Pieter Craffert
2005-06-05
Wat weet ons van Jesus af? Wie was hy? Wie is hy?
Hierdie is vrae wat eintlik nie in een sessie hanteer kan word nie. Dit is onmoontlik om in besonderhede in selfs enkele aspekte van sy lewe in te gaan. Daarom wil ek vanoggend eerder aantoon dat wat ons weet, of dink ons weet, is geheel en al afhanklik van hoe ons die gegewens verstaan en interpreteer.
Laat ek begin met 'n aanhaling:
"Christus op aarde was 'n figuur wat volgens die geskrifte van vier van sy aanhangers vir die mens norme voorgehou het waarvolgens ons moet lewe. Dit is betreklik duidelik dat Hy bonatuurlike eieinskappe gehad het. Hy het op water geloop. Hy het uit water wyn gemaak. Hy het oor kennis beskik sonder om skool te gaan of aan 'n universiteit te studeer. Hy het 'n lyk wat al begin ruik het lewend gemaak" (Pik Botha in Rapport Perspektief 29 Mei 2005: 7).
Hierdie is nie wat die bronne sê nie, maar die produk van 'n sekere interpretasie vandag van wat hulle gesê het 2000jr gelede. Voordat dit verder verduidelik word, wil ek eers drie inleidende opmerkinge maak:
Eerstens, wat enige persoon van Jesus weet of aanspraak maak om te weet, berus op die gegewens in die Bybel. Elkeen van ons maak staat op die beskikbare bronne (wat vir almal dieselfde is) om aan te toon wie of wat Jesus was en is. Niemand het enige ander bron behalwe die aantal evangelies en enkele verwysings in Paulus se briewe nie. Die ander brokkies inligting is hoogstens bevestigend van bestaande kennis. Dus, wat ons weet of dink ons weet, berus inderdaad op wat die Bybel sê.
Tweedens, hierdie gegewens is nogal omvattend en vreemd. Ons het meer gegewens oor Jesus van Nasaret as oor die meeste figure uit daardie tyd. Ons het gegewens oor sy geboorte en lewe. Volgens die bronne was sy ma 'n maagd toe sy aan hom geboorte gegee het (of, reken sommige van die bronne, ten minste het sy swanger geword sonder die bydrae van 'n man); êrens aan die begin van sy lewe het hy tydens 'n doopplegtigheid visioenêre ervaringe gahad; hy het van plek tot plek gereis en siekes genees en bose geeste uit mense gedryf; tydens 'n besoek aan Jerusalem ontstel hy die Romeinse owerheid en word gekruisig; na sy dood is sy volgelinge oortuig dat hy weer aan hulle verskyn het en dat hy tydens so 'n besoek na die hemel opgevaar het. Breedweg is dit van die dinge wat die bronne aandui. Laat daar geen twyfel wees, net soos wat die aarde plat was en dig bevolk met talle nie menslike wesens, so was hierdie sake vir HULLE werklik.
Derdens, dit wat enige een dink hy/sy van Jesus af weet, is meer afhanklik van hoe die gegewens verstaan word as wat die bronne self sê. In kort, dit is nie wat die Bybel sê nie, maar hoe dit verstaan word wat bepaal wie of wat hy is en was. Met ander woorde, ons het 'n stel gegewens en sekere interpretasiestrategieë om sin te maak van die gegewens.
Oor een saak kan ons vandag seker wees: wie ookal iets oor Jesus sê, maak 'n historiese uitspraak. Dit wil sê, hoe jy dink die gegewens verstaan moet word om die historiese figuur tot verstaan te bring, berus op 'n vorm van historiese interpretasie. Ek wil kortliks wys op drie sulke interpretasistrategieë wat vandag beskikbaar is. Daarna sal ek dit baie kort aan die hand van twee voorbeelde illustreer.
1 Die tradisionele benadering sien Jesus as 'n supermens
Ek het hierbo reeds 'n voorbeeld gegee van so 'n interpretasie. Jesus was 'n soort superwese wat links en regs wonderdade gepleeg het. Volgens hierdie voorstellings vertel die tekste ons van 'n reeks bonatuurlike dinge wat 'n man in Galilea gedoen het, so 2000 jr gelede. Hoe kom mens by so 'n interpretasie uit?
- 1.1 Die gegewens in die tekste word letterlik verstaan asof dit objektiewe gebeure beskryf wat enige redelike mens sou kon raaksien.
- 1.2 Alle parallelle en soortgelyke verhale word geïgnoreer or ten minste nietig verklaar — slegs dié in die Nuwe Testament het waarlik gebeur. 'n Basiese aanname hier is: sulke dinge gebeur nie werklik nie, BEHALWE in die een geval in die geskiedenis.
- 1.3 'n Bonatuurlike almagtige wese het spesifiek hierdie wonderwerke laat gebeur (alle ander soortgelyke vertellings uit daardie tyd is verdigsels). Dus, 'n teïstiese godsbeeld is 'n voorwaarde vir hierdie interpretasie strategie.
- 1.4 Die kulturele aard en konteks van die verhale word heeltemal or grootliks geïgnoreer.
2 Die Jesus van die Jesus Seminaar
Die beroemde Jesus Seminaar beklemtoon dat moderne mense nie meer sulke verhale letterlik kan opneem nie. Daarom word die meeste van die gegewens as latere literêre of mitologiese skeppinge gesien wat niks vertel oor die lewe van Jesus nie. Slegs 'n klein persentasie van die tekste word dus as outentiek of histories beskou. Wat is die voorwaardes vir hierdie interpretasie?
- 2.1 Ironies genoeg lees hulle die tekste ook op 'n letterlike manier — maw nie as kultureel eiesoortige verhale nie, maar as weergawes van hoe dinge werklik gebeur het.
- 2.2 Die Jesus Seminaar reken egter net dat sulke dinge soos beskrywe (loop op die see, maagdelike geboortes, ens) nie kán plaasvind nie, en daarom mitologies is. Ek sê hulle lees dit ook letterlik: die tekste handel oor 'n maagd wat swanger word en omdat dit nie moontlik is nie, is dit mitologies.
- 2.3 Neem alle parallelle verhale in ag, maar beskou dit ook as mites; Ignoreer die kulturele aard en konteks van die verhale en lees asof dit verslae is oor gebeure in ons wêreld; 'n Basiese aanname hier is: sulke dinge gebeur nie werklik nie, en daarom het dit ook nie met Jesus gebeur nie.
3 Die Jesus van Nasaret as Galilese spirituele mens van sy tyd
'n Kultuur-sensitiewe benadering verstaan die verhale en alle parallelle verhale binne die kulturele raamwerk waaruit dit kom. Dit neem die feit ernstig op dat die verhale deel was van hulle konstuksie en ervaring van die werklikheid. Kortliks die voorwaardes vir hierdie interpretasiestrategie:
- 3.1 Die tekse word ook letterlik geneem, maar letterlik binne 'n andersoortige wêreldbeeld (soos om dit ernstig te neem as iemand sê sy voorouer het met hom gepraat, maar sonder om te dink jy moet dit ook aanvaar of ervaar).
- 3.2 Alle soortgelyke en parallelle verhale oor spesiale geboortes, hemelvaarte, genesings, duiwel uitdrywings, besoeke deur gestorwe voorouers, ens ens word alles as werklike kulturele ervaringe en gebeure in daardie wêreld beskou.
- 3.3 'n Basiese aanname van hierdie strategie is dat elkeen van ons in 'n eie kulturele werklikheid leef.
- 3.4 Mens hoef nie 'n teïstiese godsbeeld (maw 'n goddelike wese wat wonders gedoen het) te onderskryf om steeds in hierdie verhale spore van goddelikheid te sien nie. Naas voorstellings van god as 'n persoon vergestalt sommige van die verhale die goddelike as 'n medemens, of 'n geneser ens.
4 Kom ek verwys kortliks na die twee voorbeelde wat totaal verskillend deur elke interpretasiestrategie hanteer word.
- 4.1 Gegewens: Jesus was van Davidiese afkoms (geslagsregister, evangelies, Paulus)
- Tradisionele benadering: gegrond op 'n letterlike lees en die verskeidenheid bronne word gereken Jesus was inderdaad 'n nakomeling van David.
- Jesus Seminaar: onwaarskynlik omdat gegewens onvoldoende is, dit legendariese trekke vertoon en die bronne te veel verskille bevat.
- Kultuur-sensitiewe benadering: vra na die funksie van geslagstegisters in daardie wêreld (dit was sertifikate van status en nie familie afkoms nie); aanvaar Jesus is so geteken, selfs deur sy tydgenote (maw dit kon deel van sy lewe gewees het), maar dit dui nie op sy familie afkoms.
- 4.2 Maria se maagdelike bevrugting
- Tradisionele benadering: oorgenoeg getuienis dat 'n Maria maagd was; 'n letterlike lees van tekste dui op ‘n wonderwerk deur 'n almagtige god en alle ander soortgelyke verhale is mites.
- Jesus Seminaar: onwaarskynlik dat dit kon gebeur en daarom was dit mitologiese vertelling oor Jesus lank na sy dood;
- Kultuur-sensitiewe benadering: verstaan alle verhale van spesiale geboortes as kulturele uitdrukkings van eiesoortige kulture; hou reken met antieke sieninge oor swangerskap wat aanvaar vrou was net 'n houer waarin 'n man 'n saadbaba kom plant; in daardie wêreld is dit nie snaaks dat 'n goddelike wese dieselfde funksie kon vervul nie. ('n Werklike wonder vir HULLE sou wees as 'n vrou swanger geword het sonder enige manlike saadbaba, maw sonder dat 'n manlike figuur (persoon of god) 'n saadbaba in haar geplaas het).
5 Slotopmerkings
- 5.1 Hierdie is 3 verskillende verwoordings of verstaanswyses van presies dieselfde gegewens. Aldrie is maar net mensewerk. Elkeen van die verstaanswyses of verwoordings bring jou by 'n ander voorstelling van Jesus uit.
- 5.2 Dit is nie die tekste wat bepaal wat jy oor Jesus glo of nie glo nie, maar die interpretasie strategie wat aangewend word
- 5.3 Die argument dat iemand die Bybel verwerp of nie aanvaar wat die Bybel sê nie, is dus sinneloos. Wat wel verwerp of nie aanvaar word nie is spesifieke interpretasies van die Bybel. Waaroor ons moet praat is die implikasies van ons interpretasiestrategieë. Byvoorbeeld, is dit eties aanvaarbaar om ander mense se tekste te hanteer asof hulle nie belangrik is nie; met ander woorde, sonder inagneming van hulle eie kulturele werklikhede.
- 5.4 Waar pas Jesus die verlosser van siele in?
Alle uitsprake oor Jesus berus op sekere interpretasiestrategieë. Hierdie kom van die dogmatiese en ortodokse verstaan van die menslike toestand en 'n ewige heilsplan. Dit word gebruik om selektief sekere tekste te gebruik as teksbewyse. Dit is ook net mensewerk.