (toekoms). Soos ‘n tol spin die mens in die vakuum van hierdie oomblik. En hierdie oomblik wat ek dink ek kan vasvang tussen wysvinger en duim sal vinniger onder my naels uitglip as wat ‘n weerligstraal ditself van my plukkend-rokende liggaam kan losruk. Die individu is ‘n banneling op die kuslyn van samegestelde betekenis.

Die kwessie van sosiaal samegestelde betekenis word helder voor die oog gebring indien Nietzsche se gedagtes verder onder die loep geneem word. Want, deur die ideaal van absolute kennis, naamlik die ontbloting van die “waarheid,” te vervang met interpretasie en evaluasie, slaag Nietzsche daarin om die mens as demagoog van betekenis te ontbloot: die mens is potesieël dus ‘n Betekenis-Diktator. Die is op die kruisweë waar kompeterende interpretasies van die aardse werklikheid ontmoet, wat die moontlikheid van konflik daargestel word. Op hierdie wyse lig Nietzsche die sluier op die geheime kamers van denk-regimes en gedagte-diktatorskappe waar die waarheid nie gevind sal word nie, maar, waar in die plek van waarheid, ‘n orde van mens-gegewe betekenis opgeroep word. Die hiërargiese opstapelling van idees is ‘n Avatar van die fisieke ordes wat uit stof en modder opgeroep word. Psigiese beheer, en instellings waardeur die “wet” of idees van die “orde” deur middel van fisiese geweld afgedwing kan word (soos polisie of militêre padblokkades) is dus die twee mees belangrike instrumente wat die top dog, die Groot Baas, Big Cheese, Generalissimo, President, of Outokraat moet aanwend om die hele swermende kasarm van sosiale betekenis aan die lewe te hou.

Dit is deur middel van die interpretasie van die natuur, interpretasie van wette, interpretasie van gebare en figure sowel as die interpretasie van godsdienste en geskrifte oor menslike orde, dat die betekenis van fenomene en gebeurtenisse vasgestel word. Begrip van die betekenis van ‘n bepaalde teks of gebeurtenis hang dus af van die wyse waarop dit geïnterpreteer word: is die weerligstraal wat gistraand my hut aan vlamme geslaan het ‘n slegte teken of gevolg van ‘n vloek wat iemand oor my uitgespreek het?; is die weerligstraal bloot ‘n matematies-bepaalde ontlading van energie tussen wolk-en grond?

Wanneer evaluasie op die spel kom word ordes daargestel. Die evaluasie van ons menslike interpretasie van gebeure en natuur verskynsels, lei tot die ordening van werklikheid. Die evaluasie van die hemelruim as sou dit saamgestel wees deur ‘n statiese aarde, met die son en hemelruim wat rondom dit wentel, stel in hierdie verband ‘n denk-regime, of ‘n orde van betekenis daar. So kom die virus van die einde tevoorskyn op plekke waar ‘n individu of groep se evaluasie, en interpretasies van werklikheid, hul noop om enige van die vergrype te onderneem wat na boontoe uitgewys is. Die virus van die einde kan dus, soos Nietzsche se perspektief op siekte, ‘n manifestasie wees wat lig werp op dit wat die mens ag as sosiaal gesonde optrede en denke.

Dit is in sommige politieke en godsdienstige kringe heeltemal sosiaal aanvaarbaar om ander groepe, kleure, of tipes mense te sien as uitwisbaar. Die voortbestaan van ‘n filosofie van rasse-meerderwaardigheid hang aktief af van die skoling van mense in vorme van haat. Vir Nazi’s is dit sosiaal aanvaarbaar om vark koppe voor Joodse sinagoges te gooi. Die ekstremis se visie van gesonde optrede is dus ook net mooi presies die plek waar die siekte- en virus van die einde vastrapplek in werklikheid sal vind. Die betekenis strukture wat opgerig word deur gelowe, ideologieë, of ‘ismes,’ is opsig self nie gevaarlik nie. Daar moet net gelet word op die wyse waarop die ‘ander’, die een wat nie van my, my kerk, my land, of ras is nie, gedefinieer word. Dit is in die interaksie tussen mense, ordes, gelowe, en denk-regimes dat die virus van die einde tevoorskyn sal kom indien sulke interaksies bepaal word deur ‘n “dis jy of ek, dude…” houding. Die intersubjektiewe manifestasie van die virus van die einde noop mens dus om weer kers op te steek by mistici en denkers wat kan help om tussentoestande te verstaan, eerder as om behep te raak met die analise van ordes.

Mens kan die idée van die einde van die wêreld slegs verstaan indien dit gesien word as ‘n perspektief op die begin van dinge. Mens kan die kwansuise doods-begeerte van die selfmoord bommer slegs verstaan as ‘n perspektief op lewe. Deur my lyf op te offer as soldaat in die groot GOT stryd, of deur myself op te offer as martelaar in Jihad, vestig ek ‘n perspektief op lewe. Deur dood te gaan in die hitte van die stryd teen boosheid (soos wat beide die neo-konserwatiewes en Al Qaeda hul operasionele omgewings definieer) verwerf ek lewe na die dood. Omdat lewe na die dood vir my ‘n gewaarborgde sekerheid is kan ek die glasfuik van die lyf offer op die bloedstapel van my dogma. Lewe op aarde is dus niks anders as ‘n skrille kontras nie. Die ontwrigting wat ‘n oorlog oor die koppe van collateral damage laat losbars, is inderdaad ook ‘n perspektief op die gedagte van ‘n toestand genaamd vrede. Dit is wanneer die absolute spanningslyne van menslike interaksie lei tot openlike geweldpleging dat ‘n mens insig kan kry op die toestand van intersubjektiewe diskommunikasie. Boosheid help mens om engele beter te verstaan, terwyl Satan ‘n perspektief op god mag wees.

D.           Die vrot lappe vlees van die einde

Nie net het Friedrich Nietzsche ‘n formidabele uitdaging aan hardlywig-modernistiese sisteem-filosofieë gerig nie, maar meer nog het hy die basiese gedagte van wat ‘n “filosoof” is, fundamenteel gewysig. Gilles Deleuze (2001:66) argumenteer in hierdie verband:

“The philosopher of the future is the explorer of ancient worlds, of peaks and caves, who creates only inasmuch as he recalls something that has been essentially forgotten.”

Om die toekoms te verstaan is dit nodig om in die dieptes van vergete verledes rond te delf. Die mens as belewer van die absolute nul-oomblik moet dus besef dat die toekoms en verlede baie nader aan mekaar is. Deur dit wat vergete is op te roep, bring die filosoof ouer lyne van intensiteit terug na die hede. Op hierdie wyse, en hierdie is blote spekulasie aan my kant, aksentueer dit die feit dat tyd weliswaar relatief is, soos gesien in die Einsteiniaanse idioom. Die posisie en spoed waarmee ‘n liggaan deur ruimte beweeg bepaal volgens Einstein die persepsie en meegaande belewenis van tyd.

Deleuze gebruik interessante woorde om Nietzsche se opvatting te omskryf. Hy verwys na die “iets” wat vergete is. Indien iets wat vergete is teruggebring word na die hede, indien dit in herinnering opgeroep word, is daardie iets wat Nietzsche in gedagte het, alvolgense Deleuze (2001:66):

“That something, according to Nietzsche, is the unity of life and thought. Modes of life inspire ways of thinking; modes of thinking create ways of living. Life activates thought, and thought in turn affirms life. Of this pre-Socratic unity we no longer have even the slightest idea. We now have only instances where thought bridles and mutilates life, making it sensible and where life takes revenge and drives thought mad, losing itself along the way. Now we only have the choice between mediocre lives and mad thinkers.”

Die eenheid van lewe-en-denke verseker dat my perspepsie van die einde van die wêreld, en die “tekens” of drake wat ek in die wolke sien, in mekaar verstrengel word om my te oortuig dat die einde op hande is. Verder leer ons hier uit Deleuze dat denke deur lewe geaktiveer word, terwyl die denke lewe affirmeer. Dit is in die denke wat gruwelike dade van moord en doodslag verantwoord word. Die breuke tussen gedagte en werklikheid lei volgens Deleuze tot ‘n situasie waar die denke lewe mutileer. Denke dryf die mens voort tot die wildste optredes denkbaar wat derduisende karkasse en verminktes agterlaat. Dit is nie die bom wat vermink nie, dit is die redes wat vir die gooi van die bom gegee word wat die mens aan die ontvangkant van sy twee gesonde bene skei. Die B52 bomwerper wat sy vrag ammunisie uit sy maag laat val is die brandpunt van verskeie strategiese gedagtes, en politieke redes vir hoekom hierdie spesifieke vallei, om hierdie spesifieke uur, op hierdie gegewe dag aangeval moet word. Die B52 is bloot ‘n instrument wat die uitroeptekens van sekuriteits-denke oor die koppe van een of ander “vyand” laat afkom.

Daar is nie meer waarheid nie. Al wat oorbly is evaluasie en interpretasie. Indien die virus van die einde ‘n intersubjektiewe gevolg van kollektiewe disrespek en wedersydse onderdrukking is, beteken dit dat oorlog verklaar moet word op die denk-regimes, gedagte-diktatorskappe, en betekenis-outokrasieë wat die mens se denkruim beset.

Bibliografie

Breytenbach, Breyten. 1971. Om te vlieg: ’n opstel in vyf ledemate en ’n Ode. Kaapstad: Buren-Uitgewers.

Breytenbach, Breyten. 1991. Hart-lam, ’n leerboek. Kaapstad: Taurus.

Deleuze, Gilles. 2001. Pure immanence: essays on a life. New York: Zone Books.

Flurry, Gerald. 2006. A clash of civilizations is imminent. The Philadelphia Trumpet, August 2006, p.1.

Halper, Stefan & Clarke, Jonathan. 2004. America alone: the neo-conservatives and the global order. Cambridge: Cambridge University Press.

De la Rey De la Rey: ‘n Bevrydingslied of ‘n uitroep na ‘n nuwe identiteit en leierskap?

25 Februarie 2007

Steve Hofmeyr
Anthoni van Nieuwkerk
Danie Goosen

Steve se geselsie oor De La Rey

“Ons is hier om oor De La Rey te praat, asof daar nie genoeg nasionale gisting daaroor was die afgelope maande nie. Ek is nie onpartydig as fasiliteerder nie want die lied se reaksie is vir my verblydend, NIE omdat dit tegnies ‘n bogemiddelde kunswerk is nie, maar omdat ek vir een dekade al reeds verwys na die huidig jongmense as die apatiese generasie, en hoe verlammend hierdie apatie is. En “paralysis” is nie ‘n opsie vir my nie.

‘n RSG nuusleser lees Vrydag hoe “ sekere kwessies ’n minister hoofberekenings gee”. Hehe. Maar daar is ‘n verwantskap tussen die woord wat sy gebruik het en die ene wat sy bedoel het. Die een is verlammend en die ander beslis bemagtigend. Hoofberekenings is miskien presies wat ons nou nodig het eerder as hoofbrekings.

Hieroor sou ek reken dat daar nog veel ruimte ìs vir bespiegeling oor De La Rey veral as jy in ag neem dat die De La Rey lied maar ‘n simptoom is van dieselfde ding wat jy om jou en in jou voel as Afrikaner (seker nie almal nie) vandag, en dit wat ons vir onsself vanoggend kan en moet verwoord, binne ‘n multikulturele bestel maar ook binne ‘n grondwet wat jou vryheid van assosiasie uitspel. En daar lê die ongemakindeks vir sommige op 10.

Hier is die 3 vrae wat ek meeste moet trotseer oor ons tema:

1. Hoekom? En wat soek julle Afrikaners? (waarvoor ek ‘n lang en kort antwoord het. Die korte lui: dit sal nooit ander mense se plek wees om vir ‘n kultuur te vertel HOE sy hart moet reageer op gegewe kwessies nie. Dis Ou Suid Afrika manipulasie daai en ons val nie rêrig meer daarvoor nie.)

2. 2de vraag: het hierdie ding brieke? en dan laastens:

3. Sal jy asb staan vir president…wat ek lees as ‘n neuroties wanhopige optimisme en dat ons, soos met De La Rey, iets konkreet soek om te vertrou, waarteen ons ons wang mag rus en haar visie vir die toekoms vertrou. Ek weer hou van hierdie dekade van leierloosheid. Die Afrikaner het, desnoods, leer lees, protesteer, die grondwet loop navors sodat….AS ons weer ‘n leier moet kies ons dit NIE doen omdat hy slegs charismaties is met blonde hare en blou oe en aantreklike tafelmaniere nie, maar omdat ons hom kan vertrou met beleid.

Op die derde vraag na party-politieke leierskap het ek weer ‘n kort en lang antwoord: My kort antwoord is dat ek van my sinne beroof sal wees om my loopbaan op te gee vir die reputasie van ‘n politikus. En ek het reeds ‘n feilbare reputasie. My langer antwoord is dat ek as aktivis die elektoraat se mandaat beperkend vind. Ek kan m.a.w. nie wag dat jy vir my moet stem voordat ek my moer mag strip nie…ek word elke oggend wakker, hol Uniegebou toe en skree: Thabo, maak oop vir die baas!” En ek is NIE die baas omdat ek wit is nie. Ek is die baas omdat ek NIE die regering is nie. Ek werk NIE vir hulle nie. Hulle werk vir my. Klaar…  Jy sal sien hoe ver ek reeds weg is van generaal Koos De La Rey. Maar dis waar ons afgeskop het.

Ek los dit in die lug maar hou dan ingedagte die eerste 2 vrae aan my: Hoekom? Het die Afrikaner nie ook die voordeel van totale grondwetlike vryheid oorgeërf soos alle ander Suid Afrikaanse kultuurgroepe nie

En.  Hier is iets. Maar het dit brieke? Wat gaan gebeur as ons De La Rey op Loftus speel en een Saterdag spring ‘n dronk wit boer op en wetter ‘n swart toeskouer langs hom gedurende die koor van die emosioneel belaaide lied? Kan hierdie nuwe jeug so opgesweep word deur ‘n lied dat dit kan lei na wapens opneem en “val om ‘n leier” soos die liriek sou wou hê.

Miskien kyk ons ‘n eeue ou voorbeeld mis: ‘n leier soos Christus, presies dit wat die Jode NIE voor gewag het nie, ‘n ou in sandale wat mooi goed verkondig van alle mense wat bietjie wang moet draai, toe Hy eintlik ‘n militêre verlosser moes wees vir hulle?

Ek gaan GEEN voorwaardes stel vir hierdie gesprek nie omdat ons moontlik in elk geval buite die domein van geloof gaan debatteer, maar binne in die bevryde en uiters vry forum van die Nuwe Hervorming.   Dankie.”

 

 

Afrikaner Quo Vadis?

Dr Anthoni van Nieuwkerk

NHN Gesprek: 25 Februarie 2007

Gesprekspunte

  • Prognose
    • Die De La Rey lied en die wye reaksie daarop, dui op ‘n soeke onder sekere Afrikaners na identiteit in vandag se Suid Afrika.
    • (Afrikaner = ‘n politieke/kulturele merker vir wit Suid Afrikaners wat Afrikaans as huistaal besig.  De La Rey is besonder gewild onder ‘n sekere ouderdomsgroep Afrikaners).
    • Hierdie mense beleef vervreemding van die huidige sosio-politieke orde.

 

2          Hoekom die soeke?

Die hedendaagse konteks dra by tot ‘n dramatiese versnelling van heelwat Afrikaners se politieke en kulturele vervreemding van die nuwe Suid Afrika. 

  • Hierdie proses volg op die verlies aan politieke mag en die genadelose blootstelling aan Afrika-realiteite.  Hierbenewens het die ‘uitgaande’ geslag gefaal om ‘n aantreklike alternatiewe stel waardes vir die ‘inkomende’ geslag / nageslag aan te bied – wat sake natuurlik vererger.
  • Party Afrikaners glo nou dat die bestuurders van die huidige sosio-politieke orde (min of meer die ANC regering) doelbewus poog om die Afikaner te verneder of te vernietig.

 

3          Wie almal is op soek?

Baie Afrikaners deel nie in die soeke na ‘n nuwe identiteit nie. 

Die ouer geslag Afrikaners, wat die oorgang van apartheid na demokrasie as traumaties beleef het.  Bykans alles waarvoor hulle gestaan het is te sien in die apartheidsmuseum.  Hulle het onttrek.

Die meeste middelklas Afrikaners.  Hulle aanvanklike ondersteuning vir verandering het omgeskakel na ‘n sinisisme.  Party kla op die kantlyn, ander neem hulle toevlug tot die verbruikerskultuur, en party word anderwêreldse Christene.  Hulle kinders volg maar vir pa en ma, en diegene met geld soek hulle heil elders in die wêreld.

Die skoolgaande jeug.  Afrikaanssprekende kinders in openbare skole word toenemend in die waardestelsel van die huidige sosio-politieke orde geïntegreer.  Ouers en onderwysers by heelwat (die meeste?) Afrikaanssprekende skole probeer om hierdie sosialiseringsproses te stuit, gewoonlik dmv hoofstroom religieuse waardes.  My indruk is dat dit verdere verwarring by kinders skep, met toekomstige aanpassingsprobleme by die na-skoolse werks- of studie-omgewing ten gevolg.

Dit laat ons met ‘n subgroep – die na-skool en voor-middelklas ouderdomsgroep.  Hierdie groep ken geen politieke, sosiale of morele raamwerk wat hulle kan oriënteer in vandag se woelige wêreld nie.  Hulle het ook nie geld of geleentheid om landuit te gaan nie.  Hulle glo vas dat die nuwe Suid Afrika geen plek vir hulle bied nie.

 

4          Wat staan ons te doen?        

Verwarring, aanvaarding en verwerping is aan die orde van die dag.  Die situasie is kompleks en gevolglik is daar geen maklike antwoorde nie.  Soos wat ek dit sien, is daar op die pad vorentoe ‘n paar slaggate en geleenthede.

1.  In vandag se postmoderne globaliserende era met spanning tussen have en have not, is daar geen nuwe Moses wat die volk uit verdrukking lei nie.  Daar is ook geen beloofde land nie.

2. Die idee om die wêreld van die soekers te betree.  Moet ons die ekstreme kant van die politieke spekrum  – ‘n neo-Nazi paradigma van rasse-haat –  bestry?  Selfs die Minister van Kultuur, Pallo Jordan ag dit nodig om te waarsku.  Ek is nie oortuig dat dit werklik ‘n groot bedreiging inhou nie.  Daar kan wel gevra word of die sagte kant van die spektrum – die terugtrek uit die (harde) sosiale en politieke omgewing na ‘n eie-ek bestaan – aandag vereis. 

3. Die idee om deel te neem aan filosofiese debatte onder Afrikaner-intellektuele.  Ek het hierdie opsie van nader bekyk.  Sommige teoretiese De la Rey debatte verskyn op Litnet en in FAK publikasies.  Ek is verstom oor die venynigheid wat daarmee gepaard gaan, asook die mate van eie-ek pretensie.  Hierdie opsie lyk onaantreklik.

4. Die idee om onttrekking, sinisisme, woede en haat met alternatiewe waardes te vervang.  Die NHN (en soortgelyke) benaderings bied sulke moontlikhede.  Die groot kenmerk van die NHN is die openheid waarmee alle kwessies ondersoek word.  Trouens, die NHN bied ‘n oop ruimte en stel waardes wat ons en ons kinders kan oriënteer in reaksie op die nihilisme van die nuwe wêreldorde, waar die najaag van mag, plesier en geld die dominante waardes word.  Dit geld ook ook ons onmiddelike sosio-politieke en spirituele omgewing.  Met so ‘n stel waardes kan ons sinvol reflekteer oor wie ons is en waar ons inpas.  Een omvattende antwoord is per definisie nie moontlik of wenslik nie.  Die sukses lê juis daarin dat ons idees en mekaar verken (en vind) in die proses van oop gesprek. 

Vanuit so ‘n benadering maak die volgende vir my sin:

  • ‘n Nuwe insig in die mate waartoe die kerk, ‘n mensgemaakte magstruktuur, gebruik word om mense te manipuleer en vergrype te regverdig (van individuele skuldgevoel tot diskriminerende politieke strukture tot globale oorlog) en die gevolglike vertroulikheidskrisis wat grootliks verhoed dat die kerk morele leiding en herstel kan gee;
  • Die realiteite van Suid Afrika, ‘n land met ‘n lang geskiedenis van konflik (kolonialisme, apartheid, bevrydingstryd en dalk selfs ‘n komende eenpartystaat) en ongelykhede, wat die naïwiteit van diegene onderstreep wat glo dat ‘n demokrasie van 13 jaar alle onregte en agterstande reeds moes uitvee;
  • Die besef dat sodra ‘die Afrikaners’ empatie met hulle medeburgers demonstreer, hulle onverwyld met ope arms in die breër groep verwelkom word.   Afrika smag na die kundigheid en vermoëns van hierdie groep Suid Afrikaners!



    Hierdie punt lei na die volgende een...   
  • Gedeelde waardes.  Johan Degenaar het in 1980 ‘n profetiese bydrae gelewer oor die Afrikaner se mondigwording.   Hy skryf dat identiteit vir die moderne jeug ‘n probleem geword het, veral die statiese weergawe daarvan, en vervang moet word met ‘n dinamiese identifikasie: “...waardeur die Afrikaner hom met ‘n verskeidenhied van waardes identifiseer.  Hy kan hom identifiseer met die Afrikaanse taal en erns maak met die verlede van die etniese groep wat die taal praat.  Hy kan in sy verlede waardes kies wat die toets van redelikheid en moraliteit kan deurstaan.”  Hy voeg by dat “Die blanke sal ervaar dat, as hy sy vrees vir die swartman verloor, hy baie makliker saam met die swartman beskawingswaardes sal kan beskem ter wille van ons almal”.      
  • Identiteit.  Ten spyte van sommige mense se insigte dat Mbeki ‘n verskuilde Afrika-nasionalis is, glo ek dat sy bekende “Ek is ‘n Afrikaan” toespraak inklusief bedoel was.   Luister weer na die roerende openingsparagrawe (eie vertaling):





Ek is ‘n Afrikaan.



Ek het my wese te danke aan die heuwels en vallye, die berge en dale, die riviere, woestyne, bome, blomme, die see en die ewig-veranderende seisoene wat die aansig van ons land definieer.



My liggaam het in ons ryp gevries en ontdooi in die warmte van ons son en gesmelt in die hitte van die middagson.



Die geklap en gerommel van die somerstorms en weerlig was die oorsaak vir bewing en hoop.



Die geure van die natuur was net so aantreklik soos die aansig van bloeisels in die veld.



Die dramatiese vorme van die Drakensberg, die grondkleur van die water van die Lekoa en Thukela, die sand van die Kgalagadi, was almal panele van ‘n stel op die natturlike verhoog waar ons die dom dade van die teater van die dag uitspeel.



By tye, en in vrees, het ek gewonder of ek gelyke burgerskap van ons land moet gee aan die luiperd en die leeu, die olifant en die springbok, die hyena, die swart mamba en die verderflike muskiet.



’n Menslike teenwoordigheid tussen almal, ‘n kenmerk van ons land so gedefinieer, ek weet niemand kan my teenspreek wanneer ek se – ek is ‘n Afrikaan!



Ek het my wese te danke aan die Khoi en San wie se verlate siele die groot vlaktes van die pragtige Kaap kwel – hulle wat slagoffers geword het van die mees genadelose volksmoord wat ons land nog beleef het, hulle wat die eerste was om hulle lewens te verloor in die stryd om vryheid te verdedig.



Vandag, as ‘n nasie, is ons stil oor hierdie voorouers... bang om die gruwel van ‘n daad te erken, en probeer ons om ‘n wrede daad uit ons gewete te verban wat ons eerder moet leer om nooit weer onmenslik op te tree nie.



Ek is gevorm deur die trekkers wat Europa verlaat het om ‘n nuwe tuiste in ons land te vind.  Wat ook al hulle optrede, hulle bly ‘n deel van my.



In my are bruis die bloed van die Maleise slawe van die Ooste.  Hulle trotse waardigheid beïnvloed my houding; hulle kultuur is ‘n deel van my.  Die hale op hulle liggame van die slawemeester is ‘n herinnering van wat nie gedoen moet word nie.



Ek is die kleinkind van die oorlogshelde wat deur Hintsa en Sekhukhune gelei is, patriotte wat deur Cetshwayo en Mphephu in oorlog gelei is, soldate wat deur Moshoeshoe en Ngungunyane  geleer was om nooit die saak van vrede te onteer nie.



My gedagte en selfkennis is gevorm deur die oorwinnings wat juwele in Afrika se kroon is, die oorwinnings wat ons behaal het by Isandlwana en Khartoem, as Ethiopiers en as die Ashanti van Ghana, en die Berbers van die woestyn.



Ek is die kleinkind wat vars blomme neerlê op die boeregrafte in St Helena en die Bahamas, wat in sy geestesoog sien en voel hoe ‘n eenvoudige boerevolk dood, konsentrasiekampe en verbrande plase beleef het, ‘n droom geruïneer.

...



Ek is deel van al hierdie mense, en ek weet dat niemand my dit kan ontsê nie – ek maak aanspraak dat ek ‘n Afrikaan is!

 

Ter opsomming: erkenning van die waarde van elke individu; verantwoordelike optrede teenoor onsself en ons omgewing; verdraagsaamheid teenoor almal ongeag orientasie; bevordering van kreatiewe denke; agting vir godsdienstige pluralisme as positief; verbintenis tot ‘n demokratiese etos.

Degenaar, J (1980) Voortbestaan in Geregtigheid.  Tafelberg.

Statement by the Deputy President ...on the occasion of the adoption of the constitution...1996

 

 

BOK VAN BLERK SE ‘DE LA REY’

NHN-gesprek, 25 Februarie 2007

Danie Goosen

1. Merkers vir die debat

Ek dink nie die gesprek oor ‘De la Rey’ van Bok van Blerk gaan oor enigiets anders as oor die vraag na die wie en wat van die Afrikaner in ‘n toekomstige SA nie. As ‘De la Rey’ iets gedoen het, is dit om die belangrikheid van dié vraag opnuut ter sprake te bring. Maar om vandag saam sinvol hieroor te kan praat, sal ons so soepel as moontlik oor die begrip ‘Afrikaner’ moet wees.

Ons sal ou vooroordele oor die Afrikaners ter syde moet laat. Alhoewel die verlede gewis ‘n rol speel, het ons tans rondom die Afrikaner met nuwe vrae te doen, wat op nuwe wyse beantwoord moet word. As ons byvoorbeeld die gesprek sou belas met die beskuldiging dat dit ʼn nostalgie na apartheid verteenwoordig, vernietig ons reeds by voorbaat die gesprek. ‘Apartheid’ is reeds die groot sensureerder wat die openbare gesprek verlam. Ook wanneer ons die gesprek belas met die beskuldiging dat dit ʼn kontinuering van die ou verdelingslyne onder Afrikaners tussen regs en links is, verrinneweer ons nogmaals die gesprek. Dié verdeling is deur apartheid opgeroep. Ná apartheid het dit sy politiek-historiese betekenis verloor.

2. Uitgangspunte.

As ons praat oor Afrikaners en – nog belangriker – oor die toekoms van SA, moet ons ons vooroordele op die tafel lê. Slegs so kan ‘n eerlike gesprek moontlik wees.

Die belangrikste kultuur-politieke verdelingslyn vandag in die globale wêreld draai rondom die verskil tussen die demokratiese en die neo-liberale tradisies. In dié verskil word uiteenlopende antwoorde gegee op die vraag hoe ons menslikheid – ja ons universele  menslikheid – tot sy reg kan kom. Dié tradisie verskil daaroor.

Die demokratiese tradisie word gekenmerk deur die poging van lokale gemeenskappe om op ‘n deelnemende grondslag inspraak in hul eie geskiedenisse te verwerf. Ons menslikheid kom volgens die demokratiese tradisie in dié positiewe vryheid – die vryheid tot  deelname aan die gemeenskap - tot sy reg.

Die neo-liberale tradisie daarenteen vertrek vanuit die voorkeur vir die vryswewende individu en sy reg om sy lewe volgens sy eie voorkeure (en onafhanklik van die gemeenskap, onafhanklik van die geheel) in te rig. Volgens die neo-liberale tradisie lê ons menslikheid in dié negatiewe vryheid – vryheid van die gesag van andere - opgesluit. Anders geformuleer, as die demokrasie lewe waar deelnemende gemeenskappe bemagtig word, lewe die neo-liberale tradisie daar waar die keusevryheid van die individu gewaarborg word.

Terwyl die neo-liberale tradisie vandag breedweg deur die heersende globale politieke en ekonomiese magte ondersteun word, word die soeke na ‘n alternatiewe globalisering deur die demokratiese tradisie met sy sin vir selfstandige gemeenskappe gedra.

Alhoewel die verskil tussen die begrippe ‘demokraties’ en ‘neo-liberaal’ nie waterdig is nie (en ook nie behoort te wees nie), plaas ek klem op eersgenoemde, vir die demokratiese en deelnemende gemeenskapsidee. As ek dus ʼn oordeel oor SA fel, doen ek dit met dié bril op. Die norm waaraan ek SA beoordeel, is in watter mate hy die ruimte vir sy gemeenskappe skep om op ‘n demokraties-deelnemende grondslag inhoud aan hulself en – belangrik – deur hul deelname ook inhoud aan ‘n gemeenskaplike SA, te gee. ʼn SA sonder sy gemeenskappe is ʼn leë begrip, ʼn pure abstraksie sonder enige appèl. Maar ʼn SA wat in en deur sy gemeenskappe lewe, d.w.s. ʼn SA wat deur sy gemeenskappe beliggaam word, is ʼn SA wat ek kan omhels.

Ek is nie die enigste wat dié norm neerlê en SA daaraan meet nie. Luister maar na die uitsprake van ons swart landgenoot, Xolele Manchu. Dit stem feitlik verbatim met my eie oordeel ooreen.  (Of die kompromie tussen die ongebonde individu en die staat werklik so vreemd aan die liberale tradisie is, laat ek maar eers daar).

Dit is teen dié agtergrond – en met ‘n beroep op dié norm – dat Bok se lied verstaan moet word. Sy lied word m.i. gedra deur motiewe uit die demokratiese gemeenskapsidee. En vanuit dié perspektief sê dit dat SA nie daarin slaag om aan die norm te voldoen nie. Inteendeel, SA het onder leiding van veral Mbeki ‘n vreemde ideologiese kompromie tussen neo-liberale retoriek en ʼn rassisties gedrewe staatsentralisme geword. Volgens die diktate van dié kompromie is daar eenvoudig nie plek vir die sinvolle deelname van gemeenskappe nie. Alhoewel ‘De la Rey’ dit natuurlik nie in hierdie terme verwoord nie, is dit die onderliggende sentiment ten grondslag daarvan. 

3. Die agtergrond tot Bok se lied.

Wat is die historiese agtergrond? Bok se lied ontspring nie uit ‘n historiese lugleegte nie. Die historiese oorspronge daarvan lê by die simboliese, sistemiese en kriminele geweld waaraan gemeenskappe en veral die Afrikaanse wêreld onderwerp word.

Die oorweldigende steun onder Afrikaners vir ‘De la Rey’ (veral bloedjong Afrikanermans) wil daarom ook een enkele harde boodskap aan die heersende orde oordra: ons as demokratiese gemeenskap protesteer teen die simboliese, sistemiese en kriminele geweld waaraan ons onderwerp word. Anders geformuleer, as demokratiese gemeenskap dring ons daarop aan om as volle burgers van hierdie land erken te word.

As ek maar net drie voorbeelde uit die historiese konteks kan noem. Dit is voorbeelde van dié kragte wat die protes van ʼn ‘De la Rey’ oproep en moontlik maak. Ek verwys na die agenda van transformasie wat spesifiek vir duisende jong veral Afrikanermans baie direk raak; die kwessie van Afrikaans, sowel as die misdaad wat ons ervaar.

3.1. Transformasie

Waarskynlik bevraagteken niemand van ons die noodsaak van transformasie nie. En ek dink nie die De la Rey-generasie bevraagteken dit nie. (Terloops, toe Karin Zoid so in die nuus was, het Max du Preez graag van die Zoid-generasie gepraat. Maar nou verseg Max om, ten spyte van oorweldigende getuienis in hierdie verband, van die De la Rey-generasie te praat. Waarom? Omdat dit nie sy politieke vooroordele pas nie?).

Ten spyte van die sogenaamde wigte en teenwigte waarvan die F.W. de Klerk-regering destyds so baie gepraat het en wat inderdaad in die huidige grondwet vervat is, kom daar van dié balans weinig tereg. Die transformasie-agenda is ‘n bewys daarvan. As ‘n beleid vertoon dit totalitêre eienskappe en maak dit as sodanig ‘n bespotting van die beroep op wigte en teenwigte in die grondwet. In die opweeg van die noodsaak van transformasie teenoor die noodsaak om die veelheid te erken, weeg transformasie eenvoudig altyd weer die swaarste. Dit word die een enkele en hoogste norm waaraan alles en almal gemeet moet word. Vanaf sport en veral rugby tot en met die skole, die universiteite en selfs die kleinste maatskappytjie, letterlik alles, moet by sy voorskrifte inval. En weë die een wat beswaar aanteken, want hy word summier met die banvloek van die ‘rassisme’ geëtiketteer. Terwyl die ganse globale wêreld die reg op assosiasie erken, mag Afrikaners dit volgens die diktate van die transformasie-agenda nie doen nie. En wat is makliker as om hulle met die beskuldiging van rassisme die swye op te lê? Van F.W. de Klerk-hulle se belofte van wigte en teenwigte kom hier eenvoudig niks tereg nie.

Juis vanweë die totalitêre wyse waarop transformasie deurgevoer word, kan duisende jong Afrikaner-mans eenvoudig nie in die openbare en die private sektor werk kry nie. ‘n Jong, briljante en belowende akademikus kan net so min by Unisa aangestel word as wat ‘n kameel deur die oog van ‘n naald kan beur.

Uiteraard gee dit tot enorme spanning en frustrasie onder ons jongmense aanleiding. Bok se lied is ‘n direkte weerspieëling van hierdie spanning en frustrasie. As Bok iets doen, dan is dit om repliek te lewer op die verlies aan die wigte en teenwigte wat die grondwet belowe, maar wat in die praktyk ontbreek.

3.2. Die stand van Afrikaans aan ons skole

Ons verwys veral na die aktuele Ermelo-geval. Die grondwet steun op die balans wat gesoek word tussen die reg op algemene toegang tot ons skole en die reg op moedertaalonderrig. Uiteraard is dit nie altyd maklik om dié twee regte met mekaar te balanseer nie. Maar die huidige regering het wat die skole betref nog nie in een enkele geval – en dit strek nou oor enkele jare – die geringste moeite gedoen om dié balans na te jaag en in die konkrete praktyk effek daaraan te gee nie. Inteendeel, aangevuur deur die illusie van legitimiteit wat transformasie aan hom bied, het hy tot dusver met mag en mening – en ongeag watter mooi versekerings deur ons liberale grondwet gegee word – eenvoudig die beginsel van toeganklikheid ten koste van moedertaalonderrig ingestoomroller. Wat in Ermelo gebeur het, is ‘n skokkende bewys hiervan. Ten spyte van die oordeel van die regter het die minister eenvoudig daar ingegryp, die regbank hersaamgestel om haar politieke voorkeure te dien, en so vir alle praktiese doeleindes ‘n ander beslissing afgedwing. Hier is geensins sprake van F.W. de Klerk se wigte en teenwigte nie. Transformasie is die god van die sekulêre staat waarvoor almal moet buig (om nog ‘n teologisme kwyt te raak).

Uiteraard gee dit aanleiding tot enorme spanning onder Afrikaners. Bok se lied is ook ‘n weerspieëling van dié spanning. Dit vertolk op die vlak van sentiment ‘n weerstand teen die eensydigheid waarmee ons toestand hanteer word.

3.3. Misdaad en geweld

Dit het maar eers onlangs in die literatuur oor die misdaad en geweld duidelik geword dat dit nie slegs kategorieë van kriminaliteit is wat ons kan help om die toestand te begryp nie. Buiten dat ʼn mens ook kategorieë uit die militêre moet gebruik om ʼn presiese greep op die situasie te kry, is hier ook – en niemand sê dit nie - duidelike kultuur-politieke en in die besonder rassistiese sentimente aan die werk. Hoeveel moorde het die afgelope jare op ons plase en stede gepaard gegaan met sulke dreigemente soos ‘Ons gaan julle wittes uitroei’? Dit is nie sentimente wat in enige instelling geformaliseer is en aktief daardeur uitgedra word nie. Maar dit is werklike sentimente wat mense se optrede kleur, hul houding jeens die werklikheid stempel en hulle waarskynlik ook motiveer om geweld te pleeg.

Uiteraard gee dit tot enorme spanning ook onder Afrikaners aanleiding. Waarmee ek glad nie te kenne gee dat die geweld slegs die Afrikaners tref nie. Natuurlik nie. Maar dit is ook Afrikaners wat sien hoe hulle oupas en oumas, pa’s en ma’s, broers en susters op die mees wreedaardige wyse denkbaar op die plase en stede vermoor word. Om die sentimente te grondslag van Bok se lied te begryp, moet ʼn mens ook die geweld verreken. ‘De la Rey’ is ‘n weerspieëling van en ook ʼn repliek daarop.

3. 4. Enkele voorbehoude

Die postmoderne politieke teorie verstaan nie die logika en die dinamika van identiteit nie. In terme van my eie antropologie is mense per definisie gemeenskapswesens. En as sodanig ook politieke wesens, omdat die politieke nie sonder gemeenskappe kan wees nie. Om die waarheid te sê, ‘n mens kon dit in hierdie konteks dit ook wyer getrek het: Die mens as gemeenskap- en politieke wese is ook by uitstek ‘n religieuse wese. Daar waar gemeenskappe hulself mobiliseer, het ons ook met die religie te doen. Religie is nie in die eerste plek ‘n  epistemologiese, ‘n privaat-innerlike of ‘n morele kwessie nie. Religie het met die identiteite van sosiale en politieke groeperinge te doen. Maar dit nou daar gelaat.

Die idee dat die politiek sonder identiteite kan wees, is natuurlik die illusie van die liberale wêreld. Laasgenoemde gaan bykans sonder uitsondering uit van die idee dat die vryswewende of ongebonde individu die hoogste gegewe is. Maar daarmee stel dit sigself teoreties buite die politiek, omdat die dinamika van die politiek nie met die logika van vryswewende individue te doen het nie. Die enigste rede waarom die liberale wêreld hoegenaamd ʼn politieke krag is, is omdat hy in stryd met sy eie individualistiese uitgangspunte juis die energie van gemeenskappe ten gunste van sy anti-gemeenskapsoogmerke mobiliseer. In feite is die liberale tradisie ʼn anti-gemeenskapsgerigte gemeenskapsbeweging, of ʼn anti-politieke politieke beweging. Dit wat betref die aporieë van die liberale wêreld.

Om ‘De la Rey’ te begryp, moet ʼn mens verstaan dat ons hier met die logika en dinamika van identiteitsvorming en politieke mobilisering te doen het. Om dit te ontken, is om by die gegewe verby te stuur. En dit is iets wat die liberale wêreld vanweë sy diepe renons in gemeenskappe, identiteite en politiek gereeld doen. Hulle kan eenvoudig nie die feit van identiteitsvorming in die oë kyk nie. Volgens hulle is dit (veral iets soos ‘etnisiteit’) altyd weer iets primitief wat agterweë gelaat moet word. Die vraag m.i. is egter nie of ons dit moet ontken of nie ontken nie, maar eerder hoe ons daarop moet reageer. Dit is hier waar ek ʼn voorbehoud – en nie soos in die liberale tradisie ʼn radikale afwysing nie - wil formuleer.

Identiteitsvorming en politieke mobilisering is onvermydelik. Maar ek dink ook dat ons die proses van identiteitsvorming aan bepaalde norme kan onderwerp. En die norm waarop ons onsself met betrekking tot ‘De la Rey’ beroep, is die norm van demokratiese pluraliteit.

Laat ek dit so reguit as moontlik formuleer: As die De la Rey-generasie met Bok se lied na ʼn geslote opvatting van wie en wat die Afrikaner is strewe, moet dit aan ʼn kritiese oordeel onderwerp word. Afrikaners moet hulself definieer. Maar ek dink nie Afrikaners kan dit bekostig om hulself op ʼn uitsluitende wyse te definieer nie. En in aansluiting hierby: Afrikaners moet nie die verwagting van of hoop op ʼn groot leier skep wat hulle as gemeenskap soos ʼn held op ʼn wit perd moet kom red nie.

Die demokratiese gemeenskapsidee steun op die gedagte dat gemeenskappe (ook etniese of kultuur-gemeenskappe) verwikkelde, dinamiese en plurale verskynsels is. In die pluraliteit lê die voorwaarde vir hul eie skeppingsdrif vervat. Dit moet beskerm word.

Nog meer, die demokratiese gemeenskapsidee steun nie op die gedagte dat daar een almagtige leier moet wees (en ek dink nie genl De la Rey het hom as sodanig gesien nie) wat gehoorsaamheid van almal kan eis nie. Dit steun veel eerder op die idee dat handeling in en deur ʼn veelstemmige dialoog gestalte moet kry. Anders gestel, dit steun op die idee van ʼn federasie van stemme, ʼn eenheid van uiteenlopende standpunte, ʼn parlement van opinies. Juis daarvoor moet ons voorspraak maak.


Die Bybel in die skilderkuns van Vincent van Gogh

Hierdie aanbieding van Eben is ook gepubliseer in die South African Journal of Art History, Volume 21, Number 2, 2006. Eben het enkele eksemplare beskikbaar. Indien iemand belangstel om dit te bekom, kan so 'n persoon dit by hom aanvra.
 

DIE BYBEL IN DIE SKILDERKUNS VAN VINCENT VAN GOGH

 

Eben Scheffler[1]
Departement Ou Testament en Nabye Oosterse Studies
E-mail: schefeh@unisa.co.za

 

In hierdie artikel word ’n oorsig van Van Gogh se lewe gegee met die fokus op sy religieuse belewing en die die rol van die Bybel daarin. Aandag word gegee aan die verandering in sy godsdienstige belewing en denke.Van sy skilderye met ’n Bybelse tema word bespreek. Aandag word gegee aan Die aartappeleters, Stillewe met Bybel, die Piëta, die Engel, die Opwekking van Lasarus, Die Barmhartige Samaritaan, en die Kerk in Auvers.

Inleiding

Verskeie redes sou genoem kon word waarom dit sinvol sou wees om die rol van die Bybel in Vincent van Gogh se skilderkuns te ondersoek. Eerstens sou genoem kon word dat dit Bybelkundiges betaam om uit te klim uit die ghetto van hulle eie oënskynlik wetenskaplik-begrensde wêreld en te luister na en in gesprek te tree met mense in die wêreld van die kunste en letterkunde wat ook self ’n pad met die Bybel geloop het.[2] Tweedens sou die moontlikheid dan oorweeg kon word of sodanige dialoog nie Bybellesers se hermeneutiek sou kon beïnvloed of hulle oë moontlik sou kon open vir aspekte in en oor die Bybel wat as gevolg van die brille van hulle vasgelegde metodes, kerklike tradisie of dogmatiese vooroordele misgekyk word nie. Derdens het die tema ten opsigte van Vincent van Gogh ’n besondere sin omdat hyself predikantseun was, self predikant wou word, evangelis was en etlike skilderye met Bybelse temas nagelaat het. Volgens sy eie getuienis het hy ook in sy lewe die Bybel in diepte bestudeer, “meer as die gewone mens” (Brief uit Parys aan sy jonger suster, Wilhelmina, 1987, in Van Gogh1958c:426). Vierdens daag die feit dat daar in Van Gogh se relatief kort lewe ’n ingrypende verandering ten opsigte van sy skrifbeskouing ingetree het enige Bybelkundige, “ortodokse” of “tradisionele” Christen in ’n besondere sin uit. Kan mens, nadat jy Van Gogh se werk werklik waardeer het, die tradisionele beskouing oor die Bybel soos dit in deursnee Christelike kringe funksioneer steeds handhaaf? Om aan al hierdie sake reg te laat geskied, is ’n kort oorsig oor sy lewe nodig, met die klem op die aspekte wat vir die onderhawige tema belangrik is. Die “biografie” dien dus as konteks vir die bespreking van enkele skilderye met Bybelse temas wat daarna volg.

Van Gogh: (Bybels-) biografiese opmerkings

Vincent van Gogh is op 30 Maart 1853 te Zundert, Nederland, gebore, presies een jaar na sy doodgebore broer met dieselfde naam. Nie net sy naam nie, maar die feit dat hy elke Sondag op pad kerk toe by sy broer se graffie verby moes loop, het sekerlik ’n sombere invloed op sy lewe gehad, alhoewel die dimensies daarvan nooit gepeil kan word nie. Op 1 Mei 1857 is sy broer Theo gebore, met wie hy lewenslank ’n baie hegte verhouding gehad het. Sy meer as 600 briewe aan sy broer (en sommige aan ander) waarin hy homself eerlik en direk uitspreek, nie net oor sy eie kuns nie maar oor die lewe self, verskaf ’n onuitputlike goudmyn om Van Gogh en sy kunswerk binne konteks te kan verstaan. Iets waarvan ’n Bybelkundige wat Jesus van Nasaret se lewe probeer navors (vgl Schweitzer [1906] 1984) maar net kan droom.[3]

Na skool het Vincent sewe jaar in die kunshandel gewerk in ’n familiefirma, ’n groot deel van die tyd in London. Sy onverskrokke eerlikheid en ongebreidelde geneigdheid om die samelewing teen te gaan, het gemaak dat hy nie meer bereid was om slegs ter wille van die winsmotief skilderye wat hy as swak beskou het aan mense vir hoë bedrae geld te verkoop nie. Besigheid was derhalwe nie vir hom besigheid nie. In Engeland het hy, na die intense pyn van ’n liefdesteleurstelling, hom verdiep in die lees van die Bybel, Thomas à Kempis se Navolging van Christus en John Bunyan se The Pilgrins Progress (Buser 1989:41). Gedrewe deur die behoefte (wat hy sy lewe lank gehad het) om vir sy medemens iets te beteken, het hy besluit om teologie te studeer. Sy familie het alles gedoen om dit vir hom moontlik te maak, maar ten spyte van privaatonderrig het hy sy studie in die klassieke tale gestaak omdat hy nie kon insien hoekom dit noodsaaklik kon wees om mense in nood te help nie. Vir iemand wat naas Nederlands ook Engels, Frans en Duits magtig was, kon dit onmoontlik nie gewees het as gevolg van ’n gebrekkige verstand nie. Mens sou eerder tot die gevolgtrekking kon kom dat dit vir Van Gogh eerder gegaan het om die eksistensiële essensie van wat hy as die evangelie beskou het as die objektiewe wetenskaplike bestudering van die “verskriftuurliking” daarvan – hoe belangrik laasgenoemde dan ook vir sommige sou wees.

Evangelis in België

Van Gogh volg dus nou ’n alternatiewe weg. Hy ondergaan ’n drie-maandelange opleiding om evangelis te word in België. As gevolg van sy eiesinnigheid en sogenaamde gebrek aan onderdanigheid word hy afgekeur. Nogtans vertrek hy na die koolmyne van die Borinage in die suide van België waar hy toegelaat word om te werk vir ’n proeftydperk van ses maande. Soos sy pa was hy meer ’n pastor as ’n retoriese prediker en hy vind ingang onder die arm mynwerkers wat in haglike toestande leef. As hy egter preek is die saal vol.[4]

Iets van wat deur die “normale samelewing” beskou kon word as “eksentrieke” gedrag – wat ook later meermale in sy lewe sou manifesteer – kom nou na vore. Hy vereenselwig hom met die koolmynwerkers se lot deur selfs sy gesig met steenkoolroet swart te smeer sodat hy ook soos hulle kon lyk. Sy meer luukse losies by die plaaslike bakker gee hy prys om ook in ’n gewone koolmynhut te woon. Hy deel sy min geld uit en ook van sy klere. Hy gee selfs sy bed weg vir wie hy dink dit meer nodig het en slaap op strooi. Hy praat met die mynowerhede oor die lot van die werkers maar word telkens met ’n kluitjie in die riet weggestuur. Boonop tref ’n ramp die myn en ’n klomp mense sterf. Om alles te kroon besoek afgevaardiges van die kerk Vincent en ontslaan hom omdat hyself in sulke haglike en vir die kerk onbetaamlike toestande leef.

Vincent doen nou afstand van sy (vorige) geloof. Later (in 1914) sou sy skoonsuster Johanna Van Gogh-Bonger (in Van Gogh 1958a:XXIX) dit so uitdruk:

His illusion of bringing comfort and cheer into the miserable lives of the miners through the Gospel had gradually been lost in the bitter struggle between doubt and religion which took placce within him at that time, and which made him lose his former faith in God. (The Bible texts and religious reflections, which had become more and more rare in his last letters, stopped entirely.)

Irving Stone se gedramatiseerde weergawe in sy 1935-roman Lust for Life (verfilm onder dieselfde titel in 1958) is nie net belangrik met die oog op die empatiese verstaan van wat met Van Gogh gebeur het nie, maar gee ook ’n blik op hoe skrywers en nie-teoloë die gebeure rondom die verlies van geloof interpreteer – dikwels tot beskaming van teoloë wat die uitdaging moeilik hanteer en dikwels apologeties die “verloor van geloof” – soos ’n Jobsvriend – wil rasionaliseer.[5] Stone se beskrywing daag ook diegene uit wat reken dat die verligting van menslike lyding met die Bybel in die hand maklik geskied. Sy Vincent karakter kom tot die volgende gevolgtrekking:

It was clearly evident that he was of no more use to the miners... Not even God could help them. God had turned a stone deaf ear to the miners, and Vincent had not been able to soften him.

Then suddenly he realized something he had known for a long time. All this talk about God was childish evasion; desparate lies whispered by a frightened, lonely mortal to himself out in the cold, dark eternal night. There was no God. Just as simply as that, there was no God. There was only chaos; miserable, suffering, cruel, tortuous, blind, endless chaos (Stone 1935:72-73)

Alhoewel hy voorheen reeds sketse gemaak het, besluit Vincent nou dat skilderkuns sy loopbaan is. Sy vader wil dat hy terugkom Nederland toe, maar hy bly tussen die myners en begin hulle teken. In sy sketse probeer hy uitdrukking gee aan hulle lyding. Hy preek nie meer vir hulle nie, maar assosieer hom nog met hulle. Verder verdiep hy hom in die letterkunde, veral Franse skrywers soos Emil Zola. Zola se La joie de vivre (sien Zola 1896) het ’n wesenlike indruk op Van Gogh gemaak. ’n Kopie van die boek word deel van ’n skildery (sien hieronder) en Stone lei die titel van sy biografie, Lust for life, hiervan af. Volgens Van Gogh se eie getuienis het hierdie konfrontasie met skrywers wat die realistiese angs van die mensdom teken hom gehelp om te oorlewe.

Later gaan Vincent wel terug na sy ouers in Etten, Nederland. ’n Verdere liefdesterleurstelling (wanneer sy niggie Kee Vos-Stricker hom die deur wys) verdiep die pyn en lyding in sy eie lewe. Hy gaan voort om eenvoudige werkers te teken in hulle alledaagse sukkelende bestaan. Hy bots met sy vader oor sy eksentriese lewenshouding, sy byna boemlaarsbestaan.

In Den Haag

Vincent se lewe as kunstenaar sou vir die volgende tien jaar duur (tot sy dood op 27 Julie 1890, vgl Walther & Metzger 2001:706). Hy gaan na Den Haag (Januarie 1882) waar vele jong kunstenaars saamtrek en hoop om in kontak met hulle so te verbeter dat hy vir homself kan sorg. Hy maak ’n ooreenkoms met sy broer: Laasgenoemde steun hom finansieël in ruil vir die kunswerke, ’n reëling wat nie Vincent nie, ook nie Theo nie, maar sy broerskind (wat sy naam dra) skatryk sou maak. Sy behoefte vir liefde lei tot ’n verhouding met ’n prostituut (Clasina Maria Hoornik, met die noemnaam Sien) wat anderhalf jaar by hom bly. Aanvanklik beteken sy baie vir hom, sodat hy – volgens Stone (1934:167) – in sy ongeloof begin twyfel. Hy sê vir haar: “Sien, sometimes you almost perform a miracle. You almost make me belief there is a God!” Dit laat mens onwillekeurig dink aan die gesegde van Jesus volgens Matteus aangaande die hoere en tollenaars wat die Fariseërs voorgaan in die koninkryk van God (Mt 21:31).[6]

Gedurende hierdie tyd het Van Gogh se oom, Cor van Gogh, twaalf sketse by hom bestel en dit het voorgekom asof Vincent op die drempel gestaan het om sy werke te begin verkoop. Nodeloos om te sê word die laaste ses van die sketse gekanselleer omdat Vincent saamleef met ’n prostituut. Tersteeg, die voorheen simpatieke kunshandelaar by wie Vincent voorheen gewerk het in die sewe jaar tydperk na skool, kommunikeer ook reguit aan hom dat hy weier om enige werk van hom te verkoop as gevolg van sy gedrag. Vincent reageer “naiewelik” dat hy nie geweet het dat die kwaliteit van jou werk deur jou privaatlewe bepaal word nie.

Vincent se toelaag van Theo was te min vir sy kuns en die onderhoud van ’n gesin, sodat Vincent en Sien se weë op ’n vriendskaplike basis uiteengaan. Nietemin was dit vir hom uiters pynlik aangesien hy haar kinders as sy eie aanvaar het en verknog aan hulle geraak het.

 

In Nuenen

Weer eens gaan Vincent terug na sy ouerhuis, nou te Nuenen, noord van Eindhoven (Desember 1883) waar hy vir twee jaar sou bly. Beroemd is sy skildery van die kerk van Nuenen. Hy gaan egeter veral voort om die eenvoudige werkers op die lande te teken in hulle armoede. Sy eerste groot meesterwerk, die Aartappeleters, kom hier tot stand. Die skildery is aangrypend omdat dit ’n arm gesin wat vir ’n aandete aansit wat slegs uit aartappels bestaan, uitbeeld. Empatie met armes was egter nie destyds ’n lofwaardige waarde van die dag nie. Inteendeel, Vincent is meermale deur medekunstenaars gekritiseer oor die keuse van sy objekte met hulle “gepynigde gesigte”, om D J Opperman se woordkeuse te gebruik.

Asof die martelslae nie genoeg was nie beleef Vincent nou sy derde liefdesterleurstelling. Ironies genoeg is Margot, die buurdogter, nou die een wat die inisiatief neem, hom in die veld volg as hy skilder, en haar liefde aan hom verklaar. Vanweë sy groot behoefte aan liefde is hy bereid om met haar te trou. Haar familie bied egter grenslose weerstand wat trou onmoontlik maak en Margot tot ’n selfmoordpoging dryf. Gelukkig het sy herstel maar Vincent se kans op ’n huwelikslewe was daarmee heen. Intussen sterf sy vader skielik, moontlik aan ’n hartaanval of beroerte, en alhoewel nie beweer kan word dat Vincent die oorsaak daarvan was nie, geskied dit te midde van insense bekommernis oor hom.

In 1885, steeds in Nuenen skilder Van Gogh sy Stillewe met die Bybel waarnaas die roman van Zola, La Joie de Vivre (Die vreugde van die lewe) lê (in Engels vertaal deur Jean Stewart as Zest for life). Hierdie skildery moet verstaan word binne die konteks van Van Gogh se lewe op hierdie stadium (sien hieronder).

Verblyf in Paris

In Maart 1886 vetrek Van Gogh na sy broer Theo in Parys, koppiglik en in weerwil van laasgenoemde se aanvanklik weerstand. Ironies genoeg is die beskikbare inligting vir hierdie twee jaar tydperk (1886-1888) beperk aangesien die twee broers nou saamwoon en dus nie gekorrespondeer het nie.

Parys het die voordeel gehad dat Vincent nou (deels deur bemiddeling van sy broer as gevestigde kunshandelaar) kontak kon maak en vriendskappe kon sluit met ander kunstenaars soos Gaugin, Sauret, Henri Reasseau en Emil Bernard. Die impressioniste het sy werk positief beïnvloed, alhoewel hy sy unieke styl gehad het. Deels van die tragedie van Van Gogh se lewe was juis sy oorspronklikheid. In Nederland was hy te progressief. Die standaard van ’n goeie kunswerk was dat dit, soos die skilderye van Rembrandt, realisties moes wees. Sonder dat hy die term “impressionisme” geken het, het Van Gogh egter gevoel dat ’n skildery meer moes wees as ’n fotoweergawe van die werklikheid. Die innerlike van die getekene figure of natuurtonele moes deur die skilder geïnterpreteer word en tot uitdrukking kom. In Parys was dit aan die orde van die dag en Vincent se kollegas het beweer dat hy steeds te realisties skilder en nog nie gevorder het tot hulle vlak nie.

Arles in die suide

Van Gogh was iemand met ’n groot liefde vir die natuur en die stadslewe was na twee jaar vir hom te veel. Hy het selfs oorweeg om na Afrika te kom omdat hy gehunker het na die son. As kompromis vertrek hy in Februarie 1988 na Arles in die suide van Frankryk waar hy van sy pragtigste natuurwerke maak (bv Sterrnag en Die Oes (Junie 1988). Noodlottige gebeure het egter op hom gewag, wat des te meer tragies was omdat dit ’n uitvloeisel was van sy goeie bedoelings. Paul Gaugin, met wie hy vriende geword het in Parys, was in nood in Port Aven, Brittany. Van Gogh wil help en reël met sy broer Theo dat Gaugin na Arles kom om saam met van Gogh ’n kunstenaarskolonie te begin. Gaugin sou dan ook skilderye in ruil aan Theo lewer.

Ten spyte van Van Gogh se optimisme en byna buitensporige voorbereidings met die oog op Gaugin se koms, was die gesamentlike onderneming tot mislukking gedoem. Die twee kunstenaars kon nie saam onder een dak leef nie en tydens ’n woede-aanval (moontlik ook aangehelp deur die voortdurende geskilder in die velde om Arles sonder ’n hoed) sny Van Gogh sy een oor af op 23 Desember 1888, draai dit toe in ’n doek en gee dit aan ’n prostituut (met die naam Rachel) in die plaaslike bordeel. Gaugin het onmiddellik, sonder om Vincent te groet of in die hospitaal te besoek, teruggekeer na Parys.

Na sy verblyf in die hospitaal (sy skildery van die hospitaal se binnehof is van sy beste werk) keer Vincent (oënskynlik herstel) terug na sy huis. Net toe dit lyk of hy die skok kon oorleef en weer normaal lewe, slaan die noodlot weer toe. Hy moet nou die psigologiese vernedering verduur dat die plaaslike inwoners deur ’n petisie wil hê dat hy nie in die openbaar in die dorp mag rondbeweeg nie. Uiteraard word dit nie deur die dokter ondersteun nie. Vincent besluit egter uit vrye wil om na die sanatorium te vertrek in St Rémy, ongeveer 30 km noord van Arles (Saint-Paul de-Mausole, cf Boulon 2003). Sy gaan daarheen op 8 Mei 1989 is pastoraal gefasiliteer deur die plaaslike protestantse predikant (Salles) wat getrou aan Theo verslag gedoen het oor sy toestand.[7]

Saint-Rémy-de-Provence

Van Gogh bly ongeveer ’n jaar in St Rémy (tot Mei 1890) en word toegelaat om die inrigting te verlaat om natuurtonele in die omgewing te skilder. Hy kry egter met gereelde tussenposes aanvalle (waarskynlik epilepsie) waarvan hy telkens herstel. Sy skilderkuns is op hierdie stadium al wat hom help om sy siekte en depressie te oorleef. Die winter van 1889-1890 is egter vir hom baie moeilik omdat hy nie buite die inrigting kon beweeg nie. Soms is hy deur die direkteur verbied om te skilder omdat hy tydens ’n aanval van sy skilderverf probeer drink het. Ondanks sy aktiewe lewe as kunstenaar en oënskynlike fisiese herstel is die pyn in sy binneste klaarblyklik nooit gestil nie.

Beperk tot die grense van die sanatorium as gevolg van die winter, maak Van Gogh onder andere kopieë van skilderye van ander kunstenaars, veral Rembrandt, Eugene Delacroix en Millet. Van hierdie werke handel oor Bybelse temas wat opsigself uiters insiggewend is in die lig van sy voorneme in Nuenen om na sy Stillewe met die Bybel Bybese temas te vermy. Die kopieë is van die Pieta (na Delacroix), die Halffiguur van ’n Engel (na Rembrandt), die Opwekking van Lasarus (na Rembrandt), die Barmhartige Samaritaan (na Delacroix) en twee verdere weergawes van Die Saaier (Millet).[8] Hierdie skilderye is egter kunswerke in hulle eie reg (nie eksakte kopieë nie) en veral aangrypend omdat Van Gogh self die lydensfiguur in die middel is.

Die einde in Auvers-sur Oise

Die laaste deel van sy lewe bring Vincent deur in Auvers-sur Oise, ongeveer dertig kilometer noord van Parys. Intussen het sy broer getrou met Johanna Bonger, wat ’n sleutelrol sou speel in die bekenstelling van Van Gogh se werk en die publikasie van sy briewe. Fisies het dit aanvanklik goed gegaan in Auvers en hy maak vele skilderye van die omgewing. Die een van die plaaslike Rooms-Katolieke kerk geld as een van sy meesterwerke.

Toe sy broer self in finansiële moeilikheid raak en sy kleinnefie (ook Vincent wat later al die oorblywende skilderye sou erf wat nou in Amsterdam se Van Gogh museum te sien is), word dinge vir Van Gogh te veel. Hy skiet homself in die bors met die begeerte dat sy broer hom nou nie meer oor hom hoef te bekommer nie.

Hy sterf op 29 Julie 1890 op sewe en dertig jarige leeftyd. Vir Theo was Vincent se eie opoffering van sy lewe egter geen redding nie. Hy het homself as ’t ware doodgetreur en sterf self ses maande later op 33 jarige ouderdom.

Sy skildery van die plaaslike Rooms Katolieke kerkgebou was een van Van Gogh se meesterwerke wat hy in Auvers gemaak het. Dit is die gebou van dieselfde kerk wat nie wou toelaat dat Van Gogh in die plaaslike kerkhof begrawe word nie – omdat hy selfmoord gepleeg het. Hy is wel in die naburige dorpie Mery se kerkhof begrawe – sonder ’n kerkdiens. Later laat Joanna Bonger haar man Theo langs Vincent herbegrawe. Met die publikasie van Vincent se briewe jare later dra sy dit op aan die nagedagtenis aan Vincent en Theo met ’n aanhaling uit 2 Sam 1:23: “En in die dood was hulle nie geskei nie.”

 

Die Aartappeleters as Nagmaal

van Gogh

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die Aartappelseters. Nuenen in April 1885.
(Rijksmueseum, Vincent van Gogh, Amsterdam)

 

Die Aartappeleters word allerweë beskou as Van Gogh se eerste meesterwerk. Behalwe vir die kruisbeeld teen die muur (Nuenen is geleë in die Katolieke Brabant) reflekteer dit oënskynlik geen Bybelse motief nie. Geïnspireer deur Millet skilder Van Gogh egter in hierdie tyd arm werkers van die land “to convey old religious feelings in secular terms” (Pollock & Orton 1978:30). Sonder direkte verwysing na Genesis 3:17 (die mens verdien sy brood in die sweet van sy aangesig), sê Van Gogh self (brief 404) dat hy met die werk probeer het om te beklemtoon dat die mense wat die aartappels so in die lamplig eet, die aarde bewerk het met dieselfde hande wat hulle nou in die skottel met aartappels steek. Hulle het dus hulle voedsel eerlik verdien. Alhoewel Van Gogh na sy ervaring in België sy vroeëre “tradisionele” geloof (veral wat die kerlike en dogmatiese aspekte betref) afgesweer het, het sy empatie met armes en lydendes behoue gebly en deur sy kuns tot uitdrukking gekom. Pollock & Orton (1978:30) verwys ook na Van Gogh se voorliefde vir Rembrandt se “Supper at Emmaus” (1648. Louvre, Parys) “which commemorated the simple meal at which Christ, resurrected, revealed himself in a glow of light to two disciples”. In die Emmausverhaal (veral Lk 24:40-45) kry die gemeenskaplike maaltyd waar voedsel gedeel word (soos in Ha 2:46) ’n religieuse betekenis en is dit ’n beeld van die nagmaal. Op dieselfde wyse kan die aartappeleters (waarin die eenvoud en armoede van die karakters empatie wek) geïnterpreteer word as ’n sekulêre weergawe van die nagmaalmotief, maar gestroop van die direkte konvensionele religieuse konnotasies. Om soos Shapiro (1951:34) die tafel as altaar en die maal as sakrament te sien is egter oordrewe en ondermyn juis die sekulêre aard van die religieuse motief. Geloofwaardiger (in aggenome Van Gogh se gebruik van geel) is Scherer (1986:77) se “religieuse” siening van die lamplig as ’n teken van bo-aardse krag wat die die gesin ondersteun en saambind (vgl ook Wessels 2000:81).

Stillewe met die Bybel

van Gogh

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Stillewe met die Bybel. Nuenen in April 1885.
(Rijksmueseum, Vincent van Gogh, Amsterdam)

Op die skildery lê die die Bybel van Vincent se vader langs die werk van Emil Zola, La Joie de vivre. Van Gogh kontrasteer hiermee die Bybelse boodskap (die Bybel blyk oopgemaak te wees by Jesaja 53 wat handel oor die lydende Kneg) met Zola se roman. Na sy Borinage-ervaring het Van Gogh in opstand gekom teen die ortodokse Christendom soos deur sy predikantpa verteenwoordig. Hy ondervind onderskraging in die romans van die Franse naturaliste (Brief aan Wilhelmina, Van Gogh 1958c:426) wat volgens hom mens troos deurdat hulle die harde werklikheid van die lewe uitbeeld soos wat dit is. Die uitgedoofde kers langs die Bybel kan moontlik simbolies wees van die lig wat die Bybel nie meer gee in die moderne tyd nie, hoe grotesk “Die Boek” ook al mag wees. Die roman van Zola is kennelik deurgelees, soos uit die verwering van die boek op die skildery blyk. Dit het ook ’n geel kleur, wat in Van Gogh se werk liggewend (positief) is. Die skildery beeld dus die verandering van Van Gogh se siening ten opsigte van die Bybel uit.[9] Na hierdie skildery het Van Gogh ook hom voorgeneem om nie weer skilderye met direkte Bybelse temas te maak nie. Dit verander egter wanneer hy in Arles en in die sanatorium in St Rémy is.

Die Saaier

van Gogh

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die Saaier. Buitewyke van Arles in die agtergrond. Arles, September 1888.
(The Armand Hammer Museum of Art, Los Angeles)

Van Gogh gebruik vir die eerste keer ’n Bybelse motief (Mk 4:3-8,13-20,26-29; Mt 13:4-8,18-23,24-30,37-43) wanneer hy in Arles verskeie “Saaiers” skilder na aanleidng van Jean Francois Millet se Die Saaier (1850). Sund bespreek uitvoerig die invloed van Millet op van Gogh se werk (1988:660-664) en ook die religieuse motief van die Die Saaier. Van Gogh se belangstelling in Millet en laasgenoemde se kommunikasie van Bybelse motiewe deur middel van die skilderkuns kom al van Van Gogh se Londondae af toe hy nog self tradisioneel oor godsdiens gedink het. Hy het ook toe reeds sketse van die saaiermotief gemaak. Soos met Die Aartappeleters (en ook ander werke waar die skildering van die kleinboerlewe en die natuur religieuse motiewe uitbeeld) verloor Van Gogh na sy religieuse kentering nie sy bewondering vir Millet nie maar word juis deur hom geïnspireer. In ’n brief aan Theo (no 337) kontrasteer hy juis die religieuse wat hy by Millet beleef met tradisionele godsdiens (soos verteenwooordig deur sy predikantpa: “I see that Millet believed more and more firmly in ’Something on High’. He spoke of it in a way quite different than, for instance, Father does. He left it more vague, but for all that, I see more in Millet’s vagueness than in what Father says” (Van Gogh 1858:192).

Van Gogh se eerste Saaier op doek word gedoen in Junie 1888 na vier maande in Arles. Anders as in Millet se skildery, “the prominence of the sower is diminished by an expansion and enrichment of the surroundings….the labourer is overpowered by the vibrant sun and richly impastoed ground plane (Sund 1988:666). Die afdruk hierbo is Van Gogh se tweede Saaier (September 1888 en nie bespreek deur Sund nie) waarin die son nie meer direk te sien is nie en die buitewyke van Arles in die prentjie kom. Sou dit wees dat Van Gogh hier meer ’n harmonie tussen die stad en natuur uitbeeld? Of kontrasteer hy dit juis? Die kleure is meer somber (moontlik ’n skemertoneel) en alhoewel die landskap steeds die grootste deel van die skildery beslaan, is die figuur van die saaier prominent (eintlik uit proporsie) daarin.

Sund (1998:673) beweer myns insiens tereg dat Van Gogh se Koringlande met maaier met sonopkoms (geskilder in St Rémy in September 1889) Die Saaier komplementeer. Beide motiewe kom ook in die Bybelse gelykenis voor. Die saaier verteenwoordig die mens se pogings in hierdie lewe, die maaier is die dood en die oes die lewe hierna. In ’n brief aan Theo (brief 604, gedateer September 1989) is Van Gogh hier sy eie beste interpreteerder (1958c:202):

I am writing this letter little by little in the intervals when I am tired of painting. Work is going pretty well – I am struggling with a canvas begun some days before my indisposition, a “Reaper”; the study is all yellow, terribly thickly painted, but the subject was fine and simple. For I see in this reaper – a vague figure fighting like a devil in the midst of the heat to get to the end of his task – I see in him the image of death, in the sense that humanity might be the wheat he is reaping. So it is – if you like – the opposite of the sower I tried to do before. But there is nothing sad in this death, it goes its way in broad daylight with a sun flooding everything with a light of pure gold.

Kort daarna skryf hy (brief 607, 1958c:218):

Do you know what I think of pretty often, what I already said to you some time ago – that even if I did not succeed, all the same I thought that what I have worked at will be carried on. Not directly, but one isn’t alone in believing in things that are true. And what does it matter personally then! I feel so strongly that it is the same with people as it is with wheat, if you are not sown in the earth to germinate there, what does it matter? – in the end you are ground between the millstones to become bread. The difference between happiness and unhappiness! Both are necessary and useful, as well as death or disappearance … it is so relative – and life is the same. Even faced with an illness that breaks me up and frightens me, that belief is unshaken.

Volgens Guitteny (2004) “Vincent sows till the very end. His worn out head, where all passions of men jostle with each other, will know not a moment’s respite.”

Die Pietà in St-Rémy

van Gogh

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die Pietà in St-Rémy (na Delacroix). Saint-Rémy, September 1889.
(Rijksmuseum Vincent van Gogh, Amsterdam)

 

Van Gogh was eintlik gekant teen die direkte skildering van Bybelse tonele soos gedoen deur Delacroix en Rembrandt, alhoewel hy ’n bewonderaar van beide laasgenoemde se werk was. Soos Millet het hy geglo dat die maak van natuurtonele as sodanig ’n religeuse motief kan kommunikeer. Die kopieë wat hy dus van Rembrandt en Delacroix in Saint-Rémy maak is dus uitsonderings op die reël. Daar is verskeie redes wat dit verklaar. Van Gogh was die ses weke vantevore uiters siek en nie toegelaat om die sanatorium te verlaat nie. Tot sy kamer beperk wend hy hom nou tot die maak van afdrukke wat hy byderhand gehad het.[10]

’n Verdere rede hou verband met die tema van die werk. Van Gogh bevind hom nou in ’n situasie van intense mentale lyding en dit is asof hy verligting soek in Bybelse temas wat hiermee verband hou. Wat heel eerste opval van die Pietà is dat die dooie Christus in die arms van Maria Van Gogh self is. Dit self al gesuggereer dat die Mariafiguur sy moeder is, alhoewel dit nie so duidelik is nie. Waar Van Gogh vroeër in sy lewe ’n ywerige “sendeling“ was wat ander se lyding wou besweer, is hy nou self die die een wat ly. Die Pietà is “the (rather crude) encoding of Van Gogh’s own passion” (Walther & Metzger 2001:542). Oor die Pietà skryf hy op 19 September 1989 aan sy suster Wilhelmina (1958c:457):

The Delacroix is a “Pietà,” that is to say the dead Christ with the Mater Dolorosa. The exhausted corpse lies in the ground in the entrance of a cave, the hands held before it on the left side, and the woman is behind it. It is the evening after a thunderstorm, and that forlorn figure in blue clothes – the loose clothes are agitated by the wind – is sharply outlined against a sky in which violet clouds with golden edges are floating. She too stretches out her empty arms before her in a large gesture of despair, and one sees the good sturdy hands of a working woman. The shape of this figure with its streaming clothes is nearly as broad as it is high. And the face of the dead man is in the shadow – but the pale head of the woman stands out clearly against a cloud – a contrast which causes two heads to seem like one somber-hued flower and one pale flower, arranged I such a way as mutually to intensify their effect.[11]

Die halffiguur van ’n engel

Mens sou kon wonder hoekom Van Gogh hierdie etswerk van Rembrandt kopieer aangesien die motief van lyding nie prominent is nie. Die engel is ook ’n vroulike figuur sodat einige identifikasie met Van Gogh nie ter sprake is nie. Of hy sy moeder in gedagte gehad het berus ook slegs op bespiegeling. Soos die Mariafiguur in die Pietà is die figuur sowel as die agtergrond in ’n positiwe blou geteken. Buser (1989:47) merk op dat die engel se gesig “radiates like the sun or stars that [Van Gogh] painted.” In briewe aan Theo (601 en 602) noem Van Gogh die ets van Rembrandt “amazing” en “lovely” en behorende tot “a special category in which the portrait of a human being is transformed into something luminous and comforting”. Juis as iemand wat ly, sug en verlang Van Gogh na ’n beter bestaan soos verteenwoordig deur die engelfiguur.

van Gogh
Die halffiguur van ’n engel. Saint-Rémy, September 1889. (Lokaliteit onbekend)

Die opwekking van Lasarus

van Gogh

Die opwekking van Lasarus (na Rembrandt). Saint-Rémy, Mei 1890.

(Rijksmuseum, Vincent van Gogh, Amsterdam).

Hierdie (saam met die Barmhartige Samiritaan) is een van die laaste skilderye wat Van Gogh in die sanatorium van Saint-Rémy maak voordat hy op 14 Mei na die noorde terugkeer. Hy is toegelaat om te gaan omdat hy enigsens herstel het van sy siekte en die skildery gee uitdrukking aan hierdie herstel. Die Rembrandtskets beeld Johannes 11:1-44 uit, maar Van Gogh kontekstualiseer dit en maak dit op homself van toepassing. Die Lasarusfiguur het dus ’n Van Gogh-gesig. Die skildery handel dus oor genesing, en die geel van die son (die helende krag) oorheers die toneel. Die Christusfiguur is afwesig en word deur die son vervang, die simbool van stralende lewe soos dit ook in sy ander skilderye (bv die eerste saaier) funksioneer (Buser 1989:46). Hierdie “vervanging” van die Christusfiguur is sprekend van Van Gogh se verandering in religieuse denke van ’n ortodokse na ’n meer “panteïstiese godsdiens” waarin die natuur ’n groter rol speel. Die Christusfiguur word egter nie noodwendig heeltemal verdring nie want in die middel van die getekende son is die opgestane Christus moontlik sigbaar. Wessels (2001:106) se siening dat die son nie die Christusfiguur vervang nie maar simbolies daarvoor staan laat egter nie reg geskied aan nie religieuse opvattings van Van Gogh tydens die laaste deel van sy lewe nie. Dat Van Gogh egter nou (skaars drie maande voor sy dood) hom tot Bybelse tonele wend kan egter wel geïnterpreteer word as ’n soort “terugkeer“ of dialoog met sy vroeëre godsdienstige fase.[12] Oor hierdie werk (“of three figures which are in the background of the etching of ‘Lazarus’”) skryf Van Gogh (brief 632, 1958c:105):

…[the] three figures are … the dead man and his two sisters. The cave and the corpse are white-yellow-violet. The woman who takes the handkerchief away from the face of the resurrected man has a green dress and orange hair, the other has black hair and a gown of striped green and pink. In the background a countryside of blue hills, a yellow sunrise.[13]

Die barmhartige Samaritaan

In sy briewe gee Van Gogh geen beskrywing of interpretasie van Die barmhartige Samaritaan nie maar noem slegs dat “I have tried a copy of the ‘Good Samaritan’ by Delacroix.” (brief 632, 1958c:269). Buser (1989:47) haal Chetham (1976:193) aan: “...[being] the last copy of the Saint-Rémy period [it] depicted an event always meaningful in his life. The theme had haunted him. Usually he tried to save others, but in St. Rémy he understood that Theo was his salvation, and that he was the beaten and weakened man lovingly cared for by the good Samaritan.”

In die skildery word die Bybelse verhaal (soos met Die opwekking van Lasarus en Pietà) gekontekstualiseer in Van Gogh se lewe. Dit kan afgelei word nie net uit die feit dat Van Gogh die man is wat op die donkie getel word nie maar ook deur die gebruik van onstuimige kleure. Die kleure verteenwoordig glad nie die woestynlandskap van Palestina nie[14] maar die chaotiese wêreld waarin Van Gogh hom bevind. Chetham is egter myns insiens nie korrek aas hy Theo alleen tot die Samaritaan verklaar nie. Hiervoor kom meerdere mense in ag: naas Theo ook die dokter en predikant van Arles en die personeel van die sanatorium in Saint Rémy (vgl bv die medisynekissie links op die skildery).

Die skildery is aangrypend en verteenwoordig die volle spektrum van Van Gogh se religieuse ervaring oor sy lewe as geheel.

van Gogh
Die barmhartige Samaritaan (na Delacroix). Saint-Rémy, Mei 1890.
(Rijksmuseum Kröller-Müller, Otterlo)

Kerk in Auvers sur Oise

van Gogh

Kerk in Auvers sur Oise. Auvers, Junie 1890.

Hierdie skildery van die plaaslike Rooms Katolieke Kerk handel nie oor ’n Bybelse tema nie (kerkgeboue het nie bestaan in die Bybelse tyd nie) maar word wel kortliks hier genoem vanweëe die moontlike belang daarvan vir Van Gogh se religieuse ontwikkeling. Indien hierdie skildery vergelyk word met die een van die Kerk te Nuenen is die helder kleure wat hier gebruik word opvallend. Die kerk is as’t ware in goud gehul (die lewegewende kleur van die son) en vorm ‘n eenheid met die natuur (anders as in Sterrenag waar – in kontras met die omringende geboue – geen lig in die kerk is nie). Sou Van Gogh se moontlike “terugkeer” na Bybelse temas ook uitdrukking vind in ’n meer positiewe siening van die kerk? Indien dit so was is dit uiters ironies en tragies want die ampsdraers van die einste kerk wat Van Gogh so positief geskilder het, het nie alleen geweier (vanweë sy selfmoord) dat hy in die kerkhof begrawe word nie, maar wou ook nie ’n lykswa vir die begrafnis tot beskikking stel nie. Omring deur nabye familie en vriende is Van Gogh sonder ’n erediens begrawe ....

Gevolgtrekking

Verskeie op of aanmerkings sou gemaak kon word oor die relevansie van Vincent van Gogh se kuns vir Bybelinterpretasie. Hier gaan die ook nie slegs oor sy skilderye nie, maar ook oor sy skryfkuns, naamlik sy briewe.

(1) Van Gogh het in ’n brief aan sy jonger suster Wilhelmina beweer dat hyself, meer as die gewone mens, die Bybel in diepte bestudeer het. Volgens hom gee die Bybel egter nie finale antwoorde op lyding nie. Nie die boek Job nie en selfs ook nie die Jesusverhaal nie. Hy beveel sy suster aan om wyd te lees en waar te neem (Van Gogh 1958c:425-426).

(2) Uit Van Gogh se verhaal kan ons aflei dat tradisionele Bybelkundiges en Bybellesers dalk ernstig moet besin oor hulle Skrifbeskouing. Die Bybel is nie ’n myn wat die goue antwoorde verskaf wat vergoed vir die lyding, pyn en dillemma van die menslike bestaan nie. Om dit van die Bybel te verwag is om ateïste te skep.

(3) Volgens Van Gogh is die Franse letterkundige meesterwerke van byvoorbeeld De Goncourt en Zola relevant want “they paint life as they feel it themselves, and thus they satisfy the need we all feel of being told the truth” (1958c:426). Boeke uit die verlede of die toekoms “concern us only indirectly”. Die Bybel kan egter wel gelees word as ’n boek of boeke met uiteenlopende uitbeeldings en pogings om die lyding en pyn en sinloosheid van die lewe te analiseer, oor te reflekteer en te probeer hanteer. Die Bybel gee dus nie finale antwoorde nie maar is ’n refleksie van die gebrokenheid van die lewe en help om dit te diagnoseer. So ’n werklikheidsgetroue of realistiese omgang met die Bybel hef nie lyding op nie, maar kan moontlik help om dit te verduur.

Laastens, maar nie die minste nie, is dit moontlik gepas vir alle betrokkenes by die Bybel (Bybelkundiges, teoloë, predikante en gewone Bybellesers) om van hulle Jobstroosterrol af te sien en tog ’n keer eksistensieel in verwondering sprakeloos te staan voor die lewe met sy skoonheid en lyding. As mens niks te sê het nie moet mens dit soms sê. Vincent van Gogh het D J Opperman (1947:83) tot die volgende gedig geïnspireer:

 

Vincent van Gogh

Jy het as ’n miskende
heilige vergeefs geveg teen die ellende
en die onreg in die krotte van die myn,
in agterbuurte en op landerye; slegs die pyn
en skriklike stryd van God
leer ken, wat mens en boom verknot
in Sy kramptrekke; maar eers toe jy die koringgerwe
in aanbidding van die son kon verwe,
boere, wasvrouens en gepynigde gesigte,
die kantelende landskap in die snelle ligte
geel en groen en blou – alles met koorsige gevlek
tot branding van die skone kon verwek,
toe is Sy hartstog eers in jou volbring
soos groen sipresse tot ’n vlam verwring.

Bibliografie

Boulon, J M 2003. Vincent van Gogh in Saint-Paul de-Mausole. St Remy: Association Saint-Paul-de-Mausole.
Buser, T 1989. Van Gogh as a religious artist. Gazette des Beaux-Arts 114, 41-50.
Chetham, C 1973. The role of Van Gogh’s copies in the development of his art. New York: Garland.
Guitteny, M 2004. Van Gogh in Provence. Monaco: Ajax Monaco.
Opperman, D J 1947. Heilige Beeste. Kaapstad: Nasionale Pers.
Pollock, G & Orton, F 1978. Vincent van Gogh: Artist of his time. Oxford: Phaodon.
Renan, E 1991. The life of Jesus. New York: Prometheus Books.
Scherer, S 1986. Religöse Motive im Bildwerk Vincent van Goghs. Wisenschaftliche Prüfungsarbeit, Landau.
Schweitzer, A [1906] 1984. Geschichte der Leben-Jesu-Forschung. Tübingen: Mohr Siebeck..
Shapiro, M 1951. Vincent van Gogh. London: SCM.
Stone, I 1935. Lust for life: A life of Vincent van Gogh. London: The Bodley Head.
Van Gogh, Vincent 1958a. The complete letters of Vincent van Gogh with reproductions of all the drawings in the correspondence. Vol 1. London: Thames and Hudson.
Van Gogh, Vincent 1958b. The complete letters of Vincent van Gogh with reproductions of all the drawings in the correspondence. Vol 2. London: Thames and Hudson.
Van Gogh, Vincent 1958c. The complete letters of Vincent van Gogh with reproductions of all the drawings in the correspondence. Vol 3. London: Thames and Hudson.
Sund, J 1988. The sower and the sheaf: Biblical metaphor in the art of Vincent van Gogh. The Art Bulletin 10, 660-676.
Walther, I F & Metzger R 2001. Vincent van Gogh: The complete paintings. Köln: Taschen.
Wessels, Anton 2000. ’A kind of Bible’: Vincent van Gogh as evangelist. London: SCM Press.
Zola, E 1896. La Joie de vivre. Paris: Charpentier.

1 Ek skryf as ’n Bybelkundige met ’n besondere belangstelling in die skilderkuns van Van Gogh, sowel as sy lewe. In Van Gogh se lewe het beide skilderkuns en ’n buitengewone belangstelling in die Bybel ’n ingrypende rol gespeel.

2 Hiermee word geensins geïmpliseer dat die kunste net relevant is vir Bybelkundiges indien dit oor die Bybel gaan nie. Inteendeel, myns insiens moet die kunste juis ook Bybelbelangstellendes (of godsdienstiges) interesseer wanneer die temas (oënskynlik) niks met die Bybel te make het nie.

3 Wat die historiese Jesus betref was Van Gogh geen oningeligte nie. Ernest Renan se La vie de Jésus (gepubliseer in1863,vgl Renan 1991) was een van sy gunstelingwerke (Brief aan suster Wilhelmina, 10 April 1989, in Van Gogh 1958c:451).

4 Dit laat mens onwillekeurig dink aan Luther se opmerking dat wie preek meer effek het as wat gepreek word.

5 Wessels (2000) se andersinds lesenswaardige boek verraai (selfs in die titel) myns insiens die behoefte om ’n kontinuiteit in Van Gogh se religieuse belewenis te sien, eerder as ’n breuk. Volgens Wessels was Van Gogh na sy Borinage-ervaring steeds ’n evangelis, slegs sy metode (nou die visuele kuns pleks van die woord) het verander. Alhoewel steeds religieus, het Van Gogh se siening inherent verander, nie van teïsme na ateïme nie, maar eerder na panteïsme (alhoewel ’n ongewalifiseerde etikettering gevaarlik is).

6 Van Gogh skryf inderdaad aan Theo (1958b:148): “Oh, Theo, if she hadn’t had any family, she would have behaved so much better. Women of her kind are certainly bad, but in the first place they are infinitely – oh, infinitely more to be pitied than condemned; and in the second place they have a certain passion, a certain warmth, which is so truely human that the virtuous people might take them as an example, and I for my part understand Jesus’s words when He said to the superficially civilized, the repectable people of his time, ‘The harlots go into the Kingdom of God before you.’

7 Stone (1935) rep geen word van die predikant nie en skryf die ondersteunig slegs aan die dokter toe. Dit kan moontlik toegeskryf word aan Stone se “ateïstiese” interpretasie van Van Gogh.

8 In Arles het Van Gogh reeds minstens vyf Saaiers geskilder.

9 Wessels (2000:135) gee ’n ander interpretasie: die Bybel word nie met Zola se boek gekontrasteer nie maar Zola vertel die verhaal van Jesaja 53 in moderne idioom. Dit kan verklaar word in terme van Wessels se siening dat daar nie ’n ingrypende verandering in Van Gogh se denke ten opsigte van godsdiens was nie.

10 Hy het met die Pietà begin omdat die afdruk van Delacroix kort tevore in sy verf geval het.

11 Van Gogh wys nie in die brief sy identifikasie met die Christusfiguur uit nie – moontlik omdat dit ooglopend is.

12 Volgens Buser (1989:47) “Van Gogh would have also understood Lazarus as a traditional type of the general resurrection from the dead and the hope of an afterlife”. Buser is waarskynlik korrek (in die lig van Van Gogh se interpretasie van Sterrenag en Die Maaier), alhoewel Van Gogh dit nie in ’n ortodokse sin sou bedoel nie.

13 Weer eens rep Van Gogh geen woord van sy eie identifikasie met die dooie Lazarus nie. Ook nie oor die afwesigheid van die Christusfiguur nie.

14 Omdat hy Renan (1991) se boek oor die historiese Jesus gelees het kon Van Gogh onmoontlik oningelig gewees het oor die landskap van Palestina. Die inligting is duidelik gereflekteer in Renan se boek.

 

Die tradisionele Christelike mensbeskouing

Sakkie Spangenberg
21 Januarie 2007

“It is time to move Christianity beyond that historically inaccurate and psychologically damaging definition of humanity that has resulted in a constant denigration of human life as helpless, depraved, sinful, and in need of divine rescue.” (John Shelby Spong)

1          Augustinus die grondlegger

Wanneer ons oor die tradisionele Christelike mensbeskouing praat, kan ons nie anders as om kennis te neem van die sienings van Augustinus (354–430) nie. Hierdie kerkvader se lees en verstaan van Genesis 1–3 vorm die grondslag van die tradisionele Christelike mensbeskouing. Volgens hom het God aanvanklik 'n perfekte wêreld geskep. Binne hierdie perfekte wêreld was die mens die toppunt of kroon. Die mens is immers laaste geskep (Gen 1:26–27) en het die opdrag gekry om oor alles te heers (Gen 1:28). Wat die mens (man en vrou) verder besonders maak, is die feit dat God hulle "na sy beeld" geskep het. Mense is dus afbeeldings van God. Volgens die tradisionele Christelike mensbeskouing (gebasser op die lees van Genesis 1) is die mens:

  • die kroon of die belangrikste entiteit in die skepping;
  • heerser (koning) oor alles op aarde;
  • 'n afbeelding van God.

Hiermee word heelwat positiewe dinge oor die mens gesê. Kyk ons egter na mense dan blyk dit dat daar êrens fout moes gegaan het. Mense doen allerlei bose dinge. Hulle vertoon nie meer ondubbelsinnig God se beeld nie. Waar het die fout ingesluip? Die fout het ingesluip toe die eerste man en vrou die duiwel vatkans in hulle lewe gegee het. Ons lees hiervan in Genesis 2–3. God het aan die mens 'n proefgebod gegee. Hy wou hulle lojaliteit as ’t ware toets. Hulle kon van alle bome se vrugte in die tuin van Eden eet behalwe die boom wat in die middel van die tuin gestaan het. Indien hulle eendag daarvan sou eet, sou hulle sterf. Ons ken die verhaal en die afloop daarvan — of liewer ons ken Augustinus se vertolking van die verhaal. Volgens hom was Adam en Eva ongehoorsaam aan God en dit het ernstige gevolge ingehou. Dit het nie alleen hulle verhouding met God versteur nie — hulle was ook die beeld van God kwyt. Hulle was nou sondaars wat van toe af sondige kinders voortgebring het. Alle mense erf nou 'n sondige natuur van hulle voorouers. Hulle is immers besmet met die "virus" bekend as die erfsonde. Guido de Bres verwoord hierdie gedagte soos volg in artikel 15 van die Nederlandse Geloofsbelydenis  (opgestel in 1561):

Ons glo dat deur die ongehoorsaamheid van Adam die erfsonde uitgebrei het oor die ganse menslike geslag. Dit is ’n verdorwenheid van die hele natuur en ’n erflike gebrek waarmee die klein kinders selfs in die moederskoot besmet is en wat in die mens allerhande sondes voortbring, omdat dit in hom soos ’n wortel daarvan is; dit is daarom so lelik en gruwelik voor God dat dit genoegsaam is om die menslike geslag te verdoem. Ook word dit selfs deur die doop nie geheel en al uitgeroei nie ....

Hier is die Heidelbergse Kategismus (opgestel in 1563) se verwoording daarvan:

Vraag 7: Waar kom hierdie verdorwe aard van die mens dan vandaan?

Antwoord: Uit die val en ongehoorsaamheid van ons eerste voorouers, Adam en Eva, in die paradys, waar ons natuur so bederwe is dat ons almal in sonde ontvang en gebore word.

Die Dordtse Sinode (1618–1619) bespreek hierdie kwessie in die derde leerstuk:

Die mens is van die begin af na die beeld van God geskape, versierd in sy verstand met ware en salige kennis van sy Skepper en van ander geestelike sake; in sy wil en sy hart met geregtigheid en in al sy geneenthede met suiwerheid; sodat hy dus heeltemal heilig was. Maar toe hy deur die ingewing van die duiwel en deur sy eie vrye wil van God afgewyk het, het hy homself van hierdie uitnemende gawes beroof; en hy het daarenteen in die plek daarvan oor homself gebring blindheid, verskriklike duisternis, ydelheid en verkeerdheid van oordeel in sy verstand; boosheid, wederspannigheid en hardheid in sy wil en sy hart, sowel as onsuiwerheid in al sy geneenthede.

Net soos die mens ná die val gewees het, was ook die kinders wat hy voortgebring het: hy het as verdorwene verdorwe kinders voortgebring; sodat die verdorwenheid, volgens die regverdige oordeel van God, van Adam op al sy nakomelinge — Christus alleen uitgesonderd — oorgegaan het, nie deur navolging soos eertyds die Pelagiane beweer het nie, maar deur voortplanting van die verdorwe natuur.

Volgens Phlip Theron (2005:578) het die kerk met die leerstuk van die erfsonde slegs maar Paulus nagepraat. “Op die vraag ‘sê wie?’, het Augustinus, die Reformatore, en die kerklike belydenis, op grond van God se openbaring van Homself en onsself in die Gekruisigde, geantwoord: God sê so” (Therron 2005:578). Hy hou geensins rekening met die feit dat Augustinus, die Reformatore en vele ander latere teoloë Genesis 1–3 en Paulus se uitsprake in Romeine 5–8 verkeerd gelees en geïnterpreteer het nie.

2          Pelagius en Julian van Ecclanum

Aldrie die bostaande gereformeerde belydenisskrifte volg die sienings van Augustinus klakkeloos na. Pelagius, 'n Britse teoloog en tydgenoot van Augustinus, het sy sienings egter teengestaan en beklemtoon dat daar nie iets soos erfsonde bestaan nie. Babas word nie as sondaars gebore nie, maar hulle doen uit vrye wil die verkeerde wanneer hulle groter word, het hy betoog. Vandag weet ons dat Pelagius se siening meer in lyn is met hoe die Bybel sonde voorhou. In die woorde van Cas Labuschagne: "In de bijbelse zondeleer staat centraal dat de mens niet zondigt door wat hij krachtens zijn geboorte is, maar door wat hij tijdens zijn leven doet, door de (foute) keuzes die hij maakt" (1994:129). Vergelyk ook Cees den Heyer se uitspraak: "In de oudtestamentisch-joodse traditie doet de mens zonde, terwijl in de christelijke traditie de gedachte van erfzonde ertoe heeft geleid dat de mens van nature een zondaar is" (2003:238).

In die jaar 415 het 'n hewige teologiese stryd oor die kwessie van erfsonde uitgebreek. Dit was duidelik dat die Christendom in twee kampe verdeel was: Augustiniane teenoor Pelagiane. Augustinus se sienings het triomfeer en Pelagius en sy volgelinge is by twee sinodes in Noord-Afrika veroordeel. Dis deels te verstane, want Augustinus was biskop in Noord-Afrika en het sy invloed deeglik laat geld. Maar dit was nie die einde nie. Op 'n stadium het daar onrus in Rome uitgebreek tussen die voorstanders van die siening van Augustinus en voorstanders van die siening van Pelagius. Keiser Honorius het in 'n edik die Pelagiane veroordeel en hulle Rome belet (April 418). Soos voorheen (onthou keiser Konstantyn en die belydenis van Nicea) was dit 'n Romeinse keiser wat tussenbeide getree en 'n teologiese dispuut in die Christendom beëindig het.

Maar dit was nie net Pelagius wat Augustinus se sienings bestry het nie, daar was ook die Italiaanse biskop Julian van Ecclanum. Hy het Augustinus daarop gewys dat sy standpunt benede peil is. Richard Sorabji is van mening dat Pelagius en Julian van Ecclanum die filosofiese argument gewen het, maar Augustinus die politieke een. Hy vervolg verder en sê dan: “If Pelagius had prevailed on this [seksuele begeerte is nie sondig nie] and more generally on original sin, a British theologian would have been at the centre of western theology, and western attitudes to sexuality, and to much else besides, might have been very different” (aangehaal in Freeman 2003:416).

3           Die sondeval se gevolge

Uit die voorafgaande behoort dit duidelik te wees dat die tradisionele Christelike mensbeskouing wel positiewe elemente bevat, maar dat die positiewe elemente ondermyn word deur wat oor die sondeval geglo word. Mense is na die sondeval:

  • God se beeld kwyt vanweë Adam en Eva se ongehoorsaamheid;
  • vir ewig van God afgesny en woon "oos van Eden";
  • besmet met sonde en dra deur die seksdaad hierdie smet aan hulle kinders oor;
  • strafwaardig en leef onder God se permanente oordeel — daarom gee vroue swaar geboorte, moet mans hard werk, en sterf almal.

In die tradisionele Christelike mensbeskouing word voorts uiters negatief na vroue gekyk. Hulle is na regte slegter mense as mans. Eva was immers verantwoordelik dat Adam in sonde geval het. Klaarblyklik is Augustinus deur die volgende woorde van Jesus Sirag (’n apokriewe wysheidsgeskrif uit die jaar 180 vC) beïnvloed: “Deur ’n vrou het die ongeregtigheid begin, en omrede van haar moet elkeen van ons sterwe” (Sirag 24:33 [25:24]). Augustinus het die idee dat erfsonde via die seksdaad oorgedra word in die Christendom ingedra. Hy het selfs so ver gegaan deur te sê dat seksuele begeerte (libido) as sodanig sondig is. Jesus moes daarom uit 'n maagd gebore word sodat sy nie seksuele begeerte beleef nie. Voorts het Maria sonder geboortepyne geboorte gegee, want geboortepyne hang saam met God se straf op Eva se ongehoorsaamheid. Dit is van die redes waarom die Katolieke Kerk so ’n hoë agting vir Maria het.

Christene wat die tradisionele dogmas aanhang, sal egter onmiddellik daarop wys dat Jesus met sy kruisdood al die negatiewe gevolge van die sondeval omgekeer het. Hy is sonder erfsonde gebore, want hy is nie op 'n normale manier verwek nie. Daar was nie ’n manlike spermsel wat ’n vroulike eiersel bevrug het nie. Jesus sterf aan die kruis en dra God se oordeel op die sondes (van Adam tot die laaste mens wat op aarde gebore gaan word). Die kruis dien as ‘t ware as die weerligafleier vir God se woede. Jesus oorwin die dood en maak so die straf ongedaan. Hy staan op uit die graf en triomfeer oor die dood. Wie sy verlossing aanvaar, staan nie meer onder God se oordeel nie. Hulle word deur die Gees vernuwe om nuwe mense te wees. Al die “nuwe mense” behoort deel van die Kerk te wees. Die Kerk is “te vroeg vir die hemel en te laat vir die aarde” (Theron 1978:97). Die nuwe moet nog finaal aanbreek, daarom is Christene en die Kerk nie perfek nie en sien ons nog nie die nuwe skepping nie. Eers met die terugkeer van Jesus sal hy alles nuut maak. Daarom sing Afrikaanssprekende Christene van die gereformeerde tradisie: “Ek sien ’n nuwe hemel kom, ’n aarde nuut en vry” (Lied 602 in Liedboek van die Kerk).

4          Redding en dankbaarheid

Die tradisionele Christelike mensbeskouing (in sy gereformeerde baadjie) gaan egter verder. Dit beklemtoon dat diegene wat aanvaar dat Jesus namens hulle God se straf aan die kruis gedra het, uit dankbaarheid volgens God se wil behoort te leef. Wat is God se wil? Dat ons Hom moet liefhê en ons naaste soos onsself. Dit word duideliker uitgespel in die Tiengebooie (Eks 20 & Deut 5). Johan Heyns stel dit soos volg: “En die pelgrimerende mens deur die hede op weg na die toekoms — wat doen hy eintlik op sy weg? Hy rig tekens op van die naderende toekoms, d.w.s. tekens van die koninkryk wat in sy heerlikheid en ryke volheid verwesenlik word” (1974:177).

Uit die Tiengebooie leer Christene om hulle ouers te gehoorsaam en hulle dus aan gesag te onderwerp. Skoolkinders moet onderwysers en die skoolhoof respekteer en erken as gesagdraers oor hulle. Christene behoort as die burgers van ’n land nie aan revolusies deel te neem nie, maar die owerheid te erken as gesagdraer van God. Vroue moet hulle in gehoorsaamheid aan hulle mans onderwerp, want sê die Bybel: “Adam is eerste gemaak en daarna Eva”.

  • Die gevolge van hierdie mensbeeld

 

Wanneer ’n mens oor alles wat hier geskryf is nadink, kan jy nie anders nie as om te vra: Watter effek het hierdie mensbeskouing op jouself en ander Christene gehad, en watter effek het dit steeds op Christene wat die tradisionele sienings huldig? Ek lys ’n paar vrae:

  • Red God slegs diegene wat Jesus as verlosser aanvaar en is hulle die uitverkorenes en die res van die mensdom gedoem tot die hel? Watter effek het hierdie beskouing op Christene se menseverhoudings?
  • Is die Christelike mensbeskouing die enigste ware en korrekte een? Wat doen ons met ander mensbeskouings en ander godsdienstige tradisies?
  • Gaan daar werklik ‘n nuwe hemel en ’n nuwe aarde kom? Watter effek het hierdie soort toekomsverwagting op Christene se omgang met die aarde?
  • Word babas “in sonde ontvang en gebore”? Het hierdie soort kyk op jou eie kind jou verhouding met hom/haar beïnvloed?
  • Is die dood God se straf en moet ons daarvoor in vrees leef?
  • Is homoseksualiteit die gevolg van die sondeval?
  • Is seksuele drange sondig en behoort die seksdaad net beoefen te word om kinders te verwek? Is seks as rekreasie sonde?
  • Hoekom het blanke vroue eers in 1930 in Suid-Afrika stemreg verkry? Was vroue slegter burgers as mans?
  • Hoekom is vroue eers laat in die tagtigerjare van die vorige eeu tot kerkampte toegelaat?
  • Is hierdie aarde en alle plant- en dierespesies vervloek en toon hulle tekens van die sondeval? Wat behoort ons verhouding met alle lewende dinge te wees?

Bibliografie

Den Heyer, C J 2003. Van Jezus naar christendom: de ontwikkleing van teks tot dogma. Zoetermeer: Meinema.

Freeman C 2003. The Closing of the Western Mind: The Rise of Faith and the Fall of Reason. London: Pimlico.

Heyns, J A 1974. Die Mens: Bybelse en Buite-Bybelse Mensbeskouinge. Bloemfontein: Sacum.

Hunt, J 2004. Bringing God Back to Earth: Confessions of a Christian Publisher. Winchester: O Books.

Labuschagne, C J 1994. Zin en onzin over God: Een kritische beschouwing van gangbare godsvoorstellingen. Zoetermeer: Boekencentrum.

Liedboek van die Kerk 2001. Wellington: NG Kerk-Uitgewers.

Spangenberg, I J J 2007. Can a major religion change? Reading Genesis 1–3 in the Twenty-First Century. Old Testament Essays (verskyn later vanjaar).

Theron, P F 1978. Die ekklesia as kosmies-eskatologiese teken. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Theron, P F 2005. In sonde ontvang en gebore, sê wie? Ned Geref Teol Tydskrif 46, 576–586


Eietydse lewensgeluk

Daleen van Zyl
15 Apr 2007

Inleiding

Die fokus val vandag op die beskouing van lewensgeluk vanuit die sielkunde, en meer spesifiek, vanuit die positiewe sielkunde. Ek glo baie sal wat vertel, bevestig wat julle reeds weet. Maar dis vir my gaaf dat iemand seker gemaak het van die feite (die navorsers). En dan is dit waardevol as ‘n mens feite het om mee te werk(en nie net instink / intuïsie nie), asook ‘n konstruktiewe fokus in die heroorweging van jou lewe en keuses.

Die primere fokus in hierdie gsprek val op Seligman se boek: Authentic happiness. Ander bydraes waarop ek fokus is die werk van Mihaly Csikszentmihalyi en Jonathan Haidt.

Agtergrond:

Positewe sielkunde is ‘n relatief nuwe toevoeging tot die wetenskap en soos met die meeste nuwe ontwikkelings word dit nog nie noodwendig oral met dieselfde agting bejeën nie. Hierdie benadering kyk na mense met nuwe oë: op soek na ‘n meer gebalanseerde lewensbeskouing. Dis egter nie onrealistiese ‘positiewe gedagtes’ (positive thinking) nie.

Die rasionaal van die positiewe sielkunde is dat kwaliteit-lewe méér is as net die afwesigheid van ‘n patologie. Dit was die aard van sielkunde in die verlede. Sielkunde as wetenskap het eers in die vorige eeu tot sy reg gekom, toe die wêreld uit die groot oorloë uitgestrompel het met baie ‘gewonde’ mense en gemeenskappe. Die oogmerk was om mense te help om weer normaal te funksioneer – die reeds normaal / goed funksionerendes het nie baie aandag gekry nie. Die sielkunde het primêr gefokus op die aanwesigheid en voorkoming van patologie. Oftewel, hoe kry ons mense van -8 na -2. Die positiewe sielkunde beoog: hoe kry ons mense van -8 na +8.

Die bydraers op wie ek veral fokus is:

Martin Seligman

Martin Seligman word beskou as die vader van positiewe sielkunde. Hy beskryf homself as ‘n natuurlik pessimis en iemand met ‘n ‘rainy soul’. Sy reis na ‘n ander beskouing in sielkunde het begin toe sy 5-jarige dogtertjie, Nikki, hom konfronteer. Sy het gesê dat sy ophou neul het en daarom kan hy ophou om so knorrig te wees. Die konfrontasie laat hom nie net oor homself wonder nie, maar ook hoe hy die sterkpunte van sy dogtetjie kan ontwikkel. As voorsitter van die American Psychological Association in 1998 inisieër hy hierna die soeke na wát mense laat floreer.

Mihalyi Czikszentmihalyi

Cziksentmihalyi het tydens die tweede wereld oorlog in Italië grootgword. Sy pa, ‘n Hongaarse aristokraat, was ambassadeur in Rome. Toe Stalin Hongarye oorneem, het sy Pa die ambassade verlaat. As ‘net nog ‘n sukkelende burger’ het hy ‘n restaurant in Rome ge-open. Sommige van die volwassenes in Mike se wêreld het ineengestort en hulpeloosheid en wanhoop tot gevolg gehad. Hy sien dat hulle leë skulpe word, so sonder werk en sonder geld. Ander volwassenes, wat voor die oorlog net ‘gewone’ mense was, het integriteit uitgestraal, was opgeruimd en vol moed met doelwitte vir hulle lewens.

In sy pogings om te verstaan hoe dit werk het hy filosofie en godsdiens in Italië bestudeer. Sielkunde was nie op daardie stadium ‘n erkende vakgebied in Italië nie en hy verhuis na die VSA waar hy Carl Jung se werk bestudeer. Hy doen beeldhouwerk, skilder en skryf vir die New Yorker. In ‘n derde taal verdien hy ‘n doktorsgraad en dan begin sy lewenslange reis om op ‘n wetenskaplike manier te bepaal wat die sleutel is tot die beste in mense. Sy grootste bydrae tot die veld was sy werk rondom ‘ flow’.

Sy wêreldbeskouing wat sy werk onderlê, beskryf hy so: ‘We cannot expect anyone to help us live, we must discover how to do it ourselves…. to live is more than biological survival. It means to live with fullness, without waste of time and potential, expressing one’s uniqueness, yet participating intricately in the complexity of the cosmos…’Live’ refers to what we experience from morning to night, seven days of a week, for about seventy years, if we are lucky. The best choice is to assume that this is the only opportunity we’ll have to experience the cosmos and to make full use of it’

Die Konteks waarin ons leef

Om die “formule” vir geluk te verstaan (H = S x C x V), moet ons ‘n oomblik stilstaan by die konteks waarbinne one lewe en wat eie is aan ons konteks. Csikszentmihalyi noem die volgende faktore wat ons ervaring vorm:

  1. Die siklusse van lewe (produksie, onderhoudstake (maintenance) en ontspanning). Die helfte van ons energie gaan in produksie in. Ontspanning behels meestal televisiekyk. Maar belangrik: dit waaruit ons lewe bestaan, word bepaal deur ervarings wat verband hou met werk, hoe jy jou lewe bymekaar en agtermekaar hou en wat jy in jou vrye tyd doen.
  2. ‘The accident of birth puts you in a slot which greatly determines which sort of experiences his/ her life will consist of’.
  3. Ten einde ons hedendaagse konteks te verstaan moet ons weer kyk na veranderlikes wat ons die afgelope tyd aangeraak het naamlik: individualisme, globalisering en kapitalisme. Die dinge wat gelukkig-wees méér van ‘n uitdaging maak is:
    1. Ons lewe binne die paradokse van ‘n private, indviduele lewe wat primêr gedefinieer word deur soiale en ekonomiese magte.
    2. Mense en instellings het ‘n gejaagde korttermynfokus (teenoor ‘n geduldiger langtermyn-fokus.) Tipe A persoonlikhede het plek gemaak vir tipe A kulture en verwagtinge.
  4. Ons het meer keuses en minder vaste strukture en tradisies. Hierdie ‘vryheid’ het betekenisvolle implikasies vir ons lewe:
    1. Meer dele van ons lewe is tydelik.
    2. Grense tussen die verskillende dele is meer poreus en buigbaar. Dit skep meer geleenthede, maar dit maak ongebalanseerdheid meer waarskynlik.
    3. Ons maak minder hegte verbintenisse in die lewe en ons hou aan ‘beweeg’.
    4. In ag genome al die opsies, moet ons nie net ons eie kontekste kies nie, maar dikwels ook self definiëer (bv verhoudings waarna ons verlede keer gekyk het).
    5. Ons het meer angs oor die groter hoeveelheid keuses wat ons self moet maak met minder riglyne / vaste strukture/ tradisies in die maak van die keuses. Dit maak lewe meer eksperimenteel van aard.
    6. In hierdie buigbare wereld is ekonomiese dryfvere dikwels ‘n sterker en belangriker bepaler van hoe ons ons tyd, energie, ens spandeer. Dink bv aan hoeveel energie, geld en tyd gaan in die voorbereiding vir, en bestuur van ons loopbane en hoe min tyd, energie en geld aan enige van ons ander dimensies. Ons koopvermoë of vermoë om geld te genereer, is wat ons primêre waarde in die samelewing bepaal.
  5. Ons is tyd-arm (lang werkure, verkeer) Charles Handy se die formule is 1/2 x 2 x3 – die helfte van die mense word twee keer soveel betaal om drie keer meer werk te doen.
  6. Binne die Suid Afrikaanse konteks is daar misdaad en ander trauma, HIV, armoede. Ons het nie wetgewing wat kwaliteit-lewe reguleer nie –soos Europa.
  7. Ander (oor die wêreld)
    1. Volgens die World Health Organisation neem depressie as oorsaak van siekte en gestremdheid toe. Depressie kom 10 keer meer voor as in 1960 en by jonger mense. 40 Jaar gelede was die gemiddelde ouderdom vir die eerste depressiewe episode 29 jaar, nou is dit 14 jaar.
    2. Ontwikkeling vorder (ekonomies ens) maar subjektiewe lewens-satisfaksie neem af. Selfmoord, egskeiding, dwelmsmisbruik neem toe.
  8. Vanuit ‘n evolusionere oogpunt is ons geprogrammeer om sterker op die negatiewe te reageer. Stres en uitputting is dikwels die gevolg van konstante reaksies op wat ons as bedreigings beskou. Die amygdala aktiveer die afskeiding van veg- of vlug hormone, wat ons voorvaders gebruik het om vir leeus weg te hardloop. Die verskil is dat ons deesdae ‘in die leeuhok’ leef.
  9. Negatiewe emosie het ‘n groter impak op ons as positiewe emosie vir oorlewingsdoeleindes. Soos negatiewes toeneem het ons meer positiewes nodig om die negatiewes te balanseer. Verhoudingsnavorsers kan voorspel of ‘n verhouding gaan hou – deur te kyk na die verhouding tussen postiewe ene negatiewe wat gesê word. Vir elke negatiewe ervaring het ons vyf positiewe ervarings nodig om die effek van die negatiewe opmerking te neutraliseer.



Ons moet dus meer doelbewus meer verantwoordelikheid neem vir die skep van positiewe emosie en geluk in ons lewe.

Die formule vir geluk: H = S x C x V

H = voortdurende geluk. (Nie dieselfde as momentele geluk nie)

S = ‘ Set point’

Ons het meestal ‘n stabiele (set point) kapasiteit vir geluk (daar is eers gedink dat dit ‘n ‘set point’ is, nou is die gevoel dat dit meer van ‘n ‘set range’ is). Al variëer dit soms, kalibreer ons vlak van lewensgeluk gewoonlik min of meer rondom dieselfde vlak. Navorsing wys dat selfs ná ekstreme hoogtes (bv wen van die lotto) en - laagtes (bv verlamming), pas ons tog weer aan. (Aanpassings beginsel).

 

Mense is egter geneig om hulle emosionele reaksie op potensiele lewensgebeure totaal te oorskat.

Mense se oordeel van hulle huidige omstandighede word bepaal deur hulle gevoel dat dit beter of slegter is as hulle vorige ervarings. Hulle pas hul doelwitte aan by hul nuwe omstandighede. Daar daar is natuurlik perke bv wanneer ons ons geliefdes verloor, of wanneer mense Alzheimers-pasiënte versorg.

C - Omstandighede (Circumstances)

Geld/ Welvaart

I’ve been rich. I’ve been poor. Rich is better. Sophie Tucker

Mense in die middel- of hoër klas se vlak van lewensgeluk word nie verhoog deur meer geld nie. Maar mense wat elke dag moet wonder waar geld vandaan gaan kom vir kos en skuiling se lewens word wel geaffekteer deur die gebrek aan geld. Dit kan ook wees dat gelukkiger mense dit makliker vind om meer finansiële sekuriteit te skep omdat hulle makliker werk kry, makliker met ander oor die weg kom ens.

Wêreldwyd is welvaart in geïndustrialiseerde lande, twee of drie keer meer as vyftig jaar gelede, maar mense se lewens-satisfaksie is nie méér nie. Inteendeel, depressie kom meer voor as vantevore. Ons het aangepas by die groter gerief wat meer geld bring.

Maar is dit te sê dat geld nie geluk kan koop nie? Jonathan Haidt verwys na die werk van die ekonoom, Robert Frank – veral sy laaste boek Luxury Fever. Hy sê dis heeltemal mootlik om meer geluk te koop - jy moet net weet waar om jou geld te spandeer: nie luukshede nie- ons pas vinnig daarby aan. Eerder vakansies saam met familie en vriende, ‘n huis nader aan die werk ens.

Conspicuous consumption (opvallende verbruik) -verbruik wat sigbaar is vir ander word vandag gereken as ‘n aanduiding van jou status of relatiewe sukses. Maar dis maar deel van die status-speletjie – elke keer as iemand iets beter koop is die besittings van ander gedevalueer. Inconspicuous consumption (onopvallende verbruik) is die verbuiking van goedere vir die inherente waarde daarvan en word meer privaat gebruik, nie vir die verkryging van status nie.

Die subjektiewe belewenis van geluk is wêreldwyd geevalueer. Denemarke is na bewering die gelukkigste land in die wêreld. Kanada, Nederland, Switserland is ook van die gelukkigste. Maar al is die relatiewe inkomste in lande soos Ierland, maar veral in Brasilie, en Chilli laer is hulle tog van die gelukkigste nasies in die wereld! Japan en Rusland daarenteen het relatief lae subjektiewe lewens-satisfaksie ten spyte van hoë inkomste. Welvaart dra dus by tot ‘n nasie se geluk. Die rykstes in die wereld (Forbes 100) is net effens gelukkiger as die res van ons.

Die huwelik:

Is dit ‘n strop-om-die-nek of lewe-vir-altyd-gelukkig-saam?

Anders as ‘n mens se finansies het getroudwees ‘n sterk korrelasie met lewensgeluk. (in die VSA sê 40 % van getroudes dat hulle baie gelukkig is teenoor 24% van geskeide, ‘seperated’ en weduwees / wewenaars. In die westerse wereld word saamwoon ook geassosieer met groter geluk. Dit geld minder vir Oosterlinge. Indien iemand egter ongelukkig getroud is, is hul vlak van lewensgeluk selfs laer as die van die ongetroudes and geskeides.

Beteken dit dat die ongetroudes onder ons moet hardloop en ‘n lewensmaat gaan soek? Nee, nie noodwendig nie. Dit is moontlik dat mense wat reeds gelukkig is éérder iemand sal ontmoet met wie hulle dan trou en dat hulle ‘n groter kans het om ‘n gelukkige huwelik te hê . Of daar kan ‘n derde faktor wees (soos ‘n sosiale persoonlikheid) wat bydra tot albei.

Sosiale lewe:

Mense wat baie gelukkig is, spandeer minder tyd op hul eie en meer tyd saam met ander. Hulle geniet hul verhoudinge met ander, en die met wie hulle verhoudinge het voel ook so. Hegte verhoudings versterk jou immuniteit, verleng jou lewe (selfs meer as wanneer jy ophou rook), bevorder vinniger herstel na ‘n chirurgie en verminder die risiko vir depressie en angs. Om te gee vir ander het ook meer sosiale – en gesondheidswaarde as om te ontvang.

Haidt beweer dat een van die mees voorspelbare maniere om lewensgeluk te laat afneem is die teenwoordigheid van konflik – of dit is met jou eggenoot of ‘n irriterende kollega. ‘n Mens pas nie by konflik aan nie en selfs wanneer jy nie die persoon sien nie, kan jy die konflik ervaar.

Weereens kan ‘n derde faktor, soos dat jy ‘n ekstroverte persoonlikheid het, of dat jy ‘n goeie storieverteller is, ‘n rol speel.

Negatiewe emosie

Moet ‘n mens die negatiewe emosie in jou lewe verminder ten einde gelukkiger te wees? Ironies genoeg, nee. As mens jou deel van hartseer ervaar, beteken dit nie dat jy nie vreugde óók kan ervaar nie. Daar is net ‘n matige korrelasie tussen die twee: as daar baie negatiwiteit in jou lewe is, sal jou positiewe emosie waarskynlik effens minder wees – dit hoef nie radikaal minder te wees nie. En: as ‘n mens baie geluk ervaar, beskerm dit jou nie noodwendig van hartseer nie.

Vrouens is twee keer meer geneig om depressief te wees en ervaar meer negatiewe emosie. Maar vroue ervaar ook meer positiewe emsosie en ervaar dit meer intens as mans. Dis nog onseker of dit deel van vrouens se biologiese aard is en of vroue net meer bereid is om dit ervaar / erken.

Ouderdom:

35 jaar gelede het jeug die teenwoordigheid van geluk voorspel. Vandag is dit nie meer die geval nie.‘n Studie wat 60 000 mense in 40 lande betrek het, het bepaal dat lewens-satisfaksie effens meer word soos ons ouer word, terwyl die intense gevoelens van ‘in die wolke wees’ of intense teneergedruktheid, minder word soos ons ouer word.

Gesondheid:

Aldus Seligman is daar nie noodwendig ‘n verband tussen objektiewe ‘ gesondheid’ en lewensgeluk nie. Ons subjektiewe belewenis van ons gesondheid speel ‘n groter rol, wat beinvloed word deur negatiewe emosie. Wanneer siekte langdurig en ernstig is, neem geluk en lewens-satisfaksie gewoonlik af, maar blykbaar baie minder as wat ons sal vermoed. .

Kwalifikasies

Kwalifikasies per sé maak nie ‘n groot verskil nie – behalwe vir die mense wat baie min geld verdien. Intelligensie speel ook nie ‘n groot rol nie.

Godsdiens:

Van Freud se dae word gosdiens in sielkundige sirkels bespreek itv die skuldgevoelens wat dit veroorsaak: onderdrukte seksualiteit wat dit tot gevolg het, onverdraagsaamheid waarmee dit gepaard gaan, ens. Ongeveer 20 jaar gelede het navorsers ook begin fokus op die positewe effek van godsdiens / geloof. Godsdienstige mense is minder geneig on dwelms te gebruik, misdaad te pleeg, te skei en selfmoord te pleeg. Hulle is fisies gesonder en leef langer. Godsdienstige mense word minder ‘gegooi’ deur egskeiding, werkloosheid, siekte en dood. Oor die algemeen is godsdienstige mense gelukkiger en meer tevrede as mense wat nie godsdienstig is nie. Die verhouding tussen godsdiens en meer sosiaal aanvaarbare gedrag maak sin: die meeste godsdienste is gekant teen dwelmmisbruik, egskeiding ens. Hoe werk dit? Daar word gereken dat die sosiale ondersteuning in die godsdienstige gemeenskap ‘n rol speel. Andersins skep godsdiens ook hoop en gee betekenis.

Opsomming van die ideale omstandighede volgens Seligman:

  1. Woon in ‘n welvarende demokrasie, nie ‘n arm diktatoriale staat nie (groot effek)
  2. Trou (groot effek, maar dalk meer kompleks as wat dit voorkom)
  3. ‘n Sterk sosiale netwerk ( groot effek, maar dalk meer kompleks)
  4. Vermy negatiewe omstandighede en negatiewe emosie (matige effek)
  5. Geloof/ godsdiens (matige effek)

Die volgende het nie ‘n groot effek nie

  1. Maak van meer geld
  2. Gesondheid
  3. Nog kwalifikasies

Jonathan Haidt noem ook:

  1. Geraas: Bv om in ‘n besige straat te woon, veroorsaak onderbreking van konsentrasie en stres. Dit is die moeite werd om van geraas in jou lewe ontslae te raak.
  2. Daaglikse verkeer: Selfs al is ‘n mens gewoond aan die verkeer werk toe, veroorsaak dit steeds die afskeiding van hoër hoeveelhede van die streshormone. Om te bestuur in ideale omstandighede kan aangenaam en ontspannend wees.
  3. Gebrek aan beheer: Wat bv geraas en verkeer so erg maak is die feit dat ons geen beheer daaroor het nie. Wanneer daar groot dele van jou lewe is wat buite beheer is / voel dan affekteer dit jou energie en vlak van geluk.
  4. Verleentheid: Voorkoms per sé maak mense nie veel gelukkiger of ongelukkiger nie, maar wanneer iemand ongemaklik is met iets aan sy / haar voorkoms, en dit verander, rapporteer hulle verhoogde lewens-satisfaksie. (Plastiese chirurgie word ook egter met depressie geassosieer.)
  5. Csikszentmihalyi noem ook keuses as invloed op ons geluk. As mense meer keuses het (bv 30 i.p.v 6) is die waarskynlikheid minder dat ons ‘n ‘goeie’ keuse sal maak en as ons wel die keuse maak, dat ons minder gelukkig daarmee sal wees. Hoe meer keuses jy het, hoe groter jou verwagting dat jy ‘n perfekte pas sal kry. Terselfteryd, hoe meer keuse jy het, hoe kleiner is die waarskynlikheid dat jy sal voel dat jy die beste keuse gemaak het. Jy het minder vertroue in jou keuse en dis meer waarskynlik dat jy spyt sal wees en dink oor die opsies wat jy nie gekies het nie. Dit geld veral vir mense wat ‘maximise’ – wat al die opsies wil probeer en ‘die beste keuse’ wil maak. ‘Satisficers’ evalueer die opsies en kies die een wat goed genoeg is en hou dan op soek. ‘Maximisers’ se besluite is oor die algemeen effens beter, maar hulle is minder gelukkig met hulle besluite en meer geneig tot depressie en teneergedruktheid

V – Voluntary (Vrywillig)

Hierdie deel van die “formule” handel oor daardie aspekte waaroor ons meer beheer het; die dinge wat ons vrywillig doen. Dit is hierdie aksies / keuses wat ons kan maak, wat dit meer waarskynlik maak dat ons vreugde kan vind in ons verlede, hede en toekoms.

Vind meer vreugde in jou verlede:

Een van die faktore wat ons geluk in die oomblik bepaal, is hoe ons voel oor ons verlede: Jy kan in jou skik wees met jou verlede of bitter met wraakgedagtes. Dit kan ook andersom werk : as jy depressief is, is jy meer geneig om die hartseer ervarings in sy verlede te onthou en mistroostig te voel oor die toekoms. Die logika hier is dat jou manier van dink jou emosie vorm, wat anders is as die Freudiaanse geloof dat emosie aanleiding gee tot gedagtes. Dit blyk dat albei soms aan die stuur is.

So die vraag is dan: vorm jou verlede jou hede? Ons wêreldbeskouing word in ‘n groot mate beïnvloed deur determinsitiese denkers van die vorige eeu. Freud en sy volgelinge het geglo dat elke ding wat gebeur in ons lewe, die produk is van ons verlede. Maar Seligman en sy mede-navorsers reken sterk dat die effek van ons kinderjare (en geskiedenis oor die algemeen) op ons lewe oorskat word. Volgens hom speel kinderjare ‘n klein rol en defnitief nie ‘n determinstiese rol nie. (Gene speel ‘n groot rol). Wat hartseer is, is dat baie mense met ‘n deterministiese wêreldbeskouing deur die lewe gaan met bitterheid oor hul verlede en passiwiteit oor hul toekoms!

Die behaviorist Aaron Beck, aanhanger van die deteministiese teorie, gebruik dit in sy navorsing met depressiewe mense. Hy het bevind dat wanneer hy mense sovêr kan kry om hule gedagtes te ‘ventileer’, ‘ontrafel’ hulle maklik maar dis moeilik om hulle weer ‘bymekaar te maak’. Kognitewe terapie het ontwikkel in reaksie hierop om mense te help fokus op die hede en die toekoms, sonder om al die pyn in jou verlede te ontleed en ontrafel. Dit werk net so goed as anti-depressante en word dikwels in tandem gebruik.

Die vraag rondom die gesonde hantering van woede is nog ‘n voorbeeld van die deterministiese beskouïng. Daar word gereken dat dit nodig en selfs gesond is om uitdrukking aan woede te gee. Ons glo as ons nie uitdrukking daaraan gee nie, gaan dit elders kop uitsteek. Maar, volgens Seligman en genote is die teorie vals. Trouens, die teenoorgestelde kan gebeur: wanneer jy vashaak by dit wat jou kwaad gemaak het, veroorsaak dit kardiovaskulere probeleme en nog woede. (Daar is sterk verband tussen vyandigheid en hartaanvalle). Maw emosie wat net gelos word, sal vanself ‘wegvloei’ deur ‘n proses van emosionele osmose. Wanneer jy tob oor en uiting gee aan die emosie vermenigvuldig die emosie en word jy vasgevang in ‘n emosionele tronk.

Czikszentmihalyi gee die beste advies oor hoe om die omstandighede te hanteer: die effek van fisiese pyn, finansiële verlies, of ‘n sosiale vernedering word bepaal deur die hoeveelheid aandag wat jy daaraan skenk en die hoeveelheid ruimte wat jy daaraan skenk in jou bewussyn. Hoe meer aandag jy daaraan skenk, hoe meer entropie bring dit na ons bewussyn. Wat nie beteken ‘n mens moet dit ignoreer nie. Dis beter om die negatiewe gebeurtenis in die oë te kyk, te erken en te respekteer en dan besig te raak met dinge wat jy KIES om op te fokus.

Wat geluk in terme van die die verlede aanbetref is daar dus twee moontlike saboteurs:

  1. onvoldoende waardering en genot van die goeie gebeure in jou verlede
  2. oorbeklemtoning van die slegte ervarings.

Hoe kan ons dit teëwerk?

  1. Dankbaarheid. Dit maak waardering en vreugde oor die verlede meer waarskynlik. Martha Beck sê die brein kan nie dankbaarheid en vrees gelyktydig akkomodeer nie. Metodes hiervoor: verhoog jou dankbaarheid deur bv ‘n dankbaarheidsbrief aan iemand teenoor wie jy dankbaar is te skryf of die byhou van ‘n dankbaarheidsdagboek. Mense wat ‘n dankbaarheidsdagboek hou en elke dag boekhou van dinge om oor dankbaar te wees se lewensvreugde en lewens-satisfaksie is groter as dié wat bloot ‘n dagboek van gebeure byhou.
  2. Vergewe, vergeet of onderdruk. Dit is ‘n sensitewe saak. Hoe jy oor jou verlede voel, hang uitsluitlik af van jou herinneringe. Daar is geen ander bron nie. (Die rede hoekom dankbaarheid ons satisfaksie verhoog is omdat dit die positiewe in ons verlede uitlig.) Gereelde negatiewe gedagtes of tob oor negatiewe ervarings oor die verlede ondermyn vrede en kalmte van gees. Dit geld vir individue en vir nasies. Die herinneringe wat ons aanhang as ‘n nasie vorm ook ons ervaring van die verlede. Slobodan Milosovich het ses eeue se onreg teenoor sy mense misbruik om ‘n dekade van oorlog en nasiemoord te regverdig. Voorbeelde van mense wat daardie sirkel probeer verbreek is Madiba en Mahatma Ghandi.

 

Die menslike brein is van so aard dat negatiewe emosie maklik oor die meer brose positiewe emosie triomfeer. (Daniel Goleman, in sy werk oor emosionele intelligensie, noem dit ‘neurale kaping’ wanneer ons negatiewe emosie ervaar.) Die enigste manier om uit ‘n negatiewe kringloop oor die verlede te kom is om jou herinneringe te ‘herskryf’ deur te vergewe, vergeet of om slegte herinneringe te onderdruk. Laasgenoemde is egter gewaarborg om te ‘backfire’. En vergeet is baie moeilik. Dit laat ons nét met vergifnis!!

Hoekom hou mense van aan negatiewe, bitter herinneringe oor hul verlede? Tipiese redes sluit in:

    1. Hulle wil die energie behou die om die oortreder te vang en aan die pen te laat ry verminder.
    2. Vergifnis word gesien as ‘n geskenk aan die oortreder en hy/sy verdien dit nie.

Maar, om te vergewe het die potensiaal om bitterheid na neutraliteit of selfs positiewe emosie te verander, wat groter lewens-satsifsaksie moontlik maak én kardiovaskulere gesondheid positief beinvloed. Die proses van vergifnis is egter nie eenvoudig nie: Jou waardes sal bepaal of jy kan assosieer met vergifnis of nie. Jou persoonlikheid bepaal ook hoe jy sal optree teenoor iemand wat jou benadeel het.

Hoe om te vergewe? Seligman het advies vir dié wat sukkel om te vergewe: kry sporadies groter perspektief op jou lewe. Dis belangrik om op jou lewe groter perspektief te kry ten einde die invloed en die emosie van jou huidige omstandighede van die oomblik teen te werk.. Evalueer jou lewens-satisfaksie in terme van liefde, loopbaan, finansies, speel / pret, vriende, gesondheid, ‘generativity’.

Geluk in die toekoms:

Die mens genereer geluk met die oog op die toekoms deur hoop en (redelike / gepaste) optimisme. Dit vorm ‘n mate van weerstand teen depressie in die aangesig van teëspoed. Dit dra ook by tot beter gesondheid en beter prestasie by die werk - veral wanneer werk uitdagend is.

Optimisme:

Optimisme word bepaal deur die permanensie en deurdringendheid van jou interpretasie oor veral uitdagende / negatiewe gebeure in jou lewe. Pessimiste glo dat negatiewe ervarings meer permanent en deurdringend is (maw dit beïnvloed meerdere aspekte van ons lewe) en dat positiewe ervarings tydelik en spesifiek is. Die pessimis reken: diëte werk nie vs die optimis: diëte werk nie wanneer jy konstant uiteet nie; of: positiewe ervarings is tydelik, ek probeer hard, was gelukkig vs ek is talentvol, ek is altyd gelukkig. Hoe jy die lewe en negatiewe gebeure interpreteer, bepaal hoe lank jy ongelukkig gaan wees. Permanente en deurdringende verklarings veroorsaak landurige hulpeloosheid. Kortermyn verklarings veroorsaak meer ‘resilience’.

Seligman gee vraelyste in sy boek om hoop en optimisme te meet en beskryf tegnieke om hoop en optimisme te optimiseer.

Geluk in die oomblik / Plesier:

Ten einde geluk in die oomblik te verstaan, fokus Seligman en kie op ‘Plesier’ en ‘Gratifikasie’.

Die terme word op plekke as sinonieme gebruk maar vir die doel van die gesprek gaan ons ‘n onderskeid tref tussen die twee. Plesier:

  1. Het sterk sensoriese en emosionele komponente – ‘rou gevoelens’.
  2. Is vlietend en benodig nie baie intellektuele ontleding nie.
  3. Nie regtig te veel daarvan kan op ‘n slag geniet word nie.
  4. Kan maklik gewoontevormend wees.
  5. Is in die oomblik / momenteel.
  6. Benodig min interpretasie.
  7. Sluit al die lekker sensassie in wat ons sintuie moontlik maak – van die seksuele tot die die sensuele ervaring van ‘n helder herfsoggend op die hoëveld, gunsteling musiek, foto’s van klein diertjes, babas, mooi sonsondergange. Soms is die kompleksiteit so bietjie meer: as jou nuwe baba jou vinger vashou, of die waardering van ‘n gedig of film.

Dis moeilik om lewensgeluk op plesier te bou, want dis net iets wat jy in die oomblik ervaar. Ons pas maklik aan daarby, en het dalk binnekort hoër dosisse nodig vir dieselfde effek as vroeër. Die eerste happie sjokelade is die lekkerste – die laaste happie is net kalorieë. (Dit word gewoontevorming / aanpassing genoem.)

Hoe kry mens die meeste uit plesier:

  1. Hê uiteenlopende plesier ervarings.
  2. Versprei hulle oor tyd.
  3. Onderskei plesier van verslawing: laat meer tyd as gewoonlik tussenin verbygaan. As jy ervaar dat jou behoefte aan die betrokke plesier afneem wanneer jy dit minder doen – dan kan dit dui op ‘n verslawing en nie iets wat werklik plesier verskaf nie.
  4. Baie mense put vreudge put uit eet (die Franse is hier ‘n voorbeeld, eet langer maar minder). Maar eet, soos ander passiewe aktiwiteite, bring net vreugde as ons nie meer as 5% van ons tyd daaraan spandeer nie.
  5. Twee tegnieke uit Buddisme om plesier te verhoog is “savoring” en “mindfulness” (oplettendheid).



"Savoring"

Ons lewe teen ‘n groot spoed en ons poog konstant om meer effektief te wees met ons tyd. Byna elke nuwe tegnologiese ontwikkeling gaan daaroor om meer dinge vinniger te doen. Die benadering affekteer ook ons sosiale interaksies - ons luister bv nie ordentlik nie. Deur al die effektiwteit verloor ons groot dele van die huidige oomblik.

‘Savoring is the awareness of and the deliberate conscious attention to the experience of pleasure.’

Bv die Franse wat kleiner porsies van ‘n groter verskeindheid kosse eet teenoor die groot porsies van die Amerikaners. Franse neem ook meer tyd en maak meer ruimte vir die geniet van die kos. Hulle is baie skraler maar eet baie langer.

Mindfulness (Oplettenheid, opmerksaamheid)

Volgens Seligman is onoplettenheid die storie van die mensdom is. Daar is groot dele van ons ervarings wat ons nie oplet nie. Ons aksies en interakies is dikwels automaties. Om mindful (oplettend) te wees in die hede vereis ‘n stadiger manier van dink. Meditasie is een manier om meer oplettend te raak.

Gratification (Bevrediging, voldoening):

Gratifikasie is iets wat ons veral, ervaar wanneer ons in ‘flow’ (want dit voel soos moeitelose beweging) is. Dit is aktiwiteite waarvan ons hou, maar dit word nie noodwendig vergesel deur emosie nie. Dis iets wat ons totaal absorbeer en ons verloor ons bewsutheid van self – bv ‘n stimulerende gesprek wat lei tot uitdrukking van idees wat ons nie geweet het ons het nie, lees van ‘n goeie boek, sport aktiwiteite, fotografie, skilder, ‘n akademiese ontleding, lees van ‘n boek op soek na nuwe insigte. Gratifikasie:

  1. Hou langer as plesier;
  2. Vereis meer dinkwerk en interpretasie;
  3. Word nie maklik gewoontevormend nie;
  4. Word versterk deur ons sterkpunte en waardes.



Die gratifikasie waarvan Seligman praat, kan sosiaal, intellektueel, fisies wees. Dit is iets wat in die meeste fasette in jou lewe benut kan word – ook by die werk en in verhoudings. Hoe meer ‘flow’ inwerk in hoe jy jou werk doen, hoe meer kan jy dit potensiëel geniet.

“Flow” het die volgende komponente:

  1. Die taak is uitdagend en vereis ‘n sekere hoeveelheid vaardigheid;
  2. Jy moet konsentreer;
  3. Die doelwitte is duidelik;
  4. Jy kry onmidddelik terugvoer;
  5. Jy is ten diepste betrokke;
  6. Daar is ‘n gevoel van beheer;
  7. Jy verloor selfbewustheid;
  8. Tyd stop vir jou.

Let op – positiewe emosie is nie ‘n voorwaarde nie – alhoewel dit soms deel van die ervaring is. Die afwesigheid van emosie en bewussyn vorm die fondasie van ‘n flow ervaring. ‘Consciousness and emotion are there to correct your trajectory; when what you are doing is seamlessly perfect, you don’t need them’. As voorbeeld vertel Csikszentmihalyi die volgende storie vir Seligman oor sy 80-jarige broer: ‘I visited my brother in Budapest recently. He is retired and his hobby is minerals. He told me that a few days before he had taken a crystal and started studying it under his powerful microscope shortly after breakfast. A while later, he noticed it was becoming harder to see the internal structure clearly and he thought a cloud must have passed in front of the sun. He looked up and saw that the sun had set. ‘

‘n Ekonomiese model kan help om dit nog beter te verstaan: wanneer ons plesier ervaar, is ons verbruikers ( parfuum, roomys, iets mooi’s) – dit is momentele vreugdes en bou niks vir die toekoms nie. Flow is anders: wanneer ons so betrokke is by iets wat ons doen, maak ons ‘n belegging – ons bou sielkundige kapitaal in onsself vir die toekoms. Dus ‘n aanduiding van sielkundige groei.

Sommige mense ervaar flow gereeld, ander mense ervaar dit byna nooit. In ‘n Flow-studie met tieners het Seligman 250 hoë-flow en 250 lae flow tieners bestudeer . Die lae-flow tieners kyk baie televisie en loop rond in winkelsentrums. Hoë-flow tieners het stokperdjies, neem deel aan sport en spandeer meer tyd aan hulle huiswerk. Op elke vlak van sielkundige welstand (insluitend selfbeeld en betrokkenheid (engagement) doen die hoë -low kinders beter. Die enigste uitsondering in die positiewe uitslae is dat die kinders dink dat die lae–flow kinders meer pret het as hulle. Dit is ook lonend later in die lewe – die hoë-flow kinders het gewoonlik beter akademiese uitslae, het sterker en beter verhoudings en is later in hule lewens meer suksesvol.

Dit geld vir grootmense ook. Interessant dat ons dikwels plesier bo flow kies – baie mense verkies dit om tv te kyk bo die lees van ‘n goeie boek alhoewel navorsing vir ons bewys het dat die gemiddelde bui van ‘n televisie kyker ‘n matige depressie is. Aktiewe stokperdjies/ sport skep BAIE meer positiewe ervarings, in vergelyking met meer passiewe aktiwiteite.

Die soeke na plesier kan ‘n sterk motivering wees, maar dit skep nie verandering nie. Plesier is ‘n dryfveer na bevrediging van behoeftes, gemak en onstpanning. Flow kan by tye baie ongemaklik wees.

 

Flow en romanse

Die konsep van flow kan ons ook laat verstaan hoe romanse en seksualiteit buite die konteks van ‘n langdurige verhouding bloot plesier is vs die flow in ‘n stabiele, langdurige verhouding. In sy boek bespreek hy sterkpunte en ‘virtues’. Wanneer jy weet wat jou sterkpunte is en hoe dit op jou lewe inwerk, is dit meer waarskynlik dat jy flow kan skep. Julle kan julle eie sterkpunte vasstel op www.authentichappiness.org. Hy dui ook aan hoe om geluk by die werk te verhoog en kinders realisties optimsime en flow as lewensvaardighede te leer.

Ten slotte:

As ons dus die depressie in ons lewe wil verminder en geluk meer wil maak, noem Seligman die volgende:

Faktore wat nie depressie veroorsaak nie

  1. Die epidemie is nie biologies van aard nie – ons gene en hormone het nie genoeg verander in die afgelope 40 jaar om dit te verklaar nie,
  2. Dis nie ekologies nie – die Armish, wat dieselfde natuurbronne gebruik as die res van die VSA het tien keer minder depressie, en dit het nie te doen met ekonomiese swaarkry / lewensomstandighede nie.

Faktore wat depressie veroorsaak:

  1. Individualisme en die kort paaie wat ons soek na lewensgeluk (TV, dwelms, inkopies) die primêre veranderlikes is wat ons ongelukkig maak.
  2. Een van die primere simptome van depressie is jou emosie van jou beslag neem. Flow is die teenstelling – dit sluit in die afwesigheid van emosie, afwesigheid van selfbewustheid. Hoe meer flow jy skep in jou lewe, hoe minder depressief sal jy wees.

Die resep om depressie teë te werk:

  1. Streef na meer gratifikasie / flow.
  2. Verminder die outomatiese najaag van plesier.
  3. Plesier kom maklik maar gratifikasie vereis die benutting / beoefening van persoonlike sterkpunte en is moeiliker haalbaar.
  4. Die determinasie om jou sterkpunte te vind en ontwikkel is ‘n groot buffer teen depressie.

Om te beweeg van najaag van plesier na meer gratifikasie is nie ‘n maklike proses nie – dit vereis vaardigheid en meer nog – dit hou die potensiaal in dat jy kan misluk. Plesier daag ons nie uit nie en hou geen potensiaal vir mislukking in nie.

Dus om te vra – hoe kan ek gelukkig wees (alhoewel dit ook goed is om plesier in ‘n mense se lewe te hê) is nie die regte vraag om te vra nie. Sonder die nodige onderskeiding tussen plesier en gratifikasie lei dit maklik tot afhanklikheid van kortpaaie - ‘n lewe waar ‘n mens soveel plesiere as moontlik opraap.

Die regte vraag om te vra is wat is ‘n goeie lewe?

Jonathan Haidt: glo nie dat ons moet vra wat is die doel van die lewe nie, maar eerder wat is die doel in die lewe. Geluk is nie iets wat wat jy kan vind, verkry of ‘n manier waarop jy kan presteer nie. Jy moet die omstandighede regkry en dan wag. Somminge van die voorwaardes van geluk is binne jou, sommige voorwaardes vereis ‘n verhouding met dit / dié wat rondom jou is

Wellness is an issue of engagement in living, involving expression in a huge range of potentialities: intellectual, soclal, emotional, physical…..Happiness is not the main aim, but a by-product of a life well lived.

Prof M Wissing


Emma Darwin, Charles Darwin se ander kant. Frances Klopper

Verlede jaar, 2009, was die 200 ste gedenkjaar van Charles Darwin se geboorte op 12 Februarie 1809. Vrydag 12 Februarie vanjaar, sou hy 201 jaar oud gewees het en is Darwinday weer wêreldwyd gevier. Met reg word sy prestasies en genialiteit oral met groot akklamasie herdenk, maar nêrens het Emma Darwin, sy vrou van 43 jaar, nog ’n spreekbeurt gekry nie. Haar bydrae tot sy sukses is onmeetbaar, nie in die sin dat sy hom geïnspireer het deur wetenskaplike insette te lewer nie, want Darwin se genialiteit is toe te skryf aan die gene van sy talentvolle voorouers, maar sy was die medium waarin hy kon bestaan en werk. Sy het die omgewing geskep waarin sy ‘gene’ tot hulle reg kon kom. Daar is geen twyfel dat hy nie sonder haar kon bereik wat hy bereik het nie. Sy was ook ’n besondere vrou in eie reg. Ons is dit aan Emma Darwin verskuldig om haar verhaal te vertel.  

My belangstelling in Emma het in Julie verlede jaar begin toe ons in die dorpie Sevenoaks in Kent (20 kilometer Suid-Oos van Londen) gekuier het. Daar loop ek toe vir twee pond ’n effe moeg-geleesde biografie van Emma Darwin op ’n sypaadjie-boekstalletjie raak. Hierin ontvou die ander kant van Charles Darwin se lewe en haar ervaring van ’n lewe saam met hom, opgeteken in haar briewe en dagboekinskrywings. Emma Darwin se sestig dagboeke en ’n leeftyd se familiebriewe word vandag in die Cambridge Universiteitsbiblioteek bewaar.

Agtergrond

Naby Sevenoaks, tussen die groen lanings van die Kentse platteland, ontdek ons ook Down House, die groot vierkantige verdiepinghuis waarin die Darwins vir veertig jaar gewoon het, waar hulle hulle kinders grootgemaak het, waar hy On the origin of species en The descent of Man geskryf het en waar hy in 1882, en veertien jaar later ook Emma, in 1896, gesterf het.

 

Charles en Emma se lewe saam is vervleg met hulle agtergrond. Charles Darwin en Emma Wedgwood het mekaar van kleintyd goed geken want hulle was bloedneef en -niggie met ‘n gemeenskaplike oupa, Josiah Wedgwood l, stigter van die beroemde Wedgwood pottebakkersryk waarvan die ware in elke Europese koningshuis gepryk het. Elizabeth die Grote van Rusland het gespog met ‘n volledige Wedgwood eetservies met Engelse natuurtonele op elke bord. Harrods, die groot afdelingswinkel in Londen se buitekant is geteël met Wedgwood teëls uit die fabriek van Emma en Charles se voorvader. Die Wedgwoods en Darwins was welgestelde aristokratiese families in Victoriaanse Engeland. Hulle was deel van die opkomende professionele klas van uitvinders, handelaars en geleerdes wat gegroei het uit die Industriële Rewolusie wat in die middel-sewentienhonderd in die Middellande van Engeland ontstaan het.

Hulle het onder mekaar getrou en ’n hegte vriendskaps- en familieband het ontstaan, hoewel hulle agtergronde verskil het. Die Darwins het universiteitsopleiding gehad en hulle was godsdienstig-vrydenkend. Charles se pa Robert Darwin, en sy oupa Erasmus Darwin, was suksesvolle mediese dokters uit die Shrewsbury-omgewing. Die Wedgwoods daarenteen, was handelaars en skeppende kunstenaars en toegewyde Unitariërs. Die kenmerk van die Unitariese geloof is dat hulle nie in ’n Drie-enige God glo nie. Dit is welbekend dat Emma en die kinders, as hulle die plaaslike Anglikaanse kerk besoek het, hulle rug gedraai het op die kansel terwyl die geloofsbelydenis gelees word.

Emma se verhaal begin met haar geboorte in 1808 op die familielandgoed Maer in Staffordshire, die jongste van agt kinders. Sy het ontwikkel in ‘n borrelende, alomgeliefde en pragtige jong vrou. Soos ons later weer sal sien, was netheid en orde nie haar sterkste punt nie. Haar bynaam was ‘Miss Slip-Slop’ omdat die lewe vir haar oor belangriker dinge gegaan het as om weg te pak en reg te pak. Hierdie eienskap van Emma het Charles se tipe navorsing goed gepas. Haar ordelike ouer sussie, Fanny, was haar beste vriendin en die twee was onafskeidbaar. Hulle pa, Josiah Wedgwood ll, of Jos soos almal hom geken het, en haar ma Bessie Allen, het, raar vir daardie tyd, geglo in ‘n goeie opvoeding vir hulle dogters. Gewone dagskole was daar nie en Emma het sangonderrig van ‘n operasangeres uit Londen gekry; ’n taaltutor het in Maer Hall by die familie ingewoon en Frans by haar ingeprent. Die biblioteek in Maer Hall was gevul met boeke oor elke denkbare onderwerp en Emma was altyd intellektueel gestimuleer. In 1825, op sewentienjarige ouderdom, neem haar ouers vir haar en haar susters met ‘n perde-koets op ‘n Grand Tour deur Europa waar sy die kunsgalerye, museums en opera ingedrink het en opgewonde skryf oor ‘n trop buffels wat hulle in die suide van Italië raakgeloop het. Buffels in Italië? Wel, kyk maar op Google, die trop is nou nog daar. Nietemin, Emma was ‘n buitengewoon ingeligte jong vrou vir haar tyd. Sy was, wat ons sou noem, ‘n Renaissance-vrou wat iets van alles geweet het. Sy was ‘n uitstekende pianis en is in Londen onderrig deur beroemde pianiste, onder meer Frederic Chopin self, beweer sommige bronne. Sy het intens belang gestel in die politieke intriges van die tyd en aktief geagiteer vir slawevrystelling. Trou was nie vir haar ‘n opsie nie.

Haar ernstige nefie Charles Darwin, met sy passie vir jag en die versameling en klassifikasie van goggas, plante en klippe, het sy vervelig gevind. In haar dagboeke en briewe is ook min verwysings na hom en sy epiese vyf-jaar-lange reis om die wêreld in die HMS Beagle wat van 1831 tot 1836 geduur het. In hierdie tyd het  Emma ’n pynlike tragedie ervaar. Haar geliefde Fanny word in Augustus 1832 siek en sterf ’n week later aan cholera. Dit het vir Emma tot introspeksie gedryf en sy word meer ernstig en diep gelowig. Vir die eerste keer vind sy werklike troos in die Unitariese tradisie van haar voorouers. ’n Onwrikbare geloof in ’n lewe na die dood en die krag van gebed word die geloofstrukture waarop sy vir die res van haar lewe sou steun.  

Voorspel tot ’n liefdesverhaal

In Oktober 1836 kry Jos ’n brief van Charles Darwin om te sê die Beagle het vasgemeerin die Plymouth-hawe en hy sou graag Maer Hall besoek om deel te neem aan die jagseisoen op die landgoed, wat pas begin het. Charles se terugkeer en sy kuier in Maer Hall, in Emma se 28ste jaar, het haar lewe ingrypend verander. Dit was ‘n ander Charles. Met nuwe respek luister sy na sy vertellings van vreemde lande en mense en teorieë oor die evolusie van die spesies. En vir die eerste keer is Emma verlief.  

Vir Charles het verliefdheid en trou nie so maklik gekom nie. Hy het besef dat dit van hom verwag word, en sy familie het druk op hom uitgeoefen, maar Emma was in elk geval ‘so much his superior in every respect’, skryf hy later, dat hy min moed gehad het om haar as vrou te kry. Nou benader Charles, die toonbeeld van rasionele denke, ‘n irrasionele  onderwerp uit ‘n suiwer analitiese oogpunt. Hy gaan sit en analiseer die voordele en nadele van die getroude lewe in twee kolomme: ‘Marry’ en ‘Not marry’.

 In die voordele-kolom skryf hy:                                                                               Nadele

Kinders (as dit God se wil is)

 Konstante maat en vriend op die oudag wat in hom sal belangstel.

Objek om as geliefde te dien (‘n seksobjek?) en om mee te speel. ‘Better than a dog in any case’.  

‘n Huis en iemand om dit te versorg.

Bekoring van musiek en vroulike gebabbel.

Dié dinge is goed vir ‘n mens se gesondheid, maar ‘n groot verlies aan tyd!

                     

Vryheid van beweging ingeperk.

Gemis van gesprekke met intelligente mans by klubs.

Geforseer om familie te besoek.

Die uitgawes en spanning wat kinders meebring, miskien rusies.

Verlies aan tyd – kan nie saans lees nie. Gewig optel van  ledigheid.

Meer verantwoordelikheid en minder geld vir boeke. Maar dan weer is dit baie sleg vir die gesondheid om te veel te werk.

 

Uiteindelik kry die voordele die oorhand in die argument as hy sê:

‘My God, it is intolerable to think of spending ones whole life, like a neuter bee, working, working, & nothing after all. No, no won’t do. Imagine living all one’s day solitarily in smoky dirty London House. Only picture to yourself a nice soft wife on a sofa with good fire, & books & music perhaps. Compare this vision with the dingy reality.’ ‘Cheer up, (hy moet homself moed inpraat want hy is nie lus vir die spulletjie nie) one cannot live this solitary life, with groggy old age, friendless & cold & childless staring one in ones face, already beginning to wrinkle.’ Let wel, emosies en liefde speel geen rol nie! Hoe het Emma hom nie verander nie! 

In November 1938 skraap hy sy moed bymekaar om vir Emma die jawoord te vra. Charles is verras as sy onmiddellik instem en nou veroorloof hy sy gevoel en emosies om die oorhand te kry in sy minnebriewe. Uit sy ouerhuis in Shrewsbury skryf hy in sy eerste brief aan Emma: ‘My own dear Emma, I kiss the hands with all humbleness and gratitude which have so filled up for me the cup of happiness. It is my most earnest wish that I may make myself worthy of you’.    

Hulle trou stil in die volgende jaar op die Maer-landgoed. Die huweliksontbyt was kort want die koets het gewag om hulle Birmingham toe te neem vanwaar die nuwe spoorlyn na Londen pas voltooi is. Na ‘n verblyf van drie jaar in Londen waar hulle eerste kind, William, gebore is, trek Charles en Emma na Down House in Kent. 

’n Eenheid van teenoorgesteldes

Hier in Down House begin Charles nou sy loopbaan wat vir hom beroemdheid sou verwerf vir alle tye. Hulle huwelik sou ’n eenheid van teenoorgesteldes wees: Hy was metodies en geroetineerd. Elke dag dieselfde tyd stap hy met sy kierie dieselfde paadjie op die Downe landgoed en neem elke plant en goggatjie waar. Sy was gemaklik, gesellig en ongeërg. Sy ordelikheid orden noodgedwonge ook haar lewe. Hy was altyd gespanne en onseker van homself omdat hy die stabiliteit van ‘n ma op agtjarige ouderdom verloor her. Sy was vol selfvertroue uit ‘n groot gesellige, warm familie. Hy kom uit ‘n onvaste agtergrond van die Darwin-skeptisisme. Sy kom uit ‘n vaste basis van die Wedgwood-geloof.  

Hy waarsku haar dat hy ‘n alleenloper is, maar vertrou dat sy hom sou leer dat daar groter geluk is as om teorieë en data in afsondering te versamel. Sy skryf aan hom – sy kon haarself altyd beter op papier as in woorde uitdruk - oor haar vrees dat die verskil in hulle geloofsoortuigings verwydering in hulle verhouding sou bring. Sy waardeer sy openheid teenoor haar en glo dat sy twyfel oor God wat sy navorsing meegebring het en wat mettertyd tot agnostisisme en ongeloof sou lei, eerlike soeke na die waarheid is, en daarom nie sonde kan wees nie. Lewe na die dood was vir haar ‘n werklikheid en sy wou nie aanvaar dat hulle ooit geskei sou wees nie. Daarom is dit ‘n tragiese ironie dat hulle uiteindelik apart begrawe is.   

Die kinders

Uit die huwelik is tien kinders gebore. Emma noem dit haar ‘affliction’ om vir twaalf jaar lank, tot haar agt-en-veertigste jaar, permanent swanger te wees. Ná een geboorte-vry jaar, skryf Charles aan sy vriend, Hooker, ‘Emma has been very neglectful of late, we have not had a child for one whole year!’ Geboortebeperking was vir hom onaanvaarbaar, nie net omdat dit deur die kerk verbied was nie, maar wie sal die kolonies koloniseer as die bevolking beperk word? Haar bevallings was moeilik en sy het elkeen met angs tegemoet gegaan, maar gelukkig is chloroform in die tyd uitgevind en is haar laaste drie kinders met behulp daarvan gebore. Die dosering was nog onbekend en toe die dokter met een bevalling laat opdaag, het Charles sommer die nodige gedoen met ‘n oordosering wat haar vir ‘n uur en ‘n half bewusteloos gelaat het. Dis vir my mooi dat sy tòg probeer het om die swangerskappe te beperk want in haar dagboeke is die ‘veilige tye’ van die maand sorgvuldig met kruisies gemerk. Die metode het uiteraard nie vir haar so goed gewerk nie. Sy was ‘n toeganklike en toegewyde ma. Elke dag moes die kinders rondom haar sit terwyl sy hardop vir hulle uit Dickens en Thackeray voorgelees het.   

Maar, ‘in Victorian times there were many little coffins’ want aansteeklike siektes het soos veldbrand versprei van die een dorpie na die ander en hulle het drie kinders aan die dood afgestaan van wie die laaste, Charles Waring, Downsindroom gehad het. Van kleins-af het Charles het sy gedrag waargeneem en aangeteken. Toe hy op tweejarige ouderdom aan witseerkeel sterf, kon hy dit aanvaar op grond van die ‘survival of the fittest’-beginsel. Maar die tienjarige, liefdevolle en intelligente Annie se dood aan tuberkulose in 1850, het sy geloof finaal geknou. Emma se troos was dat hulle weer met haar herenig sou wees, maar vir Charles was sy ‘a flower cut down into the dust.’  

Onder Emma se invloed het die Darwin-kinders met vryheid, sonder die gebruiklike Victoriaanse outoritêre ouerskap, grootgeword. Vry spel was belangriker as reëls. Charles het ‘n glyplank gemaak waarop hulle en hulle ma op die trappe van die verdiepinghuis afgegly het en kleuters het oor die sitkamermeubels geklouter terwyl hy sy teorieë neergepen het. Die kinders onthou dat sy ‘galloping tunes’ op die klavier gespeel het en dan is die meubels opsygeskuif sodat die kinders kon gallop en dans. The origin of species het in 1859 inderdaad teen ‘n ‘disturbed background’ tot stand gekom.  

Charles was nie ‘n streng pa nie, hy het die kinders graag gesoen en gedruk. Hy het hom met ses pennies laat omkoop om die werk te los en saam met hulle buite te speel. Hulle was ook sy oë en het die plantmonsters versamel waarmee hy geëksperimenteer het. Die huis het in ‘n museum verander en Emma was ongesteur deur die slymerige plante, verrottende skulpe en dooie voëls, gestuur vanoor die hele wêreld, wat as Down House se binneversiering moes dien. In haar swanger toestand kon die reuke nie aangenaam gewees het nie. By tye moes sy klavier speel vir wriemelende wurms in ‘n bakkie sodat Charles hulle reaksie op musiek kon waarneem! 

Charles se gesondheid

Maar Charles se gesondheid het alles van haar gevra. Na sy terugkeer van sy reis op die Beagle het hy vir die res van sy lewe, dit is 46 jaar, gely aan ‘n kroniese ingewandsiekte wat hy in Suid-Amerika opgedoen het. In sy reisjoernaal verwys hy na ‘a great black bug of the Pampas’ wat hom in Argentinië gebyt het. Die gogga was ‘n draer van Chagas se siekte wat gepaard gegaan het met erge hoofpyne en krampe en braking (Emma skryf, ‘the sound of violent retching filled the house’). Die braking is voorafgegaan deur aanvalle van bewerasie, histeriese huilbuie en die gevoel dat hy besig is om dood te gaan. Dan het Emma by hom gesit, sy slape masseer om die hoofpyne te verlig, klavier gespeel en ligte romans voorgelees om hom te kalmeer. Tydens ‘n aanval in die nag kon sy hom glad nie alleen laat nie, want, het hy geskryf, ‘without you I feel most desolate. I long to be with you and under your protection, for then I feel safe.’   

Daar bestaan vandag ‘n sterk vermoede dat Charles Darwin ook Asperger-sindroom gehad het. Sy genialiteit, obsessiewe gedrag, aanvalle van depressie en skuheid vir mense wil daarop wys. Buite sy studeerkamer se venster is ‘n spieël aangebring sodat hy kon sien as gaste arriveer en dan het hy onttrek. Emma se daaglikse hantering van sy eksentrieke gedrag moet ons bewondering vir haar laat toeneem, meer so omdat sy self ernstige migraine-aanvalle gekry het. Sy is ook die een wat jaarlikse seevakansies gereël het sodat hy kon afskakel.   

The descent of man sien die lig in 1871 en sy vrees vir ‘n storm van kerklike kritiek, ook van Emma, omdat die afkoms van die mens daarin lynreg teen die Bybelse skeppingsverhaal indruis, bring weer hewige episodes van die siekte aan. Spotprente van Charles as ‘n oerang-oetang verskyn oral teen die lamppale en in die koerante. Maar die publiek se denke het tog aanbeweeg en dit word beter ontvang as Origin. Emma het albei boeke geproeflees en met haar kennis van verskeie tale, vertaal sy nou vir hom die briewe wat van oraloor instroom en ontvang die groot wetenskaplikes wat by die voordeur aanklop. Uit sy briewe is dit duidelik dat hy sy vrou oneindig waardeer het. Charles was ‘n gelukkige mens en hy het homself as geseënd beskou.  

Maar sy gesondheid het vinnig agteruit gegaan. Hy het geweldig gely en die wens uitgespreek: ‘If only I could but die’. Op 18 April 1882 sterf Charles Darwin op 73 jarige ouderdom. Dit het in die nag gebeur en Emma was nie by hom nie want sy het vir ‘n rukkie gaan rus. Hy het ook gevra dat sy nie geroep word nie.  

Die begrafnis sou in die dorpie Downe plaasvind. Die plaaslike skrynwerker, Lewis, het reeds die eenvoudige rof-afgewerkte kis gemaak soos Charles dit wou hê en die George & Dragon oorkant die kerk het gereed gemaak om die begrafnisgangers te ontvang, toe op aandrang van Charles se wetenskaplike vriende, aan Emma getelegrafeer word om toestemming te kry dat hy in Westminster Abdy te ruste gelê word. ‘n Berugte vrydenker in die Abdy vereer? Konvensionele Anglikane was geskok en die inwoners van die dorpie diep teleurgesteld oor haar besluit, maar Emma se toestemming was haar laaste opoffering aan hom, ‘because she loved him’, skryf hulle dogter Etty.  

Afskeid en daarna

Sy het afskeid geneem terwyl sy in die tuin gestaan en kyk het hoe die swart lykswa, getrek deur vier swart perde, onder ‘n grys hemel met sy stoflike oorskot van die huis af vertrek op die sestien kilometer reis na Londen waar hy in die Abdy in staatsie sou lê. Emma sou nie daar wees nie. Die familie was verteenwoordig deur die kinders en Parsons, die ‘butler’ van die huishouding. Sy het die dag alleen en stil in Down House deurgebring. Sy sou gebid het dat sy haar geliefde Charles weer sou sien om nooit weer geskei te word nie.  

Die volgende dag was sy geamuseer om die oordrewe taalgebruik van ‘n Unitariese predikant se beskrywing van die seremonie in die koerant te lees: ‘The nation’s grandest temple of religion opened its gates and lifted up its everlasting doors and bade the King of Science to come in’. Sy het Ps 24 herken: ‘Hef op julle poorte ja verhef julle ewige deure dat die Erekoning kan ingaan.’ 

Maar die struktuur van haar wêreld het in duie gestort. Haar hele lewe het om Charles gedraai en sy streng ritme het haar ontspanne geaardheid georden. Sy moes haar lewe herskep rondom die familie.  

Van nou af het Emma net die somers in Down House deurgebring. Sy het ‘n groot huis, The Grove, in Cambridge gekoop waar sy in die winter gewoon het. Twee van hulle seuns, Francis en Horace, het ook huise op die landgoed laat bou en ‘n ogie oor haar gehou. Nou het sy haar verdiep in die filosofie waarvoor sy nooit voorheen tyd gehad het nie. Maar sy het begin doof word en haar oë het dof geword. Artritis het haar gewrigte vervorm. Haar geheue was nog goed en in 1896 was dit moeilik om te glo dat sy 88 jaar oud is. Sy was in Down House op 27 September toe sy skielik siek word terwyl sy besig was om Henry James te lees. Toe Etty, hulle enigste oorlewende dogter, vir haar gaan nagsê, was sy besig om soos gewoonlik haar horlosie op te wen, toe sy agteroor val op die kussing. Sy het nie weer bygekom nie.  

Dit was ‘n stil begrafnis en al die winkels in Downe se hoofstraat was gesluit en die huise se blindings toegetrek terwyl die blomlose begrafnisstoet verby gegaan het. Van haar kinderdae tot haar oudag was Emma geliefd en gerespekteer deur almal wat haar geken het, en tog het sy onaangeraak en pretensieloos gebly. Nie roem of kritiek het haar beïnvloed nie. Sy het ‘n skerp intellek en humor na die huwelik gebring. Sy was die matriarg van die familie en die hart van Charles Darwin se lewe. Na sy dood het sy steeds haar verstand en gees ontwikkel. Baie bewus van die geloofsverskille tussen hulle, het sy elke kloof met liefde oorbrug. Sonder haar, sou Charles waarskynlik ‘n toegewyde wetenskaplike gewees het, maar ernstig gestrem deur swak gesondheid.  

As jy weer deur Westminster Abbey loop terwyl die orrelis oefen vir die volgende staatseremonie en jy gaan staan by die plak op die vloer skuins onder Sir Isaac Newton se monument, wat Charles Darwin se graf aandui, dink aan Emma Darwin. In 1896 is sy begrawe in die kerkhof van die Sint Mary’s kerkie in die stil Kentse dorpie Downe. Haar graf is moeilik om te vind, die gras is lank en die woorde op die grys grafsteen is verweer. Haar requiem word gesing deur die voëls in die bome van die kerk se tuin. En sy sou dit nie anders wou gehad het nie.   

Bronne:

Edna Healy 2002. Emma Darwin: The inspirational wife of a genius. London: Headline Book Publishing.

Viktoria Lyons & Michal Fitzgerald 2005. ‘Charles Darwin’, in Asperger Syndrome—a gift or a curse? New York: Nova Biomedical Books.    

http://en.wikipedia.org/wiki/Emma_Darwin

 

Emma Darwin: Charles Darwin se ander kant

Emma Darwin: Charles Darwin se ander kant
Dr Frances Klopper

Verlede jaar, 2009, was die 200ste gedenkjaar van Charles Darwin se geboorte op 12 Februarie 1809. Vrydag 12 Februarie vanjaar, sou hy 2001 jaar oud gewees het en is Darwinday weer wêreldwyd gevier. Met reg word sy prestasies en genialiteit oral met groot akklamasie herdenk, maar nêrens het Emma Darwin, sy vrou van 43 jaar, nog ‘n spreekbeurt gekry nie. Haar bydrae tot sy sukses is onmeetbaar, nie in die sin dat sy hom geïnspireer het deur wetenskaplike insette te lewer nie, want Darwin se genialiteit is toe te skryf aan die gene van sy talentvolle voorouers, maar sy was die medium waarin hy kon bestaan en werk. Sy het die omgewing geskep waarin sy ‘gene’ tot hulle reg kon kom. Daar is geen twyfel dat hy nie sonder haar kon bereik wat hy bereik het nie. Sy was ook ‘n besondere vrou in eie reg. Ons is dit aan Emma Darwin verskuldig om haar verhaal te vertel.

My belangstelling in Emma het in Julie verlede jaar begin toe ons in die dorpie Sevenoaks in Kent (20 kilometers suidoos van Londen) gekuier het. Daar loop ek toe vir twee pond ‘n effe moeg-geleesde biografie van Emma Darwin op ‘n sypaadjie-boekstalletjie raak. Hierin ontvou die ander kant van Charles Darwin se lewe en haar ervaring van ‘n lewe saam met hom, opgeteken in haar briewe en dagboekinskrywings. Emma Darwin se sestig dagboeke en ‘n leeftyd se familiebriewe word vandag in die Cambridge Universiteitsbiblioteek bewaar.

Agtergrond
Naby Sevenoaks, tussen die groen lanings van die Kentse platteland, ontdek ons ook Down House, die groot vierkantige verdiepinghuis waarin die Darwins vir veertig jaar gewoon het, waar hulle hulle kinders grootgemaak het, waar hy On the origin of species en The descent of Man geskryf het en waar hy in 1882, en veertien jaar later ook Emma, in 1896, gesterf het.  
Charles en Emma se lewe saam is vervleg met hulle agtergrond. Charles Darwin en Emma Wedgwood het mekaar van kleintyd goed geken want hulle was bloedneef en -niggie met ‘n gemeenskaplike oupa, Josiah Wedgwood l, stigter van die beroemde Wedgwood pottebakkersryk waarvan die ware in elke Europese koningshuis gepryk het. Elizabeth die Grote van Rusland het gespog met ‘n volledige Wedgwood eetservies met Engelse natuurtonele op elke bord. Harrods, die groot afdelingswinkel in Londen se buitekant is geteël met Wedgwood teëls uit die fabriek van Emma en Charles se voorvader. Die Wedgwoods en Darwins was welgestelde aristokratiese families in Victoriaanse Engeland. Hulle was deel van die opkomende professionele klas van uitvinders, handelaars en geleerdes wat gegroei het uit die Industriële Rewolusie wat in die middel-sewentienhonderd in die Middellande van Engeland ontstaan het.

Hulle het onder mekaar getrou en ‘n hegte vriendskaps- en familieband het ontstaan, hoewel hulle agtergronde verskil het. Die Darwins het universiteitsopleiding gehad en hulle was godsdienstig-vrydenkend. Charles se pa Robert Darwin, en sy oupa Erasmus Darwin, was suksesvolle mediese dokters uit die Shrewsbury-omgewing. Die Wedgwoods daarenteen, was handelaars en skeppende kunstenaars en toegewyde Unitariërs. Die kenmerk van die Unitariese geloof is dat hulle nie in ‘n drieënige God glo nie. Dit is welbekend dat Emma en die kinders, as hulle die plaaslike Anglikaanse kerk besoek het, hulle rug gedraai het op die kansel terwyl die geloofsbelydenis gelees word.

Emma se verhaal begin met haar geboorte in 1808 op die familielandgoed Maer in Staffordshire, die jongste van agt kinders. Sy het ontwikkel in ‘n borrelende, alomgeliefde en pragtige jong vrou. Soos ons later weer sal sien, was netheid en orde nie haar sterkste punt nie. Haar bynaam was ‘Miss Slip-Slop’ omdat die lewe vir haar oor belangriker dinge gegaan het as om weg te pak en reg te pak. Hierdie eienskap van Emma het Charles se soort van navorsing goed gepas. Haar ordelike ouer sussie, Fanny, was haar beste vriendin en die twee was onafskeidbaar. Hulle pa, Josiah Wedgwood ll, of Jos soos almal hom geken het, en haar ma Bessie Allen, het, raar vir daardie tyd, geglo in ‘n goeie opvoeding vir hulle dogters. Gewone dagskole was daar nie en Emma het sangonderrig van ‘n operasangeres uit Londen gekry; ’n taaltutor het in Maer Hall by die familie ingewoon en Frans by haar ingeprent. Die biblioteek in Maer Hall was gevul met boeke oor elke denkbare onderwerp en Emma was altyd intellektueel gestimuleer. In 1825, op sewentienjarige ouderdom neem haar ouers vir haar en haar susters met ‘n perde-koets op ‘n Grand Tour deur Europa waar sy die kunsgalerye, museums en opera ingedrink het en opgewonde skryf oor ‘n trop buffels wat hulle in die suide van Italië raakgeloop het. Buffels in Italië? Wel, kyk maar op Google, die trop is nou nog daar. Nietemin, Emma was ‘n buitengewoon ingeligte jong vrou vir haar tyd. Sy was, wat ons sou noem, ‘n Renaissance-vrou wat iets van alles geweet het. Sy was ‘n uitstekende pianis en is in Londen onderrig deur beroemde pianiste, onder meer Frederic Chopin self, beweer sommige bronne. Sy het intens belang gestel in die politieke intriges van die tyd en aktief geagiteer vir slawevrystelling. Trou was nie vir haar ‘n opsie nie.

Haar ernstige nefie Charles Darwin, met sy passie vir jag en die versameling en klassifikasie van goggas, plante en klippe, het sy vervelig gevind. In haar dagboeke en briewe is ook min verwysings na hom en sy epiese vyf-jaar-lange reis om die wêreld in die HMS Beagle wat van 1831 tot 1836 geduur het. In hierdie tyd het  Emma ‘n pynlike tragedie ervaar. Haar geliefde Fanny word in Augustus 1832 siek en sterf ‘n week later aan cholera. Dit het vir Emma tot introspeksie gedryf en sy word meer ernstig en diep gelowig. Vir die eerste keer vind sy werklike troos in die Unitariese tradisie van haar voorouers. ’n Onwrikbare geloof in ‘n lewe na die dood en die krag van gebed word die geloofstrukture waarop sy vir die res van haar lewe sou steun.


Voorspel tot ‘n liefdesverhaal
In Oktober 1836 kry Jos ‘n brief van Charles Darwin om te sê die Beagle het vasgemeer in die Plymouth-hawe en hy sou graag Maer Hall besoek om deel te neem aan die jagseisoen op die landgoed wat pas begin het. Charles se terugkeer en sy kuier in Maer Hall, in Emma se 28ste jaar, het haar lewe ingrypend verander. Dit was ‘n ander Charles. Met nuwe respek luister sy na sy vertellings van vreemde lande en mense en teorieë oor die evolusie van die spesies. En vir die eerste keer is Emma verlief.

Vir Charles het verliefdheid en trou nie so maklik gekom nie. Hy het besef dat dit van hom verwag word, en sy familie het druk op hom uitgeoefen, maar Emma was in elk geval ‘so much his superior in every respect’, skryf hy later, dat hy min moed gehad het om haar as vrou te kry. Nou benader Charles, die toonbeeld van rasionele denke, ‘n irrasionele  onderwerp uit ‘n suiwer analitiese oogpunt. Hy gaan sit en analiseer die voordele en nadele van die getroude lewe in twee kolomme: ‘Marry’ en ‘Not marry’.
In die voordele-kolom skryf hy:                                                                         In die Nadele-kolom skryf hy: 
Kinders (as dit God se wil is)
 Konstante maat en vriend op die oudag wat in hom sal belangstel.
Objek om as geliefde te dien (‘n seksobjek?) en om mee te speel. ‘Better than a dog in any case’.  
‘n Huis en iemand om dit te versorg.
Bekoring van musiek en vroulike gebabbel.
Dié dinge is goed vir ‘n mens se gesondheid, maar ‘n groot verlies aan tyd!
                     
Vryheid van beweging ingeperk.
Gemis van gesprek met intelligente mans by klubs.
Geforseer om familie te besoek.
Die uitgawes en spanning wat kinders meebring, miskien rusies.
Verlies aan tyd – kan nie saans lees nie. Gewig optel van  ledigheid.
Meer verantwoordelikheid en minder geld vir boeke. Maar dan weer is dit baie sleg vir die gesondheid om te veel te werk.
Uiteindelik kry die voordele die oorhand in die argument as hy sê:
‘My God, it is intolerable to think of spending ones whole life, like a neuter bee, working, working, & nothing after all. No, no won’t do. Imagine living all one’s day solitarily in smoky dirty London House. Only picture to yourself a nice soft wife on a sofa with good fire, & books & music perhaps. Compare this vision with the dingy reality.’ ‘Cheer up, (hy moet homself moed inpraat want hy is nie lus vir die spulletjie nie) one cannot live this solitary life, with groggy old age, friendless & cold & childless staring one in ones face, already beginning to wrinkle.’ Let wel, emosies en liefde speel geen rol nie! Hoe het Emma hom nie verander nie!

In November 1938 skraap hy sy moed bymekaar om vir Emma die jawoord te vra. Charles is verras as sy onmiddellik instem en nou veroorloof hy sy gevoel en emosies om die oorhand te kry in sy minnebriewe. Uit sy ouerhuis in Shrewsbury skryf hy in sy eerste brief aan Emma: ‘My own dear Emma, I kiss the hands with all humbleness and gratitude which have so filled up for me the cup of happiness. It is my most earnest wish that I may make myself worthy of you’.

Hulle trou stil in die volgende jaar op die Maer-landgoed. Die huweliksontbyt was kort want die koets het gewag om hulle Birmingham toe te neem vanwaar die nuwe spoorlyn na Londen pas voltooi is. Na ‘n verblyf van drie jaar in Londen waar hulle eerste kind, William, gebore is, trek Charles en Emma na Down House in Kent.

‘n Eenheid van teenoorgesteldes
Hier in Down House begin Charles nou sy loopbaan wat vir hom beroemdheid sou verwerf vir alle tye. Hulle huwelik sou ‘n eenheid van teenoorgesteldes wees: Hy was metodies en geroetineerd. Elke dag dieselfde tyd stap hy met sy kierie dieselfde paadjie op die Downe landgoed en neem elke plant en goggatjie waar. Sy was gemaklik, gesellig en ongeërg. Sy ordelikheid orden noodgedwonge ook haar lewe.
Hy was altyd gespanne en onseker van homself omdat hy die stabiliteit van ‘n ma op agt-jarige ouderdom veloor her. Sy was vol selfvertroue uit ‘n groot gesellige, warm familie. Hy kom uit ‘n onvaste agtergrond van die Darwin-skeptisisme. Sy kom uit ‘n vaste basis van die Wedgwood-geloof.
Hy waarsku haar dat hy ‘n alleenloper is, maar vertrou dat sy hom sou leer dat daar groter geluk is as om teorieë en data in afsondering te versamel. Sy skryf aan hom – sy kon haarself altyd beter op papier as in woorde uitdruk - oor haar vrees dat die verskil in hulle geloofsoortuigings verwydering in hulle verhouding sou bring. Sy waardeer sy openheid teenoor haar en glo dat sy twyfel oor God wat sy navorsing meegebring het en wat mettertyd tot agnostisisme en ongeloof sou lei, eerlike soeke na die waarheid is, en daarom nie sonde kan wees nie. Lewe na die dood was vir haar ‘n werklikheid en sy wou nie aanvaar dat hulle ooit geskei sou wees nie. Daarom is dit ‘n tragiese ironie dat hulle uiteindelik apart begrawe is.   

Die kinders
Uit die huwelik is tien kinders gebore. Emma noem dit haar ‘affliction’ om vir twaalf jaar lank, tot haar ag-en-veertigste jaar, permanent swanger te wees. Ná een geboorte-vry jaar, skryf Charles aan sy vriend, Hooker, ‘Emma has been very neglectful of late, we have not had a child for one whole year!’ Geboortebeperking was vir hom onaanvaarbaar, nie net omdat dit deur die kerk verbied was nie, maar wie sal die kolonies koloniseer as die bevolking beperk word? Haar bevallings was moeilik en sy het elkeen met angs tegemoet gegaan, maar gelukkig is chloroform in die tyd uitgevind en is haar laaste drie kinders met behulp daarvan gebore. Die dosering was nog onbekend en toe die dokter met een bevalling laat opdaag, het Charles sommer die nodige gedoen met ‘n oordosering wat haar vir ‘n uur en ‘n half bewusteloos gelaat het. Dis vir my mooi dat sy tòg probeer het om die swangerskappe te beperk want in haar dagboeke is die ‘veilige tye’ van die maand sorgvuldig met kruisies gemerk. Die metode het uiteraard nie vir haar so goed gewerk nie. Sy was ‘n toeganklike en toegewyde ma. Elke dag moes die kinders rondom haar sit terwyl sy hardop vir hulle uit Dickens en Thackeray voorgelees het.

Maar, ‘in Victorian times there were many little coffins’ want aansteeklike siektes het soos veldbrand versprei van die een dorpie na die ander en hulle het drie kinders aan die dood afgestaan van wie die laaste, Charles Waring, Downsindroom gehad het. Van kleins af het Charles sy gedrag waargeneem en aangeteken. Toe hy op tweejarige ouderdom aan witseerkeel sterf, kon hy dit aanvaar op grond van die ‘survival of the fittest’-beginsel. Maar die tienjarige, liefdevolle en intelligente Annie se dood aan tuberkulose in 1850, het sy geloof finaal geknou. Emma se troos was dat hulle weer met haar herenig sou wees, maar vir Charles was sy ‘a flower cut down into the dust.’

Onder Emma se invloed het die Darwinkinders met vryheid, sonder die gebruiklike Victoriaanse outoritêre ouerskap, grootgeword. Vry spel was belangriker as reëls. Charles het ‘n glyplank gemaak waarop hulle en hulle ma op die trappe van die verdiepinghuis afgegly het en kleuters het oor die sitkamermeubels geklouter terwyl hy sy teorieë neergepen het. Die kinders onthou dat sy ‘galloping tunes’ op die klavier gespeel het en dan is die meubels opsygeskuif sodat die kinders kon gallop en dans. The origin of species het in 1859 inderdaad teen ‘n ‘disturbed background’ tot stand gekom.

Charles was nie ‘n streng pa nie, hy het die kinders graag gesoen en gedruk. Hy het hom met ses pennies laat omkoop om die werk te los en saam met hulle buite te speel. Hulle was ook sy oë en het die plantmonsters versamel waarmee hy geëksperimenteer het. Die huis het in ‘n museum verander en Emma was ongesteur deur die slymerige plante, verrottende skulpe en dooie voëls, gestuur vanoor die hele wêreld, wat as Down House se binneversiering moes dien. In haar swanger toestand kon die reuke nie aangenaam gewees het nie. By tye moes sy klavier speel vir wriemelende wurms in ‘n bakkie sodat Charles hulle reaksie op musiek kon waarneem!

Charles se gesondheid
Maar Charles se gesondheid het alles van haar gevra. Na sy terugkeer van sy reis op die Beagle het hy vir die res van sy lewe, dit is 46 jaar, gely aan ‘n kroniese ingewandsiekte wat hy in Suid-Amerika opgedoen het. In sy reisjoernaal verwys hy na ‘a great black bug of the Pampas’ wat hom in Argentinië gebyt het. Die gogga was ‘n draer van Chagas se siekte wat gepaard gegaan het met erge hoofpyne en krampe en braking (Emma skryf, ‘the sound of violent retching filled the house’). Die braking is voorafgegaan deur aanvalle van bewerasie, histeriese huilbuie en die gevoel dat hy besig is om dood te gaan. Dan het Emma by hom gesit, sy slape masseer om die hoofpyne te verlig, klavier gespeel en ligte romans voorgelees om hom te kalmeer. Tydens ‘n aanval in die nag kon sy hom glad nie alleen laat nie, want, het hy geskryf, ‘without you I feel most desolate. I long to be with you and under your protection, for then I feel safe.’

Daar bestaan vandag ‘n sterk vermoede dat Charles Darwin ook Asperger-sindroom gehad het. Sy genialiteit, obsessiewe gedrag, aanvalle van depressie en skuheid vir mense wil daarop wys. Buite sy studeerkamervenster is ‘n spieël aangebring sodat hy kon sien as gaste arriveer en dan het hy onttrek. Emma se daaglikse hantering van sy eksentrieke gedrag moet ons bewondering vir haar laat toeneem, meer so omdat sy self ernstige migraine-aanvalle gekry het. Sy is ook die een wat jaarlikse seevakansies gereël het sodat hy kon afskakel.

The descent of man sien die lig in 1871 en sy vrees vir ‘n storm van kerklike kritiek, ook van Emma, omdat die afkoms van die mens daarin lynreg teen die Bybelse skeppingsverhaal indruis, bring weer hewige episodes van die siekte aan. Spotprente van Charles as ‘n oerang-oetang verskyn oral teen die lamppale en in die koerante. Maar die publiek se denke het tog aanbeweeg en dit word beter ontvang as Origin. Emma het albei boeke geproeflees en met haar kennis van verskeie tale, vertaal sy nou vir hom die briewe wat van oraloor instroom en ontvang die groot wetenskaplikes wat by die voordeur aanklop. Uit sy briewe is dit duidelik dat hy sy vrou oneindig waardeer het. Charles was ‘n gelukkige mens en hy het homself as geseënd beskou.

Maar sy gesondheid het vinnig agteruit gegaan. Hy het geweldig gely en die wens uitgespreek: ‘If only I could but die’. Op 18 April 1882 sterf Charles Darwin op 73 jarige ouderdom. Dit het in die nag gebeur en Emma was nie by hom nie want sy het vir ‘n rukkie gaan rus. Hy het ook gevra dat sy nie geroep word nie.

Die begrafnis sou in die dorpie Downe plaasvind. Die plaaslike skrynwerker, Lewis, het reeds die eenvoudige rof-afgewerkte kis gemaak soos Charles dit wou hê en die George & Dragon oorkant die kerk het gereed gemaak om die begrafnisgangers te ontvang, toe op aandrang van Charles se wetenskaplike vriende, aan Emma getelegrafeer word om toestemming te kry dat hy in Westminster Abdy te ruste gelê word. ‘n Berugte vrydenker in die Abdy vereer? Konvensionele Anglikane was geskok en die inwoners van die dorpie diep teleurgesteld oor haar besluit, maar Emma se toestemming was haar laaste opoffering aan hom, ‘because she loved him’, skryf hulle dogter Etty.

Afskeid en daarna
Sy het afskeid geneem terwyl sy in die tuin gestaan en kyk het hoe die swart lykswa, getrek deur vier swart perde, onder ‘n grys hemel met sy stoflike oorskot van die huis af vertrek op die sestien kilometer reis na Londen waar hy in die Abdy in staatsie sou lê. Emma sou nie daar wees nie. Die familie was verteenwoordig deur die kinders en Parsons, die ‘butler’ van die huishouding. Sy het die dag alleen en stil in Down House deurgebring. Sy sou gebid het dat sy haar geliefde Charles weer sou sien om nooit weer geskei te word nie.

Die volgende dag was sy geamuseer om die oordrewe taalgebruik van ‘n Unitariese predikant se beskrywing van die seremonie in die koerant te lees: ‘The nation’s grandest temple of religion opened its gates and lifted up its everlasting doors and bade the King of Science to come in’. Sy het Ps 24 herken: ‘Hef op julle poorte ja verhef julle ewige deure dat die Erekoning kan ingaan.’
Maar die struktuur van haar wêreld het in duie gestort. Haar hele lewe het om Charles gedraai en sy streng ritme het haar ontspanne geaardheid georden. Sy moes haar lewe herskep rondom die familie. Van nou af het Emma net die somers in Down House deurgebring. Sy het ‘n groot huis, The Grove, in Cambridge gekoop waar sy in die winter gewoon het. Twee van hulle seuns, Francis en Horace, het ook huise op die landgoed laat bou en ‘n ogie oor haar gehou. Nou het sy haar verdiep in die filosofie waarvoor sy nooit voorheen tyd gehad het nie. Maar sy het begin doof word en haar oë het dof geword. Artritis het haar gewrigte vervorm. Haar geheue was nog goed en in 1896 was dit moeilik om te glo dat sy 88 jaar oud is. Sy was in Down House op 27 September toe sy skielik siek word terwyl sy besig was om Henry James te lees. Toe Etty, hulle enigste oorlewende dogter, vir haar gaan nagsê, was sy besig om soos gewoonlik haar horlosie op te wen, toe sy agteroor val op die kussing. Sy het nie weer bygekom nie.

Dit was ‘n stil begrafnis en al die winkels in Downe se hoofstraat was gesluit en die huise se blindings toegetrek terwyl die blomlose begrafnisstoet verby gegaan het. Van haar kinderdae tot haar oudag was Emma geliefd en gerespekteer deur almal wat haar geken het, en tog het sy onaangeraak en pretensieloos gebly. Nie roem of kritiek het haar beïnvloed nie. Sy het ‘n skerp intellek en humor na die huwelik gebring. Sy was die matriarg van die familie en die hart van Charles Darwin se lewe. Na sy dood het sy steeds haar verstand en gees ontwikkel. Baie bewus van die geloofsverskille tussen hulle, het sy elke kloof met liefde oorbrug. Sonder haar, sou Charles waarskynlik ‘n toegewyde wetenskaplike gewees het, maar ernstig gestrem deur swak gesondheid.

As jy weer deur Westminster Abbey loop terwyl die orrelis oefen vir die volgende staatseremonie en jy gaan staan by die plak op die vloer skuins onder Sir Isaac Newton se monument, wat Charles Darwin se graf aandui, dink aan Emma Darwin. In 1896 is sy begrawe in die kerkhof van die Sint Mary’s kerkie in die stil Kentse dorpie Downe. Haar graf is moeilik om te vind, die gras is lank en die woorde op die grys grafsteen is verweer. Haar requiem word gesing deur die voëls in die bome van die kerk se tuin. En sy sou dit nie anders wou gehad het nie.  

Bronne:
Edna Healy 2002. Emma Darwin: The inspirational wife of a genius. London: Headline Book Publishing.
Viktoria Lyons & Michal Fitzgerald 2005. ‘Charles Darwin’, in Asperger Syndrome—a gift or a curse? New York: Nova Biomedical Books.    

http://en.wikipedia.org/wiki/Emma_Darwin

GELOOF AS GROEI

Gerrit Genis
 

Groei & Ontwikkelingsfases

  • Jean Piaget, Cognitive Theory
  • Westerhof, Robert Kegan, Heanny, Yount
  • Hegel, Jung, Erikson

James Fowler se fases van geloofsontwikkeling

  • James Fowler:
    • Candler Professor of Theology and
    • Human Development at Emory University
  • United Methodist Church
  • Sielkundige
James Fowler

Stages of Faith: The Psychology of Human Development and the Quest for Meaning

 

Padkaarte

  • Verskillende soorte padkaarte
  • Elkeen se pelgrimsreis is uniek (soms ontmoet ons by oasisse)
  • GELOOF - 'n Wyse van leef wat alle aspekte van ons lewe raak ('n werkwoord)
  • "Geen geen stadium is beter is as 'n ander nie"
    Elke stadium bied egter 'n breër en dieper verstaan en ervaring van geloof as die vorige".
  • Fowler se geloofstadiums fokus op HOE ons glo versus WAT ons glo

Geloofsoorgange

  • Die geloofsreis impliseer dikwels radikale veranderings met gepaard-gaande krisisse in mens se lewe.
  • Van die oorgange word gekenmerk deur fundamentele teenstrydighede (ambiguity) en 'n diep ervaring van alleenwees/isolasie (deep sense of alienation)
  • Omdat die geloofsoorgange so moeilik en pynvol is, bly mense dikwels eerder in 'n vorige fase as om die onsekerheid van 'n oorgang deur te gaan. Mense bly in 'n fase totdat die pyn om te bly waar jy is te erg raak.
  • Indien mens geriefshalwe aanbly in 'n fase waar mens nie meer tuis is nie, ervaar jy die inherente wete dat jy nie outentiek en kongruent is nie.

Dimensies van Geloofsverandering

  • Hoe mens oor sake dink
  • Jou vermoeë om ander se standpunte in te sien
  • Die manier waarop mens morele gevolgtrekkings maak
  • Die manier en mate waartoe mens grense defineer rondom hul geloof en geloofsgemeenskap
  • Die wyse waarop hul omgaan met " gesagsfigure " en hul " waarheidsaansprake "
  • Die wyse waarop hul 'n wêreld-siening vorm
  • Die wyse waarop hul simbole verstaan en daarmee omgaan

Even though our physiological gifts start out the same-- cutting teeth, crawling and walking, learning language, etc.-- what we make of these gifts depends on

  • our desire and will,
  • our imagination and intelligence(s), and
  • the opportunities life places before us.

Fowler

 

Fowler se 6 Geloofsfases

Fase 1 – Die onskuldige

  • Voorskoolse kinders (tot en met ongeveer 6 jaar)
  • AANVANKLIK: Ouers (maar veral jou Ma) stel vir jou God voor
    (geborgenheid, sekuriteit, liefde, ens.)
  • LATER: Ervaar en verstaan God en geloof deur familie-ervaring.
    Het geen interne strukture om ervarings mee uit te sorteer nie.

Experiences and images that occur and take form before the child is six have powerful and long-lasting effects on the life of faith, both positive and negative

Fowler

Fase 2 – Die letterlike

KINDERS

  • Vanaf ouderdom 6
    • Begin vermoeë ontwikkel om ervarings te kategoriseer
    • Nuwe invloede wat ook inwerk op die kind se wêreld
  • Interpreteer stories en verduidelikings van geloof letterlik
  • Assosieer met "Mense soos ons"
  • Krities teenoor "mense wat anders as ons is"

VOLWASSENES

  • Soek:
    • 'n meer letterlike vertolking van die Skrif
    • Sekuriteit
    • 'n Diep ervaring van toewyding en oortuiging
  • Word sterk beïnvloed deur reëls en outokratiese leeringe.
  • God - 'n streng en regverdige, maar liefdevolle ouer.
  • ~20% volwassenes in die stadium van geloof - M Scott Peck

Religious maturity and human maturity are intimately connected. An immature religious view of life may be the result of not having negotiated the stages of human growth. However, religious structures themselves have at times inhibited human growth.

John J. Heaney, 1984

Fase 3 – Die konformis

  • Konvensionele kerkgangers
  • Konformerende of "stam" fase – Fokus op verwagtinge en opinies van persone wat belangrik geag word (significant others)
  • Diep oortuigings, toegewyde werkers
  • Eksterne outoriteite:
    • "wat die Bybel sê", of "wat predikante leer"
  • Kan persone nie buite hul geloofstelsel staan en dit in-diepte kritiseer nie.
  • Sien God as 'n teïstiese (transcendent) wese
    • Ongemaklik met die idee van 'n goddelike binne jou
  • Wil graag "behoort".
  • Kerkgemeenskap definieer hul identiteit, verskaf steun in moeilike tye, word gesien as uitgebreide familie.
  • Verkies harmonie – Voel bedreig deur kontroversie
  • Dualistiese geloofsraamwerk:
    • Goed vs Sleg
    • Heilig vs Sekulêr
    • Christen vs Nie-Christen
    • Gered vs Nie-gered
  • Onvoldoende begrip van eie identiteit
  • Kan nie 'n onafhanklike perspektief konstueer en onderhou nie.

"Who am I? Where am I going? During this time they (the adolescents) begin to question the value system, beliefs, and attitudes they received from their parents, because they discover, to their shock, that adults are not always right."

Yount, 1996

"…because of this new found way of thinking, the adolescent may begin to doubt and question their earlier religious training received from parents and other adults. This may seem as antagonistic but it is necessary because honest doubt often leads to faith".

"A person who does not have the courage to doubt may not acquire the wisdom to believe"

Strunk, 1959

"Adolescents begin to develop a sense of separateness and responsibility. They come to realize, perhaps only intuitively or unconsciously, that they are separate people subject to the same fundamental existential aloneness as every other person is. Along with this, however, come the sense of individual responsibility for facing life and the dilemmas it poses".

Paloutzian, 1996

Fase 4 – Die kritikus

  • Baie moeilike oorgang.
  • Gedryf deur strewe na Kongruensie / outentiekheid
  • Twee sub-fases:
    • Ontwaking Van Nuwe Selfbewussyn
      Verantwoordelikheid vir eie dade, waardes, geloof
      Neem posisie in teen "significant others" van vroeëre fases.
    • Kritiese Herevaluering
      Waardes, geloof en verwagting van vroeër
      Afbreek van wat geleer en "ervaar" is tot op hede
  • Onafhanklikheid
  • Non-konformis

 

  • Evalueer oorgelewerde waardes, geloof, wêreldsienings en aksies krities
  • Fokus dikwels op foute, ongerymdhede, onbeantwoorde aspekte en oor-simplistiese oplossings.
  • Uitpak van vorige geloof en praktyke van vorige geloofsgemeenskappe
  • Ontwikkel respek en vertroue in eie gevoelens, intuisie en persoonlike oordeel.
  • Die Kritikus beskou dit as belangrik om self verantwoordelikheid te neem vir eie geloof, besluite kongruensie/outentiekheid.
  • Nie meer bereid om blindelings die skare te volg nie. Voel onttuis in strukture wat van hulle verwag om "afhanklik" te wees.

 

  • Begin betrokke raak by die aktiwiteite en geloof van ander groepe waarmee hul nie vroeër sou assosieer nie.
  • Behou slegs simbole indien dit in bruikbare konsepte kan vertaal word.
  • Voel tuis in groepe wat intellektuele stimulasie en uitdagings bied en nie eksterne of konvensionele verwagtinge koester nie.
  • Waardeer forums waar hul mag vrae vra, en waar divergensie in geloof waardeer word.
  • Gemaklik met kritiek, debat en selfs verskille

Fase 5 – Die siener

  • KLAARBLYKLIKE TEENSTRYDIGHEDE!!
  • Selfversekerde, nuut-ontdekte self word gekonfronteer met die diepte van die onbewuste en die onbekende.
  • Bewuswording van realiteite van die dood – dws. middeljare
  • Fowler: Fase begin rondom vier gewaarwordings:
    1. Balansering van teenpole in jou lewe
      • Beide oud en jonk,
      • Beide jou manlike en vroulike dimensies
      • Jou bewuste vs. jou skadu self
    2. Waarheid is baie meer kompleks en multivormig
    3. Geloofsgroei
      • Vanaf die reduksionele benadering van die Kritikus
        na
        Konseptionele verstaan van simbole, mites en liturgie.
    • Tweede naiwiteit - 'n post-kritiese ontvanklikheid en gereedheid vir deelname in die realiteite wat tot uitdrukking kom in simbole en mites
    1. Opregte Openheid vir waarhede van ander tradisies en gemeenskappe
  • Kan identifiseer met perspektiewe anders as hul eie
    (maar nie 'n onkritiese of totale aanvaarding nie)
  • Identifiseer gemaklik met mense van alle rasse, sosio-ekonomiese status en verskillende geloofstelsels.
  • ie Siener se geloof is die Siener s'n – 'n Diep-gewortelde geloof wat volkome aansluit by al die ander dimensies van hul lewens kongruensie
  • Sieners voel tuis met misterie en die grootsheid (vastness) van die onbekende. Besef onvermoeë om "alles" te verstaan.
  • Grense van die fase is gewoonlik breed en difuus

Fase 6 – Die heiliges

  • Twee belangrike oorgange:
    • Verwydering van die eie ek as lewens fokus.
      'n Skuif weg vanaf normale menslike obsessies met oorlewing, sekuriteit, en erkenning (Maslow se hierargie van menslike behoeftes)
    • 'n Skuif na die volledige aanvaarding van God/die goddelike in alle dimensies van die lewe.
  • Fowler: Slegs 1.6% van mense ouer as 61 jaar!
  • Voorbeelde:
    • Bonhoefer, Suster Theresa, Mandela, Martin Luther King, Biskop Tutu

 

Fowler's Stages Of Faith

For Fowler, both faith and love fuse reason and emotion, love and faith follow similar dynamics of growth. Life is viewed as a "pilgrimage" in which a quest and a hunger receive enough satisfaction to avoid despair, along with enough dissatisfaction to keep the pursuit alive. For him, faith is the ultimate category of consciousness. Even though he defines it so it does not refer to religious beliefs or indeed to religion at all, for Fowler faith refers to a person's ultimate place of trust and commitment . Faith for Fowler is an active "mode-of-being-in-relation" that draws out our deepest commitment, belief, love, risk, and hope.

Love best represents that dynamic, because it keeps the focus on both the direction and the intensity of the pilgrimage. Love reminds us that the direction is personal and intimate. Love reminds us that commitment, belief, risk, and hope are personal ventures (wagers) in behalf of other human beings. To the extent that we are in relationship with others who interact with us, show consistency in their caring for us, and provide us trustworthy feedback, to that extent we will form reliable images of ourselves, and maintain our identity even while we are changing it.

The modern Jewish philosopher Martin Buber provided profound insight with his definition of "I-Thou" as the ultimate relationship. We must live our lives among those we view and treat as "Thous" who call forth, confirm, and challenge our "I." This I-Thou relationship lies at the heart of our most intimate experiences with another person, but it also fuels our relationships with the larger, more impersonal world of vocation and leisure. Through I-Thou love, vocation can become transformed into Calling, the sense of destiny and adventure inherent in satisfying work; leisure can become Envisioning Playfulness, the sense of exploration and discovery inherent in fulfilling our dreams. Love is the dynamic that embraces you and

Piaget and Kohlberg have given us, Fowler says, "a new perspective on human thought, valuing, and behavior. They have challenged us to see that it is not just the contents of our ideas and values that differ; at various stages in our development the fundamental patterns of operation [the way we think things work] may be quite different."

Our "structures of thinking" help us to see how we reason and make judgments and preferences at different stages of life. "They are not conscious; we are not aware of them in a way in which we could explain them. Rather, they are the implicit rules underlying consciousness . They follow the same trajectory among different cultures, nationalities, and language groups .

What do we mean by consciousness? Consciousness is "a patterned process of thinking and valuing, and the unfolding awareness we develop of that patterned process." What is a stage? Fowler defines the kind of stage that he, Kohlberg, and Piaget employ, as "a structural whole of integrated operations of thinking and valuing that is available to a person at a given time." Fowler also claims that each stage is "hierarchical, sequential, and invariant."

The dynamic that enables one person to move richly and powerfully into the later stages is, Fowler says, "the interplay between an active, structuring self and an equally dynamic environment. Even though our physiological gifts start out the same-- cutting teeth, crawling and walking, learning language, etc.-- what we make of these gifts depends on our desire and will, our imagination and intelligence(s) and the opportunities life places before us.

Kohlberg and Piaget stand in the tradition of Kant in making a rigorous distinction between reason and emotion (or as Piaget would term it, cognition , the structures of knowing, and affection (the motive-force of knowing). Kohlberg also believes they are distinct, but adds that they are inseparable and interpenetrating in every mental act. In contrast, Erikson and Fowler stand in the tradition of Hegel and Jung. They all recognize the impact of irrational, unconscious dynamics on what we like to call rationality. They emphasize the power of symbols to kindle the imagination in ways that require a different kind of "logic" to describe.

 

Die inligting is beskikbaar in die oorspronklike Powerpoint format vanaf Gerrit by ggenis@mailzone.co.za

 

Geweld in heteroseksuele verhoudings

 

Geweld in heteroseksuele verhoudings: enkele gedagtes
Dina Spangenberg
25 Januarie 2009
 
There is nothing nobler or more admirable than when two people who see eye to eye keep house as man and wife, confounding their enemies and delighting their friends. (Homer)
 
We must acknowledge that violence is not the same as anger. While anger is an emotion, violence is a behaviour. We must also acknowledge that violence is always a choice, noting that most men who are violent towards their partners do not usually display similarly violent or abusive behaviour towards others. (Danny Blay)
 
1.            Inleiding
 
In die jongste Marie Claire (Februarie 2009) verskyn verskeie naakfoto’s van bekende persone om mense bewus te maak van geweld teen vroue. Kan so ’n projek die gewensde resultate oplewer? Dra hierdie foto’s nie maar net by tot die uitbuiting van die vroulike liggaam nie? Sal mans wat hierdie foto’s sien aangespoor word om vroue te mishandel, of om vroue te respekteer? Joan Hambidge lewer in By (Saterdag 24 Januarie 2009) goeie kommentaar wanneer sy skryf: “Om hierdie foto’s as ’n veldtog teen geweld te gebruik, klink ondeurdag, juis omdat die meeste kykers openlike naaktheid as vulgêr ervaar.”
 
Godsdienstige uitsprake soos die van Rick Warren wat pas by Barack Obama se inhuldiging opgetree het, is ook nie bevorderlik om vroue te bemagtig nie. Volgens ’n internetbron het hy die volgende gesê: “Abuse is no excuse for women to seek divorce.” Vroue mag nie sondermeer van hulle mans skei indien laasgenoemde hulle mishandel nie, want Maleagi 2:16 sê: “God haat egskeiding”. Daar is volgens Warren nie ’n teks wat onomwonde sê dat vroue wat mishandel word met ’n geruste hart van hulle mans mag skei nie. As God egskeiding haat, moet vroue mishandeling eerder verduur as om te skei.
 
2.            Definisie
 
Die 1998 RSA wet op gesinsgeweld definieer geweld baie breed. Afgesien van fisiese, seksuele, emosionele en ekonomiese mishandeling sluit dit ook intimidasie, agtervolging, teistering, skade aan eiendom, betreding van eiendom, ens. in.
 
In ’n PowerPoint aanbieding met die titel “‘When I call for help’: A Pastoral Response to Domestic Violence” wat op die internet beskikbaar is, definieer ’n groep Katolieke biskoppe in die VSA gesinsgeweld soos volg :
 
“Domestic violence is any kind of behavior that a person uses to control an intimate partner through fear and intimidation. It includes physical, sexual, psychological, verbal and economic abuse. Examples include battering, name calling and insults, threats to kill or harm one’s partner or children, marital rape, or forced abortion.”
 
Dis interessant dat hierdie Katolieke biskoppe vroue wat in ’n verhouding leef waar hulle mishandel word, wil bemagtig om uit sulke verhoudinge te ontsnap.
 
3.            Omvang van geweld
 
Die volgende gegewens kom uit ’n bron wat enkele statistiek weergee oor geweld tussen paartjies in die VSA (“Christian Coalition Against Domestic Abuse” 2009):
  • 1 uit elke 3-4 vroue sal mishandeling beleef aan die hand van hul lewensmaat;
  • 1 uit elke 6 mans sal fisiese geweld beleef;
  • 50-56% van alle huwelike ervaar ’n vorm van mishandeling;
  • 1 uit elke 3 jongmense sal fisiese geweld in ’n “dating relationship” ervaar;
  • 44% vroue in mishandelende verhoudings word verkrag deur hul mishandelaar;
  • Meer as 3.3 miljoen kinders is toeskouers van geweld tussen ouerpare;
  • 40-60% kinders wat in sulke gesinne leef, word ook mishandel.
 
’n Ontstellende stelling in die betrokke artikel is die volgende: “People with strong religious beliefs stay longer in abusive relationships because it gets mixed up with their faith beliefs”. Godsdiens bemagtig nie vroue of mans wat deur hul lewensmaats mishandel word nie. 
 
Hoe lyk die Suid-Afrikaanse prentjie? In navorsing in die RSA is die volgende bevind (Vetten 2005):
  • 27% vroue in die Oos-Kaap; 28% in Mpumalanga, 19% in die Noordelike Provinsie word fisies mishandel;
  • in 15 landelike gebiede in die Suid-Kaap is tot 80% van die vroue slagoffers van huishoudelike geweld;
  • 44% mans wat vir een van die Kaapse munisipaliteite werk, het erken dat hulle hul lewensmaat mishandel;
  • in 1999 het 8.8 per 100 000 van die vroulike bevolking ouer as 14 jaar gesterf aan die hand van hul lewensmaat – die hoogste syfer ter wêreld!
 
4.            Aard van geweld
 
Geweld tussen heteroseksuele paartjies is nie ’n eenrigtingstraat nie, maar vroue is dikwels aan die ontvangkant. Mishandeling vind meestal in die huis, saans en oor naweke plaas. Kinders is gewoonlik die toeskouers. Dit kom onder alle bevolkingsgroepe, ouderdomme, gesinsgroottes en sosio-ekonomiese strata voor. Daar is wel aanduidings dat dit meestal voorkom by persone met lae kwalifikasies, lae inkomste en lae beroepstatus (Spangenberg 1985).
 
Navorsers onderskei drie fases in die siklus van fisiese geweld (Spangenberg 1985):
·         Die fase waar spanning spiraalvormig vermeerder tot ’n punt waar daar nie meer beheer daaroor is nie.
·         Die fase waar die geweldadige insident plaasvind en spanning ontlaai word.
·         Die fase waar daar berou, liefde, toegeneëntheid en hoop is.
 
5.            Verklarende teorieë
 
Die volgende is enkele teorieë wat die verskynsel probeer verklaar (vgl Spangenberg 1985):
  1. Geestesongesteldheid
Dit kom in ongeveer 7% van die gevalle voor en bied dus nie ‘n volledige verklaring vir geweld nie.
  1. Manlike dominansie
Hierdie teorie probeer geweld van die man teenoor die vrou verklaar, maar spreek nie geweld van die vrou teenoor die man aan nie.
  1. Frustrasie-aggressie teorie
Hierdie teorie verklaar geweld as frustrasie wat opbou en uiteindelik uitloop op geweld. Dit verklaar egter nie waarom net sommige individue gewelddadig reageer op frustrasie nie.
  1. Alkohol en dwelmafhanklikheid
Alkoholmisbruik speel ‘n baie groot rol in die geweld tussen heteroseksuele pare, maar kom ook voor by pare waar alkohol nie misbruik word nie.
  1. Sisteemteorie
Die teorie is ‘n holistiese benadering wat van die standpunt uitgaan dat die geheel meer is as die som van die samestellende dele. Die samestellende dele reageer op mekaar en word deur mekaar beïnvloed.
 
6.            Bydraende faktore
 
Ten opsigte van die individu word die volgende as bydraende faktore beskou:
  1. Geestesongesteldheid
  2. Jaloesie
  3. Verbale aggressie
  4. Swak selfbeeld
  5. Alkoholmisbruik
  6. Seksuele frustrasie
  7. Werksonbevrediging
  8. Werkloosheid
  9. Swak finansiële posisie (armoede)
  10. Toeskouer van geweld tussen ouers
  11. Mishandel as kind
 
Wat die gemeenskap betref, kan die volgende bydraende faktore genoem word:
1.    Kwesbaarheid van die kerngesin:
            - ondersteuningsisteme soos die uitgebreide gesin verdwyn:
- verhuising en isolasie in die gemeenskap maak gesinslede ook meer aangewese op mekaar vir emosionele ondersteuning.
 
2.    Kulturele waardes
- Vroeer jare in Brittanje kon ’n man sy vrou slaan solank die instrument waarmee sy geslaan word nie groter is as die man se duim nie, Dit het bekend gestaan as die “rule of the thumb”
- Die patriargale gesinsisteem waar die man domineer en in beheer is van die gesin. Hy neem besluite namens sy vrou en kinders. Hy beskou hulle dikwels as deel van sy besittings. Dit kom ook voor in tradisionle Afrika-kulture waar manlikheid geïllustreer moet word in hoe jy beheer uitoefen op jou vriendin en lewensmaat(s) (Jewkes, Levin & Penn-Kekana 2002)
- Christelike mensbeskouing en waardes soos onder andere gehuldig deur mense soos Rick Warren en ander “evangelicals”. Die volgende sake akn genoem word: Die verhaal van Adam en Eva en die erfsonde; die man wat die hoof van die huis is en vroue wat onderdanig moet wees aan hulle mans; die huwelik is heilig en moet ten alle koste in stand gehou word; lyding is edel en die Chsitelike weg is een van vergewe en vergeet (vgl. Shannon-Lewy & Dull 2005).
 
3.    Geweld in die samelewing
- TV-programme, rekenaarspeletjies waarin geweld voorkom, oorloë, onluste, xenofobiese aanvalle.
Die waarneem van geweld dra dikwels by tot afstomping. Dit word as normaal beskou. Iemand het hierna verwys as “renostifisering”. Mense raak dikvellig en traak-my-nie-agtig.
 
7.            Die effek op die individu, gesin en gemeenskap
 
Die effek op die individu kan die volgende behels:
  1. Fisieke beserings by die slagoffer;
  2. Emosionele skade (angs, vrees, vernedering, woede, depressie, aangeleerde hulpeloosheid, swak selfbeeld);
  3. Aanrander toon berou, is apologeties, desperaat, ervaar skuldgevoelens, regverdig gedrag;
  4. Selfmoord en moord kan deur beide partye gepleeg word;
  5. Kinders ervaar angs, vrees, ontrekking, aggressie, swak akademiese prestasie, psigosomatiese klagtes (hoofpyn, hakkel, enurese, depressie, selfmoordpogings). Geweld tussen die egpaar kan uitbrei en oorgaan tot kindermishandeling.
 
Hoekom bly die vrou dikwels in so ’n verhouding? (Spangenberg 1989:35):
1.    Sy bly hoop dat haar man sal hervorm;
2.    die man het beloof om te verander;
3.    sy het geen ander heenkome of verblyf nie;
4.    sy vrees haar man;
5.    dit ontbreek haar aan geld en lewensmiddele op eie bene te staan;
6.    verlating mag tot egskeiding lei en vir die vrou spel dit mislukking.
 
Die effek op die gemeenskap:
  1. Die regsisteem (polisie en howe traag). Die polisie is dikwels traag om betrokke te raak in huishoudelike verskille en dispute. Hulle negatiewe houding teenoor die klaer is omdat laasgeneomde dikwels die klag wat ingedien is, terug trek en dus die polisie se tyd mos.
  2. Die gesondheidsisteem (simptome word behandel, maar dring nie deur na die oorsaak nie). Die mishandelde vrou word dikwels van een instansie na die ander verwys sonder dat iemand regtig ingryp.
  3. Ondersteuningsisteem (gefragmenteerd en ongekoördineerd). Daar is min toevlugsoorde en finansiële ondersteuing om die lydende party te kan help, is gering. Die mishandelde vrou ontrek dikwels aan berading omdat hulle vrees dat hulle kinders verwyder sal word.
  4. Godsdiensleiers beleef dikwels inerne konflik tussen dit wat die sekulêre wêreld sê, en die kerklike leerstellings en Bybeltekste. Vroue word dikwels na mishandelende omstandighede teruggestuur met die opdrag om beter vroue te wees, vir hulle mans te bid en hulle mans na die Here te lei. Tussen 2% en 67% van mishandelde vroue klop eerstens aan by hul predikant, pastoor, priester vir hulp. Hierdie pastorale beraders verwys selde en probeer hulp verleen in isolasie in plaas daarvan dat ander instansies se hulp ingeroep word (vgl. Shannon-Lewy & Dull 2005).
 
’n Voorbeeld van die staat se onvermoë om die wet op Gesinsgeweld (1998) toe te pas, is die geval Staat versus Engelbrecht 2005 (Vetten 2005:10):
  • 9 keer verhuis om haar man te ontkom;
  • 3 pogings aangewend om hom te skei;
  • Balju het 6 keer gefaal om die man vir die egskeiding te dagvaar;
  • Gesinsadvokaat het nooit die dokumentasie voltooi oor die toesig van die kinders nie;
  • 3 pogings aangewend om ’n beskermingsbevel te bekom;
  • Polisie het gereeld haar klagtes onttrek of geweier om dit te aanvaar;
  • Polisie adviseer man om ’n beskermingsbevel teen haar te kry.
 
In Junie 2002 het sy haar man versmoor terwyl hy geslaap het. Sy is skuldig bevind en gevonnis. Wat haar vonnis was, is nie in die betrokke artikel verstrek nie.
 
8.             Kan die geweldsiklus verbreek word?
 
Wat die individu betref, is die volgende belangrik ter voorkoming van geweld:
      Kweek ’n positiewe selfbeeld by die kind en die volwassene;
      Leer gesonde konflikhanteringsmeganismes aan;
      Leer om goed te kommunikeer en te luister;
      Ouerlike beheer oor rekenaarspeletjies & geweldadige TV-programme;
      Woon ouerleidingsprogramme by;
      Gesonde alkoholgebruik.
 
Gaan vir terapie indien geweld reeds voorkom. Van die benaderings wat gevolg word, is:
      Narratiewe terapie;
      Imago-terapie;
      Kognitiewe gedragsterapie;
      Spanningshantering en ontspanningstegnieke;
      ’n Holistiese benadering soos die van Nimro (Nasionale Instituut in sake Misdaadvoorkoming en die Rehabilitasie van Oortreders) wat bekend staan as “Intimate Partner Violence Program”.
 
Wat die gemeenskap betref, is die volgende belangrik:
      Sensitiseringsprogramme: 16 dae van geweld teen vroue en kinders;
      Goeie toepassing van wette soos Wet op Gesinsgeweld;
      Vroeë identifisering van risikogevalle;
      Opleiding van verskeie professionele persone soos geneeshere, polisie, onderwysers, maatskaplike werkers, predikante;
      Armoedeverligting en die vermindering van geweld in die samelewing;
      Verandering van mense se kulturele en godsdienstige persepsies wat bydra dat geweld instand gehou word.
      Predikante moet geleer word om ’n teologie van bemagtiging te beoefen in plaas van ’n teologie wat verdraagsaamheid en lyding aanmoedig.
 
Bibliografie
 
Ammerman, R.T. & Hersen, M. (ed.) 1999. Assessment of Family Violence: A Clinical and Legal Sourcebook. 2nd. ed. Chichester: John Wiley & Sons.
Christian Coalition Against Domestic Abuse: Did you know? http://ccada.org/stats.aspx (besoek op 23/01/2009).
Domestic Violence Act (Act no. 116) 1998. Government Gazette Republic of South Africa, Vol. 402, No. 19537. 2 December 1998.
Ernst, L. (ed.) 2005. Broken Bodies, Broken Dreams: Violence Against Women Exposed. Nairobi: OCHA/RIN.
Films for the Humanities & Sciences: DVD/Video. 2005 Intimate Partner Violence. Princeton: Films Media Group.
Geffner, R.A., Jaffe, P.G. & Sudermann, M. (eds.) 2000. Children Exposed to Domestic Violence: Current Issues in Research, Intervention, Prevention, and Policy Development. New York: Haworth Press.
Hambidge, J 2009. Monduitspoel: O koekemakranka! BeeldBy, 24 Januarie, p.12.
Jewkes, R., Levin, J. & Penn-Kekana, L 2002. Risk factors for domestic violence: findings from a South African cross-sectional study. Social Science & Medicine 55, 1603–1617.
Logan, T.K., Walker, R, Jordan, C.E. & Leikefeld, C.G. 2006. Women and Victimization: Contributing Factors, Interventions, and Implications. Washington: Ameiorcan Psychological Association.
Miller, J. & Knudsen, D.G. 2007. Family Abuse and Violence: A Social Problems Perspective. New York: AtlaMira. (Violence Prevention and Policy Series.)
Nina, M. 2009. Rick Warren: Abuse is no excuse for women to seek divorce. http://thenewagenda.net/2009/01/02/rick-warren-abuse-is-no-excuse-for-women-to se... (besoek op 23/01/2009).
Shannon-Lewy, L & Dull, V.T. 2005. The Response of Christian Clergy to Domestic Violence: Help or Hindrance? Aggression and Violent Behavior 10, 647–659.
Spangenberg, D.D. 1985. Huweliksgeweld – Insigte vanuit die Literatuur. Ongepubliseerde MA-skripsie. Johannesburg: RAU.
Spangenberg, D.D. 1989. Huweliksgeweld. The Social Work Practitioner/Researcher 2(1), 32–38.
United States Conference of Catholic Bishops 2002. “When I call for help”: A Pastoral Response to Domestic Violence Against Women. http//www.usccb.org/laity/help.shtml. (besoek op 23/01/2009).
Vetten, L. 2005. Addressing domestic violence in South Africa: Reflections on strategy and practice. Expert paper read at a conference held in Vienna (Austria) organized by the UN Division for the Advancement of Women, 17–20 May 2005.
Vorster, A. 2008. My liefling slaan my! Imago-terapie leer geweld af. Beeld, 3 Desember 2008, p. 20.
 
 

God, Religion and meaning in life

Thaddeus Metz
 
Research Professor of Philosophy
University of Johannesburg
 
1.         Question: Is the traditional religious account of meaning in life correct, that is, in order for our lives to be meaningful, must we play an appropriate role in God's plan? Would our lives necessarily be meaningless, if God did not exist or if we failed to fulfil a purpose that he has for us?
 
2.         Definitions.
 
2.1.      ‘God’: a spiritual person that is all-knowing, all-good and all-powerful and that is the ground of the physical universe.
 
2.2.      ‘Meaning in life’: ends that are most worth pursuing besides one's own happiness and that are usually worthy of great esteem or admiration once achieved. 
 
3.         The Purpose View: Meaning in life can come only from fulfilling God's purpose for us. If a perfect, spiritual being that is the ground of the physical universe did not exist, if he lacked a purpose for us, or if we failed to fulfil it (willingly), then our lives would lack anything worthy of great esteem or admiration.
 
4.         My Claim: The Purpose View is false, or at least dubious in a way not often recognized by friends of religion. For one, if meaning in life could come from God alone, there is reason to think that it would not do so in virtue of fulfilling his purpose for us. For another, it is unlikely that meaning in life could come from God alone; in particular, certain religious practices could be sources of meaning in life, even if God did not exist.
 
5.         Five Arguments for the Purpose View. Why God's purpose, and why God's purpose? 
 
5.1.      Contingency. If God did not exist, then our existence would be a mere accident, something random. To have meaning, though, requires existing for a reason, something that could be imparted only by having been created for a purpose by an agent.[i]
 
Objection 1: It does not follow that we must have been created by God in particular. 
 
Objection 2: Either (a) it was up to God whether to create us, or (b) it was not. If (a), then it was God’s arbitrary decision, and we ‘got lucky’. If (b), then God had to create us, not unlike the way a deterministic world without God would have had to result in us.
 
5.2.      Aesthetic Value. If we and the universe had not been created by God for a reason, then our lives would not have the value that a piece of music does, as something that has been intentionally fashioned to express something.[ii]
 
Objection: This rationale does not underwrite the Purpose Theory, as our lives are always already meaningful, regardless of what we choose to do.
 
5.3.      Scope. Perhaps only by fulfilling God's purpose could our lives have a great impact on the universe. If God did not exist, or if we failed to help fulfil his plan for the universe, then the influence of our lives would be miniscule, utterly isolated and hence meaningless.[iii]
 
Objection 1: Even if we played a role in God's plan, any one of our roles would be small.
 
Objection 2: If human beings had greater technological capabilities, e.g., to move about the universe at great speeds, then we would not need God in order to be part of a plan with a very large scope.
 
5.4.      Afterlife. Perhaps only by fulfilling God's purpose could we obtain deserved reward (justice) or the gift of Heaven (grace). If God did not exist, or if we failed to fulfil a purpose that he has for us, then there could be no worthwhile, eternal afterlife and hence our life on earth would be meaningless.[iv]
 
Objection 1: An impersonal, Karmic force could apportion benefits to us in another world.
 
Objection 2: Even if a personal being were necessary in order to apportion benefits to us in another world, it need not be a perfect, spiritual being. A physical being with lots of knowledge and power (short of omniscience and omnipotence) could do the job.
 
5.5.      Source of Right and Wrong. Perhaps only by fulfilling God's purpose could we lead a moral life. If God did not exist, or if we failed to fulfil a purpose that he has for us, then we could not live up to universal standards of what is right and wrong and hence life would be meaningless.[v] 
 
Objection 1: God Can’t Ground Rules with an Intuitive Moral Content. The ‘Euthyphro’ dilemma. Either (a) God intends us to do something because it is right, or (b) something is right for us to do because God intends it. If (a), then God is not the source of moral rules (he knows them, but doesn't create them), and, in principle, one's life could be meaningful by following the purposes of anyone who knows what the moral rules are. If (b), then moral rules would be arbitrary in a way that they seem not to be, e.g., if God intended us to torture babies for fun, then it would be right.
 
Objection 2: God Can’t Ground Invariant Moral Rules. God’s mind could change, and on many views, it has changed, meaning that the moral ends he lays down could change and have changed, too. EG: Circumcision no longer required; retribution no longer permitted.
 
Objection 3: God Can’t Ground Moral Rules with Normativity. The bare fact that an agent, even the strongest and most informed one, commands us to do something is not in itself good reason to do it. The fact that one ought to do something is not grounded in the bare fact of having been told to do it.
 
Reply to All Three Objections: God’s Nature Essentially Includes the Virtue of Love. No torturing babies able to be commanded, as that would be unloving; no change of mind possible, as God’s essence is loving (instead, God merely minds change); normativity is possible via commands because of value of love from which they spring.
 
Objection: But, then, love appears to be the ground of morality, not God. Why think it must be God as a loving being, and not the property of love as such, that constitutes the moral rules?
 
 
6.         Argument 1 against the Purpose View: God's Ability to Ground Meaning. Basic idea of the argument: since we also have purposes, it is unlikely to be God's purposiveness that would make him the sole source of meaning in life.[vi]
 
6.1.      The Objection.
 
6.1.1.   The more reason there is to think that meaning in life must ultimately be a function of our relationship to God (and not to one another absent God), the more reason there is to think that God must be different from and higher than us.
6.1.2.   God would be most different from and higher than us if he had superlatively valuable properties that we could not conceivably exhibit, such as beingatemporal (beyond time), immutable (unchangeable), or simple (lacking parts).
6.1.3.   A being that is atemporal, immutable and simple could not be an agent with a purpose.
6.1.4    Therefore, the more reason there is to think that meaning in life must ultimately be a function of our relationship to God (and not to one another absent God), the more reason there is to think that God would not be an agent with a purpose.
 
6.2.      Implication of the Objection. If this argument were sound, then meaning would have to come from God in some way other than by us fulfilling his purpose, perhaps by joining God in an afterlife that is beyond time (cf Aquinas) or by imitating God in this life (as per some Eastern traditions). 
 
7.         Argument 2 against the Purpose View: Discrepancy in Justification. Basic idea: most of us implicitly believe that meaning in life is not a function of God alone, since we know that some lives are meaningful and since we don't know that God exists (even if we have faith that he does).[vii]
 
7.1.      The Objection.
 
7.1.1.   We are very confident (there is a lot of evidence) that the lives of Mandela, Mother Teresa, Picasso and Einstein were meaningful.
7.1.2.   We are not very confident (there is not a lot of evidence) that a purposive God exists.
7.1.3.   Therefore, it is unlikely that God must exist with a purpose for us in order for people's lives to be meaningful.
 
7.2.      Implication of the Objection. If this argument were sound, then it would be likely that particular activities in a purely physical world could make one's life meaningful, roughly, by engaging with the good (helping others, love), the true (intellectual enquiry) and the beautiful (art, creativity).
             
7.3.      How Religion Could Provide Meaning without God.
 
7.3.1.   The good: having a community (sharing a culture, feeling a sense of togetherness, and acting for one another's sake), engaging in charity work, becoming a better person.
            7.3.2.   The true: reflecting on the nature of reality and of value.
            7.3.3.   The beautiful: producing and listening to music; enjoying visual artwork. 
 
 
8.         Conclusion. I have questioned arguments for the Purpose View, the traditional religious account of meaning in life, and also argued against the Purpose View itself. I have also suggested two ways it is worth reconceptualising the ways in which religious practice could confer meaning on life. Specifically, I have suggested alternative ways of relating to God that might provide a spiritual source of meaning, and I have also indicated respects in which church activities could confer meaning on life apart from fostering a certain relationship with God. Holiness in this world is available and seems to be what makes our lives meaningful, regardless of whether a holy being in another world exists.
 
Notes


10.0pt;">[i] William Lane Craig ‘The Absurdity of Life Without God’, reproduced online at: http://www.bethinking.org/pdf.php?ID=129.          
 
[ii] Jeffrey Gordon, ‘Is the Existence of God Relevant to the Meaning of Life?’, The Modern Schoolman 60 (1983): 227-46.
 
[iii] Cf Charles Hartshorne, ‘God and the Meaning of Life’, in Leroy Rouner, ed., Boston University Studies in Philosophy and Religion, Volume 6: On Nature (Notre Dame: University of Notre Dame Press, 1984), pp. 154-68.
 
[iv] William Davis, ‘The Meaning of Life’, Metaphilosophy 18 (1987): 288-305.
 
[v] E.g., Craig, note 1; and John Cottingham, ‘Religion and Value’, from his The Spiritual Dimension: Religion, Philosophy and Human Value (Cambridge: Cambridge University Press, 2005), pp. 37-57.
 
[vi] Thaddeus Metz, ‘Could God's Purpose Be the Source of Life's Meaning?’, Religious Studies 36 (2000): 293-313, and ‘God's Purpose as Irrelevant to Life's Meaning: Reply to Affolter’, Religious Studies 43 (2007): 457-64.
 
[vii] Thaddeus Metz, ‘Recent Work on the Meaning of Life’, Ethics 112 (2002): 784-85, 809, and ‘God, Morality and the Meaning of Life’, in Nafsika Athanassoulis and Samantha Vice, eds., The Moral Life (New York: Palgrave Macmillan, 2008), pp. 201-27.
    
tmetz@uj.ac.za

  

Het Jesus werklik “liggaamlik” opgestaan? Ja en nee!

Pieter F Craffert
 
1.  Inleiding

In die Kindheidsevangelie van Thomas word allerhande verhale oor Jesus se jeug vertel. In een vertelling word gesê dat terwyl hulle gespeel het, het ’n ander seun hom per ongeluk teen die skouer gestamp. Jesus het kwaad geword en vir hom gesê: “Jy gaan niks verder nie.” Die kind het net daar dood neergeslaan.

Weet iemand dalk waar die volgende teks geskryf staan? “Jesus cast the first stone”

Wil iemand waag om te sê wat die teks beteken? Waarskynlik dink jy dat dit ook ’n teks uit een van die sogenaamde apokriewe evangelies is en verwys na ’n verhaal oor Jesus wat iemand met ’n klip gegooi het. Of, indien jy die idiomatiese betekenis ken, sou jy kon dink dit verwys na ’n insident waar Jesus inderdaad die eerste beskuldiging teen iemand ingebring het.

Dit was ’n opskrif in die studentekoerant The Cambridge Student van 23 Oktober 2008 en die eerste woorde van die berig lees as volg: “Magdalene made the short trip to Jesus to face last years runners-up in the league. It was a cold, overcast day, and unfortunately the rugby didn’t light the place up (Magdalene College: 13; Jesus College: 40)”.

Jesus en Magdalene is bekende kolleges van Cambridge Universiteit en die teks verwys na die uitslag van ’n rugbywedstryd.

Ons weet wat die teks sê, maar voordat ons voldoende agtergrondinligting bekom het, weet ons nie noodwendig wat dit beteken nie, omdat dieselfde teks op heelwat verskillende maniere verstaan kan word. Anders gestel, afhangend van wat ons oor die konteks en agtergrond weet, beteken die teks totaal verskillende dinge en kan dit na uiteenlopende werklikhede verwys. Om die teks in konteks reg te verstaan, moet mens sekere inligting in ag neem.

Eerstens moet jy idiomatiese taal verstaan. Tweedens, dat die woorde na kolleges by Cambridge verwys en derdens moet jy jou losmaak van die “misleidende” konteks van verstaan wat ek met die aanhaling uit die Kindheidsevangelie van Thomas geskep het.

Die teks handel nie oor die figuur Jesus nie, maar oor ’n kollege wat sy naam dra. In kort, jy moet ’n kultuur-sensitiewe lees toepas indien jy wil weet wat dit beteken en waarna die teks verwys. Daarom wil ek voorstel dat die tekste oor Jesus se opstanding ook op ’n kultuur-sensitiewe manier gelees moet word.

2.  ’n Kultuur-sensitiewe lees van die opstandingstekste

Kom ons begin by wat die tekste sê. Ek wil vier kort aantekeninge oor die tekste maak:

Eerstens: Geen NT teks beskryf die opstanding self nie. Dat Jesus opgestaan het, word afgelei uit ander goed waaroor die tekste berig of wat deur engele berig word.

Tweedens: Die berigte oor die leë graf word oorheers deur die optrede van engele (in sommige tekste word hulle manne in blink klere genoem). Interessant dat niemand die vraag vra of die wesens ook letterlik, liggaamlik en werklik daar teenwoordig was nie.
Derdens: Die een element wat deurlopend in elke Nuwe-Testamentiese teks oor die opstanding van Jesus beklemtoon word, is dat Jesus “gesien” is of aan mense “verskyn” het.
Vierdens: Myns insiens kan daar geen twyfel wees dat elke enkele Nuwe Testamentiese skrywer gedink het dat Jesus uit die dood opgestaan het of uit die dood opgewek is. En dit is presies wat die Kerk oor die eeue geglo en verkondig het.

Ons weet nou wat die tekste sê (ek verondestel kennis van die inhoud van die tekste). Ons weet dat daar geskryf staan dat hulle gedink het Jesus het opgestaan of is opgewek.

Verstaan ons wat dit beteken?

Weet ons presies wat hulle oor Jesus se opstanding geglo of verkondig het? Ek wil dit afbreek in twee verskillende vrae:
Wat het hulle gedink toe hulle gesê het Jesus het opgestaan of is opgewek?
Waarom het hulle gedink Jesus het uit die dood opgestaan of is opgewek?

Kom ons begin met Jesus se onmiddellike volgelinge.

2.1  Die eerste volgelinge (dissipels) van Jesus

Om die vrae te beantwoord moet ons heelwat weet oor hulle verstaan van die werklikheid of hoe hulle gedink het die wêreld werk. Ons moet ten minste drie fasette van hulle wêreldbeeld begryp.

2.1.1  Ons moet begryp wat hulle idee van ’n mens en die menslike liggaam was

- volgens die “fisika” van hulle tyd, is alles wat bestaan uit konfigurasies van vier elemente (lug, aarde, water en vuur) opgebou: anders gestel, materiële dinge kon in verskillende konfigurasies van die elemente voorkom; ’n liggaam kon dus materieel wees in meer as een weergawe: ’n “spirituele” liggaam was steeds materieel, maar in ’n ander konfigurasie as ’n vleeslike liggaam;

- mense, werklike mense, kon in verskillende konfigurasies van vlees, siel en/of gees bestaan en verskyn;
- liggame kon deur geeste, demone ensomeer beset word;
- voorouers kon in ’n mens se liggaam intrek (soos oor beide Jesus en Johannes die Doper vermoed is) en ’n gestorwe voorouer kon weer in ’n ander gedaante verskyn (vgl die vraag oor Jesus se identiteit);
- lewe na die dood was algemeen aanvaar: sommige voorouers was nog aktief betrokke. Die meerderheid mense in die antieke wêreld, Jode ingesluit, het gedink dat daar een of ander vorm van lewe na die dood is.

Dus: Jesus het in ’n liggaam opgestaan wat volgens hulle verstaan gekontrueer is.

2.1.2  Ons moet die spektrum van na-doodse (na-lewe) toestande waaraan hulle geglo het, in ag neem

Die meeste mense in daardie tyd het geglo dat mense na die dood in een of ander vorm bly voortbestaan of bly voortleef – hulle het net oor die formaat verskil.

2.1.3  Ons moet die aard van ’n eerste eeuse rasionaliteit begryp

Soos die meerderheid mense op die planeet vandag, het hulle in ’n wêreldbeeld geleef waarin visioene, drome en ander ervaringe, wat ons vandag alternatiewe bewussynservaringe noem, deel was van hul alledaagse lewe en het kennis verskaf oor die werklikheid. Sulke ervaringe word gevoed deur oortuigings en die oortuigings word bevestig deur die ervaringe. Wat hulle as werklik en werklikheid ervaar en aanvaar het, is geglo en beleef of ervaar (byvoorbeeld wanneer voorouers soos Moses of Henog aan iemand verskyn het).

As mens die tekste in die lig van hierdie kennis lees, is dit duidelik dat Jesus opgestaan het in ’n eerste eeuse liggaam op grond van visioenêre ervaringe wat deel van hulle rasionaliteit en aanvaarde bronne van kennis oor die wêreld was en in ooreenstemming met hulle na-doodse sieninge. Anders gestel: binne ’n bepaalde wêreldbeeld het hulle sekere visioenêre ervaringe (berigte waarin engele met mense gesels asook verskyninge van Jesus) as ’n opstanding uit die dood beskryf.

Terwyl mens vanuit ’n kultuur-sensitiewe benadering hierdie sieninge kan verstaan, beteken dit nie dat mens dit hoef te deel of te onderskryf nie. Terwyl visioene vir hulle werklik was en kennis tot die werklike lewe gebied het, is dit in ons verstaan niks meer as neurologiese ervaringe wat soos alle ander bronne van kennis (denke, logika, tradisie, ens) beoordeel moet word nie. Insgelyks is dit baie moeilik om vandag hulle verstaan van die menslike liggaam te deel. Maar laat ek dit beklemtoon, binne hulle ervaring van die werklikheid, was hierdie dinge so werklik soos my en jou verstaan van die wêreld en ervaring van die werklikheid.

Net een opmerking oor die leë graf: reeds in die Nuwe Testamentiese tyd het mense geweet dat ’n leë graf nie ’n bewys is dat iemand opgestaan het nie, want ’n lyk kon gesteel gewees het. ’n Leë graf kan nie bewys iemand het opgestaan nie, maar as jy oortuig is iemand het opgestaan, is die konsekwensie dat sy/haar graf ook leeg is. Dit is presies waarom hulle die verhale oor die leë graf vertel het. Maar die leë graf is byvoorbeeld vir Paulus geen bewys van Jesus se opstanding nie — wel die feit dat Jesus aan sovele verskyn het. Net soos met die talle ander Joodse voorouers en gestorwe profete wat oënskynlik gereeld in die eerste eeu aan mense verskyn het (of kon verskyn), was daar geen argumente of die persone se grafte nou leeg of vol (beendere?) was nie. Wie menswees en lewe-na-dood soos hulle ervaar het, hardloop nie telkens na ’n graf om te sien of dit leeg of vol is wanneer ’n voorouer aan iemand verskyn het nie. 

2.2  Die kerk van die 1ste tot die 21e eeu

Reeds in 1 Korinthiërs 15 kry ons ’n aanduiding dat sommige mense in Jesus se opstanding glo oor ander redes as eie ervaringe, naamlik dit wat aan hulle oorgelewer is. Let daarop: daar word nie gesê julle sal elkeen ’n visioenêre ervaring van die opgestane Jesus hê nie — nee, reeds vanaf die Nuwe Testamentiese tyd word aanvaar: glo wat aan julle oorgelewer is. Ons kan dit noem: geloof in geloof — glo in dit wat deel van ons kulturele common sense is en sulke oortuigings word bevestig deur ervaringe.

Ons almal leef in wêrelde waarbinne ons baie dinge aanvaar of “glo” bloot omdat dit so aan ons oorgedra is deur ons kultuur en dit konstrueer die werklikheid vir ons.

Voorbeelde:

- Eetgewoontes: Ons sal met gemak Hannie die hennetjie eet, maar nie Sarel die slang nie of Wagter die hond nie. Die meeste Westerse mense sal naar word (fisies reageer) as jy hulle vertel hulle het so pas vir Wagter in die mond gesit. Objektief gesproke is vleis maar net vleis, maar wat ons glo oor die wêreld bepaal ons “werklikheid”.
Kleredrag: Ons trek ‘n sekere soort klere aan en nie ‘n ander soort nie.
- Ons glo in vryheid van spraak en gelyke regte vir alle mense (vroue ingesluit), private eiendomsreg, monogamie: dink aan die debakel oor poligamie toe drie vroue as eerste lady opgetree het. Wat is rasioneel waar aan enige van die oortuigings?
- Dink aan patriotisme: groot mans staan en huil op ’n rugbyveld as hulle volkslied gespeel word. Wie van ons verstaan dit nie? Wie van ons sal die eis aanlê dat as jy dit glo moet jy dit kan bewys? Hoe bewys jy jou patriotisme is rasioneel? Hoekom moet die kerk “bewys” Jesus het regtig “opgestaan” voordat dit as ’n geloofsposisie aanvaar gaan word. Alle mense glo sekere goed sonder dat dit bewys is of bewys kan word.

Die opstanding het deel van die geloof van die kerk (common sense oortuigings) geword. Hulle deel dieselfde wêreld en werklikheidservaring as die eerste dissipels: dus, visioene van ’n opgestane (belangrike) persoon is ’n kultureel aanvaarbare rede. Die Kerk glo die geloof in Jesus se opstanding soos dit aan hulle oorvertel is en vir eeue het die Kerk Jesus se opstanding elke Sondag “beleef,” ervaar en herdenk sonder om na bewyse te vra.

Kom ons vra die twee vrae ten opsigte van Kerk deur die eeue:

- Wat het die kerk oor die eeue heen oor Jesus se opstanding geglo? Net soos die eerste dissipels, het hulle geglo dat hy werklik “liggaamlik” opgestaan het.
- Waarom het hulle dit geglo? Dit was deel van die kerk se teologie of geloofsoortuiging en hulle het die kulturele voorwaardes (lewe na dood, voortbestaan van voorouers en die belang van visioenêre ervaringe) met die eerste dissipels gedeel.

Dit was eers toe hierdie kulturele voorwaardes vanaf die laat 18e eeu met die Verligting, Westerse rasionaliteit, wetenskap, ens, bevraagteken is, dat hierdie oortuiging onder skoot gekom het. Laat ek dit verduidelik met die voorbeeld van Jesus wat die eerste klip gooi. Vir eeue het die kerk die nodige kulturele kennis gehad in terme waarvan hulle oortuig was dat Jesus uit die dood opgewek is of opgestaan het. In terme van hulle wêreld het dit sin gemaak, maar toe die kulturele raamwerk bevraagteken is, het die debat skielik verskuif na die letterlikheid van die teks. Sedertdien handel die debat of Jesus die klip gegooi of gerol het. Was dit ’n klip of ‘n baksteen? Was dit Jesus wat gegooi het en het ons genoeg getuienis oor die klipgooiery? Dit is presies wat in die Kerk se geskiedenis gebeur het toe die kulturele voorwaardes van hul geloof nie meer aanvaar is nie en daarom is daar sedertdien twee nuwe standpunte oor Jesus se opstanding.

2.3  Behoudende/konserwatiewe/ortodokse teoloë vandag

Wat dink/glo hulle oor Jesus se opstanding en waarom dink hulle dit?

Ek wil drie opmerkings maak:

- Hulle dink Jesus het letterlik, liggaamlik of werklik opgestaan. Al word dit nooit eksplisiet gesê nie, het daar volgens die siening twee wonderwerke met Jesus se opstanding plaasgevind: ’n lyk het lewendig geword en die opgestane liggaam is verander in ’n nie-materiële of materieel getransformeerde liggaam, want die opgestane Jesus bestaan of leef vandag steeds in ’n liggaamlike vorm; sommiges is eksplisiet hieroor dat hy in ’n liggaam van getransformeerde materialiteit bestaan.
 - Hulle dink dit is presies wat die tekste sê; dit is tog duidelik dat as jy die Nuwe Testament lees, soveel tekste Jesus se liggaamlike opstanding bevestig. Indien die standaard historiese metode gevolg word wat kritiese navorsers volg, dan kom hulle tot die gevolgtrekking daar is voldoende onafhanklike, betroubare bronne wat bevestig dat ’n wonderwerk (of wonderwerke) gebeur het en Jesus liggaamlik opgewek is. As soveel onafhanklike, betroubare getuies dieselfde “feite” bevestig, het dit sekerlik gebeur.
- Hulle dink ook dit is wat die Kerk nog altyd geglo en verkondig het. Met ander woorde, sogenaamde konserwatiewe geleerdes dink hulle siening is dieselfde as dié van die eerste dissipels en die kerk deur die eeue heen. Dit is net formeel korrek.

2.4  Wat sê die kritiese teoloë?

Daar was geen letterlike, liggaamlike opstanding nie, en die tekste moet hoogstens as mites gesien word, of dit moet metafories verstaan word of as kerklike teologie. Die rede is basies tweërly:

- Wonderwerke vind nie plaas nie en daarom is aanpsrake oor Jesus se opstanding misleiding, of teologiese interpretasies deur sy vroegste volgelinge.

- Die tekste vertel van ’n wonderwerk, van ’n lyk wat lewendig geword het of getransformeer is, en tekste wat sulke goed vertel, is mites of kerklike teologie of misleiding.

3.  Enkele gevolgtrekkings en slotopmerkings

3.1  Om ja en nee te sê oor Jesus se opstanding

Ja en nee vanuit ’n kultuur-sensitiewe lees beteken iets anders as die ja en die nee van die huidige debat. Diegene wat die tekste op ’n kultuur-sensitiewe manier lees, besef dat (soos die teks oor die “gooi van klippe”) die tekste nie oor objektiewe gebeure in tyd en ruimte handel nie, maar die uitdrukking is van mense se diepste ervaringe en oortuigings wat uitgedruk is binne die raamwerk van hulle wêreldbeeld. Wie dit lees asof dit na sulke gebeure verwys, is soos diegene wat die klipgooi teks lees asof dit na ’n persoon verwys.

Om ja te sê is eerstens om te erken dat dit waarvan die tekste praat en dit wat die kerk deur die eeue verkondig het, vandag nog verstaan kan word as die ernstige en oortuigde sieninge van mense wat binne hulle wêreld hul ervaringe en oortuigings in onderlinge harmonie beleef het.

Ja beteken om te erken dat Jesus letterlik in ’n eerste eeuse konsepsie van liggaamlikheid opgestaan het en dat die “opstanding” in ooreestemming met hulle ervaringe van die werklikheid was. Dit beteken ook dat Jesus se opstanding (soos die voortbestaan van talle ander voorouers) verstaan kan word as uitdrukking van hulle ervaringe van ’n na-lewe bestaan.

Ja kan ook beteken dat die kerk deur die eeu die geloof in Jesus se opstanding geglo het soos patriotisme deel van mense se diepste oortuigings is. Ek dink dit het tyd geword om ook weer erkenning te gee aan die Kerk se siening oor die eeue heen vir wat dit was: geloof in dit wat oorgelewer is en voortdurend ervaar is en nie bewys is of bewys kan word nie.

Nee, dit beteken nie noodwendig Jesus se lyk het lewend geword en in ’n andersoortige materialiteit voortbestaan nie; nee, dit is nie iets wat jy glo omdat dit (histories of andersins) bewys is nie, maar jy glo dit of daarin, finish en klaar. Nee sê ook dat hoewel mens begrip en respek vir hulle werklikheidservaringe en uitdrukkings kan hê, beteken dit nie dat wat vertel word, net so gebeur het nie (wie sal vandag nog aanvoer die engele was werklik, liggaamlik teenwoordig by die graf?)

Tegelykertyd moet ons dit ook krities bekyk. Omdat die fokus na die Verligting in die 18e eeu verskuif het na die letterlike (in ons sin van die woord) verstaan van die tekste en tradisies (die moderne vraag is: het Jesus werklik, liggaamlik letterlik opgestaan of nie?; alternatiewelik word geargumenteer: die graf was leeg of vol), het ons nooit by die belangrikste vrae uitgekom wat ons behoort te vra nie. Die kritiese studie van Jesus se opstanding kan nie wees of dit gebeur het of nie (net so min as wat dit kan wees of patriotisme werklik is of nie). Maar dit moet wees: Is dié geloof goed? Is patriotisme en voorouer verering en die geloof in Jesus se opstanding goed vir die samelewing, en/of die kerk? Bevorder sulke oortuigings vrede en welwese en lei dit tot sinvolle menswees en spirituele gesondheid of tot geweld, uitbuiting ens?

3.2  Drie verskillende maniere om die tekste te lees

Soos met die teks oor die “gooi van klippe”, kan die tekste oor Jesus se opstanding asook die kerklike tradisie van 2000 jaar op ten minste drie verskillende maniere gelees word.

Ironies genoeg deel beide kritiese en konserwatiewe navorsers vandag twee kenmerke: beide groepe dink die tekste vertel van gebeure (wonderwerke) in ons wêreld en wêreldbeeld en beide dink onafhanklike, betroubare getuienis of historiese navorsing kan dit bevestig of ontken dat iemand werklik, liggaamlik uit die dood opgestaan het. Met ander woorde, goeie historiese navorsing sou die opstanding van Jesus kon ontken of bevestig. Hulle verskil net oor die uitslag van die toets: een groep dink dit kan histories bewys word en die ander betwyfel dit. Beide dink ook dat die kerk se siening deur die eeu ’n bewysbare saak was of op “feitlikhede” berus het.

Maar handel die tekste, om mee te begin, oor gebeure wat so bevestig of ontken kan word? Vanuit ’n kultuur-sensitiewe lees sien mens iets anders raak in die tekste. Vanuit dié perspektief is dit net so futiel om te vra of Jesus letterlik, liggaamlik, werklik (in ons verstaan van die woorde) opgestaan het, as om te vra of Jesus regtig die eerste klip gegooi het.

Sodra mens besef dat presies dieselfde teks deur jou verstaan van die werklikheid tot betekenis gebring word, dan is die groot vraag nie meer of die tekste dit sê of nie sê nie, maar watter verstaan van die tekste die beste is. As jy wil praat van “die evangelie”, watter verstaan bring dit in gedrang? Vanuit die perspektief van ’n kultuur-sensitiewe benadering is die groot uitdaging om te aanvaar dat daar mense is (die meerderheid op die planeet vandag) wat op grond van sulke ervaringe (soos visioene) aanvaar dat gestorwe mense in allerlei vorme (liggaamlik, werklik) voortleef en met hulle kommunikeer.

3.3  ’n Kultuur-sensitiewe benadering vra dat ons die wêreld anders sien

’n Kultuur-sensitiewe benadering is in die eerste plek nie maar net ’n poging om die tekste op ’n ander manier te lees nie, dit is om die wêreld anders te verstaan. Dit is om die pluraliteit van menslike werklikhede ernstig op te neem en te besef dat alle mense nie ons verstaan van die werkikheid deel nie. Anders gestel, dat ons verstaan van dinge nie vir alle mense normatief gemaak kan word nie.

Daarom is die belangrikste rede vir my interesse in hierdie debat nie soseer om uit te pluis watter verstaan van Jesus se opstanding die beste is nie. Daartoe het ek hopenlik ’n bydrae gelewer. Dit is om raak te sien hoe ons voorverstaan, wêreldbeeld, ens. ’n rol speel in hoe ons tekste lees en ander mense verstaan en veral hoe ons radikale verskille hanteer.

Etnosentrisme is ’n vorm van kulturele geweld en fundamentalisme is etnosentrisme met ’n godsdienstige sousie oor. Etnosentrisme is die siening dat alle ander mense en sieninge aan my of ons verstaan van die werklikheid gesien, verstaan en beoordeel moet word. Wat ’n ander persoon of teks ookal sê, verstaan en beoordeel die etnosentris dit vanuit sy of haar siening van dié werklikheid. ’n Fundamentalis gaan net een stappie verder en verklaar daardie siening tot kánon; dit is nie net die enigste korrekte siening van dinge nie, dit is ook goddelik gesanksioneer.

In die wêreld van pluralisme word aanvaar dat alle mense nie noodwendig in dieselfde wêreldbeeld leef nie. Dus, wat “letterlik”, “werklik” en “liggaamlik” is, is nie vir alle mense dieselfde nie. En diegene wat aanspraak maak op gebeure wat vir hulle werklik is, maar nie vir my of ons werklik is nie, is nie noodwendig versteurd nie. Hulle is anders en net so min as wat ons siening normatief moet wees, net so min hoef ons hulle siening en ervaringe van die werklikheid te deel. Ons hoef nie almal te aanvaar dat mense wat engele, voorouers of vir Jesus gesien het, het iemand objektief gesien nie.

Ek sluit af: vir die eerste dissipels was “die evangelie” van die opstanding dat ’n eerste eeuse opgestane liggaam gegrond in hulle ervaringe (visioene) vir hulle werklik was; volgens die Kerk deur die eeue was dit dieselfde soort liggaam, maar gegrond in dit wat aan hulle oorgelewer is; vir kritiese Nuwe-Testamentici is dit bloot ’n mite of vervalsing terwyl dit vir konserwatiewe Nuwe-Testamentici liggaamlik werklik (in ons sin van die woorde) is. Daarom is die vraag nie of “die evangelie” op die spel is nie, maar watter een, want daar is nie so iets soos “die evangelie” nie. Daar is slegs verskillende interpretasies van dieselfde tekste en die vraag is, soos met die “klippe gooi” voorbeeld, watter verstaan van “die evangelie oor die opstanding” het die tekste die beste verstaan? Maar jy sal waarskynlik nie die vraag so kan stel as jy ’n literalis of fundamentalis en nie ’n pluralis is nie.

Daar is diegene wat soos selfaangestelde godsdienstige polisiemanne “die evangelie” wil beskerm sonder om te besef dat dit maar net hul eie verstaan daarvan is. Ironies genoeg is dit juis hulle wat aanspraak maak om in die verlengde van die geloofstradisie te staan, wat nóg die oorspronklike tekste nóg die kerklike tradisie se andersheid en unieke eie respekteer. En tragies genoeg, dit is juis uit hierdie geledere dat die ergste vorme van kulturele en godsdienstige geweld teen ander na vore kom. Ek sê tragies genoeg, want as my kultuur-sensitiewe lees van die tekste waar is, is enige lees wat ’n letterlike, werklike liggaamlike opstanding in ons sin van die woorde voorstaan, ’n etnosentriese verdraaiing daarvan.

Die vraag oor “Jesus se opstanding” konfronteer ons met meer as net die historiese vraag van het dit (so) gebeur of nie. Dit stel ons voor ’n meer fundamentele vraag: hoe gaan ons om met ons tekste en tradisie en met ander interpretasies daarvan? ’n Hedendaagse ketterjagtery wat gebasseer is op ’n etnosentriese misverstaan van die tekste is veel erger as die verwerping van Jesus se opstanding as ’n letterlik, liggaamlike gebeure. Anders gestel, ware bevryding kom wanneer mens die bril raaksien waarmee jy die werklikheid sien of die teks interpreteer en nederig genoeg is om jou interpretasie te relativeer.

Dalk is die 200 jaar van etnosentirese “mislees” van die tekste en die tradisie die grootste struikelblok om tot sinvolle dialoog te kom. Dit help nie ons praat oor die prentjies voordat ons oor die brille gepraat het wat die verskillende prentjies moontlik maak nie.

Het die mens 'n (onsterflike) siel?

Jacques Kriel 22 Oktober 2006
 

Ontwerp vir 'n evolusionêre mensbeeld[1].

"Neither a man nor a nation can live without a higher idea, and there is only one such idea on earth, that of an immortal human soul; all the other higher ideas by which men live follow from that."
F Dostoyefsky

Die ongeldigheid van hierdie "geloof" moet aangetoon word.
Johan Degenaar.

 

1. Inleiding

Wanneer Christene oor lewe na die dood praat, word woorde soos ewige lewe, wederkoms, finale oordeel, hemel en hel gebruik, maar 'n sentrale begrip vir die ortodokse Christelike verlossingsleer is die konsep van die onsterflike siel. Hierdie begrip is eintlik nie 'n teologiese begrip nie – dit funksioneer in die konteks van 'n dualistiese mensbeskouing: die mens, so word voorgestel, bestaan uit 'n sterflike liggaam en 'n onsterflike siel. Hoewel ander begrippe (byvoorbeeld erfsonde) ook met die siel geassosieer word, is die onsterflikheid die sentrale kenmerk van die siel waarom dit in Christelike denke gaan. Die siel is die 'draer' van onsterflikheid en dus van lewe na die dood. Die twee vrae: 'Is daar lewe na die dood?' en 'Het die mens 'n (onsterflike) siel?' is dus nou gekoppel.

Die dualistiese mensbeskouing kom ook buite die Christendom in ander godsdienste voor, en selfs buite godsdienstige verband. Dit het 'n belangrike rol gespeel in die kultuur-ontwikkeling van die mens, sowel as in die kultuurgeskiedenis van die Weste. Descartes het sy dualistese mensbeeld voorgestel in 'n poging om menswees te red van meganistiese implikasies van die materialistiese en reduksionistiese natuurwetenskaplike metode wat hy self help vestig het!

Maar bevraagtekening van die siel en voortbestaan na die dood het 'n baie lang en respektabele geskiedenis wat in die westerse kultuurgeskiedenis terugdateer tot die vroeë Griekse denkers en selfs Bybelskrywers (sien byvoorbeeld Prediker). In die Ooste het verskeie Buddhistiese tradisies deur eeue se gedissiplineerde introspeksie en meditasie tot die gevolgtrekking gekom dat die self nie ‘n substansiële entiteit is nie, en dat die ervaring van onsself as "’n self" ‘n illusie is. Binne die Christelike mistiese en asketiese tradisies het dieselfde bevraagtekening plaasgevind.

Die bevraagtekening word vandag op die spits gedryf deur bevindings in die neurofisiologie en fenomenologie van bewussyn. Brein-skandering toon dat die ‘sielsfunksies’ diffuus deur die brein plaasvind. Daar is nêrens ‘n lokaliseerbare ‘ek’ nie. Verder is dit duidelik dat hierdie funksies afhanklik is van die normale funksionering van die neurone in die brein. Die interpretasie van hierdie bevindings is dat die mens nie ‘n siel het nie en dat die ek-ervaring ‘n illusie is. Volgens David Darling stem die wetenskaplike en meditasie-bevindings saam:

There is no persistent self and no true sense in which "we" exist independently at successive moments in time. Both self and "now" are fictions conjured up along the journey of human evolution – convenient fictions as far as survival goes, but with no lasting significance. .. There can be no hereafter for "us," both science and mysticism agree, for "we" never really existed in the first place. (Darling 1995. p.152)

In hierdie analise word krities na die dualistiese mensbeskouing en die begrip van lewe na die dood gekyk, en word daar gevra of dit nog verdedigbare begrippe is in die lig van moderne insigte. 'n Mensbeeld word vanuit evolusionêre oogpunt ontwikel en die implikasies daarvan uitgestippel. Die belangrike bydrae wat Johan Degenaar hier te lande tot hierdie debat in die vorige eeu gelewer het, word uiteengesit.

 

2. Die Dood As Natuurverskynsel en menslike bewussynsinhoud

Eensellige organismes wat voortplant deur selverdeling is tegnies gesproke geneties 'onsterflik', hoewel individuele organismes kan sterf (struktureel en funksioneel disintegreer). Wanneer meersellige organismes en seksuele voortplanting ontwikkel, word veroudering geneties ingebou en word dit noodsaaklik dat vorige geslagte sterf om vermenging van genetiese materiaal en genetiese innovasie in die bevolking te verseker[2]. Hoewel daar vandag ekstensief navorsing gedoen word om die genetiese en metaboliese oorsake van veroudering teen te werk, bly die dood 'n evolusionêr-noodsaaklike natuurverskynsel en kan dit nie langer as 'n oordeel van God oor sy skepping vanweë menslike ongehoorsaamheid beskou word nie.

2.1 Die Dood as menslike grenservaring en uniek-menslike bewussynsinhoud

Die dood is die mees onafwendbare en finale maar ook, ten spyte van al ons wetenskaplike vooruitgang, die mees misterieuse en skrikwekkende gebeure in die menslike ervaringswêreld. Niemand het nog van die dood teruggekeer om verslag te doen oor die ervaring en ons met sekerheid in te lig oor lewe na die dood nie[3]. Al wat ons weet is dat die dood die enigste werklike sekerheid in die lewe is.

Hoewel alle lewende organismes geneties geprogrammeer is om skadelike of potensieel dodelike situasies te probeer vermy, is die mens waarskynlik die enigste dier wat bewus is van die dood as 'n onafwendbare toekomslot omdat die menslike bewussyn die enigste diere-bewussyn is wat verlede, hede en toekoms (m.a.w 'n tydsverloop) kan konstrueer en die eie rol daarin kan konsipieer en antisipeer. Die menslike bewussyn is dus waarskynlik die enigste diere-bewussyn wat 'Die Dood' as 'n entiteit kan visualiseer en konseptualiseer. Die Dood is 'n skepping van die menslike bewussyn! Sedert die werk van Martin Heidegger in die vroeë twintigerjare van die vorige eeu het die eksistensialistiese fenomenologie die dood getipeer as 'n grenssituasie en die menslike lewe geïnterpreteer as 'n "lewe tot die dood."

 

3. Die konsep: Lewe na die dood as definiërend van die mens

Lewe na die dood is dus nie 'n konsep wat gebaseer is op menslike ervaring nie, maar is 'n kreatiewe skepping van die menslike bewussyn in reaksie op die ervaring van die grenssituasie van die dood. Dit is ‘n sinskeppende bewussynsgreep in die onbekende en onkenbare van die dood. Dit skep betekenis vir hierdie lewe vanuit die gepostuleerde hiernamaals. Omdat die dood 'n horison vir menslike kennis verteenwoordig, is die vraag "Is daar lewe na die dood?" onbeantwoordbaar.

Dit is dus te verstane dat geloof in die konsep lewe na die dood, en hoop op die realiteit daarvan, een van die oudste en mees fundamentele konsepte van die menslike bewussyn is – so fundamenteel dat antropoloë argeologiese tekens van geloof in lewe na die dood (byvoorbeeld begrafnisrites en gebruike) as definiërend van Homo sapiens beskou[4]. Dit is die een konsep van die heel eerste mense wat alle veranderings en ontwikkelings in die mens se verstaan van sigself en die wêreld oorleef het en tot vandag sin- en betekenisskeppend is vir waarskynlik die grootste gedeelte van die mensdom.

Hoewel geloof in lewe na die dood nie noodwendig gekoppel is aan geloof in 'n spesifieke God of gode nie, is dit nogtans sentraal tot feitlik alle vorige en huidige godsdienste[5], en verklaar die volgehoue houvas van godsdienstige idees en die sosiale en politieke mag van die professionele amptenary van godsdienste – 'n mag wat selfs strek tot die vereiste dat aanhangers van die geloof hulle (biologiese) lewe opoffer ter wille van die godsdienstige konseptuele raamwerk – 'n gedrag wat heeltemal teen die grein van evolusie ingaan.

Die konsep van lewe na die dood en die godsdienstige raamwerk en praktyke waarin dit ingebed is, is dus fundamenteel sinskeppend vir die menslike bewussyn en kenmerkend, selfs definiërend van die menslike spesie Homo sapiens. Gevolglik is dit 'n konsep en geloof wat nie ligtelik aan getorring noet word nie. Om Dostojevsky weer effens aangepas aan te haal:

"Neither a man nor a nation can live without a higher idea, and there is only one such idea on earth, that of the life after death of an immortal human soul; all the other higher ideas by which men live follow from that[6].

3.1 Kultuurgebonde betekenisinhoud

In verskillende kulture word die voortsetting van lewe na die dood op verskillende maniere voorgestel, afhangende van die mens- en wêreldbeeld van die kultuur. Die konsep is kultureel ingebed, het dus 'n geskiedenis en kan nie onafhanklik van die taal- en kultuurkonteks waarbinne dit funksioneer verstaan en ge-analiseer word nie. Dit veronderstel 'n hele lewens- en wêreldbeskouing[7] en deel in al die veronderstellings en (wan)voorstellings van die taal en kultuur waarbinne dit funksioneer. Dit het nie ‘n vanselfsprekende (self-evident) betekenis nie.

In sommige kulture is lewe na die dood nie 'n voortsetting van enigiets wat in hierdie lewe deel van die liggaam is nie, maar is dit 'n spesifieke geskenk of oordeel van die gode. Maar indien die wêreldbeeld daarvoor voorsiening maak, kan die hele liggaam voorgestel word as voortlewend in die wêreld van die dode (vandaar voedsel en wapens wat vir die reis na en in 'die doderyk' voorsien word[8]). Die wêreldbeeld moet dan voorsiening maak vir verskillende maniere om 'materie' of liggaam te konseptualiseer, want alle kulture is terdeë bewus van die disintegrasie van die afgestorwe liggaam. Lewe na die dood kan egter voorgestel word op so 'n wyse dat iets van die biologiese organisme (byvoorbeeld 'die asem') nie disintegreer nie, maar die liggaam verlaat en dus die dood 'oorleef'. Hierdie 'iets' is dan die eintlike draer van die essensie van 'lewe' en van lewe na die dood.

3.2 Lewe na die dood en die konsep van die onsterflikheid van die siel

Dit skyn ‘n algemeen menslike ervaring te wees dat mense hulself as in beheer van hulle liggame ervaar (of soms nie in beheer nie!), en die eie liggaam ervaar as ‘iets anders’ as, soms in konflik met, die voelende, willende, ervarende self. Hierdie self-ervaring word geïnterpreteer as bewys dat die 'ek' iets anders as die liggaam is, dat ek 'n siel binne-in en in beheer van my liggaam is.

Sedert die Latynse kerkvaders en onder Grieks-Hellenistiese invloed is die lewe na die dood binne die Christelike tradisie voorgestel as gesetel in ‘n onsterflike nie-materiële iets in die lewende liggaam wat gewoonlik met die begrip 'onsterflike siel' aangedui word: die mens bestaan uit twee entiteite naamlik'n sterflke liggaam en 'n onsterflike siel[9]. Die wêreldbeeld moet dus voorsiening maak vir nie-materiële dinge. 'Die Siel' is nie slegs onsterflik nie, maar is die draer van persoonlike individualiteit in hierdie lewe. Die siel is 'die ek'. In die dualistiese mensbeskouing het die mens streng gesproke nie 'n siel nie – die eintlike mens, die ek, die self, is 'n siel[10].

3.3 Veranderde wêreldbeeld

Ons lewe egter nie meer binne dieselfde wêreldbeeld as Jesus óf die kerkvaders nie. Ons wêreld sit anders aanmekaar as dié van ons voorvaders en as dié waarbinne die tradisionele Christelike raamwerk ontstaan en ontwikkel het. Die vraag is dus: Het die begrip van 'n onsterflike siel vandag nog enige lewensvatbaarheid en is dit nog betekenisskeppend?

 

4. Metodologie: Hoe beantwoord mens die vraag?

Die vraag 'is daar lewe na die dood?' is, soos reeds genoem, onbeantwoordbaar, want die dood verteenwoordig 'n grenssituasie, 'n kenhorison, waaragter menslike kenmetodes nie kan kom nie. Aangesien die siel binne Chritelike diskoers die draer van onsterflikheid (en dus van lewe na die dood) is, kan die vraag herformuleer word as: Het die mens 'n onsterflike siel? Die vraag of die siel onsterflik is, is natuurlik ook onbeantwoordbaar aangesien lewe na die dood ontoeganklik is vir menslike kennis. Maar of die mens ‘n siel het is op die oog af wel navorsbaar.

4.1 Self-kontradiksie

Die begrip 'lewe' word normaalweg gebruik om te verwys na 'biologiese lewe' soos dit manifesteer in die biologiese struktuur en werking van die liggaam, hoewel dit metafories ook 'n ryk inhoud het. Insgelyks verwys 'dood' per definisie na die einde van biologiese lewe. Die begrip 'lewe na die dood' bevat dus konseptueel gesien 'n duidelike self-kontradiksie – lewe en dood is twee begrippe wat mekaar uitsluit. Dit beteken dat 'lewe' in hierdie konsep nie na biologiese of organiese lewe kan verwys nie, want dood beteken die disintegrasie van die biologiese strukture wat gelewe het.

4.2 Herformulering van die vraag

Wat egter met lewe na die dood bedoel word, is die voortbestaan van bewuste lewe, dus van bewussyn, na die dood. Dit wat die dood oorleef moet in die lewe die draer wees van persoonlikheid en individualiteit, van bewussyn. Die vraag na die moontlikheid van voortgesette lewe na die dood en of die mens 'n siel het, word dus die vraag na die aard van bewussyn, die verhouding van bewussyn tot die liggaam, en die rol wat dit speel in die menslike ervaring van 'die self' as anders en apart van 'die liggaam' en of bewussyn onafhanklik van die liggaam kan (voort)bestaan..

4.3 Kultuur as skepping van menslike bewussyn

Daar is egter 'n tweede rede waarom die vraag na die aard van bewussyn vandag belangrik geword het. Godsdiens en wetenskap (natuur- sosiaal- en geestes-wetenskappe, insluitende die teologie en Bybelwetenskappe), filosofie en tegnologie, sosiale organisasie (polities, ekonomies, juridies) en kuns (beeldend, letterkunde, musiek,) – dus alle uitings van kultuur – is almal skeppings van die menslike bewussyn[11]. Dus: voor ons kan verstaan wat hierdie menslike aktiwiteite in teorie en praktyk beteken, moet ons verstaan wat die mens is en wat die aard van die menslike bewussyn is. Die probleem is dat ons nie buite hierdie skeppings van die menslike bewussyn kan plek inneem, byvoorbeeld in openbaring, om die mens as 't ware van buite te verstaan nie. Die verstaansraamwerke tot ons beskikking is almal skeppings van daardie selfde bewussyn wat probeer om sigself te verstaan.

4.4 Keuse vir evolusionêre benadering

Ons moet dus 'n keuse maak omtrent die metode om bewussyn te verstaan. In hierdie analise kies ek as uitgangspunt vir 'n evolusionistiese raamwerk as 'n goed-gefundeerde konseptuele raamwerk wat reeds vrugbare insigte in die herkoms en aard van die mens opgelewer het. Ek kies dus bewustelik teen 'n godsdienstige verstaansraamwerk wat op grond van 'openbaarde waarheid' in sekere tekste die mens as 'n direkte skepping van óf Jahweh (Judaïsme), óf die Drie-Enige God (Christendom), óf Allah (Islam), of enige ander God of gode beskou. My rede vir hierdie keuse is dat 'n evolusionistiese raamwerk vir my 'n vrugbare perspektief op en insig in die mens as godsdienstige wese gee, terwyl godsdienstige skeppingsteorieë nie dieselfde insigte op die mens as 'n evolusionêre natuurverskynsel ("an evolved animal") gee nie. Hierdie analise is nie slegs gebaseer op hierdie veronderstelling nie, maar moet ook dien as motivering vir die keuse.

4.5 Die menslike liggaam is 'n diere-liggaam

Ek gaan dus van die evolusionistiese veronderstelling uit: die menslike liggaam is 'n diere-liggaam – my liggaam is 'n diere-liggaam. Dit is die sentrale insig van die biologie. Die menslike liggaam is anatomies en fisiologies ten nouste gekoppel met die derduisende diere- en plantspesies wat tans op die aarde bestaan. Dit reik dus ook, in struktuur en funksie, biologies-evolusionêr biljoene jare terug na daardie eerste flikkertjie lewe, ‘n stukkie van die fisiese kosmos, ‘n flentertjie materiële komplekse-sisteem wat self afgesluit het van die omringende materiële werklikheid om die eerste selfonderhoudende gestruktureerdheid, die eerste lewende sel, die eerste biologiese binneruimte op ons aardkors daar te stel, en evolusie hier ter plaatse af te skop.

Maar die menslike liggaam is 'n bewuste diere-liggaam. My liggaam is 'n bewuste diere-liggaam.

 

5. Wat is bewussyn (consciousness)?

Bewussyn is nie ‘n maklike begrip om te definieer nie. Dit is die mees vanselfsprekende maar ook die mees misterieuse aspek van ons bestaan. Baie outeurs gebruik die term bewussyn as sinoniem met die menslike taalbemiddelde vorm van bewussyn, en sommiges verklaar dan selfs kategories dat ander diere-spesies nie bewussyn (consciousness) het nie, of nie bewus (conscious) is nie, omdat hulle nie taalmagtig is nie. Ek wys dit ten sterkste af.

Die mens, Homo sapiens as bewuste diere-spesie is na liggaam en gees (bewussyn) 'n evolusionêre ontwikkeling van voorafgaande bewuste dierespesies. Ons moet dus op 'n definisie van bewusyn besluit wat ons toelaat om bewussyn by ander dierespesies te herken, maar wat ook die kenmerkende van menslike bewussyn kan erken. Menslike bewussyn is 'n spesifieke soort bewussyn, 'n meer komplekse vorm van bewussyn, maar nog steeds 'n vorm van die meer algemene verskynsel: bewussyn.

5.1 Bewussyn as sensasie (sintuiglike ervaring)

Die evolusionêre sielkundige Nicholas Humphrey definieer bewussyn as die ervaar van sensasies soos visie, gehoor, reuk of gevoel[12]. Hierdie vermoë om sensasies te ervaar en te verwerk is die kenmerk van bewuste organismes. Om bewus te wees, sê Humphrey

(I)s always as a matter of fact to be experiencing some kind of sensation: indeed that the having of sensations constitutes being conscious, and no human being or animal or robot would or could be conscious without it. (Humphrey 1993)

Die bewussynswêreld is primêr 'n sintuiglike ervaringswêreld. Inligting-draende impulse van 'buite' die organisme word deur die brein omskep in 'n geïntegreerde ervaringswêreld. 'n Bewuste dier het dus die verstommende vermoë om inligting vanuit die omgewing te herstruktureer, te herskep as 'n subjektiewe ervaring en so 'n subjektiewe bewussynswêreld te skep. Die bewussynswêreld waarin 'n bewuste dier leef is 'n skepping, 'n konstruksie deur die brein. So 'n beskouing het verreikende implikasies.

5.2 Bewussyn is nie 'n ding nie

Bewussyn is dus 'n bestaanswyse van sekere dierespesies wat die wêreld ervaar deur hulle sintuie, en wat 'n sintuiglike bewussynsbeeld van die wêreld opbou en daarin leef. Bewussyn is nie 'n 'iets' binne in die organisme nie. Dit is 'n biologiese proses van die orgasnisme. Daar is dus nie 'n ding, 'n iets, wat ons kan aandui as 'bewussyn' onafhanklik van die liggaam nie – daar is slegs bewuste diere. Hierdie is 'n baie belangrike punt want die neiging is altyd daar om bewussyn as 'n aanduibare 'ding' te beskou.

5.3 Bewussyn is nie 'n representasie van die wêreld nie

In die brein is daar nie prentjies, beelde of representasies van die wêreld nie. In die brein is daar slegs senuwee-impulse. Dit is die misterie van bewussyn. Tog ontstaan daar vir die bewuste dier 'n bewussynswêreld.

‘The activities of nerve cells do not reflect an environment independent of the living organism and hence do not allow for the construction of an absolutely existing external world’. According to Maturana, perception and, more generally, cognition, do not represent an external reality, but rather specify one through the nervous system’s process of circular organization (Capra 1997, p96).

Die bewussynswêreld waarbinne die bewuste dier leef (en wat sy oorlewing bepaal) is 'n konstruksie deur die brein op grond van eksterne sintuig-bemiddelde inligting, maar in terme van die organisme se eie interne struktuur. Hoewel die mens se taalbemiddelde bewussyn veel komplekser as die van ander diere is, is dit nog steeds 'n konstruksie en nie 'die werklikheid' nie.

5.4 Bewussyn skep dus ‘n spesie-spesifieke wêreld

Dit beteken dat alle bewuste organismes nie op dieselfde manier bewus is van die wêreld nie. Die sensasie wat die bewuste organisme ervaar is nie ‘n representasie (in die sin van weerspieëling) van ‘die werklikheid daar buite’ nie. Dit beteken dat verskillende spesies wat in dieselfde omgewing leef, tog nie in dieselfde bewussynswêreld leef nie. Elke spesie skep, konstrueer, ‘n eie bewussynswêreld.

Die bewussynswêrelde waarin bewuste diere leef is gedifferensieerd vanaf heel eenvoudige bewussynskonstruksies (byvoorbeeld by amfibië) tot hoogs gesofistikeerde bewussynswêrelde by voëls en soogdiere. Sekere soogdiere toon reeds oorgangsverskynsels na die volgende vlak van bewussyn naamlik self-bewussyn[13].

5.5 Hoe ontstaan bewussyn

Presies hoe en hoekom sekere vorms van biologiese organisasie 'n bewussynswêreld ontwikkel is glad nie duidelik nie. Hoewel 'n baie komplekse sentrale senuweestelsel ('n brein) daarvoor nodig is, is bewussyn 'n heelliggaam-verskynsel, want die liggaam funksioneer as 'n geheel – die interaksie met die omgewing is essensieel vir 'n organisme om bewus te wees. Daar is navorsers en filosowe wat oortuig is dat daar geen rede is om te dink dat die menslike brein in staat moet wees om die misterie van bewussyn finaal te verstaan nie. Maar dat dit 'n skepping van biologiese prosesse is, staan vas.

'n Baie komplekse vorm van sentrale en perifere senuweestelsel is nodig om bewussyn te laat ontstaan. Maar hoe 'n sisteem bestaande uit senuwee-impulse 'n subjektiewe ervaring van die wêreld kan skep, is onbekend[14]. Twee Suid-Amerikaanse neurofisioloë, Maturana en Varela, het voorgestel dat bewussyn 'n inherente moontlikheid van lewende sisteme is, 'n moontlikheid wat deur die evolusionêre proses werklikheid geword het, omdat lewende sisteme noodwendig ook inligtingverwerkende komplekse sisteme is.

5.6 Lewe-as-kognisie (inligtingverwerking)

Volgens Maturana en Varela is "lewe" nie 'n misterieuse vitale beginsel wat bygevoeg moet word tot die chemies-fisiese komponente van die lewende sisteem nie, maar 'n manier van organisasie van die materiële komponente.. Hulle noem hierdie wyse van organisasie van die komponente outopoiese, 'n woord wat selfskeppend beteken. Outopoietiese sisteme is komplekse selfskeppende sisteme. Capra beskryf outopoiese, hierdie self-skeppende organisasie wat lewe definieer, soos volg:

It is a network of production processes, in which the function of each component is to participate in the production or transformation of other components in the network. In this way, the entire network continually ‘makes itself’. It is produced by its components and in turn produces those components. ‘In a living system,’ the authors explain, ‘the product of its operation is its own organization’ (1997, p.98).

Lewende sisteme is in gedurige interaksie met hulle omgewing. Hierdie interaksie bestaan uit die uitruil van voeding- en afvalstowwe, maar om te oorleef moet lewende sisteme inligting oor die omgewing insamel, verwerk en stoor. Lewende materiële sisteme is dus terselfdertyd inligtingverwerkende sisteme. Maturana verwys dus na alle lewende sisteme as kognitiewe sisteme. Lewe en kognisie is twee aspekte van outopoietiese sisteme. In Maturana se eie woorde:

Living systems are cognitive systems, and living as a process is a process of cognition. This statement is valid for all organisms, with and without nervous systems (aangehaal deur Capra 1997, p97).

Hierdie insig koppel materiële sisteme, lewende materiële sisteme en bewuste lewende materiële sisteme tot 'n evolusionêre eenheid. Bewuste lewende sisteme is dus 'n verdere kompleksifisering van die fundamentele kognitiewe struktuur van lewende sisteme.

'n Interessante implikasie hiervan is dat sintuie aanvanklik ontwikkel het om inligting vervat in lig, lug en water in die omgewing te versamel, en nie om sintuiglike ervarings of sensasie te onderlê nie. Deur die self-organisasie en self-kompleksifikasie van die evolusieproses het hierdie sintuie later ‘n funksieverandering ondergaan en onderlê hulle in bewuste organismes die sensasies van sien, hoor, ruik ens. Die fundamentele kognitiewe dimensie van lewende sisteme vorm terselfdertyd die grondslag vir die latere evolusie van senuweestelsels, gespesialiseerde sintuie, bewussyn en self-bewussyn. Net soos lewe ‘n inherente moontlikheid van die materiële werklikheid is, so is lewe-as-kognisie en bewussyn-as-sensasie ‘n inherente moontlikheid van lewende materiële sisteme en inherent biologiese verskynsels.

5.7 Die evolusie van bewussyn

Die evolusie van bewussyn kan soos volg voorgestel word:

  • i) Die ontstaan van self-organiserende materiële komplekse sisteme met en na die Groot Knal. Komplekse (nie-liniêre) sisteme is baie spesiale fisiese sisteme met verbasende kenmerke wat deur die Nobelpryswenner Prigogine onder wetenskaplikes se aandag gebring is. Selforganisasie en selfkompleksifikasie is van die kenmerke[15]. Dit is die basis vir die ontwikkeling van orde uit chaos en van toename in kompleksiteit (fisies en biologies) in die heelal.

Selforganisasie en selfkompleksifisering van komplekse sisteme is vir my die basisproses in die evolusie van lewe en bewussyn. Fisiese komplekse sisteme self-organiseer en lei tot die ontstaan van lewe.

  • ii) Lewende materiële sisteme wat terselfdertyd inligtingverwerkende (kognitiewe) sisteme is. Lewende sisteme as kognitiewe sisteme is fundamenteel tot die evolusie van bewussyn deur evolusie (selforganisasie van komplekse sisteme) ontwikkel.
  • iii) Bewuste[16] lewende materiële sisteme. Presies waar bewussyn in die diereryk ontstaan is moeilik te bepaal aangesien daar geen objektiewe biologiese merkers vir bewussyn is nie, sodat ons byvoorbeeld nie met 'n chemiese toets of 'n elektronmikroskoop kan bepaal of 'n spesie defnitief bewus is nie. Op grond van hulle gedrag kan ons aflei dat voëls en soogdiere bewus is. Dalk was Dinosaurisse bewus. 'n Internasionale kongres het onlangs besluit dat bewussyn waarskynlik by amfibië rudimentêr teenwoordig is.

Bewussyn kan dus nie apart van biologiese sisteme bestaan nie. Dit is 'n wyse van organisasie van die biologiese. Hierdie bewuste lewende sisteme ontwikkel tot:

  • iv) Selfbewuste lewende materiële komplekse sisteme soos waarskynlik teenwoordig by Homo neanderthalensis (nou uitgesterf) en chimpanzees en (via Australopithecus, Homo habilus en Homo erectus) by Homo sapiens (die mens: vanweë ons genetiese ooreenkoms met chimpanzees, ook bekend as "die derde chimpanzee-spesie").

Maar kan die menslike vorm van bewussyn dalk apart van die liggaamlike onderbou bestaan? Voordat ek na die evolusionêre verstaan van menslike bewussyn kyk, wil ek eers Johan Degenaar se belangrike bydrae tot hierdie debat vanuit die fenome-nologiese antropologie probeer uiteensit, 'n bydrae wat nie na waarde geskat is of word nie. Ek wil voorstel dat Degenaar se klem op die term siel as 'n perspektief op liggamlikheid as die fundamentele menslike situasie vir ons belangrike perspektiewe open op die aard van die menslike bewussyn.

 

6. Johan Degenaar en die Sterflikheid van die Siel

6.1 Die siel as moontlikheid van die liggaam

Hier te lande het Johan Degenaar, in die vroeë 1950's pas terug van sy studies onder die Nederlandse godsdiens-fenomenoloog G. van der Leeuw, die Suid-Afrikaanse Protestantse en Katolieke teologiese en filosofiese hierargie die harnas in gejaag deur voor te stel dat die begrip siel nie dui op 'n "iets" nie, maar op 'n moontlikheid of, soos hy dit stel, 'n magtigheid van die menslike liggaam. Dit beteken dan ook dat die siel soos die liggaam sterflik is. Sy artikels het gedurende die vytigerjare in die nou afgestorwe kultuurtydskrif Standpunte[17] verskyn. Sommiges is later gebundel en uitgegee onder die uitlokkende titel Die Sterflikheid van die Siel[18].

6.2 Geskiedenis van die onsterflikheidsbegrip

Degenaar wys daarop dat die geloof in 'n onstoflike siel wat nie vergaan nie, reeds in die oudste Christelike teologie voorkom, maar dat die onsterflikheid van die siel eers by die Lutheraanse Konsilie van 1512 tot offisiële geloofsleer van die Rooms Katolieke kerk verklaar is. Die gedagte van 'n onsterflike en onstoflike siel-substansie bly egter deel van die teologie van Calvyn en die verdere Protestantse teologie. Volgens hom kom hierdie begrip nie in die Bybel voor nie[19], en verteenwoordig dit eintlik 'n menslike poging om die erns van die dood te ontloop. Hy pleit eerder vir doodsaanvaarding as die outentiek-menslike lewenshouding[20].

6.3 'Siel' as perspektief, nie as substansie

Degenaar stel 'n mensbeeld voor waarin die begrippe liggaam, siel en gees nie begrippe is wat verwys na "substansies" of "dinge" wat onafhanklik van mekaar kan bestaan nie, maar name is wat verwys na verskillende perspektiewe op die fundamentele liggaamsituasie van die mens. Eenvoudiger gestel: die begrippe siel en gees verwys na dinge wat die (self-bewuste) menslike liggaam kan doen, nie dinge in die liggaam nie.

6.4 Onsterflikheid misken liggaamlikheid

Volgens Degenaar moet die idee van die siel en sy onsterflikheid afgekeur word omdat dit die mens vervreem van sy eie menslikheid: dit lei tot 'n miskenning van die liggaam en die eise wat deur liggaamlikheid gestel word en so word 'n belangrike aspek van die mens se bestaan hom ontsê. Die miskenning van die liggaam lei tot die gelykstelling van die onderskeid tussen goed en kwaad met die dualisme tussen siel en liggaam en die seksuele aspekte van die menslike lewe word negatief opgevat.

Verder lei die idee van die siel tot ongeldige en gevaarlike spekulasies oor die lewe na die dood wat in die tyd-ruimtelike beelde van hierdie wêreld opgevat word en lei so tot

"die negering van die erns van die dood. Die dood word nie gesien as die bestaanswyse van die mens en as 'n fenomeen waaragter hy nie kan kom met sy onsterflikheidspekulasies nie." (Degenaar 1963, p 21-22)[21].

6.5 Ongeldigheid van onsterflikheidsgeloof

Die herrie wat hierdie model in die Suid-Afrikaanse teologiese en filosofiese hoenderhok veroorsaak het, is te verstane, want die meesterverhaal van die Evangelie word sedert die 4de eeu nC. ontwerp rondom die konsep van ‘n sondige onsterflike siel wat verlos moet word van die oordeel van God deur die versoeningsdood van Jesus, die Christus. Daarsonder kan die tradisionele interpretasie van die Jesus-gebeure waarskynlik nie bestaan nie. Soos Degenaar dit stel:

Die ongeldigheid van hierdie "geloof" moet aangetoon word, veral ook omdat die mens dit vandag nog beskou as só 'n wonderlike prestasie, dat dit verhef is tot een van die grondsuile van die geloof – ook van die Christelike geloof, of presieser uitgedruk: ook van die "Christelike" geloof soos dit (verkeerdelik) binne die Christendom opgevat is. (Degenaar 1963, 10) .

6.6 Die mens is sy liggaam

Die begrippe 'menswording' en 'liggaamlikheid' is sentraal in sy analise. Die mens vind homself al menswordende in die wêreld as liggaam. Agter hierdie feit kan die menslike denke nie inkom nie. Só fundamenteel is die begrip liggaamlikheid, dat hy dit formuleer: die mens is sy liggaam.

Liggaamlikheid is die enigste wyse waarop die mens hom in die wêreld vind. .. Liggaam behoort tot die wese van die mens. .. die mens is sy liggaam.

6.7 Die siel as liggaamlike transenderingsmoontlikheid

Die begrippe liggaam, siel en gees onstaan in aansluiting by die ervaringswêreld van die mens – ervaring van die wêreld en van sy eie liggaam in die wêreld - en behoort nie daarbuite (byvoorbeeld in teologiese spekulasies oor lewe na die dood) van toepassing gemaak te word nie. Dit dui op maniere waarop die mens sigself ervaar, en nie op aparte dinge in die wêreld nie.

Menswording, volgens Degenaar, is sinoniem met "wording tot liggaamlikheid". In hierdie wordingsproses ontdek die mens sy eie magtigheid oor sy liggaam en, deur sy liggaam, oor die wêreld. Hierdie wete of ervaring van die magtigheid oor sy liggaam, is die sielsmatige dimensie van menslike liggaamlikheid.

[Die mens] ontdek dat hy nie slegs liggaam is nie, maar ook die magtigheid van die liggaam. Anders gestel: hy is siel omdat hy transendensie ontdek: hy is nie slegs liggaam nie, want hy is oor sy liggaam heen. Die siel is nie iets wat hy kan besit nie. Dit is hy in sy superioriteit oor die liggaam. (Degenaar 1963)

6.8 Die menslike liggaam as besielde liggaam

Die mens ontdek dus in sy menswording homself as liggaam in die wêreld, maar terselfdertyd sy moontlikheid tot transendering van sy liggaamlikheid. In aansluiting hierby ontwikkel Degenaar dan sy begrip van die mens as besielde liggaam, en wys hy die dualistiese verstaan van die mens as bestaande uit 'n onsterflike siel en 'n sterflike liggaam ten sterkste af.

6.9 Menswording.

Die agtergrond tot die begrip 'menswording' is die eksistensialistiese fenomenologie se uitgangspunt dat die mens nie 'n vasstaande essensie het waarmee elke lid van die spesie gebore word nie, maar dat die mens deur sy eksistensiële ervarings en keuses mens word. Hierdie menswordingsproses is dus een wat afspeel beide in die kultuur-geskiedenis van die mens as spesie, en in die psigologiese geskiedenis van elke individu. Binne beide hierdie kontekste ontdek die mens (as spesie en as individu) dat hy 'n liggaam het. Ander bewuste diere is nie bewus van hulle liggame as objekte in hulle ervaringswêreld, en dus van hulle liggaamlikheid nie. Die mens is bewus dat hy 'n liggaam is, maar ervaar terselfdertyd dat hy, in Degenaar se terminologie, meer is as 'net' sy liggaam, en ondek so sy magtigheid oor sy liggaam, en deur sy liggaam oor die wêreld.

'n Nie-selfbewuste dier is sy liggaam. Die mens, as selfbewuste dier, het 'n liggaam. Die mens se ervaring van sigself as liggaam, en as 'meer-as-net-liggaam', is die funksionele konteks vir die ontstaan van die begrip siel. Vir Degenaar dui die begrip 'siel' op hierdie bewuswording van 'meer-as-net-liggaam' wat hy dui as transendering van eie liggaamlikheid. Die 'siel' is nie 'n ding nie, dit is die transenderingsmoontlikheid van die menslike liggaam ten opsigte van sigself. Dit is 'n perspektief op, of funksie van die liggaam.

6.10 Menswording en die evolusie van bewussyn

Ongelukkig was Degenaar sy tyd te vêr vooruit, en is die debat nie volgehou nie. Intussen egter het die bevraagtekening van die dualistiese mensbeskouing, voortgegaan. Moderne navorsing oor die aard en evolusie van die menslike bewussyn intensifiseer nie slegs die bevraagtekening van die hierdie mensbeeld nie, dit ondersteun in verskeie opsigte die mensbeeld wat die eksistensialistiese en fenomenologiese antropologie ontwerp het.

In die res van hierdie voordrag wil ek dus probeer om die perspektief op die mens uiteen te sit wat myns insiens voortvloei uit insigte vanuit die evolusie-teorie, en veral 'n sisteemteoretiese verstaan van bewuste en selfbewuste organismes. Ek wil voorstel dat wat Degenaar 'menswording' genoem het, binne hierdie benadering beskou kan word as die evolusie van selfbewussyn[22]. Ek interpreteer hierdie proses as die self-organisasie en kompleksifikasie van komplekse (nie-liniêre) biologiese sisteme wat alle vorms van lewe in gemeen het. Die mensbeeld wat hieruit voortvloei, het implikasies wat veel verder strek as die biologie.

 

7. Die menslike vorm van bewussyn: self-bewussyn

Die menslike vorm van bewussyn word gewoonlik met die term selfbewussyn aangedui. As die begrip ‘bewussyn’ problematies is, dan is selfbewussyn nog meer so. Neurofisioloë sê dat die menslike brein die mees komplekse struktuur in die bekende heelal is. Dieselfde kan dan gesê word van die menslike bewussyn, want wanneer ons praat van bewussyn, praat ons eintlik van 'die bewuste brein'. Feitlik elke skrywer het sy eie konstruksie van wat met selfbewussyn bedoel word. Capra praat eerder van ‘self-awareness’ en betitel die hoofstuk waarin hy selfbewussyn bespreek Knowing That We Know. Hy verduidelik Maturana se standpunt soos volg:

Awareness of the environment, according to the Santiago theory, is a property of cognition at all levels of life. Self-awareness, as far as we know, is manifest only in higher animals, and fully enfolds in the human mind. As humans, we are not only aware of our environment, we are also aware of ourselves and our inner world. In other words, we are aware that we are aware (1997 p.278)[23].

Ek wil probeer om 'n paar belangrike fasette van die menslike slefbewussyn uit te lig.

7.1. 'Self awareness' hou myns insiens meer in as net 'knowing that we know'. Dit is meer 'n geval van 'being aware of being aware' – bewus wees van jou bewus-wees. Dit koppel menslike bewussyn onlosmaaklik aan die basiese diere-bewussyn waarvan dit 'n verdere kompleksifikasie is. Dit is 'n 'bewus wees van bewussyn-as-sensasie'.

7.2. Dit beteken dat die menslike bewussynswêreld, hoewel meer kompleks as dié van ander diere, eweneens 'n konstruksie, 'n skepping van die brein is. Die menslike bewussynswêreld is nie 'die werklikheid' nie. Dit is 'n konstruksie van die werklikheid deur 'n dierespesie. Capra beskryf die spesifieke kenmerke van menslike bewussyn as:

‘... our ability to abstract, which is a key characteristic of human consciousness. For a thorough understanding of the general process of cognition in living systems it is thus important to understand how human consciousness, with its abstract thought and symblic concepts, arises out of the cognitive process that is common to all living organisms. (1997. p.278. My kursivering).

7.3. In die evolusie van die menslike bewuste brein ('gedurende menswording' om Degenaar se terminologie te gebruik) gebeur iets verstommends: die bewuste liggaam word bewus van die eie bewussynsprosesse, en word terselfdertyd bewus van die eie liggaam as 'n entiteit ('n objek) in die ervaringswêreld. Selfbewussyn het dus twee aspekte of perspektiewe: bewussyn van sigself as liggaam en as 'meer as liggaam'. Die menslike liggaam het dus die vermoë tot veralgemening, tot abstraksie, tot transendering van die onmiddellike bewussyn. Dit is 'n meta-bewussyn. Die bewuste menslike liggaam kan asof van buite oor sigself dink, praat en na sigself kyk.

7.4. Hierdie moontlikheid (of magtigheid) van die menslike liggaam word gegee saam met taal. Die evolusie van taal is dus 'n fundamentele moment in die evolusie van die menslike vorm van bewussyn. Die menslike bewussyn is 'n taalmatige bewussyn. Die mens leef in 'n deur-taal-gekonstrueerde wêreld[24]. Deur taal ontdek die mens dat hy 'n liggaam is, maar ook meer is as net-liggaam[25]. Deur taal skep die mens verlede, hede en toekoms, die self, die nie-self (insluitende die liggaam), en (meer gevaarlik) die ander. Deur taal skep die mens godsdiens, wetenskap, samelewingstrukture – kultuur dus. Ek is wat ek praat; ek is die stories wat ek oor myself en die wêreld vertel.

7.5. Maar taal is nie 'n eienskap van die individuele bewussyn nie. Dit is fundamenteel 'n sosiale verskynsel. Die mens word mens (selfbewuste liggaam) binne en deur middel van 'n sosiale taal en kultuurgemeenskap. Die mens word mens deur mense. Die neuropsigiater Brian Wexler beskryf hierdie fundamentele samehang tussen brein, taal, samelewing en kultuur soos volg:

Our brains require sensory input from the environment to develop normally, and that input shapes the brain systems necessary for perception, memory, and thinking. Environmental shaping of the brain is much greater in people than in other animals and, more imjportantly, we shape the environment that shapes our brains to an extent without precedent. Even the strucrture and function of DNA that codes for brain proteins are changed by early life experience. Through these processs our brains shape themselves to the individual curlture and interpersonal environments in which we are reared. (Brain and Culture. Neurobiology, ideology, and social change.MIT Press, Cambridge, Ms).

Nie net is taal 'n sosiokulturele verskynsel nie, maar selfs die breinstruktuur word gevorm deur die sosio-kulturele konteks. Mens (self-bewuste liggaam) en samelewing word saam gegee.

7.6 Die siel is dus 'n woord wat verwys na die mens se bewussynservaring van sigself en nie iets afsonderliks van die liggaam wat die liggaam kan oorleef nie. Die siel is die objektivering (tot-objek-making) deur die selfbewuste menslike liggaam van die ervaring van sigself in die wêreld. Die begrip 'siel' dui op die moontlikheid van die taalbewuste menslike (bewuste) liggaam om sigself te transendeer. Die liggaam is 'n besielde liggaam.

 

8. Konklusie

Die menslike selftransenderende liggaam is 'n produk van die evolusionêre proses. Die mens is dus na liggaam en siel (self-bewussyn) 'n produk van evolusie. (Self)bewussyn is 'n konstruksie van die bewuste menslike brein, is taalafhanklik en berus op die ervaring van eie bewussynsprosesse en van die liggaam as objek, maar in interaksie met ander mense binne taal- en kultuurverband.

Die antwoord op die vraag Het die mens 'n siel? is dus, soos reeds deur Degenaar in die 1950's aangedui: nee, die mens het nie 'n (onsterflike) siel nie. Die mens is 'n besielde (selftransenderende, taal-bewuste) liggaam.

 

9. Implikasies

Aangesien die konsep van lewe na die dood 'n fundamentele sinskeppende konsep vir die mens as dierespesie skyn te wees, kan dit nie daar gelaat word nie. Daar moet nagedink word oor ander 'higher ideas' (Dostojevsky). Degenaar het voorgestel dat onsterflikheid van die siel nie 'n Bybelse begrip is nie, en dat dit binne Christelike denke vervang moet word met opstanding van die dode. Hierdie is 'n teologiese begrip en vorm nie deel van 'n mensbeeld nie. Die vraag bly egter of dit kritiese analise sal kan weerstaan.

Vanuit die eksistensialistiese en fenomenologiese antropologie word die fundamentele aspek van die mens se bestaan voorgestel as 'n 'lewe-tot-die-dood'. Degenaar stel voor dat doodsaanvaarding 'n belangrike aspek van menswees behoort te wees. Moet ons weer kennis begin neem van vorige wysheid, byvoorbeeld:

Michel de Montaigne: Let us deprive death of its strangeness, let us frequent it, let us get used to it; let us have nothing more often in mind than death ... We do not know where death awaits us: so let us wait for it everywhere. To practise death is to practise freedom.
Cicero: A wise man's life is all one preparation for death

Wat is die implikasies van hierdie mensbeeld vir Christelike teologie, opvoedkunde, ekonomie, politiek, medisyne, inter-godsdienstige verhoudings ens. 'n Kultuur se mensbeeld is nie sosio-polities neutraal nie. Dit beïnvloed mags- en sosiale verhoudings en vorm die ideologiese raamwerk vir byvoorbeeld regeringsbeleid. Apartheid Suid-Afrika en Nazi Duitsland is voorbeelde van die sosiale en politieke impak van sulke skynbaar abstrakte idees.

Kan 'n postmoderne omvattende lewenshouding ten opsigte van mens en omgewing (ook bekend as "spiritualiteit") hierop gebou word?

Peter Weiss: Man has given a false importance to death. Any animal, plant or man who dies adds to natures compost heap, becomes the manure without which nothing could grow, nothing could be created. Death is simply part of the process.

Daar word soms na Gaia, die metafoor vir die komplekse wêreldsisteem, verwys asof dit 'bewus' is. Myns insiens moet ons Gaie erken as 'n komplekse sisteem met al die verstommende kenmerke van sulke sisteme, maar volgens die model wat hier ontwikkel is, kan Gaia nie as bewus getipeer word nie. Bewussyn is 'n biologiese verskynsel, Hoewel hierdie model terdeë rekening hou met die feit dat 'die werklikheid alle menslike kennis transendeer (dat die menslike bewussyn dus sy eie horison het) kan ek ook nie die begrip 'kosmiese bewussyn' aanvaar nie.

Ons sou die kulturele evolusie van die idee van 'n onsterflike siel kon voorstel as 'n spektrum vanaf 'n (premoderne) dualistiese mensbeeld (die mens bestaan uit 'n onsterflike siel en 'n sterflike liggaam), deur 'n (moderne) meganistiese en reduksionistiese natuurwetenskaplike mensbeeld (die mens is net liggaam) tot 'n postmoderne beeld: die mens is 'n besielde (self-transenderende) liggaam wat poëties op aarde moet leef[26].

 

Bibliografie:

Capra, F 1997. The Web of Life. A new synthesis of mind and matter. Flamingo Press, London.
Capra, F 2003. The hidden connections. A science for sustainable living. Flamingo Press, London.
Degenaar, JJ 1963. Die sterflikheid van die siel. Simondium Uitgewers, Johannesburg
Darling, D. 1995. After Life. In search of cosmic consciousness. Fourth Estate, London.
Humphrey, N. 1993. A History of the Mind. London. Vintage Books.
Penrose, R. 1994. Shadows of the Mind: A Search for the Missing Science of Consciousness. London. Vintage Press
Prigogine, I & Stengers, I 1984.
Order out of Chaos. Bantam, New York.
Sterelny, K & P. Griffiths. 1999.
Sex and Death. An Introduction to the Philosophy of Biology. University of Chicago Press, Chicago.
Wexler, B 2005 Brain and Culture. Neurobiology, ideology, and social change. MIT Press, Cambridge, Ms).

1 Voordrag NHN Midrand, 22 Oktober 2006

2 Sien: Sterelny en Griffiths 1999, Sex and Death.

3 Biologiese dood is 'n sellulêre proses en nie 'n oombliklike gebeure nie. Sogenaamde 'near-death experiences' is nie 'after-death experiences' nie. Die oproep van afgestorwenes deur 'mediums' is herhaaldelik bewys nie werklik te wees nie.

4 Daar is aanduidings dat Neanderthalers ook spesifieke begrafnisgebruike gehad het en dus dalk ook in 'lewe na die dood' geglo het.

5 Hoewel geloof in reïnkarnasie die voortsetting voorstel as 'n biologiese voortsetting 'in hierdie wêreld', is dit 'n vorm van geloof in 'lewe na die dood'. So ook is geloof in 'opstanding van die dode' hoewel die grootste voorstander van die begrip, die Apostel Paulus, self sê dat hy nie seker is hoe dit werk nie.

6 Gekursiveerde woorde is ingevoeg.

7 Wat 'n mensbeskouing of mensbeeld insluit.

8 Diere kon ook deel in lewe na die dood – die perde en troeteldiere van heersers is soms (selfs lewendig) saam met hulle begrawe.

9 Vir Descartes is hierdie nie-materiële iets ‘n res cogitans – ‘n dinkende ding. Sy dualistiese mensbeeld het nie 'n godsdienstige funksie gehad nie, maar was ingebed in sy ontologie (werklikheidsleer) wat voorsiening gemaak het vir materiële dinge (res extensa) en nie- materiële dinge (res cogitans).

10 Hoewel Jesus en die Fariseërs in die eerste eeu geglo het in lewe na die dood is dit onwaarskynlik dat hulle dit verstaan het in terme van 'n dualistiese mensbeskouing soos hulle tydgenootlike Griekse bure.

11 Meer sensitiewe navorsers ontdek nou sosiale gebruike by byvoorbeeld chimpanzees wat as 'kultuur' aangedui kan word, met ander woorde stereotipiese sosiale vorms van optrede wat aangeleer word. Dit beteken dat die onderskeid tussen menslike bewussyn en dié van sommige ander dierspesies nie so absoluut is as wat eers gemeen is nie. Maar kultuur bly nog steeds 'n skepping van 'bewussyn'.

12 Neurofisioloë praat nou van 21 sintuie en dat die skerp onderskeiding wat ons tradisioneel tussen die sintuiglike ervarings gemaak het nou begin vervaag. Die idee dat sensasie afhanklik is van watter spesifieke sintuig die inligting optel word bevraagteken. Sien ‘Future Sense’ in New Scientist 29 Januarie, 2005.

13 Chimpanzees het waarskynlik 'n eenvoudige vorm van nie-taalgebaseerde self-bewussyn.

14 Die wiskundige Roger Penrose (1997) argumenteer myns insiens oortuigend dat bewussyn nie 'n rekenaarprogram (a computational phenomenon) is nie. Hy postuleer ook dat die misterieuse subjektiewe aard van bewussyn daarop dui dat ons begrip van die fundamentele struktuur van materie ontoereikend is.

15 In komplekse sisteme is die kenmerke van die geheel meer as die som van die kenmerke van die dele, want die verhoudings tussen die dele dra by tot die kenmerke van die geheel (emergent properties). Die geheel kan dus die kenmerke van die dele beïnvloed (top-down causation) Hierdie kenmerke van komplekse sisteme (Prigogine verwys na hulle as 'dissipative structures'), is die basis vir die ontwikkeling van orde uit chaos.

16 Bewussyn verwys hier na bewussyn-as-sensasie.

17 Die uitgawes bevat Degenaar se artikels asook die teenargumente vanuit ortodokse standpunte.

18 Nou ongelukkig reeds lank nie meer in druk nie.

19 Slegs Jahweh word as onsterflik beskryf.

20 "Die lewe van die mens is as siel en liggaam 'n lewe tot die dood. Die mens moet sterwe en die siel is nie as substansie, 'n magtigheid wat die dood kan ontloop nie. Die mens het deur die eeue egter 'n uitweg gesoek en daarom is verskeie godsdienste gebou op die onsterflikheid van die siel" (Degenaar 1963, 20).

21 Myns insiens lei 'n miskenning van die erns van die dood op sy beurt tot 'n miskenning van die erns en onvervangbaarheid van hierdie lewe, en hierdie wêreld. Daar is net eenvoudig nie 'n 'nuwe Jerusalem' wat die verwoesting van hierdie planeet met sy evlusionêre wonder van lewende wesens gaan vervang nie.

22 Ons het hier met verskillende vlakke van evolusie te doen. Eerstens is daar biologiese evolusie van eensellige organismes tot bewuste en dan taalvaardige selfbewuste diere soos Homo sapiens. Binne die geskiedenis van Homo sapiens was daar egter ook 'n kulturele bewussynsevolusie vanaf 'n animistiese wêreldbeskouing tot die hedendaagse moderne en postmoderne lewens- en wêreldbeskouings. In die geskiedenis van die individu is daar ook ontwikkeling (evolusie) van die eie bewussynswêreld.

23 Opmerklik hier is sy beskouing dat selfbewussyn teenwoordig is by hoër diere (met ander woorde diere meer komplekse bewussynsvorme) maar ten volle uiting vind in die menslike taalbemiddelde bewussyn.

24 Witgenstein het glo gesê: Die Grenzen meiner Sprache ist die Grenzen meiner Welt". (Die grense van my spreke is die grense van my wêreld). Van Wyk Louw het die mag van die woord uitgebeeld in sy treffende gedig Die Beiteltjie.

25 Maar die 'meer-as' is 'n liggaamsfunksie, 'n magtigheid van die liggaam.

26 Dit is 'n term van Heidegger wat in Engels lui: "Living poetically upon the earth."

 

Het mens 'n siel wat kan hemel toe gaan na die dood?

Pieter F Craffert
31 Julie 2005

1 Inleidende opmerkings

Ek wil begin deur 'n aantal algemene opmerkinge te maak.

Eerstens, laat ons eerlik wees, die enigste rede waarom ons oor iets soos die siel praat, is omdat dit 'n prominente plek inneem in ons spreke oor dood en na-dood of moet ek sê na-lewe. Daarbuite het ons weinig te sê oor of ons te bekommer oor ons “siele”. Dit beteken nie dat dit nie belangrik is nie — om die waarheid te sê, ek dink dit is van die allergrootste belang dat ons oor dood (en lewe) nadink en praat.

Tweedens, wie oor die siel praat, praat eintlik oor menswees. Wat maak 'n mens 'n mens en hoe is ons mense.

Derdens, ek gaan die woord siel gebruik, maar soos dit mettergaan duidelik sal word, is dit vir my 'n wisselterm vir self of bewussyn . Hierdie woorde beskryf dieselfde konseptuele area (ek probeer die term entiteit vermy). Hoe ons dit ookal verwoord, menslike spreke oor die siel, die self of bewussyn is nie verskillende opinies of konsepsies van dieselfde ding nie. Die geskiedenis van die konsep is voldoende bewys dat dit telkens nuwe inhoud kry.

Vierdens, hierdie is nie 'n volledige of sistematiese bespreking van die betrokke onderwerp nie, maar slegs 'n aantal gesigspunte te wille van die gesprek. Dit is soos ek dit nou sien en is deeglik bewus dat hierdie een area is waaroor ek nog baie moet nadink.

Laastens, ongelukkig, of gelukkig, is daar nêrens 'n eenduidige beskrywing van wat 'n siel is nie. Ek sal dus die vraag wat die siel is, so saam-saam met die vraag, waar kom dit vandaan, hanteer.

2 Die Cartiaanse dualisme

Ons allerdaagse soort wysheid is dat dit 'n onsterflike entiteit is wat êrens misterieus in die liggaam gesetel is en sodra jy doodgaan, jou liggaam verlaat. Hierdie is 'n oorblyfsel van Descartes (17eeu) se siening van die mens. Hy maak 'n onderskeid tussen natuurlike dinge, dit wat in sy tyd met die opkoms van wetenskaplike denke, met die wetenskap ondersoek kon word (aan die hand van fisiese meganismes), en bonatuurlike dinge — dinge soos siel en gees wat nie materieël was en geensins vir hulle bestaan afhanklik was van die bestaan van 'n liggaam of materie nie. Dus, materiële (natuurlike) versus nie-materiële (bonatuurlike) entiteite vorm die basis van die Cartesiaanse dualisme. Wat nie met die wetenskap bestudeer kan word nie, is nie natuurlik nie. 'n Siel is dus 'n nie-materiële of bonatuurlike entiteit wat onafhanklik van 'n liggaam (materie) kan bestaan. Hy sou dus sê jy het 'n siel!

Die Cartiaanse siel-liggaam dualisme (of mind-body in Engels) het verrrykende implikasies gehad vir talle wetenskappe en veral vir die mediese wetenskap. Dit is grondliggend aan die idee dat siekte 'n defek van 'n orgaan of liggaamlike of biologiese sisteem is en met chirurgie of kragtige chemiese middels herstel of beveg kan word.

3 Die bybelse siening van die siel

Die onmiddelike vraag is of dit nie maar presies is wat die bybelse tekste sê nie. Nee, hierdie siening was heel anders as die van antieke mense. Ek kan nie aandag gee aan die komplekse eenheidsiening van menswees wat byvoorbeeld in die Ou Testament aanwesig is nie. Ook nie aan die veskeidenheid sieninge van na-lewe opsies wat hulle voorgestaan het nie (soos voortlewe saam met die voorouers, die idee van 'n liggaamlike herstel en van 'n onsterflike siel).

Laat ek begin met 'n algemene opmerking: wat ons wel weet is dat nie een van die outeurs wat dikwels oor 'n siel skryf (soos Plato en Paulus) enigsins 'n koherente of samehangende siening daarvan gehad het nie. Paulus praat byvoorbeeld slegs een keer van 'n liggaam-siel-gees driedeling (1Th 5:13). Elders werk hy telkens met dualismes: liggaam-siel; liggaam-gees, vlees-gees; verstand-vlees). Dus, een konklusie wat redelik maklik verdedig kan word is dat geen samehangende voorstelling en ook geen beskrywing of verduideliking van wat dit was, bestaan het nie. Paulus deel gewoon die sieninge van sy tyd daaroor, of beter nog, gebruik die konsepte van sy tyd vir sy eie doeleindes. En duidelik was dit 'n konseptuele entiteit en nie 'n ontologiese entiteit nie — hulle praat oor 'n iets wat werklik is, maar nie noodwendig konkreet nie.

Antieke mense, Paulus ingesluit, het wel 'n dualistiese siening van die mens gehad, maar dit was anders as Descartes s'n. Om hulle siening van die siel te begryp, moet jy iets van hulle fisieka of siening van waaruit dinge bestaan, begryp. Alles wat bestaan was opgemaak uit vier elemente: lug (pneuma) aarde, water en vuur. Alle dinge, insluitende verskillende bestaansvorme, was gesien as variasies van hierdie samestellings en nie 'n dichotomie met nie-materie nie. Dinge soos 'n siel was dus wel nie-liggaamlik (non-corporeal) maar nie nie-materieel nie, want alles wat bestaan was verskillende konfigurasies van hierdie elemente — dus materieël in hulle siening daarvan.

Ek gaan na slegs drie fasette van hulle voorstellings van die mens verwys wat ons insig gee in watse soort ding die mens was en wat hulle dualisme van liggaam en siel sou kon beteken het.

Die eerste is sieninge oor die menslike liggaam. Bybelse mense het soos die mense van hulle tyd (soos ons ook) unieke en tydgebonde sieninge van die menslike liggaam gehad. Ek het reeds genoem dat dit uit dieselfde elemente saamgestel is as alle ander objekte en in verskillende konfigurasies daarvan kon manifesteer. Verder was die liggaam ook poreus of penetreerbaar. Dit het uit talle kanale bestaan wat deur verskillende entiteite gevul kon word soos reuke of smake. Geeste of entiteite kon 'n liggaam vul en daarom moes allerhande voorsorgmaatreël getref word teen bose geeste. Mens sien dit byvoorbeeld in begrafnisgebruike waar alle liggaamsopeninge onmiddelik toegemaak word sodat bose geeste nie kon inkom en in die talle beskermingsmaatreëls teen die bose oog. Die beginsel word baie goed geïllustreer deur fisiognomie. Daar is 'n verstommende aantal tekste uit die antieke wêreld oor fisiognomie of die oortuiging dat iemand se karakter manifesteer in sy of haar liggaam. Die oppervlakte van die liggaam is slegs 'n uitdrukking van kragte binne die liggaam.

Die talle voorbeelde in die evangelies waar Jesus vra, wie sê die mense is ek, is ter sprake. Sy Galilese afkoms en die konnotasies (kan iets goed uit Galilea kom) reflekteer die siening dat jy is wat jou omgewingskragte jou maak. Maar terug by wie Jesus was? Die antwoorde is ewe rustig: Elia, Jeremia, een van die profete of Johannes die Doper wat onthoof is. Iemand anders se gees kon 'n liggaam betrek en dus jou identiteit (siel) bepaal. Bose geeste kon dieselfde doen.

Ek het na die bose oog verwys. Dit was die oortuiging dat iemand deur 'n sekere soort blik iets aan jou kon doen of in jou liggaam kon plaas. Kyk was nie die ervaring van lig en beelde wat op 'n retina reflekteer nie, maar konkrete dinge wat uit jou oog beweeg.

Die tweede is die interaksie tussen liggaamlike ervaringe en hulle ontologie oor die liggaam. Ek het reeds die verskynsel van besetenheid genoem: die feit dat 'n liggaam deur ander entiteite oorgeneem of beset kan word. Daarnaas, kon sekere manifestasies van die siel of liggaam ook op hemelreise gaan. Maw allerhande vorme van buite liggaamlike ervaringe is beskryf en beleef as manifestasies van die siel en liggaam konfigurasies. Dink aan Paulus se beskrywing in 2 Kor 12: hy weet nie eens of dit in die liggaam of daarbuite was wat hy na die 3e hemel gereis het nie. Daar is letterlik honderde soortgelyke verhale of eerder, beskrywings van ervaringe uit daardie tyd. Dan verwys ek nie eens na die soortgelyke ervaringe wat in die evangelies beskryf word nie: tydens Jesus se doop, Petrus in Handelinge, ens. Vanuit hierdie soort ervaringe het hulle afgelei dat die self in verskillende konfigurasies kon bestaan en allerhande soorte dinge kon doen, soos om op reis te gaan.

My punt is hierdie ervaringe het bygedra om hulle te informeer oor wat 'n siel is en wat dit kan doen.

Die derde is wat ek wil noem die astronomiese kompleks. Die fisieka van die dag het gesê dat alle dinge van dieselfde komponente gemaak is. Een van die interessantste manifestasies hiervan is die konneksie wat hulle gemaak het tussen die siel en die sterre. Eerstens, sterre en planete was nie klippe of gasbolle nie, maar lewende nie-menslike wesens. Die literatuur oor die astronomie is oorweldigend wat daarop dui dat saam met ander nie-menslike wesens (soos engele en demone) was die hemel liggame (hoor julle die oorsprong van ons woord) wesens wat die verloop van lewe op aarde gerig en bepaal het. Tweedens, sterre, siele en engele was nie net van dieselfde substansie nie (verskillende konfigurasies) maar verwant — pneuma -agtig ( gees-agtig ). Daarom kon sommige mense na hulle dood sterre word. Beter gestel: sommige siele transformeer na sterre — wesens, net in 'n ander gedaante. Die bekendste Israelitiese figure met wie dit gebeur het is Moses en Henog. Sommige regverdiges sal skyn soos die sterre. Dit is die idee wat ook in Dan 12:3 uitgedruk word. Beide Moses en Henog verskyn dikwels aan Israelitiese mense en word met die sterre en engele verbind.

Bybelse mense sou die Cartiaanse onderskeid nie eens verstaan het nie, want hulle basiese utigangspunt is dat verskillende manifestasies van die liggaam (as vlees of as siel en soms selfs as liggaam, siel en gees) was telkens verskillende konfigurasies van dieselfde stof of elemente. Nie een hiervan was bo-natuurlik nie. 'n Geestelike liggaam was binne hulle voorstelling so natuurlik soos 'n vleeslike liggaam, en dieselfde geld 'n siel as gemanifesteer as 'n hemelliggaam. Hulle het inderdaad 'n liggaam-siel dualisme gehad maar nog die liggaam en nog die siel was soortgelyk aan Descartes s'n en, myns insiens, ver verwyderd van enige moderne voorstelling daarvan.

4 Moderne sieninge van die siel, self of bewussyn

Laat ek hierdie deel begin met 'n opmerking oor verskillende soorte kennis: ervaringskennis en refleksiewe kennis.

Ons voorouers het vanuit hulle ervaring van sonsopkoms en ondergange afgelei dat die son om die aarde draai. Ons weet egter vandag baie goed dat relatief tot die aarde, die son nêrens heen beweeg nie en dus nie kan opkom of ondergaan nie. Die aarde draai om sy eie as en daarom lyk dit asof die son sak of opkom. Ons moet dus eintlik van die mooi aarde draai praat wat ons gisteraand in die bosveld gesien het. Iets meer as ervaringskennis was nodig om tot die insigte te kom: sommige van ons voorouers het dit gekoop met wat bekend is as refleksiewe of wetenskaplike kennis. Refleksiewe denke en astrofisieka gee ons vandag 'n veel beter insig in die sterrekunde.

In die inleiding het ek gesê dat die algemene siening in ons wêreld oor die siel is dat dit iets is wat êrens in jou liggaam gesetel is en onafhanklik daarvan kan voortbestaan. Dus, jy is jou liggaam met 'n siel daarin. 'n Variasie hierop is die siening dat jy is jou siel wat net tydelik oor 'n liggaam beskik. Jy het nie 'n siel nie, maar is jou siel wat liggaamlike ervaringe het. Hierdie onderskeid asof mens 'n siel het, kom so natuurlik in ons taal voor soos sonsondergang. Ons gebruik dit sonder om regtig te dink wat ons sê. Hoe maklik sê onsnie iets soos ek het vir myself gesê of ek het by myself gedink nie. Is hierdie self met wie jy gepraat het nou êrens hier binne ander as wie jy nou eintlik is.

Myns insiens is beide hierdie sieninge (jy is jou liggaam met 'n siel daarin en jy is jou siel wat liggaamlike ervaringe het ), net soos ons voorouers s'n oor die siel, die produk van ervaringsdenke en kennis. Ons algemene taal oor die siel is soos sonsopkoms-spreke vasgevang in die idee van jy het 'n siel en jou siel kan plekke heen gaan (soos na jou dood). Talle ander ervaringe, soos naby-dood ervaringe en buite-liggaamlike ervaringe speel 'n groot rol in hedendaagse voostellings.

Soos die beste insigte oor sterrekunde vandag nie verkry word van ervaringe van sonsondergange nie, net so is die beste insigte oor die self of bewussyn (of siel as jy wil), nie af te lei uit die veelvoud van liggaamlike ervaringe wat mense beskryf nie. Al hierdie ervaringe is deel van die data wat ons moet gebruik om sin te maak van wat menswees konstitueer en waarom sulke ervaringe deel van ons menslike liggaamlike werklikheid is.

Die beste insigte oor die astrofisieka word verkry deur wat ek breedweg refleksiewe denke wil noem. Dit is daardie vermoeë om verder as ervaringskennis te gaan om ons in te lig oor hoe dinge werk. Om die waarheid te sê, refleksiewe kennis help ons juis om ook ons ervaringe van sonsondergange in perspektief te plaas — dit is wonderlik om te ervaar, maar dit bly net aarde-draaie.

Die soort denke wat vir my die meeste sin maak vandag is om te sê jy het nie 'n siel, bewussyn of self nie, maar jy is jou self. As ek 'n ander metafoor kan gebruik: jy het 'n siel soos jy 'n geheue het en nie soos jy 'n hand of 'n gesig het nie. Jy het 'n geheue in die sin dat jy ook jou geheue is. Anders gestel, sonder jou geheue is jy nie, maar jy het slegs 'n geheue as jy 'n liggaam het. Sonder 'n liggaam het jy geen bewussyn nie — elkeen van die sogenaamde buiteliggaamlike ervaringe wat gebruik word 'n bewussyn los van die liggaam te postuleer, het weer 'n liggaam nodig om die ervaringe te kommunikeer. Jy is jou geheue en jy is jou siel of bewussyn omdat jy 'n liggaam het.

Hierdie is so 'n komplekse veld van studie en navorsing dat ek slegs enkele voorbeelde gaan noem van die argumente waaraan ek waarde heg. Hierdie sieinge word verkry nie deur na geïsoleerde verskynsels soos verhale oor buite-liggaamlike ervaringe en naby-dood ervaringe te kyk nie, maar vanuit 'n komplekse stel insigte wat bekend staan onder die noemer van bewussynstudies (consciousness studies). Dit is navorsing wat oor 'n aantal wetenskaplike grense beweeg en sluit in: evolusionêre biologie, neurowetenskappe, filosofie ensovoorts.

Die eerste voorbeeld kom uit die neorologie. Ironies genoeg is dit nogal navorsing oor sekere breindisfunksies wat goed illustreer hoedat jy jou liggaam is. Ek dink die basiese aanname van die populêre siening is dat elke mens net een siel het. Een mens, een siel! Gesplete brein persone (as gevolg van beserings of deur operasies om byvoorbeeld erge epilepsie te behandel) waar die korpus callosum of weefsels wat die twee breinhemissfere verbind geknip word, tree op asof hulle twee siele of bewussyns het. Ek oorvereenvoudig 'n komplekse stel navorsing om uit te kom by die punt dat jou self onlosmaaklik aan jou liggaam gekoppel is.

Die verskynsel van blindsight (mense wie se visuele organe sodanig beskadig is dat hulle nie kan sien nie, kan tog informasie oor 'n ligkol bekom) bevestig dat die self of bewussyn nie 'n iets in jou is nie, maar eerder die koalisie van gedistribueerde agente. Die self is nie in die brein nie, dit is ook nie die brein nie, dit is eerder die somtotaal van jou totale mensewees: kultureel, biologies en psigies.

Nog 'n voorbeeld: jy kan jou sin van selfbewussyn en beliggaming verloor in eensame opsluiting of byvoorbeeld in eksperimente waar jy in water geplaas word en geen kontak met ander mense of die omgewing het nie. Wie jy is, jou self, is afhanklik van hierdie kontakte en stimuli. Terloops, indien jou regterkantse parietale korteks deur 'n elektrode gestimuleer word, ervaar jy hierdie tydelike dissosiasie van jou liggaam — asof jy buite jou liggaam sfeef en vanaf die plafon na jouself kan kyk.

Hierdie voorbeelde wys dat bewussyn nie iets in die liggaam is of iets wat jy het nie, maar eerder die bestaanswyse van sekere komplekse biologiese sisteme. Bewussyn is deel van die nie-ruimtelike kenmerke van hierdie soort biologiese werklikhede. Net soos dit nie sin maak om te vra of die suurstof of waterstof in water die nattigheid veroorsaak nie, maak dit nie sin om die self of bewussyn te probeer isoleer uit die liggaam nie. Liggame soos mense s'n het wat ons kan noem 'n emerging property wat bewussyn genoem kan word.

Vir my is een van die toetse vir sprake van 'n siel of bewussyn as 'n entiteit van enige aard (as iets in die liggaam of as ewige entiteit wat net 'n liggaam beset) die volgende vraag: watter hoeveelheid elemente van die huidige werklikheid moet jy dupliseer voordat so 'n siel of bewussyn sigself kan wees. Sê nou maar daar is so iets, wat het jy nodig vir so 'n siel om jou siel te wees? Hoeveel kultuur en ander siele wat jou taal praat? Hoeveel fasette van die fisiese wêreld soos atmosfeer vir spraak, beweging, klank, ens? Dink net na wat is alles nodig om jou nou op hierdie moment jou te maak. Jou geskiedenis en geheue, jou konteks, familie, beroep. Naas Botha (en elkeen van ons) is wat hy gedoen het en as hy dit nie gedoen het nie, was hy nie dieselfde persoon (self) nie. Sonder hierdie liggaam is jy nie jý nie.

Dit maak daarom vir my sin om van so iets soos die dialogiese self te praat: dit sê die self is nie 'n essensie wat onveranderd van geboorte tot dood dieselfde bly nie. Jy as kind, student, getroude, geskeide, werker, bestuurder is telkens iemand anders. Watter self is nou die ewige? Watter self gaan eendag hemel toe, die onvergenoegde ou man van 80 of die sportheld van 20 of 'n perfekte self (wat sou dit wees?). Die self word telkens gekonstitueer in verhouding met ander mense en kontekste. Ek ís nie sonder my liggaam nie.

Ek sou in kort wou sê: My liggaam is 'n self-bewuste liggaam, 'n liggaam wat homself kan be-dink. Dus, ek is my liggaam wat homself dink — ek is nie 'n iets-wat-dink binne my liggaam nie. Ek is gewoon my denkende liggaam wat bewus is van sy/haar denke.

5 Sielspraak en etiek

Een van my inleidende opmerke was dat daar 'n verband is tussen spreke oor 'n siel en die dood. As daar iets van waar in is wat ek probeer aantoon het dat spreke oor die siel nie verskillende beskrywings is van dieselfde identifiseerbare objek nie, maar verskillende pogings om uit te druk wat menswees is, is die eintlike vraag nie, wat is 'n siel nie. Of, het 'n mens 'n siel nie. Dan is die vraag: wat is die implikasies van elkeen van die maniere van spreke oor die siel of die self vir die manier hoe ons met mekaar omgaan en eties optree in die wêreld?

As jy sê 'n mens het 'n siel, wat beteken dit vir die lewe. As jy soos ek geneig is om te sê, jy is jou liggaam, watter implikasies het dit vir jou siening van lewe en dood?

Die afgelope tyd het ek myself dikwels afgevra of ons populêre sieninge van 'n siel nie bydra tot die disrespek vir lewe om ons nie. Vier seuns slaan vir Vrydagaand pret 'n hawelose man dood in 'n park in Moreletta Park. Vir vyftig duisend rand skiet 'n pastoor se seun 'n jong vrou dood. By die begrafnis van 'n jong meisie wat deur 'n dronk man doodgery is, troos mense mekaar met die woorde sy (haar siel) is nou by Jesus waar ons almal eintlik wil wees.

Dra ons siel-sieninge by tot die totale disrespek vir lewe in ons samelewing? Het hierdie voorvalle enige iets te doen met ons algemene siening van 'n ewige siel en 'n nuttelose liggaam?

Kom ons draai dit om. Sal ons hierdie soort van dinge nog doen (lewe neem) as ons besef jou siel of bewussyn, jou jy, is onlosmaaklik aan jou liggaam en konteks gebind.


Is geloof, gebed en meditasie nog relevant vir die hedendaagse mens?

Peggy Pillinger

27 Januarie 2008

In haar poging om hierdie vraag te beantwoord, kyk Peggy na tradisies wat vir vele Protestantse Christene totaal onbekend is. In die vierde eeu nC het daar veral in die Oosterse Christendom ’n aversie ontstaan teen die verwêreldliking van die kerk. Keiser Konstantyn (275–337) het verdraagsaamheid teenoor Christene voorgestaan en Keiser Theodotius die Grote (346–395) het die Christelike geloof tot godsdiens van die ryk verklaar. Hy het egter verder as dit gegaan en die idee van ’n Drie-eenheid op sy onderdane afgedruk, “ketters” verbied om byeenkomste te hou, en “heidense” tempels laat verwoes. In reaksie hierop het sommige Christene in die oostelike dele van die Romeinse ryk hulle aan die kerk en die samelewing onttrek. Die een (kerk) was vir hulle maar net die keersy van die ander (samelewing). Asketisme het ontstaan. Dis veral askete wat stilte en meditasie deel van hulle godsdienstige lewe gemaak het. Vir Peggy wat in die Katolieke tradisie groot geword het, is hierdie idees van ontrekking en afsondering nie vreemd nie. Sy was immers vir 23 jaar deel van die Karmelitiese orde wat stilte en afsondering belangrik ag en dit aktief beoefen.

Vir vele Protestantse Christene behels geloof om ’n klomp leerstelings as ewige waarhede te aanvaar. Gebed behels die aanroep van God om bepaalde behoeftes bekend te maak (’n soort “inkopielys” waarmee mense na God gaan). Meditasie val egter geheel en al buite die ervaringswêreld van Protestantse Christene. Dit word as van die bose beskou omdat dit met Oosterse godsdienste (Boeddhisme en Hindoeïsme) geassosieer word.

Peggy praat vanuit ’n verankering in die Christelike tradisie. Klaarblyklik is die meesterverhaal van die Christelike geloof vir haar nog belangrik. Vele NHN-lede wat nie meer die meesterverhaal aanvaar nie, kon haar “pleidooi” vir stilte, gebed en meditasie nie gesnap nie. Die vrae en stellings wat vanuit die gehoor gekom het, byvoorbeeld “Wat is die verskil tussen gebed en meditasie?” “Ek bid al vir jare nie meer nie en kom goed oor die weg, waarom my met meditasie en gebed besig hou?” wys dat die gehoor en die spreker mekaar nie goed begryp het nie. Van die NHN-lede het weggegaan met ’n gevoel dat die vraag nie regtig beantwoord is nie.

Presies wat het Peggy probeer kommunikeer? Na my mening dat ons van ander godsdienstige tradisies kan leer. Ons hoef nie meditasie te beoefen soos sy dit beoefen of soos dit in die Hindoeïsme beoefen word nie, maar stilte kan helend wees. Voorts kan meditasie ‘n mens ook instem op die goddelike. Dis ’n bewusraak van deel-wees van alles rondom jou.

Peggy het die volgende boeke voorgehou as goeie leesmateriaal oor die onderwerp:

Armstrong, Karen. A History of God.

Johnston, William. Mystical Theology.

Keating, Thomas.  Open Mind Open Heart.

Krishnamurti, J. Commentaries on Living.

Nolan, Albert.  Jesus Today - a spirituality of radical freedom.

Nouwen, Henri. Reaching Out - The Three Movements of the Spiritual Life.

O'Murchu, Diarmuid. Religion in Exile - A Spiritual Vision for the Homeward Bound.

Pennington, Basil. Centering Prayer.

Rolheiser, Ronald. Seeking Spirituality - Guidelines for a Christian Spirituality for the 21st Century.

Targ, Russel & Hurtag, J.J. The End of Suffering.

Wilbur, Ken. No Boundary: Eastern & Western Approaches to Personal Growth.

Yogananda, Paramahansa. Autobiography of a Yogi.

Die kort spirituele sessie wat Antionette Ehmke aan die begin van die betrokke Midrandbyeenkoms gelei het, het na my mening meer gekommunikeer as Peggy self. Dalk is dit die soort spiritualiteit waarop ons binne die NHN kan voortbou.


Is gesprek tussen godsdiens en wetenskap oor lewe na die dood moontlik?

Dr Piet Muller
19 Nov 2006

INLEIDEND

Daar is tot dusver is 'n gesprek oor die moontlikheid van lewe na die dood tussen godsdiens en wetenskap nie nog nie moontlik nie, omdat beide partye vasgevang is in eie paradigma's wat so 'n gesprek uitsluit. 

Die christelike godsdiens het 'n teïstiese paradigma met die volgende kenmerke:

  1. God word in antropomorfiese terme beskou as die "Groot (super) Vader";
  2. Die hemel is 'n "plek";
  3. Die siel is iets "los" wat ruimte inneem en gewig het.

Daarenteen opereer die wetenskap met 'n reduksionistiese paradigma:

  1. Gees en bewussyn word veroorsaak deur materie;
  2. Bewussyn is nie primer nie en kan dus nie materie beinvloed nie;
  3. Bewussyn kan nie voortbestaan wanneer 'n organisme sterf nie.

Nie een van hierdie paradigmas laat ruimte om bestaande, dog (huidig) onverklaarbare verskynsels rondom bewussyn  te akkommodeer nie.

'n Gesprek tussen die godsdiens en die wetenskap tot die vraag oor lewe na die dood vereis:

  1. 'n Nadere beskouïng van die paradigmas wat deur beide gehadhaaf word.
  2. Nuwe paradigma's wat ruimte laat vir genoemde bestaande verskynsels van lewe na die dood.

 

ONTWIKKELING VAN RELEVANTE PARADIGMA'S

Inleidend: wat 'n paradigma is



Dis 'n konsept wat vir die mens se denkwyse grense definieër en reëls skep waarbinne die mens van sy tyd dan dink en doen.  'n Nuwe paradigma ontwikkel ook altyd en mettertyd uit 'n bestaande paradigma.

Kenmerkende voorbeelde van paradigma's:

  1. Die digitale horlosie waarvan Seiko wat die moontlikheid raakgesien het, wat totaal deur die Switserse bedryf oorgesien is.
  2. Sony wat nie geweet hoe om sy CD-konsep te standaardiseer nie, dit aan Philips afgestaan het, wat die wereld met CD skywe gevul het.
  3. Junkmail het besef dat 'n koerant nie noodwendig net nuus hoef te dra nie en tans 'n wereldwye "franchise" uitgebou het.
  4. Harvey het sewentiende eeu ontdek dat die hart slegs 'n bloedpomp is.  Dit was 'n groot aanslag op die paradigma dat die hart die setel van die verstand en die siel is.
  5. Die Roomse kerk het tot in die sestiende eeu die Ptolomeïese konsep van 'n sonnestelsel aangehang wat by die bestaande wereldbeeld ingepas - en die nodige bybelse ondersteuning daarvoor gevind. Eers daarna is die Kopernikaanse model erken.

Die vroeë Christene, wat met die Hellenistiese paradigma's geleef het, het ook geworstel met die kwessie en moontlikheid van lewe na die dood.  Hulle sou as gevolg van hulle bepaalde geloof nuwe paradigma's moes ontwikkel. 

Paradigma's uit die Hellenisties tyd wat tot 'n nuwe, christelike paradigma gelei het, was:

Die Hellenistiese wêreldbeeld:

  1. Die hemel is daar bo in die lug/uitspansel;
  2. Die aarde daaronder is plat en die mens leef daarop;
  3. Die (Styx) rivier is daaronder en by afsterwe moet die mens dit oorsteek, op pad na (Hades) die hel.
  4. Hades is daaronder – daarheen daal die mens neer na die dood. 
  5. (Tartarus die diepste duisternis heel onder vir die groot droogmakers!

Die konsep van die siel:

  1. Dit dra die karakter van geboorte, ontwikkeling en metamorfose (soos verbeeld in Psyche);
  2. Dis dus onverganklik.

Die vroeg-Christelike paradigma wat uit bogenoemde ontwikkel het, was 'n versoening van dit waarin hierdie Christene geglo het met die wereldbeeld van hulle tyd:

  1. Die siel is ewig en kan "verhuis"  - in die geval van Christene na die hemel;
  2. 'n Nuwe drie-dimensionsele wereldbeeld bestaande uit:
  3. Die hemel, wat alle mense deur Christus kan vererwe;
  4. Die ondermaanse, waar ons leef;
  5. Die hel daaronder waarheen jy gaan as jy nie Christus (as borg) aanneem nie;
  6. Net filosowe en belangrike mense (adel) kon hemel toe gaan, want daarvoor was 'n "borg" nodig

Die ontluikende Christendom het egter 'n spirituele revolusie te weeg gebring deur te verklaar dat almal wat Jesus as redder aanvaar hemel toe kan gaan. Die probleem was net hoe 'n mens vanaf die aarde tot in die hemel kom. Joodse Christende het geglo aan die konsep van opstanding eendag in die "eindtyd". Die Grieke daarenteen het eerder geglo met 'n soort reinkarnasiemodel, waarvolgens die siel van een liggaam na die ander verhuis; en het eenvaar dat die siel van altyd af bestaan het en net tydelik in 'n liggaam inkarneer.

Die kerk het egter eers in die agtste eeu finaal ten gunste van opstanding as alternatief vir re-inkarnasie besluit.  Die idee van 'n onsterflike siel wou egter nie gaan lê nie en in die sestiende eeu het die Rooms Katolieke Kerk die onsterflikheid van die siel as dogma aanvaar.  ......... Protestante het dit egter nooit aanvaar nie!

('n Interessante teenstelling tussen die sienings van Boedhisme en Christendom oor die hiernamaals is Boedhiste se vrees dat hulle na die dood weer gebore kan word, wat dit 'n voortsetting van die aardse pyn en lyding sal wees.  Hulle vrees dus weergeboorte. Christene vrees dat hulle sal sterf en nie 'n ewige lewe of 'n weergeboorte sal hê nie.)

 

Die Westerse paradigma

  1. Idealisme...daar is 'n vaste verband tussen wat jy dink en waaroor jy dink (Kan 'n mens dink oor iets wat jy nie van weet nie?)
  2. Materialisme....alleen materie kan 'bestaan'.

Descartes was die laaste denker wat hierdie twee uiteenlopende opvattings probeer versoen het. In sy 'Betoog oor die Metode' onderskei hy tussen:

  1. Die Res Extensa, die uitgebreide en meetbare wereld, en
  2. Die Res Cogitans, die wereld van die denke.

Die Reduksionistiese paradigma ontwikkel hieruit:

  1. Die korrekte wetenskaplike metode is om alle verskynsels te herlei tot die kleinste bestanddeel en dan
  2. 'n Wiskundige verband daarvoor te vind.
  3. God dink soos 'n wiskundige en het die natuurwette geskep

Newton het finale beslag aan hierdie denkwyse gegee, wat hierna deur wetenskaplikes gevolg is.

Nature and nature's laws lay hid in night;

God said "Let Newton be" and all was light

Alexander Pope

Danksy hierdie enorme suksesvolle paradigma is insiggewende ontdekkings gemaak wat tallose tegnologiese ontwikkelings mee gebring het. Maar daar is ook verskeie betekenisvolle afwykings wat nie deur hierdie paradigma verklaar kan word nie.

Volgens die reduksionistiese paradigma:

  1. Word gees en bewussyn veroorsaak deur materie.
  2. Is bewussyn nie primer nie en kan dus nie materie beinvloed nie.
  3. Kan bewussyn nie voortbestaan wanneer 'n organisme sterf nie.
  4. Die konsep God word verwerp, maar die natuurwette fungeer "soos God".

  

BETEKENISVOLLE AFWYKINGS VAN DIE REDUKSIONISTIESE PARADIGMA

Wanneer die bestudering van bewussyn ter sprake kom, is die reduksionistiese paradigma nie in staat om altyd bevredigende verklarings te gee nie. Enkele voorbeelde hiervan:

  1. MacDougal het tussen 1920 en 1930 eksperimente gedoen om vir rotte gewoontes aan te leer en gevind dat die 'kennis' op die rotte se nageslag oorgedra word en dat selfs onverwante rotte in hierde kennis kan deel – heeltemaal teenstrydig met wat die huidige genetika-kennis ons leer!
  2. Blou mese ('n soort voëltjie) het in verskillende dele van Brittanje, totaal onafhanklik van mekaar, geleer om die metaaldoppies van melkbottels oop te maak.
  3. Wanneer mense wat aan veelvuldige persoonlikheidsindroom (MPD) lei, kan hulle dikwels in hul verskillende persoonlikhede selfs verskillende fisiologiese kenmerke openbaar (soos bv diabetes of links en regshandigheid).

Sperry: Die  ontvanger van die Nobelprys vir neurofisiologie in 1881, Roger Sperry, was een van die eerste wetenskaplikes wat ronduit verklaar het dat die studie van bewussyn nie langer onder die tafel ingevee kan word nie. Dit druis in teen die heersende paridogma wat bewussyn of ignoreer of as 'n produk van materie beskou.

Sheldrake se teorie van 'morfogenetiese velde' was 'n poging om verklarings te vind vir bewussyns-verskynsels. Volgens hierdie teorie kan die gedrag van MacDougal se rotte of die Britse blou mese verklaar word deur te aanvaar dat daar 'n "veld" van inligting bestaan waartoe alle organismes, volgens spesie, toegang het. Dit sou bv. "instinktiewe gedrag" kan verklaar. Sheldrake word as uiters "afwykend" beskou, maar het tog ook groot wetenskaplike aanhang.

Jung se psigologiese teorie verdeel die menslike bewussyn (psige) in:

  1. Die bewuste (ego)
  2. Die persoonlike onbewuste
  3. Die kollektiewe onbewuste
  4. Jung beskou "psige" as die totaliteit van 'n mens se psigiese aktiwiteite. "Siel" daarenteen omskryf hy as 'n "kompleks' wat ooreenkom met wat mense gewoonlik "persoonlikheid" noem.

Die bewuste staan onder leiding van die ego, maar die onbewuste deel van die psige staan onder beheer van 'n groter entitieit as die ego, nl die Self.

Volgens Jung is die kollektiewe onbewuste die stoorkamer van die hele menslike ras se ervarings, daarom dat alle mense sekere simbole en argetipes kan herken. Die kollektiwe onbewuste "onderlê" alle menslike ervaring.

 

'N NUWE PARADIGMA VIR DIE GODSDIENSTIGE GESPREK

Hierdie paradigma is nog nie kristal-helder ontwikkel nie.  Die volgende kan egter oorweeg word:

Die basis vir 'n nuwe godsdienstige paradigma wat by die moderne tyd kan aanpas moet minstens die volgende bevat:

  1. Ons kan nie langer oor God in antropomorfiese terme praat nie.
  2. Die siel is nie 'iets' wat ruimte beslaan en gewig het nie.
  3. Die hemel  is nie 'n plek nie – en daar bestaan nie 'n hel nie.

Die konsep van teïsme pas dus nie meer in hierdie paradigma nie!

Pythagoras se wiel: 'n voorstelling van die interaksie van die basis van lewe, wat in die eerste eeue van die Christendom baie gewild was:

  1. Die speek van die wiel verteenwoordig die liggaam (physis)
  2. Die naaf is die bewussyn (nous)
  3. Die velling is die ego (eidolon).

Volgens hierdie opvatting is God (nous) oneindige bewussyn - of inligting- en is die menslike bewussyn deel daarvan en keer dit weer daarna terug. Die menslike lewe is dus  soos 'n golf wat op die see verskyn, 'n tyd lank manifesteer en weer deel van die see word.

Jung:

  1.  'As daar lewe na die dood is, kan dit net in die kollektiewe onbewuste bestaan'

Thich Nhat Han: Hierdie moderne Zen-meester vertolk die Boeddhistiese leer van "leegheid" op 'n manier wat vir die 21ste eeu, en vir Christene, baie relevant kan wees.

Leegheid is Inter-syn

Niks bestaan alleen nie,

Alles inter-bestaan.

Dit bestaan omdat dit bestaan.

Ons is nie skepsels nie ons is manifestasies.

Niks bestaan opsigself nie, maar slegs in samehang met ander dinge. 'n Blom bestaan uit wolke (water), son (energie), rotse (minerale), die tuinier ens. As net een van hierdie elemente ontbreek, kan die blom nie meer bestaan nie. Dieselfde geld vir die mens. Ons lewe in 'n geslote skepping waarin niks verlore gaan nie, maar alles weer telkens op verskillende maniere kan manifesteer.

Ons is nie "skepsels" nie, maar "manifestasies" en na die dood keer ons terug na die elelemente waaruit ons bestaan – (bewussyn dus ook na bewussyn?)

Die vraag oor lewe na die dood is steeds die rou senuwee in die religie.

Boedha se raad aan sy dissipels was egter:

'Moenie iets glo omdat dit in heilige boeke staan of omdat 'n profeet of heilige man dit gese het nie. Glo net dit wat jy self as waar kan ervaar'

'n Gebed oor die dood – vir daagllikse meditasie, na Thich Nhat Han

Ek weet dat ek elke dag ouer word en nie altyd jonk sal bly nie.

Ek weet dat ek geneig is om siek te word, en nie altyd gesond sal wees nie.

Ek weet dat ek bestem is om te sterf, en nie vir altyd sal lewe nie.

Ek weet ook dat alles en almal wat vir my lief en dierbaar is

aan dieselfe wette van verandering onderworpe is

en dat ek ook eendag van hulle geskei sal word.

My lewe word gevorm deur alles wat ek se en dink en doen;

My eie dade is die grond waarop ek staan.

 

Literatuur

Willis Harman, The Coming Global Mind Change(Baie belangrik!)

P Muller, Sal ons droom as ons dood is?

Jung, C. G., & Jaffe A. (1962). Memories, Dreams, Reflections. (Outobiografie)

Thich Nhat Hanh: Living Budha, living Christ; Going home, Buddha and Jesus as Brothers

Steven Batchelor, Buddhism without beliefs

Web addresse met debatte oor die onderwerp: "Lewe na die dood":

http://www.quantumconsciousness.org/

http://www.ncsu.edu/felder-public/kenny/papers/quantum.html

http://www.hi.is/~erlendur/english/

http://www.valdostamuseum.org/hamsmith/QuanCon.html

http://www.noetic.org/

http://noosphere.princeton.edu

http://www.emergentmind.org/rivas-vandongen.htm


Kinderspiritualiteit

Celia Geyer 10 September 2006
 

Die opsomming van Celia Geyer se voordrag neem die vorm aan van 'n skyfievertoning. Jy kan of skyfie vir skyfie daarna kyk (die vertoning begin onmiddelik), of die hele vertoning in Adobe PDF of Microsoft Powerpoint formaat aflaai.

 

'N GEBED VIR MY DOGTER

Goeie en slegte redes om te glo

"Het jy al ooit gewonder hoe ons die dinge weet wat ons weet?" het een van die belangrikste evolusionêre wetenskaplikes, RICHARD DAWKINS van die Oxforduniversiteit, in 'n ope brief aan sy dogter, Juliet, gevra toe sy tien was. "Hoe weet ons, byvoorbeeld, dat die sterre, wat soos klein speldeprikkels in die hemel lyk, werklik groot balle vuur is soos die Son en baie ver daarby? En hoe weet ons dat die Aarde 'n kleiner bal is wat om een van daardie sterre, die Son, wentel?"

Liewe Juliet,

Die antwoord op hierdie vrae is "bewyse". Soms beteken bewyse inderdaad om te sien (of te hoor, voel, ruik . . . ) dat iets waar is. Ruimtevaarders het ver genoeg van die Aarde gereis om met hul eie oë te sien dat dit rond is. Soms het ons oë hulp nodig. Die "aandster" lyk soos 'n blink flikkering in die hemel, maar met 'n teleskoop kan jy sien dis 'n pragtige bal -- die planeet wat ons Venus noem. Iets wat jy leer deur direkte sien (of hoor of voel . . . ) word waarneming genoem.

Dikwels is bewyse nie net waarneming op sigself nie, maar waarneming lê altyd daaragter. As daar 'n moord is, het niemand (behalwe die moordenaar en die slagoffer!) dit werklik waargeneem nie. Maar speurders kan baie ander waarnemings saam inspan wat almal mag wys na 'n spesifieke verdagte. As 'n persoon se vingerafdrukke ooreenkom met dié wat op 'n dolk gevind is, is dit bewys dat hy daaraan geraak het. Dit bewys nie dat hy die moord gepleeg het nie, maar dit kan help as dit met 'n klomp ander bewyse saamgevoeg word. Soms kan 'n speurder aan 'n hele aantal waarnemings dink en skielik besef dat dit alles in plek val as so-en-so die moord gepleeg het.

Wetenskaplikes -- die spesialiste wat ontdek wat waar is oor die wêreld en die heelal -werk dikwels soos speurders. Hulle waag 'n raaiskoot (genoem 'n hipotese) oor wat moontlik waar mag wees. Hulle sê dan vir hulself: As dit werklik waar sou wees, behoort ons so-en-so waar te neem. Dit word 'n voorspelling genoem.

Byvoorbeeld: as die Aarde werklik rond is, kan ons voorspel dat 'n reisiger wat aanhou in dieselfde rigting reis, uiteindelik op dieselfde plek sal uitkom as waar hy begin het. As 'n dokter sê jy het masels, kyk hy nie net een keer na jou en sien masels nie. Sy eerste kyk gee hom 'n hipotese dat jy moontlik masels het. Dan sê hy aan homself: as sy werklik masels het, behoort ek te sien . . . Dan bekyk hy sy lys voorspellings en toets dit met sy oë (het jy 'n uitslag?), sy hande (is jou voorkop warm?), en sy ore (haal jy aamborstig asem soos met masels kan gebeur?). Slegs dan doen hy sy bevinding en sê: "My diagnose is dat die kind masels het." Soms moet dokters ander toetse soos bloedtoetse of Xstrale ook aanwend om hul oë, ore en hande te help om waarnemings te doen.

Die wyse waarop wetenskaplikes bewyse gebruik om dinge oor die wêreld te wete te kom, is baie slimmer en ingewikkelder as wat ek in 'n kort brief kan sê. Maar nou wil ek aanstap van bewyse, wat goeie redes is om iets te glo, en jou waarsku teen drie slegte redes om enigiets te glo. Die slegte redes word "tradisie", "outoriteit" (gesag) en "openbaring" genoem.

Eers tradisie. 'n Paar maande gelede het ek op televisie 'n bespreking gehad met ongeveer 50 kinders. Hulle is genooi omdat hulle grootgemaak is in 'n klomp verskillende godsdienste. Sommige is as Christene opgevoed, ander as Jode, Moslems, Hindoes of Sikhs.

Die man met die mikrofoon het van kind tot kind geloop en hulle gevra waarin hulle glo. Wat hulle gesê het, wys presies wat ek met "tradisie" bedoel. Hul geloof het geen verband met bewyse gehad nie. Hulle het net die geloofsbeginsels van hul ouers en grootouers opgenoem, wat, op hul beurt, ook nie op bewyse gegrond is nie. Hulle het goed gesê soos: "Ons Hindoes glo so en so". "Ons Moslems glo dit en dat." "Ons Christene glo iets anders."

Natuurlik, omdat hulle almal in verskillende dinge geglo het, kon hulle nie almal reg wees nie. Die man met die mikrofoon het gelyk asof hy dink dit is heel aanvaarbaar, en hy het nie eens probeer om hulle sover te kry om oor hul verskille met mekaar te debatteer nie. Maar dis nie die punt wat ek probeer stel nie. Ek wil net vra waar hul geloof vandaan kom. Dit het van tradisie gekom. Tradisie beteken geloof wat van grootouer na ouer na kind oorgedra word, en so aan. Of van boeke wat oor die eeue oorgedra is. Tradisionele geloofsoortuigings ontstaan dikwels uit feitlik niks; miskien maak iemand dit oorspronklik op, soos die stories oor Thor en Zeus. Maar nadat hulle oor 'n tydperk van eeue oorgedra is, maak die blote feit dat hulle so oud is, asof hulle iets spesiaals is. Mense glo dinge bloot omdat mense dieselfde goed eeue lank geglo het. Dit is tradisie.

Die probleem met tradisie is dat, maak nie saak hoe lank gelede die storie uitgedink is nie, dit presies so waar of onwaar is soos wat die oorspronklike storie was. As jy 'n storie opmaak wat nie waar is nie, word dit nie waar net omdat dit oor 'n aantal eeue oorgedra is nie!

Die meeste mense in Engeland is in die Anglikaanse Kerk gedoop, maar dit is net een van baie vertakkinge van die Christelike godsdiens. Daar is ander takke soos die Russies-Ortodokse, die Rooms-Katolieke en die Metodistekerk. Hulle glo almal verskillende dinge. Die Joodse godsdiens en die Moslemgodsdiens verskil nog verder; en daar is verskillende soorte Jode en Moslems. Mense wat selfs net effens verskillende goed glo, maak dikwels oorlog oor hul verskille.

Dus moet jy dink dat hulle nogal goeie redes het -- bewyse -- om te glo waarin hulle glo. Maar eintlik moet hul verskillende geloofsoortuigings aan verskillende tradisies toegeskryf word.

Kom ons praat oor een spesifieke tradisie. Rooms-Katolieke glo dat Maria, die moeder van Jesus, so spesiaal was dat sy nie gesterf het nie, maar reguit hemel toe is. Ander Christelike tradisies stem nie saam nie, en sê Maria het gesterf soos al die ander. Dié ander godsdienste praat nie baie oor haar nie en, anders as Rooms-Katolieke, noem hulle haar nie die "Koningin van die Hemel" nie. Die tradisie dat Maria se liggaam in die hemel opgeneem is, is nie baie oud nie. Die Bybel sê niks oor hoe en wanneer sy dood is nie; feit is, die arme vrou word skaars in die Bybel genoem. Die geloof dat haar liggaam in die hemel opgeneem is, is eers uitgedink ongeveer ses eeue ná die tyd van Jesus. Eers is dit net opgemaak, op dieselfde wyse wat enige storie soos Sneeuwitjie uitgedink word. Maar met verloop van eeue het dit ontwikkel in 'n tradisie en het mense dit ernstig begin opneem bloot omdat die storie oor soveel generasies oorgedra is. Hoe ouer die tradisie geword het, hoe meer het mense dit ernstig opgeneem. Dit is uiteindelik as 'n amptelike Rooms-Katolieke geloofstuk eers betreklik onlangs, in 1950, aanvaar. Maar die storie was niks minder waar in 1950 as wat dit was toe dit die eerste keer uitgedink is 600 jaar ná Maria se dood nie.

Ek sal terugkom na tradisie aan die einde van my brief en op 'n ander manier daarna kyk. Maar ek moet eers die ander twee slegte redes om in enigiets te glo, hanteer: outoriteit en openbaring.

Outoriteit (gesag), as 'n rede om iets te glo, beteken om dit te glo omdat jy vertel word om dit te glo deur iemand wat belangrik is. In die Rooms-Katolieke kerk is die pous die belangrikste persoon, en mense glo hy moet reg wees net omdat hy die pous is. In een vertakking van die Moslem-godsdiens is die belangrike mense ou mans met baarde wat ajatollahs genoem word. Heelwat jong Moslems is bereid om moord te pleeg, bloot omdat die ajatollahs in 'n land ver van hul eie hulle vertel om dit te doen. (Die fatwah, of heilige oorlog, teen Salman Rushdie was prominent in die nuus toe dié brief geskryf is).

Wanneer ek sê dat dit eers in 1950 was wat Rooms-Katolieke finaal vertel is hulle moet glo dat Maria se liggaam na die hemel opgevaar het, bedoel ek dat in 1950 die pous aan hulle vertel het om dit te glo. Dit was dit. Die pous het gesê dit is waar, dus moes dit waar wees! Miskien was sommige van die dinge wat daardie pous in sy lewe gesê het waar en sommige nie waar nie. Daar is geen goeie rede hoekom, net omdat hy die pous was, jy elke ding moet glo wat hy gesê het nie, net so min as wat jy elke ding glo wat baie ander mense vertel. Die huidige pous het sy volgelinge beveel om nie die aantal babas wat hulle kry te beperk nie. As mense sy outoriteit so slaafs navolg soos hy dit verwag, kan die gevolge verskriklike hongersnood, siektes en oorloë wees wat deur oorbevolking veroorsaak word.

Natuurlik, selfs in wetenskap, het ons dikwels nie die bewyse self gesien nie en moet ons iemand anders se woord glo. Ek het nie, met my eie oë, die bewyse gesien dat lig teen die snelheid van 300 000 km/s beweeg nie. Instede glo ek boeke wat my die snelheid van lig meedeel. Dit lyk soos "outoriteit". Maar eintlik is dit baie beter as outoriteit omdat die mense wat die boeke skryf die bewyse gesien het en is elkeen vry om versigtig die bewyse te bestudeer wanneer hulle ook al wil. Dit is baie gerusstellend. Maar selfs nie die priesters maak daarop aanspraak dat daar enige bewyse is dat Maria se liggaam na die hemel weggezoem het nie.

Die derde soort swak rede om enigiets te glo , word "openbaring" genoem. As jy die pous in 1950 gevra het hoe hy geweet het Maria se liggaam het na die hemel verdwyn, sou hy waarskynlik gesê het dit is aan hom "geopenbaar". Hy het hom in sy kamer toegesluit en om leiding gebid. Hy het gedink en gedink, in sy afgesonderdheid, en hy het meer en meer seker van homself in sy binneste geraak. Wanneer godsdienstige mense net 'n gevoel in hulself beleef dat iets waar moet wees, selfs as daar geen bewyse is dat dit waar is nie, noem hulle hul gevoel "openbaring". Dit is nie net pouse wat daarop aanspraak maak dat hulle openbaringe beleef nie. Baie godsdienstige mense doen dit. Dit is een van hul hoofredes waarom hulle die dinge glo wat hulle glo. Maar is dit 'n goeie rede?

Sê nou ek sê vir jou jou hond is dood. Jy sal baie ontsteld wees, en waarskynlik sê: "Is jy seker? Hoe weet jy? Hoe het dit gebeur?" Sê nou ek antwoord: "Ek weet eintlik nie dat Pepe dood is nie. Ek het geen bewyse nie. Ek het net hierdie snaakse gevoel diep binne myself dat hy dood is." Jy sal nogal kwaad vir my wees omdat ek jou laat skrik het, omdat jy sal weet dat 'n "gevoel" in jou binneste alleen nie genoeg rede is om te glo dat 'n windhond dood is nie. Jy het bewyse nodig. Ons het almal van tyd tot tyd gevoelens in ons binneste wat soms reg bewys word en soms verkeerd. In elk geval het verskillende mense teenoorgestelde gevoelens, wat dit moeilik maak om te besluit wie se gevoel reg is. Die enigste manier om seker te wees dat 'n hond dood is, is om hom dood te sien, of te hoor dat sy hart gaan staan het; of deur iemand wat werklike bewyse gesien of gehoor het dat hy dood is.

Mense sê soms jy moet glo in jou gevoelens diep binne jou, anders sal jy nooit vertroue besit in dinge soos "My vrou het my lief" nie. Maar dis 'n swak argument. Daar kan baie bewyse wees dat iemand jou liefhet. Die hele dag wanneer jy in die geselskap verkeer van iemand wat jou liefhet, sien en hoor jy 'n klomp klein deeltjies van bewyse daarvan, en saam bevestig hulle daardie liefde. Dit is nie suiwer net 'n gevoel in jou binneste nie, soos die gevoel wat priesters openbaring noem nie. Buite is daar dinge wat die binneste gevoel ondersteun: 'n blik in die oë, 'n teer stem, klein gunsies en sorgsaamheid; dit is alles werklike bewyse.

Soms het mense 'n sterk gevoel in hul binneste dat iemand hulle liefhet maar wat nie op bewyse rus nie, en dan is die kanse goed dat hulle heeltemal verkeerd kan wees. Daar is mense met 'n sterk gevoel in hul binneste dat 'n beroemde rolprentster hulle liefhet, terwyl die waarheid is dat die ster hulle nie eens ontmoet het nie. Mense soos dié is sielsiek. 'n Gevoel in die binneste moet ondersteun word deur bewyse, anders kan jy hulle eenvoudig nie vertrou nie.

Gevoelens in jou binneste is waardevol in die wetenskap ook, maar net om aan jou idees te gee wat jy later toets deur bewyse daarvoor te soek. 'n Wetenskaplike kan 'n "voorgevoel" oor 'n idee hê wat net reg "voel". Dit is egter nie voldoende rede om iets te glo nie. Maar dit kan 'n goeie rede wees om tyd te bestee om 'n spesifieke eksperiment te doen, of om op 'n besondere wyse na bewyse te soek. Wetenskaplikes gebruik deurlopend gevoelens in hul binneste om idees te ontwikkel. Maar die idees is niks werd voordat hulle nie deur bewyse ondersteun word nie.

Ek het belowe ek sal terugkom na tradisie deur op 'n ander manier daarna te kyk. Ek wil probeer verduidelik waarom tradisie so belangrik vir ons is. Alle diere is gebou om te oorleef in die normale plek waar hul spesie leef. Leeus is gebou om goed te kan oorleef op die vlaktes van Afrika. Varswaterkreef is gebou om goed te oorleef in vars water, terwyl kreef gebou is om goed te oorleef in die soutsee. Mense is ook diere, en ons is gebou om goed te oorleef in 'n wêreld vol . . . ander mense. Die meeste van ons jag nie vir ons eie kos soos leeus of kreef nie, ons koop dit van ander mense wat dit weer van ander mense gekoop het. Ons "swem" deur 'n "see van mense". Nes 'n vis kiewe nodig het om in die water te oorleef, het mense 'n brein nodig wat hulle in staat stel om met ander mense saam te leef. Nes die see vol soutwater is, is die see van mense vol moeilike dinge om te leer. Soos taal.

Jy praat Engels, maar jou vriendin Ann Kathrin praat Duits. Julle elkeen praat die taal wat jou in staat stel om "rond te swem" in jou eie afsonderlike "see van mense". Taal word deur tradisie oorgedra. Daar is geen ander manier nie. In Engeland is Pepe 'n dog . In Duitsland is hy ein Hund . Nie een van hierdie woorde is meer korrek of meer waar as die ander nie. Albei word bloot oorgedra. Ten einde goed te wees om "te swem in hul see van mense", moet kinders die taal van hul eie land leer, en baie ander dinge oor hul eie mense; en dit beteken dat hulle, soos kladpapier, 'n reuse-klomp tradisionele inligting moet absorbeer. (Onthou dat tradisionele inligting net dinge beteken wat van grootouers na ouers na kinders oorgedra word.) Die kind se brein is 'n liggelowige absorbeerder van tradisionele inligting. En 'n mens kan nie van 'n kind verwag om goeie en nuttige tradisionele inligting, soos die woorde van 'n taal, te onderskei van swak of lawwe tradisionele inligting, soos om in hekse en duiwels en maagde wat vir ewig lewe, te glo nie.

Dit is jammer, maar dit kan nie verhelp word nie, dat omdat kinders liggelowige absorbeerders van tradisionele inligting is, hulle gewoonlik alles glo wat volwassenes hulle vertel, of dit nou waar of vals is, reg of verkeerd. Baie van dit wat grootmense hulle vertel, is waar en gegrond op bewyse, of ten minste verstandig. Maar as iets daarvan vals is, laf of selfs boos, is daar niks wat kinders keer om dit ook te glo nie.

Maar wanneer kinders grootword, wat doen hulle? Wel, natuurlik vertel hulle dit aan die volgende generasie kinders. Dus, sodra iets sterk geglo word -- selfs al is dit heeltemal onwaar en daar geen rede was om dit in die eerste plek te glo nie -- kan die geloof daarin ewig aanhou.

Kan dït wees wat met godsdienste gebeur het? Die geloof dat Maria Maria ’n maagd was by Jesus se geboorte, die geloof dat Maria nooit gesterf het nie, geloof dat wyn in bloed verander -- nie een van hierdie geloofsuitinge word gestaaf deur enige goeie bewyse nie. Tog glo miljoene mense daarin. Miskien is dit omdat hulle vertel is om dit te glo toe hulle jonk genoeg was om enigiets te glo.

Miljoene ander mense glo in totaal ander dinge omdat hulle ander dinge vertel is toe hulle kinders was. Moslem-kinders word ander goed vertel as Christen-kinders, en albei groepe word groot met die onwrikbare geloof dat hulle reg is en die ander verkeerd. Selfs tussen Christene glo Rooms-Katolieke ander dinge as mense wat lede is van die Anglikaanse Kerk, of Episkopaliërs, Shakers of Kwakers, Mormone of Holy Rollers, en almal glo absoluut hulle is reg en die ander is verkeerd. Hulle glo verskillende dinge om presies dieselfde soort rede wat jóú Engels laat praat en Ann-Kathrin Duits. Albei tale is, in hul eie land, die regte taal om te praat. Maar dit kan nie waar wees dat verskillende godsdienste in hul eie lande reg is nie, omdat verskillende godsdienste aanspraak maak dat teenoorgestelde dinge waar is. Maria kan nie lewendig wees in die Katolieke Ierse Republiek, maar dood in die Protestantse Noord-Ierland nie.

Wat kan ons aan al hierdie dinge doen? Dit is nie maklik vir jou om enigiets te doen nie, omdat jy net tien is. Maar jy kan die volgende op die proef stel. Die volgende keer as iemand jou iets vertel wat belangrik klink, dink vir jouself: "Is dit die soort ding wat mense waarskynlik weet omdat bewyse daarvoor bestaan? Of is dit die soort ding wat mense net glo as gevolg van tradisie, outoriteit en openbaring?" En die volgende keer as iemand aan jou vertel iets is waar, waarom sê jy nie die volgende aan hulle nie: "Watter bewyse bestaan daarvoor?" En as hulle jou nie 'n goeie antwoord kan gee nie, hoop ek jy sal baie versigtig dink voordat jy 'n woord glo wat hulle sê.

Liefde,
Pappie

 

Konstantyn as draaipunt in die geskiedenis van die Christendom (Deel 2)

Pieter J.J. Botha
26 Maart 2006

Ongetwyfeld was Konstantyn ambisieus en koelbloedig. Dit is so dat hy homself as God se instrument gesien het en sonder om te blik of te bloos aan ander voorgeskryf presies wat God van hulle verwag. Tydens sy kategese was daar seker nie tyd vir lesse oor nederigheid nie.

Al wat Konstantyn wou doen, was om op die troon te sit, leërs te lei en die soom van sy jas aan te bied om vereer te word. Wat hy wou wees, was om baie goed te wees met dit wat hy wou doen: vrede maak (wel, forseer), voorspoed bewerkstellig, goeie regering bevorder. En hy was goed met dit wat hy wou doen; baie, baie suksesvol. Praat van 'n loopbaan aanvaar waarin mens 'n reuse sukses maak omdat dit by jou vermoëns en persoonlikheid pas en ons praat van Konstantyn. Sý werk was nie vir hom 'n las nie. Hy wou 'n kolossus wees en hy was een.

Konstantyn was ook baie ernstig oor sy godsdiens. Hy noem homself die "apostel van diegene buite die kerk", die "gewone apostel". Soos laas met Paulus word daar moeite gedoen om almal in die kerk te kry. In sy eie woorde:

Deur die goddelike geloof te bewaar neem ek deel aan die lig van waarheid; gelei deur die lig van waarheid erken ek die goddelike geloof …. Met die mag van hierdie God as
my bondgenoot, het ek begin vanaf die verste kant van die Oseaan om die hele
bewoonde wêreld, stuk vir stuk, op te hef na die hoop op ongetwyfelde verlossing.… Hom roep ek op my knieë aan, gekant teen alle verwerplike bloedoffers en haatlike
reuke, en met die rug gekeer na elke aard-gebonde [tower-]vlam, wat gelei het na vuil,
bose en vreeslike dwaling waardeur baie mense en volke verwoes is.
(Konstantyn se
brief aan Sapor, koning van Persië; Vita Constantini 4.9–10).

Die selfbenoeming "apostel vir diegene buite die kerk" is 'n aanduiding van Konstantyn se oortuiging van uitgesoek te wees. Konstantyn het die Christendom se groei bevorder vêr buite die grense van die Ryk, maar veral binne die grense van die Ryk. Hy het sy bes probeer om aanhangers van alternatiewe sieninge en skeurmakers terug te wen. Sy dryfkrag was nie soseer om siele te red nie, want ander se sieleheil het hom duidelik nie geïnteresseer nie. Mens kan amper praat van om liggame terug te wen. Hy het gestrewe na voorspoed tydens sy heerskappy om sodoende te verseker dat God aanvaarbaar en behoorlik aanbid word. Voorspoed vir Konstantyn was materiële welsyn: einde aan burgeroorlog, beveiligde grense, oeste in oorvloed vir 'n talryke bevolking. Vrede en die voordele wat vrede meebring. Hoe Konstantyn oor God se gawes gedink het, kan ons sien in die booshede wat hy aan die duiwel toedig: onluste, gevegte in die strate, bittere twisgesprekke, swak oeste, huigelaars, alles wat met toordery te doen het en, natuurlik, troonpretendente.

Min van die wesenlike fasette van christelike oortuigings het Konstantyn geïnteresseer. Oor God se genade of mense se boosheid het hy nie gewonder nie. Aan wat verlossing sou wees of wat liefde behels het hy hom nie aan gesteur nie. Ook nie aan nederigheid nie. Ywerig in sy oortuigings maar heeltemal onbewus van die morele implikasies van sy oortuigings. Dalk is dit die voorwaarde om aanspraak te maak op Maximus, die Grootste.

Tog bly die vraag: Hoe is dit dat 'n man wat so ernstig toegewyd is nie weet van die morele implikasies van sy geloof nie? Dit is hier waar mens begin wonder oor die ander gelowiges rondom Konstantyn.

Wat van al daardie biskoppe waarmee die keiser te doen gehad het? Sinodes het lank voor Konstantyn se tyd al plaas gevind. Om saam met die keiser te vergader was dalk net té aanloklik. Te "goed" om waar te wees. Laat niemand julle "leiers" noem nie (Mt 23.10), net amices carissimi (geliefde broers) deur 'n keiser. Deur Konstantyn. En wanneer julle die stad se prokonsul versoek om geld uit te haal, noem net jou goeie vriend en broer in Christus, Victor Konstantinus Maximus Augustus

Sou dit dwaasheid gewees het om Konstantyn teen te gaan? Dalk. Waarskynlik. Tog bly die vrae. Waaroor gaan geloof en godsdiens dan?

Eenheid, verskeidenheid … en Judaïsme

Konstantyn ag eensgesindheid as sy lewenstaak. En Konstantyn bedoel werklike, sigbare eenheid. Die verdeeldheid onder Christene was vir hom 'n verleentheid. Weereens val sekere vrae mens op: Was daar nie strewe na eenheid voor sy tyd nie? Waarin het eenheid toe gelê? Immers, aanbid die Christene dan nie die Een Here nie? Waarin kan dit lê? En vir ons? Hoe behoort eenheid vandag daar uit te sien? Of, om die vraag wat hierdie bespreking dra weereens op te roep: wat is christelike identiteit?

In 'n sin, natuurlik, was daar van die begin af uiteenlopendheid in die Jesus beweging. Van die begin af was daar die gemeentes van Akwila en Priska, van Petrus, van Jakobus, van Paulus en van Klemens. Met verskillende aksente en perspektiewe en voorkeure het mense vergader in die naam van Jesus onder die uiteenlopende leiding van Hermas hier, Justinus daar en Kallistus langsaan.

Teen die middel van die derde eeu was daar talle Christengroepe regoor die Ryk in bykans al die stede, 'n mosaïek van gemeentes. In baie neem 'n verkose biskop die leiding, of een wat, mettertyd soos dinge ontwikkel het, in oorleg met ander biskoppe aangewys is. Die meeste gemeenteleiers het ander werk: hulle is regsgeleerdes, onderwysers, skrifgeleerdes, handelaars, 'n vrygemaakte of twee wat grond besit. Die ander "ampte" van die gemeente is deel van huishoudings, wat hulle "christelike" funksies (soos grafte grawe, deurwagters, kleremakers en dies meer) borg.

Wat doen jy in so 'n ryke verskeidenheid van praktyke en oortuigings as daar oor die interpretasie en toepassing van die tradisies verskille bestaan? Jy kan net jou bes doen om te oorreed, met helder woorde, goeie argumente en met die uitleef van jou eie oortuigings. Augustinus het dit nogal mooi verwoord, myns insiens:

Ek is nie 'n voorstaander daarvan dat mense gedwing word om met enige party saam te werk nie, maar ek begeer dat die waarheid bekend gemaak word aan persone wat na waarheid soek sonder voorwaardes wat vrees inboesem. Van ons kant af sal daar geen verwysing wees na die dreigement van staatsmag nie. Maar dan moet daar ook nie van julle kant af intimidasie deur mafiabendes wees nie. Laat ons ons toespits op die werklike saak deur debat, en laat ons argumente bou met redelikheid en met die gesagdraende onderrig van die goddelike geskrifte, rustig en kalm, so veel as wat ons in staat is. Laat ons vra, soek en klop, sodat ons kan ontvang en vind, en dat die deur vir ons oopgemaak kan word. (Augustinus Epistulae 23.7)

So skryf Augustinus in die jaar 392, maar dit is 'n goeie aanduiding van hoe die situasie noodwendig moes gewees het voor Konstantyn. Getuig, oorreed met redelike argumente, lewe volgens jou oortuigings in nederigheid, vrede en liefde.

Onherkenbaar sou die situasie verander. Ons het almal die suspisie dat oorreding en helder denke en opregtheid nie genoeg is nie. Eintlik is dit meer as genoeg, maar wie wil nou redelik wees as jy moet erken jy is verkeerd? Daar is ook altyd die versoeking: moet ek nie net 'n klip gaan gooi nie? Kan ek hom nie maar 'n klap gee nie? Sestien jaar na bogenoemde brief skryf Augustinus self dat "goeie dwang" nodig raak waar mense volhard om die valsheid aan te hang. En nog nege jaar later:

Daar is 'n onregverdige verdrukking, dit wat die ongelowiges op die kerk van Christus lê, maar daar is ook 'n regverdige verdrukking, wat die kerk van Christus die ongelowiges toedien. … Daarom, gegewe die mag wat die kerk ontvang het weens God se beslissing op die regte tyd as gevolg van die godsdienstige karakter en geloof van konings, om die instrument te wees waarmee diegene op die paaie en die lanings [die afwykendes] gedwing kan word om in te kom, kan hulle hoegenaamd nie kla as hulle sodanig ge­dwing word nie … (Augustinus Epistulae 185.11.24).

Augustinus haal die Bybel hier aan, Lukas 14.23. Die Latynse sinsnede compelle intrare: "dwing hulle om in te kom" sou nog 'n verbysterende rol speel in die kerkgeskiedenis.8

Ons wil nie graag daaraan herinner word dat "ortodoksie" nie van die begin af bestaan het nie. Feit is, daar was nie eintlik 'n "oorheersende" sentrale beskikker oor die Christendom in die eerste, tweede of selfs derde eeue nie. Die vroeë Christendom was 'n verskeidenheid groepe wat verskil het oor geloofsbelydenisse en praktyke. Verskillende gemeentes het mekaar uitgekryt as dwalers, afwykendes en misleides. Die verskille het voortgespruit uit kulturele diversiteit, tale, agtergronde, klem op verskillende tradisies, verskillende waardes. Eventueel sou enkeles van hierdie tradisies die "oorwinning" behaal. Dit is daardie "oorwinning" wat ons kritiese moet bedink.

Dit wil nie sê daar was geen samehorigheid nie. Daar is in die vroeë Christendom óók duidelike en ondubbelsinnige strewes na wedersydse erkenning en sentrale waardes te bespeur. Wat mens nogal opval is die klem wat op lewensstyl geplaas is. Met die gegegewens wat ons het kan ons nie anders as om uiteenlopende tradisies raak te sien nie, elk met 'n eie logika en interne samehang, wat naas mekaar bestaan het. Daar was nie 'n sentrum nie, maar wel 'n soort identiteit wat vorm aangeneem het. Hierdie soortgelykheid, erkenning van 'n kenmerkende identiteit het nie in leerstellings gelê nie — alhoewel dit daar was en 'n rol gespeel het — en ook nie in liturgie nie — alhoewel dit ook 'n rol gespeel het, en ooreenkomste bevorder het. Die identiteit het juis nie net berus op godsdienstige idees nie, maar het uiting gevind in 'n lewenswyse. Die ervaring van "ons is anders", van sodoende hoort ons bymekaar, van só is ons een, was iets wat bowe al in gemeenskaplike betrokkenheid beleef is.


8 Wat die saak natuurlik bemoeilik het is die feit dat die Donatiste, teen wie Augustinus dit hier het, self van geweld gebruik gemaak het. Die circumcelliones, hierbo met "mafiabendes" vertaal, was groepe kleinboere wat hulleself in paramilitêre styl georganiseer het, en rooftogte en ander aksies namens die Donatistiese beweging uitgevoer het. Die konflik met die Donatiste was verweefd met kulturele en sosio-politiese konflikte (o.a., Romeinse kolonialisme en Noord-Afrikaanse selfstandigheid). Lank na Konstantyn se tyd wou Konstantius II die stryd oplos met geld. Donatus se (bittere en ironiese) antwoord: "Wat het die kerk met die keiser uit te waai?" (quid est imperatori cum ecclesia? Optatus 3.3)

<!--pagebreak-->

Ons moet nie die vroeë Christene idealiseer nie. As hulle maar net kon sou baie van die vromes sekerlik ook sonder om te blik of te bloos dieselfde gedoen het as wat hulle nakomelinge vanaf die vierde eeu gedoen het. Maar: daar is 'n groot verskil tussen jou sondige humeur te bely met drome van ander reg te ruk en om God te dank dat ons die ander kon uitwis.

Waarmee het die vroeë Christendom geworstel? Êrens tussen 177 en 180 spot Kelsos nog met die Christene se beheptheid met kinders, vroue, slawe en die armes, 'n godsdiens vir wolkammers, klipkappers en klerewassers. En na Konstantyn? Wie word pous. Wie word die keiser se raadgewers. Watter gebou sal ons vir God oprig, en hoeveel marmer en goud is daarvoor nodig.

In die oorgang wat Konstantyn aan die gang gesit het, het iets van Christenmenswees ondergegaan en iets anders uitgekom. Dis presies daaroor wat óns moet dink en besluit. Vredemaak as 'n risiko (Mt 5.3) en vrede deur superieure slaankrag is nie dieselfde nie.

Een ander ontwikkeling wat deur die Konstantynse era meegebring is, moet kortliks aandag kry. In die middel van die tweede eeu skryf Justinus die Martelaar as 'n antwoord op die vraag of Joodse-Christene gered kan word, dat "ons behoort by hulle aan te sluit en saam met hulle te werk in alle dinge as familie en broers — hulle moet net nie van ons verwag om die Wet te onderhou nie" (Dialogus cum Tryphone 47).

Tweehonderd jaar later is die prentjie aansienlik anders. Van die talle Joods-Christelike groepe en bewegings wat in die eerste en tweede eeue met ontstellende vitaliteit (vir heiden-Christene) gebloei het, is net enkele klein groepies oor. Hierdie verdwyning hang saam met die groeiende konflik tussen Christendom en Judaïsme.

Van Konstantyn se eie wetgewing ten opsigte van Jode en Judaïsme het net vier behoue gebly.9 Die eerste twee handel oor openbare verpligtinge (belastings) van Joodse mense wat ampte beklee. Die derde bepaal dat Jode wat Joodse bekeerlinge (tot die Christendom) en nie-Jode wat hulle tot die Judaïsme bekeer, verbrand moet word. Die vierde herhaal die vorige een, maar dreig net met vergelding sonder om die straf te omskrywe; dit belowe ook vryheid aan (nie-Joodse) slawe wat deur hulle eienaars besny is.

Ons moet egter verby die wetgewing self kyk, na hoe gemeenskappe verander het. Konstantyn self het nie van Jode gehou nie (hulle het immers, so is hy geleer, sy geliefde Christene destyds in Judea vervolg). Vir die eerste keer maak 'n keiser verkleinerende uitsprake oor Jode en Judaïsme. Hy noem hulle 'n "dooie (feralis) sekte", en 'n afskuwelike groep mense. Maar aktiewe en doelbewuste verdrukking kan nie aan hom toegedig word nie. Konstantyn was baie dinge, maar nie onnosel nie. Ten spyte van sy eie voorkeure en afkeure was samewerking, verdraagsaamheid en ontwikkeling van genoeg staatsbelang vir hom om nie so onverantwoordelik te raak nie. Konstantyn het nie blindelingse regstellende aksie toegepas nie.


9 Codex theodosianus 16.8.1–5, 16.9.1.

<!--pagebreak-->

Natuurlik het hy sy grense gehad. Arme Sopater, byvoorbeeld. Hierdie heidense neoplatonis is deur Konstantyn aangestel en bevorder en het vir jare 'n belangrike rol tussen die keiser se raadgewers gespeel. Toe Sopater verdink word dat hy die winde (wat die graanskepe aandryf) geketting het (deur towerkragte) is hy onmiddelik geketting (met ysterkettings). Permanent. Geregtigheid en verdraagsaamheid kan nooit, volgens Konstantyn, die beoefening van towerkragte tot andere se nadeel insluit nie.

Die groeiende spanning tussen Christen en Jood kan nie net op Konstantyn se rekening geplaas word nie. Die toegang tot en aanvaarding van staatserkenning het 'n proses in die Christendom versnel wat reeds besig was om te voltrek. Ons hoef net te let op hoe die Christene 'n spesiale styl van interpretasie uitwerk om te kan bewys dat die Ou Testament aan ons behoort (al is dit dan in 'n Griekse of Latynse vertaling). Eusebius maak 'n onderskeid tussen die "Hebreërs", die Christene se voorvaders, en die "Jode", die moordenaars van die Verlosser. Hebreërs is natuurlik nie Jode nie, maar proto-christene en mede-vyande van Judaïsme. Die profete van die Skrif word nie meer gelees as etiese prediking nie, maar as toekomsvoorspellings. In die gebeure van die vierde eeu word hierdie toekomsvoorspellings dan vervul (met heelwat menslike hulp weliswaar), en die goddelike waarheid van Christene se interpretasies en handelinge word so bevestig.

Aan die begin van die vierde eeu was Rome heidens; teen die einde van die eeu christelik. Aan die begin van daardie eeu het Jode in die land Israel hulle eie sake bestuur. Aan die einde van die daardie eeu het hulle instellings alle erkenning verloor. In die jaar 300 het Judaïsme 'n wettige status gehad en die beskerming van die staat geniet. Teen die jaar 400 was Judaïsme se regte omvattend ingeperk, en het die Jode meeste van hulle burgerregte verloor. Met die aanvang van daardie eeu het Jode in groot getalle in die Land Israel gewoon, maar teen die einde het hulle in Palestina gewoon, as 'n minderheid. Konstantyn en sy ma, Helena, het oor die hele Ryk kerke en bedevaartplekke opgerig; veral in Jerusalem. Die Land Israel het weereens 'n nuwe naam gekry: die "Heilige Land". En vir die volgende agtien eeue is die Joods-Christene tot nietige groepies afgetakel.

Jesus se menswees word in hierdie dae 'n vermomming. Dit moes, want 'n volbloed Jood kon Hy tog nie gewees het nie. Selfs die mees ortodokse belydenis verraai hierdie tendens alte duidelik. 'n Mens is 'n wese wat in 'n spesifieke taal en kultuur leef en beleef, wat in 'n konkrete, historiese konteks gepraat, gelag en gehuil het. Christus — so word al meer en meer geredeneer — was wel mens, maar 'n "algemene" mens en nie 'n historiese mens nie. Jesus van Nasaret had nie meer sy eie taal, sy ma en pa en sy mense se kultuur, sy volk se geskiedenis, sy vadere se godsdiens of sy eie geloof nie. Soos die keiser word Hy nou uitgebeeld met 'n stralekrans. Hy word nou beskou as die Een wat afkyk en neerkyk.

Sinagoges begin brand. Jode word uit openbare ampte gedwing. Van waar hierdie onverdraagsaamheid? Voor Konstantyn se tyd was dit dan juis die Christene wat vir godsdiensvryheid gepleit het.10 Wat het verander? Konstantyn is nie die een wat godsdienste vervolg het nie. Die beste verklaring lê waarskynlik opgesluit in die opmerking van Lord Acton oor wat mag doen.

Keiser en banket

Die banket ná die konsilie van Nisea teken myns insiens die vraagstukke in skerp reliëf.

Eers die een en ander oor die konteks. Likinius is keiser van die oostelike deel van die Romeinse ryk (308–324). Sy beleid is verdraagsaamheid, maar mettertyd verloor hy geduld met die Christene. Dat hulle Konstantyn as vriend beskou het, het sekerlik ook 'n rol gespeel. Teen 321 gryp hy in by die stryd tussen Arius en die biskop van Aleksandrië. Albei leiers geniet aansienlike steun, en albei organiseer ywerig om die meerderheid gemeentes agter hulle te kry. Wat Likinius ook al beplan het kom tot 'n einde toe Konstantyn met sy kenmerkende Blitzkrieg die Ryk verenig (324).

Kerkeenheid blyk egter 'n veel groter uitdaging te wees. Sinodes word links en regs gehou, elkeen noukeurig georkestreer om 'n spesifieke meerderheid by voorbaat te hê, en mense word oor en weer verban en herstel en weer verban. Aanvanklik probeer Konstantyn deur onderhandeling 'n middeweg tussen die strydende partye te bewerkstellig.

Konstantyn het gedink godsdiens is om God te aanbid en te verheerlik met glorie en ordelike harmonie. Vanuit hierdie perspektief beywer hy hom vir eensgesindheid en goeie verstandhoudings in sy Ryk, veral onder die Christene. Konstantyn was 'n praktiese man, met 'n sterk weersin aan verdeeldheid. In 'n brief vermeld hy sy verstomming dat "juis diegene wat eensgesind en met broederliefde behoort te lewe teen mekaar is op 'n skandelike, nee, verwerplike manier, en aan mense wat onvertroud is met hierdie mees heilige godsdiens redes gee om dit te bespot" (Januarie 314, aan Chrestus, biskop van Sirakuse; cf. Eusebius Historia ecclesiastica 10.5.21–22).

Konstantyn raak selfs betrokke by teologiese debatte. Net jammer teologie is soos 'n ui: laag op laag en op die einde het jy net 'n paar trane. Nogtans, met sy kenmerkende energie en dryfkrag doen Konstantyn sy bes om die "katolieke" kerk, die ware, algemene kerk te bevorder. Die biskoppe aarsel ook nie 'n oomblik om hulle op hom te beroep nie. Eenkeer stuur hy selfs troepe om die Donatiste se eiendom te konfiskeer, maar herstel gou die situasie. Gegewe die hardnekkigheid
wat hy onder Christene raakloop moes hy sekerlik gewonder het of ’n kop of twee
nie dalk die probleem sou oplos nie…


10 Kyk die insiggewende studie van P. Garnsey, "Religious Toleration in Classical Antiquity," Persecution and Toleration (ed. W. J. Sheils; London: Blackwell, 1984) 1-27.

<!--pagebreak-->

'n Beslissende vergadering te Ankira word beplan, en hier gryp Konstantyn in. Hy verskuif die sinode na Nisea toe. Konstantyn beklemtoon drie redes vir die verandering. Nisea het 'n matige klimaat. Dit is nader aan diegene wat vanaf die Weste kom — en sekerlik wil almal tog hê dat hulle ook teenwoordig moet wees? Die vergadering kan in Likinius se paleis gehou word. Hy had dit nie meer nodig nie, en dan hoef daar nie verder na 'n gepaste vergaderplek gesoek word nie. En, so terloops, Nisea is net verder as 'n klipgooi (twee dagreise) van Nikomedia af. Waar Konstantyn hom bevind. Hy kan dus sommer ook toesig hou. Konstantyn stel die keiserlike posdiens beskikbaar om briewe te laat uitstuur en om biskoppe te vervoer.

Die vergadering se eerste bymekaarkoms vind plaas op 20 Mei 325. Die belangrikste werk was afgehandel teen 19 Junie. Op 25 Julie het die keiser sy twintigste jaar as regeerder saam met die biskoppe gevier en op 30 Julie was hy terug in Nikomedia. Om en by 275 biskoppe het die vergadering bygewoon. Konstantyn was voorsitter.

Die eerste punt op die agenda was beskuldigings (van afvalligheid en valse lojaliteite) sodat "ongewensdes" terug gestuur kon word. Konstantyn maak nie die geskrewe aanklagte oop nie maar verbrand dit voor almal sonder om dit te lees. Sodoende lei hy die vergadering na die saak toe sonder om mense of hulle gevoelens te verbrand. Na lang besprekings en Konstantyn se aandrang dat aangedui word dat die Seun "van dieselfde essensie" as God is, word 'n verklaring opgestel, 'n belydenis onderteken, anatemas uitgespreek, sekere biskoppe verban (waaronder Arius), die datum vir Paasfees gefinaliseer, en reëls vir dissipline opgetrek.

Op 25 Julie is hulle werk klaar, en nooi die keiser die kerklike verteenwoordigers na 'n banket. 'n Paar dae later spreek hy hulle vir ou laas toe en beklemtoon die belang van harmonie tussen gemeentes en tussen kerk en staat. Hy deel ook geskenke uit en reël dat streeksgoewerneurs jaarliks vir die kerkamptenare, die weduwees en die "maagde" met toelaes uit staatsgeld ondersteun. Rang is bepalend en die grootte van die toelaag het nie met behoefte te doen nie. Aan die einde van die jaar stuur Konstantyn briewe uit om die besluite van Nisea aan te beveel by gemeentes en die gesag daarvan te onderskraag.

Ten spyte van Konstantyn gaan die sinodes voort: die een wat hier verban word, word daar weer bevestig. Daar verdoem hulle weer ons. Binne maande verbrokkel die eenheid van Nisea. Soos in skaak, so ook in die werklikheid: biskoppe beweeg skuins. Eusebius van Nikomedia (nie die historikus nie) was eers 'n ondersteuner van Likinius. Toe is hy deur Konstantyn verban. Weer bevestig as biskop word hy selfs die onderwyser van die toekomstige keiser Julianus. Op sy sterfbed versoek Konstantyn dat hy gedoop word, en dit is Eusebius van Nikomedia wat die sakrament bedien.

Twee dekades later is keiser en kerk se strewes ook nie meer dieselfde nie. Eenheid, samewerking en "goeie" verstandhoudings sou nog baie bloed laat vloei.

Net vir geval mens nog nie wantrouig genoeg is oor wat alles wat by die konsilie van Nisea uitgedink is nie, let op hoe Eusebius (van Sesarea) die begin van die banket beskrywe:

Afdelings van die keiser se beskermingseenheid en ander troepe het die ingang van die paleis met getrokke swaarde omring, en tussen hulle deur het die manne van God sonder vrees gestap tot in die binnekamers van die keiserlike vleuel. Daar het sommige saam met die keiser aan tafel gesit terwyl andere op die banke wat rondom die tafel gerangskik was, hulle neergevlei het. Mens sou maklik kon dink dat Christus se koninkryk hier weerspieël word — 'n droom eerder as werklikheid. (Vita Constantini 3.15)

Dit was juis nie 'n droom nie. 'n Leier van Jesus se dissipels (Eusebius) skryf nou 'n biografie van Konstantyn en nie die verhaal van Jesus nie. Brood en wyn en heerskappy — banket en koninkryk — word nog steeds bymekaar gebring, maar nou is dit net mans. Hulle lê aan saam met die keiser, en word deur ander bedien. Was dit maar 'n droom…

Wat Nisea ons leer — die eintlike uitkoms daarvan — is nie die waarheid oor God of die finale uiteensetting van die wese van Christus nie. Die verhaal van Nisea is soos enige ander kerkgeskiedenis: Die verhaal van mense (mans!) wat probeer om finale oplossings te bereik en 'n totale oorwinning oor hulle opponente te behaal — net om dan toe te kyk hoe dinge uit mekaar val. Miskien is die eintlike les van Nisea die waarskuwing om minder absolute doelwitte met meer beskeie metodes te bereik.

Dit is beter om ons toe te spits op dinge wat ons kan doen en wat binne ons vermoëns is, want dit wat ons oortuig te midde van gloeiende toesprake trek ons aandag weg van die waarheid van die werklikheid, soos met talle filosowe al gebeur het wat probeer het om met hulle vernuf en logika die wese [essensie] van dinge te beskrywe. En wanneer die omvang van die vraag hulle ondersoek ooweldig word die waarheid in metodologiese verskille begrawe. Hulle eindig deur weersprekende dinge te leer en val mekaar aan, selfs manne wat aanspraak maak op wysheid.

Besondere ironie kleef aan hierdie woorde, want dis Konstantyn wat biskoppe toespreek (Eusebius Ad coetum sanctorum 9).

Is diversiteit nie deel van Christelike identiteit nie? En juis daarom nie ook verdraagsaamheid nie? Kan die sentrale waardes, die kernpunte van daardie identiteit ooit in die afdwing van leerstellings oor God lê? Oor God ?

<!--pagebreak-->

Samevattende opmerkings

  • 'n Bespreking van Konstantyn is dalk nie wat mens sou verwag om deel te wees van die gesprek rondom hervorming in Afrikaanse godsdiensbelewing nie. Op die oog lê dié gebeure aan die wortels van die Rooms-Katolieke kerk; dis Europese geskiedenis, dis verby… Geskiedenis mag verby wees, maar omdat dit verby is, is ons wie ons is. Ek het probeer aantoon dat insig in daardie gebeure van besondere belang is om die kernvrae verbonde aan Christelike identiteit na vore te bring. Nie die minste van daardie insigte is dat ons tradisies mensgemaak is en beter gemaak kán word.
  • Op 28 Oktober 312 n.C. besluit keiser Konstantyn dat sy oorwinning oor Maksentius te danke is aan Christus se mag, en om daardie Christus as Here te aanvaar. Dit sê baie dat ons presies weet wanneer Konstantyn 'n Christen geword het, maar nie 'n idee het wanneer Jesus gebore is nie, en dat ons sy kruisdood op
  • die beste binne die 13 jaar of so van Pilatus se goewerneurskap kan plaas. Bloot objektief gesproke moet ons wonder watter gebeure het op watter manier die geskiedenis dan nou fundamenteel gestuur. Of anders gestel: Het ons met mag te doen wanneer ons na die Goddelike verwys of met 'n lewensstyl?
  • Is God die god van oorloë? Oor ander se belewenis van die Goddelike moet mens altyd respekvol en beskeie staan. Maar kan enigiets aan God toegeskryf word? God van oorloë?
  • Voor Konstantyn se regeertyd het die Christendom beswaarlik gedink aan politieke aktiwiteite, wat nog te sê aan 'n politiek. Die gemeenskaplike lewe was meer en deels hulpverlening, ondersteuning, aanbidding en toewyding (soos die van Judaïsme). Na Konstantyn het die Christendom die taak om te regeer, om die openbare en politieke instellings van die Ryk te vorm en te beheer met verrassende ywer opgeneem.
  • Voor Konstantyn het die Jesus beweging bykans 300 jaar al bestaan. Hulle is van tyd tot tyd vervolg, maar hulle was onafhanklik. Na Konstantyn sou die kerk voortdurend sukkel om ooit weer onafhanklik te wees. Of om deeglik en skerp die werksaamhede en besluite van 'n regering te beproef.
  • Vandag is die kanse — goddank! — maar skraal dat 'n Afrikaanse kerk 'n meeloper van die staat sal raak. Maar die staat is lank nie meer die enigste beskikker van die meeste van ons se lot nie. Verbruikerskapitalisme, massakommunikasie, ekologiese uitbuiting: die keisers is nie meer individuele persone nie. Ons is heeltemal te gemaklik met die sistemiese onreg wat in ons gemeenskappe bestaan.
  • In 'n sin is dit heeltemal te verstane — selfs te wagte, as mens diep in jou eie hart kyk — dat die verteenwoordigers van die Christene die kenmerke van Konstantyn se regering sou oorneem en by Konstantyn se amptenare afkyk vir hulle eie kleredrag, optogte en toesprake. Hulle het dan dienste begin lei in geboue wat die paleis naboots. Meer en meer sou Jesus in christelike kuns begin lyk na die keiser wat onderdane ontvang, en in godsdienstige taal sou die lofredes vir die keiser en selfs die adventus weerklink. Danksy Konstantyn het die kerk rykdom en publieke prominensie ontvang. Daardie "danksy" het 'n "dankie sê" geword wat die taal van verheerliking, die taal van die keiserkultus en die keiserlike hof oorgeneem het. Vandag, met die wonderlike insig wat nawete bied, weet ons wat die prys was. Dit is tyd om te besin hoe óns verantwoordelik hier en nou wil omgaan met ons Joods-Christelike agtergrond en diskoers.


MAAK DIE DRIE-EENHEID VANDAG NOG SIN?

Sakkie Spangenberg
14 Augustus 2005

The fundamentalist thinks that his form of faith has always been in existence, because he does not study religion historically (James Barr).

We need to realize, for starters, that Jesus did not reject Judaism and that Christianity began as a tiny movement within Jesus' own ancestral faith (Harvey Cox).

1 Inleiding

Ten einde die vraag te kan beantwoord of die Drie-eenheid nog sin maak, wil ek 'n historiese terugblik gee op die onstaan van die Christelike geloof. Sonder so 'n historiese terugblik, verstaan mense nie dat die idee van 'n Drie-eenheid nie in die Bybel te vind is nie. Die Drie-eenheid is 'n teologiese konstruksie van die Latynse kerkvaders wat in die vierde eeu nC geleef het. Dis hulle pogings om die Joodse monoteïsme met die politeïsme van Grieks-Romeinse wêreld te versoen. Teen die vierde eeu het die Christelike geloof reeds deur twee stroomversnellings gegaan. Die vroeë Christene wat Jode was, het na 100nC 'n eie pad begin loop en meer en meer deel geword van die Hellenistiese wêreld. Mettertyd het Latyn die omgangstaal van Christene geword en het mense begin om die Bybel ook in Latyn te vertaal. Om en by die middel van die vierde eeu het Pous Damasus (304–384) die Latynse kerkvader Hiëronimus versoek om 'n Latynse Bybelvertaling te skep wat vir alle Christene aanvaarbaar sou wees. Op daardie stadium het daar reeds verskeie Latynse vertalings van die Bybel bestaan.

Voor ek egter met die historiese terugblik begin, net eers 'n kort vertelling oor hoe die idee Drie-eenheid tans in die Bybel teruggevind word.

 

2 Die tradisionele Christelike beskouing

Volgens die tradisionele beskouing van die Bybel vorm die Ou en die Nuwe Testament 'n aaneenlopende verhaal waarin God Hom openbaar as 'n Drie-eenheid. Dit begin by die skepping in Genesis 1 waar God sê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip” (Gen 1:26). Die meervoud “ons” — so het vele teoloë in die verlede geredeneer — slaan op die Drie-eenheid.

Mense wat só redeneer sê gewoonlik dat ons ook in Genesis 18 van die Drie-eenheid lees. Daar hoor ons van drie mans wat in Mamre by Abraham besoek kom aflê het. Die inleidingsverse van hierdie hoofstuk lees soos volg: “Daarna het die Here aan hom verskyn by die terpentynbome van Mamre terwyl hy by die ingang van die tent sit op die warmste van die dag. Toe hy sy oë opslaan en kyk, staan daar drie manne voor hom ...” (Gen 18:1–2). Hierdie drie besoekers is die Drie-eenheid in 'n ander gedaante volgens vele Christene.

Maar dis nie net in Genesis se verhale waar God Hom as 'n Drie-eenheid openbaar nie. Volgens vele se oortuigings lees ons ook in Jesaja van die Drie-eenheid. Jesaja vertel van 'n visioen wat hy in die sterfjaar van koning Ussia gehad het waarin hy God op 'n troon sien sit het. In hierdie visioen het hy serafs hoor roep: “Heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare” (Jes 6:3). Die serafs roep drie keer “heilig”, want die goddelike Drie-eenheid bestaan uit drie persone.

Jesaja 42:1 is nog 'n Ou-Testamentiese teks wat ingespan word om die bestaan van 'n Drie-eenheid te bewys. In die betrokke vers sê God: “Hier is my dienaar, Ek stel hom aan. Ek het hom uitverkies, hy geniet my guns. Ek laat my Gees op hom kom, hy sal my wil aan die nasies bekend maak.” Volgens ortodokse Christene is God die Vader hier aan die woord en verwys Hy na Jesus as sy dienaar . Op hierdie dienaar kom die Gees . Geen duideliker bewys van die Drie-eenheid in die Ou Testament kan 'n mens tog verlang nie!

Guido de Brès redeneer in hierdie trant in artikel 9 van die Nederlandse Geloofsbelydenis wat in 1561 opgestel is. In sy redenasies openbaar hy geen kultuur-historiese besef nie en lees hy eenvoudig die Ou Testament deur die bril van die kerklike belydenisse en dogmas. Hierdie soort redenasie vind ons ook in ander Protestantse geloofsbelydenisse wat in die sestiende eeu in Europa opgestel is. Ons kan hierdie mense eintlik nie verkwalik nie, want hulle het geen kennis van die ou Nabye Oosterse kulture gehad nie. Hulle het eenvoudig aanvaar wat die Latynse kerkvaders geskryf en wat die kerk op daardie stadium gepreek het.

Daardie mense het aanvaar dat die volgorde van die boeke in die Bybel, op enkele uitsonderings na, die orde weerspieel waarin hulle tot stand gekom het. Genesis is die eerste boek en is eerste geskryf. Openbaring is die laaste boek en is die laaste geskryf. Die uitsonderings is die boeke wat min of meer in die middel van die Bybel geleë is. Hulle is Job, Psalms, Spreuke, Prediker en Hooglied. Voorts het ouer geleerdes aanvaar dat Moses verantwoordelik was vir die eerste vyf boeke van die Ou Testament. Moses het Genesis tot Deuteronomium geskryf en daarom het mense op 'n stadium na hierdie boeke verwys as Een Moses (Genesis), Twee Moses (Eksodus), Drie Moses (Levitikus), Vier Moses (Numeri), en Vyf Moses (Deuteronomium). Hierdie geleerdes het ook aanvaar dat Dawid vir al die Psalms verantwoordelik was en Salomo vir al die spreuke in die boek Spreuke, asook vir Prediker en Hooglied.

Wetenskaplike studie van hierdie boeke het daartoe gelei dat geleerdes besef het dat Moses nié vir die Pentateug (eerste vyf boeke) verantwoordelik kon wees nié. Voorts het geleerdes “bronne” in die Pentateug ontdek. Die bronne het die volgende name gekry: (1) die J-bron (omdat dit die naam Jahweh vir God gebruik); (2) die E-bron (omdat dit die naam Elohim vir God gebruik); (3) die D-bron (wat hoofsaaklik met die boek Deuteronomium verband hou); en (4) die P-bron (so genoem omdat dit voorskrifte oor die priesters, die offers, die feeste en ander godsdienstige gebruike bevat). Laasgenoemde bron staan ook bekend as die Priestergeskrif.

Vóór die ontdekking van hierdie bronne het mense aanvaar dat Israel se godsdiens oorspronklik monoteïsties was. Israel het in die begin net één god aanbid. Hierdie god het homself aan Moses geopenbaar as Jahweh . Dit het plaasgevind by die doringbos by die berg Horeb (Eks 3). Die volk was egter geneig om afvallig te raak en ander gode te aanbid. Monoteïsme moes dikwels in hulle geskiedenis voor politeïsme wyk. Die feit dat die Assiriërs en die Babiloniërs daarin kon slaag om respektiewelik die koninkryk van Israel en die koninkryk van Juda te verower, moet toegeskryf word aan die afvalligheid van die volk. Tydens die ballingskap het die volk tot inkeer gekom en het God beloof om 'n nuwe verbond met hulle te sluit. Ons lees hiervan in Jeremia 31:31–33. Hierdie nuwe verbond het eers met die kruisdood van Jesus 'n realiteit geword. Die tussentestamentêre tyd (die tyd tussen die laaste boek van die Ou Testament en die eerste boek van die Nuwe Testament) was 'n periode van “watertrap” en wag vir die geboorte van die Messias.

Die laaste boek van die Ou Testament is die boek Maleagi en dit is geskryf in die middel van die vyfde eeu. Die eerste Nuwe-Testamentiese boek wat geskryf was, is Matteus en dit was geskryf net na die inname van Jerusalem en die vernietiging van die tempel in 70 nC. Met Jesus se geboorte breek die tyd van die nuwe verbond aan. Hy bring weer orde en stabiliteit. Nou word die Drie-eenheid in sy suiwerste vorm bekend gestel.

Ons kan hierdie idee van 'n reglynige ontwikkeling van die Ou Testament tot die Nuwe Testament soos volg voorstel:

Ou verbond



>>
Nuwe verbond
Ou Testament



Intertestamentêre tyd
Nuwe Testament
Gen. >> Maleagi
Apokriewe boeke
Matt. >> Openbaring

 

3 Historiese en kritiese studie van die Ou- en Nuwe-Testamentiese geskrifte

Die idee van 'n aaneenlopende verhaal waarin God Hom openbaar as 'n Drie-eenheid, het in die gedrang gekom toe geleerdes begin besef het dat die boeke van die Bybel nie in die volgorde waarin hulle staan, tot stand gekom het nie.

Genesis staan wel eerste in die Bybel, maar dit was nie eerste geskryf nie. Wetenskaplike studie het daartoe gelei dat geleerdes besef het dat die Pentateug uit ten minste vier bronne opgebou is. Dis ongeveer soos die vier evangelies. In hierdie geval het die vier aparte bronne nie apart bly voortbestaan nie, maar is hulle vervleg om 'n aaneenlopende verhaal te vertel. Die bronne wat in die Pentateug, ontdek is, is: (1) die J-bron, (2) die E-bron (3) die D-bron, en (4) die P-bron. Geleerdes aanvaar dat die J-bron rondom 950 vC geskryf is; die E-bron rondom 850 vC; die D-bron rondom 600 vC, en die P-bron tydens die Babiloniese ballingskap (587–538 vC). Voorts het dit aan die lig gekom dat Maleagi nie die laaste Ou-Testamentiese boek was wat geskryf is nie. Vandag weet ons dat ten minste die volgende drie Ou-Testamentiese boeke ná Maleagi geskryf is: (1) Hooglied (300vC), (2) Prediker (250vC) en (2) Daniël (167–164vC). Die idee van 'n tussentestamentêre tyd het geleidelik die wyk geneem veral na die ontdekking van die Dooie Seerolle (1947–1956). Bybelwetenskaplikes het al meer begin praat van die Tweede Tempeltydperk.

Die Tweede Tempeltydperk strek van die voltooiing van die na-ballingskaptempel in 515vC tot die vernietiging van die herboude tempel van Herodus die Grote (70nC). Dit was 'n uiters kreatiewe tydperk en meeste van die Ou-Testamentiese boeke, is gedurende hierdie periode geskryf en/of hersien.

 

4 Jahwisme, Judaïsme en Christendom

Allerlei ander ontdekkings (soos onder andere die stad Ugarit en die “biblioteek” wat daar gevind is), het aan die lig gebring dat Israel se godsdiens nie van die begin af monoteïsties was nie. Die argeologiese ontdekkings in die Nabye Ooste het aan ons 'n beter prentjie van wêreld waarin die Israeliete geleef het, begin gegee. Dit het gou duidelik geword dat Israel volledig deel was van die Noord-Wes Semitiese kulture en dat hulle soos die ander volke 'n panteon van gode geken het. Om die waarheid te sê, vele Israeliete was aanvanklik Kanaäniete en hulle het die Kanaänitiese panteon met sy vier vlakke geken. In hierdie panteon was El die oppergod en hy het 'n vrou met die naam van Asjera gehad. Die gode op die tweede vlak van die panteon was na regte die kinders van die oppergod en sy vrou. Daarom het hulle ook bekend gestaan as “kinders van die gode” ( ben 'el Ç hîm ) of net as “gode” ( 'el Ç hîm ). Benede hulle was daar nog 'n ander groep gode wat na regte die dienaars in die koninklike hofhouding was. Op die vierde vlak van die panteon was die mal' ~ kîm , of soos ons dit ken “die engele”. Hulle was die boodskappers of stuurjonge van die oppergod. Ons kan hierdie panteon soos volg voorstel:

 

Die El -panteon

 

El en sy Asjera

--------------------------------------

'el Ç hîm / ben 'el Ç hîm

---------------------------------------

serafs en gerubyne

----------------------------------------

mal' ~ kîm

 

 

Jahweh , die Israelitiese god, het in die Israelitiese panteon die rol van El oorgeneem. Na regte kan ons praat van Jahweh-El . Hy was die skeppergod en die vader van elke indiwidu in Israel — net soos El die skeppergod en vader van elke Kanaäniet was. Vele Israeliete het naas Jahweh ook Asjera vereer (1 Kon 15:1; 18:19; 2 Kon 21:7; 23:4, 7; 2 Kron 15:16) — presies soos die Kanaäniete! Die ‘heilige boomstam(me)' waarvan ons in die Ou Testament lees, was haar kultussimbool (vgl Rig 3:7; 6:25–26; 2 Kron 24:18; Miga 5:14; Jes 17:8; 27:9; Jer 17:2). Die boomstam(me) het haar teenwoordigheid versimboliseer. Sommige Ou-Testamentici is selfs van mening dat die ‘koningin van die hemel' waarna Jeremia verwys, niemand minder as die godin Asjera was nie (vgl Jer 17:8; 44:15–25).

Die gode van laer rang word dikwels 'el Ç hîm (‘gode') en ben 'el Ç hîm (‘seuns van gode/godekinders') genoem. Die gode Baäl , Jam , Anat en Astarte van wie ons soms in die Ou Testament lees, het onder hierdie groep geval. Dit geld ook van die son en die maan . Een van die tekste in die Ou Testament waaroor mense gewoonlik vrae vra en wat duidelik op hierdie groep gode sinspeel, is Genesis 6:1–4. In die 1953-vertaling word daar gewag gemaak van ‘die seuns van God', terwyl die 1983-vertaling net van ‘hemelwesens' praat. Hierdie teks weerspieël soos geen ander teks in die Ou Testament dat Israel tuis was in die ou Nabye Ooste. Hulle het 'n panteon van gode geken wat duidelik ooreengestem het met die panteons van ander Noordwes Semitiese volke. Volgens hulle oortuigings kon die gode aardse vroue ook bevrug. Na regte moet ons sê dat hierdie gode 'n ‘saadbaba' aan vrouens kon oordra. Mense wat in daardie tyd geleef het, het geglo dat slegs die man 'n rol speel in die verwekking van kinders. Net soos wat 'n saaier saad in die grond plant, so ‘plant' die man die saad in die vrou. Hierdie ‘saadbaba' het aanvanklik soos melk gelyk. Dit het later ‘dikmelk' en ‘kaas' geword (vgl Job 10:10). Vroue was beskou as onvoltooide mans. Hulle was slegs ‘vate' wat die ‘saadbabas' in hulle moes laat groei presies soos die aarde met plantsaad maak. Die seuns wat uit die seksuele gemeenskap tussen gode en vroue gebore is, was nie gewone mense nie, maar supermense en daarom is na hulle verwys as ‘helde' en ‘reuse.'

Nog 'n teks waaroor Bybellesers dikwels vrae vra, is 2 Koning 18:4. Daar word verwys na die koperslang wat Moses gemaak het en wat die Israeliete klaarblyklik al jare vereer het. Hierdie slanggod was niks minder nie as 'n seraf en is ‘Negustan' genoem. Hy is vereer omdat hy mense teen siektes kon beskerm en hulle ook kon genees. Die verhaal in Numeri 21 is 'n poging om te verduidelik waar die verering van hierdie god oorspronklik vandaan kom. Die verteller probeer duidelik die verering van hierdie god afskaal en dit voorhou as 'n onskuldige daad wat 'n moment op die swerftog in die woestyn in herinnering roep. Hierdie god was deel van die gode wat 'n nog laer rang in die Jahweh -panteon beklee het. Volgens die vertelling in Konings het koning Hiskia, as deel van sy hervormingsprogram, die aanbidding van hierdie god gestaak. Hy het die god se kultussimbool uit die Jerusalem-tempel laat verwyder en vernietig (2 Kon 18:1–8).

Op die heel laagste vlak van die panteon, so het ek reeds gesê, het die mal' ~ kîm gestaan. Alhoewel hierdie Hebreeuse woord met ‘engele' vertaal word, het ons ook hier met gode te doen. Hulle was egter sulke onbelangrike gode dat hulle nie eens by name genoem word nie. Dis eers na die Babiloniese ballingskap dat die engele name gekry het. Neem as byvoorbeeld die engel Gabriël en die engel Migael van wie ons vir die eerste keer in die boek Daniël lees (Dan 8:16; 9:21; 10:13; 12:1). Hierdie groep gode moes slegs boodskappe oordra en die belangriker gode se besluite aan mense kommunikeer. Onder hierdie groep vind ons ook die mal' ~ k Jahweh . Hierdie woorde word gewoonlik vertaal met ‘die engel van die HERE'. Jare gelede het teoloë die standpunt gehuldig dat ‘die engel van die HERE' niemand minder as die tweede persoon van die Drie-eenheid is nie. Dit is een van die redes waarom die vertalers van die 1953-vertaling ‘Engel van die HERE' met hoofletters geskryf het. Met hierdie vertaling het hulle die dogma van die Drie-eenheid in die Ou Testament invertaal. Die vertalers van die 1983-vertaling het hierdie tradisie voortgesit. Ou-Testamentici aanvaar egter nie meer hierdie siening nie en daarom stel hulle voor dat ons die uitdrukking mal' ~ k Jahweh liefs moet vertaal met ‘ 'n engel van die Here' en nie met ‘ die engel van die Here' nie. Ons moet ‘engel' ook allermins met 'n hoofletter skryf.

'n Goeie beskrywing van hoe hulle hulle omgewing beleef het, is dat dit dig bevolk was met gode. (Dis 'n mooi beskrywing wat ek oorneem van my kollega Pieter Craffert.) Jy kon in daardie jare om elke hoek en draai 'n god raakloop. Beter gestel, hulle kon jou pad enige oomblik kruis. Neem as voorbeeld Jakob se stoeigeveg met 'n god by 'n drif (Gen 32:23–33) en Moses en Sippora se ontmoeting met Jahweh op pad na Egipte (Eks 4:24–26) — of is dit 'n engel van Jahweh soos die Griekse vertaling dit het? Dan is daar nog Bileam se ontmoeting met 'n engel van die Here op pad om Israel te gaan vervloek (Num 22:22–35). En Josua se ontmoeting met die aanvoerder van Jahweh se leër voordat die Israeliete Jerigo ‘verower' het (Jos 5:13–15).

Wanneer ons die Ou-Testamentiese verhale lees, moet ons altyd in aanmerking neem dat ons 'n vreemde wêreld betree. Dis 'n wêreld wat bestaan het uit drie verdiepings. In die boonste verdieping (of hemel) het die oppergod met sy vrou, sy kinders (of ministers), bestuurders en boodskappers (of huishoudsters en knegte) gewoon. In die kelderverdieping of dan die onderwêreld, was daar die chaoswater met die chaosslang — ook bekend as Leviatan of Rahab (Ps 89:11; Job 9:13; 26:12; Jes 51:9). Diegene wat met hulle skepe die see (wat deel was van die chaoswater) aangedurf het, was terdeë bewus van Leviatan se mag. Afgesien van Leviatan het die kelderverdieping ook die Refa'im of die geeste van die afgestorwe mense bevat (vgl Jes 14:9–10, Job 26:5; Ps 88:11). Mense het in daardie tyd geglo dat wanneer jy te sterwe kom jy 'n skimagtige bestaan in die onderwêreld voer. Dit was wel moontlik om met hierdie skimme kontak te maak, daarom het Saul hom 'n keer tot 'n vrou gewend wat oor die vermoë beskik het om met afgestorwenes kontak te maak (1 Sam 28). Die Israeliete het ook voorvaderverering beoefen. Levitikus 19: 28, 31; 20:6, 27 sinspeel duidelik op hierdie soort verering. Ons kan bostaande uiteensetting van die Jahweh -panteon soos volg weergee:

 

Die Jahweh -panteon

 

Jahweh-El en sy Asjera

--------------------------------------------

'el Ç hîm / ben 'el Ç hîm

--------------------------------------------

serafs en gerubyne

--------------------------------------------

mal' ~ kîm

 

 

In die voorafgaande paragrawe het ons gesien dat Jahwisme nie van die begin af monoteïsties was nie. Israel se godsdiens was aanvanklik politeïsties. Die Israeliete het 'n panteon van gode geken en het nie net Jahweh aanbid en vereer nie, maar ook van die ander gode in die panteon — dit sluit die godin Asjera in. Voorts het daar nie net één ‘eksemplaar' van Jahwisme bestaan nie. Die burgers en regering van die twee koninkryke, Israel en Juda, het op verskillende maniere aan Jahwisme uitdrukking gegee. Ons kan daarom praat van poli-Jahwisme in die tyd van die twee koninkryke.

Die oorgang van Jahwisme (toe meer as een god erken en dikwels vereer is) na Judaïsme (toe slegs één god erken en vereer is) het nie oornag plaasgevind nie. Dit was 'n geleidelike proses en allerlei faktore het daartoe bygedra. Ons kan die ‘tussenfase' tussen Jahwisme en Judaïsme tipeer as Jahwisme met trekke van monolatrie . Met monolatrie bedoel ons dat die Israeliete en Judeërs steeds geglo het in die bestaan van ander gode, maar dat hulle geleidelik slegs Jahweh aanbid en vereer het. Die gebeure tydens die regeringstyd van koning Hiskia (715–687vC) en koning Josia (640–609vC) het 'n klimaat geskep vir hierdie tussenfase. Die belangrikste katalisators in die oorgang van Jahwisme na Judaïsme was die val van die koninkryk van Israel in 722vC en die uiteindelike inname van Jerusalem en verwoesting van die tempel in 587vC.

Om iets te snap van die gebeure en die faktore wat 'n rol gespeel het in die oorgang, moet ons eerstens kennis neem van die groot ryke wat die ou Nabye Oosterse toneel gedurende hierdie jare oorheers het. Hierdie ryke was die Assiriërs en die Babiloniërs.

Die Assiriese ryk het tydens die regering van koning Tiglat-pileser III (745–727 vC) die toppunt van sy mag bereik. Hy het die Assiriese ryk weswaarts uitgebrei en Egipte in sy visier gehad. Sy opvolgers, Salmanser V, Sargon II, Sanherib en Esarhaddon, het hierdie uitbreiding voortgesit totdat Assurbanipal uiteindelik daarin geslaag het om Egipte in te neem. Die twee Palestynse koninkryke, Israel en Juda, was struikelblokke op pad na hulle einddoel — die koninkryk van Israel veel meer as die koninkryk van Juda. Die konings van Israel het immers die deurgangsroete deur die berge by Megiddo beheer. Enige koning wat 'n koninkryk in die gebied van die Tigrus- en die Eufraatrivier gehad het en wat Egipte wou aanval, moes deur hierdie moot trek. Selfs die Egiptiese farao's moes hierdeur gaan indien hulle op hulle beurt van die koninkryke wou aanval (vgl 2 Kon 23:29–30). Etlike militêre veldslae is in hierdie omgewing gevoer en daarom het die naam Megiddo en die berge by Megiddo 'n simbool van oorlog en stryd geword. Dis waar die naam Armageddon vandaan kom: Die berg (in Hebreeus: har ) van Megiddo.

'n Tweede saak wat ons in aanmerking moet neem, is hoe sommige groepe in Israel die gebeure in hulle tyd vertolk het. Gedurende die agste eeu toe die Assiriërs al sterker geword het, het 'n groep profete en skrywers in die koninkryk van Israel 'n dokument geskryf waarin hulle die verhouding tussen Jahweh en Israel in terme van 'n verdrag (of verbond) geskets het. Geleerdes het hierdie groep mense die naam ‘die Deuteronomiste' gegee. Die dokument wat hulle opgestel het, was 'n vroeë weergawe van die boek Deuteronomium.

Die idee van 'n verdrag het die Deuteronomiste ontleen aan die staatsverdrae wat die Assiriese konings met van die onderhorige konings gesluit het. Hierdie soort verdrae het die naam ‘vasalverdrae' gekry. Die Assiriese koning word die ‘groot koning' genoem en die onderhorige koning, die ‘vasalkoning'. Die Deuteronomiste het Jahweh voorgehou as die ‘groot koning' en die Israelitiese koning as die ‘vasalkoning'. Jahweh , die groot koning, het aan die onderhorige koning beskerming beloof mits die koning sy deel van die verbond nakom, naamlik om Jahweh alleen te aanbid en te vereer. Die Deuteronomiste het die idee van 'n verdrag egter verdemokratiseer en dit op die totale volk van toepassing gemaak. Jahweh het nie net met die koning 'n verdrag gesluit nie, maar met die totale volk. Israel moes slegs Jahweh aanbid en vereer. As die koning en die ganse volk hulle by die verbond hou, so het die Deuteronomiste geleer, sal hulle seën beleef, maar as hulle die verbond oortree, wag daar allerlei strawwe (vgl Deut 27–28). Die Deuteronomiste het hulle dus beywer vir die uitsluitlike verering van Jahweh .

Hierdie idees van die Deuteronomiste het waarskynlik deurgesypel na die koninkryk van Juda, want die hervormings van koning Hiskia weerspieël iets van hulle sienings (vgl 2 Kon 18:1–5). Ander geleerdes meen egter dat Hiskia se hervorming nie gebaseer was op die sienings van die Deuteronomiste nie. Volgens hulle het hy bloot die skatte van die tempels in die res van sy koninkryk na Jerusalem laat bring sodat dit nie in die hande van die Assiriese magte sou beland nie. Hiskia het dus nie die ander tempels in sy ryk gesluit nie, maar slegs hulle skatte na die tempel in Jerusalem laat bring. Die Judeërs is toegelaat om steeds dáár te aanbid en te offer.

Enkele jare voordat die Assiriese koning Salmaneser V Israel verower en Samaria ingeneem het (722vC), het van die Deuteronomiste met hulle dokument na die suide gevlug en hulle tuisgemaak in die koninkryk van Juda. Die idees van die Deuteronomiste het sodoende 'n groter inslag hier verkry. Die Wetboek wat gedurende koning Josia se regeringstyd (640–609vC) in die tempel in Jerusalem ontdek is (2 Kon 22:1–13), was waarskynlik die vroeë weergawe van die boek Deuteronomium. Die Assiriese bedreiging was op hierdie stadium wel iets van die verlede, maar die Babiloniërs het nou die tromme in die ou Nabye Ooste begin geslaan. Josia het hom, op aandrang van die Deuteronomiste en profete soos Jeremia, beywer vir die uitsluitlike verering van Jahweh . Hulle het die hoop gekoester dat Jahweh die koninkryk van Juda sou beskerm en dat dit nie, soos die koninkryk van Israel, sou ondergaan nie. Monolatrie het begin vorm aanneem, maar dit was nog nie volskaalse monoteïsme nie en allermins eksklusiewe monoteïsme.

Die inname van Jerusalem en die vernietiging van die tempel in 587vC het die simboliese wêreld van die Judeërs inmekaar laat tuimel. Na die wonderbaarlike redding van Jerusalem tydens die beleg van die Assiriese koning Sanherib (2 Kon 18–19), het vele Judeërs geglo dat geen vyandige mag Jerusalem ooit sal verower nie (vgl Jer 7:4–8; 26:1–11). Toe die Babiloniese koning, Nebukadnesar, se leërs Jerusalem ingeneem en die tempel in 587vC verwoes het, was vele Judeërs platgeslaan. Na hierdie gebeure het hulle met waarom-vrae geworstel en na antwoorde gesoek. Die Deuteronomiste se sienings het 'n dominante rol begin speel in die vertolking van die gebeure. Volgens hulle was die ballingskap deel van Jahweh se straf omdat die volk nie die verbond met hom onderhou het nie. Hulle het ander gode aanbid. In 'n terugblik op die geskiedenis van Israel en Juda het die Deuteronomiste uitgewys hoedat die konings telkens hulle rug op Jahweh gekeer en die volk toegelaat het om ander gode op allerlei ander plekke as Jerusalem te vereer.

Die alleenverering van Jahweh het daartoe gelei dat die verering van die godin Asjera gestaak is. Voorts het die gode van die twee middelvlakke van die panteon verdwyn. Hulle het minder belangrik geraak. Jahweh het hulle take oorgeneem en hulle is gedevalueer tot die vlak van die mal' ~ kîm (die engele). Uiteindelik het net die oppergod en die boodskappers in die panteon dus oorgebly. 'n Heel interessante ontwikkeling is dat die engele nou name kry. Vroeër is daar slegs van engele of boodskappers gepraat, maar nou lees ons van engele met die name Gabriël en Migael (vgl Dan 9:21; 10:21; 12:1).

Gedurende die Babiloniese ballingskap het Jahwisme onder die invloed van die Deuteronomiste dus monoteïsties geraak. Die panteon het in daardie tyd soos volg daar uitgesien:

 

Die na-ballingskap Jahweh -panteon

 

Jahweh

--------------------------------

mal' ~ kîm

 

 

Hierdie nuwe panteon word nêrens elders so duidelik weerspieël as in die prediking van die profeet met die naam Deutero-Jesaja nie. In sy boodskap dryf hy dikwels spot met die gode van die Babiloniërs. Hy hou hulle voor as mensemaaksels en dus totaal onmagtig (vgl Jes 41:6–7; 44:6–20; 46:1–13). Telkens hoor ons hom sê dat Jahweh nie alleen die Skepper is nie, maar ook die Een is wat die wêreldgebeure bestuur (vgl Jes 45:1–8). By Deutero-Jesaja vind ons duidelik trekke van ekslusiewe monoteïsme . Dit wil sê, 'n vertolking van monoteïsme waar nie meer met die moontlikheid rekening gehou word dat Israel die naam Jahweh vir die oppergod gebruik terwyl ander volke hom onder 'n ander naam vereer nie. Of dat Jahweh die oppergod van 'n panteon van gode is en ander volke slegs maar van die mindere gode aanbid het. Die bestaan van ander gode (behalwe engele) word nou buite rekening gelaat.

Ekslusiewe monoteïsme het na die Babiloniese ballingskap meer en meer veld gewen. Die besnydenis, die onderhouding van die Sabbat en die dieetvoorskrifte word nou ook tekens dat die Jode in 'n besonderse verhouding met Jahweh leef en dat hulle slegs hom erken as die ware god (vgl Dan 1–6). Jahwisme het nou oorgegaan in Vroeë Judaïsme en dit is die godsdiens wat die Jode gedurende die Persiese tydvak (539–333vC), die Hellenistiese tydvak (333–63vC) en die vroeë jare van die Romeinse tydvak (63vC–100nC) beoefen het. Hierdie godsdiens het algaande variasies of strominge begin vertoon. Daar was nie slegs één normatiewe Judaïsme met verskillende sektariese bewegings nie. Die feit dat nie alle Jode na die ballingskap na Palestina teruggekeer het nie en daar ook 'n groep hulle in Egipte tuisgemaak het, het daartoe gelei dat daar ten minste drie tradisies ontspring het. Daar was aanvanklik (1) 'n Babiloniese tradisie, (2) 'n Egiptiese tradisie en (3) 'n Palestynse tradisie in die Vroeë Judaïsme. Soos die tyd voortgesnel en die invloede vanuit die omringende kulture ingespeel het op die Jode se oortuigings, het die variasies duideliker vorm aangeneem. Maar omdat Palestina steeds as tuisland gereken is en die tempel in Jerusalem weer herbou is en as die belangrikste heiligdom gegeld het, het die variasies met verloop van tyd in Palestina self sigbaar geword. Die Jode wat verspreid in die destydse wêreld gewoon het, het (wanneer dit enigsins moontlik was) tydens die groot Joodse feeste Jerusalem en die tempel besoek. Kort voor lank was daar dus drie prominente strominge in Palestina self.

Die godsdiens wat Jesus van Nasaret en sy volgelinge geken en beoefen het, was dus Vroeë Judaïsme . Hulle het nie 'n Drie-eenheid geken en vereer nie, maar aanvaar dat Jahweh die enigste god is. Kontak met die Persiese godsdiens (Zoroastrianisme) het wel daartoe gelei dat sommige Jode mettertyd Belial as 'n opponerende mag naas Jahweh erken het. Geen groep het Belial egter aanbid of vereer nie.

Een van die groot probleme waarmee gelowiges wat 'n monoteïstiese godsdiens aanhang gewoonlik mee worstel, is die kwessie waar boosheid en onreg vandaan kom. Indien daar slegs één god is, moet hy vir sowel goed as kwaad verantwoordelik wees. Dit is egter vir vele gelowiges 'n onaanvaarbare gedagte. Daarom die vraag: ‘Hoe kan 'n god van liefde ook 'n god wees wat mense kwaad aandoen?' In 'n panteon van gode, word die probleem van die kwaad makliker hanteer. Die oppergod word gewoonlik nie as die bewerker van kwaad beskou nie. Die kwaad word gewoonlik aan een van die gode met 'n laer rang toegeskryf. Na die Babiloniese ballngskap en veral tydens die Persiese tydvak vervul Belial hierdie rol.

Danksy die ontdekking van die Dooie Seerolle in 1947–1956 en die bestudering daarvan oor die afgelope meer as 'n halwe eeu, het die kulturele wêreld waarin Jesus en sy volgelinge geleef en die sienings wat hulle gedeel het, duideliker profiel gekry. Die Christelike geloof, so weet ons vandag, het eers ontstaan ná die verwoesting van Jerusalem en die tempel in 70nC. Die Romeinse inname van Jerusalem en die vernietiging van die tempel het alle Jode dwars oor die destydse wêreld geweldig ontstel en vir groot trauma gesorg. Vir 'n tweede keer in hulle geskiedenis is die allerheiligste plek wat hulle geken het, verwoes en het vrae oor Jahweh se mag en oor sy verbond met sy volk ontstaan. Uit die smeltkroes van die gebeure en geloofsvrae het mettertyd twee godsdienste as twee antwoorde ontwikkel: (1) Rabbynse Judaïsme, en (2) Vroeë Christendom. Hierdie godsdienste het nie oornag ontstaan nie, maar gegroei uit strominge wat in die Vroeë Judaïsme bestaan het. Die vroeë Christene is duidelik beïnvloed deur die Hellenistiese Judaïsme, die Fariseïsme en die Essenertradisie.

Uit die voorafgaande behoort dit duidelik te wees dat ons geensins kan praat van die ‘Bybelse godsdiens' nie. Israel se godsdiens het oor jare heen verander. Hulle oortuigings het verskuif van 'n Kanaänitiese panteon na 'n Jahweh -panteon met vier vlakke. Laasgenoemde het op sy beurt ontwikkel in 'n Jahweh -panteon met slegs twee vlakke. Israel se godsdiens het dus gegroei van politeïsme na monoteïsme. Binne die Jahwistiese monoteïsme van die Tweede Tempeltydperk was daar verskeie strominge en oortuigings. Uit hierdie stromings en oortuigings het die Rabbynse Judaïsme en die Vroeë Christendom gegroei.

Uit bostaande uiteensetting behoort dit duidelik te wees dat die Bybelboeke na regte die verhaal vertel van ten minste drie godsdienste: (1) Jahwisme, (2) Vroeë Judaïsme en (3) Vroeë Christendom. Hierdie uiteensetting verskil radikaal van die siening waarmee ons groot gemaak is op laerskool, Sondagskool, hoërskool en katkisasie. Die idee wat by ons gewek is, is dat die Israeliete 'n Drie-eenheid geken, van erfsonde geweet en 'n Verlosser verwag het. Die wetenskaplike studie van die Ou en die Nuwe Testament en die ontsluiting van die Ou Nabye Oosterse wêreld het tot 'n radikale ander siening gelei. Ons kan die nuwe siening soos volg deur middel van 'n diagram weergee:

     

 

 Rabbynse Judaïsme

Jahwisme
587 vC

Vroeë Judaïsme
70nC

 
       
Vroeë Christendom

Uit Jahwisme het Vroeë Judaisme gegroei en uit Vroeë Judaïsme het die Vroeë Christendom en Rabbynse Judaïsme ontspring. Paul Joyce stel dit treffend wanneer hy sê: ‘Judaism and Christianity should not be thought of as “mother” and “daughter”, but perhaps as two sisters, whose stories have been distinctive and particular.' Die twee susters het oor tyd heen van mekaar vervreem geraak en mekaar ook dikwels verketter.

 

5 Die panteon in Openbaring?

Dit was in die antieke wêreld doodnormaal om aan 'n gode-panteon te dink. Die hemel se opset was maar net 'n weerspieëling van die aardse opset. Dis dan ook nie vreemd nie dat die skrywer van die boek Openbaring 'n panteon in gedagte het wanneer hy in Openbaring 4–5 God se troonsaal beskryf. Die oppergod sit op 'n troon (Op 4:2). Rondom die troon is daar vier-en-twintig trone vir die vier-en-twintig ouderlinge (Op 4:4). Maar tussen die God se troon en die vier-en-twintig trone is daar vier lewende wesens (Op 4:6). Rondom die vier lewende wesens en die vier-en-twintig ouderlinge was daar 'n magdom engele (Op 5:11). Waar staan Jesus in die troonsaal? Hy staan tussen die lewende wesens en die ouderlinge. Hy sit nog nie naas God nie! Ons het hier duidelik met 'n vier-vlak-panteon te doen. Ons kan dit so voorstel.

Die panteon in Openbaring

 

God

------------------------------------------

Vier lewende wesens

----------------------------------------- Jesus

Vier-en-twintig ouderlinge

------------------------------------------

Engele

 

Die boek Openbaring is teen die einde van die eerste eeu nC geskryf. Toe was daar nog glad nie sprake van 'n Drie-eenheid nie. Jesus is wel deel van die panteon, maar hy staan nog nie op dieselfde vlak as die oppergod nie. Hy sit nie op 'n eie troon naas die oppergod nie. Rangordelik staan hy tussen die tweede en derde vlak gode.

Hoe het dit dan gekom dat Christene met 'n Drie-eenheid begin werk het? Die Griekse en Latynse kerkvaders het die Joodse monoteïsme met die Grieks-Romeinse politeïsme verenig. Die vroeë Christene het die volgende panteon voorgestaan:

Die primitiewe Christelike panteon

 

God

------------------------------------------

Jesus die seun van God

-----------------------------------------

Die Heilige Gees

------------------------------------------

Engele

 

Christelike teoloë het hierdie vier-vlak-panteon verander na 'n twee-vlak-panteon deurdat hulle nou Vader, Seun en Gees nie meer vertikaal rangordelik geplaas het nie, maar horisontaal met geen rangorde nie, behalwe dat hulle steeds die onderskeid tussen Vader, Seun en Gee bly handhaaf het. Daardeur het hulle 'n twee-vlak-panteon geskep en kon hulle die Jode troef wat hulle van veelgodendom beskuldig het. Vele teoloë erken vandag die feit dat die idee van 'n drie-eenheid uit die vierde en vyfde eeu nC kom. Vergelyk die volgende twee aanhalings: “The doctrine of the Trinity is primarily a christological doctrine and its most widely accepted form is a product mainly of the fourth century AD” (J P Mackey). “The historical locus of the symbol of Jesus Christ as a Trinitarian Person is not the Bible or the early Christian community but the Church in Patristic times, mainly in the Roman Empire” (R C Neville).

 

6 Maak die Drie-eenheid vandag nog sin?

Dis eers in die vierde en vyfde eeu dat Christenteoloë daarin geslaag het om 'n twee-vlak-panteon te skep. Natuurlik het hulle dit nie so bewustelik gedoen soos ek dit beskryf nie, maar dus duidelik wat gebeur het. Aanvanklik het Christene met 'n vier-vlak-panteon gewerk. Daar was die Oppergod, met Jesus as ‘die Seun van God' op die tweede vlak en die Heilige Gees op die derde vlak. Die vierde vlak is beset deur die engele. Met die leerstuk van die Drie-eenheid is die boonste drie vlakke verenig en word daar nou van die ‘Heilige Drie-eenheid' gepraat.

Ons hoef nie vandag hierdie sienings as ewige waarheid te neemsoos vele teoloë dit aan ons wil voorhou nie. Daar bestaan geen rede om mense te dwing om in 'n Drie-eenheid soos die kerkvaders dit geformuleer het, te glo nie. Vir vele maak dit nie meer sin nie en ek sluit myself hierby in. Ons kan, vanweë ons kennis van die godsdiens waarin Jesus tuis was, weer terugkeer na die siening dat Jesus 'n mens soos ons was. Hy is nie letterlik deur 'n oppergod verwek nie. Waaraan ek wel wil vashou, is dat hy in 'n besonderse verhouding met God/die goddelike gestaan het en dat hy as gevolg daarvan dinge gedoen en geleer het wat nou nog vir ons van waarde kan wees. Saam met Geza Vermes droom ek ook die droom dat die Westerse Christendom weer eendag die Joodse Jesus sal herontdek en uit sy leringe sal put.

 

Wie verder wil lees

Barr, J 1984. Escaping from Fundamentalism . London: SCM.

Botha, P J J 2002. Rabbi Jeshua van Nasaret, in Muller, P (red), Die Nuwe Hervorming , 177–195. Pretoria: Protea Boekhuis.

Collins, J J 1998. Ideas of Messianism in the Dead Sea Scrolls, in Charlesworth, J H & Weaver, W P (ed), The Dead Sea Scrolls and the Christian Faith , 20–41. Harrisburg: Trinity Press.

Cox, H 1991. Rabbi Yeshua Ben Yoseph: Reflections on Jesus' Jewishness and the interfaith dialogue. In Charlesworth, J H (ed), Jesus' Jewishness: Exploring the place of Jesus in Early Judaism , 27–62. New York: Crossroad.

Mackey, J P 1983. Trinity, Doctrine of, in Richardson, A & Bowden, J (ed) A New Dictionary of Christian Theology , 581-589. London: SCM.

Neville, R C 2001. Symbols of Jesus: A Christology of Symbolic Engagement . Cambridge: Cambridge University Press.

Slavenburg, J 1995. Valsheid in Geschrifte: De gespleten pen van bijbelschrijvers . Zutphen: Walburg Pers.

Smith, M 2004. The Memoirs of God: History, Memory and the Experience of the Divine in Ancient Israel . Minneapolis: Fortress.

Swidler, L 1988. Yeshua: A model for moderns . Kansas City: Sheed & Ward.

Van der Horst, P W 2000. Mozes, Plato, Jezus: Studies over de wereld van het vroege christendom . Amsterdam: Prometheus.

Vermes, G 1993. The religion of Jesus the Jew. Minneapolis: Fortress.

Vermes, G 2001. The changing faces of Jesus . London: Penguin.


NA DIE DUIWEL MET OU NIEK : WAAR STAAN ONS 20 JAAR LATER?

Pieter Craffert
2005-07-03

Meer as 20jr gelede begin Jimmy Loader 'n koerantartikel in Beeld met die volgende woorde:

Die een ding wat duiwelaanbidders en duiweluitdrywers in gemeen het, is dat albei groepe aan die duiwel glo. Die antwoord wat ons aan albei groepe moet gee, is dat daar nie so 'n ding soos die duiwel is nie.

Ek vermoed dit is meer as net duiwelaanbidders en duiweluitdrywers wat dink dat daar so 'n wese soos die duiwel is.

Laat ek reg aan die begin sê, ek stem met Jimmy Loader saam: daar is nie so 'n wese soos die duiwel nie. Maar ek sê dit oor totaal ander redes as hy. Sy argument is dat dit wat die Bybel sê oor sonde, oor 'n suigkrag, ewe goed gesê kan word sonder die idee van 'n duiwel. Die suigkrag is met verskillende woorde in die Bybel beskryf, soos Satan of teenstaander, versoeker of aanhitser, of duiwel (die diaboliese). Hierdie is mites wat ewe goed verwoord kan word sonder om van 'n bonatuurlik wese te praat.

Ek dink ons moet heeltemal anders oor die probleem dink. Ek wil vier redes noem waarom ek dink dat ons nie meer vandag van die duiwel as 'n soort lewende wese kan praat nie.

1 Die duiwel was inderdaad 'n werklikheid ('n werklike wese) vir Nuwe-Testamentiese mense, maar hoef nie daarom vir ons werklik te wees nie

Ons aanvaar maklik dat ons eie allerdaagse werklikheid is hoe die realiteit inderdaad is, maar die eenvoudige waarheid is dat mense eintlik in verskillende wêrelde of universums leef. Ons dink dit wat vir ons normaal en werklik is, is objektief en sigbaar vir alle mense. As iemand die werklikheid nie so sien nie, het hy dalk nie al sy varkies nie. Hoewel ons almal in 'n konkrete natuurlike wêreld leef, leef ons grootliks in 'n kultureel gekonstrueerde wêreld.

As ek jou sou nooi vir middagete met perdevleis of baba hondjies op die spyskaart sal die meeste se reaksie sekerlik wees, sies! Die Franse en Chinese sal waarskynlik dadelik kom. Mense eet, maar wat kultureel aanvaarbaar is, verskil hemelsbreed. Mense trou en het kinders, maar wat in elke kultuur met 'n kind bedoel word, verskil radikaal. Vir ons word dit deur DNA bepaal, vir ander kulture is 'n kind werklik as hy of sy erken word as kind deur die pa. Party mense leef in kulture waar interaksie met die lewende dooies 'n allerdaagse werklikheid is. Ek sou julle kon verveel met die feit dat indien Sjinese mense siek word van 'n siekte (byvoorbeeld longsiekte of spysvertering verwante siektes, of wat ookal) wat verband hou met die jaar waarin hulle gebore is, sterf hulle 3-5 jaar vroeër as Sjinese (of enige ander mense) met dieselfde siekte, maar wat in ander jare gebore is.

Alle mense is elke dag in interaksies met wat werklik en reëel vir hulle is op grond van wat hulle kulturele sisteem aanvaar. Ons leef almal in werklikhede wat nie objektief en nie noodwendig sigbaar, tasbaar of hoorbaar is nie, maar wat werklik is. Behalwe ons materiële wêreld leef ons almal in kultureel gekonstrueerde werklikhede.

Kom ons kyk na drie fasette van die bybelse leefwêreld wat vir hulle, maar nie noodwendig meer vir ons nie, werklik was.

1.1 Drie verdieping wêreldbeeld

Daar was 'n bo-middel en onder. Hulle voorstelling was die produk van wat hulle kon gesien het; dit was ook so met ons voorouers wat voor die 2e wêreldoorlog ook nie geweet het dat daar meer as een sterrestelsel is nie. Hierdie voorstelling het 'n hele konteks geskep waarbinne hulle goed soos demone, engele ens kon plaas; hierdie wêreld was dig bevolk met demone en engele oftewel, onvriendelike en vriendelike nie-menslike wesens wat mense se lewenslot bepaal het.

Hoekom sal ons vandag hierdie voorstelling van die kosmos nie meer aanvaar as objektief nie, maar nie die van die engele, demone of die duiwel nie?

1.2 Waar kom babas vandaan?

Julle sal vir my sê, selfs kinders weet dit vandag: elke baba bestaan uit 50% genetiese materiaal wat van die twee ouers ontvang. Tot voor die ontdekking van die mikroskoop in die 18e eeu, was die dominante teorie in die westerse wêreld dat mans saadbabas in vroue se baarmoeders plant waar hulle groei. Vir die eerste keer is toe besef dat vroue eierselle het. Dus, babas was gesien as is die afstammelinge van hulle vaders. Ons voorouers was verkeerd oor waar babas vandaan kom, maar dit het hulle nie gekeer om definitiewe houdings daaroor te ontwikkel nie. Onder andere om die rede is vroue gesien as ondergeskik aan mans beskou; manlike nasate is veel belangriker as vroulikes; die eersgeborene is belangriker as die ander kinders. Daar het dus 'n hele werklikheid gestalte gekry op grond van 'n verkeerde idee oor waar babas vandaan kom.

Terloops, in die bybelse verhale het hierdie siening verreikende implikasies vir vroue en dogters gehad. Ons lees so maklik “en hy het haar geneem en haar beken...”, of “hy het sy dogter gegee vir so en so en hy het haar beken”. Talle van die verhale sou in vandag se terme as verkragting gelees kan word. Maar dit is nie waarop ek wil fokus nie. Was hulle siening van die werklikheid objektief? Nee, maar dit was werklik of dit het 'n werklikheid gekonstitueer? Ja!

1.3 Duiwelbesetenheid

Daar kan min twyfel wees dat veral die Nuwe-Testamentiese mense vas oortuig was dat iemand deur 'n duiwel of demoon besete kon raak en dat so 'n wese deur 'n eksorsime uitgedryf, bestraf of beheer kon word nie.

Hierdie voorbeeld is anders as die vorige twee, want besetenheid is 'n algemene menslike potensiaal. Maw enige een van ons kan in die regte omstandighede of met behulp van van sekere middele, alternatiewe bewussynservaringe, waarvan besetenheid een is, ondervind. Die voorwaarde vir besetenheid is slegs 'n mens soos ek en jy wat blootgestel is aan 'n situasie waar die ervaring van besetenheid kan voorkom. Dit kan met enige een van ons gebeur omdat ons so gehardwire is.

Die voorwaarde vir duiwel besetenheid is 'n mens soos ek en jy wat blootgestel is aan 'n situasie waar die ervaring van besetenheid kan voorkom EN 'n konteks of kultuur wat beide die duiwel of demoon figuur (werklik of fiktief) en die verklaring van die verskynsel verskaf. Maw, 'n duiwel of demoon of watter gees ook al kan iemand net beset indien daardie entiteit reeds deel van die kulturele milieu is en die subjektiewe ervaring van besete wees, sodanig geïnterpreteer word.

Besetenheid is soos drome, visioene (byvoorbeeld visioene van Maria) en ervaringe van buite liggaamlike reise, deel van die kategorie van alternatiewe bewussynservaringe. Vir baie kulture verskaf dit 'n vorm van inligting en kennis oor die werklikheid. Een eienskap van besetenheid is dat mense in 'n spesifieke kultuur altyd deur wesens of entiteite besete raak wat bekend is aan daardie kultuur: hetsy demone of natuurgeeste of voorouergeeste.

Die ervaring van besetenheid deur 'n demoon of gees of watter entiteit ook al is geen objektiewe bewys dat die wesens bestaan nie. Hierdie wesens is kulturele inhoud wat verskillende kulture aan die verskynsel van besetenheid gee.

1.4 Ter opsomming

Al drie bogenoemde was vir bybelse mense werklik, want dit het hulle dag tot dag lewe grondliggend bepaal. Was dit objektief soos hulle gedink het? Ek dink nie so nie. Ons almal leef in wêrelde wat werklik is sonder dat ons kan beweer dat dit objektief daar is vir almal om te sien. Binne hulle wêreldbeeld en kulturele verwoording daarvan, was die duiwel op 'n sekere tyd sekerlik voorgestel as 'n persoon. Maar dieselfde geld die ander drie voorbeelde wat genoem is: dit was vir hulle werklik sonder dat ons hoef te aanvaar dat dit objektief is hoe dinge is of was.

2 Die uitbeelding van die duiwel is 'n kulturele uitbeelding wat ons nie meer hoef te deel of kan deel nie

Daar is drie interne argumente wat hierdie standpunt steun.

Eerstens, die talle name en beskrywings bevestig dat die duiwel geen objektiewe figuur was wat beskryf en omskryf is nie, maar eerder 'n aanduiding is van hulle worstelling om iets uit te druk van hul ervaring van die boosheid. Die Hebreeuse literatuur wat Qumran en pseudepigrafiese literatuur insluit, gebruik 'n verskeidenheid eiename en terme: Belial, Beliar, Duiwel, Satan, Semihaza, Mastema, Prins van duisternis om 'n paar te noem. Hierbenewens word omskrywings gebruik soos aanklaer, teenstaander of versoeker. Behalwe voorstellings as 'n wese word die duiwel ook voorgestel as 'n dier of as 'n gees.

Tweedens, die duiwel het 'n geskiedenis. Die Ou Testament self bevat baie min gegewens oor die duiwel. Op sy beste kan mens drie verwysings identifiseer. Daarteenoor bevat die buite bybelse tekste talle verwysings en beskrywings hiervan. Die interessante is dat dit meestal of dikwels dokumente van gemarginaliseerde groepe is waar die idee van 'n duiwel sterk figureer. Maw die idee van die duiwel het 'n geskiedenis dat dit 'n meganisme is om die groep teenoor die hoofstoom te regverdig. Daar is duidelike tekens dat die ontwikkeling van die idee verband hou met groepkonflik en dat die duiwel deel is van die strategieë hoe om met die ander, die opponente of die buitestaanders te handel. Die geskiedenis van die duiwel begrip kan baie goed met die strategieë hoe om met teenstaanders te handel, in verband gebring word, soos Elaine Pagels aangetoon het.

Derdens, spekulasies oor waar die duiwel vandaan kom in Israelitiese tekste bevestig dat dit deel was van inhouse fighting of pogings om die ander op hul plek te sit. Ten minste drie teorieë is bekend:

  • die duiwel en duiwels is die gevolg van die gebeure wat in Gen 6 beskryf word waar engele met vroue gemeenskap het (byvoorbeeld 1 Henog)
  • 'n ander groep stories baseer dit op Jes 14:12-14 waar sprake is van 'n hooggeplaasde engel wat nie ondergeskik wou wees nie en as gevolg van opstand uit die hemel gewerp is. Dit is die tradisie wat in 2 Petr 2:4 opgeneem word.
  • 'n derde groep stories blameer dit op onderlinge wedywering tussen verwante engele of hemelwesens. Maw, tipiese sibling rivalry of stryd onder erfgename.

Wat elkeen van hierdie drie aspekte beklemtoon, is dat hulle in hulle terme en tyd en aan die hand van hulle wêreldbeeld oor iets gepraat het wat hulle gepersonifieer het. Die bose was 'n wese wat in hulle wêreldbeeld ingepas het.

3 Ons moet 'n keuse maak teen selektiewe fundamentalisme en die gepaardgaande skrifgebruik

Die derde rede waarom ek nie die werklikheid van die duiwel as 'n wese vir vandag meer nuttig vind nie, is omdat daardie konstruksie gebou word op 'n fundamentalisties lees van die tekste. Of eerder 'n selektiewe fundamentalisme. Waarom sal mens hierdie uitbeelding as letterlik en objektief neem, maar nie dieselfde met die ander voorbeelde en vele ander voorbeelde nie?

Ek dink die kerk sit in 'n ernstige probleem van hoe om op 'n verantwoordelike manier met die bybelse tekste om te gaan. In wese is fundamentalisme 'n aandrang op die letterlike en historiese feitlikheid van die Bybel, maar dit word al meer en meer selektief toegepas. Dit geld nie meer van A, B en C nie. Fundamentalisme is soos rassisme, dit kan nie aangepas en hervorm word nie, dit kan slegs afgeskaf word. Ek dink die grootste uitdaging is om weg te kom om nog sulke enklawes soos die duiwel te probeer uitsonder en aan mense voor te hou as ononderhandelbaar, letterlik, werklikheid. Ons moet besef dat hierdie tekste in 'n ander kulturele werklikheid en wêreld as ons s'n ontstaan het en dat 'n verantwoordelike lees vandag nie meer fundamentalisme insluit nie.

Hierdie soort bybelgebruik kan slegs gehandhaaf word in 'n hiërargies gestruktureerde wêreld. Anders gestel, waar die dominee nog met gesag vir mense kan sê hoe dinge is en as hulle dit nie aanvaar nie, is hulle teen God gekant. Ek dink die tyd van daardie soort teologie is vir altyd verby. Die geslag wat in 'n multikulturele en multi-godsdientige wêreld grootword en wat in die inligtingseeu leef gaan nie meer val vir sulke uniekheidsaansprake nie. Die uitdaging is om met goeie argumente en inligting vir mense te help om die bybelse tekste te verstaan sodat ons almal saam dialogies daarmee kan omgaan. Persoonlik dink ek die enigste interpretasiemodel wat 'n kans staan op oorlewing, is een wat die bybelse tekste ernstig opneem as die verwoording van mense in 'n spesifieke kultuur en hulle beskou as gespreksgenote in ons soeke na teologiese sin. Die bybel is nie 'n handboek oor hoe die wêreld werk nie, nie oor die skepping nie, nie oor waar babas vandaan kom nie, en ook nie oor die bestaan van bonatuurlike wesens soos die duiwel nie.

4 Duiwel-spraak is nie die enigste of beste manier om oor die kwaad, die bose of onreg te praat nie

Daar is 'n vierde rede waarom ons, myns insiens, nie meer oor boosheid, kwaad en onreg as 'n wese of figuur buite ons behoort te praat nie. Dit is omdat daardie manier van praat en kyk na die probleem net te veel moontlikhede bied om menslike verantwoordelikheid te ontduik. “Dit was nie ek, nie maar die duiwel”, het Hansie gesê. Daardie soort taalgebruik verhinder ons om menlike verantwoordelikheid konsekwent raak te sien.

Dink aan die regering se program vir morele herbewapening. Die blote taal wat gebruik word van herbewapening veronderstel 'n soort vyand buite jou. Jy moet jou herbewapen want die vyand buite jou is, by wyse van spreke, van beter koëlvaste baadjies voorsien. Solank ons dink die bose of die kwaad lê buite onsself, kan ons vergeet om 'n morele of etiese verskil te maak. En duiwel-spraak is grootliks verantwoordelik dat ons nie van daardie denkwyse kan wegkom nie.

5 Hoe praat ons vandag verantwoordelik oor die kwaad, die bose en onreg?

Beteken dit nou as mens sê daar is nie meer so 'n figuur soos die duiwel nie, en so 'n figuur is nie meer 'n goeie opsie vir ons dag nie, dat jy niks oor kwaad en boosheid kan sê nie. Allesbehalwe. Loader was reg dat die kwaad en die bose is werklikhede — ook en veral in ons dag. Bybelse mense het dit veral uitgedruk deur middel van beelde van personifieering. Vir hulle was dit 'n wese of 'n figuur. Dit het miskien in hulle wêreldbeeld gepas en gewerk.

Ek dink ons wêreld het reeds ver gevorder om kwaad en boosheid te personaliseer, maw om te besef dat kwaad en boosheid in ons almal sit. Dit is deel van ons make-up en daarvoor het jy nie 'n duiwel figuur of demone nodig nie. Dalk kan ons vandag na kwaad en boosheid aan die hand van 3 konsentriese sirkels kyk.

Die eerste is reeds genoem, kwaad en boosheid is persoonlik en individueel. 'n Voorbeeld is mishandeling, verkragting of vermoring van 'n slaaf, ondergeskikte, kind, ens. Persoonlike geregtigheid vra behoort jy jou slaaf te slaan, verkrag en brutaliseer. Persoonlike kwaad en boosheid kan maklik verskuil dat ons wêreld ook geken word deur sistemiese kwaad en boosheid. En ook daarvoor is mense verantwoordelik.

Daarom, die tweede sirkel is struktureel en sistemies, byvoorbeeld 'n samelewing gebou op slaverny of onreg of rassisme, of geslagtelike diskriminasie. Persoonlike goedheid maak nie op vir sistemiese boosheid nie. Geen hoeveelheid almoese kan vergoed vir die publieke onreg van 'n bose sisteem nie.

Sistemiese geregtigheid vra, behoort daar slawerny te wees, kan die onderdrukking of ondergeskiktheid van vroue hoegenaamd geregverdig word? Ons geslag het geworstel met rassisme en dit het niks met die duiwel te doen nie. Dit was 'n vorm van sistemiese onreg of boosheid wat mense geskep het. Die kerk worstel met die vraag van homoseksuele mense en daarin sien mens die onderskeid waar persoonlike aanvaarding probeer vergoed vir sistemiese diskriminasie. Dit is nog 'n voorbeeld van sistemiese onreg wat, onder andere, spruit uit 'n onbeholpe manier om met verskeidenheid en diversiteit te handel.

Die derde sirkel is ekologies en kosmies. Hier moet ons byvoorbeeld vra wat is die koste van sekere soort ontwikkeling en vooruitgang en wie trek voordeel daaruit. Wat is die ekologiese prys vir sekere tegnologieë? Ons en ons kinders gaan nog ernstig worstel met ekologiese en bio-etiese vrae. Beide dinge wat niks met die duiwel te doen het nie, maar met menslike vermoeëns en verantwoordelikheid.

Ek dink ons het 'n veel sterker teologie van verantwoordelikheid nodig wat beide persoonlike, sistemiese en ekologiese kwaad en boosheid hanteer en strewe na 'n wêreld van geregtigheid en heelheid. Ek kan nie sien dat 'n duiweldiskoers van enige waarde kan wees om eties en moreel oor hierdie sake te praat nie.


Ons en ons Ekologiese Voetspoor

Fred Goede
8 Julie 2007

Die mensdom sit elke jaar 26 000 miljoen ton koolstofdioksied in die lug deur die gebruik van fossielbrandstowwe, wat andersins in die aarde vasgevang sou bly. Wat moet die mens doen om die moontlike klimaatimpakte te verminder, of beter nog, te vermy?

Die eerste vraag is wat klimaatsverandering met die NHN uit te waai het. Ons noem in ons waardes dat "...ons aanvaar verantwoordelikheid vir onsself, en teenoor ons medemens en ons natuurlike omgewing. Ons streef daarna om met morele integriteit op te tree...". En ons doelstellings sluit in "... om deur oop gesprek mense te ondersteun om vrede te hê met hulleself, akkommoderend met ander mense saam te leef, en verantwoordelik met hulle omgewing om te gaan" en "om gesprek met verskillende wetenskaplike dissiplines en kunsuitinge te inisieer...". Dit is dus duidelik dat ons waardes die natuurlike omgewing insluit en verklaar waarom ons hierdie onderwerp vandag bespreek.

Een benadering tot die debat oor klimaatsverandering is uit die oogpunt van volhoubare ontwikkeling soos gedefinieer deur die Brundlandt (1989) definisie: "…meeting the needs of the present without compromising the ability of future generations to meet their own needs“. 'n Gebalanseerde verhouding tussen omgewingsvolhoubaarheid, ekonomiese volhoubaarheid en sosiale volhoubaarheid is essensieel vir lang termyn volhoubaarheid, en die debat oor klimaatsverandering is een van die beste voorbeelde waar hierdie model tot die uiterste beproef word. 

Die afgelope jaar het klimaatsverandering hoofstroom geword by Jan en alleman en elke dissipline het begin deelneem. Ekonome soos Stern bereken dat aksie om klimaatsverandering stop te sit, die mensdom sowat 1% (vandag) en 5% (vertraagde respons) van die wereldekonomie (GDP) gaan kos. Politici soos Gore het aandag getrek met sy film wat al $50m verdien het, en dit nogal vir 'n dokumenter. Die Intergovernmental Panel on Climate Change (IPCC) se wetenskaplikes het ook toenemend konsensus dat die mensdom se invloed op die verhoogde konsentrasies van koolstofdioksied in die atmosfeer beduidend is. Die Kopenhagen konsensus, en die Millenium doelwitte wat uit die Wereldberaad van 2002 in Johannesburg gedefinieer is stem almal saam dat klimaatsverandering die grootste en duurste uitdaging is wat die wereld in die gesig staar, in vergelyking met talle ander uitdagings soos byvoorbeeld konflik, korrupsie, onderrig, oordraagbare siektes, migrasie, ondervoeding, sanitasie en water.

Die oorsake van klimaatsverandering word hoofsaaklik toegeskryf aan ses groenhuisgasse. Maar dit is veral koolstofdioksied, wat in die atmosfeer toegeneem het soos gemeet oor die afgelope 50 jaar, met 'n effek op wereld temperatuur wat al sowat 150 jaar gemeet word, en rekonstruksies van die afgelope eeue toon almal 'n ontstellende toenemende tendens. Die effek op klimaat is meer kompleks, maar toenemend wys die wegsmelt van gletsers en ander natuurverskynsels wat hier gebeur. Die emissies van kweekhuisgasse is ook afkomstig van bykans elke moontlike sektor van ons hedendaagse lewe, van die landbou, tot vervoer, kragopwekking tot huishoudings wat almal bydra tot die probleem; hierdie sektore verseker weer 'n hoe kwaliteit van lewe met sosiale en ekonomiese implikasies en gevolglik is daar nie net een skuldige party wat sake moet regstel en wat dan die probleem gaan laat verdwyn nie.

Projeksies toon dat ondanks die toename in gebruik van hernubare energiebronne soos wind, hidro of biomassa, of die toenemende gebruik van kernkrag (wat elkeen weer sy eie unieke probleme skep), die wereld vir eers steeds van olie, gas en steenkool gebruik gaan maak om die wereldekonomie aan die gang te hou, veral in ontwikkelende lande wat steeds probeer om die hoe lewensstandaarde van die Weste vir hulle inwoners te verseker. Die formule wat groenhuisgasemissies bepaal, gaan nou saam met ekonomiese welvaart, populasieaanwas en energieverbruik. Van hierdie drie bied die laasgenoemde deur middel van minder koolstofintensiewe energieverbruik, die enigste tegnologiese oplossing wat nie soveel met persoonlike keuses inmeng nie soos beperkings op ekonomiese welvaart of populasieaanwas nie. 

Dit bring ons terug by die definisie van volhoubare ontwikkeling en die kritiese balans van ekonomiese oorwegings soos welvaart en groei, sosiale oorwegings soos die reg op energie en vervoer, en die beperkte kapasiteit wat die omgewing het om emissies te absorbeer, by die mens se wil om iets te doen. Daar is natuurlik ook spanning tussen die 'have's' wat die impakte van klimaatsverandering relatief maklik kan absorbeer en die 'have not's', veral onderontwikkelende lande, wat die hardste geraak kan word wanneer klimaatsverandering grootskaalse impakte het.

Ter afsluiting, die rol van die NHN in die omgewingsdebatte soos klimaatsverandering het verdere bespreking nodig. Ons moet ongetwyfeld kennis neem van die klimaatsdebatte en kan ook as individue 'n rol speel om ons omgewingsvoetspoor verantwoordelik te bestuur en so klein as moontlik te hou. Maar of die NHN as organisasie uitgesproke wil raak oor die debat is te betwyfel. Die kritiese massa van NHN lede met genoegsame kennis oor die onderwerp van klimaatsverandering is moontlik te beperk om daar 'n sinvolle bydrae te lewer. 


Opsomming van ‘n praatjie van Timothy Freke in Pretoria

Abel Pienaar abelpienaar @ lantic.net 17 September 2006

Tim Freke het kom vra hoekom daar met soveel sekerheid gesê word dat Jesus ’n werklike historiese persoon was? En of dit nie net ’n “geskepte” Joodse weergawe van die reeds bekende “god-mens”- tradisie was nie. Want deur sy navorsing vir sy boek “The Jesus Misteries” het hy teveel soortgelyke parallelle met Jesus se verhaal gevind.

Wanneer ’n mens Jesus en die god Dionysus met mekaar vergelyk, is daar ’n hele paar interessante ooreenkomste. Dionysus se pa die god Zeus, het ’n verhouding aangeknoop met ’n aardse prinses Semele (maagd). Net soos met Jesus word Dionysus se goddelikheid bevestig deur die wonders en tekens wat hy doen. Sowel Jesus as Dionysus word met brood en wyn geassosieer. Dit (brood en wyn) het in die misteriekultusse ’n groot rol gespeel. Dionysus ondergaan ook soos Jesus ’n kruisiging. En wat nog meer interessant is, is dat die Dionysus mite gebaseer is op die godsdiens van Orfisme, wat reeds in die sesde eeu voor Christus bestaan het. In ’n amulet uit die derde eeu n.C. vind ons ’n uitbeelding van ’n man wat hang aan ’n kruis (insiggewend is dat die vroegste uitbeelding van Jesus aan die kruis eers uit die vyfde eeu n. C dateer). Dit lyk presies soos Jesus aan die kruis, eers met ’n nader kyk, sien jy dit is ’n uitbeelding van Dionysus. En volgens tradisie verskyn Dionysus na sy dood aan mense, net soos Jesus na sy kruisiging. In die geval van sowel Jesus as Dionysus kry ons die mite van ’n godheid wat deur mense verwerp is, wat dan weer sal terugkom om die ongelowiges te straf wat hom nie as god wou erken nie.

Die ooreenkomste tussen Jesus en Dionysus wys vir ons baie duidelik dat die Bybelse skrywers (in eerste eeu n.C.) geleen het by reeds bestaande mites. Wie glo ons nou? Net die Jesus verhaal of ook die ander verhale? En op grond van wat kies ons? En hier kies Timothy Freke om te sê dat hy voel dat daar nie ’n Historiese Jesus was nie en dat die rede hoekom ons vandag nog enigsins moet aandag gee aan die allegoriese vertelings van Jesus die Christus, is omdat daar sleutels opgesluit lê vir ons om die waarheid van ons eie Christus bewushein/goddelike essensie te ontdek, en soos self uit die dood (ego) op te staan en ewige lewe (ontdekking van eie onsterflikheid, goddelikheid en Een-wees met God) te ontdek. Hy verduidelik dit dan verder deur dit gelyk te stel met wakker word uit ’n droom...

Die byeenkoms is bygewoon deur meer as 200 mense. En dit op sig self wys dat daar reeds baie belangstelling is in nuut kyk en nuut verstaan...

PANENTEÏSME

Opsomming van Prof Julian Müller se gesprek op
1 Junie 2008

Prof Julian Müller

1. Ek arriveer by ‘n konsep soos panenteïsme vanuit die perspektiewe en interesse van die praktiese teologie:

a. Panenteïsme is ‘n begrip of taal wat probeer uitdrukking gee aan mense se beeld en ervaring van God en wêreld in ‘n postmoderne tyd.

b. Die ervaringe van mense pas al minder binne die teïstiese konsep en verstaan van God.

c. Delwin Brown se vier “plasings” van God, of Godsbeelde is hierin van waarde. Hy praat van God as:

• Bron

• Agent

• Geïnkarneerde

• Doel

d. Die hedendaagse mens het toenemend ongemak met God as Bron en as Agent en voel gemakliker met God as die geïnkarneerde en God as doel.

2. Panenteïsme is nie ‘n nuwe konsep nie, maar kom opnuut na vore as ‘n poging om beide God as transendente (Bron en Agent) en God as immanente (God as geïnkarneerde en doel) in een Godskonsep te verstaan en uit te druk. Dit bied ook ‘n sintese van die teïsme en die panteïsme.

3. Hierdie verskuiwinge veroorsaak eventueel ‘n ongemak in tradisionele spiritualiteit en daarom ook in liturgie en pastorale bediening. Ten minste die volgende terreine moet aangedui word as aspekte van spiritualiteit waar die ongemak manifesteer:

• Gebed. Veral gebed in krisistye en voorbidding. Hoe bid mens as God nie meer teïsties verstaan word nie, maar panenteïsties?

• Belydenis. Hoe moet mens nou nog dink oor die heilsgebeure. Die geboorte, kruisdood, opstanding en hemelvaart van Christus word alles beskryf in terme van ‘n dinamika tussen ‘n teïstiese God en die skepping/skepsele, teen die agtergrond van ‘n drielaag-wêreldbeeld. Hoe verwoord mens jou geloof as jy afstand doen van die teïsme en funksioneer met ‘n integrale wêreldbeeld? (Vgl byvoorbeeld Wilhelm Jordaan se “Credo” en Lina Spies se gedig “Geloofsbelydenis van ‘n afvallige”).

• Verhouding met ander godsdienste. Wat is die implikasie vir ons verstaan van die “uniekheid van Christus” en ons verhouding met ander godsdienste?

• Sending. Is daar nog ruimte vir sending? Indien wel, hoe moet dit aangepak word en wat is die motivering daarvoor?

• Liturgie. Wat is die liturgiese implikasies? Die manlike en persoonlike spreekwyse oor God binne ‘n liturgie wat sterk gestempel is deur ‘n Augustiniaanse erfsondeleer en Pauliniese versoeningskonsep, is waarskynlik gebore uit ‘n teïstiese verstaan. Vra die panenteïstiese verstaan moontlik vir ‘n meer vroulike en sakramentele benadering?


Panenteïsme Op Die Spektrum Van Gode En Godsbeelde

Pieter F Craffert
16 September 2007

1          ’n Spektrum en definisie van godsbeelde (in die Christendom)

Die spektrum van godsbeelde kan aan die hand van ’n aantal definisies verduidelik word:

  • Teïsme is die oortuiging dat daar ’n persoonlike god(e) is; god is ’n nie-menslike bonatuurlike wese.
  • Ateïsme is die ontkenning dat daar so ’n wese bestaan of alternatiewelik, bevestig die nie-bestaan van gode.

Om die prentjie meer kleur te gee, ’n hele aantal vorme van teïsme kan geïdentifiseer word:

  • deïsme: die oortuiging dat god/gode bestaan, maar nie met die werlikheid inmeng nie; dit staan buite die univers soos ’n horlosiemaker.
  • panteïsme: alles is god.[1]
  • politeïsme is die oortuiging dat daar meerdere gode bestaan.
  • monoteïsme (monolatrie) beteken in praktyk eintlik monolatrie, die aanbidding van slegs een god eerder as die aanvaarding dat slegs een god bestaan. Monoteïsme kom in twee vorme voor:
    • inklusiewe monoteïsme: alle godsdienste gaan in wese oor dieselfde god wat net onder verskillende name bekend staan;
    • eksklusiewe monoteïsme is die siening dat daar net een god is en dat alle ander óf nie bestaan nie óf slegs afgode is.

Die naaste familielid aan ateïsme is agnostisisme, ’n term wat sê dit is nie moontlik om te weet of nie te weet of daar so iets soos gode bestaan nie.

Daar is ’n ander reaksie op teïsme, naamlik, a-teïsme, geskryf met ’n koppelteken. Dit beteken nie-teïsties; god bestaan en is daar, maar is nie ’n persoonlike wese nie.

Die bekenste instansie hiervan is, panenteïsme. Panenteïsme beteken “alles is in god”; god is meer as alles (dus, god is transendent) en tog is alles in god (immanent); god is hier en is tog meer as alles (Borg 1997:32).[2]

Een van die bekendste beskrywings van die panenteïstiese god is die van Spong:

“Thus my definition of a non-theistic God is this: God is Being—the reality underlying everything that is... If God is the Ground of Being, you worship this divine reality by having the courage to be all that you can be—your deepest, fullest self... This God is not a supernatural entity who rides into time and space to rescue the distressed. This God is the source of life, the source of love, the Ground of Being. The theistic God of yesteryear is a symbol for the essence, the being of life in which we share. God is life, we say, and we worship this God by living fully (Spong 2001:72–73).

Daar is ook nog wat mens kan noem nie-realistiese teïsme, of nie-realistiese (non-realist) godsdiens waar die idee van god en godsdiens versmelt. God is dit wat in godsdiens gebeur, naamlik die uitdrukking van hoop of die hoogste menslike ideale. Die Sea of Faith van Don Cupitt en Lloyd Geering is die beste voorbeeld.

But the dominant philosophy of the Sea of Faith goes further than tracing the history of the self-evident. In non-realism it finds a position that denies the reality of the object that religion is focussed upon, be it God, an ancestral other world or realms variously populated with spirits, sprites and demons. As a result the words religion and God become effectively interchangeable; God, like religion is also a human creation (Greenfield 2007:2).

Wanneer mense die hoogste ideale soos hoop en liefde nastreef, is hulle volgens die nie-realistiese siening besig met godsdiens en noem hulle dit god. 

2          Sewe opmerkings/ kritiese vrae oor die definisies en die debat

In ’n poging om panenteïsme beter te verstaan, will ek oor hierdie spektrum en definisies ’n aantal kritiese vrae vra en/of enkele kritiese opmerkinge maak. Eerder as om panenteïsme bloot te propageer, wil ek eerder hierdie debat problematiseer.

2.1       Elke teïs is eintlik ’n ateïst oor alle ander persoonlike gode, haar/sy eie uitgesluit.

Laat ek begin by die standaard beskuldiging (van monoteïste) teen ateïsme. Mense wat nie in hul monoteïstiese god glo nie, word uitgekryt as ateïste. Dié kritiek is agter slegs ’n uitdrukking van ’n voorkeur en nie van ’n beginsel nie. Soos Dawkins dit gestel het:

“I have found it an amusing strategy, when asked whether I am an atheist, to point out that the questioner is also an atheist when considering Zeus, Apollo, Amon Ra, Mithras, Baal, Thor, Wotan, the Golden Calf, and the Flying Spaghetti Monster. I just go one god further” (Dawkins 2006:53).

Kritiek teen ateïsme is dus eintlik net ’n bevestiging twee belangrike aspekte:

  • die meeste mense wend in elk geval die kriterium van die “rede” en van “bewyse” aan om oor  of van (ander) gode te praat; die meeste monoteïste is in feite ateïste oor alle ander gode.
  • die aanspraak van die eie god as bo alle ander verhewe, berus soos alle ander godsdienste,  op ervaring en oorgelewerde geloof as basis of bewys.

2.2       Is agnostisisme nie maar net die ateïsme van diegene wat te bang is om te ontken dat daar so iets soos gode is nie?

Dawkins (sien 2006:51–53) verwys na die gelykenis wat Bertrant Russel gebruik het om die saak te verduidelik: daar is ’n teepot wat in ’n wentelbaan om die son beweeg maar is te klein om selfs met kragtige teleskope raak gesien te word. Die bestaan daarvan word in baie ou boeke getuig. Aangesien niemand kan bewys dat dit nie bestaan nie, beteken dit dat ons sal toegee dat ons eintlik net nie verseker weet of dit bestaan of nie bestaan nie. Dus, teepot agnostisisme of sal ons sê, nee dit bestaan waarskynlik nie: ateepotisme? Redelike denke sal ons waarskynlik daartoe bring om te sê daar is nie so iets nie (ateepotisme).

Op die spektrum van teïsme tot agnostisisme tot ateïsme speel bewyse ’n belangrike rol en word dikwels ingespan teen teïsme? Maar wat sal gebeur as dit teen die ander godsbeelde gebruik word?

2.3       Bogenoemde spektrum van godsbeelde is ’n moderne soeke daarna om godsdienstig te wees

Dit is belangrik om te besef dat byvoorbeeld Spong se uitdrukking van panenteïsme is sy antwoord op die soeke na ’n kontemporêre geloof en nie die gevolg van wetenskaplike studie van godsdiens in die algemeen of die Christendom in die besonder nie. Die wetenskaplike wêreldbeeld speel wel ’n rol hier, maar wat hier gebeur is nie die gevolg van wetenskaplike studie nie. Kom ek illustreer dit met ’n tabel:

 

Spong se alternatief op teïsme

• Hoe om godsdienstig/gelowig te wees

• wetenskaplike wêreldbeeld

• alternatiewe godsbeeld: panenteïsme

Wetenskaplike ondersoek

• Verstaan van godsdiens

• wetenskaplike studie

• kan geen wetenskaplike godsbeeld produseer nie

 

Die moderne wêreldbeeld laat dit vir sommige mense nie meer toe om op ’n teïstiese manier oor god te dink nie en op grond van die veranderde wêreldbeeld, kies hulle vir óf ateïsme óf a-teïsme (byvoorbeeld in die vorm van panenteïsme). Luister byvoorbeeld na Spong:

Yet I do not define God as a supernatural being. I do not believe in a deity who can help a nation win a war, intervene to cure a loved one’s sickness, allow a particular athletic team to defeat its opponents, or affect the weather for anyone’s benefit (Spong 2001:3).

Wat hierdie debat nie is nie, is ’n wetenskaplike ondersoek na die verskynsel godsdiens en spesifiek die Christelike godsdiens en op grond daarvan, is panenteïsme ontwikkel nie. Juis om hierdie redes kan en moet die aansprake wat oor en namens panenteïsme gemaak word, getoets word soos wat met teïsme gedoen word. (Ek sal netnou terugkeer na die vraag wat die wetenskaplike studie van godsdiens sou behels). My punt is dat panenteïsme is soos ateïsme ’n reaksie van iemand in ’n moderne wetenskaplike wêreldbeeld teen teïsme en nie die gevolg wetenskaplike studie van teïsme nie — en die twee is totaal verskillende goed.

Vervolgens wil ek twee van die aansprake wat deur panenteïsme gemaak word, ondersoek:

  • teïsme is bloot ’n menslike konstruksie
  • die teïstiese god bestaan nie regtig nie.

In die volgende drie opmerkings will ek hierdie twee aansprake toets.

2.4       Soos teïsme (en alle ander godsbeelde) berus panenteïsme op ervaringe en is die produkte van ’n sekere wêreldbeeld

Kyk net weer na byvoorbeeld Spong se beskrywing van ’n panenteïstiese god:

There is a reality we call God that is the source of the life we live, the power of the love we share, the Ground of Being that calls us to be all that we can be. I live today in the conviction that I am not separate from this God. I participate in that which is eternal, infinite, and beyond all boundaries. My being is expanded by this experience. Otherness confronts me. Trancendence calls me. God embraces me (Spong 2001:74).

Mens kan nie anders as om raak te sien nie dat dit maar net weer ’n uitdrukking is van ’n moderne, uitdyende kosmologie.

Voor-moderne wêreldbeeld

• drie verdieping kosmologie

• hïerargies:

• monargies

• manlik/patriargaal

Moderne wêreldbeeld

• moderne uitdyende kosmologie

• egalitaries

• demokraties

• geslagsloos/gender sensitief

Ek wil nog ’n uitspraak van Spong aanhaal waarin twee frases beklemtoon word: ’n god-werklikheid wat ervaar word. 

Immaturity does not disappear if we do not take hold of our lives and live them responsibly. God is not made real because we think it would be nice if it were so. God is real only if God is real. That is the God-reality which is now my experience... (Spong 2001:76).

Hoekom is ’n panenteïstiese god wat gebaseer op jou diepe ervaringe, teenwoordig en werklik, maar kan ’n teïstiese god, of voorouers of een of ander natuurgees wat ook ervaar kan word, nie teenwoordig of werklik nie? Anders gestel, hoekom is die ervaring van ’n panenteïstiese god as die grond van jou bestaan meer tuis in ’n moderne wêreld as ’n teïsties ervaarde bonatuurlike wese? Nie net is alle godsbeelde aan wêreldbeelde gekoppel nie, maar alle godsbeelde is ewe werklik juis omdat hulle gebou word op ervaringe. Mense glo wat hulle ervaar en ervaar wat hulle glo. Dit is omdat alle godsbeelde (teïsties, panenteïsties, geeste, voorouers, noem maar op) menslike intensionele opjekte is. Die ervaring van gode is werklik, maar dit beteken nie dat die gode wat ervaar word, noodwendig hoef te bestaan nie.

2.5       As teïsme bloot ’n menslike konstruksie is, dan seker ook panenteïsme? 

Een van die argumente teen teïsme is dat god bloot ’n menslike konstruksie is. Soos Spong dit verwoord:

God, understood theistically, is thus quite clearly a human construct. Please let this fact register. The theistic definition of God is a human creation” (Spong 2001:45).

Theism is a human description of God that has died. I seek to walk beyond the carnage of that description into a new sense of God—a God met not outside of life but at the very heart of life... When I stand in the presence of this God who inhabits the heart of life, I know just why I define myself as a joyful, passionate, convinced believer in the reality of God (Spong 2001:77).

Mens kan maklik uit hierdie aanhalings die indruk kry dat teïsme bloot ’n menslike skepping is. Die volgende stap is dan om te beweer, dat hy nie regtig bestaan nie: die teïstiese god is nie werklik nie. Maar waarom is ’n panenteïstiese god wat bloot op diepe ervaringe berus, dan ’n werklikheid?

Is alle godsbeelde nie maar net menslike konstruksies nie? Ek weet hierdie opmerking word gemaak in die konteks van teïsmes wat aanspraak maak op openbaring en ’n goddelike wese wat van buite af kom. Maar kom ons sê dan maar eerder dat alle godsbeelde is duidelik maar net menslike skeppings eerder as om die indruk te wek slegs die teïstiese god is ’n menslike skepping. Dit is dan dat ons kan begin vra na die karakter van die gode en godsbeelde eerder as om te insinueer, dat net hierdie of daardie een ’n menslike konstruksie is. 

2.6       Alle godsbeelde, ’n teïstiese en ’n panenteïstiese god, is ewe werklik

Daar is ’n duidelike hïerargie of ontwikkeling te bespeur in die godsbeelde hierbo genoem:

• teïsme

• god = persoon

• realisme

• panenteïsme

• god = Grond van Bestaan

• kritiese realisme

• nie-realistiese teïsme

• god = hoop/hoogste ideale

• nie-realisme

Dit is belangrik om te verstaan wat hier met kritiese realisme en nie/non-realisme bedoel word. Panenteïste sê nie dat god nie werklik is nie, god is werklik maar die idee van ’n bonatuurlike god-wese is nie werklik nie. In kort, slegs die teïstiese god is nie werklik nie. Mense wat in ’n wetenskaplike wêreldbeeld woon word dikwels in die kringe gesê, kan gewoon nie meer glo dat so ’n wese werklik is nie. Mense na Darwin en Einstein en noem maar op, kan nie meer in so ’n wese glo nie

Maar waarom kan die ervaring van die Grond van jou bestaan werklik wees maar jou ervaring van ’n persoonlike god nie? Kan die Grond van jou bestaan werklik wees omdat jy dit ervaar, maar iemand anders se ervaring van ’n persoonlike god kan nie werklik wees nie omdat jy nie kan dink dat daar so ’n god kan bestaan nie? Dus, ons moet bogenoemde voorstelling redigeer. Dit lyk eerder so:

• teïsme

• god = persoon

• realisme

• god is werklik: as bonatuurlike wese

• panenteïsme

• god = Grond van Bestaan

• kritiese realisme

• god is werklik: as grond van bestaan

• nie-realistiese teïsme

• god = hoop/hoogste ideale

• nie-realisme

• god is werklik: as hoop

Panenteïsme eis vir sigself ’n posisie op wat dit nie aan ander godsbeelde gun nie: ’n god wat werklik kan wees op grond van ervaringe. Daar is natuurlik ’n ander ironie in die panenteïstiese verwerping van teïsme. Binne die kringe is daar ’n openheid teenoor ander godsdienste en dikwels kry mens opmerkinge dat veel van ander godsdienstige tradisies geleer kan word. Maar die meeste ander godsdienste is ook teïsties (ten minste Judaïsme en Islam). Dit is klaarblyklik slegs die Christelike teïstiese god wat waardeloos is. As alle teïsmes eintlik maar ateïsties is (teenoor alle ander gode bahlawe die eie), is Christelike panenteïsme ook maar ateïsties teenoor teïsme (ander teïsmes uitgesluit?).

2.7       Sal panenteïsme die toetse wat vir teïsme aangelê word, slaag?

In die argumente teen ’n persoonlike bonatuurlike wese word dikwels gevra, of moet ek sê, smalend gevra, wat sê jy by die sterfbed van ’n kind oor hierdie bonatuurlike god. Waar was die god toe die tsunami of orkaan gewoed het? Maar kom ons pas dit dan toe op die panenteïstiese god en die nie-realistiese god/godsdiens? Waar was die Grond van ons bestaan toe die tsunami gewoed het of die kind se drankie gespike is?

2.8       Opsomming

Laat ek vinnig probeer opsom: ek het gesê dat panenteïsme een van die reaksies op die wetenskaplike wêreld se verwerping van ’n teïstiese, goddelike wese is en dat dit god sien as die grond van bestaan. God is werklik, maar is nie meer ’n wese nie. Ek het ook gesê dat dit lyk asof gode of godsbeelde almal ewe werklik is, omdat hulle die produk van bepaalde wêreldbeelde is en op ervaring berus wat binne die wêreldbeeld sin maak. Laastens het ek probeer aantoon dat hierdie strategie om te beweer ander godsbeelde is agterhaal, nutteloos, uitgedien of onwetenskaplik, het beperkinge. Jy kan alles vergeet wat ek gesê het, maar as dit jou kan help om die volgende te begryp, het ek iets reggekry:

            Mense dink nie hul god (alle gode) bestaan omdat hy/sy/dit bewys is nie.

            Mense dink die hele pakkie van hul godsdiens is werklik en daardie pakkie sluit in:

    • dat die god werklik is
    • dat die werklike god ervaar word.

Ek wil nou terugstaan en baie kortliks ’n heel ander perspektief gee op die denke oor hierdie pakkies wat gode en godsbeelde insluit, naamlik, ’n wetenskaplike perspektief.

3          Die wetenskaplike studie van gode en godsbeelde

Ek het reeds daarop gewys dat teïsme deur panenteïsme vervang is in die proses om beter sin te maak in ’n wetenskaplike wêreldbeeld en kosmologie. Maar panenteïsme self is hoegenaamd nie die produk van wetenskaplike navorsing nie. Die wetenskappe gaan op ’n heel ander manier met gode en godsbeelde om en gaan nooit ’n meer wetenskaplike of moderne godsbeeld na vore bring nie. Die rede is eenvoudig omdat die wetenskap ons help om die werklikheid, insluitende die religieuse werklikheid, beter te verstaan. Dit is ’n manier van kyk na die werklikhede, insluitende menslike werklikhede wat, onder andere, insluit werklkhede waarin mense oortuigings deel waar gode deel van die oortuigings en gevolglik, van menslike ervaringe is. ’n Wetenskaplike perspektief verklaar nie gode en godsbeelde weg nie, maar soek na verklarings van gode en godsbeelde as aspekte van die menslik ervaarde wêreld. In die beter verstaan daarvan is daar inderdaad ’n groot bydrae te maak tot meer menslike en aanvaarbare (humane) godsbeelde en godsdiens.

Wetenskap is ’n sistematiese, kontroleerbare en verifieerbare ondersoek van die werklikheid. Wetenskappe wat godsdiens bestudeer is legio en ek gaan net ’n paar voorbeelde noem. Die wetenskaplike studie van aspekte van die Christelike godsdiens omsluit baie fasette. Vanaf die wetenskaplike studie van die dokumente tot die wetenskaplik historiese studie van die geskiedenis daarvan. Maar ek wil nie hierna verwys nie. Ek wil wys op die wetenskaplike studie van godsdiens of van godsbeelde vanuit ’n paar ander wetenskappe.

Ek kan begin met die kognitiewe en neurowetenskappe wat na vele fasette van godsdienstige ervaringe kyk, hetsy ekstatiese of meditatiewe ervaringe. Ekstatiese ervaringe kan insluit spreek in tale, visioene, ervaringe van besetenheid deur ’n bose of vriendelike gees, buite liggaamlike ervaringe, ens. Meditatiewe en eenheidservaringe is nie ekstaties nie, maar vind eerder plaas in toestande van algehele ontspanning of ontlediging en sluit in ervaringe van eenwording met alles. Studies kyk na wat gebeur in mens se brein tydens godsdienstige ervaringe soos meditasie, visioene en ander alternatiewe bewussyns ervaringe.

Vanuit hierdie soort studies word daar ook op ’n heel ander manier gekyk na die werklikheid van godsdiens. Alle gode en godsdienstige objekte kan gesien word as menslike intensionele objekte. Saam met Dennet (sien 2006:210–216) argumenteer ek dat gode intensionele werklikhede is wat bestaan op grond van menslike konvensies en instellings. Saam met al die dinge wat deur taal en kultuur geskep kan word wat mense se lewens rig, bepaal en as werklik ervaar word, is gode so ’n werklikheid. Dit is die goed wat werklik is en werklikheidebepalend is en hulle kan nie vernietig word deur slegs empiries te probeer bewys hulle bestaan nie regtig nie. Hulle kan net uit diens gestel word wanneer ’n kultuur dit nie meer bruikbaar of aanvaarbaar vind nie.

Godsdienstige ervaringe is inderdaad werklik omdat hulle ingeskryf is in ’n sirkel van betekenis waar oortuiginge in stand gehou word deur ervaringe en ervaringe geïnformeer word deur oortuiginge. Elkeen van die ervaringe as kultureel ingeklede ervaringe is eg menslik, heel natuurlik en baie werklik vir mense wat in die betrokke kultuur en godsdiens gesosialiseer is.

Daar is oorgenoeg studies wat vir ons aantoon hoedat godsdiens, godsdienstige rituele, godsdienstige genesings en godsdienstige ervaringe heeltemal verstaanbaar is in terme van ons evulusionêre ontwikkeling, biologiese en neurologiese komposisie (sien byvoorbeeld Boyer 2001). Maw, die meeste van die dinge is verstaanbaar as die gevolg van die soort evolusie, liggaam en breine wat ons het. 

“As long as our brains are arranged the way they are, as long as our minds are capable of sensing this deeper reality, spirituality will continue to shape the human experience, and God, however we define that majestic, mysterious copncept, will not go away” Newberg, d’Aquili and Rause 2001:172.

Nie net ’n persoonlike bonatuurlike god nie, maar ook ’n panenteïstiese of elkeen van die honderde ander bonatuurlike wesens wat in die tientalle godsdienstige tradisies voorkom, kan aan die hand van ’n sogenaamde moderne wetenskaplike wêreldbeeld tot niet verklaar word. Maar die wetenskappe doen juis nie dit nie, maar verklaar en verstaan elkeen van hierdie as sosiale, kulturele en psigologiese werklikhede.

Die laaste vraag is dan: Watse bydra lewer so ’n verstaan van godsbeelde? Meer presies, Wat help dit in die vraag om panenteïsme as alternatief tot teïsme beter te situeer?

4          You will know them by their fruits not their roots: wat is die karakter van jou god(delike)?

Ek dink hierdie wetenskaplike ondersoek of perspektief het vir ten minste twee groepe mense iets te sê.

4.1       Ek wil by diegene begin wat buite enige godsdienstige tradisie staan of krities is oor godsdiens as sodanig. Ek dink dit word al moeiliker om soos Richard Dawkins (2006) en Sam Harris (2004) alle godsdiens as irrasioneel af te maak. Die komplekse aard van godsdiens as werklikheid skeppende en werklikheidservaarde realiteite kan gewoon nie meer deur sogenaamde wetenskaplike analise vernietig word nie.

Net so min as wat jy die kulturele waarde wat aan goud as edelmetaal geheg word kan vernietig deur chemiese analise, net so min kan jy met wetenskaplike argumente die kulturele werklikhede wat deur godsdiens in stand gehou word deur wetenskaplike analises vernietig. Maar deur ’n kulturele waardeverandering kan mens goud se status onmiddelik vernietig (byvoorbeeld, hipoteties indien ontdek sou word dat die dra van goud veroudering bevorder sou die kulturele status daarvan as edelmetaal onmiddelik vedwyn).

Maar die belangrike saak wat Dawkins en Harris ook aanspreek, naamlik, die effek en impak van godsdienstige oortuigings op ons wêreld, is van die uiterste belang vir elkeen mens, gelowige of nie. Ons kan nie anders as om uiters krities te wees teenoor godsdientige idees wat sigself aanbied as verklarings van en vir die natuurlike en menslike werklikhede nie. Godsdienste, indien hulle met respek wil voortgaan, sal hierdie les moet leer. En ons kan dit nie genoeg kere sê nie.

Tegelyk, in die lig van die werklikheidsvormende krag van gode en godsdiens kan ons ook nie meer vlieë vang oor watter god is nou eintlik werklik en watter nie. Ons moet ons deurlopend besig hou met die vraag na die karakter van gode of godhede. In ’n wêreld waar godsienstige taal in staat is om ons tot op die rand van wêreldvernietiging te bring, moet een van die deurlopende vrae wees na die moraliteit van verskillende godsbeelde.

4.2       As mens op soek is na ’n alternatiewe godsbeeld is of wil deelneem aan aan sinvolle godsdienstige aktiwiteite, is hierdie perspektief ook nie sonder waarde nie.

Eerstens kan en gaan dit nie bevestig dat panenteïsme beter as teïsme is nie. Beide is menslike skeppinge wat uitdrukking vind binne sekere wêreldbeelde en nou daaraan gekoppel is. Ek self twyfel nie dat dit veel meer sin maak om in ’n moderne wêreld ’n teïstiese met ’n panenteïstiese te vervang nie. Maar die keuse volg nie noodwendig nie.

Tweedens, die blote toeeiening van ’n godsbeeld of godsdienstigheid hoef nie verwerp te word net omdat die wêreldbeeld verander het nie. Wetenskaplike studie het nie bewys dat gode nie bestaan nie. 

If we are right, if religions and the literal gods they define are in fact interpretations of transcendent experience, then all interpretations of God are rooted, ultimately, in the same experience of transcendent reality. This hold true whether this ultimate reality actually exists, or is only a neurological percpetion generated by an unusual brain state. All religions, therefore, are kin. None of them can exclusively own the realist reality, but all of them, at their best, steer the heart and the mind in the right direction (Newberg, d’Aquili and Rause 2001:165)

Maar ook diegene wat aktief godsdienstig is en wil wees, kan nie langer ontkom aan die vraag: wat is die karakter van jou god en dra die geloof en ervaringe by tot ’n beter of slegter samelewing.

Bronverwysings

Borg, M. J. 1997. The God we never knew: Beyond dogmatic religion to a more authentic contemporary faith. San Francisco: HarperSanFrancisco.

Boyer, P. 2001. Religion explained: The evolutionary origins of religious thought. New York: Basic Books.

Dawkins, R. 2006. The God delusion. London/Toronto/Sydney/Auckland/Johannesburg: Bantam.

Dennett, D. C. 2006. Breaking the spell: Religion as a natural phenomenon. New York: Viking Penguin.

Harris, S. 2004. The end of faith: Religion, terror, and the future of reason. London: Free Press.

Newberg, A., E. d’Aquili, and V. Rause. 2001. Why God won’t go away: Brain science and the biology of belief. New York: Ballantine.

Spong, J. S. 1998. Why Christianity must change or die: A bishop speaks to believers in exile. San Francisco: HarperSanFrancisco.

------. 2001. A new Christianity for a new world: Why traditional faith is dying and how a new faith is being born. San Francisco: HarperSanFrancisco.



[1] Pantheism is “the assertion that God is nothing but the sum of all that is” (Spong 1998:62).

[2] Panenteism is “the assertion that God is in, but not necessarily the sum of, all things” (Spong 1998:62). Spong (sien 2001:64) verwerp teïsme, panteïsme en ateïsme ten gunste van panenteïsme.


Post-Moderne Spiritualiteit en Lyding

deur Hansie Wolmarans 8 Oktober 2006
 

1. Inleiding

Mens sou die hantering van lyding met ’n eenvoudig formule kon weergee: G + R = U (G = Gebeure wat die lyding veroorsaak soos siekte, verlies in een of ander vorm: egskei­ding, dood van ’n kind, misdaad; R = ons persoonlike en gemeenskaplike Reak­sie daarop; U = die Uitkoms wat kan wees hoop of wanhoop, pessimisme of optimis­me, blydskap of hartseer).

Ek sal hier aantoon dat in die pre-moderne periode lyding veral hanteer is met ver­wysing na ’n ander dimensie waar God is. Binne ’n modernistiese raamwerk het natuurwette ’n groot rol gespeel. Post-moderne denkers verwys veral na gesprek om sinergie teen lyding te monster.

 Baie mense het ’n redelike negatiewe siening van die lewe. Hulle is net gelukkig as hulle ongelukkig is. Toe ek in die weermag was, was daar ’n korporaal wat ons elke oggend wakker gemaak het met ’n tipiese diensplig-rympie: “Word wakker, word wakker, Gister was erg, vandag is nog erger.” Natuurlik het hy ander woorde as “erg” en “er­ger” gebruik. Die feit dat julle lag wys dat ’n goeie begrip nog steeds net ’n halwe woord nodig het! Hierdie voorbeeld, meen ek, toon, dat lyding, ’n negatiewe siening van die lewe, waarskynlik die normale is.

 Gewoonlik het ons min beheer oor G, die Gebeure, die lyding wat oor ons kom. In my praatjie gaan dit veral oor R, ons Reaksie daarop, want hieroor het ons tot ’n groot mate beheer en dit kan ’n positiewe uitkoms tot gevolg hê. Die drie diskoerse wat aan die orde kom, Pre-Modernisme, Modernisme en Post-Modernisme, ontwikkel elk ’n tipiese spiritualiteit om lyding te hanteer, en berus ook op ’n tipiese wêreldbeeld.

 Ons wêreldbeeld het te doen met die wyse waarop ons onself en ons omgewing voor­stel. Spiritualiteit het te doen met die manier waarop ons sin en betekenis gee aan ons lewens. Dit verskaf ’n antwoord op die vrae: “Wie is ek? Waar kom ek vandaan? Waarom is ek hier? Waarheen is ek op pad?” Hierdie vrae is tipies-menslike vrae. Volgens alle aanduidings is dit nie vrae wat diere en plante vra nie. Diere lewe vol­gens instink, die id. Diere rou nie oor die dood nie; diere problematiseer nie die le­wensiklus nie. Toe menslike selfbewussyn ontstaan het, toe, volgens Freud die id by die ego gevoeg is, en ’n proses begin is wat uiteindelik die superego produseer het, het lyding problematies geword. Homo Sapiens egter het tussen 100,000-50,000 jaar gelede taligheid ontwikkel en simbole begin gebruik om te kommunikeer. Volgens die teoloog, Paul Tillich, het dit die skok van die moontlikheid om nie te bestaan nie, tot gevolg gehad. Freud noem dit die trauma van selfbewussyn.

 Mense het dus bewus geraak dat hulle teenoor iets anders staan: teenoor hulleself, teenoor ander mense, teenoor die omgewing. Die term angst word gebruik om die emosie wat met selfbewussyn gepaard gaan uit te druk. Ons almal ervaar dit omdat ons verstaan hoe broos ons is, hoe nietig in hierdie groot wêreld, hoe onveilig, hoe sterflik, hoe magteloos, en hoe eensaam. Filosowe noem hierdie bewussyn nihilisme.

 Vanuit ’n evolusionêre perspektief is nihilisme nie bevorderlik vir oorlewing nie. Om te wil oorlewe het die menslike spesie ’n behoefte aan sinvolheid, permanensie en sta­biliteit. Nihilisme, ’n besef van sinneloosheid, verganklikheid en doelloosheid onder­myn die wil om te lewe, en kan selfvernietigende gedrag tot gevolg hê.

 Om hierdie nihilisme te besweer is daar in die pre-moderne era ’n bepaalde reaksie teenoor die wisselvallighede en lyding, inherent aan die menslike bestaan, ontwikkel. Dis moeilik vir ons om primitiewe mense se lyding voor te stel. Van die oudste homi­niede skelette is so oud soos 4 miljoen jaar. Een daarvan is van ’n kind, ongeveer elf jaar oud. Mense het nie lank geleef nie. Kindersterftes was hoog. Volwassenes het moeilik ouer as dertig jaar geword. Die dood van kinders of ouers het genetiese trauma veroorsaak, asook verlies aan sekuriteit. Natuurrampe het katastrofiese lyding tot gevolg gehad soos verhongering en blootstelling aan die elemente.

 

2. Die Hantering van Lyding in die Pre-Moderne Era

Plato se filosofie, meen ek, is die kulminering van die wyse waarop pre-moderne mense hulle wêreld ervaar het. Wat my betref is die Christendom bloot ’n populêre vorm van Platonisme. Die vernaamste kenmerk van Plato se denke is dualisme, ’n op­vatting dat daar ’n sigbare en ’n onsigbare wêreld is, en dat die sigbare wêreld vanuit die onsigbare verklaar word. Volgens hierdie tipe denke word menslike lyding deur kragte in die onsigbare wêreld veroorsaak.

 Vandag leef hierdie wêreldsiening steeds in ons taal voort, bv. “Ek weet nie wat in my ingevaar het nie” sê ’n man wat by ’n buite-egtelike verhouding betrokke geraak het. “Die duiwel is alweer los” sê ’n ma wie se kinders aan die baklei gaan. “Hy het soos ’n bestene teruggeveg” sê ’n sportkommentator to Nadal amper vir Federer in die Wimbledon finaal gewen het.

 In die Christendom is alle bo-natuurlike magte gereduseer na ’n persoonlike God wat almagtig is, alwetend, alomteenwoordig, goed, transendent, ewig en aan die kant is van ’n bepaalde groep. Hierdie siening van God staan as teïsme bekend. God is le­wendig, gesond en in beheer. Hy openbaar homself aan tussengangers. Die meester-narratief is dat ons geskape is, in sonde verval het, deur ’n proses van lyding voorberei word vir die ewige lewe, sterf, en opstaan na ’n nuwe bestaansvorm. Die soort denke wat gebruik word om lyding te hanteer, is deduksie. Paslike optrede teenoor lyding word deduktief afgelei uit die geopenbaarde Woord van God. Die skema hieronder is ’n voorstelling van die deduktiewe denkproses.

 Figuur 1: Deduksie

Gepaardgaande hiermee was daar ’n Paradigma van Beheer-en-Beveel: Gesag kom van bó af, en mense moet ónkrities gehoorsaam wees. Jy mag nie vir jouself dink nie. (Die Weermag is natuurlik bekend vir hierdie paradigma. Eenkeer het ek ’n opdrag van die Sersant Majoor gekry om uit te voer. Dit moes in ongeveer tien stappe plaas­vind en sou my sou so vyf ure neem om te voltooi. Toe hy weg is, het ek dit na drie stappe gereduseer en sou dit binne ’n uur kon voltooi. Voordat ek klaar is, kom hy terug en vra my wat ek besig is om aan te vang. “S’majoor, ek het gedink …” “Jy is nie hier om te dink nie” het hy gebulder. “Jy is hier om bevele uit te voer!” Dit is hoe die Paradigma van Beheer-en-Beveel werk. )

Jakobus 1:9-11 is ’n goeie voorbeeld van hoedat lyding in die pre-moderne tyd han­teer is. Dit begin met ’n bevel, “Wees bly as jy ly!” Die wyse waarop hierdie paradoks lyf gegee is, is deur middel van ’n Skeppingsmite. Die mens bestaan uit ’n liggaam (aards en boos) en ’n siel (hemels en goed). Lyding is God se “tough love” om van jou ’n beter mens te maak, sodat jy eendag hemel toe kan gaan. Dit word met ’n me­tallurgiese metafoor verduidelik. Ystererts is ’n mengsel van suiwerhede en onsuiwer­hede. Dit word gehammer, fyngestamp en tot helse temperature verhit; dit ondergaan lyding. Die eindresultaat is nie vernietiging nie, maar ’n meer duursame en perma­nente metaal, naamlik yster. Hoe meer dit geslaan, verhit en afgekoel word, hoe sterker word dit. Net so word die siel deur lyding verfyn tot volmaaktheid.

Agrariese prosesse, soos wynmaak, is ook gebruik om oor lyding te praat. Wynkorrels word stukkend getrap, dit verrot, en die resultaat is ’n nuwe produk, naamlik wyn wat meer duursaam is as die vorige. Net só is die aardse lewe ’n proses van aftakeling en vertrapping sodat die mens tot ’n nuwe bestaanswyse kan oorgaan wat ewig is. Jere­mia 12:5 hanteer ’n oorlogsmetafoor: “As voetsoldate jou moeg hardloop, hoe sal jy teen perde kan hardloop? En as jy net in ’n vreedsame land veilig voel, hoe sal jy maak in die digte bos aan die Jordaan?” Lyding is God se “tough love”. Dit is nooit bo-menslik nie. Jesus het aan die kruis gely sodat ons nooit bo ons kragte beproef sal word nie.

Lyding is ook gesien as God se “tugmeester.” God straf jou om jou op die regte pad te bring. Toe ek lank terug aan ’n gemeente verbonde was, het ’n ouderling gereeld by my gekla oor ’n gesin wat nooit hulle voete in die kerk gesit het nie. Een Sondagog­gend is die hele gesin toe daar. By navraag sê hy, die man was in ’n motorongeluk. Toe gaan besoek hy hulle en sê, “Dis omdat julle nie kerk toe kom nie!” In ons taal, dink ek, noem ons hierdie siening “Die blinde sambok!” In die spesifieke gesin het dit nie lank gehou nie! Binne die Nuwe Testament is daar talle voorbeelde dat lyding verklaar is as God se straf op sonde. Deur die sonde te bely, kon die resultaat daarvan verdwyn.

“Godsdiens” het dus ontstaan as ’n manier om lyding te hanteer. God kon op verskil­lende maniere aangeroep word: deur rituele (offers), of gebede (om ingryping), of lof­sange, of God se tussengangers wat jou met olie salf (Jakobus 5:13), ensomeer.

Die voordele van die pre-moderne hantering van lyding is duidelik. Mense het lyding aanvaar, mekaar ondersteun, en die oorlewing van die spesies moontlik gemaak. Godsdiens funksioneer as “opium vir die gees” wat die lewe vir mense draaglik maak want daar is ’n “Pie in the sky when you die.”

Ongelukkig was daar ook verskeie nadele. Die eerste is dat kreatiewe denke gewelda­dig onderdruk is. Op hierdie wyse is die werklike immanente oorsake van lyding nie aangespreek nie. Dit is nie toevallig dat die Donker Eeue gevolg het nadat die Chris­tendom die amptelike kultus van die Romeinse Ryk geword het nie. Godsdiens self het ook baie lyding veroorsaak.

Die argument teen die pre-moderne wyse om met lyding te werk, is alreeds in die vierde eeu v.C. deur die Griekse filosoof, Epicurus, gewen met wat as die “Epikurese Paradoks” bekend staan: “As God alwetend is, almagtig en goed, waarom ly mense?” Hy het daaruit afgelei dat só ’n God nie bestaan nie, anders sou ons ’n beter wêreld gehad het. Jode se ervaring van die Nazi’s in die Tweede Wêreldoorlog het Richard Rubenstein, ’n ateïstiese Joodse teoloog laat skryf: “I am compelled to say that we live in the time of the ‘death of God.’ . . . The thread uniting God and man . . . has been broken. We stand in a cold, silent, unfeeling cosmos, unaided by any purposeful power beyond our own resources. After Auschwitz, what else can a Jew say about God?”

In moderne musiek is daar ook ’n reaksie teen die onderdrukking van kreatiwiteit wat inherent aan die Beheer-en-Beveel Paradigma is. Harry Chapin het in 1978 ’n liedjie geskryf oor kinders en verlore onskuld. Hy noem dit “Flowers are red.” Dit gaan oor ’n seuntjie wat vir die eerste keer skooltoe gaan. Hy kry vetkryte in die hande, en be­gin blomme teken. Omdat die wêreld kleurvol is, gebruik hy elke kleur vetkryt. Maar sy onderwyseres sê: “Dis verkeerd”:

“Flowers are red young man, green leaves are green.
There’s no need to see flowers any other way
Than the way they always have been seen.”

Streng het sy hom verbied, maar hy het aangehou om die kleure van die oggendson en die reënboog te gebruik. Uit woede laat sy juffrou hom in die hoek staan, wat hom baie bang en eensaam laat voel. Iets in hom het gebreek en uiteindelik sê hy vir die juffrou:

“Flowers are red, green leaves are green.
There’s no need to see flowers any other way
Than the way they always have been seen.”

Toe die seuntjie en sy ouers verhuis, gaan hy na ’n nuwe skool. Hier glo sy nuwe juf­frou dat teken pret moet wees en moedig hom aan om soveel kleure as moontlik te gebruik. Die liedjie eindig met die hartseer woorde:

“But that little boy painted flowers
in neat rows of green and red.
And when the teacher asked him why
this is what he said... and he said
Flowers are red, green leaves are green
There’s no need to see flowers any other way
Than the way they always have been seen.”

3. Die Hantering van Lyding in die Moderne Periode

Die filosowe René Descartes en Bertrand Russell is goeie verteenwoordigers van die moderne periode. Vir hulle word kennis nie geopenbaar nie, maar verkry; en wel deur deur die sintuie en rasionele argumentasie (empirisisme). Volgens hulle kom die mens in die wêreld met ’n tabula rasa, as ’n leë skryftablet, en deur middel van ons sintuie ontwikkel ons in ons koppe ’n afbeelding van die wêreld. Descartes noem dit ’n sen­sorium, ’n soort innerlike bioskoop, van hoe die werklikheid is. Die siening van God is nie Teïsties nie, maar Deïsties. God is die krag of mag wat alles in beweging gesit het, soos ’n horlosiemaker wat ’n horlosie maak en opwen, en nou loop alles af vol­gens bepaalde wetmatighede. Dit is dus ’n beperkte dualisme. God is nie bó nie, maar buite die kosmos, in ’n ander dimensie as jy wil. God openbaar homself in sy skep­ping (natuurteologie). Die tipiese manier van denke is induktief soos in die figuur hieronder aangedui:

Figuur 2: Induktiewe Denke

Jy begin nie met algemene waarhede wat jy byvoorbeeld uit die Bybel aflei nie, maar jy analiseer die feite van elke situasie. Die paradigma is nog steeds dié van beheer-en-beveel, maar nou van onder-af: Kundiges en tegnokrate sal ’n beter wêreld skep.

Ook hierdie wêreldbeeld het in ons algemene taalgebruik inslag gevind. As jong mense verlief raak, sê ons “daar is elektrisiteit tussen hulle”. My seun antwoord, toe ek hom vra hoekom hy my rekenaar se harde skyf uitgevee het, “Pa, al wat ek kan dink: dis swak genetiese materiaal!”

Volgens Russell het lyding natuurlike oorsake. Dit is veral ekonomies van aard, om­dat mense veg vir beperkte hulpbronne. Beleidsrigtings soos geboortebeperking, on­derwys vir almal, en die aborsie van abnormale fetusse sal lyding minimaliseer. In die teologie ontstaan daar sienings dat God nie ingryp nie. Hy is by prosesse betrokke, aangesien hy die wetmatighede van hierdie prosesse vasgelê het (prosesteologie). Die funksie van Godsdiens is nou om betrokke te raak by God se plan of bloudruk vir hierdie wêreld. “Gebed verander nie God nie, maar die persoon wat bid” sê Kierke­gaard. Binne hierdie raamwerk preek dominees dan só oor gebed: “As jy bid, bid asof alles van God afhang. As jy opstaan, doen, asof alles van jouself afhang.” Talle boeke is geskryf met temas soos, “Ontdek God se plan vir jou lewe!” Dus: Gesondheid, voorspoed en rykdom is joune, as jy volgens die ingeskape wetmatighede lewe.

Hierdie teologie word goed geïllustreer deur ’n insident tydens die Tweede Wêreld­oorlog toe ’n jong seun deur die Nazi’s by ’n konsentrasiekamp opgehang word. Ter­wyl hy besig is om te sterf, vra een van die omstanders, “Waar is God nou?” Waarop iemand antwoord, “Hy hang daar saam met hom.” God ly dus saam met ons, maar meng nie in met historiese en natuurprosesse nie wat redelik wetmatig verloop.

En die manier om die Bybel te lees, moet aan kundiges oorgelaat word. Strukturele benaderings help kundiges om die “boodskap” van God af te lei, wat universeel is. Menslike elemente word hierdeur omseil. Die Bybel is dus ’n kombinasie van inspira­sie en menslike kreatiwiteit. Objektiwiteit is die wagwoord.

Niemand sal seker die voordele wat modernisme vir ons almal gebring het, die gewel­dige tegnologiese vooruitgang, ontken nie. Ons pluk elke dag die vrugte daarvan. Ons leef langer, en ons lewenskwaliteit is waarskynlik beter as wat ons ouers s’n was. En tog ly ons steeds, en ervaar ons dat lyding nie met eenvoudige maatreëls uit die weg geruim kan word nie. Lyding is té eenvoudig na wetmatighede gereduseer. Ons wil nie meer hoor van “jam” gister en “jam” môre nie, maar “jam” vandag.

 4. Lyding in die Post-Moderne Periode

Volgens Spong is daar sterk aanduidings dat die pre-moderne en moderne maniere om lyding te hanteer, uitgedien is. Die tradisionele “God as opium vir die gees” werk nie meer nie. Ons soek na ander alternatiewe. So drink ons tee of koffie (sommiges sê hulle kan nie die dag daarsonder begin nie) met die opkikkermiddel kaffeïene daarin, wat ook in Coke en Pepsi en ander koeldrank gebruik word. Dan is daar ook die ge­bruik van alkohol wat ’n integrale deel van ons lewe geword het om te ontspan—in ’n restourant, na werk, selfs in ’n vliegtuig. Ook die gebruik van nikotien is besig om toe te neem, ondanks pogings om dit te beperk. Dit verskaf mense die geborgenheid wat hulle as babas ervaar het. (Die grootte van ’n sigaret is dieselfde as die tepel van die moederbors. Die aksie om die rook in te trek is dieselfde as ’n baba se suigaksie om melk te kry. Selfs die temperatuur van die rook is soortgelyk as dié van moeders­melk.) Baie mense vind dit nodig om met so ’n “nikotien-fopspeen” deur die lewe te gaan. Intussen het anti-depressante wêreldwyd ’n multi-biljoen Dollar industrie ge­word—Prozac, Librium en Vallium is vandag huishoudelike name. Voeg daarby die toename in selfmoord—in Suid-Afrika, ná kersfees, het ons die sogenaamde self­moordseisoen so Januarie tot Maart—en die toename in sinnelose geweld. Dit alles dui vir Spong daarop dat die tradisionele God as opium vir die gees nie meer werk om lyding te verdoof nie.

Die profete van die Post-moderne periode is Kierkegaard, Nietzche en Immanuel Kant. Kant het aangedui dat die wêreld ons eie skepping is. Met ons woorde, ons be­grippe, en ons metafore, gee ons struktuur en sin aan ons wêreld. (In die Ou Testament word dit met die similee van die Pottebakker uitgedruk; maar nou is ons self die pot­tebakkers, die kunstenaars, nie God nie.) Die basiese wêreldsiening is nihilisme. Dit is vir ons om daaraan te ontsnap.

Dit is taal en simbolisering wat ons anders maak as die diere. Johannes 1:1,14, die bekende proloog van die Johannesevangelie kan nuut gelees word as: “In die begin was daar gesprek en die gesprek was God en in die volheid van die tyd het gesprek ons vlees ingekom.” Vryheid van spraak in al sy vorme is dus die hoogste goed, en dit moet lei tot konsensusvorming.

Alle dualisme word nou laat vaar. Die heelal het nie meer ’n binne- en ’n buitekant nie. Die meesternarratief is nou evolusie en die Oerknal, gegrond op Darwin, Einstein en Hawkins. As gevolg van hierdie siening word die teïstiese God deur Nietzche as dood verklaar. Teoloë soos Cupitt begin praat van ’n religielose religie. Godsdiens word nou vervang met die woord spiritualiteit. Volgens Spong is God nie êrens buite nie, maar immanent. God is in alles, en alles is in God. God is, soos alle simbole, ’n menslike konstruk. Ons kan slegs vra en redeneer of dit sin het om nog steeds God as ’n konsep te gebruik. Gebed se sin word al hoe meer beperk (want daar is nie iemand wat luister nie). Meditasie as ’n luister- en bewuswordingsproses het meer nut. Die Bybel is ’n kultuurproduk. Dit het hoogstens historiese waarde en die hermeneutiese metode om iets van waarde te kry, is dekonstruksie. God is sinvol as ons daarmee ’n stel waardes bedoel. Dan kan ons Habakuk 3:17 nuut lees as ’n toewyding aan ’n stel waardes:

“Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen klein­vee in die kampe wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.”

 Die leidende denkmetode is abduksie, soos in die figuur hieronder:

 Figuur 3: Abduktiewe Denke

 

Maak nie saak of jy by ’n algemene waarheid begin, of by die feite nie; jy moet die heeltyd probeer om teenvoorbeelde te vind. Falsifikasie, nie verifikasie, is verant­woordelik vir ’n ongehoorde ontploffing in wetenskaplike kennis.

Die paradigma is nie meer hiërargies (top-down) nie, maar demokraties (bottom-up). Dit gaan meer oor luister en dien, as beheer en beveel. God is nie ’n God van sommi­ges nie, maar van almal. Ons liefde is nie vir party nie, maar vir die kosmos (self, medemens, natuur). Die onderskeid tussen God se voorsienigheid en menslike verantwoordelikheid, die sakrale en die profane, verdwyn. Dit word twee kante van dieselfde muntstuk.

Die hantering van lyding is (a) deur die kragte van sinergie te monster—ondersteu­ningsgroepe is baie belangrik (b) deur die gegewenes van die menslike situasie dapper te aanvaar: dood, verganklikheid, eensaamheid, sinneloosheid, nihilisme. Ons kan self sin daarvan maak. (c) Gesprek, dialoog, luister, solidariteit betoon, is van die uiterste belang. (d) Die erkenning van die bydrae van diversiteit—elkeen van ons het iets om by te dra. Die mens is basies goed.

’n Gedig van Davna Markova gee uitdrukking aan hoe mense in ’n post-moderne era hulle spiritualiteit wil uitleef:

I will not die an unlived life, I will not go in fear
 of falling or catching fire.
I choose to inhabit my days,
to allow my living to open to me,
to make me less afraid,
more accessible,
to loosen my heart
until it becomes a wing,
a torch, a promise.
I choose to risk my significance:
To live.
So that which came to me as seed,
goes to the next as blossom,
and that which came to me as blossom,
goes on as fruit.

 Oor die monstering van sinergie maak Italo Calvino ’n opwindende opmerking. In sy boek, Invisible Cities, vertel Marco Polo telkens wanneer hy van ’n ontdekkingsreis af terugkom sy wedervaringe aan Kubla Khan. Die slotparagraaf lui:

“And Polo said: ‘The inferno of the living is not something that will be; if there is one, it is what is already here, the inferno where we live every day, that we form by being together. There are two ways to escape suffering it. The first is easy for many: accept the inferno and become such a part of it that you can no longer see it. The sec­ond is risky and demands constant vigilance and apprehension: seek and learn to rec­ognize who and what, in the midst of the inferno, are not inferno, then make them en­dure, give them space.’”

Die Nuwe Hervorming Netwerk is vir my só ’n ruimte waarbinne ons op ’n sinvolle en eietydse manier uitdrukking kan gee aan ’n eenvoudige formule: G + R = U.

 

Richard Dawkins se boek "The God Delusion"

’n Voorbeeld van militante ateïsme, of 'n voorbeeld van gesonde kritiese nadenke? Sakkie Spangenberg 3 Desember 2006
 

  • 1 Inleiding

Richard Dawkins se boek The God Delusion is na my mening een van die belangrike boeke wat vanjaar gepubliseer is. Dis nie ’n boek wat ’n mens maklik in godsdienstige boekwinkels in Suid-Afrika sal vind nie. In die voorwoord stel hy dit nadruklik dat hy aan ateïste wil toon dat hulle ’n gelukkige en gebalanseerde lewe kan lei. Voorts dat hulle moraliteit nie onder verdenking staan nie en derdens dat hulle intellektueel kop en skouers bo diegene uitstaan wat hulle deur godsdienstige leiers aan hulle neuse laat rondlei. Hy spreek voorts die hoop uit dat sy boek ateïste sal help om uit die kas te kom sodat hulle ’n regmatige plek in die samelewing kan beklee. In sy eie woorde: “My dream is that this book may help people to come out” (Dawkins 2006:4). Dawkins wil dus nie vir die onbekeerdes preek nie, maar vir diegene wat reeds ’n denkskuif gemaak het.

Sy boek bestaan uit tien hoofstukke waarvan die eerste vyf handel oor die onhoudbare idee dat daar ’n teïstiese god is. In hoofstuk ses en sewe bespreek hy die verhouding tussen godsdiens en moraliteit. In hoofstuk agt en nege wys hy op die wreedhede en ellendes wat teïstiese godsdienste tot gevolg het. In die laaste hoofstuk beklemtoon hy dat sin en betekenis nie van buite die mens kom nie. Sin en betekenis word deur mense geskep. Na regte sou ’n mens kon sê dat die laaste drie hoofstukke vir ateïste gemoedsrus moet gee dat hulle op die regte pad is en dat hulle hulle nie deur godsdienstige en politieke leiers moet laat boelie nie.

  • 2 ’n Kort oorsig van sy argumente oor god en godsdiens

Om sy doel te bereik, begin Dawkins met ’n uitspraak van Albert Einstein. Hy het by geleentheid gesê: “I don’t try to imagine a personal God; it suffices to stand in awe at the structure of the world, insofar as it allows our inadequate senses to appreciate it” (Dawkins 2006:9). Alhoewel Dawkins waardering vir hierdie stelling het, meen hy dat wetenskaplikes hulle van religieuse taal moet weerhou. Dit skep volgens hom net verwarring en wek die indruk dat wetenskaplikes en teoloë besig is om dieselfde gesprek te voer. Volgens hom verdien godsdienste nie die soort respek en ereplek wat dit in die Westerse samelewing beklee nie. Dit belemmer nie alleen gesonde gespreksvoering nie, maar ondermyn die humane en liberale waardes waarvoor vele mense oor eeue heen gestry het.

Om verder lyf aan sy argument te gee, begin Dawkins om die idee dat daar ’n persoonlike god of gode bestaan, af te skiet. Volgens hom wil hy nie ’n spesifieke godsdiens aanval nie, maar godsdiens in die algemeen. In sy eie woorde: “I am not attacking any particular version of God or gods. I am attacking God, or gods, anything and everything supernatural, wherever and whenever they have been or will be invented” (Dawkins 2006:36). Alhoewel hy dit benadruk dat hy nie ’n spesifieke god of godsdiens aanvat nie, kan hy nie anders as om spesifek te raak nie. Hy kan eenvoudig nie by die algemene bly nie, maar moet gedurigdeur na die spesifieke verwys. Dis daarom nie vreemd nie dat hy die hoofstuk wat oor die “God-hipotese” handel, met die volgende stelling begin:

The God of the Old Testament is arguable the most unpleasant character in all fiction: jealous and proud of it; a petty, unjust, unforgiving control-freak; a vindictive, bloodthirsty ethnic cleanser; a mysogynistic, homophobic, racist, infanticidal, genocidal, filicidal, pestilential, megalomaniacal, sadomasochistic, capriciously malevolent bully (Dawkins 2006:31).

Die steling is na my mening bedoel om te skok. Dit geld ook van die stelling van Thomas Jefferson (die eertydse president van die VSA) wat hy op dieselfde bladsy aanhaal: “‘The Christian God is a being of terrific character – cruel, vindictive, capricious and unjust’” (Dawkins 2006:31). Die godsbegrip wat hy hier aan die orde stel, staan algemeen bekend as teïsme en dit is dan ook teen teïsme wat hy hoofsaaklik reageer. Hy omskryf teïsme soos volg: “There exist a superhuman, supernatural intelligence who deliberately designed and created the univere and everything in it, including us” (Dawkins 2006:31).

Dit is wel korrek om te sê dat die antieke Israeliete, die vroeë Jode en die eerste Christene ’n teïstiese godsbeeld gekoester het, maar dit is verkeerd om die historiese ontwikkelinge te ignoreer en voor te gee dat al die skrywers van die Ou Testament, alle Israeliete, alle Jode en alle Christene dieselfde idee oor god gekoester het. Jack Nelson-Pallmeyer (2005:8) gee ’n baie beter perspektief wanneer hy die volgende oor die Bybel skryf: “The Bible presents diverse and irreconcilable images of God, incompatible explanations for historical disasters or triumphs, and conflicting ideas for how to live a faithful life.” Dawkins sou na my mening beter gevaar het met sy kritiek deur uitsluitlik op die tradisionele Christelike godsdiens te fokus en uit te wys hoedat die Latynse kerkvaders ’n meesterverhaal geskep het wat in hulle dag sin gemaak het, maar wat later vir vele mense nie meer sin maak nie omdat dit verweef is met die antieke drieverdieping heelal en die siening dat alles om mense draai. Günther Weber, die “bekeerde Katoliek” stel dit treffend:

The notion that God, the creator of the universe, became incarnate on earth, a cosmic speck of dust, in a human being, a chance product of evolution, could only have been formulated by people whose view of the world was imprisoned in a quite naive geocentricity and anthropocentricity, and who through no fault of their own knew nothing of the real position of human beings in the cosmos (Weber 1998:16)

In hierdie hoofstuk bespreek Dawkins ook deïsme, agnostisisme en die sogenaamde NOMA-beginsel. Hy erken dat deïsme ’n voorwaartse stap was, maar meen dat dit ook nie regtig bevredig nie: “The deist God is certainly an improvement over the monster of the Bible” (Dawkins 2006:46). In hierdie geval word daar steeds aan ’n persoonlike skeppergod vasgehou. Hierdie god het alles aan die gang gesit (byna soos ’n groot horlosiemaker), maar hom toe daarvan onttrek sodat dit op sy eie (volgens die ingeboude wetmatighede wat die horlosiemaker daarin gesit het) afloop.

Hy skiet ook agnostisme af en sê dat agnostisiste eintlik draadsitters is wat nie kant wil kies nie. Daar is volgens Dawkins oorgenoeg bewyse om onomwonde te kan sê dat daar nie ’n teïstiese god is nie. Wat vreemd is, is dat hy homself wel as ’n soort agnostikus klassifiseer! Hy stel ’n skaal van een tot sewe op waar een vir “oortuigde teïs” en sewe vir “oortuigde ateïs” staan. Volgens hom staan hy by ses: “I count myself in category 6, but leaning towards 7 – I am agnostic only to the extent that I am agnostic about fairies at the bottom of the garden” (Dawkins 2006:51).

Die idee van NOMA  (“non-overlapping magisteria”) van Stephen Jay Gould (2002) skiet hy ook af. Met NOMA word bedoel dat die wetenskap sy terrein het waarop hy opereer en godsdiens sy terrein. Dis ’n geliefde beginsel wat ook in Suid-Afrika aanhang geniet. So word gesê dat die wetenskap met die empiriese werk en godsdiens met die vraag na sin en die kwessie van reg en verkeerd. Die twee terreine het na regte niks met mekaar in gemeen nie en die beoefenaars van die twee “wetenskappe” het byna niks vir mekaar te sê nie.

Om sy punt in hierdie hoofstuk finaal te illustreer, verwys Dawkins na die gebedseksperiment wat geen onweerlegbare resultate opgelewer het nie. Nóg diegene vir wie gebid is, nóg diegene vir wie nie gebid is nie, het enige dramatiese verbetering in hulle siektetoestand beleef (Dawkins 2006:63).

In die derde hoofstuk bespreek Dawkins die Middeleeuse teoloog Anselmus (1033-1109) se vyf bewyse vir die bestaan van God. Die bewyse behels die volgende:

  1. God is die “onbeweeglike beweger” wat alle beweging in die heelal aan die gang gesit het.
  2. Die eerste oorsaak. Alles het ’n oorsaak en God is die eerste oorsaak waarsonder niks kan bestaan nie.
  3. Die kosmologiese argument. Daar moes ’n tyd bestaan het toe alle fisiese dinge nie bestaan het nie. Hierdie “iets” wat voor alles bestaan, is God.
  4. Die argument gebaseer op graad. Waaraan meet ons goedheid, geregtigheid, liefde, ens? Volgens Anselmus is God die maatstaf vir goedheid, geregtigheid, liefde, ens.
  5. Die argument gebaseer op ontwerp. Alles wek die indruk dat dit spesiaal ontwerp is vir die doel waarvoor dit bestaan. Dink aan die jagluiperd, die leeu, ens.

Hy voeg nog hierby die volgende vier argumente:

  1. Die argument gebaseer op skoonheid. Mooi musiek, kunswerke, ens. toon dat daar ’n persoonlike god bestaan wat aan die mens hierdie artistieke vermoëns gegee het.
  2. Die argument gebaseer op persoonlike ervaring. Volgens Dawkins is daar baie mense wat hulle daarop beroep dat God met hulle gepraat het.
  3. Die argument gebaseer op die Bybel. Hiervolgens beroep mense hulle op die Bybel as God se openbaring wat finaal duidelik maak dat daar ’n God is.
  4. Die argument gebaseer op die feit dat daar wetenskaplikes was/is wat godsdienstig is. Dink aan Isaac Newton, Galileo Galilei, Johannes Kepler, en in ons dag Arthur Peacock, Russel Stannard, en John Pilkinghorne.

Hy bespreek elkeen van hierdie argumente en kom met snydende en soms humoristiese kritiek na vore. Neem as voorbeeld die uitspraak van sommige gelowiges dat God persoonlik met hulle gepraat het (argument 7). Hy neem die huidige president van die VSA as voorbeeld en sê dan: “George Bush says that God told him to invade Iraq (a pity God didn’t vouchsafe him a revelation that there were no weapons of mass destruction)” (Dawkins 2006:88).  En oor wetenskaplikes wat godsdienstig is (argument 9), sê hy die volgende: “I suspect that most of the more recent ones are religious only in the Einsteinian sense which … is a misuse of the word” (Dawkins 2006:99).

In die vierde hoofstuk bou Dawkins voort op sy argumente waarom daar nie ’n persoonlike god soos dit tradisioneel verstaan is, kan bestaan nie. Hier kom die sienings van kreasioniste veral onder die loep. Hy begin met die bekende storie wat hy terugvoer na Fred Hoyle. Hy sou gesê het dat geen mens aanvaar dat ’n Boeing 747 geskep is omdat ’n stormwind oor ’n skrootwerf gewaai het nie. Soms hoor 'n mens 'n soortgelyke argument: Geen mens aanvaar dat ’n woordeboek tot standgekom het vanweë ’n ontploffing in ’n drukkery nie. Dis ’n geliefde argument van kreasioniste, maar Dawkins wys daarop dat evolusie nie met toeval of kans te doen het nie, maar met natuurlike seleksie. Natuurlike seleksie is dus nie gelyk te stel aan toeval of kans nie.

Volgens Dawkins tree daar soms mense navore wat ons bewussynsvlak ’n trappie hoër lig (“consciousness-raising”). Geoloë is een voorbeeld. Hulle het ons bewus gemaak van die lang en komplekse geskiedenis van die aarde. Feministe is nog ’n voorbeeld. Hulle het ons bewus gemaak van die ander geslag en hulle reg op gelyke behandeling. Darwin en Wallace is ’n derde voorbeeld. Hulle het ons bewus gemaak van die lang en ingewikkelde geskiedenis agter alles wat tans lewe. Deur natuurlike seleksie wat saamhang met omgewingsfaktore het komplekse lewende dinge uit minder komplekse lewende dinge ontstaan. Deur natuurlike seleksie groei daar uit minder komplekse lewende dinge meer komplekse lewende dinge. Dawkins gebruik hier die beeld van ’n berg met loodregte kranse aan die voorkant, maar ’n skuinsvlak aan die agterkant. Ongeveer soos die Magaliesberge noord-wes van Pretoria. Van voor gekyk, lyk dit onmoontlik om die kruin sonder hulpmiddels te bereik. Van agter kan die kruin maklik sonder enige hulpmiddels bereik word, maar dit gaan ’n tydjie duur om daar uit te kom. In sy eie woorde: “Evolution, by contrast, goes around the back of the mountain and creeps up the gentle slope to the summit: easy!” (Dawkins 2006:122). Sy boek Climbing Mount Improbable illustreer die beginsel deur na oë en vlerke te kyk. Op grond hiervan maak hy die opmerking dat as ons iets van God weet, dan is dit dat God oneindig kompleks moet wees (Daskins 2006:125).

Dawkins wys daarop dat kreasioniste op gate in ons bestaande kennis teer en dit gebruik om die evolusieleer belaglik te probeer maak en ’n argument te bou vir die bestaan van ’n teïstiese god. Hy wys egter daarop dat evolusionêre bioloë erken dat as ’n enkele fossiel in ’n verkeerde geologiese stratum sou voorkom, dit die hele teorie sou beduiwel. Iets soos gefossileerde hase in Prekambrium rotslae (Dawkins 2006:128). Maar niemand het nog so iets gevind nie. Die Waterberge in die Limpopo-provinsie bevat byvoorbeeld geen fossiele nie, want dit bestaan uit van die oudste sedimentêre gesteentes op aarde. Dit was deel van die eerste fases in die ontstaan van die aardplate toe daar nog geen lewende dinge bestaan het nie. Hierdie berge is ouer as die Himalayas, wat ontstaan het vanweë die druk wat die Indiese aardplaat op die Euroasiese aardplaat uitoefen. As daar fossiele van hase of van mense in die Waterberge gevind sou word, sal dit die evolusieteorie omverwerp. Kreasioniste se grootste probleem, volgens Dawkins, is dat hulle nie bereid is om te dink en te wonder nie. Sodra hulle hulle vasloop, gryp hulle na die godhipotese. Hierdie “siekte” kan teruggevoer word na die kerkvader Augustinus (354-430) wat nuuskierigheid afgewys het as ’n sondig drang. Charles Freeman bespreek in sy boek The Closing of the Western Mind: The rise of faith and the fall of reason (2003) hoedat die Christelike geloof sedert die vierde eeu wetenskaplike nadenke begin dwarsboom het.

Dawkins wys vir oulaas, voordat hy na die oorsprong van godsdiens kyk, na die nuwere pogings van kreasioniste om die idee van intelligente ontwerp te propageer. Hulle wend hulle nou tot die ontstaan van lewe. Hy erken dat die ontstaan van lewe slegs één keer op aarde plaasgevind het. Maar dit vereis nie ’n teïstiese god (’n intelligente ontwerper) om lewe te geskep het nie. Hy maak hier van die idee van Brandon Carter, John Barrow en Frank Tipler gebruik. Hulle praat van die "antropiese beginsel": alles wat nodig was vir lewe om te ontstaan, was op hierdie planeet teenwoordig. Een hiervan is water in vloeibare vorm. Die planeet is nie te warm (sodat water verdamp), en ook nie te koud (sodat dit vries) nie. Klaarblyklik moet 'n planeet soos die aarde waar lewe ontstaan het, ook 'n sirkelvormige baan hê. 'n Eliptiese baan kan dit te ver van die son neem en dit kan probleme meebring. Voorts speel die planeet Jupiter die rol van "stofsuier" deurdat dit asteroïedes intrek en nie toelaat om binne die aarde se aantrekkingsveld te kom nie. Naas dit speel die maan ook 'n groot rol. Dit stabiliseer die aarde se tolaksie. Volgens Dawkins is daar twee alternatiewe om die ontstaan van lewe te verklaar (1) die "antropiese beginsel", en (2) God. Kreasioniste kies vir (2), terwyl hy vir (1) kies.[1] Alles was net reg op aarde sodat lewe kon ontstaan (Dawkins 2006:137). Nadat lewe ontstaan het, het natuurlike seleksie mettertyd ingeskop en tot die diversiteit van lewende dinge aanleiding gegee. Na regte was daar 'n tweede groot onwaarskynlike gebeurtenis en dit is toe selle met kerne (die eukariote) ontstaan het. Volgens Eloff (1975:11) het hierdie oorgang die langste geduur: "Dit is duidelik dat die langste tydsverloop die oorgang tussen prokariote (organismes sonder 'n kern) en eukariote (oranismes met 'n kern) is nl. 63% van die totale tyd sedert die skepping van die aarde." Die ontstaan van lewe is ’n kans van een uit ’n miljoen. Die ontstaan van selle met kerne is nog so ’n kans, en die tot-bewussyn-kom 'n derde. Al drie hierdie ‘onmoontlikhede’ is op ons planeet voltrek, daarom is ons hier en kan ons dink en redeneer.

Die "antropiese beginsel" geld ook ten opsigte van die totale kosmos. Ons lewe nie net op 'n vriendelike planeet nie, maar ook binne 'n vriendelike kosmos. Volgens Martin Rees is daar ses fundamentele konstantes wat nodig is om die soort kosmos op te lewer waarin ons lewe. "Each of these six numbers is finely tuned in the sense that, if it were slightly different, the universe would be completely different and presumably unfriendly to life" (Dawkins 2006:141-142). In hierdie gedeelte van hoofstuk vier kruis hy swaarde met hedendaagse Britse wetenskaplikes wat ook godsdienstig is.  Dit sluit in manne soos Russel Stannard, John Pilkinghorne, Richard Swinburne, en Keith Ward. Hier spreek hy weer die gedagte uit dat indien daar 'n god sou wees, daardie god oneindig kompleks sou wees. Iets bokant ons begripsvermoë. Hy vertel ook van 'n slegte ondervinding tydens 'n kongres oor wetenskap en godsdiens wat by Cambridge gehou is. Sy argumente is begroet met aanvalle. Daar is onder ander gesê dat sy wêreldbeeld steeds negentiende eeus is: "My whole world-view was condemned as 'nineteenth-century'" (Dawkins 2006:156). Diegene wat die gesprekke oor 'n moontlike nuwe hervorming in die Afrikaanse dagblaaie oor die afgelope vier jaar gevolg het, sal weet dat die soort argument ook teen die "nuwe hervormers" gebruik is. Hulle is glo nog vasgevang in die paradigma van moderne tyd en het nog glad nie in die postmoderne era gearriveer nie!

In hoofstuk vyf (die slothoofstuk in die afdeling oor die godsidee) probeer hy die vraag beantwoord waarom godsdienste bestaan. Alle kulture ken 'n vorm van godsdiens. Volgens Dawkins moet daar een of ander verklaring vanuit die evolusionêre biologie te bied wees. Hy wys daarop dat daar soms "vreemde" gedrag onder diere te vind is, byvoorbeeld die gedrag van sommige voëls. Hulle tel miere op en druk dit in hulle vere in (op Engels "anting"). Ons weet nie vir seker waarom hulle dit doen nie, maar dit moet een of ander funksie vervul. Dit geld ook van godsdienstige handelinge. Alhoewel dit nie logies verklaar kan word nie, moet daar redes wees waarom alle kulture godsdienstige handelinge ken. Dit moet een of ander funksie vervul ter wille van oorlewing. Hou dit moontlik verband met groepseleksie en groepslojaliteit? Die kwessie van "in-groep" lojaliteit. "Ons" teenoor "hulle". Dawkins skiet dit af as 'n moontlike verklaring vir godsdiens. Volgens hom is godsdiens 'n byproduk van iets anders. Daardie "iets anders" is die kumulatiewe kennis wat oor jare opgebou is. Kinders leer dat ouer mense meer van die lewe weet as hulle en as hulle wil oorleef, om ag daarop te slaan. Dit lei later tot "blinde vertroue" en kinders leer nie om vir hulleself te dink nie. Godsdiens teer op hierdie "blinde vertroue". Na regte moet ons sê dat natuurlike seleksie kinderbreine toegerus het met die geloof dat hulle ouers en ouer mense oor goeie kennis beskik om te oorleef. Gevolglik aap die kinders hulle ouers en ander na. Hulle kan nie onderskei tussen die waarskuwing: "Moenie naby die rivier met krokodille gaan nie" en "Moenie op Sondag werk en daardeur die gode ongelukkig stem nie." Beide is opdragte en word aanvaar op gesag van ouers en ouer mense. Godsdiensleiers is terdeë bewus van die beïnvloedbaarheid van kinders vandaar die spreuk: "Give me the child for his first seven years, and I'll give you the man" (Dawkins 2006:177). Maar kinders besit ook 'n natuurlike bewussyn van dualisme. Hulle aanvaar dat daar 'n onsigbare wêreld is. Daarom is hulle ook lief vir feëverhale. Hulle is ook van nature teleoloë, bedoelende, hulle glo dat elke ding wat hulle sien 'n bepaalde doel (Grieks: "telos") het. Bome is daar vir voëls om in nes te maak, ens. Dit dra daartoe by dat hulle maklik beïnvloedbaar is wanneer dit by godsdiens kom. Kinderbreine kan maklik deur "mentale virusse" geïnfekteer word. Dawkins kies dus vir die "'gullible child' theory" om godsdiens te verklaar (2006:188).

Om sy teorie nog verder te onderbou, gebruik hy ook sy idee van "meme" wat van geslag tot geslag oorgedra word. 'n Meem is 'n kulturele patroon wat van geslag tot geslag voortgesit word. Godsdienste is 'n samestelling van 'n aantal verbandhoudende meme. Dit vorm 'n geslote singewende eenheid wat dan van geslag tot geslag oorgedra word. Hy wys ook op hoe maklik 'n nuwe kultus kan ontstaan deur na die "cargo cult" van die inwoners van sommige Stille Oseaaneilande te verwys. Hierdie kultusse het ontstaan toe Westerlinge daar aangekom het en daardie mense se voortbestaan bedreig het. Daar het 'n soort messiasfiguur opgestaan wat allerlei wonderlike dinge aan die inwoners beloof het. Hulle moes ook sekere opofferings doen soos om van hulle geld ontslae te raak, want hulle sal nuwe geld ontvang en nuwe bestaansmoontlikhede. (Die verhaal van Nongqawuse van die Xhosas hier te lande lewer vergelykende materiaal.)

  • 3 Die verhouding tussen moraliteit en godsdiens

Hoofstukke ses en sewe fokus hoofsaaklik op die kwessie van moraliteit en hoe dit met godsdiens verband hou. Baie gelowiges vind dit onverstaanbaar dat mense goed sal wil lewe indien hulle nie godsdienstig is nie. Godsdiens is vir hulle die basis vir 'n goeie lewe. Hy verwys in hierdie hoofstuk na vele briewe wat hy ontvang het en waarin hy as ateïs uitgekryt word vir 'n "slegte mens" en "skuim" wat eendag in die hel sal brand.

Net soos in die vorige hoofstuk probeer hy ook in hierdie hoofstuk 'n verband uit te wys met evolusie. Waarom tree mense moreel op en gee hulle vir ander mense — selfs onbekendes — om? Waar kom die goeie Samaritaan in ons vandaan? Dawkins vestig onmiddellik die aandag daarop dat alhoewel die menslike gene selfsugtig is, beteken dit nie dat die mens as sodanig ook selfsugtig sal wees nie. In die dierewêreld vind ons byvoorbeeld gedrag waar 'n spesie ter wille van oorlewing groepe vorm wat vir mekaar omgee. Vergelyk meerkatte. Dít wys dat "omgee" nie uitsonderlik is en met godsdiens verband hoef te hou nie. In menslike samelewings speel die kwessie van reputasie 'n groot rol. Dis waarom skinder so belangrik is. So word iemand ander se reputasie gebou of afgebreek. Dit is volgens Dawkins volkome verstaanbaar waarom 'n in-groep vir mekaar sal omgee, maar die uit-groep sal ignoreer. Dit gaan immers om oorlewing.

In hierdie hoofstuk bespreek hy ook gevallestudies wat Marc Hauser ('n bioloog verbonde aan die Universiteit van Harvard) uitgevoer het. Hy het vraelyste opgestel waarin hy mense se reaksie toets op fiktiewe gebeurtenisse. Hy stel mense voor morele dilemmas. Hulle moet as t' ware kies tussen die duiwel en die diepblou see. Een voorbeeld is die spoorwegtrok wat onbeman besig is om op vyf mense wat aan die spoorlyn werk, af te pyl. Jy kan egter die trok op 'n ander spoor stuur deur 'n wissel te gooi sodat die trok op 'n syspoor beland. Ongelukkig staan daar 'n werker op die spoor wat waarskynlik getref en gedood gaan word. Meeste mense kies om liefs een mens dood te maak as om die vyf te laat sneuwel — ongeag of hulle Christene, Moslems, Hindoes, Boeddhiste, ens is. 'n Ander voorbeeld is die een van vyf ernstige siek mense in die hospitaal wat almal een of ander orgaanoorplanting moet ondergaan om aan die lewe te bly. In die wagkamer sit 'n persoon wat aan al die vereistes voldoen sodat die vyf aan die lewe kan bly. Sal jy hom "doodmaak" sodat sy organe aan die siekes geskenk kan word en hulle kan bly lewe? Byna deur die bank antwoord mense "nee" — ongeag hulle godsdienstige oortuiging. Waarom? Hulle voel eenvoudig dat dit nie reg is om 'n gesonde lewe te neem ter wille van die behoud van die ander vyf nie.

Vele gelowiges mense meen dat godsdiens 'n voorvereiste vir morele optrede is. Waarom sal mense moreel lewe as daar geen beloning is nie, vra hulle? Dis 'n vraag wat al in die rigting van die "nuwe hervormers" gewerp is: "Waarom enigsins godsdienstig wees en moreel korrek lewe as daar geen beloning in die lewe hierna is nie?" Dawkins wys tereg daarop dat so 'n redenasie beteken dat mense erken dat hulle bereid is om dood te maak, te steel, te verkrag bloot omdat hulle dan geen vrees vir straf sal koester nie. Dis volgens hom 'n betreurenswaardige rede vir morele optrede. Hy reageer hierop met die stelling: "Perhaps I, too, am a Pollyanna to believe that people would remain good when unobserved and unpoliced by God" (Dawkins 2006:228).

In hoofstuk sewe fokus Dawkins op die tydgees (Duits "Zeitgeist") wat daartoe aanleiding gee dat mense se morele waardes skuif. Dit het niks met die Bybel en godsdiens te doen nie. Om die waarheid te sê, die Bybel en godsdiens is dikwels struikelblokke wanneer 'n broodnodige verskuiwing moet plaasvind. Dink aan slawerny en die regte van vrouens. Die verandering het nie vanuit kerklike of godsdienstige kringe gekom nie. Godsdiensleiers het die verandering wel later vanuit die Bybel probeer motiveer en regverdig. Dit geld ook apartheid en die gesprekke oor mense met 'n homoseksuele oriëntasie.

Om sy punt te illustreer wys hy daarop dat die Bybel op twee maniere mense se morele optredes kan beïnvloed: (1) deur direkte opdragte, en (2) deur die optredes van karakters in die Bybel self. Hy neem sy lesers vinnig deur die Ou en die Nuwe Testament om uit te wys dat hierdie boeke nie regtig goeie materiaal bied vir morele riglyne nie. Wat die Ou Testament betref, kies hy tien voorbeelde:

  1. Die verhaal van Noag (Gen 6-9)
  2. Die verhaal van Sodom en Gomorra (Gen 19)
  3. Die verhaal van die Leviet en sy vrou (Rigt 19)
  4. Abraham in Egipte (Gen 12:9-20))
  5. Die offer van Isak (Gen 22:1-19)
  6. Jefta en sy dogter (Rigt 11)
  7. Moses en die episode van die goue kalf (Eks 32:25-29)
  8. Moses se aanval op die Midianiete (Num 31)
  9. Moses en die Moabitiese vroue (Num 25)
  10.  Die verhaal van Josua se inname van die land.

Aan die einde daarvan sê hy dan: "I do not believe there is an atheist in the world who would bulldoze Mecca - or Chartes, York Minster or Notre Dame,  the Shwe Dagon, the temples of Kyoto or, of course, the Buddhas of Bamiyan"  (Dawkins 2006:249). My probleem met sy voorbeelde is dat hy die Ou Testament net soos fundamentaliste benader. Alles word op een vlak gelees en daar is geen bewys dat hy sensitief is vir historiese ontwikkelings op die terrein van Israel se godsdiens nie. As teenhanger van sy eerste voorbeeld (die Noagverhaal) sou ek graag na die verhaal van Jona wou verwys. Die Godkarakter in daardie verhaal tree totaal anders op as die een in die Noagverhaal. Wie die Ou Testament sensitief lees, sal ontdek dat daar ook ander stemme in die versameling boeke is en dat ons ook met verskillende godkarakters te doen kry.

Wanneer dit kom by sy Nuwe-Testamentiese voorbeelde geld dieselfde beswaar. Hier verwys hy na die erfsondeleer en die leer van die versoening en hou beide voor as leerstellings van Paulus terwyl dit in werklikheid leerstellings is wat uit die vierde en die elfde eeu nC dateer. Die erfsondeleer kom van Augustinus (354-430) en die tradisionele versoeningsleer is 'n produk van Anselmus (1033-1109). Hierdie twee lesers beroep hulle natuurlik op Paulus, maar ten onregte. Hulle het die Bybel nie goed gelees nie. Dit word vandag deur vele Nuwe-Testamentici erken. Een van die feitefoute wat Dawkins maak, is om die brief aan die Hebreërs aan Paulus toe te skryf (2006:253). Maar hy is wel reg deur hierdie Christelike leerstellings as moreel twyfelagtig uit te wys. John Hunt wys dit ook uit. Hy skryf: “The idea of Original Sin runs counter to everything science tells us, from anthropology through to zoology. It is contrary to the teaching of Jesus, the Bible, common sense, experience and morality” (2004:198). Hy kon ook na Cees den Heyer van Nederland verwys het. Cees het as kerklike professor bedank omdat hy uitgewys het dat Jesus nie die versoeningsleer verkondig het nie (Den Heyer 1998). Daar is ongekende druk op Cees uitgeoefen en dit het hom maak bedank.

Dawkins neem ook die liefdesgebod onder die loep en wys tereg dat dit na regte net op die in-groep van toepassing was, maar hier vergeet hy om te vermeld dat Jesus die gelykenis van die barmhartige Samaritaan vertel het. Die Samaritaan verbreek die in-groep idee sowel as die reinheidsreëls. Van die materiaal wat Dawkins in hierdie afdeling van hoofstuk sewe bespreek, is nogal skokkend. Hy maak wel hierdie soberende opmerking: "I do not deny that humanity's powerful tendencies towards in-group loyalties and out-group hostilities would exist even in the absence of religion" (Dawkins 2006:260). Hy is korrek wanneer hy daarop wys dat mense se morele waardes nie uit heilige boeke kom nie, maar uit die algemene menslike norme van die dag. Dit was die tydgees wat tot die afskaf van slawerny gelei en aan vroue stemreg besorg het. Hier erken hy dat Britte wat in die vroeë dekades van die twintigste eeu geleef het as rassiste geklassifiseer sou word indien ons vandag se maatstawwe as riglyn sou gebruik. Hy wys self daarop dat bekende bioloog Thomas Henry Huxley (1825-1895) die volgende rassitiese opmerkings neergeskryf het: "No rational man, cognizant of the facts, believes that the average negro is the equal, still less the superior, of the white man" (Dawkins 2006:266). Maar dan kom hy tot Huxley se redding en sê: "It is commonplace that good historians don't judge statements from past times by the standards of their own" (Dawkins 2006:266). By die lees van hierdie stelling het ek gewonder waarom hy nie hierdie beginsel ook van toepassing maak op die uitlatings van die Ou- en Nuwe-Testamentiese skrywers nie? Waarom lees Dawkins hulle uitlatings sonder om die historiese konteks in ag te neem? Klaarblyklik om fundamentalistiese Christene by te kom. Maar daar is ander groeperinge in die Christendom wat die Bybel totaal anders lees en nie die tradisionele Christelike dogmas as ewige waarhede bekou nie. Daar is Christene wat die wetenskaplike wêreldbeeld van vandag aanvaar, maar wat nie fundamentaliste is nie.

  • 4 Fundamentalisme en absolutisme

In hoofstukke agt en nege probeer Dawkins verduidelik waarom hy so heftig teen Christen fundamentaliste (en ander godsdienstige fundamentaliste) reageer. Hy erken dat hy 'n passie vir die wetenskap het en dat hy aanstoot neem wanneer mense hulle oë sluit vir feite wat boekdele spreek: "As a scientist, I am hostile to fundamentalist religion because it actively debauches the scientific enterprise" (Dawkins 2006:284). Hy verwys na die geval Kurt Wise wat 'n paar grade in geologie en paleontologie verwerf het, maar later so deur fundamentalisme beïnvloed is dat hy omgeswaai en alles wat die wetenskap hom geleer het, prysgegee het. Hier sou ek Dawkins aan die geval Lester Grabbe bekend wou stel. Hy was 'n volslae fundamentalis wat vir die tydskrif The Plain Truth geskryf het. Wetenskaplike studie van die Bybel het hom egter tot ander insigte gelei en vandag is hy 'n gerekende Ou-Testamentikus aan die Universiteit van Hull (vgl Grabbe 1987) . Daar is dus verhale wat die teendeel vertel en dit gee 'n mens hoop. Klaarblyklik hang sulke ommeswaaie met persoonlikheidstipes saam.

Die moontlikheid van doodstraf vir enige negatiewe opmerking oor 'n godsdiens vind Dawkins veral verontrustend. Hy bespreek 'n aantal gevalle en wys daarop dat veral Moslems sulke stappe voorstaan en ook nie huiwer om dit te neem nie. Die kwessie van mense met 'n homoseksuele oriëntasie is nog 'n geval waar godsdienstige oortuiging mense besluite laat neem wat onverstaanbaar is. Hy verwys na die tragiese geval van Alan Turing wat saam met John von Neumann as die "vaders van die rekenaar" getipeer kan word. Turing was homoseksueel. Dit het op die lappe gekom en uiteindelik tot sy selfmoord gelei omdat hy nie kans gesien het vir tronkstraf nie. Hy verwys hier ook na spesifieke Amerikaanse evangeliste en politici met hulle uitgesproke standpunte oor homoseksualiteit. Hulle sluit in Jerry Falwell, Jesse Helms en Pat Robertson.

'n Derde saak  wat hy indringend bespreek, is die kwessie van aborsie. Hy neem 'n baie liberale standpunt in en wys ook daarop dat die bekende storie wat rondom Beethoven vertel word wanneer mense aborsie bespreek, allerlei stertjies bykry net om die geval soveel meer dramaties te maak (Dawkins 2006:289-301). Sy stelling dat gematigde godsdiens ruimte skep vir mense met fundamentalistiese oortuigings en dat alle godsdiens in die beskuldigde bank staan, is na my mening oordrewe. Ek hou daarom meer van die volgende stelling van Baggini (2003:106):

I am not then convinced that a strong case can be made that religion is essentially and especially harmfull. Nor do I believe that a firm belief in the falsity of religion is enough to justify militant opposition to it. At root, though, I think my opposition to militant atheism is based on a commitment to the very values that I think inspire atheism: an open-minded commitment to the truth and rational enquiry.

In hoofstuk nege neem Dawkins die negatiewe invloed wat godsdiens op kinders het onder die loep. Voorbeelde wat hy bespreek is die gedwonge doop van Joodse kinders in onder andere Spanje gedurende die 19de eeu. Dan volg daar die kindermolestering deur Katolieke nonne en priesters. Hy verwys ook na pastoor Ted Haggard wat na die publikasie van sy boek erken het dat hy 'n keer of wat seksuele omgang met 'n gay persoon gehad het. (In 'n heruitgawe van Dawkins se boek gaan hy definitief hierdie geval voorhou as van die soort skynheiligheid wat by pastore, priesters en ander godsdiensleiers te vind is.) Alhoewel hy uitgesproke is oor die kwessie van die godsdienstige indoktrinasie van kinders wil hy tog ruimte laat vir die bekendstelling van kinders aan godsdienstige literatuur. Die Bybel hoef volgens hom nie weggegooi te word nie en kinders kan steeds daaruit leer.  Maar kinders moet die reg behou om dinge te bevraagteken en te bespreek.

Die slothoofstuk van sy boek is 'n kort nabetragting en daarin beklemtoon Dawkins dat ons net hierdie lewe het om te leef en te geniet. Volgens hom is dit een van die groot bydraes van ateïsme tot die Westerse wêreld. Baggini neem 'n soortgelyke standpunt in wanneer hy die fokus op godsdiens, in plaas van ateïsme, plaas: “Religion encourages us to seek rewards in the illusory next world rather than in this one and therefore robs people of the motive to make the most of the only life they have” (Baggini 2003:105). Maar dan beklemtoon Dawkins verder dat dit ons is wat betekenis aan ons lewens gee. Ons hoef nie verouderde godsdienstige idees aan te hang om sin te ervaar nie.

  • 5 Slotopmerkings na aanleiding van Dawkins se boek

Ervaring het my geleer dat niks oor tyd heen dieselfde bly nie. Om te stry teen die evolusieleer is om hierdie basiese beginsel wat byna oral waar te neem is, te misken. Ek aanvaar dus dat die spesie waartoe ons behoort, het langs die weg van natuurlike seleksie en omgewingsfaktore, oor eeue heen, uit ander spesies ontwikkel en gegroei het. Voorts aanvaar ek ook dat dood sedert die vroegste tye onafwendbaar deel van lewe op aarde is. Dood is nie die gevolg van ’n oortreding wat ’n oervoorouer begaan het nie. Lank voordat daar enige mensspesie op aarde gewandel het, het dood reeds bestaan. Elke lewende ding wat al op aarde bestaan het, moes sterf sodat nuwe dinge gebore kon word, groei en gedy. Sonder dood is die voortgang van lewe klaarblyklik nie moontlik nie.

Ervaring het my ook geleer dat geen enkele lewende ding na sy dood op een of ander geheimsinnige wyse bly voortbestaan nie. Olifante, renosters, arende en suikerbekkies leef nie na hulle dood in daardie formaat voort nie – homo sapiens gevolglik ook nie. Alle spesies gee aan die aarde terug wat hulle tydens hulle lewens van haar geneem het sodat uit hulle boustene nuwe dinge mag ontstaan.

Net soos wat die Kopernikaanse revolusie in die sterrekunde ons verstaan van die aarde se plek in die heelal radikaal verander het, so het die Darwiniaanse revolusie in die biologie ons verstaan van die mens se plek binne die geheel van lewende dinge, radikaal verander. Kopernikus het bewys dat die aarde nie die sentrum van die heelal is nie. Darwin het op sy beurt bewys dat homo sapiens nie die sentrum van alle lewende dinge is nie. Die tradisionele Christelike godsdiens (na regte die Latynse teologie van die vierde en vyfde eeu) is oordrewe behep met mense en hulle sogenaamde voortbestaan na die dood. Die leiers van hierdie vorm van die Christelike geloof verkondig teen alle redelikheid in dat dood ’n god se straf op ’n oortreding is wat ’n oervoorouer begaan het. Die tradisionele Christelike godsdiens buig mense krom en laat hulle gedurigdeur na hulle eie naeltjie staar. Dit wek by mense die indruk dat alles op aarde en in die heelal om húlle en hulle doen en lates draai. Die Kopernikaanse en Darwiniaanse revolusies het mense weer regop laat staan en hulle hulle eie onbenulligheid en verganklikheid laat besef. Meer nog, dit het mense se verweefdheid met alles wat lewe en al gelewe het, belig. Mense is nie alleen eendagvliegies gemeet teen die ouderdom van die aarde en die totale kosmos nie, maar hulle dra in hulle liggame dieselfde soort organe wat vele ander soogdiere het. Verder is daar liggaamsdele wat hulle behoort te herinner dat hulle mettergaan geword het wat hulle is. Hulle het steeds ’n reptielbrein wat ingebed is in ’n hoogsontwikkelde soogdierbrein. Hulle soogdierbrein het wel verder ontwikkel sodat homo sapiens oor die vermoë beskik om te kan praat, dink en redeneer.

Homo sapiens het dus langs die weg van evolusie besondere vermoëns bygekry en dit is waarskynlik die rede waarom hierdie spesie steeds hier is. Maar of hulle vir altyd hier gaan wees, is te betwyfel. Die tekens is reeds daar dat hulle hulle eie en ander spesies se voortbestaan op aarde ondergrawe. Paleontologie wys daarop dat daar by tye groot uitsterwings plaasgevind het. Dalk is ons op pad na so ’n uitsterwing, maar die keer sal dit die gevolg wees van die aksies van ’n hoogsontwikkelde maar uiters onverantwoordelike spesie.

Ek hoop dat dit duidelik is dat ek die nuwere kennis aanvaar en dat ek nie die wetenskaplike wêreldbeeld as foutief of belaglik beskou nie. Ek hang nie kreasionisme aan nie en weet dat diegene wat só dink en redeneer die Bybelboeke nie kultuursensitief lees nie. Húlle lees en interpreteer die Bybel en die belydenisskrifte ééndimensioneel en het geen aanvoeling vir die feit dat dinge oor tyd heen verander nie. Ek staan baie nader aan Dawkins as aan diegene wat ons weet te vertel wat vyf minute na ons dood met ons gaan gebeur. Ek staan nader aan Dawkins as aan diegene wat nog in erfsonde glo en meen dat ons sterf omdat ’n oervoorouer ’n god kwaad gemaak het. Ek staan nader aan Dawkins as aan diegene wat glo dat Jesus êrens in die hemel aan God se regterhand sit en dat hy een of ander tyd gaan terugkeer en dat wanneer dit gaan gebeur alle mense op aarde hom sal kan sien. Ek meen egter wel dat Dawkins onnodig daardie wetenskaplikes wat godsdienstige taal gebruik en diegene wat met ’n nuwe godsbeeld eksperimenteer, van intellektuele hoogverraad beskuldig (Dawkins 2006: 19). Dit is jammer dat hy wat terdeë bewus is dat dinge oor tyd heen verander, nie begrip vertoon vir die feit dat godsdienste (wat ’n kulturele produk is) ook oor tyd heen verander nie. Die Christelike godsdiens soos dit vandag manifesteer, is nie die Christelike godsdiens van die eerste drie eeue na Christus nie. Judaïsme soos dit vandag manifesteer, is nie die Judaïsme wat Jesus beoefen het nie. Jesus was tuis binne die vroeë Judaïsme en het nie ’n vroeë vorm van die Christelike godsdiens beoefen nie. Hy het die idee van 'n drie-eenheid glad nie geken nie en sou dit ook nie onderskryf het nie. Omdat ek ouers en familielede het wat die Christelike godsdiens beoefen en self binne daardie tradisie grootgemaak is, kan ek dit verstaan en deels daarmee identifiseer. Anders as Dawkins meen ek egter dat ons hierdie tradisie kan hervorm sodat dit steeds sin en betekenis aan mense kan gee wat in die een en twintigste eeu leef. Langs die weg van historiese ondersoek na Jesus wat in Nasaret gebore is en ondersoek na die boodskap wat hy as profeet en wysheidsleermeester verkondig het, kan ons ons vry maak van religieuse fundamentalisme en fanatisme sodat ons kan omgee vir ander mense en die aarde en al die spesies wat daarop leef. Ons hoef nie onsself gebonde te ag aan die formulerings van teoloë wat in die vierde en vyfde eeu nC geleef het nie. Ek dink nie meer teïsties oor God nie, maar a-teïsties, dit wil sê: nie-teïsties. Die goddelike is vir my te vinde in die natuur en in die verhouding met alles rondom my. Die idee van panenteïsme (dat die goddelike in alles te vind is, maar ook méér as alles is) open vir my weë om sin en betekenis aan my lewe te gee.

Bibliografie

Baggini, J 2003. Atheism: A Very Short Introduction. Oxford: Oxford University Press.
Dawkins, R 2006. The God Delusion. London: Bantam.
Den Heyer, C J 1998. Jesus and the Doctrine of the Atonement: Biblical notes on a controversial topic. London: SCM.
Eloff, J N 1975. Die dilemma van die moderne Christenbioloog. Bloemfontein: UOVS.
Freeman, C 2003. The Closing of the Western Mind: The rise of faith and the fall of reason. London: Pimlico.
Gould, S J 2002. Rock of Ages: Science and religion in the fullness of life. London: Vintage.
Grabbe, L L 1987. Fundamentalism and scholarship: The case of Daniel, in Thompson, B P (ed) Scripture: Meaning and method. Essays presented to Anthony Tyrrell Hanson, 133–152. Hull: Hull University Press.
Hunt J 2004. Bringing God back to earth: Confessions of a Christian Publisher.Washington: O Books.
Jordaan, W 2006. 'Waanbeeld' vir 'n sinvolle lewe. Beeld 22 November, p. 18.
Nelson-Pallmeyer, J 2005. Saving Christianity from Empire. New York: Continuum.
Spong, J S 2002. A new Christianity for a new world: Why traditional faith is dying and how a new faith is being born. New York: HarperCollins.
Vaughn, L 2005. The Power of Critical Thinking: Effective reasoning about ordinary and extraordinary claims. New York: Oxford University Press.Weber, G 1998. I Believe, I Doubt: Notes on Christian Experience. London: SCM Press.

[1] Vergelyk Wilhelm Jordaan se kritiek hierop in sy artikel "'Waanbeelde' vir 'n sinvolle lewe' in Beeld (Woensdag 22 November 2006), p. 18.

 

SKEPPINGSBEELDE & MITOLOGIESE RAAMWERKE

Prof Peet van Dyk (UNISA)
10 Junie 2007

1. INLEIDING:

1.1 Hoe verstaan ’n mens die skepping in die Bybel?

Meeste mense kan onmiddellik die mees basiese feite van die Bybelse skeppingsverhale vinnig herhaal:

  • Binne ses dae
  • God het net ‘n woord gespreek
  • Begin met chaos van duisternis en water
  • Eers die droë grond, toe die plante en diere en daarna die mense

1.2 Daar is egter die volgende probleme met bogenoemde siening:

  • Daar is twee skeppingsverhale (Gn 1 & Gn 2) wat drasties verskil (dae, orde, hoe, Godsnaam, skryfstyl)
  • Hoe hou verskillende elemente verband met mekaar? Die skrywers het duidelik verskillende beelde of prentjies in hul koppe gehad. Ongelukkig blyk hierdie beelde nie altyd duidelik in vertalings nie.
  • Wat is die onderliggende logika of “wetenskaplike” onderbou aan hierdie voorstelling? In die voor-wetenskaplike era van die Bybel is ‘n mitologiese raamwerk gebruik om sin te maak van die kosmos.
  • In tradisionele literatuur word baie elemente veronderstel eerder as om dit elke keer in detail uit te spel. Dit kan gedoen word omrede die verteller en sy gehoor dieselfde verwysingsraamwerk deel. Hierdie feit maak dit moeilik vir die moderne leser om die Bybelteks te verstaan omrede:
  • Ons uit ’n ander taal, kultuur en tydperk kom.
  • Ons werk met ‘n Westerse & wetenskaplike verwysingsraamwerk wat fundamenteel verskil van die Bybelse raamwerk.

Dit impliseer dat ons die Ou-Testamentiese skeppingsverhale slegs kan verstaan indien ons:

  • kan sin maak uit die Bybelse vertaling;
  • die beeld/prentjie van die kosmos (soos dit voorgestel is in die Antieke Nabye Ooste) suksesvol kan rekonstrueer;
  • weet wat ‘n mitologiese raamwerk is en hoe dit funksioneer (in kontras met ’n wetenskaplike raamwerk)

2. VERSKILLENDE BEELDE VAN DIE SKEPPING

2.1 Afrika:

Na ’n katastrofe (vuur of droogte) kom eerste mense uit ’n boom — holte, oop bars. Blare van boom val af en daaruit ontstaan diere. Mens kom uit ’n gat in die grond of uit ’n rots of ’n miershoop. Mens kom uit water (net by stamme wat naby groot riviere bly); Mens is afgebreek van ’n riet (Zulu)

Gevolgtrekking:

In Afrika is die onderliggende beeld van die skepping van die mens dié van geboorte. Die fokus is op die ontstaan van mens — nie ’n volledige kosmologie nie!

    • Antieke Nabye Ooste

Meer volledige kosmologieë het in die Antieke Nabye Ooste voorgekom. Die volgende is ‘n paar voorbeelde van verskillende beelde van die skepping:

  • Kosmos ontstaan na konflik tussen gode — die liggaam van verslane god/gode word gebruik om die basiese komponente van die van die kosmos uit te maak (bv. Egipte - Nut en Geb; Babilonië - Tiamat).
  • Die Egiptiese godsdiens is uiters kompleks omdat verskillende gode in verskillende tydperke gedien is en eienskappe van ouer gode dikwels oorgedra is op nuwe gode. Twee alternatiewe voorstellings van die skepping was:
  • Khnum het die ander gode, mense en diere uit klei gevorm (die beeld van ’n pottebakker)
  • Die eerste lewende wesens het uit ‘n kosmiese eier uitgebroei.
  • Hoewel daar verskillende detail voorstellings van die skepping in die Antieke Nabye Ooste was, was daar tog ooreenstemming in hoe die basiese struktuur van die kosmos gesien is en hoe die verskillende elemente met mekaar verband gehou het.

3. BASIESE STRUKTUUR VAN DIE OU NABYE OOSTERSE KOSMOS



Drie hoofkomponente:

(1) Aarde: droë grond — plat skyf, rus op pilare in oervloed (wat onder die aarde is).

(2) Die doderyk: Êrens in die oervloed onder die aarde — het sewe poorte.

(3) Hemel:
Bestaan uit hemelse water. ’n Koepel (firmament of uitspansel) is oor die aarde gespan (soos ’n tent - vgl Ps 104, Amos 9 & Job) om die hemelse water weg te hou van die aarde af (vgl Gn 1:7). Bokant die uitspansel (in die hemelse water) is daar ’n bo-vertrek (of solder) waar God gewoon het in sy hemelse paleis of tempel.

Ander belangrike dele:

Twee kosmiese pilare (Egipte = Bome) stut die uitspansel op die oostelike horison. In Egipte word die songod (Ra) elke oggend hergebore (na sy tog per boot deur die doderyk) en verskyn dan weer met dagbreek tussen hierdie twee pilare. Hy klim dan oor in sy hemelse boot waarmee hy dan gedurende die dag deur die hemelse waters vaar.

’n Tuin op die Oostelike horison (Bybelse Eden): Op die oostelike horison, waar die hemel, aarde en doderyk bymekaar kom, is ‘n goddelike tuin. Dis met ’n muur omring en is toeganklik vanuit die hemel en vanaf die aarde. Dis ’n tuin van oorvloed, wat besproei word deur verskeie kosmiese riviere. Dit is die plek waar die gode al hul voedsel vandaan kry. In die tuin is verskeie bome geplant. Die boom van lewe is die belangrikste — die gode eet van sy vrugte sodat hulle vir altyd jonk kan bly). In die Persiese tyd is hierdie tuin die paradys genoem.

Wanneer ’n mens die basiese struktuur van die kosmos verstaan, maak die twee skeppingsverhale in Genesis 1 en Genesis 2 ook meer sin:

  • Genesis 1 (die Priesterverhaal) fokus op die groter prentjie — die skepping handel oor die ontstaan van die hele kosmos (hemel en aarde).
  • Genesis 2 (die Jawistiese verhaal) is minder ambisieus — dit fokus net op die uitleg van die goddelike tuin op die oostelike horison en die vorming van die mens (beeld van pottebakker).

MAAR bogenoemde verduideliking is nog net ’n prentjie/beeld van skepping in sy breedste trekke. Meeste detail is nog vaag en hoe alles in ‘n funksionele eenheid inpas is nog heeltemal onbekend. Dit is daarom nodig om nog meer presies te fokus op die detail van die Bybelse skeppingsverhale.

4. GENESIS 1 - SKEPPING AS TABERNAKEL / TEMPEL

Verbeel jou jy staan in Moses se tabernakel (eintlik net ’n draagbare tempel) of in Salomo se tempel in Jerusalem.

  • Daar is drie verdiepings. Jy staan op die vloer van die middelste verdieping. Bokant jou is die plafon van die tempel met ’n ruim solder bo-op die plafon.
  • Die tempel is so opgelyn sodat die hoofingang na die ooste wys. Die ingang bestaan uit twee groot pilare wat die dak stut. Op die pilare is rooi granate uitgekerf wat die rooi kleur van die sonsopkoms en vrugbaarheid simboliseer. Daar hang ligte wat met toue aan die dak vasgemaak is. ’n Metaal waskom staan net buite die tempel. Dit word die “metaal see” genoem en simboliseer die oervloed. Die tempel is presies in sewe jaar gebou.

Lees nou weer Genesis 1 en gee aandag aan hoe God die kosmos gebou het. Hopelik is dit nou duidelik dat die prentjie wat die priesterlike skrywer in sy kop gehad het een was wat presies ooreengestem het met dié van tempelbou.

5. GENESIS 2 - SKEPPING AS DIE UITLEG VAN ‘N TUIN

In Genesis 2 kry ons nie ’n volledige uiteensetting van hoe die aarde ontstaan het nie. Die Jahwistiese skrywer fokus net op die plant van ’n tuin op die oostelike horison:

  • Eers maak Jahwê die fonteine en putte se sluise oop sodat die grond kan nat word. ’n Pottebakker kan nie met droë klei werk nie en niks groei in droë grond nie.
  • Hierna vorm hy die mens uit klei (nou eerste en nie laaste gemaak nie).
  • Dan plant Jahwê ’n tuin in die ooste met baie bome en struike — mooi om te sien en met ’n oorvloed van lekker vrugte. Twee kosmiese bome (lewe & kennis) is ook in die tuin — ’n ware paradys van oorvloed van goud en balsemgom, oniksteen.
  • Maar ’n tuin het baie water nodig, daarom skep Jahwê vier riviere wat deur die tuin vloei om dit te besproei.
  • Die mens word aangestel as die opsigter en tuinier.
  • Omdat die mens alleen is, maak Jahwê diere en voëls en wanneer dit nie werk nie — die vrou.
  • Saans kom Jahwê af uit die hemel (onthou die tuin is op die grens van die hemel en die aarde) en wandel saam met die mens in hierdie goddelike tuin.

Waarom bly ons nie meer in hierdie paradys tuin nie? Want die mens het gesondig en is daarom uit die tuin gejaag. Gerubs (is nie engele nie!) beskerm die ingang met vlammende swaarde. Nou moet die mens werk vir sy kos en is “afgesny” van Jahwê.

Die hele boek Jesaja werk met dieselfde tema van ‘n tuin en die nuwe skepping as die plant van ’n tuin:

  • Eerste Jesaja (Jes 1-39) — woestyn voor skepping;
  • Deutero-Jesaja (Jes 40-55) — Juda word geplant in ’n nuwe tuin in Palestina;
  • Trito-Jesaja (Jes 56-66) — die hiernamaals voorgestel as ’n hemelse tuin.

6. DIE HEMEL EN AARDE VERBIND — MAGIESE OF “MITOLOGIESE BINDING”

MAAR ons het nog nie gepraat oor hoe al hierdie beelde met mekaar verband hou en hoe die hele kosmos werk of funksioneer nie. NIE soos wetenskaplikes sê nie. ’n Mitologiese (voorwetenskaplike) raamwerk i.p.v. wetenskaplike. In die mitologiese raamwerk van die Antieke Nabye Ooste het elke aardse komponent ’n hemelse eweknie: bv. aardse tempel is ’n afbeelding van hemelse een; koninklike tuin is ‘n voorstelling van paradys op horison. Aardse en hemelse is kosmies / magies / mitologies met mekaar verbind. Hierdie magiese / mitologiese verbindings is NIE simbolies NIE, maar is gesien as werklike (amper fisiese) bindinge. Vgl. Amos 9 waar God teen die pilare van die tempel slaan en dit ‘n aardbewing oor die hele aarde veroorsaak.

Die aardse tempel is ’n werklike poort of voorportaal tot die hemel. Ons kan daarom sê God is werklik in sy aardse deel van die tempel. Koninklike tuin (plant bome oorwinning) religieuse konteks.

7. SLOT

Mitologiese en wetenskaplike verhale staan direk teenoor mekaar. Ons moet die skeppingsverhale ontmitologiseer om betekenis daaruit te verkry.


Soekers na eietydse sin deur verhoudings

27 Augustus 2006 Rina Venter

Die opsomming van Rina Venter se voordrag neem die vorm aan van twee skyfievertonings. Jy kan of skyfie vir skyfie daarna kyk (die vertoning begin onmiddelik), of die hele vertoning in Adobe PDF of Microsoft Powerpoint formaat aflaai.

 

Die post-moderne mens is bewus daarvan dat waardes en houdings deur die loop van eeue (en selfs binne ’n leeftyd) verander en sien ook waardes in ander kulture wat ewe veel bestaansreg sou kon hê.  Daar word tans wegbeweeg van lewenshoudings en lewenswaardes wat gedryf word deur die “Woord van God/Allah/Buddha” wat op ’n spesifieke tyd onder spesifieke omstandighede op ’n spesifieke kultuur afgedwing word.  Tiperend hievan in die christelike tradisie is byvoorbeeld die veranderde verhouding tussen kerk en owerheid, kerke se respons op veranderende wetenskaplike insigte, doktrines oor slawerny, rassisme, vroueregte, ens.

Hierdie besprekings het gegaan oor hoe waardes in ’n samelewing ontwikkel. Beide sprekers, Rina Venter en Chrizanne van Eeden, het besondere klem daarop gelê dat eietydse sin (waardes) deur interaksie met die mens se omgewing ontwikkel.

Rina Venter het daarop gefokus dat elke individu sy eie waardes ontwikkel deur interaksie: die verhoudings waaraan hy of sy deelneem.  Die omgewing en interaksie met ander mense is die bepalende faktore.  Hieruit volg mettertyd spesifieke lewenshoudings en -beskouings oor die aspekte wat die individu as belangrik beskou en wat dan as waardes aangeneem word.  Die aanvaarding van hierdie spesifieke waardes skep ’n geborgenheid by die individu waarmee hy/sy sy lewe kan aanpak.

Twee aspekte is aangespreek: “Wat is eietydse sin”: die lewenswerklikheid wat ons ken en die moontlikhede daarin opgesluit, en die “Behoefte” wat die mens het om sy lewenswerklikheid te ken, te verklaar, begrip daarvoor te ontwikkel, as realiteite te aanvaar en uiteindelik ‘n waarde daaraan toe te ken waaruit geborgenheid en sekuriteit ontwikkel.

Die proses van singewing behels dat ons ‘n waarde gee aan dit wat ons ken en soek na die geldige op ‘n bepaalde oomblik.  In hierdie voortdurend veranderende proses integreer ons kennis (oud en nuut) tot ‘n geheel en ken waarde daaraan toe.  Dit lei tot ‘n nuwe standpunt, fokus, oogmerke en betekenis.  Dit vereis egter selfkennis (‘n duidelike selfbeeld, kennis van eie lewensbehoeftes en houding teenoor self), ander, materiële dinge en God. Sinvolle eietydse verhoudings is dus ‘n konsensus oor gesagswaardes wat ontstaan, selfrespek, respek vir ander, vertroue, verwagtinge, geborgenheid en sekuriteit. Soeke na eietydse sin d.m.v. verhouding sou dus kon beteken dat ek ruimte skep vir myself  maar ook vir vir ander om geborgenheid en ‘n gemeenskaplike ruimte te ontwikkel.

Chrizanne van Eeden se bydrae het meer spesifiek die ontwikkeling van die mens se sin deur die interaksie met ander mense ge-illustreer. Die eerste ‘imprinting’ is die van Ma-Kind, wat later uitgebrei word tot die van die gesin, die uitgebreide familie, skool en die groter gemeenskap. “Die mens is volledig mens deur ander mense”.

Singewing behels altyd die volgende aspekte:

  • Dis ‘n proses -daar is nooit ‘n eindpunt nie.
  • Dit is altyd insluitend – dit behels dus verhoudings met die self, ander, wêreld, kosmos en god (He who has a why to live for, can deal with almost any how.)  Elke aspek van menslike gedrag is verweef in relasie tot ander mense, trouens ons is neurologies geprogrammeer om op ander gerig te wees.  Daarby dien die ouer-kind gehegdheidsverhouding as prototipe van alle verhoudinge
  • Dis altyd nuut – ‘n voortdurende her-interpretasie, vorming van nuwe begrip en doel.
  • In interpersoonlike verhoudings is singewing altyd wederkerig: na die mate wat ek gee, sal ek ontvang.  Die Ubunthu-uitdrukking lui dan ook: “Die mens is volledig mens deur ander mense”.

 

Spiritualiteit - die reis na die Self

26 Februarie 2006 Abel Pienaar

Die opsomming van Abel Pienaar se voordrag neem die vorm aan van 'n skyfievertoning. Jy kan of skyfie vir skyfie daarna kyk (die vertoning begin onmiddelik), of die hele vertoning in Adobe PDF of Microsoft Powerpoint formaat aflaai (dit neem tyd om eers 'n lêer af te laai).

Spiritualiteit uit die oogpunt van ’n vrou / Feministiese Spiritualiteit

Sunette Pienaar 9 Oktober 2005

Ek wil hierdie onderwerp benader deur te poog om dieselfde vier vrae te beantwoord wat Ann Carr beantwoord in die artikel "On Feminist Spirituality" (Women's Spirituality, 1986).

1.         Wat is spiritualiteit?
2.         Hoe verskil feministiese spiritualiteit van manlike spiritualiteit?
3.         Wat is feministiese spiritualiteit?
4.         Is  feministiese spiritualiteit  'n fase oppad na 'n voller menslike spiritualiteit?

Kom ons begin dus deur te besin oor spiritualiteit in wese.

1.         Wat is Spiritualiteit?

  • Spiritualiteit is omvattend van ons diepste godsdienstige oortuigings, denkpatrone, emosies en optredes met betrekking tot God
  • Spiritualiteit is holisties, omvattend van al ons verhoudings: ons verhoudings tot die skepping, tot ander, tot ons gemeenskap, tot die natuur.
  • Spiritualiteit is groter as 'n teologie/stel waardes, juis omdat dit allesomvattend is. Anders as teologie = eksplisiet intellektueel is, strek spiritualitiet verder - tot in ons onderbewuste. En terwyl ons spiritualiteit ons gedrag en houdings bepaal, is spiritualiteit ook meer as 'n bewuste morele kode. In verhouding tot God, is dit wie ons rêrig is, = ons diepste verborge self.
  • Dit is 'n dimensie van ons lewe wat berus op konvensies/gedragskodes, hoe ons grootgemaak is of ons sosiale verwagtings.
  • Spiritualiteit is nie noodwendig individualisties nie, alhoewel dit diep persoonlik is want ons verhouding tot God vind uitdrukking in ons verhoudings tot ander, ons gemeenskap, tot die politiek, tot die wêreld.
  • Ons spiritualiteit word weerspieël in alles wat ons doen. Dit word weerspieël in gemeenskaplike en persoonlike gebed, in ons gedrag, ons liggaamlike uitdrukkings, in ons lewenskeuses, in wat ons ondersteun in dit wat ons teenstaan.
  • Spiritualiteit is nie stagnant/onveranderend nie - dit verander voortdurend. As ons dit bewustelik kultiveer en voed en voor sorg, is dit 'n voortdurende stryd om nuwe persepsies en oortuigings in ons spiritualiteit te integreer.
  • Ons selfbewussyn of kritiese beoordeling van ons situasie in tyd, geskiedenis en kultuurparadigma word ingesluit by en uitgedruk deur ons spiritualiteit.

Omdat ons nou spesifiek hier gesels oor feministiese spiritualiteit, is dit ook belangrik om te besin oor hoe feministiese spiritualiteit dan verskil van manlike spiritualiteit wat ons by ons tweede vraag uitbring.

 

2.         Hoe verskil feministiese spiritualiteit van manlike spiritualiteit?

Die feit dat mans en vroue mekaar se gelyke is, negeer nie die feit dat ons verskillend is nie, dat ons anders dink oor die lewe nie, dat ons anders kyk na verhoudings nie. Herman van der Veen druk dit so treffend uit in een van sy asemrowende liedjies. "Jy is mooi, nie mooier, jy is anders mooi. Jy is goed niet beter jy is anders goed".  

Dus is daar ook heel waarskynlik verskille in mans en vroue se spiritualiteit. Moet my nie verkeerd verstaan nie, hierdie verskille te midde van ons gelykheid veronderstel nie 'n ondergeskikte komplementariteit wat niks anders as onderdanigheid en minderwaardigheid van een, die vrou, met betrekking tot die ander, die man, erken nie.

Anne Wilson Schaef onderskei in Women's Reality (1981) tussen 'n wit manlike sisteem en 'n vroulike sisteem. Die wit manlike sisteem verteenwoordig die dominante kultuur. Terwyl daar ander sisteme (manlik, swart, ens) is, beskou die wit sisteem volgens haar argument homself as die enigste een, die superieure een, die een wat alles weet en alles verstaan en die een wat glo dat dit heeltemal moontlik is om totaal logies, objektief en rasioneel te wees. Die vroulike sisteem kan dan slegs gedefinieer word vanuit die wit manlike sisteem as verwysingsraamwerk.

Schaef lys 'n stel kontraste wat ons mag help om te verstaan waar die verskille tussen manlike en vroulike spiritualiteite lê. (Hierdie kontraste beskryf abstrakte tipes, geen mens – man/vrou is algeheel die een of die ander nie. Sommige mans vind hulle tuis in die vroulikes sisteem, terwyl sommige vroue binne die wit manlike sisteem val).

ISSUES

WHITE MALE SYSTEM

FEMALE SYSTEM

Time

Clock

Process

Relationships

Hierarchy

Peer

Centre of focus

Self and work

Relationship (self-ander)

Sexuality

Central

Part in whole

Intimacy

Physical

Verbal

Friendship

Team Effort

Knowing and being

Power

Zero Sum (scarcity)

Limitless

Money

Absolute, real

Relative, symbolic

Leadership

To lead

To enable

Negotiation

Fun = winning

Fun = kreatiwiteit

In somtotaal is die wit manlike sisteem analities en bemoeid met definisies, verklarings en verduidelikings, eksklusief, en doelwit-georiënteerd. Daarenteen is die vroulike sisteem verteenwoordigend van integrasie, inklusiwiteit, verstaan, en ook proses georiënteerd.

Schaef doen 'n oefening met groepe wat bestaan uit mans en vroue, asook albei waarin sy die deelnemers vrae om karaktereienskappe van God en die mensdom neer te pen teenoor manlike en die vroulike karaktereienskappe. Dit lyk soos volg

GOD

HUMANKIND

MALE

FEMALE

male

Childlike

Intelligent

Emotional

Omnipotent/Almagtig

Sinful

Powerful

Weak

Omniscient/Alwetend

Weak

Brave

Fearful

Omnipresent/Alomteenwoordig

Stupid/dumb

Good

Sinful

Eternal

Mortal

Strong

Like children

Sy kom tot die slotsom dat mans tot vroue is wat God is tot die mensdom. En dit, argumenteer sy, is die mitologie van die wit manlike sisteem, waarvan die basiese hiërargiese struktuur soos volg daarna uitsien: God-man-vrou-kinders-diere-aarde en hierdie verhoudings staan binne 'n sisteem van dominansie. Die tradisionele teologie ondersteun hierdie mite wat ook duidelik tot uiting kom in wit manlik gedomineerde dominasies. Feministiese en ander komtemporêre teologieë soos kontekstuele en bevrydingsteologieë staan lynreg teenoor hierdie mite.

Nadat ons nou besin het oor die verskille tussen feministiese- en manlike spiritualiteit, kan ons dieper besin oor die betekenis van Feministiese Spiritualiteit.

  • Feministiese Spiritualiteit

'n Feministiese spiritualiteit word as vertrekpunt dus onderskei as 'n spirituele oriëntasie wat die sentrale elemente van die vroulike bewussyn/sisteem integreer.

Feministiese spiritualiteit is 'n manier waarop ons onsself identifiseer/definieer in relasie tot God. 'n Feministiese spiritualiteit is diep bewus van die historiese en kulturele beperking op vroue wat vroue 'n eng gedefinieerde plek binne die wyer menslike/manlike wêreld toeken en wat vroue van geleenthede tot self-aktualisering en self-transendensie weerhou, wat vroue inperk tot passiewe onderdane. 'n Feministiese spiritualiteit verteenwoordig 'n visie van 'n wêreld waarbinne ware wederkerigheid, wisselwerking en gelykheid aan die orde van die dag is, of dit is ten op sigte van geslag, kultuur, ras, klas, ouderdom, seksuele orïentasie (gay-debat) of die natuur. 'n Ten volle ontwikkelde feministiese spiritualiteit sal spore dra van die sentrale elemente van feministiese bewussyn, geïntegreerd binne 'n breër godsdienstige raamwerk.

'n Feministiese spiritualitiet erken die belangrikheid van 'n ondersteuningsnetwerk tussen vroue van alle ouderdomme, rasse en klasse (sisterhood) en staan nie-kompeterende, nie- hiërargiese, nie-dominerende verhoudings tussen mense voor. 

'n Feministiese spiritualiteit sal die manlike sisteem/male system tot aandag roep waar dit diskrimineer en hom aanspoor (in die hof, in die media) tot 'n wyer visie van 'n wêreld van ware wederkerigheid, gelykheid in interafhanklikheid voor 'n God wat eenheid en gemeenskap voorstaan.

'n Feministiese spiritualiteit moedig die outonomiteit, self-aktualisering en selftransendensie van alle vroue (en mans) aan. 'n Feministiese spiritualitiet moet bewustlike strewe om haarself te bevry van alle ideologieë ter wille van die outentieke vryheid van die individu en die groep.

'n Feministiese spiritualiteit verstaan die breër dimensies van menslike onderdrukking, soos veral uitgedruk in ongelyke verhoudings van rassisme, klassisme, seksisme en elitisme in ons gemeenskap en staan die bevryding van alle onderdrukte groepe voor. 'n Feministiese spiritualiteit moet haarself dan ook daarvan weerhou om 'n vrouebeweging te beperk tot 'n luuksheid wat net die rykes kan bekostig. Sy sal ook die noodkreet van vroue van alle kleure en klasse moet omhels.

'n Feministiese spiritualitiet is universeel en inklusief in haar visie en identifseer haarself met die 'struggle' van alle vroue - swart, bruin, geel of wit, ryk of arm, geskool of ongeletterd – tot die wêreldproblematiek van die dag. Want in die erkenning van die probleem van uitbuiting, geweld en dominasie van die manlike oor die vroulike, ryk oor arm, wit oor gekleur, sterk oor swak, mag oor vryheid, man oor natuur, beskou sy die geheel deur die dele. Geregtigheid seëvier wanneer ons almal in gelyke verhoudings tot mekaar staan.

Uiteindelik kan ons nie volstaan met twee uiterste pole van spiritualiteit wat lynreg teen mekaar te staan kom nie. Ons is tog in die eerste plek mense, alvorens ons 'n spesifieke geslag verteenwoordig. Daarom moet ons besin oor die moontlikheid van 'n voller menslike spiritualiteit wat ons by die laaste vraag bring:

 

4.         Is Feministiese Spiritualiteit net 'n fase oppad na 'n voller menslike spiritualiteit?

Ek hoop en wil glo dat feministiese spiritualiteit met haar spesifieke fokus op die self-aktualisering en -transendensie van vroue, en die dekonstruksie van magsverhoudings van seksisme, rassisme en klassisme uiteindelik net 'n tydelike fase sal wees oppad na 'n voller menslike spiritualiteit.

In Suid-Afrika is 'n feministiese spiritualiteit egter net 'n klein liggie in die oë van 'n paar akademici. Eksponente is wel sigbaar in die die publieke arena waar mense aandring op hulle grondwetlike regte tot gelykheid, maar dit is grootliks afwesig van die kerk in Suid-Afrika wat nog grotendeels 'n spieëlbeeld is van die manlike sisteem waar ongelykheid en diskriminasie op grond van geslag (vroue priesters/predikante), ras (die issues rondom kerkeenheid), en seksuele oriëntasie (soos verteenwoordig in die uitsprake van van die kerk rondom homo-seksualisme) aan die orde van die dag is.

Hoe kan ons te werk gaan om te groei tot 'n menslike (teenoor feministiese/manlike spiritualiteit) in Suid-Afrika?

  • Ek pleit vir regstellende aksie in die kerk. Die uitdrukking van sommige wit kerke dat vroue "toegelaat is tot die bediening" verteenwoordig nog steeds die wit dominante manlike sisteem as norm. "Ons laat julle toe". Dit gaan tog daaroor om 'n ongeregtigheid reg te stel. Hierdie regstellende aksie moet op leierskapsvlak geskied - in die kerk, in teologiese fakulteite - sodat vroue hulle feministiese spiritualiteit kan uitleef en ontwikkel, beginnende by die dekonstruksie van die wit manlik gekonstrueerde God en die ontwikkeling van hoofstroom feministiese teologieë (nie meer die werk van 'n eksklusiewe akademiese groep nie).
  • Kerkleiers moet uitgedaag word met 'n radikale evangelie om saam met onderdrukte/minderheidsgroepe te werk. Dit is wanneer jy deel in die 'struggles' en gebede van onderdruktes, wat 'bekering' 'n moontlikheid word. So kan enige iemand wat hierdie stap neem, identifiseer met die 'struggle' van vroue en begin deelneem in die beoefening van 'n feministiese spiritualiteit.
  • Elemente van 'n Feministiese Spiritualiteit moet aan die openbare plaaslike en internasionale diskoerse deelneem rondom MIV/Vigs, dienslewering, korrupsie, terrorisme, godsdienstige diskriminasie, Amerikaanse mag, ens.
  • 'n Menslike Spiritualiteit verstaan haarself in verhouding tot God wat die begrip "liefde" in totaliteit erbarm.

 

Oppad na 'n voller menslike spiritualiteit, kan die volgende woorde van Anne Carr (1986: 57) ons dalk help:

"What if one were to envision God as friend (in teenstelling met alomteenwoordige, almagtige, alwetende, ewige, manlike Vader) even as a feminist friend, rather than father or mother? What if God is friend to humanity as a whole, and even more intimately, friend to the individual, to me? A friend whose precense is joy, ever-deepening relationship and love, ever available in direct address, in communion and presence? A friend whose person is fundamentally a mystery, inexhaustible, never fully known, always surprsing? Yet a friend, familiar, comforting, at home with us: a friend who urges our freedom and outonomy in decision, yet who is present in the community of interdependence and in fact creates it? A friend who widens our perspectives daily and who deepens our passion for freedom - our own and that of others?" ()

 

Bibliography

Carr, A 1986. On Feminist Spirituality, in Conn. Joann Wolski (eds), Women's Spirituality, 49-58. New York: Paulist Press.

Schaef, A W 1981. Women's Reality. Minneapolis: Winston.

VAN VERSTARRING TOT VERWONDERING: ’N DISKURSIEWE BENADERING TOT DIE SIELKUNDE VAN GODSDIENS (Deel 1)

Wilhelm Jordaan 23 April 2006 Deel 1 van 2 dele

Ek lei vanoggend se gesprek in met die kollig op 'n diskursiewe benadering tot die Sielkunde van Godsdiens en sal poog om dit ook van toepassing te maak op die Afrikaanse wêreld. In my diskursiewe ontleding wyk ek ietwat af van die tradisionele Godsdiens-sielkundige benaderings wat meer psigodinamies ingestel is op godsdiensbelewenisse en -praktyke. Om my aanbieding te volg, het ek vier diagramme aan u uitgedeel. Ek sal u aandag, waar nodig, daarop vestig.

In Diagram 1 is daar 'n kort omskrywing van wat diskursiewe praktyke behels. Lees dit aandagtig deur. In die blokkie net daarnaas 'n algemene vraag wat mens help om diskursiewe praktyke te orden en te ontleed. Lees dit eers.

Diagram 1

Diagram 1 

 

Laat ek die impak en toepaslikheid daarvan onmiddellik  illustreer met 'n gedig: VDM (Verbi Dei Ministri)

Uit herderlike plig
en vir geloofwaardigheid
swoeg preker by sy sinne
predikate in.
Met sweet rojaal
spoeg hy kwistig oor ons
voldonge hel;
onvervalste waarheid;
ontwyfelbare geloof;
kerklike gesag.
Niemand glo hom nie
hy is ongeloof waardig

Ek herhaal weer: wie sê wat; aan wie; hoe; in watter konteks; met watter effek? Hieruit weet/vermoed u opeens wat 'n diskoers is; hoe dit van buite kom en na binne gaan; en weer na buite ensoverderaan.

Kyk nou na die groot buitesirkel (Diagram 2). Hier word die buitediskoers aangedui – 'n doelbewus ongeordende versameling items/temas/idees/name wat elk 'n soort diskoers verteenwoordig. Laat u oë daaroor dwaal en u sal gunstelingtemas, ander bekende, maar ook minder of onbekende temas, teëkom.

Diagram 2

Diagram 2 

 

Waarom so ongeorden en chaoties? Die buitediskoers verteenwoordig 'n see van inligting, of 'n wêreld van woorde (diskoerse), waaraan ons onderwerp word. Daar is selfs 'n plek vir grappe, want hulle is belangrike diskoerse! Soos die volgende enetjie te kenne gee:

Die juffrou in 'n multikulturele klassie sê die kinders aan om elkeen iets skool toe te bring wat vir hulle 'n simbool is van hul godsdiens. 'n Katolieke dogtertjie bring 'n bedesnoer; 'n Joodse seuntjie bring sy "yarmulka"; 'n Moslem-seuntjie 'n gebedsmatjie. 'n Afrikaanse dogtertjie bring ook iets wat sy agter haar rug hou. Gevra wat dit is, wys sy dit en sê:" Juffrou, hier's die pan waarmee ons pannekoeke vir die kerkbasaar bak."

<!--pagebreak-->

In die kleiner binnesirkel is die binnediskoers – die ervarings, die praat met die self – ten aansien van die diskoerse waaraan mense onderwerp word. Die tweerigtingpyltjies van buite na binne, en van binne na buite, dui die interaksie aan. Buitediskoerse voed binnediskoerse; en andersom.

Vir die doeleindes van my argument word die binnediskoers gedikteer deur drie vorme van weet, of kognitiewe style, aangedui as empiries, rasionalisties en metafories.

Die veronderstelling is dat dié style onderlê word deur die unieke biopsigiese apparaat wat elke mens het – persoonlikheid; temperament; ekstrinsieke en/of intrinsieke motivering; intelligensie; komplekse; angste; emosionaliteit; moraliteitsontwikkeling – al die dinge wat dikwels in die tradisionele en veelal empiriese Godsdiens-sielkunde gebruik word om mense se godsdienstige belewenisse en praktyke te beskryf en  te verklaar.

Iets meer oor die kognitiewe style, of vorme van weet:

Elk verteenwoordig 'n soort "bril" of "lens" waarmee jy die inligting rondom diskoerse waarneem, interpreteer en evalueer.

Die empiriese kognitiewe styl fokus op die "feitestatus" van diskoerse; die betroubaarheid van feite en die afleidings wat daaruit gemaak kan word. Die aanwending van die empiriese styl wissel op ‘n kontinuum van swak ontwikkel tot sterk ontwikkel.

'n Swak ontwikkelde styl kan byvoorbeeld verwys na mense wat parasiteer op hoorsê, skinderstories en andersins twyfelagtige bronne, maar wat aan hulle oningeligte opvattings die status van onweerlegbare feite en waarheid gee. In 'n sterk ontwikkelde styl word daar op die beste moontlike betroubare data en afleidings gefokus.

Die rasionalistiese weter is veelal geïnteresseerd in die logiese opbou van argumente; die wyse waarop premisse wat ingebed is in die diskoerse aangewend word om tot 'n geldige gevolgtrekking te kom. Ook dié styl wissel op 'n kontinuum van swak ontwikkel tot sterk ontwikkel. Soos ons al te goed weet, is daar mense wat eenvoudig nie 'n argument kan volg of bou nie, terwyl ander weer fyn redeneerders is vir wie geregverdigde afleidings in haas alle dinge van die grootste belang is.

Dié twee vorme van weet was/is uiteraard sterk vennote in 'n enigsins modernistiese wêreldbeeld. Dink hier aan Karl Popper se idees oor die verifikasie en falsifikasie van waargenome feite en die soort argumente wat daaromheen geweef word – soos die modus ponens en modus tollens.

Die metaforiese weter is veelal ingestel op die intuïtiewe, oorwegend gevoelsmatige, validering van die eie subjektiewe ervarings wat verband hou met omramende diskoerse – soos wanneer Sheila Cussons in die gedig "Besoeking" sê:

Daar het so pas 'n engel
deur my kop gegaan
terwyl ek op my rug gedink-lê het:
'n straal versekering: ek is nie vergeet nie.
Roerloos verras wil ek nie roer nie,
En verder nie dink nie, net vashou:
Solank ek dit kán, sal ék kan hou

Of wanneer my kleinkind van sewe ná 'n kerkdiens sê: "Toe die dominee gebid het, het ek gevoel ek is op 'n bootjie in die see en Jesus is met my."

Dit herinner ook sterk aan hoe mense in 'n premoderne wêreld hul ervarings probeer valideer het – deur beelde, stories, verhale, anekdotes. Natuurlik doen ons dit vandag nog met mindere of meerdere effek in films, stories, dramas, preke, skilderye, liedere ensovoorts.

Ook in hierdie geval wissel mense in die aanwending van die metaforiese styl op 'n kontinuum van swak na sterk ontwikkeling. En, terloops, laat ons nie die krag en waarde van metaforiese weet in byvoorbeeld suiwer wetenskap onderskat nie. Faraday, byvoorbeeld, het 'n godsdiensmetafoor aangewend om elektromagnetiese verskynsels te ondersoek en daaruit is die elektromagneet later ontwikkel.

Dit is belangrik om te onthou dat mense - deur hul eiesoortige biopsigiese samestelling, opleiding/opvoeding en lewensondervinding – neig om aan bepaalde styl voorkeur te gee tot die uitsluiting, of mindere aanwending, van ander. Meer bepaald, byvoorbeeld, is dit dikwels die geval dat sterk onwikkelde empiriese en rasionalistiese weters onderontwikkelde metaforiese weters is. En natuurlik ook andersom.

Tog, by sommige mense, word aldrie style gebruik na gelang van omstandighede; met baie permutasies en kombinasies.

'n Mooi parallel vir die ontwikkeling en samevoeging van die vorme van weet, kry mens in Frederik van Eden se roman "De Kleine Johannes":

Windekind is die jong kind wat onbekommerd deur velde vol blomme hardloop; na die wind luister en met feëtjies gesels (metafories weet). Windekind-wêreld word algaande, soos Windekind ouer word, Wistik-wêreld – om oor alles vrae te vra en dinge uit te pluis soos Wistik en ene Pluizer dit doen. Dan kom Dr Cijfer by wat aan alles wat bedink kan word die eis van wetenskaplikheid en kwantifisering stel. Wistik, Pluizer en Dr. Cijfer verteenwoordig die empiriese en rasionalistiese kognitiewe style. Maar uiteindelik, as Johannes 'n jong man is, word al hierdie dinge vir hom saamgevoeg in die vraag: Wat gee beslag aan jou lewe? Vir hom is dit die droom, die rede en die liefde wat van mense heel mense kan maak.

<!--pagebreak-->

Veel van ons diskursiewe misverstande - onder andere oor godsdienssake -  is dat ons nie altyd rekening hou met verskille in dié verband nie. Dikwels is dit ook 'n geval dat ons nie juis bewus is van die styl(e) wat ons by voorkeur gebruik nie.

Nog 'n belangrike punt is dat dié kognitiewe style ons ook selektief ingestel hou op die buitediskoerse van ons leefwêreld. Dit laat jou fokus op daardie elemente in ‘n diskoers wat onder die loep van jou voorkeur kognitiewe styl gebring kan word. Dink byvoorbeeld na oor die verskillende maniere waarop empiriese, rasionalistiese en  metaforiese weters met die buitediskoers oor 'n "God-kol" in die brein kan omgaan in hul binnediskoerse.

Maar die belangriker deel van my bydrae tot ons gesprek lê nie in die voorafgaande kort, erg vereenvoudigde, verduideliking nie. Dit gaan eintlik oor die gedeelte wat verband hou met Diagram 3 hier onder:

Diagram 3

Diagram 3 

 

Dit is godsdienstige ontwikkeling as die produk van buite/binnediskoerse – meer bepaald in die Afrikaanse wêreld:

Dit is belangrik om die vier "elemente" in Diagram 3 te verstaan as 'n nie-liniêre proses. Wat sê, dit is nie "fases" wat "wetmatig" van "links na regs" loop nie. Dit is eerder punktuasies wat rekursief op mekaar kan inkantel – sodat mens dikwels 'n vermenging van die verskillende punktuasies kan kry. Vandaar die idee van vele kombinasies en permutasies.

 

Verstarring en blinde goedgelowigheid

Kom ons sê dit heel eerste: Naïewe blinde goedgelowigheid – soos mens dit by 'n kind op 'n bepaalde vlak van kognitiewe ontwikkeling kry – is 'n essensiële en bekoorlike element in godsdienstige ontwikkeling. 'n Mens weerspreek tog nie 'n kind se spontaan-opwellende, kinderlike godsdienstige opvattings en uitings nie. Jy bring nie nuanses en korreksies aan wanneer ‘n kind nie gereed daarvoor is nie.

Waaroor dit nou hier gaan, is daardie soort blinde goedgelowigheid wat ingeklee is in  'n dogmatiese, voorskriftelike gewaad; wat ontwerp word deur volwassenes; en wat opgedwing word juis wanneer 'n kind begin vrae vra - wanneer konflik en twyfel intree as 'n funksie van normale intelligensie-ontwikkeling. (Onthou: Wistik/ Pluizer/ Dr. Cijfer).

Meer spesifiek gebeur dit wanneer die omramende buitediskoers nie geduld het met konflik en twyfel nie – terwyl dit juis gestel kan word dat 'n lewende, ontwikkelende  godsdiens noodsaaklikerwys geslyp en gevorm moet word in die werkwinkel van konflik en twyfel. Gebeur dit nie, raak blinde goedgelowigheid 'n gevaarlike godsdienstige praktyk – soos 'n versplinterde riet wat jou in die hand steek as jy daarop wil leun. Maar dit, vir eers, daar gelaat.

Kom ons sê dit dan meteens: Veel van die Afrikaanse wêreld (of dan Afrikaner-wêreld) se godsdienstige denke en praktyk word gekenmerk deur verstarring en blinde goedgelowigheid in die formaat van ontwyfelbare dogma – histories en vandag nog. Natuurlik is dit nie iets eie aan die Afrikaanse wêreld nie. Dit is tog 'n wêreldwye verskynsel; met 'n verskeidenheid verwante toeskrywings – fundamentalisme (van die sagter en venynige soorte); fanatisisme, tirannieke geloof; en wat genoem kan word "a generalised closed-mindedness towards life".

Tog is daar unieke faktore (of dan buitediskoerse) wat aan die Afrikaner (as individue en as groep) se godsdiensbelewenisse en -praktyke beslag gegee het – histories gesproke vanaf ongeveer die 1880's tot die 1980's, en ook daarna.

Ek wil dit opsom deur te sê dat Afrikaanse mense onderwerp is aan ten minste vier soorte diskoerse – eerstens, dié van 'n verburgerlikte godsdiens; tweedens, verknoeide Calvinisme met die idee van krag in isolasie; derdens die diskoers van vertikaalgerigte piëtisme; en vierdens die diskoers van "verletterliking" wat 'n hermeneutiese vakuum geskep het wat betref 'n kontekstuele benadering tot Bybelteksbetekenisse (vgl. die Du Plessis-saak van die 1930's).

Saam het hierdie faktore die deursnee Afrikaner in 'n byna hermeties verseëlde spirituele kapsule geplaas en 'n teologie van vrees en bewing geskep wat vandag nog sy rammelinge het. Teen dié agtergrond is die deursnee Afrikaner-huis se godsdienstigheid gekenmerk deur onkritiese goedgelowigheid; ondersteun deur 'n geneigdheid tot dogmatiese wettiesheid, muggiesiftery en moralisering.

<!--pagebreak-->

Hieruit ontstaan 'n soort "kasplant"-godsdiens waaroor die digter Louis Eksteen (let wel: in 1967) 'n gelyknamige gedig geskryf het. 'n Gedig waarvan die "kasplant-" beeld duidelik spreek: iets wat binne gehou word; nie veel son sien nie en kunsmatig gevoed word om te vergoed vir dit wat natuurlikerwys die voeding sou wees.

Ek weet goed, baie goed
hoe ek opgevoed is.
(Verskoon die eerste persoon
maar dit sorg vir 'n persoonlike toon.)
Nou, soos ek sê:
ek, en die ander van my geslag,
moes bang wees vir God,
vir ons ouers, die onderwysers,
die predikant, almal wat
oor ons gestel is: die owerheid in toto.
Vir die busse vir die trems
vir vuilsiekte en die Bantoe
vir Johannesburg, vir heidens,
en vir die gewone verkoue.
vir die drank en die musiek
veral vir Jazz
vir omtrent al wat boek is
vir die dagblad vir die Sondagblad
vir die geel gevaar, die swartgevaar
vir die Jood wat smous
vir kapitalis vir arbeider
vir Duitser
Amerikaner
en – veral –
die Engelsman.
Die Jode floreer
Die Franse hoereer
Die Duitsers beheer
Die Amerikaners oordonder
en die Ingelse oorheers
imperialiseer.
Ai, en ja, hoe bang moes ek nie is
vir die kommunis.
vir vrymesselaars
vir sosialis
vir die sons- en maansverduistering
vir besmetting van 'n wond
vir jou liggaam as hy gesond is.
Bang vir die water
Bang vir die son
Bang vir die reën ook
En bang vir die bom.
Bang vir my bang vir jou bang vir hom.
Vir die suidewind en haelstorms
vir harde reën en sagte stuif
vir nat voete
en vir seks.
Verskoon die persoonlike toon
maar dis hoe ek opgevoed is.

U kan stellig vra: Maar het dinge sedertdien nie verander nie? Ja en nee. Die Boetman-debat van so vier jaar gelede het duidelik teen die godsdiens van vrees en bewing geprotesteer, maar terselfdertyd was daar in bepaalde kringe die apploudering van dié soort godsdiens as 'n instrument tot oorlewing van die steeds bedreigde Afrikaner.

Kyk maar ook wat in hedendaagse diskursiewe praktyke gebeur (in briewe aan koerante, populêre artikels en inbelprogramme op die radio) sodra andersoortige godsdienstige of teologiese geluide gemaak word – soos nou met die Evangelie van Judas en voorheen met die Evangelie van Thomas. En wanneer daar  nuwe vrae gestel word oor ou kwessies soos erfsonde, Christus se geboorte uit 'n maagd, sy liggaamlike opstanding uit die dood en die posisie en waarde van ander soorte godsdienste.

Maar só 'n vreesgedrewe godsdiens het 'n hoë sielkundige prys – soos onder andere psigoanalitiese en ander ontledings aantoon in die konteks van realiteitsangs, morele angs en neurotiese angs. Hierdie soorte angs word dan terselfdertyd die voedingsbron van verstarrende godsdienstigheid.

Wat doen dit aan mense? Ek noem 'n paar dinge:

  • Dit isoleer jou van 'n veranderende wêreld terwyl jy die illusie van "geen verandering" vertroetel.

  • Dit verhinder gesprek, of debat, tussen oueres en jongeres wanneer twyfelvrae ontstaan en teenstrydighede bespeur word tussen dít wat jy glo en dit wat werklik aan't gebeur is. Daarmee saam kom die monster van 'n "generasiegaping" – die oueres wat trefseker weet wat hulle weet en die jongeres wat swyg met ‘n oplaaiende, ingekeerde frustrasie en woede.

Vrees dryf die liefde uit, of vervorm dit tot voorwaardes: net as jy sus en só maak, verdien jy my liefde en agting. Daaruit kom onverdraagsaamheid wat jou verhinder om te sien deur die oë van ‘n ander; te hoor deur die oor van ‘n ander en te voel deur die hart van 'n ander.

<!--pagebreak-->

Vrees lê lewenskreatieiteit aan bande, want kreatiwiteit veronderstel juis dat jy buite  bekende ruimtes beweeg – van "kasplant" na "vol-in-die-son-plant."

Vrees plaas die fokus op menslike swakheid, sonde en skuldgevoel eerder as op die ontwikkeling van menslike potensiaal en 'n onderskeidende morele bewussyn. Gevolglik verwag ons eerder die slegste van onsself en ander, en maak ons dit ook waar van onsself en van ander. Dit word 'n selfvervullende profesie.

Sink hierdie dinge by jou in, staan een ding vas: Vrees voed onverdraagsaamheid vir idees wat anders en vreemd en nuut is; en daarmee ook vir die mense wat anders is. Op die aard van verdraagaamheid in godsdienstige verband kom ek later terug.

 

Konflik en twyfel

Ek het reeds vroeër gesê konflik en twyfel, in die konteks van godsdiens, is die werkwinkel van 'n ontwikkelende, lewende godsdiens. Volgens E.D. Starbuck is twyfel die natuurlike erfenis van jongmense; wat natuurlik fout is. Twyfel en konflik kan die "natuurlike erfenis" van alle mense op alle ouderdomme wees – gegewe 'n vlak van kognitiewe ontwikkeling waar dinge geweeg kán en wíl word. Dit gebeur wanneer mens begin nadink, soos Wistik, oor die dinge wat jou vertel is en teenstrydighede ervaar – soos dié versie dit sê:

Toe ek 'n kind was
het ek gedog
die dinge is maar so
maar noudat ek 'n man geword het
weet ek
dit is dogmadinge
wat mens doodmaak
binne

Maar terselfdertyd is konflik en twyfel 'n positiewe krag – soos die katolieke priester Monsignor Quichote dit sê in Graham Greene se gelyknamige roman: "I am riddled by doubts. I am sure of nothing, not even the existence of God, but doubt is not treachery…Doubt is human. Oh, I want to believe that it is all true – and that want is the only certain thing I feel…"

Dit is juis hierdie "want" - hierdie diepste wens waarvan ons priester praat - wat te midde van twyfel en konflik godsdiensbesinning wakker hou, en wat tot ontwikkeling kan lei.

Daar is baie maniere waarop daar in godsdiensverband sielkundig na konflik en twyfel gekyk kan word. Gegewe my benadering oor buite- en binnediskoerse kan mens met vrug die sielkundige teorie van kognitiewe dissonansie gebruik om die aard van twyfel en konflik en hoe mense dit hanteer, beter te begryp.

Kyk na Diagram 4 waar die basiese vertrekpunte van dié teorie aan die hand van voorbeelde verduidelik word:

Diagram 4

Diagram 4 

VAN VERSTARRING TOT VERWONDERING: ’N DISKURSIEWE BENADERING TOT DIE SIELKUNDE VAN GODSDIENS (Deel 2)

Wilhelm Jordaan 24 April 2006 Deel 2 van 2

Die vraag is nou: Gegewe die beskrywende geldigheid van kognitiewe dissonansie/konsonansie, wat is die tipiese reaksies met betrekking tot die verskillende posisies of punktuasies in godsdienstige ontwikkeling?:

Eerstens, soos Diagram 3 aandui, 'n terugbeweeg na die leerstellige letterlikheid van blinde goedgelowigheid en verstarring. Want die buitediskoers gee dikwels dít te kenne: Ja, dit is so dat veral jong mense, as hulle hul verstand gekry het, twyfel en konflik ervaar. En dit is ook waar dat Thomas getwyfel het. Maar as jy nou klaar geflankeer het met jou getwyfel en jou gekonflik, keer jy natuurlikerwys terug na die "waarheid."

Só word die kognisies wat jóú waarheid vasvat en onderhou, weer in hart en niere aanvaar.

Tweedens, dieselfde terugkeer, maar bloot as ‘n soort gebaar. Die kognisies word nie werklik onderskryf nie. Ter wille van die beskutte plekkie in die gesinskring en sosiale gemeensaamheid neem jy deel aan die komedie van die godsdienstige ritueel. In die trant van: Sondag eet ek nagmaalbrood en glo ek word gevoed, maar more by ontbyt weet ek die brood is gemaak in Boerstra se oond; Sondag drink ek nagmaalwyn en soek die troos, maar more by die middagmaal proe ek die wyn is bloot die KWV se hanepoot.

Dit gryp jou nie aan nie en jy wil daarsonder, maar "straying from the fold" (om buite die beskermende kudde te wees) is skuld- en angswekkend. Vir halfprys draf jy saam; meganies, non-reflektief, maar tog met 'n durende bewustheid van 'n spanning oor dit wat meganies beaam word, maar wat op geen manier op jou lewe beslag lê nie. Jy kan net sowel daarsonder gaan en doodgaan.

Met 'n derde moontlike reaksie op konflik en twyfel, skuif ek nou oor na die posisie of punktuasie van buitestanderskap.

 

Buitestanderskap

Daar is dikwels ‘n gestadigde of  summiere beweging na buitestanderskap wat die verwerping van al die bekende kognisies veronderstel; tesame met 'n moontlike soeke na kognitiewe konsonansie in kille godsdienslose ruimtes. Hiermee saam, kom 'n skerp bewussyn van onverbondenheid.

Soos Albert Camus dit voortreflik filosofies aanteken in "Die Buitestander"; of soos die digter Hendrik Marsman sê: "Ik sta alleen; geen God of maatschappij die mijn bestaan betrekt in een bezield verband." Of soos ‘n karakter in André P. Brink se "Lobola vir die lewe" gesê het: "O, Niks wat in die hemel woon/Hier staan ek juigend voor U troon"; of soos die priester in die film "Antonia's Line" wat sy priesterlike gewaad van hom afstroop, straat-af afhardloop en vrolik uitroep:"Ik ben vrij, Ik ben vrij".

Maar die buite/binnediskoers oor buitestanderskap is méér as net abstrak, filosofies, literêr. Dit dring ook deur tot die konkrete weefsel van die eie bestaan; in die gesinskring waar kinders húlle godsdiensvrae begin vra; en wat oplaas die buitestander se geslooptheid van lewensin en onverbondenheid blootlê. Soos in die volgende vers:

huisaltaar

pappa wie is jy
kind ek is 'n pasehaas
wat iewers in april
sjokolade-eiers op geheime plekke plaas
waar julle dit kan vind

pappa wie is jy
kind ek is 'n krismisvader
wat elke jaar presente om 'n boom rangskik
vir een aand se geluk

pappa wie is jesus
juffrou sê hy is ons meester
ek weet nie meer nie kind
vra vir mamma om dit uit te vind

pappa praat met my oor jesus
jesus kind nie vanaand nie
pappa gaan 'n lesing hou
dat siel en liggaam één is
nie twee
dis my werk my kind
waarmee ek julle speelgoed
kos en klere gee

Ondanks die krag van omramende diskoerse oor buitestanderskap en die eie binnediskoers, kan daar residue van die "afgestorwe" kognisies oorbly. Daar kan dus ‘n voortgaande dissonansie wees met die konsonante kognisies wat in buitestanderskap gevind is. Waarmee mens sê: buitestanderskap kan 'n belangrike impuls tot godsdiensherlewing wees.

Soos die skrywer Anna M Louw dit in die mond lê van die karakter Vos – die boer wat sy siel aan Hans Bokpoot gegee het in ruil daarvoor dat dit, tydens 'n droogte, net op Vos se plaas in die Noordweste sal reën. Toe gebeur dit tot die uiterste verskrikking toe. En só word sy belewenis aangeteken: "Hy voel God in hom skop soos die ongebore lam in 'n skaapooi se pens."

<!--pagebreak-->

Dit spreek van 'n geblokkeerde en tog voortgaande verlange en heimwee na lewensin met God as middelpunt van die verlange; die Trooster van die bang gemoed (die "afgestorwe" kognisies). In Vos se geval is die godsdienstige herlewing aanvanklik 'n beweging terug na die kader van blinde goedgelowigheid van die onverdraagsame soort. Dit word vertoon deur sy blinde, ongevoelige ywer om mense wat anders leer dink het te máák dink soos hy dink; dat sý godsdienstige kognisies alle moontlikhede in perfekte konsonansie ondervang.

Die rigting van godsdienstige herlewing kan ook wees na dit wat ek in Diagram 3 breedweg noem verwondering en fundamentele vertroue.

Maar voordat ek daarby kom, net eers dit: Soos Diagram 3 aandui, is buitestanderskap – soos ek dit hierbo beskryf het – nie 'n noodsaaklike voorwaarde vir godsdiensontwikkeling nie. Die "direkte" pyltjie vanaf konflik en twyfel na verwondering/fundamentele vertroue dui dit aan.

In só 'n geval behels die ontwerp van nuwe of gewysigde konsonante kognisies 'n gestadigde vormingsproses wat soms met hoë bewustheid plaasvind (deur onder andere wetenskaplik teologiese refleksie waarin empiries en rasionalisties weet deurslaggewend kan wees); soms oorheersend intuïtief, ervarend-metafories; en soms deur die aanwending van aldrie kognitiewe style.

Die resultaat van hierdie vormingsproses is 'n soektog na omvattende begrip – wat deur die Switserse kognitiewe sielkundige Jean Piaget as die afronding van kognitiewe ontwikkeling beskou word. Dit behels 'n stel uitbreidende konsonante kognisies wat ook 'n houdingsverandering insluit.

Dié houdingsverandering kom daarop neer dat jy deelgenootskap ervaar aan 'n betekenisvolle ekologiese en kosmiese orde; met die fundamentele vertroue dat dit wat mense "God" noem - op die een of ander manier wat ons nie begryp nie - aan die steeds ontvouende orde beslag gee. Dié vertroue verskaf die impuls tot "Gods-dienstigheid" in alles wat mens tot mens maak.

Dit besorg aan die mens 'n impuls tot 'n diepstrekkende spiritualiteit wat jy tot die kern van jou mensheid reken.

Om in kontak te wees met hierdie kern en daarvolgens te leef, het bevrydende helende krag. Wanneer dié kern "werk", is dit soos 'n kristal wat elke keer met die optel daarvan nuwe konfigurasies van lig en kleur deurlaat. Daarom praat mense wat iets hiervan beleef dikwels van buitengewone belewenisse: verligting, ekstase, verwondering, blydskap, diepstrekkende vrede, oorgawe aan liefde en deernis en 'n mistieke ervaring van eenheid met alles in omhelsing van die ganse kosmos.

Dit is dan, soos die skrywer James Joyce sê, wanneer die siel van die allergewoonste dinge helder skitter.

Die totaaleffek van dié vormingsproses bied 'n impuls tot volgehoue refleksie oor godsdienstige kognisies - in teenstelling met meganiese, onnadenkende, gewoontevormende godsdiens.

 

Verwondering/ fundamentele vertroue

Die wese van verwondering/fundamentele vertroue lê in die beskrywing wat ek so pas gegee het van die allesomvattende spirituele uitkoms van die soektog na omvattende begrip. Maar dit verteenwoordig net die algemene belewenis van spiritualiteit wat uiteraard nie die rykdom van moontlikhede ondervang nie.

Ek wil graag vir ons gesprek twee soorte spiritualiteit uitsonder:

Eerstens, 'n emotiewe, metafories-belewende spiritualiteit wat in die reël nie 'n saak het met die empiriese en/of rasionele opweeg van konsonante/dissonante godsdienstige kognisies nie.  Dit gaan oor belewenis, híér-en-nóú.

Soos wanneer mens na goeie jazz luister. Jazz se bekoring lê in die wyse waarop duidelik dissonante klanke algaande opwerk na, en saamgevoeg word in, ‘n meevoerende geheel.

Die musiek van "Antiphone Blues" is hiervan 'n goeie voorbeeld. My CD-opname is gedoen in 'n Sweedse kerk met 'n orrel en saksofoon as musiekinstrumente. Die orrel wat normaalweg met die gewydheid van aanbidding in 'n kerk geassosieer word, begin byvoorbeeld met bepaalde akkoorde, waarop die saksofoon (wat normaalweg met wêreldlike dinge geassosieer word) "antwoord" en waarop die orrel dan "wederantwoord" ensoaan; elk met sy eiesoortige musikale wendinge en versnellings. Uit al dié dissonansies kom die totaaleffek van 'n gewyde konsonante geheel.

In 'n sekere sin is hierdie soort "luister na jazz" 'n kritiek op die opvatting, a la kognitiewe dissonansieteorie, dat mense noodwendig op empiriese en/of rasionale wyse konsonansie soek en vind deur dissonante kognisies te verander, of te verwerp.

Want wat hier aan't werk is die verskynsel van dubbele of paradoksale bewussyn wat juis toelaat dat dissonante kognisies die geheelervaring van 'n omvattende  konsonansie skep.

Paradoksale bewussyn skep 'n toleransie vir sulke soorte dubbelsinnigheid en,  volgens die werk van die sosiale sielkundige Milton Rokeach, is dit 'n belangrike eienskap van die "open-minded"persoonlikheid. Ander voorbeelde vind mens in die digkuns van die mistiek waarvan  Sheila Cussons se  "Gebed" 'n goeie voorbeeld is. Ek haal 'n grepie hieruit aan:

Hoe sal ek U ooit ken?
U is te naby, U is te ver,
U klewe aan my kyker vas,
wykende, wyderende ster - 

dan snap ek die genade –
suiwerder as weet, duideliker as pyn
van wyk dat ek moet nader,
altyd verder nader…
O, verborge Wonder
Magneet, wat ek sal ken!

<!--pagebreak-->

Is hier werklik sprake van rasioneel/empiries-soekende kognitiewe konsonansie? Juis nie.

Paradoksale bewussyn kan mens ook help om "permanensie" te vind te midde van verandering. Volgens Jean Piaget vind mense, in algemene kognitiewe ontwikkeling, permanensie deur konservasie (bewaring) – waar permanensie beteken "iets" (‘n residu, 'n oorblyfsel) is nog aanwesig al is dit nie onmiddellik teenwoordig nie.

'n Nuttige toepassing van dié kognitiewe beginsel vind ek in Annette Snyman se gedig "Gee my net één dag":

Gee my net één dag soos toenterjare
'n dag vol soetwyn in Jerusalem,
g'n drome droom - gesigte sien -
'n dag wat van wind en vlamme sing!
Maak van my so 'n nuwe Pinksterling
dat ek die taal waarin ek gebore is,
my eie klank, in elke geelvink en kanarie hoor:
by tortels en kokkewiet se kind
die ABC van duisend warm woorde vind!

Hiermee sê die digter: Gee my weer die bekoring en die inspirasie van die verbygegaande tyd  toe mense dit beleef het dat die Heilige Gees uitgestort is ("permanensie"), maar nou in 'n ander formaat  – in 'n eie Afrikaanse klank wat borrel in die alfabet van 'n nuwe spreekwyse oor die mens se verlange om iets van God te begryp; en om in daardie begrip geborgendheid te vind ("konservasie"). 

Maar u sou kon vra: wat het paradoksale bewussyn te make met die meer praktiese aspekte van godsdiensbelewenis?

Daarom dié voorbeeld: Die Apostoliese Geloofsbelydenis (die Twaalf Artikels) is vir baie moderne mense 'n struikelblok. Hulle kan hulle nie meer daarmee vereenselwig nie, en kan dit dus ook nie met oortuiging in 'n erediens nasê soos die gebruik is nie.

Dié soort probleem is 'n tipiese voorbeeld van rasioneel-gedrewe kognitiewe dissonansie. Maar paradoksale bewussyn kan 'n ander "lesing" van dié geloofsbelydenis toelaat.

Enersyds: hierdie belydenis roer my en maak die verlange na God in my wakker. Dit is die geloofspad waarlangs die kerkvaders dit eeue gelede begryp het, en waarlangs ek ook gekom het van kindsdae af. Ek kan my hierin verbly as 'n kosbare geloofsvormende geskiedenis waarsonder ek nie wil wees nie.

Andersyds en terselfdertyd: ek glo die misterie van God en Christus is ontvouend en dit laat my toe om dit wat vir my vreemd en onaanvaarbaar geword het, in te klee en uit te brei met die mistiek van altyd soekende verwondering; dat ek ander woorde kán en mág vind wat my die troos bring dat ek nie buite staan nie.

'n Tweede soort spiritualiteit kom neer op 'n oorwegend rasioneel gedrewe poging om as'tware nuwe godsdiensparadigmas te ontwikkel wat in bepaalde gevalle nog verband hou met ‘n oorspronklike paradigma, en in ander gevalle heeltemal verwyderd is daarvan.

Vanselfsprekend staan ‘n oorwegend rasioneel gedrewe spiritualiteit nie noodwendig los van die metafories-ervarende soort nie. Dit kan juis as impuls dien om op 'n bewuste, rasionele manier 'n konstellasie van konsonante kognisies te bou wat op kritiese wyse godsdiensverantwoording in die oog het. Ek dink in dié verband aan Christelike godsdiensbeoefening waarin die idee van Christus as persoonlike verlosser laat vaar word en so ook die idee van 'n persoonlike God. Maar onthou in dié verband my vroeëre opmerking dat aldrie vorme van weet (kognitiewe style) soms aangewend kan word; selfs al het jy ‘n voorkeur vir 'n bepaalde kognitiewe styl.

U sal merk dat in Diagram 3 daar ook 'n pyltjie terugloop vanaf  verwondering/ fundamentele vertroue na verstarring/blinde goedgelowigheid. Waarom? Omdat daar altyd - met enige godsdiensposisie - dié moontlikhede bestaan:

Eerstens, dat algaande vergeet word dat ons met 'n "Geheim" besig is; en dat ons dit met óns beperkte soort soekligte probeer aftas. Dat ons byvoorbeeld nie die digter Robert Frost se soort insig werklik begryp en inreken in ons dink, praat en doen nie:

We dance around in a ring and suppose
But the Secret sits in the middle and knows

Of dan, aanvullend, in Afrikaans:

Ons dans in 'n kring en maak onsself wys
Maar die Geheim sit stil in die middel en swyg

<!--pagebreak-->

In die Rodin-museum in Parys is daar 'n merkwaardige stukkie beeldhouwerk (genoem "Die Geheim") wat die wesenlike hiervan uitdruk. Spoor dit gerus op deur die Internet.

Uit 'n ruwe, ongevormde marmervoetstuk styg twee hande op wat sag, huiwerend, eerbiedig, beskermend aan mekaar raak. In die klein afgesonderde ruimte tussen-in ("geheim" beteken letterlik iets wat van ander dinge afgesonder is) wil-wil iets oopvou, maar dit gebeur net-net nie. Waar jy ook al staan en kyk, jou oë wil die hande oopbeur, maar dit bly tergend, ontwykend toe.

Tweedens, dat jou godsdienstige "posisie" of "punktuasie" selfverheerlikend raak in dié sin dat jy reken die nuwe lig wat jy gekry het, verdonker alle ander lig. Jy het godsdienstig/spiritueel gearriveer.

Derdens, dat jy jou weg na spiritualiteit voorhou as die eksklusiewe toegang tot die poorte van spiritualiteit; en

Vierdens, dat jou godsdiensbelewenis en -praktyk oplaas non-reflektief, meganies en daarom ook nuwe dodelike "dogma" word. Wanneer dit gebeur, is die "inhoud" van die nuwe godsdienstige posisie weliswaar gans anders as die "oorspronklike" posisie waarvan dit afskeid geneem het, maar tog ook soos 'n kwaadaardige lewensvernietigende gewas.

 

Ten slotte

Gegewe dié uiters skamele agtergrond vir ons gesprek vandag dié vraag: Waaraan kan mens jou godsdiensbelewenisse en -praktyke toets in die konteks van die idee dat godsdiens 'n lewende krag behoort te wees? Ek stel tentatief vyf vrae:

Eerstens, is jou godsdiens sentraal in jou lewe – 'n dwingende lewenskrag wat neerslag vind  in alles wat jy is en doen? Die Katolieke teoloog Hans Küng se segging is in dié verband betekenisvol: "The totality of faith consists in the integrity of commitment and not in completely correct propositions. And that commitment can be entire and unreserved even though something false is said at the same time."

Gee Küng dalk hiermee te kenne dat die integriteit van toewyding belangriker is as die rasionale vraag: Is jou godsdienstige kognisies konsonant?

Tweedens, is dit kreatief? Het dit, soos toe jy 'n kind was, daardie element van spontane verwondering en lewensgretigheid? Of is dit bloot 'n meganiese nabootsing van voorskrifte?

Derdens, is dit self-krities? Kan jy die dissonansies in jou godsdienstige posisie raaksien en is jy bereid om daarmee saam te leef?

Vierdens, kan jy jou godsdiensbeoefening integreer met jou ganse lewe en die morele   konsekwensies daarvan deurvoer en die verskil wat dit maak, ervaar en aantoon?

Vyfdens, die belangrikste vraag: laat jou godsdiens verdraagsaamheid toe - dermate dat dit nie net in eie geledere geld nie, maar juis wanneer die verskille en andersheid ingrypend is.

In die trant van Küng se segging hierbo is verdraagsaamheid vir my die hart van die "integriteit van jou toewyding." Want juis die integriteit van jóú toewyding moet 'n ánder se integriteit van toewyding moontlik maak, waarborg en laat gedy.   

Hieruit volg nog 'n belangrike oorweging: laat die integriteit van toewyding ook verdraagsaamheid vir onverdraagsaamheid toe?

Soms is dit nuttig om terug te gaan na die wortelbetekenisse van woorde om iets dieper te snap. Die Latynse wortelbetekenis van "toleransie" (verdraagsaamheid) is saamgestel uit "toleratus" wat beteken: "om te verduur"; en "tollere" (wat beteken: "om op te tel"); ook en "tuli" (wat beteken:"om te dra"). 

Alles saam geneem, is verdraagsaamheid 'n omvattende lewenshouding wat sê: terwyl ek dalk anders as jy dink, dra ek jou opvattings (ook: kognisies, belewenisse, praktyke) saam asof dit myne is, en daardeur verstaan ek beter hoekom jy dink soos jy dink en doen soos jy doen.

 

 

In die herontwerp van die diagramme het die volgende tikfoute ingeglip. Ons vra hiervoor verskoning:

Diagram 1
   Regterkantste blokkie: kappie op die "sê".
   Linkerkantste blokkie: "gedeelde" pleks van "gedeelte".

Diagram 2
    Du Plessis-saak (2de "s" ontbreek) in die buitediskoers. So links in die middel.

    In die binnediskoers: "empiries" nie "emperies" nie.

Diagram 4:
    In die blokkie van kognisie C : "oriëntering" nie "orienteering" nie..


Vierduisend jaar van soeke na God (Deel 1 van 2)

deur Frances Klopper 30 Julie 2006

Vierduisend jaar van soeke na God

 

The mystic was back from the desert.
'Tell us', they said, 'what is God like?'
But how could he ever tell them what he had experienced in his heart?
Can God be put into words?
He finally gave them a formula - inaccurate, inadequate -
in the hope that some might be tempted to experience it for themselves.
They seized upon the formula. They made it a sacred text.
They imposed it on others as a holy belief.
They went to great pains to spread it in foreign lands.
Some even gave their lives for it.
The mystic was sad. It might have been better if he had said nothing.

(De Mellow)

Die God van ons jongtyd begin ongeloofwaardig raak

Die rede waarom ons oor die onderwerp praat is dat die idee van God al meer ongeloofwaardig begin raak vir Afrikaanssprekende Christene omdat die beeld van God waarmee hulle grootgeword het, nie meer nie bevredig nie.

Kyk ons na Michaelangelo se God in sy werk van die Skepping teen die koepel van die Sistynse kapel, sien ons min of meer hoe die God van ons jongtyd lyk. Hy is 'n wyse ou man met 'n wit baard; hy woon bokant die aarde in die hemel, omring deur engele (as ons hemel toe gaan is ons mos by die engeltjies); en hy is die skepper van die mens en alles wat bestaan. Hier skep hy Adam deur hom aan te raak.

Dié godsbeeld maak eenvoudig nie sin in ons tyd nie. Dis 'n tyd waarin ou Christelike waardes bevraagteken word en die Christelike tradisie selfs oorboord gegooi word. Kerke verloor lidmate en kerkleiers soek naarstiglik oplossings vir wat hulle as 'n krisis beleef.

Maar kritiese vrae oor God, godsdiens en die kerk is nie nuut nie. In Europa is God al met die oorgang na die 19e eeu dood verklaar en in die vorige eeu het die kerke begin leegloop.

Ons in Suid Afrika het nooit kritiese vrae gevra oor ons geloof nie. Terwyl Europa indringend oor die dinge gedebatteer het, was ons besig om oor die berge te trek en die land oop te maak. Daarom is predikante en gelowiges van vandag nie toegerus om die situasie te hanteer nie. Maar kritiese vrae is natuurlik en normaal, want godsdienste is nie statiese entiteite nie. Hulle is lewende, veranderende organismes, elkeen opgeneem in groot historiese prosesse. Nuwe religieë word uit hulle voorgangers gebore – soos die Christendom uit Judaïsme ontstaan het – of hulle raak irrelevant en sterf om plek te maak vir ander simbole wat sin gee aan die wonder en pyn van die lewe.

Die geskiedenis van 'n godheid of een of ander misterie is so oud soos die mensdom self. Kyk na die volgende toneeltjie: Grotbewoners in Wes-Europa, 35 000 jaar gelede, begrawe een van hulle stamlede. Hulle plaas die liggaam in 'n spesifieke posisie, versier dit met pigmentasie en sit sekere voorwerpe in die graf om die liggaam te vergesel op sy of haar reis na 'n onbekende bestemming. Hierdie toneel wys dat homo sapiens spirituele wesens was vanaf die oomblik toe die mens as mens herkenbaar geword het.

Die idee van God is een van die grootste menslike idees van alle tye en het in alle kulture 'n beslissende rol gespeel in die loop van hulle geskiedenis. Maar elke periode in die wêreldgeskiedenis moes opnuut 'n beeld van God skep wat vir daardie tyd en omstandighede effektief sou wees. Dit is wat ek vanmôre wil doen: Ek wil die geskiedenis van die idee van God deur die eeue in konteks plaas.

Wat is die waarde van so'n historiese kyk na die Godsidee? Geskiedenis is altyd interessant, ja, maar die eintlike waarde daarvan lê daarin dat dit ons laat besef dat “alles wat ons oor God het, deur mense gegaan het en nog steeds gaan; dat geen enkele woord oor God van iewers op 'n klaar-beskrewe bladsy aangewaai gekom het nie” (Jacobs). En omdat dit 'n menslike verhaal is, kan ons lesse en waarskuwings daaruit neem om die toekoms mee tegemoet te gaan.

Karen Armstrong se boek, A History of God (1999), is die grondteks vir ons verhaal. Sy bespreek die idee van God soos dit deur die eeue in die drie monoteïstiese godsdienste, naamlik Judaïsme, die Christendom en Islam, verstaan is. Die verhaal strek van 2000 vC tot 2000 nC waar ons vandag is. <!--pagebreak-->

In die begin

Ons verhaal begin by die antieke wêreld van die ou Nabye Ooste tussen die Tigris en die Eufraat toe mense nog gelewe het asof hulle deur kosmiese magte of gode omring was. Die natuur was die arena waar wispelturige gode teen mekaar baklei het of kinders gemaak het en so die gesteldheid van die wêreld bepaal het.

Mense kon deur mites en rituele deelneem aan die drama van die gode en hulle teen mekaar afspeel of laat saamwerk om vrugbaarheid en goeie oeste te verseker. Ons voer nog steeds rituele in nabootsing van God uit: deur te rus op die sabbat of die nagmaalbrood te breek, is vir Christene betekenisvol omdat dit in die verlede deur hulle god uitgevoer is.

Israel van die Ou Testament was deel van dié wêreld en het hulle spiritualiteit gedeel. Hoe lyk die Ou Testament se Godsbeeld?

Jahwe, die vroeë god van die Ou Testament het nie net een naam of eienskap gehad nie. Sy herkoms is teenstrydig en die skrywers van die Ou Testament is ook nie besorg daaroor nie. Daarvoor was Israel se godsdiens te pragmaties. Van Jahwe was net verwag om effektief te wees in hulle daaglikse lewe. Sy biografie is deurspek met mitologiese elemente en daar is besliste aanduidings dat hy nie die enigste god was nie, maar behoort het tot die ou Nabye-Oosterse gode-panteon.

In die voorouerverhale van Genesis (Abraham, Isak en Jakob) is hy 'n sorgsame god wat omgee vir die alledaagse nood en behoeftes van die families. Hy gee raad oor die keuse van hulle toekomstige vroue; lei hulle op hulle omswerwinge en praat met hulle in hulle drome. Maar hy is ook wispelturig. Hy verskyn aan Abraham by Mamre en belowe aan hom 'n seun, maar eis dan dat die langverwagte seun op 'n brandstapel geoffer word! In die Eksodusmite is hy 'n genadelose en partydige God wat ter wille van sy volk Israel, net die Egiptenare se eersgeborenes laat sterf. Later is hy 'n bloeddorstige oorlogsgod wat vrou, kind en dier deur die ban laat uitwis. Daar is baie voorbeelde, maar mettertyd word die mitologie rondom Israel se god minder en is daar tekens van 'n beweging na een God, 'n monoteïstiese God.

Hierdie beweging het plaasgevind gedurende 'n tyd van sosio-ekonomiese verandering wat tussen 800-200 vC oor die hele ou beskaafde wêreld, van Sjina tot Egipte, plaasgevind het. Die tydperk staan in die godsdiensgeskiedenis bekend as die Aksiale periode toe nuwe voorspoed ontwikkel het met die ontstaan van 'n handelaarsklas. Die mag van die tempel en die paleis het nou na die markplek verskuif. Soos in veranderende tye, ontstaan nuwe godsdienssisteme. Taoisme, Buddhisme en Hinduïsme. Al die godsdienste fokus nou op die uitbuiting en ongelykheid wat 'n markekonomie meegebring het. Die gedagte van monoteïsme ontstaan in Zoroastrisme van Persië en die Hebreeuse profete van Israel. Monoteïsme het altyd in stede ontstaan waar intellektuele gesprek plaasgevind het oor kwessies soos sosiale ongeregtigheid, menslike lyding en die God se rol daarin. Ons sal dit weer teëkom met die ontstaan van Islam in 600 nC.

Die een God van Judaïsme

By die profete van die Hebreeuse Bybel word God nou 'n simbool van transendente verhewenheid wat in beheer is van die geskiedenis van al die volke. Hy is nie meer betrokke by die families nie. Hy wil nie meer gedien word deur die ou rituele wat die mens terugplaas in mitiese tyd nie. Hy word gewalg deur die kultiese feeste en die offerdiens in die tempel. Soos in al die groot godsdienste van die Aksiale tyd, moes die Israeliete die innerlike betekenis van hulle godsdiens uitleef en daar word van hulle verwag om medemenslikheid in hulle daaglikse lewe te bewys. In 750 vC kritiseer Amos die uitbuiting van die armes; Hosea preek teen die nuwe sonde, afgodediens. Hy bespot die gode van ander volke en so ontstaan 'n diep onverdraagsaamheid teenoor ander godsdienste – 'n nuwe houding wat 'n kenmerk sou word van veral die Christelike en Islamse monoteïsme.

Toe kom die Babiloniese ballingskap (587-538 vC) en Jesaja van die Ballingskap (skrywer van Jes 44-50) skryf uit Babilon en verklaar Jahwe as die enigste God wat nie in menslike begrippe beskryf kan word nie.

Monoteïstiese Judaïsme is dus in diaspora (in ballingskap) gebore, omdat hy effektief was deur hoop en inspirasie aan die ballinge in hulle hopelose toestand te bied. Nà die ballingskap het die profete stil geword en sou daar nie meer direkte kontak met God plaasvind nie. Jahwe se teenwoordigheid word in terme van sy “heerlikheid” (kavod) uitgedruk. Hy is nie 'n persoonlike god nie, maar 'n krag van heiligheid in die wêreld. Rabbi Akiva het in 120 nC geleer het dat God gevind word waar liefdadigheid en menslikheid teenoor die naaste bewys word. Hy kan nie in formules beskryf word nie – elke mens moes God subjektief ervaar. Tot vandag word dogmas oor God in die Judaïsme nie voorgeskryf nie omdat dit die misterie van God sou inperk. Judaïsme was 'n godsdiens van onderdruktes wat uit ervaring van herhaalde diasporas en vervolging gegroei het.

<!--pagebreak-->

Op dié foto sien ons biddende Jode met hulle gebedsjaals en wiegende lywe by die Wesmuur in Jerusalem. Gebede word in die gleuf van die muur gedruk.

So het Jahwe van Israel, wat met tye onmenslike wreedheid aangestig het, het deur die eeue ontwikkel in die Joodse God wat sy volgelinge respek vir hulle medemens geleer het.

'n Verlosser vir die nie-Jode

Terwyl die rabbi's in Jerusalem lang redenasies gevoer het, het 'n charismatiese geloofsgeneser in die noorde van Palestina met sy loopbaan begin. Van Jesus weet ons baie min. Die eerste vollengte berig oor sy lewe was die Markusevangelie wat ongeveer 40 jaar na sy dood geskryf is. Teen daardie tyd is historiese feite deur mitiese elemente oorskryf wat meer van sy betekenis vir sy volgelinge sê as wat dit 'n akkurate biografie is.

Gedurende sy lewe het baie Jode gedink dat Jesus die Messias was, maar toe word hy soos 'n gewone misdadiger deur die Romeine gekruisig. Ten spyte van die skande van 'n Messias wat so'n dood moes sterf, kon sy volgelinge nie glo dat hulle geloof in hom misplaas was nie. Hulle het daagliks die tempel besoek, want Jesus was 'n toegewyde Jood. Na sy dood het Jesus se volgelinge besluit dat hy goddelik was, alhoewel die leer van God se menswording eers in die 4e eeu aanvaar sou word. Die Christelike godsdiens was eers nie eenvormige beweging met 'n samehangende teologie nie, maar het bestaan uit diverse gemeenskappe met uiteenlopende ideologieë uit die Judaïsme en die tradisies van die Grieks-Romeinse wêreld. En al die groepe se insette het die Christelike belydenis geskaaf tot 'n gesofistikeerde godsdiens.

Teen 235 nC was dit een van die belangrikste godsdienste in die Romeinse Ryk. In 312 nC word keiser Konstantyn 'n Christen en word die Christelike godsdiens as staatsgodsdiens verklaar. Die figuur links is van 'n goue munt met sy kop op.

Drie-eenheid: Die God van die Christendom

Rondom 320 nC ontstaan 'n hewige debat in die kerke van Egipte tot Klein-Asië wat begin is deur Arius, 'n presbiter van Alexandrië. Hy vra: 'Hoe kon Jesus God wees op dieselfde manier as God die Vader?' Hy meen dis heiligskennis om te dink dat Jesus van nature goddelik was. Arius se jong assistent Athanasius en sy biskop, Alexander, het dadelik besef dat hier ingrypende vrae oor die aard van God gevra word en dat dit in wese vrae is oor die kwessie van of Christus waarlik verlosser was. Hulle gaan Arius teë en dring aan dat Jesus waarlik in wese en essensie God was. Die kontroversie het so warm geword dat Konstantyn self ingegryp het en in 325 nC 'n sinode by Nicea, in vandag se Turkye, byeengeroep het. Die kwessie is hewig gedebatteer en uiteindelik, ook onder druk van die keiser wat die vrede wou bewaar, word die Belydenis van Nicea wat Athanasius ondersteun, deur die meerderheid onderteken. Die kerk het by Nicea 'n keuse gemaak vir die onlogiese inkarnasieleer (God se menswording in Jesus) ten spyte daarvan dat dit totaal onversoenbaar was met monoteïsme.

Maar dit is die kerkvader Augustinus (354-430) uit hierdie tyd wat vir ons die leer van die erfsonde nagelaat het. Die leer sê dat God die mensdom tot die verdoemenis veroordeel het as gevolg van Adam se sonde. Dié sonde word vir ewig deur die vrou in die seksdaad voortgesit. Maar God is genadig en deur 'n goddelike uitverkiesing word sekere uitverkorenes gered. Nie alleen het dit die mens van sy/haar seksualiteit en liggaam vervreem nie, maar die vrou tot 'n minderwaardige wese verdoem wat haar tot vandag in die kerklike tradisie benadeel.

Dit is enorme belangrike gebeure omdat die dogmas en die Geloofsbelydenis van die kerk, wat ons probleme van vandag veroorsaak het, hier geformuleer is.

Eenheid: Die God van Islam

Rondom 610 nC tree 'n nuwe godsdiens in die stad Mekka in Arabië na vore. Mekka het sopas, binne twee geslagte, ontwikkel van 'n gewone nomadiese nedersetting tot die rykste en bloeiendste handelstad in Arabië. Mohammed ibn Abdallah, die stigter van Islam, was bekommerd omdat die ou bedoeïne-stamwaardes van die inwoners besig was om vervang te word deur harde kapitalistiese waardes. 'n Etos van individualisme, kompetisie en hebsug het die plek geneem van die gemeenskapsetos van vroeër toe mense intens vir mekaar omgegee het.

Vierduisend jaar van soeke na God (Deel 2 van 2)

deur Frances Klopper 30 Julie 2006

Hoe die een God van Islam ontwikkel? Die Arabiese stamme was vir eeue so met mekaar in kompetisie vir oorlewing dat daar nie tyd was vir godsdiens in die tradisionele sin nie. Hulle het wel 'n hoë god, al-Lah (die God), geken en 'n paar mindere gode. Hulle godsdiens was eintlik die ideologie van dapperheid in oorlog, uithouvermoë in moeilike tye en toegewydheid aan die stam, want dit het oorlewing beteken en godsdiens moes prakties wees. Die bestaan van God was dus nie vir Mohammed se luisteraars 'n kwessie nie. Nou word hy as die enigste God verklaar: 'daar is geen God buiten al-Lah nie en Mohammed is sy boodskapper’ lui hulle geloofsbelydenis. Die doel met die leer van een God het daarin geslaag om die gemeenskap weer te integreer en rondom hulle god saam te bind. Twee maal per dag (later vyf maal) moes hulle laag in gebed voor al-Lah neerbuig om hulle nietigheid en toegewydheid aan hom te betoon. Hier sien ons Moslems in gebed van 'n ietwat ongewone hoek! Dis duidelik dat Moslems net hulle hande en gesigte moet was voor hulle bid!

Met hierdie voorgeskrewe gebedshouding wou Mohammed die egoïsme en selfversekerdheid van sy mense inbreek. In die begin was daar nie van Jode of Christene verwag om hulle tot Islam te bekeer nie, want alle outentieke openbarings is gerespekteer. Verpligte dogmas oor al-Lah is nie ontwikkel nie, want dit sou net spekulasie wees oor dinge wat niemand kon weet of bewys nie. Vir hulle is die taal van die geloof die taal van poësie en nie rasionele taal nie, omdat God so transendent is dat net in simbole oor hom gepraat kan word.

Mohammed se verstommende sukses is 'n voorbeeld van hoe veranderende tye vernuwing in geloofsdenke vereis. Ons is vandag in sulke tye.

Teïsme

Die algemene kenmerk van die God van die drie monoteïstiese religieë wat ons pas bespreek het is word in die konsep teïsme saamgevat. Teïsme is die idee van 'n persoonlike God. 'n Persoonlike God het menslike eienskappe: hy/sy (want die god het 'n menslike geslag) kan hoor, liefhê, oordeel, straf, en vernietig netsoos die mens. Die gevaar is dat menslike behoeftes en vooroordele op so’n god geprojekteer word en dit het in die geskiedenis meegebring het dat menige gruwels in God naam gepleeg is.

Die God van die mistici

Al drie godsdienste het die probleme van ’n persoonlike god besef en 'n mistieke tradisie ontwikkel waarin God 'n onpersoonlike, spirituele entiteit geword het soos nirvana in die Buddisme. Die strewe is om die self af te lê en deur meditasie of ander tegnieke, èèn te word met hierdie grondbeginsel van die werklikheid. 'n Mistieke ervaring van God is 'n ekstatiese subjektiewe ervaring wat 'n 'reis na binne’ behels wat nie met serebrale denke bereik kan word nie. In die Weste was die Christene traer om 'n mistieke spiritualiteit te ontwikkel. Met rampe soos die Pes wat Eropa in die 14e eeu geteister het, was daar egter 'n ontploffing van mistieke denke in die Weste. Meister Eckart praat van God as Niks of Nie-Wese, want die godheid is so onbegryplik dat net in negatiewe terme daarna verwys kan word.

Hierdie onbybelse spiritualiteit het uiteindelik teenstand van die Hervormers van die 16e eeu gekry. Dit het veroorsaak dat Europa God in nog meer rasionalistiese terme sou begin sien.

'n God vir die Hervormers

Die vyftiende en sestiende eeue is die tyd van godsdienstige hervorming in Europa en sou vir alle mense van God beslissend wees. Maar die Hervorming het ook 'n gees van vrees in Europa meegebring. 'n Oorheersende obsessie met sonde, die hel en satan het mense nie gelukkig gemaak nie en tussen God en die mens het 'n oneindige afstand ontstaan. Maar dit was ook die tyd van die Renaissance en die humanisme wat die mens as middelpunt opgestel het en ontdekkingsreise wat nuwe vastelande oopgemaak het. Dit was 'n oorgangstyd waarin groot figure na vore sou tree om kerklike vernuwing te bring.

In Duitsland lei Martin Luther (1483-1546) die Hervormingsbeweging in. Luther se god was in die begin van sy lewe 'n god van woede en vergelding. Luther het gebuk gegaan onder 'n diep sondebesef en 'n onmag om God tevrede te stel, ten spyte van die sakramente en foltering van sy liggaam. Hy vind sielerus in Paulus se uitspraak in Romeine 1:17 dat die regverdige uit die geloof sal lewe. Die mens word van sonde vrygemaak, nie deur goeie werke, die nakoming van die Wet of die kerk se afkoopboetes nie, maar deur te glo dat God in sy liefde en genade redding vir elkeen moontlik maak. Dié God maak homself bekend in die waarhede van die heilige Skrif.

Johannes Calvyn (1505-1564) het 'n meer ingrypende invloed op die Westerse Christendom gehad. Soos Luther het hy die almag van God en die gesag van die Bybel sentraal gestel. Hy word onthou vir sy geloof in die predestinasie- en uitverkiesingsleer. God is in beheer van alles wat op aarde en in die geskiedenis gebeur en sy wil is onpeilbaar maar ewig en regverdig. Die mens is deur die erfsonde besoedel en staan skuldig voor God. Maar nie almal is verlore nie want van die voortyd af het God besluit wie gered sou word en wie vir die ewige verdoemenis beskore is.

Calvyn het met somber erns na die lewe gekyk. Ligsinnigheid en wêreldse plesier was uit die bose. Selfdissipline, pligsgetrouheid en spaarsaamheid was goddelike deugde. Die Calvinistiese god het mense tot angs, depressie en selfmoord gedryf, maar hulle het ook 'n harde onverdraagsaamheid ontwikkel teenoor diegene wat nie uitverkies is nie. In baie gevalle het dit tot bloedvergieting gelei, wat weer eens die gevaar van 'n "menslike" godsbeeld uitwys. Om 'n god in te dink wat letterlik verantwoordelik is vir alles wat op aarde gebeur, is onmoontlik teenstrydig. Dan word God 'n gevoellose despoot wat die wêreld regeer in plaas van 'n simbool van dit wat mense moed gee om tragedie en spanning te oorleef. Die onhoudbaarheid van die uitverkiesingsleer en die god wat daarvoor verantwoordelik sou wees, moet toegeskryf word aan die Hervormers se letterlike verstaan van die Bybel en die "sondeval" van Genesis 3.

<!--pagebreak-->

Die wetenskaplikes, Copernicus (1543) en Galileo (1613) is in hierdie tyd deur die kerk veroordeel op die aanklag dat hulle heliosentriese teorie God se woord weerspreek. God het immers volgens Psalm 93 die fondamente van die aarde vasgelê. Luther het hiermee saamgestem en Calvyn het gesê 'Wie sou dit waag dit om die gesag van Kopernikus bo die gesag van die Bybel te plaas?’ Voor die Inkwisisie moes Galileo sy teorieë terugtrek, maar die skade was gedoen. Die gesag van die kerk het 'n knou gekry.

Wetenskap sou van nou af geloof vervang, en dit was ammunisie vir toekomstige ateïste om die god te verwerp wat mense met vrees in plaas van hoop gevul het.

Die Verligting - die Eeu van die rede

Deur die 17e en 18e eeue het die natuurwetenskappe selfstandig ontwikkel. Wetenskaplikes het nie meer die Bybel as bron gebruik nie, maar deur middel van wiskundige formules en verfynde eksperimente die wette van die natuur geformuleer. Die wetenskap het die wêreld verander en gevestigde geloofsformules omver gegooi.. Die meeste filosowe en wetenskaplikes het nie in die bestaan van God getwyfel nie, hulle wou dit juis bewys, maar dit moes op rasionele gronde gedoen word. Daar was nie meer ruimte vir die persoonlike god van die teïste of vir verbeelding, mistiek, mites en openbaring nie. 'n Nuwe soort samelewing het tot stand gekom wat aan God 'n nuwe rol toegeken het. Deïsme, die nuwe godsdiens van die Rede, glo in 'n onpersoonlike, veraf, afwesige god wat hom nie met gewone mense en gebeure op aarde bemoei nie.

Die fisikus Isaac Newton (1642-1727) was die grootste van die 18e eeuse wetenskaplikes. Newton se siening was dat God bewys kan word deur die werking van die heelal dop te hou, want die beweging van die planete kan net deur 'n intelligente en almagtige Wese bestuur en instand gehou word. Misterie soos die Drie-eenheid en die Inkarnasie beskou hy as primitiewe fantasieë van die bygelowige massas.

Holbach (1723-89) verklaar God oorbodig omdat die natuur, waarvan die mens deel is, net 'n enorme proses van oorsaak en gevolg is.

Laplace (1749-1827) verban God uit die fisika, want die planetêre stelsel is niks anders as ’n weerspieëling van die lig en hitte van die son nie.

Hierdie belangrike denke van die Verligting het Suid-Afrika verbygegaan. Maar in Europa was die tyd ryp om God as dood te verklaar.

Die dood van God in die 19e eeu

Teen die begin van die 19e eeu was ateïsme 'n voldonge feit. Veral die naby, persoonlike God is verwerp omdat soveel onreg in sy naam plaasgevind het.

Ludwig Feuerbach (1804-1872) sê dat God slegs 'n menslike projeksie is. God word boonop as so verhewe en heilig teenoor die nietige, sondige mens geprojekteer dat die mens alle selfwaarde verloor het. Die mensdom kan klaarkom sonder 'n God wat mense van hulle eie natuur vervreem.

Karl Marx (1818-1885) sien religie as opium vir die massas om hulle lyding draaglik te maak, God is irrelevant.

Charles Darwin se evolusieteorie van 1859 maak God om verstaanbare redes oorbodig.

Friedrich Nietzshe (1844-1900) verklaar God dood en bepleit 'n lewe wat hier en nou voluit gelewe word. Die Christelike God met sy 'n sieklike moraliteit het die mens vervreem van sy/haar menswees en seksuele passie. Elke mens moet dié moraliteit drasties te hersien.

Sigmund Freud (1856-1939) se God is 'n projeksie van die mens se behoefte uit die onbewuste vir onder meer 'n vaderfiguur en 'n ewige lewe.

God in die twintigste eeu.

In die twintigste eeu is die idee van God wat vir eeue lank in die Christelike Weste bestaan het, uitgedien. Verder het godsdiens eenvoudig nie meer in die wetenskaplike wêreld van die tyd gepas nie.

Maar dit was ook die twee vernietigende wêreldoorloë wat bygedra het tot die sekulêre kultuur van Europa. In die 20ste eeu het God (veral vir die Jode) in die rook van Auschwitz se gaskamers opgegaan. Die volgende foto is welbekend.

Eksistensialistiese filosowe soos Heidegger (1889-1976), Sartre (1905-1980) en Camus (1913-1960) bespreek die dilemma van die twintigste eeuse mens wat oortuig is van God se dood, maar 'n wanhopige bestaan voer sonder transendente betekenis, en tog 'n diep behoefte daaraan het. Die nuwe mentaliteit is een van absurditeit, vervreemding en 'n gevoel van verlies, verlies aan geloof in 'n bo-natuurlike teenwoordigheid terwyl die toekoms onseker is en die dood vir elkeen wag.

Camus, wat bekend gestaan het as die "heilige sonder 'n God", Hy rig 'n uitdaging aan die mens om God te verwerp en deernis en empatie op die mensdom uit te stort, want passievolle ateïsme kan meer religieus wees as 'n "moeë", "lam", teïsme.

<!--pagebreak-->

Teoloë van die 20ste eeu het ook oor God besin om antwoorde te vind vir die lyding van die tyd. Volgens die Prosesteologie, waarvoor die Britse filosoof, Whitehead (1861-1947) onthou word, is God in die wêreld en deel van die wêreld se prosesse. Hy is steeds en voortdurend besig om in en om ons te skep. "God is the great companion, the fellow-sufferer, who understands". Hy tel die stukke na ons lyding op. Verstaanbaar, het hierdie teologie baie beteken vir 'n oorlog-geteisterde Europa en is dit steeds 'n antwoord op die mensdom se waarom-vrae.

Maar in die vorige eeu, in ons almal se leeftyd, het 'n gevaarlike soort fundamentalisme in al drie God-religieë kop uitgesteek. Dis 'n hoogs politiese spiritualiteit met 'n moralistiese en onverdraagsame uitgangspunt wat God gebruik om andersdenkendes se bestaanreg te ontken. In die Christelike vorm daarvan kom min tereg van medelye en deernis. Dit ken ons uit die Suid-Afrikaanse politieke verlede. In Amerika skaar die Christelike fundamentaliste hulle dan ook by die regse politieke partye. Islamitiese fundamentalisme het regerings laat tuimel soos hulle in 2001 die Twee Torings van Manhattan laat tuimel het. Joodse fundamentaliste verdryf die Arabiere met geweld uit hulle toegewysde gebiede in Israel om hulle godsdienstige obsessie vir 'n Joodse staat te verwesenlik. Dit lyk asof die fundamentalistiese god van die Jode, Christene en Moslems 'n ongelukkige oorsprong gehad het in die vroeë stammegod van Israel wat partydig was vir sy eie volk tot die uitwissing van ander.

Met die twintigste-eeuse Europese godsbeskouing word die verhaal van God afgesluit.

Besinning oor 'n toekoms vir God

Wat kan ons leer uit die herhalende temas in die verhaal van God as ons wil hê dat die idee van 'n godheid moet voortleef?

Die fundamentalistiese godsbeeld is onaanvaarbaar en nie goeie teologie nie. Dit skiet ver te kort van die monoteïstiese ideaal van medemenslikheid in plaas van offerande en genade in plaas van skynheilige geregtigheid. Toegewyde Christene van vandag veroordeel ander, hetsy van geloof, ras of seksuele oriëntasie in die naam van die bybelse God.

Die verhewe Opperwese van die agtiende-eeuse deïste is so ver verwyder en onbetrokke by mense se daaglikse bestaan dat dit 'n irrelevante god is. Om, soos Newton, God se bestaan wetenskaplik te "bewys", word nie meer aanvaar nie want geloofstaal is van 'n ander orde as die natuurwetenskappe. Dit het die wetenskaplikes ons ook geleer. Op 'n vraag oor watter implikasies sy relatiwiteitsleer vir die teologie inhou, was Einstein se antwoord: "None. Relativity is a purely scientific matter and has nothing to do with religion". Wetenskaplike teorieë en modelle is nie feite of absolute waarheid nie, maar voorlopige, menslike konstrukte. Die doel van die wetenskap is om kwantitatiewe resultate te lewer, terwyl geloofsuitdrukkings, verhale, poësie en musiek die kwalitatiewe sy van die lewe in die prentjie bring. Dit gee uitdrukking aan die ervarings van nietige mense in hulle strewe om sin en orde te skep in 'n chaotiese wêreld. Ons het albei nodig.

Die idee van 'n persoonlike, mensgod is ook problematies. Hierdie god is 'n objek buite onsself wat soos 'n pakdier gelaai word om ons eie voorkeure en vooroordele met ons saam te dra. Soos 'n refrein het ons gehoor dat onnoembare dade gepleeg word in die naam van 'n god wat optree soos 'n groter weergawe van onsself. Selfs natuurrampe en siektes word aan sy wil toegeskryf. Of soos die straffende, veroordelende God van die Hervormers, belaai hy "sondige" mense met ondraaglike skuldgevoelens. Feministe vind dit moeilik om te identifiseer met die manlike geslag van die persoonlike God omdat dit deur die eeue die ondergeskikte posisie van vroue instand gehou het. Hulle sê: "If God is male, then the male is God".

Die godheid van die mistiek is 'n alternatief. Hy of sy of dit is nie 'n objektiewe feit wat wetenskaplik bewys kan word of menslike eienskappe het nie, maar 'n subjektiewe ervaring wat deur die verbeelding ervaar word. Dit simboliseer die onuitspreeklike misterie van die lewe. Maar met ons Westerse verstandsmentaliteit is dit moeilik om te begryp. En dit neem tyd en opleiding om deur meditasie 'n gewaarwording daarvoor te ontwikkel. Ons leef nou eenmaal in 'n kitskultuur wat God in klaar-verpakte definisies wil hê. Ons kan ten minste van die mistici leer om nie kritiekloos die dogmatiese verpakkings as die waarheid oor die werklikheid wat ons "God" noem, te aanvaar nie.

Maar - miskien is God nie dood nie. Miskien soek ons God op die verkeerde plekke. Miskien is God of goddelikheid, lewenssin of misterie – die benaming is onbelangrik – daar te vind waar ons die tragedie en ekstase van die lewe ten diepste ervaar: in die goedheid en nood van die naaste; in die skoonheid en felheid van die natuur; in aangrypende musiek en woorde, of in die intieme eenword met iemand wat ons liefhet. Miskien is God die lewe – onvolledig en immer veranderend maar onteenseglik daar. Miskien moet ons die God van die lewe ons eie maak en ons eie God van die lewe maak.

WANNEER GOD NIE MEER SIN MAAK NIE

Sakkie Spangenberg
UNISA
2 September 2007

The notion that God, the creator of the universe, became incarnate on earth, a cosmic speck of dust, in a human being, a chance product of evolution, could only have been formulated by people whose view of the world was imprisoned in a quite naive geocentricity and anthropocentricity, and who through no fault of their own knew nothing of the real position of human beings in the cosmos (Weber 1998:16).

1. Die aanleidende oorsake vir die probleem

Vir mense wat in premoderne tye geleef het, was gode deel van hulle alledaagse bestaan. Weinig van hulle het die bestaan van gode bevraagteken. Met die triomfering van die Christelike geloof in die vierde eeu nC in Europa is die geloof in die bestaan van verskeie gode onder druk geplaas. Keiser Theodotius die Grote (346–395) het keiser Konstantyn (275–337) se amptelike erkenning van die Christelike geloof verder gevoer deur dit tot staatsgodsdiens van die Romeinse Ryk te verklaar. Die tempels van heidense gode is vernietig en Christene wat afwykende idees voorgestaan en verkondig het, is verbied om vergaderings te hou. Die Drie-eenheidsleer, soos dit aanvanklik by Nicea (325 vC) en uiteindelik by Konstantinopel (381 vC) geformuleer is, het die dominante siening binne die Christendom geword. Die idee van ’n Drie-eenheid wat in die hemel woon en gebeure op aarde rig en bestuur, het egter gedurende die vyftiende eeu begin verkrummel. Hierdie verkrummeling hang saam met Christophorus Columbus (1451–1506) se ontdekking van die Wes-Indiese eilande (1492) en Suid-Amerika (1498) asook die siening dat die aarde nie die sentrum van die sonnestelsel is nie. Die sterrekundiges Nicolaus Copernicus (1473–1543), Johannes Kepler (1571–1630) en Galileo Galileï (1564–1642) het ’n groot rol hierin gespeel.

Hierdie ontdekkings het ’n radikale invloed uitgeoefen op die meesterverhaal van die Westerse Christendom. Die idee dat die heelal uit drie-verdiepings bestaan en dat God en sy engele in die hemel woon, het al hoe meer problematies geword. Antwoorde op die vrae: “Waar is die hemel en waar die hel?” kon nie meer so maklik beantwoord word nie. Maar dis nie al nie. Die siening dat God sy Seun na die aarde gestuur het om vir mense se sondes te kom sterf; dat Hy na die hel neergedaal het voordat Hy weer hemelwaarts gekeer het, het ook onder druk gekom. Die drie-verdieping heelal het geblyk ’n menslike verbeelding te wees en nie ’n goddelike openbaring nie.

Vanweë die verandering in wêreldbeeld, het nie net enkele leerstukke nie, maar die ganse Bybel onder druk gekom. Argeologiese ontdekkings in die Nabye Ooste gedurende die negentiende eeu asook die ontsyfering van die dokumente wat ontdek is, het die druk laat toeneem. Geleerdes het die uniekheid van die Bybelse verhale begin betwyfel en sommige het selfs gemeen dat die Ou Testament slegs maar ’n afgewaterde weergawe van ou Nabye Oosterse verhale bied. Die sogenaamde Babel-Bybel-stryd wat teen die einde van die negentiende eeu gewoed het, is hiervan ’n voorbeeld. Die siening dat die Bybel ’n gesaghebbende dokument is wat op goddelike openbaring berus, moes wyk voor die siening dat die Bybel ’n doodgewone menslike geskrif is.

Wat die kameel se rug finaal gebreek het, was die besef dat tyd niks onveranderd laat nie. Hierdie insig het gedurende die agtiende en die negentiende eeu in Europa wortel geskiet. Meer en meer geskiedeniswetenskaplikes het dit beklemtoon dat tyd ’n enorme invloed op mense se leef- en denkwêreld het. Hulle het as ’t ware die grond voorberei vir ’n boek wat ’n radikale verandering in die Westerse denkwêreld teweeg sou bring. Hierdie boek was The Origin of Species van Charles Darwin (1809–1882). Hy het dit in 1859 gepubliseer — dieselfde jaar waarin die teologiese seminarium op Stellenbosch tot stand gekom het. Vir vele Christene is dit ’n afstootlike boek, want volgens hulle ondermyn dit die idee dat daar ’n Skeppergod is wat alles eeue gelede gemaak het presies soos dit tans nog is. Dit geld nie net van die kontinente en oseane nie, maar ook van plant- en dierespesies – en veral die mens. Die gedagte dat die mens en sommige ape ’n gesamentlike voorouer gehad het, is vir vele Christene onaanvaarbaar.

Baie wetenskaplikes het met Darwin en ander bioloë se insigte begin woeker. Bybelwetenskaplikes het byvoorbeeld aangetoon dat Israel se godsdiens oor eeue heen verander het. Die godsdienstige oortuigings in die tyd van Jesus (6 vC–30 nC) het radikaal verskil van die oortuigings wat Dawid en Salomo (1000–950 vC) gedeel het. James Barr (1966:149) vat dit raak saam wanneer hy skryf: “Devils, hell and the end of the world are New Testament rather than Old Testament realities.” Lees ’n mens byvoorbeeld die Markus-evangelie is dit opvallend hoeveel keer daar van duiweluitdrywings sprake is. Daar is geen vergelykbare boek in die Ou Testament wat soveel aandag aan duiwels gee nie. Hierdie nuwere insigte het tot ’n radikale paradigmaverandering in die Bybelwetenskappe gelei en vele Ou-Testamentici is as ketters gebrandmerk. Maar Nuwe-Testamentici het ook in die warm water beland. David Friedrich Strauss (1808–1874) wie se boek oor Jesus só ’n storm ontketen het dat hy as professor aan die Universiteit van Tübingen in Duitsland afgedank is, is maar een voorbeeld (Kennedy 2006:153).

Charles Darwin was egter nie die enigste wetenskaplike wie se insigte ’n radikale invloed uitgeoefen het op mense se denke oor hulleself en hulle omgewing nie. Twee ander wetenskaplikes verdien na my mening om ook vermeld te word. Die eerste hiervan is die sterrekundige Edwin Hubble (1889–1953). Aan die begin van die twintigste eeu was daar twee groepe sterrekundiges. Die een groep was vas oortuig dat daar net één sterrestelsel in die ganse heelal bestaan en dat die aarde deel daarvan is. Die ander groep was weer oortuig dat daar méér as een sterrestelsel bestaan. Die tweede groep se oortuigings het geseëvier toe Edwin Hubble ander sterrestelsels ontdek het. Wat hom egter beroemd gemaak het, is dat hy ook kon bewys dat hierdie stelsels besig is om van mekaar weg te beweeg. Die heelal is dus steeds besig om uit te dy. Selfs Albert Einstein (1879–1955) het hierdie ontdekking met ongeloof begroet.

Die tweede wetenskaplike wie se naam vermeld moet word, is Alfred Wegener (1880–1930). Hy het met die idee na vore gekom dat Suid-Amerika en Afrika miljoene jare gelede aan mekaar geheg was, maar dat hulle mettertyd van mekaar losgeskeur en weggedryf het. Geoloë het moeilik aan hierdie gedagte gebyt, want Wegener was ’n kartograaf en nie ’n geoloog nie. Alex du Toit (1878–1948) ’n Suid-Afrikaanse geoloog het egter met harde feite na vore gekom en Wegener se teorie as waar bewys. Wegener en Du Toit het die basis gelê vir die teorie wat later bekend sou staan as plaattektoniek. Volgens dié teorie bestaan die aarde uit ’n aantal aardplate wat rondbeweeg en teen mekaar skuur en self onder mekaar inskuif. Hierdie teorie het ’n radikale verandering in mense se verstaan van die aarde en lewe daarop teweeg gebring. Vele raaisels rondom plante en diere wat op verskillende plekke op die aarde voorkom en met mekaar verband hou of radikaal van mekaar verskil, kon nou opgelos word. Dit geld ook die ontdekkings van dieselfde soort fossiele op verskillende plekke op aarde. Hierdie teorie het ook bygedra tot ’n beter verstaan van evolusie. Mense het begin besef dat nie net plant- en dierespesies aan verandering onderworpe was nie, maar die ganse aarde. Die klimaat van sekere dele het oor tyd heen verander vanweë die verskuiwende aardplate en dit het ’n invloed uitgeoefen op die plant- en dierspesies.

Ter opsomming kan ons dus sê dat die volgende ontdekkings en teorieë bygedra het tot die bevraagtekening van die idee dat daar buite ons heelal êrens in die hemelruim ’n “enige en éénvoudige geestelike wese” bestaan wat ons “God” noem:

  • Die ontdekking dat die aarde nie plat is nie, maar ’n planeet is wat om die son wentel;
  • Die ontwikkeling van ’n historiese bewussyn, of dan ’n besef dat alles oor tyd heen verander;
  • Die ontdekking dat mense nie uniek is nie, maar uit ander spesies ontwikkel het;
  • Die ontdekking dat daar miljoene sterre is en dat ons sterrestelsel nie die enigste een in die heelal is nie;
  • Die ontdekking dat die kontinente en eilande soos dit vandag daar uitsien oor miljoene jare gevorm is en dat die aarde nie altyd so gelyk het soos dit tans lyk nie.

Ons wêreldbeeld verskil dus radikaal van die wêreldbeeld van mense wat die Bybel geskryf het en van mense wat vir die Christelike belydenisse verantwoordelik is. Hulle was deur die bank oortuig dat die aarde plat is en dat die heelal uit drie verdiepings bestaan het. Die meerderheid Christene was sedert die vyfde eeu oortuig dat God ’n Drie-eenheid is wat die aarde en alles daarop geskep het. Jesus het volgens hierdie belydenisse uit die hemel gekom, op aarde rondgewandel en aan ’n kruis vir die sondes van die ganse mensdom gesterf. Hierna het hy na die hel neergedaal voordat hy opgestaan en na die hemel opgevaar het. Volgens die tradisionele Christelike siening sal Jesus ook binnekort terugkeer. God die Vader sal dan alle mense wat nie Jesus se offerdood aanvaar nie, in die hel werp maar diegene wat dit aanvaar het, sal beloon word met die ewige lewe in die hemel..

Die ontdekkings sedert die vyftiende eeu het ’n verandering in wêreldbeeld tot gevolg gehad en hierdie verandering het die tradisionele Christelike belydenisse, dogmas en oortuigings in die gedrang gebring. Vandag is dit eenvoudig nie meer vir mense wat goed ingelig is moontlik om die tradisionele belydenisse en dogmas klakkeloos na te sê nie. Günther Weber (1998:19) is dus reg wanneer hy die volgende skryf:

I now understand why the church is instinctively defensive about changes in world-views. Because the whole structure of its faith is grounded in the world-view of antiquity, any change in the world-view must shake the foundations of that structure.

Dit geld ook van Erhard Gerstenberger (2002:291) wat skryf:

As a rule our normal scientific explanation of the world cannot be reconciled with the ancient ideas of the personal direction of the world by divine powers. So we are challenged to develop new ideas of God for the anonymous spheres, perhaps in dialogue with Jewish and Christian (and Muslim) mysticism and with the Far Eastern religions, for which the category of person has quite a different status.

Baie predikante en teoloë is steeds oortuig dat die kerk nie in ’n penarie verkeer nie. Van hulle verafsku die moderne wetenskap en ignoreer die uitdagings wat dit aan die teologie en die Christelike godsdiens bied. Ander weer, werk hard daaraan om die premoderne Christelike belydenisse en dogmas met die moderne wêreldbeeld te versoen. Daarom sal hulle steeds daarop hamer dat Jesus goddelik verwek is en uit ’n maagd gebore is, histories en fisies uit die dood opgestaan en liggaamlik na die hemel opgevaar het. Hulle glo ook vas dat Jesus weer eendag uit die hemel op aarde sal neerdaal en dat God die Vader soos ’n regter aan die einde van die tyd sal optree en alle mense wat al op aarde geleef het, sal vonnis of vryspreek.

2. Die Augustiniaanse paradigma van die ortodokse Christendom

In die voorafgaande het ek hoofsaaklik aandag gegee aan die verandering in Europeërs se wêreldbeeld vanweë die natuurwetenskaplike navorsing wat in die vyftiende eeu op dreef gekom het. In hierdie afdeling fokus ek op die gevolge wat die wetenskaplike navorsing rondom die Bybel vir die Augustiniaanse paradigma van die Christelike geloof ingehou het. Om dit te kan verstaan, is dit nodig om iets van die vroeë Christendom te weet. Ons moet in ag neem dat die Christelike godsdiens vir die eerste drie tot vier eeue gevarieerd was. In die woorde van Philip Kennedy (2006:134): “For the first three or four centuries of its existence, Christianity was a motley collection of rival groups advocating a rich mixture of diverse theologies.”

Die verskillende Christelike gemeenskappies wat rondom die Middellandse See ontstaan het, het op verskillende maniere met Jesus van Nasaret geïdentifiseer. Een van hierdie groepe het hoofsaaklik uit Jode bestaan. Hulle het Jesus binne die raamwerk van eerste-eeuse Judaïsme geïnterpreteer. Jesus is nie as ’n God of as gelykwaardig aan God beskou nie. ’n Tweede groep Christene het hoofsaaklik bestaan uit bekeerde heidene. Hulle het Jesus veral aan die hand van metafore en beelde uit die Grieks-Romeinse kulturele wêreld geïnterpreteer. In hierdie wêreld was die skeidslyn tussen gode en mense nie so duidelik getrek nie. ’n Derde groep was ’n gemengde klomp. Hulle het uit sowel Jode as bekeerde heidene bestaan. Hulle het veral van die Griekse vertaling van die Ou Testament gebruik gemaak en Jesus as die lydende kneg van God gesien. Ook húlle het Jesus nie vergoddelik nie, maar hom as ’n martelaar vir die saak van God beskou, daarom het hulle onder andere Jesaja 53 gebruik om Jesus mee te verkondig.

Die idee dat Jesus die tweede Persoon van ’n goddelike Drie-eenheid is wat deur die Vader aarde toe gestuur is om plaasvervangend vir mense se sondes te kom sterf, het nog nie by een van hierdie groepe so duidelik posgevat soos in die vierde eeu nie. Die Drie-eenheidsleer het eers vorm begin aanneem nadat keiser Konstantyn (275–337) die Christelike godsdiens tot ’n legitieme godsdiens van die Romeinse ryk verklaar het. Hy het ook meegewerk om groter eenheid onder Christene te bewerk. Dit het hy gedoen deur ’n vergadering van biskoppe te belê waar een van die mees brandende kwessies in die Christendom bespreek is. Dit was die vraag of Jesus (die Seun) gelykwaardig aan en van dieselfde stoffasie as God (die Vader) was. Hierdie vergadering is by Nicea gehou en alhoewel die teenwoordige biskoppe (met die hulp van Konstantyn) konsensus bereik het, het vele biskoppe wat nie teenwoordig was nie, maar swaar aan die bewoording gesluk. Ten minste nog drie konsilies moes daarna belê word voordat die waters kalm begin raak het. Die volgende een was in Konstantinopel gehou (381 vC), die derde in Efese (431 vC) en die vierde in Chalcedon (451 vC). Laasgenoemde konsilie het die kersie op die koek van al die vorige besinnings oor Jesus gesit. Die belydenis wat hier geformuleer is, dien tot vandag toe nog as maatstaf vir hoe daar oor Jesus gedink en gepraat moet word.

Volgens die Chalcedoniese definisie het Jesus oor twee nature beskik: (1) ’n goddelike, en (2) ’n menslike natuur. Hierdie twee nature is egter nie in Hom as persoon vermeng soos wanneer mens melk by koffie gooi nie. Elke natuur het sy eie identiteit behou. Die twee nature is ook nie aan verandering onderworpe nie. Jesus se goddelike natuur wat Hy uit die hemel met Hom saamgebring het, het nie verander toe dit met sy menslike natuur verenig is nie. Sy menslike natuur wat Hy via Maria ontvang het, het ook nie verander toe dit met sy goddelike natuur verenig is nie. Die twee nature is ten nouste verweef in die persoon van Jesus en kan nie van mekaar losgemaak of -gedink word nie. Hierdie filosofiese haarklowery was bedoel om Jesus se goddelikheid en sy menslikheid bo verdenking te plaas. Hierdie soort redenasies wys ook uit hoe ver die Christelike geloof op hierdie stadium verwyder was van vroeë Judaïsme, die moedergodsdiens waaruit dit ontwikkel het. Dis dan ook nie vreemd nie dat sommige teoloë die vierde eeu sien as die eeu waarin die Christelike godsdiens hom finaal van sy Joodse wortels losgemaak het. Dit het niks goeds voorspel vir die Jode wat steeds Judaïsme beoefen het nie.

Daar is vele Christene wat van mening is dat jy jouself nie ’n Christen mag noem as jy nie hierdie sienings onderskryf nie. Philip Kennedy (’n teoloog verbonde aan die Universiteit van Oxford) wys egter daarop dat só ’n definiëring van die Christelike geloof diegene wat in die eerste drie eeue nC geleef het, en anders oor Jesus gedink en gepraat het, diskwalifiseer as Christene: “If Christianity is understood as a body of people who worship a Triune God, and Jesus Christ as truly God and truly a human being, then such a group emerged during the fourth and fifth centuries, not the first” (Kennedy 2006:137). Wie die Chalcedoniese definisie die toetsteen maak vir wat Christene moet glo om Christene te wees, sny alle Christene wat in die eerste tot die derde eeu geleef het, af.

Stevie Smith (1903–1971) ’n Engelse digteres het ’n skitterende gedig gemaak oor die vreemde en onlogiese redenasies wat in die Chalcedoniese definisie van die Christelike godsdiens voorkom. Hierdie gedig staan bekend as “Oh Christianity, Christianity” en lui soos volg:

Oh Christianity, Christianity

Oh Christianity, Christianity,

Why do you not answer our difficulties?

If He was God He was not like us,

He could not lose.

Can Perfection be less than perfection?

Can the creator of the Devil be bested by him?

What can the temptation to possess the earth have meant to Him

Who made and possessed it? What do you mean?

And Sin, how could He take our sins upon Him? What does it mean?

To take sin upon one is not the same

As to have sin inside one and feel guilty.

It is horrible to feel guilty,

We feel guilty because we are.

Was He horrible? Did He feel guilty?

You say He was born humble — but He was not,

He was born God —

Taking our nature upon Him. But then you say,

He was Perfect Man. Do you mean

Perfectly Man, meaning wholly; or Man without sin? Ah

Perfect Man without sin is not what we are.

Do you mean He did not know that He was God,

Did not know He was the Second Person of the Trinity?

(Oh, if He knew this, and was,

It was a source of strength for Him we do not have)

But this theology of ‘emptying’ you preach sometimes —

That he emptied Himself of knowing He was God — seems

A theology of false appearances

To mock your facts, as He was God, whether He knew He was or not.

Oh what do you mean, what do you mean?

You never answer our difficulties.

You say, Christianity, you say

That the Trinity is unchanging from eternity,

But then you say

At the incarnation He took

Our Manhood into the Godhead,

That did not have it before,

So it must have altered it,

Having it.

Oh what do you mean, what do you mean?

You never answer our questions.

Hierdie kort vertelling van die dogma-ontwikkeling gedurende die vierde en vyfde eeu het ons by Augustinus (354–430) laat verbygegaan. Hy was ’n belangrike teoloog van die vierde en vyfde eeu wat ’n besondere rol gespeel het om die geloof duidelik te verwoord. Teen die tyd wat hy op die toneel verskyn het, was die Christelike geloof reeds staatsgodsdiens. Hy het deur sy skrywes probeer om die Christelike geloof verstaanbaar te maak en om mee te werk in die skep van eenheid onder Christene. Hy het hom veral toegelê om Jesus se verlossing te verduidelik. Volgens hom het God aanvanklik ’n perfekte wêreld geskep. Die eerste mense het in ’n perfekte verhouding met God geleef, want hulle was na God se beeld geskep. Hierdie perfekte wêreld het egter in duie gestort toe Adam en Eva God se gebod oortree het. Dit het die beeld van God in hulle geskaad en die aarde en alles daarop verwronge gemaak. Jesus het egter as die ewige Seun van God gekom om die gevolge van die sondeval om te draai. Wie in Jesus se verlossing glo, sal wanneer die eindoordeel aanbreek, saam met God in sy hemel gaan woon. Diegene wat nie in Jesus se verlossing glo nie, sal deur God veroordeel en tot die hel verdoem word. Augustinus se totale teologie sentreer rondom drie momente: (1) sondeval, (2) verlossing, en (3) eindoordeel. Hierdie drie momente speel tot vandag toe nog ’n groot rol in die tradisionele Christelike geloof.

Die wetenskaplike studie van die Bybel wat gedurende die sewentiende en agtiende eeu op dreef gekom het, het daartoe gelei dat geleerdes Augustinus se sienings begin bevraagteken het. Sy idee van ’n sondeval en die dood as straf op sonde is deur meer en meer Bybelwetenskaplikes bevraagteken. Die volgende sake word gewoonlik beklemtoon:

  • Genesis 2–3 is ’n verhaal en nie geskiedenis nie — gevolglik is Adam en Eva verhaalkarakters. Mense kan tog nie een of ander sondige geneigdheid van verhaalkarakters erf nie!
  • Die dood word in die erfsondeleer voorgehou as straf op die oermense se sonde. Die verhaal van Adam en Eva weerspieël egter dat hulle sterflik geskep is. Daar wás nie ’n perfekte wêreld wat binne ’n oogwink in duie gestort het as gevolg van die sonde van Adam en Eva nie. Mense sterf nie omdat Adam en Eva gesondig het nie, maar omdat dit ’n patroon in die ganse heelal is. Ons weet vandag dat lewe en dood onlosmaaklik met mekaar saamhang. Op hierdie planeet vind ons die onafwendbare sikliese gang van geboorte en dood. Dit het niks te doen met God se straf op iemand se sonde nie.
  • Die dood is nie die gevolg van sonde soos Paulus sy lesers in Romeine 5 en 1 Korintiërs 15:20–28 wys wil maak nie. Dood hou verband met veroudering en aftakeling.
  • Geeneen van die ander tekste waarop die tradisonele belydenisskrifte hulle beroep (Genesis 2-3, Psalm 51, Romeine 5) het met erfsonde te doen nie. Dis ’n teologiese konstruksie wat aan die kerk mag gee om oor mense se lewens te beskik sodat slegs die kerk vergifnis namens God kan uitdeel.
  • Geeneen van die evangelieskrywers struktureer hulle verhaal oor Jesus rondom ’n sondeval van Adam en Eva nie. Die name Adam en Eva word nie eens vermeld in die eerste drie evangelies (Matteus, Markus en Lukas) nie.
  • Die totale Bybel ken nie ’n leerstuk van die sondeval nie. Wanneer ’n mens die Bybel noukeurig lees, is dit duidelik dat sonde saamhang met wat ’n mens doen. Mense is nie sondaars nie, en het ook nie sonde nie. Hulle doen wel sonde.

Wetenskaplike studie van die Bybel het nie net die dogma van ’n sondeval ondermyn nie, dit het ook die siening dat Jesus ’n middelaar tussen God en mens is in gedrang gebring. As daar nie ’n sondeval was nie, waarvan moet Jesus mense dan kom verlos of red? Waarom moes Jesus (die tweede Persoon van die Drie-eenheid) dan ’n menslike natuur aanvaar? Volgens die dominante Ou-Testamentiese Godsbeskouing het God nog altyd mense se sondes vergewe. Offers is nie nodig om God tot vergifnis aan te spoor nie. God het nog altyd vergewe ongeag of mense offers bring of nie. Die profete van die Ou Testament wys dikwels offers af as ‘n poging om God te manipuleer. God vergewe as mense erken dat hulle fouteer het. Dit is ’n gedagte wat dwarsdeur die Ou Testament aangetref word. Psalm 103 verwoord hierdie gedagte uitmuntend en dis nogal vreemd dat kerke lief is om hierdie psalm na die nagmaal te lees. Deur hierdie psalm na die nagmaal te lees, verwring Christene na regte die psalm. Hulle interpreteer dit aan die hand van die Augustiniaanse paradigma van sondeval – verlossing – eindoordeel. Volgens hierdie gebruik dank die psalmskrywer die Drie-enige God vir sy vergifnis wat in Jesus aangebied geword het.

Wetenskaplike studie van die Bybel het ook bygedra tot die besef dat die eerste drie evangelies Jesus glad nie as ’n goddelike persoon voorhou nie. Sodra Jesus nie meer aan die hand van die Augustiniaanse paradigma verstaan word nie, verval die vereiste dat Hy ’n goddelike natuur moet hê. Daardeur word die deur geopen om hom as mens binne sy konteks te verstaan. Vele Nuwe-Testamentici aanvaar vandag dat Jesus ’n doodgewone Joodse profeet en wysheidsleermeester was. Die Bybelwetenskaplike navorsing van die afgelope drie eeue het dus die weg geopen om los te breek van ’n teïstiese verstaan van God, want Jesus het nie ’n goddelike natuur nie en sit ook nie meer in die hemel aan God se regterhand nie. Hemel en hel is nie meer aanwysbare en bewoonbare plekke nie.

Om saam te vat, kan ons dus sê dat die wetenskaplike studie van die Bybel uitgewys het dat Augustinus die Ou Testament nie goed verstaan het nie. Daar bestaan nie iets soos erfsonde nie. Mense is nie verlore sondaars op pad na die hel nie. As daar dus nie iets soos erfsonde is nie, is daar ook geen rede waarom Jesus ’n goddelike en ’n menslike natuur moes gehad het nie. Dus hoef ons nie die redenasie te onderskryf dat Hy die tweede Persoon van ’n goddelike Drie-eenheid is nie. Om te argumenteer dat ’n teïstiese verstaan van God ’n voorvereiste vir die Christelike geloof is, hou dus nie meer steek nie.

3. Uitweë uit die probleem

Dit bring ons dan by die boek van Nigel Leaves met die titel The God Problem: Alternatives to Fundamentalism (2006). Dis belangrik om daarop te let dat hy van fundamentalisme praat. Christene wat van die standpunt uitgaan dat Augustinus se idees en die Chalcedoniese definisie van die Christelike geloof, die enigste moontlike paradigma (of raamwerk) is waarmee die teologie bedryf kan word, redeneer fundamentalisties. Dit wil sê hulle verabsoluteer een raamwerk. James Barr (1984:154) is reg wanneer hy skryf: “The fundamentalist thinks that his form of faith has always been in existence, because he does not study religion historically.” Sodra ’n mens die geskiedenis van die Christelike godsdiens bestudeer, word dit duidelik dat dit uit vroeë Judaïsme ontwikkel het. Vroeë Judaïsme was streng monoteïsties. Augustinus en die ander Latynse teoloë wat vir die Chalcedoniese definisie van die Christelike geloof verantwoordelik was, het met die Drie-eenheidsleer en die twee-nature-leer die Christelike godsdiens se bande met Judaïsme deurgesny. Maar daardeur het hulle dit ook vir latere Christene moeilik gemaak om enigsins anders oor Jesus te dink en te praat as hoe húlle oor Hom gedink en gepraat het. Leaves behandel in sy boek vier uitweë uit hierdie teïstiese fundamentalisme:

  • Eerstens John Shelby Spong se panenteïsme. Spong skryf veral in sy boek A New Christianity for a New World oor hoe Jesus binne ’n teïstiese verstaan van God ingetrek is. Beteken die afskeidneem van 'n teïstiese verstaan van God om afskeid te neem van God self? Hierop antwoord Spong met 'n hartlike “Nee!” Wat ons moet besef is dat ons voorouers ’n ervaring van die transendente probeer verwoord het. Hulle het daarvoor die begrip God geskep en benut. Die drie letters G-o-d verwys nie na ’n superwese wat buite die heelal woon en Homself elke minuut en uur van die dag besig hou met die bestuur van die heelal nie — alhoewel mense tot onlangs toe nog só oor God gedink en gepraat het. Die totale pakket van Christelike dogmas praat so oor God. Ons moet egter in ag neem dat niemand God/die goddelike afdoende kan beskryf nie. Ons kan slegs maar in vae terme oor God praat. Philip Kennedy (2006:255) stel dit soos volg: “Humans have no sure way of demonstrating that anything they ever say of God represents God in the least.” Die teïstiese verstaan van God lewer ’n oneindig hoeveelheid probleme in die wêreld waarin ons leef. Dink maar aan die idee dat God almagtig, alomteenwoordig, alwetend en liefdevol is. Neem dan die kwessie van die oneindige hoeveelheid lyding in die wêreld in ag. Spong kies daarom om liefs panenteïsties oor God/die goddelike te praat. Die goddelike is in alles te vind, maar die goddelike is ook meer as alles wat gesien, gehoor en bevoel kan word. Maar dis nie net Spong wat panenteïsties oor God dink nie. Daar is verskeie vooraanstaande teoloë wat paenteïsties oor God/die goddelike begin dink en praat. Onder hulle tel Gijs Dingemans van Nederland. In sy boek De stem van de Roepende: Pneumatologie (2001) wys hy daarop dat daar in die vroeë Christendom wel so ’n tradisie bestaan het. Dan is daar ook die boek In Whom We Live and Move and Have Our Being: Panentheistic Reflections on God’s Presence in a Scientific World (2004) van Clayton en Peacock.
  • Die tweede uitweg is dié van Don Cupitt en Lloyd Geering wat non-realisme beklemtoon. Hulle wys daarop dat mense metafore, simbole en beelde gebruik om uitdrukking te gee aan ’n spirituele ervaring. Daar is egter geen manier waarop hulle kan bewys dat daar iets bestaan wat agter die metafore, simbole en beelde lê nie. Vergelyk ook Philip Kennedy se opmerking waarna hierbo verwys is. Ons gebruik “God-spraak” om iets mee te doen, of om aan een of ander emosie uitdrukking te gee. Sommige “God-spraak” (“God speak”) of diskoerse oor God kan egter baie neerdrukkend wees en daarom moet ons bedag wees op wat ons met ons God-spraak maak.
  • Die derde uitweg is ’n nuwe soort “natuur-spiritualiteit”. Mense besef dat hulle deel is van alles wat op aarde leef en al geleef het. Mense staan nie los van alles nie, maar hulle lewens is ten nouste vervleg met alles rondom hulle. Anne Primavesi skryf in haar boek Sacred Gaia: Holistic theology and earth system science (London: Routledge, 2000) aangrypend oor hoe Christene nuut oor die aarde en hulle plek daarin behoort te dink en te praat.
  • Die vierde uitweg is “voetsoolvlak spiritualiteit.” Gewone mense skep vir hulle iets wat vir hulle sin maak. Hulle lees wyd, leen by verskillende godsdienstige tradisies en skep vir hulleself iets wat sin maak. Die boekie Die dag toe ons vir God gevang het: ’n persoonlike soeke na sin (Kaapstad: Queillerie, 1996) van Annelie Ferreira is ’n goeie voorbeeld hiervan. In die boek beskryf sy haar eie soektog om weer sin te vind na ’n tyd van depressie en pynlike herbelewenisse van haar pa se dood.

Ten slotte kan ’n mens vra: Watter een van hierdie uitweë is die korrekte een? Hierop sou ek wou antwoord: Nie een van hulle nie, maar almal. Ek vind dat ekself tussen die vier uitweë pendel en nie een van hulle verabsoluteer nie. Laastens moet ons ook die vraag beantwoord: As Jesus nie meer deel van ’n teïstiese Drie-eenheid is nie, beteken dit dat die Christelike geloof sonder inhoud is en dat ’n mens daarvan moet afskeid neem? Allesmins! Luister hoe verwoord Erhard Gerstenberger ’n Duitse Ou-Testamentikus die saak (en let daarop dat hy nêrens na die tradisionele dogmas verwys nie). Neem ook in ag hoedat sy omskrywings aansluit by die NHN se waardes:

The Christian faith

  • holds firm to the basic orientation of the world, our planet, which is favourable to life and the programme that is implanted in it: to offer the whole of nature possibilities of existing for millennia;
  • holds fast to the equality of all human beings, regardless of gender, age, race, nationality, profession, state of health, religion or confession;
  • engages critically with other faiths and ideologies, economic and political theories and practices which make self-interest the supreme value and exploit other human beings;
  • lives in the hope of a future improvement of the fate of all human beings whose human dignity is infringed, and of a conversion or humanization of those who rob others of the possibilities of life. (Gerstenberger 2002:306).

Dis hierdie soort beskrywing van die Christelike geloof wat my aanspreek en wat my steeds laat tuisvoel binne die Christelike tradisie.

Bibliografie

Barr, J. 1966. Old and New in Interpretation: A Study of the Two Testaments. London: SCM.

Barr, J 1984. Escaping from Fundamentalism. London: SCM.

Borg, M J 1997. The God we never knew: Beyond Dogmatic Religion to a More Authentic Contemporary Faith. SanFrancisco: HarperSanFrancisco.

Brierley, M. W. 1984. Naming a Quiet Revolution: The Panentheistic Turn in Modern Theology, in Clayton & Peacock 1984:1–15.

Clayton, P. & Peacock, A. (ed.) 2004. In Whom We Live and Move and Have Our Being: Panentheistic Reflections on God’s Presence in a Scientific World. Grand Rapids: Eerdmans.

De Klerk, W. 1998. Die vreemde God en sy mense. Kaapstad: Human & Rousseau.

Dingemans, G D J 2001. De stem van de Roepende: Pneumatologie. Kampen: Kok.

Ferreira, A 1996. Die dag toe ons God gevang het: ’n Persoonlike soeke na sin. Kaapstad: Queillerie

Gerstenberger, E S 2002. Theologies in the Old Testament. London: Continuum.

Kennedy, P 2006. A Modern Introduction to Theology: New Questions for Old Beliefs. London: I.B. Tauris.

Kuitert, H. M. 1997. Aan God doen. Baarn: Ten Have.

Labuschagne, C J 1994. Zin en onzin over God: Een kritische beschouwing van gangbare godsvoorstellingen. Zoetermeer: Boekencentrum.

Leaves, N. 2006. The God Problem: Alternatives to Fundamentalism. Santa Rosa: Polebridge.

Neil, J.D. 1984. God in Everything: A Layman’s Guide to the New Thinking. Sussex: Book Guild.

Prozesky, M 1992. A New Guide to the Debate About God. London: SCM.

Primavesi, A 2000. Sacred Gaia: Holistic theology and earth system science. London: Routledge.

Robinson, J.A.T. 1963. Honest to God. London: SCM.

Smith, S 1975. The collected poems of Stevie Smith. London: Allen Lane.

Spong, J S 2002. A New Christianity for a New World: Why Traditional Faith is Dying & How a New Faith is Being Born.San Francisco: HarperSanFrancisco.

Vorster, J N 2003. Wat sê die bybel regtig oor ... God? Pretoria: CB Powell Bybelsentrum, UNISA.

Weber, G. 1998. I Believe, I Doubt: Notes on Christian Experience. London: SCM.


WAT IS OPWINDEND IN GENETIKA EN HOE RAAK DIT ONS?

Prof. Henk Huismans
Hoof Genetika Department
Universiteit van Pretoria

6 April 2008

INLEIDING:

Die lesing beoog om ‘n oorsig te gee van enkele van die nuutste ontwikkelinge in Genetika en om op grond daarvan te probeer om ‘n paar antwoorde te verskaf op enkele van die vrae oor Genetika waarmee ons dikwels gekonfronteer word. Dit sluit vrae in oor evolusie, die menslike genoom en wat dit ons vertel oor die mens se verwantskap met die res van die biologiese wêreld. Daar is ook vrae oor die vordering wat gemaak is met die studie van genetiese siektes, klonering, embrionale stamselnavorsing en die rol van die omgewing in die uitdrukking en beheer van gene.

Sentraal in hierdie onderwerp staan nog steeds die “Sentrale dogma van die Molekulêre Biologie” wat reeds 50 jaar gelede deur Francis Crick geformuleer is as: “ Genetiese inligting vloei van DNA na RNA na proteïen”. Soos nou reeds algemeen bekend, bestaan DNA uit ‘n heliks van twee komplementere DNA kettings waarin vier verskillende nukleotiedbasispare mekaar afwissel om strukture van baie miljoene basispare in lengte te vorm. Dit is die volgorde van hierdie nukleotiedbasispare waardeur die volgorde van die aminosuurkettings in ‘n proteïen voorgeskryf word.

Elke spesifieke volgorde van drie basispare spesifiseer die inkorporasie van een aminosuur in die aminosuurketting van ‘n proteïen. Die totale som van alle erflike inligting wat in die DNA molekules in die kern van ‘n sel opgesluit lê, staan bekend as die genoom van ‘n sel of die ooreenstemmende organisme. By eukariote organismes soos plante en diere is die DNA verpak in die vorm van die chromosome wat voorkom in die kern van ‘n sel. Gene daarteenoor is slegs daardie klein, diskrete gedeeltes van die totale DNA genoom wat die genetiese inligting bevat vir die sintese van die RNA of proteïenprodukte wat deur die sel of organisme benodig word. In baie genome maak dit slegs 1-2% van die totale DNA volgorde uit.

Die inligting wat in die gene opgesluit lê, word op streng gereguleerde wyse oorgeskryf (getranskribeer) in ‘n RNA-vorm en daarna vertaal in die vorm van die aminosuurvolgorde van proteïene. Proteïene bepaal in hoofsaak die kenmerke van ‘n sel en by multisellulêre organismes, die eienskappe van die betrokke organisme. Die studie van die komponente, die beheer en gebruike van hierdie genetiese informasiestroom is die bron van baie van die belangrikste ontdekkings wat in Genetika gemaak is. Die inligting wat daaruit voortvloei, lewer nog steeds baie verrassings op.

GENOOM KARAKTERISERING:

‘n Volledige “genoomprojek” behels dat die volledige DNA-volgorde van al die genetiese materiaal van ‘n enkelsel of multisellulêre organisme bepaal word. Die grootste en duurste van hierdie projekte was die menslike genoomprojek wat in 1990 van stapel gestuur is en teen 2003 afgehandel was. Dit het 2.7 biljoen dollars gekos om die 3.2 biljoen basispare van die menslike DNA te bepaal. Slegs ‘n baie klein persentasie van die inligting word gebruik om proteïene te vervaardig. Die res het ander funksies of staan bekend as sogenaamde “junk DNA”.

Die DNA-volgordebepalingstegnologie het inmiddels geweldig verbeter en goedkoper geword. Vandag is meer as 600 prokariote genoomprojekte reeds voltooi asook meer as 65 eukariote genoomprojekte, insluitende die genoom van die muis, die vrugtevlieg, die sjimpansee, rys en baie meer. Meer as 2,000 nuwe genoomprojekte is in die pyplyn.

Die dataontploffing wat besig is om plaas te vind, gee vir die eerste keer ‘n volledige blik op hoeveel die menslike genoom van dié van ander spesies verskil, soos die sjimpansee, die muis en baie ander. Die mens en sjimpansee genoom het soveel as 95% ooreenkoms en ook die chromosomale organisasie van die ooreenstemmende volgordes stem baie treffend ooreen. Die mens en die muisgenoom daarteenoor het ongeveer 34% direkte ooreenkoms, maar in dié geval is die stukke DNA met direkte volgorde ooreenkoms tot ‘n groot mate verdeel oor verskillende chromosome en is daar opvallende verskille in chromosomale organisasie.

Die menslike genoomprojek het verder ook die verrassing opgelewer dat die mens aansienlik minder gene het as wat aanvanklik vermoed was. Die mens het nie veel meer as 20,500 gene nie. Dit is minder as die muis se 29,000 gene en nie veel meer as die 19,500 gene van die baie eenvoudige platwurm (C. Elegans). As ons die mens as meer “kompleks” as ‘n wurm of ‘n muis sou wil beskou, is dit wel duidelik dat die “kompleksiteit” van multisellulere organismes nie bepaal deur die aantal gene nie maar wel deur die manier waarop die gene beheer en uitgedruk word.

Die studie van geenbeheer het vandag baie belangrik geword en groot vorderings is op die gebied gemaak. Inligting oor ander genome soos die mitochondriale DNA genoom in die sitoplasma van die sel, het inmiddels ook baie goeie insig gebring oor biologiese verwantskappe en vrae aangespreek oor aspekte soos die migrasie van die mens uit Afrika en die genetiese verwantskappe tussen individue, spesies en families van verskillende organismes. Die hele veld van filogenetiese verwantskappe is vandag baie belangrik en word wyd toegepas in epidemiologiese studies van plant- en diere-siekteveroorsakende organismes, asook in die versameling van kennis oor en bewaring van die genetiese diversiteit in die natuur.

Genoom-analises het ook ‘n baie wye reeks toepassings gevind in die forensiese wetenskappe waar die rol van DNA in misdaadondersoeke en ouerskapbepalings al amper huishoudelike woorde geword het. Die groot gemak waarmee gene vandag geïsoleer, gekloneer, en gekarakteriseer kan word, het ‘n hele omwenteling op die gebied van die diagnostiek van genetiese siektes meegebring. Die voorgeboortelike identifikasie van genetiese siektes, soos Huntington se siekte wat eers later in ‘n lewensiklus tot uitdruking kom, is ‘n goeie voorbeeld.

GEEN-MANIPULERING:

Die groot vordering wat gemaak is met die genetiese manipulering van embrionale stamselle skep op sy beurt ook weer ander etiese en wetenskaplike uitdagings waarvoor ons almal te staan kan kom. Die aanvanklike skok dat diere gekloneer kan word, het al weer vervaag maar diere van byna alle huishoudelike en ander ekonomiese belang, soos beeste, skape, honde en katte is reeds suksesvol gekloneer uit volwasse weefsel. Transgeniese diere (veral muise) wat op die embrionale stadium gemanipuleer is om vreemde gene uit te druk, of waarvan belangrike gene geïnaktiveer is, is vandag algemene wetenskaplike hulpmiddels. Geneties gemodifiseerde plante met verbeterde eienskappe soos siektebestandheid is vandag algemeen.

Die ontwikkeling van metodes om embrionale stamselle te isoleer, te kweek en daarna deur middel van spesifieke behandeling te laat differensieer in verskillende tipe selle, soos bloedselle of neurologiese stamselle, het ook ‘n reeks nuwe uitdadings op die tafel geplaas. Dit het aanleiding gegee tot ‘n hele veld van navorsing waarin gekyk word of dit moontlik is om defekte hart-, brein- of bloedselle te vervang deur terapeutiese behandeling met ‘n nuwe generasie weefsel-spesifieke stamselle. Neurologiese siektes soos Parkinson se siekte, Alzheimers en andere is veral ter sprake.

Al hierdie vorderings is egter nog in ‘n baie vroeë stadium van ontwikkeling en slegs enkele kleindiere proewe is ter sprake. Daar is ook ‘n toenemende belangstelling in die rol wat stamselle kan speel in die vermeerdering van die selle van ‘n kankergewas. Hierdie kennis kan veral ‘n belangrike impak hê op die manier waarop sulke gewasse behandel behoort te word. Die isolasie, kweek en gebruik van menslike embrionale stamselle is en bly nog steeds kontroversioneel en gee dikwels aanleiding tot soms heftige debatte.

GEENFUNKSIE EN BEHEER:

Vrae wat hier tersprake is, is hoe kan ons die funksie van die verskillende gene kan bepaal? Hoe kan ons vasstel watter van die verskillende gene uitgedruk word en watter nie? Wat is die invloed van die omgewing op die uitdrukking van gene?

Van die belangrikste metodes om geenfunksie te bepaal, is die sogenaamde “knock-out” strategie waarin ‘n enkele geen of ‘n kombinasie van ‘n aantal gene van ‘n organisme geïnaktiveer word om te bepaal wat die invloed is op die ontwikkeling van en fenotipiese eienskappe van die hele organisme. Die gebruik van sogenaamde “knock-out” muise is veral belangrik in dié verband. In sulke muise word ‘n teikengeen in die muisembrio geïnaktiveer en die effek daarvan bestudeer in volwasse muise. Die benadering word vandag aangevul of vervang deur ‘n “RNA interference” (RNAi) benadering waarin die mRNA van die teikengeen afgebreek word of die vertaling daarvan verhinder word. Die benadering het ‘n groot impak op farmaseutiese en ander siekte-verwante navorsing. Die invloed van omgewingsfaktore op die manier waarop gene uitgedruk word (die epigenetika), is vandag ook ‘n florerende navorsingsveld met baie groot implikasies vir kanker en ander siektes. Die epigenetiese modifikasies behels dikwels iets soos die direkte chemiese modifikasie van DNA of die DNA verpakkingsproteïene en kan tot gevolg hê dat gene aan - of afgeskakel kan word. Die maniere om die aan- of afskakeling van gene te bepaal is vandag ook ‘n hoogs gespesialiseerde bedryf. In die “micro-arrayer” tegnologie word DNA-skyfies gebruik waarop kort DNA-fragmente van soveel as 1000 verskillende gene geïmobiliseer kan word. Die skyfies word gehibridiseer met kleur-gemerkte boodskapper-RNA om vas te stel watter van die 1000 gene uitgedruk word en watter nie. Die tegnologie het groot diagnostiese potensiaal. Dit kan gebruik word om vas te stel hoe kankerselle verskil van normale selle en dit kan gebruik word om behandeling voor te skryf in sekere gevalle.

DIE BELANG VAN RNA IN GENTIKA:

RNA is baie soos DNA, behalwe dat een van die suikergroepe verskil en een van die nukleotiede verskil van die van DNA. Dit is normaalweg in ‘n enkledraad vorm. Dit is die enkeldraad eienskap wat aan elke RNA molekuul ‘n unieke struktuur verleen omdat die RNA drade op hulle self terugvou vir maksimum stabiliteit en basispaarvorming. Hierdie struktuur verskaf aan die RNA ‘n reeks unieke eienskappe. So is dit byvoorbeeld vasgestel dat RNA ander RNA molekules kan opsny en in ander volgordes weer aanmekaar las en op die manier nuwe genetiese variasie kan skep. RNA is ook instaat om homself te vermeerder sonder die hulp van proteïene en kan homself dus kloneer. Ribosomale RNA besit verder die ensiematiese vermoë om die nukleotied-volgorde van ‘n RNA ketting te vertaal in die aminosuurketting van ‘n proteïen. Ook het RNA ‘n baie belangrike rol in die beheer van geenuitdrukking. RNA kan dus beide die rol van sowel DNA as stoor van genetiese inligting én die rol van proteïene as ensieme speel. Al hierdie gegewens het Walter Gilbert reeds in 1986 aangespoor om voor te stel dat die wêreld van lewende selle (soveel as 3.5 biljoen jaar gelede) vooraf gegaan is deur ‘n RNA wêreld van miskien 0.5 biljoen jaar waar RNA die rol van DNA en proteïene gespeel het. Uit die RNA wêreld het die lewende selle dan ontwikkel.

SAMEVATTING:

Ons weet vandag ‘n klein bietjie meer van ‘n veel groter geheel. Daar is nog geweldig baie om te ontdek maar ons moet nooit oorskat wat ons wel weet of wat ons wel kan doen nie


WIE IS JESUS IN 2005?

Pieter Craffert
2005-06-05

Wat weet ons van Jesus af? Wie was hy? Wie is hy?

Hierdie is vrae wat eintlik nie in een sessie hanteer kan word nie. Dit is onmoontlik om in besonderhede in selfs enkele aspekte van sy lewe in te gaan. Daarom wil ek vanoggend eerder aantoon dat wat ons weet, of dink ons weet, is geheel en al afhanklik van hoe ons die gegewens verstaan en interpreteer.

Laat ek begin met 'n aanhaling:

"Christus op aarde was 'n figuur wat volgens die geskrifte van vier van sy aanhangers vir die mens norme voorgehou het waarvolgens ons moet lewe. Dit is betreklik duidelik dat Hy bonatuurlike eieinskappe gehad het. Hy het op water geloop. Hy het uit water wyn gemaak. Hy het oor kennis beskik sonder om skool te gaan of aan 'n universiteit te studeer. Hy het 'n lyk wat al begin ruik het lewend gemaak" (Pik Botha in Rapport Perspektief 29 Mei 2005: 7).

Hierdie is nie wat die bronne sê nie, maar die produk van 'n sekere interpretasie vandag van wat hulle gesê het 2000jr gelede. Voordat dit verder verduidelik word, wil ek eers drie inleidende opmerkinge maak:

Eerstens, wat enige persoon van Jesus weet of aanspraak maak om te weet, berus op die gegewens in die Bybel. Elkeen van ons maak staat op die beskikbare bronne (wat vir almal dieselfde is) om aan te toon wie of wat Jesus was en is. Niemand het enige ander bron behalwe die aantal evangelies en enkele verwysings in Paulus se briewe nie. Die ander brokkies inligting is hoogstens bevestigend van bestaande kennis. Dus, wat ons weet of dink ons weet, berus inderdaad op wat die Bybel sê.

Tweedens, hierdie gegewens is nogal omvattend en vreemd. Ons het meer gegewens oor Jesus van Nasaret as oor die meeste figure uit daardie tyd. Ons het gegewens oor sy geboorte en lewe. Volgens die bronne was sy ma 'n maagd toe sy aan hom geboorte gegee het (of, reken sommige van die bronne, ten minste het sy swanger geword sonder die bydrae van 'n man); êrens aan die begin van sy lewe het hy tydens 'n doopplegtigheid visioenêre ervaringe gahad; hy het van plek tot plek gereis en siekes genees en bose geeste uit mense gedryf; tydens 'n besoek aan Jerusalem ontstel hy die Romeinse owerheid en word gekruisig; na sy dood is sy volgelinge oortuig dat hy weer aan hulle verskyn het en dat hy tydens so 'n besoek na die hemel opgevaar het. Breedweg is dit van die dinge wat die bronne aandui. Laat daar geen twyfel wees, net soos wat die aarde plat was en dig bevolk met talle nie menslike wesens, so was hierdie sake vir HULLE werklik.

Derdens, dit wat enige een dink hy/sy van Jesus af weet, is meer afhanklik van hoe die gegewens verstaan word as wat die bronne self sê. In kort, dit is nie wat die Bybel sê nie, maar hoe dit verstaan word wat bepaal wie of wat hy is en was. Met ander woorde, ons het 'n stel gegewens en sekere interpretasiestrategieë om sin te maak van die gegewens.

Oor een saak kan ons vandag seker wees: wie ookal iets oor Jesus sê, maak 'n historiese uitspraak. Dit wil sê, hoe jy dink die gegewens verstaan moet word om die historiese figuur tot verstaan te bring, berus op 'n vorm van historiese interpretasie. Ek wil kortliks wys op drie sulke interpretasistrategieë wat vandag beskikbaar is. Daarna sal ek dit baie kort aan die hand van twee voorbeelde illustreer.

 

1 Die tradisionele benadering sien Jesus as 'n supermens

Ek het hierbo reeds 'n voorbeeld gegee van so 'n interpretasie. Jesus was 'n soort superwese wat links en regs wonderdade gepleeg het. Volgens hierdie voorstellings vertel die tekste ons van 'n reeks bonatuurlike dinge wat 'n man in Galilea gedoen het, so 2000 jr gelede. Hoe kom mens by so 'n interpretasie uit?

  • 1.1 Die gegewens in die tekste word letterlik verstaan asof dit objektiewe gebeure beskryf wat enige redelike mens sou kon raaksien.
  • 1.2 Alle parallelle en soortgelyke verhale word geïgnoreer or ten minste nietig verklaar — slegs dié in die Nuwe Testament het waarlik gebeur. 'n Basiese aanname hier is: sulke dinge gebeur nie werklik nie, BEHALWE in die een geval in die geskiedenis.
  • 1.3 'n Bonatuurlike almagtige wese het spesifiek hierdie wonderwerke laat gebeur (alle ander soortgelyke vertellings uit daardie tyd is verdigsels). Dus, 'n teïstiese godsbeeld is 'n voorwaarde vir hierdie interpretasie strategie.
  • 1.4 Die kulturele aard en konteks van die verhale word heeltemal or grootliks geïgnoreer.

 

2 Die Jesus van die Jesus Seminaar

Die beroemde Jesus Seminaar beklemtoon dat moderne mense nie meer sulke verhale letterlik kan opneem nie. Daarom word die meeste van die gegewens as latere literêre of mitologiese skeppinge gesien wat niks vertel oor die lewe van Jesus nie. Slegs 'n klein persentasie van die tekste word dus as outentiek of histories beskou. Wat is die voorwaardes vir hierdie interpretasie?

  • 2.1 Ironies genoeg lees hulle die tekste ook op 'n letterlike manier — maw nie as kultureel eiesoortige verhale nie, maar as weergawes van hoe dinge werklik gebeur het.
  • 2.2 Die Jesus Seminaar reken egter net dat sulke dinge soos beskrywe (loop op die see, maagdelike geboortes, ens) nie kán plaasvind nie, en daarom mitologies is. Ek sê hulle lees dit ook letterlik: die tekste handel oor 'n maagd wat swanger word en omdat dit nie moontlik is nie, is dit mitologies.
  • 2.3 Neem alle parallelle verhale in ag, maar beskou dit ook as mites; Ignoreer die kulturele aard en konteks van die verhale en lees asof dit verslae is oor gebeure in ons wêreld; 'n Basiese aanname hier is: sulke dinge gebeur nie werklik nie, en daarom het dit ook nie met Jesus gebeur nie.

 

3 Die Jesus van Nasaret as Galilese spirituele mens van sy tyd

'n Kultuur-sensitiewe benadering verstaan die verhale en alle parallelle verhale binne die kulturele raamwerk waaruit dit kom. Dit neem die feit ernstig op dat die verhale deel was van hulle konstuksie en ervaring van die werklikheid. Kortliks die voorwaardes vir hierdie interpretasiestrategie:

  • 3.1 Die tekse word ook letterlik geneem, maar letterlik binne 'n andersoortige wêreldbeeld (soos om dit ernstig te neem as iemand sê sy voorouer het met hom gepraat, maar sonder om te dink jy moet dit ook aanvaar of ervaar).
  • 3.2 Alle soortgelyke en parallelle verhale oor spesiale geboortes, hemelvaarte, genesings, duiwel uitdrywings, besoeke deur gestorwe voorouers, ens ens word alles as werklike kulturele ervaringe en gebeure in daardie wêreld beskou.
  • 3.3 'n Basiese aanname van hierdie strategie is dat elkeen van ons in 'n eie kulturele werklikheid leef.
  • 3.4 Mens hoef nie 'n teïstiese godsbeeld (maw 'n goddelike wese wat wonders gedoen het) te onderskryf om steeds in hierdie verhale spore van goddelikheid te sien nie. Naas voorstellings van god as 'n persoon vergestalt sommige van die verhale die goddelike as 'n medemens, of 'n geneser ens.

 

4 Kom ek verwys kortliks na die twee voorbeelde wat totaal verskillend deur elke interpretasiestrategie hanteer word.

  • 4.1 Gegewens: Jesus was van Davidiese afkoms (geslagsregister, evangelies, Paulus)
    • Tradisionele benadering: gegrond op 'n letterlike lees en die verskeidenheid bronne word gereken Jesus was inderdaad 'n nakomeling van David.
    • Jesus Seminaar: onwaarskynlik omdat gegewens onvoldoende is, dit legendariese trekke vertoon en die bronne te veel verskille bevat.
    • Kultuur-sensitiewe benadering: vra na die funksie van geslagstegisters in daardie wêreld (dit was sertifikate van status en nie familie afkoms nie); aanvaar Jesus is so geteken, selfs deur sy tydgenote (maw dit kon deel van sy lewe gewees het), maar dit dui nie op sy familie afkoms.
  • 4.2 Maria se maagdelike bevrugting
    • Tradisionele benadering: oorgenoeg getuienis dat 'n Maria maagd was; 'n letterlike lees van tekste dui op ‘n wonderwerk deur 'n almagtige god en alle ander soortgelyke verhale is mites.
    • Jesus Seminaar: onwaarskynlik dat dit kon gebeur en daarom was dit mitologiese vertelling oor Jesus lank na sy dood;
    • Kultuur-sensitiewe benadering: verstaan alle verhale van spesiale geboortes as kulturele uitdrukkings van eiesoortige kulture; hou reken met antieke sieninge oor swangerskap wat aanvaar vrou was net 'n houer waarin 'n man 'n saadbaba kom plant; in daardie wêreld is dit nie snaaks dat 'n goddelike wese dieselfde funksie kon vervul nie. ('n Werklike wonder vir HULLE sou wees as 'n vrou swanger geword het sonder enige manlike saadbaba, maw sonder dat 'n manlike figuur (persoon of god) 'n saadbaba in haar geplaas het).

 

5 Slotopmerkings

  • 5.1 Hierdie is 3 verskillende verwoordings of verstaanswyses van presies dieselfde gegewens. Aldrie is maar net mensewerk. Elkeen van die verstaanswyses of verwoordings bring jou by 'n ander voorstelling van Jesus uit.
  • 5.2 Dit is nie die tekste wat bepaal wat jy oor Jesus glo of nie glo nie, maar die interpretasie strategie wat aangewend word
  • 5.3 Die argument dat iemand die Bybel verwerp of nie aanvaar wat die Bybel sê nie, is dus sinneloos. Wat wel verwerp of nie aanvaar word nie is spesifieke interpretasies van die Bybel. Waaroor ons moet praat is die implikasies van ons interpretasiestrategieë. Byvoorbeeld, is dit eties aanvaarbaar om ander mense se tekste te hanteer asof hulle nie belangrik is nie; met ander woorde, sonder inagneming van hulle eie kulturele werklikhede.
  • 5.4 Waar pas Jesus die verlosser van siele in?

    Alle uitsprake oor Jesus berus op sekere interpretasiestrategieë. Hierdie kom van die dogmatiese en ortodokse verstaan van die menslike toestand en 'n ewige heilsplan. Dit word gebruik om selektief sekere tekste te gebruik as teksbewyse. Dit is ook net mensewerk.


Literatuur

 

Karen Armstrong: The Case for God: What Religion Really Means— vandag), toon sy aan hoe die sukses van die logos, die menslike verstand, in die tyd van die Renaissance en die Verligting só oorweldigend was dat mythos gediskrediteer is — in só 'n mate dat wanneer mense bv. vandag sê: "Dis 'n mite", hulle bedoel dat dit nie bestaan nie. Ongelukkig het die teoloë onder die invloed van die kragtige logos gebruik begin maak van die kriteria van die wetenskap, sodat die mythoi van die Christendom as empiries, rasioneel en histories bewysbaar geïnterpreteer is. Sodoende het 'n breuk ontstaan tussen teologie en spiritualiteit, 'n breuk wat tot vandag voortduur.

Met die nuwe kennis van bv. die werking van die sonnestelsel danksy Newton e.a. is God beskou as 'n rasionele meester van die heelal. God het dus 'n "plek" gekry en kon verstaan word. So het die teologie afhanklik en 'n onderafdeling van die wetenskap geword. Dit het die teologie egter kwesbaar gemaak — toe die wetenskap in verskillende golwe op sy kop gekeer is, eers deur Darwin en later deur Einstein, het ook die teologie onder verdenking gekom. Twee moderne fenomene het hieruit ontstaan: fundamentalisme en ateïsme. "The defensive piety popularly known as 'fundamentalism' erupted in almost every major faith during the twentieth century." Christelike fundamentaliste, onder die invloed van die rasionalisme, wou 'n volkome rasionele, "wetenskaplike" en menslik verstaanbare geloof skep wat mythos sou afskaf ten gunste van logos, sonder enige onsekerheid. Die Bybel is dus letterlik gelees en as histories juis beskou.

Armstrong argumenteer dat die ateïsme van die huidige tyd 'n reaksie op fundamentalisme is eerder as op godsdiens as sodanig: "Historically atheism has rarely been a blanket denial of the sacred per se but has nearly always rejected a particular conception of the divine. At an early stage of their history, Christians and Muslims were both called 'atheists' by their pagan contemporaries..." Sy het egter nie veel ooghare vir die "Nuwe Ateïste" soos die skrywers Richard Dawkins, Christopher Hitchens en Sam Harris nie en beskou hul kritiek as oppervlakkig. Dis nie moeilik om die meer ekstreme, fundamentalistiese verskyningsvorms van religie af te skiet soos wat die Nuwe Ateïste doen nie; laasgenoemdes weier egter om met verteenwoordigers van die meer tradisionele hoofstroom in gesprek te tree.

In haar laaste hoofstuk kyk sy met optimisme na die postmodernistiese teologie, omdat dit praktyke, houdings en ideale herontdek wat vóór die moderne tydperk sentraal was. So bv. is die postmodernistiese fokus op relatiwiteit en die subjektiewe (bv. die mens en hoe hy/sy 'n belewenis ervaar) eerder as die objektiewe (bv. dit wat aanbid word) meer versoenbaar met die pre-modernistiese onsekerheid en mythos. Wat die nie-Christelike geloofstradisies betref, skryf sy dat Onsegbaarheid en Heiligheid in elke tradisie verskillend geformuleer word. Daar is belangrike verskille tussen Brahman, Nirvana, God en Dao, maar dit beteken nie dat die een 'reg' en die ander 'verkeerd' is nie: "...nobody can have the last word. All faith systems have been at pains to show that the ultimate cannot be adequately expressed in any theoretical system, however august, because it lies beyond the reach of words and concepts."

My reaksie:— konsekwent deurgetrek sou dit op 'n soort agnostisisme neerkom. Word verbale kommunikasie met die Christelike God in die vorm van gebed, selfs die Onse Vader, dan nie sinloos nie? Vir my is God se grootste geskenke die menslike verstand en taal, "die fyn net van die woord", die subtiele instrument waarmee ons met God en ons medemens kan kommunikeer, en wat deur die grondleggers van al die groot tradisies — Jesus, Boeddha, Mohammed, ens. — benut is om hul idees oor te dra.

In die breë het ek begrip vir haar strewe om terug te keer na "die onbekende God", om sodoende die Godsbegrip te stroop van al die wanopvattings wat mettertyd ontstaan het. Solank ons net nie die wiel probeer herontdek nie. Christene het 'n (weliswaar minuskule, en moontlik voorlopige) kennis van God as synde liefdevol, begrypend e.d.m. waaraan tog sekerlik nie getorring behoort te word nie? Miskien verstaan ek vir Armstrong verkeerd. Hoe ook al, dit is 'n pragtige boek en kry van my vyf uit vyf sterre.

Peter Louw is 'n taalpraktisyn, skrywer en digter (en seun van NP van Wyk Louw)  Vir my as leek op hierdie gebied was hierdie boek 'n skatkis met 'n massa inligting, temas en oorwoë menings, sodat dit meerdere male herlees behoort te word om alles te internaliseer. Haar bespreking van die Drie-eenheid is sensitief vir die subtiliteit van hierdie konsep, en het my nuwe respek daarvoor gegee. Net so het haar simpatieke siening van Islam dit ten doel om die huidige spanning met die Weste te verminder.

Ek kan nie fout vind met die strewe om God en wetenskap te skei, en om mythos weer tot sy reg te laat kom nie; maar is nie oortuig dat God so totaal onsegbaar en vir die menslike verstand absoluut onvatbaar is soos Armstrong te kenne gee nie

. London: The Bodley Head, 2009. 316 bladsye.

Karen Armstrong het as tiener 'n non geword, maar sewe jaar later die orde ontnugterd verlaat. Hoewel sy hierna 'n ateïstiese fase beleef het, het sy sedertdien weer meer spiritueel geword. Vandag is Armstrong een van die mees gerespekteerde en produktiefste skrywers oor religieuse sake, en sy is veral bekend vir die topverkoper A History of God (1993). Haar boeke word gekenmerk deur 'n uiters helder, kernagtige skryfstyl en enorme belesenheid wat nie net die Christendom nie, maar ook ander religieuse tradisies en die filosofie dek. Onder meer het sy biografieë oor Mohammed en Boeddha geskryf. Sy is ook 'n lid van die Jesus Seminar.

Armstrong gebruik haar eie ondervinding as bloedjong non en haar ontnugtering om die punt te maak dat die oorgrote meerderheid mense se religieuse opvoeding erg gebrekkig is. Mense word as kinders blootgestel aan bepaalde opvattings, wat egter met volwassenheid nie veel verder gevoer word nie: "We learned about God at about the same time as we were told about Santa Claus. But while our understanding of the Santa Claus phenomenon evolved and matured, our theology remained somewhat infantile. Not surprisingly, when we attained intellectual maturity, many of us rejected the God we had inherited and denied that he existed."

Dan kyk sy na die geskiedenis in 'n poging om groter helderheid te bring oor "God", en of dit wel hoegenaamd moontlik is om, via die rede en die menslike taal, iets sinvols oor God en goddelikheid te sê. Heelwat wanopvattings moet "ontleer" word voordat tot groter insig gekom kan word.

In Deel I, "The Unknown God" (30 000 VC tot 1 500 NC), bespreek sy die vroeë Godsbegrip asook ander tradisies soos die Boeddhisme, Hindoeïsme en Islam, en toon sy aan dat die vroeë wetenskap en die godsdiens nie in botsing was nie en mekaar aangevul het. In hierdie tydperk was daar twee erkende maniere waarop gedink, gepraat en kennis verwerf kon word, nl. logos en mythos (soos die ou Grieke dit genoem het). Logos was die rede; mythos was die simboliese, mitologiese verhale wat 'n ander soort waarheid behels het, wat mense gehelp het om die wêreld wat buite die domein van die rede lê, beter te verstaan. "Myth has been called a primitive form of psychology ... When Freud and Jung began to chart their scientific search for the soul, they instinctively turned to these ancient myths."

'n Voorbeeld van 'n Christelike religieuse mite is die skeppingsverhaal van Genesis. Volgens Armstrong is die gebeure in Eden nie 'n moraliteitsverhaal nie, maar 'n vertelling oor die begin van die mensdom. Adam en Eva is as 't ware nog in die baarmoeder; "...they have to grow up and the snake is there to guide them through the perplexing rite of passage to maturity ... We can see Adam, Eve and the serpent as representing different facets of our humanity. In the snake is the rebelliousness and incessant compulsion to question everything that is crucial to human progress; in Eve we see our thirst for knowledge ... and our longing for a life free of inhibition. Adam, a rather passive figure, displays our reluctance to take responsibility for our actions ... The rabbis of the Talmudic age understood this perfectly. They did not see the 'fall' of Adam as a catastrophe ... The characters of Genesis have moments of vision and insight but they are also presented as flawed human beings who have to contend with a perplexing God."

In hierdie Deel I probeer sy dan aantoon dat, vir die mense van daardie tyd, God en/of heiligheid onsegbaar was en nie vir die menslike verstand vatbaar nie. God kan net geken word via 'n toegewyde lewenstyl, geestelike dissiplines en/of rituele. Moderne mense het nie meer altyd hierdie insig nie en behoort hierdie ou spiritualiteit te herontdek.

In Deel II, "The Modern God" (1 500 NC

Peter Louw kan gekontak word by pnmlouw@mweb.co.za 

Boekbesprekings

 

Teologie op die markplein

Deur Sakkie Spangenberg

'n Versameling voordragte en kort artikels wat Sakkie se nadenke oor geloof, die wêreld waarin hy groot geword het en die eeu waarin hy tans leef, weerspieël. "Ek publiseer hierdie opstelle ter illustrasie dat alle teoloë kinders van hulle tyd is. Elke teoloog se nadenke dra die vingermerke van die tyd waarin hy of sy geleef het. Ek … meen dat teologie … tuishoort op die markplein waar mense gedagtes uitruil en oor die lewe nadink."

Teologie op die markplein  word uitgegee deur die C.B. Powell Bybelskool

Wat sê die Bybel regtig oor...

Hierdie is 'n reeks boekies wat deur die C.B. Powell Bybelskool uitgegee word met die bedoeling om huidige vraagstukke wat met die Bybel verbind word, op 'n deurdagte en histories-sensitiewe wyse te bespreek. Die volgende titels is beskikbaar:

Wat sê die Bybel oor...

  • Geslagsrolle? Deur Pieter Botha
  • God? Deur Johannes Vorster
  • Geloofsgenesing? Deur Pieter Craffert
  • Seks? Deur Johannes Vorster
  • die Hel? Deur Pieter Craffert
  • Homoseksualiteit? Deur Pieter Botha
Wat sê die Bybel regtig oor....  word uitgegee deur die C.B. Powell Bybelskool

Everyday life in the world of Jesus

Deur Pieter Botha

Die grootste deel van mense se daaglikse bestaan is omtrent onsigbaar. Maar net soos so baie ander magte waarvan ons onbewus is, word mens se werklikheid grootliks bepaal deur die kulturele reëls van die alledaagse leefwyse. So baie studies wat voorgee om historiese inligting oor destyds te bied, werk met die aanname dat daar net mans was wat heeldag in teologiese debatte gewikkel was. Met ander woorde, slegs 'n fraksie van 'n klein groepie mense se lewens word in sulke besprekings aangebied as "die wêreld van destyds". In hierdie boek word u bekend gestel aan werklike mense en hoe hulle daaglikse lewe regtig daar uitgesien het. Iemand wat belangstel in die tipiese, alledaagse ervaringe van die mense rondom en saam met Jesus sal besonder veel in dié boek vind.

Everyday life in the world of Jesus word uitgegee deur Biblia Publishers
en is beskikbaar by Protea Boekhuis of
by die C.B. Powell Bybelskool

Illness, health and healing in the New Testament world

Deur Pieter Craffert

Hoe is siekte en genesing in die bybelse tyd verstaan? Wat was die lewensomstandighede en lewensverwagting van mense in daardie tyd? Hierdie is sommige van die vrae wat bespreek word in die studie oor siekte en genesing in die bybelse leefwêreld. Daar word veral gekyk na Jesus as geneser en na die wyse waarop hy genees het asook die soort siektes wat hy genees het. Met behulp van kruis-kulturele materiaal word Jesus van Nasaret beskryf as 'n tipiese tradisionele geneser.

Illness, health and healing in the New Testament world word uitgegee deur Biblia Publishers
en is beskikbaar by Protea Boekhuis of
by die C.B. Powell Bybelsentrum

Mediating divine powers: 
perspectives on religion in the biblical world

Deur Pieter Craffert

Godsdiens word alte dikwels gesien as 'n stel dogmas en leerstellings waaraan mens gehoor moet gee. Daarom is dit maklik om die verskeidenheid vorme waarin godsdiens in die bybelse leefwêreld voorgekom het mis te kyk. Om die rede word die term "wyses van die bemiddeling van goddelike mag" in hierdie boek gebruik om te wys op die groot verskeidenheid middele wat 'n rol gespeel het in die bybelse wêreld. Dit sluit in heilige plekke wat goddelike mag bemiddel het (soos tempels en die grafte van afgestorwenes), objekte soos amulette en ander magiese voorwerpe wat deur omtrent elke persoon in daardie tyd gedra is en laastens persone soos genesers, duiweluitdrywers en wonderwerkers wat hul landskap gevul het. Elkeen van hierdie word met behulp van argeologiese, historiese en kruis-kulturele navorsing aan die lig gestel.

Mediating divine powers word uitgegee deur Bibla Publishers
en is beskikbaar by Protea Boekhuis of
by die C.B. Powell Bybelsentrum

Meditasie:
die gawe van stilte

Deur Piet Muller

"Wanneer die hart stil geword het, sal dit insig ontvang in die hoogtes en dieptes van kennis en die ore van 'n stil gees sal wonderlike dinge van God hoor". So het een van die vroeë kerkvaders, die Heilige Husegios van Vatos, vyftienhonderd jaar gelede geskryf. Hierdie peinsende tradisie het egter grootliks verlore gegaan. Tog is stilte nodig vir geestelike groei en innerlike ontwikkeling en selfs net om te herstel van die daaglikse stampe en stote van die moderne lewe. In hierdie boek word die drade van hierdie byna vergete Westerse tradisie weer opgetel om die moderne mens terug na mensself toe te lei.

Meditasie: die gawe van stilte word uitgegee deur Protea Boekhuis
en is daar beskikbaar of by LAPA Uitgewers

Eksperimentele teologie

Opstelle bymekaar gebring deur Pieter Botha en Eben Scheffler

'n Versameling van 12 opstelle waarin daar innoverend ge-eksperimenteer word met teologiese probleme. Die bydraers het hulleself tot vrymoedige en openhartige gesprek verbind en heelwat interessante besprekings is die produk daarvan. Dit is eksperimente in Afrikaans, deur Afrikaanssprekendes, om iets van die opwinding en waarde van teologie te wil herwin. Alhoewel daar vanuit 'n wye spektrum van tradisies en filosofiese strominge aspekte opgediep word, en nie een van die delnemers betwis dat veel nog gesê en deurdink moet word nie, is daar 'n duidelik strewe om 'n vervlegting van oud en nuut te maak wat sinvol vir sommiges onder ons kan wees. Die meeste bydraes worstel met hoe outentieke religieiuse ervarings vandag verwoord kan word.

Eksperimentele Teologie is uitgegee deur Unisa Uitgewers
en is beskikbaar by Protea Boekhuis of
by die C.B. Powell Bybelsentrum

Perspektiewe op die Bybel:
God se woord in mensetaal

Deur Izak Spangenberg

Sedert die Hervorming in die die sestiende eeu het heelwat water in die see geloop ten opsigte van Bybelstudie en -verklaring. Die ontwikkeling in die natuurwetenskap, die geskiedenis en die literatuurwetenskap het die verstaan en uitleg van die Bybel ingrypend beïnvloed. Baie Bybellesers wat nie weet hoe om hierdie verwikkelinge te verwerk in die studie van die Bybel staan dikwels verleë wanneer die interpretasie van die Bybel verskil van dié waaraan hulle gewoond gemaak is. Tog het die nuwere sienswyses bygedra tot 'n beter verstaan van die mense van wie die Bybel vertel, en van hulle leefwêreld. Die skrywer illustreer hierdie feit uitvoerig. Met behulp van die nuwe interpretasies is die Bybel so lewend en dinamies dat diegene wat dit lees die gevaar loop dat sy/haar lewe verander kan word!

Perspektiewe op die Bybel word uitgegee deur Van Schaik
en is beskikbaar by Protea Boekhuis

Meeting the living among the dead:
Burials, tombs and the afterlife

Deur Pieter Craffert

Die wyse waarop mense met die dood en dooies omgaan is dikwels 'n goeie weerspieëling van talle sieninge oor die lewe. Dit geen 'n goeie indruk van hoe mense hulleself sien in verhouding tot andere, tot die godewêreld en tot die heelal. In hierdie studie word begrafnisse, grafte en die lewe na die dood in die bybelse leefwêreld ondersoek. Grafte is, argeologies gesproke, een van die rykste bronne vir die verstaan van die bybelse leefwêreld en hul sieninge oor die lewe na die dood. Die ontwikkeling van die idee van 'n hel asook Jesus se moontlik graf word bespreek terwyl daar ook 'n kort bespreking van die bekende kleed van Turyn is.

Meeting the living among the dead word uitgegee deur Biblia Publishers
en is beskikbaar by Protea Boekhuis of
by die C.B. Powell Bybelsentrum

Protea Boekhuis
Posbus 35110, 
Menlopark, 0102
Telefoon: (012) 362-5683/4/5.
Burnettstraat 1067, Hatfield, Pretoria
protea@intekom.co.za
C.B. Powell Bybelsentrum
Posbus 392, Unisa, 0003
(012) 429 4581
faks: (012) 429 3525
muirn@unisa.ac.za
LAPA Uitgewers
Tel no.: (012) 401 0700
lapa@atkv.org.za
Biblia Publishers
Posbus 36595,
Menolopark, 0102
Tel. no:  (083) 339 1610

 

A New History of Early Christianity

Skrywer: 
Charles Freeman
Kritiese – en nare – blik op Skrif, kerk
Resensie in BEELD  2010-02-01 deur At van Wyk (historikus)
A New History of Early Christianity deur Charles Freeman, Yale University Press, Londen.

Hierdie boek is die eerste nuwe geskiedenis van die vroeë Christendom sedert Henry Chadwick se The Early Church van die 1960’s. Dié historikus, ’n Brit, praat met gesag oor die eerste net meer as vyf eeue; krities, maar met respek.

Hy ondersoek sy storie uit die Skrif, kerklike en ander skryfsels, oud en nuut, en sê wanneer hy deur ’n gebrek aan bronne gestrem word. In die 2000 jaar agtertoe is kosbare inligting verwoes – baie hiervan sedert die 4de eeu in die kerk se vervolging van mede-Christene en nie-Christene.

Die Christen se geweldstryd na buite en binne, met of sonder staatsgesag, krul soos ’n geroeste doringdraad dwarsdeur sy geskiedenis. Freeman soek na Jesus in die Nuwe Testament en bely ten slotte dat, hoe diep, perfek en opreg jou studie ook al is, dit onmoontlik is om die historiese Jesus te herskep of presies te sê wie Hy was en hoe Hy aanbid moet word. Die 19de-eeuse teoloog George Tyrrell het gesê as jy in ’n put afkyk op soek na die historiese Jesus, dit gewoonlik jou gesig is wat na jou opstaar. Wat dikwels vergeet word, is dat Jesus ’n Jood was, met die Judaïsme ’n vrugbare saailand vir sy boodskap – ’n besef wat tot versoening kan lei.

’n Probleem van die vroeë Christene was om ’n plek vir Jesus te kry langs of gelyk aan God. Petrus sien Jesus as mens (Engelse Bybel, Handelinge 2:22), Markus en Lukas stel hom laer as God en in Mattheus sê Jesus sy dissipels moet bekeerdes doop in die naam van die Vader, Seun en Gees – sonder klaarheid of die drie figure gelyk is of ’n hiërargie vorm.

Vir Johannes van die evangelie is Jesus laer as die Vader; maar hy haal Jesus aan: “Ek en die Vader is een” (10:30) en later: “Glo in my omdat Ek in die Vader is en die Vader in My” (14:11). Dié verse speel in die jaar 325 ’n groot rol in die besluit by Nicea oor die Drie-eenheid, maar vir Freeman is daar te veel teenstellings in die evangelies en is die res van die Nuwe Testament ewe onhelder om die verwantskap tussen Jesus en God te bepaal.

Die totstandkoming van die Drie-eenheidsbegrip word nie in dié resensie beklemtoon nie. Dis mensgemaak en vol politiek, soos Belhar; en die onliefde waarmee generasies keisers en biskoppe Jesus tot die Godheid verhef, lees nie soos ’n Jesusverhaal nie.

Ook dié boek laat jou nie juig en spring en dans nie, want die storie van die kerk is anders as van die kansel af. Wie loop voor: die Jesus-beweging met sy Joodse aanhang of die Paulus-beweging met sy fokus op nie-Jode? Tussenin kom ander groepe, elk ook met sy eie leerstuk(ke) – en wie het die waarheid? Dit raak ’n oop kompetisie wat in ’n magspel eindig en gewen word deur dié wat hulle van 313 af aan die kant van keiser Konstantyn bevind – hy bepaal die uitslag van die Drie-eenheidstemming in 325. Die wenners word tot die “ortodoksie” gedoop wat die “ou waarhede” verskans; en almal binne Christelike kringe wat van hulle verskil, is “ketters” – wat vervolg word.

Só word die vervolgdes van die ou bewind die vervolgers van die nuwe; en eintlik beteken “ketter” net aan watter kant van die draad jy staan – Freeman sê dit nie, maar dis soos “vryheidsvegter” en “terroris”.

Die kerk word ’n sosiale en ekonomiese mag wat in sy jag op ketters en nie-Christene tempels en monumente in besit neem of vermaal en biblioteke afbrand. Dit, tesame met die val van die Romeinse ryk in die 5de eeu, wis byna die kennis van die tyd uit en vertraag die intellektuele ontwikkeling van die Christenwêreld tot met die Renaissance.

Dis een van die groot redes vir die vreugdeloosheid van hierdie boek; en ’n ander is die nare kyk van die “vaders” op die vrou en seks, met die erfsonde wat later hierby aansluit. Paulus, onbepaald omstrede en raaiselagtig, voed tot vandag met sy kommer oor seksualiteit ’n paranoia oor die verlokking van die vrou en die euwels van gayskap. Kommer oor seksuele onthouding loop diep in die vroeë kerk, met Tertullianus wat die vrou noem “die duiwel se toegangspoort”.

Dan is daar Augustinus, een van die grootste geeste van die laat 4de en vroeë 5de eeu, wat die mens per skrif ewig vasknoop aan die erfsonde wat van Eva af seksueel van generasie na generasie oorgedra word. Die monnik Pelagius staan hom teë en sê, as dit waar is, wat is dan die sin van Jesus se leringe? Maar hy verloor.

Desondanks is die kerk ’n bolwerk teen armoede en lewer hy ’n enorme sosiale diens, benewens die geestelike anker wat hy bied.

Die boek pak sake aan waaroor geestelikes liefs swyg. Dalk wil hulle kritiek doodswyg, wat nie kan nie. Dalk is hulle bang vir hul eie antwoorde. Hoe ook al, hulle moet hier lees om by te bly.

Die boek kan bestel word by sales@yaleup.co.uk.
 

Die Agterhuis: Alphonso Groenewald

Skrywer: 
Anne Frank

Resensie deur Alphonso Groenewald 19 June 2008.

“O ja, ek wil nie soos die meeste mense vir niks geleef het nie. Ek wil nuttig wees of vreugde gee vir die mense wat om my leef en my tog nie ken nie, ek wil voortlewe, ook ná my dood!”

So skryf Anne Frank in Die Agterhuis, een van die mees gelese boeke ter wêreld. In hierdie dagboek vertel die tienderjarige Anne die boeiende verhaal van die Duits-Joodse gesin Frank wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in Amsterdam vir die Duitse besetters moes wegkruip. Die dagboek doen ook op aangrypende wyse verslag van die gewaarwordinge en gevoelens van ‘n jong meisie in uiters moeilike omstandighede.

Danksy hierdie vertaling van die bekende digteres en literator prof Lina Spies, kan Anne Frank nou ook vir die Afrikaanse leser in hierdie dagboek voortleef. Vir die eerste keer kan die Afrikaanse vertaling van dié beroemdste dagboek uit die Tweede Wêreldoorlog staan langs die tallose vertalings waarin dit verskyn het sedert die eerste publikasie darvan in 1947 in die oorspronklike Nederlands onder die titel Het Achterhuis.

In die “Inleiding” stel Spies dit dat die vertaling van die Anne Frank-dagboek die vervulling is van ‘n lewensideaal (p. 8). Sy maak dit duidelik dat haar ideaal om die dagboek te vertaal, ten nouste saamhang met haar digterskap wat in erns by die dagboek van Anne Frank begin het. Reeds as student het sy die film gesien wat gebaseer was op die boek. Dit, tesame met die verhoor van Adolf Eichmann in Jerusalem in 1961, was die stimulus vir haar eerste gedig “Vir Anne Frank van Het Achterhuis”: 

Hulle onthou die gaskamers, Auschwitz,

as van lyke, onsigbaar vervoer deur eensame riviere,

die meisie in haar sabbatrok,

wat in die dodeput afstort,

die vrou wat met sekslose sekerheid besef,

uit haar vervloekte bloed sal ‘n kind

die nuwe, vrye wêreld nooit weer vind …

 

Maar in die agterhuis was veel

menslikheid: Mevrou van Daan,

prikkelbaar-bevrees, vervelig-verwaand,

‘n moeder se subtiele verset,

omdat haar kind die vader liewer het …

 

En tog moes jy jou jong

ontwaking leer verstaan – alleen.

En wat het al jou vroulikheid gebaat?

Jy moes die laaste toevlug deel

vir nog ‘n Jood se veiligheid –

tandarts Dussel jou ongewenste kamermaat.

 

Toe het jy jou na hom gekeer:

blou agter ‘n berookte ruit en ‘n gordynde raam

het helder in sy oë kom leef …

maar die natuur verdra geen surrogaat –

jy het geweet, te lig bevind. Weer

moes Peter maar vir Mouschi streel

en vir ‘n troos het jy seisoenverward

pinksterrose en bloudruifies in een droom verbeel.

 

Meer as Jood of Christen het jy geweet

die mens se gees oorwin as hy

elke dag sy aartappels met vreugde eet.

(Uit: Digby Vergenoeg, 1971, Human & Rousseau, Kaapstad)

 

Nadat die Grüne Polizei op 4 Augustus 1944 hulle inval in die Agterhuis gedoen het, loop Anne se spoor na die deurgangskamp Westerbork in Drente, en van daar na Auschwitz waar sy vergassing vrygespring het. Uiteindelik sterf sy gebroke na liggaam en gees in die kamp van Bergen-Belsen, in die laaste instansie nie as ‘n slagoffer van ontbering en tifus nie, maar van die berekende moord wat die Holocaust (of Sjoa) in wese was (p. 10).

Ongeveer sestig jaar na die verskyning van die eerste Het Achterhuis skryf Spies – ‘n nie-Joodse vrou – die inleiding tot die eerste Afrikaanse vertaling van dié beroemde dagboek. Waarom dan ‘n vertaling in Afrikaans, die taal wat so nou verwant is aan Anne se geliefde Nederlands? Ons kan tog immers almal Nederlands lees? Of ook Engels – waarin ‘n aantal versies reeds verskyn het? Spies stel dit dat dit vir haar ‘n lewenstaak geword het om ook die Afrikaanse publiek in hulle moedertaal van ‘n goeie vertaling te voorsien. Sy wil egter beklemtoon dat Anne geen wonderkind, heldin of martelaar was nie, maar ‘n gewone tienermeisie; begaafd, maar gewoon. Die tragiese lê egter daarin dat ‘n gewone meisie moes sterf net omdat sy ‘n Jodin was. Dis juis deur middel van Anne Frank dat ‘n gesig gegee word aan die gesiglose sesmiljoen Jode wat berekend uitgewis is.

Deur middel van die publikasie van hierdie dagboek word die ideale wat Anne in haar dagboek uitgespreek het, uitgedra in die hoop op ‘n beter wêreld. Dis waar dat Anne se stem mense geroer en geïnspireer het, maar dis net so waar dat sy hulle ook bewus gemaak het van die kwaad, dat sy die liefde bely het in die aangesig van die haat en die goedheid van die mens in die aangesig van sy boosheid. In laaste instansie moet ons haar vader – Otto Frank – dankbaar wees vir die publikasie van sy dogter se dagboek. Daardeur het hy geweier om Anne prys te gee aan ‘n anonieme dood in Bergen- Belsen.

 

Anne Frank – Die Agterhuis is verkrygbaar by Protea Boekehuis   Tel.nr: (012) 362-5683 / 362-3444 / 362-6073

Epos: protea@intekom.co.za   Prys: R140-00     Of dit kan ook aanlyn bestel word by Kalahari.net (R119-00).

Die Agterhuis: Lina Spies

Skrywer: 
Anna Frank

Die vertaling van die dagboek van Anne Frank

Gekry vanaf teo.co.za

Die volgende is die lesing van prof Lina Spies gelewer in die Holocaust-Museum (Kaapstad), Maandag 16 Junie 2008, tydens die amptelike bekenstelling van die vertaling van die dagboek van Anne Frank.

Prinsengracht 263 verteenwoordig die bekendste gragtehuis in Amsterdam. Die huis dra die naam van die jong skryfster van die beroemdste dagboek uit die Tweede Wêreldoorlog, en wanneer trem 13 of 17 skuins oorkant in die Raadhuisstraat stop, kondig die kondukteur aan: “Westermark, Anne Frank-huis”. In daardie huis op Prinsengracht 263 het Anne haar dagboek geskryf waarvan sy nooit kon droom dat dit na haar ontydige en verskriklike dood wêreldbekend en sy ’n wêreldikoon sou word nie.

Die naam Anne Frank is lank reeds internasionaal ’n huishoudelike begrip en wen nog steeds aan bekendheid in ons “global village”. Tog bestaan daar oor die skryfster en haar dagboek skrynende onkunde, in die besonder in Suid-Afrika en onder Afrikaanstaliges. Ek kon in my vertaling uiteraard so getrou as moontlik bly aan die oorspronklike teks weens die noue verwantskap tussen Afrikaans en Nederlands. Hopelik kan dié vertaling in samehang met my uitvoerige inleiding bydra tot ’n bestryding van die onkunde oor die dagboek self, maar veral ook oor die skryfster daarvan. Die een is onlosmaaklik verbonde aan die ander. Vir my was die vertaling van Anne Frank se dagboek die vervulling van ’n lewensideaal. Uiteindelik kan die Afrikaanse vertaling staan naas die tallose vertalings waarin die dagboek verskyn het sedert die eerste publikasie daarvan in 1947 in die oorspronklike Nederlands onder die titel Het Achterhuis.

My eie verbintenis met die dagboek het begin as vierdejaarstudent aan die Universiteit van Stellenbosch in 1961 toe The diary of Anne Frank, die filmiese pendant van die verhoogverwerking deur die Amerikaanse egpaar Frances Goodrich en Albert Hackett, hier vertoon is. Veel meer nog as deur die film, is ek aangegryp deur die dagboek wat ek onmiddellik daarna in die oorspronklike Nederlands in die HAUM-boekwinkel kon koop en kon lees teen die agtergrond van die Eichmann-verhoor wat in daardie selfde jaar, 1961, in Jerusalem plaasgevind het. Vir die eerste keer is ek gekonfronteer met die gruweldade van die Nazi’s, waarvan Anne ook die slagoffer geword het. Die dagboek en die Eichmann-verhoor was die stimulus vir my gedig “Vir Anne Frank van Het Achterhuis” die eerste gedig van my wat my mentor en professor, die digter D.J.Opperman, sonder meer goed gevind het.

Watter beeld het ek agt-en-veertig jaar gelede van Anne Frank gevorm? Word ek die leser van my eie gedig, lees ek in my poëtiese weergawe van die net van komplekse menseverhoudings waarin Anne gevange gesit het in die skuilplek van agt Jode in die agterste gedeelte van die gragtehuis op die Prinsengracht – in kontras met die terreur teen die Jode in die buitewêreld – haar moeisame verowering van en behoud van eie identiteit. Uit my gedig blyk dat ek in my beeldvorming van Anne die klem verskuif het van haar konflikterende gevoelens oor haar mede-Agterhuisbewoners na haar geesteskrag en oorwinnende optimisme. Daardeur het ek gevaar geloop om haar te “mooi” voor te stel en afbreuk te doen aan die veelkantigheid van haar persoonlikheid. Ek was uiteraard toe nog onbewus van die Anne Frank-kultus waardeur Anne die mees geïdealiseerde en gefalsifiseerde ikoon geword het uit ’n periode van verskrikking wat behoort tot van die ergste uit die wêreld-geskiedenis. Omdat my gedig wel uitdrukking gee aan die terreur teen die Jode as die milieu van die lewe in die Agterhuis, glo ek dat ek tog nie met dié gedig ’n bydrae tot die Anne Frank-kultus gelewer het nie.

Ook in die Afrikaanse media is die afgelope twee jaar aandag aan Anne Frank bestee. In Die Burger van 19 Maart 2007 het Maureen Joubert ’n mooi artikel geskryf met as opskrif “Anne Frank se boom van hoop”. Joubert verskuif egter onwillekeurig die klem weer te sterk na die dagboek as ’n dokument van hoop, want sy skryf onvermydelik binne die kader van die kultus. Toe die honderd-en-sewentigjarige kastaiingboom in die buurtuin waarop Anne in haar gedwonge afsondering van die buitewêreld kon uitkyk, onlangs weens swamsiekte en ouderdom moontlik uitgekap sou moes word, het dit ‘n soort globale histerie veroorsaak wat mens die “red-die-boom”-aksie kan noem. Deur allerlei maatreëls van boomchirurge bly die boom voorlopig staan.

Anne het maar enkele kere – ek meen drie maal – oor die kastaiingboom geskryf, bv. op 18 April 1944: “Ons het na ons milde wintertjie weer ’n pragtige lente. April is inderdaad verruklik, nie te warm en nie te koud nie, met so nou en dan ’n reënbuitjie. Ons kastaiingboom is al taamlik groen; hier en daar is daar al bloeisels soos klein waskersies aan.” En op 13 Mei1944 skryf sy dat die vorige dag – haar vader se verjaarsdag en haar ouers se huweliksherdenking – “die son geskyn het soos wat dit in 1944 nog nie geskyn het nie” en vervolg: “Ons kastaiingboom staan van bo tot onder in volle bloei; hy is vol blare en veel mooier as verlede jaar.”

Natuurlik begryp ek die sentiment oor die boom, maar met dié voorbehoud dat die boom deel was van die natuur as sodanig wat Anne net vanagter vensterruite en meesal deur skrewe tussen gordyne kon waarneem. Die boom “staan” in eerste instansie in die dagboek van Anne Frank en nie in die buurtuin van die Agterhuis nie. Anne Frank se natuurbelewenis het vir haar ’n transendente sin gehad, omdat deur wat sy kon waarneem – en dit was veel meer as die kastaiingboom – sy haar verbonde gevoel het met God. Die kastaiingboom figureer ook in Anne se inskrywing van 23 Februarie 1944 en juis uit daardie passasie blyk hoe Anne se natuurbelewenis – in samehang met haar ontwakende liefde vir Peter – vir haar religieuse dimensies aanneem. Sy vertel hoe sy saam met Peter van die solder af na buite gekyk het en watter gewaarwordinge dit in haar gaande gemaak het:

“Van my lieflingsplekkie op die grond af het ek na die blou hemel gekyk, na die kaal kastaiingboom aan wie se takke klein druppeltjies geskitter het, na die meeue en die ander voëls wat in hul vlug silwer gelyk het. Dit het my en Peter aangegryp en ontroer sodat ons nie kon praat nie... Maar ek het ook uit die oop venster oor ’n groot stuk Amsterdam uitgekyk, oor die dakke tot aan die horison wat so ’n ligte blou was dat die skeiding tussen land en lug byna onsigbaar was.

‘Solank dit nog bestaan’, het ek gedink, ‘en ek dit mag beleef, dié sonskyn en dié hemel waarin daar geen wolk is nie, so lank kan ek nie treurig wees nie.’

Vir elkeen wat bang, eensaam of ongelukkig is, is die beste teenmiddel om na buite te gaan, êrens waar hy heeltemal alleen kan wees, alleen met die natuur en met God. Want eers dan, slegs dan voel ’n mens dat alles is soos dit moet wees en dat God mense in die eenvoudige en mooi natuur gelukkig wil sien.”

In my omvattende inleiding tot my vertaling gaan ek intensief in op die oorsake van die ikonisering van Anne Frank en probeer ek ook om die feitelike agtergrond waarteen die dagboek ontstaan het, duidelik te belig, om sodoende die leser in staat te stel om Anne se dagboek met die grootste mate van begrip en sonder vooroordele te lees. Dit is ’n doel wat my weer helder voor die gees gestaan het by die lees van ’n anonieme artikel in Die Burger van 9 Januarie 2008 onder die opskrif Dagboek van Anne Frank in Spaanse musiekblyspel omskep. Dié artikel is ’n sprekende voorbeeld van die pynlike gebrek aan kennis oor Anne Frank en haar dagboek waaroor mens nie weet of jy moet lag of huil nie. Om mee te begin, kan van die dagboek van Anne Frank in der ewigheid nooit ’n “blyspel” gemaak word nie, dus verkies ek die Engelse benaming “musical”. (Kan ’n mens nie maar doodgewoon van ’n “musiekspel” praat nie?) In dieselfde trant word in dié artikel na Anne verwys as die “meisietjie” wat in die Tweede Wêreldoorlog saam met haar familie “van die Nazi’s geskuil het”. Behalwe dat die formulering veel te wense oorlaat, hou ek nie van verkleinwoorde nie en in dié geval gru ek daarvan en besef ek net hoe ontstellend onbekend die joernalis met die dagboek moet wees om Anne ’n “meisietjie” te noem.

Die volgende paragraaf as illustrasie van die joernalis se pynlike onkunde word byna lagwekkend: “Anne het haar dagboek geskryf terwyl sy en haar familie in ’n geheime kamer agter ’n boekrak in ’n pakhuis langs een van die kanale geskuil het.” Hier is voorwaar welkome “bewysmateriaal” vir diegene wat die outentisiteit van die dagboek en implisiet van die Holocaust wil ontken. Hoe op aarde kan mense vir 25 maande in ’n kamer oorleef en hoe sou Anne in dié omstandighede ’n dagboek kon gehou het?

Maar om by feite te kom: Vir vyf-en-twintig maande het die Frank-gesin (Otto en Edith en hulle twee dogters Margot en Anne), die gesin Van Pels (Hermann en Augusta en hul seun Peter) en Fritz Pfeffer ondergeduik in die agterste gedeelte van die gragtehuis op Prinsengracht 263. In die voorste gedeelte van dié gragtehuis was die kantore van Opekta gehuisves, ’n bedryf wat ’n stolmiddel vir konfyt vervaardig het en wat deur Otto bestuur is. Die maak van speserye is daarby betrek toe Hermann van Pels, ’n kenner op dié gebied, Frank se vennoot geword het. Beide die families Frank en Van Pels, en tandarts Fritz Pfeffer, was Joodse uitgewekenes uit Duitsland wat die hoop gekoester het dat hulle in Nederland sou ontkom aan die uitroeiingskampanje van die Nazi’s teen die Europese Jodedom. In die lang periode waartydens hulle nooit ’n neus by die deur kon uitsteek nie en slegs van hul helpers, almal in diens van Opekta – Johannes Kleiman, Victor Kugler, Miep Gies en Bep Voskuijl – besoek ontvang het, het menseverhoudinge noodwendig gespanne geraak en hoë eise aan al agt onderduikers gestel.

Behalwe my indruk by die eerste lees van die dagboek van Anne Frank as adolessent se soeke na eie identiteit, was ek ewe sterk bewus van Anne se groeiende wete van haar talent om te skrywe waarmee die droom om eendag ’n beroemde skryfster te word gepaard gegaan het. Die present waaroor Anne haar op haar dertiende verjaarsdag op 12 Junie 1942 die meeste verheug het, was die dagboek wat sy vooraf saam met haar vader uitgesoek het: ’n gebonde blanko boek met ’n geruite omslag wat met ’n slotjie sluit. Aanvanklik is sy onseker wat dagboekhou nou eintlik beteken, maar al gou besluit sy dat haar dagboekinskrywings die vorm moet aanneem van briewe aan ’n verbeeldingsvriendin wat sy Kittie genoem het. Kittie moes die plek inneem van die ideale vriendin wat Anne, ondanks hegte kameraderie, nie by haar vriendinne gevind het nie.

Slegs enkele kere kon sy aan Kittie skryf oor die alledaagse dinge wat haar as Amsterdamse skoolmeisie beroer het. Toe sy van die een dag op die ander uit hierdie sorgvrye skoolmeisielewe geruk is in die afsondering van die agterhuis, het die dagboek haar onmisbare vertroueling geword. Sy het die leegte wat met die onderduiksituasie ontstaan het vol geskryf en so het haar dagboek in laaste instansie uitdrukking gegee aan die menslike kondisie wat gekenmerk word deur ’n blywende gemis waarvoor daar geen toereikende vervulling in hierdie lewe gevind kan word nie.

Dit is ironies en paradoksaal dat in die afsondering van die Agterhuis Anne moes veg vir dié afsondering – dié private ruimte – wat ’n vereiste is om te kan skryf. Toe die Franks en Van Pelse besluit het om ter wille van die redding van nog ’n Jood, Fritz Pfeffer as agste onderduiker in te neem, het Margot na haar ouers se kamer verhuis en Pfeffer by Anne ingetrek. Dit was ’n vreemde reëling, maar elke reëling in die abnormale onderduiksituasie was vreemd. Dit was onvermydelik dat Anne binne die kortste tyd ’n grondige hekel in haar kamergenoot gekry het en hom die naam Dussel in haar dagboek gegee het, wat ’n dom mens beteken. Haar onbetwisbare literêre talent blyk uit haar beskrywing van die stryd tussen haar en Dussel om die gebruik van die gesamentlike tafeltjie in hulle kamer.

Anne gaan met die redelike versoek na Dussel om twee ekstra middae van vier tot halfses oor die gebruik van die tafeltjie te beskik, waar sy normaalweg van halfdrie tot vieruur daar mag werk, terwyl Dussel slaap. Sy loop haar egter teen ’n dooie muur vas. Sy sit by die tafeltjie en brei of lees oor die mitologie en watse werk is brei en mitologie nou? Anne gee die stryd nie gewonne nie en nadat sy haar pa om raad gevra het, wag sy Dussel na die aandete in. Die gesprek wat sy weergee, is een van die skitterendste voorbeelde van haar vermoë om dialoog te skryf.

Sy wys Dussel op die redelikheid van haar versoek: “‘Ons het in die begin toe u hier aangekom het, afgespreek dat hierdie kamer ons s’n saam sou wees. As die indeling dus reg was, sou u die môre en ek die hele middag gekry het! Maar dit vra ek nie eens nie en ek dink dat twee middae per week tog wel billik is.’” Die tirade van Dussel wat hierop volg, is ’n voorbeeld van humor en ironie op sy beste. Uiteindelik gee Dussel toe: “‘Maar ja, met jou kan mens nie praat nie! Jy is ’n skandelike egoïs; solank jy maar jou wil kan deurdryf moet almal padgee. So ’n kind het ek nog nooit gesien nie! Maar per slot van rekening sal ek tog genoodsaak wees om jou jou sin te gee, want anders hoor ek later Anne Frank het haar eksamen gedruip, omdat meneer Dussel haar tafeltjie nie aan haar wou afstaan nie’”. In hierdie humoristiese dialoog breek die besef deur van hoe benouend dit vir ’n dertienjarige meisie en ’n vier-en-vyftigjarige man moes gewees het om ’n kamer te deel. Terwyl die leser nie anders kan as om te lag by so ’n inskrywing – waarvan daar heelwat is – nie, sterf die lag al gou op jou lippe.

“So ’n kind het ek nog nooit gesien nie!”, sê Dussel. Wie was hierdie kind wat soveel mense glo dat hulle ken, werklik? Dit is die vraag wat Cynthia Ozick stel in haar provokerende artikel “Who owns Anne Frank?” in The New Yorker van 6 Oktober 1997. Ozick wys daarop dat die “dagboek van Anne Frank” nie die “lewensverhaal van Anne Frank” is nie. Nadat die Grüne Polizei op 4 Augustus 1944 die inval in die Agterhuis gedoen het – en Anne se geskrifte op die vloer bly lê het waar Miep dit later gevind het – loop Anne se spoor na die deurgangskamp Westerbork in Drente en vandaar na Auschwitz waar sy vergassing vrygespring het, om te eindig in Bergen-Belsen waar sy gebroke na liggaam en gees gesterf het. Dit is hierdie essensiële ontbrekende slot, sê Ozick, wat daarvoor verantwoordelik is dat die verhaal van Anne Frank soos dit in die dagboek vervat is, geëkspurgeer, verdraai, verander, kinderagtig gemaak, veramerikaniseer, versentimentaliseer, verkitsch en op ’n blatante wyse ontken is (1997:85).

Ozick hou veral die drama van Goodrich en Hackett daarvoor verantwoordelik. Anne word in dié drama volgens haar ’n lewendige, parmantige “all-American girl” en sy besluit: “The passionately contemplative child, brooding on concrete evil, was made into an emblem of evasion” (1997: 85). In Nederlands kom Denise de Costa in die voorafgaande jaar 1996 tot dieselfde gevolgtrekking in haar indringende studie: die dagboekskryfster wat weet en verslag doen van die verskriklike lot van die Jode wat in die buitewêreld voltrek word, kom ten opsigte van haar beskouende aard nie in die toneelstuk tot haar reg nie: “Deze ‘Anne van de dagboeken’ is een rijke, complexe persoonlijkheid” (1996:24).

Ek gee Ozick en De Costa gelyk, met dié kwalifikasie dat die twee Annes wat hulle teenoor mekaar stel albei in die dagboek aanwesig is: die bekkige tiener en die beskouende Jodin. Anne het dit trouens self by herhaling oor die twee teenstrydige kante van haar persona: die ekstroverte Anne wat sy meesal aan haar mede-onderduikers toon en die introverte, hipersensitiewe Anne met haar onvervulde verlangens en haar soeke na haar wesenlike identiteit. Haar soeke na identiteit hang veral met drie aspekte van haar menswees saam: haar spiritualiteit, skrywerskap en seksualiteit. Alhoewel ’n bewussyn van die Joodse godsdiens Anne nie ontbreek het nie, ontwikkel sy ’n sterk persoonlike spiritualiteit in samehang met haar versnelde ontwikkeling tot volwassenheid en haar menslike groei. Spiritualiteit en liggaamlikheid/sintuiglikheid is vir haar nou met mekaar verweef. Sy voel haar na aan God in die halfjaar wat sy op Peter van Daan verlief is. Die skoonheid van die natuur, haar ontwakende seksualiteit met die daarmeee gepaardgaande begin van menstruasie ervaar sy as ’n verbinding met die transendente. Op dié wyse skryf sy teen die Joods-Christelike tradisie in dat ’n menstruerende vrou onrein is.

Anne het haar as ontluikende skryfster sterk vereenselwig met die Nederlandse taal, maar ook met Nederland en die Nederlanders en haar mede-Agterhuisers verbaas dat sy so Oranjegesind was. Terselfdertyd was sy haar diep bewus van haar Joodwees. Na ’n angsnag waartydens ’n inbraak plaasgevind het en die Agterhuisers gevrees het dat hulle ontdek sou word, skryf Anne op 11 April 1944 in ’n brief aan Kittie oor haar dubbele identiteit:

“Daardie vreeslike nag het ek eindelik geweet dat ek moes sterwe; ek het op die polisie gewag, ek was bereid, bereid soos soldate op die slagveld. Ek wou my graag opoffer vir die vaderland, maar nou, nou dat ek weer gered is, sal my eerste wens na die oorlog wees: maak my Nederlander! Ek is lief vir die Nederlanders, ek is lief vir die land, ek is lief vir die taal en wil hier werk. En al sal ek aan die koningin self moet skryf, sal ek nie wyk voor my doel bereik is nie!”

Maar in dieselfde brief skryf Anne ook hoe sterk sy in dié nag daaraan herinner is dat hulle vasgekettingde Jode is en sy vervolg:

“ Wie het hierdie las op ons gelê? Wie het ons Jode tot ’n uitsondering onder die volke gemaak? Wie het ons tot nou toe so laat ly? Dit is God wat ons gemaak het, maar dit sal ook God wees wat ons ophef. As ons al die leed dra en daar tog nog Jode oorbly, dan sal Jode eenmaal van gedoemdes tot voorbeelde word. Wie weet, miskien sal dit nog ons geloof wees wat die wêreld en dus alle volkere leer wat goed is en daarvoor, alleen daarvoor, moet ons ook ly. Ons kan nooit net Nederlanders of net Engelse of wat ook al wees nie; daarnaas sal ons nog altyd Jode bly; ons sal Jode bly, maar ons wil dit ook bly.”

Uit hierdie besinning oor haar identiteit met al die botsende emosies en vrae wat dit in haar oproep, blyk dat Anne Frank se dagboek seerseker nie ’n “ode aan die lewe” is nie. Ozick (1997: 78) stel dit onomwonde: “The diary is not a genial document, despite its author’s often vividly satiric exposure of what she shrewdly saw as ‘the comical side of life in hiding’. Its reputation for uplift is, to say it plainly, nonsensical”. Oor die lot van die Jode in die buitewêreld – wat sy vrees haar ook nog gaan tref – kan sy vir haarself ’n skrikwekkend duidelike voorstelling maak: “Ek sien saans in die donker dikwels die rye goeie, onskuldige mense loop, met huilende kinders, steeds maar loop, gekommandeer deur so ’n paar kêrels, geslaan en gepynig, tot hulle omtrent neerval. Niemand word ontsien nie, oues van dae, babas, swanger vroue, siekes, almal, almal gaan saam in die tog na die dood.” Hierdie aangrypende woorde wat Anne skryf onder die datum 19 November 1942 het ek bewus so direk moontlik in Afrikaans weergegee, selfs al sou ’n meer idiomaties-Afrikaanse vertaling moontlik gewees het.

Wat die vertaling van die dagboek betref, is dit belangrik om te weet dat Anne nie net een dagboek nagelaat het nie en dat daar verskillende versies van haar dagboeke bestaan: ’n oorspronklike versie in die gebonde dagboek wat sy op haar dertiende verjaarsdag present gekry het en twee skoolskrifte waarin sy voortgegaan het toe die gebonde een vol was (versie a) en ’n herskrewe versie op los velle (versie b). Anne het met die oorskrywing ongetwyfeld publikasie na die oorlog in gedagte gehad. Van die a-versie het die periode Desember 1942 tot Desember 1943 verlore geraak, maar dit het gelukkig op die herskrewe velle bewaar gebly. Die eerste teks wat as Het Achterhuis in 1947 verskyn het, is deur haar vader Otto Frank, die enigste een van die Agterhuisers wat die kampe oorleef het, saamgestel uit versie a en versie b. Dit staan tans bekend as die c-versie.

Al drie versies verskyn in die Kritiese Uitgawe van die RIOD – tans die NIOD (Nederlands Instituut voor Oorlogsdocumentatie) – wat in 1986 verskyn het, direk onder mekaar. Die leser kan dus die weergawes vergelyk. Ondanks verskille bly die stramien dieselfde en het dit vir die neo-Nazi’s en ander ontkenners moeilik geword om die egtheid van die dagboek in twyfel te trek. Aan die hofsake in dié verband wil ek geen woorde vuil maak nie: Dit is onteenseglik bewys dat al die geskrifte wat op 4 Augustus 1944 deur Miep Gies na die inhegtenisname in bewaring geneem is – waar dit op die vloer bly lê het waar een van die invallers dit uit Otto Frank se aktetas gegooi het – van die hand van Anne Frank is.

Die Kritiese Edisie van die NIOD het gelei tot die jongste uitgawe van die dagboek wat in die Amerikaanse vertaling aangekondig, gereklameer en versprei word as “The Definitive Edition”. Dit is ’n uitgebreider weergawe van die a- en b-versies en as samestellers word genoem Otto Frank en Mirjam Pressler, die Duitse vertaler van die dagboek, maar toe dié uitgawe in 1991 verskyn het, was Otto Frank al meer as tien jaar dood. Daar sal nooit ’n finale weergawe van Anne Frank se dagboek wees nie; dit is in die woorde van Denise de Costa “eeuwig onvoltooid”. Maar die eis om die 1991-weergawe te vertaal, maak dit wel vir ’n vertaler maklik. Mens sidder om te dink wat sal gebeur as ’n vertaler die vrye keuse gehad het oor watter versie hy/sy wil vertaal.

Anne Frank se dagboek self is in eerste instansie die onbetwisbare bewys van haar literêre talent. In die dagboek neem mens die ontwikkeling van haar skrywerskap waar saam met haar noodgedwonge versnelde groei van adolessent tot jong volwasse vrou in haar afsonderingsbestaan in die Agterhuis. Uit Anne se herskrywing van haar dagboek blyk haar vermoë om krities met haar eie tekste om te gaan; ’n essensiële eienskap vir ’n skrywer. Anne het haar inderdaad op vroeë leeftyd toegerus vir wat, benewens talent, van ’n skrywer geëis word. In haar “Mooie-zinnenboek” het sy gedigte en gedeeltes uit boeke wat haar getref het, neergeskryf. Dit is ’n geheueoefening en ’n oefening in formulering. Sy was ook vanselfsprekend ’n hartstogtelike leser. Aan Kittie vertrou sy op 11 Mei 1944 haar droom om skryfster te word in soveel woorde toe: “Jy weet al lankal dat my grootste begeerte is om joernaliste en later ’n groot skryfster te word. Of ek hierdie grootheidsneiginge (of –waansin) waar sal kan laat word, is die vraag, maar onderwerpe het ek tog nog toe wel. Na die oorlog wil ek in elk geval ’n boek getiteld Het Achterhuis uitgee, of ek dit sal regkry, is die vraag, maar my dagboek sal daarvoor kan dien.”

Nie hierdie bekende sitaat uit die dagboek nie, maar ’n ander uitspraak oor Anne se droom om skryfster te word, het deur die kontrole oor my emosies wat ek tydens die vertaling streng gehandhaaf het, gebreek. Op 21 April 1944 skryf sy aan Kittie: “Ek wil een van my sprokies na De Prins stuur, natuurlik onder ’n skuilnaam, maar omdat my sprokies tot nog toe te lank is, dink ek nie dat ek veel kans het dat hulle dit sal publiseer nie.” Die tragedie van Anne Frank het nêrens sterker tot my gespreek as uit hierdie voorneme om een van haar sprokies uit die boek waarin sy, benewens die hou van ’ndagboek, verhale, gebeure uit die Agterhuis en sprokies geskryf het, vir publikasie voor te lê nie. Wat dit by my tuisgebring het, was dat Anne Frank ’n gewone meisie was, weliswaar ’n meisie met ’n skryftalent, maar ’n gewone meisie; ’n meisie wat haar ideaal om skryfster te word nie kon verwesenlik nie, omdat sy moes sterf net omdat sy Joods was. Dit is die tragiese. En dit was die een oomblik tydens my vertaling soos ’n oomblik op ’n koue grys dag in November 1968 in Anne Frank se kamer wat ek beleef het as hartverskeurend; ’n oomblik wat ek onlangs herbeleef het in Paul Auster se beskrywing daarvan in sy “The book of memory” (deel 2 van The invention of solitude):

“As he stood in Anne Frank’s room, the room in which the diary was written, now bare, with the faded pictures of Hollywood movie stars she had collected still pasted to the walls, he suddenly found himself crying. Not sobbing, as might happen in response to a deep inner pain, but crying without sound, the tears streaming down his cheeks, as if purely in response to the world. It was at that moment, he later realized, that the Book of Memory began. As in the phrase: ‘she wrote her diary in this room’”.

Ten slotte: Ek het probeer om waar ek so na as moontlik aan die Nederlandse teks wou bly, die eiendomlikheid van Afrikaans nie geweld aan te doen nie. Waar ek my soms wel Neerlandistiese woorde en uitdrukkings veroorloof het, was dit om ’n sekere vervreemding tussen teks en leser te bewerkstellig, waar dit gaan om omstandighede wat vir ’n jong Afrikaanstalige leser totaal vreemd is: ’n Joods-Nederlandse meisie wat in gedwonge selfopgelegde ballingskap dagboek hou tydens die Tweede Wêreldoorlog in die skaduwee van vervolging en dood.

Wat die tema van die Holocaust betref, kan u ook die volgende verwante artikel lees:
In die skadu van Auschwitz – Lina Spies

Anne Frank – Die Agterhuis is verkrygbaar by Protea Boekehuis
Tel.nr: (012) 362-5683 / 362-3444 / 362-6073
Epos: protea@intekom.co.za
Prys: R140-00

 

Of dit kan ook aanlyn bestel word by Kalahari.net (R117-00).

Die Evangelie is op die Spel

Skrywer: 
Adrio König

Adrio König: Die Evangelie is op die Spel

Resensie: Leon Atterbury
Mei 2009
 
Daar heers tans 'n lewendige debat in die pers oor hierdie boek.  Wat ek hier kwytraak is nie 'n volledige resensie van die boek nie - dis eerder ‘n paar gedagtes oor wat my opgeval het by die lees van hierdie boek. Die opstandingsienings van Julian Muller, Dirk Human, Ben du Toit en Danie Veldsman hanteer ek nie hier nie omdat ek nie hul geskrifte daaroor gelees het nie.  Trouens, dit sou baie interessant wees indien hulle König se uitnodiging tot 'n openbare debat aanvaar.
 
König vra of dit “verkeerd is om die Bybel die Woord van God te noem? Nee, dis reg. Waar kry ons dit? By die vroeë christene.” (p22)   Die feit dat die vroeë christene op hierdie manier na die OT verwys het, is egter geen gesag daarvoor om aan te voer dat ons vandag nog so daarna kan verwys nie. König verwys op die vorige bladsy na iemand wat sy eie manier van Bybelvertolking as die enigste korrekte manier sien en daardeur enige debat uitsluit. Maar die vroeë christene waarna hy verwys het juis dit met die OT gedoen met die idée dat alles wat in die OT staan deur God self gespreek is en gevolglik is geen teenspraak of debat daaroor toelaatbaar nie.
 
Op dieselfde trant kan mens ook sê dat die son om die aarde draai.  Waar kry ons dit? By die vroeë wetenskaplikes!
 
Dat die vroeë christene die Bybel gesien het as die Woord van God is geen gesag daarvoor om vandag nog so ‘n siening te handhaaf nie.  
 
Op p29 bespreek König die vraag ‘wat maak die Bybel die Bybel?’ Hy skryf: “Omdat die Bybel van Jesus vertel, is dit geinspireer. Of andersom: Omdat die Bybel geinspireer is, vertel dit van Jesus. Hy is die grondslag van ons geloof. En die Bybel is onontbeerlik omdat dit ons enigste betroubare toegang tot die evangelie van Jesus Christus is.” Wat ‘n sirkelredenasie! Hy aanvaar duidelik dat Jesus die enigste verlosser van die wêreld is, en omdat die Bybel van Jesus vertel, is die Bybel betroubaar. En waar het hy die idee gekry dat Jesus die verlosser is? In die Bybel natuurlik! Mens kan tog onmoontlik oorredingskrag aan so ‘n sirkelredenasie heg.
 
König meld op p29 dat “ons gesien het die boodskap van die Bybel is betroubaar.” Ek het noukeurig gelees, maar ek kan werklik nie sê waar König goeie gronde aangevoer het vir daardie stelling nie. 
 
Terwyl König ‘n hele hoofstuk wy aan die betroubaarheid al dan nie van die Bybel, sou ek graag wou sien dat hy ook kommentaar lewer op die behoorlik gemotiveerde werke van Karen Armstrong en Bart Ehrman, en andere. Hulle argumente kan nie so maklik van die tafel gevee word soos hy met die Jesus seminaar doen nie. König kan nie aanspraak daarop dat hy die Bybel as betroubaar aangetoon het as hy nie eens ‘n poging aanwend om die talle geldige punte van daardie skrywers te behandel nie.
 
 
Alhoewel dit nie die punt van bespreking daar is nie, verwys König ook op p29 na Jesus wat ‘n Goddelike sowel as menslike natuur gehad het. Daardie idee het my nog altyd onbevredig gelaat. Hy was menslik, maar sonder sonde. Maar my liewe aarde, dis dan juis wat ons menslik maak, nl dat ons vol foute, sonde en tekortkominge is. Hoeveel christene weet dat daar vir ongeveer 300 jaar na Christus groot meningsverskil geheers het oor Jesus se Goddelikheid al dan nie? Diegene wat beweer het dat Jesus Goddelik is, het uiteindelik geseëvier (soms ook maar geweld en agterbaksheid gebruik) en die destydse kerkvaders het hierdie twee nature dogma uitgedink.  Geen wonder dat daardie dogma tot vandag toe nie sin maak nie, ten spyte van al die pakhuise papier wat al volgeskryf om dit te verduidelik en te regverdig.
 
Op p33 kry ek die indruk dat König ‘n probleem het met navorsing wat ‘n resultaat oplewer waarvan hy nie hou nie, gevolglik verwerp hy dit. Telkens maak hy die punt dat ‘as ons sus en so na sake kyk, wat bly dan oor van die evangelie?’ Hy het duidelik vooraf standpunt ingeneem dat die ‘evangelie’ behoue moet bly, ongeag wat. Die kleinere verskille wat nie die kern vd evangelie in gedrang bring nie, kan hy aanvaar. Maar as daar aan die kern getorring word, dan skop hy vas. Dis tog nie die ingesteldheid van ‘n wetenskaplike wat objektief soek nie – hy is duidelik ‘n subjektiewe dogmatikus wat vooraf alles verwerp wat dalk die kern van sy siening in gedrang kan bring.
 
Daardie siening kom ook na vore op p220 waar König verskillende maniere van Bybellees bespreek en dan die vlg sê oor fundementaliste se lettelike lees: “Fundamentalisme probeer, welliswaar op onhandig en dikwels regtig onaanvaarbare maniere, die hart van ons geloof verdedig.” König is minder krities met hulle al gebruik hulle bedenklike metodes, want hy (König) wil ten alle koste die hart van die geloof behou. Duidelik dat König vooraf ‘n standpunt inneem en nie bereid is om daarvan afstand te doen nie, ongeag enige nuwe ‘bewyse’ of insigte.
 
König wys daarop dat Paulus se interpretasie van Jesus se dood en opstanding geskryf is voor die evangelies. (p43) Die evangelieskrywers het dus reeds geweet wat Paulus oor daardie gebeure gedink het teen die tyd wat hulle hul verhale opgeteken het. Die feit dat hulle net die feitelike gebeure beskryf en geen interpretasie gee nie, sien König as bewys dat hulle net geskryf het wat werklik gebeur het. Maar wat daarvan dat hulle hul verhale kon aangepas het juis sodat dit inpas in Paulus se vertolking?
 
König verwys na ander verhale van maagdelike verwekking en wys daarop dat een van die belangrikste verskille is dat in Jesus se geval die Gees nie seksuele gemeenskap met Maria gehad nie. (p56) Sonder dat hy dit sê, is dit duidelik hy bedoel dat al die ander soortgelyke verhale nie kan kers vashou by Jesus se verhaal nie. Ek sou graag hier wou sien dat König hier verwys na die talle verhale van ‘n god-mens wat maagdelik gebore is, wonderwerke gedoen het soos water in wyn verander, onverdiend tereggestel is, weer lewendig geword het en opgevaar het na die hemel. Timothy Freke en Peter Gandy skryf in The Jesus Mysteries (2001:5) dat hierdie figuur in Egipte bekend was as Osiris, in Griekeland as Dionysus, in Asia Minor as Attis, in Syrië as Adonis, in Italië as Bacchus, en in Persië as Mithras.  Daardie verhale dateer tot 2000 jr vóór Jesus se tyd, en 25 Desember is ‘n prominente datum in sommige daarvan. Daar is baie meer ooreenstemmings as verskille as mens daardie verhale vergeyk met Jesus s’n. As König reg wou laat geskied aan daardie punt, kon hy al die ander verhale genoem het, en dan aantoon waarom hy meen dat al die ander verhale mites was, maar net die christen weergawe het letterlik plaasgevind. Versamelname soos “buitebybelse verhale” of “mites uit daardie tyd” beteken vir die meeste gewone christene niks – baie van hulle het nog nie eens gehoor dat daar sulke ooreenstemmende verhale bestaan nie.
 
Op p85 wys König op die uiteenlopende sienings wat mense het van wie Jesus regtig was en noem dan: “’n Wysheidsleraar en ‘n sjamaan en ‘n radikale profeet het regtig min gemeen.” Hoe so? Ek sien nie die onoorbrugbare verskille, of teenstrydighede, tussen daardie begrippe nie. König aanvaar sonder verduideliking skynbaar dat lesers met ‘n stok die verskil sal aanvoel tussen daardie beskrywings en daarom is dit nie nodig om dit uit te spel nie.
 
König noem (p141) dat “God se toorn en oordeel is die gepaste reaksie van die liefde van die heilige God wat ons as sy beeld geskep het, en wat verwag dat iets van sy waardes in ons lewe na vore sal kom. Sy toorn is verwerpte liefde. Daarom kan dit ook so sterk wees. Dit wys hoe sterk sy liefde is. As God flegmaties, kalm en onverstoord op ons sonde (dit is nie net ons gebrek aan liefde nie, maar ons verwerping van sy liefde) gereageer het, sou dit beteken het Hy het ons nie regtig lief nie, en ons is nie vir Hom belangrik nie. In hierdie sin sou ons Hom selfs vir sy toorn en sy oordeel kon dank!” En op p143: “Dus kan sy toorn beskryf word as die uiting van sy verwerpte liefde.”
 
Ek vind dit ‘n erg verwronge redenasie.  As ‘n méns so sou reageer in reaksie op verwerpte liefde, sou ons dit onaanvaarbaar vind. Maar God mag maar so optree – en dan moet ons hom nog boonop bedank vir sy toorn! 
 
Waaruit bestaan God se toorn, aldus Koning? Natuurrampe, siektes, oorlog. Omdat die mense nie na God wil luister nie, straf hy hulle op hierdie maniere. Hoe verskil dit van ‘n vroueslaner wat ook kan aanvoer: ek slaan haar, want sy wil nie maak soos ek sê nie? En dan bewonder en regverdig König so ‘n eienskap as Goddelik?
 
Met verwysing na Jesus se woorde ‘ek is die opstanding’ voer König aan: “Dit beteken tog dat Hy opgestaan het, die opstanding plaasgevind het.” (p170) Vir my beteken dit nie noodwendig dat hy fisies opgestaan het nie. Ek wil nie hier in die debat oor die opstanding ingaan nie, behalwe net om te meld dat daardie woorde van Jesus nie noodwendig beteken wat König daaraan toedig nie. Dit is König se interpretasie van daardie woorde – dis nie die enigste (of noodwendig korrekte) interpretasie nie.
 
Op p226 : “Die gedagte van ‘n wrede God wat eers bloed wil sien, [voordat hy vergewe – my invoeging] is vreemd aan die Bybel. Die teendeel is waar.” Maar vir my is dit König se stelling wat vreemd is! Hoe kan hy so sê? Die Bybel is dan vol voorskrifte oor hoe die volk onskuldige diere moet offer vir hul sondes? En dis wat die dominees en pastore met luide keel vir jare vanaf die kansels verkondig het!
 
Daar is ‘n interessante woordkeuse op p226: “Aan die kruis het God dus self voldoen aan die onmoontlike eis (my kursivering) wat Hy aan die mens gestel het.” As König self erken God se eis aan die mense was onmoontlik, hoe kan God dan mense blameer en straf as hulle nie daaraan voldoen nie? Hy het boonop vooraf geweet dit sal onmoontlik wees.
 
Dit het my opgeval hoe kras en neerhalend König met sy opponente werk. Hy verwys na “die beperktheid van sy (dr Ben du Toit se) kerklike en teologiese agtergrond” (p232) en noem ook Du Toit se sienings “’n klomp sinlose slimmighede” (p235). Hy noem dat Julian Muller nie gesprek wil voer nie, maar sy teenstanders wil verneder (p237). Maar is dit nie juis wat König doen nie met sy neerhalende verwysings nie?
 
Ek sukkel om König se redenasie te volg waar hy op p266 vertel dat vroue nie as betroubare getuies geag is nie, en as die evangelieskrywers die opstandingverhaal wou versin sou hulle nie geskryf het dat vroue die eerste persone was wat die leë graf gesien het nie. As dit ‘n gefabriseerde verhaal was, sou hulle meer betroubare getuies gebruik het. Goed, dit maak sin. Maar in die laaste bullet op p266 skryf hy dis ‘n refleksie op die dissipels dat hulle nie die vroue se verhaal dat Jesus opgewek is, wou glo nie. Hoe strook dit met feit dat vroue getuienis as onbetroubaar beskou is? Dan is dit tog geen wonder dat die dissipels nie sommer met die intrapslag die vroue se verhaal wou glo nie. Hoe kan dit ‘n refleksie op die dissipels wees as hulle maar net opgetree het soos wat die gemeenskap in daardie tyd gedoen het, nl om vroue-getuienis met omsigtigheid te hanteer?
 
Ook sy beredenering dat Matteus en Lukas nie afgeskryf het by Markus nie, want hulle het kleiner besonderhede ook aangeteken, is onoortuigend. Hy reken as hulle wou afskryf sou hulle dit presies net so oorgeneem het. Die feit dat hulle nog besonderhede bygevoeg het, toon dat hulle persoonlik kennis daarvan gedra het. Maar wat daarvan dat as hulle slegs Markus woord vir woord oorgeskryf het sonder enige byvoegings van hulle kant af, dan sou dit tog baie duidelik gewees het dat hulle afgeskryf het – gevolglik pas hulle die verhaal ‘n bietjie aan sodat die oorskrywery nie te opvallend is nie. Dit is tog seker ook ‘n moontlikheid.
 
Waar König op p273 skryf oor ons opstandig hou ek daarvan dat hy beskeie is en erken dat dit ‘n misterie is waarvan ons tans eintlik maar min (amper niks) weet nie. Maar tog noem hy dat Jesus nie ‘n ander liggaam gekry het nie, maar dat sy vernederde liggaam verheerlik is. En so, aldus König, sal ons vernederde liggame ook verheerlik word. Gaan al die mense ook beseringsmerke oorhou in hul verheerlikte liggame soos in Jesus se geval? Onthou Jesus se verheerlikte liggaam het nog steeds die kruisigingswonde vertoon. Mense wat met ‘n lelike gesigletsel of geamputeerde ledemaat gesterf het, gaan hulle met daardie sigbare gebreke weer ‘opstaan’?
 
Op p282 kry ons nog ‘n sirkelredenasie. Omdat dualisme nodig is om die evangelie te verstaan, verwerp König monisme. Maar as daar nie ‘n ‘evangelie’ was nie, of as die evangelie dalk heeltemal anders verstaan moet word as wat hoofstroom christendom tot dusver gedink het, dan verdwyn die rede waarom daar dualisme moet wees ook. König se vertrekpunt is die waarheid, nodigheid en geldigheid van die evangelie (soos hy dit verstaan) en daaruit beoordeel hy dan dualisme. Nog ‘n voorbeeld van vooraf standpunt inname en hy verwerp alles wat daardie standpunt in gedrang bring.
 
Sê nou net, vir argumentsonthalwe, daar word onomstootlike bewyse gevind dat die evangelieboodskap nie waar is nie, kan König sê dat hy dit sal aanvaar? Nee, stellig nie, hy (en hoofstroom christene) is nie bereid om hulle sienings prys te gee nie. Aan die een kant wonder ek soms wat dit help om met sulke mense te debatteer - hulle het vooraf besluit hulle is nie oorreedbaar nie. Die ander kant van die munt is ook dat mens maar versigtig moet wees met die waarde wat jy aan sulke mense se argumente verleen. Hulle soek nie na objektiewe waarheid nie, al waarin hulle belangstel is om “hulle” waarheid te verdedig en regverdig.
 
Op p285 bespreek König ‘n wetenskaplike wêreldbeeld en skryf: “Ons het geen ander toegang tot die werklikheid as deur ons sintuiglike waarneming nie...” Hoe kan hy so seker wees hiervan? Wat van intuïtiewe kennis, 6th sense, chanelling, openbaring deur die Heilige Gees? Ontken König die bestaan van al sulke vorms van inligting en kennis? 
 
König bespreek die Bybel se wêreldbeskouing en sê dan op p291: “Hiermee is hoegenaamd nie al die waardes in die Bybel aanvaar of goedgepraat nie. Daar is heelwat waardes wat ons nooit kan aanvaar nie. Daar is waardes wat doelbewus langs die pad van die lang Bybelse geskiedenis verdwyn het. Die waarde om jou vyande te haat en te probeer vernietig is vervang deur die waarde om jou vyande lief te hê.”
 
Dit moes seker heelwat moed gekos het van König om te erken dat Bybelse waardes oor tyd verander het. Dit open egter ‘n interessante vraag of twee. Was daardie waardes God se waardes, of was dit mense se waardes wat hulle opgeteken en oorgedra het asof God se goedkeuring daaragter staan? Is dit werklik God wat telkens beveel het dat ander nasies aangeval moet word, en selfs die swanger vroue en klein kinders met die swaard doodgesteek moet word? As dit inderdaad God was wat sulke opdragte gegee het, dan het God se waardes oor tyd verander, wat dan weer bots met die idee dat God gister, vandag en môre dieselfde is. My siening is dat God nooit sulke bevele gegee het nie – ménse het dit gegee, en om gesag daaraan te verleen, hulle eie woorde voorafgegaan met “God sê” of “Die woord van die Here na my gekom” ens.
 
Na albei kante skep dit ‘n interessante dilemma vir hoofstroom christendom. As ons sê dat dit mense se sienings was, wat hulle aan God toegedig het, dan onstaan die vraag hoe kan ons dan so seker wees dat daar nie nog dele in die Bybel is wat ook mank gaan hieraan nie. Hoe kan ons nou seker wees dat wat bv Paulus of Lukas geskryf het, inderdaad God se woorde was, en nie ook dalk net daardie skrywers se persoonlike weergawes en interpretasies nie -  wat dan ook aan herbesinning en verandering onderworpe sal wees? En as ons sê dit was God se woorde (en waardes) wat oor tyd verander het, dan kan God se waardes seker voortdurend verander. Hoekom dan stop by net sommige veranderinge? Dan kan die waarde dat ons verlossing nodig het, of dat ons verantwoording aan God verskuldig is, tog ook verander, nie waar nie?
 
Ongeveer 2 jaar gelede het ‘n brief van my oor Isak se offer in Die Burger verskyn. Daarin het ek vertel hoedat ek nie die storie vir my 6 jarige dogter kon klaar lees nie en gou-gou moes wegblaai van die onstellende skets wat toon hoe Abraham gereed is om sy vasgebinde kind keel-af te sny. En ek het my ontsteltenis verwoord oor die karakter van ‘n God wat sulke dinge van sy volgelinge vra. Interessant dat König (p291) dieselfde ervaring deurgemaak het met sy kleinkind en ook vinnig die angswekkende storie weggepraat het.
 
Soos König gedoen het tydens die polemiek na die verskyning van sy boek, stel ek vir hom ook ‘n paar eenvoudige reguit vrae. Dink hy God het Abraham beveel om Isak te offer? Vanaf die gee van die opdrag tot by die uitkoms het 3 dae verloop. Was dit deurentyd God se plan om Abraham vir daardie 3 dae te laat wroeg onder die indruk dat hy sy seun moet gaan keel-af sny? Of dink hy Abraham (of die Bybelskrywer) het verkeerdelik hierdie gebeure aan God toegedig? Indien lg, hoe kan hy so seker wees dat bv Paulus se sienings inderdaad God se siening weerspieël? Hy meld hy was geskok toe hy die storie van Isak se offer vir sy kleinkind lees. Ek aanvaar sy geskoktheid het oa te doen gehad met die wreedheid van die storie, en hoe ‘n liefdevolle God daarmee vereenselwig kan word. Dan moet hy tog ook geskok wees oor die hoofstroom christensiening dat God die ongereddes vir altyd en altyd gaan martel in ‘n vuur. Hoekom sou hierdie wrede nimmereindigende straf van God enigsins minder skokkend wees as Isak se storie? 
 
Op p292 gee König sy eie 4 kriteria waaraan mens kan meet of sekere Bybelse waardes vandag nog geld. Dit laat die vraag ontstaan of elke persoon dan sy eie kriteria kan skep waarmee die Bybel beoordeel word? König bedoel tog seker nie dat sy 4 kriteria die enigste geldige maatstaf is nie. My gevoel met die lees hiervan is dat dit König se eie skepping is om die evangelie te red. Hy sê ook: “Maar daar is wesenlike fasette wat ons nie kan prysgee of aanpas nie, anders verloor ons die evangelie self.” Dit is egter nie ‘n goeie rede waarom ons dit nie kan prysgee nie. Dit is duidelik dat König vooraf besluit het dat die kern van die evangelie behoue moet bly, ongeag wat.
 
Op p293 noem hy dat die opstanding van Jesus, of die bestaan van bose magte, nie deur eksperimente bepaal kan word nie. “Daar is net getuienisse.” Op grond van die ooggetuie verslae van ‘n paar honderd mense is König tevrede om te aanvaar dat Jesus inderdaad fisies opgestaan het. Ek wil nie hier die punt debatteer oor of, en hoe, die opstanding plaasgevind het nie. Wat my wel daarvan opval is dat hoofstroom christene (waarskynlik König ook) nie bereid is om dieselfde toets (nl getuienisse) toe te pas tov ander gebeure nie. Daar bestaan duisende, indien nie miljoene, getuienisse van mense oor onderwerpe soos UFO’s, telepatie, en hipnose. Om konsekwent te wees moet daardie getuienisse ook voldoende gronde wees om sulke verskynsels te aanvaar. Maar nee, as ons by sulke dinge kom, dan is getuienis (vir die meeste hoofstroom christene) nie meer goed genoeg nie.
 
König reken dat die Nuwe Hervorming “min invloed (het) in die gevestigde kerke en sekulêre wêreld”. Ek wonder of dit regtig so is – dalk is dit eerder Koning se wens dat dit so moet wees. In my ervaring is daar talle mense wat op die oog af lyk of hulle nog die partybeleid aanhang, maar praat met hulle een tot een, dan blyk dit dat hulle hierdie dinge al lankal bevraagteken – ek vermoed dat dit selfs vir sommige predikante geld. Vir baie is daar eksterne faktore wat hulle verhoed om hul denke en vertwyfelinge openlik te deel. Daar is al hoe meer mense uit alle oorde wat na vore kom en ook voel dat hierdie ou paradigma denke uitgedien is. En die meeste van hulle neem nie deel aan openbare podiums soos webwerwe, en koerantdebatte nie.
 
Ek is dankbaar vir König se erkenning dat die kerk “nie die groot massa van ons lidmate geleer (het) om vrae oor die Bybel te vra nie” (p308)
 
König is in my opinie reg as hy voel dat huidige strominge die hart van die evangelie aantas, en dat die evangelie inderdaad op die spel is. Hy voer egter nie sy eie argumente konsekwent deur nie omdat hy vooraf besluit het dat die evangelie (soos hoofstroom christendom dit verstaan) behoue moet bly.
 
 
Leon Atterbury
Somerset-Wes
Mei 2009
 
 

 

Doodloopstrate van die geloof — 'n Perspektief op die Nuwe Hervorming

Skrywer: 
J. Durand

Oor doodloopstrate en omweë: 'n Bespreking van Jaap Durand se boek Doodloopstrate van die geloof — 'n Perspektief op die Nuwe Hervorming .

Sakkie Spangenberg

Die Nuwe Hervorming Netwerk het pas sy eerste verjaardag gevier. Alhoewel die netwerk nie duisende lede het nie, bly dit vir vele Afrikaanssprekende Christene 'n doring in die vlees. Heelwat tydskrif- en koerantartikels wat deesdae oor die Christelike geloof handel, bevat nie net 'n verwysing na die Nuwe Hervorming, maar dikwels ook negatiewe kommentaar.

Neem as voorbeeld Sarie van September 2005. Daarin verskyn 'n artikel deur Martie Swanepoel onder die opskrif "Nuwe honger na kerke van hoop". Izak de Villiers, een van die mense wat kommentaar lewer, maak daarin die volgende opmerking: "Die sogenaamde Nuwe Hervorming, wat byvoorbeeld vraagtekens agter die Godheid van Christus plaas, sal nie 'n lang asem hê nie, want dit verklein die wêreld van die geloof."

'n Tweede voorbeeld is die koerant Die Vrye Afrikaan van 19 Augustus 2005. Dit bevat 'n hele aantal artikels waarin na die Nuwe Hervorming/Hervormers verwys word. Danie Goosen skryf in sy artikel met die titel "Die kerke, die neoliberale orde en die gemeenskap" die volgende sinne: "Die hedendaagse splitsing tussen ‘teologie' en ‘historiese navorsing' is 'n gevolg van die liberale erfenis. Dit vind vandag uitdrukking in die spanning tussen die Afrikaanse kerke enersyds en die sogenaamde Nuwe Hervormers andersyds." Dan gaan hy voort om die "Nuwe Hervormers" te kritiseer deur daarop te wys dat hulle volgens hom "slegs ou modernistiese uitgangspunte herhaal." Johann Rossouw kap ook na die Nuwe Hervormers in sy artikel onder die opskrif "Die spoke van die NG Kerk en die spore van sy toekoms". Volgens hom heers daar onsekerheid oor die NG Kerk se identiteit en verskil die debatte wat in die noorde en in die suide van die land gevoer word. "In die noorde, met sy buitengewoon groot getalle teoloë rondom UP en UNISA, is die onsekerheid hervertaal in die vraag oor hoe die Bybel vandag gelees moes word", aldus Rossouw.

Stefan Louw deel ook 'n steelhou uit. In sy artikel onder die opskrif "Die debat oor Skrifgesag: Oor nuwe hervormers, charismate en tradisionaliste" deel hy Danie Goosen se mening dat die Nuwe Hervormers "kampvegters van die modernistiese rasionaliteit" is.

Maar dit is nie die einde nie. Jaap Durand, oud-viserektor van die Universiteit van Weskaap, het pas 'n boek gepubliseer onder die titel Doodloopstrate van die geloof: 'n Perspektief op die Nuwe Hervorming (2005). Vir die eerste keer sedert die gesprek oor 'n moontlike nuwe hervorming binne die Christendom in die RSA op dreef gekom het, neem 'n dogmatikus die gesprek ernstig op en gee sy perspektief weer. Adrio König het wel vroeër in sy boek Wat is reg? Weet iemand dalk? (2005) 'n hoofstuk aan die Nuwe Hervorming afgestaan, maar sy standpunt is nie so beredeneerd soos Durand s'n nie en hy fokus hoofsaaklik op Sakkie Spangenberg se voorlegging aan die NG Ring van Lyttelton.

Durand se boek is goed versorg en lyk vir 'n keer soos 'n goeie boek behoort te lyk. Daar is nie blokdiagramme, of blokke met herhalende notas nie. Daar is ook nie oordadig gebruik gemaak van ander lettertipes nie. Sy skryfstyl is gemaklik en 'n mens volg sy redenasies sonder moeite. Ek meen egter dat gewone lesers wat nie onderlê is in die filosofie nie, moeite met hoofstuk 5 en 6 gaan ondervind. Maar hierdie twee hoofstukke is van die bestes in die boek en dit sal lesers baat om dit meer as een keer te lees. Dis duidelik dat hier iemand aan die woord is wat 'n breë kennis het van die ontwikkeling van die filosofiese tradisie in die Westerse wêreld.

Durand open sy boek met 'n hoofstuk wat handel oor die veranderende Suid-Afrikaanse godsdienstige landskap. Hierin verwys hy na Willem de Klerk se boek Die vreemde God en sy mense (1998), Ben du Toit se boek God? Geloof in 'n postmoderne tyd (2000), en na die boek Die Omstrede God (2004) wat die LitNet-debat van 2003 weergee. Na my mening verhoog dit die waarde van sy boek. Hy erken dat daar 'n groter gesprek oor God en godsdiens binne Afrikaansprekende geledere aan die gang is as wat vele dominees wil erken. Hy sluit die hoofstuk af met die vraag of die Nuwe Hervorming 'n tuiste vir die twyfelaars en ondervraers buite die tradisionele kerke kan bied. Dis veelseggend dat hy nie kennis geneem het van die boek van Annelie Ferreira met die titel Die dag toe ons God gevang het: 'n Persoonlike soektog na sin (1996) nie. Sy het vóór teoloë haar uittog uit die tradisionele Christendom op 'n aangrypende wyse verwoord en uitgewys waar probleme lê.

In hoofstuk twee gee Durand sommige van die gespreksgenote in Die Omstrede God se standpunte weer om só uit te wys wat mense kwel. Dit blyk dat die Bybel en die kerklike aansprake oor die Bybel die meeste onder skoot kom, maar die bestaan van God en die idee dat Jesus 'n verlossergod is, is ook hoog op die agenda. Hy som die toedrag van sake soos volg op: "Met die lees van die Internetbriewe oor rasionaliteit en wetenskap, kom 'n mens weereens onder die besef daarvan dat die kerk in die beskuldigdebank staan" ( Doodloopstrate : 17). Voorts is hy van mening dat ateïste, agnostici, skeptici en ondervraers deur die bank met 'n geslote wêreldbeeld werk. Hiermee bedoel hy dat hulle voorrang gee aan die wetenskaplike wêreldbeeld wat volgens hom nie rekening hou met die moontlikheid dat 'n God of 'n hoër orde buite-om die wetenskaplike verklaarbare kan werk nie. Teenoor die wetenskaplike ateïste, agnostici, skeptici en ondervraers stel hy die nuwe hervormers wat volgens hom probeer om sinvolle antwoorde op die eerste groep se vrae te gee. In die res van sy boek probeer hy 'n antwoord bied op die vraag of die nuwe hervormers wél daartoe in staat is, en of hulle nie self die wetenskaplike wêreldbeeld ten prooi geval het nie. Hy stel dit so: "Die vraag is dus in welke mate die denkraamwerk van die Nuwe Hervorming ook hierdie uitgesproke modernistiese ateïste en agnostici, of diegene op pad daarheen, op só 'n manier kan aanspreek dat hulle ten minste sal luister" ( Doodloopstrate : 23).

Hoofstuk drie gee die sienings van 'n aantal van die gespreksgenote rondom 'n moontlike nuwe hervorming weer. Die sienings van Pieter Craffert, Piet Muller, Jacques en Carol Kriel, Sakkie Spangenberg en Hansie Wolmarans kom aan die bod. Wat opval, is dat Pieter Botha se uiteensetting van die nuwe navorsing oor die historiese Jesus glad nie bespreek word nie. Hy het 'n hoofstuk in die boek Die Nuwe Hervorming (2002) oor Rabbi Jeshua van Nasaret geskryf en uitgewys dat daar 'n verskuiwing plaasgevind in sommige Nuwe-Testamentici se omgang met die tekste. Die ontdekking van die Dooie Seerolle het vele gehelp om die wêreld waarin Jesus geleef het, te konstrueer en Jesus teen die agtergrond daarvan te verstaan. Durand se oordeel dat die gespreksgenote rondom 'n nuwe hervorming onwetend napraters van Rudolf Bultmann (1884–1976) is, illustreer sy eie onkunde oor hierdie Joodse wêreld. Dis 'n wêreld wat Bultmann nie verdiskonteer het in sy publikasies nie en wat dogmatici in Suid-Afrika ignoreer. Die verwerking van die inligting wat die Dooi Seerolle bied, het maar eers sedert die sewentigerjare op dreef gekom. Durand moes veel eerder kennis geneem het van die standpunte van Cees den Heyer, die afgetrede Nuwe-Testamentikus van Kampen in Nederland as hy kommentaar wil lewer oor die nuwe hervormers se geesgenote. Cees het met vervroegde pensioen gegaan vanweë die oplaaiende spanning tussen hom en die Gereformeerde Kerke in Nederland. Sy standpunt oor die versoeningsleer, die Joodsheid en mensheid van Jesus, die absoluutheidsaansprake van die ortodokse Christendom, ens. is vir vele lidmate onaanvaarbaar. Hy verwoord sy kopskuif in sy outobiografie met die titel Ruim geloven: Een theologisch zelfportret (2000) en sy standpunt dat daar spanning bestaan tussen die boodskap van Jesus en die boodskap oor Jesus in sy boek Van Jezus naar Christendom: De ontwikkeling van tekst tot dogma (2003).

Wat opvallend is, is dat Durand ook die puik artikel van Maretha Jacobs in die boek Die Nuwe Hervorming ignoreer. Sy toon aan hoedat die Pastorale briewe van die Nuwe Testament manlike teoloë deur die eeue verlei het om vroue se rolle binne die Christendom te defineer en te omskryf. Vir 'n tweede keer ignoreer hy dus 'n belangrike vroulike stem en toon sodoende sy onbegrip vir die feit dat die Nuwe Hervorming vroulike belewenisse en spiritualiteite beter akkomodeer as die gereformeerde kerke. Sommige van hierdie kerke laat wel vroue deesdae tot kerklike ampte toe. 'n Byna tweeduisend jaaroue tradisie is omvergewerp sonder dat daardie kerke die radikaliteit van hulle handelinge vierkantig in die oë gekyk het. Hulle gee voor dat hulle byderwets en modern geword het, maar verwag van vroue om die tradisionele Christelike dogmas klakkeloos te aanvaar en hulle rolle binne die kerke daarvolgens te definieer. Vroue word steeds met argaïese formuliere in die amp van ouderling bevestig. Daar is aan die bewoordings van hierdie tekste nie 'n woord verander nie. Dalk is Daphne Hapson reg wanneer sy in haar boek After Christianity betoog dat die ortodokse Christendom van huis uit nie vroulike spiritualiteit kan akkomodeer nie.

In hoofstuk vier sit Durand sy bespreking van die standpunte van die Nuwe Hervorming voort, maar hierdie keer fokus hy op die kwessie van modernisme en 'n postmoderne geloof. Hy oordeel negatief oor Pieter Craffert se standpunt dat die Nuwe Hervorming homself losgemaak het van die moderne denkraamwerk met sy kenmerkende ongevoelig vir kultuurverskeidenheid en vir verskillende wêreldbeelde. Hy stel Pieter se sienings soms teenoor Sakkie Spangenberg s'n en gebruik laasgenoemde se idees (soos verwoord in sy verweerstuk) om Pieter se sienings te ondermyn. Hy speel die twee se sienings teenoor mekaar af om dan te konkludeer dat die nuwe hervormers inkonsekwent is. Hy maak onder andere die volgende stelling: "Die modernisme kom by die agterdeur in nadat Craffert dit by die voordeur weggewys het" ( Doodloopstrate : 42). Ook in hierdie hoofstuk duik die naam van Bultmann op en sê Durand: "Waar Bultmann hom verset teen die idee van 'n sedeboek wat van Jesus bloot leraar en voorbeeld maak, eindig die nuwe hervormers presies daar." Hierdie stelling bewys dat Durand nie die omvangryke navorsing rondom die Joodse Jesus ernstig bejeën nie. James Charlesworth ('n kenner van die Dooie Seerolle) maak die volgende veelseggende opmerking in sy opstel "The Dead Sea Scrolls and the Christian Faith" in 'n gelyknaminge boek: "It is now clear that we have insights into Jesus' time which Augustine did not know about, and that this new information, as well as the cultural climate at the end of the second millennium, necessitates finding new ways of expressing our understanding of Christian faith." Dalk reken Durand dat hierdie inligting nie ter sake is vir die eeue-oue kerklike beeld van Jesus nie.

In dieselfde hoofstuk word Sakkie Spangenberg se kritiek teen Ben du Toit se standpunt oor die maagdelike bevrugting in sy boek God? Geloof in 'n postmoderne tyd met 'n flou opmerking van Durand se kant begroet: "Die suigkrag van die modernisme is sterker as wat die meeste van ons vermoed" ( Doodloopstrate : 43). Hiermee toon hy dat hy nie regtig begryp wat die nuwe hervormers bedoel met kultuursensitiewe interpretasies nie. Volgens hom is daar "... min twyfel dat die nuwe hervormers met 'n fundamentele tweeslagtigheid werk" ( Doodloopstrate : 43). Hierop sou 'n mens kon reageer met die vraag: "En die ortodokse Christendom — werk dit nie met 'n fundamentele tweeslagtigheid as dit probeer om premoderne Nabye Oosterse voorskrifte en verhale te hanteer asof dit moderne Westerse voorskrifte en verhale is nie?" Die huidige gesprek oor gay-gelowiges is hiervan 'n sprekende voorbeeld. Premoderne mense se verstaan van hulle seksualiteit en voortplanting kry die status van ewige waarheid en vir die soveelste keer in die Westerse Christendom se geskiedenis bewys kerke hulleself as onverdraagsame en mens-onvriendelike instellings.

Soos vroeër uitgewys, bied hoofstuk vyf en ses 'n bondige dog goeie oorsig van die Westerse filosofiese tradisie. Maar dis nie te sê dat hierdie hoofstukke sonder gebreke is nie. Op bladsy 61 verwys hy byvoorbeeld na twee maniere waarop mense met die evolusieleer omgaan. Daar is (1) 'n materialistiese en (2) 'n deïstiese verstaan daarvan. Maar wat van die derde vorm — 'n panenteïstiese verstaan daarvan? sou 'n mens kon vra. Daar het verlede jaar 'n boek verskyn met die titel In Whom We Live and Move and Have Our Being: Panentheistic reflections of God's presence in a scientific world . Daarin vind ons onder andere hierdie stelling "Via the constructive employment of the panentheistic model, Christian thought and life are in the process of being revitalized." Omdat Durand negatief oordeel oor panenteïsme, skenk hy nie aandag aan die nuwere ontwikkelings op die terrein van die gesprek tussen wetenskaplikes en godsdienswetenskaplikes en teoloë nie. Net soos Danie Goosen en Johann Rossouw spreek hy die mening uit dat die nuwe hervormers nie met die modernisme gebreek het nie. Volgens hom staan hulle met die een been stewig geplant in die modernisme en met die ander een in die post-modernisme ( Doodloopstrate : 74).

In hoofstuk sewe bespreek Durand die spiritualiteit wat hy binne die Nuwe Hervorming opmerk. Volgens hom is daar 'n direkte verband tussen die wyse waarop mense hulle godsdiens beoefen en hulle denkbeeld van God, en vice versa. Die een is doodeenvoudig 'n spieëlbeeld van die ander een ( Doodloopstrate : 77). Hy fokus hoofsaaklik op Piet Muller se sienings en sy hoë waardering van die Tomasevangelie. Op grond hiervan tipeer hy die spiritualiteit van die Nuwe Hervorming as 'n gnostiese en mistiese spiritualiteit. Die Tomasevangelie is volgens hom 'n gnostiese geskrif wat aanvanklik in Kopties geskryf was en in 140 nC in Grieks vertaal is. Dan vervolg hy met die stelling: "Getrou aan sy gnostiese oorsprong bestaan dit slegs uit gesegdes wat aan Jesus toegeskryf word (...) sonder enige verwysing na sy lewe en sterwe" ( Doodloopstrate : 86). My reaksie hierop sou wees om te vra of Durand ook die Q-spreuke-evangelie as 'n gnostiese geskrif sou tipeer? Een derde van die spreuke in die Tomasevangelie kom immers ooreen met die spreuke in die Q-spreuke-evangelie. Dit bevat ook nie verhale oor Jesus se kruisdood en opstanding nie. Durand dra klaarblyklik nie kennis van die Joodse wysheidstradisie soos dit in die Tweede Tempeltydperk ontwikkel het en voortgesit is in die kringe wat verantwoordelik was vir die Q-spreuke-evangelie en die Tomas-evangelie nie. John Kloppenborg lewer hieroor verslag in sy boek The formation of Q: Trajectories in ancient wisdom collections (1999). Die vroeë Christene was Jode en dis in die Joodse wêreld van die Tweede Tempeltydperk waar ons na die wortels van die latere Christelike tradisies moet soek. Die vroeë Christendom was baie meer gevarieerd as wat Durand en ander wil erken. Die eenheid is maar eers in die vierde eeu deur keiser Konstantyn (275–337) afgedwing toe die Romeinse ryk aan die verbrokkel was. Deur middel van godsdienstige eenheid wou Konstantyn die eenheid van die ryk red.

In hoofstuk sewe wys Durand nogeens 'n panenteïstiese verstaan van God af. Volgens hom staan en val die Christelike godsdiens met 'n teïstiese godsbeeld. Die vroeë Christene se teologie is ook duidelik 'n "heilshistoriese teologie" ( Doodloopstrate : 86–87). Volgens hom het Christene van vroeg af bely dat God "Hom deur die lewe, sterwe en opstanding van Jesus Christus geopenbaar het" ( Doodloopstrate : 88). God kan dus nie in die kerklike tradisie 'n onpersoonlike kosmiese mag, of watter mag ook al wees nie. Gijs Dingemans, 'n afgetrede Nederlandse praktiese teoloog cum dogmatikus, oordeel anders in sy boek De stem van de Roepende (2000). Hy wys daarop dat Paulus van Samosata (± 260) met sy "dinamiese" christologie 'n goeie alternatief bied vir die Westerse Christendom se uitgediende inkarnasie christologie. Dit gaan by Paulus van Samosata om die goddelike inwoning in Jesus en nie om die menswording van God nie. Dingemans sal hom dalk nie by die nuwe hervormers skaar nie, maar sy boek toon 'n groter begrip vir die verskuiwing wat besig is om plaas te vind in die Westerse Christendom wanneer hy sê: "Misschien wordt de boom van de Westerse kerk en van de Europese vorm van het christelijk geloof in onze tijd teruggesnoeid tot op de wortel, opdat er een nieuw rijsje kan groeien voor een nieuwe tijd."

In die slothoofstuk vat Durand sy argumente saam en wys hy vir oulaas waarom hy negatief oordeel oor die Nuwe Hervorming/Hervormers. Volgens hom koester hulle steeds 'n modernistiese uitgangspunt. "Die wêreldbeeld van die modernisme is 'n geslote wêreldbeeld — geslote in die sin dat dit geen ruimte bied om die gedagte van transendensie te hanteer nie. Daar is niks of niemand wat hierdie sigbare, meetbare en telbare werklikheid oorstyg of te bowe gaan nie" ( Doodloopstrate : 95). Durand begryp panenteïsme nie goed nie. Dit hanteer transendensie op 'n ander manier as teïsme, maar dit wys transendensie nie af nie. Dingemans omskryf panenteïsme soos volg in sy boek De stem van de Roepende : "God doordringt met zijn wesen onze wereld. God is verweven met onze wereld. Hij is deel van, maar valt er niet mee samen."

Volgens Durand is 'n beweging soos die Nuwe Hervorming nie in staat om ateïste en agnostici na 'n nuwe religieuse tuiste te lok nie. Hierop wil wil ek reageer met die opmerking dat die Nuwe Hervorming geen sendingdoel nastreef nie. Die beweging glo nie dat alle mense verlore is omdat 'n oer-egpaar die ganse menslike geslag (van die ooste tot die weste en van die noorde tot die suide) in sonde en ellende gedompel het nie. Die Nuwe Hervorming het gebreek met die tradisionele sonde-oordeel-genade model van die Westerse Christendom. Dit herken die heilsgeskiedenis wat Westerse teoloë konstrueer as pseudo-geskiedenis. Die twee ankerpilare van daardie geskiedenis het in die moderne tyd getuimel, naamlik (1) sondeval en (2) eindoordeel. Mense weet vandag dat daar nie 'n sondeval in die verlede was nie en dat daar ook nie 'n eindoordeel in die toekoms sal wees nie. Hierdie idees is konstruksies van die Griekse en Latynse kerkvaders wat geen sensitiwiteit vir apokaliptiese literatuur openbaar nie. Deur middel van hulle teologie het hulle aan die kerk mag oor mense se lewens en denke gegee. Die nuwe hervormers lees die Bybel anders as ortodokse Christene. Hulle lees die Bybel nie meer deur die bril van die kerklike dogmas nie. Hulle lees dit kultuursensitief en verstaan Jesus binne die konteks van die eerste eeuse Judaïsme en hellenistiese kultuurwêreld. Hulle het ook gebreek met die onttroningsteologie van die Westerse Christendom wat van die standpunt uitgaan dat die kerk die nuwe Israel is en dat die Christelike godsdiens Judaïsme onttroon en gevolglik oorbodig gemaak het. Hulle is terdeë bewus van die breuk wat ontstaan het tussen die Rabbynse Judaïsme en die vroeë Christendom teen die einde van die eerste eeu nC. Hulle weet ook dat die Christelike godsdiens ontstaan het uit die kookpot van die eerste eeu toe die vroeë Judaïsme uit verskeie groeperinge bestaan en die hellenistiese kultuur 'n onuitwisbare stempel op almal afgedruk het. Om nou soos Durand die kerklike blik op Jesus se kruisdood en opstanding as onopgeefbaar te beskou, en te sê dat Johannes 3:16 die skopus van die Bybel en die Christelike godsdiens is, is om in 'n laaste loopgraaf te duik en die nuwere inligting te ignoreer. Waarom moet die uitspraak van die skrywer van die Johannesevangelie die skopus wees en kan ons nie Jesus se eie woorde: "Wees barmhartig soos julle Vader in die hemel barmhartig is" (Luk 6:36) as skopus neem nie? Hier tree die verskil tussen die Westerse Christendom en die nuwe hervorming die duidelikste na vore. Die nuwe hervorming neem die boodskap van Jesus ernstiger op as die kerklike boodskap oor Jesus .

Clayton Sullivan formuleer hierdie verskil treffend in sy boek Rescuing Jesus from the Christians (2002) wanneer hy sê: "The problem is that the church's contention that Jesus' death was a sin sacrifice was fabricated with no attention given to what the historical Jesus thought and taught. A gap wider than the Grand Canyon exists between what Jesus believed and what orthodox Christianity says it believes. The church's gospel about Jesus is not the same as the gospel preached by Jesus." Die idee van skopus en periferie wat Durand hanteer, is regtig nie houdbaar wanneer dit by die kerklike dogmas kom nie. Hierdie dogmas is soos 'n katedraal waarvan die sypilare die mure, dak en torings orenthou. Wie aan die sypilare torring, torring aan die res van die konstruksie. Die mure, dak en torings kan nie sonder die sypilare orent bly staan nie.

Durand se bewering dat vele lidmate nie probleme het met die premoderne "taal" van die Bybel nie "... omdat die taal van die Bybel nader is aan hulle eie daaglikse, gewone omgangstaal as die taal van die wetenskap" ( Doodloopstrate : 105), word weerspreek deur twee van die grootste krisisse vir die Christendom — die vrou in die amp en gay-lidmaatskap. Hy neem ook nie in ag dat alle Bybelvertalings deur kerklike teoloë gedoen is en dat daardie vertaling dikwels só gedoen is dat dit aansluit by die kerklike dogmas. Deur middel van kerklike dogmas en kerklike Bybelvertalings word mense binne die sisteem gevange gehou. Gewone lidmate is totaal onkundig oor die Bybelwetenskaplike navorsing van die afgelope meer as twee eeue. Jacob Slavenburg som hierdie toedrag van sake soos volg op: "Onhutsend is bij dit alles de kloof tussen de bijbelwetenschap en de geïnteresseerde leek of gelovige. Het verhaal vanaf de kansel is een volslagen ander dan dat van de bijbelwetenschappers."

Durand se boek sal vir vele konserwatiewe Christene die gerusstelling bied dat die Nuwe Hervorming in 'n doodloopstaat beland het. Na my mening het hy nie wyd genoeg gekyk, gelees en saam met Bybelwetenskaplikes gereis nie. Die Nuwe Hervorming het gekom om te bly. Dit mag dalk van die Suid-Afrikaanse godsdienstige en teologiese landskap verdwyn, maar nie van die godsdienstige en teologiese landskap in die Westerse wêreld nie. Dit eindig nie in 'n doodloopstraat nie. Daar is 'n omweg voor in die pad. Sonder 'n nuwe hervorming stuur die Westerse wêreld en sy mense op 'n ramp af en daardie ramp gaan slegte gevolge inhou vir die aarde en alles daarop. Hierdie ramp se wortels lê in die dogma van 'n sondeval wat aanleiding gee tot 'n narcistiese beheptheid van Westerse teoloë met die mens en sy heil. Dis nie vreemd dat die ortodokse Christendom wat hom deur die eeue met politieke mag geassosieer het, nou homself met die ekonomiese mag van die Weste assosieer nie. Die megagemeentes en die voorspoedteologie is hiervan sprekende voorbeelde. Die ortodokse Christelike teologie is 'n teologie wat die aarde versaak en ander spesies van minder belang ag. 'n Mens kan nie anders as om te vra nie: Waarom sou God net oor die spesie homo sapiens begaan wees en slegs hulle eendag laat opstaan om op 'n nuwe aarde te woon? Die mensspesie se verweefdheid met die totale skepping soos deur die moderne skeppingsverhale verwoord word, kan nie meer geïgnoreer word nie. Ons het dringend 'n ander teologie en 'n ander godsdienstige diskoers nodig om sinvol te leef en te oorleef. Daaraan werk die Nuwe Hervorming graag mee. Kerklike Christendom kan homself nie hervorm en byderwets maak nie — daarvan het Don Cupitt vele lesers oortuig in sy boek Reforming Christianity (2001).

Bibliografie

Charlesworth J H & Weaver, W P (ed) 1998. The Dead Sea Scrolls and the Christian Faith (In Celebration of the Jubilee Year of the Discovery of Qumran Cave 1) . Harrisburg: Trinity. (Faith and Scholarship Colloquies Series).
Clayton, P & Peacock, A (ed) 2004. In whom we live and move and have our being: Panentheistic reflections on God's presence in a scientific world . Grand Rapids: Eerdmans.
Cupitt, D 2001. Reforming Christianity . Santa Rosa: Polebridge.
De Klerk, W 1998. Die vreemde God en sy mense . Kaapstad: Human & Rousseau
Den Heyer, C J 2000. Ruim geloven: Een theologisch zelfportret . Zoetermeer: Meinema.
Den Heyer, C J 2003. Van Jezus naar Christendom: De ontwikkeling van tekst tot dogma . Zoetermeer: Meinema.
Dingemans, G D J 2000. De stem van de Roepende: Pneumatologie . Kampen: Kok.
Durand, J 2005. Doodloopstrate van die geloof: 'n Perspektief op die Nuwe Hervorming . Stellenbosch: RAP.
Du Toit, B 2000. God? Geloof in 'n postmoderne tyd . Bloemfontein: CLF.
Ferreira, A 1996. Die dag toe ons God gevang het: 'n Persoonlike soektog na sin . Kaapstad: Queillerie.
Goosen, D 2005. Die kerke, die neoliberale orde en die gemeenskap. Die Vrye Afrikaan , 19 Augustus 2005, 7.
Hampson, D 2002. After Christianity . London: SCM.
Kloppenborg, J S 1999. The formation of Q: Trajectories in ancient wisdom collections . (2nd. ed.) Harrisburg: Trinity Press International. (Studies in Antiquity and Christianity.)
König, A 2005. Wat is reg? Weet iemand dalk? Welington: LuxVerbi.BM.
Louw, S 2005. Die debat oor Skrifgesag: Oor nuwe hervormers, charismate en tradisionaliste. Die Vrye Afrikaan , 19 Augustus 2005, 9.
Mollett, T, Grundling, E, Van Heerden, E (red) 2004. Die omstrede God: Bestaan God of nie? Stellenbosch: RAP.
Muller, P (red) 2002. Die Nuwe Hervorming . Pretoria: Protea Boekhuis.
Rossouw, J 2005. Die spoke van die NG Kerk en die spore van sy toekoms. Die Vrye Afrikaan , 19 Augustus 2005, 8.
Slavenburg, J 1995. Valsheid in geschrifte: De gespleten pen van bijbelschrijvers . Zutphen: Walburg Pers.
Sullivan, C 2002. Rescuing Jesus from the Christians . Harrisburg: Trinity Press.
Swanepoel, M 2005. Terug kerk toe. Sarie , September 2005, 50–56.

Sakkie Spangenberg

 

From Science, Philosophy and Spirituality to your own Religion

Skrywer: 
Albie Gibson

From Science, Philosophy and Spirituality to your own Religion: The history of religion and of Christianity from a 21st Century perspective. Bloemfontein: CTS Publishers, 2003.

 

Sakkie Spangenberg

Hierdie is 'n heel interessante boek. Dis geskryf deur 'n Suid-Afrikaanse ingenieur wat 'n belangstelling in filosofie, geskiedenis en teologie ontwikkel het. Dit vertel die verhaal van die ontstaan en groei van die Christelike godsdiens teen die agtergrond van ander godsdienste van die antieke wêreld. Dit wys op bepaalde ooreenkomste en verskille en dui 'n weg uit die impasse waarin die tradisionele Christelike godsdiens beland het. Hierdie godsdiens is grootliks gebaseer op die teologie van die Latynse kerkvaders wat nie goeie kennis van Hebreeus gehad het nie en heelwat tekste letterlik geïnterpreteer het. Die boek hou verband met navorsing wat die skrywer vir die verwerwing van 'n meestersgraad in teologie aan Unisa gedoen het.

Die boek bestaan uit agt hoofstukke. Die eerste een kyk vanuit 'n filosofiese hoek na godsdienste. Die tweede hoofstuk behandel die genealogieë van godsdienste en fokus veral op die godsdienste van die antieke tyd toe die Christelike godsdiens ontstaan het. Hoofstuk drie handel oor die Joodse wortels van hierdie godsdiens. Hoofstuk vier is kort en bespreek die probleme wat historiese navorsing vir die Christelike godsdiens bied. In hoofstuk vyf kom die navorsing rondom Jesus van Nasaret (of die historiese Jesus) aan die orde. Hoofstuk ses bespreek die Joods-Christelike gemeenskappe wat na Jesus se dood ontstaan het, terwyl hoofstuk sewe Paulus se sienings bespreek. Hierin wys die skrywer uit hoedat Paulus se boodskap oor Jesus later misverstaan is. Volgens die skrywer kan die Christelike godsdiens slegs betekenis vir mense behou indien die tradisionele verlossingsboodskap anders ingevul word. Hieroor skryf hy in die slothoofstuk.

Die skrywer het 'n magdom inligting verwerk en alhoewel ek hier en daar van hom verskil, het ek die lees van die boek geniet. Dit bevat heelwat stof tot nadenke en diegene wat met die NHN identifiseer, kan gerus die boek lees, oordink en met ander bespreek.

God en die Gode van Egipte

Skrywer: 
Willie Esterhuyse
Resensie deur Gerda de Villiers 15 Junie 2009

Hierdie boek, uit die pen van ’n voormalige en welbekende filosofie-professor  maak ’n baie tydige verskyning op Afrikaanse boekrakke. Die meeste van ons het soos Esterhuyse self reeds aan moedersknie in aanraking gekom met konsepte wat ons beskouinge oor God, geloof, voorsienigheid en gebed ensovoorts bepalend gestempel het. Esterhuyse se openingshoofstuk het my veral meegevoer, terug na my kinderjare en besoeke aan Oupa en Ouma op ‘n Vrystaatse plaas. Oupa het egter nog die Godswoord in Hooghollands gelees en in Hooghollands gebid, want dit was die enigste taal waarmee ‘n mens die nodige respek aan Gij Heere God kon betoon. Oupa se Gij Heere God het my met groot ontsag vervul. Tot vandag. Willie Esterhuyse se Godsbegrippe (p 11) is die Godsbegrippe waarmee ek ook grootgeword het. 
 
Die skrywer neem die leser op reis saam met hom, deur die mites, deur die tempels en deur die geskiedenis van Ou Egipte. Dit is egter ook ‘n geloofsreis wat stukkie vir stukkie die Godsbesef wat hy as kind op Laingsburg via sy ouers, dominee Alheit en Klaas Mentoor gevorm het, dekonstrueer. Wanneer hy in kontak kom met religieuse verhale en konsepte van ander kulture in die Ou Nabye Ooste, maar veral dié van Ou Egipte, ontdek die skrywer dat daar heelwat parallelle met die Bybel is. Mettertyd raak hy ook daarvan bewus dat godsdienstige konsepte nie losstaan van geskiedenis, politiek en mag nie, en dat religieuse idees eintlik hierdeur gevorm word. Alle mense deur alle eeue soek na die sin van lewe, wil antwoorde kry op wesenlike vrae en religieuse tekste – soos die Bybel - is dikwels ‘n getuienis hiervan (p 67). Dit wat ons ‘geloof’ noem, kom nie van ‘Bo’ nie, maar is deurspek van ‘menslike woorde, voorkeure, vooroordele, tradisies en die noodlot van interpretasie’ (p 92). Religieuse tekste, sê Esterhuyse verder (p 134) ontvang ook nie heiligheid van ‘Bo’ of het dit vanself nie, dit is mense binne ‘n bepaalde geloofstradisie wat buitengewone gesag aan sulke tekste toeken en hulle daarom anders hanteer as ander tekste. Sulke tekste het dus ‘n geskiedenis – dit weerspieël mense se nadenke en pogings om sin te maak uit hul omstandighede en die betrokkenheid van hul God of gode daarby. En uiteindelik neem die skrywer finaal afskeid van ‘die meganistiese verstaan van die “wil” of die “hand” van God’ (p 188), die lang godsdienstige tradisie waarmee hy grootgeword het.
‘n Belangrike motief wat soos ‘n goue draad deur die boek loop, is sol iustitiae illustra nos – ‘die son van geregtigheid verlig/bestraal ons’ (p 13). Hierdie kragtige simbool/metafoor loop Esterhuyse vir die eerste keer raak op die gewel van die Kweekskool op Stellenbosch en dit laat ‘n onuitwisbare indruk op die res van sy lewe. Uiteraard handel baie vertellings in die boek oor die songodsdiens en die songod in Ou Egipte, en die skrywer waarsku telkens oor die gevare van magsmisbruik wat dikwels met heerskappy gepaard gaan. En heel gepas is die opskrif van die laaste hoofstuk in die boek, ‘Die son van geregtigheid’ (hoofstuk 16) met ‘n afdruk van die leuse by Stellenbosch se Kweekskool. Dis veral in hierdie hoofstuk waar Esterhuyse as latere professor in etiek aan die woord kom. Morele en godsdienstige stories oor alle eeue en kulture heen, behoort op een punt te kulmuneer: geregtigheid (p 231), en uitgebrei met die frase persoonlike verantwoordelikheid (p 234). Hierdie twee begrippe is nie bo-wêrelds of ander-wêrelds nie, maar kry praktiese gestalte in die hier en nou van ons elke dagse bestaan.
 
In hierdie hoofstuk bind Esterhuyse die lyne saam tussen Moses, Horus, Jesus, Lukas, Paulus, Augustinus, Martin Luther King jr – om maar ‘n paar te noem. Hy vra nie meer ‘wie’ is God nie, maar ‘hoe’ is God? (p 250). ‘n God wat ‘n ‘begripsmummie’ word, is ‘n God gekelder, gestorwe en begrawe binne ‘alle dogmatiese en fundamentalistiese lewens- en wêreldbeskouings waar die etiese, morele, godsdienstige en politieke dimensies klokhelder gedefinieer is en soos gebalsemde mummies in hulle goue doodskiste lê’ (p 233). In so ‘n godsbegrip skuil die dood. Esterhuyse bepleit uiteindelik ‘n samelewing waar die son van geregtigheid almal sal verlig, en waar mense selfloos, na die voorbeeld van Jesus hulself vir ander sal gee. Sonder om in voorskrifte en dogma vasgevang te word. Hy pas Jack Welch se stelling aan, in sy eie woorde ‘omstrede’: ‘Wanneer die pas van verandering buite godsdienste die pas van verandering binne godsdienste oorskry, is die einde van die godsdieste in sig.’ En hy voeg by: ‘En as mense se vertolking van die woord van “God” nie praktiese sin maak nie, is “God” dood’ (p 253).
    
Het ek enige kritiek op die boek?
 
Ek is veronderstel om te hê. Laat ek dan eers by die negatiewe begin en by ‘n saak wat my baie na my hart lê: Die Gilgamesj-Epos! Esterhuyse verwys op p 114 na Gilgamesj. Ek kan nie agterkom watter bronne hy gebruik het nie, maar hulle is ongelukkig nie betroubaar nie. Dis tog jammer. Temas van Vloed en Skepping speel ‘n minimale rol in die Gilgamesj-epos. Belangriker temas in hierdie eeue oue epos is inderdaad die aspekte wat Esterhuyse in sy boek aanraak: magsmisbruik, eer, roem, vrees vir die dood, soeke na die ewige lewe, gode wat daarbo toutjies trek oor die lot van mense, maar bo alles, ‘n soeke na die sin van die lewe as alles rondom jou in duie stort. Dit is maar ‘n tersyde punt van kritiek, en nie eers baie belangrik nie, maar ek is dit aan Gilgamesj verskuldig.
 
Verder sou ek hom wel vanuit ‘n Bybelwetenskaplike hoek kon kritiseer. Figure soos die Aartsvaders, Josef en Moses hanteer hy as historiese werklikhede en probeer ook hul bestaan min of meer dateer. In Egipte sou hierdie karakters dan in kontak met die ‘ander gode’ kom, en ten spyte van hul monoteïstiese godsbeskouing, kon hulle die Egiptiese invloed nie ontkom nie. Byvoorbeeld in hoofstuk 6 bespreek hy ‘Ander Gode’ waarin hy Moses in die tydperk van Raamses II (1304-1237 vC) plaas en aanvaar dat die ‘Eksodus-Jode deel van hierdie farao se dwangarbeiders was’ (p 95). En net daarna verwys hy na die besondere simboliek wat die ark vir die ‘Jode’ gehad het aangesien hulle dit goed leer ken het toe hulle slawe in Egipte was en ooggetuies by baie van hierdie priesterlike prosessies was (p 96). Hy posisioneer dus die Bybelfigure binne die Egiptiese tydlyn, en lê regstreekse verbande. So asof monoteïsme in die Bybel van die begin af ‘ingedra’ is, maar daarmee saam, die spore van Egipte. 
 
Die lyne kan nie so direk deurgetrek word nie. Die Egiptiese invloed word myns insiens te veel ingelees terwyl die Assiriese polemiek so te sê geïgnoreer word. En Esterhuyse se hantering van die Bybel as ‘n historiese betroubare bron, skep die paradokse indruk dat ‘dan is die Bybel tog waar, nie waar nie?’ Is dit nie juis waaruit hy vanuit sy benouende benouende geloofstradisie wil ontsnap nie?
 
Ten spyte van my kritiek, is hierdie boek ‘n deurbraak. Uiteraard is dit nie die plek vir ingewikkelde Pentateug-teorieë en ellelange diskussies oor wie is nou eintlik die Jode - Judeërs, Israeliete, Hebreërs (?) nie. Dit is nie die bedoeling van die skrywer nie, en om indringende Bybelwetenskaplike insigte te verwag, is onbillik. Uiteindelik wil ek tog my waardering uitspreek vir iemand wat dit waag om die ‘voetspore van die onsienlike te betree’ en die leser saam te neem op ‘n baie persoonlike reis van ‘n eerlike soeke om sy geloofshorisonne te verbreed.
 
God en die gode van Egipte is ‘n uiters geslaagde filosofiese, spirituele ontdekkingsreis, en beslis ‘n aanwins in die eenogige geloofslewens van die Afrikaanse Christendom. 
Volle bibliografiese besonderhede:
Esterhuyse, W 2009. God en die gode van Egipte. In die voetspore van die onsienlike. Epping: Lux Verbi.BM. 256 bladsye, leesgids ingesluit.

Sakkie Spangenberg se kommentaar op 17 Jun 2009
Dis vir my jammer dat Willie Esterhuyse nie die resente navorsing oor die godsdiens van Israel geraadpleeg het nie. Dit is deesdae 'n aanvaarde standpunt dat Israel se godsdiens aanvanklik uit 'n viervlak godepanteon bestaan het. Mark Smith se boek "The Memoirs of God: History, Memory and the Experience of the Divine in Ancient Israel" (2004), kon hier van groot hulp gewees het. Bybelwetenskaplikes lees filosowe se werke, maar filosowe lees klarblyklik nie Bybelwetenskaplikes se navorsing nie!

God is not Great: How Religion Poisons Everything

Skrywer: 
Christopher Hitchens

God is not Great: How Religion Poisons Everything van Christopher Hitchens is reeds in 2007 deur Grand Central Publishing/Twelve uitgegee en in 2008 op die  Amerikaanse National Book Award  se kortlys geplaas. 

Hitchens is ’n besonderse bedrywige outeur en bydraer tot ’n wêreld-wye spektrum van publikasies en deelnemer aan verskeie radio, televisie en universiteitsdebatte. Volgens die boek se outeursblad is hy ’n besoekende professor in Liberal Studies aan die New School en was hy ook as nommer vyf benoem op die  “Top 100 Public Intellectuals List” deur Foreign Policy en Prospect.  Hy is vanjaar deur die Forbes tydskrif as een van die vyf-en-twintig mees invloedrykste liberales in die VSA beskryf. 

As leek en passiewe NHN ondersteuner het Hitchens later vir my as ’n fundamentele sekulêre humanis opgeval maar my desnieteenstaande vroeg in die boek met die volgende aanhalings gevang: 

“ Our belief is not a belief. Our principles are not a faith. We do not rely solely on science or reason, because these are necessary rather than sufficient factors, but we distrust anything that contradicts science or outrages reason. We may differ on many things, but what we respect is free inquiry, open-mindedness, and the pursuit of ideas for their own sake. We do not hold our convictions dogmatically....” 

“ We are not immune to the lure of wonder and mystery and awe...  ...Literature, not scripture, sustains the mind and – since there is no other metaphor -  also the soul. We do not believe in heaven or hell, yet no  statistic will ever find that without these blandishments and threats we commit more crimes of greed or violence than the faithful...” 

“We are reconciled to living only once, except through our children, for whom we are perfectly happy to notice that we must make way, and room. We speculate that it is at least possible that, once people accepted the fact of their short and struggling lives, they might behave better toward each other and not worse. We believe with certainty that an ethical life can be lived without religion.” 

“ Most important of all, perhaps, we infidels do not need any machinery of reinforcement.” 

Daarna volg ’n, meestal eensydige, aanval op georganiseerde godsdiens in  hoofstukke met die volgende hoofde: Religion Kills; a Short Digression of the Pig; or, Why Heaven Hates Ham; A Note on Health to Which Religion Can Be Hazardous; The Metaphysical Claims of Religion are False; Arguments from Design; Revelation: The Nightmare of the “Old” Testament; The “New” Testament Exceeds the Evil of the “Old” One; The Koran is Borrowed from Both Jewish and Christian Myths; The Tawdriness of the Miraculous and the Decline of Hell; “The Lowly Stamp of Their Origin”: Religion’s Corrupt Beginnings; A Coda: How religions end; Does Religion Make People Behave Better?; There Is No  “Eastern” Solution; Religion as an Original Sin; Is Religion Child Abuse?; An Objection anticipated: The Last-Ditch “Case” Against Secularism; A Finer Tradition: The Résistance of the Rational en hy sluit af met The Need for a New Enlightment. 

Wat veral in die gemaklik-leesbare, soms pittige en soms geniepsige maar telkens onwetenskaplike (subjektiewe eie) boek deurskemer en pla, is Hitchens se eensydige en soms onregverdige aanvalle op die tradisionele godsdiens en spesifiek gelowiges. So pla die “Everything” in sy titel byvoorbeeld sommer met die intrapslag vir enige objektiewe leser want feitlik niks wat met die mens te make het is slegs die een of die ander nie. Hitchens darem gee wel, maar baie min en traag, toe dat die meeste gelowiges wel goeie mense is en dat goed partykeer uit godsdienstige oorde kan kom. 

Die vier basiese aspekte van Hitchens se aanval op die godsdiens verdien liewer wetenskaplike ondersoek en antwoord omdat dit selfs vir die leek te eensydig, byna fanaties en meestal sonder gesonde self-twyfel of genoegsame objektiewe kritiek gevoer word. Dit wil egter nie sê dat hy sy tesis altyd so swak of sonder meriete aanbied nie – inteendeel. 

Dis nie egter benede Hitchens om na sekulêre fundamentalisme oor te neig en twyfelagtige veralgemenings te gebruik om ’n vooropgestelde argument te probeer wen nie. So spandeer hy by voorbeeld ’n hele hoofstuk daaraan om aan te dui dat “ faith kills” maar hy oorweeg sy voorbeelde nie altyd en behoorlik in konteks nie. Dit herlei dan weer opvallend tot verdraaide logika. ’n Protestant sou natuurlik nie in die tagtigs se Ierland by die Katolieke beskerming gaan soek het nie en andersom. Vandag en helder oordag is dit egter anders – die meeste godsdienstige groepe is nie militant nie. 

Ondanks ’n rits, soms te venynige, veralgemenings, om sy opinie deur te probeer boender,  maak Hitchens egter wel ’n baie sterk, indien nie ’n  afdoende, saak uit om te bewys dat alle godsdienste mensgemaak, oor en weer op mekaar teer, onderdrukkend is en dat dit, veral vroeër-jare , onregverdiglik en stremmend op menslike vryheid en ontwikkeling ingewerk het. Hy oorweldig ’n mens eintlik behoorlik met al sy bewyse daarvoor. 

Hitchens se uitsondering en verwerping van kerklike aanvaarding van die onbewysbare en menslik-onbegrypbare, as absoluut, onbetwisbare en onbevraagbare vertrekpunt vir vêrdere argument, is waarskynlik sy sterkste argument ten gunste van sy kontensie dat alle godsdienste mensgemaak is en fundamenteel teen die rede indruis. Hy sê; “ If one must have faith in order to believe something, or believe in something, then the likelihood of that something having any truth or value is considerably diminished.” 

Of, vêrderaan;  “... In other words, to believe in a god is in one way to express a willingness to believe in anything. Whereas to reject the belief is by no means to profess belief in nothing.” Die kruks van sy boek is dan ook dat ” ... religion poisons everything, including their own faculties of discernment.” Die laaste is ook sy vernietigendste aanklag. 

Daar kan ook nie veel fout gevind word met sy argument en kritiek oor die noue, historiese en simbiotiese verwantskap tussen kerk en staat en die gevolglike logiese afleiding, dat godsdiens weinig meer as ’n streng regimenterende reeks mensgemaakte lewensreëls is om die mens, deur die geskiedenis, aan die politieke ideologie van die dag onderdanig te probeer hou het nie. 

Die boek het beslis bydraende en historiese agtergrond-waarde in die soeke na beter begrip van ons bestaan en ek is bly dat ek dit gelees het omdat dit my veral van die baie kerklike vergrype geleer het. Dis net jammer dat Hitchens so ’n gewigtige onderwerp nie, en terwille van groter geloofwaardigheid, as ’n meer objektiewe projek en in samewerking met minstens ’n paar ander erkende vakkundiges aangepak het nie. 

Dit is egter dalk sy slot, in “The need for a New Enlightment”, wat sy tesis, boek, stellings, argumente en opinie tog moontlik mag red of minstens vir die NHN, humaniste, godsdienstige twyfelaars en kwasi-filosowe interessant en die moeite werd mag maak: 

“Above all, we are in need of a renewed Enlightment, which will base itself on the proposition that the proper study of mankind is man, and women. This Enlightment will not need to depend, like its predecessors, on the heroic breakthroughs of a few gifted and exceptionally courageous people. It is within the compass of the average person. The study of literature and poetry, both for its own sake and for the eternal ethical questions with which it deals, can now easily dispose the scrutiny of sacred texts that have been found to be corrupt and confected. The pursuit of unfettered scientific inquiry, and the availability of new findings to masses of people by easy electronic means, will revolutionize our concepts of research and development. Very importantly, the divorce between sexual life and fear, the sexual life and disease, and the sexual life and tyranny, can now at last be attempted on the sole condition that we banish all religions form the discourse. All this and more is, for the first time in our history, within the reach if not the grasp of everyone...”

Jesus van Nasaret; Enkele perspektiewe

Skrywer: 
Sakkie Spangenberg

In Jesus van Nasaret stel Sakkie Spangenberg die leser bekend aan ’n handvol perspektiewe op Jesus. Dit begin by sy eie verhaal van kennismaking met ’n Kinderbybelperspektief. Hy vervolg met ’n Sondagskool- en ’n Katkisasie-perspektief voordat hy die meesterverhaal van die Westerse Christendom onder die loep neem. Hierdie perspektief is grootliks die produk van die Griekse en Latynse kerkvaders. Gedurende hierdie jare word Jesus van Nasaret die Seun van God, die Tweede Persoon van die Drie-eenheid. 

Die skrywer bespreek ook ander perspektiewe op Jesus aan die hand van verhale in verskeie Bybelboeke asook ander geskrifte.
Hierdie boek is die produk van sy studie oor die afgelope 30 jaar waartydens hy Bybelkunde en Ou Testament doseer het. Hy begelei die leser op ’n besonderse manier deur die omstandighede waarin hierdie verhale opgeteken is.
Die onderskeid wat hy tref tussen die “historiese Jesus”, die “vertelde Jesus” en die “dogmatiese Jesus” help hom om aan te toon dat daar van vroeg af aan verskillende perspektiewe bestaan het. Hy wys ook uit dat daar ten minste drie groepe in die vroeë Christendom bestaan het: 

(1) “Christen-Jode”, 
(2) “nie-Joodse volgelinge van Jesus” (of dan Pauliniese Christene) en 
(3) “nie-Jode en verhelleniseerde Jode”.

In die hernieude gesprek oor die Westerse godsbeeld en die goddelikheid van Jesus is Jesus van Nasaret ’n boek van wêreldgehalte wat gelees moet word deur enigeen wat opreg en eerlik, in die Christelike tradisie, in die naam van Jesus bid, preek en as pastor optree.

Om die Bybel anders te lees

Skrywer: 
G.F. Snyman

’n Wending in Bybellees en –interpretasie?
Resensie van Om die Bybel anders te lees: ’n Etiek van Bybellees

Sakkie Spangenberg
UNISA

In 1994, die jaar waarin Suid-Afrika ’n regeringsverandering ondergaan het, publiseer Ferdinand Deist sy boek Ervaring, Rede en Metode in Skrifuitleg: ’n Wetenskapshistoriese ondersoek na Skrifuitleg in die Ned. Geref. Kerk 1840–1990. Die boek hou verband met ’n omvattende navorsingsprojek wat gehandel het oor die Skrifbeskouing en -gebruik in die Ned. Geref. Kerk, die Ned. Herv. Kerk, die Gereformeerde Kerke en die Apostoliese Geloofsending. Na regte bied sy boek slegs die resultate van die ondersoek na die Ned. Geref. Kerk se Skrifbeskouing en -gebruik soos dit ontwikkel het oor ’n tydperk van honderd en vyftig jaar. Gerrie Snyman was een van die projekspanlede en sy opdrag was om die Gereformeerde Kerke se Skrifbeskouing en -gebruik te ondersoek en daaroor verslag te lewer. Na die voltooiing van die navorsing het hy die resultate van sy ondersoek in ’n paar artikels in die tydskrif In die Skriflig gepubliseer. Dáár het dit egter nie gebly nie. Soos dit ’n goeie Bybelwetenskaplike navorser betaam, het hy oor die Bybel en die gebruik daarvan bly nadink en skryf. Die resultate van hierdie nadenke en skrywe het nou neerslag gevind in die boek Om die Bybel anders te lees: ’n Etiek van Bybellees (Snyman 2007).

Die boek bestaan uit elf hoofstukke en neem lesers uit die doodloopstraat van die idee dat die Bybel objektiewe altydgeldende waarheid bied. Dit neem hulle weg van die idee van ’n “buiksprekende God” oftewel, die idee dat hulle “God se stem” helder en duidelik in die Bybel kan hoor. Die boek laat die fokus val op lesers en hulle subjektiewe betrokkenheid by die lees- en interpretasieproses. Dwarsdeur die boek word hierdie aspek beklemtoon — daarom kan ons praat van ’n wending op die terrein van Bybellees en -interpretasie in Suid-Afrika. Hy belig soos nog geeneen tevore nie die rol wat die leser in die lees- en interpretasieproses speel.

Hy argumenteer oortuigend in die inleiding en hoofstuk een dat 1994 ’n breuklyn verteenwoordig. Gedurende daardie jaar het Suid-Afrika nie net ’n volwaardige demokrasie geword nie, maar die Skrifbeskouing waarmee gereformeerde kerke (die NG Kerk, NH Kerk en die Gereformeerde Kerke) gewerk het, het hom finaal vasgeloop. Hierdie kerke werk steeds met ’n naïewe siening van hoe die Bybel ontstaan en die rol wat mense daarin gespeel het.

Gedurende die apartheidsera (1948–1994) het gereformeerde teoloë met die idee gewerk dat lesers objektiewe riglyne uit die Bybel kan aflees oor hoe die politieke verhoudinge tussen die verskillende bevolkingsgroepe in Suid-Afrika gereël moes word. Die “buiksprekende God” het skeiding van rasse in sy Woord gebied, was die argument. Elke volk moes ’n eie (tuis)land hê en die verskillende rasse mag ook nie ondertrou nie. Snyman (2007:30) vra tereg: “Hoekom is ons bang om te erken dat die waardes in die Bybel wat tot apartheid aanleiding gegee het, problematies is?” Hierdie opmerking van hom gaan maak dat sommige gereformeeerde teoloë hom van “Skrifkritiek” beskuldig. Die vrae wat hy egter vra, is indringend en geregverdig. Die teoloë wat hom van “Skrifkritiek” beskuldig, sal moet wys dat hulle nie die Bybel met ’n ideologiese bril lees nie. Iets wat hulle natuurlik nie sal kan bewys nie, want hy toon oortuigend aan dat alle lesers die Bybel met ’n bepaalde “bril” lees. Niemand is volkome objektief nie. Nie eens die vroomste gereformeerde teoloog nie. Daarom skryf hy hierdie belangrike sin: “Die uitskakeling van subjektiwiteit in die leesproses is egter onmoontlik” (Snyman 2007:39).

Om dít te illustreer, wend hy hom tot die debat wat in bogenoemde kerke gevoer word oor mense met ’n homoseksuele oriëntasie (hfst. 2). Diegene wat so hoog opgee oor die objektiewe waarhede in die Bybel en hulle op gedeeltes soos Levitikus 18:22 en Romeine 1:26–27 beroep om homoseksualiteit af te wys, plaas natuurlik nie hulle eie heteroseksualiteit (wat hulle as norm neem) op tafel nie. Snyman slaag daarin om die kompleksiteit van seksualiteit aan te toon. Voorts toon hy ook aan dat wat ons vandag as “normatief” beskou met eeue se regulering binne bepaalde samelewings saamhang. Buitendien, waarom nou skielik Levitikus 18:22 as norm neem, maar nie ook Levitikus 11:16 wat die eet van volstruisvleis verbied, of Levitikus 19:19 wat die dra van klere wat van twee soorte stof gemaak is, nie? Al drie hierdie tekste kom in dieselfde boek voor en is deur dieselfde skrywer(s) geskryf. Dis bloot subjektiewe keuses wat mense vandag uitoefen sonder om hulle eie subjektiewe oordele ter sprake te bring. ’n Mens kan nie maar net sekere wette in Levitikus as normatief beskou en ander ignoreer nie. Die boek is in totaliteit ’n dokument wat tydens ’n bepaalde periode in Israel se geskiedenis ontstaan en ’n bepaalde lewenswyse op ’n samelewing probeer afdruk het. Dit bevat nie objektiewe godswoorde wat vir tyd en ewigheid geld nie. Dit geld ook die tekste in die brief aan die Romeine en alle ander Bybelboeke.

Dit bring Snyman dan by die belangrike saak van ’n etiek van Bybellees (hfst. 3). Daarmee bedoel hy dat lesers bewus moet wees van hulle eie subjektiwiteit wanneer hulle die Bybel lees en dat hulle daarvoor verantwoordelikheid moet aanvaar. Mense moet in ag neem dat hulleself “die knooppunt van verstaan” is (Snyman 2007:53). Húlle ken betekenis toe in die leesproses. Dis nie die teks wat objektiewe betekenis op hulle afdruk, of betekenis in hulle koppe inprent nie.
Die aspek van mag kom ook in hierdie hoofstuk ter sprake, want mense kan húlle lees en verstaan van ’n teks as norm aan ander voorhou en dit dan op ander afdwing onder die voorwendsel dat dit deur God gebied word. Dit was die geval met die apartheidsteoloë en hulle lees van die Bybel. Húlle het hul lees en verstaan van die Bybel as “Woord van God” voorgehou en ander daaraan onderwerp. Die gevolg hiervan is dat ander “die littekens” van hulle lees moes dra. Bybellees is dus nie ’n onskuldige aktiwiteit nie, maar kan tot ander se lyding en selfs dood lei. Verantwoordelikheid in die leesproses strek egter nie net uit na ander mense rondom jou nie. Verantwoordelikheid strek hom ook uit na die teks wat ’n mens lees. Hierdie verantwoordelikheid tipeer Snyman as “’n historiese lees”. Elke Bybelteks het in ’n bepaalde konteks tot stand gekom en dis lesers se plig om meer hiervan te wete te kom. Wie dít doen, aanvaar verantwoordelikheid vir die teks en respekteer dit. Lesers wat daarop roem dat hulle hulle slegs onderwerp aan die gesag van die Bybelteks, verdoesel hulle eie minagtig van die historiese konteks waarin die teks tot stand gekom het. Hulle gebruik vroom woorde om hulle magsmisbruik te verdoesel.

In hoofstuk vier tref Snyman die mooi onderskeid tussen die Bybel as wapen en as instrument. Hy wys daarop dat die Bybel gewoonlik as ’n “goddelike teks gelees word” en dat dit tot die onuitgesproke idee aanleiding gee dat die Bybelteks ’n “welwillende teks” is wat net die goeie beoog. In sy eie woorde: “Omdat God nooit sleg bedoel nie, word die Bybel beskou as ’n teks wat heilsaam werk op die menslike toestand” (Snyman 2007:73). Hy waarsku dat die Bybelteks nie altyd so welwillend is as wat sommige teoloë meen nie. Lesers moet die waardes wat daarin vervat is, krities beoordeel. ’n Onkritiese lees, bring immers ellende vir ander mee. ’n Onkritiese lees, het tot die apartheidsideologie, die uitsluiting van vroue uit die amp van ouderling en tot die veroordeling van mense met ’n homoseksuele oriëntasie gelei. Dit lei hom tot die volgende gevolgtrekking (Snyman 2007:80):

Die Bybel wat die inheemse Afrikabevolking aan blanke oorheersing onderdanig gehou het, was ’n wapen in die hande van koloniale moondhede en uiteindelik Afrikanernasionalisme. Dieselfde Bybel wat ’n vrou in haar posisie van onderdanigheid hou, is ’n wapen in die hand van manlike oorheersing. Dieselfde Bybel wat gays as randfigure uit die kerk stoot, is ’n wapen in die hande van heteropatriargie.

Nog ’n siening waarmee hy aftreken (naas die siening dat die Bybel ’n welwillende teks is) is die een wat ’n letterlike lees voorhou as die ideale benadering tot die Bybelteks (hfst. 5). Diegene wat alles in die Bybel letterlik lees en interpreteer, skenk nie genoegsaam aandag aan die historiese konteks waarin ’n betrokke teks tot stand gekom het nie. Hulle maak asof die samelewing waarin die teks tot stand gekom het en ons s’n nie ’n aks verskil nie. Dis dieselfde soort fout wat die apartheidsteoloë gemaak het. Wanneer tekste konteksloos en bowe-histories gelees word, kan dit amok maak en tot ander se ellende, lyding en dood lei. Hierdie hoofstuk werk na regte die sieninge wat in hoofstuk drie en vier op tafel gesit is, verder uit. Die aspek van mag kom in hoofstuk sewe weer onder die loep.
In hoofstuk ses bespreek Snyman sake wat miskien bokant die vuurmaakplek van gewone Bybellesers is. Tog is dit broodnodige inligting wanneer die gesag van die Bybel bespreek word. Dit gaan in hierdie hoofstuk oor mondelinge en skriftelike oorlewering en oor verskillende kanons binne die Christelike tradisie. Dis belangrik om te weet dat heelwat materiaal wat ons in die Bybel aantref, eers mondeling oorgelewer was en dat mondelinge oorlewering nie so ingestel is op “onveranderlike woorde” nie. Mondelinge oorlewering laat variasies toe. Dit lê waarskynlik agter die twee vloedverhale in Genesis 6–9. Gewone Bybellesers besef nie dat twee verhale in hierdie hoofstukke ineengevleg is nie. Wie die vloedverhaal noukeurig lees, sal gou agterkom dat Noag verskillende opdragte ontvang het oor die diere wat hy in die ark moes neem. Die wyse waarop die vloed ontstaan het en hoe lank dit geduur het, verskil ook. Na my mening slaan Snyman die spyker op die kop wanneer hy skryf (2007:105):

Op grond van hierdie dogmatiese uitwerk van die opskrifstelling van die Bybel, sou sake soos vormgeskiedenis, tradisie-oorlewering en redaksie-geskiedenis geen plek kon kry nie. Binne die amptelike gereformeerde tradisie in Suid-Afrika het dit ook nie wortel geskiet nie. Net enkele ingeligtes weet daarvan, terwyl die res van die kerkvolk in die duister gelaat is daaroor.

Weinig predikante wat saam met my admissie en teologiese opleiding op Stellenbosch ontvang het (1971–1977), weet iets van vormgeskiedenis, tradisie-oorlewering en redaksie-geskiedenis. Ons is nooit in dié sake ingelei en geleer waarom dit belangrik is vir ’n goeie verstaan van die Bybel nie. Hierdie aspekte rondom die ontstaan en oorlewering van die Bybel is geïgnoreer omdat dit deel van die sogenaamde “hoër kritiek” oftewel, “Skrifkritiek” was.
’n Verder belangrike saak wat ook ter sprake kom, is die kwessie van inspirasie van die Bybel. Snyman (2007:109) slaan die spyker op die kop wanneer hy skryf dat inspirasie ’n “geloofsuitspraak oor die waarde van die Bybel” is en allermins ’n uitspraak oor die “manier hoe dit fisies tot stand gekom het.”
Een van die belangrikste hoofstukke in die boek is hoofstuk sewe wat die titel dra “Die Bybel en mag.” Die Bybelse regverdiging van apartheid, die uitsluiting van die vrou uit die amp en die siening dat homoseksualiteit ’n keuse is wat God veroordeel, kom nogeens ter sprake. Hierdie keer val die kollig egter op die aspek van mag wat ’n rol gespeel het (en steeds speel) in die interpretasieproses. Hierdie hoofstuk het my herinner aan die woorde van James Barr die befaamde Skotse Bybelwetenskaplike van die vorige eeu. Hy het vier en twintig jaar gelede al die volgende geskryf (Barr 1984:119):

Fundamentalists seem to me to fail to perceive that the Bible itself can be made into the instrument of human pride, human self-affirmation, human will to dominate, human ideological fervour. They cannot believe it of the Bible. If one really and completely accepts its authority, one will not be able to go wrong. But this is what does happen, and there is plenty of evidence and experience for it. People who sincerely and completely accept the Bible can build it into the structure of their own will and desire, just as any other object can be used.   

Dit staan buite kyf dat ons in die ondersteuning van die apartheidsbeleid, die uitsluiting van die vrou uit die amp en die negatiewe uitsprake oor mense met ’n homoseksuele oriëntasie met fundamentalisme in sy mees wrede gedaante te doen het. Snyman wys ook daarop dat mense wat deesdae afwykende standpunte inneem “met die belydenis gekonfonteer word” so asof die belydenisskrifte nie deur mense wat binne ’n bepaalde era geleef het, geformuleer is nie. Ook hier hang die “onderrok” van fundamentalisme duidelik uit daarom kan hy skryf: “Deur interpretasie in die Bybel en in die belydenis te ontken, is om die twee tekste te objektiveer tot ’n onheilswapen waarmee mense die mond gesnoer kan word” (Snyman 2007:117).

In hoofstuk agt en nege kom die kwessie van ’n etiek van lees weer ter sprake. Dit sluit grootliks aan by gedagtes wat in hoofstuk drie uitgespreek is, maar brei baie goed daarop uit. Na my mening sal lesers goed doen deur hoofstuk drie weer te lees voordat (of nadat) hulle hoofstuk agt en nege gelees het. In hierdie hoofstukke wys Snyman die leemtes uit van die leespraktyke waarmee vele predikante en lidmate opgevoed is. Hy beklemtoon dat ’n etiek van lees ’n balans wil skep en handhaaf “tussen die teks, die lesers en diegene wat deur die lees beïnvloed gaan word” (Snyman 2007:127). Lesers wat die Bybel lees, moet dus lees met die “ander” in gedagte, want die “ander” gaan die littekens van hulle lees dra. Maar lesers het ook die verantwoordelikheid om die Bybelteks as “ander” ernstig op te neem en die teks nie geweld aan te doen in die lees- en interpretasieproses nie. Hulle moet dit respekteer as “antieke teks” wat uit ’n samelewing kom wat radikaal van hulle s’n verskil.

Hoofstuk tien illustreer die gevaar verbonde aan ’n onkritiese lees van ’n Bybelteks deur op die Esterverhaal te fokus, terwyl hoofstuk elf verduidelik hoe die ontdekkings van Bybelmanuskripte by Qumran aan die kus van die Dooiesee ons verstaan van die ontstaan en oorlewering van Bybelboeke radikaal verander het. Hierdie hoofstukke sal lesers hopelik finaal laat afsien van die idee dat daar slegs één skrywer (naamlik God) agter die verskillende Bybelboeke sit en dat al die Bybelboeke één uniforme beeld van hierdie God bied.

Hopelik sal ’n klomp predikante na dese afstand doen van uitdrukking “die God van die Bybel sê”, of “God sê in sy Woord”, of sommer net kortweg “God sê.” Sou dit gebeur, het Gerrie Snyman ’n groot diens aan Afrikaanssprekende kerke en die teologie in Suid-Afrika gelewer.

Bibliografie

Barr, J. 1984. Escaping from Fundamentalism. London: SCM.
Deist, F.E. 1994. Ervaring, Rede en Metode in Skrifuitleg: ’n Wetenskapshistoriese ondersoek na Skrifuitleg in die Ned. Geref. Kerk 1840–1990. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing. (RGN-Studies in Metodologie.)
Snyman, G.F. 2007. Om die Bybel anders te lees: ’n Etiek van Bybellees. Pretoria: Griffel Media.

Rescuing Jesus from the Christians

Skrywer: 
C. Sullivan

Ek het verlede jaar die boek van Clayton Sullivan van oorsee bestel bloot op grond van die titel wat my oog gevang het. In die voorwoord skryf hy die volgende: 'Rescuing Jesus from the Christians has not been written for academics or for the clergy. Instead it has been written for reflective laypersons who are not satisfied with the belief system they encounter in orthodox Christianity. I have written Rescuing Jesus from the Christians out of the conviction we are living in an era that requires a reconceptualization of the Christian faith.'

Clayton is 'n twee-en-sewentigjarige baptiste predikant wat ook aan die University of Southern Mississippi (Hattiesburg) doseer het. Hy skryf met die wysheid van iemand wat vertroud is met die Christelike tradisie, die Suidelike Baptiste goed ken, iemand met 'n liefde vir die akademie en iemand wat weet hoe om kennis oor te dra. Hy het begrip vir gelowiges wat erken dat hulle nie meer tuis is in die ortodokse Christendom nie. Hy is immers self so 'n persoon. Die volgende was vir my 'n veelseggende opmerking, want ek wonder wat tydens die komende Algemene Sinode van die NG Kerk (Oktober 2002) gaan gebeur: 'I was raised within the Southern Baptist denomination. My fate has been to see this largest of Protestant denominations torn asunder by the fundamentalist controversy. Fundamentalists now control the denomination, and Baptists sympathetic to post-Enlightenment scholarship have been expelled. I have witnessed this controversy with great sorrow and dismay.'

Sy boek val in twee hoofdele uiteen: (1) 'The recovery of the historical Jesus' en (2) 'Four strategies for rescuing Jesus'. Die eerste deel handel hoofsaaklik oor die navorsing oor die historiese Jesus en die boodskap wat Hy sou verkondig het.

Clayton skryf in eenvoudige taal oor Jesus se boodskap, sy godsbegrip, die maagdelike geboorte, Jesus se houding teenoor nie-Jode, die gebeure rondom die kruisiging, ens. Hy sluit die eerste deel met die volgende vrae: 'Can Jesus be rescued from the church's dogmatic castle where many Christians believe he should remain enclosed? Is there a solution to the church's schizophrenia of mind versus dogma? Is it possible to be a Christian believer without committing intellectual suicide?' Hierop antwoord hy positief in die tweede hoofdeel waar hy uitstippel hoe ons vandag oor Jesus kan dink en glo. Hy doen vier 'strategieë' aan die hand: (1) tref 'n onderskeid tussen Jesus vóór die opstanding en Jesus ná die opstanding; (2) breek met die ortodokse belydenisse as dit jou nie bevredig nie, niemand het van God die reg ontvang om jou te veroordeel nie; (3) waak teen twee uiterstes: (a) om 'n sentimentele beeld van Jesus te skep, en (b) om Jesus as uiters verhewe te beskou; (4) verheug jou in godsdienstige pluralisme.

Ek beveel die boek van harte aan by almal wat gefassineer is deur die historiese Jesus-navorsing en die idee van 'n nuwe hervorming.

Daar is 'n baie bruikbare verklarende woordelys aan die einde van die boek waar Clayton meer inligting gee oor filosowe en teoloë waarmee gewone lesers miskien onbekend is. Die woordelys bevat ook definisies van enkele belangrike filosofiese en teologiese begrippe.

Op die agterblad van die boek staan die volgende woorde: 'I am not arguing that an inquisitive Christianity that strives for intellectual honesty is in itself superior to orthodox Chrstianity. I am contending, however, that it is an alternative, valid version of the Christian faith.' Hierop reageer ek met: 'Clayton, jou doring! Ek kon dit nie beter gesê het nie.'

Die boek kos byna R 200,00 maar dis 'n goeie belegging.

Sakkie Spangenberg

Sullivan, C 2002. Rescuing Jesus from the Christians . Harrisburg: Trinity Press International. (ISBN 1-56338-380-2)

Ruim geloven: Een theologisch zelfportret

Skrywer: 
C.J. Den Heyer

'n Interessante ontwikkeling op die terrein van die teologie is dat teoloë deesdae outobiografieë skryf. Dis egter nie droë vertellings oor die teoloog se lewe nie, maar pakkende vertellings van die persoon se betrokkenheid by die kerklike lewe en die teologie. Dit vertel iets van die ontwikkelinge in die betrokke kerk en die teologie, en die teoloog se betrokkenheid daarby.

Hier te lande het Willie Jonker vier jaar gelede 'n boek Selfs die kerk kan verander (Kaapstad: Tafelberg, 1998) gepubliseer. Alhoewel hy verkies om dit nie 'n outobiografie te noem nie, speel die ek-verteller daarin 'n groot rol en daardie 'ek' is niemand minder as Willie Jonker nie.
Ek het Willie Jonker as dosent op Stellenbosch beleef en het dikwels via die 'theological grape vine' brokkies inligting rakende sy lewe (toe ek nog maar 'n kind was) gehoor. Nadat ek in sy klasse gesit en hom as dosent leer ken het, het ek met belangstelling sy lewe gevolg. Sy teologie het my beïndruk en beïnvloed. Ek het sy boek dus opgerakel toe dit verskyn het. Vir die eerste keer kon ek uit sy pen van die dinge lees waarvan ek soms net tweedehands kennis gedra het. Maar ek het die boek ook geniet omdat ek 'n deel van die geskiedenis waaroor Jonker skryf, beleef het.

In Nederland het daar twee jaar gelede ook 'n boek verskyn wat my onmiddellik getrek het. Dis geskryf deur Cees den Heyer, professor in Nuwe Testament aan die teologiese universiteit in Kampen en dra die titel Ruim geloven: Een theologisch zelfportret . Die boek het reeds 'n tweede druk beleef wat bewys dat Cees oor sake skryf, wat mense raak.

Ek het Cees in 1984 tydens sy eerste besoek aan Suid-Afrika ontmoet. Hy het nie veel erg aan my gehad nie. Ek was nog maar 'n stofpoepertjie teoloog. Enkele jare tevore aangestel as lektor in Bybelkunde by RAU. Hy het wel 'n kopie van sy boek De Messiaanse Weg 1: Messiaanse verwachtingen in het O.T. en in de vroeg-joodse tradisie aan my gegee. Eintlik was dit nie 'n behoorlike kopie nie. Dit was ongebonde dele, maar ek het dit met dank ontvang. Die onderwerp het my geïntereseer. Nadat ek dit gelees het, het Cees nooit uit my blikveld verdwyn nie. Hy het my immers bewus gemaak van die Joodse agtergrond van die Nuwe Testament; van die feit dat die voorspellings in die Ou Testament nie reglynig op Jesus uitloop nie. Ek het heelwat van sy boeke en artikels daarna gelees.

Cees staan tans in die teologiese spervuur in Nederland vanweë sy standpunt oor die versoeningsleer, of dan die kerklike siening dat Jesus as offer aan die kruis gesterf het om mense se sondes te versoen. Hierdie sienings het hy in die boek Verzoening: Bijbelse notities bij een omstreden thema (Kok: Kampen, 1997) verwoord. Die herrie het na die publikasie van daardie boek losgebars en Cees moet nou nog bontstaan. In sy outobiografie vertel hy hoe sy denke oor jare ontwikkel het en waarom hy reken dat die kerk sy basisdokumente nie reg vertolk nie.

Mense wat belangstel in verskuiwings in die teologie (en dus die nuwe hervorming) moet hierdie boek lees. Cees skryf verstaanbaar en pakkend.

Sakkie Spangenberg

Den Heyer, C.J. 2000. Ruim geloven: Een theologisch zelfportret. Zoetermeer: Meinema. 

Stages of faith: the psychology of human development and the quest for meaning

Skrywer: 
James W. Fowler

Dit is 'n moeilike boek dié, altans vir my. Dit handel oor die verskillende stadia waardeur die mens se geloofsontwikkeling gaan. Dat die boek moeilik is, is aan verskeie faktore te wyt. Eerstens veronderstel dit van die leser 'n sekere gemaklikheid met die ontwikkelingsielkunde en begrippe daar rondom. Dit is bedoel om vir leke toeganklik te wees, maar is in werklikheid 'n navorsingsverslag. Tweedens is geloof 'n verskynsel wat hom moeilik in 'n harnas laat vasvang. Dit is te veelfasettig vir eenvoudige definisies en is so deel van die hele mens dat dit moeilik is, ook vir die navorser, om onbevange daarna te kyk. Derdens het dit te doen met die skrywer se aanbiedingstyl. Hy is geneig om sy gedagtes indirek oor te dra en laat dit aan die leser oor om gedagtespronge te maak en hiate te vul. Hy gaan ook in baie opsigte agterstevoor te werk: dinge wat aan die begin gesê moes word, duik dikwels eers naby die einde op.

Ek pak dus hierdie bekendstelling met huiwering aan omdat ek nie seker is dat ek deurgaans reg kan laat geskied aan die skrywer se denkbeelde nie. Tog vind ek dit so 'n belangrike werk dat ek dit met lesers van hierdie webblad wil deel. Ek meen dat dit 'n bydrae kan maak tot die dialoog rondom geloof en religie waartoe hierdie webblad verbind is.

Eers iets oor die skrywer. James Fowler is 'n opgeleide teoloog en ontwikkelingsielkundige wat aan verskeie universiteite, waaronder Harvard, verbonde was. Sy belangstelling in die ontwikkeling van geloof is blykbaar die resultaat van 'n doodsbelewenis wat hy in sy vroeë dertigerjare gehad het. Hy gee 'n aangrypende beskrywing van hoe hy een nag wakker geword het met die besef dat hy besig is om te sterwe. In sy ontliggaamde toestand was hy gedistansieer van alles om en in hom, ook van sy geloof. Hy stel dit so: "... my faith, like my wife and children seemed remote and detached from me. I looked at it as one might look at an overcoat hanging on the far side of a room. During those moments I was not in my faith. I seemed to stand completely naked — a soul without body, raiment, relationships or roles. A soul alone with — with what? With whom?". Tipies van sy aanbiedingswyse lê hy nie 'n verband nie, maar suggereer hy slegs dat dié ervaring sy studie van geloof, "a coat against this nakedness", geaktiveer het.

Fowler se uitgangspunt is dat geloof 'n universeel menslike verskynsel is. Elke mens word gebore met die vermoë tot geloof net soos hy gebore word met die vermoë om spraak aan te leer. Geloof is gevolglik so fundamenteel dat niemand lank daarsonder kan lewe nie. Dit is boonop so universeel dat wanneer mens verby simbole, ritusse en etiese patrone kyk, dieselfde verskynsels by Christene, Marxiste, Hindus, Dinkas en, ja, ook ateï:ste waargeneem word. En tog is dit so gevarieerd dat elke mens se geloof uniek is.

In die eerste van die boek se 5 dele probeer Fowler klaarheid oor hierdie fassinerende verskynsel gee. Eenvoudige omskrywings moet mens nie van hom verwag nie; trouens hy vermy dit bewustelik. Deurslaggewend vir sy benadering is die onderskeid wat hy tussen faith, religion en belief maak. Religie is volgens hom 'n kumulatiewe geloofstradisie wat die geloofsuitdrukkinge van 'n gemeenskap se verlede weergee en wat in tekste, gebruike, verhale, mites, profesieë, en dies meer neerslag vind. Geloof ( faith ) is in teenstelling daarmee 'n dieper, ryker en intens persoonlike aangeleentheid, 'n oriëntasie van die totale persoon wat doel en betekenis aan sy lewe gee en wat in religie geanker kan wees, hoewel dit nie noodwendig so hoef te wees nie. Belief is 'n bewuste verklaring of formulering van geloof, iets soos die geloofsbelydenis van Christene. Afrikaans het nie terme wat mooi op dié onderskeid pas nie. Geloof se lading is te wyd; dit sluit sowel faith as belief en ook religion in. Ek beperk dié term voortaan dus willekeurig tot faith . Die objek van die boek is nie religie of belydenis nie, maar geloof soos hier gedefinieer.

Geloof is volgens Fowler 'n aktiewe bestaanswyse wat die mens se ervaring van die lewe vorm. Hy belig dié begrip van vele kante af. 'n Kortbegrip daarvan — veels te kort — sou wees dat geloof 'n bewuste of onbewuste verhouding is met 'n stel norme wat diffuus of gefokus kan wees en wat die mens se instelling teenoor die werklikheid en optrede teenoor sy/haar mede-mense bepaal. Vervolgens is geloof ver-beelding in die sin dat dit 'n manier is om die alledaagse lewe in terme van 'n uiteindelike omgewing (ultimate environment) te sien. Die omgekeerde van geloof is nie twyfel nie, maar 'n onvermoë om enige uiteindelike omgewing te ver-beeld; dit is nie ateï:sme nie maar nihilisme.

In die tweede deel bied hy, weer tipies van sy werkwyse, 'n fiktiewe gesprek aan tussen drie ontwikkelingsielkundiges wat hom beï:nvloed het, t.w. Piaget, Kohlberg en Erikson. Aldrie stel ontwikkeling voor as stadia waardeur die mens gaan. Fowler se aanpak steun selektief op dié drie se metodes. Hy wil naamlik die struktuur van geloofsontwikkeling vasstel en nie die inhoud daarvan nie. Dit gaan nie vir hom om wat of waarin 'n mens glo nie, maar om hoe hy/sy sy/haar geloof belewe en uitlewe. Sodoende kan geloof onder andere los van religie beskou word.

Die uitkoms van Fowler en sy medewerkers se navorsing, gebaseer op digby seshonderd gestruktureerde diepte-onderhoude wat met mense van verskillende ouderdomme, geslagte en geloofsoortuigings gevoer is, is 'n teorie, of liewer 'n model, waarvolgens 6 stadia van geloofsontwikkeling onderskei word. Die verskille tussen die onderskeie vlakke hang saam met verskillende formele aspekte van geloof. Die proses van geloofsontwikkeling beweeg nie slegs horisontaal van een stadium na 'n ander nie, maar het ook 'n vertikale, normatiewe dimensie wat die skrywer uitdruklik erken en wat inhou dat elke volgende stadium kwalitatiewe vordering bo die vorige inhou. Ek meen dat dit in die lig van dié kwalitatiewe aspek juister is om van vlakke van geloof eerder as van stadia te praat.

Die vlakke wat hy onderskei is chronologies opeenvolgend en tiperend van verskillende leeftye, maar dit beteken nie dat elke mens deur al die vlakke gaan nie. Daar is volwassenes wat nooit verder as die tweede vlak vorder nie; trouens, 'n groot aantal volwassenes steek by die derde vlak vas. Die sesde vlak is weer so gevorderd dat dit deur weinig mense bereik word. Die vlakke is ook nie onderling uitsluitend nie; 'n mens kan op die oorgang tussen twee vlakke of op enige gegewe vlak met elemente of reste van vorige vlakke verkeer.

Die kruks van die boek is dus die ses geloofsvlakke. Die leser moet nie definisies of selfs kernagtige samevattings van die vlakke verwag nie; daarvoor is die gegewe te kompleks. Dit is ook nie die skrywer se styl om dit te doen nie. Behalwe in die geval van Vlak 6, steun hy gedeeltelik op uittreksels uit onderhoude met informante wie se geloof die betrokke vlakke illustreer. My weergawe kan hoogstens op momente van elke vlak fokus en is dus noodwendig onvolledig. En dan gaan ek dit, wel bewus daarvan dat dit eensydig en onvolledig is en die skrywer se bedoelings kan verteken, waag om in elke geval 'n eie karakterisering van die betrokke vlak te gee.

Die nulvlak is die ongedifferensieerde geloof van die baba en die vroeë kleuter en is ontoeganklik vir empiriese ondersoek. Dit is 'n stadium voordat taal ontwikkel en simbole ontdek word. Die elemente van wederkerigheid, vertroue, hoop en moed tussen kind en ouer wat op dié stadium voorkom (of ontbreek), onderlê (of ondermyn) egter latere geloofsontwikkeling. 'n Goeie karakterisering van hierdie stadium sou proto-geloof wees.

  • Vlak 1 is die intuïtief-projektiewe stadium , kenmerkend van die kind tussen drie en ses wat spraak en simboliese voorstellings bemeester het en sy ervaring in betekeniseenhede kan organiseer. Kinders in dié stadium kombineer fragmente van stories en denkbeelde wat hulle uit hulle kultuuromgewing ontvang in eie assosiasie-"bondels". Dit is 'n fase ryk aan fantasie en nabootsing, waarin denkpatrone vloeibaar is en sterk deur die voorbeeld, handelinge en stories van veral die ouers se geloof beï:nvloed word. Miskien sou ontluikende geloof 'n gepaste tipering van hierdie vlak wees.
  • Vlak 2 noem Fowler mities-letterlike geloof. Dit is tipies van die laerskoolkind. Dit is 'n narratiewe stadium waarin betekenisse in stories uitgedruk word en wat gekenmerk word deur 'n afwesigheid van refleksie met die doel om algemene insigte te verkry wat tot 'n sintese van betekenisse lei. Dit is ook 'n egosentriese stadium waarin die perspektiewe van andere geen rol of hoogstens 'n onbeduidende rol speel. Waar daar 'n godsbegrip is, word God se perspektief van die eie perspektief onderskei. Morele waardes word letterlik geï:nterpreteer en berus op die beginsel van resiprokale billikheid: God beloon die gehoorsame en straf die ongehoorsame; sy guns moet letterlik gewen word. Die godsbegrip is tipies antropomorfies. Watter enkele woord sou hierdie vlak raakvat? Miskien ontwikkelende geloof.
  • Vlak 3 is die vlak van sinteties-konvensionele geloof. Dit kom gewoonlik nie voor die hoërskoolstadium voor nie, want dit is die fase waarin analitiese denke bemeester moet word. Dit is ook 'n stadium waarin die mens sterk op sy sosiale omgewing georiënteer is. Die geloofsisteem is dus konvensioneel en nie analities nie, dit word belewe as "almal" se geloof. Godsbeelde is nie meer antropomorfies nie maar transendent; God is die heilige Ander Een. Persoonlike mites en interpersoonlike perspektiewe ontstaan en dit word die paradigma/norm vir waardes. Waardes word sterk belewe en geartikuleer, maar vorm nog nie waardesisteme nie. Outoriteit is buite die self gelokaliseer: daar word sterk gesteun op die gedrag, voorbeeld en leiding van andere. Simbool en betekenis word verwar en simbole word self as heilig aanvaar. Volgens Fowler is Vlak 3 kenmerkend van 'n groot deel van die religieuse lewe in Amerika; dit werk trouens die beste vir baie godsdienstige instellings. As ek 'n enkele term daarvoor moet gebruik, sal ek dit konvensionele geloof noem.
  • Vlak 4 word gekenmerk deur individuatief-reflektiewe geloof. Dit tree gewoonlik nie voor die 30-ger of 40-gerjare in nie, maar kan al in die laat puberteit na vore kom. Dit word dikwels gepresipiteer deur ernstige botsings tussen bronne van outoriteit wat hoog gewaardeer word of deur 'n verandering van gebruike wat voorheen as ononderhandelbaar beskou is. Dit is dikwels 'n wegbreek uit die vertroude geriefsone van geï:nstitusionaliseerde sisteme en bring 'n omwenteling in 'n mens se lewe teweeg wat onvermydelik spanning meebring. Vertroue in eksterne bronne van outoriteit verval; die tirannie van "hulle" word afgeskud. Die eie identiteit word van dié van andere gedifferensieer en verwagtinge en probleme word voorgelê aan 'n "innerlike raad" vir beslissings eerder as aan gesagsbronne buite die self. Implisiete waardes en betekenisse word vervang deur eksplisiete sisteme en simbole word bevraagteken en los van hulle betekenisse gesien. Die betekenisse van simbole word ook eksplisiet geartikuleer. Die logika van hierdie vlak is dichotomiserend, d.w.s. dit werk met of/of onderskeide. Ek sou dit in een woord kon saamvat as kritiese geloof . Kritiese geloof in 'n ekstreme vorm kan oorgaan in agnostisisme.
  • Vlak 5 is dié van konjunktiewe geloof en neem selde voor die middeljare 'n aanvang. Dit beweeg verby die dichotomiserende logika van Vlak 4 waar simbool teenoor betekenis gestel word; dit laat die werklikheid eerder vir homself spreek. Dit word 'n dialektiese logika wat ruimte laat vir paradokse. Simbole word weer met betekenisse geï:ntegreer omdat die diepte van die werklikheid waarna hulle verwys, besef word. Dit gaan dus verby die ideologie van die geloofstelsel wat in Vlak 4 gekonstrueer is en aanvaar 'n versoening van die bewuste en die onbewuste. Dit erken dat die eie godsdienstige tradisie onvolledig en beperk is en het waardering vir ander geloofsisteme sonder om egter die eie sisteem af te sweer. Dit is trouens 'n herwinning en versterking van die oorspronklike geloof. Dit handhaaf die kritiese vermoëns van Vlak 4 maar vertrou dit slegs as werktuig om selfbedrog te voorkom. Anders as op Vlak 4 is dit bewus van paradokse. Vlak 5 bly egter verdeel, gevang tussen universaliserende perspektiewe en 'n behoefte om die eie bestaan te koester. My karakterisering van Vlak 5 sou geïntegreerde geloof wees.
  • Vlak 6 betree universaliserende geloof. Dit is 'n vlak wat deur min gelowiges, as't ware slegs "heiliges", bereik word. Dit is meesal 'n onbedoelde ontwikkeling, aangesien mense selde daarop uit is om heiliges te word. Gelowiges op hierdie vlak het 'n besonder sterk gevoel vir transendente morele waardes. Hulle het boonop visionêre idees wat aan hulle handelinge 'n buitengewone en dikwels onvoorspelbare kwaliteit verleen. Dit bring 'n radikale toewyding aan beginsels soos inklusiwiteit, geregtigheid en 'n getransformeerde wêreld ooreenkomstig transendente beginsels mee. Die logika daaragter is sinteties, d.w.s. dit sien die een-wees agter verskeidenheid raak. Dit skud die gewone kriteria van normaliteit en word gewoonlik as 'n ondermyning van bestaande strukture belewe. Universaliserende gelowiges stel tipies nie belang in selfbehoud nie en het 'n openheid vir gemeenskap met mense van ander geloofsvlakke en gelowe. Paradoksaal genoeg kom hulle idees dikwels triviaal voor: vereenselwiging met siekes, misdadigers, onderdruktes, uitgeworpenes, en so meer. Ondanks hulle verhewe geloofsvlak is hulle nie perfekte mense nie en het hulle dikwels blinde kolle en opvallende beperkings. As voorbeelde van mense op hierdie vlak word Gandhi, Martin Luther King Jr, Moeder Teresa, Dietrich Bonhoeffer en Dag Hammerskjold genoem. Fowler sê dit nie, maar die implikasie is dat Vlak 6 ook die vlak van geloofsvernuwers soos Christus, Mohamed en die Boeddha is. Ek meen dat Vlak 6 net so goed visionêre geloof genoem kan word.

'n Interssante aspek van die ontwikkelingsmodel wat Fowler aanbied, is dat dit nie 'n stap-model is soos dié van Piaget, Erikson en andere nie, maar 'n spiraal-model. Dit beteken dat daar nie maar net van een stap na 'n ander gevorder word nie, maar dat elke nuwe vlak die vorige vlakke her-kontekstualiseer sonder om hulle te ontken. Elke vlak is gemoeid met dieselfde vraagstukke en verandering kom neer op die aanspreek daarvan op 'n nuwe en wyere vlak van kompleksiteit. Die algehele effek is groter individuasie tot op vlak 4 en dan 'n neiging terug na die begin, maar nou op 'n hoër vlak van kompleksiteit, differensiasie en inklusiwiteit. Fowler illustreer die konsep aan die hand van die diagram hier langsaan. Die spiraal begin by die proto-geloof van die baba.

Laastens 'n woord oor bekering, oftewel revolusionêre geloofsverandering. Bekering is 'n radikale verandering van geloofsinhoud. Ten opsigte van geloofstruktuur kan dit vertikaal of horisontaal plaasvind: horisontaal wanneer die geloofsvlak onveranderd bly en vertikaal wanneer dit 'n nuwe ontwikkelingsiklus vanaf Vlak 2 aktiveer.

Die teorie, of dan die navorsing wat daarop gebaseer is, het leemtes — dit erken Fowler. Eerstens is die navorsing slegs in Amerika uitgevoer en dan ook grootliks onder informante uit 'n Christelike konteks — 81.5% van almal met wie onderhoude gevoer is. Nie een van die onderhoude waaruit hy aanhaal is van 'n uitgesproke ateïs nie; slegs een kan hoogstens as 'n afvallige beskou word. Die vraag ontstaan dus of die teorie en die ontwikkelingsmodel werklik vir alle gelowe en ook vir ongelowiges steekhou. Fowler noem dit egter dat die navorsing uitgebrei word na ander lande en gemeenskappe. Tweedens is daar haas geen longitudinale studies gedoen nie. Onderhoude is gevoer met mense wat op bepaalde geloofsvlakke verkeer en hoogstens aanduidings kan gee van hulle vorige geloofsvlakke, maar nêrens is die geloofsontwikkeling van een persoon by wyse van spreke van die wieg tot die graf gedoen nie. Die vraag is dus of alle persone op 'n gegewe vlak deur al die stadia gegaan het. Anders gestel: verloop geloofsontwikkeling streng linêr of kan bepaalde vlakke oorgeslaan word? Sou Moeder Teresa byvoorbeeld eksplisiet deur die kritiese fase van Vlak 4 gegaan het? Ook dit is die navorsingspan besig om reg te stel. Derdens is daar geen onderhoude gevoer met mense op Vlak 6 nie. Wat daarvan gesê word, is skynbaar gebaseer op aannames omtrent bepaalde tydgenootlike persone. Dit lyk dus of daar voorasnog nie voldoende gegewens is wat dui op 'n universeel geldige teorie wat op alle mense en alle gelowe van toepassing is nie en of die navorsingsbevindinge hoewel indrukwekkend, tog voorlopig is.

Daar is myns insiens ook 'n ander aspek van die teorie waaroor vraagtekens hang. Hoewel die teorie daarop aanspraak maak dat hy inhoudvry na die struktuur van geloof kyk, het dit 'n duidelike ideologiese basis, juis as gevolg van sy normatiewe instelling. In sy bespreking van Vlak 6 wys Fowler daarop dat figure soos die Ayatollah Khomeini en Jim Jones nie daarvoor kwalifiseer nie omdat hulle geloof nie aan die kriteria van inklusiewe gemeenskaplikheid, radikale toewyding aan geregtigheid en liefde en 'n selflose passie vir 'n getransformeerde wêreld wat ooreenkomstig 'n heilige en transendente intensionaliteit gevorm is, beantwoord nie. Dit kom dus voor asof ateïste en aanhangers van sekulêre ideologieë soos die kommunisme nie in die model pas nie, of dan dat hulle per definisie nie die volle ontwikkelingspektrum kan deurgaan nie, tensy begrippe soos gemeenskaplikheid, geregtigheid, liefde en transendent so wyd gedefinieer en gekonsipieer word dat hulle inhoudloos word. Daarmee verloor die teorie sy aanspraak op waardevryheid en universele toepaslikheid en boet dit aan reikwydte in.

Wanneer dit alles gesê is, meen ek egter dat die ontwikkelingsmodel teoreties genoegsaam verantwoord is om op transendente geloof met 'n sekere etiese inhoud, minstens in 'n Christelike milieu, van toepassing te wees. Dit is gebaseer op vier onmiskenbare geloofsparameters — (1) grense van sosiale bewustheid, (2) setel van outoriteit, (3) belewenis van wêreldsamehang, en (4) die rol van simboliese funksies — wat met die denkbeelde van erkende ontwikkelingsdeskundiges soos Piaget, Erikson/Selman en Kohlberg, geï:ntegreer is. Hoe meer ek daaroor nadink, hoe meer kom ek tot die slotsom dat dit op die minste 'n raamwerk bied waarbinne 'n mens op 'n relevante en verantwoorde wyse vrae kan vra en antwoorde kan formuleer oor jou eie geloofsomgewing.

Dit bied na my oordeel by voorbeeld 'n ryk en prinsipële grondslag vir die verstaan en interpreteer van onder andere die eie geloofsgroei, die geloofsaanbod van kerke, debatvoering oor geloof soos dié tussen kreasioniste en evolusioniste wat onlangs in die pers gevoer is, ontwikikelinge op godsdienstige gebied soos die "nuwe hervorming", inisiatiewe soos GRAS en Grasnuus, die funksioneringsvlak van verskillende godsdienste, ens. Dit het ook die potensiaal om sinvolle intepretasies moontlik te maak van aangeleenthede soos Christus se versoeking, Paulus se Damakuservaring, Thomas se aandrang daarop om die spykerwonde te voel, die status van geloofshelde soos Stefanus, Augustinus, Johannes Hus en Zwingli uit die kerkgeskiedenis en van "wegbrekers" en vernuwers soos Johannes du Plessis, Beyers Naude en Albert Geyser uit ons eie tradisie, die hervorming en die rol van hervormers soos Luther en Calvyn, die plasing van seminale figure uit ander geloofstradisies, soos Mohamed, ens., ens., ens.

Of is ek dalk besig om die verklarende krag en rykdom van die teorie te oorskat?

Diek van Wyk

James W. Fowler: Stages of faith: the psychology of human development and the quest for meaning (Harper San Francisco, 1995). 

Teologie op die markplein

Skrywer: 
Sakkie Spangenberg

 'n Versameling voordragte en kort artikels wat Sakkie se nadenke oor geloof, die wêreld waarin hy groot geword het en die eeu waarin hy tans leef, weerspieël. "Ek publiseer hierdie opstelle ter illustrasie dat alle teoloë kinders van hulle tyd is. Elke teoloog se nadenke dra die vingermerke van die tyd waarin hy of sy geleef het. Ek … meen dat teologie … tuishoort op die markplein waar mense gedagtes uitruil en oor die lewe nadink."

Teologie op die markplein word uitgegee deur die C.B. Powell Bybelskool

The God we never knew: Beyond dogmatic religion to a more authentic contemporary faith

Skrywer: 
M J Borg

Wat maak mens as jy besef dat die godsvoorstelling uit jou kindertyd nie meer werk nie? As jy besef dat die idee van "God" as 'n bonatuurlike wese daar buite, wat die wêreld gemaak het en van tyd tot tyd nog ingegryp het met wonders en wat eendag weer sal oordeel (elkeen volgens sy en haar dade), net 'n dogmatiese voorstelling van mense is? Jy verwerp godsdiens geheel en al en probeer sin vind in 'n ander tradisie, of jy soek na 'n alternatiewe verwoording van die Christendom. Laasgenoemde is presies wat Marcus Borg in hierdie boekie aanbied.

Die godsbeeld wat Borg skets as die van die Ortodokse (dogmatiese) Christendom is baie naby aan die een waarmee die meeste Afrikaanssprekende mense grootgeword het. Sy persoonlike verhaal kon net sowel een van ons s'n gewees het. In 'n lekker, leesbare boekie bespreek Borg die alternatief vir 'n dogmatiese verwoording van die Christendom. Hy sentreer veral op die godsvoorstelling, maar toon aan hoedat dit neerslag gevind het in leerstellings oor Jesus, die bybel, 'n spesifieke siening van verlossing en geloof en oor die lewe na die dood. Bogenoemde godsvoorstelling word vervang met 'n panenteïstiese godsbeeld ("alles is in God"). God is meer as alles, maar alles is in God, is die beste beskrywing van die voorstelling.

Borg keer terug na die bybel (en nie die dogmas en belydenisskrifte nie) en herontdek die talle godsvoorstellings wat in die Ou en Nuwe Testamente aanwesig is en wat juis aandui dat die voorstelling van God as 'n persoon of wese maar net een voorstelling naas ander is. Dieselfde gebeur byvoorbeeld met die herontdekking van die term "verlossing" (wat in die dogma verskraal is tot die "red van jou siel") as 'n ryke begrip in die bybelse tradisie.

Hierdie boekie is die moeite werd om aan te beveel vir enige leser wat reeds vrae vra oor die Ortodokse verwoording van die Christendom. Maar dit is ook aan te beveel vir diegene wat nog nooit aan 'n alternatief gedink het nie omdat dit kan help om mense te verlos van 'n eng en benepe voorstelling van die Christendom. Die lees hiervan kan dalk net vir diegene wat so graag glo hul fundamentalistiese standpunt kom direk uit die bybel uit, oortuig dat dit juis hulle is wat die bybel minag en reduseer. Op 'n indirekte wyse toon Borg aan hoedat Ortodokse Christendom deur dogmas, die verskeidenheid van die bybelse tradisie verskraal het.

Pieter Craffert

Borg, M J 1997. The God we never knew: Beyond dogmatic religion to a more authentic contemporary faith. San Francisco: HarperSanFrancisco. 182pp.

The Jesus Dynasty

Skrywer: 
James Tabor

Christo Landman

Bg. boek wat in 2006 verskyn het, is reeds in 20 tale uitgegee en kan beskou word as ‘n besonder belangrike bydrae as antwoord op die vraag na die historiese Jesus.

James D. Tabor is ‘n Bybelse argeoloog en voorsitter van Godsdienstudies aan die Universiteit van Carolina (VSA). Oor “The Jesus Dynasty” skryf Bart Ehrman van dieselfde Universiteit dat hierdie ‘n werk is wat anders is as wat die publiek voorheen insae in gehad het.  Die boek val in die kader van die sg. historiese Jesus Navorsing. In hierdie navorsing word uitgegaan van die standpunt dat die werklike Jesus van sy tyd ingrypend verskil van die mitiese Jesus van die kerklike dogma.  “The Jesus Dynasty kan getipeer word as ‘n nuwe historiese ondersoek na Jesus, na die koninklike familie van Jesus en die geboorte van die Christendom na die sterwe van Jesus.  

Tabor slaag daarin om die konteks op ‘n prikkelende wyse te skets teen die agtergrond van ‘n Messiaanse twee-manskap.  Hiervan was Johannes die Doper die Priesterkomponent en Jesus die Dawidiese Prins as troonopvolger in die bloedlyn van Dawid.  Die Messiaanse verwagting is aangevuur deur die Romeinse onderdrukking, die “verraad” van die Sadduseers en Fariseers asook die profetiese verwagtinge (Amos, Jeremiah en Jesaja, onder meer) dat die koninkryk van die HERE God nader kom.  Jesus het hom aangesluit by die Johannes die Doper-beweging.  Daar word deur Tabor veronderstel dat beide Johannes die Doper en Jesus bewus was van die profetiese verwagtings aangaande die Messianisme. Volgens Tabor is die Evangelies by terugskoue geskryf en bied gevolglik gebeure in hierdie lig aan.  Hieruit vloei die vraag voort of Jesus en Johannes die Doper nie in hulle strategie die messiaanse verwagtings waar wou maak nie en dat die optredes van Jesus en Johannes dus in die kader van selfvervullende profesie val nie?

Deur die dood van die Doper is die Messiaanse verwagting ‘n gevoelige slag vir die “verlossingstrategie” wat daarna deur Jesus alleen voortgesit is.  Jesus se kruisiging is ‘n verdere slag. Selfs aan die kruis het Jesus verwag dat die HERE God self in die geskiedenis sou ingryp, wat nie gerealiseer het nie. Vandaar Jesus se uitroep: “My God, my God, waarom het U my verlaat!”.  By die afsterwe van Jesus word die Dawidiese dinastie deur Jakobus, die broer van Jesus, binne ‘n Judaïstiese konteks voortgesit en ná die steniging van Jakobus deur Joses (nog ‘n jonger broer van Jesus).  Met die vernietiging van Jerusalem (70 nC.) is die Messiaanse Jesus Beweging, onder die leiding van die broers van Jesus en die twaalf apostels, nóg ‘n verdere terugslag toegedien. 

Hierna het die teologie van Paulus die heerskappy begin voer.  Hierdie teologie het die boodskap van Jesus vergrieks.  Paulus het belangrike konsepte uit die Hellenistiese filosofie oorgeneem en probeer verChristelik. Hy het ook geherdefinieer wie nou eintlik die volk van God was.  Sodoende het hy die Jesusbeweging getransformeer tot ‘n Griekse godsdiensbeweging wat die Messiaanse koninkryksidee vergeestelik en ook Jesus op die transendente vlak laat voortleef het as die hemelse koning.

Volgens Tabor gaan die Nuwe Testament swaar gebuk onder die teologie van Paulus, met die gevolg dat Jakobus grootliks in die skrifte gemarginaliseer word. As voorbeeld hiervan verwys Tabor na Lukas wat swyg oor Jakobus en oor die rol van die familie van Jesus. Wanneer Markus rapporteer dat Maria die moeder van Jesus, sy broers Jakobus en Joses,  sowel as Salome, Jesus se suster by die graf teenwoordig was, skryf Lukas gewoon oor “die vrouens”.

Tabor beskou Jakobus as die sleutel in die rekonstruksie van die persoon en betekenis van Jesus. Jakobus, as hoof van die Jerusalemgemeente en van die vroeë Christendom, was van groter belang as beide Petrus en Paulus. So gesien kom die teosentriese benadering van Jakobus te staan teenoor die christosentriese teologie van Paulus en word die Christendom in ‘n ander rigting gestuur as Jesus self en van die Jerusalemgemeente.

In die navorsing aangaande die historiese Jesus is daar ‘n akademiese oplewing van die idee dat die outentieke teologiese grondslae van die Christendom in die teologie van die Judaïsme van Jakobus, die broer van Jesus, te vind is en nie in die christologie van Paulus nie. In hierdie verband vind Tabor noue aansluiting by John Painter, by Robert Eisenman asook by Hershel Shanks, et alTerselfdertyd is daar ‘n bewuswording dat die Christendom nie eensydig vanuit die christosentriese teologie van Paulus te benader is nie, en dat die teosentriese teologie van Jakobus daarvan verskil. Ook die Christelike Gnostiek wat deur die dogmatiese diktatuur van die Pauliniese teologie “verban” was, vind noue aansluiting by Jakobus.

In die beoordeling van Tabor se “Jesus Dynasty” moet die beginsel van historiese kontinuiteit voorop gestel word. Dit beteken dat die Griekse Nuwe Testament op die verlengde van die Ou Testament lê en dat die teologie van die Nuwe Testament steeds in die lig van die Judaïsme van die Tanak/OT beoordeel moet word.

Die slotsom waartoe Tabor oor Jesus kom, kan nie beter verwoord word as deur Kuitert nie. Hy skryf:
“Dat Jezus het joodse ontwerp van God aanhing, betekent dat hij zichzelf nooit als God-op-aarde heeft gezien.  Christelijke christologie zie ik dus als een terug-naar-God-beweging en christelijke verkondiging als een verkondiging van God. Het brengt Jezus terug waar hij hoort, ... een bijstelling van God, een nadere verheldering van God ...” 

Die vraag is wat die implikasie van Tabor se analise is vir die vorm en inhoud van ons aanbidding?

  • In die eerste plek natuurlik dat dit in die aanbiddingsaksie om God, die HERE met hoofletters gespel, gaan. Ons aanbid God, in die woorde van Paulus, na die voorbeeld van Jesus.
  • Daar moet in die prediking duidelik onderskei word tussen God die HERE (in hoofletters!) en Jesus se Messiaanse rol in God se koninkryksidee vir die volle samelewing.
  • Die wet in die erediens en barmhartigheidsdienste in gemeenteverband moet groot klem kry.
  • Die altaar as simbool moet weer terug gebring word en die preekstoel in ‘n syposisie geplaas word.
  • Aanbidding as transendente aksie vra dat ook bidstiltes, gewyde musiek en meditasie effektief in die erediens ingebou moet word.
  • Die Nagmaal is ‘n maal ter versterking van die gemeenskap van die heiliges tot eer van God, analoog aan die Pasga en nie die simboliese drink van die bloed van Christus nie. Die assosiasie tussen wyn met bloed en die drink daarvan en brood met vlees en die eet daarvan is ‘n heidense gedagte.

Intussen gaan die debat oor die dehellenisering van die Christendom in intensiteit voort. Soveel so, dat die Pous so onlangs as 12 September 2006 in ‘n akademiese lesing hom soos volg uitgelaat het:
“The thesis that the critically purified Greek heritage forms an integral part of Christian faith has been countered by the call for a dehellenization of Christianity – a call which has more and more dominated theological discussions since the beginning of the modern age.”  

As dit wenslik is dat die teologie gedehelleniseer moet word en die christologie van Paulus hervorm moet word, dan het Tabor goed daarin geslaag om belangrike denklyne te trek. Vir diegene wat teologie en mitologie gelyk skakel sal Tabor se werk egter ‘n teleurstelling wees. 

The Life of a Galilean Shaman

Skrywer: 
Pieter F Craffert

Prof Pieter F Craffert
CoD: Dept of New Testament

The Life of a Galilean Shaman: Jesus of Nazareth in Anthropological-Historical Perspective.  2008.
Eugene (OR): Cascade. (Matrix series 3). ISBN 13:978-1-55635-085-6.

 

Book Description:

Historical Jesus research remains trapped in the positivistic historiographical framework from which it emerged more than a hundred and fifty years ago. This is confirmed by the nested assumptions shared by the majority of researchers. These include the idea that a historical figure could not have been like the Gospel portrayals and consequently the Gospels have developed in a linear and layered fashion from the authentic kernels to the elaborated literary constructions as they are known today. The aim of historical Jesus research, therefore, is to identify the authentic material from which the historical figure as a social type underneath the overlay is constructed. Anthropological historiography offers an alternative framework for dealing with Jesus of Nazareth as a social personage fully embedded in a first-century Mediterranean worldview and the Gospels as cultural artifacts related to this figure. The shamanic complex can account for the cultural processes and dynamics related to his social personage. This cross-cultural model represents a religious pattern that refers to a family of features for describing those religious entrepreneurs who, based on regular Altered State of Consciousness experiences, perform a specific set of social functions in their communities. This model accounts for the wide spectrum of the data ascribed to Jesus of Nazareth while it offers a coherent framework for constructing the historical Jesus as a social personage embedded in his worldview. As a Galilean shamanic figure Jesus typically performed healings and exorcisms, he controlled the spirits while he also acted as prophet, teacher and mediator of divine knowledge.

Scholarly reviews:

"In this book, Craffert uses the metaphor of traveling to describe the task he has undertaken. Given the existence of the two prevailing pathways leading into contemporary 'historical Jesus' study, Craffert leaves the century-and-a-half old Schweitzer Street (Schweitzerstrasse) and Wrede Road (Wredebahn) to do some 'bundubashing' (South African: to travel off road through remote and rough terrain) to get to the social personage of Jesus the Galilean. His critique of prevailing historical Jesus study is insightful and incisive, while his description of Jesus as first-century Galilean shaman is masterful and accomplished. His rationale for and realization of a work of anthropological history is quite on the mark, enabling a reader to have an encounter with a first-century, Galilean shamanic Jesus that shouldproduce an appropriate culture shock in those unused to the radically different cultural and social landscape of Mediterranean antiquity." — Bruce J. Malina, Creighton University, Omaha.

Just when it seems that all has been said about the historical Jesus, Pieter Craffert offers a genuine paradigm shift in method and insights growing out of an 'anthropological-historical' perspective. His interpretation of the public figure of Jesus using the social-type of a shaman opens up a new world view and encourages the inclusion of texts, events, and activities usually dismissed from discussions of the historical Jesus. His originality is matched by his meticulous research and the clarity he brings to a complex problem. This is a must-read for anyone interested in the historical Jesus, but especially for those who enjoy a genuinely new approach to an old problem." — William R. Herzog II, Andover Newton Theological School.
 
[This book] has the rare quality that it helps us to think 'otherwise' about the Historical Jesus. We understand persons with the help of some category or model that suggests to us what they were like. The problem with categories used about Jesus is that they are either too distant historically to provide meaning to modern readers, or to modern to help us grasp the disturbing 'otherness' about Jesus. Craffert's use of 'shaman' as a social model for Jesus makes sense of the otherness of Jesus in our own world, and also helps us grasp how the faith of Early Christian communities was very different from most modern forms of Christianity." — Halvor Moxnes, University of Oslo

Craffert's groundbreaking study lifts contemporary historical Jesus research out of frustrating dead ends to move it in a new and richly rewarding direction. According to him, Jesus is best understood as a shamanic figure who lived in first century Galilee. Everything the New Testament reports about Jesus, his teaching and his activities, fits the model of a shamanic complex. This model offers the most culturally plausible interpretation of biblical evidence that others have judged to be purely literary compositions with no basis in reality contrived to teach a 'theological' or 'spiritual' lesson. Craffert's new view of Jesus makes him as intelligible as other universally documented holy persons who have appeared in all cultures throughout the millennia of human existence." — John J. Pilch, Georgetown University, Washington.

Can the sense of reality in one culture (the modern West) really provide an accurate guide for understanding what happened in an alien culture (ancient Mediterranean) in the distant past? Craffert argues persuasively that the answer is no. Judgments about the real, the strange, the odd, the implausible, indeed the historical, are all culturally determined. The net result: Craffert's study raises as sharp a challenge to traditional historical Jesus studies as has come along in a generation." — Richard L. Rohrbaugh, professor emeritus, Lewis and Clark College, Portland.

Pieter Craffert's book is a timely contribution to the debate about Jesus, which deserves to be read widely and pondered by the scholarly community, as it enables a better grasp of Jesus of Nazareth in his historical context. Those who have discussed the political problem posed by Jesus have never taken seriously enough the power wielded by the charismatic, miracle-worker, and seer in an ancient society. The careful exploration of the way in which Pieter Craffert has explored how shamanism might inform the understanding of the Jesus tradition sheds much light on the religion and politics of the Jesus of history which will set future discussion on a firmer historical footing." — Christopher Rowland, Queens College, Oxford.

Publisher webpage:
http://wipfandstock.com/store/The_Life_of_a_Galilean_Shaman_Jesus_of_Nazareth
_in_AnthropologicalHistorical_Perspective

Waar sit jou God? Om buite die kassie oor God te dink

Skrywer: 
Coenie Nolte

Meer as 'n dekade gelede het Annelie Ferreira die boek Die dag toe ons God gevang het: 'n Persoonlike soektog na sin (Kaapstad: Queillerie, 1996) gepubliseer. Die aanleiding tot die skrywe van hierdie boek was die belewenis van erge depressie na die geboorte van haar eerste kind en die herbelewenis van haar pa se dood. Hierdie boek staan in my dagboek aangeteken as die boek wat duidelik getoon het dat Afrikaanssprekendes anders oor God begin dink het na die bewindsoorname van 1994. In die tussentyd het daar 'n hele aantal boeke uit die penne van mans verskyn waarin hulle van veranderinge vertel, maar daar het nog nie weer 'n vrou na vore getree wat so duidelik oor hierdie verskuiwing skryf nie. Maar dit daar gelaat.

Einde verlede jaar stuur Coenie Notle aan my 'n kopie van sy boek Waar sit jou God? (Kaapstad: Griffel, 2008). Tydens die lees daarvan het die ooreenkoms met die boek van Annelie Ferreira my opgeval. Coenie skryf ook na die belewenis van trauma. Sy dogter Anli het op 35jarige ouderdom selfmoord gepleeg en dit het (in Coenie se eie woorde) "die damwal finaal laat breek." Die boek bestaan uit veertien hoofstukke waarin hy die leser deur sy belewenisse en nadenke begelei. Hy stel dit duidelik dat sy wegstap van die tradisionele siening oor God nie beteken dat hy "opgehou glo het dat daar 'n God is nie" (2008:25). Hy kan maar net nie meer met die tradisionele godsbeskouing waarmee meeste AFrikaanssprekende groot geword het, aanvaar nie. Teen die einde van die boek skryf hy: "Miskien is dit nie geloof wat die oplossing is nie, maar die liefde" (2008:132).

Coenie skryf besonder gemaklik en vertel onderhoudend, maar dis nie 'n boek wat 'n mens voor slapenstyd kan lees nie. Miskien is daar lesers wat dit sal kan doen, maar ek kon nie. Ek moes dit helder oordag lees en soms neersit om aan sy stellings en insigte te herkou. Hy het deur 'n handvol goeie literatuur gewerk en haal soms direk daaruit aan. Daar is dan ook 'n lys van geraadpleegde werke aan die einde van die boek - en ook internetbronne!

Na my mening verdien hierdie boek om deur NHNers gelees te word. Coenie gee nie finale antwoorde nie, maar enige oopkop leser wat in godsdiens belangstel, sal die boek waardevol vind.

Sakkie Spangenberg

2009-01-12

Wat sê die Bybel regtig oor...

Skrywer: 
C.B. Powell Bybelskool

Hierdie is 'n reeks boekies wat deur die C.B. Powell Bybelskool uitgegee word met die bedoeling om huidige vraagstukke wat met die Bybel verbind word, op 'n deurdagte en histories-sensitiewe wyse te bespreek. Die volgende titels is beskikbaar: 

Wat sê die Bybel oor... 

  • Geslagsrolle? Deur Pieter Botha 
  • God? Deur Johannes Vorster 
  • Geloofsgenesing? Deur Pieter Craffert 
  • Seks? Deur Johannes Vorster 
  • die Hel? Deur Pieter Craffert 
  • Homoseksualiteit? Deur Pieter Botha 

Wat sê die Bybel regtig oor.... word uitgegee deur die C.B. Powell Bybelskool 

 

Gedigte

Gabriella's Song

 Gabriella’s Song

 

And now I’ll live without fear

For no longer will I feel strained -

As my longing has led me here

To the things that I’ve lost and gained

 

This is now the road that I chose

Feelings are much more than just words

They have brought me really close -

To the heaven I failed to reach

 

Chorus:

For I want to feel that I have lived

My life fulfilled

My desire will shape my life

For I want to feel that I have lived

Free from all pain and strife.

 

I have never lost my true self

I have only found it sleeping

Maybe I did not have a choice

But my will to exist – rejoice

 

Bridge:

To be who I was meant to be is my desire

To turn my night to day;

And to follow my own way;

Mistakenly thought my heaven was somewhere there beyond.

But I found it within myself.

But I found it within myself.

 

I want to feel that I have lived my life!       

 

Geloofsbelydenis van ’n afvallige

Geloofsbelydenis van ’n afvallige.

 
Ek glo in die skeppende God
van die wordende heelal
wie se naam te heilig was
om uit te spreek:
Jahwé, die God van Israel,
wat ’n vader geword het
vir Jesus van Nasaret,
die wonderskone boodskapper
van die onmoontlike liefde,
deur wie God my vader
maar ook my moeder is.
Ek glo in die Heilige Gees
wat mense in alle tye
inspireer tot werke
wat die stempel dra
van die ewige.
Ek glo dat omdat ek lewe
ek aan alle lewendes
sorg en deernis verskuldig is
en ek glo dat as ek sterf
ek opgeneem sal word
in die durende siklus
van vernuwing en verval
en dat die lewe triomfeer
in elke geboortekreet
omdat die lewe magtiger is
as die dood.
 
Lina Spies

Hoekom ek nog hier bly

Die reuk van Hardekool wanneer dit knetter en kraak
in ʼn bosveldvuur met hout gemaak.
Die dans van die vlamme in die Afrika nag
terwyl Hiënas uitbundig om ʼn karkas lag.
Die brand op my hand waar die Haak-en-steek
sy merk gelaat het vroeër die week.
Daardie bok lewer wat lê en wag 
om op ʼn graaf gebraai te word na die jag.

Die klank van die see by Bloubergstrand
wanneer dit ritmies uitspoel op die sand
Tafelberg, statig met sy hoed op.
Die trap van druiwe en die mos se skop.
Die opgewonde stemme op Houtbaai se kaai
as die skuite vol vis lê in die baai.
Trossies Bokkoms en blink snoek wat gaap.
Die gekleurde huisies in die Bo-Kaap.

Die geritsel van die blare teen ʼn styl regop krans
in die Drakensberg as die wind daardeur dans.
Die heilige stemme van ʼn seunskoor
wat jy vroeg in die oggend in die klowe hoor.
Die Basoetoe ruiter op sy perd se rug,
met kombers en hoed en sy hand in die lug
as hy vriendelik groet in die verby gaan,
op pad na sy hut waar tyd stilstaan.

Die “getjie-tjie” van die windpomp se draai
as die wind oor die Karoo vlakte waai.
ʼn Tolbos wat lusteloos rond rol
voor die eerste swaar druppels reën in die stof stol.
ʼn Ou plaashuis met stoepe reg om.
Boeretroos gebrou in ʼn erde kom.
ʼn Skaapstert pikswart in die kole gebrand
saam met potbrood net daar gebak in die sand.

Die reuk van “Railway perskes” terwyl dit stook.
Die saamry geleentheid vir die Uniondale spook.
Die bloed aan my hande as ons bees of skaap slag.
Die gelui van ʼn kerk klok vroeg Sondag.
Die Boerbok se baardjie wat so roer in die wind
ʼn Springhaas se oë in die nag, glinsterend.
Daisy de Melker se ou sink huis
wat ek steeds as ek daar verby ry vir my kinders wys.

Die gate in die teerpad.
Die goue stad, die Goudstad:
Johannesburg met al sy prag en praal,
waar die duiwel snags ronddwaal.
Die stad met ʼn duisend liggies
wat hoop bied aan honger gesiggies.
Die hart, die slagaar, die lewensbloed
van die ekonomie sal jou hier begroet.

Die glimlaggende gesig van die koerant verkoper.
Die Braamfontein spruit se swart “Johannes die doper”
Die Taxi toeters se lawaai
wanneer hulle mense op of aflaai
Soweto se torings vol kleure geverf
en sjebeens waar Kwêla nooit uitsterf.
ʼn Sokker stadion van wêreldklas
wat van buite lyk soos ʼn groot kalbas.

“Mrs Balls” se blatjang en Ouma beskuitjies.
“Enterprise” varkwors en souskluitjies.
“All Gold” tamatiesous, Castle bier.
Om iemand moer toe in my eie taal te stuur.
Klippies en Coke met eish ja, met eish.
ʼn Hoender van Nando’s en begrafnis rys.
Ghost Pops en biltong en rugby kyk.
Melktert en koeksusters en “blou bul steak”.

Hierdie kort gedig
is opgedra aan die wat sug
en elke dag wonder:
Sal ek trek na “Daar doer onder”?
Of wat van Londen, die pommies en die koue
Of New York met al sy hoë geboue?
Vir hulle wat elke dag kla
wil ek net sê: Nkosi Sikelel’ iAfrica!

Ben Engelbrecht

    
  
 

One World

 Chris De Burgh 

I can feel it in my blood, I can hear it in my footsteps,
I can see it all around, that everywhere connections
Are breaking away, and people know that something must change, must change;

There are better men than I, who with courage and conviction
Are patrolling the lines, waking up the sleepers who will not decide,
And do not think there's anything wrong;

But we are all living here in this beautiful world, sharing
Sunrises every day, we may have different lives, but for all of us,
Here we will stay;

We're living in one world, sleeping in one world, dreaming
In one world, and no-one's going anywhere,
We're living in one world, working in one world, breathing in one world,
We're just the same as anyone;

I believe there is a God, but it doesn't mean that my God is greater
Than yours, it only means we all have the right to believe, 'cos nobody
Knows it for sure, for sure; if there's a Heaven or Hell, or a sweet Paradise,
Or a place where we all meet again, 'cos with minimal change
Everyone here is the same;

We're living in one world, sleeping in one world, dreaming
In one world, and no-one's going anywhere,
We're living in one world, working in one world, breathing in
One world, we're just the same as anyone,
We're living in one world, sleeping in one world, dreaming in one world,
And no-one's going anywhere;
We're living in one world, working in one world, breathing in one world,
We're just the same as anyone;

Listen to the voice of millions calling me and you,
Take good care of everywhere 'cos this is my home too,
Laughing in one world, crying in one world, hoping in one world,
Praying in one world, trying in one world, this is my home too,
One world, one world, one world, one world,
One world, one world, one world

Aanbiedings vir kinders

Verandering ten spyte van Determinisme

NHN — Johannesburg Tak

Bybel verwysing: 1 Kor 15:37-38


Wys vir die kinders verskillende prente van plante en gesels oor hulle goeie en slegte punte, bv:

Rose

Sonneblomme

Kaktusse

Kruie

Wortel

So is rose baie mooi blomme (ten spyte van hulle dorings) wat ek in ’n blompot kan sit, terwyl wortels nie so mooi is dat ek hulle in my huis in ’n blompot wil uitstal nie. Tog is wortels weer goed vir my gesondheid — hulle het baie vitamines wat ek inneem wanneer ek dit eet.

Ons kan nie ’n wortel in ’n roos verander of andersom nie. ’n Wortelsaadjie lei tot ’n wortelplantjie wat wortels produseer en so ook ’n roossaadjie lei tot ’n roosplant wat uiteindelik die mooiste rose dra. Hierdie verskynsel noem ons DETERMINISME. Determinisme beteken dat ’n iets vooraf bepaal is nie en nie kan verander nie. ’n Wortelsaadjie is bestem om wortels te produseer en ’n roossaadjie is bestem om mooi rose te dra. Dit kan nie verander nie. Die samestelling van ’n wortelsaadjie kan nie verander nie. (Lees 1 Kor 15:37-38)

So is daar ook van determinisme sprake in my en jou samestelling. Toe jy in jou ma se maag gevorm het, het sekere selletjies/gene bymekaargekom wat jou gevorm het. Hierdie samestelling van selletjies en gene het bepaal hoe jy sal lyk as jy gebore word, asook hoe jou persoonlikheid aanmekaargeweef is.

Vertel vir my van jouself — hoe lyk jy? Hoe lyk jou persoonlikheid? Wat is jou goeie en jou sterk punte?

Verduidelik dan ook hoe elkeen van ons uniek is, en dat uiterlike en innerlike eienskappe reeds in die baarmoeder bepaal is.

Al is ’n plantjie se samestelling vooraf bepaal, kan ons nog steeds sien hoe ’n saadjie kan groei en verander. Die saadjie ontkiem, stoot bo die grond uit, vorm ’n plantjie en dra blomme (soos in die roos se geval). Al is ons samestelling ook vooraf bepaal, kan ons ook groei en verander — innerlik en uiterlik. Ons kan nooit se ons is so gemaak en so laat staan nie.

 

VERANDERING/GROEI is moontlik.

Ek kan verander — innerlik en uiterlik.

Ek kan ook verandering bring vir ander mense en ook vir my omgewing.

Ek kan ’n POSITIEWE VERSKIL maak.

 

Soos Jesus.

 

Dink oor Jesus. Hoe was Jesus? Watter beeld sien jy as jy aan Jesus dink?

Jesus het vir mense kom leer wat ware liefde beteken. Hy het die mense van sy tyd geleer dat dit verkeerd is om mense uit te stoot omdat hulle anders of minderwaardig is. Hy het kom leer dat dit verkeerd is om mense te "label". As mense in daardie tyd die volgende "labels" gedra het, is hulle uit die samelewing verstoot:

  • armes
  • blindes
  • lammes
  • vrouens
  • kinders
  • melaatses
  • mense wat ander gelowe aangehang het (nie-Jode)
  • Ander kultuurgroepe (bv. Samaritane)
  • prostitute

Hierdie mense mag nie deel van die "in-crowd" wees nie — hulle was die "out-crowd".

Jesus wou hierdie mense terugtrek in die "in-crowd" in. Dit het die "in-crowd" baie kwaad gemaak, soveel so dat hulle die lewe vir Jesus baie moeilik gemaak het. Hulle het hom probeer uitvang met moeilike vrae. Uiteindelik het hulle Jesus self uitgestoot en hom doodgemaak. Ten spyte van al die hartseer en pyn wat Jesus verduur het, het sy boodskap en sy optrede vir baie mense hoop gebring en vir hulle hulle menswaardigheid teruggegee. So het Jesus ’n positiewe verskil kom maak en het hy kom wys dat mense nie aan determinisme uitgelewer is nie.

Partykeer het ’n mens juis die moelike tye in jou lewe nodig, sodat jy ’n positiewe verskil kan maak — vir jouself of vir ander. In die moeilike tye van jou lewe, wanneer jy hartseer is of moet deel met dinge wat jou seermaak, leer jy juis maniere (verandering) aan wat jou help om die lewe beter te hanteer.

Kan julle my vertel van kere in julle lewens wat dit swaar met jou gegaan het, en waar jy belangrikke lesse geleer het. Watter lesse het jy geleer wat jou nou in die lewe help — lesse wat jou verander het?

Kan jy my vertel van kere waar jy verandering vir ander mense kon bring?

 

AKTIWITEIT EN HERSIENING:

Ons gaan vanoggend plantjies plant in houertjies wat ons kan saamneem huis toe. Wat dink julle wil ek hê julle moet onthou elke keer as julle die plantjie natgooi en kosgee?

Plante het verandering nodig om te kan groei:

Grond, water en kos.

Elke keer as julle verandering bring in die plantjie se omstandighede (water, kos) sodat die plantjie kan groei, moet julle ook onthou dat julle verandering kan bring in julleself of ook vir ander (Positiewe verskil maak). Ons is nie uitgelewer aan determinisme nie.


Artikels

"Gebore uit die maagd, Maria..."

Hansie Wolmarans

Samevatting


Jesaja 7:13-14 is nie 'n profesie van 'n maagdelike geboorte nie. Die kind wat Immanuel ("God-is-aan-ons-kant") genoem word, is een van Jesaja se eie seuns. Matteus 1:18-25 lê Jesaja uit om in te pas by 'n Grieks-Hellenisties mitologiese raamwerk. Jesus was Maria se buite-egtelike kind, moontlik by 'n Romeinse soldaat, Panthera. Die leerstuk van die maagdelike geboorte berus op 'n foutiewe en negatiewe siening van die vrou se rol in biologiese voortplanting. Dit funksioneer as 'n meestersimbool vir uitgediende patriargale waardes. Jesus word nêrens direk in die Ou Testament voorspel nie. Die teologiese raamwerk van 'n heilsgeskiedenis, berus op 'n onaanvaarbare teologiese determinisme. Die nadele van hierdie visie is dat dit die status quo onkrities legitimeer, of 'n passiewe fatalisme by mense tot gevolg het. Die Nuwe Hervorming wil 'n teologie van verantwoordelikheid vestig om mense betrokke te kry in die kreatiewe dans van die lewe. Daar is iets bevrydends daarin dat 'n buite-egtelike seun van 2000 jaar gelede nog steeds 'n positiewe invloed op mense lewens kan hê.

  • Inleiding: Determinisme

Een van die take van die Nuwe Hervorming, is die ontrafeling van 'n web, 'n patroon van denke, wat oor eeue heen gespin is. Deel hiervan, is die dogma dat God 'n bloudruk het vir hierdie wêreld. Die geskiedenis is besig om volgens hierdie plan uit te speel. Die teologiese woord hiervoor is heilsgeskiedenis , terwyl die filosowe van determinisme— 'n geloof dat God selfs die onheil en teenspoed in my lewe tot my eie beswil oor my laat kom. Die leerstuk van die maagedelike geboorte van Jesus, is deel van die groter leerstuk van die heilsgeskiedenis . Hiervolgens word Jesus in die Ou Testament voorspel, en hierdie voorspellings word in die Nuwe Testament vervul. Daar is nie 'n enkele teks in die Ou Testament wat 'n direkte voorspelling van Jesus is nie.

Vir my as individu het die determinasie perspektief die implikasie dat ek soos 'n klein stukkie van 'n groot legkaart inpas in 'n groter prentjie. Rick Warren se boek, Living a Purpose Driven Life eksploiteer hierdie visie. Ons taak is bloot om God se plan vir ons lewens te ontdek en daarby in te val. Ek sal aantoon dat daar nie só 'n meesterplan is nie. Ons is geroepe om self op 'n positiewe manier aan ons lewens sin te gee.

Hierdie siening dat die geskiedenis vooraf deur God gedetermineer is, kom uit die Bybel self. Ek lees eers Jesaja 7:13-14, en daarna ook Matteus 1:18-25. Eers sal ek gesels oor die geskiedkundige agtergrond van elke teks, kyk na maagdelike geboortes in die kultuur toé, en ten slotte vra wat dit vir ons beteken.

  • Die geboorte van 'n kind

Ongeveer 700 jaar voor Jesus se geboorte, hoor ons (Jes 7:13 -14):

Toe sê Jesaja: "Luister, geslag van Dawid! Is dit nie vir julle genoeg om mense te vermoei nie, dat julle ook my God moet vermoei? Die Here sal daarom self vir julle 'n teken gee: 'n Jong vrou sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem."

So ongeveer 90 jaar ná Jesus se geboorte, skryf Matteus 'n stukkie geskiedenis neer (Mt 1:18 -25):

18 Hier volg nou die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus. Toe sy moeder Maria aan Josef verloof was, nog voordat hullegetroud was, het dit geblyk dat sy swanger was. Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom.

19 Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom voorgeneem om die verlowing stilweg te verbreek.

20 Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het daar 'n engel van die Here in 'n droom aan hom verskyn en gesê: "Josef, seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees.

21 Sy sal 'n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volg van hulle sondes sal verlos."

22 Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word:

23 "Die maagd sal swanger word en 'n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem." Die naam beteken God by ons.

24 Toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het en met haar getrou.

25 Hy het egter nie met haar omgang gehad voordat sy haar Seun in die wêreld gebring het nie. En Josef het Hom Jesus genoem.

  • Uitleg van Jesaja

Om hierdie twee stukkies letterkunde te verstaan, moet ons dit in konteks probeer plaas. Koning Agas van Juda is in die moeilikheid: twee ander konings wil hom aanval (7:1). Jesaja troos hom en sê dit sal nie gebeur nie (7:7). Hy gee hom ook 'n teken ( my parafrase) : "'n Jong vrou is [by haar man] swanger, en gaan binnekort 'n seun in die wêreld bring. Sy moet hom God-is-Aan-Ons-Kant noem" ( 7:14 ). Jesaja beloof verder dat, vóór hierdie seuntjie verstand kry, die twee konings se lande verwoes sal lê ( 7:15 ). Hy praat dus glad nie oor iets wat 700 jaar later gaan gebeur nie, maar binnekort.

Wie is hierdie jong vrou en haar seun? In 7:3 wys Jesaja sy seun, Sear-Jesub ("'n-Bietjie-sal-Terugkeer") vir Agas, as 'n teken dat dinge goed sal afloop—daar sal 'n klompie Jode uit die ballingskap terugkom. In 8:3 gee Jesaja 'n ander seun van hom die naam "Plunder-en-Roof-is-Naby." Dit is 'n teken dat Agas se vyande geplunder gaan word. In die volgende hoofstuk, 8:18 , sê Jesaja dat hy en sy kinders "lewende getuies" is dat die Here hulle gaan help. Heelwaarskynlik praat Jesaja dus van een van sy eie kinders wat "Immanuel" of "God-is-Aan-Ons-Kant" genoem is. Daar is ook geleerdes wat dink koning Agas se vrou swanger was. Jesaja moedig hom dan aan om sy kind die naam "Immanuel" te gee, "God-is-aan-ons-kant."

Die historiese perspektief van ons profeet is dié van determinisme. God in die kosmos se boonste verdieping, is besig om die geskiedenis soos 'n stuk materiaal op 'n weefmasjien uit te weef. Jesaja, as profeet, het insig in wat gaan gebeur; hy het 'n telefoonlyn boontoe. Wanneer die oorlogswolke saampak, gee Jesaja vir hulle hoop. Sy eie of dalk die koning se kind kry 'n simboliese naam: God baklei aan hulle kant.

  • Uitleg van Matteus

Matteus skryf, soos Jesaja, teen die agtergrond van 'n kosmos met drie verdiepings. Wat hier op aarde gebeur, is die resultaat van dinge wat deur God gedetermineer is. Nou is dit 'n engel in 'n droom wat Josef se internetkonneksie boontoe is. Matteus vertel dat Josef "verloof" was. Dit is natuurlik nie korrek vertaal nie. In dié tyd was daar nie 'n onderskeid tussen "verloof" en "trou" nie. 'n Dogter, sodra sy begin menstrueer, is aan 'n man gegee as sy vrou. Die verhouding het dan ontwikkel totdat hulle uiteindelik sou seks hê. Hier staan bloot dat hulle getroud was, maar nog nie seks gehad het nie. Dit blyk toe dat Maria swanger was. Vir Matteus is hierdie swangerskap van die Heilige Gees afkomstig. Hy verander aan die Jesaja teks om hier uit te kom. 'n Jong vrou wat swanger is (teenwoordige tyd), is nou 'n maagd wat sal swanger word (toekomstige tyd). Die naam Immanuel het nou te doen met verlossing van sonde, en nie met aan wie se kant God is in die oorlog nie. Skraap ons hierdie mitologiese raamwerk, kan mens tot geen ander gevolgtrekking kom as dat Jesus buite die eg gebore is nie.

Die tradisie dat Jesus 'n buite-egtelike kind was, is baie oud. Om die waarheid te sê, dit kom in die Bybel self voor. Die oudste Evangelie, Markus, wat so ongeveer 85 n.C. geskryf is, het glad nie die verhaal van die maagdelike geboorte nie. Markus 6 vertel dat Jesus eenkeer na sy geboortedorp teruggekeer het. Op die sabbat het hy in die sinagoge gepreek. Toe sê die mense (6:3): "Is hy dan nie die timmerman, 'N SEUN VAN MARIA en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie? En is dit dan nie sy susters wat hier by ons woon nie?"

Hierdie versie spreek boekdele. 'n Kind se afkoms is altyd van vaderskant aangedui, behalwe waar die kind buite-egtelik was; dan is dit van moederskant af gedoen. Volgens buitebybelse tradisies het Maria 'n verhouding met 'n Romeinse soldaat gehad. In ongeveer 178 n.C. skryf Celsus (sy geskrifte is verbrand; ons ken hom net uit Contra Celsum , Origines se verweer), dat Jesus se pa 'n Romeinse soldaat, Panthera, was. In die Joodse Talmud word daar na "Jesus, die seun van Panthera" verwys. Palestina is deur Romeinse soldate beset rondom ons Christelike jaartelling. In die Rynland, Duitsland, is 'n grafskrif gevind waar 'n Romeinse soldaat en boogskutter, Panthera, begrawe is, nadat hy in Palestina diens gedoen het en toe in 9 n.C. oorgeplaas is. Dit is moontlik dat hy die biologiese pa van Jesus wat gebore is kort nadat Maria begin menstrueer het, waarskynlik op 12/13-jarige ouderdom. Oor die aard van die verhouding tussen Panthera en Maria sou mens net kon spekuleer—verkragting is nie uitgesluit nie.

Andries van Aarde het 'n boek geskryf, Fatherless in Galilee waarin hy aantoon hoe Jesus se hele siening van God as vader ontwikkel het, omdat hy deur sy gemeenskap 'n aardse vader ontsê is; dit was Jesus se meganisme om sy omstandighede te hanteer.

  • Maagdelike Geboortes in die Ou Tyd

Ons moet verstaan dat maagdelike geboortes nie onbekend was in daardie tyd nie. Per definisie was 'n held, soos byvoorbeeld Herakles, se pa 'n god, en sy ma 'n aardse maagd. Spore hiervan is in die Ou Testament. Genesis 6:1-4 vertel:

"Toe die mense baie begin word het op die aarde en daar vir hulle dogters gebore is, 2 het die hemelwesens [=gode] gesien die dogters van die mense is mooi en het hulle getrou [eufemisme] met die dogters van hulle keuse. … 4 In daardie tyd was daar reuse op die aarde, en ook daarna wanneer die hemelwesens [=gode] na die dogters van die mense toe gekom en kinders by hulle gehad het. Hulle was die sterk mense van die ou tyd, die manne van naam."

Oor talle belangrike mense is die verhaal versprei dat hulle pa 'n god was, byvoorbeeld die filosoof Plato en Alexander die Grote. Hierdie siening, om iemand se belang ná die tyd terug te verklaar as dit dit op goddelike genetiese materiaal berus, het ontstaan omdat mense nie mooi verstaan het hoe voortplanting werk nie. Die vrou se funksie is gesien as dié van 'n blompot. Die enigste bydrae van die vrou in die proses is om 'n houer of 'n veld te verskaf waarin die manlike saad kan groei (Aristoteles Generatio Animalium 1.728a). Die digter, Aeschylus skryf in sy werk, die Eumenides dat die ma slegs die saadjie wat geplant is, voed. Die ware ouer is die een wat die saadjie plant.

Hierdie siening het 'n invloed op sedes gehad. Mans kon maar rondloop om hulle genetiese materiaal te versprei. Vroue moes kuis bly, sodat haar kinders die man se genetiese samestelling kon voortdra. Die huweliksmoraliteit het ontwikkel rondom sake soos erfreg en die konsentrasie en behoud van produksiemiddele binne 'n familie.

Gevolglik berus die maagdelike geboorte storie op 'n uiters negatiewe siening van die vrou. Dit is onmoontlik om 'n storie voor te stel dat 'n aardse man 'n hemelse godin bevrug om 'n heldin in die wêreld te bring. Maria is passief in Matteus se verhaal — die storie is niks anders as 'n verkragting deur 'n bo-natuurlike manlike krag nie. Alle inligting in die storie word aan Josef gekommunikeer. God tree hier op soos 'n feudale landheer wat die ius primae noctis , die reg van die eerste nag, uitoefen. Die landheer het die reg gehad om, wanneer een van sy onderdane trou, die eerste kind by haar te verwek. Hier eis die kosmiese landheer hierdie reg op, en, soos reglose bywoners, moet Josef en Maria dankbaar daarby inval. Om hierdie verhaal in verband te bring met kloning en dat 'n maagdelike geboorte in hierdie konteks verstaan moet word, is om die hele aangeleentheid verkeerd te verstaan. Daar is gevolglik geen plek meer in 'n moderne teologie vir die leerstuk van Jesus se maagedelike geboorte nie.

  • Slot: 'n Teologie van Verantwoordelikheid

Daar is vir my talle nadele daaraan om die geskiedenis in 'n raamwerk van determinisme te beleef:

  • Dit gee die wat mag het 'n rede om nie te verander nie. In die ou Suid-Afrika is Romeine 13 ("…en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God.") gebruik om die apartheidsregime te stut. Gekoppel met die mite dat God Afrikaanse mense in Suid-Afrika geplant het om 'n nasie te wees en tot aan die einde blank en dominant te bly, en die lig van die evangelie te versprei, het oneindige leed en ellende tot gevolg gehad. Die opvatting dat daar 'n "skeppingsorde" is wat die rolmodellering van mans en vroue in die huwelik bepaal, kinders se plekke vaslê in blindelingse onderdanigheid, is gif vir ons samelewing. Dit is een van die vernaamste oorsake van geweld teenoor vroue en kinders in ons land. Dit bring ons by die tweede nadeel:
  • Johnny Steinberg skryf in Business Day van 15 November 2004 :

    "But what a strange journey white supremacism has travelled. It has no voice in public discourse. It has no political party and no newspaper. Instead, it has migrated, fully intact and unscathed, deep into private life. Robbed of a public platform, it has not died, but mutated into a new attitude one of resignation, fatalism, depression. It has become, above all, an ideology of dispiritedness."

'n Deterministiese siening van die geskiedenis maak mense fatilisties en passief om dinge maar net gelate te aanvaar as komende uit Gods hand. Ons behoort dinge soos moraliteit, reg en geregtigheid, in berekening te bring wanneer ons praat oor sake soos regstellende aksie en misdaad. Ek dink dat hierdie opvatting die rede is waarom Afrikaanse mense oor die algemeen apaties geword het in die nuwe Suid-Afrika; ons raak nie betrokke by dinge soos die Gemeenskaps Polisiërings Forum of partypolitiek nie. Een van die belangrike take van die Nuwe Hervorming Netwerk is om 'n teologie van menslike verantwoordelikheid te ontwikkel. Ons reglement verklaar: " Ons visualiseer 'n nuwe era waar inligting vrylik kan vloei sonder vrees vir verkettering, marginalisering, of vervolging. Elke mens, man, vrou of kind, behoort in staat te wees om in nuwe verhoudings tot hulleself, hulle omgewing en God te kan leef om die beste te kan wees waartoe hulle in staat is."

As ons immanent, dit wil sê, sonder verwysing na 'n derde kosmiese verdieping, kyk na oorsake en gevolge, kan dit bevrydende effekte hê. Ons kan verstaan hoe oorerwing en omgewing ons gedrag bepaal. Maar ons kan ook ons uniekheid en eiewaarde besef. Ons hoef nie dinge gelate te aanvaar nie; ons kan 'n verskil maak.

Daar is vir my iets bevrydends en positief daarin dat 'n buite-egtelike seun van 2000 jaar gelede, Jesus van Nasaret, my rolmodel is. Dit is soos ons huishulp wie se matriekdogter 'n ruk terug deur 'n bende van tien verkrag is. Nog steeds kry die kinders in haar familie name soos Hope , Grace , Beauty , en Freedom— 'n naamgewende verwagting dat ons en ons kinders dinge kan verander; ons is nie uitgelewer aan magte waaroor ons geen beheer het nie.

Ek lees eenkeer van 'n man wat een oggend vroeg op die strand gestap het. Langs die see het duisende seesterre gelê wat deur die gety uitgespoel is. In die opkomende son sien hy 'n silhoette van 'n dansende figuur. Soos hy nader stap, sien hy dis 'n man wat die seesterre optel en een vir een in die see teruggooi. Toe hy naby kom, vra hy die ou wat hy doen. "Ek gee hierdie seesterre 'n tweede kans . Hulle kan nie hier in die son oorleef nie." "Maar daar is duisende op die strand! Hoe kan jy 'n verskil maak?" "Wel" sê hy, terwyl hy optel en een teruggooi, "ek het 'n verskil vir hierdie een gemaak." Die ou het gebuk en saam met die man seesterre begin teruggooi.

'n Nuwe Hervorming perspektief op Kersfees is dat ons betrokke sal raak by die kreatiewe dans van die lewe. Ons is nie langer passiewe toeskouers nie, maar akteurs.


'n Eietydse Getuienis van Iemand wat in die Gereformeerde Tradisie grootgeword het

 

Ek glo aan 'n Ewige, Onbegryplike Wese wat:
    Op misterieuse wyse die heelal met 'n oerknal laat ontstaan het en die natuurwette hulle gang laat gaan;
    Aan ons as mense 'n vryheid van keuse gegee het;
    Daarom nie inmeng in ons daaglikse lewens nie en  ons verantwoordelik maak vir die gevolge van ons eie keuses;
    Mense  toelaat om vir goed en teen kwaad te kies;
    Nie 'n perfekte heelal geskep het nie;
    Mense gebruik om medemense te help in tye van nood en rampe;

Ek glo aan 'n algemene religieuse sentrum in die mens se bewussyn en dat  mense 'n behoefte het  aan nadenke (meditasie)  oor die Misterie van die Lewe;

Ek glo dat Jesus van Nasaret 'n besondere mens was en dat Hy vir ons wysheidspreuke, verhale en gelykenisse nagelaat het wat navolgenswaardig is;

Ek ervaar die Bybel as 'n wysheidsgeskrif wat deur geïnspireerde en begenadigde mense geskryf is in antwoord op 'n diepgesetelde religieuse behoefte, maar dat dit al die swakhede van mense en instellings wat dit redaksioneel versorg het,  weerspieël;

Ek aanvaar dat die Ekumeniese Belydenisse, die Nederlandse Geloofsbelydenis,  die Heidelbergse Kategismus en die Dordste Leerreëls belangrike historiese dokumente is, en deel is van die gereformeerde tradisie, maar gebonde is aan 'n werklikheidsiening wat tans nie meer aanvaar word nie;

Ek gebruik die moderne natuurwetenskaplike wêreldbeeld om sin te maak uit die kosmos en die Groot Gedagte, want dis die beste wat ons het;

Ek bely my menslikheid en vier  die lewe met vreugde;

Ek ween oor 'n gebroke wêreld vol geweld wat nie vir armes sorg nie, kinders,  ou mense en die omgewing verwaarloos;

Ek glo aan 'n ewigheid wat op Onbegryplike Wyse aan die kosmos geskenk is.

'n Lidmaat tob oor die kerk en verandering

Cilliers Willers van Pretoria skryf soos volg:
 

Die huidige geslag het baie verandering beleef. Sedert die wêreldoorloë het baie nuwe invloede oor die wêreld gespoel - atoomkrag, ruimteverkenning, en kommunikasienetwerke. Ons maak reeds gebruik van vervoer wat ons blitsig oor die wêreld neem, en van media wat inligting op ons vingerpunte plaas. Die aardbol het skielik gekrimp tot 'n "global village". Ons verwelkom tegnologie wat sonder groot drama vreemde weefsel wegskroei en selfs nuwe liggaamsdele kweek! Tegnologie is onontbeerlik deel van ons toekoms.

Ons veilige en bekende geloofswêreld is egter telkens in die afgelope dekades geskud met elke nuwe tree van die tegnologie en wetenskap. Mense skop maklik vas te midde van voortdurende verandering - té vloeibare grense laat ons onveilig voel.

Ons gebruik soms die kerk as bastion teen verandering. Die aard van die kerk as God se volk is egter dat sy voortdurend herskep word. 'n Kerk wat vreemd geword het aan haar leefwêreld kan moeilik God se opdrag uitvoer. Daarom moet ons bly reformeer – as ons net in voeling kan kom met die "nuwe wêreld".

Die postmoderne mens oorskry in sy denke lank reeds die beperkings van tyd en plek. Die kerk se mure is lank reeds "deursigtig". Ons kan die geleenthede van die nuwe wêreld daardeur sien, soos die mense daarbuite ook die statiese prentjie hierbinne sien.

'n Hele nuwe geslag mense (die millenials ) word vanselfsprekend groot met die elektroniese media wat hulle in aanraking bring met mense in lande waarvan hulle ouers nog nie eens gehoor het nie. Die taal wat hulle praat is dié van 'n virtuele speletjieswêreld, met verbeeldingsvlugte en nuwe ontdekkings.

Wat bied die kerk aan die nuwe geslag? God praat met die mens in die taal van sy tyd, in konteks. Ons moet skeppend dink en die beproefde waarhede van ons belydenis in die nuwe idioom leer verstaanbaar maak. En gereed wees om dit daarna weer aan te pas! dit alles terwyl ons steeds aan ouer lidmate 'n tuiste bied.

Die paradigma (denkmodel) van die kerk moet weer een word van vorentoe kyk, buite die mure. Soos die man van Macedonië wat wink op die ander kontinent, wag daar vandag ook sendingreise na nuwe wêrelde. In die 21ste eeu, met al sy opwinding en uitdagings, het die siniese en hooplose mense juis die boodskap van verlossing deur Christus so nodig,. in hulle eie taal en idioom.

Die tekens van nuwe denke is reeds daar. Ons lees reeds die weeklikse omgeegroeples op 'n webblad, of ons nou in Pretoria, Londen of Brisbane is. Ons kinders sing die musiek van Christene vanoor die wêreld omdat hulle daarby aanklank vind en dit vir hulle God nóú werklikheid maak. Kan die kerk betyds en voortdurend transformeer vir die nuwe wëreld? Ware kerkwees praat toekomstaal en druk haarself nie in die verlede tyd uit nie.

Die paradoks is dat die kerk 'n hart het vir lidmate wat vrae stel oor verandering én dat die kerk se standpunte kan verander. Die kerk hanteer ongemaklikheid oor nuwe dinge met deernis én die kerk begelei lidmate tot 'n egte geloofsuitlewing te midde van verandering.

Jesus, die Waarheid en die Lewe, het radikale verandering gebring in Sy leefwêreld. Daarom is die Gees nou binne ons, in ons reis na die vreemde wêreld van more. Kan die kerk 'n slag die gemeenskap lei in sy reis, om die nuwe wêrelde vreesloos te betree?

 

Alles is voorlopig

Postmodernisme deur Frances Klopper, Dept Ou Testament, Unisa

Ek het onlangs die volgende 'grappie' per e-pos ontvang en soos die meeste goeie humor, lewer dit eintlik kommentaar op dood-ernstige sake. Dit lui soos volg:

Verlede maand is 'n wêreldwye opname by die Verenigde Nasies onderneem. 
Net een vraag is gevra: "Gee asseblief u eerlike opinie oor oplossings vir die voedseltekort in die res van die wêreld". 
Die opname was 'n groot mislukking: 
    In Afrika het hulle nie geweet wat "voedsel" beteken nie... 
    In Wes-Europa het hulle nie geweet wat "tekort" beteken nie... 
    In Oos-Europa het hulle nie geweet wat "eerlik" beteken nie... 
    In China het hulle nie geweet wat "opinie" beteken nie... 
    In die Midde-Ooste het hulle nie geweet wat "oplossing" beteken nie... 
    In Suid-Amerika het hulle nie geweet wat "asseblief" beteken nie... 
    In die VSA het hulle nie geweet wat "die res van die wêreld" beteken nie.

Die 'grap' kan op meer as een vlak gelees word. Die voor die handliggende is dat die stellings oor elke land die omstandighede of politieke denke/ideologie van daardie land spottenderwys verklap, maar dat elkeen inderwaarheid 'n tragedie in die kleine is en daarom 'n aantyging, omdat dit verhoed dat 'n groter menslike probleem opgelos word.

Die feit bly staan dat mense en kulture verskillend dink en verstaan omdat hulle uit verskillende agtergronde en tradisies kom. Dit is een van die drie pilare van die postmodernisme , die denkstroming waarin ons staan en wat onderliggend is aan die twyfelvrae en die behoefte aan gesprek oor geloofskwessies wat die afgelope tyd deur gelowiges uitgespreek word.

Postmodernisme is egter 'n woord wat dikwels onnadenkend en buite konteks gebruik word en almal is nie altyd duidelik oor waar dit vandaan kom en wat daarmee bedoel word nie. Ek wil die konsep deur die oë van 'n vrou, met die belange van die vrou voorop, van nader beskou. Dit wil ek doen na aanleiding van die kriteria waarvolgens die Gereformeerde Kerke (GKSA), volgens prof Amie van Wyk ( Beeld, 27 Januarie 2003), die veelbesproke besluit oor die vrou in die amp op hulle afgelope sinode geneem het. Hulle primêre kriterium sê hy, was dat die sinodebesluite op die Bybel en die belydenisskrifte gebaseer moes wees (vgl ook prof Callie Coetzee, Beeld 24 Maart 2003). Daar is toe besluit dat vroue tot die diakensamp toegelaat mag word, maar om te preek druis in teen 1 Kor 12:14, so die kansel is hulle nie beskore nie. Dié besluit impliseer dat die Bybel altydgeldende riglyne bevat oor die vrou se posisie in die kerk totdat 'n teksvers gevind kan word wat die teendeel bewys.

Hieroor plaas die postmodernistiese denkgees 'n vraagteken. 

Wat is postmodernisme?

Iemand het op 'n keer gesê: No one can check the advance of an idea whose time has come. It is as though some concept of the way the world is or might be, seizes the imagination of millions of people and changes the way they think, so that afterwards nothing can ever be as it was before. So is dit met die postmodernisme. Die postmoderne gees het gearriveer as ' an idea whose time has come '. Dit deurdring reeds bewustelik of onbewustelik die meeste van ons se denke. Dit is 'n denkstroming wat nie losgedink kan word van die denkstrominge wat dit voorafgaan nie, naamlik premodernisme en modernisme.

Premoderne denke verwys na die periode vóór die Hervorming toe die kerk op outokratiese wyse die norme vir reg en verkeerd voorgeskryf het. Die uitsprake van die Inkwisisie en die hekse-verbranding in Europa en Amerika gedurende die 16e en 17e eeu getuig hiervan. Dit was 'n tyd voordat die wetenskap die wêreld verander het, toe bygeloof hoogty gevier en bose geeste en duiwels die mensdom geteister het. Met Luther se uitdaging van die kerklike gesag in die 16e eeu en Kopernikus se beroemde stelling dat die son die middelpunt van die heelal vorm, en nie die aarde soos die kerk volgens Josua 10 geglo het nie, het die kerk se outoriteit begin verkrummel en het die periode tot 'n einde gekom. Maar denke kan nie in tydvakke vasgevat word nie. Premodernistiese denke kom vandag steeds voor.

Modernisme het geleidelik tot stand gekom vanaf die Verligting in die 16e eeu en die Franse Rewolusie van die 18e eeu tot waar ons vandag staan. Die doel daarvan was/is om deur middel van die wetenskap en tegnologie die mensdom te bevry van outoriteit en alle beperkende grense. Hierin het die modernisme jammerlik gefaal, want deur die prestasies van die wetenskap is nuwe outoritêre norme geskep. Onder meer is die wit, middelklas, manlike, Westerse kultuur tot die norm verhef en in die sentrum van die beskawing geplaas. Grense is daarom getrek wat 'ons' van die 'ander' skei op grond van geslag, ras, kleur en nasionaliteit. Die gevolg is dat die 'ander' na die rand uitgeskuif is en hulle stemme stil gemaak is. In Suid-Afrika is hierdie situasie in terme van die vrou, gay persone en gekleurde mense van die kansel uit die Bybel gesanksioneer. Dit gebeur nog steeds en sê vir ons iets van die onaantasbare status van die Bybel.

Postmodernisme is 'n denkrigting wat absolute kennis en onaantasbare sekerhede - dit wat as vanselfsprekend vir alle tye aanvaar word - bevraagteken, terwyl dit bewus bly van die voorlopigheid van die antwoorde wat dit bied. Dit ontken nie dat daar singewende norme, prioriteite, waardes en beginsels in die lewe is en moet wees nie. Postmodernisme sê net dat dit nie opsigself vir ewig en altyd bestaan nie, maar dat dit menslike skeppings is - opgestel vir 'n spesifieke plek, tyd en omstandighede. Daarom is dit nie finaal nie maar kan met veranderende omstandighede gewysig word of uitgedien raak om plek te maak vir nuwe denke. Die waarheidsaanspraak van die norme en waardes wat ons lewens rig, kom dus onder verdenking. 

Wat van die posisie van die vrou?

Die feministiese beweging is by uitstek 'n postmodernistiese beweging. Vroue behoort tot die grensgroepering, die 'ander' wat deur die modernisme na die grens uitgeskuif is. Amptelik is die kansels van die NG Kerk in 1990 en die Hervormde Kerk reeds vroeër, vir vroue-predikante oopgestel, maar 'n 'glasplafon' bly nog steeds stewig vir hulle in plek. Hiertoe dra die Bybel by want in 'n oorwegend Christelike land soos ons s'n waarin die Bybel onaantasbare gesag het, bepaal dit nog grootliks hoe vroue hulleself na waarde ag en hoe mans vroue na waarde ag.

Die postmoderne vrou onderskryf drie oorvleuelende kenmerke van die postmoderne gees. 

  • Respek vir tradisie
    Postmodernisme heg waarde aan tradisie , want ons geskiedenis, hetsy van ons geslag, ons geloof of ons ras, bepaal ons denke en die manier waarop ons na die wêreld kyk (vgl die 'grap' hierbo). Die Bybel is onteenseglik deel van die christelike tradisie en christene rig hulle lewens daarvolgens. Hiervoor het postmoderne vroue-teoloë groot respek, maar hulle ontmasker die Bybel as 'n boek wat millennia gelede deur mans in 'n patriargale kultuur met 'n manlike agenda geskryf is. In 'n tyd van die bevryding van die vrou, geld die bybelse patriargale tradisies eenvoudig nie meer nie.

    Vroue-teoloë lees 'teen die grein' van die manlike teks en vertel die verhale van gemarginaliseerde, naamlose vroue soos Lot en Job se vrou en Jefta se dogter oor wie die manlike skrywers swyg. Of 'slegte' karakters soos Isébel en Eva word die geleentheid gegee om hulle kant van die storie in die konteks van die tyd te vertel. Hulle wys daarop dat die manlike beeldspraak wat in die Bybel vir God gebruik word (vader, koning, regter, herder, kryger) nie meer vandag tot vroue spreek nie. Dit dra inderwaarheid by tot die dominasie en onderdrukking van vroue in die kerk en samelewing, want as God 'n man is, is mans meer soos God as vroue. Hulle werk ook met tekste wat na God as 'n moeder verwys en het geen probleem om God as moeder aan te spreek nie omdat 'n Moedergod vir hulle die hart van 'n vrou beter verstaan.

    As die bybelse uitsprake oor die vrou as onbetwisbare tydlose waarhede aanvaar word, word die Bybel 'n magtige en gevaarlike wapen wat bydra tot die minagting van vroue en hulle liggame waarvan daagliks in die koerante berig word. Gesien as 'n tyd- en kultuurgebonde boek, spreek die Bybel se boodskap méér tot vroue in ons leefwêreld.

  • 'n Respek vir die verskille tussen mense
    Postmodernisme erken dat ons in 'n pluralistiese wêreld saam met 'n verskeidenheid van mense en groepe leef wat anders as ons glo en dink. Nie een het die monopolie op die waarheid nie. Waarheid kan hoogstens 'die waarheid vir my' wees. Postmoderne vroue bevraagteken die voorskriftelikheid wat met modernistiese denke saamgaan. Manlik is nie die norm nie; heteroseksualiteit ook nie; ook nie 'n wit vel of selfs die Christelike geloof nie. Dit kan alles vanuit my tradisie 'vir my' die norm wees, maar as ek dit as die enigste waarheid gebruik om die ander uit te sluit en te benadeel, moet ek my norme herbedink.

    Natuurlik is daar verskille tussen mans en vroue. Vanuit hulle tradisie as vrou, doen vroue dinge anders as mans. Postmoderne vroue het nie meer 'n behoefte om soos mans te wees nie. Vroue-predikante het 'n ander preekstyl en 'n ander fokus en sal kerkraadsvergaderings op 'n ander manier hanteer as hulle manlike kollegas. Hulle wil in hulle andersheid dieselfde agting en respek geniet en in vennootskap met hulle manlike eweknieë saamwerk

  • Oorheersing word verwerp
    Postmodernisme verwerp enige vorm van oorheersing. Dit hang saam met die bevraagtekening van absolutes, want sodra iets absolute status verkry, verkry dit mag. Selfs 'onskuldige' begrippe soos liefde en goedheid en skoonheid kan, as dit tot norm verhef word, kragtige instrumente word om mee te manipuleer en domineer. Daarom word 'blonde' grappies en die blootstelling van die vroulike liggaam vir advertensie-doeleindes nie deur vroue waardeer nie. 'n Vrou is haar liggaam. Om dit te verkleineer, te bemark of geweld aan te doen, ontneem die waardigheid van haar wese.

    Taal is inherent magtig en polities en kerktaal is tradisioneel manlik. Vir baie jare het vroue lustig Gesang 258 gesing: 'Wees manlik sterk en moedig'! Om byvoorbeeld in plaas van om na God as 'hy' te verwys, is dit nie grammatikaal verkeerd om die woord 'God' te herhaal nie: 'God versorg God se kinders'. Die voornaamwoord 'hy'sluit die vrou uit. Predikante behoort uit respek vir die meer as 50% vrouelidmate in die kerkbanke, deurgaans die insluitende 'hy/sy' te gebruik - anders word die dominering van vroue in die kerk subtiel voortgesit.

Finale waarheid?

Wat alles hier gesê is, is natuurlik ook nie finaal of die waarheid nie. Ek skryf as 'n vrou uit die postmoderne era. Wie weet wat toekomstige denke gaan oplewer? Een ding lyk egter op hierdie moment in die geskiedenis seker en dit is dat die kerk nóu vars denke nodig het ... wat ons netsowel 'n Nuwe Hervorming kan noem.

Bybelvertaling en homoseksualiteit

deur Pieter Botha

Daar was onlangs 'n polemiek oor die woorde "mense wat homoseksualiteit beoefen" in 1 Korintiërs 6:9 in die Nuwe Afrikaanse Vertaling. Die ou vertaling het verwys na "sodomiete", en dit alleen laat mens al wonder wat gaan eintlik aan in dié teks. Die probleemwoord is arsenokoites.

Die uitdaging is nie om vertalingsekwivalente vir enkele woorde te vind nie, maar om die betekenis van 'n uitspraak te bepaal. Die verskil is sigbaar in die volgende: "die Bokke loop deur" se woordelikse vertalingsekwivalent is "the Antelopes walk through". Met behulp van historiese kennis, en volgens die beginsels van taalkunde is die betekenis van my voorbeeld: "The South African national rugby team is heavily criticised".  Met verwysing na 1 Kor. 6:9 is die manier waarvolgens mense wat die Griekse woord "arsenokoites" in Afrikaans oorsit as "homoseksueel" soos om te sê die woord "luiperd" bestaan uit "lui" (=lazy)  en "perd" (=horse) daarom is luiperd gelyk aan "lazy horse". Daar is baie bronne wat mens kan raadpleeg oor eerste-eeuse Grieks, maar mens moet darem die reëls (of die gebrek daaraan) waarvolgens die bron werk, verstaan alvorens mens beweer geleerdheid is aan jou kant.

Historiese situasie is 'n uiters belangrike toetssteen. As iemand vorendag kom met 'n vertaling van 'n Griekse teks waarin Paulus die subatomiese struktuur van uraan bespreek sal ons almal weet dit is 'n vervalsing (en uraan het destyds bestaan). Daar was nie eers destyds woorde vir sulke verskynsels nie, en nog minder kennis of begrip van sulke konsepte. Net so is daar nie eerste-eeuse woorde vir kieme, bakterie, elektrisiteit, epilepsie, vroueregte, die menslike eiersel en nog baie ander nie.  Destydse mense het oor dinge gepraat binne hulle ervaringswêreld met waardes en insigte wat anders is as ons s'n. Die woord "homoseksueel" wat beteken iemand het 'n sekere seksuele orientasie, het nie voor die negentiende eeu bestaan nie. Voordat moderne idees oor identiteit en orientasie ontwikkel het, was die kwessie anale seks (en die kerk was teen alle anale seks, selfs die tussen 'n getroude man en vrou). Vandag weet ons dat iemand se seksuele identiteit lank voor jou eerste seksuele daad reeds vas gelê is, en dat jou orientasie 'n werklikheid is selfs al het jy nooit enige seks in jou hele lewe nie. Die antieke wêreld het nie van seksuele oriëntasie gepraat nie en identiteit was iets wat statusryke mans aan ander toegeken het.  Ons moet vir geen oomblik vergeet dat dit destyds 'n ander wêreld was nie, met ander idees, vreemde sosiale waardes en 'n antieke wêreldbeeld.

Niemand betwis dat Paulus dit teen sommige mense en dade het nie, of dat hy sekere vorme van homoerotiek afkeur nie. Maar om Paulus se woorde te veralgemeen tot 'n beginsel wat alle homoerotiese gedrag beskrywe, is om die verskil tussen vertalingsekwivalent en betekenis te minag. Die waardevolle vraag is nie of hy my of jou voorkeure ondersteun nie, maar wat beteken sy uitsprake. Die "sagtes" (die malakoi) in 1 Kor 6.9, gegewe die konteks (onsedelikes, afgodsdienaars, egbrekers), het te doen met begeerte en gebrek aan selfbeheersing, en 'n vertaling van "wellustiges" is meer getrou.  Die vertaling van arsenokoites is 'n berugte probleem; onder meer omdat niemand dié woord voor Paulus gebruik het nie. Ná Paulus se tyd is die woord gebruik vir 'n invloedryke man wat 'n seun/jongman aanhou as beminde. Uitsprake soortgelyk aan Paulus s'n verbind geweldadige, hubristiese liefde vir seuns met owerspel, diefstal en gierigheid.  Paulus het 'n homoerotiese verhouding wat 'n jongman uitbuit in gedagte, waar gesag en status in 'n ouer man-jonger man verhouding misbruik word. Dit is juis deur sulke onderskeidinge, sulke aspekte van  betekenis, wat mens bewus word dat die kwaliteit van 'n verhouding veel belangriker is as die vraag of dit 'n huwelik is tussen 'n man en 'n vrou.

Ten slotte is dit belangrik om die aandag daarop te vestig dat daar ten opsigte van seksuele gedrag letterlik honderde ander opdragte en veroordelings in die Bybel is wat verdraai, afgewater of sommer net geïgnoreer word, sonder dat daar aangedui word hoekom die sogenaamde homoseksuele voorskrifte kwansuis behou moet word.

DIE MINDERWAARDIGE VROU

Japie Coetze,
Stellenbosch

In sy lywige boek, getiteld London , gee die skrywer E. Rutherfurd 'n voorbeeld van die tipiese onsinnige gedagtegang wat in die jaar 1170 in die kerk aan die orde van die dag was. Die jong intelligente Mabel lei af van wat sy in die kerk hoor dat die brandende helsevuur dalk haar voorland mag wees. Sy is immers 'n vrou. In sy preek oor Adam en Eva waarsku die priester: 'Vrouens, as julle graag julle siele wil red, onthou dan vir Eva, want dit is in die natuur van die vrou om haar aan ligsinnigheid en vleeslike sondes oor te gee. Vir vrouens is daar veral die gevaar om makliker in die hel te beland.'

'Waarom is vrouens meer geneig tot sondes, Vader?' vra Mabel. 'Dit is in hulle natuur, my kind. God het die vrou die swakker vat gemaak,' antwoord die priester vriendelik. 'Dit is die man wat na die beeld van God gemaak is, nie die vrou nie. Die man se saad bring die volmaakte beeld van God voort. Die vrou wat maar net die houer is waarin die saad ryp word, is dus minderwaardig. Sy mag wel in die hemel kom, maar omdat sy minderwaardig is, is dit net baie moeiliker vir haar as vir 'n man.'

'n Paar dae later konfronteer sy weer die vriendelike ou man: 'Vader, as 'n man se saad God se beeld voortbring, hoe gebeur dit dan dat daar behalwe mans ook vrouens gebore word?' Die priester plaas sy hand op Mabel se skouer en verduidelik vriendelik: 'Jy sien, sommige van die saad is swak en gebrekkig en ontwikkel dan as vrouens. Dit is een van die wonders van God se skeppingswerk.'

'Vader, ek het ook gewonder hoekom kinders dikwels soos hulle moeders lyk en nie soos hulle vaders nie.' Hiervoor het die priester ook 'n antwoord: 'Sien, terwyl die manlike saad in die baarmoeder groei, drink dit van die moeder se vloeistof wat 'n nadelige effek op die kind kan hê.' Maar die intelligente Mabel lyk nog nie tevrede nie. 'Sê nog net een laaste ding vir my, Vader,' vra sy onderdanig, 'as dit vir 'n vrou so moeilik is om gered te word, wat staan my dan te doen?' 'Bid baie ernstig en gehoorsaam jou man in alles. Eintlik is dit net maagde wat maklik in die hemel kan kom!'

Mabel vra nie verder nie, want nou verstaan sy twee dinge: (1) dat vroue minderwaardig is en (2) dat maagdelikheid die maklikste pad hemel toe is.

Die wortels van die 'minderwaardige' status van die vrou lê baie duisende jare terug in die verlede. Is die kiem daarvan nie alreeds in Genesis 2–3 sigbaar nie? Adam word spesiaal deur God as mens geskep, terwyl Eva byna as 'n afvalproduk uit Adam se ribbebeen gemaak word. In Eksodus 20 tree hierdie siening van minderwaardigheid weer na vore as die vrou by die man se dienskneg, os en esel as 'n besitting ingedeel word. Wat meer is: sondigheid is mos oorspronklik deur die 'minderwaardige' geslag veroorsaak toe die vrou onder die slang se verleiding geswig het, daarom is haar 'straf' om kinders met pyn en smart in die wêreld te bring!

In 1 Korintiërs 14:34–35 benadruk Paulus dat dit onaanvaarbaar is dat vrouens tydens eredienste of ander byeenkomste praat. Hulle moet stil bly, mag nie onderrig gee nie en moet hulle mans raadpleeg indien hulle iets te wete wil kom — byna asof vrouens nie intelligent kan dink nie, eties swak is en maklik aan verleiding toegee. Motivering vir hierdie soort siening word ook in 1 Timotues 2:13–14 gevind: 'Adam is immers eerste gemaak, Eva daarna. Dit is ook nie Adam wat verlei is nie, dit is die vrou wat haar laat verlei het en die gebod oortree het.'

Hierdie premoderne, verouderde en degraderende standpunt aangaan die vroulike geslag vind ook elders in die Bybel weerklank. Engele kom manlik voor, so ook die twaalf ouderlinge. In Genesis 19 word vertel hoe 'n groep inwoners van Sodom met twee engele gemeenskap wil hê. Lot wieier dit, maar bied sy twee dogters aan met die woorde: ... 'doen dan met hulle wat julle wil!' Hulle is per slot van rekening maar net vrouens wat nie dieselfde waarde as mans het nie. Elders in Rigters 19:25–29 wil 'n Leviet verhoed dat straatboewe met 'n man gemeenskap hê. Hy gee aan hulle sy byvrou. Dan staan daar: 'Hulle het met haar gemeenskap gehad en haar die hele nag deur tot die môre toe verrinneweer.'

As die vrou dan volgens die Bybel 'n minderwaardige wese is, is dit verstaanbaar dat die Skepper as 'Vader' — en nie as 'Moeder' nie — vereer moet word. Op meer as tweehonderd plekke in die Bybel word na God as 'Vader' verwys. Sou dit deels wees omdat die vaderfiguur in die mens se lewe gewoonlik sekuriteit en beskerming waarborg? Dalk hou dit verband met sy kragtige liggaamsbou? Dalk sy dominering van die 'swakker vat'? Dink 'n mens egter nugter oor hierdie aanspreekvorm, besef jy skielik dat God op hierdie wyse vermenslik word. Is Hy 'Vader' vanweë sy gesag, krag, dissipline, orde en die vrees wat Hy inboesem? Vrouens sou hierdie sienswyse as geslagsdiskriminasie kon afmaak en daarop wys dat dit die moederbeeld in die godsdiens ignoreer.

Vandag besef ons dat die onsienlike God nie manlik is nie. 'Hy' is tog nie waarneembaar nie, maar Gees. Tot vandag toe was 'Hy' vir die mens een groot misterie. Ons kyk mos maar net in 'n dowwe spieel en sien net 'n raaiselagtige beeld van die Skepper.

En die vrou? Nee, sy is beslis die man se gelyke wat haar intellektuele en emosionele vermoëns betref en is bestem om saam met die man die lewenspad op gelyke basis aan te druf. In baie kerke is die verouderde siening aangaande vrouens aan die kwyn, want die vrou is in 'n toenemende mate besig om haar status te bewys. Daarom dat duisende suksesvolle sakeondernemings deur bekwame vrouens bestuur word. Baie vroue munt uit as politici, medici, prokureurs, predikers en noem maar op. Wat bekwaamhede betref, is daar 'n definitiewe besef dat hulle mans se gelyke is. Daar is dus 'n gelykmaakingsproses aan die gang. En ook met reg!


DIE NG KERK ONDERWEG NA DIE VERGETELHEID?

deur: Johann Rossouw
www.vryeafrikaan.co.za

Die NG Kerk is in die moeilikheid, en diep ook – laat dít nou maar vir eens en vir altyd hardop gesê word, sonder om agter valse harmonie en peïtistiese gemeenplasighede te skuil. Twee statistieke is onder die talle tekens van die moeilikheid. Elders in vandag se uitgawe verwys dr. Auke Compaan daarna dat soveel as 50% van die NG-gemeentes in die voormalige Transvaal "in 'n oorlewingstryd gewikkel is". En waar 99% van alle Afrikaners in 1980 aan een van drie Afrikaanse susterskerke behoort het, is dit vandag 50%, met die grootste verlies na die kant van die charismatiese beweging – en waarvan die NG Kerk ongetwyfeld die leeueaandeel gelewer het.

In sy verslag van die pas afgelope NG-predikantekonferensie in Bloemfontein verwys Compaan na drie faktore wat die Christelike kerk wêreldwyd teister, naamlik die ineenstorting van die idee van 'n God wat alles tot in die fynste besonderhede beheer; dat die personalistiese taal waarmee oor God gepraat word vir baie mense nie meer in 'n postmoderne wêreld iets beteken nie; en dat die kerk sukkel om van 'n maatskaplike moralisme los te kom. Wat die NG Kerk self betref, verwys Compaan na die volslae afwesigheid van besinning oor die charismatiese verskynsel, die ekonomisering en privatisering van die kerk, of kerkvereniging. Hierby kan 'n mens nog die kwessie van homoseksualiteit en die hantering van die jeug voeg.

Hierdie krisis woed teen die agtergrond van 'n gebrek aan leierskap in die NG Kerk; 'n gebrek aan denke en gesprek met ons tyd; en 'n teologiese eerder as liturgiese reaksie op die charismatiese verskynsel.

Wat 'n gebrek aan leierskap betref, is daar al hoe meer tekens dat die huidige moderator, dr. Coenie Burger, op harmonie bo alles ingestel is, in plaas daarvan om die moeilike vraagstukke van reguit te takel. Tot dusver in Burger se moderatorstermyn is daar nie oor 'n enkele brandpunt 'n duidelike standpunt ingeneem nie, en dreig die poging om alles vir almal te wees om die NG Kerk die kreeftegang van vele ander historiese Afrikaner-instellings te laat gaan. Burger se onlangse onderhoud met Rapport was ontstellend niksseggend, en het veral mank gegaan aan 'n deeglike en dapper omgang met die vrae van ons tyd. Wanneer instellings in krisis aan leierskap mank gaan, word die weg altyd vir konserwatiewe elemente voorberei, soos pas weer deur die oorwinning van die konserwatiewe Mahmoed Ahmadinejad oor die hopeloos gekompromitteerde hervormingsgesindes in Iran se presidentsverkiesing bewys is. Daar is juis reeds sprake van 'n konserwatiewe volkskerkfaksie in die Vrystaat wat hulle oog op die moderatorsamp het.

Wat 'n gebrek aan denke en gesprek met ons tyd betref, is daar die afgelope jare minstens in openbare standpunte deur meningsvormers in die NG Kerk oorwegend 'n volslae onvermoë om sosiologies en histories oor die NG Kerk na te dink. Die wel en wee van die NG Kerk is onlosmaaklik verbind aan dié van die Afrikaners, en 'n polities korrekte versugting om teen die agtergrond van historiese vergrype hierdie band te misken, verdoem die NG Kerk daartoe om nie insig in sy eie situasie te ontwikkel nie. So byvoorbeeld het die verstaatliking van die NG Kerk saam met die breë Afrikanerwêreld na 1948 die vreespsigose wat tussen 1902 en 1948 onder Afrikaners posgevat het, geïnstitusionaliseer. Meer nog het die ontstating wat vanaf 1994 met Afrikaners gebeur het, die NG Kerk ook getref, haas vyftien jaar nadat die charismatiese beweging hom van binne begin rysmier het. Ongelukkig het 46 jaar se knusse verhouding met die staat die NG Kerk se vermoë tot selfkritiese denke klaarblyklik ernstig aangetas. Dit is dan ook waarom die NG Kerk in gebreke bly om met ons tyd te doen wat Danie Goosen vir die kerk as sodanig voorstel, naamlik om 'n verwoestende aanval op ons tyd te loods. Die neo-liberale wêreldwanorde, die ekologiese krisis, politieke ongeregtigheid, armoede, VIGS en die ontbinding van die Afrikaner as gemeenskap, wat met enorme simboliese ellende gepaardgaan, is dinge waaroor die NG Kerk met 'n plaaslike tradisie van 350 jaar ongetwyfeld eiesoortige standpunte sou kon stel, maar waaroor daar oorwegend niks of niks besonders gesê word nie. Is dit dan 'n wonder dat die NG Kerk soveel gesag by sy lidmate ingeboet het en steeds inboet?

Wat die charismatiese verskynsel betref, is dit onmoontlik te verstane sonder die ineenstorting van Afrikaner-nasionalisme vanaf die tweede helfte van die 1970's en die opkoms van die videosfeer, oftewel die visuele era, onder Afrikaners. Die charismatiese verskynsel is die nuutste inkarnasie van die gnostiek, en dan 'n gnostiek vir die arm man, of, in hierdie geval, die ryk man. Onder Afrikaners teer die charismate op die simboliese ellende van die Afrikaners wat voortspruit uit die heengaan van 'n eie simboliese orde, en wat lei tot 'n gnostifikasie van die Afrikaners, waar mense glo dat hulle individueel regstreekse toegang tot die waarheid kan kry. Op 'n vraag oor wat die moontlikheid van ekumeniese samewerking met die charismate is, het 'n besoekende Amerikaanse teoloog onlangs geantwoord: "Geen, dit is die vyand." Minstens verstaan hierdie teoloog waarmee die kerk vandag te make het. Ongelukkig is die beste antwoord wat die NG Kerk op die gnostifikasie van die Afrikaner gee – charismate vir die rykes, Nuwe Hervormers vir die intelligentsia - 'n teologiese een, terwyl dit by uitstek 'n liturgiese antwoord moet gee. Die charismate het geen teologie nie, terwyl die Nuwe Hervormers net 'n teologie het: gewone mense soek nóg die een, nóg die ander, maar iets soos 'n nuwe denkende gereformeerde dramatiese ruimte.

Daar is gelukkig blyke van oplaaiende opstand in die geledere van NG predikante en lidmate. Veral jonger en vroulike predikante en teoloë is hier prominent. Mag hulle die waagmoed en die politieke durf hê om die stryd om die siel van die NG Kerk aan te knoop, want so nie is die vergetelheid of historiese koddigheid straks die voorland van die NG Kerk.


Die Drie-Eenheid in 'n ander baadjie

deur Sakkie Spangenberg

Verskeie teoloë het in die leerstuk van die Drie-eenheid 'n handige stok gevind om na die gespreksgenote oor 'n nuwe hervorming te slaan. Hierdie teoloë argumenteer dat die 'nuwe hervormers' hulleself uit die Christelike tradisie gedefinieer het. 'Hulle kan nie meer iets oor Jesus se goddelikheid sê nie. Hulle het met hulle fokus op die historiese Jesus en hulle pleidooi vir 'n nuwe godsbeskouing die Christelike tradisie die rug toegekeer,' word geargumenteer. In hierdie artikel gaan ek die teendeel probeer aantoon en argumenteer dat die 'nuwe hervormers' net so deel van die Christelike tradisie is as enige ander groepering. Voorts dat hulle ook oor Jesus se goddelikheid kan skryf en die idee van 'n Drie-eenheid kan benut.

Wanneer mens oor Jesus se goddelikheid wil skryf, is daar twee benaderingswyses. (1) Mens kan dit 'van bo' benader en 'n verhewe Christologie daarstel. (2) Mens kan dit 'van benede' benader en 'n aardse Christologie daarstel. Hierdie twee benaderings het hulle wortels in die Nuwe Testament self. Die skrywers van die sinoptiese evangelies werk met 'n benadering 'van benede', terwyl die skrywer van die Johannes-evangelie en Paulus met 'n benadering 'van bo' werk. Die benadering 'van bo' het uiteindelik getriomfeer in die teologieë van die Griekse en Latynse kerkvaders en in belydenisdokumente. Dit beteken egter nie dat ons vandag die benadering 'van benede' nie mag gebruik of laat herleef nie. Ons kennis van die tyd waarin Jesus geleef het én ons eie konteks vra na so 'n benadering. Ons het nie 'n ewigheidsperspektief nie en die wyse waarop sommige Nuwe-Testamentiese skrywers en die kerkvaders die saak benader het, laat nie reg geskied aan óns kennis en óns konteks nie. Die volgende stelling van James Charlesworth ('n Christen en kenner van die Dooie Seerolle) bly vir my rigtinggewend (1998:64–65):

Dogmatics has been important in Christian history to clarify and defend the faith. That should be acknowledged, but it does not mean that what was defined as Christian faith for St. Augustine must be operative and constricting for us today. I am convinced that Augustine would have been opposed to such a move. It is now clear that we have insights into Jesus' time which Augustine did not know about, and that this new information, as well as the cultural climate at the end of the second millennium, necessitates finding new ways of expressing our understanding of Christian faith. Augustine struggled to shape faith — rather, the art of believing — for his time. Do we not have the same responsibility? Enige teoloog wat tans oor Jesus wil skryf, moet eers die volgende vraag beantwoord: 'Watter godsdiens het die historiese Jesus en sy ouers beoefen?' Teoloë mag hierdie historiese vraag nie ontduik nie, want dit het 'n radikale invloed op hoe mens se argument verder sal verloop. Bybelwetenskaplikes aanvaar dat die historiese Jesus en sy ouers tuis was in die Judaïsme van die Tweede Tempeltydperk (512 vC–70 nC). Hy is immers besny, het die tempel en die sinagoges besoek, die Sabbat gevier en offers gebring. Dáárdie Judaïsme het besonder klem gelê op die eenheid van God. Die historiese Jesus se godsbegrip was dus monoteïsties (daar is slegs één God). Jesus het nie 'n Drie-eenheid verkondig en Homself ook nie as 'die ewige Seun van God wat voor alle eeue bestaan het,' voorgehou nie.

Mense reageer gewoonlik op sulke stellings deur na die Johannes-evangelie te verwys en te vra: 'Maar wat dan van die uitspraak in Johannes 14:9–11 waar Jesus Homself met God gelykstel?' Die antwoord hierop is dat die Johannes-evangelie eers teen die einde van die eerste eeu nC geskryf is. Daarin vind mens 'n ander beklemtoning as in die eerste drie evangelies. Daar is duidelike verskille tussen die eerste drie evangelies en die evangelie van Johannes en ons kan die Jesuskarakter wat hulle teken, nie sommer net met mekaar vermeng nie. In die eerste drie evangelies (wat die oudste kanoniese evangelies is) maak Jesus nêrens aanspraak dat Hy God is nie. Lees mens die eerste drie evangelies noukeurig is dit duidelik dat Jesus God as 'Vader' aangepreek het en God se liefde, barmhartigheid en empatie in woord en daad uitgeleef het. Johannes daarenteen, teken Jesus as 'n 'hemelse reisiger' wat tydelik op aarde kom woon het. Johannes se Jesus is meer tuis in die Hellenistiese wêreld as in die Joodse wêreld waarin Jesus self geleef het.

Die koninkryk van God waarvoor Jesus Hom volgens die sinoptiese evangelies beywer het, het te doen met God se regering hier op aarde en nie met 'n hemelse koninkryk nie. Jesus wou beklemtoon dat as God (soos Hy Hom as Joodse profeet leer ken het) regeer het, die wêreld van sy dag anders sou gelyk het as die wêreld van die Romeinse keisers en die Joodse godsdiensleiers.

In daardie tyd het die godsdiensleiers van die Joodse volk die hoofklem laat val op reinheid. Die totale samelewing was volgens hierdie idee gestruktureer en dit het mense se doen en late radikaal beïnvloed. Wie rein geleef het, was 'n kind van die heilige God, het die godsdiensleiers geleer. Maar reinheid het 'n hiërargiese struktuur gehad. Aan die bo-punt van die struktuur het die priesters en leviete gestaan, gevolg deur die gebore Jode en dan die bekeerde Jode. Aan die onderpunt van die leer het die mense van gemengde bloed gestaan (die 'bastards' gebore uit Joodse en 'heiden' ouers) gevolg deur mans sonder testikels en diegene sonder penisse.

Jesus het Hom teen hierdie strukturering van die Joodse samelewing verset en God se barmhartigheid en liefde kom beklemtoon. Hy meng met die onreinstes van onreines (die 'sondaars' volgens die destydse klassifisering) deur toe te laat dat melaatses naby Hom kom en vroue wat menstrueer Hom aanraak. Hy eet saam met die onreinstes van onreines van daardie samelewing en vertel 'n gelykenis wat uitwys dat reinheid (heiligheid) nie vir God belangrik is nie, maar barmhartigheid (vgl. die gelykenis van die barmhartige Samaritaan). Ons het dan ook die volgende spreuk uit die historiese Jesus se mond: 'Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is' (Luk 6:36) en dit staan duidelik teenoor die spreuk: 'Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig' (Lev 19:2).

Daar is ook twee ander vrae wat teoloë moet antwoord:(1) 'Wat is die geboorte-uur van die Christelike godsdiens?' Is dit 4 vC (die geboortedatum van die historiese Jesus), is dit 33 nC (die sterfdatum van die historiese Jesus), of is dit 70 nC (die val van Jerusalem en die vernietiging van die tempel) en (2) 'Sedert wanneer is Jesus die weg, die waarheid en die lewe?' Binne Bybelwetenskaplike kringe is dit 'n aanvaarde standpunt dat die Christelike godsdiens eers na 70 nC begin het. Vergelyk die volgende stelling van die Ou-Testamentikus Robert Coote (1990:116):

'The Christianity of the New Testament began not with the birth, death, or resurrection of Jesus, but with the end of the temple to which the first cell of his followers was attached'.

Tot en met 70 nC was die vroeë Christene slegs maar 'n groepering binne die Judaïsme van die Tweede Tempeltydperk. Daar was wel twee prominente subgroepe binne hierdie groep (1) Arameessprekende Christen-Jode, en (2) Griekssprekende Christen-Jode. Petrus en Jakobus was leiers van die Arameessprekende Jerusalemgroep, terwyl Paulus hom by die Griekssprekende groep tuisgemaak het. Die Jerusalem-groep het streng probeer hou by die Joodse tradisies, terwyl die ander groep vryer daarmee omgegaan het. Die boek Handelinge weerspieël iets van die spanning wat tussen die twee groepe ontstaan het. (Vergelyk die debatte oor besnydenis en die dieetvoorskrifte.) Die Jerusalem-groep het in Jerusalem saamgetrek en daar geleef in afwagting van die wederkoms. Maar die wederkoms het nie aangebreek nie en toe die Romeine in 70 nC Jerusalem inneem en die tempel vernietig, moes ook hierdie Christene Jerusalem noodgedwonge verlaat. In hierdie krisisuur begin alle Joodse groeperinge (ook die vroeë Christene) oor hulle godsdiens en hulle verhouding met God nadink. Die rabbyne trek teen die einde van die eerste eeu by Jamnia saam en omskryf Judaïsme nou baie duidelik. Dit veroorsaak dat hulle hulle van die Christen-Jode distansieer en hulle die sinagoges verbied. In hierdie smeltkroes van gebeure triomfeer die sienings van die Griekssprekende Christen-Jode wat meer tuis was in die Hellenistiese wêreld. Die vroeë Christendom was dus aanvanklik gevarieerd, maar teen die vierde eeu toe Theodosius die Grote (379–395) dit tot staatsgodsdiens verklaar het, is Christene gedwing om uit een mond te praat.

Die uitspraak 'Ek is die weg die waarheid en die lewe' kom in die Johannes-evangelie voor (Joh 14:6) en is nie deur die historiese Jesus uitgespreek nie. Die skrywer van die Johannnesevangelie het dit in Jesus se mond gelê om daardeur te beklemtoon dat die Christene wat nou uit die sinagoges verdryf word nie meer die Wet as oriënteringspunt gebruik nie. Die wet is nie meer vir hulle die weg, die waarheid en die lewe nie, maar Jesus is dit vir hulle. Ons moet hierdie uitspraak in sy historiese konteks verstaan. Dis gemaak teenoor die tydgenootlike Jode wat hulle mede-Jode wat Christene geword het, uit die sinagoges ban (vgl die vertelling in Joh 9:1–34). Die evangelie verraai duidelik sy omgewing. Dis 'n omgewing waar die breuk tussen Christene en Jode op die spits gedryf is, daarom maak Johannes se Jesus ook die kru uitspraak in Johannes 8:44 'Julle het die duiwel as vader' wanneer Hy met sekere groepe bots. Dit is egter nie die historiese Jesus wat hierdie woorde uiter nie, maar die vertelde Jesus van die Johannes-evangelie. Die Jesus van die Johannes-evangelie is 'n Jesus met totaal ander karaktertrekke as die Jesus van die sinoptiese evangelies.

<!--pagebreak-->

Die studies oor die historiese Jesus van die afgelope paar dekades het uitgewys dat Jesus en sy verkondiging teen die agtergrond van die Judaïsme van die Tweede Tempeltydperk verstaan moet word. Baie van die uitsprake wat later oor Jesus gemaak is, het te doen met die feit dat Christen-Jode nou in die Grieks-Romeinse wêreld verstrooi is en dat hulle hulleself in daardie samelewings moes handhaaf. Dis ook in hierdie wêreld waar Paulus tuis was en daarom verkies hy om te praat van 'Christus Jesus' en nie 'Jesus Christus' nie. Hy herdefinieer Jood-wees en beklemtoon Jesus se goddelikheid. Dis in hierdie hellenistiese samelewings dat die vertellings oor Jesus se hellevaart, sy opstanding en hemelvaart gegroei het tot belangrike verkondigings. Ons moet egter onthou dat die vertellinge oor Jesus se hellevaart (vgl Ef 4:9; 1 Pet 3:19, 4:6) sy opstanding (Matt 28:1–10; Luk 24:1–12) en hemelvaart (Luk 24:50–53; Hand 1:9–11) ingebed is in daardie mense se kenniswêreld. Hulle het 'n drieverdieping heelal geken en teken die triomf van Jesus se boodskap deur middel van hierdie drieverdieping-kosmos. In ons wêreldbeeld is daar egter nie 'n hel en 'n hemel meer nie en lyke word nie weer lewendig nie. Om hierdie verhale met 'n moderne wêreldbeeld te interpreteer en dit as 'wolhaarstories' af te maak, doen die verhale onreg aan. Ons moet dit kultuursensitief bestudeer en interpreteer. Doen ons dit só behoort ons in ag te neem dat ons hier met mitiese inkledings te doen het en mites is nooit waar of onwaar nie, maar 'lewendig' of 'dood'. In die woorde van Robert Lane (1994:44):

We cannot refute a myth because as soon as we treat it as refutable it is no longer a myth but has become hypothesis or history. We need not believe everything we read in the Bible as literally true (because it is not), but it can be read as pointing towards a truth, or truths, about the human history.

Daardie gelowiges wou verkondig dat die saak van Jesus nie afgeloop het nie. God se liefde, barmhartigheid, vergewensgesindheid en sorg is steeds 'n werklikheid wat mense deur die Gees kan beleef.

Die volgende vraag wat ons moet beantwoord, is of gelowiges wat die hellevaart, die opstanding en die hemelvaart van Jesus nie meer as historiese en fisiese gebeure erken en bely nie, nog as Christene kan deurgaan. Hierop gee John Macquarrie 'n baie goeie antwoord (1990:412):

Suppose in our acount of the career of Jesus we had felt compelled to draw the bottom line under the cross? Suppose we omitted the 'joyful mysteries' that traditionally came after the cross? Would that destroy the whole fabric of faith in Christ? I do not think so, for the two distinctive Christian affirmations would remain untouched — God is love, and God is revealed in Jesus Christ. These two affirmations would stand even if there were no mysteries beyond Calvary.

Dit is hierdie soort Christologie — die Christologie 'van benede'; die Christologie wat erns maak met die historiese Jesus, die wêreld waarin Hy geleef het en die ontwikkeling van die vroeë Christendom — wat heelwat gelowiges in die een-en-twintigste eeu trek. Vir diegene wat nie die worstelpad met die kritiese Bybelwetenskap geloop het, en nie vertroud is met die navorsing rondom die historiese Jesus nie, mag dit na 'n reduksie van die Christelike boodskap klink, maar dít is dit allermins. Die Jesus wat mens deur kritiese studies leer ken, laat jou hart net so warm klop soos voorheen — indien nie warmer nie.

Die vraag oor die Drie-eenheid kan ons dus soos volg probeer beantwoord: Die idee van 'n Drie-eenheid (één Wese en drie Persone) is 'n interpetasie en konstruksie van die Griekse en Latynse kerkvaders. Dis hoe húlle vir húlle tyd die geloof in Jesus verwoord en relevant probeer maak en behou het. Ek hou van die stelling dat die tradisionele dogmas slegs maar 'gekontekstualiseerde matafore' is. Niemand van ons kan God volledig omskryf nie en die beskrywing van die kerkvaders was goed en reg vir hulle tyd, maar dis na my mening nie meer geskik vir ons dag nie. Wanneer ons met die begrip van panenteïsme werk ('God is in alles en alles is in God, maar God is ook meer as alles') kan ons sê dat God in Jesus teenwoordig was. In die woorde van John Selby Spong (2002:146): 'God is beyond Jesus, but Jesus participated in the Being of God, and Jesus is my way into God'.

Die historiese Jesus was 'n besonderse Joodse profeet, 'n uitnemende Joodse wysheidsleermeester, en 'n Joodse gelowige wat naby God geleef het. Hy was deurdrenk van God se Gees en het God se hart aan sy tydgenote kom wys en sy regering kom voorleef. Hy het God se liefde, barmhartigheid en empatie beklemtoon en teen die godsdiensleiers van sy dag getuig dat God meer begaan is oor liefde, vergewensgesindheid, barmhartigheid en sorg as oor reinheid (heiligheid).

Hierdie boodskap geld ook vir ons dag en Christene moet ook God só in ons samelewing teenwoordig maak. Mense moet in ons handelinge iets van God en iets van Jesus van Nasaret kan raaksien. Sy Gees (en dus die Gees wat in Jesus teenwoordig was) moet op ons lewens beslag lê sodat God ook weer in ons wêreld sigbaar kan word.

Die Drie-eenheid moet nie as 'n uitspraak oor God se wese verstaan word nie, maar as 'n uitspraak oor hoe mense God in Jesus se woorde en handelinge ervaar het — ook nadat Hy gekruisig is en mense van sy teenwoordigheid deur die Gees begin praat het. Ons kan hierna verwys as 'n ervaringstriniteit . Mense het iets van die goddelike in Jesus ervaar ('God se Gees het in sy volheid in Hom gewoon') en ons ervaar dit steeds vandag as ons die historiese Jesus teen die Joodse wêreld van sy dag interpeteer. Ons kan Hom as 'n besonderse openbaring van God sien en getuig dat Hy ons met God se liefde, barmhartigheid, vergewensgesindheid en sorg in aanraking gebring het. Wie deur die Gees leef, sal dan ook ervaar dat dit die rigting is waarin die Gees van God ons lei.

So werk die 'nuwe hervormers' met 'n aardse Christologie ('n Christologie van onder) waarin hulle erns maak met die historiese Jesus, en 'n ervaringstriniteit waarin hulle nie spekuleer oor presies hoe God is nie, maar oor hoe hulle en ander God ervaar. God is 'n Misterie wat ons verstand te bowe gaan, maar in Jesus van Nasaret het mense iets van God se liefde, barmhartigheid, vergewensgesindheid en sorg ervaar (en ervaar mense dit steeds). Dit laat ons in ons samelewing uitreik na ander in nood, ellende en pyn. Om gelowiges van die een-en-twintigste eeu te beveel om die tradisionele interpretasies van die Bybel te aanvaar en die tradisionele verwoordings van die geloof te bly handhaaf, maak nie sin nie. Die Suid-Afrikaanse Nuwe-Testamentikus John Suggit (1997:128) het 'n waar woord gespreek toe hy die volgende geskryf het:

We today need a richer vision of God, not confined to credal formularies, however important these may have been. The doctrine of the Trinity tells of a God who gave himself in love to the world in Jesus and who continues to challenge and empower the church to respond to his love in the changing situations of the world. The danger of fundamentalism in any form is that it holds that the truth once given is immutable and fixed, either in the words of scripture or in dogmatic pronouncements.

Diegene wat die 'nuwe hervormers' as ketters wil brandmerk en meen dat hulle hulleself buite die Christelike tradisie gedefineer het, kan gerus nadink oor die volgende stelling van Maurice Wiles (1999:74):

So giving expression to Christian belief is never a matter of simply being faithful to the teaching of the past, of preserving the deposit of truth as it has been handed on to us by previous generations. Every generation has the task of constructing forms of belief and practice appropriate to its own times and culture.

Hierdie uitspraak sluit aan by die een van James Charlesworth waarna ek aan die begin verwys het. Nuwe tye vra nuwe verwoordings van die geloof. Belydenisskrifte, dogmas en liedere is en bly mensewerk. Geen kerk kan daarop aanspraak maak dat hulle verwoording van die geloof absoluut en finaal is nie. Alle verwoordings is en bly voorlopige verwoordings van 'n gedeelte ervaring.

Bibliografie
Charlesworth, J 1998. The Dead Sea Scrolls and the Christian faith: (In celebration of the Jubilee Year of the discovery of Qumran Cave 1) . Harrisburg: Trinity. (Faith and Scholarship Colloquies Series).
Coote, R B & Coote M P 1990. Power, politics, and the making of the Bible: An introduction . Minneapolis: Fortress.
Lane, R D 1994. Reading the Bible: Intention, text, interpretation. New York: University Press of America.
Macquarrie, J 1990. Jesus Christ in modern thought . London: SCM.
Spong, J S 2002. A new Christianity for a new world: Why traditional faith is dying and how a new faith is being born . San Francisco: HarperSanFrancisco.
Suggit, J 1997. The gospel and the gospels. Cape Town: Celebration of Faith.
Wiles, M 1999. Reason to believe . London: SCM.

Die Nuwe Hervorming

deur Hansie Wolmarans

Die debat oor die Nuwe Hervorming soos dit in die pers, in kerke en rondom braaivleisvure gevoer word, raak nog net aan die oppervlak. Vir baie mense is die kern van die debat Jesus se geboorte uit 'n maagd en sy opstanding uit die dood. Ten diepste gaan dit vir ander of God nou iewers buite hierdie werklikheid wat ons ken, woon of nie. Wesenlik gaan die Nuwe Hervorming egter daaroor om God op eietydse maniere te herontdek; om teologies ongeskoolde gelowiges te betrek by 'n herverbeelding van God; dit gaan oor afskeid van primitiewe dogmas; oor die beëindiging van die tirannie van die "swakke broer" ter wille van wie nuwe insigte in die Bybel van lidmate weggehou is. Dit is 'n avontuur waarin ons enigste sekerheid soms ons onsekerheid is.

Dit is veral die wyse waarop die Bybel in die debat funksioneer, wat nog nie tot sy reg gekom nie. Fundamentaliste beweer die Bybel is woord vir woord deur God gedikteer. As ons dit aanvaar, moet ons ook aanvaar die aarde is plat en die hemel staan op pilare.

Vanuit 'n modernistiese wetenskapsbeskouing sê die meeste tradisionele teoloë die Bybel is God se Woord in mensetaal. Ons moet net tydgebonde dinge in die Bybel afstroop (soos die plat aarde), dan kom ons by God se Woord uit. Ook hierdie siening is nie sonder probleme nie. Al glo ons die Bybel moet die laaste woord hê, is dit 'n geldige vraag: "Watter woord in die Bybel?" Was Jesus se oupa nou Jakob (Matt. 1:16) of Eli (Luk. 3:24)? Was dit die duiwel wat vir Dawid verlei het om 'n volkstelling te hou (1 Kron. 21:1) of die Here wat hom gelei het (2 Sam. 24:1)? Het Jesus ná sy opstanding eerste aan Maria Magdalena verskyn (Joh. 20:14), aan Petrus (1 Kor. 15:5), of aan Kleopas (Luk. 24:15–18)?

Die vrae sny nog dieper. Nuwe navorsing oor die beginjare van die Christendom wys duidelik dat dit 'n tyd was waarin baie belangrike mense volgens oorlewering uit 'n maagd gebore is: die bekende wiskundige Pitagoras, die filosoof Plato, en selfs keiser Augustus. Is die geboorte uit 'n maagd nou iets eietyds wat ons moet afstroop om by die ware Jesus uit te kom of is dit 'n biologiese feitelikheid? Waarom praat Paulus en Jakobus en Johannes glad nie daarvan nie? Is dit nie maar net 'n manier om oor die besondersheid van Jesus te praat nie?

Ook die kruisdood as 'n soenoffer en die opstanding was tipiese gebeure in die eerste eeu n.C. In al die misteriekultusse was die sentrale tema juis een waarin 'n held soos Dionisus, Orfeus of Mithras sterf, net om te herleef. Hierdie "offers" het mense se skuld weggeneem.

Wat is die oorsprong van hierdie offerteologie? 'n Primitiewe opvatting waarin daar van mense verwag is om 'n seun of dogter te offer sodat die gode hulle goedgesind kan wees? Spore hiervan vind ons in die Ou Testament. In Gen. 22:2 word Abraham beveel om sy seun Isak te offer. In Rig. 11:30–39 offer Jefta inderdaad sy dogter aan die Here.

As ons nou ook hierdie sake afstroop as tydgebonde (en dit is onafwendbaar met 'n modernistiese Skrifbeskouing), kom ons by 'n godsbeeld wat ook tydgebonde is, want God lyk maar net soos 'n antieke koning op 'n troon met 'n tweede in bevel (middelaar) aan sy regterhand. As ons dit ook afstroop, bly daar niks oor nie – en sit ons met 'n nihilisme wat soos die bufferplakker sê: "Stop die wêreld, ek wil afklim!"

'n Postmoderne siening van die Bybel is daarom meer aanvaarbaar. Dit sê die Bybel bevat mensewoorde oor God. Hierdie siening is bevrydend. Dit is skille wat van jou oë afval as jy verstaan jy hoef nie alles in die Bybel soos geskiedenis te lees nie. Soek mooi, en jy sal God se voetspore daarin vind.

Hierdie insigte help ons om nuut na die vorm van ons godsdiens te kyk. Dit is nodig om ondersoek te doen oor hoe ons die essensie van die Christendom in eietydse simbole en vorme kan vertaal. Met die Nagmaal kan byvoorbeeld gesê word: "Laat ons ook vir mekaar die lewensbrood breek en mekaar se lewensbekers met vreugde laat oorloop." Die opstanding kan as simbool van vernuwing en vooruitgang funksioneer. Wat Jesus histories gesê en gedoen het, kry nou vir ons nuwe betekenis. Ons verstaan dat 'n klein ligstraaltjie van Jesus in ons lewe meer werd is as 'n Ortodoksie wat ten volle geken word.

Die volgende weergawe (my eie) van Psalm 23 gee uitdrukking aan 'n panenteïstiese opvatting van God, waar God alles in almal is: 

Die aarde versorg my soos 'n herder. 
Daar is genoeg vir almal. 
Dit het groen graslande waar ek kan rus 
en waters wat my kalmeer. 
Dit lei my om nuut te leef. 

Ek kyk om my, en weet wat regverdigheid is. 
Ek verwonder my oor alles. 
Selfs al moet ek swaarkry of sterf 
sal ek nie bang wees nie, 
want die dood en lyding is nuwe beginne. 
Hier is ek veilig. 

My lewe op aarde is 'n fees, 
waar selfs hulle wat nie van my hou nie, 
saam met my kan aansit. 
Ek voel altyd baie spesiaal. 
My beker loop van vreugde oor. 

Ek weet, solank ek lewe, 
sal die aarde vir my sorg. 
Daarom is ek is tuis in die heelal 
nou en vir altyd. 

Die Nuwe Hervorming en die "Jesus Seminar"

In die lig van die misleidende assosiasie met die Jesus Seminar waarvan die Nuwe Hervorming beskuldig word... deur Pieter Botha
 

In die lig van die misleidende assosiasie met die Jesus Seminar waarvan die Nuwe Hervorming beskuldig word, het Pieter Botha die volgendie stuk opgestel:

  1. Die Jesus Seminar se ontstaan moet verstaan word in die lig van twee algemene oogmerke, naamlik om Fundamentalisme te bekamp en om wetenskaplike navorsing oor die Nuwe-Testamentiese tekste na die publiek te bring. Dit is hierdie twee motiewe wat gemaak het dat daar steun was vir Robert W. Funk se planne en hoekom die Jesus Seminar nog steeds ondersteuning geniet.

    Daar is dus alreeds twee goeie redes om die publikasies van die Jesus Seminar te bestudeer: om uit te vind of jy 'n Fundamentalis is of nie, en om meer te wete te kom oor die wetenskaplike ondersoek van die Nuwe Testament. Let op: hierdie is net goeie redes om hulle publikasies te lees, en geen aanduiding van ons boodskap nie; ons verkondiging nie dat Funk en kie die alfa en omega van Bybelstudie is nie.

     

  2. Die twee motiewe wat die Jesus Seminar dryf is nie onbelangrike sake nie. Fundamentalisme IS 'n dodelike kwaal en baie mense is ernstig daaroor om hierdie manier van dink (en glo) uit die gestel te kry. Om diegene wat nie fundamentalisties wil wees nie, as ongelowig te beskryf, is nuttelose etikettering. Mens kan met vrymoedigheid die boeke van die Jesus Seminar lees want dit kan jou geloof en skrifgebruik net goed doen.

    Let op: die werk van die Jesus Seminar is nie die finale antwoord nie; dit is deel van 'n proses waardeur 'n mens kan vorder.

    Die gebrek aan toegang tot die wetenskaplike navorsing oor die Bybel en bybelse geskiedenis is iets wat ons (die nuwe hervormers) ook pla, en waaraan ons werk om die situasie te verander. Dit is veral hierdie aspek van die Jesus Seminar se publikasies wat ons aandag getrek het en waarom ons dink mens moet kennis dra van wat hulle doen. Dié aspek kan vertaal word in 'n uitdaging: wat weet u van die wetenskaplike ondersoek na die Nuwe Testament af?

    Kom ons raak heel konkreet: dit staan enigiemand vry om die twee-dokument hipotese (dat Matteus en Lukas by Markus en die sogenaamde "Q evangelie" afgeskryf het) te ontken, maar dan moet mens óók bereid wees om die alternatief ingelig en met toepaslike metodes binne die reëls vir wetenskaplike kennis , uit te stippel en kritiek te beantwoord.

    Oor die vloei van wetenskaplike navorsing sê Funk: "The level of public knowledge of matters biblical borders on the illiterate. The church has failed in its historic mission to educate the public in the fourth "R," religion. Many Americans cannot even name the four canonical Gospels. The public is poorly informed about any of the assured results of critical scholarship, although those results are commonly taught in colleges, universities, and seminaries. In this vacuum, drugstore books and magazines play on the fears and ignorance of the uninformed. Radio and TV evangelists indulge in platitudes and pieties. In contrast, the Jesus Seminar is a clarion call to enlightenment. It is for those who prefer facts to fancies, history to histrionics, science to superstition, where Jesus and the Gospels are concerned".

    Dit is 'n bietjie oordadig gestel na my smaak, maar die punt is geldig.

     

  3. Meer spesifiek het die Jesus Seminar die oogmerk om die historiese Jesus te bestudeer, en het die volgende twee doelstellings daarvoor geformuleer:

    (1) om volledige lyste saam te stel van al die woorde en dade wat aan Jesus toegeskryf word in die eerste drie eeue, en dan
    (2) om deur hierdie lyste te werk om te bepaal watter items, "on the basis of scholarly consensus" verteenwoordig die lewe van die historiese Jesus en watter het voortgespruit vanuit die oorvertel van en besinning oor die woorde en dade van Jesus deur sy volgelinge ná sy dood.

    Wat, byvoorbeeld, die uitsprake van Jesus betref het die Seminar 518 verskillende items geïdentifiseer, waarvan meer as die helfte net een keer in die bronne gerapporteer word, omtrent 'n tiende in vier of meer bronne en die res word elkeen so twee of drie keer vermeld.

    Hoekom al die bronne deurgaan? Want om wetenskaplik te wees, moet al die moontlike getuienis ingesamel word (ook die van die Tomasevangelie en die Petrusevangelie en so aan). Hoekom nie al die getuienis summier glo nie? Want mens wil verantwoordelik wees: nie alles wat in 'n hof vertel word, is waar nie. Die uitsprake moet geweeg word en volgens betroubaarheid gerangskik word.

    Hierdie proses veronderstel dat historiese feite belangrik is. Die vraag is nie soseer of die Jesus Seminar "afwyk" of nie, maar hoe wil jý historiese kennis verkry.

     

  4. Die metode wat die Jesus Seminar toepas om die betroubaarheid van 'n uitspraak of gebeurtenis te bepaal staan bekend as die historiese metode. Dit is nie 'n nuwe ding nie, of 'n lukraak proses nie. Dink aan enige historiese ondersoek. Hoe maak mens as daar meer as een weergawe is wat nie lekker met mekaar rym nie? Hoe maak mens as 'n verslag foute bevat, of vreemde dinge beweer? Of as dieselfde uitspraak/gebeurtenis aan uiteenlopende kontekste verbind word?

    Enige een wat in die openbaar, volgens die reëls van historiese kennis, 'n voorstelling van iemand of 'n gebeurtens wil aanbied, behoort al die inligting bymekaar te maak en dit dan te beoordeel om die relatiewe waardes daarvan te bepaal. Hierdie metode is deel van die meeste van ons se daaglikse lewens, verweefd met hedendaagse professionele aktiwiteite en 'n hoeksteen van die wetenskap. Die metode word al eeue lank in die Nuwe-Testamentiese wetenskap gebruik, en onderlê, byvoorbeeld, die samestelling van die Hebreeuse en Griekse tekste waarvan alle moderne vertalings van die Bybel gemaak is.

    Daar word dikwels deur sommige Suid-Afrikaanse sogenaamde geleerdes beweer dat die werk van die Jesus Seminar "verdag" is. Mens moet net 'n oomblik jou verstand gebruik om te besef hoe irrelevant so 'n beskuldiging is. Die meerderheid "Fellows" van die Jesus Seminar is dosente aan universiteite. Anders as wat die algemene sinodale kommissie en ander sogenaamde professore suggereer, het universiteite en akademiese instellings reëls. [ek gebruik die woord "sogenaamd" soos wat ons die woord in die ASK se sogenaamde "standpunt" vind].

    Indien 'n navorser onprofessioneel optree sal sy of hy probleme optel. Daar is voorwaardes verbonde aan die voorlegging van navorsing vir akademiese publikasie. Nogal streng voorwaardes. 'n Navorser wat, byvoorbeeld, getuienis vervals sal deur haar/sy instansie gedissiplineer word. 'n Navorser wat probeer publiseer met 'n onwetenskaplike metode word tereg gewys.

    Die akademiese proses in Funk se woorde: "This is the way of critical scholarship: propose, review, reformulate, publish, test, test, test. ! The mills of scholarship grind slowly, but they grind exceedingly small. The end product of this process is something called the scholarly consensus".

    Daar is nog iets oor die historiese metode wat opgeklaar moet word. Party probeer die metode weerstaan deur 'n onderskeid te tref tussen sogenaamde "hoër kritiek" en "laer kritiek". So lank mens "laer kritiek" beoefen, is die historiese metode aanvaarbaar, maar die oomblik as dit "hoë" dinge aanraak, is dit onaanvaarbaar en "misleidend". Die sogenaamde "hoër" en "laer" het NIKS MET DIE METODE TE DOEN HET NIE, maar met die konklusies. As die konklusies nie te lekker is nie, is dit "hoër" maar wanneer dit onskadelik geag word, is dit "laer". (Die beskrywings hoog en laag het te doen met sogenaamde belangrikheid, met ander woorde, dinge soos belydenisse en wonderwerke is "hoë" goed en die manuskripte van die Bybel is "lae" goed. Ekself sal nooit die tekste van die Bybel as iets "laag" beskou nie).

     

  5. Elk geval, die Jesus Seminar vergader sedert 1985, het meer as 200 lede en die resultate van hulle deliberasies tot dusver is in die volgende drie boeke gepubliseer: • Funk, F. W., Hoover, R. W., & The Jesus Seminar. (1993). The five Gospels: the search for the authentic words of Jesus. New York: Polebridge Press.

    • Funk, R. W., & The Jesus Seminar. (1998). The acts of Jesus: the search for the authentic deeds of Jesus. New York: Polebridge Press.
    • Funk, R. W., & The Jesus Seminar. (1999). The gospel of Jesus according to the Jesus Seminar. New York: Polebridge Press.

    Die Jesus Seminar het 'n webblad waar meer inligting te vinde is.

    Daar het ook al 'n respons verskyn vanuit die kringe van die Jesus Seminar oor al die sogenaamde kritiek: • Robert J. Miller (1999), The Jesus Seminar and its critics . New York: Polebridge Press (isbn 0-944344-78-X). Miller wys daarop dat die meeste kritici vyandige retoriek gebruik om ongemaklike vrae oor die Evangelies se historiese betroubaarheid te ontduik. Lees gerus ook sy artikel ('n internetpublikasie) in die verband.

    Let op, die Jesus Seminar is 'n belangrike medium van inligting en stimulus tot refleksie. Dit is nie die belangrikste of die enigste sentrum van ondersoek en bron van inligting nie en allermins verhewe bo kritiek — ek herhaal maar die punt 'n paar keer, want sommige mense (en sogenaamde geleerdes) wat met ons wil "praat" kan nie verstaan dat daar 'n verskil is tussen iets aanbeveel as die moeite werd en mens se eie opvatting en benadering nie.

    Die Westar Institute (wat die Jesus Seminar borg) publiseer ook 'n paar tydskrifte , waarvan The Fourth R baie lesenswaardig is en dikwels goeie inligting in baie leesbare formaat aanbied. (Die naam "Fourth R" sinspeel op die Amerikaanse slagspreuk oor opvoeding: "The three R's : r eading, w r iting and a r ithmetic". Die tekortkoming is dan " r eligion".)

     

  6. Daar moet ook onderskei word tussen die Jesus Seminar (en Robert Funk) se standpunte en die voortgaande gesprek en navorsing wat dit gegenereer het tussen die lede van die Seminar. Die lede van die Jesus Seminar beskou die Seminar se produkte as beginpunte , as tekste waarmee en waaroor dialoog gevoer kan word op soek na verdere insig. Met ander woorde, nadat mens die probleme en basiese aspekte met behulp van die Jesus Seminar verken het, is daar nóg veel te leer vanuit die publikasies van John Dominic Crossan en Marcus Borg, om maar net twee uit te sonder.

    Nie een van ons (die nuwe hervormers) is lede van die Jesus Seminar nie — alhoewel daar ander Suid-Afrikaanse geleerdes is wat wél lede is. Ons standpunt spruit (onder andere) voort uit die onkunde wat rondom die historiese metode bestaan. Maar vir ons is vrae na historisiteit nog nie genoeg is nie. Historiese ondersoek handel nie net oor dit en dat wat in die verlede gebeur het nie, maar ook oor historiese verstaan . Om iets histories te verstaan, behels ook om jou in 'n ander wêreld te kan verplaas; om te besef dat mense in ander sameleweings anders gedink het, 'n ander verwysingsraamwerk gehad het, en op 'n unieke wyse anders as ons geglo het. Daar is heelwat vanuit hierdie perspektief gedoen deur ons, byvoorbeeld in terme van geskiedenisfilosofie, antieke Judaïsme, mondelinge tradisies ensomeer, maar die voorwaarde om sulke besinning oor die Jesus Seminar te kontekstualiseer, is begrip van wat die probleme is en wat die stand van die kritiese beskouing is . 'n Bietjie worsteling met konvensionele Nuwe Testamentiese wetenskap is onvermydelik. Die soort van gesprek wat ons wil voer is in die lyn van: Wat regtig gebeur het en wie wat wanneer gesê het, is uiters belangrike vrae. Maar dan moet daarna óók gevra word, wat beteken hierdie verhale/briewe/woorde? Nie net wie, wat en wanneer nie, maar veral ook waarom .

    In die trant van die implikasies van die historiese Jesus ondersoek wil ek graag die volgende publikasies van die Jesus Seminar ook aanbeveel:

    • The Jesus Seminar (2000). The once and future Jesus. Santa Rosa: Polebridge Press (isbn 0-944344-80-1).
    • Fellows of the Jesus Seminar (2001). The once and future faith. Santa Rosa: Polebridge Press (isbn 0-944344-85-2).
    • Roy W. Hoover (ed) (2002). Profiles of Jesus. Santa Rosa: Polebridge Press (isbn 0-944344-94-1).
    • Kathleen Corley (2002). Women and the historical Jesus. Santa Rosa: Polebridge Press (isbn 0-944344-93-3).

    'n Volledige lys van al die publikasies van die Jesus Seminar en die lede daarvan is beskikbaar.

    Daar is ook ander webbladsye wat sinvolle besprekings van die Jesus Seminar aanbied; ek beveel die volgende aan:
    www.religion.rutgers.edu/jseminar/quest.html

    Daar is natuurlik 'n kleinhuisie vol webbladsye wat die Jesus Seminar afkraak. Ten spyte van heelwat pretensie het die goed nie veel om die lyf nie; die beskuldigings is bykans verbatim dieselfde (die Seminar se lede is onnosel en inkompetent, hulle ontken die bestaan van God, verwerp wonderwerke en die Bybel word bevraagteken; hierteenoor word beklemtoon dat Jesus het tog vir ons "sondes" gesterwe, en vir "ons" (lees: "net hulle") siele opgestaan). Die Jesus Seminar se publikasies en hierdie teensprake praat net nie oor dieselfde goed nie. Vir my is meeste van dié blaaie bra vervelig, want dit verwys nie juis sinvol na die probleme waarmee ek worstel nie. Maar dis my opinie. Voorbeelde van die soort van reaksie op die Jesus Seminar is:
    www.jesus-seminar.net
    www.leaderu.com/orgs/probe/docs/jesussem.html
    www.str.org/free/commentaries/ apologetics/bible/jsuf.htm

    'n Meer gesofistikeerde reaksie is die van Birger Pearson, wat hom toespits op die "nie-apokaliptiese" Jesus wat sigbaar word in die Jesus Seminar se voorstelling. Maar dit is nie kritiek om die Jesus Seminar se "veronderstellings" te verwerp net omdat dit nie joune is nie . Van Pearson se ander kritiek is vreemd, want hy deel heelwat van die konklusies van die Jesus Seminar.

     

  7. Die Jesus Seminar en hulle navorsingsuitsette kan nie maklik geïgnoreer word nie. Selfs al voel mens verontrus oor wat hulle doen, moet daar erns met hulle werk en veral met hulle vraagstukke gemaak word. Die afsnypunt is nie hoe "ortodoks" die Jesus Seminar is nie, maar die vraag of die geskiedenis belangrik is of nie. As die geskiedenis belangrik is dan moet jou metodes en bronhantering dieselfde wees as waarmee ander historiese kennis verkry word. Wees tog net eerlik en gee òf die aanspraak op historiese feitelikheid op, óf sê duidelik en ondubbelsinnig wat is dan onhistories en hoekom.

    Daar was 'n tyd en 'n plek toe baie mense alles in die Nuwe Testament op dieselfde lyn geplaas het: elke woord (van die vertaling) is presies net so waar en het presies net so gebeur. Iemand mag dalk so 'n benadering vandag nog moontlik ag, maar daar is diegene wat nie meer so na die Nuwe Testament kan kyk nie, nie meer so daarna wil kyk nie, en ook oortuig is mens mag nie meer so na die Nuwe Testament kyk nie (as gevolg van waardes oor waarheid, geskiedenis, realisme, eerlikheid). Dit help nie om met ons te raas omdat ons dit nie so wil of kan doen nie.

    Ek sluit af met twee aanhalings. Van Robert Funk: To be sure, I am not of the opinion that facts of themselves will provide us with the ultimate truth about Jesus, about ourselves, and about our world. But whatever we come to believe about those ultimate issues should be informed by the facts, insofar as we can discover them. I am not an empiricist, much less a positivist, contrary to some of my critics. But the pressure to discover all we can know about our past, about the history of Jesus, and about the physical universe has a cathartic way of disciplining our imaginations. En van Sallie McFague: "all theology must be rooted in the sense of reality current in our time."

 

Die geboorteverhaal van die historiese Jesus

deur Sakkie Spangenberg

Die wyse waarop baie van ons die Bybel lees en verstaan, verskil aansienlik van vroeëre geslagte se lees en verstaan daarvan. Ons is beïnvloed deur ten minste drie groot omwentelings in die geestesgeskiedenis van die Westerse wêreld. Gedurende die vyftiende tot sewentiende eeu het daar 'n omwenteling voorgekom in Westerlinge se begrip van die waarheid. Gedurende die sewentiende tot negentiende eeu het daar 'n omwenteling plaasgevind in hulle verstaan van die geskiedenis. Gedurende die twintigste eeu het daar 'n omwenteling plaasgevind in hulle omgang met literatuur.

Die viering van Kersfees bied na my mening 'n goeie aanknopingspunt om 'n keer die effek van hierdie omwentelinge en die belangrikheid van die historiese Jesusnavorsing te illustreer.

Christene wat tot die Westerse tradisie van die Christendom behoort, vier Jesus se geboorte op 25 Desember. Christene wat tot die Oosterse tradisie behoort, vier sy geboorte op 6 Januarie. Twee tradisies en twee verskillende datums! Wie is reg? Is Jesus op 25 Desember of op 6 Januarie gebore?

Uit navorsing het dit duidelik geword dat nié één van hierdie datums korrek is nié. Jesus van Nasaret (of dan die historiese Jesus) is nie op 25 Desember óf 6 Januarie gebore nie. Ons het hier te doen met 'n tradisie wat sy oorsprong in die vierde eeu nC het.

Hoe het dit gekom dat 25 Desember gekies is? Die datum hou verband met 'n fees wat in Europa gevier is om die terugkeer van die son na die lang Europese winter, te herdenk.  Die Noordelike wintersonstilstand vind jaarliks op 21/22 Desember plaas. Die fees was bekend as die fees van die onoorwinlike Son. Omdat die Christelike godsdiens die amptelike godsdiens van die Romeinse ryk geword het, is hierdie fees verchristelik.

Dis egter nie net oor Jesus se geboortedag wat daar verskillende tradisies bestaan nie, maar ook oor sy geboortejaar. Is Jesus van Nasaret 2002 jaar gelede gebore? Anders gestel: Is Jesus in die jaar 1 nC gebore? Volgens Matteus en Lukas is Hy gebore tydens die bewind van Herodus die Grote (Matt. 2:1, Luk. 1:5). Uit buite-bybelse bronne weet ons dat Herodus in die jaar 4 vC oorlede is. As ons die twee evangelies se gegewens aanvaar, moes Jesus dus vóór 4vC gebore gewees het. Lukas gee egter addisionele inligting. Volgens hom was Sirenius goewerneur van Sirië toe 'n volkstelling gehou en Jesus gebore is (Luk. 2:1-7). Maar Sirenius het eers gedurende die winter van 6-7 nC aan bewind gekom. Lukas se twee datums rym dus nie mooi nie. Jesus kon nie vóór 4vC én ná 6 nC gebore gewees het nie! Êrens het Lukas se inligting hom in die steek gelaat.

'n Derde saak waaroor daar verskillende tradisies bestaan, is Jesus se geboorteplek. Volgens Matteus het Josef en Maria in 'n huis in Betlehem gewoon en het die ster die wyse manne daarheen gelei (Matt. 2:9-11). Volgens Lukas het die gesin in Nasaret gewoon (Luk. 2:1-7) en is Josef en Maria deur keiser Augustus se sensusopname gedwing om na Betlehem te gaan. Hier in Betlehem is Jesus toe in 'n stal gebore waar die skaapwagters Hom gevind het. 'Hier is nie sprake van 'n teenstrydigheid nie', sal sommige lesers sê. Maar was Jesus in 'n huis gebore (soos Matteus beweer), of is Hy buite die herberg in 'n stal gebore (soos Lukas beweer)? Was daar wyse manne of skaapwagters? Ons kan die vraag nog indringender vra: Was Jesus wél in Betlehem gebore (soos Matteus en Lukas beweer), of is Hy in Nasaret gebore (soos Markus en Johannes veronderstel)? Nêrens in Markus of Johannes word na Hom verwys as 'Jesus van Betlehem' nie, maar altyd as 'Jesus van Nasaret' (vgl Mark. 1:9, 24; 10:47; 14:67; 16:6; Joh. 1:45; 18:5, 7).

Gerd Theissen ('n Duitse Nuwe-Testametikus) skryf die volgende hieroor: 'My gevolgtrekking is dat Jesus van Nasaret kom. Die verskuiwing van sy geboorteplek na Betlehem is die resultaat van godsdienstige legende en kreatiwiteit. Volgens die destydse verwagting moes die messias in Betlehem gebore word, daarom verplaas Matteus en Lukas Jesus se geboorte daarheen.'

Die historiese Jesus was dus nooit in Betlehem gebore nie, ook nie in die jaar  1 nC nie en allermins op 25 Desember. Wat het Christene en die wêreld dan op 25 Desember gevier? Na my mening 'n roereier-geboorteverhaal. Dis 'n verhaal wat nêrens só in die Bybel opgeteken staan nie, maar oor eeue uit Bybelse en buite-bybelse materiaal geskep is - natuurlik met verskeie oogmerke. Tans is dié verhaal 'n handige instrument om kapitalisme te dryf.

Ons het op 25 Desember eintlik die geboorte van die 'global capitalistic and sentimental Jesus' gevier. Kersfees het 'n kapitalistiese fees geword. In die VSA (wat 70% van die wêreld se hulpbronne jaarliks verorber) word 40% van die land se handel tydens die veertien dae tussen 'Thanksgiving day' en Kersdag gedryf. Ek wonder hoe ons land se Desemberhandelsyfers gaan lyk en twyfel of dit die koninkryk is waarvoor die historiese Jesus Hom beywer het.

Die nuwe hervormers kán ons gesond maak

deur Diek van Wyk
 

In die rubriek Geestelike Literatuur op LitNet verskyn daar 'n artikel van Christina Landman onder die titel Kan die Nuwe Hervormers ons gesond maak? waarin sy onder meer verwys na die boek Die Nuwe Her-vorming wat pas verskyn het. In die artikel stel sy die vraag of die alternatiewe diskoerse wat die nuwe hervormers aanbied, mense gesonder maak, of anders gestel: of die nuwe hervormers se Jesus wel aan gesonde mense se kant staan. 

Sy betoog in die artikel dat die Suid-Afrikaanse samelewing siek is. En dan gaan dit in die eerste plek om psigies en spiritueel siek-wees, nie soseer om liggaamlike patologieë nie, hoewel dié daarby kan aansluit. Sy voer aan dat daar veral vier diskoerse oor Jesus is wat mense siek maak, nl. diskoerse oor die Jesus van die Piëtisme, die Fundamentalisme, die Charismatici en die apartheidskerke. Sy kyk vervolgens heel simpatiek na die alternatiewe diskoerse en simbole wat die Nuwe Hervorming aanbied, maar besluit dan tog dat dit nie genesing (kan) bring nie. Veral twee dinge pla haar van die nuwe hervormers. Eerstens vind sy dat die naam Nuwe Hervorming pretensieus is omdat wat die nuwe hervormers wil doen iets anders is as wat hervormers in die verlede gedoen het, en omdat hulle van die foutiewe veronderstelling uitgaan dat ons in 'n post-moderne samelewing lewe. Tweedens beweer sy dat die nuwe hervormers studeerkamerteoloë is wat hulle nie voldoende met die pyn en verliese van mense buite hulle studeerkamers identifiseer nie en dus nie dié problematiek aanspreek nie. 

Op die oog af kan dit dalk lyk of daar meriete in haar argumente is. Daar is inderdaad enkele opsigte waarin sy waarskynlik gelyk het. Maar dan vind ek dat daar in elke geval 'n teenkant is wat oor die hoof gesien word en wat, om die minste te sê, 'n meer genuanseerde prentjie vra. 

Om met haar beswaar teen die naam "Nuwe Hervorming" te begin. Sy argumenteer dat die nuwe hervormers iets heeltemal anders wil doen as wat hervormers in die verlede gedoen het. As dit gaan om iets soos die Protestantse Hervorming van die 16de eeu, het sy gelyk. Die Nuwe Hervorming wil nie terug gaan in tyd nie (al staan dit simpatiek teenoor sekere apsekte van die vroeë Christendom) en dit is ook nie essensieel 'n volksbeweging nie. En dit is baie waarskynlik dat die publiek "daarbuite" dit met die Protestantse Hervorming verwar. So 'n verwarring sou egter op 'n bepaalde, en onvolledige, siening van hervorming berus. Piet Muller wys in Die Nuwe Hervorming daarop dat die Christendom oor die eeue heen verskeie hervormings ondergaan het. 'n Hele aantal daarvan verskil inhoudelik en struktureel net so veel van die 6de eeuse Hervorming as laasgenoemde van die Nuwe Hervorming. In die heeltemal geldige betekenis wat hy daaraan heg, kwalifiseer die Nuwe Hervorming inderdaad as 'n hervorming. 

Die Nuwe Hervorming veronderstel wel deeglik 'n post-moderne perspektief. En Christina het groot gelyk dat ons nie in 'n post-moderne samelewing leef nie. Maar dit beteken nie dat die nuwe hervormers die samelewing verkeerd lees nie. Daar is genoeg Suid-Afrikaners wat in die post-moderne idioom dink en probeer lewe en wat in die Nuwe Hervorming bevryding van pre-moderne godsdienstige diskoerse en nuwe ruimte vir spiritualiteit (kan) vind. Ter wille van hulle - en daar is meer van hulle as wat algemeen besef word - moet die Nuwe Hervorming se diskoerse op die tafel bly. Die post-modernes is egter nogtans 'n klein persentasie van die samelewing. Sy moet dus gelyk gegee word dat die nuwe hervormers (voorasnog) nie 'n massale navolging gaan kry nie en dat daar nie 'n "hele hervorming" op die horison sigbaar is nie. Dit sluit natuurlik nie uit dat dinge later kan verander nie. 

Ek glo nie die nuwe hervormers wil die diskoerstafeldoek met al die breekgoed en eetgerei daarop van die godsdienstige tafel aftrek en dit opnuut dek nie. As ek hulle reg verstaan, wil hulle 'n nuwe alternatief op die tafel plaas terwille van diegene wat nie genesing deur die bestaande diskoerse oor Jesus - en 'n hele paar ander aspekte van die Christelike godsdiens - vind nie. Dit is juis omdat hulle so 'n nuwe, alternatiewe diskoers aanbied, dat daar tog 'n veran-dering in navolging van die nuwe hervormers begin plaasvind, al is dit voorasnog heel beskeie vergeleke met hervormings van die verlede. 

Haar tweede beswaar vind ek problematies. Ek is nie seker dat sy dit so bedoel nie, maar dit wil tog lyk of die basis van haar argument rus op die idee dat 'n diskoers net goed is as dit vir die meeste mense nuttig is of genesing bring. Die diskoers wat die meeste terapeutiese waarde het, is die een wat gevolg moet word. Daarom behoort die nuwe hervormers volgens haar 'n ander pad te volg. Of dit teologies aanneemlik is, weet ek nie. Dit moet die teoloë maar onder mekaar uitmaak; as leek wil ek my nie daaraan waag nie. 

Dan is dit ook nie vir my duidelik watter diskoers volgens haar die aangewese alternatief vir die Nuwe Hervorming is nie, gegewe dat sy vier bestaande diskoerse as siekmakend verwerp. Aan die een kant meld sy van mense wat uit rystoele opstaan en hulle krukke weggooi omdat hulle met God hande gevat het, vermoedelik omdat hulle in die baan van 'n bestaande diskoers beland het. Aan die ander kant sluit sy af met die gedagte dat teoloë tussen mense in hulle lyding en verliese moet gaan staan en saam nuwe woorde moet ontdek waarmee God se hande gevat kan word. Dit kan net een ding beteken: dat die regte diskoers nog gevind moet word. 

Deel van 'n genesende diskoers behels volgens haar dat Jesus se opstanding as "waar" oorvertel kan (of moet?) word. Die feit dat sy "waar" tussen hakies sit, sê vir my dat sy die opstanding nie as 'n fisiese, historiese gebeure sien nie, maar, soos sy dit stel, as 'n wonderlike narratiewe simbool wat helend werk. As dit die geval is, verskil sy nie prinsipieel van die nuwe hervormers nie. Dit sou hoogstens op 'n aksentverskil en 'n verskil in metode neerkom, miskien iets soos dat die historisiteit van die opstanding nie ter sake is nie, in plaas daarvan dat dit verwerp word. Dit hang natuurlik ook gedeeltelik saam met hoe die Christus-verhaal gelees word. Wat egter seker is, is dat die meeste nuwe hervormers die opstanding ewe-eens as 'n simbool en ook as 'n genesende waarheid beskou. 

Die begrip "siek wees" en in verband daarmee "gesond word" moet ook van nader bekyk word. Soos sy dit gebruik, het siekwees betrekking op 'n spektrum van spirituele, psigologiese en liggaamlike probleme of ongesteldhede wat 'n skaal van minder na meer ernstig bestryk. Die implikasie is dat 'n geloofsdiskoers se helende krag daarin lê dat dit mense die moed en die krag gee om hulle aan probleme binne dié spektrum te ontworstel en in uitsonderlike gevalle selfs om hul krukke weg te gooi en uit hul rystoele op te staan. 

Die Nuwe Hervorming kan waarskynlik nog nie op dié stadium in sy CV skrywe dat hy genesing aan die ernstige kant van die siekte-spektrum, dit wil sê liggaams- en geesteskrankheid, bewerkstellig het nie. Maar as dit kom by die minder ernstige kant van die spektrum, spirituele eensaamheid, "disembodiment" en ontreddering - haar woorde - wil ek van haar verskil. In dié opsig werk die Nuwe Hervorming tog helend. Ek weet. Ek was self in daardie situasie. Nie geestessiek of liggaamlik krank nie, net in 'n spirituele lugleegte as gevolg van godsdienstige diskoerse wat ek nie kon aanvaar nie. Dit was eers nadat ek met die Nuwe Hervorming kennis gemaak het dat ek 'n weg na spirituele heelheid ontdek het wat vir my werk. Ek is nie die enigste een nie. Daar is baie wat dieselfde storie kan vertel. 

Ek wil dus aanvoer dat die Nuwe Hervorming tog helend werk, weliswaar nie vir almal nie, nie op die dramatiese skaal van fisieke genesing en moontlik ook nie op die vlak van geestesongesteldheid nie, maar wel waar spirituele heelheid ontbreek. Daarom het dit afgesien van akademies teologiese oorwegings tog bestaansreg; dit moet ter wille van ouens soos ek op die godsdienstige diskoersmark genoteer word. Al sou die nuwe hervormers dan net studeerkamerteoloë wees - wat ek betwyfel -  is hulle wel deeglik bewus van die spirituele nood van ons wat nie vat kan kry aan die bestaande diskoerse in die godsdienstige mark nie. In dié opsig staan hulle langs ons in ons nood. 

Ek moet saamstem met haar slotsom dat dit nodig is dat teoloë tussen mense in hulle lyding en verliese moet gaan staan en saam nuwe woorde moet ontdek waarmee God se hande gevat kan word. Ek wil egter betoog dat dié nuwe woorde 'n meta-diskoers, 'n diskoers oor diskoerse, moet wees wat mense help om langs die weg van diskoerse wat vir hulle werk, genesing te vind, of dit nou piëtisties, fundamentalisties, charismaties, die diskoers van die nuwe hervormers of enige ander diskoers is. Want ek dra ook kennis van mense wat via die diskoerse wat sy afwys, my teëgaan en sekere mense siek maak, in een of ander vorm genesing gevind het. Dié meta-diskoers moet 'n diskoers wees wat erns maak daarvan dat daar in die huis van die Vader vele woninge is en dat teoloë, elk in die lig van haar/sy insig en oortuigings, die verskeidenheid paaie daarheen moet belig sodat siekes, elk volgens sy/haar behoeftes en geaardheid, 'n weg kan vind waarlangs genesende tuiskoms plaasvind. Dit is 'n benadering wat die nuwe hervormers sal onderskywe. Dit blyk nie net uit wat hulle in Die Nuwe Hervorming en op hierdie webwerf te sê het nie, maar ook uit hul standpunt dat die Christelike godsdiens horisontaal, en nie vertikaal nie, teenoor ander religieë gestel moet word. As ander godsdienste blikke op die misterie van God kan hê, volg dit dat daar binne die Christendom ook verskillende invalshoeke op Hom kan wees. 

My antwoord aan Christina is dus: Nee, die Nuwe Hervorming kán ons gesond maak en maak ons inderdaad gesond, al is dit (voorasnog) nie op die skaal van 'n "hele hervorming" nie. 

 

EKOLOGIESE SAMEHANG

Schalk Burger

Ek wil baie kortliks oor ekologie praat en gaan eers by 'n paar definisies stilstaan
voordat ons na 'n klompie voorbeelde gaan kyk.

Die woord ekologie is afgelei van die Griekse woorde oikos , wat tuiste beteken en logos , wat studie beteken. Ekologie beteken dus letterlik die studie van ons tuiste nl. die aarde. Daarom is dit 'n baie wye onderwerp wat alle natuurlike dinge, lewendig of nie, op ons planeet insluit. Dit verwys ook na die studie van verwantskappe, soos bv. tussen plante en klimaat, grond en rots, diere en plante, ens. In die laaste plek verwys dit na die prosesse wat in die natuur plaasvind, prosesse wat die interaksie tussen die onderskeie elemente van die natuur behels.

'n Ekostelsel is die interaksie van 'n gemeenskap van organismes met mekaar plus die omgewing waarbinne dit plaasvind.

Interaksie tussen spesies is miskien vir ons die bekendste. Eerstens is daar predasie – leeus wat rooibokke vang, rooikatte wat dassies vreet, uile wat rotte vang, ens. En ons is geneig om te dink dat predasie eensydig is – net tot voordeel van die roofdier. Maar dis nie waar nie want predasie het 'n 'n gesonde prooibevolking tot gevolg. Omdat die swakker individue uit die bevolking verwyder word, word die beste genetiese basis verseker ngtermyn oorlewing van die spesie.

In die meeste kulture word parasiete as peste gesien maar hulle het ook 'n belangrike rol in die natuur omdat, weereens, die swakker individue ge-elimineer word.

Daar is ook meer positiewe interaksies. Kommensialisme vind plaas wanneer twee organismes of spesies saamleef en een word bevoordeel sonder om die ander skade aan te doen:

  • Verkryging van voedsel: Veereiers en beeste: Die veereiers vang die insekte wat deur die beeste opgejaag word.
  • Ondersteuning: Klimplante gebruik bome vir ondersteuning om sodoende hul blare in die son te kry om te kan fotosinteer.
  • Vervoer: Miskruiers en myte: Die myte klim op die miskruier en word vervoer wanneer die miskruier na 'n volgende bestemming vlieg.

Mutualisme, waar twee spesies saamleef en albei voordeel daaruit trek:

  • Vertering: Zebras en organismes in hul spysverteringskanaal.
  • Voortplanting: Vye en wespes

Dis nie net organismes wat interaksie met mekaar het nie maar ook die omgewing wat met organismes interaksie het. 'n Voorbeeld is grond en plante, waar die kwaliteit van die grond die groei van die plant beïnvloed. Nie-lewende elemente kan ook met mekaar in wisselwerking wees, soos bv. geologiese formasies wat aanleiding gee tot spesifieke grondsoorte, ook as gevolg van klimaatsoestande. Spesifieke plantsoorte sal spesifieke herbivore (plantvreters) lok wat weer spesifieke roofdiere sal lok.

Interaksies soos kommensialisme en mutualisme maak nuwe moontlikhede vir spesies oop. Ligene is 'n goeie voorbeeld hiervan waar 'n alg en 'n fungus kragte saamsnoer om in moeilike omgewings te oorleef, soos bv. op kaal rotse.

Ons begin sien nou 'n nuwe dimensie ontwikkel. Sekere spesies het ander spesies nodig maar so ook het sekere spesies sekere omgewingstoestande nodig. Bv. die planktonontploffings (rooigety) aan die Weskus kan nie plaasvind as die Suidooster nie vir 'n paar dae sterk gewaai het om sodoende die verskynsel van opwelling te veroorsaak nie. Die opwelling bring voedselryke water na die oppervlakte waar die plankton dit kan benut. Die plankton begin teen 'n geweldige tempo vermeerder, in so 'n mate dat hulle in massas begin vrek. Die dooie plankton vorm die rooigety. Ons kom dus uit by interafhanlikheid: geen spesie kan onafhanklik van ander spesies en die omgewing bestaan nie.

Dave Pepler van Groen op Kyknet het eenkeer gesê dat wanneer hy na die wonders van die natuur kyk hy oortuig is dat hemel hier op aarde is. Een van die wonders in die natuur wat my laat dink dat Dave dalk reg is, is die interaksie tussen vye en wespes. Onthou ons het vroeër gesê dat dit met voortplanting te doen het.

Die simbiose tussen vye en wespes is 'n lang proses van evolusionêre aanpassing wat in die Kryttydperk 100 miljoen jaar gelede begin het toe die Ficus- genus ontstaan het. Daar is vandag meer as 900 Ficus- spesies in die wêreld en elke wildevyspesie het sy eie spesie wespe. Die wespe bevrug die vy en as teenprestasie word hy toegelaat om sy eiers in die blomme te lê en dus ook voort te plant. Hoe werk dit?

Die vrug van die wildevy is eintlik 'n saamgestelde blom want binne die omhulsel of skil is daar honderde klein blommetjies. Daar is manlike sowel as vroulike blomme. Die vroulike blomme raak volwasse aan die begin van die vy se voortplantingssiklus en die manlike blomme aan die einde. Die klein gaatjie aan die onderkant van die vy is bedek met 'n digte versameling van skubbe.

Wanneer die vroulike blomme ontvanklik raak, is die vrug so 2-4 weke oud, klein en groen. Dit is op hierdie stadium dat die die vrug deur een of meer stuifmeeldraende vroulike wespes binnegedring word.. Hulle gaan die vy binne deur die klein opening en word aangelok deur 'n chemiese sein, die reuk van die vroulike blommetjies, en slegsdie spesifieke wespespesie vir die spesifieke wildevyspesie word aangelok. Die vroulike wespe het sekere fisiese aanpassings wat dit vir haar moontlik maak om tussen die skubbe wat die gaatjie bedek, deur te kom. Die aanpassings behels 'n plat kopsegment en gemodifiseerde voelers, kake en pote.

Gedurende die ontvanklike tydperk, wat 'n paar dae duur, raak die skubbe om die gaatjie effens losser en vorm klein spleetjies. Die vroulike wespe druk nou haar plat kop onder die skubbe in en beur vorentoe ten einde haar deur die opening te forseer. In hierdie proses word die voelers en die vlerke afgestroop. Die aantal wespes wat die vy binnegaan ,word beheer deurdat die skubbe om die gaatjie aan die einde van die toeganklike tydperk toegaan.

Die wespes wat nou binnekant is begin onmiddellik eiers lê en in die proses die vroulike blommetjies te bevrug met die stuifmeel wat hulle dra. Na 'n paar uur van eiers lê, (in gunstige toestande kan dit honderde wees) vrek die wespe.

Die larwes wat uitbroei begin teer op die jong vrugbeginsels, wat die gevaar laat ontstaan dat nie een sal oorbly om saad te produseer nie. Daarom ontwikkel die vy twe tipe vroulike blomme, een met kort steeltjies en een met lang steeltjies. Die wespe se lêboor kan slegs die vrugbeginsel van die kortsteelblommetjies bykom om haar eiers in te lê. Maar sy weet dit nie vooraf nie en probeer dus ook die langsteelblommetjies bykom, sonder om 'n eier te lê, maar sy bevrug steeds die blommetjie.

Die bevrugting van die vy is 'n doelbewuste aksie en verseker die voortplanting van die vy en daarom ook van die wespe. Nie een van die wespe se se organe, soos bv. die spesiale stuifmeelsakkies op sy maag of die instinkte gerig op die bestuiwing van die vy het enige direkte gebruike vir die wespe nie.

Nadat bestuiwing plaasgevind het, vergroot die bevrugte vrugbeginsels en vul die hele binnekant van die vy. In die proses word die oorblywende wespes vergruis. In die langsteelblomme ontwikkel nou die vy se sade en in die kortsteelblomme leef die larwes van die die wespes. Na 'n paar weke, soos die vy groter word en daar weer 'n sentrale holte gevorm het, begin die manlike wespes uit hul omhulsels te voorskyn kom. Hulle is larwe-agtige insekte sonder vlerke.

Die manlike wespe gebruik nou sy voelers om die vroulike wespes in hul omhulsels op te spoor. Hy byt 'n gat in die wand van die omhulsel en bevrug die vroulike wespe. Sodra al die vroulike wespes bevrug is, boor die manlike wespes een of meer tonnels deur die wand van die vy. Die instroming van vars lug verdun die hoë konsentrasie van koolsuurgas binne die vy en 'n ewewig ontstaan tussen die interne en eksterne atmosfeer. Die toename in suurstof is 'n teken vir die manlike blomme om ryp te raak. Die vroulike wespes begin nou om doe gaatjies waardeur bevrugting plaasgevind het te vergroot en kom uit hul omhulsels uit. Hulle het vlerke en is meer delikaat as die manlike wespes.

Die vroulike wespes skraap die stuifmeel van die manlike blommetjies met hul harige voorpote bymekar en versamel dit in die stuifmeelsakkies. Hulle kruip nou deur die tonnels en vlieg weg na 'n ander wildevy wat in 'n ontvanklike stadium is. Die proses word herhaal en duur 50-60 dae.

Ons het gekyk na die wonderbaarlike simbiose tussen wildevy en wespes vir die doel van voortplanting maar die wildevyeboom is natuurlik 'n klein ekostelsel op sy eie. Voëls en ander diere vreet sy vrugte en versprei so die saadjies. Daar is roofdiere wat op die kleiner diere jag maak en daar is organismes wat die vrugte wat op die grond beland benut, ens., ens.

Ek wil egter in meer detail van 'n ander ekostelsel vertel wat baie van die elemente van interafhanklikheid illustreer. Dit is die versamelvoëlnes.

Heel eerste kyk ons na die invloed van die omgewing. Versamelvoëls kom nie orals voor nie maar in 'n breë band wat in 'n noord-noordwestelike rigting strek vanaf Kimberley tot by die Kunenerivier. Hoekom is dit so? Versamelvoëls bou hul neste van gras. Die klimaat moet dus die groei van gras bevorder en daar moet voldoende en geskikte gras beskikbaar wees. Daarom dat hulle die Namib vermy. Daar is nie voldoende gras nie. Maar in die oostelike dele van Suid-Afrika is daar volop gras. Hoekom kom hulle nie daar voor nie? Daar is 'n goeie rede daarvoor. Die versamelvoëlnes bestaan uit gras, wat in gebiede van hoë reënval mettertyd sal verrot. Opsommend moet dit dus genoeg reën vir gras om te groei maar min genoeg met genoeg sonskyn in die reënseisoen dat die gras nie verrot nie.

Die neste word dikwels in kameeldorings gebou en huisves gewoonlik tussen 50 en 60 broeipare. Elke nes het 'n aparte kompartement vir elke broeipaar, die woonstelblok van die Kalahari! Elke individuele nes het sy eie aparte ingang en die ingang word beskerm teen roofdiere deur sterk, harde grashalms rondom die ingang te rangskik op sò 'n manier dat dit vir roofdiere moeilik is om daar in te kom. Maar hoekom so 'n groot en ingewikkelde nes? Die nes met sy grasdak bied skadu in die somer, insolasie in die winter en beskerming teen reën. Dit bied dus 'n mikroklimaat waar die temperatuurskommelings tussen winter en somer en dag en nag relatief klein is. Dit maak dit vir die versamelvoëls moontlik om dwarsdeur die jaar te broei in klimaattoestande waar dit nie normaalweg moontlik sou wees nie. Maar hoekom wil hulle deur die jaar broei? Die rede is die geelslang. Nieteenstaande die veiligheidsmaatreëls sal die meeste geelslange daarin slaag om by individuele neste in te kom om die eiers of kleintjies te vreet. 'n Geelslang kan 'n hele nes se bevolking van kleintjies uitwis. Maar in die winter slaap die geelslang en dan broei die versamelvoëls steeds en kan hulle sodoende die spesie se voortbestaan verseker.

'n Ander baie interessante interaksie is diè met die dwergvalkie. Die meste versamelvoëlneste het 'n inwonende dwergvalkie. Hy beset een van die individuele neste en mens kan hierdie nes onderskei aan die wit mis by die ingang. Die versamelvoëls se mis bly binne die neste omdat dit help met temperatuur- en vogbeheer. Die dwergvalkie sal normaalweg nie op die versamelvoëls jag maak nie want hy leef van insekte en klein reptiele soos geitjies en akkedisse. In ruil vir huisvesting bied die dwergvalkie beskerming teen ander roofvoëls. Roofvoëls het klaarblyklik 'n etiese kode wat verhoed dat een roofvoël in 'n ander se terratorium oortree. Nieteenstaande die dwergvalkie se gootte skrik sy teenwoordigheid dus ander roofvoëls, wat wel op die versamelvoëls sal jag maak, af.

Breëkoparende en reuse ooruile gebruik die dak van die neste vir hul eie neste, sonder om die versamelvoëls skade aan te doen.

Versamelvoëlneste kan soveel as 'n paar ton weeg en word daarom dikwels in groot kameeldorings gebou. 'n Boom se takke het groot buigsaamheid en sterkte wanneer hulle lewendig is, as gevolg van die kapillêre water. Tydens erge droogtes vrek selfs groot bome, die takke droog uit en verloor hul soepelheid en sterkte en diè met 'n swaar nes aan die punt breek af en beland op die grond. Die gras, gemeng met voëlmis is dan in 'n tyd van voedselskaarste 'n bron van protoïen vir die grasvreters. Alternatiewelik is dit 'n bron van bemesting vir die plante in die omgewing en so word die siklus voltooi.

Uit slegs hierdie paar voorbeelde (en daar is duisende ander) kom mens agter hoe ongelooflik verweefd en in fyn balans die natuur is. Vir my is dit die lewendige en voortgaande bewys van die skepping en moet ek met Dave Pepler saamstem dat die hemel in baie opsigte inderdaad hier by ons is. Die moderne mens is primêr daarvoor verantwoordelik dat die balans in die natuur versteur word met die gevolg dat letterlik duisende spesies se voortbestaan bedreig word. Dit is dus belangrik dat ons bewus raak van en 'n gevoeligheid ontwikkel vir hierdie wonders om ons sodat ons 'n bydrae kan maak om dit vir ons kinders se kinders te bewaar. En ons moet die boodskap begin versprei, nie net in ons skole nie maar ook in ons kerke want dit is die verantwoordelikheid wat ons rentmeesterskap van die aarde, ons tuiste, op ons plaas.


Fundamentalisme

deur Pieter Botha
 

Fundamentalisme is 'n lelike ding. Deesdae betwis niemand in Suid-Afrika dat dit 'n slegte ding is nie; selfs die wat onmiskenbaar daarmee verbind word, wil nie fundamentaliste genoem word nie. Dit is bietjie soos die verskynsel "rassisme": niemand loop op straat rond en verkondig dat hy/sy 'n rassis is nie, en dit is nogal moeilik — selfs in Suid-Afrika — om 'n openlike rassis raak te loop. Natuurlik beteken dit nie dat rassistiese konflikte nie plaasvind nie. En ons almal weet dat onuitgesproke vooroordele orals raak geloop kan word. Fundamentalisme, wil ek beklemtoon, het te doen het met 'n gesindheid, 'n manier van lewe en dink, en daar lê die probleem.

Die term "fundamentalisme" het maar relatief onlangs sy verskyning binne die christelike wêreld gemaak. Fundamentalisme (met 'n hoofletter) verwys na 'n spesifieke stroming. Streng gesproke is dit 'n beweging, een van die "new religious movements" van die twintigstse eeu, 'n teologiese beweging wat in Amerika gedurende die eerste paar dekades van die twintigste eeu ontstaan het. Dit was 'n poging om die kernwaardes (die "fundamentals") van die christelike geloof te beskerm teen die invloed van moderne denke. Mens kan onmiddelik die probleem insien: met watter ander denke dan jou geloof bedink? Die manier hoe fundamentaliste die probleem hanteer is om die lewe en denke op te deel, met verskillende reëls en voorwaardes vir die verskillende dele.

Fundamentalisme is 'n komplekse en geskakeerde beweging, maar het veral die strewe om die "onfeilbaarheid van die Skrif" voor op te stel as teenvoeter (of as alternatief) vir wat hulle beskryf as "modernisme". Dit is hierdie faset wat die meeste in gesprekke met en oor fundamentalisme voorkom, en waarskynlik die prominentste aspek van die fundamentalistiese gesindheid of ingesteldheid. Ek wil op hierdie faset van die fundamentalistiese gesindheid fokus.

Oënskynlik het fundamentaliste dit oor die onfeilbaarheid van die Skrif. Maar dit gaan eintlik oor weerstand teen realistiese en konsekwente interpretasie van die Skrif. Hierdie weerstand behels verbysterende inkonsekwenthede en 'n ontstellende dualisme vir lewe en geloof.

  1. Oor inkonsekwenthede. Sommige goed moet letterlik, net so opgevat word, en ander moet met komplekse "hermeneutiek" en "teologiese metodes" geïnterpreteer word. Byvoorbeeld, die verhale oor die maagdelike geboorte, Jesus se 'wonderwerke' en die opstanding word net so letterlik opgeneem, maar die grootste deel van die Ou Testament word wegverklaar met besonder ingewikkelde "hermeneutiese beginsels". Daar is baie sulke inkonsekwenthede. Nog 'n voorbeeld (dink aan Adrio König se voorbeeld onlangs in Beeld) is vroue se onderdanigheid wat as 'n Bybelse feit geag word, maar mans se verpligte kort hare nie — terwyl altwee ondubbelsinnig en duidelik in die Nuwe Testament gestel word (1 Kor 11). Die een is 'n onproblematiese "feit" wat "net so daar staan" en die ander een is "irrelevant" op gronde van een moerse lang beredenering.

    Almal van ons — sonder uitsondering — selekteer. Ons behoort net eerlik daaroor te wees, en die seleksie duidelik, in die openbaar, histories en wetenskaplik begrond. My mening is dat die kerk verantwoordelikheid moet aanvaar vir al haar tradisies. Sy is immers die outeur daarvan (insluitende die kanon) en kán dit doen en behoort dit te doen. Daarom mag sy en moet sy haar tradisies bekritiseer, verwerk en herbedink.

    Fundamentaliste hamer op die maagdelike geboorte van Jesus. Hoe de drommel kan mens sê die stories oor Sjaka se onnatuurlike verwekking is legendes, maar Jesus s'n is letterlik? Is dit historiese metode of vooroordeel wat die verskil maak? En hoe word die teks gelees: wil Matteus en Lukas ons vertel oor Maria se baarmoeder — waavan NIEMAND enigiets kan sê nie — of, binne hulle konteks met hulle opvattings, iets sê oor wie werklik Israel is (Mt) en wat 'n alternatief kan wees vir die keiserlike ideologie (Lk)?

     

  2. Dualisme. Daar is al baie fundamentalistiese bybelkommentare geskrywe. Wat my aan die gang sit, is die skreiende teenspraak tussen die aanspraak en die praktyk. 'n Fundamentalistiese kommentaar sê uitdruklik die oogmerk is om die onfeilbaarheid (bedoelende nou historiese betroubaarheid) van die Bybel te bevestig. Maar lees jy nou die boek vind jy die grenslose onfeilbaarheid van menslike argumente. Dit gaan oor die oneindige vernuftigheid van die kommentator, wat met verbysterende detail elke moontlike en onmoontlike probleempie kan wegverklaar (vergelyk weer Adrio König se voorbeelde). Van hierdie verklarings staan absoluut NIKS in die teks self nie, en elke volgende fundamentalis het 'n ander, nog slimmer uiteensetting van hoe dit "eintlik" gebeur het en hoe dit "presies net so" gebeur het. Dit is ook 'n refrein in sulke benaderings, dat daar geen (of dan "bykans geen") probleem êrens in die Bybel is nie, en met verbluffende verbiositeit word dan ook alles uit die weg gerym.

    Jare gelede het my studentemaats dikwels gespot met die skisofrenie wat te vinde was in dié soort van boeke. Vandag sal ek nie so gemaklik die term gebruik nie (skisofrenie is 'n vreeslike siekte wat ontsettende lyding kan veroorsaak), maar ek dink ons almal begryp die punt: twee stelle reëls vir verskillende dele van jou lewe. Een stel vir jou geloofslewe en een stel vir die res van jou lewe.

    Wat ek hier probeer doen is om aan te dui hoekom ekself en baie ander mense gekies het om nie meer fundamentalisties te wil wees nie. Watter soort mens is jy wanneer jy twee stelle reëls aanlê vir jou verhouding(s) met die teenoorgestelde geslag: een vir wanneer jy by jou huweliksmaat is en een wanneer jy by ander mense is. Hoe gesond is dit om een stel reëls vir waarheid te hê wanneer jyself die geleentheid het om te verneuk en vir wanneer jy vermoed jy word verneuk?

    Dit is, myns insiens, die kern van die probleem van die anti-modernistiese strewe.

Ek weet die meeste van ons lesers sal verstaan wat nou nie gesê word nie, maar ek wil beklemtoon dat hierdie argument beteken NIE dat God ontken word NIE, OF dat die Bybel nonsens is, OF dat modernisme my god is NIE. Dit spruit voort uit die oortuiging dat ek hier en nou my lewe wil lei. Dit beteken wél dat daar probleme is met godsdienstige handelinge en voorskrifte en belydenisse wat werk met 'n laat-Romeinse en/of Middeleeuse wêreldbeeld. Presies dit is die probleem, nie die bewering dat daar nie 'n God is nie of dat die Bybel verwerp word nie.

Daar is (verskriklik baie) probleme met en deur moderne perspektiewe tot stand gebring. Daardie probleme kan net deur sinvolle moderne kritiek geanaliseer, gekorrigeer en genegeer word.

 

Goeie literatuur oor fundamentalisme 

My kollega, Johannes Vorster, het 'n paar jaar gelede 'n boekie vir ons studente geskrywe oor fundamentalisme. Hy het nog 'n paar afskrifte beskikbaar vir die koste van 'n paar rand (40). Kontak hom gerus.

James Barr het twee goeie boeke geskrywe.
Barr, J. (1977). Fundamentalism . London: SCM Press.
Barr, J. (1973). The Bible in the modern world . London: SCM Press.

'n Boek wat myns insiens verpligte leesstof is as mens ernstig is oor die Bybel: 
Shaw, G. (1983). The cost of authority: manipulation and freedom in the New Testament . London: SCM Press.

Ferdinand Deist het deeglik aangetoon watter rol verskuilde fundamentalisme in Suid-Afrikaanse (en Ned. Geref.) Bybelwetenskap speel. Sy vroeë dood het waarskynlik bygedra dat daar niks van die kritiek gemaak is nie:
Deist, F (1994). Ervaring, rede en metode in Skrifuitleg: 'n wetenskapshistoriese ondersoek na Skrifuitleg in die Ned. Geref. Kerk 1840–1990. Pretoria: Human Sciences Research Council.

Kyk ook na Sakkie se publikasies.

Grant Wacker, 'n Amerikaanse historikus, se artikels oor die opkoms en ontwikkeling van Amerikaanse Fundamentalisme en oor The Christian Right
Madalyn O'Hair, 'n uitgesproke teenstaander van georganiseerde godsdiens, het ook Fundamentalisme bespreek .
 

Martin Marty en R. Scott Appleby se Fundamentalism Project het vyf volumes navorsing oor die verskynsel gepubliseer. In die laaste hoofstuk van die eerste volume bespreek hulle die baie kenmerke wat tot mindere of meerdere mate die fundamentalistiese bewegings karakteriseer (kyk ook die laaste volume). 'n Oorsigtelike lysie daarvan is:

  • 'n godsdienstige idealisme as basis vir persoonlike en gemeenskaplike identiteit;
  • fundamentaliste beskou waarheid as iets wat geopenbaar is en één is ( unified );
  • waarheid gee aanstoot (met ander woorde, net diegene binne die beweging het toegang tot waarheid);
  • openbaring is absoluut en foutloos (en 'n dualisme is dus verpligtend);
  • fundamentaliste is oortuig dat hulle deel is van 'n kosmiese stryd; [nie nederige mense hierdie nie]
  • teenstanders word gedemoniseer, self is hulle reaksionêr;
  • fundamentaliste is uiters selektief oor watter dele van die tradisie en historiese erfenis letterlik verstaan moet word, en selektief oor watter aspekte van die moderne lewe aanvaarbaar is en watter nie;
  • die leierskap is in die hande van mans;
  • hulle beny die sukses van moderne kultuur en wetenskap en strewe daarna om dit om te keer.

Marty, M & Appleby, R S, eds., (1991). Fundamentalisms observed. The Fundamentalism Project, vol 1. Chicago: University of Chicago Press.

Marty, M & Appleby, R S, eds., (1995). Fundamentalisms comprehended. The Fundamentalism Project, vol 5. Chicago: University of Chicago Press.

Fundamentaliste aan die woord: 
Bible Believer's Home Page
Bible Believer's Resource Page
Jerry Falwell se gemeente in Lynchburg, Virginia, VSA se tuisblad
Bob Jones University
Een laaaaaaaang lys fundamentalistiese titels

GOD EN DIE TSOENAMI’S

Hansie Wolmarans


"Ek weet presies hoekom God die Tsoenami's gestuur het" het die vrou gesê. "Dis omdat Thailand kinders as sekswerkers gebruik." "Ek hoop nie God vind uit wat in Suid-Afrika aangaan nie. Ons het die wêreldrekord vir kindermolestering", het haar gespreksgenoot geantwoord, en die debat oor God en die Tsoenami's het begin.

"Hiroshima en Nagasaki" het ek gedink toe ek na CNN se lugopnames kyk: 'n verwoeste landskap, mense wat in 'n toestand van skok woordeloos huil omdat hulle geliefdes of goeters verloor het. Oornag het woorde soos Tsoenami's, Sumatra, Sri Lanka, Indonesië, New Delhi, Thailand, Maleisië, Djakarte en Kuala Lumpur deel geword van ons globale woordeskat, net soos Pompeii, Herculaneum en Vesuvius lank gelede.

Die liedjies wat ons Sondag na Sondag in die kerk sing, vertel ons dis God wat dit gedoen het. "Leer ons, soos kennis verder strek, u hand in alles te ontdek" sê lied 466 van die Liedboek . Tradisionele geloofsbelydenisse sê dat God die kleinste detail van ons aardse lewens beheer; Hy is almagtig, liefdevol en in totale beheer van die hele skepping. Niks word aan toeval oorgelaat nie.

God se wraak is 'n tipiese reaksie van wanneer mense só 'n tragedie ervaar. Ons stel God voor as 'n persoon, wat planne uitwerk in inmeng in die lewens van sy vriende en vyande. "God het my gered" het 'n bekende Suid-Afrikaanse sportpersoonlikheid gesê. Dit was sekerklik goedbedoeld. Die implikasies is egter afgryslik: God het duisende mense se gebede geïgnoreer maar sy witbroodjies gered! Iewers uit die VSA was 'n reaksie dat God die Moslemlande wou straf na aanleiding van 11 September.

Om God as persoon te sien (dit word teïsme genoem), dink ek, is gevaarlik, want gewoonlik lyk hierdie persoon baie soos ekself. Waar die Bybel oor God as 'n persoon praat, lyk Hy soos 'n koning. Jy moet, soos die Mbongisangers van Suid-Afrika, mooi prysliedere vir Hom sing. Jy moet Hom in 'n goeie stemming kry. Jy moet Hom laat goed lyk by ander mense deur jou persoonlike getuienisse. Dan sal God jou help. 'n Persoonlike God is 'n God wat jou bang maak, en met vrees jou lewe reguleer. God word makgemaak om ons eie magsbelange te beskerm, en ons visie van die werklikheid te bevestig. Na die 11e September is 'n graffiti in Washington opgemerk, "Here, beskerm ons teen die mense wat in U glo!" Daar is al baie gruwels in Godsnaam gepleeg.

Ná die Tsoenami's, na Apartheid, na Auschwitz, kan ons nie langer aanhou om ons ou liedjies net te herhaal nie. Die apostel Paulus self sê iewers dat God sy reën op die regverdiges sowel as die onregverdiges laat val.

Gevolglik is 'n tweede soort reaksie wat mense het, om God heeltemal of gedeeltelik uit die prentjie weg te dink. Dalk het God die heelal geskape, maar Hy is soos 'n horlosiemaker wat 'n masjinerie aanmekaar gesit het, dit opgewen het, en onbetrokke sit en wag dat dit afloop. God kan tog nie almagtig EN 'n God van liefde wees nie. As God liefdevol was, maar almagtig, sou Hy nie hierdie ramp laat plaasvind het nie, en omgekeerd. Die bekende Engelse skrywer, Kingsley Amis, het eenkeer met die Russiese digter, Yevtushenko, gesels. "You believe in God?" het die Rus gevra. "No" was Amis se antwoord. "Well, actually, it's more that I hate the bastard!"

Daar is egter ook 'n derde opsie. Ons sien God nie as 'n superbeskermheer, of 'n afwesige landheer nie, maar as die grond van die lewe, God nie as 'n Selfstandige Naamwoord nie, maar as 'n werkwoord, God nie as 'n wat nie, maar 'n hoe. Daar is talle Bybelgedeeltes waar God nie as 'n persoon voorgestel word nie, maar as 'n aspek van die skepping. God word byvoorbeeld gesien as 'n vuur- of wolkkolom wat saam met jou op reis is, as lewegewende water, of as vuurtonge. Heilige Gees beteken letterlik Heilige Wind. Ongelukkig het Christelike dogmas só ontwikkel om God slegs as 'n persoon te visualiseer; selfs die drie-eenheid word gesien as "Een in wese, maar drie in persone."

Die resultate van die Astro-Fisika, so lyk dit my, ondersteun nie die visie dat God 'n persoon is nie. Volgens Stephen Hawking het die heelal so ongeveer twaalf tot vytien duisend miljoen jaar gelede ontstaan. Dit is nie asof die Groot Knal ("Big Bang") wat plaasgevind het, spesifiek só ontwerp was dat lewe later kon ontwikkel nie. Dis meer asof daar dalk biljoene der biljoene sulke ontploffings kon plaasvind, maar net een het die voorwaardes gehad waaruit lewe later kon ontwikkel. Ons atmosfeer het eers uit metaan, ammoniak, stikstof, koolsuurgas, en ander gifgassse bestaan. Lukraak chemiese kombinasies oor miljoene jare heen het gevolg, veroorsaak deur die inwerking van sonenergie, weerligstrale, vulkaniese hitte en radioaktiwiteit. Aardbewings en die Tsoenami's is gewoon deel van hierdie natuurkragte; dit het niks met iets soos 'n transendente God se ingrype te doen nie. Ongeveer drie en halfduisend miljoen jaar gelede het die heel eerste lewende sel op hierdie chemiese roeletwiel ontstaan. Dit was eers maar 'n relatief kort rukkie gelede dat die mens op die toneel verskyn het. Die mens is die produk van 'n verskriklike proses van ewolusie waar die sterkere oorleef het en die swakkes meedoënloos uitgeroei is. In die mens het die heelal bewussyn ontwikkel, en begin vrae vra oor die sin en betekenis hiervan. 'n Sensitiwiteit vir die ongenaakbaarheid van die ewolusieproses het by mense ontstaan, en iets wat ons medelye noem, medelye vir ander mense, vir diere, vir die omgewing het ontwikkel. 'n Persoonlike God model onderdruk medelye. Dis hoekom mense in Godsnaam ander mense opblaas, die natuur vernietig, en, op 'n meer subtiele vlakke, mense uitsluit. God is die voortstuwende krag van die lewe, wat in mense bewussyn vind. Tolstoy het gesê om te lewe en om God te ken, is dieselfde, want God is die lewe. In die geweld van die Groot Knal en die Tsoenami's is medelye gebore. Dit, vir my, is die teenwoordigheid van God.

Dit het ook op ons televisieskerms verskyn, en die stories is in ons koerante vertel: Vakansiegangers wat nie huistoe gegaan het ná die ramp nie, maar agtergebly het om te help; seesoldate op die Abraham Lincoln oorlogskip, opgelei om dood te maak. Nou lewer hulle voorrade af aan afgeleë plekke en sê hulle kan nie wag om iewers te gaan help nie. En agter die trane is 'n bodemlose vreugde. God is nie 'n God van dogmas nie, maar is waar ons besluit om iets te doen waarvoor ons omgee; wanneer ons bande vorm met hulle wat anders lyk en bid as ons, maar verstaan ons is almal deel van die goddellike huishouding. "Dit help om te huil" het my Ouma altyd gesê, "want water trek water." God is die water, die kos, die hulp, wat een mens vir 'n ander gee wanneer die ander een huil.

Die Amerikaanse digter, Walt Whitman het in 1855 in die voorwoord tot sy digbundel, Leaves of Grass, die volgende geskryf:

Dit is wat jy moet doen: Wees lief vir die aarde en son en diere;

Verag rykdom, gee aalmoese vir elkeen wat vra,

Staan op vir die vertraagdes en malles,

Gebruik jou inkomste en jou arbeid in diens van ander, haat tiranne,

argumenteer nie oor God nie,

wees geduldig en verdraagsaam met mense,

bevraagteken alles wat jy in die skool en die kerk geleer het,

of in boeke gelees het,

Laat vaar wat jou siel beledig

En jou vlees sal 'n roerende gedig word.


Godsdiens en 'n demokratiese samelewing

deur Pieter Craffert

Een van die grootste misverstande in die huidige debat rondom die Nuwe Hervorming is dat dit slegs handel oor die ontkenning van en aanval op sekere van die sentrale leerstellings van die Christelike geloof. Daarom word die sogenaamde Nuwe Hervorming verketter en verdag gemaak asof hulle teen die Christelike geloof gekant is. Maar die debat handel in wese oor die sosiale en politieke implikasies van verskillende soorte christelike godsdiens; met ander woorde, oor die soort samelewing en etos wat deur godsdiens geskep en in stand gehou word. Daar is duidelike verbande tussen spesifieke godsdienstige oortuigings en sekere samelewingsstrukture en denke en dit is waar die brandpunt van die debat lê. 

Afrikaanssprekendes se ervaring van en kennis oor godsdiens kom veral via die Ortodokse voorstelling van die Christendom. Daarvolgens dink mense dat die essensie van godsdiens eintlik net met die aanvaarding (of verweping) van sekere leerstellings, soos byvoorbeeld, die leerstelling rondom die vraag, Waar en hoe gaan jy die ewigheid deurbring, te doen het? Die basiese struktuur van die soort godsdiens wat gemik is op wat kan mens daaruit kry, word treffend verwoord in een van die mees algemene opmerkings by seminare oor die Nuwe Hervorming: "As julle nie meer glo in 'n hemel nie, waarom julle nog met godsdiens bemoei?" Die aanname is, godsdiens het te doen met wat gebeur met jou na die dood. Nog 'n element van dié soort godsdiens is die voorstelling van God as 'n outydse soort koning, wie se eer en waardigheid deur sy onderdane beskerm moet word en wat oor dood en lewe (veral ewige lewe) beskik. Die lys leerstellings van hierdie soort godsdiens kan maklik uitgebrei word. 

Hierdie soort godsdiens leen sigself maklik tot fundamentalisme en fanatisme. Jy moet dit wat eens en vir altyd vasstaan glo soos dit aan jou voorgehou word. Dit is slegs mense wat reeds die volle en finale waarheid beet het, wat met vliegtuie in geboue vasvlieg. Dit is hierdie selfde soort fundamentalisme wat in Isak Burger se pleidooi na vore kom (Godsdiensaktueel in Beeld, 26 Augustus 2002) om maar solank die swepe (en gewere?) uit te haal om God se eer te beskerm. Die onlangse "hit list" van verregse aangeklaagdes is 'n voorbeeld van dié mentaliteit wat mense laat glo dat diegene wat nie presies sê en glo soos hulle nie, moet in die bek geruk of kan maar "uitgehaal" word. 

Soos ander vorme van godsdiens, het hierdie soort gelowigheid sekere implikasies vir die samelewing. Stelsels van oorheersing en hiërargie kom veral voor waar God as monarg uitgebeeld word. Vroue word makliker geminag en as tweederangse burgers gesien wanneer God slegs as 'n manlike figuur/wese uitgebeeld word. Die skerp skeiding van 'n goddelike figuur wat buite die natuur staan en veral besorg is oor mense se ewige heil, lei veel makliker tot 'n minagting van die natuur as in 'n voorstelling waar die goddelike ook in die natuur aanwesig is. 'n Goeie saak kan uitgemaak word dat een van die sterkste invloede in die ekologiese krisis wat veral deur die Westerse lewensstyle en verbruikersmentaliteit gevoed word, te doen het met die ideologiese rol van 'n goddelike wese wat buite die natuur staan tesame met die idee dat die mens moet heers oor die natuur (namens die heerser). Hieruit volg dan die mentaliteit dat godsdiens eintlik oor die lewe hierna gaan. 

Die sosiale en politieke rol wat spesifieke vorme van godsdiens op die samelewing uitoefen word treffend uitgebeeld in die rol van superhelde in die populêre kultuur. Dit wissel van die John Wayne figuur wat soveel vinniger is as sy opponente tot die Rambofigure wat bomenslik sterk is tot die Spiderman en die karakters in Touched by an angel wat bo-menslike vermoeëns besit om probleme te hanteer (en die lys kan aangevul word). Terwyl dit onskuldige vermaak is vir baie, bevestig elk van die uitbeeldings 'n soort mentaliteit. Probleme word nie op 'n demokratiese manier deur gemeenskapsbetrokkenheid aangepak nie, maar deur 'n heldefiguur opgelos of uitgewis. Dit is net samelewings met 'n baie lang tradisie van die soeke na verlossing waar aan verlosserfigure so 'n belangrike plek toegeken word. Die plek van Jesus as verlosser, word in die polulêre kultuur vervang met heldefigure wat buitengewone magte het. Die verskynsel bevestig dat 'n sekere soort godsdienstige patroon ook die kulturele norm geword het in die hantering van probleme. 'n Sekere soort godsdienstigheid het hier die maatstaf geword van 'n kulturele patroon van "iemand sal voorsien" en probleme word uitgewis deur superhelde. Die alternatiewe patroon in 'n demokratiese samelewing is eerder die soeke na gemeenskapsoplossings vir probleme en die erkenning dat probleme nie noodwendig verwyder of uitgewis word nie. 

Na 11 September, en die destydse moord op prof Johan Heyns, en die onlangse "hit list", moet besef word dat godsdienstige diskoerse waarskylik die sterkste stel simbole en meesterverhale is wat sosiale en politieke invloed op gemeenskapswaardes, houdings en patrone uitoefen. Die tyd is verby dat alles wat mense in die naam van "God" sê of oor "God" sê maar net aanvaar en gerespekteer moet word. Nóg godsdiensvryheid nóg vroomheid is 'n verweer teen 'n kritiese ondersoek en debat oor die sosiale en politieke impak van godsdienstige diskoerse op die samelewing. 

Daarom sou dit onverantwoordelik wees van 'n koerant soos Beeld om 'n artikel te plaas soos die een van Isak Burger in Godsdiensaktueel wat fundamentalisme en fanatisme kan bevorder, maar sonder om ook 'n kritiese analise van die soort godsdiens wat daar gepropageer word, te plaas. Die verskil tussen 'n vaste oortuiging in jou eie standpunt en 'n fundamentalistiese aanspraak op "die waarheid", is die aanvaarding dat jou standpunt onderhewig is aan korreksie. Laasgenoemde bestaan nie in 'n skema wat berus op die ooreenstemming en aanvaarding van 'n vaste stel dogmas en leerstellings nie. Dit is ongelukkig die enigste soort godsdiens wat Afrikaanssprekendes oor baie jare heen leer ken het en daarom word gedink dat die Nuwe Hervorming maar net teen sekere dogmas en leerstellings gekant is. 

Die Nuwe Hervorming verwoord talle leerstellings anders, verwerp 'n letterlike lees van tekste buite konteks en verkondig inderdaad 'n ander weergawe van die Christelike geloof. Dit gryp terug na van die oudste tradisies in die Ou- en Nuwe Testamente wat oor God praat anders as in beelde van 'n manlike wese wat veral eendag met die oordeel as regter sal optree. Dit ontwikkel 'n geloofstandpunt waarin die goddelike met 'n verskeidenheid van metafore benoem word en wat berus op 'n lewensoriëntasie eerder as 'n wat-kry-ons-daaruit skema. Hierdie patroon van godsdiens het ook duidelike implikasies vir hoe die samelewing moet lyk en funksioneer. 

Die debat gaan ten diepste oor watter soort samelewing ons in wil leef, een van fundamentalisme en fanatisme of een waarin 'n demokraties etos en waardes geld. Dit beteken nie dat indien die meerderheid mense 'n siening aanvaar, dit ook goed en reg is nie (soos slawerny of die onderdrukking van vroue nie), maar een waar respek vir ander sieninge, dialoog en kritiese oordeel deel van die etos is. 

HEMEL, HEL EN HIERNAMAALS

Sakkie Geldenhuys

Volgens die deskundiges bestaan die heelal etlike miljoene jare; bestaan dit uit 'n ontelbare aantal hemelliggame waarvan slegs 'n geringe getal aan die mens bekend is; word daar na bewering voortdurend nuwe hemelliggame geskep; is die planeet aarde maar slegs 'n spikkel in die kosmos; bestaan daar op grond van die beperkte kennis waaroor die mens beskik, slegs op aarde sinvolle lewe. Maar nou is dit so dat daar aan die een kant mense is wat verskillende soorte godsdienstige en nie-godsdienstige teorieë aanhang en hulle lewens daarvolgens rig of probeer rig. Maar aan die ander kant is daar diegene wat 'n dag tot dag bestaan voer (sy dit in weelde of in armoede) wat min gepla is oor godsdiens.

Op die planeet aarde voer die mens sy bestaan óf in samewerking met, óf in opposisie tot die plante- en die diereryk, en is daar ook voortdurend, van die vroegste tye af, spanning en oorloë tussen mense. Die enigste oogmerk van plante en diere, sy dit op land of in water, is om te oorleef en voort te plant. By plante en diere is dit dus net die fisiese voortbestaan wat saak maak.

Plante is vir lewe afhanklik van die natuur en hulle beskermings- en verdedigingsmeganismes is beperk, met die mens en dier hulle grootste bedreiging. Diere teer op plante en ander diere vir hul voortbestaan. Die uiteindelike oogmerk van plant en dier is om voor voltooiing van hulle lewensiklus, voort te plant. So volg dan die een kringloop na die ander — geboorte, groei en uiteindelike dood..

Die mens word van plant en dier onderskei deurdat hy, benewens 'n hoër intellek, ook oor 'n innerlike gees of siel beskik. Nieteenstaande hierdie bykomende 'eienskap' voer primitiewe en minder beskaafde mens min of meer dieselfde bestaan as plant en dier. Die meer beskaafde mens beroem hom daarop dat hy 'n lewe voer met die oog gerig op 'n hiernamaals na voltooing van sy lewensiklus. As dit nie so was nie, sou die mens se bestaan identies wees aan dié van plante en diere. Maar helaas is hierdie groep in die minderheid.

Te midde van al die filsosofiese teorieë, tesame met wetenskaplike navorsing, staan of val dié minderheidsgroep by die geldigheid van hulle beskouing oor lewe na die dood. Ek self worstel met die vraag hoe geldig hierdie beskouing(s) is.

Voordat dié vraag sinvol beantwoord kan word, moet ons eers klarigheid kry oor die begrippe hemel en hel. In die eerste plek is daar diegene wat onwrikbaar glo dat hemel en hel plekke is, êrens in die heelal waarheen die menslike liggaam (fisies of in 'n verheerlike vorm) uiteindelik sal gaan. Die hemel is 'n plek waar die mens wat op aarde 'n godvrugtige lewe gevoer het, vir ewig in liefde en vrede sal voortleef, terwyl hel die plek van ewige verdoemenis is. Binne hierdie groep is daar sekeres wat verkondig dat die siel van die mens wat godvresend gewandel het, onmiddellik na afsterwe hemel toe gaan — en baie dominees sê dit ook reguit so by begrafnisse. Ander predik dat hierdie verhuising eendag, êrens in die toekoms na die opstanding gaan plaasvind. Hoe dit ookal sy, hemel en hel word deur beide groepe as plekke geïdentifiseer, beskryf en besing.

Dan is daar ander mense wat met hierdie siening verskil. Hulle standpunt kom in hoofsaak daarop neer dat hemel en hel nie plekke is nie maar 'n toestand in die menslike bewussyn. Vir hulle beteken dit dat die mens sy bewussyn kan instem op 'n regte verhouding met iets buite homself. Die mens kan in volkome harmonie daarmee leef. Vir hulle gaan dit om die ervaring van 'n hemelse toestand of 'n verhouding met die 'iets'.

Die alternatiewe keuse, volgens hierdie denkwyse, is om jou af te sluit van die wêreld buite jouself. Doen 'n mens dit ervaar jy die hel. Dit is wat 'hell' in Engels beteken — 'to separate, to exclude.' Jy bou as 't ware 'n muur om jou. Jy leef in jouself, vir jouself en dus in disharmonie met die res van die dinge om jou. Jy sluit jou effektief af van die hemelse toestand en begeef jouself in 'n 'helse' toestand.

Sou 'n mens die voorafgaande beskouings van hemel en hel as plekke enersyds of as toestande of verhoudings andersyds as uitgangpunt neem, moet jy besin oor hoe dit met die begrip 'hiernamaals' versoenbaar is.

Indien die sienswyse ondersteun sou word dat hemel en hel fisiese plekke is, ontstaan die vraag: Gesien die onpeilbare omvang van die kosmos, waar is dié plekke geleë? As dit tog wel êrens in die kosmos wou wees, dan het daar volgens die een siening oor die eeue reeds 'verhuisings' daarheen plaasgevind, maar sal dit volgens die ander siening, eers eendag met die opstanding gebeur. Neem egter in ag dat die kosmos etlike miljoene ligjare groot is en dat reise na die eindes van die kosmos menslik onmoontlik is. Hemel en hel klink net te veel na 'n gekkeparadys wat die mens self opgetower het. Aanvaar ons die sienswyse van die ander mense, naamlik dat hemel en hel 'n toestand in die mens se bewussyn is, kom die hele begrip van hiernamaal in die gedrang.

Nóg hemel, nóg hel, nóg hiernamaals maak egter vir my logiese sin.


IS DIE BYBEL LETTERLIK "GOD SE WOORD"?

Deur Sakkie Spangenberg

Predikante is lief om te sê "Die Bybel is die Woord van God". Tydens die algemene sinode van die NG Kerk op Hartenbos is die uitdrukking weer gebruik. Ek vermoed dat die afgevaardigdes lidmate gerus wou stel, daarom het die predikante weer die bekende woorde herhaal. Maar wat beteken hierdie stelling? Kom ons ontleed dit 'n keer.

Is die stelling "Die Bybel is die Woord van God" te vergelyk met die stelling "'n Volvo is 'n motorkar'?" Ons verstaan laasgenoemde stelling, want ons weet dat ons sulke stellings formuleer om dinge te klassifiseer. Dis soos om te sê "'n volstruis is 'n voël". In so 'n stelling dui die laaste woord of woorde gewoonlik die kategorie aan waartoe die eerste woord of ding behoort. Daar is die kategorie "voëls" en onder hierdie kategorie kan verskillende "soorte" gelys word. Daarom kan ons ook sê "'n kiewiet is 'n voël" en "'n korhaan is 'n voël."

Moet ons die uitdrukking "Die Bybel is die Woord van God" verstaan soos ons die ander uitdrukkings hierbo verstaan? Dui die laaste woorde "die Woord van God" die kategorie aan? Beteken dit dat afgesien van die Bybel daar ook ander geskrifte is wat as "Woord van God" geklassifiseer kan word? Kan ons 'n lys saamstel van geskrifte wat as "Woord van God" kan deurgaan? Kan ons sê: "Die Tenach is die Woord van God", en "Die Koran is die Woord van God"?

In die stelling "'n Volvo is 'n motorkar", kan ons beide dinge sien of ten minste 'n beeld daarvan vorm. Ons kan die fabrikaat "Volvo" sien. So ook die kategorie "motorkar". Maar geld dit ook van die stelling "Die Bybel is die Woord van God"? Ons kan wel die Bybel sien, maar kan ons "die Woord van God" sien? Wat moet ons ons voorstel by die aanhoor van die woorde "Woord van God"? Watter kategorie "ding" is dit? Is "die Woord van God" die swart letters op wit papier in die Bybel? Is net daardie woorde in die Bybel wat uitdruklik tussen aanhalingstekens staan "Woord van God", of is alle woorde in die Bybel "Woord van God"? Moet ons die uitdrukking letterlik of metafories verstaan? Bedoel predikante met die frase "die Woord van God" nie maar net dat bepaalde boeke vir die betrokke kerk lewensbelangrik is nie? Sou dit nie meer sin maak om te sê "Die Bybel bevat die lewensbelangrike boeke vir Christene" nie?

Tot dusver het ons ons nog net besig gehou met die tweede deel van die stelling. Kom ons fokus nou op die eerste deel en wel op die woord "die Bybel". Ons het hier met die enkelvoud te doen. Kyk ons om ons rond, is daar egter net Bybels. Daar is Afrikaanse Bybels, Engelse Bybels, Zoeloe Bybels, en noem maar op. Jesus self het nie 'n Bybel besit nie, want in sy tyd was daar net boekrolle. Bybels is eintlik die produk van die boekdrukkuns en daarom maak dit nie sin om van "die Bybel" te praat nie. Daar is slegs "Bybels" en hulle kan in drie kategorieë verdeel word: (1) Protestantse Bybels, (2) Katolieke Bybels, en (3) Bybels van die Oosters-Ortodokse kerke.

Die Protestantse Bybels het net 39 boeke in die Ou Testament, terwyl Katolieke Bybels 46 boeke het. Van die Oosters-Ortodokse kerke het self nog meer boeke. Daar is wel Protestanse Bybels wat 46 boeke in die Ou Testament het, maar op die buiteblad van hierdie Bybels staan gewoonlik: "Die Bybel met die apokriewe boeke". Daar is tans 'n Engelse vertaling beskikbaar wat aanspraak maak dat dit ál die Ou-Testamentiese boeke bevat van die drie kerklike tradisies. Dit is die New Revised Standard Version met die apokriewe.

Kan ons ál hierdie Bybels nou onder die noemer "die Bybel" plaas? Klaarblyklik nie. Christene en kerke oefen keuses uit en vir sommige mense is sekere Bybels meer "Woord van God" as ander. Die Afrikaanse Protestantse Kerk en die Apostoliese Geloofsending verkies die 1953-Afrikaanse vertaling bo die 1983-vertaling. Daar was 'n tyd toe Engelssprekende Christene die King James Version besonder hoog aangeslaan is. Tans verleen heelwat mense voorrang aan die New International Version . Self hou ek weer baie van die New Jerusalem Bible omdat hierdie vertaling die resultate van die Bybelwetenskappe ernstig opneem en in voetnote hierdie inligting meedeel.

Hierdie was maar 'n kort bespreking van die stelling "Die Bybel is die Woord van God". Dit behoort lesers egter 'n idee te gee dat die stelling nie so eenvoudig is as wat sommige predikante aan ons voorhou nie. 'n Mens kan daarom vra of die predikante van die NG Kerk goed gekommunikeer het toe hulle die tradisionele stelling op Hartenbos herhaal het.


Om in Afrika teologie te bedryf

deur Sakkie Spangenberg

Nie in my wildste drome het ek vermoed dat 2003 met 'n hewige godsdiensdebat gaan begin nie. "Waarom sou mense hulle tyd en energie op so 'n sinlose bedryf verspil?" kan mens vra. Vir my is dit duidelik 'n bewys dat mense moeg is om 'n rat voor die oë gedraai te word. Ons leef in 'n wêreld wat totaal anders lyk as die wêreld van die mense wat vir die Bybelverhale verantwoordelik was. Ons leef ook in 'n wêreld wat anders lyk as die wêreld van die teoloë wat vir die meesterverhaal van die Christendom verantwoordelik was. Noem die een pre-modern en die ander een postmodern - of wat ook al - maar weet net dis nie dieselfde nie.

Verskeie teoloë wat hulle teenoor die nuwe-hervorminggespreksgroep opstel, gaan van die standpunt uit dat daar al vir eeue 'n standaardverhaal van die Christelike godsdiens bestaan. Voorts beklemtoon hulle dat mense nie hierdie verhaal uit hulle duime gesuig het nie - dis 'n verhaal wat presies só in die geskiedenis afgespeel het en presies só in die Bybel opgeteken staan. Hierdie mense werk byna deur die bank met 'n korrespondensieteorie van die waarheid. Verhale en gebeure word gelykgestel.

Die standaardverhaal (ons kan dit ook die meesterverhaal van die ortodokse Christendom noem) kan soos volg weergegee word: 

Die ganse mensdom stam van een vader en moeder af, naamlik Adam en Eva. Hierdie eerste ouerpaar het egter ons almal se lot verseël toe hulle na die Satan geluister en God se gebod oortree het. Ons almal was bedoel om vir ewig te lewe, maar vanweë hulle ongehoorsaamheid in die tuin van Eden is ons almal bestem om te sterf. Die hele Ou Testament vertel die verhaal van hoe God die weg voorberei het vir die koms van sy Seun wat bestem was om die mag van die Satan en die dood te verbreek. Jesus het op die bestemde tyd as die ewige Seun van God uit die hemel gekom en mens geword. Hy het plaasvervangend onder God se oordeel aan die kruis vir die sondes van die ganse mensdom gesterf. Omdat Hy gehoorsaam was aan God se verlossingsplan en die kruisdood gewillig aanvaar het, het Hy die mag van die Satan en die dood verbreek. Die resultaat van hierdie soendood is dat ons almal nou vir ewig kan leef soos God dit van die begin van die skepping bedoel het. Die bewys dat Jesus se sending geslaagd was, is bevestig deur sy hellevaart, sy opstanding en hemelvaart. Jesus sal aan die einde van die tyd weer kom om diegene wat in Hom geglo het - en dus sy soenoffer aanvaar het - met die ewige lewe te beloon, maar diegene wat Hom en sy soenoffer verwerp het, met die ewige dood in die hel te straf. Dáár heers die Satan en sy engele. 

Intensiewe studie van die Ou en die Nuwe Testament die afgelope meer as vier eeue, het klinklaar uitgewys dat die meesterverhaal nie voorgehou kan word as 'n presiese weergawe van die Bybelverhale nie. Die meesterverhaal is die produk van die Griekse en Latynse kerkvaders wat gedurende die tweede tot die vyfde eeu geleef het. Dis niks anders as húlle kreatiewe vertolkings van die Bybelverhale nie. Drie van hulle, naamlik Hieronimus (342–420), Ambrosius (339–397) en Augustinus (354–430) het 'n groot aandeel gehad in die finale afronding van die meesterverhaal. Hierdie drie staan ook bekend as die Latynse kerkvaders, want Hieronimus het die Bybel in Latyn vertaal en al drie se teologiese werke is in Latyn geskryf. Latyn sou vir meer as 'n millennium die kerktaal van die Westerse Christendom bly en die teologie vir eeue domineer. Selfs Karl Barth (die groot Protestantse teoloog van die twintigste eeu) het hom nie toegelê op die studie van Hebreeus en Grieks om die oorspronklike verhale te lees en te bestudeer nie, maar op Latyn. Die rede hiervoor? Hy wou weer Augustinus se werke bestudeer. Sy Kerklike Dogmatiek is dan ook deurspek met aanhalings uit Augustinus se werke.

Uit Gerrit Brand se stuk "wanneer teoloë dokter-dokter speel" blyk dit duidelik dat hy ook nog glo dat die meesterverhaal 'n presiese weergawe van die Bybelverhale is. Klaarblyklik het hy nog nie gehoor van die groot paradigmaverandering aan die einde van die negentiende eeu op die terrein van die Ou-Testamentiese wetenskap nie. Gedurende daardie jare het verskeie vooraanstaande Ou-Testamentici eenvoudig begin wys dat dit wat tradisioneel in verband met die Ou Testament geglo is, nie steek hou nie. Die Ou Testament is nie maar net 'n voorhof van die Nuwe Testament nie en die verhale is nie maar net verhale van Jesus in 'n ander gedaante nie. Verskeie van hierdie Ou-Testamentici is dan ook van leerdwaling aangekla. Wat hulle verkondig het, het nie meer met die tradisionele Protestantse belydenisse gestrook nie. Aanvanklik het dit gegaan oor sake soos of Moses vir die hele Pentateug verantwoordelik was, of Dawid al die Psalms geskryf het, en of Jona letterlik in die vis was, maar mettertyd het leerstukke soos die erfsondeleer en die moederbelofte in Genesis 3:15 ook in die spervuur beland.

Ou-Testamentici het nie meer die Ou-Testamentiese verhale in terme van die meesterverhaal gelees nie, maar as selfstandige verhale wat uit 'n ander tyd en kultuur kom. Dit het dan ook gelei tot die geboorte van Ou-Testament teologieë. Let wel nie Bybelse teologieë nie. Hierdie teologieë is nie geskoei op die lees van die meesterverhaal nie en vertel ook nie 'n verhaal wat onafwendbaar op Jesus as Verlosser uitloop nie.

Ou-Testamentici het ook uitgewys dat geeneen van die sogenaamde messiaanse profesieë in die Ou Testament Jesus werklik voorspel nie. Nóg Jesaja 7:14, nóg Jesaja 52:13-53:12, nóg Daniël 9:26 voorspel Jesus. Wat wel gebeur het, is dat die skrywers van die Nuwe Testament bestaande godsdienstige literatuur gebruik het om Jesus te "preek". Die Nuwe-Testamentiese verhale bou op die Ou-Testamentiese verhale. Bybelverhale gryp altyd terug - nooit eeue vooruit nie.

Ou-Testamentici het ook besef dat Israel se godsdiens nie van Moses se tyd af monoteïsties was nie. Israel het ook nie in 'n drie-enige God geglo nie. Die idee van die opstanding het voorts maar eers teen die einde van die tweede eeu vC deel van hulle godsdienstige oortuigings geword. Die godsdiens wat Jesus beoefen het, was ook nie 'n embrionale vorm van die Christelike godsdiens nie. Daardie godsdiens word tans omskryf as Judaïsme van die Tweede Tempeltydperk (of vroeë Judaïsme). Jesus het nie rondgeloop en verkondig dat hy maagdelik ontvang is en uit twee nature bestaan nie. Hy het God se koninkryk gepreek, d.w.s. God se heerskappy hier op aarde!

Waarop loop my argumente uit? Dat na vier eeue se intensiewe studie van die Ou en Nuwe Testament heelwat teoloë nie meer die meesterverhaal van die Christendom beskou as 'n perfekte vertolking van die Bybel en as 'n vertolking wat ons ten alle koste orent moet hou nie. Beter gestel: Die meesterverhaal kom ook maar net uit 'n spesifieke tyd in die geskiedenis van die Christendom. Dit verwoord nie ewige waarhede nie. Bybelwetenskaplikes vertel ander verhale. Natuurlik is hulle verhale ook kreatiewe vertolkings van die Bybelverhale, maar hierdie vertolkings berus op intensiewe studie van die ou Nabye-Oosterse en Grieks-Romeinse kulture. Dit is dus ingeligte vertolkings. Voorts is dit kultuursensitiewe vertolkings. Alhoewel maagde in ons samelewing nie swanger raak nie, weet ons dat dit vir dáárdie mense 'n realiteit was. Net soos wat ek nie in die tokkelossie glo nie, maar weet dat hy vir baie van my medelandgenote 'n realiteit is, so was maagdelike geboortes vir daardie mense 'n realiteit. Hoekom is hy nie vir my 'n realiteit nie? Want ek deel nie daardie kultuur nie.

Ons moet ons afvra: "Maar wat wou daardie mense met sulke verhale kommunikeer?" Ek verwag van geen mens wat wat iets weet van die menslike anatomie en fisiologie om te glo dat maagde swanger kan raak nie. Binne my kultuur en leefwêreld gebeur sulke goed nie. Wat ek wel verwag, is dat so 'n persoon oop sal wees vir die oortuiging dat daar mense in antieke tye was vir wie sulke verhale waarheid was. Daardie waarheid het met hulle kultuur en tyd saamgehang. In die woorde van John Shelby Spong in sy boek A new Christianity for a new world (2002:118): 

The early Christians simply did not understand the woman's role in reproduction. They reasoned not from scientific knowledge but from an analogy drawn from their common life. The knew that a farmer planted his seed in the soil of the earth and that Mother Earth nurtured the seed into maturity. This was the analogy that shaped the way the ancient Jews understood human reproduction. The life of any new born baby was believed to dwell in the seed of the male. The woman's contribution, like that of Mother Earth, was only to provide a nurturing womb. She did not add to the substance of the new life. 

As gevolg van hierdie siening het teoloë later jare hulle koppe gebreek oor die vraag of Jesus dan nou 'n God, 'n mens of 'n God-mens was. As die Gees die embrio gegee het (Maria was net 'n vat) kon Jesus mos nie werklik 'n mens gewees het nie? Die hele dosetiese stryd het voortgevloei uit daardie teoloë se gebrekkinge kennis van die vrou se rol in die verwekking van kinders.

Ons kan vandag die saak anders beredeneer omdat ons meer van die vrou se rol in die voortplantingsproses weet, maar as ons ons kennis in daardie verhale inlees, lees ons die verhale anachronisties.

Die Christendom gaan deur 'n krisistyd en staan ook in ons land in die spervuur, maar ek koester die hoop dat intelligente mense hulle rug nie op die Christendom sal draai nie. Bybelwetenskaplikes kan hulle help om Bybelverhale kultuursensitief te lees. Wie dit doen, ontdek 'n ryk skat van spirituele verhale met 'n ryke verskeidenheid van ervarings - weliswaar geklee in die klere van mense wat eeue gelede geleef het.

Dis vir my immoreel om Bybelverhale aan swart vroue onder doringbome te vertel  maar hulle nie te leer om kultuursensitief te interpreteer nie. Dis om hulle intelligensie te onderskat en van hule te verwag om in 'n land te leef en te oorleef waar wetenskaplike kennis daagliks oor die TV en radio uitgespoeg word. Ek wonder of diegene wat so hamer op die vraag of die nuwe hervomers mense gesond kan maak die verhaal van biskop John Colenso (1814-1883) ken. Die Zoeloe wat biskop Colenso gehelp het om die Bybel in Zoeloe te vertaal, wou hom breek vir die verhaal van Noag en het kritiese vrae aan Colenso begin vra. Dit het Colenso laat besluit dat hy nie onwaarhede aan mense sal verkondig nie en hy hom tot die kritiese studie van die Ou Testament gewend. Hy is natuurlik ook as 'n ketter gebrandmerk. Dalk het sekere mense nog nooit die volgende limmeriek raakgeloop nie: 

There was a bishop of Natal 
who had a Zulu as his pal. 
Said the Zulu: "My dear, 
don't you think Genesis queer?"
Which converted me Lord of Natal.

Die kritiese Bybelwetenskap is nie so vreemd aan Afrika soos baie dogmatici en sendelinge ons wil maak glo nie. Selfs Afrikane kan hulle gesonde verstand gebruik en het 'n ingeboude "spiritual bullshit detector"! 

Traditionele Sondeleer en Bybelfeite

deur Sakkie Spangenberg

Die godsdiensdebatte die afgelope maande toon duidelik dat twee groepe teenoor mekaar staan. Die een groep beklemtoon die tradisionele Christelike dogmas. Die ander groep beklemtoon die nuwere feite wat drie eeue se intensiewe Bybelnavorsing aan die lig gebring het.

Kom ek illustreer die verskille aan die hand van die leerstuk oor die sonde. In die tradisionele sondeleer speel die volgende Bybeltekste 'n belangrike rol: Genesis 2-3; Psalm 51:7; Romeine 5:12, 18-19. Die kerkvader Augustinus (354-430) is grootliks vir hierdie leerstuk verantwoordelik. Volgens hom was daar 'n oer-egpaar: Adam en Eva. Hulle was die heel eerste mense en is ongeveer 6 000 jaar gelede geskep. Hulle was perfek en sondeloos. Die tuin waarin hulle gewoon het, was onoortreflik. Daar was nie winde wat huise kon omwaai en reën wat landerye kon verspoel nie. Hulle het nie sonsteek geken nie, ook nie mangel- of blindedermontsteking nie. Hulle wêreld was 'n perfekte een.

Hierdie perfekte wêreld het egter op 'n dag in duie gestort. Eva het haar nie gesteur aan God se gebod dat hulle nie van die boom van kennis van goed en kwaad mag eet nie. Die slang het haar met slingse redenasies oorreed om van die vrugte van daardie boom te eet. Sy het geëet en ook vir Adam daarvan gegee. Toe God hiervan te hore kom, het Hy hulle uit die tuin verban en beide swaar strawwe opgelê. Adam sou van toe af hard moes werk en Eva sou swaar aan kinders geboorte skenk. Ook die slang is gestraf. Van toe af moes hy op sy pens seil en hy en die mens was permanente vyande.

Die oersonde het tragiese gevolge gehad - alles en almal was nou stukkend. Niks en niemand was meer heel nie. Oor hierdie pynlike toestand skryf Dawid in Psalm 51:7: 'Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.' Eva en Adam se ongehoorsaamheid het soos 'n virus die totale mensdom besmet.

Paulus redeneer egter in Romeine 5 dat alhoewel Adam se ongehoorsaamheid sonde, ellende en dood in die wêreld ingebring het, het Jesus hierdie dinge omgekeer. In die plek van sonde staan vergifnis en vryspraak. In die plek van ellende is vreugde en voorspoed. En in die plek van die dood, opstanding en ewige lewe.

Dis kortliks die tradisionele Christelike leer oor die sonde.

Bybelwetenskaplikes het egter oor die afgelope driehonderd jaar Genesis, Psalms, Romeine en al die ander Bybelboeke intensief bestudeer. Hierdie studies het uitgewys dat die tradisionele leerstuk oor die sonde op interpretasies berus wat nie steek hou nie.

Ek noem slegs enkele voorbeelde. 

  • Daar is twee skeppingsverhale (Gen 1 en Gen 2-3). Nie een van hierdie verhale kan as geskiedenis geklassifiseer word nie. Daar was dus nie 'n regtige Adam en Eva nie. Hulle is slegs verhaalkarakters. Genesis 2-3 vertel nie die verhaal van hoe sonde in die wêreld ingekom het nie, maar hoe die mens die kans om vir ewig te kan lewe, verbeur het. Daar was immers 'n tweede boom in die middel van die tuin - die boom van (die ewige) lewe! Die slang het Eva van daardie boom weggelok en haar vrugte van die boom van kennis aangebied. Die slang is nie die Satan nie. Latere vertellings en dogmatiese leerstellings het hom met die Satan gelyk gestel. Maar volgens híérdie verhaal is hy dit nie. Die slang is ook 'n verhaalkarakter en soos ander dierekarakters kan hy praat.
  • In Psalm 51 is 'n gedig wat kennelik nie deur Dawid geskryf is nie (vgl Ps 51:20), maar deur 'n onbekende persoon ná die Babiloniese ballingskap (587-539 vC). Die opskrif ''n Psalm van Dawid' is 'n latere toevoeging. Dit geld ook van die woorde 'toe die profeet Natan na hom gekom het, nadat hy by Batseba ingegaan het.' Al die psalms was aanvanklik sonder op- en byskrifte geskryf. Die woorde: 'Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang' (Ps 51:7) het niks met erfsonde te doen nie. Ons het hier met hiperbool (oordrywing) te doen. Die digter betreur sy eie geneigdheid om verkeerd te doen.
  • In Romeine 5 speel die Wet 'n oorheersende rol en stel Paulus die tweede Adam (Jesus) teenoor die eerste Adam. Wat opval is dat Paulus Eva nie vermeld nie. Waarom? Eva kan nie die teenhanger van die manlike Jesus wees nie. Vroue is halfwas mense. Mans is die eintlike mense. Paulus se beheptheid met die Wet hou verband met die feit dat hy vroeër 'n Fariseër was. Die Wet het vroeër sy geloof gedefinieer en sy lewe gerig. Volgens Paulus is daardie tyd vir goed verby. Jesus se kruisdood en opstanding definieer nou sy geloof en rig sy lewe. Volgens Paulus het die Wet geen rol meer te vervul nie. Dit verdien geen plek meer in mense se verhouding met God nie.

 

Misken toegewyde Bybelwetenskaplikes sonde? Allermins. Hulle sê: 'Lees die Bybel weer - mense is nie sondaars omdat hulle só gebore word nie, maar omdat hulle verkeerd kies en handel . Ons ís nie sondaars vanweë die misstap van 'n oervoorouer nie, maar ons kan daagliks sondaars word.'

 

Hier is drie aanhalings uit onlangse publikasies as bewys dat ander geleerdes ook nie meer met die leerstuk oor die erfsonde kan werk nie. Dis 'n uitgediende leerstuk wat in 'n argief hoort. Augustinus se kennis van Hebreeus en Grieks was nul en dis op grond van die Latynse vertaling (Vulgaat) wat hy sulke rare leerstellings geformuleer het. Sy leerstellings berus nie op goeie eksegese nie, maar op filosofiese aannames wat nie water hou nie.

 

We were not ( pace Augustine) created evil; our birth is not inevitably contaminated by the genetic inheritance of a mythic fall from grace. It has always puzzled me that intelligent people, who are well aware of the nature of genetic processes and evolutionary biology, can still propound the inexpressible nonsense that, because some legendary forefather and mother committed wrongdoing, bad blood has somehow entered the human race.  (Alastair G Hunter 1999:128)

Since the time of Augustine, mainstream Christianity has held that without Adam's sin, there would be no death. But because Adam sinned and left us prey to the power of death, we need a saviour. The 'anthropo-logic' implies, indeed states, that we human beings were distinguished from all others by being created by God to live forever. Our salvation by Christ means that God's purpose stands, and that we alone, out of all species, are to be exempt from death. (A Primavesi 2000:29)

In de bijbelse zondeleer staat centraal dat de mens niet zondigt door wat hij krachtens zijn geboorte is , maar door wat hij tijdens zijn leven doet , door de (foute) keuzes die hij maakt.  (Cas Labuschagne 1994:129)

 

VERWYSINGS:
Hunter, A G 1999. Psalms . London: Routledge. (Old Testament Readings).
Labuschagne, C J 1994. Zin en onzin over God: Een kritische beschouwing van gangbare godsvoorstellingen. Zoetermeer: Boekencentrum.
Primavesi, A 2000. Sacred Gaia: Holistic theology and earth system science . London: Routledge.

VREES VERSUS VRYHEID

Gerrit Visser, Hartenbos (e-pos: gnv@telkomsa.net)

Vrees en vryheid is nie bedmaats nie. Tog is dit opvallend hoeveel toegewyde Christene ondanks hul belydenis dat Christus jou waarlik vry maak, deur diepliggende vrese verhinder word om hierdie vroom belydenis in die praktyk gestalte te laat kry.

Waar kom hierdie vrese vandaan? Ek aanvaar dat vrees 'n deel is van menswees. My ervaring is egter dat georganiseerde, dogmatiese godsdiens nie daarin slaag om mense se vrese te verminder nie – inteendeel! Ek verduidelik deur na eie ervarings te verwys.

Die klem wat van agter 'n kanselkleed ("So sê die Here") op sekere Bybelverse geplaas is (dikwels met vuur, drif en armgeswaai), het beslis 'n merk op my jong gemoed gemaak. "Verskriklik is dit om te val in die hande van die Lewende God";"God laat Hom nie bespot nie"; "Vrees Hom wat liggaam en siel in die hel kan laat beland", ens.

Ons geslag (Ek is 'n afgetrede skoolhoof) is ook nie geskool om met vrymoedigheid oor ons vrese en vertwyfelinge te praat nie. Kits oplossings is vinnig in leë, holklinkende geloofstaal aangebied: "Gaan sê dit vir Jesus, Hy wat alles weet." "Onthou, ons bid vir jou."

As kind het ek 'n geweldige vrees vir die hel gehad. As ek in 'n vuur gestaar het en aan die moontlikheid van 'n ewigheid in die hel gedink het, het ek letterlik 'n gevoel van duiseligheid ervaar. Hierdie vrees (Die dominee het gesê dit is die Heilige Gees) het my in my st.7-jaar gedryf om in Pinkstertyd twee van my maats te oorreed om een aand na 'n diens saam met my na ons dominee te gaan met ons vrese. Hy het ons "tot bekering" gelei en op die korttermyn was daar 'n groter rustigheid in my.

Die vrees dat ek dalk die sonde teen die Heilige Gees kon gepleeg het, het my tot laat in my volwasse lewe getreiter. Om hieroor met jou meerderes te praat was absoluut ondenkbaar. Vrae in die verband is vroeër dikwels aan Murray Janson (in Die Huisgenoot) gerig. Hy het hierdie vrees min of meer soos volg besweer: Jou bekommernis hieroor bevestig juis dat die Gees in jou werksaam is – dus hoef jy niks te vrees nie! Sulke "onbehoorlike" gedagtes kan self gewyt word aan 'n chemiese wanbalans in die brein – God sal dit tog verstaan!

My relaas begin nou persoonliker raak as wat ek beoog het. Nou moet ek maar deurdruk! As seun was masturbasie vir my 'n geweldige probleem. Christelike lektuur van daardie tyd het sg. selfbevlekking as 'n groot sonde uitgewys. Op jeugkampe is ons gewaarsku teen hierdie vergryp. Ek was later so magteloos teen hierdie "sonde" dat ek as 'n wanhoopsdaad agter in my Bybel (na 'n vurige gebed) geskryf het dat ek hierdie sonde nooit weer sal doen nie. Dit was nou as 't ware in God se notaboek aangeteken. Hierna was my probleem nog groter. Ek het maar weer "geval" en was bevrees dat die God wat Hom nie laat bespot nie, Sy rug op my gaan draai en Sy Gees aan my gaan onttrek. As ek die Woorduitleggers nou reg verstaan, is masturbasie 'n doodnatuurlike deel van die ontwikkelingsproses en menswees – dit is net sonde as dit totaal oordryf word

Die vrees vir wat-sal-die-mense-sê is nie te skei van georganiseerde godsdiens nie. Tot my skaamte moet ek erken (met die wysheid van terugkyk) dat ek besef het dat 'n Afrikaanssprekende onderwyser wie se opvoeding in die Christelik-Nasionale gefundeer was, sy loopbaan-vooruitsigte lelik kon knou deur "ongemaklike" vrae rakende tradisionele opvattings te opper.Die regte geluide op die regte plekke was 'n voorvereiste vir bevordering. Ek wil myself egter deels kwytskeld van totale skynheiligheid. Ek was 'n toegewyde Christen en 'n aktiewe NG-lidmaat omdat ek oortuig was dat Christus dit van my verwag het – natuurlik ook die gemeenskap in wie se diens ek gestaan het. Ruimte om te veskil was daar egter nie. Christene is mos eensgesind; een van hart en siel. Ons maak soos ons nog altyd gemaak het!

Het godsdiens ons regtig bevry of het dit ons bang gemaak? Sonde, siekte, rampe, magte van die duisternis, doemwaardigheid, in sonde ontvang en gebore, tot niks goeds instaat nie, naak en blind! Hoor elke Sondag hoe sleg jy is, bely jou slegtheid en skuldigheid – om die volgende Sondag presies dieselfde te hoor en te bely. Sondag na Sondag, jaar na jaar! Daarom voel ons skuldig oor 'n honderd en een dinge. Wonder altyd of iets nie dalk sonde is nie. Verwag die duiwel om elke hoek en draai.

As daar 'n droogte is praat God duidelik Die verspreiding van vigs is Sy manier om hard te slaan. Watter bedenklike godsbeskouing!

My ervaring is dat dit haas onmoontlik is om 'n sinvolle, rustige gesprek met tradisioneel Christene te voer oor sake soos die ontstaan en boodskap van die Bybel. 'n Diep vrees vir die God wat op dogmatiese wyse aan ons voorgehou is, het bang en onseker volgelinge geskep – mense wat nie eers na jou wil luister nie, want jou idees ontstel hulle te veel, hulle wil nie verwar word nie. Weier om te vra waar jy aan jou inligting kom. Stoot jou weg met geykte geloofstaal: jammer dat jy nou op 'n dwaalweg is, ek bid vir jou tot die dag van jou dood. Gesprek afgehandel.

Goeie nuus ten slotte. Ek en my vrou ervaar tans 'n nuutgevonde rustigheid en innerlike vrede. Ou vrese het gewyk. Dit is nie die resultaat van 'n wonderwerk nie.

Ons eerlike soeke na antwoorde op ou kwelvrae en die bereidheid om teen die populêre wyse van glo, dink en doen in te gaan, het bevryding gebring. Ons waag dit nou om te sê dat die Bybel 'n wonderlike, rigtinggewende boek is, 'n skat vol beproefde lewenswaardes en – lesse wat die toets van die tyd deurstaan het. Die Bybel is egter deur mense geskryf en daarom vind ons dit onmoontlik om alles wat daarin staan onvoorwaardelik te aanvaar as die waarheid. Ons oordeel is dat die Bybel die unieke pogings van mense vanuit 'n bepaalde kultuur-historiese agtergrond is om sinvolle antwoorde te gee op universele kwelvrae soos: Waar kom die mens vandaan? Hoekom is alles en almal nie goed nie? Waar kom sleg en kwaad vandaan? Is daar lewe na die dood?

Die soeke na antwoorde op hierdie vrae is egter nie uniek aan die Christendom nie. Deur die eeue heen worstel alle kultuurgroepe met dieselfde vrae. Selfs toe skrif nog nie bestaan het nie, het die mens hieroor gewonder. Hoe hoog of laag die beskawingspeil ook al, het mense antwoorde gesoek – en gegee. Die antwoorde van elke onderskeibare groep weerspieël egter 'n unieke aard en sal daarom ook van mekaar kan verskil. Elke groep glo egter dat die geloof waarin hy of sy opgevoed is, is reg. Met die nodige waarskuwings om die skape in die kraal te hou!

Jy kan tereg vra of ons dan nou in niks en niemand glo nie. Ek verkies om die woord "glo" te vermy en eerder 'n paar dinge te noem waaroor ons klarigheid het:

  • Die wonder van die totale skepping sê vir my daar is 'n Onverklaarbare, 'n Onomskryfbare – 'n God wat ook vir my gemaak het. Daarom verstaan ek wat die digter van Ps.8 wil sê. Ek het die allergrootste bewondering, verwondering en heilige respek vir hierdie ondefinieerbare God en Sy skepping.
  • Ek weet dat ek net so deel is van God se skepping soos elke plant en dier. Ek is deel van die natuur. Hierdie wete het dit vir ons makliker gemaak om ons talentvolle dogtertjie se dood te aanvaar. Wat met haar gebeur het, gebeur vandag nog met kindertjies – waarin hulle ouers ookal glo of nie glo nie. Lewe en dood is 'n natuurlike gegewe. Ook my lewe sal op die dood uitloop. Ek het egter geen vrees vir die dood nie. Die dood was al voor die sg. Sondeval daar. Hoekom moet siekte aan straf en sonde aan dood gekoppel word?
  • Ek weet dat die lewe uit goed en kwaad bestaan. Die mens het egter die vermoë om keuses te maak Sy vermoë om reg te kies, is egter beperk vanweë sy eie beperkings en die kompleksiteit van sy leefwêreld. Alle mense is egter in staat om te streef na die goeie en die slegte doelbewus te vermy.
  • Ek weet dat die Liefde, soos besing in 1 Korintiërs 13, 'n alleroorheersende krag is wat vir my en my naaste geen kwaad doen nie, maar net goed.
  • Ek weet dat my en my vrou se "nuwe" beskouinge" beslis nie 'n besluit is wat spruit uit 'n begeerte om die kwaad te kies nie. Inteendeel, dit hou direk verband met die behoefte om meer te wete te kom omtrent die wêreld waarin ons woon en die soeke na antwoorde op kwelvrae wat alle mense in mindere of meerdere mate ervaar. Die gevolg is dat ons meer dink en minder glo.
  • Ek weet dat ek maar bloedweinig weet. Ek weet nie of daar 'n lewe hierna is nie. Ek weet nie hoekom elke goeie saak 'n aaklige teenpool het nie. Ek weet nie hoekom welgeskape kindertjies soms vroeg sterf en swaksinniges soms lank lewe nie. Ons aanvaar egter hierdie werklikheid, wroeg nie daaroor nie en probeer om ten spyte van alles die goeie te doen en gelukkig te wees.

Ons het intussen om twee redes as lidmate van die NG kerk bedank. Eerstens: ons aanvaar nie meer die Bybel (die sondeval- en verlossingsleer) as die spreke van God tot die ganse mensdom nie. Die kerk se belydenisse is op hierdie geloofsaanname gebou. As ons dit nie langer kan onderskryf nie, het ons gevoel die opsegging van ons lidmaatskap is die regte ding om te doen. Tweedens: die reaksie van die meeste vriende, familie en predikante op ons nuwe eerlikheid het gewissel van doodse swye, die uitspreek van skok tot beloftes van volgehoue gebede vir ons. Geen poging om meer te wete te kom omtrent die redes vir ons "onverklaarbare" koersafwyking nie.

Dit is nie lekker om op die vlak geïgnoreer te word nie, maar ons begrip vir hierdie reaksie temper ons teleurstelling. Soos ek inleidend gesê het: vrees en vryheid is nie bedmaats nie. Die vrees om met ons "Nuwe Hervormers" in gesprek te tree, is te groot en die vryheid om dit te doen is te beperk.


WAT GEMAAK MET KERSFEES?

Deur Sakkie Spangenberg

Vra enige Sondagskoolkind waar Jesus gebore is en jy gaan tien teen een die antwoord kry: 'In 'n stal in Betlehem'. Jaar vir jaar voer mense in kerke en soms ook in laerskole die geboorteverhaal van Jesus op. Hierdie geboorteverhaal staan natuurlik nie in die Bybel nie — altans nie in die vorm wat dit opgevoer word nie. Die geboorteverhaal wat opgevoer word, vermeng nie net die gegewens van die evangelie van Matteus en Lukas nie, maar sommer ook 'n handvol kerklike dogmas. Dis in werklikheid 'n roereierverhaal wat opgevoer word. Niemand gee egter om nie, want terwyl die verhaal opgevoer word, word sulke mooi liedere gesing dat almal hulle verstand uit rat haal en meegevoer word. Dink net hoe mooi sing Boney-M die tradisionele Kersliedere — om nie eens te praat van ons eie Afrikaanse sangers en sangeresse nie: 'Long time ago in Bethlehem, so the Holy Bible says, Mary's boy child Jesus Christ was born on Christmas day.'

Maak dit nog sin om Jesus se geboorte te vier as 'n mens afskeid geneem het van die tradisionele dogmas? Na my mening 'ja', want sy boodskap bly immers ook vir ons belangrik. Ons vier sy geboorte egter met 'n ander doel. Ons vier dit nie met die doel om vir ander te vertel dat die enigste verlosser van die mensspesie homo sapiens jare gelede gebore is nie. Ons vier nie die ortodokse Christendom se boodskap oor Jesus nie, maar Jesus se eie boodskap dat God vir mense omgee. Ons kan steeds vir ons kinders die geboorteverhale vertel en hulle toelaat om dit op te voer. Maar ons voer doelbewus nie meer die roereierverhaal op nie. Ons kies doelbewus om óf Matteus óf Lukas se verhaal op te voer. Ons kan gerus ons kinders daarvan bewus maak dat daar twee verskillende verhale bestaan en dat ons die verskille wil respekteer, want elke skrywer het iets anders beoog.

Kom ons fokus hierdie Kersfees op die geboorteverhaal van Matteus en let op dit wat die skrywer oor Jesus wou kommunikeer.

Matteus se geboorteverhaal (1:18–2:23) gee te kenne dat Josef en Maria in Betlehem gewoon het en dat Jesus daar gebore is (Matteus 1:18–25). Kort hierna het daar wyse manne uit die Ooste by koning Herodus kom navraag doen oor die geboorte van die koning van die Jode. Volgens hulle het 'n ster sy geboorte aangekondig. Herodus is totaal uit die veld geslaan wanneer hy hiervan hoor. (Vreemd dat hy nie die ster gesien het nie!) Skielik is nie net hy ontsteld nie, maar sommer die hele Jerusalem (bedoelende al die Joodse godsdiensleiers). Hy raadpleeg die Joodse skrifgeleerdes en priesterhoofde: 'Waar sal die messias gebore word?' Let daarop dat die wyse manne navraag doen na die koning van die Jode , maar Herodus doen navraag na die messias (vgl Matt 2:4). Slegs iemand wat noukeurig lees, sal die verskil raaklees. Die skrifgeleerdes antwoord Herodus deur uit Miga 5:1 aan te haal: 'En jy, Betlehem, gebied van Juda, jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie. Uit jou sal 'n leier voortkom wat vir die volk Israel 'n herder sal wees.'


Kontroleer mens hierdie aanhaling deur terug te blaai na die Ou Testament is daar interessante verskille. In Miga 5:1 staan die volgende: 'Maar jy, Betlehem-Efrata, jy is klein onder die families in Juda, maar uit jou sal daar iemand kom, wat aan My behoort en hy sal in Israel regeer.'

Matteus se weergawe het die volgende verskille: (1) Miga maak gewag van die clan Betlehem-Efrata, terwyl dit in Matteus lui Betlehem in die streek Juda . Die verwysing na 'n familiegroep is verander na 'n verwysing na 'n streek. (2) Volgens Miga is Betlehem-Efrata van die kleinstes onder die families in Juda. Volgens Matteus is Betlehem beslis nie die kleinste onder die streke in Juda is nie . Die rede vir laasgenoemde wysiging hang moontlik saam met die feit dat die messias nou gebore is. Betlehem is nou beslis nie die kleinste nie .

Die eerste verskil hang weer saam met die Griekse vertaling van die Ou Testament. Die verteller haal nie uit die Hebreeuse teks aan nie, maar uit die Griekse vertaling van die Ou Testament.

Wanneer die wyse manne in Betlehem aankom, gaan die ster botstil staan bokant die plek waar Jesus gebore is. (Ons glo nie vandag in reisende of dwalende sterre nie, maar in daardie tyd het hulle in sulke verskynsels geglo.) Die wyse manne gaan dan in die huis en vind Maria met die kind. Hierna haal hulle hulle geskenke uit hulle reissakke en keer dan na hulle land terug sonder om by Herodus 'n draai te maak. Die feit dat die geskenke as goud, wierook en mirre beskryf word, het lesers verlei om te dink dat daar drie wyse manne was. Die Christelike tradisie het hulle selfs name gegee: Kaspar , Melchior en Baltasar . Daar is egter geen aanduiding in die teks hoeveel wyse manne daar was nie.

Nadat die wyse manne vertrek het, waarsku 'n engel Josef in 'n droom dat Herodus van plan is om Jesus te vermoor daarom word hy aangeraai om met Maria en Jesus na Egipte te vlug (Matt 2:13–15). Hier bly hulle tot na Herodus se dood sodat Jesus soos Moses ook 'n eksodus ( = uittog uit Egipte) kan beleef. Die verteller haal soos voorheen weer 'n Ou-Testamentiese teks aan: 'Uit Egipte het Ek my seun geroep' (Hos 11:1). Lees mens ook hierdie teks in die Ou Testament is dit duidelik dat dit nie 'n direkte voorspelling is nie, maar bloot 'n verwysing na Israel se uittog uit Egipte: 'Toe Israel nog 'n kind was, het Ek hom al liefgehad, en Ek het hom, my seun, uit Egipte geroep.'

Die verteller neem ons nou twee tree terug en vertel van die gebeure in Betlehem nadat die gesin daar weg is (Matt 2:16–18). Herodus het, nadat hy agtergekom het die wyse manne het hom in die steek gelaat, alle seuntjies in en om Betlehem van twee jaar en jonger laat vermoor. Vir 'n tweede keer roep die verteller die eksodusverhaal in herinnering. Onthou dat die farao ook die klein seuntjies laat vermoor het (Eks 1:15–16). Die Jesuskarakter van die Matteusevangelie begin almeer na 'n tweede Moses lyk! Volgens die verteller is hierdie gebeure ook deur 'n profeet voorspel. Daar staan immers in Jeremia 31:15 ''n Gekerm word op Rama gehoor, 'n gehuil en groot gejammer: Ragel treur oor haar kinders en wil nie getroos word nie, omdat hulle nie meer daar is nie.' Jeremia het met hierdie 'profesie' bloot die gevolge van die Babiloniese ballingskap (587vC) in herinnering geroep. Dit is asof Jeremia vir Ragel (die aartsmoeder van die Judese volk) hoor huil het toe hulle na Babilonië weggevoer is. Matteus maak dit nou op die kindermoord in Behtlehem van toepassing.

In Matteus 2:19–23 neem die verteller ons weer terug. Maar dié keer na Egipte om Jesus se uittog te beleef. Vir 'n derde keer kommunikeer 'n engel in 'n droom met Josef en vertel hom dat Herodus dood is. Hulle kan met geruste harte terugkeer na die land Israel. Die veronderstelling is dus dat Josef en Maria teruggaan na Betlehem , maar op reis daarheen, kry Josef weer 'n opdrag: 'Gaan liefs na Galilea en nie na Judea toe nie' (Matt 2:22). Herodus se seun Herodus Argelaos is in Judea aan bewind en dit kan vir die kind gevare inhou. Die gesin gaan woon dan in Nasaret. Nogal vreemd as mens in aanmerking neem dat Herodus Antipas (Herodus die Grote se ander seun) daar aan bewind was! Waarom sou hý dan nou nie 'n gevaar vir die kind inhou nie? wonder mens.

Vir 'n vierde keer is die verteller gereed met 'n voorspelling uit die Ou Testament om ook hierdie episode met 'n profesie te onderbou. Hierdie keer tower hy egter een op: 'Hy sal 'n Nasarener genoem word, want die profete het so gesê' (Matt 2:23). Bestudeer mens die Ou-Testamentiese profete noukeurig, vind jy geen teks wat meld dat die messias ook 'n Nasarener sal wees nie. Die bedoeling met die fiktiewe profesie is om Jesus weer in Nasaret te kry (waar hy na alle waarskynlikheid werklik gebore is). Die skrywer skep dus sy eie voorspelling!

Nou kan Jesus van Nasaret se eintlike lewensverhaal begin (Matt 3–28). Die skrywer het met sy geboorteverhaal (wat sy eie kreatiewe skepping is) drie dinge bereik: (1) Hy het Jesus se geboorte van Nasaret na Betlehem verskuif en so te kenne gegee dat hy 'n seun van Dawid is. (2) Maar Jesus is nie net 'n seun van Dawid nie, hy is ook 'n tweede Moses. Sy lewe as baba was ook bedreig en hy het self 'n uittog beleef. Jesus word inderwaarheid 'n tweede Moses, daarom gaan hy ook die berg op wanneer hy die 'nuwe' Wet preek (Matteus 5:1–48). Voorts kan 'n mens duidelik vyf redevoerings in die evangelie onderskei (Matt 5–7, 10, 13, 18, 24–25). Die Matteusevangelie het dus 'n eie Pentateug. (3) Jesus se verhaal word met die Ou-Testamentiese verhale verbind. Al die gebeure wat tydens sy geboorte plaasgevind het, is volgens die skrywer se oortuiging, deur die profete voorspel — dit geld ook van ander gebeure in sy lewe. Die Matteusevangelie maak baie van sinspelings en voorspellings uit die Ou Testament gebruik, want die skrywer skryf vir Jode en wil hulle oortuig dat Jesus die voorspelde messias is wat God se koninkryk (God se regering) weer sigbaar gemaak het.

Ons kan gerus ons kinders bewus maak van verhale in die Ou Testament wat as model gedien het vir verhale in die Nuwe Testament. Die skrywers van die evangelies het die boustene vir hulle verhale oor Jesus in die Ou Testament gaan haal. Is dit nie maar ook wat alle skrywers doen nie? Hulle gaan 'leen' boustof by ouer verhale en skep dan nuwe verhale. Maar na regte is elkeen van ons eintlik besig om 'n nuwe lewensverhaal te skep. Ons skep ons eie lewensverhale deur terug te gryp na ouer familieverhale en foto's. Sonder herinneringe kan ons immers nie leef nie. Sonder ons 'kiekies' is ons ankerloos. Matteus het vir ons 'n paar 'kiekies' uit Jesus se 'foto-album' gehaal en getoon dat hy nie ankerloos was nie.


Waarom Hervorming?

Verkorte teks van 'n voordrag voor die Sinode van Noord-Transvaal (2/9/03). deur Pieter Botha Agtergrond: SKLAS (Noord-Transvaal) het twee "nuwe hervormers" genooi om aan die sinode se bespreking van die "nuwe hervorming" deel te neem. Ringe is versoek om vrae in te stuur. By die sinode self het ons (ek en Pieter C.) elkeen ±20 minute elk gekry om die vrae te bespreek. Die geleentheid het goed verloop. Onderstaande is die teks van my bydrae. Ek het dit heelwat verkort maar dit is nog steeds laaaaank vir 'n webwerfblad, so gaan kry eers 'n koppie koffie (of ...).

Inleiding: daar is te veel vrae voorgelê om elke een sinvol te beantwoord. Daar is in elk geval onbillikhede in sommige vrae (gebasseer op karikature en onkunde), asook 'n vyandigheid wat veronderstel dat belydenisse en geloofspraktyke alles in kanne in kruike is, dat daar êrens 'n "ons" is wat presies alles weet en as arme ek en Pieter en die ander nie so lekker verstaan nie, sommer gou-gou sal verduidelik wat die Here dink, hoe die Goddelike is en wat nodig is om te doen.

Die opvallendste kenmerk wat al die vrae deel is dat almal "wat" vrae is; daar is nie "hoekom" vrae nie. Dit is vreemd want baie ten opsigte van die "wat" is al baie gesê, is maklik verkrygbaar (veral vir professionele mense) en van die aspekte wat nou kamstig so problematies is, het ons en ons kollegas al vir baie jare navorsing gedoen en staan in ons publikasies van die afgelope 15 jaar en ouer.

Ek wil fokus op daardie "hoekom". Hoekom neem ek deel aan die sogenaamde "nuwe hervorming gesprek". Die "hoekom" plaas ook klem op dit wat ons deel . Ek is seker as ons verby die "kinders van Satan" en "moedswillig" en "onnosel" retoriek kan kom, ons waarskynlik sal agterkom dat ons eintlik nader as verder van mekaar af staan.

Ek wil drie sake bespreek: "hervorming", historiese verstaan (of historiese kritiek, of historiese ondersoek, wat alles dieselfde ding is) en godsdiens (of geloof, of aanbidding, wat ook eintlik dieselfde ding is)

(1) Hervorming

Daar word gesuggereer dat dit voorbarig is om jouself 'n "nuwe hervormer" te noem; dat dit pretensieus is om 'n hervormer te wil wees.

Hoekom lyk 'n kerkgebou soos dit lyk? Hoekom is die preekstoel op 'n sekere plek — hoekom is die retoriek van die kerklike argitektuur wat dit is? Die dinge is wat dit is as gevolg van die oorneem van die Konstantynse ideologie. Dit reflekteer die oorname van die basilika, en die oorname van die regspreek van Romeinse magistrate. Dit was 'n doelbewuste keuse deur 'n beduidende groep Christene van die vierde eeu vír die keiserlike ideologie; 'n aansluiting by "mag is reg". Baie van daardie Christene het gedink dit is 'n "christelike" uitlewing van geloof vir hulle tyd. Mag so gewees het, maar die vraag is of dit so kan wees vir vandag. Daardie aansluiting het — so weet ons vandag onbetwisbaar — veel skade aangerig. Die oorgang van die domus ecclesiae waarin maaltye genuttig is na die aula ecclesiae , die basilika, waarin patriargie en oorheersing uitgeoefen is, was nie vanselfsprekend nie.

Die eerste gelowiges wou, soos Jesus self geleer het, God se heerskappy sigbaar maak. Hulle wou wys hoe die lewe lyk as die God van sosiale geregtigheid koning is en hoe anders dit is as waar die die keiser se heerskappy sigbaar is.

So kom ons draai die beskuldiging om. Wat dink jý is verkeerd met die kerk? Is dit wat ons doen en bou en bepraat die oorvloediger geregtigheid waartoe Jesus ons uitgedaag het?

Wie is so voorbarig om te dink alles is reg? en dat God se heerskappy sigbaar is? Is ons praktyke huidiglik die beste waartoe ons in staat is? Is die belydenisse waarmee daar so graag gespog word enigsins uitdrukking van die geloof wat berge versit? Nee natuurlik nie. Die goed maak dan nie sin nie, en kan nie vir enigeen hier sin maak nie . Hoe kan ek so iets sê? Maklik: daar is nie meer een neo-platonis op hierdie planeet oor nie. En om te weet wat die verskil tussen Arius en Atanasius is, moet mens 'n waardestelsel, 'n wêreldbeeld van neo-platonisme gebruik om sin te maak van die dispuut tussen hulle. Om een van hulle se geloofsoortuigings jou eie te maak moet mens hulle filosofie, etiek en wêreldbeeld oorneem.

Dus: hoekom is daar nie 'n vraag aan die sogenaamde nuwe hervormers in die trant van "hoekom praat julle nie meer nie?" Vanwaar die idee dat óns kerk nie hervorming nodig het nie? Wie is hier in Suid-Afrika, in die NedGeref kerk dan reformerende tradisie? Wie is nou eintlik pretensieus?

(2) Historiese kritiek

Historiese kritiek is die een element van enige waarheidsaanspraak wat nie uitgelaat kan word nie. Daar ís 'n verskil tussen waarheid en leuen, en die verskil lê in skerp historiese kritiek . Hoe wil jý aanspraak maak op waarheid?

Die objektiewe, absoluut ware gebeure van die verlede is uiteraard vir geen mens toeganklik nie (ek neem nou aan daar is niemand hier wat 'n goddelike gesigspunt het nie). Historiese ondersoek bring ons wel naby, by wyse van spreke, maar kan nooit self die oorspronklike saak wees nie. Geskiedenis is 'n konstruksie , die beste, betroubaarste rekonstruksie wat mens kan maak van gebeure, deur gebruik te maak van krities getoetste getuienis, die toepassing van die bes moontlike wetenskaplike metode (wat kruis-kulturele inligting omvat) en dan selfkritiese historiese voorstellingsvermoë te benut. Die historiese ondersoek is veel eerder 'n proses as wat dit finale antwoorde bied. In daardie proses om die geskiedenis te verstaan lê ontsettend baie religieuse waarde.

Dit is 'n misverstand dat historiese kritiek negatief is, en alles kamstig "wegvat". Inteendeel, historiese navorsing strewe na insig en begrip.

Kortliks die "maagdelike geboorte" bespreek, ter illustrasie. Historiese ondersoek — historiese kritiek — gaan oor verstaan, oor betekenis. Daarmee beklemtoon ek dat die uitspraak "dit het gebeur" is nog nie geskiedenis nie. Alvorens ons nie gevra het na die bedoeling , die betekenis van tekste en handelinge nie, is daar nog nie veel historiese insig nie. Dit word weereens 'n etiese vraag, want ter wille van integriteit moet ons ook vra wat sê hulle . Morele integriteit noop ons om húlle te laat praat met húlle kulturele betekenisse.

Nie een van die evangeliste sê Jesus se afkoms of oorsprong as goddelik is uniek of enig as sulks nie . Hulle het nie gesê Jesus is die enigste wat 'n maagdelike geboorte gehad het nie. Wat hulle vir hulle tyd en hulle lesers wou vra is nie of Jesus God is nie, maar watter God is ter sprake, want watter God bepaal watter leefwyse ter sake is.

Atia, Oktawianus se ma het die tempel van Apollo besoek, saam met ander vroue, vir 'n middernagtelike diens. Sy het in haar drastoel aan die slaap geraak en 'n slang het haar besoek (tussen haar bene opgeseil!). Toe sy wakker word het sy haarself gewas asof sy seks gehad het, 'n geboortemerk het op haar lyf verskyn en 9 maande later is Oktawianus gebore (Suetonius Aug 94.4). Daarom het Oktawianus ook bekend gestaan as die seun van Apollo, en sinspeel die titel Augustus (o.a.) ook hierop. Die seun van Apollo, die krygs god!

Nou hoe besluit mens hieroor? Wat vir die een geld geld vir die ander. Nie een van die twee het 'n bonatuurlike geboorte gehad nie. Die vraag is nie of Jesus 'n onnatuurlike afkoms het nie, maar van watter God praat ons hier? Die vroeë Christene het Jesus se geboorteverhale vertel om in hulle tyd en plek, met hulle wêreldbeeld, 'n keuse aan te dui: hier is 'n lewensstyl wat die God van sosiale geregtigheid verteenwoordig. Net soos ook die priesters van die keiserkultus hulle merkwaadige verhale vertel het om hulle lewensstyl en prediking en evangelie te vertoon.

Dit het destyds 'n hengse verskil gemaak wie noem jy seun van watter god , nie wie 'n maagdelike geboorte gehad het nie. Immers Plato, Apollonius, Pythagoras (en andere) het almal gode vir pa's gehad.

Lk 1.26–35 gaan nie oor Maria se ginekologiese toestand terwyl sy swanger was nie. Dit is juis onhistories om te beweer die teks leer ons dat Jesus 'n unieke geboorte/ontstaan gehad het. Lukas het nie gedink dat Jesus anders as ander mense nie 'n gewone pa gehad het nie . Lukas het wel gedink dat Jesus nie net nog 'n godeseun is nie; dat om te sê dat Jesus Seun van God is, iets behels met vêrreikende sosio-politiese implikasies.

Is dit die God wat "in my geringheid na my omgesien het" (of in "my afkoms/sukses/magtigheid"?). Doen Hy kragtige dade wat "maghebbers van trone afruk en geringes verhoog"? "Oorlaai hy behoeftiges met goeie gawes en stuur rykes met leë hande weg"?

En in Matteus is die konteks weer die kinders van Abraham. God kan natuurlik kinders uit die klippe verwek, maar so maak hy nie sy Israel nie; nee hulle is die wat hoor én doen wat Jesus, Immanuel, geleer het.

<!--pagebreak-->

(3) Godsdiens

3.1 My pleidooi is dat ons heelwat nederiger oor God moet wees; oor ons kerklewe en oor wat ons sê ons geloof behels. Al opgelet hoe baie woorde in ons sogenaamde geloofstaal is net sirkelredenasies?

  • Wat is die "siel"? Dit is wat hemel toe gaan. Waar/wat is "hemel"? Dit is waar die siele is.
  • Wat is verlossing? Verlossing is verlossing van sonde. Wat is sonde? Dit waarvan jy verlos word.

Wat die antwoorde is, is nie vir my om te bepaal nie. Maar ons (die "nuwe hervorming") wil 'n ruimte, 'n gespreksruimte, tot stand bring waarin ons saam kan soek na beter antwoorde. Of minstens net eerlik oor ons vrae te kan praat.

Daar is verbasend baie ander mense wat ook vermoed dat ons geloofstaal leeg is; dat eredienste en teologie vervelig geraak het; dat ons belydenisse sommer net dom is; wat gefrustreerd voel en wonder: kan dit wat ons hier doen nou aanbidding van God wees.

3.2 Die betekenis van woorde en die waardes vir mens se etiek is verweefd met wie jy is, wanneer en waar jy lewe. Hoekom Augustinus, Athanasius, Luther, Calvyn (en selfs Paulus) toelaat om kinders van hulle tyd te wees — maar ons mag nie kinders van óns tyd wees nie!

Daar is altyd 'n dialektiek tussen teks en interpreteeerder. So was dit nog altyd. Die Skrif is juis nie 'n afgehandelde, voltooide objek nie, maar woorde wat geïnterpreteer moet word. Elke groep in elke tyd moet opnuut daardie taak opneem en verantwoordelikheid aanvaar. Vir ons, met ons waardes en waarheidsopvattinge kan historiese interpretasie nie vermy word nie.

Ons strewe as Christene, en veral as Christelike teoloë in ons kontemporêre Westerse kultuur, behoort eerstens te wees die verstaanbaar maak van ons verhouding met God op 'n manier wat sin maak in ons wêreld. Dit behoort 'n poging te wees wat ons verhouding met God beoefen op 'n manier wat aansluit by die res van ons benadering tot die lewe. "Can it really be the mission of Christian theology to think away, so to speak, the human person, as acting, responsible, and suffering? Can theology deny subjectivity as the main reference point for theological reflection?" (Rendtorff 1985:498).

3.3 Mistifikasie

Wie bou 'n leefwyse, fel etiese beslissings, of gee sin aan 'n gebeurtenis met "geheimenisse"? 'n Beroep op 'n geheimenis word nie in hofsake aanvaar nie. Stel jou voor die snydokter sê dat dit eintlik 'n misterie is en ons vat maar 'n kans met die skalpel... Misteries speel nie 'n rol wanneer ons versekering uitneem of beleggings maak nie. Mistifikasie is vir elkeen van ons onaanvaarbaar wanneer 'n afstootlike moraliteit geregverdig word [wie glo Barend Strijdom dat God hom beveel het om daardie 8 swartmense dood te skiet?] Die punt is eenvoudig: as mistifikasie onaanvaarbaar is in belangrike aspekte van die lewe, wat van in godsdiens? Is geloof dan nou minder belangrik as bogenoemde voorbeelde?

Dit is hoogs onverantwoordelik om te sê sommige goed is 'n geheimenis en kan nie verstaan word nie. Die merkwaardige is dat dele van sulke misteries juis verstaanbaar is: hoe dit vroue bedons, 'n sosio-politieke stelsel in stand hou, ens. Dis 'n misterie (m.a.w., histories onkontroleerbaar) hoe God aan iemand verduidelik het om 'n aaklige ding te doen, maar die effek van daardie misterie is uiters histories!

Mistifiseer is om iets moelik maak om te verstaan deur dit in misterie te hul. "Redelikheid [as kritiese refleksie] is daarop ingestel om alle soorte mistifikasies — ook konseptuele mistifikasies — te ontmasker en om die individu te bevry van verdraaide kommunikasie. Die samelewing behoort gedurig bewus gemaak te word van die feit dat dit die slagoffer is van sekere opvattinge en dat sommige van daardie opvattinge die menslike verbeelding verarm en sy vryheid onderdruk" (Degenaar 1990:29).

Vandag, in ons wêreld, lewe ons met 'n historiese bewussyn. Mistifikasie, versluiering, weerhouding van inligting, ontkenning van historiese waarheid, minagting van kritiese ondersoek: die waardestelsel waarmee ons lewe maak sulke benaderings problematies en word ten strengste afgekeur.

3.4 Newelagtige sieligheid?

Die belang van historiese ondersoek/verstaan vloei voort vanuit die erkenning van historiese belewenis as fundamenteel vir menswees. En die klem op historiese belewing noop ons om ons liggaamlikheid ernstig op te neem. Dit is onmoontlik —absoblerrieluut onmoontlik — om die Goddelike in abstrakte spekulasie te ontmoet. Die Goddelike kan net histories belewe word.

My "siel" IS ook my liggaam. Die siel-liggaam dualisme is iets boos; dit minag God se skepping. Onthou waar die "siel" vandaan kom: 'n opvatting dat die mens 'n onsigbare maar diepste self "het" wat uit die liggaam vrygelaat moet word. Die sogenaamde ware mens is die verborge, "ideale" weergawe. As gevolg van hierdie opvatting het 'n hele diskoers oor die "siel" (die kamstige "eintlike" mens) ontstaan en dáárdie diskoers het uiteindelik die liggaam gevange geneem.

In 'n sin is dit 'n eenvoudige vraag: Wat is belangrik: jy of jou siel? Spoke of historiese belewenis? Kyk na die sieleleer se "track record" — dis hoekom hervorming nodig is.

Veel godsdiens in ons NedGeref tradisie het in wese net te doen met wat voor die konsepsie van jou liggaam gebeur het (erfsonde) en wat na jou dood gaan gebeur (hemel of hel) en het eintlik bitter min met jou lewe en/of met God te doen. As geloof nie iets werkliks is, wat met ons lywe hier en nou te doen het nie, dan praat ons NIE van die geloof waaroor die Bybelskrywers vertel nie, en praat ons oor 'n klein afgodjie wat mense se dienaar is (m.a.w. van 'n god wat net 'n mens se "heil" dien, wat 'n mens se vrese in die sentrum plaas).

Replieke

Botman sit die pot mis met sy misleiding

deur Pieter Craffert, dept. Nuwe Testament, Unisa

Die artikel van Russel Botman in Godsdiens-aktueel (Beeld, 29 Julie) is nie die eerste waarin hy die Nuwe Reformasiedebat aandurf nie. Hierdie keer beroep hy hom op 'n komplekse wetenskaplike metode wat 'n "digte beskrywing" van Jesus voorstaan. Dit neem "al vyf benaderinge ter harte, integreer dit as kennisvennootskappe en ontwikkel 'n kontekstuele blik op Jesus", sê hy. Hierteenoor is die Nuwe Reformasiestandpunt natuurlik "onwetenskaplik" want dit is reduksionisties (berus op 'n "óf-óf-benadering") en is minder kompleks. Net eers 'n regstelling: indien Botman hom vergewis het van die gepubliseerde navorsing van sommige van die voorstaanders van die Nuwe Reformasie, sou hy geweet het dat niemand harder gepleit het vir die erkennig van die kompleksiteit van die probleem asook dat hierdie vraagstuk op wetenskaplike en nie dogmatiese (geloofs-) gronde aangepak moet word nie.

Taal laat ons toe om metafore te gebruik en om een kategorie aan die hand van 'n ander te beskryf ("die man is 'n buffel"). Dit beteken egter nie dat kategorieë in die werklikheid (en in die wetenskaplike denke) ook vermeng kan word nie. Dit is inderdaad reduksionisties wanneer 'n onderdeel aangebied word as die geheel (byvoorbeeld wanneer 'n olifant beskryf word asof dit net 'n slurp is/het). Maar dit is misleiding wanneer kategorieverwarring plaasvind (as vanuit die waarneming van 'n dik, kort stertjie afgelei word dat die betrokke dier 'n olifant is terwyl dit eintlik 'n renoster is) of wanneer assosiasieverwarring gepleeg word (as beide 'n slurp en 'n neushoring aan 'n "olifant" toegeskryf word net omdat dit aan diere behoort).

Dit is presies wat Botman doen met sy sogenaamde vyf benaderinge wat elk iets met die persoon van Jesus te doen het, en daarom volgens hom geïntegreer kan word as kennisvennote. Hiermee word bloot aanvaar dat elke perspektief 'n element byvoeg tot 'n "digte prent" van Jesus. Maar hiermee illustreer hy dat hy hoegenaamd nie die probleem waaroor historiese Jesus navorsing handel, verstaan nie.

In die vroeë kerk was daar veskillende modelle waarvolgens oor Jesus gepraat is. Die Johannesevangelie vertel dat Jesus eintlik 'n goddelike wese is wat mens geword het (goddelike wesens het in die bybelse wêreld dikwels die gestalte van mense aangeneem en menslike handelinge uitgevoer soos om aardse vroue te bevrug, lees byvoorbeeld Gen 6). Daarnaas het die ander evangelies met die model gewerk van 'n mens wat die status van 'n goddelike wese verwerf het (talle figure in die bybelse tradisie het na hul dood of aan die einde van hul lewe, goddelike statuur verkry - soortgelyk aan die Romeinse keisers).

Hierdie probleem, tesame met die talle ander verskille tussen die evangelies, stel ons voor die vraag: watter van die woorde en dade en eienskappe wat aan Jesus toegeskryf word in die verskillende bronne, is histories korrek? Hy kon byvoorbeeld nie 'n goddelike wese gewees het wat mens geword het en 'n mens wat 'n goddelike gestalte aangeneem het nie. Hy kon nie op 'n Donderdag en 'n Vrydag gekruisig gewees het nie en ook nie eerste in Jerusalem en Galilea verskyn het nie. Om terug te keer na die dier metafoor: is die dier met die kort, dik stert 'n olifant of 'n renoster?

Dit is die verskille tussen die bronne asook die vreemde aard van talle van die verhale (oor 'n spesiale geboorte en opstanding) wat navorsers laat kopkrap oor wat was nou eintlik historiese gebeure is en wat Jesus nou eintlik sou gesê het. Afhangend van watter elemente in die bronne as betroubaarder aanvaar word en hoe dit geïnterpreteer word, kom navorsers na vore met verskillende voorstellings van Jesus is historiese figuur. Botman weerlê nie die onderskeid tussen bogenoemde modelle nie; om die waarheid te sê, hy is nie eens bewus daarvan dat die verskillende benaderinge wat hy noem op grond van sulke oordele elk 'n eie aanspraak maak oor watse soort figuur Jesus nou eintlik was nie. Crossan en Nolan (sy voorbeelde) staan nie naas Johannes se weergawe nie, maar gebruik dit op 'n spesifieke manier (saam met ander bronne) om te sê wie Jesus as historiese figuur was. Nie alleen stel hy moderne voorstellings naas een van die bronne se voorstellings nie (dit is tog die basis waarop historiese konstruksies gebou word), maar hy is onbewus daarvan dat elkeen van die perspektiewe wat hy noem, self 'n historiese konstruksie is wat op sekere interpretasies van die evangeliebronne berus. Elke bron oor Jesus dra nie maar net 'n deeltjie by tot 'n groter legkaart nie en elke navorser bied nie maar net 'n alternatiewe perspektief op daardie geheel nie, maar bied 'n eie verstaan van die geheel aan. Op grond van die kenmerke en verstaan van die "bronne" kom een by 'n "renoster" uit en die ander by 'n "olifant", om die beeldspraak te gebruik. Botman wil hê die beelde moet geïntegreer word in 'n digte beskrywing (dan noem ons dit 'n olinoster wat kan vlieg). Dit werk net in feëverhale en in die soort harmonieering wat hy voorstaan, nie in die wetenskap nie.

Nuwe insigte lei dikwels tot verwarring - veral as mense hul hele lewe aan een siening opgehang het of glo dat hulle siening die alfa en die omega is. Die meeste mense, wanneer hulle besef dat nuwe insigte en perspektiewe verrykend is, is egter in staat om sulke verwarring te oorkom en nie in wanhoop te sit nie. Wat wel 'n probleem is, is dat mense mislei word of doelbewus onkundig gehou moet word omdat hulle dalk ontsteld kan wees oor nuwe insigte. Wie dra by tot wanhoop en misleiding: diegene wat mense help om 'n olifant van 'n renoster te onderskei of diegene wat mense wil laat glo dat olinosters bestaan; diegene wat bereid is om die probleme wat die bronne en di enavorsing skep in die oë te kyk, of diegene wat mense wil vertel elke perspektief kan in een groot geheel geharmonieer word (natuurlik die Ortodokse harmonie)? 

Die stand van die teologiese debat in die Afrikaanse wêreld

Pieter F Craffert
Departement Nuwe Testament
Unisa
September 2007

Die konferensie by die NG Kerk Universiteitsoord op 18 September 2007 oor die vrygestelde DVD waarin ’n aantal Suid Afrikaanse teoloë verdag gemaak word, het weereens die beperkte en beperkende aard van die huidige teologiese debat in die Afrikaanse wêreld geïllustreer. Die eensydige aard van die debat, waarvan die meeste deelnemers klaarblyklik totaal onbewus is, kom nog duideliker in die DVD na vore. Die raamwerk waarbinne die debat plaasvind, konstitueer, myns insiens, ook die grootste enkele uitdaging waarvoor die Afrikaanse kerke in die volgende dekades te staan gaan kom. Dit is, naamlik, hoe om sinvol met verskeidenheid om te gaan en hoe om diversiteit positief aan te wend eerder as om tot verdere skeuring en verdeling te lei. Die beperkende raamwerk kom die duidelikste na vore wanneer dit teen die agtergrond van egte voorbeelde van diversiteit gesien word.

Diversiteit tussen gelowiges

In 1999 is ’n bundel opstelle gepubliseer waarin Tom Wright en Marcus Borg verskillende standpunte oor die historiese Jesus inneem (sien Borg and Wright 1999). Tom is ‘n Anglikaanse biskop van Durham in Brittanje, en Marcus behoort aan die Episkopaalse kerk in die VSA (die Anglikaanse tradisie in die VSA). Beide is Nuwe-Testamentici, maar hulle verskil radikaal van mekaar. Dit sluit in verskille oor die letterlike verstaan van die maagdelike geboorte en die opstanding van Jesus. Die merkwaardige is dat te midde van die verskille, hulle kan skryf: “We are both committed to the vigorous practice of the Christian faith and the rigorous study of its historical origins”.

’n Tweede voorbeeld uit konserwatiewe kringe is ’n publikasie van die seminaar oor die opstanding waaraan Wright en die keer, John Dominic Crossan deelgeneem het (sien Stewart 2006). Weereens, verskil Wright met Crossan, ’n lid van die Jesus seminaar, oor die fisiese, letterlike, liggaamlike opstanding van Jesus - maar die debat bly op ’n hoë peil. Terloops, Borg en Crossan is twee van die buitelandse geleerdes wat in die DVD as nie-Christene voorgestel word.

In hierdie publikasies en debatte is twee elemente teenwoordig wat in die Suid Afrikaanse debat totaal afwesig is. Die een is die erkenning dat die ander een, wat sigself met die Christelike tradisie vereenselwig en sy of haar lewe daaraan wei om dit beter te verstaan, met goeie reg kan aanspraak maak om ’n Christen genoem te word. Hierdie is voortgaande gesprekke tussen medegelowiges. Die tweede is die aanvaarding dat elke standpunt, ook jou eie, slegs ’n interpretasie van die gegewens is. Daar is, byvoorbeeld, geen teks in die Nuwe Testament wat sê dat Jesus fisies, letterlik, en liggaam opgestaan het nie. Daar is geleerdes (soos Wright) wat op grond van hul navorsing meen dat dit die beste interpretasie van al die beskikbare gegewens is en dat dit daarop dui dat Jesus fisies, letterlik, liggaamlik opgestaan het. Daar is andere (soos Borg en Crossan) wie se interpretasie hul daartoe bring om dit nie letterlik as ’n fisiese gebeure te verstaan nie. Beide erken egter die betekenis van Jesus se opstanding (sommiges omdat hulle reken dit was die grootste wonderwerk van alle tye en ander omdat hulle in die verkondiging daarvan iets sien en beleef van God se herskeppende krag). Beide groepe aanvaar die werklikheid van die opgestane Jesus (al oordeel hulle verskillend oor die gebeure).

Hierdie twee strome bestaan al vir ongeveer twee honderd jaar in Nuwe-Testamentiese navorsing en uiters bekwame en toegewyde navorsers bevind hulle aan beide kante van die debat. Dit mag selfs wees dat beide nog onder die druk van ’n modernistiese raamwerk die tekste steeds misverstaan en dat nie een van die twee interpretasies enige waarde vir Jesus se eerste volgelinge sou gehad het nie. Dit mag wees dat ’n kultuur-sensitiewe verstaan van die Nuwe-Testamentiese bronne ons ’n meer getroue eerste-eeuse verstaan kan gee. Maar dit daar gelaat, want die punt is dat vir dekades al worstel navorsers om beter en meer sin te maak en strewe hulle na meer suksesvolle interpretasies van die gegewens. Soos Borg en Wright, is daar talle wat vra: verstaan ek jou reg; wat maak jy met hierdie of daardie teks of inligting; hoe verstaan jy die gegewens? ens.

Binne die raamwerk van hierdie debat is daar nie fundamentalistiese grense wat slegs diegene wat byvoorbeeld ’n fisiese, letterlike, liggaamlike opstanding aanhang, binne die kring van Christene toelaat nie. En dit is die groot verskil met die Suid Afrikaanse situasie. Die raamwerk hier in Suid-Afrika (en in soortgelyke fundamentalistiese situasies in die VSA en elders) is só gedefinieer dat slegs één interpretasie moontlik en aanvaarbaar is. Almal moet aan die één standpunt voldoen en wie nie slaag nie, word uitgeskuif, afgesny en veroordeel.

Dit is binne so ’n (fundamentalistiese) raamwerk dat die gesprek in Universiteitsoord plaasgevind het en wat veral op ’n baie kru manier deur die genoemde DVD verteenwoordig word. Let mooi op na die strategie van beide die DVD en die gesprek: die oogmerk is om vas te stel of die Tuks dosente nog tot die kring behoort. Laat ek by laasgenoemde begin.

Die DVD se raamwerk en retoriese strategie

Beide lyne loop soos goue drade deur die DVD. Die retoriese strategie is om ’n donker agtergrond te skets. Hierdie agtergrond word verteenwoordig deur sommige buitelandse en ’n aantal Suid-Afrikaanse navorsers (veral lede van die Nuwe Hervorming Netwerk). Die suggestie is dat hulle tog nie Christene kan wees nie, want hulle aanvaar nie die fisiese, letterlike, historiese en liggaamlike opstanding van Jesus nie. Die implisiete aanname van die DVD is dat laasgenoemde siening normatief is en wie daarvan afwyk, dwaal. Hulle is die ketters, of nog erger - kan nie as Christene deurgaan nie. Die  strategie is verder om sommige dosente by Tukkies teen die donker agtergrond te meet met die insinuasie dat hulle eintlik buite die ruimte van ware Christenskap val. Die oogmerk van die DVD is nóg ’n ondersoek na moderne strominge (want daarvoor is dit veels te tendensieus en oppervlakkig), nóg ’n poging om gesprek te bevorder (daar kan nie sprake van gesprek wees as die meeste van jou sogenaamde gespreksgenote beswaar maak dat hul woorde en intensies verdraai is nie). Die strategie van aanbieding weerspreek so ’n moontlike oogmerk, want woorde wat in verskillende kontekste opgeneem is, word selektief aangebied binne bogenoemde fundamentalistiese raamwerk en nêrens word enige persoon genader om te reageer of kommentaar te lewer of selfs om spesifieke vrae te beantwoord nie. Niemand praat vir hom- of haarself nie. Daar word net na geselekteerde woorde geluister (wat opgeneem is) met die doel om in die eie veroordelende raamwerk te funksioneer. Uiteindelik het die DVD slegs één oogmerk en dit is om aan te toon dat die drie Tuks dosente by die donker, ketterse agtergrond hoort.

Om die redes reken ek dat dit alles behalwe ’n sinvolle bydrae lewer om resente Nuwe-Testamentiese navorsing in mense se voorhuise in te dra. Dié navorsing word bloot tendensieus aangebied binne bogenoemde fundamentalistiese raamwerk en met die doel om die betrokke dosente verdag te maak sodat hulle veroordeel kan word. Crossan, Malina, Borg en Spong wat in die DVD ter sprake kom, om maar net die vier by name te noem, identifiseer hulself volledig met die Christelike tradisie; beskou hulself as gelowige christene; het hul ganse lewens gewy aan die kerk en navorsing oor die Nuwe-Testamentiese geskrifte. Die wyse waarop die DVD oor ander gelowiges se diepste oortuiginge en verbondenheid aan die Christelike tradisie oordeel, is (om die woord “arrogant” te vermy) ’n uiterste vorm van hubris. Dít is een van die kenmerke van die fundamentalisme: ander mense moet aan jou (en jou groep se) verwoording en raamwerk voldoen en soos jy (en jou groep) dink en praat.

Die gesprek in Universiteitsoord

Dit bring my by die bespreking in Universiteitsoord NG Gemeente. Al die pleidooie vir meer nederigheid en die skynbare pogings om nou presies te verstaan wat die betrokke dosente dan sou glo, is skrikwekkend naïef en klaarblylik onkundig met betrekking tot bogenoemde raamwerk. Oor en oor moes die betrokke dosente hot en haar keer om nie dalk verdink te word dat hulle die fisiese, letterlike, liggaamlike opstanding van Jesus sou ontken nie. Hulle moes oor en oor hul geloof bely net sodat iemand anders weer van ’n ander kant af kon inkom om suspisie te wek of hulle wel nog binne bogenoemde fundamentalistiese raamwerk inpas.

Dit herinner aan die eeue lange debatte in die kerk oor hoe om Christelik en moreel teenoor ’n slaaf op te tree maar sonder om te besef dat slawerny een van die uiterste vorme van sistemies onreg en sonde was wat ooit deur mense (en Christene) beoefen is. Bogenoemde raamwerk word klakkeloos aanvaar as maatstaf waaraan andere moet voldoen en die belangrikste oogmerk was om die drie daaraan te toets. Maar soos die DVD, is die raamwerk waarbinne die drie dosente die vrae moes beantwoord implisiet gegee: as een van hulle net ’n aanduiding sou gee dat hy nie die fisiese, letterlike, liggaamlike opstanding of die maagdelike geboorte van Jesus sou aanvaar nie, sou hy daar en dan aangekla en simbolies op die brandstapel geplaas word. Dit is soos om met ’n geweer teen jou kop vrae te moet beantwoord. Voordat die raamwerk binne die kerk nie een van dialogiese openheid vir verskillende interpretasies binne die Christelike tradisie is nie, is dit niks anders as fundamentalistiese hegemonie en onderdrukking nie.

Nie een van die sprekers wat gepleit het vir meer nederigheid of duideliker belydenisse het beswaar aangeteken dat ander gelowiges se diepste oortuigings deur die DVD en die ondervraging vertrap word nie. Geen woord is gerep (ten minste van die vloer af nie) oor die eksplisiete standpunt in die DVD ten opsigte van suspisie oor die amptelike organe van die NG Kerk wat ondersoek gedoen het na die drie dosente se leringe en hulle onskuldig bevind het. In die prekies oor hoe om Christelik teenoor ander (slawe) op te tree, was daar geen weerstand teen die slawerny van fundamentalisme wat nie net een standpunt verabsoluteer nie, maar salig onbewus daarvan is dat hulle besig is om hul eie raamwerk op ander afgedwing te dwing. Daar was geen weerstand teen die arrogansie waarmee die eie fundamentalistiese interpretasie gelykgestel word aan wat destyds sou gebeur het, en hoe dinge skynbaar was nie.

Die uitdaging van dialogiese diversiteit

Die grootste uitdaging wat, myns insiens, Afrikaanse kerke in die dekades wat kom in die gesig staar, is hoe om sinvol en beskaafd (met civility) met die verruimende diversiteit wat reeds eeu lank deel van die Christelike tradisie is, om te gaan. Dit geld godsdienstige diversiteit in die algemeen (tussen godsdienste), maar spesifiek diversiteit in eie geledere oor konflikterende interpretasies. Die ontsteltenis van lidmate en die onsekerheid wat meer as een interpretasie skep, is die vrot vrugte van ’n onvermoë om sinvol met diversiteit om te gaan. Dis ’n kulturele mankement wat sigself gaan wreek. Die enigste teengif daarteen, is om lidmate in te lei in die bestuur van verskeidenheid. Die filosoof, Daniel Dennett merk onlangs op dat daar vandag waarskynlik geen belangriker vraag is om na te vors nie as juis wat godsdiens is; waarom dit so baie vir mense beteken, en wat dalk fout mag wees in godsdienstige mense se selfverstaan. Eers dan kan met verantwoordelikheid nagedink word oor waarheen godsdienste en godsdienstige mense hierdie planeet rig (sien Dennett 2006:6–7).

Die groot vraag is hoe kan die kerk, in die lig van die dekade lange diversiteit van interpretasie en moontlikhede van verstaan oor die Jesus tradisies, sinvol met verskille omgaan? Konkreet, die grootste uitdaging vir die Afrikaanse kerke in die jare vorentoe is nie om spesifieke individue uit te vang wat dalk nie die fisiese, letterlike, liggaamlike opstanding of maadgelike geboorte van Jesus onderskryf nie, maar hoe om met daardie diversiteit van sieninge binne die raamwerk van die Christelike geloof om te gaan.

Die tyd is eens en vir altyd verby dat diversiteit deur mag of gesag beheer en hanteer kan word, want die impak van die kennisrevolusie het beheer oor interpretasies onmoontlik gemaak. Die alternatief wat sigself aanbied, is dialoog, of dialogiese diversiteit. Dialoog is iets anders as bloot luister. Die DVD het ook geluister (en opgeneem), maar dit binne die eie raamwerk verdraai. Luister is iets wat jý doen, dialoog is iets wat jy sáám met ’n ander doen. Dialoog verbind gespreksgenote aan mekaar as gelykes en konfronteer elkeen met die unieke van die andersheid. Dialoog aanvaar dat die ander iets anders as die self ek kan sê; dat jy dinge anders as ek kan sien, en dinge anders as ek kan formuleer.

Die omarming van dialogiese diversiteit is in wese ’n transformering van die fundamentalistiese raamwerk wat die ander slegs toelaat indien sy/hy konformeer. In wese is hierdie ’n radikale kultuurverandering en nie bloot ’n teologiese verskuiwing nie. Om die waarheid te sê, dit is hoegenaamd nie teologies van aard nie, omdat dit nie weer ’n normatiewe posisie verskans nie. Twee kwalifikasies moet bygevoeg word.

Eerstens, omdat dit geen voorkeur gee aan ’n spesifieke teologiese posisie of interpretasie nie, kan en mag beide behoudende (of konserwatiewe) en progressiewe (of liberale) interpretasies gehandhaaf word. Dit is nie ’n vervanging van die een met die ander nie.

Tweedens, dit beteken allermins dat alle sieninge ewe geldig, ewe korrek of ewe goed is. Die radikale uitdaging wat verskeidenheid bied, is om verby die aanspraak van interpretasies te beweeg na die verdediging, regverdiging of verantwoording van en vir ’n spesifieke interpretasie. Dit is om verantwoordelikheid te aanvaar om dit wat vas en seker geglo word nie met mag en geweld te verdedig nie, maar met argumente en teenargumente. Die grootste uitdaging in die konteks van interpretatiewe verskeidenheid is die verantwoordbaarheid van interpretasies.

Ek het doelbewus die term fundamentalisme in hierdie stuk gebruik, omdat daar ’n verskil is tussen etiketering en om iets te benoem. Etiketering is, soos stereotipering, ’n onbillike assosiasieëring met ’n spesifieke kategorie. Klassifisering benodig onvermydelik dat dinge benoem word. Ek het die denkraamwerk wat eksklusief is, wat slegs een (konserwatiewe) standpunt erken en alle ander standpunte daaraan meet, fundamentalisme genoem. Fundamentalisme is in die eerste plek nie dit wat gedink en geglo word nie, maar die manier hoe dit gedoen word. ’n Behoudende teologiese standpunt as sodanig is nie noodwendig fundamentalisties nie, maar kan binne daardie raamwerk fundamentalisties word (soos ’n progressiewe standpunt ook fundamentalisties kan word). Veral die DVD, maar ook die gesprek in Universiteitsoord NG Gemeente opereer binne ’n fundamentalistiese denkraamwerk en toevallig is die dominante teologiese posisie ook die behoudende een: julle kan net binne wees as julle presies soos ons dink, praat en formuleer! Gegewe die stand van die teologiese gesprek onder medegelowiges (soos in die voorbeelde hierbo), is die tragiese van die Suid-Afrikaanse situasie dat slegs drie dosente verdink word dat hulle dalk ruimer mag dink. Die res mag ’n meer konserwatiewe standpunt huldig, maar deel hulle ook die fundamentalistiese raamwerk wat slegs een siening toelaat? Indien daar suspisie moet wees, moet dit oor die akademiese integriteit van die res wees — waarom is toegelaat dat kollegas aan so ’n hegemoniese raamwerk gemeet word? Die werklike vyand is nie die progressiewe standpunt nie, maar die fundamentalistiese eenheidsdenke!

Ten slotte, die eerste stap in die gesprek kan dus nie wees of almal nog steeds eenders dink en praat nie, maar of en hoe die verskeidenheid van denke binne die Christelike geloof beskerm kan word. Die Tuks professore kan eers die indringende vrae gevra word nadat die raamwerk verander is sodat dit hulle (of enige ander dominee of lidmaat) sal toelaat om (as Christen gelowiges) ’n progressiewe antwoord te mag formuleer. Die vraag is of die Afrikaanse kerke hoegenaamd daartoe verbind is? Hoelank gaan dit neem voordat ’n DVD opgeneem en ’n gesprek gevoer kan word waarvan die raamwerk nie is om uit te vang nie, maar om dialogiese verskeidenheid te omarm?

Bronverwysings  

 

Borg, M. J., and N. T. Wright, eds. 1999. The meaning of Jesus: Two visions. San Francisco: HarperSanFrancisco.

Dennett, D. C. 2006. Breaking the spell: Religion as a natural phenomenon. New York: Viking Penguin.

Stewart, R. B., ed. 2006. The resurrection of Jesus: John Dominic Crossan and N. T. Wright in dialogue. Minneapolis: Fortress.


Dr Isak Burger se Irrasionele Aanval op die Nuwe Hervorming

deur Hansie Wolmarans

Dr Isak Burger, president van die AGS, maak in die Algemene Kerkbode, (Beeld 8-10 Aug 2002), 'n ongekende aanval op die Nuwe Hervorming. Hierdie artikel behoort verpligte leesstof te wees in enige kursus oor logika of retoriek. Waarskynlik bevat dit die meeste drogredenasies per vierkante sentimeter wat ooit oor hierdie onderwerp geskryf is. Ons kry voorbeelde van die argumentum ad hominem (persoonlike aanval), die circulus in demonstrando (sirkelredenasie), die strooipopargument (wanvoorstelling van idees), die argumentum ad numerum (getalsargument), die oorveralgemening ("almal glo dit"), die pragmatiese waarheidsdefinisie , en die argumentum ad verecundium (gesagsargument).

Sy uiteensetting sentreer rondom die klassieke ad hominem (val persone aan, eerder as die argument): Die Nuwe Hervorming is 'n kombinasie van die ergste dwalings in die geskiedenis: Pelagianisme, Arianisme, Modernisme, Rasionalisme, Humanisme, Aufklärung, "'n Eerste-wêreld benadering" en die New Age. Sjoe. Natuurlik weet die gemiddelde leser nie waarna al hierdie name verwys nie, maar dit maak nie saak nie. Dit funksioneer as vloekwoorde (soos "kommunis" of "liberalis" vroeër jare), en dit is voldoende vir Burger om 'n punt te maak.

'n Nuwe beweging in die teologie skep natuurlik sy eie voorgangers. Sê nou maar dit is waar dat die Nuwe Hervorming aansluit by vorige idees in die kerkgeskiedenis. Veronderstel verder hierdie idees is toe as kettery verwerp. Maak dit die gedagtes van die Nuwe Hervorming outomaties verkeerd? Natuurlik nie. Binne ons protestantste tradisie het ons geensins die idee van 'n onfeilbare kerk nie—die kerk kan foute maak! Hiervan is daar talle voorbeelde. In die sestiende eeu het Luther en Zwingli die beweging van die Wederdopers as ketters gebrandmerk. In vele opsigte was hierdie groepe voorlopers van die AGS waarvan Burger die president is. Sê nou maar iemand sou vandag sê, die AGS is ketters omdat die Wederdopers as ketters beskou is—hoe sal Burger hierteenoor reageer? Hy sal (en ek dink heeltemal tereg) voel dat Luther en Zwingli in hierdie opsig verkeerd was. Nou hoekom gebruik Burger 'n soortgelyke drogredenasie om die Nuwe Hervorming as 'n kettery te etiketteer? Hy sou eerder moes beredeneer hoekom die name wat hy noem dwalinge was, en hoekom die Nuwe Hervorming soos hulle is.

En dan is daar die gewilde strooipopargument. Jy maak 'n wanvoorstelling van jou opponente se argumente. Burger sê die Nuwe Hervorming ontken onder andere Jesus se  maagdelike geboorte en die opstanding. Dit is onwaar. Wat ons wel probeer doen, is om dié sake in hulle antieke konteks te lees en akkuraat te interpreteer.

Die sirkelargument is waar Burger stel dat die bonatuurlike (wonderwerke, engele, demone) nie rasioneel verklaarbaar is nie. Waarom nie? Want hierdie sake is bonatuurlik. Die argument eindig waar dit begin: 'n perfekte sirkelredenasie. Die hoofstroom protestantisme (en nie net die Nuwe Hervorming nie) sê natuurlik dat hierdie dinge in die Bybel wel rasioneel verklaarbaar is. Engele is mitiese wesens wat nodig was om as boodskappers tussen die hemel bo die wolke en die aarde op te tree. Demone is gebruik om siektes te verklaar wat ons vandag weet deur chemiese wanbalanse in die brein veroorsaak word.

Maar wie besluit nou wat rasioneel is en wat nie? Niemand anders as Dr Burger self nie ('n gesagsargument). Omdat hy só sê, moet ons aanvaar wanneer ons die verstand wat God ons gegee het mag gebruik en wanneer nie. Om die waarheid te sê, hy stel geloof gelyk aan wonderwerke, die duiwel en engele! Die implikasie is dat alle Christene wat hierdie sake in die Bybel as tydsgebonde interpreteer (dit wil sê relativeer), ongelowig is. Sy waarheidsdefinisie is ook pragmaties. Dit wat "werk" is waar, en dit wat nie "werk" nie, is onwaar. Baie mense sal sê die Jabesgebed "werk" vir hulle. Dit maak egter nie die teologiese onderbou van hierdie welvaartsteologie "waar" nie.

Dis net 'n "klein klompie wittes" wat deur die Nuwe Hervorming gefassineer word wat vrae vra "wat nie regtig meer gevra word nie." Hier het ons eintlik twee denkfoute, naamlik die beroep op getalle en 'n oorveralgemening. Nouja, die kerkgeskiedenis wys dat die meerderheid nie altyd reg was nie. Laat ons maar onthou dat Jesus en sy groep 'n klein minderheid was. 'n Ander brief in die Algemene Kerkbode op bladsy 5, geskryf deur Japie Grove van Wellington, worstel juis met dieselfde vrae as die Nuwe Hervorming: Kan ons nog sê die Christendom is die enigste venster op God? Wat in die Bybel is waar en wat nie? Hoe kan ons die Bybel verantwoordelik gebruik? Hoekom is sekere mense binne die Christendom só onverdraagsaam?

Sê nou maar iemand skryf in die koerant die aarde is plat. Sou enige persoon dit nodig ag om hom van 'n "kombinasie van die meeste groot dwalings en ketterye" of van "arrogansie en beterweterigheid" te beskuldig? Nee. Ons sou miskien hieroor lag en dit ignoreer, of dié stelling met eenvoudige bewyse weerlê. Hoekom gebruik Burger dan byna 'n halwe bladsy om 'n ad hominem aanval te doen op mense wat hy klaarblyklik as 'n waardelose minderheid beskou? Na my mening, is dit omdat hy bang is. Hy vrees die idees van die Nuwe Hervorming, want diep in sy hart weet hy dat hulle reg is: die Christendom is nie 'n unieke openbaringsgodsdiens nie; die Bybel bevat wesenlike teenstrydighede; ons kan nie langer die premoderne wêreldbeeld ('n kosmos vol demone, engele en wonderwerke) onkrities oordra op die tyd waarin ons vandag leef nie; ons kan anders oor God praat as oor 'n persoon.

Respek kom voor gesprek. Ek hoop ons kan die debat in die toekoms op 'n basis van rasionaliteit en wedersydse agting voer. 

Hennie Stander en die beskuldiging van fundamentalisme

Gesprek met Hennie Stander deur Pieter Craffert

In sy artikel in Die Kerkbode (6 September, Ek glo steeds in dáárdie Jesus ...) sê Prof Hennie Stander heeltemal korrek wat vandag waar is, kan more verkeerd bewys word. Anders as hy, glo die deelnemers aan die Nuwe Hervormingsdebat geheel en al in daardie wysheid. Daarom dat ons inderdaad reken dat die godsdienstige spel volgens gans ander reëls gespeel kan word. Deur die harmonieering van tekste buite konteks te verwerp en staat te maak op verantwoordelike eksegese, het ons besef dat die dogmas van die Ortodoksie 'n valse weergawe gee van Jesus van Nasaret. Daar is besef dat die Bybel self 'n groot verskeidenheid metafore gebruik om oor die goddelike te praat (waarvan God as persoon maar een is) en 'n noukeurige lees van die evangelies bevestig dat hulle nie almal dieselfde siening oor Jesus gedeel het nie. Binne die Christelike tradisie is daar inderdaad alternatiewe wyses om die geloofspel te speel. Stander kan inderdaad glo soos toe hy 'n kind was, hy kan net nie meer glo soos toe hy 'n kind was dat sy siening die enigste moontlike een is nie.

Hy is daarom heeltemal verkeerd as hy ons van fundamentalisme beskuldig, want dit hoort by hom. Volgens hom kan die geloofsspel net volgens een (sy) stel reëls gespeel word en as jy nie só wil speel nie, moet jy op 'n ander plek gaan speel. Fundamentalisme is per definisie die oortuiging dat jy die absolute waarheid beet het en daar is geen moontlikheid dat jy dalk verkeerd kan wees nie. Daarom is Stander ook verkeerd as hy beweer dat ons geen metafisiese wêreld erken nie. Ons pleit juis vir 'n ander soort godsdienstigheid, maar omdat dit nie bestaan uit sý weergawe van 'n bonaturlike wese wat vanuit 'n ander wêreld toetree nie, herken hy dit nie eens nie.

Die eintlike punt wat soos 'n goue draad deur die artikel loop is egter die afwys van navorsing en die bevestiging dat kennis deur ervaring verkry kan word. Volgens Stander word die lewe na die dood, die bestaan van Satan, satanisme, en ook sy eie weergawe van die geloof, deur ervaring bevestig. Soos met opinies, is elke mens geregtig op sy/haar eie ervarings, maar dit as sodanig konstitueer nie kennis nie. Binne die Christelike tradisie is die mees ervaarde belewenis die van die moeder Maria wat aan mense verskyn. In ander tradisies het mense dikwels ervaringe van voorouers, diere, geeste of wesens wat hulle besoek en of boodskappe meedeel. Beteken dit nou dat alles wat mense ervaar inderdaad werklik is. Ja en nee. Ja, menslike ervaringe is altyd kultureel bepaalde ervaringe en, in die sin, vir mense werklik. Godsdienstige ervaringe is vir die meeste mense wat dit beleef meer werklik as talle allerdaagse ervaringe. Nee, dit bevestig nie dat voorouers, of die Satan of een of ander gees of wese inderdaad bestaan en vir almal 'n bedreiging inhou nie. Neurologiese, antropologiese en godsdiensnavorsing (nie ervaring nie) help ons om hierdie soort menslike ervaringe te verstaan. Iets bestaan nie objektief net omdat iemand (selfs baie mense) dit ervaar en met oortuiging kan oorvertel nie. Akademici het nie die laaste woord wanneer dit kom by geloofsake nie, maar ten minste beskerm kritiese nadenke ons van ervaringsaansprake of van die soort ervaringe wat Stander vir die waarheid aanbied.

Oor analogieë, metafore en dies meer

deur Diek van Wyk

In 'n elektroniese tydskriffie wat my op sy versendingslys het, het daar onlangs 'n stukkie van Prof Hennie Stander verskyn. Dit het waarskynlik voorheen in 'n ander tydskrif of koerant verskyn, en is bes moontlik dieselfde een wat Pieter Craffert reeds op hierdie webtuiste in die visier gehad het. Daarin betuig Prof Stander sy geloof in die Christus van sy jeug en speel hy dit af teen die nuwe hervorming.

As mens die stuk noukeurig lees, blyk dit dat hy met 'n eenvoudige formule werk: Wie nie soos ek glo nie - en dit sluit spesifiek die nuwe hervormers in - is ongelowig. Om dit tuis te bring, vergelyk hy die situasie naamlik met 'n tennisspel. Die nuwe hervormers wil, volgens hom, rugby kom speel op sy godsdienstige tennisbaan, en hy weier om dit toe te laat. En dan deel hy 'n taai klap uit: die nuwe hervormers is uiters fundamentalisties ondanks die post-moderne idioom waaragter hulle skuil; hulle staan onder andere fanaties daarop dat daar geen metafisiese werklikheid is buiten hierdie wêreld wat ons sien nie!

Om met die laaste stelling te begin: ek vind dit 'n growwe wanvoorstelling van Prof Stander om 'n ongenuanseerde vorm van panteïsme - of is dit ateïsme? - in die nuwe hervormers se skoene te skuif, ook al sou daar enkeles wees wat so dink, wat ek betwyfel. En dan vind ek dat hy 'n hoogs ongewone betekenis aan die woord "fundamentalisties" heg. Volgens bronne wat ek kon raadpleeg, is fundamentalisme 'n beweging in die Protestantisme wat in die 19de eeu as 'n reaksie op modernistiese neigings in die godsdienstige lewe van Amerika ontstaan het en wat die letterlike interpretasie en absolute onfeilbaarheid van die Bybel voorstaan. Later is die term uitgebrei na alle groepe wat hulle godsdiens letterlik uitleef en onverdraagsaam teenoor ander opvattings staan. So word daar onder andere nou ook van fundamentalisme in die Islam gepraat. Om dié begrip op die nuwe hervorming, wat juis van die ortodoksie afwyk, wat juis wil vernuwe, van toepassing te maak, keer die betekenis van die woord op 'n baie vreemde manier op sy kop.

Om maar dadelik met die geïmpliseerde aanklag van ongelowigheid klaar te speel: Elke "nuwe hervormer" hier te lande van wie ek kennis dra, is na die beste van my wete 'n gelowige in die Jesus-tradisie. Vra dié nuwe hervormers by voorbeeld of hulle aan God glo, en die antwoord sal tien teen een iets wees soos: Ja, maar nie as Een wat slegs buite sy skepping staan en menslike eienskappe het met alles wat dit behels nie. As jy vra of hulle aan die Bybel glo, sal die antwoord wees: Ja, maar nie as 'n dokument wat woordeliks deur God gedikteer is, wat al die kenmerke van goddelike onfeilbaarheid dra en letterlik gelees moet word nie; wel as een waarin God ontmoet kan word as dit reg gelees word. En as jy vra of hulle glo in die onbevlekte ontvangenis en maagdelike geboorte van Jesus, die wonderwerke wat Hy gedoen het, dat Hy uit die dood opgestaan het, dat Hy na die hemel opgevaar het, dat Hy die seun van God is, en so meer, sal jy 'n verskeidenheid antwoorde kry. Die meeste daarvan sal daarop neerkom dat hierdie dinge wel aanvaar word, maar nie as werklike historiese, fisieke gebeures of feite nie. Hoewel formulerings en aksente sal verskil, kom dit breedweg daarop neer dat 'n beduidende meerderheid, indien nie almal nie, dit sal beskou as metafore wat heenwys na diepliggende en tydlose spirituele waarhede waardeur die Goddelikheid gevind kan word.

Ek wil dit dus stel dat die nuwe hervorming in 'n hoë mate, miskien selfs uitsluitlik, van ortodokse belydenisse verskil in die wyse waarop metafore gehanteer word. Daarmee bedoel ek of gebeurtenisse waarvan in die evangelies berig word, en bepaalde begrippe en uitsprake in belydenisstukke, as metafore gesien word of nie, en wat die omvang en reikwydte is van die metafore wat toegelaat word. As dié verskil van nuwe hervormers ongelowiges maak, veronderstel dit 'n uiters eng definisie van geloof. Dit blyk al gou wanneer Prof Stander se tennisanalogie ontleed word.

Die analogie het allerlei implikasies. Wie sy medespelers op sy godsdienstige tennisbaan is, is onduidelik, behalwe dat dit nuwe hervormers uitsluit. Dit sou egter nie verkeerd wees om aan te neem dat hy andere wat soos hy glo, in die oog het nie. Die vraag wat ek my afvra, is: Sou dit dan Christene van allerlei belydenisse insluit? By voorbeeld Katolieke met hulle verering van Maria? Of ortodokse kerke wat Jesus as hulle ouer broer in die geloof beskou? Of 'n verskeidenheid ander groeperings met belydenisse wat van syne verskil? Sou hy 'n potjie tennis saam met hulle wil speel, gegewe dat hy die nuwe hervormers se standpunte so bevreemdend vind dat hy dit met rugby vergelyk, d.w.s. 'n spel wat nie eers, soos muurbal of tafeltennis of pluimbal, met 'n spaan gespeel word nie? Daarop bly hy 'n antwoord skuldig.

Maar kom ons neem aan sy tennisbaan word eksklusief gereserveer vir diegene wat dieselfde belydenis as hy het. Sou dit dan voorsiening maak vir verskille in geloof, d.w.s. die verinnerlikte denkbeelde en belewenisse van die betrokke, vermoedelik konvensionele, gelowiges? 'n Eenvoudige voorbeeld sal illustreer wat ek bedoel: die eerste reël van die Onse Vader. Een Christen-gelowige konseptualiseer dalk die Vader in die hemel - miskien na anleiding van Ou Testamentiese voorstellings en afbeeldings op ouer kunswerke - as 'n manlike persoon wat hom êrens ver bo die aarde, buite sig van mense, bevind, terwyl 'n ander dit kan verstaan as 'n metafoor vir 'n versorgende, nie-mens-gelyke Goddelikheid in 'n toestand van volmaaktheid. Hoort albei dié gelowiges op sy tennisbaan, gegewe dat die verskil tussen hulle, soos dié tussen die ortodoksie en die nuwe hervorming, ook om metafore gaan? Dit wil vir my lyk of Prof Hennie bitter min medespelers sal hê as die konsekwensies van sy vergelyking deurgetrek word.

As ek dan 'n vergelyking met sport moet gebruik, sou ek verkies om eerder te praat van die speelveld van die lewe waarop almal wat van geloof erns maak medespelers is, elk op sy/haar manier en volgens die lig wat sy/hy het. Op dié speelveld gun elkeen elke ander een sy/haar ruimte, ook al verskil hulle diepliggend van mekaar. Dit is nie die domein van mense met 'n bepaalde Godsbeeld nie, en dit reserveer Jesus nie vir diegene wat op 'n bepaalde manier oor Hom dink nie. Verskillende standpunte is dus nie voldoende rede om andersdenkendes van dié speelveld af te jaag nie.

Ek vind Prof Stander se stuk nie 'n hoogstaande bydrae tot die debat rondom die nuwe hervorming nie.

Reaksie op Stephan Joubert se artikel in Beeld

deur Pieter Craffert

Indien mens by die venynigheid van die persoonlike aanval ("selfaangestelde martelaar/apologeet") op Sakkie Spangenberg in die artikel deur Dr Stephan Joubert kan verbykyk ( Beeld 4 Febr 2004, Nuwe hervormers help nie dié wat die Bybel verkeerd lees ), is daar 'n paar aspekte wat kritiese kommentaar verdien.

Vroomheidsimperialisme

Gespreksgenote aan die Nuwe Hervorming pleit konsekwent vir die erkenning van 'n diversiteit van interpretasies, want die geskiedenis is vol voorbeelde van die bose effek van absolute waarheidsaansprake. In Joubert se artikel is daar geen teken hiervan nie, want slegs diegene wat soos hy dink is "kinderlik opreg" en "opregte navolgers van Hom".

Die vroomheidsimperialisme eindig nie hier nie. Let op die neerhalende opmerkings oor "Hulle 'god'" wat 'n "magtelose god" is, telkens met kleinletters gespel en in aanhalingstakens geplaas. Vergelyk maar die kontras met Wilhelm Jordaan (wat ook bygedra het tot die publikasie van die Nuwe Hervorming) se artikel in dieselfde uitgawe van Beeld : "dit is toelaatbaar én verrykend om die baie verhale oor die mens se soeke en verlange na God naas mekaar te plaas en dié verhaal te kies wat jóú onvoltooide gesprekke met die Godheid betekenisvol vorm. Sonder om die ander tot mindere verhale te verklaar". Hoof-, en kleinletters sê alles in dié debat!

Vir baie binne die Nuwe Hervormingsgesprek verwys die woord God nie meer na 'n bonatuurlike Wese afgesonder van die werklikheid nie, maar as 'n komponent, kwaliteit en eienskap van die werklikheid ('n nie-materiële laag of dimensie van die werklikheid). Hulle is net so "kinderlik opreg" oor hulle oortuigings en poog ook om, volgens hulle verstaan, "opregte navogers" van Jesus te wees.

Intellektuele terrorisme

Gesprek veronderstel respek. Hiervan is min te sien in Joubert se betoog, want hy skroom nie om wanvoorstellings aan sy lesers te bied nie. Ek noem drie voorbeelde:

  1. Spangenberg word beskuldig van "eensydighede en veralgemenings" oor die wandade van die kerk terwyl hy is sy genoemde artikel na 'n vyfbandige boek verwys wat hierdie wandade uitlig. Die feit dat daar talle goeie dinge ook gedoen is, impliseer tog nie dat mens nie saam met Spangenberg jou kop in skaamte moet laat hang en beteken beslis ook nie dat daardie veralgemenings is nie.
  2. Die "nuwe navorsing" van die Nuwe Hervorming bestaan sedert die Aufklärung (waar dit net "meer wetenskaplik genuanseerd en minder eensydig gedoen" is) en is dus nie so nuut nie.

    Aufklärung teoloë het die evangelieverhale gelees asof hulle vertel het wat in óns bekende wêreld sou plaasgevind het en dit ongeloofwaardig gevind (byvoorbeeld, Reimarus reken die evangelieverhale is doelbewuste bedrog en D F Strauss dat hulle mitologiese interpretasies was). Joubert deel dieselfde modernistiese wêreldbeeld, maar reken net dat in een geval in die geskiedenis het dit werklik gebeur.

    'n Kultuur-sensitiewe lees wys hierdie rasionalistiese en kultuur imperialistiese standpunt van die Aufklärung af en plaas al die verhale binne die kulturele raamwerk van die tyd. Neem die verhale van spesiale geboortes as voorbeeld.

    Soos al die verhale oor goddelike konsepsie in daardie wêreld, deel die evangelies die saad-kind teorie, naamlik, dat swangerskap die gevolg is van 'n volledige saad-kind wat deur 'n man in 'n baarmoeder geplaas word. Manlike semen was nie gesien as sperm selle nie (voor die negentiende eeu het niemand 'n sel teorie geken nie), maar as 'n konkoksie van bloed en gees wat deur die liggaam gekook is tot 'n saad-kind (selfs tot in die 19e eeu is dié klein wesentjies beskryf as homunculi ). In 'n wêreld waar gode dikwels in menslike sake ingemeng het, en semen uit gees en bloed bestaan het, was die aanspraak dat Maria deur die Heilige Gees bevrug is nie vreemd nie, want daar was 'n tiental soortgelyke verhale.

    Laat daar geen twyfel wees nie: die Bybelskrywers en hulle lesers was oortuig dat Jesus deur die Heilige Gees verwek is. Laat daar ook geen twyfel wees nie, Jesus se geboorteverhale vertel nie van Maria se eiersel wat bevrug is deur 'n (goddelike) saadsel nie (dus geen sel teorie van bevrugting waar 'n spermsel en 'n eiersel moet verenig om 'n embrio te vorm en waar elkeen dus 50% genetiese materiaal bydra tot 'n kind nie), maar van 'n goddelike wese wat 'n saad-kind in haar baarmoeder geplaas het. Dit is presies dieselfde aansprake wat talle ander mense in die antieke wêreld gemaak het (byvoorbeeld oor keiser Augustus).

    Indien Joubert hierdie argument begryp het, sou hy agtergekom het dat ons nie appels met pere vergelyk nie (ons probeer nie vrugte vergelyk nie) maar argumenteer dat beide appels en pere verskil van groente.

    Om iets te verstaan beteken nie dit hoef ook aanvaar te word nie. Alle verhale oor saad-babas verskil van verhale oor die sel teorie van konsepsie. 'n Kultuur-sensitiewe lees maak dus ook erns met kulturele dialoog en kritiek. Gesien vanuit moderne biologiese insigte, is alle antieke verklarings oor swangerskappe feitlik foutief (maar dit was nie bedrog of mites nie). Ons kan hulle teorieë binne konteks verstaan, maar hoef nie daaruit af te lei dat hulle babas inderdaad saad-kinders was wat deur 'n man gedeponeer is nie.

    Dus, indien die enigste getuienis oor spesiale konsepsies verhale is oor saad-babas wat deur goddelike wesens gedeponeer is en wat binne die raamwerk van bogenoemde teorieë vertel is, hoef dit net so min aanvaar te word as dat alle kinders die gevolg was van saad-babas wat in vrugbare baarmoeders gedeponeer is. Geen Verligtingsteoloog het ooit 'n kultuursensitiewe lees voorgestaan nie.

  3. Joubert gebruik 'n aantal drogredenasies om te bewys dat verskillende genres deur ons vermeng word. Enige leser kan sien dat die wêreldbeeld van die Nuwe Testament dig bevolk was met allerhande goddelike of nie-menslike wesens (soos demone, bose geeste, Satan, engele). Dit is onmoontlik om die klassieke definisie van monoteïsme (geloof in slegs een goddelike wese) op hulle van toepassing te maak — hoogstens monolatrie (die aanbidding van slegs een goddelike wese). Maar selfs al sou monoteïsme aanvaar word, is dit geen bewys dat die inplant van 'n saad-kind deur die Heilige Gees in Maria enigsins anders is as die inplant daarvan deur 'n goddelike wese in die ander betrokke vroue nie ('n "andersoortige sosiaal-literêre konteks"). Verder, elkeen van die verhale oor goddelike bevrugting in die antieke wêreld verskil van mekaar wat detail betref (wat Joubert gebruik om die één verhaal te onderskei), maar stem ooreen daarin dat hulle binne dieselfde antieke siening van konsepsie en seksiologie funksioneer.

    Die afskiet van jou eie strooipoppe is niks anders as intellektuele terrorisme (geweld) nie. 'n Wanvoorstelling en gevolglike verwerping van 'n standpunt is iets anders as kritiek daarteen. Laasgenoemde sal verwelkom word.

Sensasie of konstruktiewe gesprek?

deur Maretha Jacobs, Departement Nuwe Testament, UNISA

Dis met teleurstelling dat ek die berig 'Maar kan die Nuwe Hervorming genesing bring?' (Beeld, 28 September) gelees het.
Nie alleen is professor Christina Landman se beoordeling van die 'Nuwe Hervorming'
onakkuraat, eensydig en dus onbillik nie. Deurdat die berig hoofsaaklik op
haar bydrae konsentreer ten koste van ander deelnemers aan die gesprek, is
hierdie vereensydiging in die berig vererger.

'n Mens sou seker, soos professor Landman doen, met die naam 'Nuwe Hervorming'
vir 'n andersoortige beweging as die sestiende-eeuse een fout kon vind. Tog
is mense voortdurend besig om nuwe inhoude aan begrippe te gee. 'n Goeie voorbeeld
hiervan is wat deur die eeue met Jesus van Nasaret gedoen is, dikwels onbewustelik.
Professor Landman doen dit self wanneer sy hom as't ware 'herskep' tot wat
sy dink vir hedendaagse mense wat ly, genesing kan bring. 

Anders as wat voorgegee word, is die 'Nuwe Hervorming' juis nie net tot wit
mans beperk nie, hoewel as gevolg van die Christelike kerke se houding teenoor
en beperkings op vroue, Bybelwetenskaplikes in Suid-Afrika nog hoofsaaklik
mans is. Verder wil dit juis 'n wegbeweeg van studeerkamergeleerdheid wees,
'n konstruktiewe poging om iets te probeer sê vir diegene wat nie meer
deur tradisionele Christelike diskoerse aangespreek word nie. Moet 'n mens
in 'n tyd van vervlakking en popularisering, ook op godsdienstige gebied,  nie
liewer intellektuele besinning verwelkom in plaas daarvan om dit onder verdenking
te plaas nie, veral as dit al baie duidelik gestel is dat dit hier om meer
as 'n bloot intellektuele interesse gaan (bv in Beeld, 18 September, 'Wis uit
of praat (dit) uit')? 

Elkeen bekyk 'n saak vanuit 'n bepaalde hoek. Tog vra respek vir mekaar, en
vir mekaar se standpunte, dat 'n mens ten minste wat iemand anders probeer
doen sal beoordeel vir wat dit wil wees. Dis onbillik om iemand anders se bydrae
na jou eie behoeftes te buig en dit dan af te kraak vir wat dit nie bedoel
is om te wees nie. In ons samelewing is daar verskillende soorte behoeftes,
wat verskillende soorte ingeligte diskoerse nodig maak. Verskillende aksente
behoort naas mekaar bestaansreg te hê. 

Daar is inderdaad baie lyding in ons samelewing, waarby elkeen van ons op
sy/haar eie manier betrokke behoort te wees, en beslis nie net op intellektuele
vlak nie. Nie een van die deelnemers aan die 'Nuwe Hervorming' sal waarskynlik
daarop aanspraak maak dat hulle met behulp van hulle Jesus mense direk van
lyding, in die veelvuldige gestaltes wat dit aanneem, kan verlos nie. Tog sou
hulle byvoorbeeld kon bydra tot 'n kritiese gesprek waarin (ander se) lyding
nie meer geromantiseer sal word nie, iets wat selfs in ons tyd nog in Christelike
diskoerse voorkom, veral in die konteks van 'kruis opneem' en van gesprekke
oor die hemel. 'Hoe wonderlik is dit nie dat 'n swart seuntjie wat so arm is
dat hy omtrent niks te ete het nie, Johannes 14:2 (In die huis van my Vader
is daar baie wonings) kan opsê', het 'n bekende manlike Afrikaanse Gospelsanger
nog onlangs in 'n stampvol kerk gesê waar die preek oor 'kruis opneem'
gehandel het. Die 'Nuwe Hervormers' sou verder 'n kritiese bydrae kon lewer
tot die soort gesprekke oor lyding waarmee mense se onverantwoordelikheid verdoesel
word deur die gevolge van hulle optrede aan die 'wil van God' toe te skryf.

In 'n gesprek na die 'Nuwe Hervorming' - bespreking op Aardklop was professor
Landman nogal positief oor die boek oor die onderwerp wat by die geleentheid
bekend gestel is en wat sy toe reeds gelees het. Hoekom die diskrepansie tussen
wat in die openbaar en in 'n private gesprek met die skrywers gesê is?  Wat
is ten slotte die oogmerk met so 'n bydrae?  Om iets sensasioneels op
te dis? Om vir mense wat nie vir hulle self lees nie te sê waar hulle
hulle moet skaar? 'n Mens kan maar net wonder. 


Verruiming of versplintering van die Christelike tradisie?

deur Jacques Kriel

Met die eerste oogopslag lyk Amie van Wyk se bydrae tot Beeld se rubriek Godsdiens-Aktueel positief: Dit titel lui: Debat oor Jesus sal só rigting kry (Beeld 5 Aug 2002). Hier kan dalk opbouende gesprek uit voortvloei. Maar reeds
die onderskrif maan tot versigtigheid: Mense moet hul onverbloem skaar
by eie groep.
Die rigting wat Amie wil aandui is een van verdere
versplintering van die Christelike tradisie eerder as een van verryking en
verruiming deur eerlike debat en gesamentlike strewe na diens aan die mensdom
en die Christelike tradisie. Soos in die apartheidsdae word probleme vir Amie
opgelos deur afstigting en groepvorming. Elkeen moet in sy eie teologiese Bantustantjie
sit en debatteer.

Ek het nie 'n probleem met
Amie se karakterisering van die twee groepe nie, behalwe vir sy ietwat neerhalende
verwysing na die "moderne lewensgevoel" en dat die opstanding "tog nie meer
wetenskaplik aanvaarbaar (is) nie en moet daarom metafories verstaan word".
Die argumente binne Groep 1 is baie meer gesofistikeerd as dit — maar
nou-ja!

Ek bevind my onbevrees en onbeskaamd
in wat Amie as Groep een kategoriseer, dié wat onder andere
ernstige probleme het met die tradisionele Christelike standpunt oor die goddelike
herkoms en kosmiese versoenings-betekenis van Jesus van Nasaret. Die formele
strukturering van hierdie benadering (wat al van vêr kom binne die Christelike
teologie en Bybelwetenskappe) het dit vir my moontlik gemaak om myself met
vreugde en entoesiasme tuis te voel binne die Christelike tradisie. Ek stem
egter nie saam dat die oplossing vir die spanning in nog 'n versplintering
van die tradisie bestaan nie. Ek stel eerder voor dat die tradisie verruim
word om plek te maak vir beskouings wat, soos hy tereg daarop wys, van die
begin reeds binne die tradisie teenwoordig was.

Amie
wil aan lede van Groep 1 die benaming Christen ontken. Aangesien
baie van hulle probleme het met die tradisionele interpretasie van
die term sou hy hulle eerder as Jesuïete wou kenmerk, maar die
Rooms Katolieke orde het hom ongelukkig voorgespring. Ek het nogal simpatie
met hierdie siening. Ek het selfs op 'n stadium 'n  artikel geskryf met
die titel Being a Christian without a Christ (Religion and Theology 2001
3/4, 298). Daar is egter mense wat hulle binne Amie se Groep een sou
tuis voel, maar wat ook gemaklik sou wees met die term Christus as
dit op Jesus van toepassing gemaak word. So byvoorbeeld het Biskop John Shelby
Spong (outeur van die boek Why Christianity must Change or Die) homself
onomwonde as 'n Christen geïdentifiseer. Hy stel duidelik sy "deeply
held commitment to Jesus as Lord and as Christ ," (my kursivering)
maar stel dan onmiddellik daarna: "I also recognize that I live in a state
of exile from the presuppositions of my own religious past. I am exiled from
the literal understandings that shaped the creed at its creation. I am exiled
from the worldview in which the creed was formed. (p.22). Daardie woordjie " also" dui
op 'n spanning wat nie sommer maklik opgelos kan word nie. Maar soms moet ons
kreatief saamleef met sulke spannings en hulle nie probeer ontken, wegwens
of ontduik deur versplinterings nie.

Biskop Spong
beskryf presies my situasie en, sou ek dink, dié van baie mense binne
die Christelike tradisie. Ek sou dus ook myself as Christen tipeer. Maar dan
verstaan ek die term Messias of Christus tog wel anders
as in die tradisionele Christelike standpunt. Ek verstaan dit in sy oorspronklike
Joodse betekenis as die bepalende verteenwoordiger of (in my siening) interpreteerder van
die God van Israel. Myns insiens is die tradisionele Christelike interpretasie
van die woord Messias 'n Grieks-Hellenistiese siening wat vreemd is aan die
Ou-Testamentiese Messiaanse tradisie en een wat slegs met 'n teologiese gespook
op die Nuwe Testament toepasbaar gemaak kan word.

Die
navorsing van John Dominic Crossan het myns insiens duidelik daarop gewys dat
die nie-messiaanse interpretasie van Jesus teruggevoer kan word tot die vroegste
Christelike gemeenskappe. Die Evangelie van Thomas en die Q-Evangelie toon
geen teken van die lydens- en versoeningsinterpretasie van Jesus se lewe en
dood nie, en gaan terug tot baie nader aan die oorspronklike Christelike gemeenskappe
as byvoorbeeld die vier Evangelies.

Ek besef
terdeë dat hierdie interpretasie radikale implikasies vir die tradisionele
Christelike standpunt het. Maar dit is nie nodig om, soos met die Protestantse
Hervorming, op skeiding en skeuring aan te dring nie. Die Christelike tradisie
is en was nog altyd ryk aan verskillende (selfs botsende) interpretasies van
Jesus van Nasaret. Die sg. Nuwe Hervorming kan die tradisie verder verryk en
wesentlike aspekte van die werk en visie van Jesus weer na vore bring – aspekte
wat verlore geraak het (selfs onderdruk is) binne die tradisionele Christelike
standpunt. En dit maak dit vir dié van ons wat die "moderne lewensgevoel" en
die wetenskaplike benadering tot die wêreld en die Bybel ernstig opneem,
moontlik om onsself nog Christene te wil noem.

Maar
as die debat oor Jesus rigting wil kry, dan moet Amie bereid wees om die tradisie
te verruim, nie te versplinter nie. Die tragiek van ons landsgeskiedenis het
tog duidelik bewys – apartheid gee nie rigting aan debat nie. Dit is die einde
van alle debat.

Dr Jacques Kriel
Posbus 2052
Houghton 2041

Wanneer godsdiens van mense monsters maak...

deur Pieter Craffert

Volgens 'n berig in Beeld (12 Sept 2002 "Eerder 'n kis as 'n kondoom vir mý kind") sou prof Deon de Klerk, dekaan van die fakulteit ekonomiese en bestuurswetenskappe
aan die PU vir CHO gesê het: "Die kerk staan aangekla in sy onvermoë om
te sê wat die eise van die Woord is. Ons hoor niemand wat sê jy mag
nie dit of dat doen nie want dan gaan jy hel toe. Ek sien my kind eerder in 'n
kis as met 'n kondoom aan op pad hel toe". Hierin hoor mens die versugting na
sinvolle riglyne vir die lewe, maar sy pleidooi val terug op twee uitgediende
denkskemas wat van 'n pa, in die naam van godsdiens, 'n monster maak. Aan die
een kant berus dit op die vreesskeppende en manipulerende dogma oor die hel en
aan die ander kant, die idee dat daar 'n lys voorskrifte beskikbaar is oor hoe
om te leef en wat om te doen (veral wat betref seks). Dogmas, moet mens onthou,
is menslike skeppinge wat riglyne gee oor die lewe en die werklikheid.

Tradisionele
Christendom verkondig inderdaad die dogma van 'n eindoordeel en 'n hel met
'n onuitblusbare vuur vir diegene wat daar land. Hierdie dogma wat vandag niks
meer is as 'n afskrikmiddel nie, is gebou op die siening dat geloof veral daaroor
gaan om mense uit die hel uit te hou en op 'n voorstelling van God as 'n soort
polisieman wat kyk of mense binne die voorgeskrewe reëls
bly. Dit verwar dit wat mens behoort en moet doen (persoonlike en samelewingsnorme)
met die stem van God. Wie die reëls nie nakom nie, (byvoorbeeld oor seks)
verbreek goddelike wette en die straf daarvoor is die ewige hel.

Die dogma berus
ook op 'n wanvoorstelling oor "die hel" in die bybelse wêreld,
want anders as wat die dogma voorgee, was dit geen sentrale idee in die Bybel
is. Daar is ook geen samehangende voorstelling daarvan behalwe in hierdie dogma
nie. In die Ou-Testamentiese tyd is geglo dat die dood die einde van lewe is
soos ons dit ken en die dooies voer 'n soort skadubestaan in die onderwêreld
(Sheol). Marteling deur buitelandse oorheersers skep 'n dilemma in die 2e eeu
vC: wat gebeur met mense wat sterf as martelare en dus nie God se seëninge
op aarde (sterf sonder 'n nageslag en 'n lang lewe op aarde) kon beleef nie?
En veral, wat gaan eendag met die onderdrukkers gebeur? In 'n kultuur sonder
menseregte, lei hierdie probleem tot allerlei spekulasies oor die tyd na die
dood. Die uitstaande kenmerk hiervan is dat daar geen eenstemmigheid is oor
wie sal opstaan (slagoffers en onderdrukkers), of dit 'n liggaamlike opstanding
sal wees of net die voortbestaan van 'n onsterflike siel en wanneer dit gaan
gebeur nie (direk na die dood of eendag in die toekoms wanneer dit met almal
gelyk sal gebeur nie). In die meeste van die tekste is die onderwêreld
(Sheol) waar dooies vir eeue lank 'n skadubestaan gevoer het, omskep in 'n
plek van veroordeling of straf. Vir die eerste keer in hul denkgeskiedenis
word dié spekulasies
in die eerste eeu 'n stap verder geneem in sommige tekste (onder andere in
sommige Nuwe-Testamentiese tekste) toe 'n buite-wêreldse plek geskep
is waar die goddeloses sal brand. Sommige tekste praat nou van Gehenna ("die
hel" waar 'n
vuur vir ewig sal brand) wat nie dieselfde is as die onderwêreld (Sheol)
nie.

Dit is onnodig om uit te wys dat ons nie meer vandag in 'n wêreldbeeld
leef wat óf 'n onderwêreld óf 'n buite-wêreldse plek
kan akkomodeer nie. Spekulasies oor straf vir "goddeloses" en 'n plek daarvoor
het ontstaan in 'n kultuur sonder 'n handves van menseregte. In die begin was
die maghebbers die "goddeloses", later diegene wat as opponente gesien is (soos
die Fariseërs) en tydens die Protestanse Reformasie was dit die Rooms
Katolieke. In ons tyd is dit veral seksuele "oortredings", waaronder seks voor
die huwelik, wat mens vir die "hel" bestem.

Die idee dat daar 'n ewige lys met
voorskrifte is oor hoe om te leef en wat om te doen (of nie te doen nie) berus
op die gebruik wat reeds in die bybelse tyd algemeen bekend was, naamlik, om
'n boek as 'n lys ewige waarhede te hanteer. Hierdie magiese hantering van
boeke het geen respek vir die boek self nie en kan dit daarom ook buite verband
en konteks aangehaal om dogmas mee te bou.

Selfs al sou die Bybel 'n lys voorskrifte
bevat het oor seks, kan dit nie net so op vandag toepas word nie. Wat ookal
oor seks gesê is in daardie tyd,
was binne die konteks waar mense kort na puberteit deur hul families in 'n
huwelik uitgegee is en die hoofdoel van seks was om te verseker dat die manlike
geslagslyn voortgaan. Sulke voorskrifte kan nie op jongmense wat dikwels 'n
dekade en langer in verhoudinge betrokke is voordat hulle self besluit om 'n
vaste huweliksverhouding aan te gaan nie, toegepas word nie. In ons konteks
is daar 'n behoefte aan 'n sinvolle verhoudingsetiek en ons kinders en jongmense
moet begelei word om die kompleksiteit van verhoudings en veral seksuele verhoudings
te kan hanteer. Die soeke na 'n lys voorskrifte is nutteloos en die afdreig
met die hel is om ons verantwoordelikheid as ouers en gemeenskap te ontduik.
Die meeste mense sien raak dat byvoorbeeld godsdienstig gedrewe selfmoord moordenaars
'n siek en skewe siening van God en godsdiens aanhang. Maar dit gebeur ook
in 'n godsdiens wat die ewige verbranding van opponente verklaar tot 'n essensie
van vroomheid. Idees wat ontwikkel het om die probleem van onreg aan te spreek,
word hierin die essensie van godsdienstigheid wat 'n pa laat sê hy sien
sy kind eerder in 'n kis as dat die kind in "die hel" gewerp kan word op grond
van buite-huwelikse seks. Dit is belangrik om raak te sien hoe bybelse mense
geworstel het met menslike verantwoordelikheid en eerder as om hulle antwoorde
te probeer nasê,
moet ons met dieselfde erns met daardie vrae worstel. Onder die vaandel van
vroomheid en opregtheid kan godsdiens, indien daar geen kritiese nadenke daaroor
is nie, maklik van mens 'n monster maak. 


Mense vertel self

Die Kerk het 'n mistroostige geskiedenis met betrekking tot waarheidsaansprake

deur Drewan D Baird

In the Introduction to his book "A Brief History of Time", Stephen Hawking alludes to the probably apocryphal anecdote of an old lady interrupting a speech by Bertrand Russell, on the cosmos, with the interjection, "that's all very clever, young man, very clever! But the Earth really is resting on the back of a giant turtle."

Russell, sometimes extraordinarily patient, responded, "what does the turtle stand on?"

Replied the old dear, "it's turtles all the way down!"

My thinking has been much influenced by Russell and I have learned from him what is probably not immediately evident from his character and conduct as an activist and a liberal agitator — that one cannot, arbitrarily, reject alternative positions.

This tale reduces my objections to organized religion to a single statement: I reject absolute conviction; arrogant certainty.

I subscribe to Current Truth inasmuch as it accounts for all epistemologically evaluated data. Right now, I do understand. It will change later today.  Karl Popper's,  "A theory is scientific, not in the extent to which it has been proved true — because that is impossible, in any case — but insofar as it is open to falsification" is a dictum with which I am comfortable. (1934, The Logic of Scientific Discovery.)

I am not in the habit of witnessing, but here goes!

I shall refer to myself as "Smile", [as a little wordplay on "Nors", also published on this site]. My earliest God-experience was playing in the Karoo dust and happening upon a termite nest. I declared myself god of the subjects crawling about my bare feet and killed hundreds of the little beings, just because I was able to kill them. That, to my toddler mind, was the reality of a fearful God.

Now, verily, I was raised a Seventh-Day Adventist in a Karoo town. My young life was one of obloquy, calumny, opprobrium, and the traducement of  Broeder teachers. I have carried a chip on my shoulder for longer than I care to remember, but I managed, even as a child, to reduce the chip from its initial rainforest size! Today, I credit my ability, even at a young age, to think independently and to hold alternative views, to the emotional calluses grown in my youth.

Generally, though, I was a happy kid. And in retrospect, I do in fact appreciate the lessons Religion taught me during my formative years, even though such teaching was inadvertent.

Now, imagine if you can, my shock and horror at the adult discovery that the "truths" (read dogmas) for which I bore the brunt of adolescent and teenage ridicule, were rather precariously perched on the precipice of reason. I remember being introduced to Hans Küng's "activism" at the seminary during the late 70's and early 80's. I recall my wonder at his chutzpah to challenge one of the pillars of his particular "maatskappy", the infallibility of the pope, and I remember my young and inexperienced agreement with the decision to ban him from teaching. Often, in retroflection, I have considered the Hans Küng "event" as catalytic to my thinking! If one does not play to the rules, can one play the game? Does one change the rules, or does one launch a new, exciting game?

I rejected the teachings of the Seventh-Day Adventist Church. I could find no system of dogma with which to replace the rejected dogma. So I rejected God. I disapproved of the rules of "the Christian Church"; therefore I wasn't playin' no more! I was terrified.

I remained terrified for some 15 years. I joined the Dutch Reformed Church at the insistence of my wife, "because the children have to fit in at school." I recall my self loathing at listening to the Geloofsbelydenis at my acceptance into the church. Was I agreeing to this!?

I came to relative peace when I first read Kushner (again recently shared with me by a respected scholar),  "Losing faith in a childish understanding of God is not the same as losing faith in God." This realization liberated me from a malicious hegemony.

So I conclude that I have perhaps not rejected God, that I may well still experience spirituality.

Ek kan my gedagtes beter orden in Engels en ek hoop dat lesers my nie sal verkwalik as ek in Engels skryf nie. Maar ek wil graag iets in Afrikaans sê oor "Hervorming".

Luther het sy objeksies aan die buitekant(!) van die kerkdeure vasgespyker. Ek, in my ondervinding van Die Kerk en van die sakegemeenskap is daarvan oortuig dat daar NIE van binne af hervorm kan word NIE. Ek sou, as ek kon, God dank dat mense soos die stigters en ondersteuners van hierdie forum probeer (om verandering mee te bring), maar ek dink dat hierdie mense die bal opgetel het in 'n sokkerwedstryd en nou 'n nuwe spel speel. As 'n leek wat ook al lid was van die NGK, sou ek graag wou deel hê in die bevestiging van 'n gedagtegang wat God relevant kan maak, en met voortdurende evolusie relevant kan hou. Ek dink egter dat "Die Maatskappy", soos Maggie Thatcher van weleer, "is not for turning!"

Hiermee wil ek sê dat ek persoonlik, soos wat ek die missie om dissipels te gaan maak, nie kon aanvaar nie, nou ook nie die verantwoordelikheid wil opneem om getroue kerkgangers tot ander insigte te bring nie. Ek het jare gelede my oupa uit die Sewende-Dag Adventistekerk begrawe en ek moes terstond 'n graveside  woordewisseling voorkom toe die NG kontingent en die SDA kontingent wou slaags raak oor "Die Toestand van die Dode". Was oupa nou in die hemel, behoede dalk in die hel?, of het hy bloot lê wag vir die "Aartsengel se basuin aan die einde van tyd?" Wie was reg en wie verkeerd? As Salomo se bedrieëry hom nie so verdag by my gemaak het nie, sou ek sê dat ek sy wysheid aan die dag gelê het met "kom ons laat mekaar toe om op eiesoortige wyse vrede te maak met die verdriet van oupa se dood." Magtag!!

Die Kerk het 'n mistroostige geskiedenis met betrekking tot nuwe idees. Objektiwiteit en die kerk is per definisie onversoenbare begrippe. In die algemene omgang; in hierdie wêreld van moderne fisika, wetenskaplike metodiek, kritiese denke en 'n groeiende insig in die antieke tradisie moet Bybelterroriste se bekende aanmatigende aanslag, om in nederigheid die teenswoordige wysheid te wil oorheers met 'n "ons wèèt, want Die Bybel sê so", uitgewys word as geordende disinformasie, gerugsteun deur 'n Bestel wat  vooruitgang vertraag en insig dwarsboom.

Groetnis

"Smile"

Die Nuwe Hervorming debat word met groot belangstelling gevolg

Terblanche Jordaan (van die Kruiskerk) skrywe:

Ons hier in Kaapstad het so 18 maande gelede met Kruiskerk begin, hoofsaaklik omrede mense moeg en siek en sat is vir die manier waarop daar steeds met mense gewerk word deur die kerk ... en om te gaan soek na 'n ander manier van dink oor God, mens en die self.

By Kruiskerk gaan die gesprek oor inklusiwiteit en nie oor homoseksualiteit nie ... dit gaan oor 'n gesprek wat God geen mens maak nie, ook nie langer gekluister hou in dualisme nie en verseker nie langer net nog 'n kolletjie in 'n wêreld van fragmentasie is nie!

Miskien moet daar 'n bietjie verder verduidelik word sodat dit moontlik tot 'n gesprek op hierdie forum kan lei:

Daar is 'n paar dênge wat my nog altyd gehinder het — hoe is dit moontlik dat God volmaak liefde kon wees maar ons sê Hy kan ook haat; hoe bely ons dat Hy volmaak vrede is maar glo dat Hy ook in konflik kan wees ... hierdie dualisme hou net nie meer water nie!

Tweedens het ons 'n God geskep wat kleinlik en petty is; wat behoeftes en begeertes het en wat 'n kans staan om nie te kry wat Hy wil hê nie. Hoe kan die Almagtige iets wil hê wat Hy nie kan kry nie as Hy alles is, alles het en selfs meer as die alles is? Omrede ons dan dink dat God emosioneel kan seerkry, dat Hy homself bedreig kan voel (deur nogal die mens) wil ons glo dat God met wette ons beveel om vir Hom te gee wat Hy wil hê en doen ons dit nie sal Hy ons van Hom verwyder, so ver dat ons vir ewig en ewig sal boet vir die 60 – 70 jaar hier op aarde waar ons Hom nie sy sin kon gee nie! Sulke dogmatiese snert word Sondag na Sondag van ons kansels verkondig omrede ons verkies om in 'n wêreld van vrees te lewe wat deur 'n ego beheer word en nie deur sieldenke nie. Hierdie pre-moderne teologie is presies wat dit is, naamlik net teologie! In hierdie wêreld sedert die mens tot sy verstand gekom het, is dit juis teologie wat mense seermaak, uitmekaarjaag, verwoes, vermoor, verpletter en van mekaar vervreem. Trouens dis nie godsdiens wat die wêreld opgedonder het nie maar juis teologie omrede teologie (en veral bogenoemde teologiese pornografie) vir ons die illusie aanleer dat ÓNS teologie is reg en die ander is verkeerd, ÓNS teologie is beter as ander se teologie en sodra jy in daardie geut geval het kom jy nooit weer daar uit nie — vra maar vir die broeders wat pre en post apartheid nog sit en bespreek oor hoe hulle eintlik 'beter' is as ander mense ... luister na predikante se teologie en veral as die sous van Gereformeerdheid daaroor gegooi word, dat dit eintlik 'n teologie is wat beter is as ander sin.

Dus, en derdens, miskien moet 'n mens met alle respek Christus so klein bietjie degradeer sodat God gepromoveer kan word. Wat ek hiermee bedoel is dat ons Christus so vergoddelik het ( homo deus et vere homo ) dat ons glo God is ook 'n mens! Dit kan nie, en dit mag nie want God is sonder vorm, sonder definisie en sonder dimensie. Daarom verwys ons vrymoedig na onsself by Kruiskerk as mystics wat op die wolk van nie weet nie loop. As ons dan moet teologie praat, kom ons noem dit dan 'n teologie van nederigheid waar ons nie voorgee om al die vrae te hê nie maar nie ophou om die vrae te vra nie. Daarom is Sondae is verslag van 'n week se soektog!

Ons kan nie so naïef wees (Artikel 7 van NGB) om te dink dat die Bybel is die enigste woord van God aan die mens vir alle eeue nie. Nog minder dat God nooit voor of na die Bybel met mense in 'n gesprek wil gaan nie. Meer verstommend is die feit dat as ons in Deuteronomium lees dat ons, ons ongehoorsame kinders by die stadspoort moet stenig dan is dit kultureel gebonde maar pluk dan net wat ons pas uit om te sê hier beveel God dit en dat en as jy nie sus en so gaan optree nie sal daar dienooreenkomstig met jou gehandel word.

Wat het ons met God gedoen?

Ons het dit soos 'n lemoen papgedruk en nou is ons verstom dat mense hulle hande op die voorkop slaan as daar van die kerk gepraat word. Meer nog—ons het van God 'n karikatuur gemaak wat moet oordeel soos ons wil hê Hy moet oordeel, wat moet seën vir wie ons graag sal wil seën en nie die mense wat ons te na kom moet vergewe nie (en dan noem ons dit — regverdigheid).

Wat mense nie verstaan nie, sal hulle ontken!

Hier het ons nie eers begin praat oor begrippe soos: is daar werklik iets soos reg en verkeerd nie om moet die begrip moraliteit nie vervang word met funksionaliteit nie; is die bose nie maar net 'n sinoniem vir 'siek' nie; waarom 'sonde' net by homo sapiens voorkom nie; of God werklik oordeel en as jy niks oordeel nie is daar niks om te vergewe nie; alle vorme van emosionele pyn is gebore uit 'n skuldgevoel en skuldgevoelens is 'vrees' wat vars in die yskas in 'n Jiffy gehou word sodat ons dit enige tyd weer gou kan opwarm. Ons het nie eers geraak aan die begrip van spiritualiteit nie want die 'nuwe' spiritualiteit (wat ek vrymoedig trans-spiritualiteit noem omrede dit vrylik en met groot toleransie tussen tradisies en kulture beweeg) sal die nuwe Zeitgeist wees indien dit nie alreeds in ons skoot kom lê het nie.

Wat ek hiermee wil sê is die volgende: hou die debat aan die gang en oop! Dankie vir die moed om vir iets te staan binne 'n kerk wat vir niks behalwe selfgeregtigheid en apartheid* staan nie.

Vriendelike Kaapse groete
Terblanche Jordaan

* Ja — apartheid is die grootste sonde van die kerk. Ons dink ons is apart van God en dat Hy homself van ons onttrek het. Ons dink ons staan apart van ander mense want ook mense is los van mekaar en leef soos eilande. Ons leef in die illusie dat ons apart is van onsself en dat siel, lyf en denke nie in hierdie wêreld in balans en harmonie kan wees nie. Ja — apartheid is die sonde dat ons dink ons is beter as ander en luister mooi na die semantiek van die meeste predikante (teoloë) as onderwerpe soos spiritualiteit, seksualiteit en politieke dinamika bespreek word en die apartheid enemmel dop af soos 'n Springbokspan in Engeland.

Is die Ned. Geref. kerk die moeite werd?

"Soekend" is 'n natuurwetenskaplike, getroud en het kinders, is tans nog lidmaat van die NGK maar beoog om dit binnekort te kanselleer

Ek het grootgeword in 'n Christelike huis en het reeds van vroeg af al die Christelike geloof en beginsels uitgeleef. Ek was o.a. voorsitter van die destydse KJV en het ook vir jare op Sondae die kerk se sendingaksie gesteun en "sendingwerk" in die naburige swart woongebied gedoen. Ek het selfs ernstig oorweeg om vir predikant te studeer, maar uiteindelik het my liefde vir die wetenskap oorhand gekry en het ek 'n loobaan in diè rigting gevolg. Reeds sedert ek 15 jaar oud was, het sekere aspekte van die Bybel my ernstig gekwel. Ek het met moeite die verhaal van die ark aanvaar, die skeppingsverhaal het nie vir my sin gemaak nie, om jou kind vir die "Liefdevolle Vader" te offer (lewendig te verbrand) het my dwars in die krop gesteek, ens.

Nogtans wou ek so graag alles glo — nee, om Christen te wees MOES ek dit alles glo — en al oplossing was dat ek sekere dele van die Bybel net geheel en al uit my gedagtes verdryf het. Ek het vir baie jare geweier om oor Bybelsake te dink, want ek was bang dat ek die besluit sou moes neem dat dit wat my pla, nie waar is nie. Indien diè dinge nie waar is nie, wat kan dan wel geglo word? Wat is dan nou makliker om dit net uit jou denke te verban en 'n voorbeeldige Christen te bly? Ek het selfs begin probleme ervaar om kerk toe te gaan. Ek het nie meer gegaan om 'n boodskap te ontvang nie, maar eerder om die preek te kritiseer en oor die onwerlikhede wat verkondig word, te mediteer. Uiteindelik het ek besluit dat om Christen te bly, ek nie meer kerk toe moet gaan nie, en vir jare het ek nie die binnekant van 'n kerk gesien nie.

'n Vriend het hom egter oor my "ontferm" en baie moeite gedoen dat ek my weer "bekeer." Ek het weer begin kerk toe gaan, selfs diaken geword! Weer het dieselfde proses hom herhaal en het ek weer besluit om nie meer kerk toe te gaan en na die sinnelose stories te luister wat verkondig word nie.

Ek het egter nog soms na die "boodskap" geluister oor die radio en na Godsdiestige gespreksforums geluister. Ek het vir jare snags wakker gelê en geworstel met die Bybel en die Christendom. Tot een oggend +-03:00 toe ek weer na 'n inbelprogram oor Godsdienssake geluister het en 'n doktor van die NGK die stelling gemaak het dat 'n mens nie 'n siel het nie, maar dat die "verheerlikte liggaam" sal opstaan. Hy het beweer dat dit reeds sedert Maartin Luther se tyd beskou word as kettery om te glo dat 'n mens 'n siel het!!!!!!!  Net daar het ek besluit dat niemand meer vir my sal vertel wat ek behoort te glo nie, maar dat my Skepper vir my 'n gesonde verstand gegee het om self oor die dinge te besluit en dat ek voortaan nie meer alles wat teen my verstand indruis, hoef te glo nie. Nie lank daarna luister ek weer na 'n "boodskap" oor die radio oor die verskriklike sonde van twyfel. Wat 'n volmaakte manier van indoktrinasie! Alles wat vir jou gesê word MOET jy glo al weet jy voor jou heilige siel dit is onwaar! 'n Paar Sondae later luister ek weer na die "boodskap" oor hoe normaal dit is om te twyfel.... Jy kan enige iets bewys uit die Bybel — apartheid is reg, apartheid is verkeerd, homseksualisme is ..., twyfel is ..., ens, ens.

Aangesien ek baie belangstel in die wetenskap, verwonder ek my aan die ongelooflike wonder van die Skepping. As mens kyk na die sterre - daar is ongeveer 'n biljoen sterrestelsels, elk met ongeveer 'n biljoen sterre. Ons son ('n kleinerige een) is nou sowat 6 biljoen jaar oud en gaan vir nog 6 biljoen jaar brand! Daar pas duisende van ons sonne in Betelgeuse, 'n reuse son. Die ongelooflike kritiese balans in die natuur - as die suurstof / stikstof verhouding anders was, kon lewe soos nou nie bestaan nie. As die posisie van die aarde nie was waar dit nou is nie, as die baan van die aarde on die son meer elipties was, as die grootte van die aarde nie is wat dit nou is nie, as die massa water anders was, as die vriespunt / kookpunt van water anders was, kon lewe soos nou nie bestaan het nie. Ek verwonder my aan die voorplantingstelsel van diere & plante. Of dit nou 'n seedier is wat diep onder die water woon, 'n voël wat hoog vlieg, dieselfde biologiese proses vind plaas. Dink aan elektrone, protone, magnetisme, lig, ens, ens. Wat 'n ongelooflike Wese moet die Skepper nie wees nie!

Kom ons kyk nou na die God van die Bybel:

Hy is 'n sadistiese massamoordenaar. Verdrink almal wat nie aan Sy standaarde voldoen nie, ook die onskuldige diere, babas, ou mense, ens.Hy is die grootste rassis ooit. Kies kant teen sy eie kinders en help sekere rasse om die ander uit te moor.Swakste leier ooit. Laat Sy uitverkore volk vir 40 jaar in die woestyn swerf en hulle het selfs vandag nog nie 'n land waar hulle in vrede kan lewe nie. Dankie tog dat ons nie Sy uitverkore volk is nie!Laat toe dat jy jou kinders aan Hom offer (lewendig verbrand!!!)! (En dit is nie "sonde"nie! Moord om Sy guns te wen is heel aanvaarbaar, selfs prysenswaardig!)Uiters onregverdig. Kies sekere mense om die sg. "Ewige Lewe" te geniet. (Sg. uitverkiesing) Maak nie saak wat jy doen nie, Hy  het klaar besluit wie Hy  die "ewige lewe " gaan skenk en wie Hy gaan verbrand . Maak nie saak wat se goeie lewe jy ly en hoe goed jy doen nie.  Afgesien van die sg. " u itverkiesing" is daar net een pad na die sg. "Ewige Lewe", en dit is deur Sy sg. Seun. Jammer vir die wat nie bevoreg was en nie van Hom gehoor het nie, die miljoene wat reeds dood was to e Hy gebore is, ens . H y het moeg geword om te regeer toe  kry  Hy 'n  buitegtelike kind by 'n aardse  vrou sodat Sy Kind kan oorneem.  Hy  beskik nie oor die vermoë om te vergewe nie, toe martel Hy sy Kind sodat Hy ons kan vergewe.

Hierdie is maar 'n paar van die honderde belaglikhede in die Bybel.  So het ek byvoorbeeld nooit geglo dat 'n slang op twee bene aangeloop gekom het nie en met sy nul verstandjie 'n taal aangeleer en met Eva in gesprek getree het nie.  (Die stor ie herhaal hom  weer duisende jare  later in Rooikappie en die wolf.)  Daarna is hy verdoem om op sy maag te seil, ens. Dieselfde geld vir Noag met sy duisende diere in 'n skippie vir langer as 'n jaar. D ink bietjie aan die organisasie daarvan.  Duisende tonne v leis met geen vrieskas vir die leeus, tiers, krokkodille, .... , ens.  Duisende tonne gras, mopanieblare, ens.  Al die diere was se ker ook uitgereik met kondome om te keer dat die skip nie oorbevolk raak nie!  Almal het seker ook Huggies gedra. Die QE2 sou wat wou gee om soveel diere te kon huisves! Dink aan die jare wat die kangeroes vanaf Australië moes swem om by die ark uit te kom, die aligators vanaf Amerika, die olifante uit Indië, ens. Dit sou minder moeite vir hulle gewees het om maar die jaar se vloed deur te geswem het.

Dit is seker logies dat sulke stories in daardie tyd die rondte gedoen het want dit is deur uiters primitiewe mense geskryf na aanlyding van stories wat vir 1000 jaar oorvertel is.  Wat my dronk slaan is dat vandag se mense met al die wetenskaplike bewyse van evolusie, ens. dit nog kan glo!

Daar is GEEN manier wat ek  die  wonderlike Skepper  soos ek Hom ervaar  kan vergelyk met die  Skepper wat die Bybel voorhou nie. Volgens die Bybel is die heelal 6 000 jaar gelede geskep. My Skepper het die heelal al biljoene jare gelede geskep en openbaar Hom in die natuur. Ek sou selfs dit wat die Moslems sê kon glo ; Daar is net een Skepper en Mohammed was sy boodskapper. Die  C hristene sê Daar is net een God: God, die Heilige Gees en Jesus van Nasaret. 1 + 1 + 1 = 1. Sê dit nie genoeg van die  C hristelike logika nie?  Hulle wil tog so graag ' n monoteïstiese  geloof wees, dat hulle nie eers kan tel nie!  Selfs Maartin Luther het uitgeroep: "Dear God, must we become like idiots in order to believe?" (Seker nie in Engels nie, maar my boek " The life of  Maartin Luther" is in Engels.  Waarom glo die mense dit wat hulle glo? Daar is sowat 10 000 gelowe vandag. Alles word aanbid vanaf vuur, storms, rotte, koeie, ape, ens. Hoe kan mense so dom wees om dit te glo? Daar is net een verklaring en dit is geleë in die mag van indoktrinasie. Almal wat van geboorte af geindoktrineer word om iets te glo, verander nie maklik van opinie nie al sê jou verstand vir jou jy is stapelgek om dit te glo. Dit het my sowat 20 jaar se worsteling geneem om net sover te kom om nie meer bang te wees om te twyfel nie! Wanneer mens eers hierdie punt bereik, is dit maklik om die onwerklikhede van die Bybel in te sien.

Laastens: Wat is die wese van die Christelike geloof? Voor die skepping was daar reeds 'n skepping en God het toe Engele, serafs, ens. geskape. Hy het egter 'n fout gemaak met die eerste skepping en van die Engele het afvallig geraak en besluit on God se skepping te terroriseer. Hy besluit toe om nie die Engele te straf nie, maar hulle toe te laat om ons sleg te maak en ons eerder te straf vir die sonde wat die afvallige Engele ons laat doen!  In plaas van die afvallige Engele te vernietig, versuip Hy toe maar in 'n eerste futiele poging duisende mense en onskuldige diere om sodoende die Afvallige Engele se werk ongedaan te maak. Alhoewel Hy alwetend is, het Hy net vir 'n oomblik vergeet dat dit ook nie gaan werk nie en dat om die probleem op te los, Hy eintlik die afvallige Engele moes versuip! Hy beskik ongelukkig ook nie oor die vermoë om te vergewe nie en toe kry Hy maar 'n buite-egtelike kind sodat Hy Hom kan straf en ons sodoende kan vergewe vir die oortredinge wat die afvallige Engele ons laat doen! Al voorwaarde is dat jy moet glo Hy het Sy buite-egtelike kind gemartel sodat Hy ons kan vergewe! Maar Hy het in elk geval reeds lankal besluit wie gaan dit glo en wie nie, so dit maak nie regtig saak hoe jy lewe nie - daar is lankal besluit wat jou lot eendag gaan wees.

Wie dit glo, moet 'n breinchirurg raadpleeg om vas te stel of hy nie dalk breindood is nie.

Redding as Riller

Oftewel die Ongewone Verhaal van Nors se Bevryding Deur Nors

Steve Hofmeyer sing in Die Wasgoedsong: 

Sy staan voor die venster tot laat in die nag
  verbeel haar sy hoor kinders skree
sy dra van Februarie af dieselle ou rok
  en tel Valiants in die verkeer
sy spaar nie meer vir sigarette nie
sy lees nie meer koerante of wette nie
haar wasgoed wapper aan dieselle ou paal
  dis 'n vlag wat wys waar Hy haar moet kom haal 
  en dit waai in die môre en wys in die aand
  waar haar hande klou vas aan die vensterraam
en 'n Boek wat sê sy sal als verstaan
  as sy laat in die nag op haar knieë gaan
  as sy laat in die nag!
                . . . 
Sy leer dit in sinne en hoor dit in sang
  eindig dan's dit Begin
die stories van die hart wat uit die stof opstaan
   maar Blossom die stof maak jou blind.

1. Iets oor Nors

Hierdie verhaal handel oor Nors se soektog na dieper spiritualiteit. "Nors" is die skuilnaam van 'n onbekende Afrikaanssprekende Afrikaan wat by Wits werk—'n komplekse karakter dus. As postmoderne akademikus bevind hy hom in die denkraam van die sosiale konstruktivisme. Hy glo dus nie mens kan die waarheid en die realiteit ontdek nie; jy bly in subjektiwiteit vasgeval. Waarheid is wat jy daarvan maak en vir elke mens kan dit iets anders wees. Daar is nie meer iets soos 'n enkele metanarratief wat die samelewing orden nie, want daar is nie 'n konsensus oor kernwaardes wat onderliggend is aan die mens se bestaan nie. Nors se kollegas beskryf die gemeenskap vandag as multikultureel en pluraal.

Dit is 'n toestand wat godsdiensleiers redelik omkrap. Hoekom? Hulle reken dat daar net een stelsel is wat betekenis en waarde het, wat korrek is en wat reddend is. 'n Ander rede is dat hulle, nes monopolie-kapitaliste, kompetisie onsmaaklik vind omdat dit hulle dominansie bedreig. Daarby kom nog dat hulle nie van 'n ander postmoderne tendens hou nie: dit is om hiërargiese strukture te wil afplat, om konsensus te soek, en om vroue en ander seksuele minderhede gelyk te behandel. Dit is nogal teen NGB Artikel 16, waarvolgens God sekere mense uitverkies het en ander in hulle verderf laat bly.

Die vraag is dus of die Christendom hierdie aanpassings kan maak: van eksklusief na pluraal; erkenning van meerdere waarhede; gelyke behandeling van vroue en gays? Nors se onlangse riller-ondervinding, waar hy die mees aggressiewe openbare reaksie van 'tradisionele Christene' op die aanvoerders van die Jesus Seminar waargeneem het, laat hom vermoed van nee. En toe die man vanaf die kansel sê, steek op jou hand as jy gered wil wees , dog Nors, se moer, ek skryf nou.

Lees dus die teks in hierdie konteks.

2. Nors se Dilemma

Nors het heelwat van Richard Holloway ( Doubts and Loves: What is left of Christianity? Edinburgh: Canongate, 2001) se insigte as diep en sinvol ervaar. Daar is mense wat huiwer om as Christene bekend te staan, want hulle moet dan glo dat 'n klomp antieke wonderwerke historiese feite was. Tog word hulle aangetrek deur sekere Christelike waardes en wil hulle daarmee identifiseer sonder dat hulle morele en intellektuele integriteit daarmee aangetas word. Kan hulle Christene wees? Nols wonder saam met Richard daaroor.

Kontrasteer daarom nou die 'waarheid' soos wat die Gereformeerde Kerk Nors nou al veertig jaar lank vertel, met Holloway se dekonstruksie daarvan. Nors bied daarna enkele konklusies—peperment suiglekkers—aan sodat die leser verder kan peins oor die saak. Lekker lees: dis 'n riller/reddingsverhaal!

Nors kyk na die Gereformeerde Kerk, Linden, en sien: geen vroue op die kansel, geen gays, geen swartmense—slegs wit middelklas Afrikaners met eenderse vanne en wedergebore dominees wat die samelewing en andersdenkende Christene (Sakkie Spangenberg en Hansie Wolmarans) haat/verwyt/vrees.

Wat nou? (1) Verlaat hy die kerk? (2) Klou hy vas aan die waarheid (Die Geloofsbelydenis van Atanasius sê dat hy wat nie die algemene geloof ongeskonde bewaar nie, sonder twyfel ewig verlore gaan! Artikel 28 van die NGB sê jy moet by die ware kerk aansluit.) of (3) Poog hy om te onderskei tussen Bybel en tradisie en die ware, historiese Jesus, soos wat die Jesus Seminar probeer doen? 

3. Nors se bevryding

Nors kies 'n radikale skuif na 'n onsekere nuwe/postmoderne paradigma. Hy probeer om die mensgemaakte en uitgediende idees van die ou dogmas te herinterpreteer. Vir Nors het die Bybel groot waarde as hy dit lees as 'n menslike, nie-goddelik-geïnspireerde skepping. Alle ontdekkings in die soeke na betekenis is menslik van oorsprong. Nors kan dus nie NGB Artikel 3, 5 en 7 onderskryf dat die Bybel God se Woord is nie, en dat alles wat daarin is, sonder twyfel geglo moet word nie.

Saam met Holloway glo Nors dis belangriker om Jesus te volg, as om dogmas oor hom te glo of te verwerp (soos byvoorbeeld NGB Artikel 10 dat Jesus van ewigheid af gebore is). Dis belangrik dat ons leer om meer menslik te leef. Die Fakulteit Teologie (PUK) se kommentaar oor die "debat rondom Jesus" toon dat hulle die Bybel naïef-realisties lees deur alles in die Bybel letterlik op te neem. Nie-realiste meen selfs God is 'n blote projeksie van mense op die werklikheid. Nors vind hom meer tuis in die kritiese realisme waarvolgens ons ervaring van God deur menslike persepsie beïnvloed word (onder andere die drie-verdieping wêreldbeeld). Daar is 'n misterie daarbuite, maar ons kan dit net interpreteer en nooit met volkome helderheid sien nie.

Nors aanvaar dat simbole en mites die taal van die geloof is. Daar moet voortdurend oor hulle betekenis gereflekteer word. Dis gevaarlik om daaraan finale status te gee (dink maar aan die rol van die vrou volgens Paulus). Dit moet gedemitologiseer word; die sin en betekenis daarvan moet ontdek word. Die maagdelike geboorte behoort dus nie in biologiese terme verstaan te word nie, en die opstanding en hemelvaart as fisiese gebeure nie, of die wederkoms as 'n kosmiese katastrofe nie.

Hansie Wolmarans ( Beeld 28 Mei 2002) skryf dis hoog tyd om die artikels van die geloofsbelydenis te ontmitologiseer. As voorbeelde noem hy: "Oor die maagdelike geboorte sou ons byvoorbeeld kon sê dat ons God ontmoet in wat Jesus gesê en gedoen het." "Oor die oordeel van die lewende en die dode , dat wat ons doen en sê tydelike en ewige gevolg het." "Oor die opstanding uit die dood dalk dat die goeie sal seëvier." Holloway bied ook nog ander herinterpretasies aan. 

Die Israeliete se uittog uit Egipte

Hierdie narratief het die tipiese struktuur van (a) Val (verval?) in slawerny (b) Bevryding en trek deur die woestyn en (c) Ontdekking van die Beloofde Land en daarmee saam verwyt en ontnugtering . Hierdie struktuur kan op ons lewens toegepas word (byvoorbeeld in die geval van verslawing). (As 'n sigaretroker kan Nors hom in die situasie indink!) Dit is ook van toepassing op groepe mense wat onderdruk word (Afro-Amerikaners, Suid-Amerikaners, Afrikane, ens.). (Nors is bly dat iemand anders ook so dink oor Apartheid). 

Die erfsonde

Hierdie idee dat Adam met sonde begin het, dat sy fout aan ons almal oorgedra word (sien NGB Artikel 15 en 24), en dat alle sonde hieruit voortspruit, is 'n doelbewuste waninterpretasie (deur Paulus nogal, in Romeine 5) van die paradysverhaal. Die mite se oorspronklike betekenis moet eerder gesoek word in die menslike dramas van dood, swoeg en (seksuele) skaamte.

'n Moderne skeppingsmite sou eerder wou praat oor stryd en opgang in plaas van val en verlies. Die ou mite het 'n pessimistiese tydsiening. Omstandighede regresseer van 'n paradystoestand na 'n apokaliptiese eindoordeel. Vandag sou ons eerder wou praat van 'n omgekeerde katastrofe wat by die Groot Knal begin. Ons het nie vanuit 'n volmaakte toestand in sonde verval nie; nee, ons is op soek na iets beters iewers in die toekoms. 

Die Hel

Die ware hel is die boosheid in ons eie onderbewussyn en die trop-instink wat saam bose strukture skep wat nie deur die persoonlike goeie beïnvloed kan word nie. Dit realiseer in gruweldade (Nazi's, wêreldoorloë, volksmoorde). 

Jesus het vir ons sondes betaal

Hierdie dogma kan herinterpreteer word as "Sê ja vir jouself!" Ons moet genadig en liefdevol met onsself omgaan. 

Jesus se opstanding uit die dood

Dis belangriker om te weet wie die stelling gemaak het, eerder as die inhoud daarvan. Mense wat Jesus in vrees verlaat het, en van sy dood gevlug het, het somehow die moed bymekaargeskraap om die betekenis van sy lewe te verkondig. Daardie transformasie, ommekeer, is wat ons vandag onder opstanding verstaan. Dit is 'n simbool van die menslike vermoë om te kan verander.

4. Wat beteken dit alles?

Vir Nors lyk dit of mensgemaakte konstrukte soos dogmas (Dordtse Leer, ens.), en strukture (die Gereformeerde Kerk, ens.), die dinge waarvoor Jesus geleef het, met tyd verdring het. Dit was sake soos vergewing, hoop, sorg. Die kernboodskap, liefde, is deur kategorieë soos waar/vals of sonde/redding verdring.

Vandag hoor mens in die kerk in Linden dat jou sondige baba gedoop moet word sodat hulle bevry kan word en dat ouers hulle dan 'reg' moet leer (volgens dogma !) sodat hulle eendag Jesus as hulle persoonlike verlosser kan aanneem. Saam met Holloway glo Nors dis 'n teologie van die dood wat akute angs by mense opwek: dat Jesus se kruisdood 'n betaling is vir die oersonde en mense wat hulle daarmee identifiseer, red (sien NGB Artikel 15 en 20). 

5. Wat bly oor?

"Wat bly dan oor?" soos 'n gelowige vriendin Nors eendag vra? 'n Teologie van die Lewe . Nors wil voortgaan om Jesus te herontdek vanuit die lae en lae menslike dogma en strukture waarin Jesus oor tyd ingeweef is. 'n Teologie van die Lewe wil die goedheid van die skepping beklemtoon, eerder as angs, en vrees vir die dood, as motiveerders vir lewe en aksie.

Hierdie boodskap waarsku nie om bevry te word van die bose wêreld nie, maar dit nooi mense uit om tuis te wees daarin, dit te eerbiedig, om mededeelsaam te wees, veral teenoor die armes. Dit roep ons op om aksie te neem teen alles wat lewensvreugde en die skepping bederf. Die roep om 'n politiek van geregtigheid, want een van die skandale van die geskiedenis is die manier waarop magtige mense die skepping vir hulleself opgeëis het, en die skepping se kinders daarmee saam. Dit roep mense om, in die taal van Jesus se gebed, die koninkryk van God te bou, op aarde soos in die hemel.

Dis tyd, hoor Nors mense sê, vir dié wat nie inkoop in die absolute waarhede nie, om te stop met die emosionele en intellektuele stryd daarteen, en om eerder te fokus op die positiewe bevordering van 'n visie van die goeie lewe. Nors quote 'n medestryder wat op 'n dag per e-pos laat weet dat sy kerk vermy en eerder in die bosveld vertoef: "Ek kon in nagape meer van God sien as in nagmaal."

Waar reg geskied, daar vind ons die hemel. Waar onreg en kwaad geskied, vind ons die hel. Die hel is Chechnia en Rwanda, of in die pyndood van 'n ongeneeslike siekte, of diep depressie. Dit is waar mense se integriteit en waardigheid ontken word. En, anders as wat die dominees beweer, kan ons God se koninkryk ingaan deur middel van wysheid, of goedheid of deugsaamheid of regverdigheid of vryheid. Dis 'n lewenstyl vir nou, eerder as die hoop op 'n beter lewe hierna.

Nors het nie antwoorde op baie van hierdie dinge nie, maar hy reken hy het genoeg gehoor om te besef dat hy en die dogma, die ou gereformeerde waarhede, geskiedenis is. Hy wil veel eerder werk aan die inklee van 'n nuwe visie—op sigself 'n lewenswyse. Bevryding!

Cease wretch to mourn to weep—
Sip up the sun.
We dance along death's icy rim,
But is the dance less fun?

Wat is 'n wiki? Skryf saam

 

Baie dankie!

AttachmentSize
Instruksies aan moderators van die NHN se wiki.pdf1.19 MB

Antwoorde op Vraebus

 Plaas jou vrae asseblief in die Vraebus.

Gnostiek en vroeë Christendom

Deon Kesting skryf 'n uitvoerige brief en vra — duidelik na aanleiding van heelwat nadenke —

  1. of die belangrikheid van die Gnostiek vir die volledige Christendom nie eerder bevraagteken moet word nie: is dit nie die geval dat "die vroeë kerk met bona fide-standpunte en billike prosedure binne die eerste vier eeue nC die stryd teen die Gnostiek gewen het — gewoon dat die waarheid geseëvier het" nie?

Oor die Tomasevangelie vra hy

  1. of (minstens die Koptiese weergawe) nie maar die endproduk van 'n lang proses van gnostisering verteenwoordig nie. Deon wonder ook [3] hoekom "[James G] Dunn se drieledig vergelykende evaluering van Oksirhinkus 654, die Nag Hammadi-Tomas en die Nuwe Testament nie eerder toegespits word op die meer wesenlike inhoude van onderskeidelik Luk 17:21 ("want die koninkryk van God is binne-in julle" - OAB ["within you" - NKJV], die tweede 654-logion ( "... and the kingdom of Heaven is within you") en Logion 3 van die Tomas-evangelie: ("... Maar die koninkryk is in julle en rondom julle ...") nie".

Moet sê, met sulke "belangstellende lesers" kan dié Forum net beter word!

 

Pieter Botha antwoord so:

  1. Hoe om die Gnostiek se belangrikheid te beoordeel hang saam met baie ander kwessies waaroor ook standpunt ingeneem moet word alvorens mens sinvol kan verantwoord hoekom meer aandag aan die gnostiese perspektiewe gegee moet word. Groothuis se artikel waarna Deon verwys is myns insiens 'n konglomeraat van aanhalings van geselekteerde skrywers om 'n ideologie te kommunikeer (en nie om historiese navorsing aan te bied nie), en dit help nie om al die ander navorsers se teenoorstaande standpunte aan te haal nie. In plaas van om in detail te verval oor watter antieke tekste op watter manier uitgelê moet word, en wat die waarde van watter tradisie sou wees en so aan, wil ek fokus op die woorde "dat die waarheid geseëvier het". Wie sê wie se waarheid?

    Die belangrikste punt wat ons wil maak is nie dat Gnostiek "eintlik" die waarheid is nie, maar dat die idee van 'n vroeë kerk wat net een waarheid geken het, vals is. Diversiteit was van die moment wat Jesus begin werk het, 'n kenmerk van sy volgelinge. Hierdie diversiteit was nooit 'n gemaklike, afgewaterde, simplistiese verskilletjies (wyn of vrugtesap?) nie maar 'n intense en komplekse uiteenlopendheid (is Jesus die Gestuurde of die Stuurder?). Natuurlik was daar grense, maar die vroeë Christene het hulle eenheid uitgeleef in geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Hulle het eenheid beleef in gemeenskaplike maaltye, liefdesdiens en (hewige) debatte.

    Die herrinnering aan die gnostiese tradisies is dus nie soseer om die konvensionele dogmengeskiedenis om te draai nie maar om dit beter te skrywe. Triomfantalistiese geskiedskrywing is nie geskiedenis nie. Ons praat oor mense en hulle verdien respek. Die sogenaamde "wenners" van die geskiedenis het ook vuil gespeel. Hulle was net mense, nie engele nie, en net soos enige ander mens se standpunte, mag nie net gekritiseer word nie, maar verdien om gekritiseer te word. Anders is dit nie die moeite werd om histories te dink nie.

    Dit is so dat die gnostiese konflik die Christendom wesenlik beïnvloed het. Waaraan ons moet dink, in plaas van om "dankbaar" die uiteindelike standpunte te aanvaar, is wát het verander en wat was die prys vir daardie keuses. So, byvoorbeeld, is dit hoogtyd om te vra wat het verlore gegaan met die keuse om Jesus van Nasaret se menswees-as-Jood op te offer, of wat het die gelowiges regtig gebaat deur dualismes (liggaam/siel, geloof/rede) aan te neem.

     

  2. Oor die "gnosties-heid" van die Tomasevangelie moet mens beklemtoon dat jy 'n baie wye definisie van Gnostiek moet aanlê om dié teks gnosties te beskou. Daar is baie dinge waaroor ons onseker is wat betref die vroë Christendom, maar hierdie beskuldiging teen die Tomasevangelie kan regtig nie meer staan nie. Die teks, selfs nie die Koptiese weergawe nie, is nie gnosties in die sin wat die kerkvaders Gnostiek beskou nie.

    Die datering van die Griekse weergawe van die Tomasevangelie moet vóór 140 n.C. wees, op gronde van die papirusgetuienis. Hoe lank voor is 'n kwessie van argument. Die belangrikste feit in daardie argument is dat die Tomasevangelie verwant aan, maar onafhanklik van die ander Evangelies is. Hoe mens dié verskynsel verklaar is natuurlik oop. Wat lyk vir julle die mees logiese: die Tomas-tradisies is vroeër as die kanoniese Evangelies (dit verklaar die gebrek aan presiese verwantskap, asook die eiesoortigheid), die Tomas-tradisies is ouer as die kanoniese Evangelies (maar hoe verklaar mens dan dat daar nie duideliker ooreenkomste is nie) of die Tomasevangelie kom uit min of meer dieselfde tradisiestroom as die ander, maar wil 'n eiesoortige weergawe daarvan wees (so 'n soort van kompromie benadering, wat ekself kies by gebrek aan beter inligting).

    Die datering en aard van die Tomasevangelie neem nie weg dat die ander Nag Hammadi dokumente wel gnosties is nie. As mens nét die (sogenaamde) ortodokse kerkvaders oor die gnostikers lees, is die indruk dat Gnostiek 'n neerdrukkende, eng godsdiens was, 'n soort van "counsel of despair". Juis die Nag Hammadi vondste wys ons wat Gnostiek vir 'n gnostiker beteken het: 'n godsdiens van hoop; 'n ervaring van verandering, van wakker word na 'n nagmerrie (of soos nugter word na dronkenskap) met die aanbreek van 'n wonderlike nuwe dag.

     

  3. Hoekom Dunn nie op die wesenlike konsentreer nie wil ek my nie uitlaat nie. Deon is reg as hy raaksien dat daar 'n belangrike implikasie aan die ooreenkoms tussen hierdie drie uitsprake is. 'n Beduidende groep vroeë Christene (op geografies verskillende plekke) het die koninkryk nie gesien as iets wat kom nie, maar as dit wat is , en dan binne/tussen-in diegene wat soos Jesus God se heerskappy vrylik aanvaar en uitlewe.

 

Jesus se goddelikheid

Koos Smit sê dankie vir die Nuwe Hervorming se webwerf maar wil dat van die opmerkings in verband met Jesus se maagdelike geboorte en die opstanding beter verduidelik word. "Kan iemand in plein Afrikaans sê waar staan ons met Jesus?" Wel, uit ons geledere die volgende:

Hansie Wolmarans:

Hoekom sê ek dat Isak Burger se stelling dat die Nuwe Hervorming Jesus se maagdelike geboorte en die opstanding ontken, onwaar is?

  • My standpunt was nog nooit dat die maagdelike geboorte of die opstanding ontken word nie. Die punt wat ek voorop stel, is dat hierdie verhale volgens hulle literatuursoort (dit wil sê as mites) gelees moet word. Ons aanvaar dat daar mense is wat dit as letterlik histories aanvaar (ek persoonlik nie), maar dit is nie die "issue" nie. Die vraag is, wat hierdie verhale beteken. Beide die maagedelike geboorte en die opstandingsverhale het met die "waarheid" te make dat God geregtigheid vir gewone mense bedoel — al was Maria arm, en al het Jesus gesterf. Dit is dus onwaar om te sê die maagdelike geboorte en die opstanding word bloot net ontken; ek erken dit, maar soek dan na die simboliese betekenis daarvan.
  • Ek identifiseer my met Koos Smit  se opsomming oor wie Jesus was en is:

    "Vir my was hy 'n mens, met 'n merkwaardige vermoë om nuwe insigte te bring in 'n Joodse gemeenskap wat verward was vanweë politieke en geloofskrisisse. Hy het gesterf en is vandag steeds fisies 'n gestorwe mens. Maar hy het geestelik in statuur gegroei tot die grootste van alle figure en sy nalatenskap is die grondslag van die christelike geloof wat na 2000 jaar steeds voortleef." 

Pieter Craffert:

Tradisioneel is die vraag: is/was Jesus God?

Daar is geen eenvoudige antwoord op die vraag nie en daarom kan mens eintlik net 'n klompie perspektiewe gee.

  • Die Ortodokse antwoord is alombekend, maar onverstaanbaar. Dit maak gebruik van die twee-nature leer en die aanname dat God 'n persoon/wese is wat êrens bo of buite die natuurlike werklikheid bestaan. Hiervolgens was Jesus beide 'n mens en 'n god. Die "dwaalleer" wat hiermee afgewys is, was bekend as die dosetisme wat gereken het Jesus was eintlik 'n god, maar het net in die gedaante van 'n mens verskyn. Om beide sy mensheid en goddelikheid vas te hou, is toe gesê hy was "ware god" en "ware mens". Ek wag nog dat iemand hierdie formulering vir my verduidelik, want ek weet van geen so 'n soort figuur nie.
  • 'n Merkwaardige maar baie belangrike verskil tussen ons en destyds: vandag aanvaar ons Jesus was 'n mens en ons vraag is, maar was hy ook God. In daardie tyd was hulle probleem net omgekeerd: hy wás goddelik, hulle vraag was, was hy ook waarlik mens?

    Aan watter kant mens jou ookal in hierdie debat bevind, die tweede aanname is dat wanneer die woord "god" gebruik word, verwys dit na 'n wese of persoon buite die natuurlike werklikheid. Dus die vraag is of hierdie spesifieke persoon (Jesus) tot die kategorie "god" behoort. As dit maklik was om die kategorie "god" te bepaal, was dit natuurlik veel makliker om te sê of Jesus aan die kategorie behoort het of steeds behoort. Maar "God" is self 'n problematiese kategorie. Meeste mense gebruik die term asof dit verwys na 'n wese/persoon in die hemel (waar dit nou ook al is).

    Maar dit is een soort voorstelling naas ander. As mens eerder met die idee werk van "die goddelike" en dat talle metafore daarvoor gebruik kan word (soos 'n persoon, gees of 'n teenwoordigheid) dan word die probleem iets anders. Dan sou mens die aanvanklike vraag moet herformuleer as: is/was Jesus goddelik? Of meer spesifiek: kan mens in die aardse Jesus iets van die goddelike sien en kan mens in die na-pase Jesus die goddelike sien?

  • Op die eerste vraag sou ek sê, nee en ja. Die aardse Jesus was nie goddelik nie, want hy was 'n Galilese man van sy tyd. Mens sou ook kon sê, ja, in die lewe en optrede van die aardse Jesus het talle mense van sy tyd die goddelike ervaar. Jesus self was waarskynlik iemand wat geesvervuld was (hy het ervaringe gehad wat hulle geïnterpreteer het as hy is met God se gees vervul) en in sy genesings en optrede teenoor mense het hulle waarskynlik ervaar dat God by hulle is. Daarom sou hulle in sy tyd kon sê, Jesus is vir hulle God. Onthou, in die algemeen was hulle ervaring van die gode-wêreld sodanig dat hulle in talle lewensfasette gedink/ervaar het dat gode in hulle wêreld kon inmeng en invloed uitoefen.
  • Is die na-pase Jesus goddelik? Ja, want in die ervaringe van Jesus wat aan hulle verskyn het (en steeds aan mense verskyn) asook die ervaring van sy teenwoordigheid in hulle lewens, het mense ervaar (ervaar mense steeds) dat Jesus iets van die goddelike tuisbring. In die sin sou mens kon sê Jesus is god.

Pieter Botha:

(dié reaksie handel oor die historiese Jesus)

Daar word ook van talle ander mense in die antieke wêreld vertel dat hulle van goddelike afkoms is, dat hulle duiwels uit ander uitgedryf het, op die see geloop het, storms stilgemaak het en selfs na hulle afsterwe weer voortgelewe het as 'n god. Hoekom dan die verhale oor Jesus anders beoordeel? Nee, 'n regter wat een stel reëls vir een saak gebruik en 'n ander vir sy gunstelinge is nie 'n regter nie. Vir historiese waarheid geld dieselfde voorwaardes in alle gevalle. Jesus is dus net so min uit 'n maagd gebore as wat Oktawianus (=keiser Augustus) deur Apollo (die songod) verwek is. Albei verhale is onhistories (fiksie/mitologie) en om presies dieselfde redes.

Maar hoekom het hierdie mense van destyds sulke fantastiese aansprake gemaak? Is daar, binne hulle wêreldbeeld en met hulle begripsapparaat tog iets meer aan as net sogenaamde wonderwerke?

Inderdaad. Oor talle antieke mense is gesê dat hulle god is. Trouens, niemand het gefrons oor sulke aansprake oor iemand soos Oktawianus nie. Dit is dus dadelik verstaanbaar dat dit nie kan gaan oor watter één van hierdie verhale die enigste waarheid is nie, maar wat is die "waarheid" van sulke soort verhale — wat wil sulke verhale te kenne gee. Sulke verhale wou iets te kenne gee oor gode se karakter, en hoe die gode oordeel oor wat mense doen. 'n Legitimering van 'n waardestelsel, dus: "So dink ons wil god hê die wêreld behoort te lyk". Oktawianus word die seun van god genoem want hy bring "voorspoed", sy ideologie geniet goddelike erkenning.

En so gesien wou Lk en Mt nie iets sê oor Maria se ginekologiese toestand nie, maar oor 'n spesifieke god, 'n god met 'n baie spesifieke karakter (aard) wat sekere uitdagings stel aan mense se moraliteit. Die Bybel wil oor die nood van die wêreld en die gebrek aan geregtigheid praat — maar natuurlik wil ongelowiges wonderwerke en tekens hê.

Met ander woorde, dit is hoog tyd dat ons van die (pornografiese) beheptheid met Maria se baarmoeder en soortgelyke on natuurlike sake afstand neem en begin Bybels dink: nie óf daar 'n god is nie, maar wat is die karakter van jou God .

Dieselfde antwoord geld, myns insiens, die wonderwerke, die opstanding (en selfs die sogenaamde ewige lewe). Waar staan ek met die historiese Jesus? Wel, soos Jesus self gesê het: "die koninkryk van God is binne-in julle" (en sedertdien soek die kerk dit elders).

Reguit antwoorde op Amie van Wyk se sewe vrae


Beste Amie

Dankie vir jou brief wat my uitnooi tot gesprek ( Beeld 5 Julie). Ek het geen sarkasme, snedigheid en persoonlike aanvalle daarin raakgelees nie daarom aanvaar ek die uitnodiging. Net soos wat die predikant-ding in Sunette Pienaar se bloed sit, so sit die teologie-ding in my bloed. Die dag wanneer ek my rug op God en Jesus van Nasaret keer, is dit klaar met my.

Voordat ek egter jou vrae kan beantwoord, moet ek verduidelik vanuit watter hoek ek die saak beredeneer. Ek het die afgelope dertig jaar die Bybelwetenskappe intensief bestudeer. Saam met vele ander het ek tot die besef gekom dat die Ou en die Nuwe Testament nié die Christelike geloof is nié. Anders gestel — dit wat as die Christelike geloof verkondig word, staan nie in dáárdie woorde in die Bybel nie. Dit berus op die interpretasies van die Griekse en Latynse kerkvaders (2de tot 5de eeu). Dit verteenwoordig húlle interpretasies van bepaalde Bybeltekste. Dit is húlle teologie vir hulle kultuur en wêreld. Daardie interpretasies het ongelukkig neerslag gevind in belydenisse. Baie Christene beskou hierdie belydenisse as ewige waarhede en dwing dit op ander af. Na regte is dit slegs voorlopige verwoordings van die Christelike geloof.

Aan hierdie belydenisse gaan 'n meesterverhaal vooraf wat drie hoofpunte het: (1) skepping en sondeval, (2) genade en verlossing, (3) wederkoms en eindoordeel. Hierdie meesterverhaal staan ook nie só in die Bybel nie. Jy moet dit in die Bybel inléés om dit daar te vind. Neem die erfsondeleer as voorbeeld. Nie een van die evangelies struktureer hulle verhaal oor Jesus rondom dié leer nie. Jesus verkondig nêrens dat God wraak gaan neem as hy nie aan 'n kruis sterf nie. Hy verkondig nêrens dat hy gestuur is om die sondeval ongedaan te maak nie. Nóg Genesis 2–3, nóg Psalm 51:7, nóg Romeine 5:12 wat tradisioneel as bewystekste vir die erfsondeleer geld, kan meer as basis vir hierdie leerstuk dien nie. Géén gerekende Bybelwetenskaplike vind die erfsondeleer in die Bybel nie. Daar is vele dogmatici wat dit ook erken. Sonder die erfsondeleer, maak die meesterverhaal — of dan die teologie van die kerkvaders — nie meer sin nie. As ons nie 'n sondige natuur erf nie, waarvan moet ons verlos word? As daar nie 'n perfekte wêreld was wat vanweë die sondeval in duie gestort het nie, kan Jesus se kruisdood en opstanding nie geïnterpreteer word as sou dit die begin van die herstel wees nie. Volgens die totale Bybel is God van ewigheid af 'n God wat vergewe. Nêrens word geskryf dat Hy eers 'n perfekte mensoffer eis voordat Hy daarmee kan voortgaan nie.

Ek stel dit onomwonde dat ek nie meer aanvaar dat mense in sonde ontvang en gebore word nie. Ek aanvaar ook nie meer die siening van die kerkvaders wat van oordeel was dat God se geregtigheid 'n perfekte mensoffer eis nie. Hierdie kerkvaders én Anselmus het in hulle teologie die paaslam (Eks. 12) en die sondebokoffer (Lev. 16) met mekaar verwar. Boonop het hulle onbybelse idees dat God woedend is en wraak wil neem omdat sy eer aangetas is, in Bybeltekste ingelees. In húlle teologie word Jesus se kruisdood foutiewelik as 'n plaasvervangende soenoffer voorgehou. Jesus self heg nie dié soort betekenis aan sy kruisdood wanneer hy daaroor praat nie. Lees gerus Markus 8:31; 9:31 en 10:32–34.

Wanneer ek breek met die meesterverhaal van die ortodokse Christelike geloof beteken dit bloot dat ek nie meer die teologie van die kerkvaders onderskryf nie. Ek ontken geensins die bestaan van God of Jesus nie. Ek ontken ook nie Jesus en vele ander profete voor hom se boodskap dat God wil hê dat mense reg en geregtigheid moet beoefen nie. Ek ontken ook nie dat mense verkeerd kan kies en ander kwaad kan aandoen en dit ook dikwels doen nie. Ek neem wel standpunt in teen die siening dat Christene op aarde geplaas is om die teologie van die kerkvaders op ander af te dwing. Ek neem ook standpunt in teen die siening dat indien Christene dit nié doen nié, daardie mense vir ewig verlore is en eendag na hulle dood hulle oë in die hel gaan oopmaak. Ek het gebreek met die drieverdieping heelal van die antieke wêreld. Hemel en hel is nie meer vir my aanwysbare en bewoonbare plekke nie.

Die ontsluiting van die ou Nabye Oosterse kulture; die wetenskaplike studie van die Bybel; die ontdekking en bestudering van die Dooie Seerolle en die Nag Hammadi-tekste; die herontdekking van die Joodsheid van Jesus en sy tuiswees in die vroeë Judaïsme, asook die besef dat alle teologie mensewerk is, stel teoloë en predikante voor die vraag na die relevansie van hulle sienings en die boodskap wat hulle verkondig. Vele Christene kan nie meer met die interpretasies van die kerkvaders identifiseer nie. Dit maak nie meer vir hulle sin nie omdat hulle nie in die vierde-eeuse Mediterreense wêreld leef nie. Hulle weet dat daar nie 'n historiese Adam en Eva was nie. Hulle weet dat hulle nie van verhaalkarakters 'n sondige natuur kan erf nie. Hulle weet ook dat daar nie 'n perfekte wêreld was wat as gevolg van daardie karakters se ongehoorsaamheid in duie gestort het nie. Ons wat van beter weet, staan onder die verpligting om die boodskap van Jesus van Nasaret ter herkontekstualiseer en dit só te verwoord dat dit vir mense van die derde millennium sin maak.

Op grond van bostaande uiteensetting antwoord ek soos volg op jou sewe vrae aan my.

(1) Die Bybel (in sy vele variasies) is sowel 'n normatiewe as informatiewe teks vir Christene, maar nie vir die ganse mensdom nie. Dit bevat nie 'n unieke verlossingsboodskap nie. Ons sterf nie omdat 'n Adam en Eva vir God die harnas ingejaag het nie. Ons sterf omdat dit die natuurlike einde van lewe is. Dis hoe lewe op hierdie planeet bly voortbestaan. Ons mensspesie is nie van hierdie sikliese gang uitgesluit nie. Buitendien, gaan net homo sapiens opstaan of het homo erectus en homo neandertalensis ook 'n kans? Die ortodokse Christendom se beheptheid met die mens se verlossing en heil maak dat hulle mense se verweefdheid met alles wat op aarde leef en geleef het, ignoreer. Hulle doen lustig mee aan die vernietiging van die planeet, want hulle gaan mos 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde erf!

(2) Christene hoef nie net teïsties (persoonsmatig) oor God te dink nie, maar kan ook panteïsties en panenteïstiese (nie-persoonsmatig) oor God dink en praat. Binne 'n panenteïstiese verstaan, kan gebed ander vorme aanneem as die direkte aanspreek van God as 'n persoon. Stilte, meditasie, verwondering en gewyde musiek is ook vorme van gebed.

(3) Jesus van Nasaret was 'n Joodse profeet en wysheidsleermeester. Die kerkvaders het hom in hulle teologie 'n verlossergod en 'n middelaar tussen God en mense gemaak. Ek glo wel dat die goddelike in Jesus van Nasaret teenwoordig was, maar nie dat Jesus die geïnkarneerde ewige Seun van God was/is nie.

(4) Die herverskyningsverhale in die Evangelies en Handelinge hou verband met dáárdie mense se leef- en ervaringswêreld. Om hulle verhale binne 'n moderne denkraamwerk te wil verstaan en van mense wat tans leef, te verwag om te glo dat lyke lewendig kan word, is om kultuurverskille en verstaansmodelle te ignoreer. Wat ons sien en ervaar, hou verband met wat ons kultuur, wêreldbeeld en verstaansmodelle ons toelaat om te sien en te ervaar.

(5) Christene kan steeds aan ander mense die verhale van Jesus vertel, maar moet dit doen met die wete dat dit verhale is wat in die antieke wêreld met sy verskillende kulture ontstaan het. Daardie verhale is nie gelyk te stel aan die meesterverhaal van die ortodokse Christendom nie. Jesus het nie van sy volgelinge verwag om die ekumeniese belydenisse op ander mense af te dwing nie, maar om reg en geregtigheid te beoefen.

(6) Om die kerkvaders se teologie as ewige waarheid aan ander mense voor te hou, ignoreer die feit dat ons in die postmoderne tyd van gekontekstualiseerde waarheid praat. Afrika Christene maak iets anders met Jesus in hulle kultuur — en dis reg so. Europeërs en Euro-Afrikane mag ook hieraan meedoen en iets anders met Jesus maak. Dit wat hulle met Jesus maak, behoort egter verband te hou met die kennis waaroor hulle beskik en met die kultuur waarin hulle leef. Alle identifiserings met Jesus van Nasaret en verwoordings van die Christelike geloof is slegs voorlopige verwoordings. Niemand kan ewige geloofswaarhede formuleer nie.

(7) Die kontinuïteit met die Christelike tradisie bestaan daarin dat jy as Christen toelaat dat die verhale oor Jesus deel word van jou lewensverhaal sodat ander mense in jou doen en late iets van sý boodskap sien vibreer en hoor resoneer.

Groete

Sakkie Spangenberg

Skool vir Religie en Teologie

Unisa


Nog reguit antwoorde van Sakkie Spangenberg


Beste Amie,

Hiermee my antwoord op jou brief van 21 September. Jy fokus hoofsaaklik op vier sake en ek wil op elkeen reageer, maar dis nogal moeilik. Van die afdelings in jou brief bevat onderafdelings en van die sake wat jy onder die een afdeling bespreek, het verbindings met sake wat jy onder ’n ander afdeling bespreek. Verder blyk dit dat jy nog vele vrae in jou gemoed ronddra rakende die Nuwe Hervorming en die sienings wat ons deel. Ek gaan probeer om ’n sistematiese antwoord te skryf, maar ek weet dinge gaan nie so mooi uiteenval soos joune nie.

Eerstens die kwessie van die Christelike tradisie en die sienings van Augustinus (354–430). Jy wys daarop dat Augustinus ongeveer 5 miljoen woorde geskryf het en wonder dan of ek nie te oorhaastig is met die stelling dat ek volledig afskeid geneem het van die meesterverhaal van die Westerse Christendom nie. Ek herinner my dat Eberhard Jüngel ’n keer na Karl Barth se omvattende Kirchliche Dogmatik verwys en toe die volgende opmerking gemaak het: “Die waarheid kan nie só lank wees nie!” Daar was ’n stadium toe byna elke dogmatikus Augustinus probeer na-aap en probeer het om ook 5 miljoen woorde te skryf. Barth en Berkhouwer is goeie voorbeelde hiervan. Dis of hulle die teologie volledig probeer uitskryf het. Hulle wou die waarheid vir tyd en ewigheid formuleer. Maar vra jou gerus af hoeveel gelowiges lees hierdie soort filosofiese uiteensettings van die Christelike godsdiens. Buitendien, moet ons nou alles presies soos Augustinus, Barth en Berkhouwer weet en glo om onsself Christene te kan noem? Ek meen Harvey Cox het ’n waarheid raakgesien toe hy gesê het: “Except in the minds of textbook writers, there is no such thing as Buddhism or Hinduism, or Christianity for that matter. There are only persons who think of themselves as Buddhists, Hindus, or Christians.” Mense beleef hulleself as Christene, Boeddhiste, Hindoes, Moslems, ens. omdat hulle in ’n bepaalde kultuur en tradisie gebore en opgevoed is. Ek beleef myself as Christen omdat ek Afrikaanssprekend is en gereformeerde ouers gehad het. Ek is in die gereformeerde tradisie gekatkiseer en het vir byna 50 jaar getrou elke Sondag ’n gereformeerde erediens bygewoon. Christen-wees is so deel van my mens-wees soos Afrikaans-wees deel daarvan is. Ek het die Christelike geloof en lewenswyse met moedersmelk ingekry en dit sal tot die dag van my dood deel van my bly — al is daar ’n klomp mense wat meen dat ek slegs in naam ’n Christen is. In hierdie mense se koppe is daar slegs een model van Christen-wees — húlle model. Hulle probeer dan ook gedurig om ander klone van hulleself te maak. Ek het oor die jare egter tot die besef gekom dat die Christelike godsdiens gevarieerd is en dat die waarheid nie eendimensioneel is nie. Die Christendom was sedert sy geboorte-uur gevarieerd — daarvan is die Nuwe Testament die beste bewys. Daar was net maar nog nooit eenheid nie, behalwe toe dit deur keiser Konstantyn (275–337) afgedwing is ter wille van die stabiliteit van die Romeinse ryk. Augustinus was ’n teoloog in diens van hierdie politieke doel — en hy het dit nie gesnap nie. Die Latynse kerkvaders het die Romeinse Ryk as ’n uitdrukking van God se ryk beskou en toe Rome deur die “barbare” verower is, het dit hulle geloof tot in sy wortels geskud. Augustinus se beroemde werk Die stad van God wat geskryf is na die val van Rome in 410 getuig hiervan. Wat dit bewys, is maar net dat alle teoloë kinders van hulle tyd is en dat niemand se teologie bowe-histories is nie. Daar is eenvoudig nie ewige, onveranderlike, bowe-historiese waarheid nie. Waarheid is altyd gebonde aan tyd, plek en waarnemer. Ons mag daarom vandag anders met die Bybel en die Christelike tradisie omgaan, want ons kennis, tyd en plek verskil van vorige geslagte s’n. Wat ons wel kan vra, is wat tot die kern van die tradisie behoort. Maar hieroor bestaan daar ook verskille. Volgens my is liefde die kern van die tradisie en die wortels van hierdie kern vind ’n mens reeds in die Ou Testamentiese belydenis “Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde.” Dit is nie vir die eerste keer aan die kruis geïllustreer soos sommige Christene meen nie. Van God se liefde het Israel geweet lánk voordat Jesus aan ’n kruis gesterf het. Die Jode (en ons) het nie ’n kruis nodig gehad om iets van God se liefde te weet nie. ’n Mens kan maar net die boek Jona lees om iets van daardie liefde te snap.

Jy meen dat die Nuwe Hervorming net bewondering vir Jesus as mens het en vergelyk dit met die uitsprake van gelowiges in ander godsdienstradisies wanneer hulle van Jesus kennis neem. Diegene wat met die NH identifiseer, bewonder nie Jesus as mens nie, maar stel intens belang in sy boodskap. Dit gaan vir vele om die herontdekking van sy boodskap en wat dit vir ons dag kan beteken. Vele Nuwe-Testamentici probeer om (gegewe die bronne waaroor ons tans beskik) die boodskap van Jesus weer te konstrueer. Hierdie boodskap verskil natuurlik aansienlik van die tradisionele Westerse Christendom se boodskap oor Jesus. Neem nou maar weer die kwessie van die erfsonde as voorbeeld. Jesus self het géén woord hieroor gerep nie. Lees weer die eerste drie evangelies. Geeneen van hulle maak gewag van die erfsonde nie. Om die waarheid te sê, Jesus verkondig nêrens dat hy gaan sterf sodat God se toorn gestil kan word nie. Waar kom hierdie leerstuk vandaan? Van Augustinus wat die Bybel (en spesifiek die Ou Testament) verkeerd geïnterpreteer het en ’n woedende God in die OU Testament raakgelees het. Op hierdie punt wil ek sê dat Pelagius (oorlede 410) die Ou Testament veel beter as Augustinus geïnterpreteer het! Sonde hou volgens Pelagius altyd verband met konkrete wandade. Sonde bestaan nooit los van dade nie. Na my mening sal dit enige teoloog loon om kennis te neem van die ou ketters. Die ketters het op bepaalde punte die Bybel dikwels beter gelees en geïnterpreteer as die kerkvaders. Neem naas Pelagius ook Porfirius (232–304) as voorbeeld. Hy het reeds in die derde eeu uitgewys dat Daniël nie ’n profesie is nie! Vele ortodokse Christene huldig vandag nog hierdie siening in weerwil van drie eeue se intensiewe Bybelnavorsing wat Porfirius korrek bewys het!

Jy verwys in jou brief na Bram van de Beek se opmerking dat kennis van die vroeg-kerklike teoloë se teologieë naas kennis van die Bybel noodsaaklik is vir die beoefening van die teologie. Hierop sou ek wou reageer met die opmerking dat kennis van die Tweede Tempeltydperk (539vC–70nC) en die vroeë Judaïsme nóg belangriker is. Geen mens kan Jesus en sy boodskap reg verstaan sonder hierdie kennis nie. Die vroeë Christelike geloof was ’n variant binne die vroeë Judaïsme. Daarvan getuig vele Ou-en Nuwe-Testamentici se navorsing vandag. Een hiervan is George Nickelsburg wat in sy boek Ancient Judaism and Christian Origins: Diversity, Continuity and Transformation die volgende veelseggende opmerking maak: “The construction of new models of early Judaism and the circumstances of the rise of Christianity raise important questions for theologians. What happens, or should happen, when one discovers that theology is based on wrong history?”

Die herontdekking van die Joodsheid van Jesus en sy tuis-wees in die vroeë Judaïsme stel die tradisionele Christelike dogmatiek voor ernstige vrae. Jesus het nie in ’n Triniteit geglo nie en homself ook nie as die Tweede persoon van die Drie-eenheid voorgehou nie. Die Nuwe Testament ken nie so ’n soort Godsbeeld nie! Die Nederlandse praktiese teoloog cum dogmatikus, Gijs Dingemans, is eerlik genoeg om dit te erken in sy boek De stem van die Roepende: Pneumatheologie wanneer hy sê: “Laten we eenvoudig van de eenheid van God uitgaan (zoals alle hoger ontwikkelde religies dat doen), waarbij we wel geloven dat God zich in de mens Jezus op een bijzondere wijze heeft geopenbaard (zoals Hij zich ook in andere mensen en in ander godsdiensten heeft geopenbaard). Voor dat standpunt is op exegetische en op historische gronden veel te zeggen. De triniteit word immers in de Schrift nergens geleerd of voorondersteld.” Dingemans is ook eerlik genoeg om te erken dat erfsonde nie in die Bybel geleer word nie. Hy stel dit kort en bondig: “Er is in de bijbel geen sprake van erfzonde!” Dis vir my interessant dat jy en vele ander julle toevlug neem tot die sogenaamde “algemene openbaring” om die leerstuk van die erfsonde steeds orent te probeer hou. Dít in weerwil van die feit dat Bybelwetenskaplikes onteenseglik bewys het dat daar geen Skriftuurlike gronde vir dié leerstuk bestaan nie. Die verhaal van Adam en Eva is ’n verhaal en kommunikeer nie geskiedenis nie. As verhaalkarakters kan hulle op geen manier ons lewens beïnvloed nie. Voorts erf geen mens ’n sondige natuur van sy voorouers nie. Dit is wel met ons mens-wees gegee om besluite te moet neem en ons besluite het soms nie goeie gevolge nie. Ons het egter nie ’n leerstuk oor erfsonde nodig om ons dit te vertel nie. Ons sterf ook nie omdat Adam en Eva God in die paradys die harnas ingejaag het nie. Ons sterf omdat dit is hoe lewe op aarde verloop. Geboorte, groei en dood is die ritme van lewe. Dink ook aan die seisoene. Dis ook hoe die groter sisteem (die kosmos) funksioneer. Sterre word gebore, groei en sterf. Sterrestelsels word gebore, groei en sterf. Selfs die aarde is gebore, groei steeds en gaan eendag in die verre toekoms sterf. Dit sal gebeur wanneer die son uitbrand en uitswel om ’n rooireus (’n soort ster) te word. Wanneer dít gebeur, gaan die son die aarde en die ander kleiner planete tot as verbrand en gaan hulle hulle materie in die ruimte inblaas. Lees gerus Gideon Joubert se boek Die Groot Gedagte hieroor. Dis ’n boek wat vele Afrikaanssprekende Christene van die gereformeerde tradisie aan die dink gesit het. Vele van hulle het die moderne wêreldbeeld soos Gideon dit beskryf, aanvaar en kom klop nou by die NHN aan omdat hulle predikante nie die boek gelees het nie en nie sinvolle antwoorde op hulle vrae kan gee nie. Diegene wie se geloofsinsigte nog verband hou met ’n drieverdieping-heelal kan eenvoudig nie mense wat tuis is in ’n uitdyende heelal se geloofsvrae meer beantwoord nie.

Jy meen voorts dat ek (en die NH) nie die Ou Testament ernstig opneem nie en Jesus glo net vanuit die Grieks-Romeinse wêreld verstaan. Ek dink die teendeel is eerder waar. Dogmatici neem nie die Ou Testament ernstig op nie. Hulle interpreteer die Ou Testament vanuit die Nuwe Testament en vanuit die Christelike dogmas, daarom praat jy ook nog van “voorspelling” in die Ou Testament. Daar is maar géén voorspelling in die Ou Testament van ’n verlosser met die naam “Jesus Christus” nie. Die Nuwe Testamentiese skrywers gebruik boustene uit die Ou Testament om Jesus en sy boodskap vir hulle tydgenote te preek, maar geen skrywer in die Ou Testament het Jesus voorsien nie. Vele Ou-Testamentici neem die Ou Testament en die wêreld waarin Jesus geleef het baie ernstig op. Neem Geza Vermes as voorbeeld en lees gerus die trilogie wat hy oor Jesus geskryf het. Paulus was nie ’n Christen nie en nog minder Jesus. Paulus het hom nie bekeer tot die Christendom nie, maar bloot tot ’n ander tradisie binne die vroeë Judaïsme. As die tempel nie in 70nC vernietig is nie, het die vroeë Christendom radikaal anders gelyk. Jesus se volgelinge het na sy dood steeds die tempel en sinagoges besoek en aan al die religieuse handelinge wat vir die Jode belangrik was, deelgeneem. Paulus het wel Jood-wees herdefinieer sodat mense uit die “heidendom” ook “Jode” kon word. Hy het gesê dat Jood-wees nie meer saamhang met uiterlike handelinge soos besnydenis en dieetvoorskrif nie. Ook hulle kon deel in God se liefde.

Jy sê dat ek gemaklik van Christene praat, maar die woord “christus” glo vermy. Neem gerus in ag dat “christus” die Griekse vertaling van messias (of dan “gesalfde”) is en dat dit nêrens in die Nuwe Testament gebruik word om aan Jesus “goddelikheid” toe te sê soos wat Christene vandag meen nie. Die woord “christus” het in sy oorspronklike konteks gekommunikeer dat Jesus ’n gesalfde (“messias”) was. Ons moet in ag neem dat daar nie ’n algemene messiaanse verwagting in die vroeë Judaïsme was soos Christene tradisioneel geglo het nie. Slegs enkele groepe het ’n messias-koning verwag. Dit sou iemand wees wat hulle van die Romeinse onderdrukking bevry en weer politieke onafhanklikheid vir die Jode sou behaal. Vele hedendaagse Christene het geen begrip vir die politieke situasie in Palestina van die eerste eeu nie en verstaan daarom ook nie die uitdrukking “die koninkryk van God” wat Jesus so dikwels gebruik het nie. Hier moet ’n mens gerus kennis neem van Bruce Malina se boek The Social Gospel of Jesus: The Kingdom of God on Mediterranean Perspective. Die uitdrukking “die koninkryk van God” het met politiek te doen — Jesus het ’n teokrasie in die vooruitsig gestel, maar die Romeinse magsisteem het daardie “droom” aan skerwe geslaan toe die Romeine Jesus as ’n politieke rebel aan die kruis gespyker het.

Ons kennis van die vroeë Judaïsme en vroeë Christendom is besig om geweldig uit te brei en uit hierdie kennis blyk dit dat die kerkvaders die Bybel op bepaalde punte totaal misverstaan het en dat hulle sienings ingeskryf is in die ekumeniese belydenisse.  Ons mag vandag van hulle verskil, want ons leef in ander tye en beskik oor ander kennis. Ek meen dat Philip Jenkins reg is wanneer hy verduidelik dat die Christelike godsdiens in die toekoms waarskynlik in twee vorme sal voortbestaan. Die een vorm sal meer tradisioneel en pre-modern wees en die ander een ontradisioneel maar byderwets. Die tekens van hierdie verdeling is reeds sigbaar. Niemand hoef meer te twyfel waar die Nuwe Hervorming hom skaar nie.

Groete,

Sakkie

Ns. Ek bid nog en preek ook. Ek preek op Hervormingsondag (30 Oktober) in Kaapstad by die onafhanklike gemeente Kruiskerk. Die teks vir my preek? Matteus 15:21–28 en die volgende woorde van Harvey Cox: “To be a disciple of Jesus does not mean to emulate or mimic him. It means to follow his ‘way,’ to live in our era the same way he lived in his — a sign and servant of the Reign of God” (1991:56).

Bibliografie (vir wat dit werd is)

Cox, H 1991. Rabbi Yeshua Ben Yoseph: Reflections on Jesus’ Jewishness and the Interfaith Dialogue, in Charlesworth, J H (ed),  Jesus’ Jewishness: Exploring the place of Jesus in Early Judaism, 27–62. New York: Crossroad.

Dingemans, G D J 2000. De stem van die Roepende: Pneumatheologie. Kampen: Kok.

Jenkins, P 2002. The Next Christendom: The Coming of Global Christianity. Oxford: Oxford University Press.

Joubert, G 1997. Die Groot Gedagte: Abstrakte weefsel van die kosmos. Kaapstad: Tafelberg.

Jüngel, E1997. Eberhard Jüngel — How I have changed, in Moltmann, J (ed) How I have changed: Reflections on Thirty Years of Theology. London: SCM Press.]

Malina, B J 2001. The Social Gospel of Jesus: The Kingdom of God on Mediterranean Perspective. Minneapolis: Fortress.

Nickelsburg, G W E 2003. Ancient Judaism and Christian Origins: Diversity, Continuity and Transformation. Minneapolis: Fortress.

Vermes, G 1973. Jesus the Jew: A historian's reading of the gospels. London: SCM.

Vermes, G 1983. Jesus and the world of Judaism. London: SCM.

Vermes, G 1993. The religion of Jesus the Jew. Minneapolis: Fortress.


Thomasevangelie

Reinette van Heerden vra of die verwysings na die Tomasevangelie nie maar net 'n bohaaimakery is nie. Pieter Botha beantwoord die vraag.

Hippolitus (wat ±210-235 n.C. in Rome gewerk het) vermeld dat sekere groepe 'n "Evangelie van Tomas" gebruik, en so ook Origines. In 1945 is hierdie Evangelie herontdek tussen die Nag Hammadi geskrifte. Die tweede kodeks se tweede traktaat van die vonds begin met die woorde, "Hierdie is die geheime uitsprake wat die lewende Jesus geuiter het en wat Didimos Judas Thomas neergeskrywe het". Hierdie manuskrip verteenwoordig die vierde-eeuse vorm of weergawe van die Tomasevangelie en is in Kopties. Met behulp van hierdie manuskrip kon drie Griekse manuskrip-fragmente geïdentifiseer word, naamlik as vroeër weergawes van die Tomasevangelie. Hierdie stukkies van die evangelie (wat elkeen skaars 'n bladsy behels) is bykans 'n halfeeu voor die Nag Hammadi vonds by Oksirinkus gevind, maar is tot-en-met die Nag Hammadi vonds net aangedui as dele van 'n onbekende evangelie. Hierdie papiri kan gedateer word: die oudste kom van die einde van die 2e eeu n.C. en die ander uit die derde eeu. (Hierdie stukkies papiri is ouer as die meeste Griekse manuskripte van die Nuwe Testament waaroor ons beskik). Hierdie papiri-gedeeltes verteenwoordig die tweede-eeuse vorm van die Tomasevangelie.

Ons sou baie meer van die Tomasevangelie wou weet, maar ons weet minstens die volgende: Die Evangelie is in Sirië geskrywe, tussen 70 en 140 n.C. Afskrifte (in Grieks) is in Egipte in die eerste helfte van die tweede eeu gebruik en afskrifte van die Koptiese vertaling is in Egipte gebruik vanaf die derde eeu. Omtrent die helfte van die inhoud van die evangelie is soortgelyk aan materiaal wat ons in die kanonieke evangelies kry. Die skrywer van die Tomasevangelie het egter nie by die sinoptiese evangelies afgeskryf nie.

Wat is die implikasies? Hier moet mens eers besluit of historiese verstaan belangrik is of nie. Mens kan die soortgelykheid maar onafhanklikheid van die Tomasevangelie toeskryf aan inspirasie ('n geloofsbesluit), byvoorbeeld. Of mens kan 'n historiese verklaring aanbied, naamlik dat die Tomasevangelie 'n stroom van Jesustradisies verteenwoordig wat naas die ander tradisies ontwikkel het. So beskou bied Tomas heelwat materiaal wat soos die van die kanonieke Evangelies op sigself beoordeel moet word en historiese inligting oor die Jesusbeweging en die historiese Jesus kan verskaf. Nie so baie inligting soos wat ons graag wil hê nie, maar darem iets. Uit 'n historiese oogpunt is dit dus 'n belangrike bron, want Lukas byvoorbeeld, verteenwoordig nie 'n onafhanklike ooggetuie se weergawe nie. Hy self maak dit baie duidelik dat hy by ander afskryf en onteenseglik weet ons dat hy by Markus en die Matteus-evangelietradisies (sommiges noem dié tradisies die Q-evangelie) afgeskryf het. Alhoewel die kodeks uit die vierde eeu stam, kom die Evangelie van Tomas se inhoud uit 'n veel vroeër tydperk.

Teologies bied die Tomasevangelie ons insig hoe vroeë Christene oor Jesus gedink het, en Jesus voorgestel het vóór die kanon gefinaliseer is. Daar is aanvanklik gedink die Tomasevangelie is "Gnosties", maar die standpunt het twee onoorkomelike probleme. Daar is, eerstens, 'n probleem met die term "Gnosties" (wat in so 'n verband eintlik niksseggend is). In 'n algemene sin beteken dit iets soos: kennis is belangrik vir die aanbidding van God en die redding van 'n mens. Gemeet aan die beroemde gnostikers se teologie (mense soos Basilides en Valentinus) is die Tomasevangelie net soveel of net so min "gnosties" as wat Paulus en Johannes "gnosties" is. Die ander probleem is dat daar 'n onderskeid gemaak moet word tussen die oorsprong van die inhoud (waarvan dele van die Tomasevangelie teruggaan na die tyd van die eerste dissipels), die opskrifstelling van die tradisies (sê maar 70–85 n.C.), die finale redaksie van die teks (sê maar 100 n.C.) en die verskillende afskrifte en vertalings en weer afskrifte van die vertaling. Dat die teks saam met ander sogenaamde Gnostiese geskrifte gevind is (soos byvoorbeeld die Apokrufon van Jakobus, die Dialoog van die Verlosser en die Evangelie van die Egiptenare — almal Nag Hammadi kodekse) sê insigself nog nie dat die Tomasevangelie gnosties is nie.

Die Evangelie van Tomas bestaan uit 114 "uitsprake" van Jesus. Hierdie indeling is deur moderne navorsers gemaak; die oorspronklike tekste het nie enige nommering nie. Geen verhale oor Jesus is in die evangelie nie, daar is dus geen lydensgeskiedenis en geen wonderwerke nie. Die gesegdes van Jesus wat hierin is, is wysheidspreuke, gelykenisse, uitsprake oor die Wet, kort dialoë en profetiese uitsprake. Omtrent die helfte van die uitsprake is soortgelyk aan wat ons in die kanonieke evangelies vind. Soos wat die teks nou daar uitsien is die sinne hoofsaaklik gerangskik met behulp van woord assosiasie.

Twee van die oudste uitsprake in die Tomasevangelie is: (1) vers 31: "Geen profeet word in sy eie dorp aanvaar nie; geen geneesheer genees diegene wat hom ken nie". Hierdie gedeelte verteenwoordig 'n weergawe van 'n uitspraak van Jesus wat ouer is as die weergawe wat ons by Mk. 6.1–6 vind.  (2) Die gelykenis van die huurders en die wingerd in ETom. 65, wat 'n ouer weergawe van Mk. 12.1–12 verteenwoordig.

Wat inhoud betref: in Tomas is Jesus die openbaarmaker. Vers 1: "Elkeen wat hierdie woorde verstaan sal nie dood ervaar nie" (lett: iemand wat die interpretasie van die woord vind sal nie dood proe nie). Jesus word voorgestel as die een wat vir altyd lewe, en die historiese Jesus is die Een wat nou kan praat net soos altyd. Die gelowiges moet die bose wêreld teenstaan, want die Vader se koninkryk is van lig. "Hy wat homself vind is beter as die wêreld". Die koninkryk van die hemele is beide binne mense en buit hulle, en orals ewe veel teenwoordig (verse 3, 49, 50, 113). Dissipelskap is veeleisend, en behels die opgee van eiendom, familie, seks, vas, besnydenis ensomeer.

Van die belangrike dinge wat mens agterkom by die Tomasevangelie is die feit dat 'n hoë Christologie ontwikkel sonder enige klem op titels vir Jesus. Met ander woorde, Jesus word as goddelik beskou, maar hy word nie "Seun van God" of sulke titels gegee nie (anders as die kanonieke evangelies). Die ander belangrike aanduiding is dat die eerste vertellers van Jesus-woorde rondreisende leraars was, wat in armoede en selfopoffering geleef het om te getuig van Jesus. 

'n Engelse vertaling: Gospel of Thomas

Lees meer oor die Tomasevangelie:

Was Jesus 'n buite-egtelike kind?

Ek het iewers op die internet gelees dat Jesus die buite-egtelike kind was van 'n Romeinse soldaat en 'n Joodse prostituut.

Christelike dogmas

DIE MAAGDELIKE GEBOORTE

Sakkie Spangenberg

Jesus se maagdelike ontvangenis speel 'n baie belangrike rol in die totale pakket van dogmas van die Westerse Christendom. Sonder die maagdelike ontvangenis, sou Jesus in die erfsonde gedeel het en sou hy dus nie die ware verlosser kon wees nie.

Die belydenis dat Jesus uit ‘n maagd gebore is, berus op 'n hele klompie aannames waarna ons eers moet kyk. Hierdie belydenis gryp terug na die vertellings van Matteus en Lukas. Ek fokus op Matteus se verhaal omdat die verteller na 'n teks uit Jesaja verwys ter bevestiging van sy eie verhaal: ‘Die maagd sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring ...' (Jesaja 7:14). Kontroleer 'n mens die gegewens in die Hebreeuse teks van Jesaja, blyk dit Jesaja nie voorspel het dat ‘n maagd goddelik bevrug gaan word nie. Die verteller wou slegs maar vertel dat die profeet Jesaja 'n keer vir koning Agas en die hele volk ‘n hoopvolle teken gegee het. (Dit kan egter ook as 'n dreigteken verstaan word.) Agas se vrou sal binnekort swanger raak en geboorte gee aan 'n seun. Vóór hierdie seun sy kinderskoene ontgroei het, sal die Aramese bedreiging iets van die verlede wees. (Hansie verskil 'n ietwat van my oor wie dan nou die pa van hierdie kind sal wees, die profeet Jesaja of koning Agas.)

Jesaja het geensins voorspel dat Maria deur die Heilige Gees bevrug sal word nie. Die skrywer van die Matteusevangelie is egter lief om telkens na Ou-Testamentiese verhale terug te gryp om daardeur te bevestig dat God se verhaal met Israel nie afgesluit is nie. Vertellers van Bybelverhale gryp altyd terug en bou altyd voort op vroeëre vertellings.

Vra 'n mens hoekom Matteus hierdie soort vertelling geskep het, duik daar interessante perspektiewe op. Let wel, dis die verteller wat die verhaal skep en laat ontwikkel. Hy beskik oor sy karakters en kan met hulle doen net wat hy wil. Hy kan ter wille van die doel wat hy nastreef, Jesus 'n eksodus laat beleef (Matteus 2:13–15) en selfs op die hoogste punt van die tempeldak laat staan (Matteus 4:5)!

Wanneer ons Bybelverhale (tewens enige verhaal) lees, is dit belangrik om te snap dat daar 'n verskil is tussen verhaalwaarheid en historiese waarheid . Die probleem is dat baie Bybellesers nie die verskil snap nie. Volgens hulle is alles in die Bybel historiese en wetenskaplike waarheid. Volgens hulle is daar nie iets soos verhaalwaarheid in die Bybel nie.

Kom ons keer terug na die geboorteverhaal van Matteus en vra onsself af: Wat wou Matteus met die verhaal van 'n buitengewone geboorte kommunikeer? Dit antwoord hierop is: Presies dit wat ander vertellers van sulke verhale in die antieke tyd wou kommunikeer: ‘Besonderse mense het besonderse geboorteverhale.' Moses het 'n besonderse geboorteverhaal (meer korrek kindheidsverhaal) gehad en Matteus modelleer sy Jesuskarakter op die patroon van die Moseskarakter. Eintlik probeer hy kommunikeer dat Jesus 'n tweede Moses is. Hy het 'n besonderse geboorteverhaal (Matt 1 & 2). Sy lewe word net soos Moses s'n deur ‘n koning bedreig (Matt 2). Hy beleef 'n eksodus soos Moses (Matt 2) en dwaal veertig dae en veertig nagte in die woestyn rond waar hy versoek word soos die Israeliete tydens die uittog (Matt 4). Jesus gaan (soos Moses) die berg op en preek die nuwe wet van die koninkryk (Matt 5–7). Die hele Matteusevangelie kan in vyf groot redevoerings verdeel word. Onthou die Pentateug (die eerste vyf boeke van die Ou Testament)! Wie nie snap dat Matteus se Jesuskarakter byna die ewebeeld van Moses is nie, mis 'n belangrike punt van die vertelling.

Uit die voorafgaande is dit duidelik dat ons die vertelling oor maagdelike verwekking nie as 'n soort historiese verhaal moet lees nie. Groot kerkteoloë uit die verlede het hierdie verhaal wat slegs verhaalwaarheid kommunikeer, gelees asof dit historiese waarheid kommunikeer en belydenisse daaroor opgestel en mense wat ander standpunte as hulle huldig, verketter.

Hierdie teoloë het op grond van die Griekse vertaling van hierdie teks en die aanhaling daarvan in die evangelie van Matteus (Matt 1:23) 'n dogma oor die maagdelike geboorte gaan bou waarvan die pilare wankelrig is. Weinig Ou-Testamentici sal vandag hulle Joodse vakgenote verwyt dat Jode die Ou Testament (of die Tenak , soos dit onder die Jode bekend staan) verkeerd interpreteer. Jesus is nie die voorspelde Messias nie, maar die geïnterpreteerde Messias . In die woorde van Günther Weber (1998:112):

Did the prophet Isaiah, enlightened by God, prophesy that a virgin would bear a child more than seven hundred years later? No he did not. Centuries later the evangelist Matthew tore this passage from its original context and applied it to Jesus in order to depict him as the promised Messiah. It is an interpretation, not a fact.

Die vroeë Christene het op grond van die Griekse vertaling (die Septuagint) daartoe gekom om hierdie tekste as profesieë te lees. Deur die eeue het Christene Jode verwyt dat hulle die tekste nie reg lees en uitlê nie. Tans sien baie Ou-Testamentici die saak anders. Dit was die vroeë Christene wat op grond van die Septuagint hierdie afleidings gemaak het. Ons kan hulle egter nie verwyt nie. Hulle was kinders van hulle tyd en die metodes van uitleg wat hulle gebruik het, was algemeen gangbaar in daardie tyd. Die ontdekking van die Dooie Seerolle in 1947–1956 en die bestudering daarvan oor die afgelope vyftig jaar, het dit bevestig. Ons het hier met pesjer -uitleg te doen en daardie soort uitleg het nie ag geslaan op die historiese konteks waarin bepaalde woorde geskryf is nie.

Maar ons moet ook kennis neem van daardie mense se beskouing van die vrou en hulle kennis van haar fisiologiese ‘klokwerk'. Hier help biskop biskop John Selby Spong (2002:118) ons:

But as devastating as these bits of knowledge are to the cause of traditional orthodoxy, the deepest problem that the virgin-birth story faces is that it reflects a premodern understanding of the human birth process — an understanding that, because of our expanded knowledge of genetics, biology, and reproduction, educated people today could not possibly believe without closing their minds to vast amounts of data. The early Christians simply did not understand the woman's role in reproduction. They reasoned not from scientific knowledge but from an analogy drawn from their common life. The knew that a farmer planted his seed in the soil of the earth and that Mother Earth nurtured the seed into maturity. This was the analogy that shaped the way the ancient Jews understood human reproduction. The life of any new born baby was believed to dwell in the seed of the male. The woman's contribution, like that of Mother Earth, was only to provide a nurturing womb. She did not add to the substance of the new life.

As gevolg van hierdie siening van die vrou het manlike teoloë later jare hulle koppe gebreek oor die vraag of Jesus dan nou 'n God, 'n mens of 'n God-mens was. As die Gees die embrio gegee het (Maria was bloot 'n vat) kon Jesus mos nie werklik 'n mens gewees het nie? Die hele dosetiese stryd in die kerkgeskiedenis het voortgevloei uit daardie manlike teoloë se gebrekkige kennis van die vrou se rol in die verwekking van kinders.

Ons kan vandag die saak anders beredeneer omdat ons meer van die vrou se rol in die voortplantingsproses weet, maar as ons ons kennis in dáárdie verhale inlees, lees ons die verhale anachronisties.

Aanvaar ek die geboorteverhaal as historiese werklikheid en bely ek die dogma as historiese waarheid? My antwoord hier op is “nee”. Ek onderskryf die volgende woorde van die Nuwe-Testamentikus Clayton Sullivan (2002:40):

Was Jesus a virgin's son? The answer, I suggest, is no . The pagan virgin belief, historians now recognize, was one of the first steps taken by the early church in the simultaneous de-Judaizing of and hellenizing of the Christian message as it spread into the Greco-Roman world.

Die verhaal van die maagdelike ontvangenis wil slegs kommunikeer dat Jesus 'n besonderse persoon was en dit aanvaar ek van harte.

 

Bronne waarna in die artikel verwys word:

Spong, J S 2002. A new Christianity for a new world: Why traditional faith is dying and how a new faith is being born . New York:HarperCollins.

Sullivan, C 2002. Rescuing Jesus from the Christians . Harrisburg: Trinity Press.

Weber, G 1998. I believe. I doubt. Notes on Christian experience. London: SCM.


Die dogma oor die kruisdood van Jesus

DIE DOGMA OOR DIE KRUISDOOD VAN JESUS  — Sakkie Spangenberg

In die teologiese polemieke van die afgelope jaar of twee het verskeie konserwatief-geöriënteerde teoloë van die vertrekpunt uitgegaan dat daar al vir eeue 'n standaardverhaal van die Christelike godsdiens bestaan. Voorts het hulle beklemtoon dat mense nie hierdie verhaal uit hulle duime gesuig het nie — dit is 'n verhaal wat in die geskiedenis afgespeel het en so in die Bybel opgeteken staan. Hierdie standaardverhaal (of meesterverhaal) kan soos volg weergegee word:

Die ganse mensdom stam van een vader en moeder af, naamlik Adam en Eva. Hierdie eerste ouerpaar het egter ons almal se lot verseël toe hulle na die Satan geluister en God se gebod oortree het. Ons almal was bedoel om vir ewig te lewe, maar vanweë hulle ongehoorsaamheid in die tuin van Eden is ons almal bestem om te sterf. Die hele Ou Testament vertel die verhaal van hoe God die weg voorberei het vir die koms van sy Seun wat bestem was om die mag van die Satan en die dood te verbreek. Jesus het op die bestemde tyd as die ewige Seun van God uit die hemel gekom en mens geword. Hy het plaasvervangend onder God se oordeel aan die kruis vir die sondes van die ganse mensdom gesterf. Omdat Hy gehoorsaam was aan God se verlossingsplan en die kruisdood gewillig aanvaar het, het Hy die mag van die Satan en die dood verbreek. Die resultaat van hierdie soendood is dat ons almal nou vir ewig kan leef soos God dit van die begin van die skepping bedoel het. Die bewys dat Jesus se sending geslaagd was, is bevestig deur sy hellevaart, opstanding, hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees. Jesus sal aan die einde van die tyd weer kom om diegene wat in Hom geglo het (en dus sy soenoffer aanvaar het) met die ewige lewe te beloon, maar diegene wat Hom en sy soenoffer verwerp het, met die ewige dood in die hel te straf. Dáár heers die Satan en sy engele.

Intensiewe studie van die Ou en die Nuwe Testament die afgelope meer as vier eeue, het uitgewys dat die meesterverhaal nie voorgehou kan word as 'n verkorte weergawe van die Bybelverhale nie. Hierdie meesterverhaal is die produk van die Griekse en Latynse kerkvaders wat gedurende die tweede tot die vyfde eeu geleef het. Dis niks anders as húlle kreatiewe vertolkings van die Bybelverhale nie. Drie van hulle, naamlik Hieronimus (342–420), Ambrosius (339–397) en Augustinus (354–430) het 'n groot aandeel gehad in die finale afronding van die meesterverhaal. Hierdie drie staan ook bekend as die Latynse kerkvaders, want Hieronimus het die Bybel in Latyn vertaal en al drie se teologiese werke is in Latyn geskryf. Latyn sou vir meer as 'n millennium die kerktaal van die Westerse Christendom bly en die teologie vir eeue domineer. (Latyn word steeds in die Katolieke Kerk tydens belangrike gebeure soos die Pous se begrafnis gebruik!)

Volgens die meesterverhaal is Jesus se kruisdood in die Ou Testament voorspel. Lees ons tekste soos Jesaja 52–53, maak dit glad nie gewag van 'n kruisdood nie. Daar is ook nie sprake dat iemand gaan sterf om ander se sondes te versoen nie. Lees ons die verhale in die evangelies wat oor Jesus se kruisdood handel, is dit duidelik dat dit 'n politieke gebeurtenis was. Jesus het die tempel gereinig en daar was 'n relletjie wat deur die Joodse leiers as gevaarlik vir die vrede van Jerusalem beskou is. Die uiteinde was dat Jesus deur die Romeine as 'n Joodse rebel veroordeel en gekruisig is. Hierdie gebeurtenis is later herinterpreteer en deur sommige skrywers as 'n offer verstaan. Maar, kan 'n mens vra, “Was dit goeie teologie?” Volgens my en vele ander teoloë se oordeel was dit nie. Diegene wat só geïnterpreteer het, het nie Jesus se boodskap goed begryp het nie. Kom ek verduidelik.

Die hele Ou Testament is teen kinderoffers. Selfs Isak word nie geoffer nie. Die verhaal van Isak se “offer” is juis vertel om te verduidelik dat God teen kinderoffers is. Kinderoffers was nie ongewoon in die ou Nabye Ooste nie. Die Israeliete kies egter teen hierdie soort offers. Waar kom die Nuwe-Testamentiese skrywer dan nou vandaan om 'n kinderoffer (God offer sy seun) as prysenswaardig te beskou? God kies tog uitdruklik in die Ou Testament teen sulke offers.

Nie een van die sinoptiese evangelies (Matteus, Markus, Lukas) hou dit voor dat Jesus aan die kruis onder God se toorn gesterf het nie. Lees gerus weer Markus 8:31–33; 9:30–32 en 10:32–34. Jesus “voorspel” hier sy kruisdood, maar heg geen dieper betekenis daaraan nie. Nie een van die evangelieskrywers stel dit dat Jesus se kruisdood 'n offergebeurtenis was nie. Hy sterf nie om ons van sondes te verlos nie en ons in die hemel te kry nie.

Hoe het Jesus God die aan sy volgelinge voorgehou? Volgens hom is God 'n liefdevolle vader. Hy vertel aan hulle die verhaal van die verlore seun wie se vader hom onvoorwaardelik vergewe — sonder dat die seun een of ander soenoffer moet bring om sy pa se toorn te stil. God is oneindig liefdevol. Hy is barmhartig en genadig, lankmoedig en groot van goedertierenheid (Ex 34:6, Jona 4:2, Ps 103:8). Hy vereis nie offers nie (Hos 6:6, Miga 6:6–8). Günther Weber stel dit mooi in sy boek met die titel I believe, I doubt :

Jesus had depicted his God in the image of the gracious father. His was a God who rushed towards his prodigal son without asking anything of him, takes him in his arms and forgives him unconditionally. However, it was not Jesus' picture of God that became the centre of the church's faith and worship, but the pagan-mythical picture of a deity who had been infinitely insulted by the disobedience of a single individual and who could be reconciled only by human blood, the atoning death of his own Son.... It was not the message of Jesus but the doctrine of his atoning sacrificial death which became the centre of the church's faith. For this doctrine of redemption ensures the church its significance, its status and its power more than the message of Jesus.

En dan ook hierdie mooi stelling oor die vertekende beeld van God uit sy boek:

A God who enjoys the suffering of his creatures must be a malicious God. He is hardly any different from the cruel deities of prehistoric times whom human torment was a welcome sacrificial food. He is a perverse God. That is not the God of Jesus. From Jesus I get another picture of God, a God who wants human well-being, happiness, joy, wholeness; a God who does not want human suffering; a God who wants to free people from suffering... For the God of Jesus wants human well-being, joy, peace, happiness. The God of Jesus does not want the cross. He does not want pain, he seeks the avoidance of pain and the healing of wounds. He does not want suffering. He wants suffering, distress, misery, hatred and enmity to be overcome; he wants tears to be dried.

Jesus se kruisdood was eintlik die dood van 'n martelaar vir die saak waarvoor hy gestaan het, naamlik God se regering. Hy het onwrikbaar geglo dat as God in Palestina sou regeer het en nie die Romeinse keiser nie, die wêreld anders sou gelyk het. Professor Cas Labuschgne stel dit mooi in sy boek Zin en onzin rond de bijbel: Bijbelgeloof, bijbelwetenschap en bijbelgebruik .:

Als we even te rade zouden gaan bij het geschiedenisverhaal van Jezus in de drie synoptische evangeliën, moeten we concluderen dat deze auteurs de terechstelling van Jezus hebben opgevat als de dood van een martelaar voor de zaak van het Koninkrijk van God, en beslist niet als een zoenoffer.

Een van die redes waarop Jesus se kruisdood in terme van ‘n offerdood geïnterpreteer is, hang waarskynlik saam met die gebeure in die jaar 70 nC. In daardie jaar het die Romeine Jerusalem verower en die tempel platgevee. Dit was vir die Jode 'n geweldige traumatiese ervaring. Vir 'n tweede keer in hulle geskiedenis is die allerheiligste plek wat hulle geken het, vernietig en is hulle godsdienstige rituele tot stilstand gedwing. In daardie omstandighede het hulle nagedink oor hulle geloof en hoe hulle daaraan uitdrukking kan gee — sonder die tempel en die offerdiens. Die Christene (wat ook Jode was) het Jesus se kruisdood as die finale offer beskou en kon dus afskeid neem van die offerdiens. Voorts het hulle hulle geloof nie meer aan die fisiese stad Jerusalem gekoppel nie, maar aan die hemelse stad Jerusalem wat nie vernietig kan word nie. Lees gerus die boek Hebreërs en kyk hoe daardie skrywer al die tradisionele Joodse rituele en gebruike ombuig en herinterpreteer. Jesus word nou 'n hoëpriester volgens die orde van Melgisedek! Hy het eenmalig die offer gebring in die hemelse tempel, ens. Dis die wyse waarop 'n groot groep Joodse Christene met hulle groot verlies kon vrede maak en nuwe betekenis aan hulle lewe kon gee.

Daar is in die Nuwe Testament allerlei ander simbole aan die hand waarvan die kruisdood van Jesus geherinterpreteer is. Vir my maak dit sin om dit te sien as 'n gebeure wat God nie geëis het nie, maar wat oor die pad van Jesus gekom het. In daardie gebeure het sommige vroeë Christene God se liefde raakgesien. Dis hoe ek dan ook verkies om daarna te kyk. God sou dit graag anders wou hê, maar mense wat in magsposisies sit, vernietig dikwels ander se lewens.

 

Kopiereg © deur Nuwe Hervorming Netwerk Alle regte voorbehou.

Gepubliseer op: 2005-04-16

Die dogma van die Erfsonde


Die godsdiensdebatte die afgelope twee tot drie jaar toon duidelik dat twee groepe teenoor mekaar staan. Die een groep beklemtoon die tradisionele Christelike dogmas. Die ander groep beklemtoon die nuwere feite wat drie eeue se intensiewe Bybelnavorsing en wetenskaplike kennis aan die lig gebring het.

Kom ek illustreer die verskille aan die hand van die leerstuk oor die sonde. In die tradisionele sondeleer speel die volgende Bybeltekste 'n belangrike rol: Genesis 2–3; Psalm 51:7; Romeine 5:12, 18–19. Die kerkvader Augustinus (354–430) is grootliks vir hierdie leerstuk verantwoordelik. Volgens hom was daar 'n oer-egpaar: Adam en Eva. Hulle was die heel eerste mense en is ongeveer 6 000 jaar gelede geskep. Hulle was perfek en sondeloos. Die tuin waarin hulle gewoon het, was onoortreflik. Daar was nie winde wat huise kon omwaai en reën wat landerye kon verspoel nie. Hulle het nie sonsteek geken nie, ook nie mangel- of blindedermontsteking nie. Hulle wêreld was 'n perfekte een.

Hierdie perfekte wêreld het egter op 'n dag in duie gestort. Eva het haar nie gesteur aan God se gebod dat hulle nie van die boom van kennis van goed en kwaad mag eet nie. Die slang het haar met slingse redenasies oorreed om van die vrugte van daardie boom te eet. Sy het geëet en ook vir Adam daarvan gegee. Toe God hiervan te hore kom, het Hy hulle uit die tuin verban en beide swaar strawwe opgelê. Adam sou van toe af hard moes werk en Eva sou swaar aan kinders geboorte skenk. Ook die slang is gestraf. Van toe af moes hy op sy pens seil en hy en die mens was permanente vyande.

Die oersonde het tragiese gevolge gehad — alles en almal was nou stukkend. Niks en niemand was meer heel nie. Oor hierdie pynlike toestand skryf Dawid in Psalm 51:7: ‘Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.' Eva en Adam se ongehoorsaamheid het soos 'n virus die totale mensdom besmet.

Paulus redeneer egter in Romeine 5 dat alhoewel Adam se ongehoorsaamheid sonde, ellende en dood in die wêreld ingebring het, het Jesus hierdie dinge omgekeer. In die plek van sonde staan vergifnis en vryspraak. In die plek van ellende is vreugde en voorspoed. En in die plek van die dood, opstanding en ewige lewe.

Dis kortliks die tradisionele Christelike leer oor die sonde.

Bybelwetenskaplikes het egter oor die afgelope driehonderd jaar Genesis, Psalms, Romeine en al die ander Bybelboeke intensief bestudeer. Hierdie studies het uitgewys dat die tradisionele leerstuk oor die sonde op interpretasies berus wat nie steek hou nie.

Ek noem slegs enkele voorbeelde.

Daar is twee skeppingsverhale (Gen 1 en Gen 2–3). Nie een van hierdie verhale kan as geskiedenis geklassifiseer word nie. Daar was dus nie 'n regtige Adam en Eva nie. Hulle is slegs verhaalkarakters. Genesis 2–3 vertel nie die verhaal van hoe sonde in die wêreld ingekom het nie, maar hoe die mens die kans om vir ewig te kan lewe, verbeur het. Daar was immers 'n tweede boom in die middel van die tuin — die boom van (die ewige) lewe! Die slang het Eva van daardie boom weggelok en haar vrugte van die boom van kennis aangebied. Die slang is nie die Satan nie. Latere vertellings en dogmatiese leerstellings het hom met die Satan gelyk gestel. Maar volgens híérdie verhaal is hy dit nie. Die slang is ook 'n verhaalkarakter en soos ander dierekarakters kan hy praat.

In Psalm 51 is 'n gedig wat kennelik nie deur Dawid geskryf is nie (vgl Ps 51:20), maar deur 'n onbekende persoon ná die Babiloniese ballingskap (587–539 vC). Die opskrif ‘'n Psalm van Dawid' is 'n latere toevoeging. Dit geld ook van die woorde ‘toe die profeet Natan na hom gekom het, nadat hy by Batseba ingegaan het.' Al die psalms was aanvanklik sonder op- en byskrifte geskryf. Die woorde: ‘Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang' (Ps 51:7) het niks met erfsonde te doen nie. Ons het hier met hiperbool (oordrywing) te doen. Die digter betreur sy eie geneigdheid om verkeerd te doen.

In Romeine 5 speel die Wet 'n oorheersende rol en stel Paulus die tweede Adam (Jesus) teenoor die eerste Adam. Wat opval is dat Paulus Eva nie vermeld nie. Waarom? Eva kan nie die teenhanger van die manlike Jesus wees nie. Vroue is halfwas mense. Mans is die eintlike mense. Paulus se beheptheid met die Wet hou verband met die feit dat hy vroeër 'n Fariseër was. Die Wet het vroeër sy geloof gedefinieer en sy lewe gerig. Volgens Paulus is daardie tyd vir goed verby. Jesus se kruisdood en opstanding definieer nou sy geloof en rig sy lewe. Volgens Paulus het die Wet geen rol meer te vervul nie. Dit verdien geen plek meer in mense se verhouding met God nie.

Misken toegewyde Bybelwetenskaplikes sonde? Allermins. Hulle sê: ‘Lees die Bybel weer — mense is nie sondaars omdat hulle só gebore word nie, maar omdat hulle verkeerd kies en handel . Ons ís nie sondaars vanweë die misstap van 'n oervoorouer nie, maar ons kan daagliks sondaars word.'

Hier is 'n aantal aanhalings uit onlangse publikasies as bewys dat ander geleerdes die oortuiging deel dat die Bybel (en spesifiek Genesis 2–3) nie gewag maak van erfsonde nie. Die gedeelte voer ook nie aan dat die dood deur Adam en Eva se toedoen in die wêreld gekom het nie. Luister hoe stel Alastair G Hunter ('n Skotse Ou-Testamentikus) dit:

We were not ( pace Augustine) created evil; our birth is not inevitably contaminated by the genetic inheritance of a mythic fall from grace. It has always puzzled me that intelligent people, who are well aware of the nature of genetic processes and evolutionary biology, can still propound the inexpressible nonsense that, because some legendary forefather and mother committed wrongdoing, bad blood has somehow entered the human race.

James Barr ('n ander bekende Skotse Ou-Testamentikus) skryf soos volg hieroor:

The thought that all death, at all times and in all circumstances, is due to a primeval fault is difficult to take seriously, and all the more so when we perceive that Old Testament scripture by no means supports this idea. Similarly, the belief that God really, on the ground of a fault committed by two humans in the beginning of the world, ordained death as a destiny for all later humanity, throughout history, has truly staggering effects on the idea of God.

Now modern Old Testament scholarship has, I think, been agreed that the auline use of the story (we should call it a use rather than an interpretation) does not fit the actualities of the text. In that sense, even if Brunner may have brushed aside Köhler's judgement in 1926, competent scholarship has continued to conclude that, at least on the negative side, Köhler was right. The story of Adam and Eve was not the story of the ‘Fall of Man' in the traditional sense. At the end of a survey of mainstream modern scholarship, Sibley Towner (1984:81) pronounced it as ‘univocal in all the literature of the main stream' that:

There is no Fall in scripture, if by Fall one means the doctrine of the shattering of the divine image in humankind, the loss of immortality at an early moment in human history, and the inexorable transmission of the original sin through human genes ever after. There is no account of the origin of evil and no primeval encounter with Satan.

En hier is 'n paar sinne uit die pen van Anne Primavesi ('n vroulike teoloog):

Since the time of Augustine, mainstream Christianity has held that without Adam's sin, there would be no death. But because Adam sinned and left us prey to the power of death, we need a saviour. The ‘anthropo-logic' implies, indeed states, that we human beings were distinguished from all others by being created by God to live forever. Our salvation by Christ means that God's purpose stands, and that we alone, out of all species, are to be exempt from death.

Die leer oor die erfsonde en die leer van die dood as ewige straf op sonde is uitgediende leerstukke wat in 'n argief hoort. Augustinus se kennis van Hebreeus was gering en hy het op grond van die Griekse en Latynse vertalings hierdie rare leerstelling geformuleer. Sy siening berus nie op goeie eksegese nie, maar op filosofiese aannames wat ons nie meer kan onderskryf nie. Evolusionêre biologie en die studie van menslike gene maak dit ook vir ons onmoontlik om aan hierdie leerstelling te bly vasklou.


JESUS SE HELLEVAART EN OPSTANDING

Sakkie Spangenberg

Die leerstuk van Jesus se hellevaart het vir baie Christene 'n vraagstuk geword. Daar is selfs Nuwe-Testamentici wat meen dat die leerstuk uit die Apostolicum verwyder moet word. Die plek waar dit in die Apostolicum voorkom, bevestig dat diegene wat hierdie deel toegevoeg het, geglo het dat Jesus letterlik in die hel was. Daar is ook tekste in die Nuwe Testament wat so geïnterpreteer kan word (vgl Efesiërs 4:9, 1 Petrus 3:19; 4:6). Die Nuwe-Testamentikus Hanson (1983:153) skryf soos volg hieroor: "The author of 1 Peter certainly represents Christ as preaching to the spirits that are in prison, whether that means those who died in the Flood or the rebellious angels."

As daar één leerstuk is wat uitwys dat die belydenisse kultuurgebonde is en dat ons dit kultuursensitief moet interpreteer, is dit sekerlik hierdie een. Hierdie tekste en die belydenis hang saam met daardie mense se wêreldbeeld. Hulle het 'n drieverdieping heelal geken en het Jesus se oorwinning so omvattend gesien dat dit die totale kosmos (soos hulle dit verstaan het) gedek het. Voorts het hierdie vertellings hulle gehelp om hulleself uit 'n dilemma te redeneer: Wat van diegene wat nie van Jesus se oorwinning gehoor het nie? Dit wil sê, wat word van al daardie mense wat in die vroeë tye geleef het?

Wat is my standpunt oor hierdie belydenis en die dogma van Jesus se hellevaart? Ek werk nie meer met 'n drieverdiepingheelal nie en daarom kan ek hierdie vertellinge en die belydenis wat daarop gegrond is, nie nasê nie. Dit het wel vir dáárdie mense sin gemaak, maar dit maak nie meer sin in my wêreld nie. Tydens die Protestantse Reformasie is die kwessie van Jesus se hellevaart vergeestelik. Die belydenis is vertolk as 'n beskrywing van Jesus se onmenslike lyding aan die kruis. Die rede vir die afwys van 'n letterlike verstaan daarvan, hang saam met die wanpraktyke in die Katolieke Kerk van destyds. Priesters het verkondig dat mense hulle afgestorwe familielede uit die hel kon loskoop!

Kom ons by die belydenis van die opstanding, dwing Protestantse kerke hulle lidmate om dit letterlik te glo. Hulle mag die hellevaart wel in 'n nie-letterlike sin vertolk, maar definitef nie die opstanding nie! Sover vir konsekwentheid in die hantering van die verskillende belydenisse.

Wanneer ons die verhale in verband met die opstanding van Jesus lees, is dit duidelik dat dit eintlik nie 'opstandingsverhale' is nie, maar 'herverskyningsverhale'. Voorts is dit interessant dat nie al die evangelies herverskyningsverhale bevat nie.

Markus, die oudste van die sinoptiese evangelies (geskryf in 70 nC) het géén herverskyningsverhaal nie. Die evangelie sluit deur te vertel dat drie vroue nadat die sabbat verby was (d.w.s. ná sonsondergang die Saterdag) na die graf is. Die drie vroue was Maria Magdalena, Maria die ma van Jakobus en dan ook Salome. Daar aangekom vind hulle dat die klip voor die graf reeds weggerol was. 'n Jongman deel hulle mee dat Jesus uit die dood opgewek is. Hulle ontvang die opdrag dat hulle vir Petrus en die res moes gaan vertel dat Jesus reeds op pad is Galilea toe. Hulle sal Hom daar ontmoet. Die evangelie sluit dan deur te vertel dat die vroue só groot geskrik het dat hulle uit vrees niemand hiervan gaan vertel het nie (vgl Mark 16:8).

Die ander drie evangelieskrywers laat hulle verhale nie só stomp eindig nie. Die verhaal van Jesus word voortgesit. Daar is voortgang en lewe na Jesus se kruisdood. Matteus, Lukas en Johannes bevat almal herverskyningsverhale. Hierdie verhale is ook kreatiewe herinterpretasies van die skrywers, daarom is hulle histories nie versoenbaar met mekaar nie. Die skrywer van Matteus vertel dat slegs twee vroue graf toe is (Maria Magdalena en die ander Maria). 'n Engel deel hulle mee dat Jesus uit die dood opgewek is en dat Hy op pad is na Galilea. Die vroue haas hulle na die dissipels om die nuus te gaan vertel, maar loop hulle dan in Jesus vas (Matt 28:9–10). Hy gee hulle dieselfde opdrag as die engel: 'Gaan vertel my broers dat hulle My in Galilea sal sien.' Die elf dissipels het toe na Galilea vertrek waar Jesus aan hulle verskyn by die afgespreekte rendezvous — 'n berg in Galilea (Matt 28:16–20). Waarom 'n berg, sou mens kon vra? As ons in ag neem dat die skrywer van Matteus sy Jesus teken as 'n Tweede Moses, is dit nie vreemd nie. Moses het immers voor sy dood op die Neboberg geklim om die beloofde land te aanskou en toe gesterf (Deut 34:1–6).

Die skrywer van Lukas vertel van twee reisigers wat op pad was na die dorp Emmaus, twaalf kilometer noord van Jerusalem. Die twee was besig om oor die gebeure van die vorige dae te praat toe 'n derde reisiger by hulle aansluit. Die reisiger gee blyke dat hy van niks weet nie en vra hulle uit. Hulle vertel van vroue wat vroeg die oggend (die Sondagoggend) by die graf van Jesus was, maar sy liggaam nie gevind het nie. Engele het hulle egter meegedeel dat Jesus leef. Van die dissipels het gaan ondersoek instel en die graf wel leeg gevind soos die vroue vertel het! Vir Jesus het hulle egter nie gesien nie. Skielik begin die reisiger vir hulle sekere gedeeltes uit die Wet, die Profete en ander Geskrifte uitlê. Hy doen dit egter op só 'n manier dat dit vir die reisigers vir die eerste keer duidelik is dat alles eintlik geskryf is met die oog op die gebeure van die afgelope tyd. Toe hulle by Emmaus aankom, versoek hulle die reisiger om by hulle te oornag. Eers toe hulle aan tafel is en Hy die seën vra, die brood breek en dit vir hulle gee, besef hulle wie teenwoordig is. Maar dan verdwyn Hy plotseling. Onmiddellik hierna pak hulle die reis terug Jerusalem toe aan om die ander dissipels hiervan te gaan vertel. Daar aangekom vertel hulle die verhaal en plotseling is Jesus weer teenwoordig. Dan nuttig Hy saam met hulle 'n maaltyd.

Mense gebruik dikwels hierdie gedeelte in Lukas om die standpunt te motiveer dat Jesus in die Ou Testament 'voorspel' word. Jesus lê immers die tekste só uit. Wat ons egter in ag moet neem, is dat die Jesus wat hier aan die woord is, nie die historiese Jesus is nie, maar die vertelde Jesus . Anders gestel die skrywer van die Lukasevangelie beskik oor sy Jesuskarakter. Hy kan sy Jesus laat doen en sê wat hy wil. In hierdie geval laat hy Jesus die Wet en die Profete só uitlê dat dit aansluit by die vroeë Christene se oortuigings dat daar reeds in die Wet en Profete oor Jesus geskryf is.

Die vroeë Christene ('n Joodse groep) het egter van dieselfde uitlegmetodes as die Esseners van Qumran (ook 'n Joodse groep) gebruik gemaak in hulle uitleg van die Wet en die Profete. Hierdie soort uitleg staan bekend as pesher -uitleg. Die 'Ou Testamentiese' tekste word só uitgelê dat dit lyk asof dit eintlik bedoel is vir latere lesers en hulle omstandighede. Vergelyk byvoorbeeld die Habakuk-kommentaar (1QpHab), waar Habbakuk na die Babiloniërs se aanval verwys. Die Esseners het dit gelees en geïnterpreteer asof die profeet Habakuk die Romeine (die Kittiërs) bedoel het. Die vroeë Christene het dieselfde uitlegmetode gebruik en het die 'Ou Testament' só uitgelê asof dit direk van toepassing is op hulle tyd en omstandighede.

Ons kan die kommunikasiegebeure in hierdie gedeelte van Lukas (Luk 24:13–35) soos volg voorstel: Jesus > boodskap (voorspellings in Wet en Profete) > twee dissipels. Maar hierdie kommunikasie is ingebed in die groter kommunikasie van die evangelie wat ons soos volg kan voorstel: skrywer (Lukas) > teks (evangelie) > lesers (vroeë Christene). Omdat die skrywer sy lesers wil oortuig dat Jesus die 'voorspelde messias' is, laat hy Jesus self die tekste só uitlê. Die skrywer van die evangelie van Lukas verwys egter na geen spesifieke teks in hierdie gedeelte nie, maar veronderstel dat die leser wat tot hiertoe die evangelie gelees het, sal weet watter tekste bedoel word.

Jesus het volgens Lukas aan twee volgelinge wat op reis was na Emmaus verskyn en ook aan al die dissipels in Jerusalem. Anders as Matteus vind hierdie herverskynings in die nabyheid van Jerusalem en in Jerusalem plaas — nie in Galilea nie! Hierdie is duidelik 'n kreatiewe skepping van die skrywer van Lukas, want die verhale kom geensins ooreen met die verhale in Matteus en Johannes nie.

Volgens die Johannesevangelie (die jongste evangelie) is slegs Maria Magdalena die Sondagoggend na die graf. Daar aangekom, ontdek sy dat die graf leeg is. Sy gaan dan haastig terug en vertel die ontstellende nuus aan Petrus. Aan hom sê sy: 'Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom begrawe het nie.' Petrus en nog 'n dissipel gaan haastig na die graf en ontdek dat Maria die waarheid gepraat het (Joh 20:1–8). Hierna verskyn Jesus aan Maria, maar sy herken Hom nie onmiddellik nie (Joh 20:14–17). Na hierdie ervaring gaan vertel sy dit aan die dissipels. Jesus verskyn dan die Sondagaand in Jerusalem aan al die dissipels — behalwe aan Tomas wat nie teenwoordig is nie. Agt dae daarna verskyn Jesus weer aan al die dissipels. Tomas is hierdie keer wel teenwoordig en hy word genooi om Jesus se wonde aan te raak. Dit was egter nie Jesus se laaste verskyning nie, want Hy verskyn 'n derde keer aan hulle. Maar hierdie keer by die See van Galilea waar Hy weer saam met hulle 'n maaltyd geniet (Joh 21:1–14). Volgens die skrywer van die evangelie van Johannes verskyn Jesus dus in Jerusalem én in Galilea aan sy dissipels. In Galilea egter by die see en nie op 'n berg nie! As ons in aanmerking neem dat die evangelie van Johannes teen die einde van die eerste eeu nC geskryf is, kan mens verstaan waarom hy van verskynings in Jerusalem en Galilea praat. Hy het die voordeel van kennis by nabaat gehad. Hy gebruik Matteus en Lukas se gegewens en vertel dat Jesus in Jerusalem én Galilea aan sekere vroue en sy dissipels verskyn het.

Die skrywer van Handelinge vertel 'n totaal ander verhaal. Volgens hom het Jesus na sy dood onbetwisbaar getoon dat hy lewe deur in die loop van veertig dae by verskeie geleenthede aan sy dissipels te verskyn. Hierdie gebeure vind telkens in Jerusalem plaas (Hand 1:3–8). Volgens hom het Jesus ook aan Paulus verskyn, maar die drie verhale wat hy hieroor vertel, verskil aansienlik (Hand 9:1–19; 22:6–16; 26:12–18). Paulus self vertel nie hiervan nie. Daar is slegs sporadiese en uiters bondige verwysings hierna in Galasiërs 1:15–17 en 1 Korintiërs 9:1 en 15:8.

Hierdie herverskynigsverhale het in die vroeë Christendom 'n groot rol gespeel. Na my mening ontspring die geloof in Jesus se messiasskap én van die dissipels se oortuiging dat hulle geroep is om hierdie boodskap te verkondig, aan hierdie verhale. Ons kan egter nie ontsnap aan die historiese vraag 'Maar wat het regtig kort na die begrafnis van Jesus gebeur?' nie.

Die feit dat hierdie herverskyningsverhale kreatiewe herinterpretasies van die skrywers is, bemoeilik die taak van die historikus om 'n betroubare eenheidsverhaal te skep. Dit is byna onmoontlik om uit die veelheid van verhale só 'n eenheidsverhaal te skep. Ons kan egter 'n historiese nukleus vasstel wat ten minste die volgende elemente bevat:

  • Die belydenis dat Jesus opgestaan het en dus lewe, was reeds vroeg deel van die Christelike geloofstradisie daarom meld Paulus dit in sy brief aan die Korintiërs (1 Kor 15:3–7).
  • Die rol van vroue as die eerste getuies lyk bo verdenking te wees. Die feit dat latere Christene dit nie in hulle belydenisse vermeld nie, toon dat ons hier met 'n belangrike gegewe te doen het. Vroue het immers in daardie samelewing 'n minderwaardige rol gespeel. Ook Paulus meld nie dat vroue die eerste getuies van die leë graf was nie!
  • Die feit dat al die evangelieskrywers vertel dat die graf leeg was, lyk bo verdenking te wees.
  • Daar was verskeie verhale oor herverskynings van Jesus.

Die Franse kerkhistorikus Étienne Trocmé (1997:14–15) skryf soos volg oor hierdie feite:

So we suppose that the discovery of the empty tomb by women who followed Jesus was followed by appearances of the Risen Christ, some granted to individuals, like Peter and James, and others to larger or smaller groups, like the Twelve or the apostles, and even to a whole gathering. These appearances certainly took place in different places, some in Jerusalem, as the Gospel of Luke and John 20 affirm, and others in Galilee or elsewhere. As for their date, we can only say that they began shortly after the discovery of the empty tomb and that they lasted several months, perhaps several years, despite the effort made by the author of Acts of the Apostles to limit them to the forty days following the resurrection.

Wat maak ons nou met die volgende gegewens (1) daar was 'n leë graf; (2) vroue was die eerste getuies hiervan; (3) sy volgelinge het herverskynings beleef; (4) die belydenis dat Jesus opgestaan het, was reeds vroeg deel van die tradisie? Na my mening kan ons dit soos volg in 'n historiese verhaal verweef: Jesus se kruisdood, die leë graf en die ervarings van herverskynings lei tot die begin van 'n nuwe groep binne die vroeë Judaïsme. Hierdie groep kies (soos so baie ander groepe daardie tyd) Jerusalem as hulle tuisbasis. Die vertellinge in die Nuwe Testament gee blyke dat daar aanvanklik twee hoofleiers van hierdie nuwe groepering was (1) Petrus en (2) Jakobus die broer van Jesus. Petrus was een van die eerste dissipels en het 'n groterige groep om hom vergader. Jakobus het as broer van Jesus die belange van die familie beskerm en het ook mense om hom vergader. Hier in Jerusalem beoefen hulle die godsdiens wat hulle Meester beoefen het (vroeë Judaïsme). Hulle besoek die tempel en die sinagoges, besny hulle kinders, onderhou die dieetvoorskrifte en die sabbat. Moses en die Wet is vir hulle steeds belangrik.

Die werklike impulse vir 'n nuwe godsdiens kom egter eers na die Joods-Romeinse oorlog en die val van die tempel in 70 nC. Robert Coote stel dit só: 'The Christianity of the New Testament began not with the birth, death, or resurrection of Jesus, but with the end of the temple to which the first cell of his followers was attached.' Uit die smeltkroes van die gebeure van 70 nC het daar twee godsdienste ontspring: (1) Rabbynse Judaïsme en (2) Christendom.

Hierdie historiese vertelling is vir my belangrik, want die vroeë Christene het hulle nie van hulle medegelowiges wat die vroeë Judaïsme beoefen het, gedistansieer nie. Die vroeë Christene was bloot 'n messiaanse groep binne die vroeë Judaïsme.

As ek die saak verder mag neem, sou ek die volgende wil byvoeg. Rudolf Otto (1869–1937) het op twee belangrike elemente in enige godsdiens gewys, naamlik die mysterium tremendum et fascinans . 'n Mistieke ervaring van verwondering en ontsag. Dink aan die vertelling oor Moses by die brandende bos. Die vroeë volgelinge van Jesus se ervarings van die leë graf en die herverskynings was een van die oorsprong-impulse vir die nuwe godsdiens. Dit was die mysterium tremendum et fascinans . Dié ervaringe het egter nie onmiddellik tot 'n magtige godsdiens gegroei nie. Die val van Jerusalem in 70 nC dien as katalisator en gee aanleiding tot verdere herinterpretasies van die Joodse tradisies en uiteindelik tot die Christelike godsdiens van die eerste eeue.

Wat maak ons tans met die herverskyningsverhale? Binne my verwysingsraamwerk staan mense nie uit die graf op en ek beleef nie herverskynings nie. Dit vir my moeilik om aan 'n fisiese opstanding te glo, want in my leefwêreld staan mense nie op nie. Voorts weet ek dat dood deel is van lewe op hierdie planeet. Die ervaring van herverskynings kan ek wel verklaar as dat die eerste dissipels só intens met Jesus saamgeleef het, dat Hy na sy dood vir hulle steeds reeël was. In die woorde van Paul Winter: 'Crucified, dead and buried, [Jesus] yet rose in the hearts of his disciples who had loved him and felt he was near.' Ek kan hierdie ervarings vergelyk met my ma se ervarings van my pa se teenwoordigheid na sy dood. Dit was vir haar ontstellend dat sy hom soms as werklik teenwoordig beleef het. Soveel so dat sy gevind het dat sy met hom begin praat het. Sy het hom ook in haar drome beleef. 'n Psigiater moes haar help om met hierdie ervarings vrede te maak, want dit het haar geweldig ontstel. Vir die vroeë Christene was die herverskynings nie ontstellende ervarings nie. Dit was deel van hulle kultuur en die tradisie waarin hulle groot geword het. Moses en Elia kon weer verskyn (of teenwoordig wees).

Fisiese opstandings vind nie in my wêreld plaas nie. Lewe op die aarde het onafwendbaar 'n sikliese gang. Alle lewende organismes word gebore en gaan een of ander tyd dood. Ook die groter kosmos wys uit dat dit funksioneer op die beginsel van hersirkulasie. Sterre word gebore, groei en sterf na miljoene jare. In dié proses word materie weer hersirkuleer. Nuwe sterre en planete word gebore. Vergelyk Gideon Joubert se beskrywing hiervan in sy boek Die Groot Gedagte :

'n Katastrofiese toekoms wag op die son, die aarde en die ander planete. Wanneer die son oor 5 000 miljoen jaar begin uitsit in die proses om 'n rooireus te word, sal Merkurius verhit tot dit smelt en in gas verdamp. Venus se digte atmosfeer sal in die niet verdwyn en die planeet sal self ook smelt en verdamp.

'n Mens kan jou voorstel wat van die aarde sal word. Die temperatuur sal só toeneem dat alles wat lewe sal sterf. Die see sal kook en verdamp. Rotse en berge sal soos ys smelt. Mettertyd sal dit ook in gas verdamp wat met die swellende rooi son sal saamsmelt. Alles waarvan ons gemaak is, wat oorspronklik sterstof was, sal aan die hemelruim teruggegee word waarvandaan dit oorspronklik gekom het.

Sterstof is jy en tot sterstof sal jy terugkeer.

Die kosmos waarin ek leef, ken nie aan die mensspesie waartoe ek behoort 'n spesiale plek toe nie. Ons spesie ( homo sapiens ) word soos alle ander lewende organisme gebore en sterf uiteindelik. Selfs nie-lewende organismes soos sterre en sterrestelsels word gebore en sterf.

Die belydenis dat Jesus opgestaan het, beteken nie dat ons uitgesonder word van hierdie sikliese gang van lewe op aarde en in die kosmos nie. Ons spesie is nié die uitsondering op die reël nié — dit toon evolusionêre biologie. Ons was nie veronderstel om ewig te leef nie. Antonia Primavesi wys duidelik dat hierdie idee van Augustinus kom:

Since the time of Augustine, mainstream Christianity has held that without Adam's sin, there would be no death. But because Adam sinned and left us prey to the power of death, we need a saviour. The 'anthropo-logic' implies, indeed states, that we human beings were distinguished from all others by being created by God to live forever. Our salvation by Christ means that God's purpose stands, and that we alone, out of all species, are to be exempt from death.

Wanneer ek bely dat Jesus opgestaan het, bely ek dat sy opstanding deel van my lewensverhaal moet word. Ek gee soos Paulus en ander Nuwe-Testamentiese skrywers betekenis daaraan deur die verhaal te herinterpreteer. Die belydenis dat Jesus opgestaan het, kry nuwe betekenis wanneer ek breek met die slegte dinge wat ek geneig is om te doen en wanneer ek 'n nuwe mens word (vgl Rom 6 en Kol 3). Ek kan dit ook soos volg herformuleer: Jesus moet in my as een van sy volgelinge opstaan en teenwoordig word in hierdie wêreld.